SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.56 issue2-2The support of the preschool child as emergent reader - a pilot studyHysteria and Perversion (Part 1): Some theoretical observations on victimhood in trauma discourses author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.56 n.2-2 Pretoria Jun. 2016

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2016/v56n2-2a10 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS

 

Die verband tussen geselekteerde biografiese veranderlikes en Graad R-onderwysers se houding teenoor die ontwikkeling van perseptueel-motoriese vaardighede van Graad R-leerders

 

The relation between selected biographical variables and the attitude of Grade R teachers towards the development of perceptual motor skills of Grade R learners

 

 

Annemarie LoubserI; Anita E PienaarII; Audrey KlopperIII

IFakulteit Opvoedingswetenskappe. Noordwes- Universiteit, Potchefstroom. E-pos: annemarie.loubser@nwu.ac.za
IISkool vir Biokinetika, Sport en Rekreasie. Noordwes-Universiteit, Potchefstroom
IIIFakulteit Opvoedingswetenskappe. Noordwes-Universiteit, Potchefstroom

 

 


OPSOMMING

Die ontwikkeling van Graad R-leerders se perseptueel-motoriese vaardighede kan moontlik beïnvloed word deur die Graad R-onderwyser se houding. 'n Positiewe houding sal die ontwikkeling van perseptueel-motoriese vaardighede bevorder, terwyl 'n negatiewe houding kan veroorsaak dat nie aandag gegee word aan dié vaardighede nie. 'n Kwantitatiewe metode is gevolg om te bepaal of die ontwikkeling van perseptueel-motoriese vaardighede by Graad R-leerders deur die onderwyser se houding beïnvloed kan word. Die respondente (n=25) wat volgens 'n gerieflikheidsteekproef geselekteer is, het 'n self-opgestelde vraelys voltooi. Resultate is statisties geanaliseer deur middel van beskrywende statistiek asook as Spearman se rangorde-korrelasie, om verbande te ontleed tussen die onderwysers se ouderdom en ondervinding, die sosio-ekonomiese omstandighede en die aantal leerders in die klas aan die een kant, met die tyd wat aan vakke in Graad R bestee word aan die ander kant. Daar is verder gebruik gemaak van tweerigting-frekwensie-tabelle met Chi-kwadraattoetse en Cramer's V om die sterkte van die verband tussen ras, taal van onderrig en die vrae wat verband hou met houding, te bepaal. 'n Beduidende verband is gevind tussen die onderwysers se ouderdom, die ondervinding van die onderwysers, die aantal leerders in die klas, die sosio-ekonomiese omgewing, en die tyd wat aan vakke bestee word. Ouer onderwysers met min ervaring en oorvol klasse bestee minder tyd aan onderrig van verskillende vakke. Indien dié aspekte aangepak word deur indiensopleiding, kan dit moontlik 'n positiewe effek uitoefen op die onderwyser se houding teenoor die onderrig van Lewensvaardighede, waarby die ontwikkeling van leerders se perseptueel-motoriese vaardighede sal baat om uiteindelik neer-slag te vind in beter skoolgereedheid van Graad 1-leerders.

Trefwoorde: houding, Graad R, Graad R-onderwysers, perseptueel-motoriese vaardighede, skoolgereedheid


ABSTRACT

The development of perceptual motor skills of Grade R learners can possibly be influenced by the attitude of the Grade R teacher, and this can contribute to the fact that Grade R learners are found to be not school ready in Grade 1. A positive attitude with Grade R teachers will promote the development of perceptual motor skills, while a negative attitude may prevent perceptual motor skills from being addressed effectively. During this research, a quantitative method was followed to establish whether the development of perceptual motor skills can be influenced by the attitude of the Grade R teacher, and the research was undertaken from apost-positivistic perspective. The respondents (n = 25) were selected according to availability, and they completed self-compiled questionnaires which were available in Afrikaans and/or English. The questionnaires were completed by Grade R teachers teaching in quintile 1 (n=5) (informal settlements); quintile 2 (n=4); quintile 3 (n=7); quintile 4 (n=4) and quintile 5 (n=5) (formal residential area) schools.
The Department of Basic Education grades schools in quintiles according to the availability of learning and teaching support material (LTSM) as well as the area in which the school is situated. Results from this research were statistically analysed by means of descriptive statistics as well as Spearman's rank correlation, in order to analyse relationships between the amount of time devoted to teaching subjects in Grade R, the age and experience of Grade R teachers, as well as the socio-economic environment and the number of learners in the class on the one hand with the time spent on subjects in Grade R on the other hand. Two-way frequency tables with Chi square tests and Cramer's V were utilised to establish the strength of the relationships between race, language of teaching and learning and questions relating to attitude. A significant relationship was found between the age of Grade R teachers, their experience, the number of learners in the class, the socio economic environment and the time allocated to specific subjects. From the results it can be deduced that older teachers with little experience, with inadequate qualifications to teach Grade R, and teaching in overcrowded classes, devote less time to teaching various subjects. Results also show that sufficient LTSM is essential in order to effectively present the subject Life Skills, which includes teaching of perceptual motor skills. If these aspects are addressed by in-service training, the attitude of the teachers towards Life Skills will be affected positively, which in turn will benefit the development of learners 'perceptual motor skills and reflect in the school readiness of Grade 1 learners.
If these aspects were addressed by in-service training, the attitude of the teachers towards Life Skills would be affected positively, which would in turn benefit the development of learners' perceptual motor skills, eventually to be reflected in the school readiness of Grade 1 learners.

Key words: attitude, Grade R, Grade R teachers, perceptual motor skills, Life Skills, school readiness


 

 

1. INLEIDING

Die ontwikkeling van perseptueel-motoriese vaardighede vorm deel van die vak Lewensvaar-dighede (Suid-Afrika. Departement van Basiese Onderwys, 2011:8). Die vak Lewensvaardighede word georganiseer in vier areas waarbinne perseptueel-motoriese ontwikkeling tydens die onderrig van Skeppende kunste en Liggaamsopvoeding aangepak word (SA. DvBO, 2011:8). Die ontwikkeling van perseptueel-motoriese vaardighede is noodsaaklik om skoolsukses binne die formele leerfase (Graad 1) te verseker (Pienaar, Barhorst & Twisk 2013:2).

Die doel met hierdie navorsing is derhalwe om die verband tussen geselekteerde biografiese veranderlikes wat die onderwyser se ouderdom, ondervinding en kwalifikasies, asook die taal en klasbywoning van die leerders insluit, en die Graad R-onderwyser se houding teenoor die perseptueel-motoriese vaardighede van Graad R-leerders te bepaal. Hierdie verband sal gemeet word deur die hoeveelheid tyd wat aan die onderrig van Lewensvaardighede in Graad R bestee word.

Gesien vanuit Bronfenbrenner se bio-sosiaal-ekologiese perspektief met die fokus op die makro-, ekso-, meso- en mikrosisteme, word die Graad R-onderwyser se ingesteldheid of houding ten opsigte van die onderrig van perseptueel-motoriese vaardighede, binne die vak Lewensvaardighede, moontlik deur verskeie faktore beïnvloed (Diale, Pillay & Fritz 2014:84). Faktore soos die onderwyser se ouderdom, ondervinding en leemtes in kennis, asook die leerders se taal en ras en die skoolomgewing van die leerders, word deur dié navorsers uitgelig (Diale et al 2014:84).

Die ontwikkeling van die Graad R-leerder se perseptueel-motoriese vaardighede (SA. DvBO 2011:10) word binne die mikrosisteem aangespreek. Die fisieke en motoriese ontwikkeling van die leerder vorm 'n integrale deel van die holistiese ontwikkeling van die leerder en speel inherent 'n rol in die leerder se sosiale, persoonlike en emosionele ontwikkeling (SA. DvBO 2011:10). Dié ontwikkeling kan nie effektief plaasvind indien die onderwyser Graad R as 'n afgewaterde Graad 1 beskou (Van der Berg & Harris 2014:2), waar formele werk met werkkaarte die tydstoekenning van "speel" oorheers nie (Drew 2010:5; Excell 2011:107). Dié leerders sal dikwels gefrustreerd, verveeld, ongedissiplineerd en stout voorkom, aangesien hul fynmotoriese vaardighede nog besig is om te ontwikkel en hulle nie vir lang periodes kan stilsit, inkleur of skrifpatrone kan natrek nie (Erasmus 2012:97; Excell 2011:107; SA. DvBO 2011:10). Graad R-onderwysers wat op hierdie wyse skoolhou, kan moontlik as gevolg van 'n leemte in hul kennis oor hoe om die leerders effektief te onderrig, 'n negatiewe houding teenoor die onderrig van Lewensvaardighede openbaar, en dit sal die ontwikkeling van perseptueel-motoriese vaardighede strem en skoolsukses beïnvloed.

Binne Graad R kan leerders van verskillende ouderdomme geakkommodeer word (Moloi & Chetty 2011:1), aangesien leerders reeds Graad 1 toe kan gaan indien hulle vyfjaar oud is en ses word voor 30 Junie van dieselfde jaar (Moloi & Chetty 2011:2). Dit kan meebring dat al die Graad R-leerders se ontwikkeling nie altyd op dieselfde vlak is nie. Die onderwyser wat sonder toepaslike ervaring by hierdie verskillende vlakke van ontwikkeling moet aanpas, kan moontlik 'n negatiewe houding ontwikkel.

Die mesosisteem omvat die onderwyser se persepsie teenoor die ouers en beïnvloed die onderrig van Lewensvaardighede hetsy positief of negatief, en affekteer dus inherent die onderwyser se houding. Volgens Lawrence Lightfoot (Moloi & Chetty 2011) beïnvloed die persoonlikheid van die onderwyser die wyse waarop hy/sy die leerders en ouers hanteer en hoe hy/sy met hulle praat. Navorsing gedoen deur Excell (2011:157) rapporteer dat die onderwyser se houding beïnvloed kan word deur ouers wat moeilik is om tevrede te stel en selfsugtig en veeleisend optree (Excell 2011:338). Ouers verwag van die Graad R-onderwyser om hul kinders skoolgereed "te maak", wat druk op die onderwyser kan plaas en sodoende kan veroorsaak dat die onderwyser meer sal konsentreer op die onderrig van Wiskunde en Taal, en sodoende die onderrig van Lewensvaardighede en perseptueel-motoriese ontwikkeling sal afskeep.

Die eksosisteem ("exoxystem") soos omskryf deur Landsberg, Krüger en Swart (2011:13) verwys na een of meer omgewings wat direk 'n invloed op leerders uitoefen en omvat binne hierdie artikel die skool, onderwyser en leer- en onderrigsteunmateriaal, wat moontlik die houding van die Graad R-onderwyser ten opsigte van die onderrig van perseptueel-motoriese vaardighede kan beïnvloed.

Navorsing gedoen deur Diale et al. (2014:86) rapporteer in dié verband dat hierdie persoonlike ondervinding in die lewe van die onderwyser sy/haar persepsie en onderrig van Lewensvaardighede kan beïnvloed en dus inherent die onderwyser se houding kan affekteer. Diale et al. (2014:87) argumenteer dat onderwysers betrokke by Lewensvaardighede soms nie hul persoonlike en professionele self van mekaar kan skei nie, want kennis word voortgebou op vorige ervaring. Die navorsers rapporteer verder dat onderwysers se houding wissel van die mees positiewe tot die mees negatiewe. Hierdie houding is nie slegs gebaseer op hul professionele ontwikkeling nie, maar sluit hul persoonlike sienings, opinies, oortuigings, gedagtes en ervarings van die onderrig van Lewensvaardighede in. Binne die onderwysstelsel word Graad R-onderwys soms as minderwaardig beskou en word die belangrikheid van 'n stewige fondasie onderskat (Erasmus 2012:95). Navorsing uitgevoer deur Erasmus (2012:95), toon dat skoolverlaters in Afrika dit selde oorweeg om laerskoolleerders te onderrig, aangesien die beroep as minderwaardig beskou word (Green, Parker, Deacon & Hall 2011:112). 'n Verdere faktor kan moontlik die gebrek in status en beroepsgeleenthede vir die vroeë kinderontwikkeling-onderwyser wees (Excell 2011:101; Samuels 2010:8). Sommige onderwysers besluit op die onderrig van Graad R aangesien hulle glo dat hulle slegs kinders hoef op te pas en versorg (Excell 2011:101), wat nie 'n groot uitdaging aan hulle sal stel nie. In hierdie skole vind daar gevolglik geringe tot geen onderrig en stimulasie plaas nie.

Verder kan die skoolbywoning van die onderwyser en leerders moontlik die onderwyser se houding beïnvloed. Leerders en onderwysers is gereeld afwesig, wat effektiewe onderrig bemoeilik. Administratiewe strukture, mededingende salarisse en geleentheid vir professionele ontwikkeling kan geassosieer word met die onderwyser se motivering en skoolbywoning. Onderwysers wat te min verdien moet gewoonlik 'n alternatiewe beroep beoefen, wat kan veroorsaak dat hulle nie gereeld in hul klasse is nie (Lee & Zuze 2011:3). Vroeë kinderontwikkeling-onderwysers word soms min betaal en daarom verlaat hierdie onderwysers die beroep vir ander werksgeleenthede met beter besoldiging (Drew 2010:19; Sherry & Draper 2013:1298). Sommige Graad R-onderwysers beskou die onderwysberoep slegs as 'n ekstra inkomste, aangesien hulle dikwels enkel ouers is wat gesinne moet onderhou en geen ander beroep kan beoefen nie (Excell 2011:100).

Binne die skool kan die aantal leerders per klas moontlik verder bydra tot die onderwyser se houding ten opsigte van die onderrig van perseptueel-motoriese vaardighede. Navorsing deur Erasmus (2012:107) rapporteer dat sommige skole in agtergeblewe omgewings in beperkte ruimtes tot 60 leerders per onderwyser moet akkommodeer, wat die onderrig van perseptueel-motoriese vaardighede aansienlik bemoeilik. Aktiwiteite soos die bou van konstruksies met blokkies en verskeie voorwerpe asook die manipulering van materiaal wat perseptueel-motoriese vaardighede ontwikkel, benodig groot oop binne ruimtes soos 'n mat-area, wat nie beskikbaar is indien te veel leerders binne 'n klas geakkommodeer moet word nie. Navorsing uitgevoer deur Lee (2011:5) rapporteer dat daar in Suid-Afrika 'n verband bestaan tussen die hoë onderwyser-kind-ratio, skoolprestasie en die leerder se ontwikkeling (Sherry & Draper 2013:1305), waar te veel leerders per klas met laer akademiese prestasie gepaardgaan.

Binne 'n kind-gesentreerde pedagogie wat in Graad R heers, kan dit vir die onderwyser moeilik wees om die leerder se progressie of vordering, indien enige, te bepaal aangesien alle assessering, veral in Lewensvaardighede, deurlopend en informeel moet plaasvind (SA. DvBO 2011:68). Die onderwyser vind dit makliker om Wiskunde en Taal te assesseer, aangesien dit makliker bepunt kan word, wat moontlik die onderwyser se houding teenoor die aanbieding van Lewensvaardighede kan beïnvloed. Indien die onderwyser deeglike opleiding ontvang het, sal sy/hy in staat wees om Lewensvaardighede te assesseer wat die noodsaaklikheid van kwaliteit-opleiding bevestig (Lee & Zuze 2011:5).

Die kurrikulum van Suid-Afrikaanse skole vereis onderwys wat vergelykbaar is met internasionale standaarde in terme van kwaliteit en omvang (SA. DvBO 2015:5). Hierdie onderwysers moet deeglik gekwalifiseerd en toegewyd wees, asook vir die leerders omgee en verskeie rolle kan vertolk (Diale et al 2014:84). Lee en Zuze (2011:3) rapporteer dat baie skole 'n tekort aan onderwysers ervaar, wat veroorsaak dat 'n laer intreevereiste aan onderwysprogramme gestel word en dit kan onderwysersopleiding beïnvloed. Daar word 'n noue verband gerapporteer tussen die onderwyser se vakkennis, wat opleiding insluit, en die leerder se akademiese sukses (Drew 2010:8; Lee & Zuze 2011:3). Sherry en Draper (2013:1305) bevestig dat 'n gebrek aan onderwysopleiding moontlik 'n verdere faktor kan wees wat kan bydra tot die onderwyser se leemte in kennis, wat hul houding teenoor perseptueel-motoriese-ontwikkeling kan beïnvloed. Onderwysers wat oor geen formele onderwysopleiding beskik nie en slegs as 'n mamma-figuur optree, openbaar 'n meer simpatieke en verstaanbare optrede teenoor die leerders. Hul verhouding is meer soos dié van 'n ouer en hulle kom ontspanne en natuurlik voor (Excell 2011:100), maar hulle beskik nie oor die nodige pedagogiese kennis nie. As gevolg van die leemte in kennis word daar baie min aandag aan die onderrig van perseptueel-motoriese vaardighede gegee.

Om perseptueel-motoriese vaardighede effektief aan te bied, is leer- en onderrigsteunmateriaal noodsaaklik. Lee en Zuze (2011:16) rapporteer 'n noue verband tussen leer- en onderrigsteun-materiaal en leerders se akademiese resultate. Sherry en Draper (2013:1304) rapporteer dat aktiwiteite wat die geleentheid moet bied om die omgewing te ontdek, verskeie voorwerpe en materiaal te manipuleer, asook die ontwikkeling van perseptueel-motoriese vaardighede wat visuele persepsie, beredenering en koördinasievaardighede moet stimuleer, dikwels ontbreek. Die tendens kan meestal toegeskryf word aan 'n tekort aan leer- en onderrigsteunmateriaal en voldoende spasie om vrylik rond te beweeg (Excell 2011:234; Sherry & Draper 2013:1304). Dit is moontlik dat 'n gebrek of tekort aan leer- en onderrigsteunmateriaal die onderwyser se houding oor die onderrig van Lewensvaardighede kan beïnvloed, aangesien Lewensvaardighede nie effektief sonder leer- en onderrigsteunmateriaal aangebied kan word nie.

Binne die makrosisteem kan die onderwys, sosio-ekonomiese samelewing, die gemeenskap en omgewing en kultuur 'n rol speel in die houding van die onderwyser ten opsigte van die onderrig van perseptueel-motoriese vaardighede. Die Departement van Basiese Onderwys se aanvanklike benadering was dat alle Graad R-leerders teen 2014, voor Graad 1, eers aan 'n Graad R-program by 'n laerskool blootgestel moes word (South Africa. Department of Education 2011:22). Hierdie beplanning het egter nie gerealiseer nie, en ouers was genoodsaak om hul kinders by privaat instellings te registreer. Daar is bevind dat privaat instellings baie duurder is as Graad R-skole wat wel by laerskole geïmplementeer is (Sherry & Draper 2013:1296). Die Departement van Basiese Onderwys se aanvanklike beplanning was om Graad R-programme by laerskole te befonds. Daar word egter deur die regering van Suid-Afrika 'n kleiner bedrag per jaar vir vroeë kinderontwikkeling-leerders begroot as vir leerders in laerskole (Sherry & Draper 2013:1296). Onderwysers kan gevolglik ongemotiveerd raak, aangesien die Departement van Basiese Onderwys se doelwitte en beplanning nie tot uitvoering kom nie.

Effektiewe onderrig is elke kind se reg, maar 6,5 miljoen (59,2%) kinders in Suid-Afrika tussen die ouderdomme van 0 en 6 jaar leef in armoede. Dit is 'n risikofaktor wat hierdie kinders kan uitsluit van die basiese reg tot effektiewe onderrig (Sherry & Draper 2013:1295). 'n Nasionale oudit van vroeë-kinderonderwys het in 2001 getoon dat van 6 miljoen kinders tussen 0 en 6 jaar, slegs een miljoen vroeë kinderontwikkeling-opleiding ontvang het. Die helfte van dié vroeë kinderontwikkeling-dienste is verskaf deur plaaslike kleuterskole, een derde was geleë in privaat huise, en 'n klein hoeveelheid het deel van laerskole gevorm (Sherry & Draper 2013:1296). Infrastruktuur soos elektrisiteit, water en spoeltoilette was slegs by 53% van die skole beskikbaar, terwyl 8% (1669 skole) oor geen van die nodige infrastruktuur beskik het nie (Sherry & Draper 2013:1296). Die meeste skole is privaat skole wat geen subsidie van die Departement van Basiese Onderwys ontvang nie en slegs van die inkomste van die leerders se ouers afhanklik is. Hierdie privaat skole is gewoonlik duur, en arm gesinne kan nie dié onderrig bekostig nie (Sherry & Draper 2013:1299). Hierdie omstandighede waarbinne die onderwysers onderrig moet gee, kan 'n verdere faktor wees wat moontlik hul motivering en houding beïnvloed.

Lewensvaardighede is 'n holistiese leergebied, waar leerders "bietjie van alles leer" (Diale et al 2014:87), en daarom beskou onderwysers oor die algemeen die onderrig van Lewensvaardighede as minder belangrik. Hierdie stelling word ondersteun deur Rooth (2008:178) wat aanvoer dat Lewensvaardighede dikwels afgeskeep word, weens 'n groter fokus op Taal en Wiskunde (Excell 2011:107). Volgens Benson (2005:2) bestaan die vermoede dat onderwysers dink Lewensvaardighede kan toevallig of terloops aangeleer word. Shumba, Mpofu, Seotlwe en Montsi (2011:1) is van mening dat die implementering van Lewensvaardighede slegs so goed sal wees as die persoon wat dit aanbied.

Indien daar gekyk word na die tydstoekenning van elke vak binne die Grondslagfase kan daar afgelei word dat die Departement van Basiese Onderwys ook die onderrig van Lewensvaardighede as minder belangrik vergeleke met Taal en Wiskunde beskou (SA. DvBO 2011:6). Binne die Nasionale Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring word daar in Graad R vir die onderrig van Taal 10 ure per week toegestaan, vir Wiskunde 7 ure en vir die onderrig van Lewensvaardighede 6 ure, wat georganiseer moet word tussen Aanvangkennis (1 uur), Skeppende kunste (2 uur), Liggaamsopvoeding (2 uur) en Persoonlike en Sosiale welsyn (1 uur) (SA. DvBO 2011:6). Die onderrig van perseptueel-motoriese vaardighede vorm deel van die vakke Skeppende kunste en Liggaamsopvoeding waaraan 2 uur elk per week toegestaan word. Hierdie verminderde tydstoedeling kan moontlik veroorsaak dat die Graad R-onderwyser Lewensvaardighede as minder belangrik beskou, vergeleke met Taal en Wiskunde en verwag dat Lewensvaardighede toevallig of terloops aangeleer sal word (Benson 2005:2; Orban 2003:2).

Om Lewensvaardighede effektief te onderrig moet 'n veilige, skoon en geborge omgewing met genoegsame geleenthede geskep word waar die leerders kan speel en die wêreld onder die onderwyser se sorgsame leiding kan ontdek. Binne sodanige omgewing sal leerders die geleentheid kry om noodsaaklike lewensvaardighede, wat perseptueel-motoriese vaardighede insluit, te bemeester (SA. DvBO, 2011:10). Leerders sal ook meer tuis voel in 'n onderrigatmosfeer wat gemaklik is en waar onderrig op 'n informele wyse hanteer word (Roopnarine & Johnson 2011:165).

Volgens die bio-sosiaal-ekologiese perspektief van Bronfenbrenner word die onderrig van die onderwyser beïnvloed deur die omgewing waarbinne hy/sy skoolhou. Daar kan gevolglik afgelei word dat die direkte omgewing waarbinne die onderwyser skoolhou die wyses van onderrig van Lewensvaardighede kan beïnvloed (Diale et al. 2014:85; Excell 2011:105). Indien veranderinge binne die onderwyser se sosiale, organisatoriese en fisiese omgewing sou plaasvind, is dit moontlik dat dit die onderwyser se houding kan beïnvloed (Diale et al. 2014:85). Sherry en Draper (2013:1293) rapporteer dat 200 miljoen kinders onder die ouderdom van vyf weens armoede nie hul potensiaal sal bereik nie. Die onderwysers wat binne hierdie sosio-ekonomiese omgewing moet skoolhou waar min leerders wel hul potensiaal gaan bereik, se houding sal moontlik hierdeur beïnvloed word.

 

2. METODE

2.1 Navorsingsontwerp

Hierdie navorsing is vanuit 'n post-positivistiese perspektief onderneem wat data-inhoud die beste kan beskryf al kan dit nie noodwendig gemeet word aan die werklikheid nie (Henning 2013:17; Joubert, Hartell & Lombard 2016:382). Vir die doel van hierdie artikel is daar gebruik gemaak van 'n kwantitatiewe navorsingsontwerp met 'n gestruktureerde selfopgestelde vraelys as data-insamelingsinstrument. Dié metode van data-insameling is as geskik beskou om die verband te bepaal tussen geselekteerde biografiese veranderlikes, die onderwysers se opleiding, die leerders se ras, taal van onderrig, sosio-ekonomiese omstandighede, aantal leerders in die klas en die onderwysers se houdings, asook tyd wat aan vakke in Graad R bestee word wat moontlik perseptueel-motoriese ontwikkeling, wat deel vorm van die vak Lewensvaardighede kan beïnvloed (SA. DvBO 2011:6,10.

2.2 Populasie

Die studiepopulasie het aanvanklik bestaan uit twee en dertig (n=32) Graad R-onderwysers, in die Potchefstroomdistrik, wat deel gevorm het van 'n gerieflikheidsteekproef. Vyf-en-twintig (n=25) (78%) van hierdie onderwysers het die vraelyste vrywillig voltooi. Die vraelyste is voltooi deur Graad R-onderwysers wat in kwintiel 1 (n=5) (informele nedersettings), kwintiel 2 (n=4), kwintiel 3 (n=7), kwintiel 4 (n=4) en kwintiel 5 (n=5) (formele woonbuurt)-skole skoolhou. Die Departement van Basiese Onderwys (South Africa 2007) ken graderings aan skole toe op grond van die beskikbaarheid van leer- en onderrigsteunmateriaal asook die omgewing waarbinne die skool geleë is, wat as kwintiel bekend staan. Hierdie gradering wissel van die hoogste, kwintiel 5, wat aan die beste toegeruste skole toegeken word, tot die laagste, kwintiel 1, wat aan skole met min toerusting en hulpbronne toegeken word. Skole wat in lae sosio-ekonomiese woongebiede geleë is, val binne kwintiel 1 en 2. Skole wat alle kwintiele verteenwoordig, is gekies sodat verskillende skole in verskillende kwintiele vergelyk kon word.

2.3 Meetinstrument

Data is ingesamel deur gebruik te maak van 'n selfopgestelde vraelys. Die vraelys is vergesel van 'n begeleidende brief, in Afrikaans en Engels, met duidelike voorskrifte vir die invul van die vraelys. Die vraelys is in drie afdelings verdeel. Vir die doel van hierdie artikel word daar slegs gefokus op twee afdelings: Afdeling A - biografiese gegewens van die respondente en Afdeling B1, tydsbesteding aan Lewensvaardighede sowel as aan Taal en Wiskunde.

AFDELING A: Biografiese gegewens

Die items in Afdeling A hou verband met die volgende biografiese besonderhede van die respondente, naamlik ouderdom; jare ondervinding as Graad R-onderwyser; hoogste professionele kwalifikasie en datum verwerf; waar die kwalifikasie verwerf is; opleiding om alle fasette in Graad R aan te bied; ras van leerders wat oorwegend die klas bywoon; taal van onderrig; aantal leerders in die respondente se klas, verdeel volgens seuns/dogters; en die sosio-ekonomiese omstandighede van die leerders in die klas.

AFDELING B: Tydbesteding

Afdeling B fokus op die tydbesteding aan die drie vakke in Graad R: Taal, Wiskunde en Lewensvaardighede, wat perseptueel-motoriese vaardighede insluit. Respondente moes hul keuse deur middel van 'n X aandui op 'n skaal wat gewissel het van minder as 1 uur per week, 1 - 2 uur per week tot meer as 2 ure per week. Die response van Afdeling B in die vraelys gee 'n beeld van die onderwyser se houding teenoor die onderrig van Lewensvaardighede in Graad R. Daar word aanvaar dat hoe meer tyd per week aan Lewensvaardighede bestee word, hoe belangriker word die onderrig van die gedeelte geag en hoe meer positief is die houding wat die onderwyser teenoor Lewensvaardighede sal openbaar.

2.4 Betroubaarheid

Ten einde goeie geldigheid en betroubaarheid van die selfopgestelde vraelys wat as meetinstrument gebruik is, te verseker, is die samestelling van die vraelys met Statistiese Konsultasiedienste by die Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus, bespreek. 'n Konsepvraelys is daarna deur 'n loodsondersoekspan met kundige en ervare Grondslagfase-kollegas beoordeel, ten einde te bepaal of die items relevant is en aan die doel van die vraelys voldoen. Onduidelik geformuleerde en nierelevante items is geïdentifiseer en die nodige verbeteringe en veranderinge is aangebring op advies van 'n statistikus. Die vraelys het volgens die navorser en die professionele kundiges aan die doelstellings van die meetinstrument beantwoord. Om eenvormige administrasieprosedures van die vraelys te verseker, is dieselfde nasien- en punte-toekenningsprosedures vir elke vraelys gevolg.

2.5 Etiese aspekte

Skriftelike toestemming is vooraf van die Departement van Basiese Onderwys verkry, en etiese goedkeuring vir die uitvoering van die studie is ook deur die Noordwes-Universiteit se etiekkomitee verleen (etieknommer - NWU-00056-12A1). 'n Mondelinge verduideliking asook 'n begeleidende brief in Engels en Afrikaans oor die navorsingsdoelwitte, asook die wyse waarop die inligting gebruik gaan word, is aan die respondente gekommunikeer (Miles & Huberman 1994:291-293). Die vertroulikheid van die ondersoek is gehandhaaf en die versekering is gegee dat geen inligting aan 'n derde persoon bekend gemaak sal word sonder die toestemming van die respondente self nie, en dat geen inligting gekoppel kan word aan 'n deelnemer, spesifieke skool of persoon nie (Miles & Huberman 1994:293).

2.6 Statistiese analise

Na voltooiing van die vraelyste het die navorser dit persoonlik by die betrokke skole gaan afhaal. Die voltooide vraelyste is met behulp van Statistiese Konsultasiedienste van die Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus, ontleed en data is verwerk en statisties ontleed deur gebruik te maak van die SPSS-program (2013, weergawe 22.0.0). Beskrywende statistiek is gebruik vir die bespreking van die resultate. Spearman se rangordekorrelasie is gebruik om te bepaal of daar 'n verband bestaan tussen die onderwyser se houding, soos gemeet deur die hoeveelheid tyd wat aan die onderrig van vakke in Graad R bestee word, die onderwysers se ouderdom, ondervinding, aantal seuns en dogters in die klas, en die sosio-ekonomiese omstandighede van die leerders in die klas. Daar is verder tweerigting-frekwensietabelle saamgestel met Chi-kwadraattoetse en Cramer's V om die sterkte van die verband tussen ras, taal van onderrig en die vrae wat verband hou met houding, te bepaal.

 

3. RESULTATE

Uit die biografiese inligting van die 25 respondente is gevind dat die meeste respondente binne die ouderdomsgroep 30-40 jaar (n=8, 32%) en 41-50 (n=8, 32%) jaar geval het tydens voltooiing van die vraelys. Slegs 20% (n=5) van die respondente was jonger as 30 jaar. Veertig persent (40%) (n=10) het minder as drie jaar ondervinding as Graad R-onderwysers gehad, terwyl 20% (n= 5) tussen 3 en 5 jaar ondervinding aangedui het. Slegs twee respondente het beskik oor 'n BEd Grondslagfase-onderwyskwalifikasie wat Graad R- onderrig insluit, sewe respondente (n=7) het beskik oor 'n onderwysdiploma, terwyl die meeste van die respondente (n=16) slegs oor 'n basiese Graad 10-kwalifikasie beskik het. Die meeste van die respondente se klasse is oorwegend bygewoon deur swart leerders (n=21, 84%) wat Setswana-sprekend (n=10, 40%) is. Drie respondente (n=3) het aangedui dat hul blanke leerders in die klas het, wat Afrikaans praat (n=4), terwyl drie (n=3) klasse Engelssprekende leerders en agt (n=8) Setswana- en Engelssprekende leerders gehad het. Slegs een skool het kleurling leerders gehad, terwyl geen skool hoofsaaklik bygewoon is deur Indiër leerders nie. In die skole waar die respondente skoolhou, woon meer seuns (n=310, 51%) as dogters (n=307, 49%) Graad R-onderrig by, en die meeste leerders kom uit gemiddelde (n=12, 48%) en lae (n = 8, 32%), tot laag-gemiddelde (n = 5, 20%) sosio-ekonomiese omstandighede.

Ten einde die daaglikse tydsbesteding aan die onderrig van Lewensvaardighede te bepaal, is Afdeling B van die vraelys ontleed, waar die respondente die daaglikse tydbesteding per week aan die onderrig van Lewensvaardighede, Wiskunde en Taal op 'n skaal deur middel van 'n X moes aandui (vgl. Tabel 1). Antwoorde van die respondente (n=25) is na 'n persentasie verwerk. Nege respondente het aangedui dat hulle minder as een uur per week aan die onderrig van Wiskunde en Taal bestee, terwyl sewe respondente minder as een uur per week aan Lewensvaardighede bestee. Nege respondente bestee 1-2 uur per week aan die onderrig van Lewensvaardighede, teenoor Wiskunde (n = 4) en Taal (n = 6).

 

 

Vervolgens is die invloed van biografiese inligting op die tydsbesteding van onderwysers ondersoek. 'n Spearman-rangordekorrelasie is bereken tussen tydsbesteding en ordinale biografiese gegewens soos jare ervaring, ouderdom, aantal leerders in klas en die sosio-ekonomiese omstandighede van die leerders wat die skool bywoon. Geen prakties betekenisvolle verband is tussen tyd bestee aan die onderrig van Taal (r=0,06), Wiskunde (r=0,07) en Lewensvaardighede (r=0,14) en die ondervinding van die onderwyser gevind nie. Daar is 'n medium negatiewe, prakties betekenisvolle verband aangedui tussen die tyd wat bestee is aan Wiskunde en die ouderdom van die onderwysers (r=-0,23), die aantal seuns (r=-0,27) en dogters (r=-0.56) in die klas, asook tussen die tyd bestee aan Lewensvaardighede en die ouderdom van die onderwysers (r=-0,17), en die aantal dogters (r=-0,12) in die klas. Die resultate met betrekking tot die moontlike verband tussen die onderrig van Taal en die ouderdom van die onderwysers (r=-0,02), en die aantal seuns (r=-0,06) en dogters (r=-0,03) in die klas, het soos Wiskunde en Lewensvaardighede dieselfde resultate getoon, wat beteken dat hoe ouer die onderwyser is, of hoe meer kinders in die klas is, hoe minder tyd word aan die onderrig van Lewensvaardighede bestee.

Sosio-ekonomiese omstandighede het 'n medium positiewe, prakties betekenisvolle verband getoon met tyd bestee aan Wiskunde (r=0,24), Taal (r=0,30) en Lewensvaardighede (r=0,23), wat daarop dui dat hoe laer die sosio-ekonomiese omstandighede van die leerders is, hoe minder tyd word bestee aan die onderrig van Lewensvaardighede, Taal en Wiskunde. Geen van hierdie verbande is egter statisties beduidend nie, wat moontlik die gevolg van 'n te klein steekproefgrootte kan wees. Die aantal dogters in die klas het 'n betekenisvolle verband getoon met die tyd wat aan Wiskunde bestee word (r=0.56) (vergelyk Tabel 2).

 

 

Tweerigting-frekwensietabelle met Chi-kwadraattoetse (X2) is uitgevoer om te bepaal of die daaglikse tyd wat aan die onderrig van Taal, Wiskunde en Lewensvaardighede bestee is, betekenisvol verskil vir ras wat oorwegend die klas bywoon en taal van onderrig.

Aangesien 'n gerieflikheidsteekproef gebruik is, is p-waardes nie relevant nie, maar word volledigheidshalwe gerapporteer. Daar word gefokus op Cramer se V-waarde wat die sterkte van die verbande weergee (vergelyk Tabel 3). 'n Groot verband (0,45) is aangetoon tussen tyd bestee aan Lewensvaardighede (p=0,05) en die ras van die leerders wat oorwegend die klas bywoon. Skole wat oorwegend deur blanke leerders bygewoon word, bestee daagliks meer as 2 ure per dag aan die onderrig van Lewensvaardighede terwyl skole wat deur oorwegend swart en kleurling leerders bygewoon word minder as 2 uur aan die onderrig van Lewensvaardighede bestee. Dieselfde patroon was sigbaar vir tyd bestee aan onderrig van taal en ras. Alhoewel nie statisties betekenisvol nie, word dieselfde prakties betekenisvolle verband waargeneem tussen taal van leerders en tyd bestee aan die verskillende vakke.

 

 

4. BESPREKING

Dit blyk uit hierdie resultate dat die meerderheid respondente persone ouer as 30 jaar was, met minder as 5 jaar Graad R-ervaring, en wat oor 'n onvoldoende kwalifikasie vir Graad R-onderrig beskik. Die resultate, alhoewel gebaseer op 'n klein groepie respondente, dui daarop dat minder jong persone binne hierdie studie in die Grondslagfase wil studeer en skoolhou. Dit sluit aan by bevindinge wat daarop dui dat die kwalifikasie soms as minderwaardig beskou word (Erasmus 2012:95; Green et al. 2011:112) en salarisse soms nie kompeterend is nie (Lovemore 2012:1; Westraad 2011:24, 25).

Die skole wat deel gevorm het van hierdie navorsing is oorwegend bygewoon deur swart leerders en die tweede meeste leerders in die skole is blanke leerders. Daar is 'n sterk verband (r=0,45; p=0,05) aangetoon tussen die ras wat die skool bywoon en die tyd wat aan die onderrig van Lewensvaardighede bestee word. Skole wat deur blanke leerders bygewoon word, bestee meer as 2 uur per week aan die onderrig van Lewensvaardighede, terwyl skole wat oorwegend deur swart en kleurlingleerders bygewoon word, minder as 2 uur per week aan die onderrig van Lewensvaardighede bestee. Die onderrigtyd in kwintiel 1- en 2-skole kan moontlik gebruik word vir die implementering en bestuur van die voedingsprogram, en onderwysers in hierdie skole kan gevolglik nie ses ure per week werk soos voorgeskryf deur die Nasionale Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (KABV) (SA. DvBO 2011:6) aan die onderrig van Lewensvaardighede bestee nie. Volgens Vorster (2011:4) is 30% van die kinders in Suid-Afrika ondervoed, toon hulle belemmerde groei, en is dit hoofsaaklik swart kinders in plattelandse gebiede. Hierdie leerders vorm deel van 'n geïntegreerde voedingsprogram waar leerders maaltye by die skool ontvang (Büchner-Eveleigh & Nienaber 2012:130). Hierdie voedingsprogramme kan moontlik bydra tot die inperking van onderrigtyd, wat moontlik kan veroorsaak dat onderwysers nie die beskikbare tyd effektief aan onderrig kan bestee nie.

Indien die onderrig van Lewensvaardighede vergelyk word met die taal van onderrig is die resultate nie statisties betekenisvol nie (p=0,268), maar 'n sterk praktiese verband (r=0,41) word wel aangedui. In die skole waar die taal van onderrig Afrikaans was, word meer as 2 ure aan die onderrig van Lewensvaardighede bestee, teenoor skole waar die onderrigtaal Setswana was. Daar kan dus afgelei word dat Afrikaanse skole wat deel van hierdie navorsing gevorm het in 'n beter sosio-ekonomiese omgewing geleë is waar minder tyd aan voedingsprogramme bestee word, wat meer tyd vir onderrig toelaat. Leerders wat nie onderrig word in hul huistaal nie en nie die instruksies van die onderwyser kan verstaan nie, kan moontlik bydra tot die onderwyser se negatiewe houding.

Erasmus (2012:107), Lovemore (2012:1) en Sherry en Draper (2013:1295) is van mening dat die aantal leerders per klas ook die tyd wat aan onderrig bestee word, beïnvloed, en die akademiese prestasie van die leerder sal beïnvloed - wat indirek die houding van die onderwyser kan affekteer. Verder kan 'n groot groep leerders woelig en raserig wees wat indirek die houding van die onderwyser kan affekteer. Alhoewel hierdie studie 'n klein ratio van seuns/dogters verteenwoordig, rapporteer navorsing dat meer seuns as dogters oor die algemeen deel vorm van vroeë kinderontwikkeling (UNESCO 2007:118, 144). Hoe swakker die sosio-ekonomiese omgewing waar die leerders grootword, hoe minder dogters vorm deel van vroeë-kinderonderwys (UNESCO, 2007:139), aangesien die ma dikwels moet werk en die dogters by die huis moet bly om na die huishouding om te sien (UNESCO 2007:118, 144).

Die sosio-ekonomiese omgewing waar die leerders skoolgaan, het 'n prakties betekenisvolle verband getoon met die tyd wat aan Wiskunde, Taal en Lewensvaardighede bestee word. Skole wat bygewoon word deur leerders wat uit 'n lae sosio-ekonomiese omgewing kom, bestee minder tyd aan onderrig, wat moontlik ook daaraan toegeskryf kan word dat onderrigtyd gebruik word om voedingskemas te implementeer. Binne die Noordwes-Provinsie van Suid-Afrika word 72,9% kinders groot in lae sosio-ekonomiese omstandighede (Pienaar et al 2013:2). Westraad (2011:3, 24) dui aan dat die sosio-ekonomiese omgewing 'n faktor is wat die kwaliteit van onderrig kan beïnvloed.

n Verdere faktor wat moontlik die onderwyser se houding teenoor die onderrig van Lewensvaardighede, wat perseptueel-motoriese vaardighede insluit, kan beïnvloed, is die ouers se onbetrokkenheid by die skool. Soos reeds aangedui, laat die ouers wat in lae sosio-ekonomiese omgewings woon soms die onderrig van hul kinders geheel en al aan die skool oor (McGettigan & Gray, 2012:15). Die onbetrokkenheid van die ouers by die vordering van hul kinders kan bydra tot moedeloosheid van onderwysers wat hierdie leerders moet onderrig.

Meer tyd per week word aan die onderrig van Taal en Wiskunde bestee as aan Lewensvaardighede, wat wel volgens die voorskrifte van die KABV is. Die tydstoekenning per vak word egter nie volgens die KABV toegepas nie. Vir die onderrig van Lewensvaardighede word ses uur per week toegestaan (SA. DvBO 2011:6). Slegs sewe (n=7, 30%) respondente het aangedui dat hulle meer as 2 uur per week aan die onderrig van Lewensvaardighede bestee. Die assessering van Taal en Wiskunde kan makliker uitgevoer word as Lewensvaardighede (Lee & Zuze 2011:376), aangesien Lewensvaardighede nie skriftelik plaasvind nie en dus nie as korrek of foutief bepunt kan word nie, wat moontlik die tydsbesteding per vak kan beïnvloed. 'n Verdere faktor kan moontlik onvoldoende leer- en onderrigsteunmateriaal wees. Om Lewensvaardighede, wat die onderrig van perseptueel-motoriese vaardighede insluit, effektief te kan aanbied, is voldoende leer- en onderrigsteunmateriaal noodsaaklik (McGettigan & Gray 2012:26; Van Zyl 2004:152). Onderwysers wat leerders moet onderrig sonder noodsaaklike leer- en onderrigsteun-materiaal kan negatief raak en 'n moedelose houding begin openbaar.

Daar is dus 'n verband gevind tussen die houding van onderwysers en die taal, ras, aantal leerders per klas, die sosio-ekonomiese omstandighede waar die leerders skoolgaan, asook die tyd wat aan die onderrig van verskillende vakke binne Graad R bestee word.

 

5. LEEMTES EN AANBEVELINGS

Die klein aantal respondente wat aan die navorsing deelgeneem het, kan as 'n leemte beskou word, aangesien slegs onderwysers binne 'n klein demografiese area deel van die steekproef gevorm het. Daar word gevolglik aanbeveel dat die navorsing uitgebrei word na meer onderwysers en distrikte, wat moontlik ander resultate sal oplewer. Alhoewel alles gedoen is om die respondente te ondersteun, was daar moontlik verwarring of onsekerheid by die beantwoording van die vraelys, aangesien Engels of Afrikaans nie al die deelnemers se eerste taal was nie en die vrae vir dié respondente moontlik onduidelik kon wees. Daar word aanbeveel dat individuele onderhoude met respondente gevoer word, wat hierdie verwarring moontlik kan uitskakel.

Die volgende aanbevelings kan egter gemaak word uit die resultate van die studie. Universiteite kan moontlik kort kursusse ontwikkel met die fokus op die onderrig van Lewensvaardighede binne Graad R, waarin perseptueel-motoriese vaardighede behoorlike aandag kan geniet. Onderwysers sal sodoende deeglike indiensopleiding ontvang om hierdie ouderdom leerders meer sinvol te kan onderrig, aangesien die onderrig van Graad R nie as 'n afgewaterde Graad 1 beskou kan word nie. Sodoende sal daar moontlik verseker kan word dat Lewensvaardighede aangepak en perseptueel-motoriese vaardighede ontwikkel kan word wat kan bydra tot skoolsukses in Graad 1. Skole behoort ook toegerus te word met noodsaaklike leer- en onderrigsteunmateriaal en onderwysers kan moontlik indiensopleiding ontvang oor die effektiewe gebruik van leer- en onderrigsteun-materiaal om die ontwikkeling van perseptueel-motoriese vaardighede te verseker. So sal Graad R-onderwysers met die nodige kennis toegerus word om 'n verskil in die onderwys te maak.

Die bestuur van voedingsprogramme wat onderrigtyd in beslag neem, behoort hersien te word sodat meer onderrigtyd beskikbaar kan wees. Leerders kan byvoorbeeld voorskools vanaf 7:30-8:00 ontbyt geniet, en aan die einde van vryspel buite, middagete ontvang.

 

6. SAMEVATTING

Genoemde resultate bevestig dat die onderwyser se houding en motivering moontlik beïnvloed kan word deur faktore soos hul ouderdom, kwalifikasie, ondervinding, die aantal leerders in die klas, asook die sosio-ekonomiese omgewing van die leerders vir wie hul skoolhou. Ouer onderwysers, wat ongekwalifiseerd is en oor min Graad R-ondervinding beskik, openbaar 'n minder positiewe houding teenoor die onderrig van Lewensvaardighede gemeet aan die tyd wat hulle aan die onderrig van Lewensvaardighede bestee.

Daar is 'n noue verband gevind tussen die tyd wat per vak bestee word en die sosio-ekonomiese omstandighede, die taal van onderrig en leer, en die ras wat die klas bywoon. Dit blyk dat minder tyd aan onderrig bestee word indien daar meer leerders in die klas is, die leerders uit 'n lae sosio-ekonomiese omgewing kom, en oorwegend swart en Setswana-sprekend is. Hierdie navorsing rapporteer dat leerders wat in lae sosio-ekonomiese gebiede skoolgaan en in skole is met min leer- en onderrigsteunmateriaal en ongekwalifiseerde onderwysers, reeds in Graad R gekategoriseer kan word as leerders wat spesiale onderrig benodig. Onderwysers beskik dikwels nie oor die kennis om leer- en onderrigsteunmateriaal effektief aan te wend nie en hulle is bang leerders sal "dit wegdra of vuilmaak". Meer aandag behoort ook deur die Departement van Basiese Onderwys daaraan geskenk te word om 'n onderwysloopbaan in die vroeë kinderontwikkeling-fase aan te moedig, om so die status van hierdie onderwysers te verhoog.

Samevattend toon die resultate van hierdie studie dat verskeie faktore 'n effek kan uitoefen op die houding van die Graad R-onderwyser teenoor die onderrig van Lewensvaardighede wat die ontwikkeling van perseptueel-motoriese vaardighede, hetsy positief of negatief, kan beïnvloed.

 

BIBLIOGRAFIE

Benson, E.F. 2005. Preparing our youth for "Life 101", http://www.arise.htm/ [19 September 2012].         [ Links ]

Büchner-Eveleigh, M. & Nienaber, A. 2012. Gesondheidsorg vir kinders: Voldoen Suid-Afrikaanse wetgewing aan die land se verpligtinge ingevolge die konvensie oor die regte van die kind en die Grondwet? African journal online, 15(1):103-428 [14 April 2014].         [ Links ]

Diale, B., Pillay, J. & Fritz, E. 2014. Dynamics in the Personal and Professional Development of Life-orientation Teachers in South Africa, Gauteng Province. J Soc Sci, 38(1):83-93.         [ Links ]

Drew, S. 2010. Will Grade R improve South African Education? Johannesburg: University of Witwatersrand.         [ Links ]

Erasmus, M. 2012. Riglyne vir 'n perseptueel-motoriese intervensie-program om die skoolgereedheid van Graad R-leerders te bevorder. Potchefstroom: Noordwes-Universiteit. (Proefskrif - PhD).         [ Links ]

Excell, L. 2011. Grade R teachers' perceptions of early childhood development and how these impact on classroom practice. Johannesburg: University of the Witwatersrand. (Thesis - PhD).         [ Links ]

Green, W., Parker, D., Deacon, R. & Hall, H. 2011. Foundation Phase teachers provision by public higher education institutions in South Africa. South African Journal of Childhood Education, 1(1):109-121.         [ Links ]

Henning, E. 2013. Finding your way in qualitative research. Pretoria: Van Schaik        [ Links ]

Joubert, I., Hartell, C.G. & Lombard, K. 2016. Navorsing - 'n Gids vir die beginnernavorser. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Landsberg, E., Krüger, D. & Swart, E. 2011. Addressing barriers to learning. A South African perspective. 2nd ed. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Lee, V.E. & Zuze, T.L. 2011. School resources and academic performance in Sub-Saharan Africa. Comparative Education Review, 55(3):369-397.         [ Links ]

Lovemore, A. 2012. Behou onnies só in SA, m.news24.com, [10 June 2012].         [ Links ]

McGettigan, I.L. & Gray, C. 2012. Perspectives on school readiness in rural Ireland: the experiences of parents and children. International journal of early years education, 20(1):15-29.         [ Links ]

Miles, M. & Huberman, M. 1994. Qualitative data analysis: a sourcebook for new methods. Beverly Hills: Sage.         [ Links ]

Moloi, M. & Chetty, M. 2011. Learners' preschool exposure and achievement in South Africa. http://www.education.gov.za/LinkClick.aspx?fileticket=IlVz0c3BtT0%3D&tabid=358&mid=1261/ [02 April 2011].         [ Links ]

Orban, L.P. 2003. Die multi-getraumatiseerde kind in die middelkinderjare. Pretoria: Universiteit van Pretoria.         [ Links ]

Pienaar, A., Barhorst, R. & Twisk, J. 2013. Relationships between academic performance, SES school type and perceptual-motor skills in first grade South African learners: NW-Child study. Child: care, health and development, 40(3):370-380.         [ Links ]

Roopnarine, J. & Johnson, J. 2011. The socio-cultural contexts of early education in Caribbean societies: A focus on transition to primary school. Educating the young child, 4(3):175.         [ Links ]

Rooth, E. 2008. Life Skills: A resource book for facilitators. Braamfontein: Nolwazi Educational Publishers.         [ Links ]

Samuels, M. 2010. Will Grade R really improve the quality of South African education? Johannesburg: Umalusi, CEPD & Wits seminar.         [ Links ]

Sherry, K. & Draper, C.E. 2013. The relationship between gross motor skills and school readiness in early childhood: making the case in South Africa. Early Child Development and Care, 183(9):1293-1310.         [ Links ]

Shumba, A., Mpofu, E., Seotlwe, M. & Montsi, M.R. 2011. Perceived challenges of implementing the guidance subject in Botswana primary schools. Journal of Social Sciences, 28(1):1-11.         [ Links ]

South Africa. 2007. South African School's Act. no 84 of 1996, revision service no. 7. www.saqa.org.za/show.asp?include=docs/legislation/related/act84.CachedSimilar/ [07 July 2013].         [ Links ]

South Africa. Department of Education. 2011. Strategic plan 2011-2014. http://www.education.gov.za/ [07 July 2014].         [ Links ]

Suid-Afrika. Departement van Basiese Onderwys. 2011. Nasionale Kurrikulum- en Assessseringsbeleids-verklaring Graad R-3 Lewensvaardigheid. http://www.info.gov/ [23 April 2012].         [ Links ]

UNESCO. 2007. Strong foundations: Early childhood care and education. http://unesdoc.unesco.org/images/0014/001477/147794e.pdf/ [12 April 2012].         [ Links ]

Van der Berg, S. & Harris, L. 2014. Grade R offers SA's poorest children no discernible benefit. http://mg.co.za/article/2014-07-30-grade-r-offers-sas-poorest-children-no-discernable-benefit/ [30 August 2014].         [ Links ]

Van Zyl, E. 2004. The relation between perceptual development (as part of school readiness) and school success of Grade 1 learners. Africa Education Review, 1(1):159, 2004.         [ Links ]

Vorster, H. 2011. Die voedingsoorgang in Suid-Afrika: 'n Uitdaging vir verbeterde voeding en die verligting van armoede. Suid-Afrikaanse tydskrif vir natuurwetenskap en tegnologie, 30(1):7.         [ Links ]

Westraad, S. 2011. Changing schools in challenging contexts. Port Elizabeth: GM South Africa Foundation.         [ Links ]

 

 

Annemarie Loubser is 'n dosent in die Fakulteit Opvoedingswetenskappe aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroom kampus). Sy behaal die volgende diplomas en grade: JP Dip, HOD, BEdHons, MEd, PhD. Sy beklee 'n pos as onder-wyseres van 1988-2005 en as skoolhoof van 1994-1996. In 2005 aanvaar sy 'n betrekking by die Noordwes-Universiteit. Verskeie artikels is reeds in nasionale en internasionale joernale gepubliseer. Sy was verantwoordelik vir die skryf van twee hoofstukke in 'n akademiese handboek -Teaching Grade R (Juta).
Annemarie Loubser is a lecturer in the Faculty of Education Sciences at the North-West University (Potchefstroom Campus). She obtained the following diplomas and degrees: JP Dip, HED, BEd Hons, MEd, PhD. From 1988-2005 she taught at a pre-primary school and served as principal from 1994-1996. In 2005 she was appointed as Lecturer at the North-West University. A number of articles were published by her in national and international journals. In addition, she was responsible for writing two chapters in an academic handbook - Teaching Grade R (Juta).

 

 

Anita E. Pienaar is 'n professor binne die Skool vir Biokinetika, Sport en Rekreasie, en programleier van die Kinderkinetikaprogram binne hierdie Skool aan die Noordwes-Universiteit, Potchef-stroom Kampus. Sy behaal haar PhD graad in 1994 aan die destydse PU vir CHO. Haar onderrigtaak by die NWU sluit die aanbieding van modules op voor- en nagraadse vlak in asook studieleiding aan verskeie M- en D-studente binne die veld van Kinderkinetika en Sportwetenskap. Sy speel 'n leidende rol in verskeie navorsingsprojekte wat handel oor die groei, perseptueel-motoriese en fisieke ontwikkeling van kinders en die invloed van verskeie faktore binne die konteks van die Suid-Afrikaanse samelewing op kinders se skoolen sportprestasie, asook die verbetering daarvan. Sy ontvang in 2012 'n erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir haar vakkundige bydrae tot kennisontwikkeling op hierdie terrein.
Anita E. Pienaar is a professor within the School of Biokinetics, Sport and Recreation, and program leader within the Kinderkinetics program in this School at the Northwest University, Potchefstroom Campus. She obtained her PhD degree in 1994 at the former PU for CHE. Her training responsibilities at the NWU include modules on undergraduate and post graduate levels as well as guidance to several masters and doctoral students in the field of Kinderkinetics and Sport Science. She plays a leading role in several research projects with regard to the growth, perceptual-motor and physical development of children and the influence of different factors within the context of the South African population on children's school and sport performance, as well as the improvement thereof. She was bestowed with an honorary award in 2012 from the South African Academy for Science and Art for her contribution towards the expansion of subject specific knowledge in this field.

 

 

Audrey Klopper is 'n senior lektor by die Fakulteit Opvoedingswetenskappe van die Noord-wes Universiteit, Potchefstroomkampus. Sy beskik oor 15 jaar onderwyservaring in die grondslagfase. Sy het haar loopbaan as lektor in 1998 by die destydse Potchefstroomse Onderwyskollege begin. Dr Klopper het publikasies in nasionale en internasionale tydskrifte asook referate by verskeie nasionale en internasionale konferensies gelewer. Sy het voorts vier Meestersgraad- en twee Doktors-graadstudente suksesvol begelei as studieleier en mede-studieleier. Dr Klopper is tans lektor vir die vak Afrikaans Huistaal vir grondslagfase onder-wysstudente.
Audrey Klopper is a senior lecturer in the Faculty of Education at the North West University, Potchefstroom campus. She has 15 years of teaching experience in the Foundation Phase. She started her career as lecturer in 1998 at the former Potchefstroom Teacher College. Dr Klopper has published in national and international journals and delivered papers at various national and international conferences. She has also successfully acted as supervisor and co-supervisor for four Masters and two doctoral students. Dr Klopper currently acts as lecturer for the subject Home Language for Foundation Phase teacher students.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License