SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.56 número2-1The differences between the Netherlands and Flanders with respect to South Africa during the apartheid era: an analysisA critical assessment of a few of the literary prizes awarded by The South African Academy for Science and Arts índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.56 no.2-1 Pretoria jun. 2016

 

Oor monnemente gepraat - Afrikaans se eerste neëntig jaar

 

 

INLEIDING

In hierdie uitgawe van die Tydskrifvir Geesteswetenskappe gedenk die redaksie die eerste negentig jaar van Afrikaans as 'n amptelike taal van Suid-Afrika, nadat hierdie status in Mei 1925 by wet daaraan toegeken is. Onwillekeurig kom die vonkel-in-die-oog-titel van ds. A.F. Louw se werk, My eerste neëntig jaar, by 'n mens op. Soos die waardige dominee oor sy eie lewe, is daar in hierdie bundel n terugkyk oor Afrikaans se verlede, maar ook sy toekoms.

En deel van hierdie verlede is ook die oprigting van die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl in 1975, iets meer as veertig jaar gelede.

Monumente is en was nog altyd semiotiese voorwerpe wat stellings maak, of vra om inter-pretasie, en dikwels in omstredenheid gehul is. Daarvan is daar voldoende voorbeelde, ook in die post-1994-era in Suid-Afrika. Waar 'n monument aan 'n politieke ideologie, of aan 'n taal- of ander identiteit verbind word, kan sulke omstredenheid selfs irrasionele afmetings aanneem - positief of negatief. Die reaksie wat die teenwoordigheid van so 'n monument ontlok, kan soms ook heel effektief by wyse van ironie of humor uitgedruk word, soos die humoristiese verse uit die bekende Kaapse Sonnet van Peter Blum oor die oprigting van die Voortrekkermonument:

Oor monnemente gepraat

Wat spog jul so met julle monnement?

Hy's groot ma' lielak, en hy staan so kaal

da' op sy koppie. Wie't vir hom betaal

al daai graniet en marmer en sement?

Die Afrikaanse Taalmonument, wat, anders as die tema van Blum se gedig, die aandag deur sy ontwerp vestig op die heterogene aard van die nuwe taal wat op die Afrikakontinent tot stand gekom en tot iets besonders uitgegroei het, is geen uitsondering in hierdie tradisie van monumente as kontroversiële simbole nie. Sienings van, en houdings oor, die taal het daarby egter oor die jare enigermate ontwikkel, en die rol wat die monument in die hedendaagse tydvak speel, is eerder n aanduiding van 'n vernuwende rol binne die gevarieerde Afrikaanse taalgemeenskap, wat aansluit by die landsleuse !ke e:/xarra //ke ('diverse mense verenig').

Hierdie uitgawe neem dan die geleentheid te baat om vanuit die moderne perspektief, en met die voordeel van nakennis, die idees rondom die konsep van n monument vir n abstraktum soos taal (weliswaar met waarneembare neerslag) wat in die aanloop tot die oprigting en inwyding van die Afrikaanse Taalmonument veertig jaar gelede geopper is, in herinnering te roep. Wat terselfdertyd in gedagte gehou word, is dat die monument opgerig is in die vyftigste jaar ná die erkenning van Afrikaans as amptelike taal, en as sodanig ook dien as visuele baken van die ontwikkeling van 'n vroeëre "kombuistaal", beperk tot die meer beskeie funksies van alledaagse kommunikasie, tot n taal met n gestandaardiseerde vorm, en leksikaal toegerus om die funksies van 'n staatshuishouding te vervul naas Engels, die koloniale taal van die destydse Britse Ryk. In hierdie uitgawe val die soeklig dus, benewens die historiese agtergrond van die Taalmonument, op enkele virtuele bakens wat, anders as die "monnemente" á la Blum, iets weergee van die ontwikkelingspad waarlangs Afrikaans oor die afgelope pas meer as negentig jaar geloop het.

Die bydraes dek ´n verskeidenheid terreine, die historiese (waaronder sowel die geskiedenis van die Taalmonument, die vroeë ontstaansgeskiedenis van Afrikaans, en die standaardiserings-geskiedenis van die Afrikaanse ortografie, en hoe Afrikaans deur bepaalde taalpolitieke faktore bevoordeel en benadeel is), die leksikon van Afrikaans (waaronder die rol wat minder bekende woordeboeke in die ontwikkeling van Afrikaans gespeel het, en nog speel, vaktaalonwikkeling, en die rol wat 'n bepaalde skryfwyse in 'n woordeboek speel in die skakeling tussen die Afrikaanse en ´n relatief vreemde taal- en leefwereld soos dié van Japan), en laastens die belangrike rol wat die digitale ruimte speel in die ontsluiting van bronne oor Afrikaans, navorsing oor en dienslewering in Afrikaans, en die versterking van die funksies van, en toegang tot kennis deur, die taal by wyse van ´n platform soos Wikipedia.

 

DIE BYDRAES

Annemarie van Zyl en Jannie Rossouw evalueer in hulle artikel die rol en waarde van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument in die Paarl in die lig van die veertigste herdenking van die inwyding van die Monument, wat op 10 Oktober 1975 plaasgevind het. Die Monument het vanaf die eerste oomblik wat die idee posgevat het, gelei tot kritiek en tweespalt. Hierdie artikel ondersoek elke tipe kritiek wat destyds teen die Monument uitgespreek is, naamlik die wenslikheid, ligging, voorkoms, aard of funksie, simboliek en ideologie, en evalueer terugskouend die geldigheid daarvan al dan nie, maar laat ook die soeklig val op die samebindende, nuwe rol wat sowel die monument as die museum hedendaags vervul.

Om ´n gelykwaardige plek te kan inneem naas Engels as taal van staatshuishouding, bemagtiging, en die wetenskap en tegnologie, was die ontwikkeling van vaktaal in Afrikaans onontbeerlik. Mariëtta Alberts neem hierdie tema in oënskou, en toon aan dat, terwyl die Afrikaanse vaktaal histories as ´n lewende monument dien, dit ook as katalisator vir die ontwikkeling van die ander inheemse tale van die land van groot waarde is.

Jaap Steyn ontleed, aan die hand van die digter N.P. van Wyk Louw se siening van taalbewegings en sy opvattings oor nasionalisme, die vordering van Afrikaans in die eerste helfte van die twintigste eeu. Hy let in hierdie artikel op die faktore wat bydra tot die welslae van 'n taalbeweging, en betoog dat 'n taalbeweging 'n kans op welslae het wanneer dit 'n "staatkundige stut" kan bekom en dus nie polities so magteloos is dat dit nie regeringsbesluite kan beïnvloed nie. Daarbenewens moet dit suksesvol wees in sy strewe om die bevordering van die taal te verbind met die bemagtiging van die minder bevoorregte lede van die gemeenskap. Om in 'n meertalige land onregverdig teenoor ander groepe op te tree, kan noodlottige gevolge vir 'n klein gemeenskap hê.

Rufus Gouws voer aan dat sowel woordeboeke waarin die algemene as dié waarin die vaktaal bewerk word, bydra tot die standaardisering van Afrikaans. Hoewel elke woordeboek dientengevolge kan aanspraak maak op "monumentstatus", wys hy daarop dat talle woordeboeke se rol in die leksikografiese ontwikkeling van Afrikaans nie genoegsaam erken word nie. In sy artikel belig hy enkele minder bekende woordeboeke wat wel monumente van en vir Afrikaans is, en gee onder andere aandag aan woordeboeke wat gemeenskapsgedrewe produkte is, en ook blyke gee van die kreatiewe woordskeppingskrag van die Afrikaanse taalgemeenskap.

Ten spyte van die feit dat Afrikaans in sy eerste 90 jaar tot ´n volledige onderwys-, wetenskaps-en kultuurtaal ontwikkel het, is daar toenemend, en soms uit onverwagse oorde, druk op die taal in die fisiese ruimte waarin die sprekers hulle bevind. Laurette Pretorius wys in haar artikel hoe die posisie van Afrikaans volhoubaar versterk kan word deur n soort digitale taalbeweging by wyse van die ontwikkeling van die Afrikaanse Wikipedia, wat enersyds n enorme oop en vrye aanlyn ensiklopedie is, maar ook n spilpunt van taalhulpbronne en taaltegnologie - n virtuele taalmonument onder konstruksie.

In aansluiting by die vorige tema, doen Adri Breedt, Wannie Carstens en Jako Olivier n beroep op almal wat belang het by die Digitale Bibliografie van die Afrikaanse Taalkunde (DBAT), en dit moontlik ook nog nie besef nie, om gebruik te maak van hierdie omvattende, nuttige databasis van Afrikaanse taalkundebronne. Ten spyte van die bewese waarde daarvan vir navorsing oor Afrikaans, is dit noodsaaklik om die moontlikhede wat daardeur ontsluit word, verder bekend te stel.

In ´n artikel wat die onlangs tot stand gekome Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) onder die loep neem, lewer Gerhard van Huyssteen, Melodi Botha en Alex Antonites verslag van navorsing om leemtes in die Afrikaanse mark van digitale taalprodukte te identifiseer. Hierdeur word die aandag gevestig op die belangrikste behoeftes aan taalgebruikskundige (maar ook taalteoretiese) bronne wat primêr op Afrikaanse gebruikers afgestem is, en gekonsentreer is in n aantal sogenaamde portale, nl. Woordeboekportaal, Taalportaal, Adviesportaal, Korpusportaal en Inligtingsportaal. Ook hier word die belangrikheid van die digitale ruimte vir die optimale funksionering van die taal, nou en in die toekoms, beklemtoon.

Woordeboeke verleen toegang tot kennis wat in die woordeskat van tale opgesluit is, maar ook verder uitkring as bloot leksikale kennis: Vertalende woordeboeke dien as tweerigtingverkeer van en na verskillende kulture, waardeur grense op die wyse van die taal deurbreek word. In n artikel oor n aanlyn Afrikaans-Japannese woordeboek, waardeur die grense tussen hierdie twee tale ook ortografies oorbrug moet word, gee Ernst Kotzé n oorsig van faktore wat die leesbaarheid (en verstaanbaarheid) van Japannees vir Afrikaanstaliges kan vergemaklik deur n sisteem van transliterasie wat die uitspraak en morfologie van beide tale in ag neem.

Die fokus draai in die volgende artikel na die historiese aanloop tot die ontstaan van Afrikaans, waarvan daar reeds blyke was voordat Jan van Riebeeck hier voet aan wal gesit het. Christo van Rensburg ondersoek fragmentariese data uit die aanleerderstaal van die Khoi-Khoin gedurende die eerste helfte van die sewentiende eeu, waarin daar heelwat eienskappe (en voorbeelde) van Afrikaans gevind word.

´n Onontbeerlike deel van die bemagtiging van Afrikaans as standaardtaal (en daarmee saam van sy sprekers), om ook vir die hoër funksies van ´n taal gebruik te kon word, soos die staatsbestel, die regspleging, die (hoër) onderwys, die wetenskap en die letterkunde, is die standaardisering van die ortografie. In Tom McLachlan se artikel laat hy die soeklig hierop val aan die hand van die tien uitgawes van die gesaghebbende Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS). Hy toon aan dat die grondbeginsels van die Afrikaanse spelling, wat deur al tien AWS'e inhoudelik dieselfde gebly het, maar tog deurlopend gepresiseer en verfyn is, n merkwaardig stabiele spellingsisteem tot gevolg gehad het.

Afrikaans se eerste negentig jaar is gekenmerk deur stryd, groei, teleurstelling en vreugde. Bakens langs die pad, wat lewende aanduidings is van die groeikrag van die taal, word weerspieël deur die temas wat in hierdie uitgawe aan bod kom. Om uit die verlede te neem wat goed is, en die toekoms daarop te bou, is ´n bekende stelling, wat ook hier van pas is. Wat egter ook van belang is vir die verdere ontwikkeling en voortbestaan in geregtigheid van die taal is n inklusiewe benadering nodig, n omarming van alle Afrikaanssprekendes. Die toekoms van Afrikaans is in sy sprekers se hande. Maar dit is belangrik om te besef dat die toekoms van Afrikaans saamhang met die toekoms van ander moedertale in Suid-Afrika. Soos Die Volksblad op 6 Mei 2015 besluit het: "Die sowat 6,5 miljoen Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika sou weer goed doen as hulle hul taal aanwend nie om te vervreem nie, maar om uit te reik, te bemagtig en te omarm."

 

Ernst Kotzé en Fransjohan Pretorius

Gasredakteurs
Mei 2016

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons