SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.56 issue3Afrikaans speech norms and prescriptive Afrikaans norms: is there enough scope for grammatical diversity in standard Afrikaans? author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.56 n.3 Pretoria Sep. 2016

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2016/v56n3a9 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Die belang van mediavryheid in Suid-Afrika: Tweehonderd jaar, twee gevallestudies, van die Magna Carta tot die Muilbandwet

 

The importance of media freedom in South Africa: Two centuries, two case studies, from the Magna Carta to the Secrecy Bill

 

 

Lizette Rabe

Departement Joernalistiek Universiteit Stellenbosch Stellenbosch E-pos: LRABE@sun.ac.za

 

 


OPSOMMING

Hierdie artikel beskou die huidige bedreigings teen 'n vrye media in Suid-Afrika vanuit 'n mediahistoriografiese vertrekpunt en betoog dat die rol van 'n vrye media in Suid-Afrika belangriker is as ooit weens die bedreigings van die ANC-regering op die vrye vloei van inligting. Mediavryheid as konsep word bespreek, waarna 'n vrye media vanuit 'n libertaries-sosiaal verantwoordelike teoretiese vertrekpunt belig word. Dit word gevolg deur 'n kort bespreking van die gevallestudie as navorsingsontwerp en die historiese metode as navorsingsinstrument. Twee gevallestudies in die stryd om mediavryheid teen die regering van die dag oor byna tweehonderd jaar in Suid-Afrika volg: Die eerste onder 'n outoritêre Britse koloniale regering en die tweede onder 'n demokratiese bedeling onder die ANC. In die eerste word beweeg van geen persvryheid, na sogenaamde onvoorwaardelike vryheid. In die tweede hou die voorgestelde Media Appèl Tribunaal, sekere wetsontwerpe, sowel as ander bedreigings, asook die ondemokratiese uitsprake en optrede van Suid-Afrika se staatshoof en sy regering, ernstige gevare in vir mediavryheid, ondanks grondwetlike waarborge. Die stelsel van selfregulering is relevant en word kortliks bespreek. Die gevolgtrekking is dat mediavryheid altyd voorwaardelik is, ondanks 'n pro tempore-belewenis dat dit onvoorwaardelik kan wees, en dat mediavryheid eweseer 'n kwessie is in 'n sogenaamde liberaal-demokratiese bedeling as wat dit in 'n vorige diktatoriale koloniale era was.

Trefwoorde: Demokrasie; gevallestudie; kolonialisme; libertaries/sosiaal-verantwoordelike rol van die media; mediageskiedenis; mediavryheid; persvryheid; self-regulering; Zuma


ABSTRACT

This article discusses the current threats to a free media in South Africa from a media historiographical point of view and argues that the role of a free media in South Africa is more important than ever. Media freedom as a concept is discussed, and a free media sector is discussed from a libertarian as well as the social responsibility theoretical point of departure. Although these two models can be regarded as almost prehistoric amidst a plethora of current, more abstract, media theories, these models encapsulate the role of the media within a functioning democracy. This is followed by a brief discussion of the case study as research design and the historical method as research tool, also referring to the fact that the historical method supports the view of the cyclical nature of history since antiquity; this entails that events occur in a cycle and that only names and dates may differ, but what has happened before will occur again. The importance of media freedom as "guardian and guide of all other liberties" is discussed, concluding that no single definition of media freedom can exist, as it is interpreted according to various relevant contexts. As such, no absolute freedom exists either, as it is always relative to and measured against other liberties and rights, as also illustrated by media freedom as enshrined in Article 16 in the South African Constitution's Bill of Rights. This discussion is followed by two case studies in the struggle for media freedom against the government of the day over a time span of almost two hundred years in South Africa. The first is under authoritarian British colonial rule, and the second under a democratic dispensation under the ANC. In the first, at the beginning of the 1800s, the situation developed from no freedom of the press to so-called unconditional freedom. The press pioneers Fairbairn, Pringle and Greig secured press freedom for the time by standing up against a colonial governor who has been described as a despot and as authoritarian. They succeeded in obtaining freedom of the press in what was known as the Magna Carta of press freedom, namely Ordinance 60 of the Cape of Good Hope in 1829. It was regarded as a new era for the free press in South Africa, where it would be impossible to interfere with the press ever again. As context, examples of interference by the government of the day are discussed briefly to lead to the second case study, which is set in post-1994 South Africa. Despite constitutional guarantees, the proposed Media Appeals Tribunal (MAT), the Protection of State Information Bill (commonly referred to as the Secrecy Bill), the amendments to the Films and Publication Board (FPB) and the February 2015 jamming of cell phone signals in parliament, as well as undemocratic statements and actions by South Africa's head of state and his Government, suggest serious dangers to media freedom. Experts are united on the issue that these aspects contain serious threats to media freedom. Within a democratic dispensation and because of the media's function within the libertarian/social responsibility model, the system of self-regulation therefore is relevant and is discussed briefly. Such a self-regulation system - in this case, the South African Press Council, the Press Code and the Press Ombud system - is seen as vital for the functioning of an independent media sector. Despite this on-going review of self-regulation, the threats of the MAT, the Secrecy Bill, seemingly ad hoc decisions by the State's security cluster, and the FPB and its amendments, as well as statements made by the South African president and his government, indicate that media freedom, despite its constitutional entrenchment, is not guaranteed. The article concludes that media freedom is always conditional, despite a pro tempore experience that it can be unconditional. Indeed, media freedom is as much an issue in a so-called liberal democratic dispensation as it was in a previous dictatorial colonial era.

Keywords: Case study; colonialism; democracy; libertarian/social; responsibility role of the media; media freedom; media history; press freedom; self regulation; Zuma


 

 

The past is not dead. In fact, it's not even past

William Faulkner

 

1. INLEIDING

In hierdie artikel word vanuit 'n mediahistoriografiese vertrekpunt geargumenteer dat die rol van die vrye media om 'n demokrasie te verseker belangriker is as ooit in Suid-Afrika, soos vervolgens aangetoon sal word. Ondanks die feit dat mediavryheid gewaarborg is onder die Suid-Afrikaanse Grondwet, word dit op verskeie vlakke geërodeer. Verskeie kommentators het die afgelope tyd gewys op die outokratiese optrede en die ondermyning van die demokrasie deur Suid-Afrika se president, Jacob Zuma (Du Preez 2015; Gouws 2015; Hoofartikel 2015a; Jeffreys 2016; Joubert 2016; Lamprecht 2015; Malala 2015). Daar word selfs verwys na 'n "Zumakrasie" en hoe dit die regstaat verswak (Hoofartikel 2015b:4). Du Preez (2015) verwys byvoorbeeld na Zuma as "nog 'n Groot Man van Afrika. Die Grondwet is net 'n neoliberale lastigheidjie, die regbank 'n keffer om sy enkels en die staatskas iets wat hy die reg het om te plunder". Die inmenging in die redaksionele beleid en die sensurering van joernaliste by die SABC (wat 'n mandaat as openbare uitsaaier het, maar in effek weer 'n staatsuitsaaier is), is 'n verdere aanduiding van die toenemende druk op die vrye vloei van inligting onder die "Zumakrasie", soos ook opsommend saamgevat deur Jeffreys (2016:10) en Munusamy (2016). Politieke kommentators is dit eens dat die huidige staatshoof en sy regering al hoe meer outokraties optree en die hoekstene van 'n demokrasie ondermyn, waarvan een, mediavryheid, die waarborg vir alle ander vryhede is, soos in die woorde van 'n vroeë vegter om persvryheid: Dit is so belangrik omdat dit die "bewaker en gids van alle vryhede is" (Russell in Du Plessis (1943:13); hierdie en ander aanhalings waar nodig vertaal).

Benewens herhaalde stellings soos dat die ANC eerste kom, vóór Suid-Afrika, het Zuma reeds ook aan die regters van Suid-Afrika se konstitusionele hof gesê hý is deur die kiesers verkies, en hulle gevra wie hulle ingestem het "dat hulle dink hulle het seggenskap oor hom" (Du Preez 2015). Dié vraag is ook aan die media gestel.

Met bostaande as agtergrond, word in hierdie artikel geargumenteer dat 'n vrye media belangriker is as ooit in Suid-Afrika weens die huidige druk op die vrye vloei van inligting, en wel volgens die hipotese dat mediavryheid nooit gewaarborg is nie, maar in dispuut bly, soos uit die twee gevallestudies sal blyk.

Spanning tussen die media en die regering van die dag word deur dié gevallestudies oor byna twee eeue geïllustreer. In die eerste het die stryd ontstaan uit 'n situasie van geen persvryheid nie, wat gelei het tot wat bekend was as die Magna Carta1 vir onvoorwaardelike persvryheid. Die eerste geval speel hom af aan die koloniale Kaap, lank voor die geopolitieke formasie wat vandag die Republiek van Suid-Afrika is. Die tweede gevallestudie bewys dat, ondanks die feit dat mediavryheid grondwetlik beskerm is, dit tog bedreig kan word. Bedreigings onder die ANC-regering sluit in die Media (Appèl) Tribunaal en die Beskerming van Staatsinligting-wetsontwerp, sowel as ander bedreigings, weens die toenemend outokratiese optrede van Suid-Afrika se staatshoof en sy regering.

Ten eerste word die begrip mediavryheid kortliks vir die doeleindes van hierdie artikel bespreek. Die teoretiese vertrekpunt asook die navorsingsbenadering word vervolgens bespreek, waarop die twee gevallestudies volg.

 

2. WAT IS MEDIAVRYHEID?

Hierdie artikel gebruik die term mediavryheid as sinoniem vir 'n vroeëre tegnologie se persvryheid, en sluit daarby in begrippe soos vryheid van spraak en vryheid van uitdrukking.

Relatief min studies spesifiek gefokus op pers- of mediavryheid is in Suid-Afrika gedoen, hoewel verskeie studies daarna verwys, ook wat betref spesifieke aspekte van mediavryheid.

Reeds in 1943 is daarop gewys dat min gebeurtenisse in die Suid-Afrikaanse geskiedenis meer aangrypend is as dié oor die stryd om persvryheid (Nienaber 1943:10). In 'n studie in 1969 is vanuit 'n Calvinisties-filosofiese punt geargumenteer dat persvryheid inderdaad 'n probleem meebring (Hattingh 1969).

Die konsep van vryheid van denke is in 1644 deur John Milton in sy Aeropagitica uitgespreek toe hy die begrip vryheid van spraak uit die klassieke Athene gehuldig het as reaksie op die godsdienstige sensuur van sy tyd (Cohen 2013). Die Aeropagitica word beskou as die eerste argument in die moderne tyd om godsdienstige en sekulêre tirannie teen te staan met onder meer die woorde, "Gee my die vryheid om te weet, om te uiter, en om vrylik volgens gewete te argumenteer bo alle vryhede".

Die konsep van persvryheid per se is waarskynlik die eerste keer gestel in 1735 in New York (What is freedom of the Press, s.d.). Binne 'n meer onlangse konteks bevorder byvoorbeeld die Verenigde Nasies die konsep van 'n vrye media, hoewel ook dié liggaam erken dat geen universele definisie bestaan nie, en dat selfs binne Westerse demokrasieë geen ooreenstemming bestaan wat mediavryheid betref nie. Die Universele Verklaring van Menseregte bevestig die regte van die individu, en dat elkeen die reg het "om te weet, te deel, en te bespreek" (Measuring Press Freedom 2004).

Mediavryheid word vandag gesien as 'n fundamentele reg, soos geargumenteer deur Oster (2015). 'n Mens kan aanvaar dat geen eenvormige definisie bestaan nie omdat mediavryheid so wyd geïnterpreteer kan word. In apartheid-Suid-Afrika is byvoorbeeld gesê die Suid-Afrikaanse media is die vryste onvrye media in Afrika (Rudolph 1981:86-87). Dit was 'n geval van "die koerante is vry om te publiseer wat hulle wil, solank hulle nie publiseer wat hulle gesê word om nie te publiseer nie".

Een definisie lui (Measuring Press Freedom 2004):

Vryheid van die pers is die reg om uit te spreek, uit te saai, of te publiseer sonder selfsensuur of toestemming van 'n regering, maar met wetlike aanspreeklikheid ná publikasie vir verbreking van die wet.

Hoewel dus geen absolute mediavryheid bestaan nie, bestaan "grade van vryheid, met ingeboude wigte en teenwigte in die spesifieke stelsel" (Wigston 2001:69). Dit is onderhewig aan die grondwet van 'n land sowel as aan ander regte. Dit word ook opgeweeg teen die individu se reg op privaatheid en 'n land se sekuriteit (Measuring Press Freedom 2004). In 'n libertariese sin word mediavryheid gebalanseer deur die wigte en teenwigte van 'n samelewing as geheel, of diegene wat namens die samelewing optree (Diederichs & De Beer 1998:104).

'n Mens kan dus opsommend sê mediavryheid is 'n relatiewe konsep; dat ook in gevestigde demokrasieë dit onderhewig is aan sekere beperkinge; en dat soos met ander vryhede, dit onderhewig is aan sekere verantwoordelikhede.

In Suid-Afrika word mediavryheid sedert 1993 in die Handves van Menseregte beskerm, en is dit in 1996 in die Grondwet van Suid-Afrika vervat (Retief 2002:26). Dit is beskou as ongekende gewaarborgde mediavryheid - 'n aspek veral van belang vir die tweede gevallestudie waarin hedendaagse bedreigings teen mediavryheid ter sake is.

In die Suid-Afrikaanse Grondwet lui Artikel 16, soos deur die Grondwetlike Vergadering as Wet 108 van 1996 (Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika) aanvaar, soos volg (Suid-Afrikaanse Grondwet):

16. (1) Elkeen het die reg op vryheid van uitdrukking, waarby inbegrepe is -

(a) die vryheid van die pers en ander media;

(b) die vryheid om inligting of idees te ontvang of oor te dra;

(c) die vryheid van artistieke kreatiwiteit; en

(d) akademiese vryheid en vryheid van wetenskaplike navorsing.

(2) Die reg in subartikel (1) omvat nie -

(a) propaganda vir oorlog nie;

(b) die aanstigting van dreigende geweld nie; of

(c) die verkondiging van haat wat op ras, etnisiteit, geslagtelikheid of godsdiens gebaseer is en wat aanhitsing om leed te veroorsaak, uitmaak nie.

 

3. NAVORSINGSBENADERING: VERTREKPUNT EN METODE

Hierdie artikel se vertrekpunt is vanuit die veld van die mediageskiedskrywing, met die verdere doel om dié veld aan te vul, veral omdat die mediageskiedenis 'n onder-nagevorsde veld in Suid-Afrikaanse joernalistiek- en mediastudies is (Wigston 2007:5; Sonderling 1995:87). Wat betref 'n teoretiese begronding, word die konsep van mediavryheid vanuit die media se libertariese cum sosiaal verantwoordelike rol in die samelewing beskou, wat kortliks daarop neerkom dat 'n demokratiese samelewing 'n vrye media voorveronderstel.2

Sedert die eerste akademiese besinnings oor die rol van kommunikasie (of die pers, of die media) in 'n samelewing, is massakommunikasie (of die massamedia) beskryf vanuit sy sosiale funksie (Fourie 2001:265-269), met sosioloë soos Durkheim wat dit vanuit sosiologiese paradigmas soos funksionalisme of strukturele funksionalisme beskryf het. Daarvolgens handhaaf alle dele van die samelewing 'n sekere ekwilibrium, konsensus en sosiale orde wat ook van toepassing is op die mediastelsel in 'n spesifieke samelewing, insluitend die politieke funksies van die media. In terme van die normatiewe funksies van die pers (of media) word hoofsaaklik gefokus op die vryheid - of onvryheid - van die media. Dit was ook die vertrekpunt van een van die eerste studies wat globale mediastelsels gekategoriseer het, naamlik Siebert, Peterson en Schramm se Vier Teorieë van die Pers (1956).3

Vir hierdie artikel word twee van die oorspronklike vier modelle, die libertariese en sosiaal-verantwoordelike teorie, gesamentlik gebruik omdat dit steeds beskou kan word as die basiese vertrekpunte vir die rol van die media in 'n vrye samelewing, gebaseer op die interpretasies van McQuail (1987). Hoewel dié oorspronklike Vier Teorieë amper as prehistories beskryf kan word in vergelyking met die huidige vloed van mediateorieë, en veral die veel meer abstrakte metateorieë wat aangehang word, kan mediavryheid steeds as fundamenteel binne die libertaries-sosiaal-verantwoordelike rol van die media beskou word.

Die twee gekose teorieë kan kortliks beskryf word as 'n samevloeiing van die begrip dat die media vry moet wees om 'n verskeidenheid van menings weer te gee, om as waghond te dien, dat elkeen die reg tot inligting het (hoofsaaklik die libertariese vertrekpunt) (McQuail 1987:114-115), en dat die media professionele standaarde volgens 'n gedragskode moet handhaaf met 'n sekere verantwoordbaarheid, maar vry van regeringsbeheer (hoofsaaklik die sosiaal-verantwoodelikheidsvertrekpunt) (McQuail 1987:116-118).

Die regte van die individu, geloofsvryheid en ekonomiese vryheid word as vertrekpunte aanvaar. Dit stam vanuit die Verligting se algemene filosofiese klimaat wat outoritarisme ondermyn het en wat tot 'n nuwe vertrekpunt vir die pers as massamedia gelei het (Fourie 2001:271).

Dié benadering aanvaar mense as rasionele wesens wat in staat is om tussen waarheid en onwaarheid te onderskei, en dat die soeke na waarheid 'n onvervreembare natuurlike reg is. Die media is daarom 'n "bron van inligting en 'n platform vir die uitdrukking van verskillende opinies wat mense inlig oor regerings- en ander sake en hulle help om die regering te monitor en hul eie idees oor beleid te vorm". Dis belangrik dat die media "vry van regeringsbeheer en -invloed [is], en daar moet 'n vrye mark van idees en inligting wees" (Roelofse in Fourie 2007:192-193).

McQuail (1987:115-118) se basiese aannames vir 'n vrye media onderskryf bostaande; onder meer:

die media moet vry wees van eksterne sensuur,

publikasie/verspreiding moet toeganklik vir enige groep of individu wees sonder 'n permit of lisensie,

kritiek teen regerings, of politieke partye, mag nie strafbaar wees nie,

geen dwang om enigiets te publiseer, mag bestaan nie,

daar mag geen beperking op die verkryging van inligting deur wetlike kanale wees nie,

geen beperking op die vrye vloei van inligting oor grense nie,

die media moet demokratiese politieke beginsels steun,

aan sekere standaarde voldoen,

daar moet regulatoriese liggame onafhanklik van die regering wees en

die media moet die diversiteit van die samelewing weerspieël en 'n stem aan almal bied.

Binne dié benadering is die begrip van selfregulering van die media die ideale model waarvolgens die "waghond" bewaak kan word, soos gefraseer in die klassiek-geworde uitdrukking van Juvenal: Qui custodiet ipsos custodes? (Wie bewaak die wagters?) Dié element van 'n libertaries-sosiaal-verantwoordelike model, naamlik selfregulering - juis as maatreël sodat 'n regering nie mediavryheid beperk nie - word later bespreek.

Hierdie kort teoretiese basis word onderstreep deur 'n stelling in een van die eerste omvattende studies van die Suid-Afrikaanse persgeskiedenis, naamlik dat die pers geen alleenstaande instelling is nie en dat hy binne die groot sosiale verband funksioneer (Du Plessis 1943:i). Die media kan dus nie geïsoleer word nie, maar moet gesien word teen die agtergrond van 'n groter geheel waarvan hy so 'n onafskeidbare deel vorm.

Die onafhanklike moderne massamedia binne 'n demokratiese bestel kan dus nie 'n orgaan van 'n spesifieke regering (of denkrigting) wees nie, maar moet die openbare belang dien en dus na objektiwiteit streef. Laasgenoemde kan kortliks gedefinieer word as dat persoonlike oortuigings of menings nie die oorweging en verteenwoordiging van feite mag beïnvloed nie (Nel 2001:53).

'n Punt van kritiek wat hier slegs genoem word, is dat kommersiële oorwegings weens die media se eie kommersiële en strategiese belang tot selfsensuur kan lei. Dié aspek is egter nie die fokus van dié artikel nie.

Voorts word die metodologiese benadering kortliks bespreek.

Gevallestudie as navorsingsontwerp is gekies omdat dit individueel op die twee gevalle toegepas kan word, asook op die artikel as geheel. 'n Gevallestudie is 'n empiriese ondersoek wat 'n veelheid van bronne as bewyse gebruik, met die grense tussen verskynsel en konteks nie duidelik waarneembaar nie (Pitout 1997:122). Dit sluit in enkelgevalle, selfs individue, 'n groep, 'n instelling of 'n dokument, asook meervoudige gevalle, soos vergelykende gevallestudienavorsing.

Binne die gevallestudie-navorsingsontwerp is die historiese metode toegepas om data in te win. Hierdie metode word ook beskryf as 'n gespesialiseerde wetenskaplike ondersoek na die fenomene wat meer as 'n stel menslike akteurs, aktiwiteite en gebeure is, wat op 'n spesifieke plek en 'n spesifieke tyd in die verlede plaasgevind het; en wat meer is as 'n lys van datums, name of feite (Sonderling 1995:89-90).

Dié bronne verskaf die rou data wat lei tot die studie van die geskiedenis (in hierdie geval mediageskiedskrywing), 'n spesifieke wetenskaplike veld van ondersoek wat in die mees algemene as 'n studie van die verlede gedefinieer kan word.

Opsommend kan dit gestel word dat die historiese metode die sikliese gang van die geskiedenis as een van die eerste teorieë van die geskiedenis sedert die antieke wêreld ondersteun, naamlik dat alle menslike gebeurtenisse [hulself] in terugkerende siklusse manifesteer (Sonderling 1995:92). In wese: Die geskiedenis herhaal homself, of soos dit gestel is: "Name, datums en mense mag verander, maar wat voorheen gebeur het, sal weer gebeur", soos, in hierdie geval, twee gevallestudies rakend mediavryheid byna twee eeue uitmekaar. Data kan gevind word in bronne wat breedweg as primêr en sekondêr aangedui kan word (Sonderling 1995:90). Volgens Sonderling stam primêre bronne uit die historiese periode wat bestudeer word, byvoorbeeld oorspronklike dokumente, met sekondêre bronne wat verder verwyder is van die historiese gebeure wat bestudeer word, soos boeke en artikels oor die onderwerp. Primêre bronne is voorts dít wat jy self kon versamel, of dit wat reeds bestaan, gewoonlik in een van twee vorms: teks-gebaseerde of numeriese inligting (Mouton 2001:69-71). Teks-voorbeelde sluit in dokumente, transkripsies, outobiografieë, dagboeke, briewe en jaarverslae. Vir Mouton (2001:71) is sekondêre bronne byvoorbeeld artikels, boeke en die internet wat die onderwerp bespreek, daarop kommentaar lewer, debatteer, of primêre bronne interpreteer.

 

4. GEVALLESTUDIE 1 - PERSVRYHEID EN DIE KOLONIALE KAAP

As konteks eerstens 'n oorsig oor die ontstaan van die pers aan die Kaap ná die Westerse besetting deur 'n Hollandse kommersiële mag, gevolg deur die Britse koloniale ryk.

Die Kaap is in 1652 deur die Hollands-Oos-Indiese Kompanjie ingeneem as deel van sy merkantiele uitbreiding om sy vloot van vars produkte te voorsien. Gedurende die eerste 150 jaar van besetting was daar geen persvryheid nie, met letterlik geen pers nie (Muller 1990:1). Koerante kon selfs nie eens uit Nederland bestel word in "die hele lange Kompanjiesbewind" nie.

Gedurende die Hollandse besetting is dagboeke, briewe, wette en proklamasies met die hand gedupliseer (Nienaber 1943:3). Die Kompanjie-owerheid het gemeen 'n drukpers sou "'n instrument van revolusie" wees. Dokumente is in Nederland gedruk en aan die Kaap gekopieer (Muller 1990:2). Vir klagtes moes Burgers briewe na Nederland stuur (Fourie 1994:291).

Omdat die Kaap nie deur 'n staat nie, maar 'n maatskappy beset is, was alle koloniste in diens van die maatskappy. Onder die stelsel van Vryburgers kon vir eie gewin geboer word, maar alle produkte moes aan die maatskappy verkoop word. Die goewerneur en sy amptenare het ook geboer en had eerste opsie om te verkoop, wat tot wanpraktyke en korrupsie gelei het (Giliomee & Mbenga 2007:61).

'n Mens kan dit vandag stel dat die eerste stryd om vryheid van spraak in wat later Suid-Afrika sou word, aan die begin van die 1700's was, toe Adam Tas, 'n Vryburger van Stellenbosch, teen dié korrupte bestel geprotesteer het. Die goewerneur is van sy posisie onthef, en Tas kan vandag as die eerste vegter vir vryheid van spraak beskou word, selfs nog voor 'n pers 'n werklikheid aan die Kaap was (soos aangevoer deur Rabe 2004).

Versoeke vir 'n eie Kaapse drukpers is teen die einde van die 1700's twee keer geweier (Du Plessis 1943:8). Tog het die Kaapse regering in 1793 besluit om sy eerste drukpers te begin, met die Duitser Johann Christian Ritter as die eerste drukker. Hoewel Ritter "die man [is] wat die drukkuns in Suid-Afrika en die Suidelike Halfrond sou invoer" (Nienaber 1943:3), kon hy slegs almanakke, strooibiljette en advertensie-vlugskrifte druk (Du Plessis 1943:8).

Met die Britse anneksasie van die Kaap in 1795 het ook meesterdrukker HH Smith gearriveer, en hoewel opponente, het Ritter en Smith dit hul gemene saak gemaak om as amptelike drukkers aangestel te word (Du Plessis 1929a). Hulle was suksesvol, maar kon slegs staatsdokumente druk.

In Februarie1800 het Alexander Walker en John Robertson, twee invloedryke sakemanne en onder andere slawehandelaars (Timeline: History of, 2006) danksy hul bande met goewerneur sir George Yonge hul eie drukonderneming begin. (Hul een slaweboot, die Lady Yonge, is selfs na die goewerneur se vrou genoem - Matisonn 2015:35-36). Ritter en Smith het geprotesteer, maar in Julie 1800 is Walker en Robertson as enigste regeringsdrukkers geproklameer. 'n Boete en verbeurdverklaring van toerusting sou volg as enigiemand anders drukwerk doen (Du Plessis 1943:8; Nienaber 1943:6). Walker en Robertson het Suid-Afrika se eerste nuuspublikasie, hoewel onder regeringsbeheer, The Cape Town Gazette, and African Advertiser/Het Kaapsche Stads Courant, en Afrikaansche Berichter, op 16 Augustus 1800 gepubliseer. Dit het weekliks verskyn, alternatiewelik in Engels en Hollands.

Hoewel Suid-Afrika se eerste koerant, was dit weinig meer as 'n staatskoerant (Du Plessis 1943:9). In Oktober 1800 het die koerant inderwaarheid self aangekondig dis onbehoorlik en onreëlmatig om 'n "openbare blad" in die hande van private individue te laat (Muller 1990:5).

In 1803 is die Kaap weer deur Hollanders ingeneem en die staatskoerant het nou slegs in Hollands verskyn, met kennisgewings in Frans, Engels en Duits (Muller 1990:6).

Ná die tweede Britse besetting in 1806 was die koerant weer tweetalig.

Ter konteks: Teen 1806 het die Kaap 'n wit bevolking van 26 000 en altesame 30 000 slawe gehad, met ongeveer 20 000 KhoiKhoi en mense van gemengde afkoms wat vir die wit bevolking gewerk het (Matisonn 2015:36). Teen 1814 was daar 35 000 inwoners van Europese afkoms (Du Plessis 1943:306).

Nadat lord Charles Somerset in 1822 Engels as enigste amptelike taal geproklameer het, het die koerant teen 1828 slegs in Engels verskyn (Du Plessis 1943:10). Albei groeperings koloniste, die Hollanders en die Engelse, was ontevrede - 'n aanduiding van hul kritiek teen die Somerset-regering, beskryf as een van persoonlike vervolging en tirannie (Meurant 1885:6).

In Mei 1822 het Somerset ook 'n proklamasie uitgevaardig wat vryheid van spraak verbied het (Du Plessis 1943:10-11). John Fairbairn het geskryf Somerset het die koloniste behandel asof hulle minderwaardig en agterlik is (Fourie 1994:291).

Die gevolglike konfrontasie tussen Somerset en Fairbairn, Thomas Pringle en George Greig - saam die drie perspioniers in wat later Suid-Afrika sou word - vorm nou die eerste gevallestudie.

In Februarie 1823 het Pringle en die NG predikant Abraham Faure 'n prospektus vir 'n maandelikse tydskrif by Somerset ingedien (Du Plessis 1943:12). Die gevoel het "sterk begin posvat dat, al sou dit dan net 'n letterkundige en godsdienstige tydskrif wees, die koloniste hul eie blad moes hê". Somerset het die aansoek na Londen verwys, waar dit toegestaan is op voorwaarde dat "alle onderwerpe van politieke of persoonlike kontroversie" uitgesluit sou wees (Meurant 1885:14).

In Julie 1823 het Greig aansoek gedoen om 'n koerant te publiseer (Meurant 1885:14-17). Op 14 Augustus het die "despotiese goewerneur" geantwoord daar was reeds soveel aansoeke, dat die saak oorweeg sal word, en dat ander in elk geval voorkeur sal kry (Du Plessis 1943:11). Aan 'n vriend het Somerset geskryf:

Ek voorsien soveel boosheid van 'n onafhanklike Pers dat ek die saak uitgestel het om my tyd te gee, maar ... dit is een van daardie onderwerpe wat 'n persoon in my amp moeilik 'n antwoord op kan vind wat die publiek tevrede sal stel. (Du Plessis 1943:11)

Toe ontdek Greig in Desember 1823 daar was geen bestaande wet wat die publikasie van 'n koerant verbied het nie (Meurant 1885:19). Hy het dadelik aan Somerset geskryf om The South African Commercial Advertiser te begin met die onderneming dat hy baie deeglik alle persoonlike omstredenheid, maak nie saak hoe verbloemd nie, of die bespreking van onderwerpe wat enigsins verband hou met die beleid of administrasie van die koloniale regering, sal uitsluit (Du Plessis 1929b). Somerset kon nie verlof weier nie.

Die prospektus was gedateer 30 Desember 1823, en die adres "G Greig, Printer, 1 Longmarket Street". Die eerste werklik onafhanklike nuusblad in Suid-Afrika het op 7 Januarie 1824 verskyn. Die twee redakteurs, Pringle en Fairbairn, het ondanks Somerset se verengelsingspolitiek, samewerking met Hollandssprekendes probeer kry (Du Plessis 1943:15).

Die twee pioniers se leuse was "Mense sonder 'n Pers kan nie beskou word as beskaaf nie". Daarby (Du Plessis 1943:15):

"Laat ons nie kibbel oor woorde nie. Dit maak nie saak wie of wat ons is nie - hetsy Engels, Duits of Hollander - solank as wat ons hier woon, ons huise hier is, en solank as wat die belang van die land waarin ons woon ons belang is, kan ons onsself Afrikaans [African] noem."

Hulle het die noodsaaklikheid van 'n vrye pers in elke uitgawe beklemtoon, onder meer met "die welbekende uitdrukking van Johnson": " 'n Volk moet barbaars wees waar daar geen drukkery is nie" (Nienaber 1943:10).

Meurant het later geskryf hy het hom dikwels afgevra hoekom persvryheid aan die Kaap onderdruk is, want sowel die Hollandse as die Engelse koloniste was afkomstig van twee vryheidliewende volkere (1885:5).

Wat betref die tydskrif, is die eerste Engelse uitgawe in Maart 1824 gepubliseer as The South African Journal, gevolg deur die Hollandse weergawe in April, Het Zuid-Afrikaansch Tijdschrift. Dis om die beurt in Engels en Hollands gepubliseer. Die tweede Engelse uitgawe in Mei het in onguns by die goewerneur gekom met sy verwysing na 'n arbitrêre regeringstelsel en sy gevolge (Du Plessis 1943:12). Ná regeringsinmenging het Pringle geweier om te publiseer sonder beskerming teen Somerset se despotiese optrede. Die Engelse weergawe is toe verbied, maar die Hollandse weergawe het as Het Nederduitsch Zuid-Afrikaansch Tijdschrift voortgegaan.

Terselfdertyd het die Commercial Advertiser meer uitdagend geword. Beriggewing rondom die wanpraktyke van 'n belastingamptenaar, 'n vriend van die goewerneur, het daartoe gelei dat pleks dat die amptenaar ondersoek is, die klaer gedagvaar is vir laster (Du Plessis 1943:15). Die klaer is wel vrygespreek, maar Somerset se fiskaal moes voortaan namens hom alle proewe voor publikasie sien. Greig het geweier, en sy volgende uitgawe is gepubliseer met dié kennisgewing (Meurant 1885:52) (onvertaal gelaat):

His Majesty's fiscal, having assumed the CENSORSHIP of the South African Commercial Advertiser, by an Official Order sent to the printing office by a messenger late in the evening before publication, we find it our duty as BRITISH SUBJECTS, under these circumstances, to discontinue the publication of the said paper for the present, in this Colony, until we have applied for redress and directions to His Excellency the Governor and the British Government (hoofletters en kursivering volgens bron).

Drie dae later is die pers verseël en op Greig 'n deportasiebevel bestel waarvolgens die

persoonlike gedrag van die genoemde George Greig bewys is as ondermynend teenoor dit wat volgens die regmatige wetgewing van die Owerheid in hierdie Kolonie verwag kan word en waarsonder vrede en rus nie ongestoord kan bly nie. (Meurant 1885:63)

Greig moes die Kaap binne 'n maand verlaat - "in versuim om so te doen, sou hy in hegtenis geneem word en met die eerste moontlike geleentheid gedeporteer word".

Hoewel Greig se drukpers verseël is, was die drukpersletters nie, en kon hy op Maandag, 10 Mei 1824, die pamflet "Facts connected with the stoppage of the South African Commercial Advertiser" publiseer (Meurant 1885:65). Teen die middag was duisende daarvan versprei (Nienaber 1943:10).

Greig het na Engeland vertrek, waar hy nie alleen die reg verkry het om na die Kaap terug te keer nie, maar ook om sy koerant te publiseer. Die volgende uitgawe het op 31 Augustus 1824 verskyn. Meurant het jare later geskryf (1885:64):

Hoeveel dank is hedendaagse redakteurs en die publiek nie verskuldig aan die dapper manne wat so manhaftig en onwrikbaar gestry het vir die uiteindelike onberekenbare oorwinning van die "Vrye Pers" in Suid-Afrika nie!

Dit was dus die eerste amptelike stryd tussen 'n koerant en 'n Suid-Afrikaanse regering (Claassen 1998:122). Dié oorwinning is op 30 April 1829 in die sogenaamde Magna Carta vir persvryheid in Ordonnansie 60 van die Kaap die Goeie Hoop vervat (De Kock in Claassen 1998:122).

Dit het, om na die aanhaling van Lord Russell te verwys, ook ander vryhede meegebring, want "die Ster van demokrasie het opgekom en dié van outokrasie was vinnig op pad na sy ondergang" (Du Plessis 1929b).

Die jaar 1829 het dus 'n nuwe era vir die Suid-Afrikaanse media ingelui (Muller 1990:7). In 1943 is dit selfs gestel dat vanaf 1829 dit onmoontlik was vir bewindhebbers om die evolusie van die pers te stuit (Du Plessis 1943:19).

Dié Magna Carta as waarborg vir persvryheid was natuurlik relatief. As voorbeeld uit die latere negentiende eeu: In 1886, in die Zuid-Afrikaansche Republiek, het president Paul Kruger 'n wet uitgevaardig wat hom die mag gegee het om koerante te verbied indien hulle teen goeie waardes was, of "'n gevaar was vir die veiligheid en sekuriteit van die Republiek" (Hachten & Giffard 1984:xiii). 'n Jaar later het Kruger The Star vir drie maande verbied (Yutar 1995:4). Met die uitbreek van die Suid-Afrikaanse Oorlog in 1899 het Kruger die "buitelandse" (Engelse) pers in sy geheel verbied.

 

6. DIE TWINTIGSTE EEU

As oorgang na die tweede gevallestudie, die volgende as konteks: Die eerste halfeeu van die twintigste eeu is beïnvloed deur die sosiale norme van kolonialisme (Merrett 1994:9), met die enigste mening wat gegeld het, dié van die wit bevolking. Hoewel die sogenaamde swart pers toe reeds sedert die 1830's ontwikkel het (Wigston 2007:36), kan 'n mens met veiligheid die stelling maak dat dit nie as hoofstroommedia beskou is nie. Nog 'n kenmerk was die opkoms van die Afrikaner nasionale pers, onder meer as reaksie op die Suid-Afrikaanse Oorlog (Rabe 2015).

Die tweede helfte van die eeu is gekenmerk deur uiters beperkende persregulasies onder die Afrikaner nasionale regering van 1948 tot 1994. Malan, eerste apartheid eerste minister, het die Engelse pers beskryf as die mees ongedissiplineerde ter wêreld en het voorgestel dat joernaliste, soos dokters, moet registreer (Hepple in Nänny 2004:2). Sy opvolger, Strijdom, het die Engelse pers beskryf as Suid-Afrika se grootste vyand. Verwoerd, Strijdom se opvolger, het op sy beurt die ekonomiese depressie toegeskryf aan die onverantwoorde en onpatriotiese gedrag van die Engelse pers (Yutar 1995:4).

Die onderdrukkende perswette ná 1948 is beskryf as 'n "lawine" van veiligheidswetgewing wat tot 'n massiewe struktuur van sensuur en selfsensuur gelei het (Merrett 1994:21). Hierdie tydperk is egter nie die fokus van die artikel nie, en is slegs konteks vir die tweede gevallestudie, naamlik mediavryheid in 'n demokratiese Suid-Afrika.

 

7. GEVALLESTUDIE 2 - MEDIAVRYHEID EN DEMOKRATIESE SUID-AFRIKA

Dit word aanvaar dat apartheid-era mediawetgewing op 2 Februarie 1990 opgehef is met die afskaf van die laaste noodtoestand, saam met die ontbanning van die ANC en vrylating van Nelson Mandela. Egter, in die sogenaamde nuwe Suid-Afrika is nie alle apartheid-mediawetgewing afgeskaf nie. Toewyding tot mediavryheid sou slegs geld solank dit die ANC pas, hoewel mediavryheid onder die Grondwet verskans is, soos voorheen bespreek. Dit lei tot die tweede gevallestudie in hierdie kort geskiedenis van mediavryheid in Suid-Afrika.

Die 1994-verkiesing en 1996-Grondwet het 'n nuwe era vir mediavryheid ingelui. Dit het ook meegebring dat die regerende party die media voortdurend gekasty het dat hy te krities is. Met apartheid-era-wetgewing steeds geldig, was daar teen 2013 'n aantal wette wat 'n ernstige impak spesifiek op mediavryheid kon hê, met minstens tien wat dringend hersien moes word omdat hulle lynreg teen die Grondwet was (Louw 2013:10).

Van die waghonde teen die erodering van mediavryheid is die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) wat in 1997 gevorm is deur redakteurs sodat met een sterk stem tot media-eienaars en die regering gespreek kon word (Barratt 2003:n.p.). Die debat tussen die media en die regering oor wat in die openbare of die nasionale belang is, het al hoe feller geword. In 2001 het die media en president Thabo Mbeki mekaar ontmoet in 'n geslote twee-dag-konferensie om "die vyandigheid en wantroue wat ontstaan het en wat gedreig het om die vrye vloei van inligting te bedreig, te herstel".

Die verhouding tussen die regering en die media het egter algaande versleg, in só 'n mate dat die huidige president die media gekritiseer het as synde "ideologies uit ritme met die samelewing waarin dit bestaan" (Daniels 2013:18), maar waaroor hy eintlik ongelukkig is, is dat dit uit ritme met hom en die ANC is.

Dié verskille kan beskryf word as dat die media die openbare belang wil dien teenoor die spesifieke belange van die politieke party en dus ANC-regering. Dié verskille is só opgesom deur Mathatha Tsedu, oudredakteur, oud-Sanef-voorsitter en tans die uitvoerende direkteur van Sanef (2001:3):

Ons as die media meen dat nasionale belang vervat is in die Grondwet, en enigiemand wat dit nakom, gee terselfdertyd gehoor aan nasionale belang . ... Maar dit lyk of die regering meen nasionale belang is iets anders, iets buite die Grondwet. Ons handhaaf die posisie van waghonde van die gemeenskap en vir die gemeenskap, en ons werk in die belang van die groter samelewing.

Een van die kenmerke van die media in post-apartheid Suid-Afrika was dat koerante van voorheen opponerende gesigspunte saam geprotesteer het teen bedreigings, soos die toepassing van die berugte Afdeling 205 van die Strafproseswet (Diederichs & De Beer 1998:103). Hiervolgens kan joernaliste gedwing word om bronne bekend te maak, en dit kan lei tot tronkstraf, beskryf as 'n skokkende skending van vryheid van uitdrukking (Sanef 2005).

Ongeveer 80 apartheid-Suid-Afrika-wette is steeds op die wetboek. Verskeie daarvan is deur die sekurokratiese regering gepromulgeer om die media te verhinder om oor verdediging of polisie-aktiwiteite te skryf (Louw 2013:10). Die Nasionale Sleutelpunte-wet is reeds op beriggewing oor die Nkandla-woonkompleks toegepas.

Met die ANC se 2007-konferensie is 'n Media Tribunaal vir die eerste keer genoem (Rabe 2007). Dié Media Appèl Tribunaal (MAT), soos dit sedertdien genoem is, asook die sogenaamde Muilbandwet, die sein-skandaal en die amendement van die Film-en Publikasiewet sal voorts bespreek word in die konteks van die reeds genoemde media-vyandigheid van die staatshoof. Daarna volg 'n bespreking van die Suid-Afrikaanse Persraad as selfregulerende liggaam.

7.1 Die Media Appèl Tribunaal (MAT)

Die MAT is as 'n moontlike statutêre liggaam by die ANC se 2007-konferensie bespreek en daarna weer by sy nasionale algemene raad in Durban in 2010 (Guarding the guardians 2011). In kort behels dit 'n liggaam wat deur die regering tot stand gebring sal word wat ten doel het om die media te reguleer.

Hoewel die MAT steeds net resolusiestatus het, word dit beskou as 'n ernstige bedreiging teen mediavryheid omdat dit reeds inhiberend werk. Konsensus bestaan dat, indien dit aanvaar word, dit tot 'n stryd in die Grondwetlike Hof sal lei - tog bly dit op die ANC se agenda (Media Tribunal Unlikely 2013).

Die voorstel is beskryf as "koppig, selfdienend, uiters reaksionêr en onnodig" (De Vos 2015). Zuma wil daarmee ook die "ideologiese media [wat] uit tandem" met die samelewing is, beperk (Guarding the guardians 2011) en wil "duidelik 'n meer simpatieke en minder kritiese media" hê. Volgens dié bron sal die MAT 'n einde bring aan mediavryheid, en dus demokrasie, "soos dit in 'n aantal post-koloniale Afrikalande gebeur het".

Die MAT bly egter op die regering se agenda, soos blyk uit die minister van kommunikasie se verslag aan die portefeuljekomitee in April 2015, naamlik dat 'n parlementêre ondersoek heringestel moet word "vir 'n gebalanseerde en bevredigende regime in hierdie (drukmedia) bedryf" (Gerber 2015a:2).

7.2 Die Beskerming van Staatsinligingwetsontwerp

Vervolgens die Beskerming van Staatsinligtingwetsontwerp van 2010 (Republic of South 2010). Dit is so te sê dadelik die Muilbandwet gedoop weens die moontlikheid dat dit die staat se belange wat betref die klassifikasie, beskerming en verspreiding van inligting voorop sal stel teenoor deursigtigheid en meningsvryheid, en in effek tot sensuur sal lei. Selfs ná verskeie hersienings kan die wet steeds tot misbruik lei (Bhardwaj 2013:37), en onder meer 25 jaar gevangenisstraf vir navorsers, aktiviste, fluitjieblasers en joernaliste beteken. Dit is ook lynreg teen die Grondwet, en sal dus ook in die Grondwetlike Hof teengestaan kan word (Van Rooyen 2014:17).

Dié wetsontwerp word beskou as deel van 'n groter onbehae in die Suid-Afrikaanse samelewing en politiek, naamlik die feit dat "die huidige regerende elite die dwangmoontlikheid van die staat" versterk (Guarding the guardians 2011). In die proses sentraliseer dit mag in die sekuriteitskluster wat toenemend nie verantwoording hoef te doen nie.

Hoewel dié vyandigheid niks nuuts is nie, en hoewel die media en die regerende party van tyd tot tyd mekaar ontmoet, blyk dit dat verdraagsaamheid minder word (Krüger 2012:34). Volgens Krüger word die wetsontwerp ook beskou as die "mees substansiële aantasting van mediavryheid wat ons nog gesien het" en dat die MAT wel daaruit sal vloei.

Die wetsontwerp is reeds in 2011 deur die parlement aanvaar, maar is steeds nie deur die president onderteken nie (Joubert 2016:2). Sou dit gepromulgeer word, sal dit deel wees van 'n "verhoogde sekuritering van die staat en oorskryding van intelligensie-aktiwiteite" (Rajuili 2015). Dit is ook beskryf as "sonder twyfel die mees drakoniese formele bedreiging vir mediavryheid sedert demokratisering in 1994" (Joubert 2016:2). Volgens Joubert is die "kern van die probleem ... dat die besluite oor wat ons regering geheim kan verklaar en dus kan wegsteek bepaal sal word deur presies dieselfde lede van die staatsveiligheidsapparatuur wat dit in die eerste plek versteek het".

7.3 Die sein-skandaal

Vervolgens die sein-skandaal gedurende die Staatsrede op 12 Februarie 2015 toe selfoonseine vir 'n sekere tydperk geblokkeer is en geen inligting dus vanuit die Parlement gestuur of ontvang kon word nie.

Ná dae se beriggewing ná dié eerste chaotiese Staatsrede het dit geblyk dat individue van die departement van Staatsveiligheid, of die departement as geheel, verantwoordelik was vir die aantasting van die Grondwet.4 Een mediahuis se parlementêre redakteur het die chaos in 'n "disfunksionele Parlement" beskryf as 'n uur "wat Suid-Afrika in die skande gesteek het" (Heard 2015:9).

Dit het geblyk dat die staatsveiligheidsagentskap verantwoordelik was vir die blokkering van die sein (Lamprecht & Breytenbach 2015:1).

Daarop het onder meer die 24 Februarie-fiasko by die Gautengse Wetgewer gevolg toe aangegee is die persgalery is te klein en dat belangrike gaste geakkommodeer moes word toe die media die geleentheid in 'n aparte kamer op TV moes volg (GPL's joint statement 2015).

Sedertdien was daar verskeie aanvalle op joernaliste, soos op 11 Maart 2015 toe polisielede 'n joernalis voor die parlement aangerand het in wat Sanef as boefagtige gedrag beskryf het (Sanef condemns thuggish 2015).

7.4 Die Rolprent- en Publikasieraad

Die laaste voorbeeld van hoe mediavryheid geërodeer word, is die amendemente aan die Rolprent- en Publikasieraad (FPB), met sittings wat op 'n amper agterbakse manier gelei word sonder genoegsame openbare kennisgewings. Die sittings in Durban was byvoorbeeld op 10 en 11 April 2015. 'n Mediaverklaring om dit aan te kondig, was gedateer 18 April - ondanks versekering dat daar geleentheid sal wees om die beleidsdokument te bespreek en te verander (Rajuili 2015).

Rajuili beskryf dié fundamenteel-foutiewe beleid as 'n wolf in skaapsklere en dat, onder die voorwendsel dat die publiek beskerm word, veral kinders, dit 'n nuwe stel ondeurdagte hardhandige regulasies bevat. In effek beteken dit staatsgedrewe pre-publikasiesensuur, insluitend 'n infrastruktuur vir die effektiewe beheer van die internet. Die oorspronklike wet is reeds in 2012 deur die Grondwetlike Hof beskryf as dat daar groot dele is wat ongrondwetlik is. Die FPB het sy mandaat oorskry deur regter, jurie en teregsteller te wees (Rajuili 2015).

Saam met hierdie bedreigings tree die Suid-Afrikaanse staatspresident toenemend outoritêr op, soos deur verskeie kommentators uitgewys is en reeds bespreek is. Die toenemende aanslag op mediavryheid binne die SABC is 'n verdere aanduiding van die ernstige krisis waarin Suid-Afrika beweeg wat betref die ontwikkeling van die "Zumakrasie" en dat die "Vierde Stand" (die onafhanklike media) meer belangrik is as ooit (Bell 2016).

7.5 Selfregulasie

Vervolgens word selfregulasie as noodsaaklike aspek van die media se rol in 'n demokratiese samelewing bespreek.

Soos per die Declaration of Principles on Freedom of Expression deur die Afrika-Kommissie vir Menseregte is effektiewe selfregulering die beste stelsel om hoë standaardie in die media te bevorder (Guarding the guardians 2011). Dit word beskryf as die beste manier

om die rol, aanspreeklikheid en verantwoordelikheid van die pers in die bevordering van die waardes van 'n vrye en demokratiese Suid-Afrika te verbeter, en in die handhawing van mense se regte, waardigheid en regmatige belange. (Rajuili 2015)

Selfregulering is gebaseer op twee pilare: Toewyding tot mediavryheid, insluitend persvryheid, en tot uitnemendheid in joernalistiekpraktyk en etiek (South African Press 2015). Meer as 640 publikasies onderskryf die Perskode, die meeste van hulle as lid van Druk en Digitale Media Suid-Afrika (wat in Desember aangekondig het dat hy homself herstruktureer en onder 'n nog onaangekondigde naam die bedryf verder sal dien - Nomudu 2015).

Die Suid-Afrikaanse Persraad, Perskode en Ombud-stelsel is hersien en herbekendgestel op 1 Februarie 2013 (Thloloe 2015), en weer in Desember 2015 (Phakathi 2015). Selfregulering is voortdurend diepgaande aangepas, soos die stelsel wat klaers verhinder het om ander maniere van sanksie te vind indien hulle nie tevrede was met die uitspraak nie (Berger 2011:36-57). Só word die verpligtinge en verantwoordbaarheid teenoor die publiek beter nagekom (Krüger 2009).

Terwyl aanvaar word dat 'n selfreguleringstelsel nie perfek is nie, en dat die media foute maak, is dit 'n gegewe dat staatsbeheer oneindig erger sal wees (Guarding the Guardians 2011). Die MAT sal byvoorbeeld totale politieke beheer van die media meebring, asook dat joernaliste selfsensuur sal toepas om vir die MAT te voorsien.

William Bird van Media Monitoring Africa het in Desember 2015 gesê die hersiening van die selfreguleringstelsel is 'n stap in die regte rigting en dat dit die stryd teen die MAT versterk (Phakathi 2015).

Ondanks hierdie voortdurende hersiening van selfregulering beteken die bedreigings van die MAT, die Muilbandwet, skynbare ad hoc besluite deur die staat se sekuriteitskluster, en die FPB en sy amendemente, asook uitsprake van Suid-Afrika se staatshoof, dat mediavryheid ondanks sy grondwetlike verskansing nie 'n gegewe is nie. 'n Vooraanstaande redakteur, Ferial Haffajee, het reeds aan die begin van 2015 gesê die chaotiese Staatsrede was die begin van 'n nuwe era in Suid-Afrika: die begin van 'n polisiestaat (Gerber 2015b:4).

Sanef-voorsitter Mpumelelo Mhkabela5 het beklemtoon dat nie aanvaar moet word "omdat ons vryheid van spraak in Suid-Afrika het, daar nie bedreigings sal wees nie. Nee, ons moet daarvoor baklei" (2015). Suid-Afrika se regstelsel moet gebruik word om mediavryheid te verseker, maar dis ook "noodsaaklik ... om aan alle burgers te verduidelik wat mediavryheid beteken [Mediavryheid] het niks met die media te doen nie, maar met die vryheid van die burgers."

Dié bedreigings teen mediavryheid sowel as direkte politieke invloed oor redaksionele besluite in sekere mediahuise het DA-politikus Helen Zille laat sê dat dit staatsoorname van die media meebring. Volgens haar neem die magtige regerende elite onafhanklike entiteite een vir een oor as 'n verlengstuk van die regering (Zille 2015).

Die ondemokratiese uitsprake en optrede van Suid-Afrika se staatspresident - onder meer dat die regerende party eerste kom, voor Suid-Afrika, en sy optrede rondom die sogenaamde FinMin-fiasko6 - het een binnekring-kommentator, Trevor Manuel, onder meer laat sê "dat dit moontlik is vir outokrate om te heers, maar nie vir demokrate om te regeer sonder die noodsaaklike bestanddeel vertroue nie" (Lamprecht 2015).

 

8. TER AFSLUITING

In die lig van hierdie kort mediahistoriografiese oorsig van twee gevallestudies van mediavryheid in Suid-Afrika is dit duidelik dat mediavryheid konstante waaksaamheid benodig, want inderdaad, soos per die vertrekpunt van hierdie artikel, herhaal die geskiedenis homself, soos in die klassieke stelling oor die sikliese aard van die geskiedenis. Die twee gevallestudies het naamlik aangetoon dat name, datums en mense kan verander (Sonderling 1995:92), maar wat voorheen gebeur het, sal weer gebeur.

In 2002 was Suid-Afrika 26steop die eerste Wêreldpersvryheidsindeks (Rabe 2004). Twintig jaar ná demokrasie, en ná 'n litanie van mediavryheidsaantastings, is Suid-Afrika afgegradeer na 42ste (Reporters without Borders). 'n Ander liggaam wat mediavryheid meet, het Suid-Afrika as gedeeltelik vry geklassifiseer en binne een jaar verder afgradeer van 33 na 37 op sy 2015-indeks (Freedom House). Dit was die grootste afgradering (October 2015:2).

In terme van Suid-Afrika se grondwetlik verskanste mediavryheid, en uit hoofde van 'n vertrekpunt gebaseer op die liberaal-sosiale verantwoordelike rol van die media in 'n samelewing, is mediavryheid in Suid-Afrika onder geweldige potensiële druk.

Die woorde van Nelson Mandela moet in herinnering geroep word: "'n Kritiese, onafhanklike en ondersoekende pers is die lewensbloed van 'n demokrasie" (Mandela 1994). Suid-Afrika het 'n lang reis gehad tot by sy grondwetlik-verskansde mediavryheid, maar die reis het duidelik nog lank nie geëindig nie. Soos dit gestel is: "Ons het voortgaande, verenigde aksie nodig om 'n groeiende kultuur van geheimhouding en outoritarisme te weerstaan" (Hunter 2014:27).

Dit is daarom ook duidelik uit die hipotese vir die twee gevallestudies dat mediavryheid altyd voorwaardelik is, nooit gewaarborg of afgehandel nie, ondanks 'n pro tempore-geloof dat dit die geval kan wees. Mediavryheid, as 'n konstante dispuut, bly dus eweseer 'n kwessie in 'n liberaal-demokratiese dispensasie as wat dit in 'n vroeë diktatoriale koloniale era was. Konstante waaksaamheid moet steeds die vertrekpunt wees indien die media sy liberaal-sosiaal-verantwoordelike rol moet kan vervul, soos aangebied as teoretiese vertrekpunt vir hierdie artikel.

 

BIBLIOGRAFIE

Barratt, E. 2003. History of the South African National Editors' Forum. Ongepubliseerde dokument, Johannesburg.         [ Links ]

Bell, T. 2016. Inside Labour: A prescription to end the info muddle. http://www.fin24.com/Economy/Labour/InsideLabour/inside-labour-a-prescription-to-end-the-info-muddle-20160708 [11Julie 2016].         [ Links ]

Berger, G. 2011. Best Practice in Media Self-regulation. Ecquid Novi: African Journalism Studies 32 (2):36-57.         [ Links ]

Bhardwaj, V. 2013. The Good and the Bad of the 'Better' Secrecy Bill. Mail & Guardian, 25-31/10/2013.         [ Links ]

Claassen, G. 1998. Magazines. Life's Own Story. In A.S. de Beer (red). Mass Communication Towards the Millennium. Pretoria: J.L. van Schaik.         [ Links ]

Cohen, N. 2013. You can't read this book: Censorship in an age of freedom. Londen: Fourth Estate (e-boek): lokasies 1956, 1987, 1996.         [ Links ]

Daniels, G. 2013. The ANC's Hysterical Gaze on the Media. The Media, Januarie 2013.         [ Links ]

De Vos, P. 2015. Would Media Appeals Tribunal be constitutional? www.constitutionallyspeaking.co.za [7 April 2015].         [ Links ]

Diederichs, P. & De Beer, A.S. 1998. Newspapers. The Fourth Estate: A Cornerstone of Democracy. In A.S. de Beer (red). Mass Communication Towards the Millennium. Pretoria: J.L. van Schaik.         [ Links ]

Du Plessis, J.H.O. 1929a. The Rise of the Press in South Africa. Cape Times. 9/5/1929.         [ Links ]

Du Plessis, J.H.O. 1929b. Lord Charles Somerset and the Press. Cape Times. 10/5/1929.         [ Links ]

Du Plessis, J.H.O. 1943. Die Afrikaanse Pers. 'n Studie van die Ontstaan, Ontwikkeling en Rol van die Hollands-Afrikaanse Pers as Sosiale Instelling. Ongepubliseerde doktorale verhandeling: Universiteit Stellenbosch.         [ Links ]

Du Preez, M. 2015. Ja, dít is die ware Jacob. Netwerk24. http://www.netwerk24.com/Stemme/Menings/max-du-preez-ja-dit-is-die-ware-jacob-20151212 [15 Desember 2015].         [ Links ]

Fourie, P.J. 1994. Nederlandstalige en Afrikaanstalige Media. Internationale Colloquium Nederlands in de Wereld. Brussel: Vrije Universiteit Brussel Press.         [ Links ]

Fourie, P.J. 2001. The Role and Functions of the Media: Functionalism. In P.J. Fourie (red). Media Studies. Volume One: Institutions, Theories and Issues. Lansdowne: Juta.         [ Links ]

Fourie, P.J. 2007. The Role and Functions of the Media in Society. In P.J. Fourie (red). Media Studies. Media History, Media and Society. Volume 1 (2de Uitg). Wetton: Juta.         [ Links ]

Freedom of the Press. 2015. https://freedomhouse.org/report/freedom-press/freedom-press-2015 [1 Mei 2015].         [ Links ]

Gerber, J. 2015a. Reguleer gedrukte media, vra minister. Die Burger. 22/4/2015.         [ Links ]

Gerber, J. 2015b. Gewone mense moet betoog. Die Burger. 18/2/2015.         [ Links ]

Giliomee, H. & Mbenga, B. 2007. New History of South Africa. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Gouws, A. 2015. Gaan protesteer tot Zuma val. Die Burger.15/12/2015.         [ Links ]

GPL's joint statement with Sanef regarding challenges experienced by the media at the 2015 opening of the Legislature. 2015. Sanef-mediaverklaring. 24/2/2015.         [ Links ]

Guarding the guardians: A Media Appeals Tribunal? 2011. A Right2Know Campaign Discussion Document. September 2011, http://www.r2k.org.za/wp-content/uploads/2012/12/R2K_Media_Freedom_disDoc.pdf [7 April 2015].         [ Links ]

Hachten, W.A. & Giffard, C.A. 1984. Total Onslaught: The South African Press Under Attack. Johannesburg: McMillan.         [ Links ]

Hattingh, D.J. 1969. 'n Wysgerige Ondersoek na die Probleem van Persvryheid. Ongepubliseerde doktorale verhandeling: Potchefstroom Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys.         [ Links ]

Heard, J. 2015. 'n Uur wat Suid-Afrika in die skande steek. Die Burger, 17/2/2015.         [ Links ]

Hoofartikel. 2015a. Gordhan se werk makliker as Zuma loop. Die Burger. 15/12/2015.         [ Links ]

Hoofartikel. 2015b. Die Zumakrasie versterk en die regstaat verswak. Die Burger. 5/11/2015.         [ Links ]

Hunter, M. 2014. Securocrats Choke Flow of Information. Mail&Guardian. 12-18/9/2014.         [ Links ]

Jeffreys, H. 2016. ANC-ingryping = Trojaanse perd. Die Burger. 13/7/2016.         [ Links ]

Joubert, J.J. 2016. Huidige bedreigings vir en toekomsplanne ter beskerming van persvryheid. Geskiedenissimposium, Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Pretoria, 29 Januarie 2016.         [ Links ]

Krüger, F. 2009. Media Courts of Honour: Self-regulatory councils in Southern Africa and elsewhere. FES Media Africa Series.         [ Links ]

Krüger, F. 2012. The only guarantee of freedom is freedom. Mail&Guardian. 2-8/11/2012.         [ Links ]

Lamprecht, M. 2015. Minister kap vir Trevor oor FinMin. Die Burger. 21/12/2015.         [ Links ]

Lamprecht, M. & Breytenbach, J. 2015. Spioene woel in parlement. Die Burger. 18/2/2015.         [ Links ]

Louw, R. 2013. Scrap Apartheid-era Laws! The Media. Januarie 2013.         [ Links ]

Malala, J. 2015. We have now begun our descent. How to stop South Africa losing its way. Johannesburg & Kaapstad: Jonathan Ball.         [ Links ]

Mandela, N. 1994. Toespraak by die International Press Institute-konferensie, Kaapstad. 14 Februarie 1994. Die webwerf waarop die toespraak was, www.anc.org.za/ancdocs/history/mandela/1994/sp940214.html is nie meer beskikbaar nie. Daar is egter verwysings na die toespraak op http://ipi.freemedia.at/newssview/article/update-nelson-mandela-an-eloquent-defender-of-press-freedom.html en op https://www.nelsonmandela.org/images/uploads/Madiba_Prize_Acceptance_Address.pdf [5 Julie 2016].         [ Links ]

Matisonn, J. 2015. God, Spies and Lies. Vlaeberg: Missing Ink.         [ Links ]

McQuail, D. 1987. Theories of Mass Communication. 2de Uitgawe. London: Sage.         [ Links ]

Measuring Press Freedom. 2004. Definition by Prof Robert L Stevenson, Research and Library Services Division, Provisional Legislative Council Secretariat. http://www.legco.gov.hk/yr97-98/english/sec/library/in3_plc.pdf [3 Oktober 2004].         [ Links ]

Media Tribunal Unlikely: Press Council. 2013.http://www.bizcommunity.com/Article/196/466/88897.html [7 Februarie 2013].         [ Links ]

Merrett, C. 1994. A Culture of Censorship. Secrecy and Intellectual Repression in South Africa. Kaapstad: David Phillip.         [ Links ]

Meurant, L.H. 1885. Sixty Years Ago, or Reminiscences of the Struggle for the Freedom of the Press in South Africa and the Establishment of the First Newspaper in the Eastern Provinces. Kaapstad: Saul Solomon & Co (Faksimilee-uitgawe Africana Connoisseurs Press, 1963).         [ Links ]

Mhkabela, M. 2015. Sleuteltoespraak. The Decriminalisation of Freedom of Expression in Africa: How Self-Regulation of the Media can Assist. Seminaar van die Organisation of News Ombudsmen: The Decriminalisation of Freedom of Expression in Africa, STIAS, Stellenbosch. 23 April 2015.         [ Links ]

Mouton, J. 2001. How to succeed in your master's or doctoral studies. A South African guide and resource book. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Munusamy, R. 2016. His Master's Voice: Why Hlaudi Motsoeneng is democractic SA's biggest threat. http://www.dailymaverick.co.za/article/2016-07-01-his-masters-voice-why-hlaudi-motsoeneng-is-democratic-sas-biggest-threat/#.V3oLyk1-OJB [1 Julie 2016].         [ Links ]

Nomodu, N. 2015. DDMSA-Mediaverklaring. 15/12/2015.         [ Links ]

Muller, C.F.J. 1990. Sonop in die Suide. Geboorte en Groei van die Nasionale Pers 1915-1948. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.         [ Links ]

Nänny, P. 2004. History of Censorship in South Africa. MPhil-werkstuk, Universiteit Stellenbosch.         [ Links ]

Nel, F. 2001. Writing for the Media in Southern Africa. Kaapstad: Oxford University Press Southern Africa.         [ Links ]

Nienaber, P.J. 1943. 'n Beknopte Geskiedenis van die Hollands-Afrikaanse Drukpers in Suid-Afrika. Die Tweede Trek-reeks, nr. XXV. Bloemfontein, Kaapstad & Port Elizabeth: Nasionale Pers Beperk.         [ Links ]

October, A. 2015. Kommer in Amerika uitgespreek oor persvryheid in SA. Die Burger. 1/5/2015.         [ Links ]

Oster, J. 2015. Media Freedom as a Fundamental Right. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Phakathi, B. 2015. New Press Council system includes online publications. Bizcommunity. 17/12/2015.         [ Links ]

Pitout, M. 1997. Field Research in Communication. In G.M. du Plooy (red). Introduction to Communication. Coursebook 2. Kenwyn: Juta.         [ Links ]

Rabe, L. 2004. Ten Years into Democracy - Media Freedom in South Africa. Ongepubliseerde seminaarreeks, Department of Media and Communication, Universiteit Oslo & Freedom of Speech Foundation Fritt Ord.         [ Links ]

Rabe, L. 2007. Media Freedom, Black Wednesday and 30 Years On: Realities and Illusions. Ongepubliseerde voordrag, Mediavryheidsdag-seminaar, Kaapstad. 18 Oktober 2007.         [ Links ]

Rabe, L. (red). 2015. 'n Konstante revolusie. Naspers, Media24 en Oorgange. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Rajuili, K. 2015. The Decriminalisation of Freedom of Expression in Africa: How Self-Regulation of the Media can Assist. amaBhungane/Right to Know Campaign. Seminaar van die Organisation of News Ombudsmen: The Decriminalisation of Freedom of Expression in Africa, STIAS, Stellenbosch. 23 April 2015.         [ Links ]

Reporters Without Borders. 2015. http://en.rsf.org/ [2 Januarie 2015].         [ Links ]

Republic of South Africa. 2010. Protection of State Information Bill. As presented by the Ad Hoc Committee on Protection of Information Bill (National Assembly) (voorgestel as die Protection of Information Bill [B6-21010]) deur die Minister van Staatsveiligheid. B6B-210. http://www.parliament.gov.za/live/commonrepository/Processed/20111125/384294_1.pdf [7 April 2015].         [ Links ]

Retief, J. 2002. Media Ethics. An Introduction to Responsible Journalism. Kaapstad & Oxford: Oxford University Press        [ Links ]

Rudolph, H.G. 1981. Freedom of the Press or the Right to Know. South African Law Journal 81(1):81-88.         [ Links ]

Sanef. 2005. Amendments to Section 205 of the Criminal Procedure Act. 2005. Verslag aan die Sanef-raad, Grahamstad. September 2005.         [ Links ]

Sanef condemns thuggish behaviour by Police at Parliament. Sanef-mediaverklaring. 11/3/2015.         [ Links ]

Siebert, F., Peterson, T., & Schramm, W. 1956. The Four Theories of the Press. Urbana-Champaign: University of Illinois Press.         [ Links ]

Sonderling, S. 1995. Historical Research in Communication. In G.M. du Plooy (red). Introduction to Communication. Kaapstad: Juta.         [ Links ]

South African Press Council. 2015. http://www.presscouncil.org.za/[7April 2015].         [ Links ]

Suid-Afrikaanse Grondwet, Wet No 108 van 1996, Afdeling 16, Handves van Regte, http://www.gov.za/documents/constitution/constitution-republic-south-africa-1996-1 [2 Januarie 2015].         [ Links ]

Thloloe, J. 2015. Paneelbespreking. The Decriminalisation of Freedom of Expression in Africa: How Self-Regulation of the Media can Assist. Seminaar van die Organisation of News Ombudsmen: The Decriminalisation of Freedom of Expression in Africa, STIAS, Stellenbosch. 23 April 2015.         [ Links ]

Timeline: History of the SA Print & Advertising Industry. 2006. Drukmedia Suid-Afrika. Ontvang van DMSA.         [ Links ]

Tsedu, M. 2001. One Story Can Make All the Difference. Media Tenor South Africa. November 2001.         [ Links ]

Van Rooyen, K. 2014. Is Ons Dan Nog Vry? Die Burger. 20/2/2014.         [ Links ]

What is Freedom of the Press. s.d. http://study.com/academy/lesson/what-is-freedom-of-the-press-definition-history-examples.html [5 Julie 2016].         [ Links ]

Wigston, D. 2001. A South African Media Map. In P.J. Fourie (red). Media Studies. Volume One: Institutions, Theories and Issues. Lansdowne: Juta.         [ Links ]

Wigston, D. 2007. A History of South African Media. In P.J. Fourie (red). Media Studies. Media History, Media and Society (2de Uitg.). Kenilworth: Juta, Kenilworth.         [ Links ]

Yutar, Y. 1995. Freedom of the Press in a Post-Apartheid South Africa. Oxford: Green College.         [ Links ]

Zille, H. 2015. Sleuteltoespraak. Jaarkongres van die Organisation of News Ombudsmen, Kaapstad. 20 April 2015.         [ Links ]

 

 

 

LIZETTE RABE, professor en voorsitter van die Departement Joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch, het die grade BA Filosofie (cum laude), Hons B Joernalistiek (cum laude), M Joernalistiek (cum laude) en DPhil aan dieselfde universiteit verwerf. Sy het haar joernalistieke loopbaan by Die Burger begin en as redakteur van die tydskrif Sarie afgesluit, die eerste vrou wat as redakteur by 'n Afrikaanse Naspers-titel aangestel is. In 2001 het sy haar by die akademie aangesluit as hoof van die Joernalistiekdepartement aan die US. Sy het verskeie gekeurde joernaalartikels gelewer, skryf steeds vir die massamedia, en was skrywer, medeskrywer of redakteur van verskeie publikasies. Sy was onder andere raadslid van SANEF en stigter-beoordelaar van die Vodacom Joernalis van die Jaar-kompetisie. Rabe se navorsing fokus op mediageskiedenis en kultuurgeskiedenis. Benewens toekennings soos die Rektor se Toekenning vir Uitnemendheid in Onderrig, was sy ook lid van die US se lys van top 25 navorsers in alle fakulteite in 2013. In 2015 was sy die ontvanger van die Stalsmedalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, asook die US se Kanselierstoekenning.
LIZETTE RABE, professor and chair of the Department of Journalism at Stellenbosch University, obtained the degrees BA Philosophy (cum laude), Hons B Journalism (cum laude), M Journalism (cum laude) and DPhil from the same university. She began her journalistic career at Die Burger and ended it as editor of the magazine Sarie, the first woman to be appointed as editor of an Afrikaans publication at Naspers. In 2001 she joined academia when she was appointed as head of the Department of Journalism at SU. She has published numerous peer-reviewed articles, still writes for the mass media, and was author, co-author or editor of a number of publications. She was, among others, council member of SANEF and founder-judge of the Vodacom Journalist of the Year competition. Rabe's research foci are media history and cultural history. Besides awards such as the Rector's Award for Excellence in Teaching, she was also listed as one of SU's top 25 researchers across all faculties in 2013. In 2015 she was the recipient of the prestigious Stals Medal for communication and journalism from the Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, as well as Stellenbosch University's Chancellor's Award.
1 Die oorspronklike Magna Carta, waarna die Kaapse persvryheidsordonnansie genoem is, word beskou as een van die belangrikste wêrelddokumente en is in 1215 deur Johannes van Engeland opgetrek as 'n praktiese oplossing vir 'n politieke krisis. Van die 63 klousules daarin word vandag in talle grondwette erken. http://www.bl.uk/magna-carta/articles/magna-carta-an-introduction [26 Desember 2015].
2 Die ontwikkelingsrol van die media, wat deur sommige as die mees geskikte vir Suid-Afrika voorgehou word, word nie hier ondersteun nie omdat dit ander meer komplekse kwessies aan bod bring.
3 In 't kort was dit die eerste tipologie of klassifikasie van die rol van die joernalistiek in die samelewing, naamlik die outoritêre teorie, die libertariese, die sowjet-kommunistiese en die sosiaal-verantwoordelikheidsteorie. Dit word beskou as die oer-vertrekpunt vir 'n kritiese besinning oor die media se rol in die samelewing.
4 Sien internet/koerantberigte, bv. News24, Netwerk24, Die Burger, The Cape Times en ander oor die gebeure vanaf 12 Februarie 2015.
5 Mhkabela het intussen uitgetree as Sanef-voorsitter.
6 Die kortstondige aanstelling einde 2015 van Des van Rooyen as minister van finansies vir slegs enkele dae, waarna Pravin Gordhan aangestel is om die tuimelende ekonomie te red.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License