SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.56 issue3"There can be no freedom without education". Vernacular instruction and community in the foundation of black education in South Africa, 1952-1990 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.56 n.3 Pretoria Sep. 2016

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2016/v56n3a1 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Die geskiedenis, aanvaarding en impak van die Afrikaanse Bybel van 1933 - 'n oorsig

 

The history, acceptance and impact of the Afrikaans Bible of 1933 - an overview

 

 

Piet Strauss

Ekklesiologie, Fakulteit Teologie Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein E-pos: straussp@ufs.ac.za

 

 


OPSOMMING

Die eerste publikasie van die volledige Bybel in Afrikaans in 1933 het 'n duidelike invloed op sy omgewing gehad. Hierdie vertaling het die Bybelse boodskap verstaanbaar vir Afrikaanssprekendes gemaak, 'n impak op hierdie sprekers en daarmee op hulle omgewing gehad en Afrikaans as 'n spreek- en skryftaal help standaardiseer.
Hulle verstaan van die Bybel het eerste taalsprekers van Afrikaans beweeg om na gehoorsaamheid aan God met die hele lewe te soek: in die kerk en samelewing. Die vertaling van 1933 het ook die spelling, woordvorme en segswyses van Afrikaans beïnvloed.
Die Afrikaanse Bybel van 1933 het die koers van Afrikaanssprekendes in hulle lewensbeskouing, opvoeding, politiek en sosiale lewe bepaal. Dit is egter ook gebruik om apartheid te regverdig en diskriminasie teen anderskleuriges deur Afrikaners te verdedig.
Die Afrikaanse Bybel van 1933 word beskou as 'n triomf vir Afrikaans.

Trefwoorde: Die Bybel in die moedertaal; skryf soos jy praat; plegtige Bybelvertaling; Afrikaans; Nederlands; die standaardisering van Afrikaans; die impak van die Afrikaanse Bybel op die gemeenskap, die Afrikaanse Bybel en apartheid


ABSTRACT

The first translation and publication of the entire Bible in Afrikaans in 1933 had a notable impact on its environment. It became an important book of life for speakers of the Afrikaans language; helped standardize this language as a spoken and written language, and through its readers influenced the history of South Africa.
The translation of 1933 was the outcome of a third, definite period leading up to the translation of the entire Bible in Afrikaans.
The first period: 1872-1911. On 7 September 1872, Arnoldus Pannevis wrote a letter in the Cape paper the Zuid-Afrikaan in which he pleaded for the translation of the Bible in the upcoming Afrikaans. On 14 August 1875, as a result of Pannevis's letter, a meeting of 8 young individuals was held in Paarl. They founded the pro-Afrikaans Genootskap van Regte Afrikaners (Society for True Afrikaners), which had as its aim the promotion of Afrikaans. The translation of the Bible in Afrikaans was regarded as a key factor in achieving this. Afrikaans was not yet a standardized written language.
At the time, the rule for translation was "write as you speak". People should be able to understand the message of God in their mother tongue. This led to an informal Afrikaans translation of the Bible that was not acceptable to many speakers of the language. In their reading, they used the well-known Dutch State translation of 1637, which had a more formal conception - and wording - of what is mentioned in the Bible. At the time, the leading figure in translating the Bible was SJ du Toit. The period came to an end with his death in 1911.
The second period: 1914-1923. Two factors determined this translation. One was a movement away from informal Afrikaans. The new translators were of the opinion that, in order to achieve this, they should translate the Dutch State translation into Afrikaans. The second factor was the strong urge of these translators to be instrumental in achieving an Afrikaans Bible. There was also a growing need among speakers of Afrikaans for a Bible in their own language. A proof or concept of the New Testament and Psalms was published in 1922.
This translation, however, was not well received by the speakers of Afrikaans. Well-known Afrikaans writers also spoke out publicly against it. There was a feeling that the Afrikaans used was rather a bad Dutch. The way of saying things, the wording and the rhythm were not Afrikaans.
The third and final period for the translation: 1923-1933. This was started with a decision by the Broad Committee on Translation of the three Afrikaans Reformed Churches in July 1923 to translate from the best available Hebrew text of the Old Testament and the best available Greek text of the New Testament. These churches were the Dutch Reformed Church, the Reformed Church in South Africa and the so-called Netherdutch Reformed Church of Africa.
The translation was completed in 1928 and was followed by a revision of the translation and the input of learned scholars of Afrikaans. The well-known editors of the Old and the New Testament were JD du Toit, the famous Afrikaans writer and poet from Potchefstroom, and JD Kestell, a pastor and church leader from Bloemfontein. They were trusted by the members of the churches and were able and recognized users of written Afrikaans. The churches received the completed translation of the Bible in Afrikaans with celebrations on 27 August 1933.
The impact of this translation of the Bible can be regarded as the same impact Luther's translation had on German and the State translation had on Dutch. The Afrikaans Bible of 1933 stimulated the standardization of Afrikaans as a spoken and written language. The content and thoughts of the Bible in Afrikaans were also used by the speakers of Afrikaans to help determine the history of South Africa.
The Afrikaans Bible of 1933 was called a triumph of Afrikaans.

Keywords: The Bible in the mother tongue; write as you speak; informal and formal Biblical language; Afrikaans; Dutch; original languages; standardization of Afrikaans; impact of the Afrikaans Bible on the Afrikaans society; Afrikaans Bible and apartheid


 

 

INLEIDING

Die sentrale fees by die ontvangs van die eerste volledige en kerklik-erkende Bybel in Afrikaans vind op 27 Augustus 1933 in die Marksaal in Bloemfontein plaas. In sy "kragtig woord"1 as feesrede voer ds PS van Heerden van die Ned Geref Kerk Ladybrand en toenmalige moderator van die Sinode van Ned Geref Kerk in die Oranje-Vrystaat, die volgende aan:

Op Donderdag 25 Mei 1916 is daar, na 'n ernstige en interessante bespreking, in die Sinode van die Vrystaatse Kerk 'n besluit geneem wat verreikende gevolge gehad het. Die besluit staan aangeteken in die volgende bewoording: "De Synode besluit tot het vertalen van de Bybel in Afrikaans, en nodigt hiertoe uit de samenwerking van de Ned Geref Kerken in de andere Provincies, alsook van Geref en Hervormde Kerken. Zij draagt dit werk op aan een speciale Commissie, die in onderhandeling zal treden met de Synodale Commissien van de gemelde Kerken, ten einde de kundigste en geschikste mannen voor de werk te erlangen"

die besluit was 'n lewende kiem wat geval het in goeie aarde, en van daardie oomblik kon die groei en ontwikkeling daarvan nie gekeer word nie

Die Bybel is deurweef met ons volksbestaan. Van die dae van Van Riebeeck was dit die boek wat meer as enig ander invloed gehad het op die vorming van ons volkskarakter, en ons die weg geleer het na die Genadetroon. Sonder die Bybel laat sig die volk van Suid-Afrika nie dink nieby die voorgeslag was die Bybel die rigsnoer van wandel, die bron van troos in droefheid, die lig wat op die lewenspad die trede bestuur het, en op die sterfbed heengewys het na 'n Beter Vaderland (Van Heerden sa).

Hoewel die begrippe "volkskarakter", "volksbestaan" en "volk van Suid-Afrika" hier waarskynlik vir dieselfde groep gebruik word - die Afrikaner met die nuwe Afrikaanse Bybel - word die moontlike impak van hierdie Bybelvertaling breër geag: 'n invloed op die Afrikaner en deur hom op Suid-Afrika. Die Bybel was vir baie Afrikaners immers die "rigsnoer van wandel" op die "lewenspad". Dit was in 1933 toe slegs blankes in die Unie van Suid-Afrika kon stem. In daardie tyd het Afrikanerleiers soos Hertzog, Malan en Smuts die politieke gang en oorhoofse inrigting van Suid-Afrika bepaal (Grobler 2007:149-153).

Die houding van Van Heerden skep die vraag: wat was die geskiedenis, aanvaarding en daarmee die impak van die Afrikaanse Bybel van 1933 op sy Suid-Afrikaanse omgewing? Watter voorbeelde staaf die invloed? Wat was die aard van die invloed? 'n Invloed wat nie gekwantifiseer kan word nie, maar deur die verwerking van die relevante gevolge kwalitatief aangetoon kan word.

Gevolglik val die fokus op 'n beknopte geskiedenis van die vertaling van 1933, die populêre én amptelike kerklike aanvaarding daarvan en sy impak op Afrikaanssprekendes en hulle omgewing.

 

DRIE FASES VAN AFRIKAANSE BYBELVERTALING TOT 1933

Dit word wyd aanvaar dat die vertaling van die Bybel in Afrikaans tot by die verskyning van die volledige Bybel in 1933, deur drie onderskeibare fases gegaan het (Nienaber sn:15; Oberholster sn:11-48; Van der Watt 1987:313; Strauss 2013:48; 2015:95).

Eerste fase 1872-1911

Die eerste fase begin op 7 September 1872 met die verskyning van 'n brief van Arnoldus Pannevis in die Kaapse blad De Zuid-Afrikaan. Dit eindig met die dood van 'n sleutelfiguur en vertaler in hierdie beweging, ds SJ du Toit, in 1911. In sy brief bepleit Pannevis die vertaling van die Bybel in Afrikaans ter wille van die verstaan daarvan deur anderskleuriges, maar ook blanke Afrikaners (Strauss 2015:95). Destydse kritici beweer dat Pannevis se voorstel goed sal wees vir die bruinmense, maar dat Afrikaans as 'n ongestandaardiseerde "plat Hollands die skoonheid en verhewenheid van die Bybel" sal laat skade ly. Pannevis gee toe dat Afrikaans nog 'n brabbeltaal is, maar beweer dat baie Afrikaanssprekendes nie meer die Hollandse Statevertaling van 1637 verstaan nie. CP Hoogenhout steun hom met 'n argument gebaseer op die Pinkstergebeure in Handelinge 2: die Bybel moet na sy lesers kom in hulle eie taal. Engelse en Nederlandse Bybels is vir duisende "Hollandssprekendes" aan die Kaap 'n geslote boek (Nienaber sn:17-19).

'n Sleutelargument is dat die Bybel verstaanbaar moet wees. As 'n gereformeerde belydenis handel die Heidelbergse Kategismus (HK - 1563) in vraag en antwoord 21 oor die ware geloof. Volgens die HK is 'n ware geloof "'n vasstaande kennis" en"vaste vertroue" dat vir "my" persoonlik geld wat God in sy Woord openbaar: sy verlossingsboodskap wat verstaan moet word om geglo te kan word (NG Kerk-Uitgewers 1982:45).

In die naweë van Pannevis se brief van 1872 vergader 8 manne op 14 Augustus 1875 in die Paarl. Die vertaling van die Bybel in Afrikaans en, daarmee saam, die ontwikkeling van Afrikaans as skryftaal, is die doel van hulle saampraat. Hier word die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) gebore. Hulle voel egter dat die tyd nog nie ryp is vir 'n Afrikaanse Bybelvertaling nie. Die "volk" moet eers leer dat hy 'n eie taal het en hierdie taal moet respekteer (Nienaber sn:15). Volgens Von Wielligh moes dieselfde "volk" nog leer om Afrikaans te lees en te skryf (Von Wielligh 1918:62).

JC (Jaap) Steyn verwoord hierdie gebeure so:

Die strewe na 'n Afrikaanse Bybelvertaling het so tot die eerste georganiseerde taalbeweging gelei. 'n Afrikaanse koerant, Die Afrikaanse Patriot, en 'n heel aantal boeke is uitgegee. Een daarvan, 'n elementêre taalboek, getitel Eerste beginsels van die Afrikaanse taal, bevat 'n paar spelreëls. Die eerste lui: 'Ons skryf nes ons praat'. (Steyn 2013:78)

Met hierdie stelreël gee die eerste Afrikaanse taalbeweging waarskynlik stukrag aan die gebruik van skriftelike Afrikaans deur sommige, maar ook aan die uitdrukking "plat Hollands" deur ander. Van Rensburg praat van die "verskrifteliking" van Afrikaans deur die GRA. Volgens hom kan geen taal hoër funksies vervul - soos 'n verwoording van die inhoud van die Bybel - as dit nie 'n skryftaal is nie. Die GRA het besef dat hulle Afrikaans moet verskriftelik voordat hulle kan dink aan 'n vertaling van die Bybel in Afrikaans (Van Rensburg 2015:322).

In 1878 besluit die jaarvergadering van die GRA dat die tyd "in beginsel" ryp is vir die vertaling van die Bybel in Afrikaans.

Die eerste fase in die vertaling van die Bybel in Afrikaans eindig met die dood van SJ du Toit in 1911. Du Toit se vertaling van Psalm 23:1 in 1907 is 'n voorbeeld van die vertalings in hierdie fase en hulle onvermoë om deur gelowige Afrikaanssprekendes aanvaar te word. 'n Nie-aanvaarding wat kom in 'n tyd waarin gelowige Afrikaanssprekendes besig was om ryp te word vir 'n nuwe, verstaanbare vertaling van die Bybel in Afrikaans.

Jehowa is myn herder: my ontbreek niks ni.

Al gaan ek deur di kloof van doodskadewe, ek frees geen kwaad nie; want U is met my: uw knopkiri en wandelstok fertroos my .(volledig in Oberholster sn:32)

Drie probleme uit hierdie reëls is opvallend.

Eerstens is die spelreëls van Afrikaans nog nie uitgeklaar nie. Die gebruik van f en v is byvoorbeeld willekeurig. Tweedens kan 'n radikale eietydse vertaling afbreuk doen aan die verhewe plegtigheid van die Bybel. Die woord "knopkiri" het destydse Afrikaanssprekers nie in hulle Bybel gesoek nie. Derdens klop die vertaling van die psalm of lied nie ritmies nie: "my ontbreek niks ni" Die sinsvolgorde is vreemd aan Afrikaans.

Twee sake het die vertaling van die Bybel in Afrikaans in 1872-1911 gestrem. Die feit dat Afrikaans as gestandaardiseerde spreek- en skryftaal nog aan die maak was en die strategiese faktor dat die sogenaamde Hollands-Afrikaanse kerke nog nie ingekoop het op die saak nie. 'n Gestandaardiseerde taal sou die aanvaarding van vertalings wat aan aanvaarde, gevestigde reëls voldoen, vergemaklik het. Daarnaas het die drie Afrikaanse gereformeerde kerke - die Ned Geref Kerk, Geref Kerk in Suid-Afrika (GKSA) en Ned Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) wat 'n sterk invloed op die godsdienstige en lewensbeskoulike lewe van die meerderheid Afrikaners gehad het - nog nie amptelik blyke gegee van steun vir die nuwe ontwikkeling nie. Die stryd van die GRA was nog nie 'n stryd van die kerke nie.

Teen 1911 bestaan daar 'n persepsie dat die "die volk" nie 'n behoefte aan 'n Afrikaanse Bybel het nie. Drukkerye ly groot verliese met gepubliseerde dele van die Bybel. Die eerste fase van die vertaling van die Bybel in Afrikaans stol. 'n Nuwe impuls was nodig (Strauss 2015:95).

 

Tweede fase 1914-1923

Die tweede fase van die vertaling van die Bybel in Afrikaans begin in Julie 1914 op Stellenbosch. 'n Kongres van die Afrikaanse Taalvereniging (ATV) versoek die sinodes van die "Hollands-Afrikaanse" Kerke om 'n "Afrikaanse Bybelvertaling ter hand te neem" en die Ned Geref Kerk om Afrikaans as 'n amptelike taal te erken (Oberholster sn:34).

Die Sinode van 1916 van die Ned Geref Kerk in die Oranje-Vrystaat neem hierin die leiding. 'n Skoonseun van MT Steyn (President, Republiek van die Oranje-Vrystaat 1896-1902) en die predikant van Wepener, NJ van der Merwe,2 se voorstel dat die Bybel in Afrikaans vertaal word, word aanvaar. Vir die vertaling soek die Sinode die samewerking van die Ned Geref Kerke in die ander provinsies en ook van die GKSA en NHKA (NGK-OVS 1916:55,58).

Teen die einde van 1919 is die medewerking van hierdie kerke verkry. Afrikaans word ook kanseltaal. Die gebeure kom te midde van 'n ontwikkelende Afrikaans (Oberholster sn:44-47). Op 18 September 1915 publiseer die Akademie vir Taal, Lettere en Kuns 'n lys van Afrikaanse Spelreëls (Steyn 2008:139). In 1925 vervang Afrikaans Nederlands as 'n amptelike taal in Suid-Afrika. Die "Hollands-Afrikaanse" kerke kon nie agterbly nie.

In die begin van die twintigste eeu lees baie Afrikaanssprekendes nog die Nederlandse Statevertaling van die Bybel (SV). Hierdie vertaling op versoek van die Nasionale Sinode van Dortrecht van 1618-1619 en gefinansier deur die Nederlandse State Generaal, verskyn op 29 Julie 1637. Geen boek het so 'n invloed op die vestiging van Nederlands gehad as 'n gestandaardiseerde spreek- en skryftaal as die SV nie. Dit het dieselfde impak op Nederlands gehad as die Bybelvertaling van die bekende kerkhervormer, Martin Luther, op Duits. Die SV word 'n simbool van die sukses van die Nederlandse Republiek van die 17e eeu. Tussen 1637-1651 word daar 300,000 SV's in Nederland verkoop (Nienaber sn:14).

Die SV kom in 1652 met die Hollanders na die Kaap en vergesel die Voortrekkers van 1835-1840 na die Suid-Afrikaanse binneland (Steyn 2008:133-134).

Vir 'n ontluikende Afrikanervolk is die SV die leerboek van die lewe. Suider-Afrika se isolasie van Nederland verhaas egter die groei van Afrikaans met sy eie woordvorme en -betekenisse (Nienaber & Heyl 1962:2-3).

Sekere uitdrukkings in die SV steek vas in die gebruiks- en godsdienstige taal van Afrikaners: brood van smarte, Dawid en Jonathan, kwelling des geestes, bitter kelk ledig, moedigheid, kortstondigheid, goedertierenheid, herbergsaamheid, kind des doods en insettinge (Nienaber & Heyl 1962:4). Daar is woorde soos afvallig, danksegging, dierbaar, eersteling, hooglied, klaaglied, nuweling, rigsnoer, slagoffer, vreemdeling en suigeling (Steyn 2008:133). Daar is ook die meer idiomatiese steen des aanstoots, in duister tas, inwendige mens, berge versit, 'n boom aan sy vrugte ken, 'n doring in die vlees en vreemdeling in Jerusalem (Steyn 2008:147).

Met hierdie waardering van die SV onder Afrikaanssprekendes trag die vertalers in die tydperk 1916-1922 bloot om die SV te verafrikaans. Daar is twee redes: hulle streef na die Bybelse verhewenheid van die SV én 'n verstaanbare Bybel. In 1922 word 70,000 eksemplare van 'n proefvertaling van die Nuwe Testament en Psalms versprei (Oberholster sn: 57). Volgens die Kommissie van die Vrystaatse Sinode van die Ned Geref Kerk vir Bybelvertaling is dit 'n "bewys van die gretigheid waarmee ons volk vir sy eie Afrikaanse Bybel wag" (NGK-OVS Verslag sa:6). Die Afrikaanse Kinderbybel wat nie die Woord van God is nie, verdring die SV tans by huisgodsdiens "onder 'n groot deel van ons volk" (NGK-OVSVerslag sa:4).

Die proefvertaling van 1922 vind egter nie inslag nie. 'n Eindvertaler van die 1933 Bybel, HCM Fourie, praat van "stompstert Nederlands" (Steyn 2008:142).

Nou klink Psalm 23:1 en 2 so:

Die Here is my Herder; my sal niks ontbreek nie. Hy laat my neerlê in grasryke weivelde, Hy lei my saggies aan seer stille waters...

Verder word teenstanders "teenpartyders" en raak my beker "oorvloeiende"(Oberholster sn:33).

Hierdie on-Afrikaanse taalgebruik lui die doodsklok vir Fase 2 van die Afrikaanse Bybelvertaling. Daar moes van voor begin word.

Derde fase 1923-1933

'n Nuwe vertrekpunt kom in 1923. Dit blyk uit die bronne waaruit vertaal en die Afrikaans waarin hierdie tekste vertaal word. 'n Vertrekpunt waarna talle deelnemers in die proses van 1923 tot 1933, by die verskyning van die Bybel in Afrikaans, verwys. In sy verslag aan die Vrystaatse Ned Geref Sinode van 1934, toon 'n eindvertaler, JD Kestell, aan dat die Masoretiese (oorgelewerde Hebreeuse teks voorsien van konsonante deur Joodse geleerdes) en die Textus Receptus (versorg deur Erasmus en uit 1516) vir onderskeidelik die Ou Testament en Nuwe Testament as Hebreeuse en Griekse bronne gebruik is (NGK-OVS 1934:150; Van Zyl & Swanepoel 1972:18). Oor hierdie bronne is daar sedert Julie 1923 konsensus. Die soort Afrikaans waarin vertaal moet word, is minder klinkklaar. Hierin speel die raadpleging van die SV en die behoefte aan 'n duidelike en suiwer Afrikaans as "volkstaal", 'n groot rol (Steyn 2008:142). In 1928 bepleit J Kuhn (NHKA) 'n "suiwer, idiomatiese Afrikaans soos 'n beskaafde Afrikaner praat, en nie stert-afgekapte, haasbek Hollands nie" (NHKA1928:237).

Die gevoel onder Afrikaanssprekers vir die verhewenheid van die Bybel blyk uit 'n besluit van die Raad van Ned Geref Kerke in 1927.3 Die Raad versoek die vertalers om die voornaamwoorde "jy" en "jou" met die "grootste omzichtigheid" te gebruik. Hulle moet rekening hou met die "deftigheid"van die Bybel (NGK 1927:21).

Aan die einde van 1923 word Totius en Kestell aangewys as die redakteurs van onderskeidelik die Ou en die Nuwe Testament (NGK-OVS 1934:149; Oberholster sn:50).Teen Oktober 1928 is die hele Bybel vertaal (Nienaber & Heyl 1962:49). In 1932 is die kopie drukgereed. Sestien jaar lank werk 30 vertalers, reviseurs en taaladviseurs tot 'n "mindere of meerdere mate" aan die proses wat tot die Afrikaanse Bybel van 1933 lei (Oberholster sn: 63,66).

Die Kommissie vir Vertaling van die Algemene Kerkvergadering van die NHKA noem die vertaling "goedgeslaag, vlot en mooi vertaal". Dit is 'n "sieraad" waarvoor "die hele volk dankbaar is" (NHKA 1934 aanhangsel).

Teen 1933 was die tyd ryp vir 'n gesaghebbende vertaling van die Bybel in Afrikaans. Die teelaarde vir die populêre en amptelike kerklike aanvaarding daarvan was voorberei. Daarvoor het kerklike besluite, 'n deeglike proses, die groot openbare belangstelling én 'n proefvertaling van die Nuwe Testament en Psalms van 1929, gesorg. JD Kestell verklaar dat die nood waarin "ons volk" verkeer in "die swak jaar 1933" sy toppunt bereik het. Maar

Daar verskyn die Woord van God in ons eie taal soos 'n ligstraal in die donker! (Voorwoord in Nienaber sn:i).

 

DIE KERKLIKE AANVAARDING VAN DIE 1933-VERTALING

Die amptelike kerklike aanvaarding van die vertaling van 1933 in hierdie omstandighede en as gevolg van hierdie faktore was 'n voldonge feit. Op hierdie stadium kon die drie Afrikaanse kerke - die Ned Geref Kerk, die GKSA en NHKA - vir die oorgrote meerderheid Afrikaners praat, terwyl die Ned Geref Kerk deur sy jonger kerk, die NG Sendingkerk, ook seggenskap onder bruinmense gehad het. Boonop het kundiges uit elk van die drie kerke aan die vertaling meegewerk. Hulle was mense wat in hulle eie kerke en gemeenskappe akademiese en kerklike aansien geniet het. Die historiese verloop van die vertaling het dit "ons" vertaling gemaak. Totius was 'n wyd aanvaarde Afrikaanse teoloog en volksdigter4 en Kestell die geestelike vader van sy "volk". In die Afrikanergemeenskap van die 1930's, op daardie stadium 'n eenheidsgemeenskap van gedoopte Christene, het hulle as volks- en kerkleiers vertroue by die Afrikaanse gereformeerde kerklike publiek ingeboesem.

Die Breë Kommissie as die tydelike vertalingskommissie van "die verskillende Hollandse Kerke van Suid-Afrika" (vir die jare 1923-1933), ontbind op 23 Augustus 1933, 4 dae voor die sentrale fees in Bloemfontein (NHKA 1934:24). Daarmee stuur die Kommissie twee boodskappe uit: sy opdrag is uitgevoer en die 1933-vertaling - met sy uitgangspunte én die vertaling self - is aanvaarbaar. Die samestelling en aansien van die Kommissie verhoog die aanvaarbaarheid van die 1933-vertaling.

Die Sinode van 1931 van die Ned Hervormde of Geref Kerk (NH of GK) in die destydse Transvaal laat dit aan die vryheid van die gemeentes oor om die Afrikaanse vertaling van 1933 te gebruik tot die volgende sinode (NH of GK 1931:25). So sterk loop hierdie gevoel vir aanvaarding dat die Sinode van 1934 besluit om die vertaling - soos dit gestel is - net vir "kennisgewing" aan te neem. Teen hierdie tyd was die kerklike aanvaarding daarvan vanselfsprekend (NH of GK 1934:15).

Die Ned Geref Kerk in die Oranje-Vrystaat se Sinode van 1934 neem die Afrikaanse Bybel van 1933 amptelik in ontvangs. Hy besluit ook dat die Bybel in Afrikaans elke jaar op Hervormingsondag gevier moet word. Die rede vir sy aanvaarding word so verwoord:

"Pinkster word vir ons waar, al dat ons in ons eie taal die groot werke van God hoor." Die eerste Afrikaanse Bybel word deur die "ganse Afrikanernasie" verwelkom in "kansel, huis en hart" (NGK-OVS 1934:91-93).

Die Sinode van die Ned Geref Kerk in Suid-Afrika (Kaapland) se aanvaarding van die Afrikaanse Bybel van 1933 spreek boekdele vir die impak van hierdie vertaling. Die Sinode van 1932 besef dat hy of die volgende Sinode amptelike goedkeuring sal moet gee "aan die Bybel soos dit in Afrikaans sal verskyn" (NGKSA 1932:121). Die Sinode van 1936 aanvaar dieselfde Bybel met 'n onbestrede mosie. Hierin spreek die Sinode sy vertroue uit dat die heuglike gebeure

"nie alleen die kulturele nie, maar veral die sedelike en geestelike lewe van die Afrikaanssprekende deel van ons volk" sal opbou (NGKSA 1936:245).

In die NHKA gee die Algemene Kommissie van die Algemene Kerkvergadering sy sanksie aan hierdie vertaling. Die Algemene Kerkvergadering van 1934 plaas ook sy stempel op hierdie optrede (NHKA 1934:22; NHKA 1934:aanhangsel).

As 'n finale stap besluit die GKSA-Sinode van 1936 eenparig om die 1933-vertaling "vir kerklike gebruik te approbeer". Sy besluit volg op die aanbeveling van die "betrokke" Revisiekommissie en die besluit van die Sinode van 1933 wat voorlopig (!?) - voor die ingebruikneming op Augustus 1933 - op die aanvaarding daarvan vir kerklike gebruik besluit het (GKSA 1936:142,144).

Hierdie datums van die amptelike kerklike aanvaarding van die Afrikaanse Bybel van 1933 kom tot 'n groot mate van vergaderings na die "amptelike" ingebruikneming daarvan op 27 Augustus 1933. Tegnies is die besluite dus mostert na die maal en - soos dit blyk uit die bewoording van sommige - 'n formaliteit. Tog word dit 'n belangrike bevestiging van 'n oortuiging van duisende lidmate. 'n Verslag aan die Sinode van die NH of G Kerk verwoord dit so: die Afrikaanse Bybel van 1933 was van "onberekenbare waarde vir ons volk" (NH of GK 1934:43). Die amptelike kerklike bevestiging hiervan kon dit formaliseer en versterk, maar nie verander of omdraai nie.

Die Afrikaanse Bybel van 1933 word in Augustus 1933 landswyd feestelik in gebruik geneem.

Die sentrale fees is op 27 Augustus 1933 in die Marksaal in Bloemfontein (NGK-OVS 1934:151). 'n Skare van 5000 is teenwoordig. Bloemfontein word gekies omdat die Vrystaatse Sinode van 1916 van die Ned Geref Kerk die inisiatief geneem het vir die vertaling van die hele Bybel in Afrikaans (Van Zyl & Swanepoel 1972:16). By hierdie geleentheid dra DF Malherbe uit die "nuwe" Psalm 104 voor.

"Here my God, U is baie groot! Met majesteit en heerlikheid is U bekleed - wat Uself omhul met lig soos met 'n kleed, wat die hemel uitspan soos 'n tentdoek"

Malherbe se voordrag laat Kestell jubel.

"Dit was ons eie taal in sy sagtheid en buigsaamheid, maar ook in sy krag en verhewenheid. En dit - so het ons gevoel - is die taal van die Bybelboek wat ons nou ontvang het. Lof en dank het deur ons wese gebruis"(Oberholster sn:69,73)

Sangerig-ritmies, afgerond en met 'n fyn aanvoeling vir die versorgende Herder, sing die sanger van die Mooirivier, Totius, Psalm 23 nou in goeie Afrikaans:

"Die Here is my Herder, niks sal my ontbreek nie. Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen. Hy verkwik my siel"(Oberholster sn:33).

Min Afrikaanse kinders in die volgende halfeeu sou hierdie woorde nie van buite ken nie. God se verlossing en genade is ook vir Afrikaanssprekendes. Vader Kestell kon opnuut jubel: dit is ons eie taal in sy sagtheid en buigsaamheid, maar ook in sy krag en verhewenheid (Strauss 2013:48). Sy krag as dit kom by 'n hartsbelydenis van die fynere geestelike dinge

In die eerste agtien maande na sy verskyning word daar 250,000 eksemplare van die 1933-vertaling versprei (Oberholster sn:88). Teen 2008 styg hierdie syfer na 7,000,000 (Steyn 2008:153)!

Dit laat ons met die vraag: wat was die impak van die Afrikaanse Bybel van 1933 op sy omgewing?

 

DIE IMPAK VAN DIE AFRIKAANSE BYBEL VAN 1933 OP SY OMGEWING

Dit spreek haas vanself dat die impak van die vertaling van die Bybel in Afrikaans in 1933 op 'n gemeenskap waarin Christen-Afrikaners gedomineer het, eerstens by hierdie Afrikaners self gesoek moet word. Uit die historiese aanloop is dit duidelik dat Afrikaners in die GRA en ander verenigings én in die drie Afrikaanse kerke die behoefte aan so 'n vertaling gestimuleer en verwoord het. Wat opval, is dat biskop Lavis van die bestuur van die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap in Suid-Afrika, by die ontvangs van die eerste 10,000 Bybels van die nuwe vertaling met die aankoms van die Carnarvon Castle op 29 Mei 1933 in die Kaapse hawe, na die vertaling verwys het as 'n gawe aan die hele Suid-Afrika (Oberholster sn:66-67). Daarmee het hy waarskynlik bedoel dat die hele Suid-Afrika daarby kon baat.

Die verstaan van die Statevertaling wat vanaf 1652 'n sentrale rol in die nuwe gemeenskap aan die Kaap gespeel het, het teen 1933 afgeneem.5 Dit het nie beteken dat die behoefte aan en invloed van die Bybel in die Afrikaanssprekende gemeenskap afgeneem het nie. Die nuwe Afrikaanse Bybel moes hierdie rol van die SV eenvoudig oorneem.

Daar is aangedui dat die SV dieselfde invloed op Nederlands as spreek- en skryftaal gehad het as wat Luther se Duitse Bybelvertaling op Duits gehad het. In 1933 was Afrikaans reeds 'n spreektaal wat in 'n proses van verskrifteliking was. Gustav Preller skryf in 1926 as die redakteur van Ons Vaderland dat Afrikaanse spelling nog nie gestandaardiseer of algemeen is nie. Onder die invloed van die SV kan die nuwe Bybelvertaling die taal egter "lelik stram en stroef" maak (Steyn 2013:83). Die vertaling van 1933 het dus voor dieselfde situasie te staan gekom as die SV in Nederland in 1637.

Teen hierdie agtergrond was die impak van die 1933-vertaling op die Afrikaanssprekendes en Suid-Afrika geestelik-godsdienstig en lewensomvattend, maar ook taalkundig.

Geestelik-godsdienstige en lewensbeskoulike invloed

Aan die geestelike kant het die Afrikaner ontwikkel uit die vestiging van Europeërs aan die Kaap na 1652. 'n Opname in 1806 het getoon dat die nuwe volk van 37% Hollandse, 37% Duitse, 12% Franse en 14% anderse afkoms was. Die nuwe gemeenskap onder die Nederlands Oos-Indiese Kompanjie en Kaapse Politieke Raad het die Nederlandse samelewingspatroon van die 17e eeu (die Nederlandse goue eeu) gevolg. In sosiologiese terme was dit 'n teokratiese verbondsgemeenskap waarin almal ten minste nominale Christene en/of gedooptes was. Die koningskap van die Here oor die kerk, die staat en die samelewing is erken en eerbiedig. Die mense wat die lidmate van die kerk was, het ook die burgers van die staat uitgemaak. Die nuwe Kaapse gemeenskap was 'n eenheidsgemeenskap waarin alles met alles saamgehang en op alles ingewerk het. 'n Gebeurtenis in die politiek kon ook kerklike en kulturele gevolge hê. Hierdie opvatting sou mettertyd onder druk kom deur die invloed van die Verligting na 1750 en ander invloede wat na die Britse besetting van die Kaap in 1806 ingekom het.

Afrikanergemeenskappe soos die Voortrekkers (hulle is sedert die 18e eeu as Afrikaners bekend, Giliomee 2003:22,52) het in hulle staatkundige grondwette en die agtergrond van byvoorbeeld die Gelofte van 1838, hierdie eenheidsgemeenskap gehandhaaf. Daarom het die Vetriviergrondwet van 1837 by Winburg van sy burgers gepraat as "gereformeerde ledematen". Vanuit hierdie hoek kon elke burger van die Voortrekkermaatskappy en lid van die Wenkommando 'n gelofte aan die "God van hemel en aarde" voor die Slag van Bloedrivier in Desember 1838 aflê. Hy was 'n burger van die trekkergemeenskap, maar ook 'n belydende lidmaat van die Ned Geref Kerk, die kerk op die trekpad (Strauss 2013:49-50).

In hierdie gemeenskap is die sentraliteit van die Bybelse boodskap vir die totale lewe versimboliseer deur die SV in die wakis. Saam met die boeke van die "oude schrijvers" uit die Nederlandse Nadere Reformasie, was dit die enigste literatuur op die trekpad. Huisgodsdiens waarby die SV gebruik is, het eenvoudig "boekevat" geword. Om 'n boek te vat, het beteken om die SV te vat (Oberholster sn:5).

Hierdie sentraliteit van die Skrif word deur vertolkers met hulle eie klem- en ondertone aangeraak wanneer hulle die impak van die 1933-Bybel op die Afrikaner- en Afrikaanse gemeenskap bespreek. Vir Pannevis kon so 'n vertaling "di Afrikaans-sprekende bevolking beskave" omdat beskawing deur die moedertaal geskied (Oberholster sn:23). In sy rede by die ontvangs van die 1933-vertaling, noem ds Van Heerden die Bybel "die krag van ons volk" as die "hoogste openbaring" van God se wil (Oberholster sn:73). Die Kaapse Sinode van 1936 van die Ned Geref Kerk voeg hom hierby as hy aanvoer dat die 1933-vertaling "nie alleen die kulturele nie, maar veral die sedelike en geestelike lewe van die Afrikaanssprekende deel van ons volk" sal opbou (NGKSA 1936:121).

Teen 1933 was die konsep van 'n eenheidsgemeenskap by die meerderheid Afrikaners nog lewend. Vir hulle was die Bybel normatief vir elke faset van die lewe. 'n Goeie Afrikaner is ook 'n Christen en sy eet, drink en speel, sy hele kulturele en geestelike lewe moet Christelik wees (Strauss 2013:50).

Hierdie opvatting is vanuit die nuwe Afrikaanse Bybelvertaling gevoed en versterk. Die Bybelse lyne wat 'n Christelike lewensbeskouing rig, was nou in Afrikaans. Die impak hiervan was sigbaar in kerk en samelewing. Vergelyk onder meer die neerslag hiervan in die erkenning van God in die aanhef van die republikeinse grondwet van 1961, in die Nasionale Onderwyswet van 1967 en in die stuk Kerk en Samelewing by Algemene Sinodes van 1986 en 1990 van die Ned Geref Kerk (Strauss 2015:91-103).

Die Afrikaanse Bybel is soms ook verkeerd ingespan. Die - in die huidige tydsomstandighede - mees opvallende voorbeeld in die twintigste eeu was die poging van die Afrikaanse gereformeerdes om apartheid en die daarmee gepaardgaande diskriminasie teen anderskleuriges te regverdig. In die 1980's kom daar 'n kentering. Die Nasionale Sinode van die GKSA verwerp in 1985 alle "rasseheerskappy en rassisme" (GKSA 1985:439-444). Op sy beurt noem die Nasionale Sinode van 1991 "die ideologie van apartheid 'n sonde en die Bybelse regverdiging daarvan 'n dwaling"(GKSA 1991:160,169). In hierdie tyd besluit die Algemene Sinodes van 1986 en 1990 van die Ned Geref Kerk dat "gedwonge afsonderlikheid en skeiding van volke nie as 'n voorskrif uit die Bybel afgelees kan word nie" (Ned Geref Kerk 1986b:52; Ned Geref Kerk 1990:40).

By die NHKA kom hierdie kentering later, in die 1990's. Die kentering mond uit in die besluit van die Algemene Kerkvergadering van 2010. Hierin verklaar die NHKA dat apartheid in stryd is met die Evangelie en onreg sanksioneer (NHKA 2010:351-357).

Die impak van die Afrikaanse Bybel van 1933 op kerk en samelewing was nie alleen sigbaar in die geloofs- en lewensbeskoulike oortuigings wat in die kerk, staat en die breër gemeenskap onder Afrikaners en Afrikaanssprekendes geleef het nie. Die Afrikaanse Bybel van 1933 het ook die ontwikkeling van Afrikaans beïnvloed. Sy impak was ook taalkundig.

Die aanduiding hiervan - gesien die aard van hierdie artikel - is histories en nie taalkundig nie.

Taalkundige invloed

Volgens DF Malan het die 1933-vertaling nie die "volkstaal" met plat Hollands verlaag nie. Die nuwe Afrikaanse Bybel - soos die SV van weleer in Nederland - het Afrikaans gehelp om hom in vaster vorme uit te druk. Die Christelike godsdiens is so verlewendig as die "middelpunt van ons volkslewe". Op sy beurt oordeel JH Conradie dat die 1933-Bybel met die feit moes rekening hou dat Afrikaans nog nie vaste vorme het nie. Die taal was nog in die maak. 'n Gestabiliseerde Afrikaans kon vorentoe weer 'n nuwe vertaling noodsaak (Oberholster sn:86).

Die teendeel gebeur egter: die Bybel van 1933 help Afrikaans standaardiseer en stabiliseer. Hierdie vertaling word hersien en grootliks behou met 'n 1953-uitgawe (Oberholster sn:88). Eers in 1983 - vyftig jaar later - kom die Nuwe Afrikaanse Vertaling (NAV) as 'n dinamiese vertaling met 'n totaal nuwe aanpak en vertaling (NGK 1986a:588).

Malan sien die impak van die Afrikaanse Bybel van 1933 dus as lewensbeskoulik én taalkundig. JH Hofmeyr en JD Kestell ondersteun die taalkundige impak. Eersgenoemde praat van die Bybel van 1933 se bydrae tot die ontwikkeling van die Afrikaanse literatuur, laasgenoemde van sy "vormende invloed in die taal van ons volk". 'n Invloed wat "ons nasie rein" hou (Strauss 2013:49). Die vaster vorme sluit sinskonstruksies, spreekwyses en die spel van woorde in.

Die impak van die 1933-vertaling op Afrikaans as spreektaal blyk ook uit uitdrukkings wat mettertyd in die leeftaal van Afrikaanssprekers opgeneem word.

Enkele voorbeelde illustreer hierdie punt.

In Matteus 5 word gelowiges arm van gees. By nadere ondersoek is dit nie 'n aanduiding van hulle geestelike toestand nie - soos dit in die leeftaal van Afrikaanssprekers gebruik is nie - maar van hulle afhanklikheid van God. Daarby het Dawid met die wysheid van Salomo die wortels begin grawe. Tussen vriende soos 'n Dawid en Jonathan is daar ook geen Kainsmerk te bespeur nie. Al is een van hulle 'n regte Judas. Intussen is die liefde nie opgeblase nie - 'n uitdrukking wat Vader Kestell vir 'n tydlank intens besig gehou het. Die vertaling van 1933 leer Afrikaners ook "spreek" as hulle belangrike persone te woord staan, uithou in die "dal van doodskaduwee" en transaksies met bybedoelings bestempel as 'n ruiling vir "'n pot lensiesop" (Strauss 2013:50).

Reeds in 1905 skryf Gustav Preller dat die vertaling van die Bybel aan Afrikaans "die grootste stoot vir die spreektaal sou gee" (Oberholster sn:33).

Die Afrikaanse Bybel van 1933 stimuleer dus die taal as 'n gestandaardiseerde spreek- en skryftaal. Steyn wys daarop dat die behoefte aan 'n Afrikaanse Bybelvertaling wat hom in die 1933-vertaling manifesteer, die proses aan die gang gesit het om Afrikaans in plaas van Nederlands ("Hollands") die skryftaal van die Afrikaanssprekende te maak. 'n Letterkundige noem hierdie vertaling die "hoogste triomf van Afrikaans" (Steyn 2013:90).

 

SLOT

Vir 'n gemeenskap waarin die Bybel 'n deurslaggewende rol speel, was die Afrikaanse Bybelvertaling van 1933 'n triomf. Hierdie lewensboek het weer verstaanbaar geword en sy invloed kon deurwerk op alle terreine van die lewe.

Die Afrikaanse Bybel van 1933 het nie net 'n rigtinggewende geestelik-lewensbeskoulike rol onder Afrikaanssprekendes en deur hulle in sy Suid-Afrikaanse omgewing gespeel nie. Die vertaling het Afrikaans as spreek- en skryftaal ook beslissend bevorder. As die Boek van die boeke was dit 'n triomf vir die liefhebbers en draers van Afrikaans.

Hierdie woorde beskryf eenvoudig die eenvoud en effek van die gebeure en is geensins "opgeblase" (Kestell oor die liefde van I Korintiërs 13 in die 1933-vertaling) nie.

 

BIBLIOGRAFIE

Gaum, F. et al. 2008. Christelike Kernensiklopedie. Wellington: Lux Verbi.BM.         [ Links ]

Giliomee, H. 2003. The Afrikaners: a biography of a people. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Grobler, J. 2007. Uitdaging en antwoord. 'n Vars perspektief op die evolusie van die Afrikaners. Brooklyn: Grourie.         [ Links ]

Gereformeerde Gemeentes in Suid-Afrika. 1936. Handelinge van die 25e sinodale vergadering. Sl:sn.         [ Links ]

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (gebruik as GKSA). 1985. Handelinge van die Nasionale Sinode. Potchefstroom: sn.         [ Links ]

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (gebruik as GKSA). 1991. Handelinge van die Nasionale Sinode. Potchefstroom:sn.         [ Links ]

Ned Geref Kerk (gebruik as NGK). 1927. Handelinge van die Gefedereerde Raad van Kerke. Sl:sn.         [ Links ]

Ned Geref Kerk 1986a. Handelinge van die Algemene Sinode. Sl:sn.         [ Links ]

Ned Geref Kerk 1986b. Kerk en Samelewing-1986. Bloemfontein: Pro Christo.         [ Links ]

Ned Geref Kerk 1990. Kerk en Samelewing-1990. Bloemfontein: Pro Christo.         [ Links ]

Ned Hervormde of Geref Kerk (gebruik as NH of GK). 1931,1934. Handelinge van die Sinode. Sl:sn.         [ Links ]

Ned Geref Kerk in de Oranje-Vrijstaat (gebruik as NGK-OVS).1916. Handelinge van die Sinode. Sl:sn.         [ Links ]

Ned Geref Kerk in die Oranje-Vrystaat (gebruik as NGK-OVS). 1934. Handelinge van die Sinode. Sl:sn.         [ Links ]

Ned Geref Kerk in die Oranje-Vrystaat (gebruik as NGK-OVS Verslag sa) sa. Verslag Bybelvertaling. Ongepubliseer.         [ Links ]

Ned Geref Kerk in Suid-Afrika (gebruik as NGKSA). 1932. Handelinge van die Sinode. Kaapstad: Nasionale Pers.         [ Links ]

Ned Geref Kerk in Suid-Afrika (gebruik as NGKSA). 1936. Handelinge van die Sinode. Kaapstad: Nasionale Pers.         [ Links ]

NG Kerk-Uitgewers. 1982. Ons glo: die Drie Formuliere van Eenheid en ekumeniese belydenisse. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.         [ Links ]

Ned Hervormde Kerk. 1928. Notulen van die 42ste Algemene Vergadering van Ned Hervormde Kerk van Afrika. Pretoria: Goede Hoop.         [ Links ]

Ned Hervormde Kerk. 1934. Notule van die 43ste Algemene Vergadering van die Ned Hervormde Kerk. Pretoria: Goede Hoop.         [ Links ]

Ned Hervormde Kerk 2010. Algemene Kerkvergadering. Sl:sn.         [ Links ]

Nienaber, PJ sa. Die geskiedenis van die Afrikaanse Bybelvertaling. Johannesburg:sn.         [ Links ]

Oberholster, JAS. sn. Die Bybel in Afrikaans. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.         [ Links ]

Steyn, JC. 2008. Die Afrikaans van die Bybelvertaling van 1933. Bloemfontein: UV (Acta Theologica Supplementum 12).         [ Links ]

Steyn, JC. 2013. Afrikaans en die Bybelvertaling van 1933. In: Langner, DJ (red). "De Bijbel in het Afrikaans". Pretoria: FAK, pp. 72-92.         [ Links ]

Strauss, PJ. 2013. Die Bybel in Afrikaans. In: Langner, DJ (red). "De Bijbel in het Afrikaans". Pretoria: FAK, pp. 46-51.         [ Links ]

Strauss, PJ. 2015. Gereformeerdes onder die Suiderkruis 1652-2011. Bloemfontein: Sunmedia.         [ Links ]

Van der Watt, PB. 1987. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1905-1975. Pretoria: NG Kerkboekhandel.         [ Links ]

Van Heerden, PS. sa. Toespraak ontvangs Afrikaanse Bybel 1933. Sl:sn.         [ Links ]

Von Wielligh, GR. 1918. Eerste schrijvers. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Van Rensburg, C. 2015. Oor die eerste 50 jaar se maak aan Standaardafrikaans. In: Tyskrif vir Geesteswetenskappe, 55/3: 319-342.         [ Links ]

Van Zyl, AH. & Swanepoel, FA. 1972. Waarom 'n nuwe Bybelvertaling? Pretoria: NG Kerkboekhandel.         [ Links ]

 

 

 

PIETER JOHANNES STRAUSS word in 1988 'n dosent in Ekklesiologie of Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan sy alma mater, die Universiteit van die Vrystaat en tree op 30 Junie 2015 af. Benewens ongeveer honderd artikels in geakkrediteerde akademiese tydskrifte, het Strauss ook verskeie boeke geskryf. Hy spits hom toe op gereformeerde kerkreg en kontemporêre Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis, soos blyk uit onlangs verskene werke. In die kerkreg lewer Kerk en Orde vandag (2010), blyke van 'n reformatoriese deurwerk van die bekende Solas van die Reformasie van die sestiende eeu na vandag. Kerkwees in die branding - die Nederduitse Gereformeerde Kerk in algemene sinodale verband 1994-2011 (2013), verteenwoordig 'n kontemporêr kerkhistoriese werk vanuit 'n reformatoriese benadering.
Strauss was vir twee termyne, van 1999-2003 en 2005-2008, die moderator van die Vrystaatse Sinode van die Ned. Geref. Kerk. Hy beklee dieselfde amp by die Algemene Sinode, van 2007-2011. Hy is ook aktief op kultuurterrein en was vir 12 jaar, van 2001-2011, die hoofleier van die Afrikaanse jeugbeweging, Die Voortrekkers.
PIETER JOHANNES STRAUSS was appointed as a lecturer in Church Polity and Church History at the University of the Free State in 1988 and retired on 30 June 2015. Apart from some 100 articles in accredited academic journals, Strauss also authored a number of books. He focuses mainly on the topics of Church Polity and modern South African Church History, as can be seen in recently published works. In Church and Order today (2010) he argues that 3 Solas of the Reformation of the sixteenth century should also be accepted and implemented today, while in Being church in troubled times - the Dutch Reformed Church in the bond of its general synod 1994-2011 (2013), he uses a reformational approach in modern church history.
Strauss was moderator of the Free State Synod of the Dutch Reformed Church for the periods 1999-2003 and 2005-2007. He was also moderator of the General Synod of the same church in 2007-2011. In addition, he is actively involved in cultural events and, for 12 years (2001-2013), he served as leader of the Afrikaans youth movement, Die Voortrekkers.
1 Volgens JD Kestell in 'n verslag aan die Sinode van die Ned Geref Kerk in die Oranje-Vrystaat 1934, NGK-OVS 1934:152.
2 NJ van der Merwe tree in 1924 tot die politiek toe. Met sy dood in 1940 - op 'n jonge 52 jaar - is hy die Vrystaatse leier van die Nasionale Party, die hoofleier van die Voortrekkers en die voorsitter van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. Hy is ook betrokke by die stigting van laasgenoemde twee bewegings (Gaum et al. 2008:1122).
3 Die Sinodes van die Ned Geref Kerke in die vier provinsies van Suid-Afrika (Kaap, Vrystaat, Natal en Transvaal) federeer in 1905 in 'n adviserende federale raad. Hierdie gefedereerde verband gaan die algemene sinodale verband van 1962 vooraf (Van der Watt 1987:1-17).
4 Die Vyf-en-twintigste sinodale vergadering van die Gereformeerde Gemeentes in Suid-Afrika van 1936 betuig sy hartelike dank aan Totius vir sy liefde en ywer en spreek die hoop uit dat hy nog die vrugte van sy arbeid mag aanskou en vir almal tot verdere seën sal wees (GKSA 1936:142).
5 BB Keet beweer dat die SV vroeg in die 20e eeu nog goed deur Afrikaanssprekendes verstaan is. Hierna het dit egter afgeneem. Steyn verwys na Vader Kestell wat opmerk dat jongmense en studente in Bloemfontein in die 1920's vertel dat hulle die SV onverstaanbaar vind en liewer die Engelse St James-vertaling lees (Steyn 2013:79-80).

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License