SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.56 issue2-1Surrogate equivalence in bilingual dictionaries with specific reference to zero equivalence in dictionaries for African languagesDevelopment and integration of multimedia teaching and learning support material (LTSM) to support reading skills author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.56 n.2-1 Pretoria Jun. 2016

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2016/v56n2-1a4 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS / RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (1): OOR MONNEMENTE GEPRAAT - AFRIKAANS SE EERSTE NEËNTIG JAAR

 

N.P. van Wyk Louw se opvattings oor taalbewegings en die behoud van Afrikaans

 

N. P. van Wyk Louw's views on language movements and the maintenance of Afrikaans

 

 

J.C. Steyn

Navorsingsgenoot: Departement Afrikaans en Nederlands Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat E-pos: steynjaap@gmail.com

 

 


OPSOMMING

Die digter N.P. van Wyk Louw het hom in verskeie opstelle en praatjies uitgelaat oor klein volke en tale, taalbewegings, taalstryde en nasionalisme en die voortbestaan van Afrikaans. In hierdie artikel word op grond van sy siening van taalbewegings en sy opvattings oor nasionalisme gelet op die faktore wat bydra tot die welslae van 'n taalbeweging. Hy betoog met voorbeelde dat 'n taalbeweging slegs kan begin wanneer histories bewuste intellektuele bekommerd is oor die taal en die taalgemeenskap en planne maak om die taal te behou en die gemeenskap op te hef. 'n Taalbeweging het 'n kans op welslae wanneer dit 'n "staatkundige stut" kan bekom en dus nie polities so magteloos is dat dit nie regeringsbesluite kan beïnvloed nie. Volgens Louw is 'n taalbeweging se kans op welslae die beste wanneer die beweging dit kan regkry om die strewe na die bevordering van die taal te verbind met die bemagtiging van die minder bevoorregte lede van die gemeenskap. Hy illustreer laasgenoemde stelling met 'n oortuigende verwysing na die vordering van Afrikaans in die eerste helfte van die twintigste eeu. Sonder om na enige taal te verwys meen hy ook dat dit noodlottige gevolge vir 'n klein gemeenskap kan hê om in 'n meertalige land onregverdig teenoor ander groepe op te tree.

Trefwoorde: N.P. van Wyk Louw, Afrikaans, taalbeweging, nasionalisme, Afrikaner-nasionalisme, taalgetrouheid, taalgemeenskap, Afrikaners / Afrikaans-sprekendes


ABSTRACT

In several essays and talks, the Afrikaans poet N. P. van Wyk Louw spoke about small nations and languages, language movements, language struggles and nationalism, and the survival of Afrikaans. The factors contributing to the success of a language movement are discussed in the current article, as based on Louw's view of language movements and his views on nationalism.
According to Louw, nationalism does not involve the glorification of the nation and language; self-glorification is a feature of chauvinism, the black angel of nationalism and actually its archenemy. In fact, a man "does not love his nation because it is worthy and the best nation on earth; he loves it for its misery. "
Louw denied that nationalism is a form of limitation, narrowness, and selfishness. He argued his denial by referring to national rights. An example of a national right is the right to receive your intellectual development, in short your education, in a language that you understand. "When you see the value of national rights not only as rights your own group deserve, but as universal human rights, then you're already out of the limitations of your own group, and you will not only claim these rights for your own group".
He distinguishes between the imperialist and aggressive nationalism of the great nations on the one hand, and the nationalism of the people who rebel against this type of nationalism on the other. The two kinds of nationalism lead to two kinds of language movements. Louw described the defensive language movements of the communities that react against imperialist nationalisms.
A language movement can only start when historically conscious intellectuals are concerned about a "crisis of despair" in a nation or language community, and plan to retain the language, to uplift (or empower) the community and thus ensure the survival of the people or language community. Such a crisis occurs when a large number of community members question whether it is worthwhile to retain the language and continue as a language community.
The first agent used by communities in language movements are organizations and institutions established by the community.
A language movement has a great chance of success if it has political support and is therefore not politically so powerless that it cannot influence government decisions. A language movement cannot succeed without political means. The loss of political support in a multilingual country can seriously harm a minority language.
A language movement's chances of success in a multilingual country are best when the movement can succeed in connecting the struggle for the promotion of the language with the empowerment of a disadvantaged community.
This factor was the key in the Afrikaans language movement in the early twentieth century in South Africa. Afrikaans was the language of the largest groups of voters in the country, white and coloured. It was also the language of mainly poor groups - "those who felt as oppressed, those who wanted to uplift themselves, those who wanted to upturn the economic conditions before 1900 with a kind of revolution. And in this weakness lay power. "
The recognition of this "material base" does not undermine the national value of the movement. This proves that it was not simply a case of playing with phrases and ideals, but "a piece of the full Afrikaans social reality". One could say: the Afrikaans language movement was the socialism of the poor Afrikaans people. The movement succeeded because it was the bearer of crucial needs - even economic needs. In this lay its strength.
It can have fatal consequences for a small nation and, by implication, a small language community, to have a small language group act unfairly against other groups in a multilingual country.
Louw pointed out that a national movement can be so blinded by national rights that it may commit injustice by keeping individual rights from other ethnic groups. It is because of this crisis that Louw made his famous statement: "I believe that in a strange way this is the crisis from which a nation can be reborn, young, creatively, it may appear, this 'dark night of the soul' in which the nation said: I would rather perish than persist through injustice."
In 1960, Louw criticized the National Party (NP) government's policy towards the coloured people. This he did in the preface to a startling case for white-coloured integration by D.P. Botha in Die opkoms van ons derde stand (The emergence of our third estate). In the preface, Louw rejected the NP policy towards coloured people. According to him, Afrikaner and South African nationalists spontaneously said: "We have done evil against the coloured people; we neglected and discarded them." This is according to Louw "a remarkable piece of national psychology".
What furthermore made this preface significant is that Louw alters his view of a people by declaring that he had a "sincere desire - no, an ardent wish" that "my people, white and coloured, and the language we speak, continue to exist in this country". He hoped that white and coloured would cease to look to the past and blame each other. One explanation for the growing apart of the two groups could be: "There was a time when the white Afrikaner had to fight so desperately to keep alive at least a core of his own indigenous, South African conviction, that he could not always see clearly."
Do Louw's views have value in this crisis in which Afrikaans and Afrikaners find themselves today? At least three of his beliefs can serve as clues. The first is the possibility to become the language of a group of people who are economically disadvantaged. The second is the development of the culture and the creation of institutions that can appreciate the culture, protect it and disseminate it. The third is to use the language out of self-respect and solidarity with the community.

Key words: N.P. van Wyk Louw, Afrikaans, language movement, nationalism, Afrikaner nationalism, language loyalty, language community, Afrikaners / Afrikaans- speaking people


 

 

INLEIDING

Die Nederlandse digter Jan Greshoff maak in 1941 'n opmerking in sy dagboek oor 'n gesprek wat hy dié dag met sy vriend N.P. van Wyk Louw gevoer het. Hy skryf: "Ik begrijp nooit zijn overschatting van de taal. Zijn geheel bestaan draait om taalvraagstukken. Hij vergoddelijkt de taal. Voor mij blijft taal een uitdrukkingsmiddel. En als er dan met kracht en geweld iets vergoddelijkt moet worden, dan het dichterschap, dat aan de taal zijn glans en zin wel verleent" (Steyn 1998:337).

Greshoff se gebrek aan begrip het waarskynlik deels voortgekom uit die feit dat hy 'n Nederlander was en dus lid van 'n volk wat nie 'n taalstryd teen verdringing deur 'n ander taal moes voer nie. Maar hy het gelyk gehad in dié opsig dat Louw 'n groot belangstelling in taal, in klein tale en veral in Afrikaans gehad het.

Taal het hom reeds in sy jeug geboei. Hy het vroeg kennis gemaak met Engels en Nederlands. Sy grootvader Van Wyk het voorgelees uit die Statebybel en kon gebede doen waarin daar byna geen Nederlandse taalfout was nie (Louw 1986a:538). Dikwels het die gesin die vakansie deurgebring op plase waar wit en bruin Afrikaanssprekendes baie kontak met mekaar gehad het. Daar was "speel-met-taal" 'n "hoë vorm van vermaak" - rympies, raaisels, woordspeletjies, stories vertel, terg en pla; die uitdink en smaaklike gebruik van byname (1986a:539).

Die taalbeweging was in sy jeug nog aan die gang. Op 'n dag het sy onderwyser uit radeloosheid oor sy verveelde leerlinge die Bloemen uit de Hollandsche tuin toegeklap en gesê dat hy vir hulle 'n "ander soort versie" gaan lees. Dit was "Die Vlakte" van Jan F.E. Celliers. "Ons het nie eens geweet daar bestaan so iets soos Afrikaans nie, en wat ons toe gehoor het, was vir ons die oopgaan van 'n nuwe wêreld" (1986b:197).

Oor taalstryde en taalbewegings het hy baie nagedink en geskryf. Vir die jeugblad, Die Jongspan, het hy jare lank 'n rubriek oor die nuus van die week behartig en onder meer die jong lesers ingelig oor die Vlaamse, Tsjeggiese, Turkse, Walliese en Friese taalstryde. Hy het dit steeds in verband gebring met die Afrikaanse taalbeweging en taalstryd.

In die 1930's was hy gou die leiersfiguur van 'n nuwe digtersgeslag, die Dertigers. Oor dié digters en hul strewes het hy artikels in verskeie koerante en tydskrifte gepubliseer. Dikwels verwys hy hierin na die taalbeweging.

Sy grootste bydrae tot Afrikaans was sy poësie. 'n Taalkundige, J. du P. Scholtz, het die betekenis van sy werk vir die ontwikkelende kultuurtaal helder gestel: "Die Afrikaanse letterkunde, wat al voor 1925 deur die werk van veral digters soos Eugène Marais en C. Louis Leipoldt hoë aansien verwerf het, het na 1930 los gekom van sy lokale beperkings en deur die werk van 'n groot digter soos N.P. van Wyk Louw aan Afrikaans 'n status as literêre uitdrukkingsmiddel gegee wat nie meer in twyfel getrek kon word nie" (1980:25). Die skrywer en historikus Karel Schoeman noem Louw "Suid-Afrika se grootste digter en een van die min figure van wereldformaat wat die land nog opgelewer het" (Schoeman 1986:187).

Terwyl Louw in die 1950's professor in Amsterdam was, het hy soms aspekte van die Afrikaanse beweging met sy studente behandel. In 'n reeks opstelle, getitel "Die oop gesprek", het hy in Die Huisgenoot dikwels oor taalverwante kwessies geskryf en in radiopraatjies wat later gepubliseer is, uitgewei oor die opkoms van tale - en veral van Afrikaans.

In een van hierdie praatjies betreur hy dit dat Afrikaanssprekendes nooit "'n diep, deurdagte teorie van sy optrede gegee het nie - iets wat ons sou kon noem: die filosofie van die klein tale se reg". Met so 'n filosofie, sê hy, sou ons in die taalstryd aanmerklik sterker gestaan het: "ons sou 'n intellektuele en redelike wapen gesmee het waarmee ons die teenstand kan ontmoet. Maar meer nog: ons sou 'n bydrae tot die wysbegeerte van die menslike verhoudings gelewer het - 'n bydrae wat alleen deur een van die kleiner volke gelewer kán word. En daarmee sou ons nie alleen ons eie lewe verryk het nie, maar ook die lewe van die Europese kultuurkring waartoe ons behoort. So iets sou 'n verryking wees van die begrip: menslike vryheid, of: vrye menslikheid" (1986b:345).

Dié praatjies is opgeneem in 'n boek wat postuum in 1977 verskyn het. In daardie tyd was die aandag van politici en intellektuele op ander taal- en politieke vraagstukke as die taalbeweging toegespits. Die praatjies het dus nie die aandag gekry wat dit verdien nie en van 'n "filosofie van die klein tale se reg" het niks gekom nie

Die bedoeling met hierdie stuk is om 'n samevatting te gee van Louw se opvattings oor taalbewegings en die behoud van klein tale maar veral van Afrikaans - die opkoms daarvan as kultuurtaal en die prosesse waarvoor die taalgemeenskap op sy hoede moet wees. Louw beskryf naamlik nie alleen die prosesse nie, maar hy vermaan en waarsku ook soms sy lesers heel subtiel. Hy het besef dat die voortbestaan van klein gemeenskappe en tale nooit seker is nie. In 'n opstel uit 1938 skryf hy dat die wording van 'n klein volk en by implikasie 'n klein taal 'n waagspel is. "Tussen die groot magte moet hy opkom soos 'n plantjie tussen die pote van die grootvee opkom. Elke oomblik kan hy vertrap word" (1986:95).

Dis noodsaaklik om in hierdie stuk rekening te hou met die veranderings in gevoelswaarde en betekenis van sommige woorde. Een woord wat selfs redelik konserwatiewe taalgebruikers deesdae vermy, is volk. Miskien is dit weens die honende gebruik daarvan in sommige Engelse en Afrikaanse publikasies (onvertaald in Engels soos "the Taal" vroeër en tussen aanhalingstekens in Afrikaans), asook die emosionele "ons volk" in party politieke toesprake. Boonop kan een betekenisvariant van volk as rassisties opgevat word. Baie Afrikaanssprekendes vervang dus volk deur (kultuur-)gemeenskap. By Louw is volk 'n sentrale begrip, maar by hom het dit 'n betekenisverandering ondergaan, sodat hy in 1960 skryf van "my volk, Blank en Bruin". (Daaroor later iets meer.) In sy behandeling van taalbewegings is daar al voortekens van dié verandering. In sy 1960-betekenis slaan volk by Louw dus op die hele taalgemeenskap. Wat Louw in sy bespreking van taalbewegings oor en vir Afrikaners meedeel, geld eintlik vir Afrikaanssprekendes. Maar ter wille van die outentisiteit word Louw se woorde onveranderd gelaat.

Louw se opvattings oor tale blyk veral uit drie artikelreekse. Twee daarvan was deel van "Die oop gesprek" in Die Huisgenoot, naamlik "Rondom die begrip 'nasionaal'" (van 19 Oktober tot 9 November 1951) en "Kultuur en krisis" (van 25 Julie tot 22 Augustus 1952), wat albei opgeneem is in Liberale nasionalisme (1958) en Versamelde prosa 1 (1986a). Die derde reeks is die reeds vermelde radiopraatjies, "Die opkoms van tale", wat gepubliseer is in Deurskouende verband (1977) en Versamelde prosa 2 (1986b). Alleen die laaste reeks handel oor taalbewegings, maar Louw se beskouings oor nasionalisme het baie raakpunte daarmee. Nasionalisme is so 'n omstrede begrip dat dit nodig is om te verduidelik wat Louw daaronder verstaan.

 

LOUW SE SIENING VAN TAALBEWEGINGS EN NASIONALISME

Die reeks "Rondom die begrip 'nasionaal'" begin met die bevraagtekening deur 'n (waarskynlik denkbeeldige) jong Engelssprekende vriend wat heel krities staan teenoor iets wat Louw in 1936 kwytgeraak het in 'n artikel oor die strewes van die jong skrywers. In 'n opstel met die titel "Gedagtes oor die nasionalisme en die kuns" het hy verklaar dat "ons Afrikaanse nasionalisme vir ons jongeres 'n mag is wat dieselfde volstrekte eise aan ons stel as 'n godsdiens, wat ons dwing om die hele persoonlikheid in diens van 'n ideaal en van 'n menslike gemeenskap te stel en wat aan ons 'n volledige en mooi lewe voorhou om te volg" (1986a:25).

Wanneer Louw in 1951 daarop reageer, verduidelik hy wat hy onder nasionalisme verstaan en wat dit nie beteken nie. Ten eerste het hy die woorde "dieselfde volstrekte eise" (as 'n godsdiens) in die pas aangehaalde 1936-stelling teruggetrek. "Geen enkele politieke geloof kan 'n volledige wêreldbeskouing wees nie. Daar is kante aan die mens wat buitekant die politiek lê; en daar is vlakke van die werklikheid wat bokant enige vorm van menslike gemeenskap uitreik." Die politiek relativeer nie die waardes nie, maar die waardes relativeer die politiek. Soos elke ander politieke strewe moet die nasionalisme hom steeds "voor die regbank van die waardes verantwoord" (1986a:420-421).

Hoewel nasionalisme vir hom net so 'n universele begrip is as geregtigheid, erken hy dat dit 'n -isme is: "Dit is nie die een en volle waarheid op die gebied van die menslike samelewing nie" (1986a:431).

Tweedens kom nasionalisme nie neer op die verheerliking van die eie volk en taal nie - iets wat Louw se kritiese vriend beweer. Selfverheerliking is 'n kenmerk van chauvinisme, "die swart engel van die nasionalisme" (1986a:422-423). Die nasionalisme moet chauvinisme eintlik as 'n doodsvyand beskou en veral juis by klein volke. "(B)inne 'n klein, bedreigde volk moet die ware nasionalis kritiek en aansporing in 'n fyn ewewig hou - so fyn dat hy maar seker selde voel dat hy sy taak behoorlik verrig" (1986a:424). In werklikheid het 'n mens sy volk lief "nie omdat hy heerlik en die beste volk op aarde is nie; jy het hom lief om sy ellende"(1986a:424).

Louw was op sy hoede vir foute en oordrywings. Wanneer hy skryf oor Afrikaners se liefde vir hul taal, laat hy dit gepaardgaan met 'n vermaning: liefde vir die eie taal is nooit haat of minagting vir 'n ander taal nie. Daar is duisende "fel-nasionale Afrikaners wat vir die Engelse literatuur en taal die grootste liefde het" (1986b:348). Hy vra in 1952 aan sy Engelssprekende vriend en sy Afrikaanse lesers: "En jy self: as jy simpatie met die Bantoes voel ... dink jy ooit aan iets soos taalregte vir hulle?"(1986a:430).

Ten slotte ontken Louw ook dat nasionalisme 'n vorm van beperktheid, engheid en egoïsme is - ook weer 'n stelling van die kritiese briefskrywer. Louw beredeneer sy ontkenning daarvan deur te verwys na nasionale regte. 'n Voorbeeld van 'n nasionale reg is die reg om jou geestelike ontwikkeling, kortweg jou onderwys, te ontvang in 'n taal wat jy verstaan (1986a:429-430). "Wanneer 'n mens die waarde van nasionale regte insien, nie alleen as regte wat jou eie groep toekom nie, maar as universele menslike regte, dan is jy reeds uit die beperktheid van 'n eie groep uit en jy sal hulle dan nie alleen vir jou eie groep opeis nie" (1986a:431).

Heel versigtig laat Louw hom uit oor die moontlike gebrekkige denke van sommige nasionaliste. Hy glo dat die nasionalisme as stelsel nog maar half bewus is by baie mense wat dit emosioneel aanvaar. Dit geld ook sy eie mense. Daarby kan 'n nasionalis hom blind staar op nasionale regte, en as gevolg van sterk oortuigings hieroor, individuele regte by mense of groepe mense ontken. So kan 'n mens in 'n "nuwe vanggat van die onregverdigheid" stort (1986a:431). 'n Voorbeeld van 'n individuele reg is vir Louw "die reg om jou brood vry en behoorlik te verdien" (1986a:429).

Hoewel Louw nie hierdie terme gebruik nie, onderskei hy duidelik tussen die imperialistiese en aggressiewe nasionalisme van die groot nasies en die verdedigende nasionalisme van die volkere wat teen dié soort nasionalisme in verset kom. Die vorm van nasionalisme wat hy aanhang, kom ooreen met laasgenoemde. Terloops merk hy op dat die nasionalisme en liberalisme in die negentiende eeu "soos 'n linker- en regterhand saamgegaan en saamgewerk het - veral in die kleiner onderdrukte lande van Europa" (1986a:426).

Sy siening van die twee soorte nasionalismes bevestig Louw in "Die opkoms van tale" (1986b:334-342). Daarin gaan hy in op die verskil tussen twee soorte taalbewegings. Aan die een kant is daar 'n soort imperialisme wat nie bloot taalimperialisme was nie, maar ook politieke imperialisme. "In die algemeen gestel, is 'n heerserstaal die wapen van 'n heersende groep: hierdeur vergemaklik hy sy eie kommunikasie en administrasie en bemoeilik hy die kommunikasie en organisasie van moontlike teenstanders; hy kan idees wat vir homself nuttig is (ons noem dit propaganda, vandag) op die ondergeskiktes oordra en die propageer van hul eie idees belemmer: en baie belangrik, hy kan die beste van die onderworpe groep na homself toe oorhaal wanneer hulle die heersende taal mooi leer beheer - 'n beperkte aantal, dit spreek vanself en met streng seleksie! - en op dié manier kan hy homself ook nog intellektueel en numeriek versterk en die ander verswak. 'n Wereldtaal in sy groei [...] is bepaald nie 'n gestalte van lieflikheid nie!" (1986b:336).

Hierdie soort taalgroei het in die negentiende eeu in Europa in of aan die rand van vyf groot ryke ontstaan: Rusland, Pruise (later Duitsland), Oostenryk-Hongarye, Frankryk en Brittanje en twee "ryke-in-aftog" of "ryke-op-die-afdraand": die Ottomaanse Ryk (vandag Turkye) en Spanje. Dié vyf ryke het onderskeidelik Russies, Duits, Frans en Engels "in hul onderdane ingestamp" (1986b:336).

Die staatkundige eenheid moes gewaarborg word deur eenheid van taal. Hierteen ontstaan veral in die negentiende eeu "die georganiseerde verset, die bewuste taalbewegings" (1986b:337). So kry die Russe te doen met die Poolse, Finse en ander taalbewegings; teen die Franse ekspansie kom in die suide Provensaals in verset en in die noorde Vlaams. In Groot-Brittanje ontstaan die Ierse, Walliese en Skotse bewegings "en teen die einde van die eeu begin dit in die verre Suid- Afrika roef'. Selfs "die kleine Nederland" hoor van 'n Friese beweging (1986b:337).

Louw onderskei dus duidelik twee soorte "taalbeweging" - hoewel hierdie woord gewoonlik nie vir die groot taal- en politieke imperialisties getinte bewegings gebruik word nie. Al kan 'n mens nasionalisme en taalbeweging nie gelykstel aan mekaar nie (Louw doen dit ook nie), was elk van hierdie taalbewegings 'n uitvloeisel of inherente deel van die betrokke nasionalisme. Dit is miskien om dié rede dat Louw nooit die nasionalisme verwerp het wat tot die opbou van verdrukte tale gelei het nie. 'n Verdedigende nasionalisme ('n benaming wat Louw egter nie gebruik nie) was 'n verstaanbare reaksie op 'n verdrukkende imperialisme en in werklikheid 'n noodsaaklike instrument in die stryd om die behoud van 'n klein taal en 'n volk.

Louw se insigte in taalbewegings en verdedigende nasionalismes wat daarop gerig was om verdrukte tale en taalgemeenskappe op te hef, vul mekaar dermate aan dat 'n mens dit kan kombineer in hierdie oorsig. Daar is trouens 'n ooreenkoms tussen Louw se nasionalisme en die sosiolinguistiese begrip taalgetrouheid of taallojaliteit. Dit blyk uit die definisie van laasgenoemde deur een van die baanbrekers in die ondersoek na taalkontak, Uriel Weinreich. Hy konstateer dat language loyalty soos nasionalisme 'n idée-force kan wees "which fills man's brain and heart with new thoughts and sentiments and drives him to translate his consciousness into deeds of organized action" (Weinreich 1970:99; die aanhaling ontleen hy aan Kohn 1945:19 se beskrywing van nasionalisme). Wanneer 'n taalverskuiwing ("language shift") dreig, wend die taalgetroues pogings aan om die bedreigde taal te behou en in reaksie op taalversteuring maak die taalgetroues die standaardtaal 'n simbool en 'n saak ("cause"). Taalgetrouheid is vir Weinreich 'n beginsel wat sprekers bewus en uitdruklik verenig om nadelige verandering aan die funksies, struktuur en woordeskat van hul taal teen te gaan. Louw maak nie gebruik van hierdie terme nie, maar die begrippe speel 'n kritieke rol in sy beskouings.

Louw beskryf die groter konteks van nasionale en taalbewegings in "Kultuur en krisis". Daarin onderskei hy tussen drie soorte krisisse waarin 'n volk of kultuurgemeenskap kan beland. Die eerste is eksterne krisisse, soos militêre oorrompeling (1986:460) en die tweede is interne krisisse waarby die bedreiging van binne die gemeenskap self kom. Daar is twee tipes hiervan: 'n krisis rakende die voortbestaan as volk of taalgroep, asook 'n etiese krisis.

Die bestaanskrisis kom voor wanneer 'n groot deel van die mense daaraan twyfel of die groep as kultuur- of taalgemeenskap moet voortbestaan (1986a:457, 460). Louw stippel dit nie so uit nie, maar 'n mens kan uit die res van sy betoog aflei hy beskou 'n proses soos assimilasie of taalverskuiwing as die vernaamste gevolg van dié vertwyfeling. Die bedreigde groep word op so 'n wyse deel van die meerderheid (of opgeneem daarin) dat hy sy eie taal prysgee en die taal van die meerderheid aanneem. 'n Algemene oorsaak is ekonomies van aard: mense neem dikwels 'n taal aan wat hulle nodig het om vooruit te gaan in die lewe.

Die tweede interne krisis is 'n etiese of selfs metafisiese krisis (1986:460). Dit ontstaan wanneer 'n volk wat alles doen wat hy kan om voort te bestaan, voor die "laaste versoeking" kom: "om te glo dat blote voortbestaan verkieslik is bo die voortbestaan in geregtigheid" (1986:462).

Die aanleiding tot 'n taalbeweging of taalstryd (Louw gebruik die twee min of meer as sinonieme) is 'n interne krisis - die krisis van vertwyfeling of die groep as aparte kultuur- of taalgemeenskap moet bly voortbestaan en dus sy taal moet behou. Die dinge wat 'n groep onderneem om so 'n krisis te oorkom, is die onderwerp van die volgende afdeling.

 

DIE VERLOOP VAN TAAL- (EN NASIONALE) BEWEGINGS

Bewusmaking deur intellektuele

'n "Ware en bewuste" nasionale beweging ontstaan volgens Louw "waar enkeles ' n groot agterstand by hul volk gewaar". Louw gebruik vir agterstand ook die woord ellende, wat hy omskryf as "'n diep gebrek". "Denkende mense sien rondom hulle: armoede, hulpelose stryd, wanhoop; en hierteen begin hulle optree" (1986a:424). Dié ellende is nie alleen stoflik van aard nie. By 'n volk vir wie jy werklik omgee, sienjy ook "sy vooroordele, sy kleinlikhede, en sy geestelike agterstand" (11986a:425).

Die bewustheid van agterstande hoef nie logieserwys by taalgroepe tot 'n taalbeweging te lei nie. Mense sou ook kon besluit tot die aanvaarding van die dominante taal. Hoofregter J.H. de Villiers van die Kaapkolonie was in 1877 sekerlik geen stem roepende in die woestyn toe hy hom teen die Afrikaanse taalbeweging uitgespreek het nie en betoog het dat Afrikaners liewer hul energie moes gebruik om "the rich and glorious language", Engels, toe te eien "which is ready to our hands as a literary language of the first rank" (Scholtz 1974:278). Ook die bewustheid van ekonomiese ellende by swart Suid-Afrikaanse leiers het nie gelei tot 'n nasionalisme wat die ontplooiing van hul eie tale as oogmerk het nie.

Daarteenoor was dit die strewe van die meeste Afrikaanse intellektuele om wel as 'n gemeenskap met 'n eie taal te bly voortbestaan. In 'n artikel van 1946 skryf Louw: "Die Afrikaanse nasionalisme is gebore uit die Afrikaner se stryd van meer as 'n eeu om as nasie voort te bestaan". Sy beskrywing lyk terselfdertyd byna na 'n voorspelling van wat ook 'n vyftig, sestig jaar ná 1946 sou gebeur "Die individuele bestaan sou nog vir ons gegun gewees het binne die groter geheel wat ons volk moes verswelg het; party van ons sou selfs goed daarby kon gevaar het en ryk geword het. Maar daar is van ons verwag om op te hou om voort te bestaan as 'n aparte volk met 'n eie taal en 'n aparte plek binne die nasies van die wêreld" (1986a:500).

In die aangehaalde frase oor 'n "ware en bewuste" nasionale beweging skryf Louw dat so iets ontstaan "waar enkeles 'n groot agterstand by hul volk gewaar" (1986a:424 - my kursivering). Hy beklemtoon dat ook (verdedigende) taalbewegings by enkeles ontstaan. Taalbewegings is nie spontane gebeurtenisse nie. "Hulle ontstaan eers waar die gees van die mens of van enkele mense ver voortgeskry het, en bowenal wanneer die mens sterk histories leer dink én vóél het; wanneer die mens uit die stadium van botte, spontane groei tot die stadium van bewuste insig en beplanning van gemeenskaplike lewe gekom het. Miskien is daarom die neëntiende eeu - die groot eeu van die geskiedenis-wetenskap se opkoms - ook die eeu van die Europese taalbewegings waarvan ons eie beweging 'n aftakking word" (1986b:339).

Taalbewegings, skryf Louw, is nie die gevolg van "eenvoudige volksverset" nie, maar is gedeeltelik die werk van intellektuele, veral dié met 'n historiese bewussyn. Daar is niks elitisties aan Louw se gebruik van intellektueel nie; dis min of meer sinoniem met "krities denkende mense". (Sien 1986b:387-392 vir sy antwoord op die vraag: "Wat is 'n intellektueel?") Ná die Anglo-Boereoorlog is die taalstryd begin deur onder andere die Boeregeneraals en sommige van hulle was manne sonder groot geleerdheid.

Louw maak dus (in 1957) 'n opmerking oor die Afrikatale wat nog nie heeltemal sy geldigheid verloor het nie. Die swart Suid-Afrikaanse gemeenskappe is oor baie dinge bekommerd, "maar oor die behoud van hulle pragtige tale - van dié tale waardeur hulle eintlike geestesgroei sal moet plaasvind - bekommer min hulle". As algemene stelling vervolg Louw: "Dit is nou eenvoudig so: oor stoflike dinge, veral geldsake, kom die massa maklik tot verset en opstand; maar hulle het intellektuele leiers nodig wat in die toekoms kyk om hulle warm te maak vir die onstoflike waardes wat eers in die verre toekoms sy volle vrugte (ook geldelike voordeel dan!) kan lewer" (1986b:338). (Koos Malan 2012 vergelyk die koestering van die eie tale deur die Europese nasionalismes en die onderspeel van die eie tale deur die Afrika-nasionalismes en bespreek die oorsake daarvan.)

Organisasies en instellings

Die voorwaarde vir die ontstaan van taalbewegings is dus krities denkende mense se insigte en hul vermoë tot beplanning. Maar hoe bereik hierdie intellektuele hul doelwitte?

Louw gaan in "Die opkoms van tale" nie in op 'n belangrike eerste middel in taalstryde nie en dit is die stigting van organisasies en ander instellings wat die gemeenskap moet oortuig van die waarde van die eie taal en wat die kennis daarvan aan die jonger geslag moet oordra, byvoorbeeld deur eie skole. Die Genootskap van Regte Afrikaners van 1875 het gesorg vir 'n eie koerant, tydskrif en uitgewery en 'n Afrikaanse skool, die Gedenkskool fan di Hugenote.

Hoewel Louw in sy opstel "Kultuurleiers sonder kultuur" wys op negatiewe kenmerke van sommige lede van organisasies (1986a:72-79), erken hy die waarde van sulke organisasies. Hy was trouens self lid van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en die Afrikaner-Broederbond. Hy en sy broer W.E.G. Louw het die meeste organisasiewerk gedoen vir die FAK se boekeweek wat van 12 tot 16 November 1935 in Kaapstad gehou is. Na sy mening is die strydbaarheid van die Afrikaanse organisasies aan die Afrikaanse gemeenskap opgelê deur die ligging van dié gemeenskap tussen die magtige Engelse kultuur en die massa van Afrika. Sonder die strydbaarheid sou die Afrikaanse gemeenskap en kultuur verdwyn (1986a:79). Vandag is daardie Engelse kultuur nog magtiger weens globalisering en omdat 'n groot deel van die Afrika elite Engels aanhang.

In 1937 het Louw ook hoë verwagtings gekoester van 'n ander organisasie. Dit was van die Afrikanerbond van Mynwerkers. Hy het dié vakbond beskou as 'n belangrike middel om die stedelike Afrikaners - "stedelike voortrekkers", noem hy hulle - te organiseer en "Afrikaans te hou in hart & daad", 'n beweging waarteenoor die eerste en tweede taalbeweging klein sou lyk. Hy het die Afrikanerbond van Mynwerkers beskou as die begin van 'n groot stuk opbouwerk en 'n poging om die mynwerkers vir Afrikaans te behou (Steyn 1998:171-175). Die vakbond het wel gou tot niet gegaan maar teen die einde van die twintigste eeu het sy destydse teenstander, die Suid-Afrikaanse Mynwerkersunie, later omvorm tot die vakbond Solidariteit, die stryd begin aanknoop vir Afrikaans en Afrikaanse werkers.

Organisasies was noodsaaklik vir die Afrikaanse beweging, maar hulle was nie voldoende om die welslae van die Afrikaanse beweging te verseker nie. Dié sukses is deur 'n ander middel bereik, naamlik die politiek.

Gebruik van politieke middele

Vir sy ondersoek na middele waarmee die leiers van taalbewegings hul doel bereik, bekyk Louw die lotgevalle van enkele klein Europese tale om so 'n indruk te kry van wat met sulke tale kan gebeur. Watter faktor is daar wat die een taalbeweging laat slaag het, terwyl die ontbreek van daardie faktor 'n ander laat misluk het?

In sy ondersoek identifiseer hy een belangrike faktor, naamlik 'n "staatkundige stut" (1986b:341) wat die taal kan bekom. In Finland en Tsjeggië het die taal- en nasionale beweging gelei tot "volkome nuwe staatsvorming: 'n Finland en 'n Tsjeggië met die eie taal as landstaal en politiek heeltemal vry van die vroeëre heerser. [...] In teorie lyk dit die logiese konsekwensie van 'n taalbeweging - maar hoef dit glad nie te wees nie " (1986b: 341). Jare ná Louw se stuk het 'n Britse sosiolinguis, Peter Trudgill, hierdie politieke proses met ietwat ander woorde beskryf. Dit is die uitkoms van 'n strewe van 'n taalminderheid om deur middel van staatkundige outonomie 'n taalmeerderheid te word (1983:149). Die voordele van so 'n taalstaat lê voor die hand: die taalgroep het die mag om self te besluit oor lewensnoodsaaklike taalkwessies soos die onderrigmedium.

Byna net so geslaag is die soort taalbeweging wat deur die Vlaamse beweging verteenwoordig word: "volkome gelyke regte in die staat, die onderwys, die kulturele ontplooiing" (1986b:341). Louw meen (in 1957) dat die Afrikaanse beweging tussen die twee tipes in lê. "Afrikaans het nie tot volkome geslote staatsvorming gekom nie - en kán dit ook nie, wil dit nie - maar hy het aan regte miskien tog nog iets meer as die Vlaminge verower" (11986b:341). Die opmerking "kán dit ook nie, wil dit nie" verdien toeligting. Wat die "kan" betref: die Afrikaanssprekendes is oor die hele land versprei en vorm nêrens 'n sterk genoeg konsentrasie om 'n Afrikaanse staat te vorm nie. En "wil nie" - in die destydse staatkundige bedeling was Afrikaans veilig en selfs in die huidige bedeling is daar geen beduidende steun vir 'n Afrikaanse staat nie. Die hoofstroommedia is sterk gekant teen 'n Afrikaanse tuisland of volkstaat.

Sedert Louw se praatjie van 1957 het baie natuurlik verander. België het staatkundige hervormings ondergaan wat die posisie van Nederlands in Vlaandere onaantasbaar gemaak het, terwyl Afrikaans ná 'n staatkundige hervorming in 1994 verswak is.

Was die staatkundige stut wel noodsaaklik vir Afrikaans om die "krisis van vertwyfeling" na die Anglo-Boereoorlog met welslae teë te gaan? Louw maak melding van die verdediging van Afrikaans in daardie krisis deur "taalhandhawing, die opkoms van 'n Afrikaanse literêre en geestelike lewe, ens."(1986a:461). Onder daardie "ens." sou Louw waarskynlik ook die vordering van Afrikaans tot onderrigmedium kon ingesluit het. In 'n koerantartikel in 1964 noem hy die Afrikaanse skool in die stad die instelling wat Afrikaans dáár gered het. "As die Afrikaanse stedelike skool vyf-en-twintig jaar later gekom het, was ons taal reddeloos verknoei. [...] Die skool met Afrikaans as voertaal was soos 'n rugdop wat nog net-net betyds oor ons sagte buitevleis gegroei het - soos by 'n jong kreef, glo" (1986b:633). Louw verwys dus na 'n proses wat in die 1920's begin het.

Die verheffing van Afrikaans tot onderrigmedium en die stigting van Afrikaanse skole was die gevolg van politieke besluite. Deurslaggewend was besluite van die provinsiale rade om Afrikaans as onderrigmedium te erken; en dit was weer alleen moontlik omdat Hollands deur politieke liggame as onderwys- en amptelike taal erken is.

Ook die ontwikkeling van Afrikaans tot wetenskapstaal was vir Louw deel van die taalbeweging. Hy het gestudeer aan die Universiteit van Kaapstad en het ook daar dosent in die tweetalige fakulteit van opvoedkunde geword. Dit was vir hom "'n saak van eer" dat hy die kennis wat hy uit Nederlands, Engels en Duits opgedoen het, "in suiwer Afrikaans moes probeer voordra; as ek nie kon vertaal nie, dan eie woorde vorm" (1986a:541). In sy latere artikels van die 1950's was dit ondenkbaar dat enige regering Afrikaans as skool- en universiteitstaal kon bedreig en hy het nooit op so 'n moontlikheid ingegaan nie.

Die opbou van Afrikaans tot 'n literêre taal en die ontwikkeling en gebruik daarvan vir onderwys op alle vlakke was die oogmerke van die Afrikaanse beweging. Sonder die skepping van 'n waardevolle literatuur sou die taalbeweging vir Louw geen sin gehad het nie. In die 1930's het hy dié oogmerk sterk beklemtoon. Dit was in 'n tyd toe hy, as die vernaamste woordvoerder van die Dertigers, die betekenis van die destyds nuwe letterkunde moes verdedig. Hy skryf byvoorbeeld in 1938 dat die strewe om 'n Afrikaanse gemeenskap met 'n eie taal te bly, net geregverdig kan word "deur die rykdom van onvervangbare waardes wat ons in dié taal voortbring". Dit lei tot die gevolgtrekking: "As ons nie in Afrikaans so 'n letterkunde kan skep dat ons vir elke mens, selfs die beste geeste wat by ons gebore sal word, sy diepste verlange kan bevredig nie, as ons hom nie iets kan gee wat hy in geen ander taal kan kry nie, dan moet ons in alle eerlikheid ons stryd om die behoud van ons taal staak as 'n gevaarlike partikularisme, want dan sal dit die Afrikaanse mens in sy ontwikkeling strem" (1986a:164).

Die "rykdom van onvervangbare waardes" is ook op 'n ander manier van belang. Malan meen dat tale 'n bron van sosiale solidariteit vir taalgemeenskappe is, dat tale gemeenskappe definieer en dat veral letterkundige tale gemeenskappe oor geslagte heen met mekaar in kontak hou, bind en stabiliseer en dat elke letterkundige taal gevolglik die aard van outonome transgenerasie-artefakte aanneem wat deels outonoom van enige spesifieke (lewende) generasie bestaan. Gevolglik bestaan 'n taalgemeenskap in wese in die literatuur wat sy lede oor geslagte heen opgelewer het (2014:84).

Die politiek is vir Louw 'n noodsaaklike aspek van die taalstryd maar dit is vir 'n volksbeweging "alleen 'n tegniese middel om 'n gestelde doel te bereik, maar dit is die kultuurskepper wat reg aan die doel, en dus aan die beweging, gee. Kultuur en politiek moet saamwerk soos oog en hand; sonder die politieke beweging is die kultuur soms nie by magte om sy pad te baan nie, maar sonder die kultuur is die politieke beweging altyd bloot 'n blinde gryp na mag."

Die verkryging van die staatkundige stut was vir Louw nie die enigste middel vir die welslae van 'n beweging nie.

Die opheffing van die gemeenskap as dryfkrag

Louw konstateer dat die meeste taalbewegings so min of meer ten tyde van die Romantiek ontstaan het en die tekens toon van dié oorsprong, soos liefde vir die verlede. Die taalbewegings stam egter ook uit 'n ander moderne krag, naamlik die opheffing van die mense wat binne die volkstaal lewe. "Ons kan baie drade hierin onderskei: soms is dit die stryd van die massas om die stemreg, soms die stryd van nasionale minderhede om gelyke regte, soms is dit die opkomende stryd van arbeiders om beter ekonomiese toestande - hóé hulle ook al verskil, hul het almal dít gemeen: dat hulle die opheffing van die 'gewone man', of die 'klein man' beoog - juis hy wat so dikwels die volkstaal magtig is" (1986b:342).

Taalstryde kan kies om een van twee koerse in te slaan: "om na die verlede, die mooie, te kyk, óf om die kant van die gewone volk, die eenvoudiges, te kies en draer van húlle alledaagse stryd te wees". Alleen 'n taalbeweging wat die tweede pad kies, "dié van die volk in sy stryd om óp te kom, ook ekonomies - alleen dié het kans op slaag" (1986b:342).

In die Afrikaanse beweging het één faktor die deurslag gegee - die enigste faktor ten gunste van die beweging, wat egter swaarder sou weeg as die ander dinge, skryf Louw. "Afrikaans was die taal van die grootste groepe stemgeregtigdes in die land, wit en bruin" (1986b:349). Opmerklik is sy vermelding dat die kiesers wit én bruin was. Reeds in 1924 het dit 'n groot indruk op hom gemaak dat 'n bruin man op die modderskerm van 'n motor met genl. J.B.M. Hertzog gespring en geroep het: "Ons Generaaltjie! Ons Generaal!" (Steyn 1998:49). Dit was nadat Hertzog die verkiesing gewen het. Heelparty bruin kiesers het vir Hertzog se Nasionale Party gestem wat gelyke behandeling van Afrikaans en Engels probeer verseker het.

Louw skryf voorts Afrikaans was die taal van hoofsaaklik die arm groepe - "dié wat hulle as verdruktes gevoel het, dié wat wou opkom, dié wat die ekonomiese toestande van voor 1900 met 'n soort revolusie wou omkeer. En in hierdie swakheid het krag gelê." Louw gebruik ook 'n ander beeld: "die petrol, wil ek beweer, was die ekonomiese nood: die motor was die stemreg" (1986b:349).

Die groot groei van die Afrikaanse beweging hang volgens Louw saam met die trek na die stede. Die Afrikaners wat in die negentiende eeu na die stad is, het te lande gekom in 'n "vreemde Engelssprekende wêreld, met vreemdes in alle magsposisies. Die Afrikaner wat daarheen gegaan het, was magteloos en hulpeloos, tensy hy Engels geword het - wat nie altyd moontlik was nie. En vir hierdie swakke, hierdie 'klein man' was die taalbeweging meer as 'n redding - dit was 'n wapen. In sommige werkkringe waar tweetaligheid deur die staat verplig gemaak kon word, was sy taal vir die arm Afrikaner self 'n ekonomiese bate, regstreeks dus. Maar veel meer as dit: die Afrikaanse Beweging het die vreemde, uitlandse omgewing omgetower tot 'n ware stuk van Suid-Afrika waar die Afrikaner kon werk en woel, net soos op die plase. En naas die Afrikaner as handwerksman, kom daar Afrikaners as sakemanne, amptenare, onderwysers en wát nog meer kom. 'Taalliefde' wat as leuse so mooi was, het ook voedsame brood geblyk. Dit het nie alleen 'n gevoel van eiewaarde gegee aan mense wat so minderwaardig gelyk het nie, maar dit het soliede ekonomiese voordele gebied" (1986b:350).

Die erkenning van hierdie "stoflike ondergrond" doen niks af aan die ideële waarde van die beweging nie. Dit bewys dat dit nie bloot "speel met frases en ideale was nie, maar "'n stuk van die volle Afrikaanse sosiale werklikheid. 'n Mens kan inderdaad sê: die Afrikaanse Taalbeweging was die sosialisme van die arm Afrikaner". Die beweging het geslaag omdat "hy draer van lewensbehoeftes was - selfs van ekonomiese behoeftes. In hierdie aardsheid het sy krag gelê. En ons skaam ons nie daaroor nie" (1986b:350).

Die welslae van die Afrikaanse beweging kan dus hoegenaamd nie verklaar word uit "sentiment" nie - waarmee Louw twee saamvat: taalliefde of "eerbied vir die taal" (1986b:348) en taaltrots.

Dit is 'n vraag of Louw nie hiermee die idée-force van Kohn en Weinreich onderskat nie. Daardie faktor het hy in die 1930's sterk beklemtoon: die vasbeslote, uitdagende Afrikaans-nasionale weerstand wat hy in 'n gedig in Die halwe kring (1937) verwoord het: "dat ons nie kon gebuig word / soos hul geweld dit wou". Hy was indertyd van mening dat, as die Afrikaners nie in die Anglo-Boereoorlog gaan veg het nie, die Afrikaners as volk "van slapheid en feitlik van skaamte" sou gesterf het. "Maar uit die trots van die driejarige stryd teen 'n wêreldmag is die nuwe Afrikaanse nasionalisme gebore wat nie langer te keer was nie" (1986a:98).

Die geskiedenis staaf sy destydse siening. Die vernaamste kenmerk van die politieke en kulturele aktiwiteite van die Afrikaners in die jare ná die Anglo-Boereoorlog was die taalstryd teen verdringing deur Engels. Taalorganisasies, kerke, politieke partye, onderwysers- en vroueverenigings het aan die taalstryd deelgeneem en die houding versterk dat taal deel is van die identiteit van die Afrikaner: wie verengels, is verag as verraaier. Dit was die plig van 'n Afrikaner om Afrikaans te bly. Ná die verlies van die vryheid was die taal die één ding wat die volk nie durf prysgee nie (Zietsman 1992:192). Die Afrikaanse nasionalisme het gelei tot 'n bevredigende taalbeleid vir skole in Transvaal en die Oranjerivier-kolonie (Vrystaat) ná selfbestuur, asook tot die aanvaarding van Hollands as een van die amptelike tale van die Unie van Suid-Afrika. Dit was 'n deel van die staatkundige stut van die beweging. Die ywer van Afrikaanse nasionaliste het die amptelike erkenning van Afrikaans in 1925 meegebring.

Hierdie nasionalisme het in wisselende en later afnemende mate 'n rol gespeel in die taalbeweging. Soos reeds aangehaal, het Louw betoog: "die petrol, wil ek beweer, was die ekonomiese nood: die motor was die stemreg" (1986b:349). Maar sonder die wil om winste by die stembus te omskep in winste vir Afrikaans, sou die Afrikaanse beweging ook nie veel bereik het nie. Om by Louw se beeld te bly: die Afrikaanse nasionalisme was die bestuurder wat die pedaal moes intrap.

'n Belangrike element in die beweging was die Afrikaanse media en ander meningsvormers. As daar 'n duisend is wat intelligent genoeg is om te dink en die gawe het om te skryf, sê Louw, sal hulle maklik die miljoen kan vind wat hulle volg. "Ons geluk as volk lê miskien bloot daarin dat ons nog nooit 'n duisend 'kultuurmense' in Suid-Afrika teen ons gehad het nie" (1986a:459).

Ten opsigte van die verloop van die beweging sou 'n mens miskien ook kon betoog dat die belang van die "stoflike ondergrond" vir die Afrikaners 'n belangriker dryfveer was as vir die bruin Afrikaanssprekendes. Laasgenoemde is in minder mate bevoordeel deur die destydse stelsel.

Wat die welslae van die beweging betref, is Louw se siening juis. Sy "filosofie" het nog 'n eienskap: dit stel die vraag na die volhoubaarheid van alles wat met die Afrikaanse beweging bereik is. Vooraf is dit nodig om op die evolusie in Louw se denke te fokus.

 

NÁ DIE TAALBEWEGING: LOUW EN NP-NASIONALISME

Louw se opvattings van nasionalisme het verskil van dié van die regerende Nasionale Party (NP). Hy het in sy laaste jare met dié party gebots en betrokke geraak in verskeie polemieke. Die verskille het gegaan oor rasgeoriënteerde beleide en maatreëls.

"Vanggat van die onregverdigheid"

Soos aangehaal, het Louw rekening gehou met die moontlikheid van 'n "blind staar op nasionale regte" waardeur individuele regte by mense of groepe mense ontken kan word. So kan 'n mens in 'n "nuwe vanggat van die onregverdigheid" stort (1986a:431).

Hierop het Louw kort daarna uitvoeriger ingegaan in "Kultuur en krisis", waarin hy die groot krisisse onderskei waarin 'n volk of taalgroep kan beland. Dit is vroeër in hierdie artikel aangehaal. Ten opsigte van "voortbestaan in onreg" vra Louw: hoe kan onreg 'n volkskrisis (en by implikasie 'n taalkrisis) wees? Louw antwoord met 'n teenvraag: "Hoe kan 'n klein volk lank bly voortbestaan as hy iets haatliks en iets boos is vir die beste binne - en buite - hom?" (1986:463).

Louw het die geskiedenis goed genoeg geken om die stelling te kwalifiseer met die adjektief klein. Groot volke en ryke kan onreg pleeg en daardeur floreer, terwyl kleiner volke kan ly onder die onreg van die grotes en die reaksie op onreg deur hulle self. Engeland kon met oorlog en dwangmaatreëls sy taal en kultuur dominant maak in Suid-Afrika, maar Engeland was magtig, én die oorwinnaar in die Anglo-Boereoorlog. Louw self noem Duitsland, wat ná 1918 vir die versoeking geswig en ontsettend daarvoor geboet het (1986a:462), terwyl sy mense Duitsers gebly en hul taal behou het. Onreg of geen onreg, die Duitse taal is in Duitsland veranker.

Louw was van mening dat die beëindiging van onreg positiewe gevolge kan hê. "Ek glo dat op 'n vreemde manier dit die krisis is waaruit 'n volk herbore, jonk, skeppend, te voorskyn kan kom, hierdie 'donker nag van die siel' waarin hy gesê het: Ek sal liewer ondergaan as deur ongeregtigheid bly voortbestaan" (1986a:463).

Intellektuele en politici het stellings oor onreg dikwels in die 1980's aangehaal in hul ywer om 'n einde aan die apartheidsregime te maak. Maar reg en onreg is glibberige woorde waarmee mense 'n oordeel uitspreek of 'n houding oor 'n toedrag van sake verwoord. In die Suid-Afrika van 2016 beskou sommige mense die gebruik van Afrikaans aan 'n paar histories Afrikaanse universiteite as onderrigtaal as 'n reg, ander as 'n onreg.

Die subjektiwiteit van woorde soos onreg blyk ook uit iets wat Louw in 1966 gesê het in 'n praatjie enkele maande ná 'n polemiek oor 'n opvoering van sy drama Die pluimsaad waai ver. Hy het gevra:

Mag 'n nasionale digter sy volk se swakhede, selfs sy tye van ondergang belig? Nie alleen mag hy; hy moet. Hy durf nie sê alles gaan lekker, ons gaan van hoogtepunt tot hoogtepunt. Hy mag nie sy volk sag maak met troospraatjies nie, maar hard, met die wys op tragiese moontlikhede.

Onlangs met die Pluimsaad-affêre het ek so die gevoel gekry: party mense wou gehad het ek moes die Boere-oorlog laat wen het; ten minste moes die stuk geëindig het met ons nuwe republiek.

Ander wou weer gehad het dat ek vir president Steyn profeties die herrysenis van die volk moes laat sien het. Maar dink net watter vermindering van daardie groot tragiese ondergang, as die president vooruit kon geweet het wat sou kom. Die heldhaftigheid lê nie daar waar die held weet 'alles kom reg' nie, maar daar waar hy sê: 'Ek gaan die geregtigheid doen al is dit dan ook finaal die ondergang'. (Aangehaal in Steyn 1998:1064)

Die geregtigheid in die laaste sin kan slaan op die beëindiging van die destydse bedeling, maar ook op die einde van die Vrystaatse republiek. In laasgenoemde geval het dit gegaan oor voortveg vir vryheid of oorgee. Die prysgawe van vryheid was dus vir Louw 'n vorm van ongeregtigheid.

Die geskiedenis van Afrikaans sedert 1994 toon hoe moeilik dit vir 'n klein taal is om ontslae te raak van die stigma van onreg ("die taal van die verdrukker") en hoe die taal blykbaar nog lank vir baie "binne - en buite - hom" iets haatliks en iets boos is. Ook wys dit hoe 'n klein taal kan ly onder die politiek van vergelding deur die voormalige verdruktes - hoewel dit ook die taal van 'n aansienlike deel van die gewese verdruktes was.

"My volk, Wit en Bruin"

Louw het "Kultuur en krisis" geskryf na aanleiding van die "konstitusionele krisis" van die 1950's. Hierdie krisis is veroorsaak deur die Wet op die Afsonderlike Verteenwoordiging van Kiesers wat die bruin kiesers van Kaapland op 'n afsonderlike kieserslys geplaas het. Die "krisis" het ontstaan toe die Appèlhof die wet in Maart 1952 ongeldig verklaar het omdat die vereiste prosedure in die Grondwet nie gevolg is by die aanname van die wet nie. Hierdie wetgewing en die maatreëls om die grondwetlike bepalings te omseil, vervul baie Afrikaners nou met skaamte, en ook in dié tyd was talle daarteen en het party hulle in die openbaar daarteen uitgespreek.

Louw was teen die wet gekant, maar laat merk niks daarvan in "Kultuur en krisis" nie. Ook al sou sy kritiek gepas gewees het, sou dit in die destydse partypolitieke klimaat waarskynlik teenproduktief gewees het. Die Verenigde Party-opposisie sou dit vir seker uitgebuit het, en Louw - wat bowendien ook oor persoonlike sake in 'n kwesbare posisie was (Steyn 1998:585-593) - het byna nooit in die openbaar uit Amsterdam, waar hy professor was, kommentaar op aktuele politieke sake in Suid-Afrika gelewer nie. Dit was onmoontlik om op dié afstand met die politieke subtiliteite op die hoogte te bly. Dit was voor die tyd van die internet, e-posse en digitale koerante. Gewoonlik het dit byna drie weke geduur voordat koerante soos Die Burger uit die Kaap in Nederland kon aankom - 'n hele week s'n op 'n keer.

Prinsipiële kommentaar was meer effektief. Die opstelle het in 1952 geen reaksie uitgelok nie omdat minder goed ingeligte lesers dit waarskynlik as te algemeen en "filosofies" beleef het. Maar juis die prinsipiële en teoretiese aard daarvan het veroorsaak dat hulle al hoe relevanter geraak en veral sedert die 1970's tog 'n beduidende rol in die politiek kon speel.

In die 1950's het Louw 'n al hoe groter begrip gekry van die onreg teenoor die bruin bevolking. In 1960 het Louw - nadat hy sowat twee jaar terug was in Suid-Afrika - wel duidelike kritiek uitgespreek op die NP-regering se beleid teenoor die bruin mense. Dit het hy gedoen in die voorwoord tot 'n opsienbarende pleidooi vir wit-bruin integrasie deur D.P. Botha in Die opkoms van ons derde stand. In dié voorwoord het Louw die NP-beleid teenoor bruin mense verwerp. Volgens hom het Afrikaner- en Suid-Afrikaanse nasionaliste spontaan gesê: "Ons het verkeerd gehandel teenoor die Bruin mense; ons het hulle verwaarloos en afgestoot". Dít is volgens Louw "'n merkwaardige stuk nasionale psigologie" (1986b:623).

Wat hierdie voorwoord ook betekenisvol maak, is dat Louw sy opvatting van volk wysig deur te verklaar dat hy 'n "innige begeerte - nee, 'n hartstogtelike wil" het dat "my volk, Blank en Bruin, en die taal wat ons praat, in hierdie land bly voortbestaan" (1986b:623). Hy het gehoop dat wit en bruin nie aanhoudend na die verlede sal kyk en mekaar daaroor verwyt nie. Een verklaring vir die uitmekaar groei van die twee groepe sou kon lui: "(D)aar was 'n tyd toe die Blanke Afrikaner so wanhopig moes veg om ten minste 'n kern van 'n eie inheemse, by 'n Suid-Afrika aangepaste oortuiging aan die lewe te hou, dat hy nie altyd helder kon sien nie" (1986b:624). Sy breër opvatting van 'n volk het Louw enkele jare later uitgewerk in die drama Die pluimsaad waai ver (die eerste keer opgevoer in 1966), waarin hy almal wat aan die Vrystaatse kant aan die vryheidsoorlog deelneem, beskou as behorende tot die Vrystaatse Afrikaners. Dit sluit naas die Afrikaners ook Engelssprekendes, Kaapse rebelle, Nederlanders en bruin mense in.

In die 1960's is die benaming bruin Afrikaners soms gebruik, maar dit het nooit inslag gevind nie. Die politici was teen die begrip "bruin Afrikaner", maar byna die helfte van die Afrikaners wat in 1977 in 'n meningsopname gevra is of hulle Afrikaanssprekende bruin mense as Afrikaners sal beskou, het bevestigend geantwoord (Rapport, 6 Maart 1977).

Taalpolitieke kritiek op sensuur

Oor min sake het Louw so dikwels met die NP-regering gebots as oor sensuur en die regering se houding teenoor die Sestigers, 'n nuwe geslag skrywers. Hy het in koerantbriewe en -artikels betoog dat sensuur skade doen aan Afrikaans.

Die aanname van die Wet op Publikasies en Vermaaklikhede van 1963 is voorafgegaan deur 'n lewendige debat in koerante, veral Die Burger. Verskeie skrywers het daaraan deelgeneem. Louw se woorde het gewig gedra.

Sy brief lui hy praat as Afrikaner "wat nog nooit (hier of in Europa) my Afrikaner-nasionalisme weggesteek of verdoesel het nie". Hy was van oordeel: "Ek twyfel of selfs Milner 'n meer doeltreffende middel sou kon bedink het om Afrikaans te kniehalter en aan Engels in Suid-Afrika vrye teuels te gee. Vir die jong aspirant-skrywer (ook die Afrikaanse!) in Suid-Afrika - is dit nie asof hier gesê word: Boeta, as jy jou sê wil sê, gebruik Engels! En as jy nie Engels goed genoeg ken nie, léér dit, soos Joseph Conrad; maar skryf in Engels en behou jou siel" (Steyn 1998:955).

Louw het ook in die bresse getree vir die digter Breyten Breytenbach toe die departement van binnelandse sake 'n visum aan sy vrou Yolande geweier het om Suid-Afrika te besoek. Die publiek het die mening van Breytenbach oor die rede vir die weiering gedeel: "Hulle het geen rede aan my verstrek nie, maar die rede is klaarblyklik dat sy uit Viëtnam kom".

Die belangrikste reaksie was 'n brief van protes en kritiek deur Louw op 30 Mei 1965 in Dagbreek en Sondagnuus: "Ek praat as Afrikaner, maar ek praat ook namens die Afrikaanse literatuur wat sy eie eer en waardigheid het - 'n eer en waardigheid wat onafhanklik is van die politiek en wat sal voortleef wanneer die grootste deel van ons tyd se politiek en die groot massa van ons politici begrawe en vergeet sal wees. (So het Celliers en Leipoldt hulle tyd se magtiges half-vergeet sien word.) Dis namens hierdie literatuur dat ek praat, en ek praat vandag met pyn en skaamte." Ook: "Die Afrikaanse nasionalisme waarin ek opgegroei het en waarbinne ek hoop om te sterwe, was vir my die grootste beweging binne ons geskiedenis en 'n teken van uitgroei, van steeds voller lewe. Word dit nou 'n verstarde ideologie, wat deur amptenare met duimstokke afgemeet kan word?" As aanhanger van Afrikaanse nasionalisme het Louw dus sensuur en rasgebaseerde maatreëls afgekeur.

Nasionale regte van ander groepe

Wat betref nasionale regte as "universele menslike regte" wat ook ander groepe toekom, het die NP-nasionalisme beter gevaar. So het die regering moedertaalonderrig sedert 1953 in swart skole uitgebrei, radio- en televisiedienste in die Afrikatale ingestel en regionale amptelike status aan dié tale toegeken in die TBVC-state oftewel die tuislande en ander selfregerende gebiede - 'n beleid wat om ander redes deur die swart taal- en kultuurgemeenskappe verwerp is. In swart hoërskole was Afrikaans en Engels die voertale. Die bepaling rakende Afrikaans is lank nie uitgevoer nie, maar toe dit wel op onoordeelkundige wyse gebeur, het dit help lei tot die 1976-opstand. Die gevolg daarvan was dat Engels die enigste voertaal in swart hoërskole geword het.

Hoewel Engels die groot mededinger van Afrikaans was, het die Afrikaanse beweging nooit 'n Afrikaans-eentalige samelewing en staat nagestreef nie, maar van die begin van die taalstryd afvir tweetaligheid geywer, dit wil sê die gelyke behandeling van Afrikaans en Engels. Toe sekere Afrikanergroepe in die vroeë 1940's hulle vir 'n Afrikaans-eentalige staat beywer het, het Afrikaanse politieke meningsvormers hulle sterk teengestaan.

Die etiese beginsels wat daarin die deurslag gegee het, is duidelik verwoord deur Die Volksblad wat op 24 September 1942 betoog het dat sommige Afrikaners vanweë taalonreg van een kant wil wraak neem deur op hul beurt die Engelse se regte in 'n komende republiek te verdruk. "Maar verdrukking was nog nooit 'n antwoord op verdrukking nie. Inteendeel leer die Christelike geloof ons om ons onreg te beantwoord met reg. Want om onreg te stapel op onreg maak van die wêreld 'n hel; en om in 'n land met twee volke beurtelings die een en dan die ander te onderdruk, maak van so 'n land 'n voortdurende hel vir eers die een en dan die ander helfte van die bevolking". Terselfdertyd is die aanhaling ook tekenend van 'n tyd toe daar nog nie rekening gehou is met die politieke regte van die verskillende swart volke van Suid-Afrika nie.

Individuele regte en die taalgemeenskap

Teen die einde van die 1980's het dit vir die NP duidelik geword dat 'n nuwe bedeling onvermydelik is. Ongelukkig was Louw se belangrike insigte in individuele en nasionale regte toe al vergete. Hy was van mening dat 'n "goeie Engelsman" aan die begin van die twintigste eeu nie daaraan sou gedink het om 'n individuele reg aan Afrikaners te ontneem nie, maar maklik daartoe kon kom om hul nasionale regte te ontken - "bloot omdat hy sy eie nasionale regte so vanselfsprekend besit het, dat hy onbewus daarvan was" (1986a:430). Teen die einde van die 1980's en daarna was baie Afrikaners blykbaar onbewus van die waarde van nasionale regte vir hul eie gemeenskap.

Die klem het al meer geval op individuele regte. Die Suid-Afrikaanse Regskommissie het in 1989 aangevoer dat taalregte in 'n menseregte-akte beskerm moet word deur middel van individuele regte. Die NP en Demokratiese Party het positief daarop gereageer (aangehaal deur Steyn 1990). Pleidooie vir groeps- of minderheidsregte het feitlik taboe geraak - of polities baie inkorrek.

Malan (2014), wie se opvattings aansluit by dié van Louw, redeneer dat, hoewel individuele taalregte wel belangrik is, daar ten minste twee nie-individuele belange is waarna individuele regte nie behoorlik kan omsien nie. Die eerste is die taalgemeenskap, veral die gemeenskappe van moedertaalsprekers wie se gemeenskaplike identiteit in beduidende mate deur hul gemeenskaplike taal gedefinieer word en wat derhalwe 'n gemeenskaplike belang in hul taal het. Hierdie belang is nie individueel verdeelbaar nie en kan nie na enige spesifieke individu, losstaande van ander, herlei word nie. Die tweede belang is die taal self, wat noodwendig in stand gehou moet word ten einde sowel individuele as gemeenskapsbelange in die taal moontlik te maak.

Hiermee het die onderhandelaars voor 1994 nie genoeg rekening gehou nie, sodat daar weer 'n "krisis van vertwyfeling" in die Afrikaanse gemeenskap ontstaan het. Daaroor iets meer in die volgende afdeling.

 

DIE VOLHOUBAARHEID VAN DIE AFRIKAANSE BEWEGING

By groot volke en taalgemeenskappe is dit selde 'n vraag of hul tale sal kan voortbestaan. 'n Klein gemeenskap moet egter steeds op sy hoede wees vir bedreigings van sy bestaan. In "Kultuur en krisis" maak Louw 'n opmerking wat ook vir klein tale geld: "Ons weet dit: ons volksbestaan is nooit volkome veilig nie; die bedreiging kan soms gaan wegkruip of hom dood-hou, maar hy wag altyd net sy dag af' (1986a:458).

Wat van die toekoms? Dit is die vraag waarmee Louw "Die opkoms van tale" afsluit (1986b:350). Dit is vir hom die belangrikste vraag van almal. Is die faktore wat die welslae van die beweging verseker het, nog geldig en nog sterk genoeg? Of moet ons ook "vertraging, verslapping, verandering en doodloop verwag?" (1986b:346).

Sommige bewegings kon hul suksesse konsolideer, soos die Tsjeggiese, Finse en Vlaamse bewegings. Daarvoor het die "staatkundige stut" gesorg. Dít is die een belangrike krag wat ontbreek by enkele kleiner taalbewegings wat misluk het. Dit geld nou ook vir die Afrikaanse beweging: party "staatkundige stutte" het ná 1994 weggeval en in werklikheid word die taal van staatkundige kant ondermyn in die instellings soos die staatsdiens, die staatsmedia, die regeringsbeleid oor die openbare skole en universiteite. Engels is weer, soos in die groot imperiale state, die administratiewe en kommunikasietaal van die staat - die ander tale is dit in veel geringer mate of glad nie.

Die agteruitgang van Afrikaans as openbare en onderwystaal het so ver gegaan dat die historikus en politieke wetenskaplike, Hermann Giliomee, in 'n artikel met die veelseggende titel "Die troebele toekoms van die Afrikaners en Afrikaans", ná 'n omvattende en nougesette ontleding van ontstellende gegewens oor Afrikaners en Afrikaans tot die gevolgtrekking kom: "Die kans dat albei in die loop van die een-en-twintigste eeu kan verdwyn, is nie meer vergesog nie" (Giliomee 2014:594). Die filosoof, Carel Boshoff, verklaar in 'n werk oor die denke van Louw dat die Afrikaner "in die volste sin van die woord in 'n bestaanskrisis" verkeer. Die "onvolhoubaarheid van sy bestaan het hom ingehaal en die bestaan het as 't ware tot stilstand gekom" (2014:217).

Het Louw se opvattings nog waarde in hierdie krisis waarin Afrikaans hom nou bevind? Minstens drie van sy opvattings kan as leidrade dien.

Die eerste is die "praktiese faktor" (1986b:348) wat hy in die slot van sy betoog aanroer. "Veel van die nood waardeur ons gelewe het, het verdwyn; ons wêreld het vir die Afrikaners maklik geword. Het hiermee nie ook die stukrag agter die taalbeweging verdwyn nie? Ek wil alleen sê: as die taal nie voortgaan om draer van reële en vitale behoeftes van groot groepe te wees nie, dan is daar nóg, soos by alle klein tale, kans op versand en doodloop" (1986b:350).

Het Afrikaans nog die moontlikheid om die taal te word van 'n groep mense "in sy stryd om óp te kom, ook ekonomies" (1986b:342)? Die staat sorg deur sy beleid dat baie Afrikaanssprekendes verplig is om Engels te beskou as die taal wat belangrik is in hul stryd om op te kom. Engels is die taal van opwaartse sosiale en ekonomiese mobiliteit. In verband met die negentiende-eeuse toestand het Louw gemeld dat dit destyds nie moontlik vir baie Afrikaners was om Engels te word nie. Dié toestand het verander. Die oorgrote meerderheid Afrikaanssprekendes is Engels goed magtig. Afrikaans-Engelse tweetaligheid was immers dekades lank tot 1990 die staatsbeleid. Aan die ander kant is baie Suid-Afrikaners wat sedert 1994 deur die staat gemarginaliseer word, Afrikaanssprekend: veral wit, maar in toenemende mate ook bruin Afrikaanssprekendes. Hulle word benadeel deur die beleide van regstellende aksie en verteenwoordigendheid. Dit is veral die oorwegend Afrikaanse vakbond Solidariteit wat vir hierdie groep in die bresse tree.

Soos reeds gemeld, het Louw in 1937 die vakbondwese beskou as 'n instrument vir taalbehoud. Sy mening oor die Afrikanerbond van Mynwerkers is 'n voorloper van sy latere siening oor die sosiale aard van die taalbeweging. Die werk van Solidariteit en die Solidariteit-beweging kom die naaste aan 'n beweging wat met Louw se woorde "draer van lewensbehoeftes", selfs van ekonomiese behoeftes, is. Daar was in 2016 geen ander beweging, organisasie of liggaam wat naastenby soveel kon vermag het nie.

'n Tweede leidraad vir volhoubaarheid bied die optredes wat Louw as noodsaaklik ag vir 'n volk wat 'n krisis van vertwyfeling beleef. Hy beskou die opbou en beskerming van die kultuur as 'n taak vir die "kultuurmense". Die kultuurmense is die mense wat sorg dat die gemeenskap 'n "waardevolle besit het wat die moeite werd is om te behou". Dit is nie alleen die makers of skeppers van so 'n kultuurbesit nie, dit wil sê die denkers, kunstenaars en wetenskaplikes, maar "ook die wat die besit waardeer, hoed, versprei". Dit is die lesers, kritici, onderwysers, "die beste soort joernaliste, knap tegnici, ekonomiese leiers en baie ander; 'propagandiste' in die oorspronklike en hoogste sin van die woord." 'n Gemeenskap wat ryk is aan hierdie soort mense, versamel iets wat hom as gemeenskap die moeite van die bestaan werd maak (1986a:462). In 'n krisis van vertwyfeling, sê Louw, stel die kultuurmens sy werk "van opbou en verbreiding van die kultuur" (1986:465).

Met dié soort opbouwerk is die Afrikaanse gemeenskap besig. Skrywers, die Afrikaanse onderwys, die Afrikaanse media en kultuurorganisasies is die vernaamste persone en instellings wat die kultuur skep, waardeer, beskerm en verbrei.

Vir die opbou, beskerm en verbrei van die kultuur val veral twee inisiatiewe op: dié van kykNET en die Solidariteit-beweging. KykNET het reeds vier Afrikaanse TV-kanale en is gedeeltelik of volledig te sien buite Suid-Afrika soos in Namibië en 'n paar Engelssprekende lande waarheen baie Afrikaanssprekendes geëmigreer het. Die vakbond Solidariteit het die tegniese kollege Sol-Tech begin omdat daar geen behoorlike tegniese opleiding in Afrikaans is nie en het ook 'n Afrikaanse universiteit Akademia aangepak. Sowel in Suid-Afrika as Namibië is daar bowendien verskeie private skole wat van Afrikaans as onderrigmedium gebruik maak.

'n Derde leidraad in Louw se denke raak die individuele lede van die taalgemeenskap. Hy wys daarop in 'n betoog oor Afrikaners se onverskilligheid en onwilligheid rakende taalhand-hawing. Dis deels daaraan te wyte dat die Afrikaners se belangrikste geestelike kontakte vroeër met Nederland en Engeland was. Dit is volke wat die minste aandag gegee het aan die soort probleme wat in taalbewegings op die voorgrond staan. In 'n onbedreigde taalgebied soos Nederland is die taalliefde volkome onbewus. Dit sou net kon verander as Nederland oorval en verower word deur 'n mag wat sy eie taal tot staatstaal verhef en sorg dat Nederlands uit die skool en openbare lewe geweer word sodat 'n Nederlander die soort afjak sou kry wat hy as kind moes aanhoor. "'n Ou, baie eerbiedwaardige man op ons dorp [het] in 'n staatskantoor van nie-anders- kan-nie Afrikaans gepraat" en te hore gekry: "Can't you speak white!" Dit het gekom "van 'n snip van 'n klein amptenaartjie, wat egter geweet het dat hy self die hele staatsmag agter hom het" (1986b:344).

Nederlanders sal weet dat daar in so 'n geval ook "woeste verset" sou kom - nog meer as in die Tweede Wêreldoorlog - en dat dit nie sal kom van mense wat slegs Nederlands kan praat nie, maar juis van intellektuele leiers wat die vreemde taal die beste ken. "En hulle sal dan sien dat dit nie bekrompenheid is nie; dat die Vlaming wat Frans uitstekend ken, sy taal handhaaf uit selfrespek en uit 'n diepe solidariteit met die eenvoudige mense van die massa" (1986b:344).

Hierdie selfrespek en solidariteit met die gemeenskap het ook by Afrikaanssprekendes bestaan, maar is sedert 1994 in 'n tyd van bedreiging nie vanselfsprekend nie. 'n Deel van die geskiedenis is altyd - soos in Die dieper reg verwoord - die "trouloosheid / van dié wat om 'n ander diens / soos knegte jou verlaat" (Louw 1938:20). Sommige Afrikaners met 'n hoë onderwyspeil beskou hulleself nie meer as Afrikaners nie (Giliomee (2009:715). Giliomee konstateer ook dat party Afrikaners nie alleen geen vinger verroer vir die behoud van die taal nie, maar dat hul selfs dié bestry wat dit wel in universiteite as voertaal wil behou. Hulle beskuldig die taalstryders daarvan dat hulle hunker na apartheid. Hulle het soos in die negentiende-eeuse Kaapkolonie "prefabricated collaborators" van die maghebbers geword. (Dié uitdrukking woord aangehaal deur Giliomee 2009:713.)

Ten dele is hierdie houding 'n gevolg van die krisis van "voortbestaan in onreg", ten dele ook 'n gebrekkige nadink oor die geskiedenis van Afrikaans en Engels in Suid-Afrika. Engels word die sondes van sommige van sy sprekers vergewe (slawerny, oorlog, kolonisering), maar Afrikaans moet boet vir die sondes van party van sý sprekers. In die naam van dekolonisasie het studente in 2016 betoog teen Afrikaans; hulle wou slegs Engels hê - die vernaamste taal van kolonisasie. Teen Afrikaans is betoog selfs by instellings waar die beswaar van uitsluiting as gevolg van Afrikaans nie geld nie en dus waar alle lesings wens 'n beleid van parallelmedium ook in Engels aangebied word.

 

SLOT

'n Egte teorie of filosofie oor "die klein tale se reg" het Louw nie uitgewerk nie, maar 'n mens kan uit sy beskouings 'n paar hipoteses, of swakker: 'n paar veralgemenings, oor taalbewegings en taalstryde aflei.

1. 'n Taalbeweging kan net begin wanneer histories bewuste intellektuele bekommerd is oor 'n "krisis van vertwyfeling" in 'n volk of taalgemeenskap en planne maak om die taal te behou, die gemeenskap op te hef (of te bemagtig) en sodoende die voortbestaan van die volk of taalgemeenskap te verseker. So 'n krisis ontstaan wanneer 'n groot aantal lede van die gemeenskap twyfel of dit die moeite werd is om as kultuurgemeenskap voort te bestaan en die taal te behou.

2. 'n Taalbeweging het 'n groot kans op welslae wanneer dit 'n "staatkundige stut" kan bekom en dus nie polities so magteloos is dat dit nie regeringsbesluite kan beïnvloed nie. 'n Taalbeweging kan nie sonder politieke middele slaag nie. Die verlies van die staatkundige stut in 'n meertalige land kan 'n minderheidstaal ernstig benadeel.

3. 'n Taalbeweging se kans op sukses in 'n meertalige land is die beste wanneer die beweging daarin kan slaag om die strewe na die bevordering van die taal te kan verbind met die opheffing van 'n minder bevoorregte gemeenskap.

4. Dit kan noodlottige gevolge vir 'n klein volk en by implikasie 'n klein taalgroep hê om in 'n meertalige land onregverdig teenoor ander groepe op te tree.

Louw sê filosofie is "niks anders nie as: 'streng en omvattend dink'" (Louw 1986b:37). Louw het strenger en omvattender, maar ook oorspronkliker, oor klein tale en veral Afrikaans, gedink as enige ander Afrikaanse skrywer of denker. Dit maak van sy taalfilosofie en taalpolitiek een van die "monnemente" waarvan mense maklik die waarde onderskat.

 

BIBLIOGRAFIE

Boshoff, Carel. 2014. NP van Wyk Louw en die nuwe Afrikaner. Pretoria: FAK.         [ Links ]

Giliomee, Hermann. 2009. The Afrikaners, expanded and updated edition Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Giliomee, Hermann. 2014. Die troebel toekoms van Afrikaners en Afrikaans. Tydskrifvir Geesteswetenskappe 54(4), Desember 2014: 571-595.         [ Links ]

Kohn, Hans. 1945. The idea of nationalism; a study in its origin and background. New York.         [ Links ]

Louw, N.P. van Wyk. 1938. Die dieper reg. Kaapstad: Nasionale Pers.         [ Links ]

Louw, N.P. van Wyk. 1986a. Versameldeprosa 1. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Louw, N.P. van Wyk. 1986b. Versamelde prosa 2. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

Malan, Koos. 2012. 'n Oorweging van die sosiopolitieke kragte wat inwerk op die betekenis en toepassing van die diskresionêre taalklousule van die Suid-Afrikaanse grondwet, in LitNet Akademies 9(1), 2012.         [ Links ]

Malan, Koos. 2014. An analysis of the legally protectable interests pertaining to language. Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse reg: 66-84.         [ Links ]

Schoeman, Karel. 1986. Die wêreld van die digter. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

Scholtz, G.D. 1974. Die ontwikkeling van die politieke denke van die Afrikaner, deel III 1874-1881. Johannesburg: Perskor.         [ Links ]

Steyn, J.C. 1990. Menseregte en taalregte. Suid-Afrikaanse Tydskrif Vir Taalkunde 8(1): 39-47.         [ Links ]

Steyn, J.C. 1998. Van Wyk Louw - 'n lewensverhaal. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Trudgill, Peter. 1983. Sociolinguistics. An introduction to language and society. Harmondsworth: Penguin.         [ Links ]

Weinreich, Uriel. 1970 (eerste druk 1953). Languages in contact. Den Haag: Mouton.         [ Links ]

Zietsman, P.H. 1992. Die taal is gans die volk. Pretoria: Unisa.         [ Links ]

 

 

 

J.C. Steyn was verbonde aan Die Volksblad, die Universiteit van Port Elizabeth (tans Nelson Mandela-Universiteit), die Randse Afrikaanse Universiteit (tans die Universiteit van Johannesburg) en die Universiteit van die Vrystaat. Hy het meer as 100 artikels in vaktydskrifte en boeke gepubliseer en is die skrywer van taalpolitieke, taal- en kultuurhistoriese boeke. Die vernaamste is Tuiste in eie taal (1980), Trouwe Afrikaners. Aspekte van Afrikanernasionalisme en Suid-Afrikaanse taalpolitiek 1875-1938 (1987) en 'Ons gaan 'n taal maak': Afrikaans sedert die Patriot-jare (2014). Ook in sy drie biografieë, Van Wyk Louw: 'n lewe (1998), Pen vegter: Piet Cillié van Die Burger (2002) en Die honderd jaar van M.E.R. (2004) gee hy aandag aan die taalstryd en die betrokkenes se opvattings oor taal.
J.C. Steyn worked at Die Volksblad, the University of Port Elizabeth, the Rand Afrikaans University and the University of the Free State. He has published over 100 articles in journals and books and is the author of several works on language politics and language and cultural history. The most important of these are Tuiste in eie taal [Home in their own language] (1980), Trouwe Afrikaners. Aspekte van Afrikanernasionalisme en Suid-Afrikaanse taalpolitiek 1875-1938 [Loyal Afrikaners Aspects of Afrikaner nationalism and South African language politics], (1987) and 'Ons gaan 'n taal maak': Afrikaans sedert die Patriot-jare ['We make a language'. Afrikaans since the years of Die Afrikaanse Patriot] (2014). In three biographies he paid special attention to the language struggle and the views of the authors of Afrikaner nationalism.
These books are Van Wyk Louw: 'n lewe [Van Wyk Louw - A biography] (1998), Penvegter: Piet Cillié van Die Burger ['Penvegter': Piet Cillié of Die Burger] (2002) and Die honderd jaar van M.E.R. [The hundred years of M.E.R.]. (2004).

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License