SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.56 número3Gebroke land: armoede in die afrikaanse gemeenskap sedert 1902 índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.56 no.3 Pretoria sep. 2016

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2016/v56n3a10 

AKTUEEL: DEBAT

 

Die debat oor die moderne staat

 

The debate on the modern state

 

 

Danie Strauss

Skool vir Filosofie Noordwes-Universiteit Potchefstroom Kampus E-pos: dfms@cknet.co.za

 

 


OPSOMMING

In hierdie saaklike toetrede tot die debat oor reg en staat word aandag geskenk aan enkele verdiepende wysgerige insigte, waaronder die verskil tussen aspekte en entiteite en die onderskeiding tussen modale wette en tipiese wette, tussen modale universaliteit en tipe-gespesifiseerde universaliteit. Aandag word ook kortliks aan die eensydighede van beide individualistiese (atomistiese) en universalistiese (holistiese) benaderings gegee - tekortkominge wat te bowe gekom kan word indien erns gemaak word met die ontiese beginsels van soewereiniteit-in-eie-kring en universaliteit-in-eie-kring.


ABSTRACT

This brief partaking in the debate about law and state focuses on a number of deepening philosophical insights, inter alia regarding the difference between aspects and entities, the distinction between modal laws and type laws, and the nature of modal universality and typically specified universality. Succinct attention is also given to the one-sidedness of both individualistic (atomistic) and universalistic (holistic) approaches - shortcomings that could be transcended if the ontic principles ofsphere-sovereignty and sphere-universality are taken seriously.


 

 

***************

Koos Malan en Danie Goosen ontwikkel hul samelewingsbeskouing teen die agtergrond van kommunitêre denkers soos Michael Sandel, Charles Taylor, Alisdair MacIntyre, Michael Walzer en Vernon van Dyke.1 Hierdie bydrae tot die gesprek wil die aandag vestig op enkele onderliggende wysgerige onderskeidinge en insigte wat die debat moontlik kan verruim.

Teenoor die Griekse gemeenskapsidee, soos vergestalt in die polis (stadstaat)2 en wysgerig geartikuleer in die denke van Aristoteles, stel Malan en Goosen die moderne territoriale staat wat soms (negatief) met "staatlikheid" of die ideologie van die staat gelykgestel word. Dit hang saam met die gegewe dat verskeie negatiewe trekke in die staatsfilosofiese denke van Hobbes, Locke en Rousseau volgens hierdie denkers in die moderne staat teruggevind word.

Na aanleiding van juridies geïnspireerde definisies van die staat skryf Malan byvoorbeeld dat hulle almal "die staatsteorie van Hobbes en nog meer van Locke" reflekteer: "Die staatsdefinisies is deurlopend geskoei op 'n atomisties-liberale grondslag en neig sterk anti-kommunitêr" (Malan 2011:107). Die moderne staat, wat in abstrak-individualistiese terme beskryf word, huisves volgens Malan tewens geen egte gemeenskap nie.

Gunnar Myrdal openbaar reeds in 1932 'n goeie insig in die aard van individualistiese (atomistiese) en universalistiese (holistiese) benaderings waarmee die "politieke ekonomie" gekonfronteer word: die utilitaries-liberalistiese atomisme aan die een kant en die toenemend heterogeen-organiese benadering aan die ander kant (Myrdal 1932:87).

As alternatief word daar dan teenoor dergelike individualisties-atomistiese sienings prominensie aan die (organiese) geheel-dele relasie verleen - 'n benadering wat teruggryp na die denke van Aristoteles.

Agterliggend aan hierdie teëgestelde oriëntasies vind ons die algemeen-wysgerige probleem van eenheid en verskeidenheid. Goosen dui byvoorbeeld die "aard van die politieke werklikheid" aan "as die spel tussen eenheid en veelheid" (2016:223). In Engels word daar na die probleem van die ene en die vele verwys.3 Die primêre wysgerige vraag hier is tweevoudig. Eerstens gaan dit oor die vraag na die "oorspronklike tuiste" van die terme "eenheid" en "veelheid" en in die tweede plek verwys dit na die vraag hoeveel "tuistes" daar in die werklikheid aanwesig is. Ons begin met 'n verduideliking van wat met "oorspronklike tuiste" bedoel word.

Eenheid en veelheid appelleer allereers op getalsverhoudinge. Daarom kan gesê word dat die terme eenheid en veelheid oorspronklik in die getalsaspek van die werklikheid aangetref word, dat hul oorspronklike modale tuiste aritmeties van aard is. Die term modaal is van die Latynse frase modus quo afgelei en dit word hier aangewend om na die verskillende ("veelheid") bestaanswyses, aspekte of modaliteite wat ons in die werklikheid aantref te verwys.4

Verskeie verdere oorwegings kom hier na vore, soos: Hoeveel modale aspekte is daar? Is die aspekte uniek? Indien wel, is die unieke sin van die aspekte definieerbaar? Staan die verskillende aspekte in relasie tot mekaar (hang hulle wederkerig saam)?

Sonder om dit uitvoerig te verduidelik kan vermeld word dat daar voorlopig vyftien werklikheidsaspekte onderskei kan word,5 dat elkeen inderdaad uniek en ondefinieerbaar is en dat die verskeidenheid modale aspekte onverbreeklik saamhang. Hierdie "uniekheid in samehang" beliggaam twee fundamentele ontiese beginsels, te wete die beginsel van soewereiniteit-in-eie-kring en die beginsel van universaliteit-in-eie-kring.

Natuurlik moet ook rekenskap gegee word van die verhouding tussen die pas vermelde verskeidenheid werklikheidsaspekte en die dimensie van konkrete (natuurlike) en samelewingsentiteite en prosesse. Alle entiteite en prosesse funksioneer in alle aspekte want die aspekte beliggaam immers die wyses waarop die verskillende dinge bestaan (dit is hul bestaanswyses).

Een implikasie van die onderskeiding tussen modaliteite en konkrete (aspek-veelsydige) entiteite is dat in alle wetenskaplike dissiplines tussen "aspek-begrippe" (modale begrippe/funksie-begrippe) enersyds en struktuur-tipiese "ding-begrippe" andersyds onderskei moet word.

In die fisika tref ons byvoorbeeld funksie-begrippe soos massa, volume, beweging en krag aan in onderskeiding van struktuur-tipiese ding-begrippe, waaronder elementêre deeltjie, atoom, molekuul en makro-molekuul. Binne die kultuur-historiese aspek, waarin ons mag of beheersende vorming in die oorspronklike sin daarvan kry, tref ons funksie-begrippe soos historiese kontinuïteit, historiese kousaliteit, historiese ontwikkeling (differensiasie en integrasie) en historiese toerekening aan, in onderskeiding van uiteenlopende tipes kultuur-historiese magsvorming (waaronder die kapitaalmag van 'n ekonomiese bedryfsonderneming, die kennismag van 'n unversiteit, die swaardmag van die owerheid en die mag van die Woord in 'n kerklike denominasie). Die modale universaliteit van die juridiese aspek omvat die tipiese wyse waarop individue en samelewingsvorme binne hierdie aspek funksioneer. Met appèl op die regsaspek kom ons ook juridiese funksie-begrippe soos regsorde (die eenheid in die veelheid regsreëls), die juridiese geldingsgebied van 'n wet, die handelinge van 'n kompetente regsorgaan, juridiese wilsvorming, juridiese toereken(ingsvat)baarheid en die wering van juridiese eksesse teen.

Vanuit 'n ontologiese perspektief gesien weerspieël hierdie onderskeiding tegelyk die verskil tussen modale wette en tipiese wette. Die modale aspekte besit 'n ongespesifiseerde universaliteit terwyl die aard van verskillende tipes entiteite 'n gespesifiseerde universaliteit vertoon. Modale universaliteit bring tot uitdrukking dat alle moontlike klasse van dinge in beginsel in alle aspekte funksioneer. Bepaalde tipes entiteite is daarenteen beperk tot 'n gespesifiseerde klas van entiteite. Alle fisiese entiteite is onderworpe aan universele modale wette asook aan tipe-wette wat slegs op 'n beperkte versameling van entiteite van toepassing is. Wat universele modale wette betref hoef slegs aan die swaartekragwet en die eerste twee hoofwette van die termodinamika gedink te word (die wet van energie-konstansie en van nie-afnemende entropie). Wat tipe-wette betref, kan die atoom en die staat as voorbeelde geneem word. Die tipe entiteit wat ons identifiseer as 'n atoom korreleer met 'n tipe-wet vir 'n beperkte klas van entiteite. Hierdie wet (vir atoom-wees of staat-wees) is universeel want dit het betrekking op alle atome en alle state. Tog is hierdie universaliteit gespesifiseerd want nie alle entiteite is atome of state nie. Daarom is die tipe-wet vir staat-wees ook gespesifiseerd universeel - dit is van toepassing op alle state maar nie alles in die werklikheid is state nie.

Aangesien modale universaliteit daarop dui dat alle (tipies-verskillende) entiteite in alle aspekte funksioneer kan geen entiteit eksklusief op enige aspek aanspraak maak nie. Geen aspek behoort (geheel of gedeeltelik) aan enige entiteit nie.

Malan is egter van mening dat begrippe "soos die reg, gesag en soewereiniteit" "almal staatsverwant" is:

Bykans alle probleme van die politiek en van die mees sentrale probleme van die reg is heg met die staat ineengestrengel en werk nolens volens met die staat as die uitdruklike of versweë grondslag en vertrekpunt. (Malan 2011:5)

Wanneer die reg egter as "staatsverwant" beskou word, is dit begryplik waarom Malan meen dat reg sy "grondslag en vertrekpunt" in die staat vind. Daarmee word nie alleen die modale universaliteit van die regsaspek misken nie maar ook die oorspronklike regsfunksie van die nie-staatlike samelewingsvorme. Aangesien Malan tereg daarop wys dat die term "staat" relatief laat op die toneel verskyn het (Malan 2011:7) sou gevra kon word of reg gevolglik nie ook relatief laat - eers saam met die staat - verskyn het nie?

Wat is die geval met die terme "gesag en soewereiniteit" wat ook "almal staatsverwant" is, soos Malan suggereer? Ons het reeds opgemerk dat die unieke sin van die kultuur-historiese aspek as mag of beheersende vorming aangedui kan word. Daarom vind die term "gesag" 'n tuiste in die kultuur-historiese aspek - waar ons moet onderskei tussen mag oor dinge ('n kultuur-historiese subjek-objek relasie) en mag oor persone ('n kultuur-historiese subjek-subjek relasie - meestal as ampsgesag aangedui). Soms word kortweg na saak-kultuur en persoon-kultuur verwys. Die term soewereiniteit word eweneens gebruik om bepaalde vorme van samelewings-mag aan te dui - maar dit kan nie eksklusief vir (of deur) die staat opgeëis word nie (al het Bodin, wat hierdie term in die moderne regs- en staatsleer ingevoer het dit probeer doen - vgl. Strauss 2014). Daarom het Kuyper en Dooyeweerd tereg die uitdrukking soewereiniteit-in-eie-kring ingevoer om van verskillend-geaarde samelewingsvorme se interne (mags-)bevoegdhede rekenskap te gee. Later sou Habermas, Rawls en Münch soortgelyke uitdrukkings vir hul rekening neem.

Münch wys daarop dat die uitgangspunt van die teoretiese debat in die 1980s in Weber se teorie van die rasionalisering van die moderne samelewing te vinde is. Daarvolgens sou sfere in die samelewing toenemend gelei word deur hul eie "inner laws": in "Weber's theory of the rationalization of modern society into spheres that are guided to an increasing extent by their inner laws" (Münch 1990:442).

Ten spyte daarvan dat Rawls se denke uiteen gebreek word deur die gelyktydige aanwesigheid van atomistiese en holistiese tendense (sien Strauss 2006) slaag hy tog soms daarin om bo hierdie dilemma uit te styg - naamlik wanneer hy besef dat verskillende wette van toepassing is op onderskeie soorte subjekte (dit wat ons hierbo as tipe-wette aangedui het): "But it is the distinct purposes and roles of the parts of the social structure, and how they fit together, that explains there being different principles for distinct kinds of subjects" (Rawls 1996:262).

In sy bespreking van globalisasie verbind Habermas die "klassieke leerstuk van die staat" aan die idee van private lewensfere: "the state maintains law and order within the borders of its own territory and guarantees security for citizens within their own private spheres of life" (Habermas 2001:81).

Die vraag is natuurlik: hoe moet individualistiese (atomistiese) en universalistiese (holistiese) samelewingsopvattings verstaan word? Hierdie vraag bring ons in aanraking met die rol van 'n grondnoemer, vergelykingsnoemer of verklaringsbeginsel in terme waarvan die verskeidenheid werklikheidsaspekte verantwoord word.

'n Individualistiese (atomistiese) benadering wil alles vanuit die diskrete perspektief van 'n getalsmenigvuldigheid verklaar; dit wil alles tot blote optelsomme herlei. Universalistiese (holistiese) sienings kies die ruimte-aspek as verklaringsbeginsel waarin die oorspronklike sin van die geheel-dele relasie aangetref word. Individualistiese en universalistiese denkers gebruik ook dikwels analogieë van getal en ruimte in ander werklikheidsaspekte om hul teoretiese perspektief deur te voer. Myrdal verwoord hierdie teenstelling tussen atomisme en organisisme soos volg: "Die eerste geval betref uitsluitlik 'n suiwer aritmetiese som terwyl ons in die ander geval met 'n onmiddellike totaliteit [Ganzen] te doen het, 'n geheel wat nie bloot gelyk is aan die som van sy dele nie" (Myrdal 1932:87).6

Nisbet verduidelik byvoorbeeld die spanning tussen 'n atomisties-meganiese samelewingsbeskouing en 'n erkenning van gemeenskapsverbintenisse met verwysing na Tönnies se onderskeiding tussen Gemeinschaft en Gesellschaft (sien Tönnies 1887).

Similarly, some of the German sociologists of the late nineteenth century called attention to the processes of modern history that have led to an atomization or mechanization of the primary social relationships. Tönnies expressed this as a continuous weakening of the ties of Gemeinschaft - the communal ties of family, gild, and village - and a constant maximization in modern times of the more impersonal, atomistic, and mechanical relationships of what he called Gesellschaft. (Nisbet 1962:78)7

Die eensydighede van (aritmetiese, organiese of sosiale) individualisme en (ruimtelik-georiënteerde, organiese of sosiale) universalisme kan alleen vermy word deur erkenning te verleen sowel aan die uniekheid van elke aspek (soewereiniteit-in-eie-kring) as die onverbreeklike samehang tussen die verskillende modale aspekte (universaliteit-in-eie-kring).

Die uitwerking van hierdie alternatief sal egter in 'n paar ander artikels gedoen word. Daarin sal onder meer aangetoon word dat inter-individuele maatskapsverhoudinge altyd met (supra-)individuele gemeenskaps- en verbandsverhoudinge gekorreleer is. Daaruit sal onder andere blyk dat die opvatting van Goosen, naamlik dat "die politieke geheel as 'n gemeenskap van gemeenskappe verstaan moet word, en nie bloot as 'n kontrak van vryswewende individue nie" (Goosen 2016:247), tot 'n miskenning van die aard van maatskapsverhoudinge lei - en tesame daarmee nie reg aan die aard van die burgerlike privaatreg kan laat geskied nie.8

 

BIBLIOGRAFIE

Alexander, J.C. 1990. Differentiation Theory and Social Change. Co-editor Paul Colomy, New York: Columbia University.         [ Links ]

Bodin, J. 1981. Sechs Bücher über den Staat. Buch I-III. Vertaal met opmerkinge deur Bernd Wimmer, Ingelei en opnuut uitgegee deur P.C. Meyer-Tasch. München: Verlag C.H. Beck.         [ Links ]

Bracken, J.A. 2001. The One in the Many. A Contemporary Reconstruction of the God-World Relationship. Grand Rapids: William B. Eerdmans.         [ Links ]

Duvenhage, P. 2016. Afrikaanse Filosofie, Perspektiewe en dialoë. Bloemfontein: Sun Press.         [ Links ]

Goosen, D. 2013. Monsters en mense: Oor die geestelike en haar moderne afwesigheid. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 53(4):516-528.         [ Links ]

Goosen, D. 2016. Die werklikheid as deelnemende gebeure, of die verwikkelde samehang tussen eenheid en veelheid. In: Duvenhage (2016:221-248).         [ Links ]

Habermas, J. 1981. Theorie des kommunikativen Handelns. Volume 1. Frankfurt am Main: Suhrkamp Verlag (Fourth revised edition, 1987 - 'Taschenbuch' edition 1995).         [ Links ]

Habermas, J. 2001. The Postcolonial Constellation, Political Essays. Cambridge, Massachusetts: Polity Press.         [ Links ]

Malan, K. 2011. Politokrasie: 'n Peiling van die dwanglogika van die territoriale staat en gedagtes vir 'n antwoord daarop. Pretoria: Pretoria University Law Press.         [ Links ]

Münch, R. 1990. Differentiation, Rationalization, Interpenetration: The Emergence of Modern Society, in: Alexander (1990:441-464).         [ Links ]

Myrdal, G. 1932. Das politische Element in der National ökonomischen Doktrinbildung. Berlin: Junker und Dünnhaupt Verlag.         [ Links ]

Nisbet, R.A. 1962. Community and Power. [formerly The Quest for Community]. New York: Oxford University Press.         [ Links ]

Raath, A.W.G. 2016. Regs- en staatsosiologiese grondslae van politokratiese kommunitarisme. 'n Gesprek oor enkele aspekte van die meta-etiese historisme in die Afrikaanse politieke en regsliteratuur. Tydskrif vir Christelike Wetenskap, 2016 (1):55-90.         [ Links ]

Raath, A.W.G. 2016a. Politieke en regsfilosofiese perspektiewe op politokratiese kommunitarisme: ʼn Diskoers met Danie Goosen en Koos Malan. In: Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 56 (No. 2-2):573-591. doi.10.17159/2224-7912/2016/v56n2-2a4.         [ Links ]

Rawls, J. 1996. Political Liberalism. Hersiene Uitgawe. Cambridge: Harvard University Press.         [ Links ]

Strauss, D.F.M. 2006. The mixed legacy underlying Rawls's Theory of justice. In: Journal for Juridical Science, 31(1):61-79.         [ Links ]

Strauss, D.F.M. 2014. The Place of the State in a Differentiated Society: Historical and Systematic Perspectives. In: Politikon: South African Journal of Political Studies, 41(1):121-139, doi:10.1080/02589346.2014.885681.         [ Links ]

Tönnies, F. 1972. Gemeinschaft und Gesellschaft, Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft (Eerste druk, 1887).         [ Links ]

 

 

1 Die regssosioloog Robert A. Nisbet kan ook in hierdie konteks vermeld word. In sy gesprek met Pieter Duvenhage praat Goosen van 'n herontdekking van die "tradisionele Westerse metafisiese en politieke denke" - en dan vermeld hy figure soos Plato, Aristoteles, Cicero, Plotinus, Proclus, Dionysius die Areopagiet asook meer resente denkers soos Alasdair MacIntyre, Robert Spaeman, Josef Pieper, Hans Urs von Balthasar, John Milbank en Michael Sandel (sien Goosen 2016:242).
2 'n Kritiese ontleding van die Griekse stadstaat kan nagelees word by Raath (2016a:575 en verder). Vergelyk Strauss (2014) oor die plek van die staat in 'n gedifferensieerde samelewing.
3 Joseph Bracken kontekstualiseer hierdie probleem deur God daarby te betrek - dan handel dit oor "The One in the Many" - (sien Bracken 2001).
4 Ons is ook vertroud met frases soos modus vivendi en modus operandi.
5 Met name getal, ruimte, beweging, die fisiese, biotiese, sensitief-psigiese, logies-analitiese, kultuur historiese, die teken-aspek, die sosiale aspek, ekonomiese aspek, estetiese aspek, juridiese aspek, etiese aspek en die geloofsaspek.
6 Let egter daarop dat hoewel holistiese benaderings dikwels 'n organistiese (of: organismiese) weg bewandel iemand soos Herbert Spencer 'n individualistiese "organisistiese" denker is. Spencer verduidelik dat sy doel nie 'n toename in gesaghebbende beheer is nie, maar 'n vermindering daarvan: "A more pronounced individualism, instead of a more pronounced nationalism, is its ideal" (Spencer 1968:22).
7 Bodin sien byvoorbeeld families en korporasies as dele van die staatsgeheel (Bodin 1981:521).
8 Die geheel-aard van 'n gemeenskap speel 'n sentrale rol in die denke van Goosen (sien Goosen 2013:517-521 en 525-527; asook Goosen 2016:230-231, 244).

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons