SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.56 número2-1Swartskaap: Odette Schoeman índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.56 no.2-1 Pretoria jun. 2016

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2016/V56N2-1A10 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS / RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (1): OOR MONNEMENTE GEPRAAT - AFRIKAANS SE EERSTE NEËNTIG JAAR

 

Die vroegste Khoi-Afrikaans1

 

The earliest Khoi Afrikaans2

 

 

Christo van Rensburg

Navorsingsgenoot: Navorsingseenheid Tale en literatuur in die SA konteks, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom-kampus E-pos: christovanrensburg100@gmail.com

 

 


OPSOMMING

Die vroegste Khoi-Afrikaans verwys na die Khoi-Khoin se aanleerderstaal gedurende die eerste helfte van die sewentiende eeu. In hierdie taal, wat tydens kontak met besoekende seelui ontstaan het, kan heelwat Afrikaans gevind word en dit kan as die eerste periode in Afrikaans se geskiedenis beskou word. Die data wat hier bespreek word, is gedokumenteer tussen 1595 en 1652.
Die databasis vir hierdie studie bestaan uit 54 optekenings wat ooreenkomste vertoon met Afrikaans. 'n Ondersoek na hierdie vroegste boustene van Afrikaans behels nie net 'n analise van die versamelde skraps data nie (in opvolging van verskeie publikasies van Den Besten en Nienaber), maar wys ook op die voorkoms van aanleerdersvorme wat steeds nie heeltemal verafrikaans het nie, selfs nie 'n paar honderd jaar ná die eerste optekenings daarvan nie. In dié opsig vind hierdie studie aansluiting by werk van Bergs (2012) en Janda en Joseph (2003), wat gegewens oor skraps data, en die lang lewe daarvan, by taalgeskiedenisse integreer.

Trefwoorde: Aanleerdersvariëteite, eerste periode in die geskiedenis van Afrikaans, handelstaal, Khoi-Afrikaans, Khoi-Khoi-ekspansie, nuwe tale, skraps data, taalaanleer, Voorposafrikaans, vroegste Afrikaans


ABSTRACT

The earliest Khoi Afrikaans is a study about the variety Khoi Afrikaans as the first form of Afrikaans. A traditional view has it that Khoi influenced Afrikaans in some way or another. With Khoi Afrikaans as the original form of Afrikaans, this cannot be the case: Khoi Afrikaans was already Afrikaans.
Khoi Afrikaans refers to the new language of the Khoi-Khoin at the Cape in the course of the first half of the seventeenth century. This language originated from contact between the Khoi-Khoin and visiting seafarers, especially from the Netherlands, which started with the visit from De Houtman in 1595. In this learner's variety, the first building blocks of the latter-day Afrikaans can be found. This was the earliest Afrikaans, which originated between 1595 and 1652, the first period in the history of Afrikaans.
The database of this first period consists of 54 items, accumulated from Khoi word lists, as well as other sources, and it is distinguishable by the features of Afrikaans that they exhibit. The interpretation of this material pursues earlier work done by H. Den Besten and G. S. Nienaber.
These data conform to the field of "bad" data that Janda and Joseph (2003) distinguish, but contribute, nevertheless, to language forms that are not usually considered in the debate on the earliest forms of Afrikaans. Elements from a collection of bad data, as is shown here, survived steadily in the history of Afrikaans, which accentuates the importance of recognizing the role of the Afrikaans dialects in construing its history, in accordance with the view of Bergs (2012). Words for bread that were recorded before 1652, still survive, perhaps surprisingly so, in present-day varieties of Afrikaans where words like pereb conserved their Khoi Afrikaans origin, and did not become familiar Afrikaans words. They are used in diglossic situations beside words that later became Afrikaans words, like brood (bread), that lost most of their Khoi morphological trimmings (such as the word final [+ masculine] -b/p).
The word ghe-me (give + verbal suffix) is such an example, as well as Afrikaans rug (back), which was recorded as rena The -n- of rena constitutes Khoi-Khoi interchangeability between -n- and -g- and the -a is a case ending. The Khoi Afrikaans vowels were recorded in various ways. Interestingly, the meaning of this word was given as shoulder. Could it be that the informant, in trying to demonstrate the meaning of rena, could only reach his shoulder, and not his back? Khoi speakers, trying to acquire the word for pipe (for smoking tobacco), were confronted by an interesting language conflict. They could easily pronounce the Dutch word, pyp, but were prevented by morphological laws from doing so. A wordfinal -p denoted masculine gender, and this word should be treated as feminine. The result? The illegible Khoi Afrikaans word pe-s (originally written down as pesche).
Some Khoi Afrikaans words were pronounced without the wordfinal -r, as was the case with the adverb for here (Dutch hier): hie. Even English words were pronounced in this way: nosie was recorded in 1652 for no sir. The hier pronunciation of the Dutch sailors was heard concurrently with hie. In the Afrikaans variety of the Cape Town region, up to the present time, there are many speakers who still do not use -r at word endings.
Some words were used by well-known Khoi-Khoi characters like Herry, and were thought to be instances of the learner language of the Khoi, from which some information could be gleaned about Khoi Afrikaans. The word goo illustrates such an instance. Goo was interpreted by the leader of that expedition as meaning "go" (away), and was seen as an attempt to use the English word go. This was not the case. The Khoi verb gu, was used, meaning "cease" (your excessive talking). It was not written down carefully, and explained inaccurately.

Key words: bad data, earliest Afrikaans, first period of the history of Afrikaans, frontier Afrikaans, Khoi Afrikaans, Khoi-Khoi expansion, language acquisition, learner's varieties, new languages


 

 

Vir prof Gawie Nienaber. Hy het die stene waarmee Afrikaans gebou is, al lankal raakgesien.

 

1. AANLOOP

1.1 'n Nuwe aanleerderstaal aan die Kaap

"Die oud volk altyd zoo makum en daarom ons ook zoo makum". Met hierdie sinnetjie regverdig 'n Khoi-Khoi-segsman in 1727 die behoud van hulle ou gebruike teenoor die reisiger Kolbe (Kolbe 1727 I: 520). Die Skiereilandse Khoi-Khoin kon baie van hulle tradisies nog lank ná 1727 bewaar, maar met hulle taal was dit nie die geval nie.

Meer as 'n eeu voordat Kolbe hierdie sin neergeskryf het, het die Kaapse Khoi-Khoin begin om n nuwe kontaktaal te praat. Die taal het ontstaan uit die situasie wat ontwikkel het toe die Khoi-Khoin en die skeepslui van Nederlandse skepe, wat sedert 1595 die Kaap begin aandoen het, mekaar beter probeer verstaan het, sodat hulle ruilhandel beter kon vlot. 'n Reeks omstandighede het daaraan meegewerk dat die Khoi-Khoin se moedertaal, Khoi, teen die begin van die agtiende eeu al grotendeels met hierdie aanleerderstaal, Khoi-Afrikaans, vervang is. Khoi-Afrikaans vertoon meer grammatika-eienskappe wat met huidige Afrikaans ooreenkom, as wat dit die geval is met hulle doeltaal, die Nederlands van die besoekende seelui.

Die bestaan en betekenis van hierdie vroeë aanleerderstaal van die Khoi-Khoin het in die geskiedenis van Afrikaans weinig aandag geniet, alhoewel die optekenings wat al sedert 1595 daarvan gemaak is, tog bekend was. Nienaber (1994:139) wou die geskiedenis van hierdie aanleerderstaal, Khoi-Afrikaans, as 'n deel van Afrikaans se geskiedenis sien, en het aangevoer "dat die Afrikaanse taalgeskiedenis na reg eerder in 1595 moet begin as in 1652". In hierdie studie word daar by sy standpunt aangesluit.

Die data van die aanleerderstaal van die Kaapse Khoi-Khoin wat behoue gebly het, word hier van nader bekyk, vir die periode voor die vestiging van die kolonie aan die Kaap, tussen 1595 en 1652. Hierdie tydperk kan beskou word as die eerste fase van die taalgeskiedenis van Afrikaans wat Nienaber in gedagte gehad het. Den Besten (1989:218) maak ook 'n onderskeid tussen 'n voor-1652-periode en daarna om vas te stel wanneer Engelse besoekers se invloed op die Kaapse Khoi-Khoin die sterkste was.

Khoi-Afrikaans is in die dekades ná 1652 steeds opgeteken, waarvan Groenewald (2002:251263), Ponelis (1993:30-34, 104), Raidt (1976:11-112), en andere voorbeelde gee. Later, van die begin van die agtiende eeu af, het Khoi-Afrikaans noordooswaarts versprei, veral in die gebied tussen die Hottentots-Hollandberge en die Keirivier.

1.2 Data oor die eerste periode

Nienaber het Khoi-woorde wat tussen 1595 en 1815 deur verskeie waarnemers in "verspreide ou glosse" (Nienaber 1963:ix) opgeteken was, in 'n omvattende Afrikaans-Khoi-woordelys byeengebring en verklaar. Etlike van die inskrywings in sy woordelys was alreeds Khoi-Afrikaanse woorde, soos breba vir brood (vergelyk 5.1.2). Den Besten het in 'n aantal studies insiggewende opmerkings oor die betekenis van hierdie gegewens vir die bestudering van Afrikaans gemaak (waaronder Den Besten 1989, en ander, wat in die bibliografie vermeld is).

Met Nienaber (1963) as basis, en enkele aanvullings (soos verder aangetoon sal word), is daar 54 gevalle van die Khoi-Khoin se taalkontak met besoekende seelui tussen 1601 en 1652 geïdentifiseer. (Vergelyk ook die 45 inskrywings wat in die lys van Groenewald (2002:245-251) voorkom.) Hierdie databasis (Bylaag 2) bestaan hoofsaaklik uit woorde wat in die eerste periode van Afrikaans se geskiedenis neergeskryf is. Sinstukke is skaars (vgl. 3, 9, 10, 18, 31, in Bylaag 2). Die plantnaam (8) canna (dagga) is opgeneem omdat dit so vroeg opgeteken is (in 1611), opvallend min wisselvorme vertoon, en soveel buitelandse belangstelling onder plantkundiges ontlok het. Canna was binnelands besonder goed bekend, soos boegoe ook, wat in 1668 vir die eerste keer opgeteken is (Nienaber 1963: by kanna en boegoe).

Neerslae van hierdie vroeë Khoi-Afrikaans kan in verskillende latere variëteite van Afrikaans aangedui word (soos Griekwa-Afrikaans), en die oudste optekenings van enkele woorde wat tans in Standaardafrikaans voorkom (soos (33) gee, en (44) more, waar die nommers na die inskrywings van die inventaris (Bylaag 2) verwys), kan in n effens verhulde vorm in die databasis van die Khoi-Afrikaans van hierdie voor-1652-periode gevind word.

Kennis van Khoi-Afrikaans uit hierdie periode kan met vrug betrek word in die gesprek oor die vorming van Afrikaans. Dit is duidelik dat die Afrikaans van die Khoi nie eers Nederlands was nie, en dit kon nie uit Nederlands verander het na Afrikaans nie. Die Khoi-Khoin het nooit Nederlands gepraat nie.

Ná hierdie eerste periode het Khoi-Afrikaans n bekende taalvorm in Suid-Afrika geword, veral in die binneland van Suid-Afrika gedurende die agtiende eeu, en dit het deurgaans 'n invloed op ander variëtete van Afrikaans uitgeoefen. Janda en Joseph (2003:28), met verwysing na ander ondersoekers, onderstreep dit dat "the history of ... language" inderwaarheid in "the history of vernaculars" lê. In Standaardafrikaans kan die invloed van Khoi-Afrikaans ook uitgewys word (onder andere Van Rensburg 2015:329-331).

Die 54 gevalle van Khoi-Afrikaans wat voor 1652 opgeteken is, word hier bespreek, gevalle van latere voortsettings daarvan word uitgewys, en historiese besonderhede van Khoi-Afrikaans word ook aangetoon.

 

2. DOELWITTE

Om:

2.1 Die agtergrond te skets waarbinne die Khoi-Khoin se moedertaal vervang is deur Khoi- Afrikaans,

2.2 daarop te wys dat die Khoi-Afrikaans wat hier bespreek word, toevallig opgeteken is,

2.3 die voorbeelde van Khoi-Afrikaans as skraps data te interpreteer,

2.4 die neerslae van vroeë ruilgesprekke tussen die Khoi-Khoin en Portugese en Engelse seelui as deel van die databasis van Khoi-Afrikaans te oorweeg,

2.5 die Khoi-aandeel in Khoi-Afrikaans aan te dui, en

2.6 Khoi-Afrikaans te sien as die eerste Afrikaans.

 

3. DIE AGTERGROND VAN DIE KHOI-TAALVERVANGING

3.1 Die eerste periode

Van 1595 af het Nederlandse skepe die Kaap besoek. Eers het De Houtman, op reis na die Ooste toe, sy tog in Mosselbaai onderbreek (Raven-Hart 1967:11-19). Daarna, veral van 1616 af (Schoeman 1999:181), het die skeepvaart toegeneem, en Tafelbaai (waarna vroeë dokumente soms verwys met sy vorige naam, Saldanha) is ook toenemend besoek. Tussen 1610 en 1650 het daar nie minder nie as 363 skepe uit Nederland aan die Kaap anker gegooi. Besoekende skepe, en die taal van die besoekers en hulle gewoontes, het vir die Kaapse Khoi-Khoin al hoe bekender geword. Behalwe Nederlands is Engels en ander tale ook gehoor: 62 Engelse skepe, naas 23 skepe van ander moondhede, het die Kaap gedurende hierdie periode besoek (Groenewald 2002:100).

Die Khoi-Khoin het vee verskaf aan die bemanning van die besoekende skepe, en het koper en ander handelsware daarvoor in ruil ontvang. Met beter kommunikasie kon die handelsgesprekke gladder verloop. Die seelui het Khoi-woorde aangeleer, en die Khoi-Khoin het die Nederlands van die seeliede probeer napraat: hulle nuwe aanleerderstaal het so ontstaan (waarop Bosman (1928), Franken (1953), en andere gewys het).

3.2 Die Khoi-Khoin en Khoi-Afrikaans ná 1652

Die veeruilsituasie met die Khoi-Khoin het ná 1652 verander, met die stigting van die Vereenigde Oost-Indische Compagnie (VOC) se verversingspos aan die Kaap (De Villiers 2012:41-42). Daardeur het die eerste periode van die spontane taalkontak tussen die Khoi-Khoin en die besoekers tot η einde gekom.

Hierdie verandering (vgl. ook Steyn 1980:104-106) het implikasies vir die Khoi-Khoin se taalkontakgeleenthede met besoekende seelui ingehou. Die kapteins van die Nederlandse skepe het opdrag gekry om die VOC se nuwe handelspos te ondersteun, en kon hulle vaarte net in Tafelbaai onderbreek. Dit het die lukrake en sporadiese ontmoetings kuslangs tussen die bemanning van die Nederlandse skepe wat aan die Kaap verpoos het en die rondtrekkende groepe Khoi-Khoin wat hulle na willekeur vir ruiltransaksies kom aanmeld het, of die skepe uit nuuskierigheid besoek het, beëindig.

Tolke het η belangriker rol in meer gestruktureerde veeruiltransaksies begin speel, maar die belangrikste gevolg van hierdie verandering lê daarin dat die Khoi-Khoin die beheer wat hulle voor 1652 oor die veeruiltransaksies gehad het, moes prysgee. Voor 1652 kon hulle hulle aan die onderhandelinge onttrek wanneer omstandighede hulle nie gepas het nie. Ná 1652 kon die Khoi-Khoin die veekopers nie ontglip nie, en het hulle mettertyd hulle vee kwytgeraak, en gepaardgaande daarmee hulle voormalige status as die veebesitters van die nuwe kolonie. Die vee-eienaars het in h ommesientjie veewagters geword (Bredenkamp 1982). Onbestendige veebesit vorm nie die basis vir h volhoubare ekonomie nie (Elphick & Malherbe 1989:6), veral as die veebesit nie deur η ander stabiele inkomstebron vervang word nie.

Met hulle verlies aan status as veebesitters, onderlinge tweespalt, nederlae in twee oorloë en die verkoop van hulle grond, en ook as gevolg van ander redes (De Villiers 2012:47, Elphick & Malherbe 1989:10-12), was die Khoi-Khoin genoodsaak om die funksies wat hulle aanleerderstaal, Khoi-Afrikaans, vir werksverskaffing gebied het, toenemend te begin ontgin. Dit het meegebring dat hulle moedertaal al hoe meer op die agtergrond geskuif is. Met kennis van Khoi-Afrikaans was dit moontlik om plaasarbeiders te word (op die buitewyke), transportryers, smouse, gidse, huishulpe, ensovoorts, oor η al groterwordende gebied, mettertyd tot diep in die binneland in. Hulle aanleerderstaal, wat vir lank nog naas Khoi in η diglossiesituasie gebruik is, het η deel van hulle daaglikse bestaan word.

 

4. KHOI-WOORDELYSTE EN TOEVALLIGE DATA OOR KHOI-AFRIKAANS

"Cape colonial linguistics of the VOC period was almost exclusively Khoisan linguistics", merk Den Besten (2010b:333) op. Voor die VOC-tydperk was dit ook die geval: die besoekende seelui het aanvanklik in Khoi belang gestel om handelsgesprekke meer effektief te voer. Optekenaars, waaronder seeliede en dagboekhouers, soos Muller (vgl. 5.2.1), en woordelysopstellers soos De Flacourt (sien hierna), wat nie tussen Khoi en Khoi-Afrikaans kon onderskei nie, het onwetend, saam met Khoi-items, ook gevalle van Khoi-Afrikaans opgeteken: die bron van die min gegewens wat oor Khoi-Afrikaans behoue gebly het. Nienaber (1963) het die bestaande waarnemings oor Khoi (wat voorbeelde van Khoi-Afrikaans ingesluit het) saamgevat en georden. Die meeste voorbeelde van die ander binnelandse variëteite van vroeë Afrikaans wat behoue gebly het, is ook nie bedoel om as dokumente van daardie taalvorm te dien nie, maar is meestal toevallig neergeskryf in briewe en dagboeke (vgl. Ponelis 1993:72). Die tweespraak van Teenstra uit 1825 is η uitsondering: hy laat sy karakters praat, sodat hulle Afrikaans beklemtoon kan word (vgl. Ponelis 1993:73 vir meer bronne).

Khoi-woordelyste, met hulle terloopse inskrywings van Khoi-Afrikaans, het makliker bewaar gebly as die optekenings van die seelui, hoewel die Khoi-Nederlandse woordelys wat Wreede in 1663 opgestel het, tog verlore gegaan het (Böseken 1973:323, 186 n. 47, Den Besten 2010a:336 e. v., Schoeman 2006:114 e.v.).

De Flacourt, wat goewerneur was op Mauritius, het op sy terugreis na Frankryk in 1655 vir drie weke in (die huidige) Saldanhabaai vertoef, en sy Khoi-woordelys van "knap oor die 200" woorde (Nienaber 1963:106) saamgestel. Die lys bevat 29 voorbeelde van Khoi-Afrikaans (vgl. Bylaag 2, inskrywing 25 en verder), wat aansluit by die items wat voor 1652 opgeteken is, en as data van Afrikaans se voor-1652-fase beskou kan word.

De Flacourt se segspersone sou hulle aanleerderstaal nie by die Nederlandse koloniste ná 1652 aangeleer het nie. Die periode was te kort, en van omstandighede vir taalaanleer van hierdie aard, binne drie jaar ná die koloniste se aankoms, gee Van Riebeeck in sy dagboek geen blyke nie. Die vrymoedigheid waarmee die Khoi-Khoin by De Flacourt aan boord gegaan het (Nienaber 1963:105, met verwysing na Strangman), dui op h bekendheid met besoeke onder soortgelyke situasies - h gewoonte wat nie in die hawe van die VOC se Kaap aangeleer kon gewees het nie.

Die ooreenkomste tussen inskrywings in De Flacourt se lys en optekeninge wat voor daardie tyd gemaak is (Nienaber 1963:106), wys op h Khoi-taalkontakwoordeskat wat alreeds bestaan het, byvoorbeeld vir die woord brood en vir die werkwoord gee (vgl. 5.1.2, 5.1.5), taalaanleervorme wat die aansluiting van De Flacourt se optekenings by h ouer taalkontakgeskiedenis bevestig.

Die bestudering van die data oor Khoi-Afrikaans kan aansluit by onderwerpe soos die verspreiding van dialekvorme en die behoud daarvan, tweedetaalverwerwing (vgl. Den Besten 2002, 2010b), en kan vergelykende materiaal verskaf oor kontaktale wat as byprodukte van die Nederlandse koloniale ekspansie van die sewentiende eeu beskou kan word (Bruyn en Veenstra 1993, Buccini 1996). Verder dra hierdie optekenings by tot die ondersoek na die rol wat die Kaapse Khoi-Khoin gespeel het in die wording van Afrikaans, en van die aard van die Afrikaanse historiese taalkunde-argief (Deumert 2012). Die Khoi-Khoin se verwerwing van hulle aanleerderstaal kan ook as n gevallestudie dien van die ontstaan van n nuwe taal, en terselfdertyd sienings oor die evolusionêre ontwikkeling van tale uit sogenaamde stamtale bevraagteken, in die trant van De Saussure (1916:17) wat vergelykende taalkundiges kritiseer wat tale met mekaar vergelyk soos wat natuurkundiges plante vergelyk. Hierdie gegewens pleit ook teen die beskouing dat Afrikaans ná 1652 "ontstaan" het. Willemyns (2013:215) sluit by Brachin aan en skryf "... in the year 1652 Jan van Riebeeck [laid] the foundations [of] 'the only language of Germanic origin which is spoken exclusively outside of Europe' ... the only still extant daughter language of Dutch."

Wat Afrikaans betref, vestig Khoi-Afrikaans die aandag op die dialekte met 'n Khoi-onderbou, veral in die binnelandse taalgebied, wat vir lank op die periferie van die variëteite van die sentrale Afrikaanse taalgemeenskap bestaan het (vgl. Van Rensburg 2015:39-333). Een gevolg van die beperkte wisselwerking tussen Khoi-gebaseerde Afrikaanse variëteite en die Afrikaans van ander variëteite was die geringe invloed van die standaardlek daarop, wat hierdie variëteite 'n waardevolle bewaarkluis gemaak het van taalgegewens met n besondere lang spreektaalgeskiedenis (vgl. 5.1.3).

 

5. VROEË KHOI-AFRIKAANS AS SKRAPS DATA

5.1 Uitkomste van ondersoeke met skraps data

5.1.1 Gebrekkige optekenings

Die gegewens oor Khoi-Afrikaans bevat n versameling data wat ooreenstem met optekenings wat Joseph en Janda (2003:28 e. v.) as skraps data sal tipeer. Die integreer van skraps data by historiese beskrywings sal verhoed dat sulke gegewens vir historiese taalondersoeke verlore gaan, maar die aard van dié data stel besondere eise aan die bestudering daarvan, en vereis meermale dat benaderings by die ondersoekmateriaal aangepas word. 'n Ondersoek na oorblyfsels van graffiti en weggooiboodskappe wat Romeinse soldate op plankies uitgekerf het, hou Joseph en Janda (2003:28-30) voor as 'n voorbeeld van 'n suksesvolle projek van hierdie aard, omdat dit historiese taalgegewens blootgelê het wat hulle as "priceless" bestempel.

Met die bestudering van skraps data, soos die data van Khoi-Afrikaans, moet toegewings gemaak word vir die toevallige en onsistematiese versameling daarvan. Hierdie data leen hulle nie tot statistiese verwerkings nie, en is uiteraard ook onvolledig. Daar word byvoorbeeld net een handelsartikel genoem, (12) bras (vgl. 6.1.3), en die Afrikaanse woord skaap is nie naas die klanknabootsings soos (2) baa (skaap) opgeteken nie. Indien gegewens oor skaap voorgekom het, sou die woord 'n meervoudsvorm skape gehad het, of sou dit ook skaap gewees het, soos wat dit tans in die binnelandse Khoi-Afrikaanse spraakgebiede die geval is? Sulke vrae kan nie uit dié data beantwoord word nie.

Verder is die taalgegewens deur waarnemers opgeteken, wat in baie gevalle 'n beperkte begrip van Khoi-Afrikaans se Khoi-gebaseerde aanleerdersgrammatika gehad het, en nie deur sprekers van Khoi-Afrikaans self nie. Die Khoi-Khoin het uitspraakaanpassings gemaak om Nederlandse klanke te akkommodeer by hulle manier van praat met keel- en nasale klanke, die onderskeiding daarvan was vir optekenaars nie n eenvoudige taak nie, en die waarnemings gevolglik nie betroubaar nie. "Haer uitspraek valt swaer", is n waarneming wat Van Rheede in 1685 gemaak het (Hulshof 1941:202). Die kontekste waarin die optekenings gemaak is, kan ook meermale nie uitgepluis word nie, en alle waarnemings wat na die Khoi-Afrikaans van hierdie eerste periode verwys, kan nie sonder meer as korrek aanvaar word nie (soos die gevalle (7) en (18) in Bylaag 2). Met sulke siftings raak die ondersoekmateriaal nog yler.

Nieteenstaande al die gebreke aan die materiaal kan n ontleding van die data oor Khoi-Afrikaans vir n waardevolle perspektief op die studie van Afrikaans sorg, en betekenisvolle gegewens tot die geskiedenis van Afrikaans toevoeg. n Bespreking van die Khoi-Khoin se aanleerderswoorde vir brood (hierna) kan as n voorbeeld dien.

5.1.2 Hoe is die woord 'brood'deur die Khoi-Khoin aangeleer?

Die besoekende skeepslui het die gewoonte gehad om brood en skeepsbeskuit (sake waarvoor daar in Khoi nie woorde bestaan het nie) uit te deel om hulle ruilonderhandelings met die Khoi-Khoin te fasiliteer. So het die Khoi-Khoin die Nederlandse woord brood goed leer ken, maar omdat hulle moedertaal, Khoi, in soveel opsigte verskil het van die besoekers se taal, kon hulle brood aanvanklik nie uitspreek soos in Nederlands nie. In elkeen van die opgetekende gevalle in Khoi-Afrikaans is Nederlands aan die begin van die woord herkenbaar, waarna die woorddele met Khoi-moedertaalinvloed opgemerk kan word. Die Khoi-Khoin was in elk geval nie gemaklik met woorde wat b - as 'n aanvangskonsonant gehad het nie - dit het 'n merker vir leenwoorde gebly (Nienaber 1963:234).

 

 

Met (19) brokwa as uitgangspunt, kan die ander optekenings van brood verstaan word. Die kluster b + r was vir Khoi-sprekers moeilik om uit te spreek. Hulle het daarvan b + vokaal + r gemaak ((15) bara). By (19) brokwa is die b + r-uitspraak wel (later?) bemeester, en op die bro-gedeelte, vir brood, volg die Khoi-kollektief -kwa, waarmee na brood sowel as skeepsbeskuit verwys is. (Griekwa beteken Gri-hulle of Gri-goed.) Die Khoi-kollektief word in die binnelandse dialekgebiede steeds frekwent gehoor as -goed, in byvoorbeeld ma-goed, Petrus-goed, terwyl Elias Nel se karakters (Hendriks 2014:3) name dra waarin -kwa soms voorkom: Martiens Hessekwa). Die variant (28) breba begin ook met die kluster [b+ r] gevolg deur die genusmerker -b- [+manlik], en 'n naamvalsuitgang -a. Daar kan gespekuleer word dat die -e- van breba aantoon dat die Engelse woord bread die doelwitwoord was, en nie Nederlands brood nie, hoewel dit nie n eenvoudige taak was om die kwaliteit van hierdie vokale met sekerheid te kon vasstel nie (Nienaber 1963:101).

Die Deen Jon Olafsson (Raven-Hart 1967:111) het (13) varucka opgeteken, waar die beginkonsonant afwyk van ander optekenings wat met 'n b- begin, soos (15) bara en (29) Baraba ('n eienaam, wat "Broodman" beteken (vgl. ook 5.1.4)). Nienaber (1963:234) skryf dit toe aan die invloed van sy moedertaal, Deens, wat nie heeltemal oortuig nie, wys Ernst Kotzé my op, aangesien /b/ nie in Deens onbekend is nie ("brood" in Deens is bred [breD]), en suggereer dat die verklaring eerder by Olafsson se skryfwyse van van /b/ as /v/ gesoek moet word. Dit is waarskynlik, omdat beide stemhebbende labiale konsonante is. Die tweede lid-cka is niks anders as -kwa nie (*baru-kwa). In hierdie optekenings, skei 'n vokaal die woordaanvangskluster.

5.1.3Die geskiedenis van Khoi-Afrikaans se aanleerderswoorde vir 'brood'

"No linguistic state of affairs ... can have been the case only in the past", voer Lass (1997:28) aan. Lass se standpunt beteken dat die Khoi-Afrikaanse vorme, ná die eerste periode van Afrikaans se geskiedenis, deur die ekspansie van Khoi-Afrikaans in die agtiende eeu (Du Plessis 1994:123-5) voortgesit is uit die Wes-Kaapse sentrum in die binneland in. Dit verklaar waarom die Nederlandse doeltaalwoord brood nie die Khoi-Khoi-ontlenings daarvoor in alle gevalle vervang het nie.

Nienaber (1963:234) het 11 optekenings raakgeloop van brood wat in Khoi-/Khoi-Afrikaanse gemeenskappe gebruik is, wat tussen 1691 en 1815 gemaak is, en wat baie naby staan aan die optekenings wat voor 1652 vir brood gemaak is. Die woorde wissel tussen bree, sonder Khoi-morfologie, tot breb en berib/barib met die Khoi-merker [+manlik], terwyl daar soms ook h vokaal tussen die konsonante van die b+r-kluster voorkom: h herinnering aan die aanvanklike uitspraakprobleem van die Khoi met die uitspraak van brood. Die Nama/Damara-taalkomitee (1977:14) van Namibië het in hulle Nama/Damara-grammatika pereb (wat vrylik kan afwissel met berep), vir brood aangegee. Dit is nie verrassend dat 'n vroeë Khoi-aanleerderswoord vandag nog in Nama/Damara gebruik word nie - volgens Nienaber (1963:101) is Nama "die enigste nog lewende verlengstuk van Kaapse Khoi". Vir Koranna het Nienaber die optekenings breb/bereb teëgekom (Nienaber 1963:234). In 1925 het Von Wielligh in Boesmanland berep vir brood opgeteken (Von Wielligh 1925:156). Sprekers van taamlik geïsoleerde spreektaalnetwerke gebruik woorde wat al aan die vergetelheid toegeskryf is, soms onbewus, oor geslagte heen. Kennis van dié woorde kan eietydse taalbeskrywings in verskeie opsigte aanvul.

Met die verloop van taalekspansies, soos van Khoi-Afrikaans die binneland in, is die verskeidenheid wat eie aan die Khoi-Afrikaanse aanleerderstaal was, en wat tot die geheel van Afrikaans se taalrykdom kan bydra, nie ingeboet nie. Bergs (2012:80, 82) skryf sulke gevalle toe aan die algemene verskynsel van taalbehoud. Nienaber (1942:xv) vermoed ook dat die variasie wat in Afrikaans se uitstralingsgebied voorgekom het, daarbuite voortgesit is, en dat dit "heel natuurlik is om al die voorbeelde van Afrikaans in die periferie te vind".

Die voorkoms van die voor-1652-Khoi-aanleerdersvorme vir brood, nog lank ná daardie periode, sluit aan by twintigste-eeuse dialektoloë se sienings oor die verspreiding van dialekpatrone, en die vervlegtheid daarvan met tale se geskiedenisse. "[W]at in die geskiedenis van h taal opmekaar volg, kan ons vandag nog geografies naas mekaar aantref', verwoord Louw (1948:67) hierdie standpunt, en voer aan dat die teenoorgestelde ook waar is: as taalverskeidenheid waargeneem word, is dit die sprekers se geskiedenisse wat daarvoor verantwoordelik is.

5.1.4Die -man van broodman

Die tweede lid van samestellings op -man wys op ´n aantal interessanthede wat in die konteks van Khoi-Afrikaans na vore kom wanneer name met -man gevorm word. Een van De Flacourt se drie segspersone toe hy sy Khoi-woordelys in 1655 opgestel het, se naam was (29) Baraba wat Broodman beteken het. Bar- is die stam van die aanleerderswoord vir brood, met -a- wat die Khoivreemde kluster (b+r) se opvolging verbreek, terwyl die tweede -a- ´n wisselvorm is van die -o- (van brood), met -b- die manlike genusmerker, en die woordfinale -a is die akkusatief-naamvalsaanduider. Die sluitklank -d (van brood) is vreemd aan Khoi-woordeindes, (soos die Khoi-Afrikaanse uitspraak (52) bor vir bord aantoon) (Nienaber 1963: by brood II en bord). Die naam (29) Baraba, waar man met brood in verband gebring word (man wat brood gaan haal?), wys moontlik op vroeëre kontak met seelui.

Agentnaamwoorde kom in byna alle aanleerderstale voor, merk Den Besten op (1989:233), soos ook in Khoi-Afrikaans. In die eerste dekade ná Van Riebeeck se aankoms is voorbeelde soos tekeman (dief), en bijteman (leeu) opgeteken. Die aanleerdersgegewens uit die eerste vyftig jaar van daardie eeu (Bylaag 2), bevat ook inskrywings met -man as lid van Khoi-Khoi-stamname: (16) Watermans (die Goringhaikona), (20) Vismans (San), en (21) Caepmans (die Goringhaikwa).

Die patroon waarvolgens name met -man in Khoi gevorm word, is nogal produktief. Haacke en Eiseb (2002:325) se inskrywing !gu-khoeb beteken letterlik gaan + man, vir 'n reisiger, en Den Besten (1989:233) gee die Nama-voorbeeld !nari-ao-b (steelman), aan vir 'n dief Die inskrywing van De Flacourt, (35) samon, wat Nienaber (1963 by meneer) verduidelik as groot meneer, het dalk meer om die lyf: is -mon nie moontlik -man nie, en sa- die aanleerdersvorm van sir (sir+man) nie, waarop Ernst Kotzé my aandag gevestig het? Sa- (vir die Engelse uitspraak van sir) pas in by die patroon van a wat in onbeklemtoonde sillabes in Khoi-Afrikaans voorkom (vgl. 9.2), en sa-mon kom ooreen met optekenings van ander herhalingsamestellings (vgl. 7.3) in dié aanleerderstaal.

In Boesmanland, waar reste van Khoi-Afrikaans nog gehoor kan word, kom hierdie patroon steeds voor. Hendricks (2014) verwys na Elias Nel se karakters met name soos Piet Goeieman en Japie Kortman. Wys die -man van Broodman op 'n verskynsel in Khoi-Afrikaans wat verder strek as net die eerste vyftig jaar van Afrikaans? Name waar die tweede lid -man is, (Maarman) het dikwels voorgekom by segspersone wat gegewens vir die navorsing oor Griekwa-Afrikaans (Van Rensburg 1984:1 294, 1 306) verskaf het, en samestellings soos Jansenman ook (iemand met die van Janse/Jansen). In Kenhardt (2014) is man in 'n wyer toepassing gehoor: "Lig net daardie man (hefboom), dan sal die hek oopkom." (Persoonlike waarneming.)

5.1.5 Khoi-Afrikaans 'gee'en verbindings daarmee.

(33) ghe+me = gee

In die optekenings uit 1655 kom gee (ghe) twee keer voor. In die een geval met die suffiks -me in die optekening (33) gheme (=gee). Die -me lyk soos die Nederlandse mij, wat daartoe kon lei dat sommige ondersoekers die betekenis aangee as gee + my, wat onwaarskynlik is, omdat die Khoi-voornaamwoord ti (=my) nie in die Khoi-Afrikaans opgeneem is nie. Dié uitgang is eerder die morfeem -me, n allomorf van m, -em, -um, en -om, wat in die reël ná konsonante in woorduitgange van Khoi-Afrikaanse werkwoorde voorkom (Den Besten 2010a:128-9; 125, 131132, wat ook na 45 gevalle van die werkwoord makom (=maak) verwys, wat tussen 1688 en 1799 met dié variant ná konsonante opgeteken is). Uit hierdie reeks is slegs hierdie -me-allomorf in die voor-1652-fase opgeteken, en ná n vokaal. Omdat skraps data nie n verteenwoordigende beeld van n taalsituasie skets nie, kan nie afgelei word dat die ander uitgange nie voorgekom het nie.

(32) ghe+ma+re

In die ander geval is gee deur De Flacourt opgeteken in die betekenis van gee + my + moet (in (32) ghema(re)). Die Khoi-woorddeel -ma- beteken gee (en is later (in 1697), ook sonder die gepaardgaande Afrikaanse gedeelte ghe- opgeteken as ma+re (Nienaber by gee II)). In De Flacourt se optekening word ghe- versterkend herhaal in kombinasie met -ma- (=gee+gee). Die imperatief -re aan die einde van die uiting, maak die mededeling nog dringender: gee + gee + moet!

Ou vir gee

In 1626 het Herbert die woord (16) quoy opgeteken, met die betekenis gee. Nienaber (1963:22, 101 by gee I) voer aan dat Engels give of Nederlands gee(f) die doelwitvorme moes gewees het. In Nama/Damara is die stemlose labiodentale frikatief ([f]) vreemd (Nama- / Damarataalkomitee 1977:54), en Tindall (1857:9) gee in sy behandeling van die Namakwa-alfabet geen voorbeelde aan van woorde waarin h [f] voorkom nie. Om tussen Engels give en Nederlands geef as die basis vir (16) quoy te kies, wanneer die frikatief uitgeskakel word? Dit lyk nie moontlik nie.

Herbert (1626) se optekening van (16) quoy lyk soos die woord ou (vir gee) wat in huidige Nama gebruik word (Haacke 2002). Die woord is dwarsoor Suid-Afrika bekend, veral onder plaasarbeiders, maar ook onder h ouer geslag boere (persoonlike waarneming). Die WAT maak melding van optekenings in die Boland, Namakwaland, Namibië en die Noordweste, streke wat daarvoor bekend is dat Khoi-Afrikaans daar voortgesit is, en gee voorbeelde soos Adderjan Botha, ou vir my 'n skoon segret. Von Wielligh (1925:158) het ook melding gemaak van ou wat in Namakwaland gee beteken.

Outere

"Ou kom nie alleen voor nie", het h bejaarde segsman uit die Noord-Kaap in 2012 in h persoonlike mededeling gesê, en verwys na outere, wat vollediger sou wees. Die betekenis van outere kom ooreen met die betekenis van De Flacourt se 1655-optekening ghemare, maar met die voornaamwoord ti (=my), en sonder die herhaling van gee.

Ou beteken in elk geval gee (vgl. Herbert se optekening van (16) quoy), wat hier gevolg word deur h variant van die Khoi-voornaamwoord ti (=my - Nienaber 1963:395), en die bevelsvorm -re =gee vir my jy moet! Onder Prinsloo se gegewens (2009:450) kom h variant oudere uit Griekwaland-Wes voor, waar reste van Khoi-Afrikaans steeds gehoor word - nog h kanniedood-geval met wortels in die Khoi-Afrikaans van voor-1652.

5.1.6Die oudste optekening van 'gee'

Die woord gee, sonder die Nederlandse doeltaalmorfologie, (soos ander Afrikaanse werkwoorde ook, waaronder (50) het-te (hê)), wat in 1655 deur De Flacourt opgeteken is as die eerste lid van die samestellings (32) gheme, en (33) ghemare, is die oudste optekening van die (Khoi)-Afrikaanse woord gee. Ondersoekers wat nie die data van Bylaag 2 as die oudste Afrikaans beskou nie, dateer eerste optekenings van Afrikaanse woorde eers heelwat later. Raidt (1983:85) dui die datum van die eerste optekening van gee byvoorbeeld aan as 1812.

Aanleerders het moontlik die Nederlandse woordstam geef, of die infinitiefvorm gewe, van Nederlands gee(ven) in hulle visier gehad toe hulle by gee uitgekom het (Den Besten 1989:221). Hulle kon nie daarin slaag om die Nederlandse doeltaalwoord uit te spreek nie.

5.1.7Is 'goo'en 'reght'gevalle van Khoi-Afrikaans?

h Verergde Herry (Autshumao) het in 1655 sy wrewel te kenne gegee teenoor die lede van die reisgeselskap waarin hy hom bevind het, met die sinnetjie, (31) Goo, goo reght. Willem Muller het dit vermeld in sy verslag wat in Van Riebeeck se dagboek opgeneem is, maar Bosman en Thom (1952:416, en 416, voetnoot 7) het dit waarskynlik verkeerd geïnterpreteer as Engels. Tot watter taal hoort Herry se uiting (31) goo, goo reght?

Die uitings van Herry (31) goo, goo reght (hierbo), en (52) goo, lyk op die oog af soos items wat pas by die skraps aanleerdersdata van die Khoi-Khoin uit die eerste helfte van die sewentiende eeu aan die Kaap (toe Herry geleef het) - data waarna taalhistorici naarstiglik soek. Gespreksfrag-mente, soos hierdie sinnetjie, is besonder skaars in die dataversameling oor die eerste periode van die geskiedenis van Afrikaans. (Meer sulke gevalle kom in die volgende fase, ná 1652, voor.) Die woord reght lyk na Nederlands, maar dit is die Khoi-imperatief re wat foutief geïnterpreteer is (Den Besten 1989:221, 232; 2002:162), en dié woord hoort nie tot die databasis van Khoi-Afrikaans nie.

Wat is die geval met die res van die uiting, goo, goo? Bosman en Thom (1952:416 n. 7) sê daarvan: "Goo sal wel Eng. go wees", waarin Den Besten (1989:232) hulle ondersteun. In Nama verbind gu (gaan/loop) met re! in ´n vaste uitdrukking: gaan weg! / loop! (Nama-Damara Taalkomitee 1977:24-32, 88), wat dit verkieslik maak dat gu eerder saam met re in sy geheel as h Khoi-frase geïnterpreteer moet word.

Die vokaal van die Khoi-woord gu (=gaan) sou verkeerd gehoor kon word, omdat dit genasaleer word (Nienaber 1963 by gaan I) en ´n bepaalde toon dra (soos Haacke en Eiseb 2002:325 se inskrywing aandui). Is gu, met suprasegmentele elemente bygehoor, nie verkeerd verstaan as die Engelse go! [gou] nie? Die uitspraak van vokale en diftonge in Griekwa-Afrikaans, ´n subvariëteit van Binnelandse Khoi-Afrikaans, was in 1984 vir waarnemers nie maklik onderskeibaar nie, wat nog te sê in die begintyd van Khoi-Afrikaans? (Van Rensburg 1984:311 e.v.).

In sy behandeling van Khoi-konsonantwisselings gee Nienaber (1963:178-183) nie voorbeelde aan van [g] x [x]-wisselings nie, wat die Engelse moontlikheid [gou] nog onwaarskynliker maak.

Die bostaande voorbeelde is aan Herry toegeskryf, die tolk wat nogal met sy kennis van Engels te koop geloop het, en waardeur hy die indruk kon geskep het dat hy Engels beter ken as wat dit werklik die geval was. Verder is goo in (31) goo, goo (reght) op die tipiese Khoi-manier herhaal (vgl. 8.3), om die betekenis van gaan te versterk, sodat dit weggaan (+moet) kan beteken.

Soos dit met die imperatief re (wat nie reght is nie) die geval is, lyk dit of die uiting gu, gu ook uit Khoi kom, dat dit nie h aanleerdersvorm is nie, en daarom nie by die databasis van Khoi-Afrikaans uit die eerste periode van Afrikaans se taalgeskiedenis hoort nie.

Wat van (52) 'goo'?

Die kontekste waarin (52) goo gebruik is, en (31) goo, goo reght, verskil in talle opsigte van mekaar. Dit was ´n bedaarde Herry aan die woord toe hy (52) goo gesê het vir ´n groep twistende stamlede (Bosman en Thom 1952:418), sonder om die bevelsuitgang -re daaraan toe te voeg. (Die anekdote eindig ongelukkig daar.) Herry wou hulle nie wegjaag nie. Het hy hulle nie net gemaan tot minder luidrugtigheid nie? Die Khoi-woord [xu] word ook gebruik in die betekenis van laat staan (*julle getwis) (Nama-/Damarataalkomitee 1977:18). (52) Goo was eerder 'n aanmaning in Khoi, en hoort nie by die data van Khoi-Afrikaans nie.

 

6. NOG RUILGESPREKKE: MIN PORTUGEES EN MEER ENGELS

6.1 Vroeër seereise en hulle taalnalatenskappe

6.1.1 Portugees

Die seeliede op die Portugese skepe wat ná Dias in 1488, en Da Gama in 1497, hulle seereise aan die suidpunt van Afrika onderbreek het, kon daardie geleenthede gebruik het om h Portugese handelstaal aan die Kaap te vestig, soos wat in Indië, Asië en Suid-Amerika gedoen is. Ná ´n ernstige skermutseling tussen D'Almeida en die Khoi-Khoin (in 1510) is die Portugese skepe aangesê om die suidpunt van Afrika te vermy (Elphick 1985:73, Nienaber 1963:5). Die geleentheid om 'n Portugese kontaktaal aan die Kaap te vestig, is verpas, en toe daar later 'n aanleerderstaal ontstaan het, het die sprekers die taal wat op die Nederlandse skepe gepraat is in die oog gehad, en nie Portugees nie. Die Portugese taalnalatenskap, ná n vlietende kontaktyd, het nie in die niet verdwyn nie. Die naam Saldanhabaai (vir Tafelbaai), om 'n ander onderonsie van 1503 te gedenk (Raper e.a. 2014:46), was wyd bekend, en leef ná eeue nog voort, naas ander tekens van hulle teenwoordigheid. Een van De Flacourt se segspersone van 150 jaar later, Saldan, se naam slaan heel waarskynlik op die nalatenskap van die vroeëre kontak met die Portugese seevaarders.

6.1.2Engels en woordvolgordepatrone in Khoi-Afrikaans

Engels het 'n baie groter rol gespeel in die voor-1652-taalkontaksituasie aan die Kaap as enige ander taal behalwe Nederlands. Die tweede meeste besoekende skepe het uit Engeland gekom (vgl. 3.1). Coree, 'n lid van een van die Skiereilandse Khoi-Khoin, wat in 1616 vir 'n rukkie saamgevat is Engeland toe, het sy verlange na sy herkomsland uitgedruk met die versugting (9) Coree home go, Souldania go, home go (Terry 1947:75, Raven-Hart 1967:83). Nieteenstaande die Engels van hierdie uiting, is die SOV-woordvolgordepatroon daarin vir Khoi-Afrikaans betekenisvol. Dit kan 'n aanduiding wees dat die aanleerderstale wat die Khoi-Khoin gevorm het, voorkeur gegee het aan n SOV-woordvolgordepatroon.

Den Besten het die Khoi-woordvolgordepatroon in Coree se uiting in verskeie publikasies bespreek (o.a. Den Besten 1989:217, 2002:153). Tydens die ekspansie van Khoi-Afrikaans, en nieteenstaande beïnvloedings van ander dialekte van Afrikaans daarop, het Khoi-Afrikaans sy basiese SOV-woordvolgordestruktuur behou (Den Besten 2002:192). Implikasies van die Khoi-woordvolgordepatroon is al deur verskeie ondersoekers uitgewys en beskryf, en is waarneembaar in latere Binnelandse Afrikaans, soos die onvastheid van die V+deeltjie-volgorde (in hoofsinne) x deeltjie +V in bysinne, soos in maak ... staan (die paal) / staanmaak (die paal) (Den Besten 2002:160, 190). Gevalle soos nou omhang jy hom en 'n kar met vier perde geïnspan is in 1984 in Griekwa-Afrikaans opgeteken (Van Rensburg 1984:163). Talle voorbeelde wat deur Von Wielligh (1925) in die Binnelandse dialekgebiede opgeteken is, hoort tot hierdie paradigma.

Den Besten (2005:35) wys ook op die tipiese SOV-ekstraposisie van voorwerpe, in latere geskrewe Khoi-Afrikaans: (ik zal zoo lang plaag hem), en die komplement + infinitief volgorde: home go, naas ander verskynsels, wat in SOV-tale voorkom, en in die Khoi-Khoin se aanleerders- taal.

Die historiese raakpunte van die implikasies van Khoi-Afrikaans se woordvolgordepatroon, en die reikwydte van invloede daaruit op die ander variëteite van Afrikaans, is nog net gedeeltelik ondersoek.

6.1.3Meer gevalle met Engels as doeltaal

In die data wat in Bylaag 2 opgeneem is, kom daar heelwat voorbeelde van die Khoi-Khoin se aanleerderstaal voor wat deur Engelse seelui opgeteken is, naas die uitings (9) Coree home go, Souldania go, home go, (31) goo, goo right, en (52) goo, waarop reeds gewys is.

Die uiting (10) England God, great God, Souldania no God (wat met inagneming van die konteks daarvan waarskynlik beteken dat Engeland n God het, en die Tafelbaailand nie (n God besit nie)), word deur Coree gebruik nadat Terry (1947:76) vir hom gevra het wie sy God is. Hierdie uiting kom sonder werkwoorde voor, 'n verskynsel wat ook in optekenings van die Khoi-Khoin se aanleerderstaal, ná hierdie eerste tydperk, gevind kan word. In die groter korpus van die Khoi-Khoin se aanleerderstaal, wat optekenings ná hierdie voor-1652-periode ook insluit, wys Den Besten (2007:141) daarop dat daar net een ander voorbeeld opgeteken is (in 1661) waar die predikaat besitting aandui: Namaqua... boeba kros (die Namakwas se beesvelskilde).

Die optekenings (12) bras, vir yster/koper, wat in 1623 gemaak is, is "ongetwyfeld h leenwoord ... uit Engels" (Nienaber 1963:353), en kom ooreen met (42)pras, van 1655, 32 jaar later. Kan mens aflei dat die woord in 1655 deel uitgemaak het van die Khoi-Afrikaans van die eerste periode in Afrikaans se geskiedenis? Dit was heel waarskynlik die geval. As hierdie data gesif word vir gegewens oor nog artikels wat in die ruilhandel gebruik is, kom die ondersoeker bedroë daarvan af. Daar word slegs van bras melding gemaak. Skraps data verskaf skraps informasie.

Die klanknabootsing (11) boos, uit 1615, verwys na beeste, met die Engelse meervouds-s (waar (4) bou (1608), die enkelvoud aandui). Die optekening (14) bueem (moontlik vir h stroompie), is onduidelik, en Groenewald (2002:246 n.10) weet ook nie daarmee raad nie. Volgens Nienaber (1963:101) beteken die woord in Herbert se Engels 'brooke'. Bueem hoef egter nie met Herbert se Engels verbind te word nie: Die Nederlandse woord beemd staan baie nader aan hierdie Khoi aanleerdersvorm, wys ´n anonieme keurder tereg uit, met die betekenis "vlak, waterrijk land" (De Tollenaere en Persijn 1977:108).

Die woord (45) nosie (1655) het moontlik die Engelse no sir in gedagte (Bosman en Thom 1952(I):417). Soos Herry dit gebruik, kon dit by hom 'n vaste uitdrukking gewees het, omdat die res van die sin, in Van Riebeeck se dagboek, in goeie Nederlands neergeskryf is.

6.1.4Sips of ships

Die uitspraak van die Engelse woord ships deur die Khoi-Khoin is interessant. Hoe oud is die uitspraak (51) sips? Die depalatalisasie, wat uit De Flacourt se 1655-optekening blyk (Nienaber 1963:452), is kenmerkend van die Khoi-Khoin se aanleerderstaal, wat Den Besten (1989:218) ook opval, en kan steeds in Kaaps gehoor word (persoonlike waarneming).

Wat dan van die waarskynlike uitspraak [Ip:s] vir shipps, wat Peyton in 1615 opgeteken het, en wat van die 1655-waarneming ((51) sips) verskil? Dit blyk dat die tolk Coree 'n besoek vir skeepslui aan sy stat gereël het, en dat ´n verwelkomingskoor hulle met (7) "Sir Tho Smithe English Shipps" ingewag het. Peyton (in Raven-Hart 1967:72) merk daaroor op: "it semeth they have learned of Coree". Coree het shipps reg gehad, maar nie die werkwoord van die verwelkomingsin nie: Slaan Coree se "broken English" daarin deur, soos Terry (1947:75) vermoed het, en kom dit ooreen met die Khoi-aanleerderskonstruksies van ander Khoi-Khoin?

6.1.5Nog 'n geval van afrigting

Die goeie Nederlands wat die aanleerders tydens die tyd van die stranding van die Haerlem (1648) soms sou gebruik het, val op, soos (18) Eerst houthalen dan eeten (Godée Molsbergen 1912:213, Den Besten 2007:135 n.8). Nader bekyk, sien ondersoekers dat hierdie Nederlands oëverblindery is: h groepie Khoi-Khoin is deur die gestrande skeepslui geleer om die sinsnede op te sê, wat die taalkundige waarde daarvan kompromitteer, soos dit ook met die vorige voorbeeld die geval is. (Dat die Khoi-Khoin wel hulle aanleerderstaalvaardigheid deur hierdie oefening kon verbeter het, is moontlik.)

 

7. DIE KHOI-NEERSLAG IN KHOI-AFRIKAANS

Die aanleerderstaaloptekenings is soms deursigtig, terwyl dit in ander gevalle weer nie die geval is nie. Die volgende voorbeelde illustreer dat die byhaal van Khoi-fonologie en Khoi-betekenisstrukture ontwykende interpretasies tog sin kan laat maak.

7.1 Mouscap

As (5) bae klanknabootsend gebruik is om in 1601 in 'n ruilgesprek tussen Skiereilandse Khoi-Khoin en besoekende seelui na ´n skaap te verwys (Lancaster in Raven-Hart 1967:23), wat sal (46) mouscap, wat in 1655 opgeteken is, beteken?

Die interpretasie van hierdie optekening sluit aan by verskynsels, soos die voorkoms van -r aan woordeindes in Khoi-Afrikaans, wat uit die tyd van die vroeë ruilgesprekke kom, en meer van die ouderdom daarvan verklap, en by die betekenisintensiverende sisteem van Khoi, wat deur herhaling teweeggebring word.

Vir ´n skaap het De Flacourt in 1655 by die Khoi-Khoin (46) mouscap gehoor. Nienaber (1963: 447, by skaap II) het dié woord ontleed as 'n samestelling (skaap + skaap), met die eerste lid ´n klanknabootsing, waarmee ondersoekers maklik kan akkoord gaan: dit laat dink aan nog sulke woordsamestellings in die Khoi-Khoin se aanleerderstaal, soos (33) ghemare (gee + gee + (moet)), waar een van die samestellende dele uit Khoi kom, en die ander deel die Khoi-gedeelte in Khoi-Afrikaans verduidelik. (Nie een van die dele van sulke samestellings bestaan uit n klanknabootsende lid soos mou- nie.)

Den Besten (1989:221) bekyk (46) mouscap vanuit 'n ander hoek: "the vowel of this alleged onomatope seems to me completely wrong", merk hy op. Dit lyk of hy -oe- verwag (eerder as -ou-, soos hier). Waarop kom Den Besten se interpretasie van die woord (46) mouscap neer? Hy voer aan dat dié woord eintlik ooi beteken, met moe wat moer (moeder) is, en onduidelik is, omdat die sprekers van Khoi-Afrikaans die woordfinale -r nie uitgespreek het nie.

7.2 Die woordfinale -r, en vokaalonduidelikhede

Met Den Besten se siening dat (46) mouscap eintlik moerskaap moet wees (ook Den Besten 2007:141), vestig hy die aandag op -r in woordeindposisie in die aanleerderstaal van die Khoi-Khoi. (Aan hierdie tiperende uitspraakverskynsel het Nienaber, hierbo, ongelukkig nie aandag gegee nie; daarom interpreteer Den Besten mouscap anders as hy.) Die woordfinale -r word in bepaalde gevalle nog steeds nie in die Afrikaans van sprekers van Kaaps (Klopper 1983:90 e.v.) gehoor nie, soos in daa x daar; menee x meneer. De Flacourt (1655) se inskrywings (54) ouata (water), (36) hie (hier) en van Riebeeck (Bosman en Thom 1952:417) se optekening (uit 1655) van (45) nosie (no sir), gee 'n aanduiding daarvan dat hierdie verskynsel ten minste na die middel van die sewentiende eeu, of nog vroeër, teruggevoer kan word.

Hoe algemeen het woorde sonder 'n finale -r voorgekom? Bövingh het 'n halfeeu later (1709), hie ook neergeskryf sonder 'n -r aan die einde (Den Besten 2003:152-3), en Bosman en Thom (1952:417) verwys ook na (36) hie sonder die -r aan die einde van die woord.

7.3 Die betekenis van herhalings

Die oudste inskrywing van die herhaling van werkwoorde (3) kahou, kahou is in 1608 opgeteken. Raven-Hart (1967:39) verduidelik die betekenis daarvan as "which is to say Sit down", (sitplat op die grond). (Vgl. ook (31) goo, goo (reght)). Ander optekenings wys dat hierdie herhalings-konstruksie meermale in Khoi voorkom, soos keke wat bekyk beteken, teenoor ke vir kyk. As !gu (bring) herhaal word, in !gu!gu, beteken dit bring nader (Nama-/Damara-taalkomitee 1977:22). Die gesprekskonteks speel n belangrike rol in die bepaling van hierdie betekenisse wat met herhalings saamhang, en waarvan talryke voorbeelde in bronne oor Khoi voorkom. In Afrikaans word dié gesprekstrategie ook gebruik: sê-sê beteken sê dadelik / nou / asseblief, in 'n versoek- situasie.

Herhalingsamestellings uit Khoi-Afrikaans, waar die een naamwoord die ander een verduidelik, leef nog in name voort, soos in Leeu-Gamka (leeu+leeu (+ rivier)) (Raper et al. 2014:141, 271; Nienaber 1963: by rivier II), en in die eerste twee lede van hartbees(huis) (biesie+biesie, waar harub in Khoi biesie beteken) (Nienaber 1964:206).

 

8. DIE EERSTE AFRIKAANS

Om op die Afrikaans in die Khoi-Khoin se aanleerderstaal te wys, mag die indruk skep dat hierdie variëteit aan Standaardafrikaans gemeet word. Dit kan nie die geval wees nie.

Variëteite, en juis Khoi-Afrikaans, staan op hulle eie bene, met hulle eie onderskeidende klank- en sinpatrone, intonasie, betekenisse, geskiedenisse en idiosinkrasieë, en is op hulle eie besondere monumente van Afrikaans. In diglossiesituasies leef hulle steeds voort. ´n Spreker wat in 1977 die Khoi-Afrikaanse woord pereb =brood gebruik (met ´n geskiedenis van ´n paar honderd jaar), ken in alle waarskynlikheid ook die woord brood van Standaardafrikaans, en gebruik die twee woorde in h diglossieverhouding, die een by die huis, die ander een in die afdelingswinkel. Die sub-variëteite van Khoi-Afrikaans was in die geskiedenis van Afrikaans vir lang periodes, en vir talle sprekers, die enigste bekende Afrikaans; dit was die Afrikaans van die voorposte (Du Plessis 2013:444), en was wyd oor Suid-Afrika, en noordwaarts, buite sy grense, bekend.

In die gesprek oor Khoi se aandeel aan Afrikaans word Khoi meestal gesien as h taal wat invloed op Afrikaans uitgeoefen het. Den Besten (1994:2) laat hom so daaroor uit:

"... I am claiming that the Khoekhoen and their language were of primary importance for the genesis of Afrikaans, and through this claim I deviate from traditional wisdom which has it that the Khoekhoen may have had some influence upon the genesis of Afrikaans ..."

In hierdie artikel word dit onderstreep dat die klem inderwaarheid daarop gelê moet word dat Khoi-Afrikaans die éérste Afrikaans was.

 

9. BYLAAG 1. AANVULLENDE BESPREKINGS VAN DIE OPTEKENINGS VAN

DIE VROEGSTE KHOI-AFRIKAANS

Wat steek nog in die Aanleerdersafrikaans van die Khoi-Khoin uit die voor-1652-tydperk? Hierna word 17 gevalle wat nog nie aandag geniet het nie, kortliks bespreek.

9.1 water

De Flacourt het in 1655 (54) ouata in sy woordelys opgeneem, letterlik (w)ata, wat hy in Frans as eav vertaal het, en die finale vokaalletter volgens die Latynse spelling van /u/ as v geskryf het. In Khoi-Afrikaans kom die woordfinale -r dikwels nie voor nie (waarop al gewys is (7.2), en wat tans nog die geval is). (Die a x -wisseling word hierna by 9.3.2 bespreek.) De Flacourt (1655) het vir water ook (27) ouatar (watar) opgeteken (waar die skryfwyse van Frans ou- vir [w] voor ´n ander vokaal vereis het (persoonlike mededeling van Ernst Kotzé)). By (27) ouatar kom -r wel aan die woordeinde voor, met die betekenis 'warm water / brandewyn' (Nienaber 1963: by water II), terwyl Van Riebeeck in sy dagboek skryf dat die Khoi-Khoin water sê (vir die see) (Bosman en Thom 1952:389). Die voor die hand liggende verklaring vir die verskillende optekenings is dat De Flacourt se segspersone aangeleerde woorde met wisselende grade van sukses uitgespreek het.

9.2 koring

Die Afrikaanse woord koring (Nederlands koorn) is in 1655 deur De Flacourt as (43) conanh opgeteken in Khoi-Afrikaans. In Khoi wissel n vrylik met r af (Nienaber 1963:183). Om a in onbeklemtoonde sillabes te gebruik, was nie vreemd aan Khoi nie (vgl. Nienaber 1963:186), en ook nie aan Khoi-Afrikaans nie, met die kenmerkende "tendency in nonstandard Afrikaans to substitute an a-like vowel for schwa" (Den Besten 1989:221). (Vgl. ook die titel van Scholtz se roman: Vatmaar. 'n Lewendagge verhaal van 'n tyd wat nie meer is nie.) Den Besten maak ook n opmerking oor die lang geskiedenis van hierdie verskynsel (ten minste sedert 1655), en verduidelik die woordfinale -h as De Flacourt se skryfwyse om Franse lesers te verhoed om nasalering in die woord in te lees.

9.3 more (sonder-g-)

Die -g- kom in Afrikaanse woorde dikwels nie voor nie, in teenstelling met vergelykbare Nederlandse vorme. Ponelis (1993:158) wys daarop dat die vroegste optekening van dié kenmerkende Afrikaanse verskynsel, eijen (teenoor Nederlands eigen), uit 1719 dateer, 'n voorbeeld van die aanleerderstaal van n spreker van Duitse herkoms. Daarmee word die voorbeeld uit die aanleerderstaal van die Khoi-Khoin, waarvan De Flacourt 64 jaar vroeër al 'n voorbeeld opgeteken het, (44) marai, vir möre/oggend, nie in ag geneem nie. Die o x a-wisseling wat hier voorkom, was eie aan Khoi (Den Besten 1989:221, Nienaber 1963:186).

Die [x]-lose vorme is algemeen gebruik deur sprekers van Afrikaans in die agtiende eeu, maar gestigmatiseer, vind Ponelis (1993:158). Dit beteken, in die sosiale opset van daardie tyd, dat Khoi-Afrikaans daarmee geassosieer is. Hierdie [x]-lose vorme is met "the massive influx of Standard Dutch borrowings" (Ponelis 1993:158), tydens die standaardisering van Afrikaans, vervang deur woorde met n [x]-, soos suie deur suig.

9.4 beker

Vir Nederlands beker het De Flacourt in1655 (25) baquary gehoor, wat nie ver van die doeltaalwoord af gestaan het nie. Die wisseling van e met a is gewoon in Khoi, die -k- is nieteenstaande De Flacourt se Franse spelling herkenbaar, en die slot y = i staan vir die Khoi-uitgang [+manlik] [+enkelvoud] (Nienaber 1963:217, Den Besten 1989:219).

Hierdie woord het deel geword van Khoi-Afrikaans en is met die Khoi-Khoi-ekspansie wyd oor die binneland en verder versprei. In Nama het die variant bekeri ingeburger geraak (Nienaber 1963:217).

9.5 kep (om op my kop te sit)

Hoekom sou 'n moedertaalspreker van Khoi in 1626 (37) taba gesê het, as hy hoed wou agternasê? Tuba is deur Herbert neergeskryf, met weglating van die -w- waarmee hy n suigklank voorgestel het. (Hy het (17) twubba neergeskryf met die betekenis in Engels: hat.) De Flacourt bevestig sy waarneming toe hy in 1655 (37) taba (met 'n -a-) opgeteken het (sonder die suigklank) en die betekenis in Frans aangedui het as bonnet). Taba kan vrylik wissel met kaba (Nienaber 1963:180, 303). Die a en e is ook in Khoi verwisselbaar, asookp/b. Daardie segsman het waarskynlik ke-p-a gesê, met die -a as 'n naamvalsuitgang. (Het Herbert en De Flacourt se segsmanne vir hulle gewys hoe n kep gebruik word?) Die optekenaars het die Koi-Afrikaanse woord kep nie verstaan nie, die gebruiksartikel en die gebaar bymekaargesit, en in hulle moedertale hat / bonnet neergeskryf.

Kep is wel in Afrikaans bekend, en in vaste uitdrukkings gewortel (WAT). Kom dit uit die Engelse of Nederlandse seevaarttaal? Dit sal nie maklik vasgestel kan word nie.

9.6 pyp (wat 'n genusaanduiding kan verhul)

Niks het De Flacourt se segsman van 1655 verhoed om (48)pyp (om mee te rook) doeltaalkorrek te kon uitspreek nie. Hy het egter peshe gesê. Die eerste gedeelte py-, is as pe- uitgespreek, gevolg deur die genusuitgang -s [+vroulik]: pe+s, wat ondersoekers nie maklik as pyp raaksien nie. Maar vir die Khoi-Khoin om pyp te sê, sou nie deug nie. Die woordeinde -p sou die woord dan as [+ manlik] merk, terwyl dit [+vroulik] moet wees! (Vgl. Nienaber 1963, by pyp I).

9.7 kam

Tot watter woordgeslag het kam in Khoi behoort? In die aanleerderswoord (39) comache (Nienaber 1963: 324) is kam in die eerste deel opgesluit (na die Khoi a/o-wisseling). Na die naamvalsuitgang -a-, wys De Flacourt se -che aan die woordeinde, vir -s-, dat die woordgeslag van kam as [+vroulik] was. (Nienaber 1963:104.)

9.8 kiste

Met (40) ciste, soos De Flacourt die Khoi-aanleerderswoord neergeskryf het, het sy segsman by die doeltaalvorm uitgekom. Die uitgang -te, sê Nienaber (1963:339), kan die meervoud, vroulik, aandui.

9.9 knoop

Die Khoi-uitspraak vir knoop, wat De Flacourt neergeskryf het as (41) corobe, illustreer interessante Khoi fonologiese reëls. Die kluster kn- kom nie in Khoi voor nie, en word verbreek deur die -o-van knoop. Verder wissel die n en r vrylik, soos in kiri en kiny. In Nama is hierdie aanleerderswoord later nog herkenbaar: gunube-s / *ke-noop (Nienaber 1963:343).

9.10 rug ('n kortarmgeval?)

De Flacourt se optekening (49) rena, begin met h [r], wat vreemd is aan Khoi, terwyl [n] kan afwissel met [g], en -a die naamvalsuitgang is (reg-a). De Flacourt se aanduiding skouer is vir Nienaber (1963 by ruggraat) h leidraad om by die betekenis rug uit te kom. Hoe pas skouer by rug? Wou De Flacourt se segsman met sy arm aan sy rug raak, maar kon hy nie daar bykom nie?

9.11 eet!

Met die a / e-wisseling wat normaal is in Khoi / Khoi-Afrikaans, is daar nie h verskil tussen die at- van (30) atre wat De Flacourt opgeteken het, en Afrikaans se eet nie. Die -re is die bevelsmorfeem van Khoi (Nienaber 1963:260, Den Besten 2007:138.)

9.12 hie

In die frase (36) hette hie is hie sonder ´n woordfinale -r opgeteken. Die konteks waarin dit gebruik is (waar in die lug gewys is na ´n onsigbare teenwoordigheid, volgens Bosman en Thom 1952:417), met die betekenis 'is hier', lei Den Besten (2007:141) tot die interessante gevolgtrekking dat die Kaapse Khoi-Khoin nie tussen is (om te wees) en het (om te hê) onderskei het nie, en dat dié woorde se betekenisse in Khoi-Afrikaans kon oorvleuel het.

9.13 bord

Die Khoi-Khoin het die woordaanvangs -b van die teikentaal vervang met k / g, en die -d aan die woordeinde, wat in hulle woordboureëls vreemd is, nie uitgespreek nie, en by core uitgekom vir (49) bord. Dit was met die -d aan die einde van die aanleerderswoord bro (brood) (vgl. (13), (15) en (28)) ook die geval (Nienaber 1963: by bord).

9.14 siek

Die adjektief (23) sigin is deur Van Riebeeck (Bosman & Thom 1952:94 n. 2) neergeskryf vir die Khoi-aanleerderswoord vir sleg (slegte / verrotte tabak). Groenewald (2002:248, 254) wys op nog optekeninge vir slegte tabak, uit die ná-1652-periode, waar sleg twee keer geskryf is as sieckum (1688), en een keer as tzicum (1670). (Nienaber misgis hom, voer Den Besten (2007:144) aan, met reg, waar hy tzicum se betekenis as "goed" aangee (Nienaber 1963, by goed I)). Kon Van Riebeeck se segspersoon sieckum gesê het, in ooreenstemming met die uitspraak van die ander optekenings (siek + die Khoi-suffiks -um) en nie sigin nie? Hierdie inskrywing is op 6 Desember 1652 gemaak, 8 maande na Van Riebeeck se aankoms aan die Kaap. Sou hy toe al die Khoi-Khoin se aanleerdersklanke goed genoeg kon onderskei het?

In die aanleerdersidioom is siek moontlik in 'n wye pejoratiewe betekenis gebruik. Den Besten (2010b:123) merk op dat die voorbeelde van tabak + um die enigste gevalle is waar -um met 'n naamwoord kombineer. Tabak is van vroeg af al in die ruiltransaksies deur die seelui gebruik. Die gebruik om dit te evalueer, as siek, of nie, kan saam met die Afrikaanse woord uit die voor-1652-periode gedateer word.

9.15 trek

Vir trek het De Flacourt (53) sahou neergeskryf. Dit is telkens interessant om te sien wat in die Khoi-Khoin se aanleerderstaal met die vreemde aanvangskluster t + r- gebeur, indien sahou met die Khoi-Afrikaanse woord trek ooreenkom. Die twee konsonante word geskei, hier deur n -a-, en die aanvangs -t- wissel af met s-, wat in Khoi normaal is (Nienaber 1963:182). Oor die res van die woord heers daar onduidelikheid (vgl. ook Nienaber 1963 by trek).

9.16 God

Groenewald (2002:251) noem dat die Khoi-Khoin se godsbegrip verskil van die Europese opvatting daarvan (vgl. Nienaber 1963 se inskrywings by GodI-VI). Hier het De Flacourt (34) Ga neergeskryf vir God. Die Khoi-Khoi-aanleerders het die doeltaal se -o- verwissel met -a-, wat Khoi toelaat, en nie die slot-d uitgespreek nie, soos hulle ook met brood en bord gemaak het.

9.17 het

Aanleerders wou by een van die Nederlandse vorme van die werkwoord hebben uitkom, en (36) hette was die resultaat. Den Besten (1986:117) voer aan dat hemme, 'n latere optekening, saamgestel is uit + 'n variant van die Khoiwerkwoordsuffiks UM. Hette se slotvokaal kan ook 'n persoonsuitgang wees.

 

10. BYLAAG 2. DATABASIS VAN OPTEKENINGS IN KHOI-AFRIKAANS: 1601-1652.

1601

1 Osse/Beeste. Moath. (Lancaster in Raven-Hart 1967:23.)

2 Skape/skaap. Baa. (Lancaster in Raven-Hart 1967:23.)

1608

3 Sit plat. Kahou, Kahou. (Matelief in Raven-Hart 1967:38.)

4 Os. Bou. (Matelief in Raven-Hart 1967:38.)

5 Skaap. Bae. (Matelief in Raven-Hart 1967:38.)

6 Dou, dou. Klanknabootsing vir pistoolskote. (Matelief in Raven-Hart 1967:38.)

7 Sir Tho Smithe English Shipps. (Peyton in Raven-Hart 1967:72.)

1611

8 Dagga.Canna. (Nienaber 1963:15.) 1613

9 Coree home go, Souldania go, home go. (Terry 1947:75.)

10 England God, great God, Souldania no God (Terry 1947:76.)

1615

11 Beeste. Boos (Den Besten 1989:219.)

1623

12 Yster/koper. Bras. (Olafsson in Raven-Hart 1967:111.)

13 Brood. Vuracka. (Olafsson in Raven-Hart 1967:111.)

1626

14 Stroompie. Bueem. (Herbert in Raven-Hart 1967:120.) (Nederlands: beemd.)

15 Brood. Bara. (Herbert in Raven-Hart 1967:120.)

16 Gee (ww.) Quoy. (Herbert in Raven-Hart 1967:120, Nienaber 1963:22 by gee I.)

17 Hoed. Twubba (vgl.37 taba). (Herbert in Raven-Hart 1967:120, Nienaber 1963 by hoed I.) 1648

18 Eerst houthalen dan eeten. (Godée Molsbergen 1912:213, Den Besten 2007:135 n.8.)

1652

19 Brood. Brokwa. (Hondius 1952:29, Scapera & Farrington 1933:70.)

20 Waterman. Goringhaikona. (Bosman & Thom 1952:81.)

21 Water.(Bosman & Thom 1952:398.)

22 Kaap. Caep. (Bosman & Thom 1952:399.)

23 Siek / sleg (tabak). Sigin. (Bosman & Thom 1952: 94 n. 2.)

1654

24 Vismans. Die San. (Bosman & Thom 1952: 204-205.)

25 Beker. Baquary. (De Flacourt in Nienaber 1963:217.)

26 Bord. Core. (De Flacourt in Nienaber 1963:227.)

27 Brandewyn. Ouatar. (De Flacourt in Nienaber 1963:231.)

28 Brood. Breba. (De Flacourt in Nienaber 1963:234.)

29 Broodman. Baraba. (De Flacourt in Nienaber 1963:107.)

30 Eet! Atre. (De Flacourt in Nienaber 1963:260, Den Besten 207:138.)

31 Gaan weg, julle! Goo, goo reght. (Bosman & Thom 1952:416.)

32 Gee. Ghemare. (Gee + gee + moet.) (De Flacourt in Nienaber 1963:273.)

33 Gee. Gheme (Gee + UM) (De Flacourt in Nienaber 1963:273.)

34 God. Ga. (De Flacourt in Nienaber 1963:279)

35 Groot meneer. Samon.(Sir+man)(De Flacourt in Nienaber 1963:384.)

36 Hier. (Is hier.) Hette hie. (Den Besten 2007:141 Bosman & Thom 1952:416-421.)

37 Hoed. Taba (vgl. 17 twubba). (De Flacourt in Nienaber 1963: by hoed I.)

38 Kaapman. Caepman. Die Goringhaikwa. (Bosman & Thom 1952: 300-301.)

39 Kam. Comahe. (De Flacourt in Nienaber 1963:324.)

40 Kiste. Ciste. (De Flacourt in Nienaber 1963:339.)

41 Knoop. Corobe. (De Flacourt in Nienaber 1963:343.)

42 Koper / yster. Pras. (De Flacourt in Nienaber 1963: 352.)

43 Koring. Conanh. (De Flacourt in Nienaber 1963:436.)

44 Möre/oggend. Marai. (De Flacourt in Nienaber 1963:404.)

45 No sir. Nosie. (Bosman en Thom 1952:417.)

46 Ooi. Mouscap. (De Flacourt in Nienaber 1963:447.)

47 Os. Bossets. (De Flacourt in Nienaber 1963:412.)

48 Pyp. Pesche. (De Flacourt in Nienaber 1963:424.)

49 Rug. Rena. (De Flacourt in Nienaber 1963:435.)

50 Saldanaman (Die Cochokwa) Saldanhaman. (Bosman & Thom 1957:376.)

51 Skip. Sips. (De Flacourt in Nienaber 1963:452.)

52 Stilbly. Goo. (Bosman & Thom 1952: 418.)

53 Trek. Sahou. (De Flacourt in Nienaber 1963:483.)

54 Water. Ouata. (De Flacourt in Nienaber 1963:522.)

 

BIBLIOGRAFIE

Bergs, A. 2012. The Uniformitarian Principle and the Risk of Anachronisms in Language and Social History, in Hernández-Campoy, J.M. & Conde-Silvestre, J.C. (eds). The Handbook ofHistorical Sociolinguistics. Oxford: Wiley-Blackwell, pp.80-98.         [ Links ]

Böseken, A. (Red.). 1973. Dagregister en briewe van Zacharias Wagenaar, 1662-1666. Pretoria: Staatsdrukker.         [ Links ]

Bosman, D. B. & H. B. Thom. 1952-1957. Daghregister gehouden by den oppercoopman Jan Anthonisz Van Riebeeck. Drie dele. (Van Riebeeck-vereniging). Kaapstad: Balkema.         [ Links ]

Bosman, D.B. 1928. Oor die ontstaan van Afrikaans. 2de druk. Amsterdam: Swets & Zeitlinger.         [ Links ]

Bredenkamp H. C. 1982. Van veeverskaffers tot veewagters. Universiteit van Wes-Kaapland: Wes-Kaaplandse Instituut vir historiese navorsing.         [ Links ]

Bruyn, A. & T. Veenstra. 1993. The creolization of Dutch. Journal of Pidgin and Creole Languages, 8(1):29- 80.         [ Links ]

Buccini, A. 1996. 'New Netherland Dutch, Cape Dutch, Afrikaans'. Taal en Tongval. Temanommer 9:35-51.         [ Links ]

De Flacourt, E. 1658. Chap. XXV: Langage des Sauveges de la Baye de Saldaigne au Cap de Bonne Esperance. In Dictionnaire de la langue de Madagascar: avec vn petit recueil des noms & dictions propres des choses qui sont d'vne mesme espece: plus quelques mots du langage des Sauveges de la Baye de Saldaigne au Cap de Bonne Esperance. Paris: Georges Losse.         [ Links ]

De Saussure, F. 1916. Course in General Linguistics. Saamgestel deur Charles Bally, Albert Sechehaye & Albert Riedlinger. Lausanne: Payot.         [ Links ]

De Tollenaere, F. & A. Persijn. 1977. Van Dale Nieuw Handwoordenboek der Nederlandse taal. 's Gravenhage: Marthinus Nijhoff.         [ Links ]

De Villiers, J. 2012. Die Nederlandse era aan die Kaap. 1652-1806. In Pretorius, F. (red.). Geskiedenis van Suid-Afrika. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Den Besten, H. 1989. From Khoekhoe Foreignertalk via Hottentot Dutch to Afrikaans: The Creation of a Novel Grammar. In Pütz, M. & R. Dirven, (eds). Wheels within wheels. Papers of the Duisburg Symposium on Pidgin and Creole Languages. Frankfurt am Main: Peter Lang, pp.207-209.         [ Links ]

Den Besten, H. 1994. Khoekhoe and its speakers as a key factor in the genesis of Afrikaans. Manuskrip.         [ Links ]

Den Besten, H. 2002. (2012). Khoekhoe syntax and its implications for L2 acquisition of Dutch and Afrikaans. In Van der Wouden, T. (ed.). Roots of Afrikaans. Amsterdam: John Benjamins, pp.133-152.         [ Links ]

Den Besten, H. 2003. Deciphering three Pidgin Dutch statements concerning religion recorded by Muller, Ten Rhyne & Bovingh. Quarterly Bulletin of the National Library of South Africa 57:149-155.         [ Links ]

Den Besten, H. 2005. Neerlandismen, pidginismen en Afrikaans in brieven van twee Khoekhoen uit 1800. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, I (25-42).         [ Links ]

Den Besten, H. 2007. (2012). Relexification and pidgin development. In Van der Wouden, T. (ed.). Roots of Afrikaans. Amsterdam: John Benjamins, pp.154-193.         [ Links ]

Den Besten, H. 2010a. (2012). On the "verbal suffix" -UM in Dutch Pidgin. In Van der Wouden, T. (ed.). Roots of Afrikaans. Amsterdam: John Benjamins, pp.123-132.         [ Links ]

Den Besten, H. 2010b. (2012). A badly harvested field: The growth of linguistic knowledge and the Dutch Cape colony until 1796. In Van der Wouden, T. (ed.). Roots of Afrikaans. Amsterdam: John Benjamins, pp.333-354.         [ Links ]

Deumert, A. 2012. Giving voice. The archive in Afrikaans historical linguistics. In Van der Wouden, T. (ed.). Roots of Afrikaans. Amsterdam: John Benjamins, pp.377-388.         [ Links ]

Du Plessis, H. 1994. Taalkontakvariasie in Afrikaans. In Olivier, G. & A. Coetzee (reds.). Nuwe perspektiewe op die geskiedenis van Afrikaans. Halfweghuis: Southern Boekuitgewers, pp.120-129.         [ Links ]

Du Plessis, H. 2013. Die Groot Trek 175: Storie ofhistorie? Tydskrifvir Geesteswetenskappe, 53(3):437-464.         [ Links ]

Elphick, R. 1985. Khoikoi and the founding of white South Africa. Johannesburg: Ravan Press.         [ Links ]

Elphick, R. & V. G. Malherbe. 1989. The Khoisan to 1828. In R. Elphick & H. Giliomee (eds). The shaping of South African society, 1652-1840. Cape Town: Maskew Miller Longman, pp.3-65.         [ Links ]

Schapera, I. & B. Farrington. 1933. The early Cape Hottentots described in the writings of Olfert Dapper [1688], William Ten Rhyne [1688] and Johannes Gulielmus de Grevenbroek [1695]. Kaapstad: Van Riebeeck-vereniging.         [ Links ]

Franken, 1953. Taalhistoriese bydraes. Kaapstad: Balkema.         [ Links ]

Godée Molsbergen, E. 1912. De stichter van Hollands Zuid-Afrika: Jan van Riebeeck, 1618-1677. Amsterdam: Van Looy.         [ Links ]

Groenewald, G. J. 2002. Slawe, Khoekhoen en Nederlandse pidgins aan die Kaap, ca. 1590-1720: 'n Kritiese ondersoek na die sosiohistoriese grondslae van die konvergensieteorie oor die ontstaan van Afrikaans. Ongepubliseerde M. A.-verhandeling: Universiteit van Kaapstad.         [ Links ]

Haacke, W. & E. Eiseb. 2002. A Khoekhoegowab dictionary with an English Koekhoegowab index. Windhoek: Gamsberg Macmillan.         [ Links ]

Hendricks, F. 2014. Die verrekening van taalvariasie in die prosawerk van Elias P. Nel. LitNet Akademies. Jaargang 11(2).         [ Links ]

Hondius, J. 1952. Klare besgryving van Cabo de Bona Esperanqa. Faksimileeuitgawe van teks deur Jacobus Hondius. 1652. Kaapstad: Komitee vir boekuitstalling, Van Riebeeck-fees.         [ Links ]

Hulshof, A. (Red.) 1941. H. A. van Rheede tot Drakenstein, Journaal van zujn verblijf aan de Kaap. Bijdragen en Mededelingen van het Historisch Genootschap 62, pp.1-245.         [ Links ]

Janda, R.D. & Joseph, B.D. 2003. On language, change, and language change - or, of history, linguistics, and historical linguistics. In Joseph, B.D. & Janola, R.D. (eds). Handbook of historical linguistics. Oxford: Blackwell, pp.2-180.         [ Links ]

Klopper, R. M. 1983. Die sosiale stratifisering van Kaapse Afrikaans. In Claassen, G. N. & M. C. J. Van Rensburg (reds.). Taalverskeidenheid. Pretoria: Academica, pp.80-100.         [ Links ]

Kolbe, P. 1727. Naukeurige en uitvoerige beschrijving van de Kaap de Goede Hoop. Twee dele. Amsterdam: Balthazar Lakeman.         [ Links ]

Lass, R. 1997. Historical Linguistics and Language change. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Louw, S. A. 1948. Dialekvermenging en Taalontwikkeling. Kaapstad: Balkema.         [ Links ]

Nama-/Damarataalkomitee. 1977. Nama/Damara Spelreëls no. 2. Windhoek: John Meinert.         [ Links ]

Nienaber, G. S. 1942. Afrikaans tot 1860. Johannesburg: Voortrekkerpers.         [ Links ]

Nienaber, G. S. 1963. Hottentots. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Nienaber, G. S. 1989. Khoekhoense stamname. Pretoria: Academica.         [ Links ]

Nienaber, G. S. 1994. Die ontstaan van Khoekhoe-Afrikaans. In Olivier, G. & A. Coetzee (reds.). Nuwe perspektiewe op die geskiedenis van Afrikaans. Halfweghuis: Southern Boekuitgewers, pp.139-152.         [ Links ]

Nienaber, G.S. 1964. Raakpunte met Hottentots. In Van der Merwe, H.J.J.M. (red.). Studierigtings in die taalkunde. Van Schaik: Pretoria, pp.192-207.         [ Links ]

Ponelis, F. 1993. The development of Afrikaans. Peter Lang: Frankfurt am Main.         [ Links ]

Prinsloo, A. F. 2009. Annerlike Afrikaans. Woordeboek van Afrikaanse kontreitaal. Pretoria: Protea.         [ Links ]

Raidt, E. 1983. Einfürung in Geschichte und Struktur des Afrikaans. Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft.         [ Links ]

Raidt, E. 1994. Historiese Taalkunde: Studies oor die geskiedenis van Afrikaans. Johannesburg: Witwatersrand University Press.         [ Links ]

Raper, P.E., L. A. Möller & L. T. du Plessis. 2014. South African place names. Johannesburg & Cape Town: Jonathan Ball.         [ Links ]

Raven-Hart, R. 1967. Before Van Riebeeck: Callers at South Africa from 1488 to 1652. Kaapstad: Struik.         [ Links ]

Schapera, I. & B. Farrington. 1933. The early Cape Hottentots described in the writings of Olfert Dapper [1688], William Ten Rhyne [1688] and Johannes Gulielmus de Grevenbroek [1695]. Kaapstad: Van Riebeeck-vereniging.         [ Links ]

Schoeman, K. 1999. Armosyn van die Kaap: Voorspel tot vestiging, 1415-1651. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

Schoeman, K. 2006. Kinders van die Kompanjie. Kaapse lewens uit die sewentiende eeu. Pretoria: Protea.         [ Links ]

Schoeman, K. 2009. Seven Khoi lives. Pretoria: Protea.         [ Links ]

Scholtz, A.H.M. 1995. Vatmaar. 'n Lewendagge verhaal van 'n tyd wat nie meer is nie. Kaapstad: Kwela.         [ Links ]

Steyn, J. C. 1980. Tuiste in eie taal. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Terry, E. 1947. A view of the Bay of Souldania near the coast of Good Hope on the coast of Africa. Kwartaalblad van die Suid-Afrikaanse Biblioteek, 1(3):71-88.         [ Links ]

Tindall, H. 1857. Grammar and vocabulary of the Namaqua-Hottentot language. Cape Town: G. J. Pike's Machine printing office.         [ Links ]

Van Rensburg, C. 1984. Die Afrikaans van die Griekwas van die negentigerjare. Ongepubliseerde verslag van ´n Navorsingsprojek ondersteun deur ´n Groter Toekenning van die RGN.         [ Links ]

Van Rensburg, C. 2015. Oor die eerste 50 jaar se maak aan Standaardafrikaans. Tydskrif vir Geestesweten- skappe, 55(3):319-342.         [ Links ]

Von Wielligh, G. R. 1925. Ons Geselstaal. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Willemyns, R. 2013. Dutch. Biography of a language. New York: Oxford University Press.         [ Links ]

 

 

 

Christo van Rensburg was projekleier vir 'n navorsingsprojek oor die Afrikaans van die Griekwas in 1984, en volg steeds rigtingwysers op wat uit dié ondersoek na vore gekom het, onder meer oor die verbande tussen die variëteite van Afrikaans. Die bestudering van dialekreste om vroeëre taaltoestande te rekonstrueer sodat gevolg-trekkings daaruit gemaak kan word oor die totstandkoming van Afrikaans, sluit daarby aan, waaruit 'n interpretasie van Afrikaans se geskie-denis volg waarin vroeë dialekgegewens verreken word. Dit lei tot n siening van taalverandering waarin 'n taalvariëteitsbenadering sentraal staan, met ander beklemtonings as wat tradisioneel voorgehou word. Uit die dialekbelangstelling volg ook die uitwysing van subtiele verskille tussen die standaardlek en Dialekafrikaans wanneer variëteite van Afrikaans literêr aangewend word, en n interessante spel van naasliggende betekenisse tot stand kom.
Christo van Rensburg led a research project in 1984 on the Afrikaans of the Griquas, a variety of Afrikaans originally based on Khoi, and since then continued pursuing some of the findings from that research. Amongst them were the way in which the Afrikaans dialects are interconnected, and how dialect data could be utilized in the restructuring of earlier language situations, from which deductions about the beginning of Afrikaans can be made. Following from this, a perspective on the history of Afrikaans emerged, centered around its varieties, and a view on language change, which differs somewhat from traditional standpoints on this topic, especially those that originate in genealogical language developments of which Afrikaans is held to be the result. This interest in dialects also led to the elucidating of subtle differences between standard Afrikaans and its varieties in cases where these varieties are used as literary vehicles.

1 Hierdie aanleerderstaal van die Khoi-sprekers vertoon 'n verskeidenheid ooreenkomste met latere Afrikaans, en word daarom as Khoi-Afrikaans beskou.
2 This learner variety of the speakers of Khoi exhibits a range of similarities with later Afrikaans, and is therefore called Khoi-Afrikaans.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons