SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.56 número2-1Swartskaap: Odette Schoeman índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.56 no.2-1 Pretoria Jun. 2016

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2016/v56n2-1a11 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS / RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (1): OOR MONNEMENTE GEPRAAT - AFRIKAANS SE EERSTE NEËNTIG JAAR

 

Standaardafrikaans, standaardspelling en die AWS

 

Standard Afrikaans, standard spelling and the Afrikaans word list and spelling rules (AWS)

 

 

JD (Tom) McLachlan

Vertaler en Taalversorger. E-pos: tommcl@whalemail.co.za

 

 


OPSOMMING

Die standaardisering van Afrikaans tot die Standaardafrikaans wat ons vandag ken, is 'n komplekse en dikwels omstrede saak. Die hedendaagse omstredenheid van en kritiek teen Standaardafrikaans kom nie in hierdie artikel aan bod nie. Sonder om verder daarop in te gaan, word aanvaar dat daar in die loop van min of meer 'n eeu 'n standaardvorm ontwikkel is uit die vroeë Afrikaans-Hollandse taalvorme wat hier te lande gebesig is en dat dié standaardisering geslaagd was omdat Standaardafrikaans hom vir die grootste deel van 'n eeu doeltreffend naas Engels kon handhaaf in die hoër funksies van n taal, soos die staatsbestel, die regspleging, die (hoër) onderwys, die wetenskap en die letterkunde.
Vir hierdie artikel word eweneens aanvaar dat die standaardvariëteit van n taal kwalik suksesvol kan funksioneer sonder 'n doeltreffende ortografie en dat die standaardisering van die Standaardafrikaanse ortografie daarom 'n wesenlike rol in die proses van die standaardisering van Afrikaans gespeel het. Die ortografiese standaardiseringsproses word beskou aan die hand van die tien uitgawes van die gesaghebbende Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS). Daar word aangetoon dat die grondbeginsels van die Afrikaanse spelling, wat deur al tien AWS'e inhoudelik dieselfde gebly het, enersyds gehelp het om die verafrikaansing van "vreemde woorde" te rig en te vestig, en andersyds n merkwaardig stabiele spellingsisteem tot stand gebring het. Die ontwikkeling van die AWS - by name die deurlopende presisering en verfyning van die spelreëls, en die bydrae daarvan tot die standaardisering van Afrikaans - word aan die hand van die tien uitgawes aangetoon.

Trefwoorde: Afrikaanse woordelys en spelreëls, AWS, beginsel van gelykvormigheid, eienaamreël, grondbeginsels, sistematiese veranderinge, skryfwyse, Spellingkommissie, spelreëls, Standaardafrikaans, standaardisering, standaardvariëteit, Taalkommissie, verafrikaansing, Vereenvoudigde Hollandse Spelling, vreemde woorde, woordelys, Woordelyskommissie


ABSTRACT

The standardisation of Afrikaans - which term includes all the varieties and lects used at the Cape during the 18th and 19th centuries, as well as modern varieties - is a complex and often contentious matter. The present-day criticism levelled at Standard Afrikaans is not discussed in this article. Instead, it is accepted that, in the course of more or less a century, a standard variety has been developed out of the Afrikaans-Dutch vernaculars spoken in this southern part of Africa and that this standardisation has been successful. No attempt is made to prove this statement, except to say that it is accepted as a fact because Standard Afrikaans has been, for the greater part of a century, able to hold its own against English in the higher functions of a language, such as government, the administration of justice, (higher) education, science, literature, and the arts and culture.
Likewise, this article accepts that the standard variety of a language can hardly function successfully without an effective orthography and, therefore, that the standardisation of the Standard Afrikaans orthography contributed significantly to the standardisation of Afrikaans.
The Suidafrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns1 (an Afrikaans academy for language, literature and arts), which was founded in 1909, became a major driving force in the standardisation process. Initially, there was much disagreement about whether Dutch or Afrikaans should be promoted and, if the latter, whether a highly phoneticised spelling system or one closer to the Dutch tradition should be adopted. At the time, the spelling of written Afrikaans varied greatly. The Akademie initially established two commissions, a spelling commission and a "vocabulary" commission, to regulate the matter. These two commissions later merged into the current Taalkommissie ("language commission").
As a result of their work, the firstformalised spelling rules were compiled and, in September 1915, adopted at an AGM of the Akademie. These, along with a word list that contained words deemed to belong to the received standard (or "cultured" variety) of the emerging standard language or to pose spelling difficulties, were published in 1917 as the first edition of the Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) (that is, "Afrikaans word list and spelling rules"), which, over the decades, has become the authoritative source on Standard Afrikaans spelling issues. Its authority was accepted by the public in general, education authorities, and publishers and the press, and they, in turn, gave invaluable feedback to the committees compiling the AWS. To date, ten editions have been published.
The article gives an overview, mostly on the basis of the preface of each edition, of how the AWS developed from the first small edition with a conspicuous nationalistic message aimed at inspiring "the people" to use and build their language and to support Afrikaans mother tongue education, to the current, far more comprehensive publication that applied modern methods of language research such as computerised corpora, meets high lexicographic standards and sets new typographic trends.
THEY WERE: In the first edition the spelling commission formulatedfive basic or fundamental principles on which they based the Afrikaans spelling system, and although in later editions these principles were reworded and condensed to three, they have remained essentially the same to this day. : (a) as far as possible, to use one letter for one speech sound, with no "unnecessary" letters; (b) always to spell the same word, pre- and suffix the same; (c) to take history into account only where it is of practical importance; (d) to deviate as little as possible from the Simplified Dutch Spelling; and (e) always to reflect the most commonly used pronunciation
In the latest (10th) edition, these principles are rendered as:
A. Current spelling and styling of compounds are mostly determined by tradition. [Cf (c) and (d) above.]
B. The spelling of Standard Afrikaans is based on its phonology or sound system. [Cf. (a) and (e) above.]
C. Form-related structures (words/roots, affixes) are spelled similarly (the principle of similarity). [Cf. (b) above.]
The article briefly examines how "foreign words" (mostly words of Romanic descent not in common use or words that have retained much of their French spelling in Dutch) were Afrikaansified. It also indicates how the spelling rules - especially the rules concerning the styling of compounds and hyphen use - were expanded and refined over the years. Finally, a random selection of words as they appear in seven editions of the AWS are compared. This comparison shows, on the one hand, how the spelling of many of such "foreign words" changed over time and that the Afrikaansified spelling became the norm, and, on the other, how stable the spelling of others has been for almost a century. Both the success ofthe Afrikaansification and the stability of Afrikaans spelling can be attributed to the fact that the basic principles devisedfor the first AWS remained essentially unchanged for a century.
In stabilising and giving direction to the process of standardising Afrikaans, the ten editions of the AWS can be said to have played a crucial, even decisive role.

Keywords: Af-ikaanse woordelys en spelreëls, Afrikaansification, A WS, basic principles, foreign words, language commission, principle of similarity, received standard, Simplified Dutch Spelling, spelling commission, spelling rules, spelling system, Standard Afrikaans, standardisation, standard variety, vocabulary commission, word list


 

 

1. INLEIDING

In hierdie artikel word die bydrae van 'n stabiele ortografie tot die standaardisering van Afrikaans2 in die algemeen in oënskou geneem. Vir die doel van die artikel word sonder bewysvoering aanvaar dat die standaardvariëteit van 'n taal nie doeltreffend kan funksioneer sonder 'n behoorlike ortografie nie en gevolglik dat die standaardisering van die ortografie van Standaardafrikaans 'n beduidende rol in die proses van die standaardisering van Standaardafrikaans vervul het.

Die rol van die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) in die standaardisering van die spellingstelsel van Standaardafrikaans word beskou aan die hand van die tien uitgawes van hierdie publikasie sedert 1917. Daar word aanvanklik gekonsentreer op die voorwoord van elke uitgawe, wat dikwels nie net 'n idee gee van die tydsgewrig waarin die betrokke AWS verskyn het nie, maar ook aandui hoe die betrokke uitgawe verskil van die vorige(s) en wat nuut daarin is. Vervolgens word die spelreëls bekyk aan die hand van die grondbeginsels3 wat sedert die eerste AWS geld, en dan volg 'n baie bondige oorsig oor die spelreëls in die algemeen. Laastens word gewys op hoe die Woordelys metterjare gegroei het, en word iets van die spellingvraagstukke en spellingontwikkeling, maar ook die spellingstabiliteit, sedert 1917 aan die hand van 'n stel lukraak gekose woorde geïllustreer. Ten einde 'n idee te gee van hoe die publikasie gegroei het, word hier en daar aanduidings gegee van die omvang van die boeke wat formaat en aantal bladsye betref.

Die afleiding kan ten slotte gemaak word dat die aanvaarding deur die publiek van die Afrikaanse spelling soos vervat in die onderskeie AWS'e, waarin die wesenlik onveranderde behoud van die grondbeginsels van die Afrikaanse spelling geen geringe rol gespeel het nie, kardinaal was in die standaardisering van Afrikaans.

 

2. AGTERGROND EN KONTEKSTUALISERING

Die standaardisering van Afrikaans tot die Standaardafrikaans wat ons vandag ken, is 'n komplekse en dikwels omstrede saak. Dat verskillende tale en vorme van tale, verskillende linguistiese prosesse en verskeie maatskaplike, politieke en wêreldbeskoulike faktore in die loop van die geskiedenis hierin 'n rol gespeel het, staan egter vas. Grebe (2012) gee 'n omvattende oorsig en kritiese ontleding van die verskillende teorieë oor die ontstaan van Afrikaans wat in die loop van die afgelope eeu en meer aan bod gestel is, asook n beskouing van hoe die standaardisering van die Afrikaans-Hollandse taalvorm wat aan die suidpunt van Afrika gebruik is, geskied het.

Hierdie teorieë, die konstruksie van Standaardafrikaans en die tale wat daartoe bygedra het, en die maatskaplike en politieke denke wat die proses beïnvloed het, word hier nie verder bespreek nie. Die artikel aanvaar sonder verdere bewyslewering dat daar uit die vroeë vorme van Afrikaans wat in hierdie suidelike deel van Afrika gebruik is, 'n standaardvorm ontwikkel is en dat dié standaardisering suksesvol was. Die sukses van die standaardisering word ook sonder verdere bewysvoering aanvaar, veral op grond daarvan dat Standaardafrikaans nie net oorleef het nie, maar hom vir die grootste deel van 'n eeu naas Engels gehandhaaf het in al die hoë funksies wat van ´n standaardtaal verwag kan word, soos die staatspraktyk, die regspleging, hoër onderwys, die wetenskap, die letterkunde, en kuns en kultuur.

Hoewel Afrikaans lank reeds wyd gepraat is, moes dit aan die begin van die 20ste eeu uitgebou word tot ´n volwaardige skryftaal wat kon kers vashou by Engels. Dié uitbouing van Standaardafrikaans het meegebring dat dit in 1925 'n amptelike taal naas Engels en Hollands kon word (Steyn 2014:208; Kapp 2009:54; Giliomee 2012:294). Die sukses van die standaardi-seringsproses kan toegeskryf word deels aan die werk van veral die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, deur wie se toedoen die erg onvaste spelling - vergelyk byvoorbeeld die spellings van Di Patriot en die Genootskap van Regte Afrikaners (kyk ook Steyn 2014:20-25, 154-162, en elders; Grebe 2012:107, 108, 119, 120) - gestandaardiseer is, en deels aan die entoesiastiese deelname van (wit) Afrikaanssprekendes aan die ontwikkeling van hulle taal deur middel van kultuurorganisasies, publikasies (met inbegrip van die populêre media soos dagblaaie en tydskrifte, wat geen geringe rol gespeel het nie) en terminologieontwikkeling. Hieroor skryf Steyn (2014) uitvoerig.

Hier onder word die rol van die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) in die standaardi-seringsproses, veral om vastigheid van spelling en woordeskat te bring, en in die vestiging van Standaardafrikaans oorsigtelik beskou. Daar word ook gekyk na hoe die AWS met verloop van tyd by die groei en ontwikkeling van Standaardafrikaans aangepas het, en by implikasie dit ook gestuur het.

 

3. DIE AWS DEUR DIE DEKADES4

"Die Akademie is gestig as 'n taalstrewe," skryf Kapp (2009: 102), en die Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst, soos die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aanvanklik geheet het, het inderdaad 'n uiters belangrike rol in die standaardisering van Afrikaans gespeel. Melt Brink, in 1911, en Langenhoven, in 1914, het vroeg reeds voorgestel dat 'n eenvormige spelling vir Afrikaans ontwikkel word (Kapp 2009:110,111). Gevolglik is 'n spellingkommissie en n woordelyskommissie, albei met TH le Roux as sameroeper, aangestel om dit te vermag, en op 18 September 1915 het die Akademieraad die eerste eenvormige spelreëls vir Afrikaans goedgekeur (AWS1:iv). Daarmee het dit, volgens die Woordelijs-Kommissie,5 "vergoed moontlik geword om n end te maak aan die lastige en belemmerende spellingverwarring onder ons" (AWS1:iv).

Tog het dit geblyk dat dit nie baie prakties was om slegs as 't ware abstrak spelreëls op te stel nie, want "[d]aarblij nog altoos baing gevalle van spelling oor wat veel beter in 'n aparte woordelijs kan behandel word, omdat sodanige vorme daar veel makliker te vind is" (AWS1:v).

Daarmee het die bevrugting plaasgevind wat gelei het tot die bekende en gesaghebbende Afrikaanse woordelys en spelreëls, waarvan die eerste uitgawe in 1917 verskyn het. Van die eerste oplaag van 2 000 eksemplare "[is] net 257 nie onmiddellik verkoop nie" (Kapp 2009:116) en reeds teen die derde uitgawe is 'n oplaag van 10 000 gedruk (Kapp 2009:111). Hierdie syfers alleen toon al hoe groot die behoefte aan en die gewildheid van 'n publikasie soos die AWS was. Die voorwoord van die eerste uitgawe het ook n beroep op die publiek gedoen om te help werk aan die verbetering van die spelreëls, en dus aan die standaardiseringsproses (AWS1 :vi, vii): "Ons reken dus daarop dat die geagte Publiek nie sommer daadlik sal klaar wees vir 'n aanval nie, maar veel liewer sal meewerk om 'n volgende druk so korrek en volledig als moontlik is te maak", en verder "[l]aat iedereen van ons dus meewerk, na beste kragte, aan die opbouwing van ons taal ...".

Die status van die AWS as deurslaggewend gesaghebbende bron onder gebruikers van Standaardafrikaans het deur die jare juis ontwikkel omdat die Taalkommissie (soos die gekombineerde Woordelijs- en Spelling-Kommissie later sou heet) en die AWS hulle altyd deeglik vergewis het van wat werklik in die praktyk gebeur. Daarvan getuig nie alleen die aanvaarding van die AWS deur Standaardafrikaans-gebruikers nie, maar ook die bywerking van elke uitgawe deur reëls aan te pas en te verfyn, waar nodig, en deur in die Woordelys6 voortdurend verouderde vorme te skrap en nuwe woorde op te neem (AWS10:xxiii).

Tot dusver (2016) het daar reeds tien uitgawes van die AWS verskyn - hierna telkens AWS1, AWS2, en so meer genoem. Tot en met AWS5 is die verskillende uitgawes "drukke" genoem, en AWS2(1918) was inderdaad bloot 'n herdruk van die eerste een, maar met die regstelling van drukfoute (AWS2:vii). Die feit dat die eerste uitgawe in 1917 verskyn het en die tweede een slegs 'n jaar later, dui daarop dat die AWS in 'n behoefte voorsien het. Eersgenoemde het by Het Volksblad-Drukkerij, Bloemfontein, verskyn en laasgenoemde by De Nationale Pers Bepkt, ook in Bloemfontein.

3.1 AWS1en AWS2

Al die AWS'e bevat n voorwoord, wat hoofsaaklik agtergrond oor die betrokke uitgawe gee deur byvoorbeeld aan te dui wat verander is en hoekom. Die Voorwoord van AWS1is egter opvallend anders en bevat 'n duidelik nasionalistiese boodskap vir "ons volk"(AWS1:iii, vii):

Ons volk het tot ontwaking gekom. ... Als natuurlike gevolg hiervan, is daar 'n onweerstaanbare drang na uiting: uiting van ons volksindividualiteit. Sodanige uiting ... is alleen moontlik deur middel van die moedertaal: Afrikaans. ... Vanself dus wil ons söre dat ons taal in ieder opsig tot sij reg kom; dat dit die draer word van ons kultuur.

Laat iedereen van ons dus meewerk, na beste kragte, aan die opbouwing van ons taal: die enigste middel waardeur ons volksindividualiteit kan bewaar blij; die draer van die geestelike selfstandigheid van ons volk.

Ten einde Afrikaans as kultuurdraer te vestig, rig die Woordelijs-Kommissie hom in die eerste plek op die onderwys (A WS1: iii) en vestig die aandag op die belangrikheid van eenvormige spelling om die onderwys te ondersteun (AWS1:vi, vii):

Die feit dat daar geen algemeen erkende spelsisteem van Afrikaans was nie, het die beoefening van ons taal tot nog toe veel in die weg gestaan. So was dit onmoontlik om skoolboeke op te stel in Afrikaans ... Die hek was toe. Nou is die hek oop. Nou kan ons voorsien in die nasionale behoeftes van ons volk en daardeur ons onderwijs gesond maak.

Ook die verhouding van Afrikaans tot Nederlands - aanvanklik was dit n hele strydpunt (Kapp 2009:108, 112) - word behandel:

Wat die juiste verhouding-nie van 'n wetenskaplike standpunt nie, maar in die praktiese lewe-van Hooghollands tot Afrikaans in die later toekoms sal wees, is onmoontlik om presies aan te duie. Maar een feit is bo alle twijfel verhewe, en dit is dat Hollands en Afrikaans, hoewel twee selfstandige tale, nie teenoor mekaar staan, soos sommige dit voorstel nie. Inteendeel, die twee tale vul mekaar aan. Afrikaans sluit Hollands grotendeels in; Hollands is die onmisbare bron waaruit Afrikaans moet put, oral waar voorlopig nie deur eie taalmiddels in die behoeftes kan voorsien word nie.

By die lees van al die voorwerk vanA WS1is dit opvallend hoeveel daardie vroeë Standaardafrikaans, op enkele spellings, woordordes en ander kleinighede na, met die hedendaagse ooreenstem. Dat dit so geredelik vir die hedendaagse leser toeganklik en verstaanbaar is, kan seker as n pluimpie vir die eerste samestellers beskou word.

Die kort Voorwoord van AWS2meld dat dit slegs 'n gekorrigeerde herdruk is, maar voeg by: "Dit wil nie sê dat daar geen ag geslaan is op die welwillende en aanvullende kritiek wat van verskillende kante op die Woordelijs uitgebring is nie", en verduidelik dat die Kommissie dit goedgedink het om, in die lig daarvan dat "dit so gouw nodig geword het om n nuwe oplaag te laat druk, dit onbillik [sou] wees teenoor die besitters van die eerste om nou reeds n aangevulde ediesie te publiseer" (AWS2:vii).

3.2 AWS3

AWS3, die "Derde, Hersiende Druk" van 1921 - nou by Die Nasionale Pers, Bloemfontein - bevat in sy Voorwoord glad nie die nasionalistiese byboodskap van die eerste twee uitgawes nie, maar behandel uitsluitlik spellingkwessies. Dit kondig 'n bepaalde sistematiese spellingverandering aan, naamlik "die wegval van die stom w, die vervanging van ij deury en vany deur ie of i, en die nagenoeg konsekwente verafrikaansing van vreemde woorde"7 (AWS3:iii). Voorbeelde hiervan is die volgende: uw en jouw word nou u en jou, lij en stijl word ly en styl, mythe en lyries word miete en lieries maar lyriek en mysterie word liriek en misterie (afhangende daarvan of die y in "beklemde" of "swakbeklemde lettergrepe" staan). Oor wat die verafrikaansing van vreemde woorde behels het, sien byvoorbeeld 4.2.2 hier onder.

Sekere ander sistematiese veranderinge is toe ook aangebring, veral, sê die Woordelys-Komitee, waar daar voorheen dubbelvorme met (-)eng/enk(-) en (-)ing/ink(-) was. AWS3het nou twee duidelike groepe gemaak op grond van 'die algemeenste uitspraak', byvoorbeeld slegs Engels, meng, skenk('present gee') en nie ook *Ingels, *ming, *skink('present gee') nie, en slegs bring, dink, hingsel en nie ook *breng, *denk, *hengsel nie (al kom eersgenoemde twee as verbindingsvorme voor: voortbrengsel, bedenklik, ens.) (AWS3:iii, xiv).

'n Interessante sistematiese spelreëlwysiging is die volgende (AWS3:iii):

Die reël om n medeklinker nie te verdubbel na n swakbeklemde klinker nie (bobiaan, frikedel), waarteen veel beswaar gemaak is, is verval. Die reël is op sigself goed, maar moet dan ook konsekwent toegepas word, en dit gaan voorlopig nie.

AWS3was die AWS wat die grootste sistematiese spellingveranderinge ingevoer het (sien ook 3.4 hier onder).

Ook in hierdie uitgawe word aandag gegee aan die bydraes en menings van die publiek

(AWS3:iii):

Sedert dié tyd [verskyning van eerste spelreëls - JDM] het die gebruik van Afrikaans geweldig toegeneem, en het 'n algemene gevoele ontstaan dat wysiginge en aanvullinge op verskillende punte noodsaaklik is. Hiermee is sover moontlik rekening gehou.

Twee van die grootste besware deur die publiek ingebring teen die eerste spelreëls was, eerstens: te veel vryheid ten opsigte van die vraag wat as vreemde woorde moes beskou word; ten twede: te veel dubbelvorme. Die publiek wou meer vastheid hê, veral met die oog op die skole.

3.3 AWS4

In 1931 verskyn die "Vierde, Hersiene en Vermeerderde Druk", met 'n redelik lang Voorwoord onderteken deur die "Spellingkommissie" (die Voorwoord van die eerste twee AWS'e is deur die "Woordelijs-Kommissie" en die derde deur die "Woordelys-Komitee" onderteken). Hierin word gesê dat die Akademie die Kommissie opdrag gegee het om vir die vierde uitgawe (1) inkonsekwenthede te verwyder, (2) meer tegniese en wetenskaplike terme op te neem en (3) soveel moontlik vryheid te laat waar verskil van mening bestaan, veral met betrekking tot die spellingbeginsels rakende "vreemde woorde" (AWS4:III).

Die Kommissie verklaar dat, hoewel "'n [v]olkome konsekwente en tog prakties bruikbare spelling 'n onbereikbare ideaal (is)" (AWS4:III) en daar ten opsigte van opdrag (2) "ook nog nie na volledigheid gestreef (kon) word nie" (AWS4:IV), hy tog na sy beste vermoë aan die opdragte probeer voldoen het. Die Kommissie wy dan heelwat ruimte aan die bespreking van wat "vreemde woorde" is. "Dit is duidelik dat dit nie n kwessie van woordoorsprong is nie," sê hy, want dan sou woorde soos skool, kerk, kelk, lelie, botter, kaas en so meer ook vreemde woorde in Afrikaans moes wees (AWS4:V). Wat natuurwetenskaplike terme betref, wou hy ook nie te veel peuter nie omdat "daar 'n soort van internasionale terminologie bestaan" en bowendien kan terme soos kanker en cholera of sardientjie en ichthyosaurus wat spelling betref, nie oor dieselfde kam geskeer word nie (AWS4:V). Daarom het hy 'n maatstaf van gebruiklikheid probeer aanlê, maar "nie in die sin van hoe dikwels die woord b.v. deur bepaalde vakmanne gebruik word nie, maar van die aantal Afrikaanssprekendes deur wie die woord gebruik word" (hierdie maatstaf het gelei tot 'n benadering wat wesenlik nog tot in AWS10 [kyk bv. bll. 174-177] aangetref word) (AWS4:V, VI):

In sommige twyfelagtige gevalle het ons van die standpunt uitgegaan dat dit verstandig is om sulke woorde waaraan ons volk en ons studerende jeug behoefte het, nou maar burgerreg te verleen vir sover ons dit deur middel van die verafrikaanste skryfwyse daarvan kon doen. Ons meen dat dit op die duur die beste spelling- en taalbeleid is. Mettertyd sal die meeste van hulle tog onvoorwaardelike burgerreg moet verkry.

Teenoor hierdie kategorie staan n klas wat twee soorte woorde insluit: (1) wildvreemde, ongebruiklike of weinig gebruiklike woorde en (2) woorde wat hulle nie maklik laat verafrikaans nie. Tot die eerste soort behoort woorde ... soos allerhande wetenskaplike planten diername, siektename, skeikundige en ander tegnologiese terme. Die twede afdeling van hierdie klas omvat woorde soos abattoir, garage, gentleman, jingo, reservoir, rugby, trousseau, whisky, ens. wat, al is hulle baie gebruiklik, weens klank- en vormbesware moeilik kan verafrikaans word.

Dan bly daar grensgevalle wat nie heeltemal by die ingeburgerde en ook nie by die wildvreemde of onverafrikaansbare woorde 'n onderdak kan vind nie. ... Sulke woorde kry n dubbelspelling, n vreemde en n Afrikaanse.

Laasgenoemde kategorie sluit woorde in soos café x kafee, cognac x konjak, historicus x historikus, phylloxera xfilloksera en vanille x vanielje (AWS4:VI, XV).

AWS4voer n nuwigheid in, naamlik n kort afdeling oor interpunksie, wat hoofsaaklik maar kommagebruik bereël (AWS4:VII, XXXV, XXXVI).

3.4 AWS5

Die vyfde AWS verskyn in 1937 en nou vir die eerste maal onder die naam van die Taalkommissie (TK), wat nou ook n lid insluit wat nie n akademikus is nie: die befaamde LW Hiemstra, wat so n enorme (hoewel in taalpraktykskringe soms ietwat omstrede) rol in die taalpraktyk en die leksikografie gespeel het.

Die Voorwoord van AWS5meld dat die oplaag van AWS4 "in 'n betreklike kort tyd reeds weer uitverkoop is" (A WS5 en dat dit 'n aanduiding is van die betekenis van die Akademie se leiding op die gebied, veral gesien die feit dat meningsverskille oor "ons spelling" n hoogtepunt bereik het in die tyd toe AWS4 verskyn het (AWS5:III). Van 4 tot 6 Januarie 1932 is die sogenaamde Spellingkonferensie op Stellenbosch gehou om 'n vergelyk tussen die Akademie en die Universiteit van Stellenbosch se benadering tot spellingkwessies te bereik, veral met betrekking tot "die skryfwyse i/ie en die spelling van vreemde woorde" (AWS5:III, IV):

Oor die lastige spellingkwessie: i of ie in die geval van vreemde, veral sogenaamde internasionale woorde van klassieke herkoms, is daar eindelik eenstemmigheid bereik. Die ooreenkoms ten opsigte van die spelling van vreemde woorde in die algemeen het die erkenning van meer dubbelspellinge meegebring.

Hierdie verandering word in AWS5weerspieël en behels dat in "woorde van nie-klassieke oorsprong" uit Nederlands, Engels, Duits en inheemse en Oosterse tale die [i]-klank deur ie weergegee word, byvoorbeeldfiemies, krieket en kielie, terwyl dit by "die sogenaamde 'klassieke' of 'internasionale' woorde" afhang van faktore soos oop of geslote lettergrepe, verbuiging al dan nie en dergelike, byvoorbeeld parasiet maar parasities (AWS5: XVIII, XIX).

Ook die TK se volgehoue inagneming van wat in die praktyk gebeur het, blyk uit die Voorwoord as hy oor die dubbelspellinge sê (AWS5:IV):

n Mens kan nie altyd op twee gedagtes bly hink nie; vroeër of later moet jy kies. En blykens die spellingpraktyk van die Staatsdiens en byna alle Universiteite en Kolleges, van die Onderwysdepartemente en die Pers, asook van die samestellers van skoolboeke en woorde-boeke, het die oorgroot meerderheid gelukkig dieselfde gekies en ... die voorkeur aan die verafrikaanste vorme gegee.

Die formaat van die eerste vyf AWS'e was almal effens kleiner as wat ons vandag A5 sou noem, en hulle het elke keer 'n bietjie gegroei, van ongeveer 200 bladsye in AWS1 tot amper 370 in AWS5.

3.5 AWS6

Sestien jaar sou verloop voordat AWS6, in 1953 en steeds in die klein formaat, verskyn. Die Voorwoord val direk weg deur te sê dat die uitgawe aansienlik van die vorige verskil en bestaan feitlik volledig uit 'n samevatting van wat dié verskille behels, naamlik geen ingrypende verandering in "spellingbeleid en grondbeginsels" nie, maar wel in die aanbieding van sekere besonderhede

(AWS6:!).

'n Lys van ses soorte skrappings word gegee, byvoorbeeld onsaamgestelde woorde wat geen spellingprobleme behoort op te lewer nie, bepaalde samestellings en afleidings wat nie spellingprobleme oplewer nie (veral as daar ander voorbeelde met dieselfde eerste lid is), en die uitdun van volkome reëlmatige trappe van vergelyking.

Byvoegings het veral "[t]egniese, natuurwetenskaplike en ander vakterme" (AWS6:2) behels, asook talle Bybelse, geskiedkundige, mitologiese en dergelike eiename. Vir die eerste keer bied hierdie uitgawe 'n heeltemal nuwe afdeling aan, naamlik 'n Lys Afkortings, asook 'n bladwyser. Laasgenoemde is in AWS7oorgeslaan, maar verskyn weer in die jongste drie uitgawes.

n Paar soorte wysigings, volgens die TK nie ingrypend nie, is ook ingevoer, maar dit is beskou "as n natuurlike voortsetting van ons spellingtradisie" (AWS6:3). Dit het behels dat meer leiding oor die gebruik van hoofletters gegee is, dat woorde wat dieselfde herkoms het maar waarvan twee vorme ten opsigte van vorm en betekenis uiteengeloop het, apart behandel word en dat daar ook leiding gegee is oor wanneer woordkombinasies los geskryf moet word. Die belangrikste wysiging was waarskynlik dat die TK die onoordeelkundige, oordrewe en inkonsekwente gebruik van die koppelteken probeer vasvat het deur sonder koppelteken vas te skryf of n deelteken te gebruik (AWS6:3, 4, 16).

Die lang tydsverloop tussen die verskyning van AWS5en AWS6het duidelik groter vastigheid ten opsigte van sekere van die "lastige spellingkwessies" gebring, veral wat die sogenaamde "vreemde woorde" betref (sien AWS5:IV). Bogenoemde meningsverskil en die gevolglike Spellingkonferensie (sien onder 3.4 hier bo) het tot bepaalde "dubbelspellings" - verafrikaans of n meer Nederlandse spelling - gelei, maar dié wipplankryery is grotendeels deur A WS6tot n einde gebring, en wel ten gunste van die verafrikaanste vorm. Die ooreenkoms wat op die Spellingkonferensie bereik is, moes in AWS4weerspieël word8 en die spellings wat daardeur geraak is, is nog in AWS5gehandhaaf. Onderstaande tabel van lukraak gekose woorde illustreer die saak deur die Nederlandse spelling in die derde dekade van die 20ste eeu (as n soort maatstaf) te gee, asook die spellings van vier AWS'e. AWS1gee die aanvanklike Afrikaanse spelling, AWS3toon die Afrikaanse spellings wat vermoedelik tot die meningsverskil gelei het, AWS4gee die ooreengekome spellings soos dit in AWS4 ingevoeg moes word ná die Spellingkonferensie, en laastens weerspieël AWS6die situasie soos dit skynbaar in die praktyk ingang gevind het.

 

Tabel 1

 

3.6 AWS7

n Verdere 11 jaar verloop voordat die volgende uitgawe, AWS7, in 1964 verskyn, maar sowel die 6de as die 7de uitgawe het verskeie oplae beleef. AWS7is 'n besonder belangrike uitgawe, omdat 27 jaar sou verloop voordat die 8ste uitgawe verskyn en hierdie uitgawe dus vir bykans drie dekades dié normgewende bron oor die spelling en skryfwyse van Afrikaans was.

AWS7verklaar dat niks wesenliks aan die grondbeginsels en spellingbeleid verander is nie, maar bevestig terselfdertyd die ontwikkelingsgang van Standaardafrikaans, wat sekere aanpassings vereis het (AWS7:i):

Maar die taal het self, soos elke jong, lewendige taal, ontwikkel en verander en daardeur nuwe eise aan sy beoefenaars gestel. Daarmee moes die Taalkommissie uiteraard rekening hou -vandaar enkele nuwighede in die stof en die behandelingswyse daarvan in hierdie uitgawe.

Ook hier kom weer sekere herhalende probleme aan bod. Die aantal plekname en persoonseiename is verminder omdat dit ook in ander gesaghebbende publikasies, soos die lys Amptelike Plekname, hanteer is, en weer word veral tegniese en natuurwetenskaplike terme bygevoeg - albei sake n aanduiding, terloops, van hoe die gebruikswêreld van Standaardafrikaans metterjare al hoe groter geword het. Ook kom die inburgering en verafrikaansing van wat in A WS7nou "woorde van vreemde herkoms" genoem word, weer ter sake, veral ook omdat die verafrikaanste vorme dikwels Afrikaanse morfologiese kenmerke aanneem (bv. AWS6se chic of sjiek word nou slegs sjiek ter wille van sjieker, sjiekste en sjiekerig), wat in die Woordelys verreken moes word. Die verafrikaansing sluit ook toenemend terme in, byvoorbeeld chemieterme, waarin ch- na k- verskuif, soos in chinien of chinine en chinoon wat kinien of kinine en kinoon word. Dit blyk ook dat daar toenemend aandag gegee is aan morfologiese kenmerke - byvoorbeeld meervoudsuitgange - van woorde wat andersins nie spelprobleme sou oplewer nie of waarvan die spelling in elk geval sou blyk uit samestellings of samekoppelings daarmee. (AWS7:i, ii)

Dit was reeds voor die verskyning van AWS7duidelik dat een van die grootste probleme vir Afrikaansskrywendes die vraag is van wanneer bepaalde kombinasies van woorde vas aan mekaar of los van mekaar geskryf moet word11 (AWS7:iii, 48). Om dié rede is 'n "betreklik omvangryke stuk" (AWS7:iii, 31-57) ingevoeg om aan gebruikers leiding te gee.

Eiename - veral buitelandse geografiese eiename en Bybelse, mitologiese en Klassieke eiename - was (en is) dikwels problematies. Binnelandse plekname (hoewel nie alle geografiese name nie) is bereël deur die destydse Pleknamekomitee, wat n amptelike lys gepubliseer het, naamlik Amptelike plekname in die Unie van Suid-Afrika en Suidwes-Afrika (1951) (en later Amptelike plekname in die Republiek van Suid-Afrika en in Suidwes-Afrika [1978]), en baie van dié name is dus uit die AWS verwyder (AWS7:i).

3.7 AWS8

Daar het 27 jaar verloop tussen die eerste oplaag van AWS7en die publikasie van AWS8. Die TK voer enkele redes vir dié lang tydsverloop aan, onder meer dat daar "geen dringende behoefte gevoel is" aan n nuwe uitgawe nie (wat die belangrikheid en statuur van AWS7bevestig) en dat die TK intussen ook gewerk het aan die Afrikaanse weergawes van Klassieke eiename (AWS8:1). Dié lys is in 1984 as die Lys klassieke eiename gepubliseer. Hierdie lys was 'n nuttige en belangrike bydrae tot Standaardafrikaans.

AWS8(1991) was in baie opsigte vernuwend en in sommige opsigte omstrede (AWS9:7 maak byvoorbeeld melding van "die kritiek op die 1991-uitgawe"). Die spelreëls is grotendeels nuut geformuleer in n poging om dit vir gebruikers toegankliker te maak, die Woordelys en die Afkortingslys is aansienlik uitgebrei en vir die eerste maal is n soort gebruikershandleiding, genaamd "Toeligting", ingevoer (AWS8:1). Die afkortings is ook van reëls en gebruiksriglyne voorsien (AWS8:329-334).

Daar was n duidelike poging om die spelreëls taalkundig verantwoord aan te bied, en om dit te vergemaklik, is elemente bygevoeg wat vantevore nooit deel van n AWS was nie, byvoorbeeld die belangrikste fonetiese tekens vir Afrikaans, 'n uiteensetting van inligtingstipes in die Woordelys, ´n lys termverklarings en so meer (AWS8:3-10).

Hierbenewens sal die 8ste uitgawe ook onthou word as die AWS wat die omstrede "eienaamreël" ingevoer het (AWS8:68-70). Die TK meld dat daar "in n aantal gevalle groter vryheid ten opsigte van spel- en skryfwyses" toegelaat word, en noem dat die opvallendste stellig die opsionele gebruik van die sogenaamde afstandskoppelteken ("hoof mediese beampte naas hoof- mediese beampte" en die opsionele skryfwyse van "samestellings met 'n eienaamelement" ("Bloemfontein museum naas Bloemfontein Museum naas Bloemfontein-museum naas Bloemfontein-Museum naas Bloemfonteinmuseum") is (AWS^:2). Straatname en amptelike Suid-Afrikaanse geografiese name is hiervan uitgesluit (AWS8:68). Hierdie nuwe reël is in sommige oorde verwelkom en elders weer gekritiseer, maar in die praktyk het dit geblyk nie probleemloos te wees nie. Die 9de uitgawe moes die leisels van hierdie reël weer 'n bietjie intrek en dit presieser omskryf ten einde die nodige leiding te gee (AWS9:148-153).

Die Woordelys "is aansienlik uitgebrei en bevat, benewens nuwe lemmas, heelwat meer samestellings en afleidings" (AWS8:1) en dié uitbreiding word weerspieël deur die feit dat daar nou sowat 245 bladsye (effens groter as A5) met drie kolomme elk was, terwyl vorige AWS'e 'n kleiner formaat en twee kolomme per bladsy gehad het. Dit getuig nie net van 'n nuwe redaksionele beleid nie, maar ook van die uitbreidende woordeskat van n volwasse kultuurtaal wat tred hou met 'n snel veranderende wêreld.

3.8 AWS9en AWS10

Die jongste twee AWS'e het wat inhoud betref, geen drastiese veranderinge vergeleke met byvoorbeeld AWS8ingevoer nie; hulle het wel radikale veranderinge in aanbieding ingevoer. Albei bevat drasties geherformuleerde reëls, want daar is gepoog om die reëls vir "gewone" gebruikers op n toegankliker manier te formuleer (AWS9:8), en die reëls is ook in alfabeties geordende, genommerde hoofstukke georganiseer en van volgnommers voorsien. Dié nommers bestaan telkens uit die hoofstuknommer plus 'n reëlvolgnommer, byvoorbeeld 4.6, waarin 4 die hoofstuknommer en 6 die betrokke reël se nommer is. By elke reël word illustratiewe voorbeelde gegee, asook eventuele opmerkings wat, waar nodig, verdere toeligting, gebruiksleiding, kruisverwysings (wat grootliks deur die nommerstelsel vergemaklik word) en so meer verskaf.

Afgesien van bogenoemde is die opvallendste "uiterlike" verskille tussen dié twee en die vorige AWS'e waarskynlik in die vernuwende tipografie geleë. Tot en met AWS8is telkens 'n serif-lettertipe gebruik in romein, kursief en vetdruk, wat saam met die bladuitleg n baie digte teks gelewer het. In AWS9en AWS10is die uitleg baie oper en toegankliker: elke reël staan in 'n duidelik geskakeerde kassie by sy volgnommer en die illustratiewe voorbeelde word daaronder koloms- of kolpuntsgewys gegee. Daar word ook 'n kombinasie van serif- en sansserif-lettertipes gebruik, wat baie meer moontlikhede laat vir die gebruik van romein, kursief en vetdruk, asook meer wit ruimtes. Die resultaat is 'n baie vriendeliker bladspieël. Die nuwe stelsel "behoort die AWS die maklik hanteerbare bron te maak wat dit vir die gebruikers van Afrikaans behoort te wees" (AWS?:8). Hierdie poging om die Spelreëls vir gebruikers toegankliker te maak, word in die afdeling Werkwyse van AWS10 verder uiteengesit (AWS10:xxiv).

Benewens al die afdelings wat AWS8bevat het, bevat uitgawes 9 en 10 ook 'n afdeling "Wenke vir gebruikers" (AWS9:11, 12; AWS10:xiii, xiv), 'n lys buitelandse geografiese name met adjektiwiese en persoonsnaamafleidings (AWS9:535-552; AWS10:523-545) en 'n transliterasietabel vir Cyrilliese skrif (AWS9:553-555; AWS10:547-549).

´n Interessante maar enigsins omstrede toevoeging tot die 9de uitgawe was n eksemplariese lys woorde en uitdrukkings uit sogenaamde Omgangsafrikaans (AWS9:525-534). Die rede hiervoor was dat sulke woorde en uitdrukkings toenemend in Standaardafrikaanse tekste van allerlei aard gebruik word (AWS>:525), al is hulle wesenlik informeel en dikwels slegs spraakgebonde. Die lys is egter uit AWS10 weggelaat en vervang deur 'n stel van ses riglyne - eintlik maar voorstelle - vir die spelling en skryfwyse van sulke vorme (AWS10:551-553). Die rede vir hierdie verskil tussen die 9de en 10de uitgawe is enersyds dat Omgangsafrikaans hom nie juis leen tot bereëling nie en andersyds dat die AWS eintlik met Standaardafrikaans gemoeid is (AWS10:551).

AWS10het ook verdere vernuwings gebruik. Eerstens is daar by die bewerking van die teks op groot skaal gerekenariseer, grotendeels met die medewerking van die Sentrum vir Tekstegnologie (CTexT) van die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (AWS10 :xii), wat baie bygedra het tot die konsekwente hantering van lemmas in die Woordelys in ooreenstemming met die reëls. Rekenaartegnologie het ook beteken dat meer wetenskaplik verantwoordbare besluite geneem kon word op grond van die gebruik van drie korpusse (AWS10:ix, xxiv). Op grond van deskundige kommentaar (AWS10:ix) - veral dié van die Nederlandse leksikoloog prof. Piet van Sterkenburg (Van Sterkenburg 2004) - op die 9de uitgawe is besluit om n toeligtende afdeling oor die TK se werkwyse by te voeg (AWS10:xxiii-xxv) en om in die Woordelys verwysings na toepaslike reëls in te voeg, in hierdie uitgawe nog slegs by die lemmas wat ook as voorbeeldmateriaal by die reëls gebruik is (AWS10:ix, x). Ook op hierdie wyse poog die A WS dus om gebruikers aan te moedig om die verband tussen Woordelyslemmas en die betrokke reëls te snap en hulle dus so in staat te stel om probleemgevalle wat nie in die Woordelys opgeneem is nie (die Woordelys kan immers nooit " 'n volledige opgawe van alle leksikale items in die woordeskat van Afrikaans" wees nie), self op te los (AWS10:x).

 

4. DIE SPELREËLS

Soos reeds vroeër genoem, was daar in die beginjare van die standaardiseringsproses meningsverskille oor die vraag of Hollands dan wel Afrikaans die taal moes wees wat bevorder moes word en, indien laasgenoemde, in watter vorm (vgl. Kapp 2009:102-114). Die vraag was of die taalvorm en spelling van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA), wat in 1875 in die Paarl gestig is, gevolg moes word, of een wat nader aan Hollands was. A WS1sê dus nie verniet "[h]ierdie woordelijs en hierdie spelreëls is die vrug van die werksaamhede van die taalpioniers, die lede van Die Genootskap van Regte Afrikaners, opgerig in die Paarl op 14 Augustus, 1875" nie (AWS1:iii).

Dié spellingkwessie het nog lank voortgeduur (Kapp 2009:111, 112; sien ook 3.5 hier bo) en dit is dus waarskynlik dat daar by die opstel van die eerste spelreëls in 1914 gepoog is om 'n balans tussen die twee te vind. Daarvoor is n stel grondbeginsels opgestel; dié grondbeginsels is n paar keer herbewoord, maar het tot in AWS10 inhoudelik wesenlik dieselfde gebly - 'n merkwaardige getuigskrif vir die aanvanklike oordeel en insig.

4.1 Die grondbeginsels

Die volgende grondbeginsels is op 15 September 1915 op 'n jaarvergadering van lede van die Akademie goedgekeur (AWS1: ix; Kapp 2009:111):

Bij die opstel van die Afrikaanse spelreëls is uitgegaan van die volgende algemene grondbeginsels:-

(a) Vir so ver moontlik, elke klank deur n aparte letter voor te stel, en geen onnodige leters [sic; setfout in AWS2reggestel - JDM] te gebruik nie.

(b) Dieselfde woord, voor- of agtervoegsel, vir so ver moontlik, altijd op dieselfde wijse te skrijwe.

(c) Die geskiedenis net daar in ag te neem waar dit om praktiese redes noodsaaklik is.

(d) So weinig moontlik van die Vereenvoudigde Hollandse Spelling af te wijk.

(e) Altijd die mees gebruiklike uitspraak weer te gee, en dit als norm aan te neem.

Daar volg dan 'n verduideliking van die grondbeginsels (AWS1 :ix, x), wat tot groot hoogte vandag steeds geld: Die Spelling-Kommissie sê dat spelling primêr vir die publiek bedoel is en nie vir "taalgeleerdes" nie, en derhalwe kan spelling nooit volkome foneties wees nie, wat beteken dat grondbeginsel (a) slegs "so ver doenlik" gevolg kan word. "Om dieselfde rede" - vermoedelik die verwysing na die publiek en nie taalgeleerdes nie - word by grondbeginsel (b) die vol vorm van 'n woord of voor- of agtervoegsel geskryf, al word dit soms korter of weens sekere fonetiese prosesse anders uitgespreek: dus soveel al word "suffel" gehoor, en onbepaald, al word "ombepaald" gesê. Wat grondbeginsel (c) betref en ter wille van eenvormigheid, word wind geskryf al is die slotklank stemloos, omdat die d in die meervoud wel stemhebbend is. Die Kommissie sê voorts dat dit by grondbeginsel (d) vir die onderwys en die nasionale belang nodig is om so min moontlik van die Vereenvoudigde Hollandse Spelling af te wyk, en derhalwe word kinders geskryf, al is die uitspraak "kinners", word f en v behou, al maak Afrikaans nie, "soos die Hollander", 'n onderskeid tussen die twee klanke nie, en word sowel ei as ij behou, al is daar nóg in Afrikaans, nóg in Hollands 'n klankverskil tussen die twee. Laastens word oor grondbeginsel (e) gesê die "mees gebruiklike uitspraak word altoos als norm aangeneem", en dus "skrijwe ons terge, gesig en nie têre, geseg nie". In eiename en vreemde woorde word z en au behou, maar so nie, "altoos s en ou". Waar verskillende vorme in algemene gebruik is, word dié vorme erken tot tyd en wyl gebruik van een "op die lange duur segevier".

Tot in AWS3is hierdie grondbeginsels en die verduideliking daarvan onveranderd, behalwe dat enkele spellings in die derde uitgawe aangepas en ander voorbeelde gebruik is. So byvoorbeeld het ij nou reeds y geword, en het sekere spellings verander, soos nuws en nuwt wat nuus en nuut geword het (AWS3:vii). Voorts word enkele opmerkings oor "meer geleerde of boekwoorde" gemaak en "[v]reemde woorde word nagenoeg deur die bank verafrikaans" (AWS3:vii).

In AWS4 word die vyf afsonderlike grondbeginsels in drie nuut bewoorde beginsels saamgevat (AWS4:VIII), maar uit die "Toeligting en Toepassing" (AWS4:VIII-XI) blyk dat al die elemente wat vroeër onder die vyf grondbeginsels bespreek is, hier aanwesig is. Die nuut geformuleerde grondbeginsels lui nou soos volg (AWS4:VIII):

Die Afrikaanse Spelling wil:

(1) die algemeen gebruiklike uitspraak in beskaafde Afrikaans weergee;

(2) by die Vereenvoudigde Nederlandse Spelling (V.N.S.) aansluit en nie sterk daarvan afwyk nie;

(3) so ver moontlik gelykvormig wees.

Die Toeligting en Toepassing verklaar dat die Afrikaanse klankstelsel nog "groot ooreenkoms met die van Nederlands (toon)" en dat dit dus begryplik is "dat die Afrikaanse spelling eweneens groot ooreenkoms met die Nederlandse sal toon" (AWS4:VIII). Waar daar egter 'n duidelike verskil tussen die Afrikaanse en Nederlandse uitspraak is, byvoorbeeld hoof teenoor hoofd of harsings teenoor hersens, word van die VNS afgewyk (AWS4:IX). Daar word egter duidelik gesê dat dié beginsel nie absoluut konsekwent toegepas kan word nie, want Afrikaans behou die d van hoofd in byvoorbeeld hoofdelik, en hersens in hersenskim. Afwykings van "die 'algemeen gebruiklike' Afrikaanse uitspraak (word) ... nie in ons spelling erken nie", vandaar dat byvoorbeeld baie erken word maar nie meer baiing of banja nie, en hekel, maar nie hiekel nie (AWS4:IX, X).

Die toeligting van die grondbeginsels is effens anders georganiseer en van die voorbeelde verskil, maar dit is wesenlik nog wat die vorige AWS'e gesê het. AWS5 herhaal dié bewoording van die grondbeginsels en van die toeligting en toepassing presies.

AWS6bring weer n geringe bewoordingsverskil in die drie grondbeginsels (AWS6:6), maar dit is kwalik noemenswaardig. Die TK noem self dat die grondbeginsels feitlik slegs in formulering verskil (AWS6:6). Belangrik is egter die volgende opmerking: "Die Akademie se spellingbeleid wat op hierdie beginsels berus, is deur die skrywende publiek en van regeringsweë aanvaar, en daar bestaan geen rede om tans sterk daarvan af te wyk nie" (AWS6:6).

Tot met die 6de uitgawe is telkens na die "Vereenvoudigde Hollandse/Nederlandse Spelling" verwys, maar AWS7(1964) sê nou by die tweede grondbeginsel dat die Afrikaanse spelling "rekening (wil) hou met die spelling wat vandag amptelik in Nederland erken word", en die derde grondbeginsel praat nou van "die beginsel van gelykvormigheid" en nie net meer van "gelykvormigheid" nie (AWS7:1). Dieselfde tipe voorbeelde word egter in die verduidelikings gegee, soos die vermelding dat die spellingonderskeid tussen v en f en tussen ei en y gehandhaaf word, maar die aandag word ook pertinent gevestig op spellingverskille tussen Afrikaans en Nederlands wanneer die "algemeen gebruiklike uitspraak in beskaafde Afrikaans" (in hedendaagse terme Standaardafrikaans) die spellingverskil vereis (AWS7:2).

Daar is reeds genoem dat AWS8heelwat vernuwings gebring het; dit geld ook die grondbeginsels, wat heeltemal nuut geformuleer is en in veranderde volgorde aangebied word

(AWS8:11):

Die drie grondbeginsels is:

1.1 Die spelling van Afrikaans in die AWS is gebaseer op die klankstelsel van Standaard afrikaans.

1.2 Vormlik verwante woorde word, sover moontlik, gelykvormig gespel.

1.3 Die huidige spelling en skryfwyse van woorde word in 'n hoë mate bepaal deur die tradisie waarvolgens Standaardafrikaans gespel en geskryf word.

Die opmerklike verskille is dat "uitspraak" in die eerste grondbeginsel deur "klankstelsel" vervang is, en "beskaafde Afrikaans" deur "Standaardafrikaans", 'n termverandering wat ook by ander tale, soos Engels, Nederlands en Duits, gesien word. Gelykvormigheid, genoem "die beginsel van gelykvormigheid" in die Toeligting, word nou die tweede beginsel, en die vorige vermeldings van die Vereenvoudigde Hollandse/Nederlandse Spelling word vervang deur te sê dat die "tradisie" in groot mate bepalend is. Dit word bevestig deur paragraaf 2.3 van die Toeligting, wat verklaar: "Die Afrikaanse spelling sluit aan by dié van Nederlands" en dan word die gebruiklike v en f,ei en y, en dergelike genoem (AWS812). Die verduideliking van die grondbeginsels kry in hierdie uitgawe 'n nuwe en belangrike opmerking by wat die leser attent maak op die wisselwerking tussen die drie grondbeginsels (AWS8:12).

Dit is dus duidelik dat, ondanks die moderner formulering, die grondbeginsels inhoudelik steeds dieselfde beoog as vantevore.

Die grondbeginsels soos in AWS8bewoord, word onveranderd in die 9de uitgawe behou, maar die volgorde word weer verander - dié keer sodat die tradisiebeginsel eerste staan, met die klankstelselbeginsel tweede en die gelykvormigheidsbeginsel derde (AWS9:19). Die Toeligting (AWS9:19, 20) bly haas onveranderd. Hierdie uitgawe verklaar (soos wesenlik die 8ste uitgawe ook) hier soos volg (AWS9:19):

By die erkenning van n bepaalde vorm as Standaardafrikaans speel algemene aanvaarding, gebruik, frekwensie en geografiese en maatskaplike verspreiding 'n belangrike rol. Dit geld nie net die erkenning van die spelling en skryfwyse van leksikale vorme nie, maar ook uitspraak-, morfologiese en sintaktiese vorme, en die betekenis van woorde.

Die wesenlike behoud van die grondbeginsels waarvolgens die spelling en skryfwyse van Standaardafrikaans die afgelope eeu bereël is, het ongetwyfeld bygedra tot groot stabiliteit. Dit blyk uit onder meer die betreklike gemak waarmee n hedendaagse leser van byvoorbeeld AWS10, ondanks die klaarblyklike verskille, ook die eerste uitgawe van 1917 sal kan lees en verstaan.

4.2 Die Spelreëls: 'n kort oorsig

4.2.1 AWS1 en AWS2

Die eerste spelreëls het net meer as sewe bladsye in AWS1beslaan (AWS1:ix-xvi). Dit is opgestel deur die Akademie se Spelling-Kommissie, wat, interessantheidshalwe, bestaan het uit TH le Roux ("Konvener"), Jan FE Celliers, JD du Toit, CJ Langenhoven, DF Malherbe, WMR Malherbe en Gustav Preller. Die eerste grondbeginsels (4.1 hier bo) was die eerste van 30 reëls.

Daar is aandag gegee aan watter "lettertekens gebruik [word] om die Afrikaanse klanke (klinkers, tweeklanke, medeklinkers) voor te stel" (AWS1 :x) en dan volg twee afdelings onder die opskrifte "Klinkers en Tweeklanke" en "Medeklinkers", waarin onder meer gesê word hoe sekere letters en letterkombinasies in die Vereenvoudigde Hollandse Spelling in Afrikaans weergegee word. Aandag word ook gegee aan die verafrikaansing van woorde en die hantering van "vreemde woorde". Daar is ook 'n afdeling "Enkele Taalvorme", waarin sake bespreek word soos se teenoor s'n, ek teenoor ik, verkleiningsvorme, egte deelwoorde en adjektiwies gebruikte deelwoorde.

Twee reëls word hier onder uitgelig en interessantheidshalwe woordeliks gegee.

Die grootste probleem wat Afrikaansskrywendes skynbaar met die Afrikaanse spelreëls het, is eintlik n skryfwyseprobleem, dit wil sê dit het te doen met die vraag of n bepaalde kombinasie van woorde (eintlik stamme) vas aan of los van mekaar geskryf word - vergelyk byvoorbeeld AWS7(AWS7:iii): "Een van die lastigste skryfkwessies in Afrikaans het eintlik niks met spelling as sodanig te doen nie, maar het betrekking op die skryfwyse van woorde - los of vas." Daarom het opeenvolgende AWS'e al hoe meer aandag en ruimte aan die kwessie bestee: AWS7byvoorbeeld 26 bladsye en AWS1035 bladsye. Daarteenoor het AWS1 dit soos volg hanteer (en dit bly steeds baie goeie raad!) (AWS1:xiv, by reël 23):

Wanneer die een of ander woordsoort-behalwe 'n bijvoeglike naamwoord-'n selfstandige naamwoord nader bepaal, word die twee aaneengeskrijwe: noordpool, seewater, möreson, uitspanplek. Dikwels word die twee met 'n koppelteken verbind: Unie-parlement, Voor-Indië. Waar die bijvoeglike naamwoord so nouw met die selfstandige naamwoord verbind is dat die twee een begrip vorm, daar word hul aanmekaar geskrijwe: Nuwejaar, Oujaar, hoëpriester.

Was dit dalk die oorsprong van die misleidende maar steeds dikwels gebruikte vuisreël van "een begrip, een woord"?

Die tweede aangehaalde reël toon duidelike ooreenkomste met Nederlands, maar het volledig uit Standaardafrikaans verdwyn; dit was in AWS4reeds nie meer deel van die spelreëls nie. Dit lui soos volg (AWS1:xv, by reël 25):

Naas die vorme se, s'n, word in die vrouwelik enkelvoud (nie meervoud nie) ook haar, hare gebruik, wat histories juister is: ma haar hoed, dis ma hare. In die meervoud word behalwe die vorme se, sn ook hul gebruik: die mans hul klere, die dames hul hoede, die kinders hul boeke.

Soos vroeër genoem, was daar aanvanklik n Spelling-Kommissie en n Woordelijs-Kommissie. Toe laasgenoemde, bestaande uit TH le Roux (weer "Konvener"), DF Malherbe en JJ Smith, die eerste Woordelys opgestel het, het hulle gevind dat die Spelreëls nie voldoende was om alles in die Woordelys te verklaar nie en hulle het gevolglik "Aanvullinge bij die Spelreëls" opgestel (AWS1 :xvii-xx). Hierin is kwessies soos problematiese meervoudsvorme, tydsbepalings, telwoorde, i x ie, f x w, die verdubbeling van sekere konsonante, hoofletters en dergelike bespreek.

4.2.2 AWS3

Die spelreëls beslaan nou 10 bladsye, maar die aparte lys "Aanvullinge" van AWS1en AWS2is nou by die reëls geïnkorporeer. Een van die opvallendste van die 40 reëls sit die stelsel uiteen waarvolgens "vreemde woorde nagenoeg deur die bank" verafrikaans word (AWS3:xii):

Dit is duidelik dat sommige uitsprake (bv. "sieling") en sommige verafrikaanste spellings (bv. "gaos", "prowinsiaal") nie oorleef het nie, maar die meeste is nog steeds in die kol.

 

Tabel 2

 

In die 4de en 5de uitgawe het die spelreëlafdeling van die boek al tot 30 bladsye gegroei. Onder verskillende hofies word nou, benewens die grondbeginsels, uitdruklik aandag gegee aan wisselvorme, vreemde woorde en die verafrikaansing daarvan (in AWS4is laasgenoemde baie dieselfde as in AWS3, met enkele aanpassings wat getuig van die groeiende aktiewe woordeskat van Afrikaans), lettertekens, klinkers en tweeklanke, medeklinkers en die verdubbeling daarvan (lg. slegs in AWS5), lettergreepverdeling, en, vergeleke met AWS1, aansienlik meer aandag aan samestellings en samekoppelings.

Dit is duidelik dat, namate Standaardafrikaans gegroei het en op al hoe meer terreine gebruik is, die behoefte aan die uitbreiding en presisering of verfyning van die reëls eweneens toegeneem het. Al hoe meer terme en "wetenskaplike woorde" kom in die voorbeelde voor (soos dodekaëder, adverbium, verbaal, fosforesseer, ossillator, diskonto), en daar word meer aandag gegee aan sake soos deelteken- en afkappingstekengebruik.

Terwyl die 4de en 5de uitgawe elk 'n afdelinkie oor leestekens gehad het, het die 6de uitgawe dit nie, maar wel 'n afdeling oor hooflettergebruik en een oor meervoudsvorme. Weer opvallend is n nog langer afdeling (reël 42) oor samestelling en samekoppeling, waarin gesê word wanneer sonder koppelteken vas geskryf moet word, wanneer koppeltekens gebruik word en wanneer deeltekens gebruik word (AWS6:29-35). Ook hieruit kan afgelei word dat skryfwyse (dus los of vas) reeds teen die middel van die 20ste eeu vir die skrywende publiek probleme gelewer het.

4.2.4 AWS7

Hierdie uitgawe voer vir die eerste maal n inhoudsopgawe in waardeur makliker toegang tot die verskillende afdelings van die spelreëls verkry kon word, en dit, volgens daardie TK, het n bladwyser, soos in AWS6, onnodig gemaak (AWS7:iii). Daar is 16 afdelings of hoofstukke in die spelreëls wat al die gebruiklike sake hanteer, met enkele byvoegings in die vorm van hofies, bv. "IV Doeblette" en "X Aksenttekens" (AWS7: Inhoudsopgawe). Die opvallendste van hierdie uitgawe is egter die ruimte en aandag bestee aan die skryfwysekwessie, naamlik 26 bladsye sonder inagneming van die afdeling oor koppeltekens. Die uittreksel hier onder uit die Inhoudsopgawe gee n idee van die omvang en die sake wat aangeroer is (AWS7: Inhoudsopgawe):

Weereens het die ruimte wat aan die spelreëls afgestaan is, toegeneem - dié keer tot 57 bladsye van n groter formaat as vantevore.

 

Tabel 3

 

4.2.5 AWS8

In die net minder as drie dekades wat verloop het sedert AWS7gepubliseer is, verskyn n nuwe AWS wat, op grond van wat in die praktyk van Afrikaans aan die gebeur was, 'n paar vernuwings invoer. Die TK voer soos volg aan (AWS8:1):

2.2 Die Spelreëls is ook grotendeels nuut geformuleer. Daar is probeer om die reëls meer eksplisiet en uitvoerig te verwoord, en waar moontlik in eenvoudiger taal te stel. Klank en skryftekens is ook nader aan mekaar gebring, bv. deur die gebruik van fonetiese tekens waar dit sinvol is. Die Taalkommissie vertrou dat die Spelreëls nou verstaanbaarder en makliker interpreteerbaar is.

Ondanks die aanspraak op "eenvoudiger taal" wek die reëls die indruk dat dit op n moderner taalkundig-wetenskaplike grondslag aangebied word. Hierdie indruk word ondersteun deur die gebruik van n fonetiese alfabet vir Afrikaans en n lys verklarings van taalkundeterme wat in die reëls gebruik word (AWS8:4, 8-10). Afgesien van die nuwe reël oor eienaamverbindings (genoem in 3.7 hier bo) is enkele ander wysigings ook ingevoer, soos die deelteken-koppelteken-hantering van "verbindings met 'n eerste element van Griekse of Latynse herkoms" (AWS8:35), byvoorbeeld hidro-elektries, maar bi-elektries of biëlektries, en die skryfwyse van "'n [b]yvoeglike naamwoord (of bywoord) wat bestaan uit 'n substantief of adjektief plus een van die agtersetsels aan, af, in, langs, om, oor, op en uit", wat nou sonder koppelteken vas geskryf word, byvoorbeeld andersom, bergaf, stroomop (AWS8:67; vgl. ookAWS7:13).

4.2.6 AWS9 en AWS10

Die uitgawes van 2002 en 2009 het weer sekere vernuwings gebring, waarvan enkeles in 3.8 hier bo genoem is. Daarbenewens moet wat AWS9betref, die volgende genoem word (AWS9:7, 8):

[S]edert die verskyning van die vorige uitgawe is daar indringend aandag gegee aan die verfyning en vereenvoudiging van die spelreëls - veral na aanleiding van die kritiek op die 1991-uitgawe - en hierdie uitgawe is die resultaat daarvan. Wat hierdie uitgawe verder uniek maak, is die feit dat daar baie wyd by taalpraktisyns en ander gebruikers navraag gedoen is oor veral ... probleme met die formulering van die spelreëls en hoe dit verstaan word ...

Die Spelreëls, asook die reëls met betrekking tot die gebruik van afkortings in Afrikaans, is ook drasties nuut geformuleer, onder meer met die oog op die behoeftes van die taalpraktyk en die onderwys.

Hierdie raadpleging van gebruikers wat in die praktyk staan, het nie net die reëls verbeter nie, maar ook die twee pilare herbevestig waarop die AWS rus, naamlik dat hy enersyds moet bereël en normeer, maar andersyds altyd deeglik kennis moet neem van wat in die praktyk gebeur en hoe sy reëls toegepas word. Dit is een van die redes waarom die AWS wyd as gesaghebbend aanvaar word en waarom dit deur die jare, saam met sy vennote in die praktyk (soos die pers en die onderwys), ´n deurslaggewende rol in die standaardisering van Afrikaans gespeel het en steeds speel.

Van die verfynings wat met AWS9 ingevoer is, was die afronding en presisering van die sogenaamde eienaamreël van die 1991-uitgawe (AWS^:148-153; AWS10:118-124) en die vereenvoudiging van die deelteken-koppelteken-reël by komplekse woorde waarvan die eerste lid van Klassieke herkoms is (AWS9: 46 & 110, 111;AWS10:27, 28 & 76, 77). Wat eersgenoemde betref, maak AWS9en AWS10'n onderskeid tussen verskillende tipes eienaamverbindings, naamlik dié wat as eiename optree, byvoorbeeld (die) Nelspruithospitaal; dié wat nie as eiename optree nie, byvoorbeeld (n) Toyota-onderdeel, en dié wat soortname kombineer en so 'n naam vorm, byvoorbeeld Rietvlei of Kerkstraat (AWS9:149; AWS10:119, 120).Wat die deelteken-koppelteken-reël betref, kon daar volgens A WS8"in verbindings waar 'n opeenhoping van vokaalletters verkeerd gelees kan word en waar 'n eensillabige voorvoegsel van Griekse of Latynse herkoms betrokke is", 'n deelteken of 'n koppelteken gebruik word, maar indien so 'n voorvoegsel twee- of meersillabig is, moes ´n koppelteken gebruik word (AWS8:33, 35). Volgens die jongste twee AWS'e val die onderskeid tussen een- en meersillabige voorvoegsel weg.

AWS10 het volledige rekenarisering gebring, soos in 3.8 hier bo genoem, waardeur groter interne samehang - ook tussen Spelreëls en Woordelys - en groter konsekwentheid bereik is. Die voorbeeldmateriaal by die reëls, behalwe dié wat nie sinvol in die Woordelys opgeneem kan word nie, is ook in die Woordelys van kruisverwysings na die betrokke reël(s) voorsien. Aangesien daar in die moderne tyd baie veranderinge in die konvensies rakende hooflettergebruik (deur die pers, uitgewerye, universiteite e.d.) ingetree het, is die hoofstuk oor hoof- en kleinletters in die 10de uitgawe (AWS10:44-57) drasties ingekort deur talle gedetailleerde kategorieë uit te skakel en deur algemene breë riglyne en tendense te stel, hoewel sekere vaste voorskrifte steeds geld.

 

5. ENKELE VOORBEELDE UIT DIE WOORDELYS

Die eerste Woordelijs-Kommissie moes nie net bepaal hoe gespel moet word nie, maar ook wat gespel moes word, bedoelende dat hulle in sekere sin ook moes besluit watter woorde tot die destydse Standaardafrikaans behoort het, al het hulle nooit aanspraak gemaak op volledigheid nie (AWS1 :vi). Opeenvolgende Kommissies het hierdie proses deurgaans voortgesit deur nuwe woorde op te neem en woorde wat óf verouderd geraak het óf nie meer spellingprobleme oplewer nie, uit die lys te skrap. 'n Vergelyking van verskillende Woordelyste gee nie net 'n aanduiding van hierdie proses nie, maar ook van hoe konstant die spelling van verreweg die meeste woorde gebly het, behoudens, natuurlik, die reeds genoemde sistematiese spellingwysigings en die spelling van "vreemde woorde".

In onderstaande tabel word 'n aantal woorde uit sewe AWS'e vergelyk. Dié sewe uitgawes verteenwoordig bykans 'n eeu van spellingstandaardisering. AWS2is weggelaat omdat dit bloot 'n herdruk van AWS1was; AWS5is weggelaat omdat dit dieselfde Spellingkonferensie-kwessies as AWS4weerspieël, en AWS9is weggelaat omdat daar wat spelling betref, weinig verskil tussen AWS9en AWS10is. Die voorbeelde in die tabel is lukraak gekies, maar tog met die spellingaange-leenthede wat in hierdie artikel ter sprake gekom het, en met die ontwikkeling en/of stabiliteit van spellings deur die jare in gedagte.

 

Tabel 4

 

7. SLOT

In hierdie artikel is kortliks en baie oorsigtelik gekyk na die ontwikkeling van die tien uitgawes van die AWS, van 1917 tot 2009. Daar is aanvanklik aanvaar dat 'n doeltreffende ortografie 'n vereiste vir die ontwikkeling van n standaardtaal, veral as skryftaal, is en in hierdie artikel is aangetoon hoe die tien uitgawes van die AWS, onder meer deur die handhawing van die grondbeginsels van die Afrikaanse spelling, deur die jare bygedra het tot die ontwikkeling en vestiging van 'n geslaagde spellingstelsel vir Standaardafrikaans. Hieruit kan afgelei word dat die AWS in die loop van bykans n eeu n wesenlike bydrae tot die standaardisering van Afrikaans gelewer het en dat die AWS merkwaardige stabiliteit en rigting aan minstens die leksikon van Standaardafrikaans gegee het. Op grond hiervan kan aangevoer word dat die standaardisering van Afrikaans in die algemeen geslaagd was, soos blyk uit die feit dat Standaardafrikaans hom vir die grootste deel van 'n eeu doeltreffend naas Engels kon handhaaf in die hoër funksies van 'n taal, soos die staatsbestel, die regspleging, die onderwys op alle vlakke, die wetenskap en tegnologie, die letterkunde en kuns en kultuur.

 

BIBLIOGRAFIE

Bosman, DB. 1932. Lys van Wysiginge wat ingevolge die besluite van die Spellingkonferensie op Stellenbosch, Januarie 1932, moet aangebring word in die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (4de druk) van die S.A. Akademie vir Taal, Lettere en Kuns. Kaapstad: Nasionale Pers Beperk.         [ Links ]

Giliomee, H. 2012. Afrikanernasionalisme. In Pretorius, F (red.). 2012. Geskiedenis van Suid-Afrika: Van voortye tot vandag. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Grebe, HP. 2012. Op die keper beskou: Oor die ontstaan van Afrikaans. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Kapp, PH. 2009. Draer van ´n droom: Die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hermanus: Hemel en See Boeke.         [ Links ]

Pleknamekomitee. 1951. Amptelike plekname in die Unie van Suid-Afrika en Suidwes-Afrika. Pretoria: Staatsdrukker.         [ Links ]

Pleknamekomitee. 1978. Amptelike plekname in die Republiek van Suid-Afrika en in Suidwes-Afrika. Pretoria: Staatsdrukker.         [ Links ]

Steyn, JC. 2014. Ons gaan n taal maak. Pretoria: Kraal Uitgewers.         [ Links ]

Taalkommissie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. 1984. Lys klassieke eiename. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Van Dale (PJ van Malssen, red.). 1924. Groot Woordenboek der Nederlandsche Taal. 6de uitg. 's-Gravenhage: Martinus Nijhoff.         [ Links ]

Van Rensburg, C. 2015. Oor die eerste 50 jaar se maak aan Standaardafrikaans. Tydskrif vir Geestesweten- skappe 55(3):319-342.         [ Links ]

Van Sterkenburg, P. 2004. Resensie: Afrikaanse Woordelys en Spelreëls. Negende, verbeterde en omvattend herbewerkte uitgave. Lexikos 14 (2004): 428-433.         [ Links ]

Uitgawes van die Afrikaanse woordelys en spelreëls:

AWS1: Le Roux, TH, Malherbe, DF & Smith, JJ, in opdrag van die Suidafrikaanse Akademie vir Taal,         [ Links ]

Lettere en Kuns. 1917. Afrikaanse woordelijs en spelreëls. Bloemfontein: Het Volksblad-Drukkerij.         [ Links ]

AWS2: Le Roux, TH, Malherbe, DF & Smith, JJ, in opdrag van die Suidafrikaanse Akademie vir Taal,         [ Links ]

Lettere en Kuns. 1918. Afrikaanse woordelijs en spelreëls. Bloemfontein: De Nationale Pers.         [ Links ]

AWS3: Bosman, DB, Le Roux, TH, Malherbe, DF & Smith, JJ, in opdrag van die Suidafrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns. 1921. Afrikaanse woordelys en spelreëls. Bloemfontein: Die Nasionale Pers.         [ Links ]

AWS4: Boshoff, SPE, Bosman, DB, Le Roux, TH, & Malherbe, DF, in opdrag van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns. 1931. Afrikaanse woordelys en spelreëls. Bloemfontein, Kaapstad & Stellenbosch: Nasionale Pers.         [ Links ]

AWS5: Boshoff, SPE,Bosman, DB, Hiemstra, LW, Le Roux, TH, & Malherbe, DF, in opdrag van die Suid- Afrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns. 1937. Afrikaanse woordelys en spelreëls. Bloemfontein, Kaapstad & Pretoria: Nasionale Pers.         [ Links ]

AWS6: Taalkommissie (samest.), in opdrag van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. 1953. Afrikaanse woordelys en spelreëls. Kaapstad, Bloemfontein & Johannesburg: Nasionale Boekhandel.         [ Links ]

AWS1: Taalkommissie (samest.), in opdrag van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. 1964. Afrikaanse woordelys en spelreëls. Kaapstad & Johannesburg: Tafelberg-Uitgewers.         [ Links ]

AWS8: Taalkommissie (samest.), in opdrag van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. 1991. Afrikaanse woordelys en spelreëls. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

AWS9: Taalkommissie (samest.), in opdrag van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. 2002. Afrikaanse woordelys en spelreëls. Kaapstad: Pharos.         [ Links ]

AWS10: Taalkommissie (samest.), in opdrag van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. 2009. Afrikaanse woordelys en spelreëls. Kaapstad: Pharos.         [ Links ]

 

 

Tom McLachlan is 'n beroepstaalpraktisyn wat die grootste deel van sy loopbaan in die Staatstaaldiens, vir die Suid-Afrikaanse Kernenergiekorporasie en in die Direktoraat Taaldiens van Unisa gewerk het. In die vroeë tagtigerjare was hy ook die hooftaalredakteur van die ensiklopediereeks Wêreldspektrum. Van 1995 tot 2013 was hy lid, ondervoorsitter en voorsitter van die Taalkom-missie van die SA Akademie, en was as sodanig ten nouste betrokke by die negende en die tiende uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls. Hy was medeskrywer van X-Kit Afrikaans for English speakers, wat met 'n ATKV-Veertjie bekroon is, die skrywer van die taalgedeelte van die HAT Taal- en Feitegids en n medewerker aan verskeie woordeboeke. In 2015 ken die Akademie die CJ Langenhovenprys vir Taalwetenskap aan hom toe vir sy bydrae tot die Afrikaanse taalpraktyk en as lid van die Taalkommissie van die Akademie. Sedert sy aftrede is hy 'n aktiewe vryskuttaalpraktisyn.
Tom McLachlan is a professional language practitioner, who for a large part of his career worked as a language practitioner at the State Language Service, the South African Nuclear Energy Corporation and the Unisa Language Services Directorate. In the early 1980s he was the chief language editor of the Afrikaans encyclopaedia Wêreldspektrum. He served as member, deputy chairman and chairman of the Taalkom-missie (language commission) of the SAAkademie from 1995 to 2013 and, as such, was closely involved in the ninth and tenth editions of the authoritative Afrikaanse woordelys en spelreëls (Afrikaans word list and spelling rules). He co-authored the X-Kit Afrikaans for English speakers, which was awarded an ATKV-Veertjie, was the author of the language section of the HAT Taal- en Feitegids and has contributed to several dictionaries. In 2015, he was awarded the CJ Langenhoven Prize for Linguistics by the SA Akademie for his contribution to Afrikaans language practice and the Taalkommissie. Since his retirement he has become an active freelance language practitioner.
1 This is the way the organisation's name appeared on the first edition of the publication under discussion.
2 Van Rensburg (2015:338) voer aan dat die taalvorm wat aan die Kaap ontwikkel het, van vroeg af reeds gerus "Afrikaans" genoem kan word, en sê: "Vandag weet taalhistorici genoeg van die omstandighede waaronder Afrikaans gebruik is, en hóé Afrikaans gelyk het, om sy vroeë vorms Afrikaans te noem."
3 By die opstel van die eerste spelreëls is 'n stel basiese beginsels geformuleer aan die hand waarvan die Spelling-Kommissie te werk gegaan het. Hierdie beginsels, wat deurgaans inhoudelik wesenlik dieselfde gebly het, word die "grondbeginsels van die Afrikaanse spelling" of kortweg "die grondbeginsels" genoem. Kyk veral afdeling 4.1 hier onder.
4 My dank aan die Buro van die WAT, by name dr. FJ Lombard, en aan prof. GB van Huyssteen, wat AWS-materiaal wat ek kortgekom het, aan my verskaf het.
5 In hierdie artikel word, waar nodig of gepas, die name (en die spelling/skryfwyse daarvan) en spellings in die algemeen gebruik soos dit in die betrokke AWS gebruik is.
6 Soos die naam van die publikasie aandui, bevat elke uitgawe van die AWS altyd minstens twee belangrike afdelings, nl. die spelreëlgedeelte en die woordelysgedeelte. In die voorwerk van verskeie uitgawes (bv. 5de tot 10de uitgawe) is dit gebruiklik om dié afdelings die "Spelreëls" en die "Woordelys", telkens met aanvangshoofletter, te noem.
7 Die uitdrukking "vreemde woorde" kom verskeie kere in hierdie vroeë spelreëls voor en dit is nie sonder meer duidelik presies watter woorde as "vreemd" beskou is nie, maar dit wil tog voorkom of dit min of meer ongewone woorde van Romaanse/Klassieke herkoms is en woorde wat in Hollands baie van die Franse spelling behou het. In AWS word die vraag na wat "vreemde woorde" is, uitvoeriger bespreek (AWS:IV-VII).
8 Hoewel die eerste oplaag van AWS voor die Spellingkonferensie verskyn het, het prof. DB Bosman, 'n lid van die Spellingkommissie, 'n Lys van Wysiginge opgestel wat as 'n brosjure uitgegee is. In 'n kort voorwoord sê die uitgewer die spellingooreenkoms tussen die Akademie en die US het meegebring dat "daar wysiginge aangebring [moet] word in die Woordelys en Spelreëls (4de druk) van die Akademie" (Bosman 1932:3). Die brosjure het ook 'n loopkop bevat wat gelui het: "N.B.-Die leser word versoek om die nuwe vorme alfabeties in te vul" (Bosman 1932:4-7). Sien ook AWS, bladsy III. Vir die doel van hierdie artikel word die wysiginge dus geag deel van AWS uit te maak.
9 Sien Bosman (1932).
10 Dit is nie duidelik hoekom daar ná die Spellingkonferensie soms by -au-gevalle "dubbelspellings" gegee word en by ander nie, en dit is interessant, maar vir my ook nie sonder meer verklaarbaar nie, dat die wisselvorm restaurant x restourant tot vandag toe aanvaar word, al is die -au-spelling skynbaar verreweg die algemeenste.
11 Te oordeel na skriftelike Afrikaans van allerlei aard - van konfytflessies deur openbare kennis-gewingborde tot advertensies in die media en die skryfwerk van baie studente en dosente - wat skynbaar nie deur die hande van kundige taalpraktisyns gaan nie, is dit vandag steeds so en word dit selfs erger.

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons