SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.56 número3Gebroke land: armoede in die afrikaanse gemeenskap sedert 1902 índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.56 no.3 Pretoria Set. 2016

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2016/v56n3a11 

BOEKBESPREKING BOOK REVIEW

 

 

Outeur: DF Mudge
Titel: Dirk Mudge. All the way to an independent Namibia.
Plek: Protea Boekhuis, Pretoria, 2016
Bladsye: 511
ISBN: 978-1-4853-0456-2
Prys: R350,00

Suidwes-Afrika het in 1921 ʼn mandaatgebied van die Unie van Suid-Afrika geword. Dirk Frederik Mudge, gebore in 1928 van ouers wat kort tevore na die gebied verhuis het, het sodoende lid van ʼn uitgelese eerste geslag Suidwesters van die nuwe era geword. Vandag is hierdie garde grootliks uitgedun, wat aan ʼn herinneringskrif soos hierdie besondere waarde verleen.

Die leser word met die intrap binne konteks geplaas deur inleidende hoofstukke oor Mudge se familie-agtergrond en die totstandkoming van die land Suidwes-Afrika, waarin hy sou opgroei en sy vorming ondergaan. Kort nadat hy ná sy studie in ekonomiese wetenskappe aan die Universiteit van Stellenbosch in die Outjodistrik begin boer het, trek hy die aandag en word hy in die plaaslike politiek ingetrek. Hy word voorafgegaan deur sy vader wat ʼn gesiene figuur in die Nasionale Party van Suidwes-Afrika was. Die persoonlike aard van Suidwes se politiek word vir hom duidelik - iets waarmee die jong politikus hom moes versoen en vereenselwig toe hy in 1960 tot die Wetgewende Vergadering verkies word. As lid van die Wetgewende Vergadering en veral van die belangrike Uitvoerende Komitee sedert 1965 raak hy intens betrokke by, vir Suidwes, belangrike sake soos droogte, boerdery, paaie en ʼn verskeidenheid ander aspekte.

Sy poort tot die wyer toneel van internasionale problematiek begin oopgaan toe hy by die implementering van die Odendaalplan betrokke raak. Dit was ʼn ingrypende poging om die Suid-Afrikaanse beleid van afsonderlike ontwikkeling as teenvoeter vir die groeiende internasionale druk en aandrang van die South West Africa Peoples' Organisation op onafhanklikheid vir Suidwes-Afrika aan te bied. Eerste Minister BJ Vorster identifiseer Mudge as rolspeler om in die rigting van ʼn internasionale oplossing te werk, wat beteken dat Suidwesters uiteindelik self in ʼn vrye verkiesing oor hulle toekoms sou moes besluit.

Terwyl hierdie ontwikkelinge tot diepe verdeeldheid binne blanke geledere sou lei, moes daar tot ʼn werkbare vergelyk met die internasionale magte soos die Verenigde Nasies gekom word. Mudge vertel fassinerend hoe binnegevegte, pogings tot versoening tussen witmense en die ander bevolkingsgroepe en Suid-Afrika se skaakspel met ʼn vyandige buitewêreld mekaar afgewissel het. ʼn Deurlopende tema is die proses waardeur ervaring van landsregering vanaf die Turnhalleberaad in 1975 tot die Oorgangsregering van Nasionale Eenheid in 1984 deur die binnelandse partye opgedoen is, maar uiteindelik moes die werklikheid van ʼn vrye onafhanklikheidsverkiesing in die oë gestaar word. Hoewel dit nie gesê word nie, lyk dit tog waarskynlik dat Mudge deurentyd besef het dat SWAPO die eerste regeerder van ʼn onafhanklike Namibië sou word.

Twee faktore het egter daarvoor gesorg dat die grondwetlike vergelyk, wat in Februarie 1990 sonder teenstem aanvaar is, ʼn merkwaardige toekomsgerigtheid vertoon het: eerstens het die feit dat SWAPO nie ʼn voldoende meerderheid behaal het om sy wil ongetemperd af te druk nie ʼn konsensusbenadering in die hand gewerk; tweedens het die ervaring, kennis en praktiese insig van Dirk Mudge, gepaard met sy besondere persoonlikheid, dikwels tot sobere besluite oor kernaangeleenthede tydens die proses van grondwetskrywe gelei. Hieroor verskaf die boek eerstehandse getuienis. Vir hom was sy betrokkenheid by die opstel van die Namibiese grondwet die hoogtepunt van sy politieke loopbaan.

Die skrywer se aanslag is persoonlik en op die man af, wat eie is aan Mudge se styl en lewenshouding. Dit is ʼn goeie voorbeeld van die rol wat individuele leierspersoonlikhede in die lotgevalle van ʼn spesifieke gemeenskap en die samelewing as geheel kan speel. Die verhaal is informatief vir die leser, of dit nou mense is met min kennis van Suidwes-Afrika se storie, of ingeligte mense wat self by die prosesse betrokke was. Vir die student van die tyd beantwoord dit verskeie vrae waaroor gewonder was. Vir die student van Dirk Mudge se rol in die geskiedenis van Suidwes-Afrika/Namibië lig dit die sluier oor sy persoonlikheid en bevestig dit opvattings wat oor jare aangaande hom gekoester is, of toon dit aan waar sulke opvattings ongeregverdig was. Trouens, Mudge openbaar homself aan vriend en vyand vir wat en wie hy werklik is en was. Uiteindelik sal die geskiedenis seker die finale oordeel spreek.

Uit die aard van die saak vertoon die outobiografie ook ʼn element van selfregverdiging, soos van elke werk van dié aard verwag kan word. Só erken hy dat hy meermale geworstel het met die vraag of hy aan die skeuring in Afrikanergeledere aandadig moes gewees het. Hy weeg die morele meriete van sy eie standpunte op teen dié van sy eertydse kollegas, met wie sy pad geskei het. In dié verband het hy ʼn spesiale byltjie te slyp met mnr. Koos Pretorius, laaste leier van konserwatiewe Afrikanergroepe in Namibië, sonder om egter venynig te raak. Onlangs het ʼn eie herinneringskrif van laasgenoemde verskyn, wat interessante stof vir ʼn vergelyking tussen die twee persoonlikhede verskaf.

Dirk Mudge, All the way to an independent Namibia, is ʼn vertaling uit die oorspronklike Afrikaans. Die vertaler Amy Schoeman, ʼn welbekende outeur van Namibiese landskapsfotografie, het daarin geslaag om die gees en styl van die skrywer oor te dra. Die Engelse weergawe verskil slegs van die oorspronklike deurdat die Voorwoord van Max du Preez vervang is met een deur Piet Croucamp. Die boek is ʼn politieke outobiografie, maar miskien belangriker nog, ʼn historiese bronnepublikasie oor ʼn deurslaggewende tydperk in Namibië se wordingsgeskiedenis. Studies in hierdie veld kan vrugbaar put uit ʼn eerstehandse getuienis deur iemand wat, in sy eie woorde, opregte Afrikaner én patriotiese Namibiër gebly het.

 

ELP Stals
Windhoek

E-pos: stals@mtcmobile.com.na

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons