SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.56 número2-2Deictical patterns in the film version of J.M. Coetzee's Disgrace (2008). Part 1Die Sideboard - 'n altaar en 'n teken van 'n regverdige God índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.56 no.2-2 Pretoria jun. 2016

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2016/v56n2-2a13 

TAALRUBRIEK

 

Die dierbare Engels

 

 

Engels! Engels! Alles Engels! Engels wat jy sien en hoor,

In ons skole, in ons kerke word ons moedertaal vermoor,

het CP Hoogenhout vanslewe gesê, en dit is vandag weer net so waar soos destyds.

Sedert ongeveer die neëntigerjare het dit in Afrikaanse taalkundekringe en onder baie Afrikaanssprekendes amper onaanvaarbaar geword om oor anglisismes te praat. Ek gaan dit egter tog waag, want die taal is deesdae so deurspek met kwalik verdoeselde Engels dat die Afrikaanse idioom wesenlik bedreig word. Myns insiens - en dit is net my mening - is daar veral twee redes voor. Die eerste is dat 'n ouer geslag, soos dié waartoe ek behoort, nie meer genoeg ons kinders en kleinkinders, ons jonger mense, reghelp nie, 'n toedrag van sake wat 'n mens seker op verskeie maniere kan probeer verklaar. Die tweede rede is dat skoolkinders en studente skynbaar weinig meer geleer word oor die grammatika en idioom van Afrikaans.

Natuurlik het Engels 'n invloed op Afrikaans, en heel dikwels ten goede. Tog het Standaardafrikaans sy eie unieke aard, en wanneer Engels daardie eie aard van Afrikaans begin bedreig, word die Engelse invloed 'n probleem. Daarom definieer die Afrikaanse woordelys en spelreëls (p. 556) anglisisme soos volg:

'n Anglisisme is 'n Engelse taalvorm (woord, uitspraakwyse of sinskonstruksie) wat in Afrikaans gebruik word, maar wat in stryd is met die Afrikaanse taalpatroon en 'n bestaande Afrikaanse vorm verdring, byvoorbeeld *ek myself was daar, in plaas van die korrekte ek was self daar; en *hy moes agter die kinders kyk, in plaas van die korrekte hy moes die kinders oppas of hy moes na die kinders kyk. Nie alle gevalle van Engelse invloed is egter anglisisties nie, aangesien Afrikaans en Engels baie gemeenskaplike woorde bevat wat óf aan ander tale (byvoorbeeld Latyn en Frans) ontleen is, soos garage of restaurant, óf uit die Germaanse voorgeskiedenis van beide tale afkomstig is, soos steak of Speaker.

Dit sou ideaal wees as 'n mens die onderwysowerhede kon oortuig om leerplanne so aan te pas dat skoolkinders meer oor die aard van Standaardafrikaans geleer kan word, maar intussen kan Akademielede help wal gooi teen die verslonsing en verarming van Standaardafrikaans deur anglisismes soos onderstaande te vermy en, waar moontlik, mense reg te help.

aanspreek: Dit is natuurlik 'n doodgoeie woord in Afrikaans vir 'praat met, betitel' of 'betig' of 'voor die gereg daag' en so meer, maar deesdae word al wat 'n probleem, moeilikheid, tekortkoming of wat ook al is, "*aangespreek", na die Engels "to address (issues)". Laasgenoemde gebruik het so ingeslaan dat dit waarskynlik nie meer uit Afrikaans geweer kan word nie, maar wat het geword van aandag gee aan, oplos, aanpak, uit die weg ruim, ondersoek en so meer? Hierdie "aanspreek" is so 'n rommelkiswoord: hy beteken alles en niks en 'n mens weet nooit presies wat die gebruiker bedoel nie.

aanvat: Weer 'n doodgewone Afrikaanse woord vir byvoorbeeld 'neem wat iemand virjou aangee', maar skielik, agter die Engels "to take on (an opponent)" aan, wil ons in Afrikaans ook al ons opponente, teenstanders, vyande, ens. "*aanvat" (byvoorbeeld "Die Bokke vat die All Blacks aan") in plaas van speel teen, takel, aandurf, aanpak, uitdaag en dergelike.

besluite maak: In Engels kan 'n mens 'n besluit "take", "reach" of "make", maar laasgenoemde figureer sterk in die kombinasies "decision-making" en "decision-maker(s)". Dit is waarskynlik die oorsprong van die onidiomatiese "besluite maak", wat deesdae skynbaar besluite neem bykans verdring het. Eienaardig genoeg hoor 'n mens genadiglik nog nie "*besluitmaker(s)" nie, maar wel besluitnemer(s). Hierdie "besluite maak" moet maar vermy word.

by verre: Die idiomaties korrekte Afrikaanse uitdrukking vir die Engelse "by far" is verreweg: Dit is verreweg die lekkerste vakansieplek, verreweg die beste atleet, verreweg die mooiste rok. Ons het werklik nie die wederopstanding van die ou anglisisme "*by verre" nodig nie.

groei: In Engels kan die werkwoord "grow" oorganklik gebruik word, dit wil sê hy kan 'n voorwerp kry. Dit is dus goeie, idiomatiese Engels om te sê "one grows a beard/vegetables" of "we must grow our economy", maar in Afrikaans kan dit glad nie. Ons kan nie idiomaties sê "hy *groei 'n baard/groente" of "ons moet ons ekonomie groei" nie. Ook hierdie ou anglisisme steek deesdae weer oral sy lelike kop uit. Ek kan wel my baard laat groei, of groente kweek, of die ekonomie uitbou/laat groei, met mielies boer, en so meer.

kort van: 'n Mens kan "kort van" in Afrikaans idiomaties gebruik in uitdrukkings soos kort van draad/humeur/gedagte/duur, maar nie soos die Engelse "short of (something)" in die betekenis van 'nie genoeg van (iets) hê' of 'minder as' nie. Deesdae hoor 'n mens gedurig dié onidiomatiese segswyse in byvoorbeeld "hy is vier lopies *kort van sy honderdtal uitgeboul", "hulle het net *kort van 'n miljoen rand ingesamel", "sy het die wedloop in net *kort van die rekord voltooi". Nee wat, hier kan ons mos gerieflik sê net duskant of net/vier lopies minder as, net-net nie gehaal nie, of iets dergeliks.

opeindig: "To end up (somewhere/doing something)" is goeie Engels maar nie goeie Afrikaans nie. 'n Mens "eindig" nie in die moeilikheid of in die hospitaal of op 'n ander dorp of met pap op jou gesig of as hoofbestuurder "*op" nie - jy beland daar, of eindig daar of kry/word dit (uiteindelik/op die ou end) net.

siende dat: Hierdie ou klitsgras van 'n anglisisme kom deesdae ook weer te dikwels voor, selfs by mense wat werklik van beter behoort te weet. Die idiomatiese Afrikaanse uitdrukking is immers aangesien.

uitmis: In Afrikaans kan hierdie woord slegs een ding beteken, en dit is om deur die peristaltiese bewegings van die dermkanaal afvalmateriaal uit die (dier se) liggaam te werp, en dit kan slegs "op" iets gedoen word as dit op 'n bedpan/die grasperk/die vlakte/n voorstoep gedoen word. Hierdie walglike anglisisme kom deesdae wyd en syd voor, maar verdien geen plek in Afrikaans nie.

Bogenoemde is natuurlik net 'n paar van die opvallende anglisismes wat 'n mens ongelukkig al hoe meer in Afrikaans sien en hoor. Ek dink mense wat vir ons taal omgee, moet hulle teen die onbeheerste verspreiding van sulke kakiebos in ons taaltuin verset. As ons dit nie doen nie, sal dit altemit waar word wat ek vantevore al gesê het: eersdaags moet 'n mens dalk eers Engels ken voor jy Afrikaans kan verstaan.

 

JD (Tom) McLachlan
Vertaler en Taalversorger
tommcl@whalemail.co.za

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons