SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.56 número2-2Who are the good Samaritans? Characteristics of volunteers in South AfricaThe causes of loneliness and the factors that contribute towards it: a literature review índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.56 no.2-2 Pretoria jun. 2016

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2016/v56n2-2a4 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS

 

Politieke en regsfilosofiese perspektiewe op polito-kratiese kommunitarisme: 'n Diskoers met Danie Goosen en Koos Malan

 

Political and legal philosophical perspectives on politocratic communitarianism: A discourse with Danie Goosen and Koos Malan

 

 

Andries Raath

Departement Publiekreg. Universiteit van die Vrystaat. E-pos: raatha@ufs.ac.za

 

 


OPSOMMING

In hierdie artikel word aangevoer dat kommunitariese politieke en regsteorieë die afgelope twee dekades in Suid-Afrika op die voorgrond getree het. Twee vergestaltings daarvan kan onderskei word: Ubuntu-kommunitarisme en politokratiese kommunitarisme. Terwyl eersgenoemde beduidende ondersteuning in die Suid-Afrikaanse regsliteratuur verwerf het, het laasgenoemde benadering hoofsaaklik tot die Afrikaanse literatuur beperk gebly. Die fokus val op politokratiese kommunitarisme en politieke en regsfilosofiese implikasies daarvan. Politokratiese kommunitarisme berus op die Aristoteliese teleologie, 'n Skolastieke synsontologie en Hegel se dialektiese idealisme. As vertrekpunt neem politokratiese kommunitarisme die Aristoteliese stadstaat (polis). Die stadstaat ontwikkel evolusionêr as "tussen-gemeenskap" tot die Hegeliaanse konkreet-universele staat. Die eindproduk is die totalitêre organismiese staat. Kommunitariese politokrate slaag nie in hul projek om die statisme van die liberale individualisme te oorkom en 'n normatiewe alternatief vir statisme, politieke universalisme en die absolutistiese staat te stel nie. In hierdie artikel word tot die slotsom geraak dat die filosofiese hiate in die staats- en regsdenke van politokratiese kommunitarisme belangrike implikasies het: Die organismiese konsepsie wat spruit uit hierdie denke lei eerstens tot die postulering van 'n trans-individuele utopie gebaseer op 'n abstrakte gemeenskapslewe; tweedens is dié organismiese staat noodwendig 'n totalitäre (en absolutistiese) vorm van politieke gemeenskap; derdens, is die organismiese politieke gemeenskap 'n innerlik-teenstrydige en ongedifferensieerde vorm van politieke assosiasie en die organismiese staat word georden sonder erkenning van fundamentele regte.

Trefwoorde: Aquinas, Aristoteles, Hegel, kommunitarisme, konkreet-universele, politokrasie


ABSTRACT

The philosophical roots of political communitarianism emanate from Aristotelian teleology, Scholastic ontology of being and Hegel's dialectic idealism. It represents and culminates evolutionary in the organismic state. A key issue underlying the discourse on state and legal philosophical implications of politocratic communitarianism is whether this philosophical approach can avert state absolutism and abuse of power. It is argued that the implications of this legal and political philosophy testify to the contrary. The implications of politocratic legal and political philosophy point towards statism and that all societal forms serve the interests (and needs) of the organismic state: it is a form of abstract trans-individual community life; it is of necessity a totalitarian (and absolutistic) form of political community; it functions without recognition of fundamental rights, and it is an inner-dialectical and undifferentiated form of political association.

Key words: Aquinas, Aristotele, communitarianism, concrete universal, Hegel, politocracy


 

 

1. INLEIDING

Die afgelope twee dekades het kommunitariese staats- en regsteorieë in die Suid-Afrikaanse staats- en regsliteratuur na vore gekom. Veral Afrika-kommunitarisme in die gestalte van Ubuntu het sowel in die regsteorie as -praktyk 'n vastrapplek in die Suid-Afrikaanse regslewe gekry.1 Die idee dat die sosiale aard van die mens aan die individu se bewussyn en optrede beslag gee, het sedert 1993 algaande via Ubuntu as tema vir gesprek op die voorgrond getree en binne twee dekades het dit 'n huishoudelike term in regsliteratuur geword.2Ubuntu as tradisionele Afro-kommunitarisme is egter nie die enigste manifestasie van kommunitaries-gerigte denke in Suid-Afrika nie. Op staatsfilosofiese gebied poog Koos Malan (met sy werk Politokrasie. Die dwanglogika van die territoriale staat 2011) om 'n kommunitariese staatsteorie in die vorm van politokrasie beslag te gee. Op 'n breër filosofiese grondslag streef Danie Goosen (in sy Die Nihilisme 2007 en Oor Gemeenskap en Plek 2015) daarna om die wysgerige aanpak van 'n Afrikaanse vorm van politokratiese kommunitarisme te formuleer. Hoewel nie naastenby so invloedryk soos Ubuntu nie, is politokratiese kommunitarisme 'n denkrigting in Afrikaanse geledere wat toenemend in publikasies ter sprake kom.

Met die eerste oogopslag vertoon politokratiese kommunitarisme heelwat punte van oor-eenstemming met Ubuntu-kommunitarisme: beide benaderings beklemtoon die inherente deugdelikheid en humaniteit van gemeenskap;3 beide fokus op die idee dat die sosiale aard van die mens die optrede en bewussyn van die individu bepaal;4 beide neem as vertrekpunt die kommunale waardes wat tot die kern van die politieke en regslewe van 'n gemeenskap behoort;5 beide beroep hul op 'n bepaalde historiese regverdiging vir gemeenskap,6 en beide beskou die idee van individuele outonomie as die sondebok wat die deugdelikheidservaring van die mens as sosiale wese ondermyn het.7 Daar is egter ook opvallende verskille tussen onderskeidelik Ubuntu en politokrasie: Eersgenoemde spruit uit 'n Afro-filosofiese agtergrond (Broodryk 1997:33) terwyl politokrasie veral op die Grieks-Aristoteliese denke appelleer - Malan (2011:74); Ubuntu is meer stamgebonde (Van der Walt 2006:28) waar politokrasie veral "politêr" gefokus is (Goosen 2015:34,37,52,102); Ubuntu poog oënskynlik om 'n positiewe bydrae tot die internasionale debat oor menseregte te lewer,8 terwyl politokrasie menseregte as individualistiese magsinstrumente afmaak (Malan 2003:94111), en waar Ubuntu op tradisionele Afro-stamdeugdelikheid fokus (Nijarongo 1997:139), sonder politokrasie die Griekse polis as vergestalting van deugdelikheid uit (Goosen 2013:522).

Vanweë die relatiewe onbekendheid van politokratiese kommunitarisme in die staatsfilosofiese denke in die algemeen en die Afrikaanse regsliterêre wêreld in besonder, fokus hierdie bydrae op die Afrikaanse teorie van politokratiese kommunitarisme. Vir doeleindes van die gesprek word die filosofiese grondslae van dié vorm van kommunitarisme aangedui en op enkele politieke en juridiese implikasies daarvan gewys.

 

2. DIE POLITIEK-FILOSOFIESE GRONDSLAE VAN POLITOKRATIESE KOMMUNITARISME

2.1 Die Aristoteliese polis-gemeenskap

Politokratiese kommunitarisme is eerstens op die lees van Aristoteles se polis-idee geskoei (Malan 2011:276).9 Teenoor die moderne staatskonsepsie wat die mens beskou as synde van nature 'n "vryswewende individu", met die gepaardgaande vyandigheid jeens natuurlike gemeenskappe, sluit politokratiese kommunitarisme by Aristoteles se siening van "daadwerklike gemeenskap" aan (Malan 2011:299; Goosen 2015:34,37,102,289).10 Die klem val op die naturalistiese grondslag van die politieke gemeenskap - iets wat in die moderne "territoriale staat" ontbreek (kyk Goosen 2015:25). In dié verband figureer Alain de Benoist, 'n prominente eksponent van die "Nouvelle Droite" (die Franse Nuwe Regse kommunitarisme), se pleidooie vir die herstel van die Klassieke "pagane" Griekse stadstaat sterk in politokratiese kommunitarisme (Malan 2011:17; Goosen 2015:289).

Volgens kommunitêre politokrate is die Aristoteliese polis-gemeenskap histories die ideale manifestasie van gemeenskap. Soos die verhaal van Prins Kaspian se "magiese blaashoring" is Aristoteles se polis die historiese vertrekpunt om die eietydse Narnia te red (Goosen 2007a:17).11Elders val die klem eweneens op die historiese gemeenskapsidee - die norme vir die ideale politieke orde: "eeue-oue gemeenskapsverbintenisse" verkeer onder spanning; gemeenskappe verloor hul vermoë om individue saam te bind (Goosen 2015:11), daarom is die sin van gemeenskap te vinde in die "tradisionele aard" daarvan (Goosen: 2007:138).12

Die "Tradisie" is normatief vir die polis omdat dit "'n lewe bemiddel waar op 'n demokratiese wyse aan gemeenskaplike sake deelgeneem kan word met die oog op die verwesenliking van die gemeenskaplike goed" (Goosen 2015:34,37; Malan 2011:74).13 Dié stadstaat stel perke aan die staatsterritorium sodat die "presentatiewe lewe" nie in 'n verstikkende eenheid opgeneem word nie (Goosen 2012:763); dit "(b)ied 'n teoretiese raamwerk en praktiese riglyne vir die herstel van die politieke lewe en 'n hoopvolle verhouding met ons wêreld" (Goosen 2012:764).

Die publieke belang in die vorm van die gemeenskaplike goed (of nut), berus by Aristoteles "op 'n samelewingsleer wat die individuele natuur en alle sosiale betrekkinge op die polis as religieus-etiese totaal-gemeenskap betrek" (Pretorius 1986:8). Die staatlike gemeenskapslewe wat daaruit voortvloei is 'n vorm van kommunitêre bestaan wat nie aan juridies-normatiewe perke gebind is nie. Voorstanders van Politokratiese kommunitarisme beklemtoon egter grense "omdat sonder grense gemeenskap nie aan die lig tree nie" (Goosen 2015:410). Dié "grense" wat politokratiese kommunitariërs onderskei is egter a-juridiese perke, hoofsaaklik van 'n kulturele aard.

2.2 Politokrasie en die Aristoteliese "dramaturgie"

Politokratiese kommunitarisme staan vierkant in die breër stroom van die Aristoteliese syns- en politieke denke en die Thomistiese en neo-Hegeliaanse variante daarvan. Die kommunitêre gemeenskapsbegrip wat die politokratiese kommunitarisme onderlê kom op uit 'n bepaalde siening van 'n ontologiese synswerklikheid. Dié werklikheid is 'n "bemiddelde realiteit" van syn en syndes (onderskeidelik die immanente en transendente) waarin die wêreld gebeur as 'n "twee-eenheid" met die mede-verskyning van syn en syndes (Goosen 2007a:31-33). Die syn is die vertrekpunt van die dramatologiese gemeenskap waarin syndes in 'n "Spannungseinheit" verskyn (Goosen 2007a:35) en waarin die menslike denke gekenmerk word deur 'n begeerte na syn (Goosen 2007a:38-43). As sodanig is die wêreld die dramatiese deelname van God, mens en samelewing aan 'n primordiale synsgemeenskap (Goosen 2007a:65).

Die filosofiese dramatologie (synsgemeenskap) is te onderskei van die partikuliere dramatologieë (synsgemeenskappe) in die politiek, estetika en ekonomie (Goosen 2007a:70-76). Die dramatologie word voorts tipeer as die forum van oordrag tussen die transendente en immanente syn, tussen syn en denke (Goosen 2007a:87-89). Die wêreld is die verhoog oftewel die "dramatiese tussen-ruimte" of polis waarop of waardeur die syn en die syndes in 'n bemiddelende verhouding tree en die "deelnemende gemeenskap" tot stand gebring word (Goosen 2007a:30,71,74). Daarenteen steun "anti-dramaturgiese filosofieë" op die idee dat die verhouding tussen die transendente en immanente, die goddelike en die siel, die syn en syndes op 'n onbemiddelbare wyse uitmekaar gehou moet word (Goosen 2007a:91). Teenoor laasgenoemde stel politokratiese kommunitarisme die pro-dramaturgiese strominge (Aristoteles, Aquinas en die "ander moderniteit" (by name Hegel)) wat van mening is dat die syn en die syndes deur bemiddeling van dramaturgieë "vanuit hul gedifferensieerde samehang bedink moet word" (Goosen 2007a:92). Die "syn" is die vertrekpunt van die dramatologie; die Aristoteliese tradisie word 'n werklikheid deur bemiddeling van die akteurs (naamlik syn en syndes) (Goosen 2007a:31,122). Daar is nie 'n onderskeid tussen die dramatologie en die Aristoteliese tradisie nie (Goosen 2007a:122). Die "oorvloedige syn" trek homself saam in die begrensde wêreld byvoorbeeld die idee van substansie (materie) by Aristoteles en Aquinas; die syn is egter nie 'n dooie begrip wat verwys na die lewelose essensie van dinge nie, maar bestaan as 'n "lewende geanimeerde krag" (Goosen 2007a:103).

Saamgevat: metafories is die politokratiese ontologie 'n "dramatiese gebeure": die syn en syndes verkeer nie in 'n gespanne verhouding met mekaar nie omdat die syndes in die transendente syn partisipeer. Toegepas op die politieke lewe: Die dramatiese ruimte - in Aristoteliese terme - is die polis; dit is deelnemend van aard, die mees soewereine van alle assosiasies, gerig op die hoogste goed en slegs deur die "dramatiese deelname" aan die sake van die polis kry die "goeie werklikheid" tussen syndes gestalte (Goosen 2007a:33).14

2.3 Die Aristotelies-Thomistiese synshiërargie

Onderliggend aan politokratiese kommunitarisme is 'n bepaalde interpretasie van die Aristotelies-Thomistiese synsontologie: God is "syn"; die mens is 'n synde (het "syn"). Die "skynbaar" gemeenskaplike, naamlik die "syn" van God en die "syn" van die mens kan saamgevat word onder die algemene begrip "syn". Die gelyksoortige (wesensgelyke) en logies kontinue saamgevatte syn relativeer die heterogene (wesensverskillende); die Skolastieke synsdenke postuleer enersyds 'n synskontinuïteit, maar handhaaf andersyds 'n onderskeid tussen algenoegsame syn en onselfgenoegsame syn. Saamgevat: daar bestaan dus 'n parsiële identiteit tussen God en mens, maar God en mens is ook radikaal onderskeie. Volgens die politokratiese kommunitarisme (op voetspoor van die Skolastiek) ontsluit die syn sigself (dramatologies) deur partisipasie van die syndes in die syn; die syn is "by grasie" van die deelnemende gebeure tussen syn en syndes en - soos hierbo aangedui - in die kern van die verhouding tussen syn en syndes staan die gedagte van die deelnemende gemeenskap (Goosen 2007a:33).

Aan die wortel van die Aristotelies-Thomistiese synsontologie van die politokratiese kommunitarisme lê egter die volgende probleem: Hoe kan 'n sintese tussen "identiteit" en "egte analogie" gevind word? Oftewel, hoe kan die implikasies van 'n innerlik dialektiese en antinomiese synsontlogie van nominalistiese en innerlik teenstrydige proporsies vermy word? (vgl. Dooyeweerd 2010:ii; 2013:75-76,81). Die antwoord op hierdie vrae is in twee belangrike opsigte deurslaggewend vir die beoordeling van politokratiese kommunitarisme: Eerstens, volgens die hiërargie van syn in terme waarvan syndes in wisselende grade aan die transendente syn partisipeer, en tweedens, die implikasies van eenheid en verskeidenheid in hul onderlinge samehang in die synshiërargie.

Die synsontlogie van politokratiese kommunitarisme steun op die invloedryke Aristotelies-Skolastieke interpretasie van Etienne Gilson.15 "Syn" (die transendente) en "syndes" (die nie-transendente) is deel van 'n bepaalde synshiërargie (Goosen 2011:494). Die mens (as synde) partisipeer in die goddelike syn. Die mens partisipeer ook in die nie-syn en het 'n bepaalde outonomie teenoor die transendente syn. As immanente syn deel die mens in die goddelike syn; as nie-syn is die mens verwyder van transendente syn. Die mens is dus sowel kontinu as diskontinu van die goddelike syn.16 Dit mond uit in die Aristotelies-Skolastieke hiërargiese beskouing van die werklikheid (Goosen 2007a:151-152,154). Die Aristotelies-Skolastieke synsanalogie van kontinuïteit en diskontinuïteit staan verbind met die Plotiniese synshiërargie waarvolgens syndes in wisselende grade van goddelikheid partisipeer. Die panteïstiese implikasies van die Plotiniese synshiërargie in Aquinas se synsbegrip word deur Gilson ondersteun. By die skepping "kommunikeer" God sy syn aan syndes: "That we may have causality in the strict sense of the term means that we must have two beings and that something of the being of the cause passes into the being of that which undergoes the effect (Gilson 1936:86)."17 Die Aristotelies-Skolastieke synsontologie handhaaf voorts dat die universele op die synshiërargie meerdere partisipasie aan die goddelike syn geniet; vorm (die universele) is 'n "hoër" manifestasie van syn as die partikuliere (individuele). Byvoorbeeld die staat as universele gemeenskap partisipeer meer volkome in transendente syn as die individue waaruit die staat opgemaak is. Derhalwe word 'n element van "goddelikheid" aan die staat "gekommunikeer";18 die staat as universele synsgemeenskap partisipeer meer volkome in transendente syn as die individue waaruit die staat gekonstitueer is.

2.4 Die Aristoteliese polis en die dilemma van abstrakte universaliteit en abstrakte partikulariteit

Onderliggend aan die Aristotelies-Thomistiese synsbeskouing is voorts die vraag hoe eenheid en veelheid (partikulariteit) op 'n "bemiddelbare" wyse "dramatologies" onderskei en met mekaar in verband gestel kan word? Enersyds: hoe kan verskeidenheid (partikulariteit) tot 'n eenheid saamgroepeer word? Hoe weet ons dat partikulariteit nie bloot bestaan as 'n onverbonde verskeidenheid nie? Indien slegs onverbonde partikulariteit bestaan het sou ons egter niks van die onherleibare verskeidenheid te wete kon kom nie; syndes sou van menslike kennis oor onderling verbonde partikulariteit onttrek wees - die werklikheid sou slegs 'n abstrakte partikulariteit wees. Andersyds: Hoe is dit moontlik om die eenheid van syndes te postuleer sonder om die partikuliere syndes te nivelleer? Die eenheid wat deur volgehoue veralgemening verkry word, vereis die abstrahering van die ooreenstemmende eienskappe van die partikuliere syndes ten einde groter eenhede te bemoontlik. Die afloop van die proses van konsekwente veralgemening is die nivellering van alle partikulariteit en kulmineer in 'n abstrakte universaliteit. Byvoorbeeld: My kollega Danie Goosen is 'n akademikus; hy is 'n mens; hy is 'n synde; hy het syn. Volgens die Skolastieke synsfilosofie is filosofering oor Danie as syn die hoogtepunt van my kennis van Danie. Is dit waar? Die hoogtepunt van abstrak-universele kennis van Danie as abstrakte syn sluit alles in, maar niks spesifiek nie. Danie as algemene syn is sowel alles as niks. Danie as abstrak-universele syn sê bykans niks oor hom nie want by implikasie is Danie werklik maar bestaan nie.

Die teenoorgestelde van abstrakte universaliteit is die abstrak-individuele: Aristoteles se primêre (abstrakte) materie. Op die dalende skaal in die synshiërargie van die universele na die partikuliere konfronteer Aristoteles se primêre (abstrakte) materie ons volgehoue pogings om tot die diepste essensie van partikulariteit deur te dring. Byvoorbeeld: My kollega Koos Malan is syn; hy is 'n synde; hy is 'n mens; hy is 'n akademikus; hy is 'n regsgeleerde; hy bestaan uit selle; selle bestaan uit DNA-molekules; laasgenoemde word afgebreek tot materie; as primêre substansie is Koos suiwer materie. Suiwer materie deel ons egter niks mee aangaande Koos as individu nie want Koos is abstrakte partikulariteit. Koos bestaan dus maar hy is nie werklik nie.

Opwaartse abstrahering in die synshiërargie fokus op objekte in hul verhouding tot mekaar; afwaartse abstrahering plaas die kollig op die objekte in hul onderlinge verhouding tot mekaar. Die kulminasie van sowel abstrakte universaliteit as abstrakte partikulariteit is 'n leë betekenislose niksseggendheid: indien abstrakte syn die hoogste werklikheid sou wees, sou partikulariteit nie moontlik wees nie; indien abstrakte partikulariteit die hoogste waarheid sou wees, sou eenheid nie moontlik wees nie. Indien beide waar sou wees, sou alles 'n ondeurgrondelike chaos wees en waarheid nie gepostuleer kon word nie.

Die "onbemiddelbare" verhouding van abstrakte eenheid en abstrakte veelheid sou voorts soos volg aangedui kon word: indien objekte finalitêr deur hul verhoudinge gedefinieer word, en verhoudinge deur hul objekte waar sou ons begin om kennis van die werklikheid te verkry? Die Aristoteliese eenheid-partikulariteit-kringloop spruit gevolglik uit 'n onbemiddelbare synsfilosofie wat ten gunste van óf radikale eenheid óf individualiteit moet uitval. G.F. W. Hegel se uitbouing van Aristoteles se synsfilosofie, gekoppel aan sy Romantieke idealisme, poog om dié impasse van relativisme deur 'n dialektiese blik op die geskiedenis te oorkom. Hegel se opgaaf is om iewers in die historiese tradisie 'n "bemiddelingspunt" tussen abstrakte eenheid en abstrakte partikulariteit te vind. Van die uitdagings wat Hegel moet oorkom, is onder andere die vraag of so 'n steunpunt nie noodwendig relativisties van aard is nie? Bied so 'n historiese steunpunt 'n normatiewe grondslag by die soeke na die nie-relativistiese aard, taak en regslewe van die politieke gemeenskap? Voorts: Waar in die hiërargie van syn vind ons byvoorbeeld vir Danie en Koos in die volle diepte van hul unieke persoon-wees, en die staat as normatiewe politieke gemeenskap? Volgens die huidige stand van die gesprek is die antwoord op laasgenoemde vraag dat net so min as wat Danie of Koos as historiese verskynsels die volle persoonlikheid van elk as individu na vore bring, net so min onthul gemeenskap as "synde" die normatiewe aard van die staat as publiek-regtelike gemeenskap, gerig op die ewewigtige harmonisering van regsbelange van die burgery in die algemene belang, met eerbiediging van die vrye eiestandigheid van ander samelewingsinstellings.19

Ten einde die slaggat van historiese relativisme te vermy is die antwoord van kommunitêre politokrate op laasgenoemde vraag ietwat méér gekompliseerd en word mede-bepaal deur die "alternatief-moderne" dialektiese bemiddelingsteorie.

2.5 Die "alternatief-moderne" dialektiese bemiddelingsteorie en die politieke gemeenskap

"Alternatief-modernes" (soos kommunitariese politokrate) in die idealistiese tradisie "bemiddel" die ontologiese spanning tussen eenheid en veelheid in die Aristotelies-Thomistiese synsontologie deur die postulering van die "konkreet-universele" (makro-organismiese staat) op die voetspoor van Hegel (Goosen 2007b:143 e.v.).20 Volgens die Hegeliaanse synsdialektiek is die Aristoteliese polis (mikro-organismiese staat) 'n tussenfase onderweg na die organismiese staat. Die polis is met ander woorde 'n noodsaaklike (en onontbeerlike) "tussen-gemeenskap" onderweg na die groter "bemiddelde" universaliteit van die organismiese staat. Laasgenoemde manifesteer as "konkreet-universele" syn. Onderliggend daartoe is 'n komplekse synsontologiese argument.

Die argument vir die konkreet-universele verloop by Hegel (en kommunitariese politokrate) soos volg: Filosofies is syn die sfeer van onmiddellikheid; essensie (sin) is die sfeer van bemiddeling: oorsaak is nie sonder gevolg; innerlike nie sonder uiterlike; identiteit nie sonder verskil; positief nie sonder negatief. Essensie is verstaan; syn is waarneming. Essensie en syn is wedersyds korrelatief; bemiddeling veronderstel 'n "twee-eenheid" van syn en syndes. Sosiale instellings (syndes) is die aktualisering van die universele wil; die rasionele objektivering van die individu (as synde). Die gesin (of familie) en die staat verteenwoordig 'n hoër werklikheid as die individu. Daarom mag die staat regmatig die opoffering van die individu vir sy doeleindes opeis; volmaakte individualiteit kom slegs tot uitdrukking in die staat; die staat is die ware universele selfheid van die individu; dit is die individu se geobjektiveerde universaliteit. Die staatsbelang is die ware en wesentlike belang van die individu; die opoffering van die individu se belange aan die staat is slegs sy opoffering aan sy hoër self en nie opoffering aan 'n eksterne en vreemde gesag nie.

Politokratiese kommunitariërs kies vir die dialektiek van die "ander moderniteit" met die klem op "konkrete universaliteit" oftewel die "Hegeliaans-demokratiese tradisie" (Goosen 2007b:151).21 Die pligte wat op die individu geplaas word deur sy gesin, samelewing of die staat is nie beperkend vir die individu se vryheid nie, maar die beliggaming daarvan (Goosen 2015:46).22Voorts volg politokratiese kommunitarisme die dialektiese benadering van die "ander moderniteit" - gemeenskap kom tot uitdrukking in terme van die wil om die verhouding tussen die self en die ander in "dialogiese terme" te verstaan (Goosen 2007b:144).23 Soos by Hegel is die ontologiese status van die individu die produk van 'n sosiaal-evolusionêr-ontwikkelende gemeenskap (Goosen 2007b:143).

By alternatief-modernes (soos politokrate) geskied sosiaal-etiese ontwikkeling deur drie fases: 1. Die familie (Hegel 2001:138 en 1894:278 e.v.);24 2. Die burgerlike gemeenskap (oftewel (die onegte) meganistiese (skyn-)staat) (Hegel 2012:280 e.v.);25 en 3. Die ((egte) organismiese) (ware) staat - die makro-vorm van die polis (die mikro-staat) (Hegel 2001:194 e.v.; 2012:21,23,277).26 Die organismiese staat is die kulminasie van die etiese idee; die meganistiese staat is 'n blote abstraksie. Laasgenoemde weërspieël nie die universele welsyn van die individu nie, maar slegs sy partikuliere belang.27 Tog is die meganistiese burgerlike gemeenskap en die organismiese staat soos 'n Siamese tweeling wedersyds aan mekaar verbind: die burgerlike gemeenskap is 'n bloot abstrakte faktor van die organismiese staat en laasgenoemde bestaan nie onafhanklik van die burgerlike gemeenskap nie; alle teorieë wat die staat fundeer op die individu se selfbelang het nog nie verder beweeg as die burgerlike gemeenskap nie, maar dit is onderweg na die konkreet-universele organismiese staat (Hegel 2001:195). Volgens Hegel se terminologie: die burgerlike gemeenskap verteenwoordig die individualistiese (atomistiese) manifestasie van die staat; die konkreet-universele is radikaal onderskeie van die burgerlike gemeenskap. Staatsteorieë val uiteen as onderskeidelik teorieë van die burgerlike gemeenskap (die indivi-dualistiese konsepsies van die staat)28 (die abstrak-partikuliere) óf die organismiese staat (die konkreet-universele). Hoewel wedersyds op mekaar aangewese, staan die organismiese en meganistiese staatskonsepsies kontrapolêr teenoor mekaar: die burgerlike gemeenskap ontbeer die ware (egte) eenheid van die organismiese staat,29 en laasgenoemde voer die individualistiese burgerlike gemeenskap tot sy hoër synsmatige doel.30 Die beginsel van partikulariteit is die reg van die individu in die burgerlike gemeenskap oftewel die individu se aanspraak op persoonlike vryheid (Hegel 2001:196; Raath 1985:339 e.v.).

Die organismiese staat is die eenheid van sowel die familie (universele) as die burgerlike gemeenskap (die partikuliere) (Hegel 2012:22,287 e.v.); dit is die eg-individuele; dit is 'n persoon, 'n organisasie; die individu is implisiet-universeel; universaliteit is die essensie van die organismiese staat as die konkreet-universele (kyk Hegel 2001:197). Synsmatig is die organismiese staat 'n bowe-immanente fenomeen. In sy Philosophie des Rechts stel Hegel dit soos volg: "(T)his essence realizes itself as an independent power, in which particular persons are only phases. The state is the march of God in the world; its ground or cause is the power of reason realizing itself as will" (Hegel 2001:197).

Wat is die afloop van die dialektiese bemiddeling van die abstrak-universele en die abstrak-individuele volgens die Hegeliaanse ombouing van die Aristoteliese vorm-materiemotief? Anders geformuleer: Waar is die steunpunt vir die "bemiddeling" van die universele en die individuele geleë sonder om een van beide te nivelleer? Hegel se argument vir die uitbouing van die Aristotelies-Skolastieke synsontologie om die dooiepunt tussen synsidentiteit en synsverskeidenheid op te los en die toepassing daarvan op die politieke lewe verloop soos volg: slegs in die organismiese staat word die individu se individualiteit verwesenlik; dit is die opperste beliggaming van die individu se vryheid. Die individu is nou gedetermineer deur dit wat eg en universeel in hom is; die staat is rasioneel, omdat dit universeel is - die "konkreet-universele" vir sover dit die individu se individualiteit in hom opgeneem het. Die organismiese staat is nie 'n middel tot 'n doel nie, dit is 'n doel op sigself. Die konkreet-universele is in Aristoteles se terme: die polis; vir Hegel: die Pruisiese staat; volgens politokratiese kommunitarisme: die organismiese politieke gemeenskap. Die konkreet-universele is die kulminasie van individualiteit; dit is op sigself deugdelik; dit is die ware beliggaming van die individu; dit is die utopiese manifestasie van gemeenskap.

Pogings tot bewerkstelliging van ontologiese ewewig tussen eenheid en veelheid gaan weliswaar nie by voorstanders van politokratiese kommunitarisme verby nie: veelheid wat nie met eenheid saamhang nie gee tot chaos aanleiding; eenheid wat nie ruimte vir veelheid skep nie lei tot tirannie (Goosen 2007a:151). Teenoor die individualisme kies politokratiese kommunitarisme egter vir die universalisme: Bemiddeling kom tot vergestalting in die universele - die konkreet-universele (Goosen 2007a:151).31 Politokratiese kommunitariste volg Hegel se sosiale filosofie ter bemiddeling van "skeptiese relativisme en abstrakte universalisme" (Goosen 2007a:151). Die abstrakte universaliteit wat hieruit voortkom, is 'n universaliteit wat sigself nie anders manifesteer as in en deur die bemiddeling van die konkrete historiese werklikheid nie (Goosen 2007b:147). Die dramatologiese (organismiese) gemeenskap is die bemiddelingspunt in dié dilemma: geslote (ongedifferensieerde eenheid) teenoor vryswewende individualisme wat gemeenskap tot blote kontraktuele verbintenisse reduseer (Goosen 2007a:206).32 Hegel se Philosophie des Rechts word in 'n wesenlike sin verstaan as 'n poging om die liberale onderskeid tussen die goeie en die reg, die private en die openbare, nie op 'n uitsluitende - en "demoniserende" - grondslag te plaas nie, maar hulle met mekaar te bemiddel; volgens politokratiese kommunitarisme: die "grootsheid van Hegel se politiek-filosofiese denke was gegrond in 'n poging om dié weersprekende kragte met mekaar te integreer."33

"Bemiddeling" ontbeer egter die normatief-juridiese fokus om die politieke gemeenskap aan die "kernbesigheid" van die politieke gemeenskap (staat) te bind; dieselfde is waar van die staat as "konkreet-universele" (Goosen 2007a:151). Bemiddeling appelleer nie op tipies juridiese prinsipes vir die balansering, harmonisering en integrasie van diverse regsbelange in die onderskeie maatskaplike en gemeenskapsfunksies in die sosiale lewe nie. Voorts word die staat se strukturele eiesoortigheid nie afgegrens van nie-staatlike strukture nie. Die gevolg van die prinsipiële gebrek aan onderskeiding is 'n nominalistiese gemeenskapsbegrip in die vorm van 'n politieke Leviathan wat as "gemeenskapsgrootheid" onder die slagspreuk van res publica nie-staatlike eiestandigheid (en vryheid) bedreig. Vervolgens kan op sommige implikasies van dié ontplooiende organismiese makro-staat gelet word.

 

3. ENKELE IMPLIKASIES VAN DIE ORGANISMIESE KONSEPSIE VAN POLITOKRATIESE KOMMUNITARISME VIR DIE STAATS- EN REGSTEORIE

3.1 Die organismiese staat is die trans-individuele utopie van 'n abstrakte gemeenskapslewe

Die dekor waarteen die idee van politieke gemeenskap in die politokratiese kommunitarisme afspeel is die spanning tussen materie en vorm.34 Die individue (burgers) waaruit die politieke gemeenskap opgebou is, bepaal nie die identiteit van die politieke gemeenskap nie; die staatlike vorm (die konstitusie) is deurslaggewend vir die staatlike identiteit (kyk Hegel 2001:138). Politologie is die wetenskap van vorme oftewel konstitusies. Die kennis van vorme is afhanklik van die sintuiglike waarneming van materie. Die saamgebinde individue in die familie-assosiasie is die primêre materie wat vormaktualiserend sy grens vind in die organismiese staat. In 'n dinamiese hoedanigheid is die familie-assosiasie die materie waaruit die staat opgebou is; staties is dit die individuele staatsburger. Die staat is die natuurlike kulminasiepunt van die beweging waarin familieverbande vorm-matig manifesteer. Die staat is die produk van die natuurlike evolusie vanaf die individuele na die universele. In Hegel se "alternatief-moderne" terme: "For Truth is the Unity of the universal and subjective Will; and the Universal is to be found in the State, in its laws, its universal and rational arrangements. The State is the Divine Ideal as it exists on Earth. We have in it, therefore, the object of History in a more definite shape than before; that in which Freedom obtains objectivity, and lives in the enjoyment of this objectivity" (Hegel 1956:39).

Politokratiese kommunitariërs implementeer die tradisoneel-Hegeliaanse synsontologie: Aristoteles se organismiese staat staan antiteties teenoor byvoorbeeld Thomas Hobbes se meganistiese staatskonsepsie.35 Gemeenskap sny die "suurstoftoevoer" van die onegte staat af (Goosen 2015:42). Daarom is die meganistiese staat (burgerlike gemeenskap in Hegel se terme) 'n vorm van gemeenskapsdisintegrasie (Goosen 2007a:138). Egte gemeenskap word deur nasiestate ondermyn (Goosen 2007a:141-142).

Vir politokratiese kommunitarisme is die ware (en egte) staat (of politieke gemeenskap) 'n entiteit wat "anderkant" die territoriale (moderne) staat lê. Daarom lê die egte politieke lewe anderkant die moderne "territoriale staat" (die sterflike god van Hobbes volgens Hegel) (Goosen 2012b:761).36 Die "territoriale staat" word nie beskou as die beliggaming van 'n daadwerklike gemeenskap gebaseer op aktiewe gemeenskaplike burgerskap, soos byvoorbeeld in die klassieke (Atheense) filosofie van Aristoteles nie (Malan 2014:466).

Die "laere" assosiatiewe vorme is nie outonoom nie omdat die staat (as perfekte outonome gemeenskap)37 die individu van alles wat nodig is voorsien om sy/haar "rasioneel-morele" aard te verwesenlik; alle ander sosiale verhoudinge is afhanklik daarvan en vorm "laer" komponente van die staat.38 Die verhouding tussen die staat en nie-staatlike sosiale verhoudinge berus op 'n deel-geheel-skema; van doel en middele; van "hoër" en "laer".39 Die staat beskik van nature oor meerdere status as die individue en ander assosiatiewe vorme - die staat gaan aan die individu vooraf soos die volwasse vorm van 'n plant in die saad opgesluit is, of soos die volwasse dierlike liggaam in die embrio setel (kyk Dooyeweerd 2013b:21).

Politokratiese kommunitariërs identifiseer nie juridies-strukturele perke aan die organismiese staatsfunksies nie. Derhalwe spoel die publieke belang oor na alle nie-staatlike sosiale vorme en hul interne lewensterreine. Soos by Hugo Grotius (1583-1645) en Samuel Pufendorf (1632-1694) word die slagspreuk van res publica die instrument vir die aftakeling van die mees gevestigde vryhede omdat dit nie oor juridies-normatiewe perke beskik nie. Dié juridies-normatiewe hiaat (lacuna) lei noodwendig tot 'n ekspansionistiese idee van die res publica. Onderwys en opvoeding, ekonomiese belange en (selfs) godsdiensbeoefening word ter wille van die publieke belang onder die vlerk van die uitdyende staatstaak ingekapsel.40 Teenoor die ekspansionisme van staatsdoelwitte word individuele belange iets relatief, toevallig en die uitsondering.

3.2 Die organismiese staat is 'n totalitäre (en absolutistiese) vorm van verstaatlikte politieke gemeenskap

Volgens die Aristoteliese synsontologie gaan die organismiese staat teleologies die huishouding en die individu vooraf; tydsgewys loop die huishouding egter die staat vooruit.41 Blote biotiese bestaan is die onmiddellike oorsaak van die staat; die goeie lewe regverdig die bestaan daarvan (Goosen 2015:24). Die Aristoteliese spanning tussen die individuele en die universele (abstrakte partikulariteit en abstrakte universaliteit) wreek sigself op 'n markante wyse in politokratiese kommunitarisme: Eerstens val die klem op die Aristoteliese organiese polis. Die mens se inherente geneigdheid tot kommunale bestaan, kom tot uiting in 'n hiërargiese ordening van laer en hoër sosiale vlakke van gemeenskap, waarin elke laer vlak van gemeenskap streef na meerdere vervolmaking op hoër vlakke van menslike assosiasie.42 Die polis is 'n universele syn wat die individu na vormaktualisering lei43 en die kulminasiepunt van die menslike neiging tot gemeenskap is die polis.44 Soos vir Aristoteles is dit die perfekte menslike gemeenskap en omvat alle ander gemeenskappe sowel as partikuliere dele van die politieke eenheid: "Alvorens die individu die toneel van die geskiedenis betree het, is hy of sy alreeds deur 'n bepaalde gemeenskap of gemeenskappe voorafgegaan én moontlik gemaak. Daarom is dit ook bykans onmoontlik om aan die individu te dink sonder om te vra na dié gemeenskap(pe) wat dit bemiddel of moontlik gemaak het."45 Die polis is dié gemeenskap van gemeenskappe waarheen die individu "ekstaties" uitreik en aan deelneem; die polis is die geheel wat die individu voorafgaan en "mede-konstitueer" (Goosen 2011:501). Dit spruit uit die gedagte dat die polis die burgery voorsien van alles wat vir die deugdelike lewe nodig is. Dus alhoewel die polis onderskeie is van ander vorme van menslike gemeenskap omsluit dit alle ander vorme van sosiale bestaan en is op die vormaktualisering van die mens se rasioneel-etiese aard gerig (Dooyeweerd 2013c:7,126). Gevolglik is alle laer vorme van sosiale bestaan diensbaar aan die polis (as synde die volmaakte politieke gemeenskap) en vorm die boustene vir die universalistiese polis.

Aristoteles se instrumentalistiese sienswyses manifesteer ook in die rol van die grondwetlike ordening van die polis. Die grondwetlike norme (taxis) ontbeer nie alleen 'n funksionele juridiese fokus met die oog op die intern-organisatoriese (regs)orde van die politieke gemeenskap nie, maar orden die samelewing as geheel; die taxis bepaal die identiteit van die mens se sosiale lewe in alle fasette. Vanweë die afwesigheid van die materiële organisatoriese struktuurbeginsels onder_ liggend aan sy politieke filosofie onderskei Aristoteles nie materiële beperkings op die kompetensies van die polis as opperste outoritêre wetgewer nie (kyk Dooyeweerd 2013c:13,32,126). Die polis se beheer strek oor alle fasette van die samelewingsdomein: eties, ekonomies, godsdienstig en juridies. Alle assosiatiewe vorme is staatsonderdele. Die onoorkombare spanning tussen eenheid en verskeidenheid in die Aristoteliese politieke denke mond dus uit in 'n voltrekkende universalisme en 'n totalitäre politieke gemeenskap waarin die belange van individue en nie-politieke strukture aan die doelwitte van universalistiese politieke vormaktualisering ten dienste gestel word.46

Die organismiese staat is die hoogste assosiatiewe samelewingsvorm en die bepalende doel van die mens se bestaan. Alle ander assosiasies (byvoorbeeld gesin en familie) is middele vir die staat (as doel). Byvoorbeeld slawerny is vir die huishouding en die staat bloot 'n middel tot 'n doel. Die polis bepaal die middele wat die doelwitte van die staat moet dien. Meteen is die staat ook die eindpunt van die mens se etiese lewe. In die afwesigheid van 'n bowe-tydelike normatiewe oriëntasie wat die staat tot integreerder van die diverse publieke regsbelange in die samelewing beperk, word die staat die "sterflike god" - die voorloper van die moderne absolutistiese magstaat.47

3.3 Die organismiese staat funksioneer sonder erkenning van fundamentele regte

'n Verdere implikasie van die Aristoteliese teleologie is die organismiese konsepsie van die verhouding tussen die individu en die staat. Aangesien lidmaatskap van die staat die doel van menslike ontwikkeling is, en omdat individue slegs egte betekenis as staatsburgers het, het burgerskap konstitutiewe betekenis vir die menswees van die individu en buiten die staat het die enkeling nie betekenis nie - staatsburgerskap is konstitutief vir die menswaardigheid van die mens. Totdat die individu burgerskap van die staat bekom het, het hy/sy nie sy/haar ware aard verwesenlik nie en is hy/sy nie mens in die volle sin van die woord nie. Volkome humanitas impliseer civitas. Andersyds: elke volkome mens is lid van die staat, handel uitsluitlik as lid van die staat en bevorder die staatlike doelwitte.

Die organismiese staat (polis) word gekenmerk deur 'n outoritêr-hiërargiese orde - dit is 'n voorbeeld van 'n onsuiwer (nie-egte) teleologie. Die organismiese staat is die kulminasie van die morele lewe; dit is 'n elitistiese staat wat vir doeleindes van staatsburgerskap onderskei tussen burgers en arbeiders: diegene met materiële middele is burgers; die arbeiders en vakmanne wat nie oor ekonomiese middele beskik nie kan nie aanspraak maak op burgerskap nie. Aristoteles se "eksterne" organismiese teleologie ontsê burgerskap aan alle mense behalwe die rykes en intellektueles. Metafories uitgedruk: die ledemate (byvoorbeeld voete en hande) werk aktief - is burgers van die polis-liggaam; bindweefsel, bloed, senings dra passief by tot die welsyn van die liggaam - word gevolglik burgerskap van die polis ontsê.

Onderliggend aan menseregte vind Malan die "politiek van menseregte" uit hoofde waarvan individue die bevoordeeldes van menseregte is (Malan 2003:94-111). Menseregte funksioneer as 'n defensiewe strategie om die bestaande staatsorde te rugsteun. Vir politokratiese kommunitarisme is fundamentele regte bygevolg metafisiese bygeloof. Voorts ontken politokratiese kommunitariërs die onderskeie terreine van publieke en private belange. In die politokratiese polis is die regslewe in omvattende sin prinsipieel publiekregtelik en die onderskeid tussen die "private en die openbare" lewe rus op die veronderstelling dat die mens van nature 'n individu is. Volgens politokrate is die openbare lewe in die nasiestaat bygevolg niks anders nie as die gevolg van 'n kunsmatige optelsom - of kontrak - tussen onverbonde individue. In die Aristoteliese tradisie word aanvaar dat die gemeenskappe waartoe die mens verbind is en waaraan ons deelneem, natuurlike gemeenskappe is (Aristoteles 1920a, Boek I, hoofstuk 2:8 (1252b)). Dit is ook waar van die politieke lewe: As "politieke grootheid" is dit die natuurlike vorm waarbinne 'n selfstandige lewe na vore kan tree; in lyn met Aristoteles se denke: die selfstandige aard van die polis is die konkrete voorwaarde vir die etiese lewe (Goosen 2010:189).

Ter "transendering" van die konflik tussen die polis en die moderne nasiestaat, volg politokratiese kommunitarisme die Hegeliaanse politieke dialektiek. Die organismiese staat is die universele metafisiese grootheid wat die hoogste rede, reg en waarheid verteenwoordig. Verskeie belangrike implikasies spruit uit die politokratiese kommunitêre omarming van die Hegeliaanse dialektiese politieke erfenis: eerstens, kultiveer dit 'n regsteorie van konflik - die afwesigheid van bowe-tydelike regsbeginsels wat die staat tot sy normatiewe sfeer van integreerder van regsbelange beperk, skep 'n ekspansionisties-metafisiese staatsbegrip. Individuele vryheid is vir Hegel die kulminasie van staatlike wilsmag, en onderwerping aan staatlike wetgewing en pligvervulling die hoogste vorm van deugdelikheid: "For Law is the objectivity of Spirit; volition in its true form. Only that will which obeys law, is free; for it obeys itself - it is independent and so free" (Hegel 1956:39). Die onstabiliteit (selfs volatiliteit) wat spruit uit die behartiging van a-juridiese magstaatsdoelwitte, die kultivering van individue se blinde gehoorsaamheid van die staat, tesame met die afwesigheid van prinsipiële beskerming van individue se regsbelange, berei die teelaarde vir skending van individuele regte en skep 'n sirkelgang van konflik en weerstand in die samelewing. Tweedens, ontbeer politokratiese kommunitarisme die juridiese bindingsprinsipes wat publieke geregtigheid moontlik maak - die staat is 'n totaliteitsverband wat deur heersende menings, wisselende ideologieë en 'n manipuleerbare staats-etos gestuur word. Derdens, kan die "dramatologiese gemeenskap" en "mede-verskyning van syn en syndes" nie die materiële prinsipes voorsien wat die tipies-juridiese aard van die staat (teenoor byvoorbeeld Hegel se staatsabsolutisme) na vore bring nie - in wese is die staat nie te onderskei van 'n "gemeenskap" van koesister-bakkers, die sosiale struktuur van 'n dramaklub of die assosiasievorm van Hitler Jugend in Nazi-Duitsland nie. Dit ontbeer die normatiewe skerpte om 'n eiesoortige juridiese stempel as begrensingsprinsipe op staatshandelinge te plaas. Vierdens, sê die staat as synsgemeenskap vir ons weinig aangaande die staat se ordening van die publieke regslewe en dra weinig by tot verheldering van die eiesoortige aard en struktuur van die staat se normatiewe take en behartiging van die subjektiewe sy van die regswerklikheid. Vyfdens, lei die vervloeiing van rasionaliteit en voluntariteit (rede en wil) in die staatlike synsgemeenskap tot 'n positivistiese dwangstruktuur volgens die patroon van Hegel se inkarnasie van die goddelike in die wetgewing van die staat. Anders gestel: die juridiese wilsmag van die staat word 'n universeel-transendente juridiese saambundeling van positivistiese regsmag: "The State is the Divine Idea as it exists on Earth" en: "The Rational has necessary existence, as being the reality and substance of things, and we are free in recognizing it as law, and following it as the substance of our own being" (Hegel 1956:39). Sesdens, word positiewe staatlike regsordeninge (wetgewing) die norm vir die regswerklikheid wat deur syn en syndes bemiddel word. Hand aan hand daarmee loop die gebrek aan onderskeid tussen regverdige en onregverdige wetgewing en die erfenis van juridiese positivisme in die Duitse regslewe - 'n erfenis van Hegel se staat as juridiese synsgemeenskap. James McClellan vat die regspositivistiese nalatenskap van Hegel (en ander "alternatief modernes") saam: "A state ... could not act 'illegally' because 'Every expression of the life of a state, every act of State, is a legal act'" (McClellan 1971:lx).

3.4 Die organismiese politieke gemeenskap is 'n innerlik-teenstrydige en ongedifferensieerde vorm van verstaatlikte assosiasie

By Skolastici en politokratiese kommunitariërs kulmineer Aristoteles se hiërargiese idee van gemeenskap (kyk Dooyeweerd 2012b:34 & 2013c:126; Kurz 1932:88 e.v.) in innerlik-teenstrydige en verstaatlikte teoretiese implikasies. Die polis is die gemeenskap van gemeenskappe, die voltooide gemeenskap. In en deur die polis bereik die feit van gemeenskap wasdom; uitgedruk in organismiese metafore: soos 'n voet en 'n hand nie sonder die liggaam as geheel kan bestaan nie, net so kon die vroeëre gemeenskappe nie sonder die polis bestaan nie; dit was deel van die natuurlike orde van dinge. Die Aristoteliese hiërargiese gemeenskapsbegrip is die struktuur waarbinne politokratiese kommunitarisme beslag kry: die verhouding tussen die dele en die geheel van die politieke lewe is 'n "deelnemende verhouding" (Goosen 2010:188). Wat is die dele en die geheel waaruit die politieke werklikheid saamgestel is? Die Aristoteliese hiërargie van mikrokosmiese huishoudings, deur dorpe na die politieke geheel van die polis: "Laasgenoemde is 'n eenheid waarin die veelheid van politieke akteurs wat daaraan deelneem, nie 'n argument teen sy eie verwerkliking is nie, maar eerder die voorwaardes daarvoor is. Sonder die veelheid van die polis is die politieke eenheid (of die eenheid van die politieke) nie moontlik nie" (Goosen 2010:188). Waaromjuis die polis? Waarom tree die politieke eenheid eers daarin na vore? Soos vir Aristoteles, neem politokratiese kommunitariërs hul vertrekpunt in die konkrete werklikheid: vir Aristoteles is die polis by uitstek 'n politieke eenheid omdat dit, anders as dele van die huishouding of die dorp, as 'n "selfstandige eenheid funksioneer"; anders as die moderne wêreld tree die politieke lewe nie soseer in sy onderskeid met die private lewe na vore nie, maar in sy onderskeid met dié dele wat hulself as afhanklik jeens kragte buite hulle beheer ervaar (Goosen 2010:189).

Die verwesenliking van die organismiese staat huisves egter 'n teenstrydigheid. Enersyds is die ongedifferensieerde organismiese staat (polis) die kulminasiepunt van die politieke lewe en alle ander sosiale verhoudinge is daarvan afhanklik (kyk Goosen 2015:52).48 Andersyds is die polis volgens die Skolastieke beskouing van subsidiariteit 'n "tussen-gemeenskap". Die Skolastieke subsidiariteitsleer maak die bestaan van alle tussen-gemeenskappe afhanklik van die staat (die hoogste beliggaming van die politieke lewe). Die anomalie is dat die polis die staat veronderstel, maar die polis is self staat. Om aan dié impasse te ontkom, maak politokrate voorsiening vir 'n groter organismiese eenheid in die vorm van die Hegeliaanse staat waarin die polis vervloei.

Die polis is dus nie eindpunt van die ontwikkeling van die politieke lewe nie. Daarom ondersteun politokratiese kommunitarisme die Skolastieke idee van analogia entis en partisipasie én die Hegeliaanse uitbouing daarvan tot die organismiese staat. Politokratiese kommunitarisme se polis is dus 'n "tussen-gemeenskap". Op die basis van die Skolastieke denke oor analogia entis en partisipasie word die ongedifferensieerde Griekse polis voortgesit in die Skolastieke beginsel van subsidiariteit - die uitvloeisel van Aristoteles se politieke synshiërargie (Malan 2011:285-286, 288-289; Goosen 2015:52).49 Volgens Hegel se alternatief-modernisme is die stad één van die twee elemente om die organismiese staat te konstitueer: "City and country are the two as yet ideal constituents, out of which the state proceeds. The city is the seat of the civic-society, and of the reflection which goes into itself and causes separation. The country is the seat of the ethical, which rests upon nature" (Hegel 2001:194). Volgens Hegel is die polis (as tussen-gemeenskap) bloot die vertrekpunt van dié universele staat.

Indien die Skolastieke politieke prinsipe van subsidiariteit en "tussen-gemeenskappe" as beginsel aanvaar sou word, tree bepaalde kernvrae na vore: Kan die Middeleeuse beginsel van subsidiariteit die staatsabsolutistiese tendense van die nasiestaat-teorie teëwerk soos politokratiese kommunitariërs beweer? (Goosen 2007a: 159, 167). Kan dit dien as grondslag vir kritiek op die "geometriserende" aard van die nasiestaat? (Goosen 2007a:159). Skep dit die "komplekse ruimte" (Goosen 2007a:331) waarin 'n veelheid van dramaturgieë soewerein oor hulself kan besluit? (Goosen 2007a:331). Verleen dit die "plekgeoriënteerde selfstandigheid" binne die staat wat die normatiewe eiestandigheid van sosiale strukture sinvol van staatsinmenging kan afgrens? (Goosen 2007a:331). Die antwoorde op dié vrae is: Nee. Die staat as "hoogste" sosiale instelling op die natuurlike terrein, is Aristoteles se totalitêre polis; die staat wat hiërargies die kroonpunt van die synshiërargie uitmaak; die politieke gemeenskap wat met totale mag beklee is en slegs bepaalde vryhede aan "laer" instelling vergun (Dooyeweerd 2012b:34,77,240).

Nog 'n vraag: Wat is die aard van die "alternatief-moderne" Hegeliaanse staat as makro-entiteit waarin die polis vervloei? Die Skolastieke staatsontologie is die wegbereider vir Hegel (en politokratiese kommunitarisme) se totalitêre staatsidee ingevolge waarvan die individu nie oor regte jeens die staat beskik nie. Gevolglik kon Hegel kategories verklaar: "Only that will which obeys law, is free: for it obeys itself - it is independent and so free" (Hegel 1956:39). Die polis (as tussen-gemeenskap) gaan oor in die konkreet-universele gemeenskap: konkreet (konkret) - die organismiese staat as eiestandige geheel; universeel (Allgemeinkeit) - die volkome afgeronde (ontwikkelde) organismiese staat.

Is daar 'n verband tussen die Skolastieke beginsel van subsidiariteit en die Hegeliaanse konkreet-universele staat? Tot welke mate is die Skolastieke beginsel van subsidiariteit byvoorbeeld versoenbaar met die Hegeliaanse idee van die absolute staat? In sy kommentaar op die Duitse konstitusie inkorporeer Hegel die Skolastieke beginsel van subsidiariteit: "Political authority must be concentrated, be it as government for the executing, or for the determination thereof. If this center of authority is made secure in itself by the respect of the peoples and is sanctified in the person of the monarch as unchangeable; a political authority can leave without fear or jealousy to the subordinate systems and corporate bodies a great part of the relations which are produced in a society" (Hegel 1954: ongepagineerd). Sosiale instellings besit nie normatiewe eiestandigheid jeens die staat nie; hul beskik uitsluitlik oor die vryhede wat hulle van staatsweë vergun word: "It (the state) can leave to them their maintenance according to law, and each class, city, village, community etc., can enjoy the freedom of doing and executing what lies within its sphere" (Hegel 1954:ongepagineerd).

 

4. SAMEVATTING

Politokratiese kommunitarisme berus op die teleologiese denke van Aristoteles, die Skolastieke synsontologie en Hegel se dialektiese idealisme en kulmineer evolusionêr in die organismiese staat. Kan politokratiese kommunitarisme staatsabsolutisme en magsmisbruik vermy? Sterker gestel: Kan politokratiese kommunitarisme byvoorbeeld die morele skipbreuk van 'n radikale staatsideologie soos Nazisme verhoed? Nee. Die redes daarvoor: Die Aristoteliese vertrekpunt is dat alle vorme van menslike assosiasie in diens staan van die polis en laasgenoemde uiteindelik kulmineer in die organismiese staat. Volgens die Aristoteliese synsontologie bestaan nie-staatlike lewensvorme as "synsmiddele" om die rasioneel-etiese synsdoel van die staat te dien, om die uitbreiding van die staat te bevorder en uiteindelik om die behoeftes van die staat te bevredig. Hiërargies gesproke is alle vorme van menslike assosiasie deel van die staatsgeheel. Dié Aristotelies-universalistiese konstruksie van die politieke gemeenskap mond uit in die Skolastieke opperheerskappy van die staat op die terrein van die natuur. Hoewel elke staatlike "substruktuur" sy eie doel nastreef, dien dit steeds as materie vir die vorm van die hoëre staatlike "superstruktuur". Alle sosiale verbandstrukture van die menslike samelewing deel in hierdie rangorde (as "tussen-gemeenskappe"): die individu is eerstens geplaas in die gesin, wat saam met ander gesinne die dorpsgemeenskap vorm; op hul beurt vorm dié verbande die materie vir die vorm van die polis (stadstaat) - wat die hoogste, selfgenoegsame struktuur van die menslike samelewing is. Eers binne hierdie struktuur kan die mens sy eie vervolmaking vind. In die Skolastieke denke voer die staat die mens tot sy volledige bestemming op die terrein van die natuur. Uiteindelik vind die politieke lewe sy hoogste doel in die Hegeliaanse makro-organismiese staat. Volgens die Aristotelies-Skolastieke beskouing vorm die laer lewensgemeenskappe dele van die staats-geheel. In dié staatsdenke word die beginsel van subsidiariteit benut om die selfstandige vryheid (vryheid in eie kring) van hoëre (staatlike) en laere (nie-staatlike) lewensgemeenskappe te bemiddel (vgl. Dooyeweerd 2013a:73 & 2013c: 126,134,137).50 Die gevolg is 'n parsieel-universalistiese beskouing van sosiale evolusie ingevolge waarvan nie-staatlike lewensverbande verstaatlik, de facto dienare van die staat word en politieke doelwitte de jure die middele heilig. Herman Dooyeweerd het eerstehands die voltrekking van die pagane Aristotelies-Skolastieke-Hegeliaanse staat in die Nasionaal-Sosialistiese en die Fascistiese staatpraktyke meegemaak: "This Aristotelian idea of the state was the philosophical expression of the ancient Greek popular conviction. People really saw the state as the highest rung of human kind's moral development, as the highest and most perfect body to which the free citizen had to subject all areas of life. It was very much like the idea of the totalitarian state as recently taken up by Fascism and National Socialism, although there the idea is no longer based on a so-called 'metaphysical' order of reason, but is oriented irrationally to the community feeling of the people (das Volk)" (Dooyeweerd 2013c:126). Die opkoms van politieke totalitarisme in die negentiende eeu was ook meer as slegs insidenteel aan Hegel se idealisme verbonde. Tesame met biopolitiese sentimente, verklaar K.R. Popper, spruit die latere Fascisme uit Hegel se dialektiese idealisme: "Thus the formula of the fascist brew is in all countries the same: Hegel plus a dash of nineteenth-century materialism (especially Darwinism in the somewhat crude form given to it by Haeckel)" (Popper 1945:57).

Is politokratiese kommunitarisme die magiese blaashoring wat die eietydse Narnia van ondergang moet red? Ongetwyfeld nie. Eerder die fluit van die fluitspeler van Hameln wat op ou afgronde van verstaatliking stuit. Dalk het die Rabbi se opmerkings in Fiddler on the Roof oor die gewaande deugde van die Tsaar die antwoord op die vraag of politokratiese kommunitarisme die ideale politieke gemeenskap voorsien: "Mag die Tsaar geseënd wees .... en hou hom ver van ons af." Politokratiese kommunitarisme staan in dieselfde gemeenskapsontologie as Aristoteles en Hegel; dit verhoed selfs nie betekenisvol die moontlikhede van 'n tweede Auschwitz nie. Die volgende vraag aan politokratiese kommunitariërs: Is die staat as hoogste vorm van gemeenskap nie louter abstraksie nie? Met ander woorde: Dit kan 'n skrikwekkende werklikheid wees, maar kan nie as politieke gemeenskap bestaan nie?

 

BIBLIOGRAFIE

Aquinas, T. 1905. Of God and His Creatures (Summa Contra Gentiles). Engelse vertaling deur J. Rickaby. London: Burns & Oats B. Herder.         [ Links ]

Aristoteles, 1920a. Politics. Vertaal deur Benjamin Jowett. Oxford: Clarendon Press.         [ Links ]

Aquinas, T. 1920b. The Summa Theologica. Engelse vertaling deur die Fathers of the English Dominican Province. London: Burns, Oats & Washmore.         [ Links ]

Aquinas, T. 1965. De Regimine Principium (On Princely Government). Selected Political Writings. Vertaling deur J.G. Dawson. Oxford: Basil Blackwell.         [ Links ]

Bekker, T. 2006. The re-emergence of Ubuntu: A critical anaylsis. SAPR/PL, 21: 332-334.         [ Links ]

Bregstein, M.H. et al. 1957. Wezen en Grondslagen van het Recht. Kampen: Uitgeversmaatschappij J.H. Kok.         [ Links ]

Broodryk, J. 1997. Ubuntuism as a worldview to order society. Ongepubliseerde Ph.D-proefskrif. Pretoria: Unisa.         [ Links ]

De Benoist, A. 2004. Au-delà des droits de l'homme. Paris: Editions Krisis.         [ Links ]

Dooyeweerd, H. 2010. The Crisis in Humanist Political Theory. Grand Rapids: Paideia Press.         [ Links ]

Dooyeweerd, H. 2012a. Encyclopedia of the Science of Law Vol. I. Grand Rapids: Paideia Press.         [ Links ]

Dooyeweerd, H. 2012b. The Struggle for a Christian Politics. Grand Rapids: Paideia Press.         [ Links ]

Dooyeweerd, H. 2013a. Christian Philosophy and the Meaning of History. Ancaster, Ontario: Paideia Press.         [ Links ]

Dooyeweerd, H. 2013b. Political Philosophy. Selected Essays. Grand Rapids, MI: Paideia Press.         [ Links ]

Dooyeweerd, H. 2013c. Essays in Legal, Social & Political Philosophy. Grand Rapids, MI: Paideia Press.         [ Links ]

Gilson, E. 1936. The Spirit of Medieval Philosophy. New York: Scribner's.         [ Links ]

Gilson, E. 2002. Thomism. The Philosophy of Thomas Aquinas. Toronto: Pontifical Institute of Medieval Studies.         [ Links ]

Goosen, D. 2007a. Die Nihilisme: notas oor ons tyd. Pretoria: Praag.         [ Links ]

Goosen, D. 2007b. Demonisering en demokrasie, Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 47/2: 142-154.         [ Links ]

Goosen, D. 2010. Oor die Republikeinse Gedagte. 'n Oefening in Herinnering. Historia, 55/2: 182-203.         [ Links ]

Goosen, D. 2011. Die Teoretiese Lewe. Perspektiewe vanuit die Tradisie. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 51/4: 490-506.         [ Links ]

Goosen, D. 2012a. Oor die Geestelike. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 52/4: 707-718.         [ Links ]

Goosen, D. 2012b. Politieke Denke en Praktyke. (Boekbespreking van Koos Malan, Politokrasie. (Pretoria: Pretoria University Law Press, 2011). Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 52/4: 761-764.         [ Links ]

Goosen, D. 2013. Monsters en mense: Oor die geestelike en haar moderne afwesigheid. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 53/4: 515-529.         [ Links ]

Goosen, D. 2015. Oor Gemeenskap en Plek. Anderkant die Onbehae. Pretoria: FAK.         [ Links ]

Gyekye, K. 2001. Person and community in African Thought in Coetzee, P.H. & Roux, A.P. J. (eds). Philosophy from Africa. Tweede uitgawe. London: Routledge, pp. 317-336.         [ Links ]

Hegel, G.W.F. 1894. Philosophy of Mind. Oxford: Clarendon Press.         [ Links ]

Hegel, G.W.F. 1954. The German Constitution. <http://www.marxist.org/refe> (datum geraadpleeg: 7 Julie 2015.         [ Links ]

Hegel, G.W.F. 1956. Philosophy ofHistory. Vertaal deur J. Sibree. New York: Dover Publications, Inc.         [ Links ]

Hegel, G.W.F. 2001. Philosophy of Right. Vertaal deur S.W. Dyde. Kitchener: Butoche Books.         [ Links ]

Hommes, H.J. van Eikema. 1978. The Material Idea of the Law-State. Philosophia Reformata, 43: 49-60.         [ Links ]

Keevy, I. 2008. African Philosophical Values and Constitutionalism: A Feminist Perspective on Ubuntu as a Constitutional Value. Ongepubliseerde LL.D-proefskrif. Bloemfontein: Universiteit van die Vrystaat.         [ Links ]

Kurz, P.E. 1932. Individuum und Gemeinschaft beim HL. Thomas von Aquin. München: Verlag Josef Kösel.         [ Links ]

Malan, K. 2003. 'n Kritiese evaluering van menseregte as eietydse globale politiek-juridiese verskynsel. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 43/1&2: 94-111.         [ Links ]

Malan, K. 2007. Die brose wisselwerking tussen die (reg op) eierigting en die (falende) staat. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 47/4: 119-134.         [ Links ]

Malan, K. 2011. Politokrasie. 'n Peiling van die dwanglogika van die territoriale staat en gedagtes vir 'n antwoord daarop. Pretoria: Pretoria University Law Press.         [ Links ]

M'Baye, K. 1974. The African Conception of Law in International Encyclopedia of Comparative Law, Vol. I. (1974:138-158).         [ Links ]

MacIntyre, A. 1981. After Virtue. London: Duckworth.         [ Links ]

McClellan, J. 1971. Joseph Story and the American Constitution. Norman, Oklahoma: University of Oklahoma Press.         [ Links ]

Nijarongo, L. 1997. The Gods of Africa and the God of the Bible: the Snares of African Traditional Religion. Potchefstroom: Institute for Reformational Studies.         [ Links ]

Popper, K.R. 1945. The Open Society and Its Enemies, Vol.II. London: George Routledge & Sons.         [ Links ]

Pretorius, J.L. 1986. Die begrip publieke belang en burgervryheidsbeperking. Ongepubliseerde LL.D-proefskrif. Bloemfontein: UOVS.         [ Links ]

Raath, A.W.G. 1983. Die Juridies-Wysgerige Grondslae van Vryheid en Gelykheid: Die Grieks-Romeinse Aanloop. M.Phil-verhandeling. Bloemfontein: UOVS.         [ Links ]

Raath, A.W.G. 1985. Menslike Vryheid in Konteks en Perspektief. D.Phil-proefskrif. Bloemfontein: UOVS.         [ Links ]

Sandal, M.J. 1995. Democracy's Discontent. America in Search of a Public Philosophy. Cambridge, Massachusetts: Harvard University Press.         [ Links ]

Sebidi, L.J. 1998. Toward a definition of Ubuntu as African humanism, in Khabela, M.G. & Mzoneli, Z.C. (eds). Perspectives on Ubuntu. A tribute to Fedsem. Alice: Lovedale Press, pp. 62-67.         [ Links ]

Strauss, D.F.M. 2012. A history of attempts to delimit (state) law. Journal for Juridical Science, 37(2), 35-64.         [ Links ]

Strauss, D.F.M. 2013a. Are distinct societal spheres a threat to human freedom? Journal for Christian Scholarship, (1&2), 185-205.         [ Links ]

Strauss, D.F.M. 2013b. Are distinct societal spheres a threat to human freedom? Journal for Christian Scholarship, (3), 93-123.         [ Links ]

Taylor, C. 1991. The Ethics of Authenticity. Cambridge, Massachusetts: Harvard University Press.         [ Links ]

Van der Walt, B.J. 2006. Understanding and Rebuilding Africa. Potchefstroom: ICCA.         [ Links ]

 

 

 

Andries Raath is 'n navorsingsgenoot in die Departemente Publiekreg en Geskiedenis aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy begin sy akademiese loopbaan in 1980 as senior lektor in regsfilosofie aan die Universiteit van Bophuthatswana. Vanaf 1984 is hy verbonde aan die Departement Staatsreg en Regsfilosofie aan die Universiteit van die Vrystaat. Vanaf 2004 tot 2012 was hy senior professor in dié departement. Die fokusareas van sy navorsing sluit in kontemporêre regsfilosofiese strominge met besondere verwysing na kommunitêre regs- en staatsteorieë sowel as Suid-Afrikaanse godsdiensgeskiedenis.
Andries Raath is a research fellow in the Departments of Public Law and History at the University of the Free State. He started his academic career in 1980 as senior lecturer in philosophy of law at the University of Bophuthatswana. Since 1984 he is attached to the Department of Constitutional Law and Philosophy of Law at the University of the Free State. From 2004 to 2012 he was senior professor in the same department. The focus areas of his research include contemporary legal philosophical approaches with particular reference to communitarian legal and state theories as well as South African religious history.
1 Die Grondwethof sonder Ubuntu uit as een van die waardes wat in terme van die Grondwet deur die howe bevorder moet word. In die hofbeslissing van S v Makwanyane 1995(3) SA 391 (CC) verwys regter Langa na Ubuntu as die "collective of communitarian rights and duties of society" (par. 224).
2 Veral in die nawerking van hofuitsprake soos S v Makwanyane 1995 (3) SA 391 (CC); Azanian Peoples Organization (AZAPO) and Others v President of The Republic of South Africa and Others 1996 (4) SA 671 (CC); Hoffman v SA Airways 2001 (1) SA (CC); Port Elizabeth Municipality v Various Occupiers 2005 (1) SA 217 (CC) and Dikoko v Mokhatla 2006 (6) SA 235 (CC).
3 Vir Ubuntu: Sebidi (1998); politokrasie: Malan (2011).
4 Ubuntu: Bekker (2006:332-334); politokrasie: Goosen (2007a:137 e.v.).
5 Regter Sachs in Dikoko v Mokhatla par. 118; Gyekye (2001); politokrasie: Goosen (2013:525).
6 Ubuntu : Keevy (2008:203); politokrasie: Malan (2011:179, 200-204).
7 Ubuntu: Sebidi (1998:63); politokrasie: Goosen (2007a:29,137,144,145,171,273,329).
8 Kyk regter Langa in S v Makwanyane par. 224. Vgl. egter M'Baye (1974:138-143) se vertolking van tradisionele Afrika-filosofie as wysgerige denke wat nie erkenning gee aan menseregte nie.
9 Malan ontleen die term "politokrasie" aan die Klassieke Griekse begrip van die polis - in besonder Aristoteles (1920a: Boek I, hoofstuk 1:1 1252a) se konsepsie daarvan as die outarke en volmaakte gemeenskap.
10 Aristoteles (1920a: Boek I, hoofstuk 2:8 1253a): "When several villages are united in a single community, perfect and large enough to be nearly or quite self-sufficing, the state comes into existence, originating in the bare needs of life, and continuing in existence for the sake of a good life." Malan (2011:299), Goosen (2015:34,37,52,102,289).
11 Politokrasie dui op die politieke magsuitoefening in en deur die strukture van die polis (Kyk Goosen 2011:762).
12 Bedoelende die Aristoteliese tradisie.
13 Dié demokrasie word deurAristoteles in sy Politica, (1920a: Boek I, hoofstuk 1: 1-2 1252a-b) beskryf as 'n deel-geheel-skema. Die geheel geniet voorrang bo die individu in 'n sisteem wat hiërargies georden is.
14 Volgens Aristoteles is die staat die doel van alle menslike assosiasie (1920a: Boek I, hoofstuk 1:8 1252a).
15 Kyk bv. Goosen (2007a:204,424) se verwysing na Gilson (2002:424).
16 Die dramatologiese gemeenskap (wat bemiddel word tussen syn en syndes) "gebeur" wanneer immanente syndes op die dramatologiese verhoë aan die transendente syn deelneem (Goosen 2007a:137).
17 Derhalwe word 'n element van "goddelikheid" aan die universele syndes "gekommunikeer".
18 Politokratiese kommunitarisme huldig die tradisioneel-Skolastieke partisipasie ontologie: God is goedheid, die mens het goedheid; dieselfde is waar van ander wesenseienskappe soos waarheid en skoonheid (kyk Goosen 2011:493). By sterflike wesens (die mens) val die wesenskenmerk soos goedheid nie met hul "eksistensiële dat" saam nie (Goosen 2011:493).
19 Vir 'n meer diepgaande bespreking van die normatiewe staatstaak en -struktuur kyk Bregstein et al. (1957) & Hommes (1978:49-60). Kyk ook Strauss (2012: 35-64; 2013a: 185-205).
20 Volgens Hegel moet Sokrates die krediet ontvang vir die samevoeging van die eenheid van die konkrete en die universele (Hegel 1956:12).
21 Hy voeg by: "Ons universele menswees kom nie anders tot sy reg as in en deur ons deelname aan 'n veelheid van gemeenskappe nie. In en deur dié deelname gee ons inhoud aan dit wat dit beteken om mens te wees."
22 Daarom is die keuse ten gunste van "oeroue" opvattings dat die mens in die eerste plek gemeenskaps-wese is.
23 Goosen verwys na postmoderne kommunitariese benaderings en die Nuwe Franse Regse Beweging ("Nouvelle Droite") se standpunte in dié verband: Alisdair MacIntyre (1981); Charles Taylor, (1991); Michael J. Sandel (1995) en Alain de Benoist (2004).
24 Oftewel natuurlike gees.
25 "Die "bürgerliche Gesellschaft"; die gees in sy tweevoudige bestaan.
26 Die werklike (en organiese) gees is die gees van 'n volk, dit manifesteer in die verhouding van volksgeeste tot mekaar en tree na vore in die wêreldgeskiedenis as die universele wêreldgees met die hoogste reg (Hegel 2001:50,194e.v.).
27 Die familie disintegreer, die lede word onafhanklik van mekaar en word slegs deur bande van wedersydse afhanklikheid saamgebind. Dit is die fase van die burgerlike gemeenskap wat dikwels foutiewelik vir die staat aangesien word (Hegel 2001:51).
28 Die beginsel van partikulariteit is die reg van die individu, oftewel die individu se aanspraak op persoonlike vryheid.
29 In die burgerlike gemeenskap word die individu se reg 'n doel op sigself: "In the civic society what is intrinsically right becomes law. What was formerly the simple and abstract realization of my private will becomes, when recognized, a tangible factor of the existing general will and consciousness" (Hegel 2001:175).
30 Die konkreet-universele besit egte soewereiniteit "in accordance with which the so-called parts of an animal organism are not parts but members or organic elements. Their isolation or independent subsistence would be disease" en "(i)nto the concrete universality all particularity and definiteness are taken up, and receive a new significance" (Hegel 2001:224, 246). Die beginsel van partikulariteit is die reg van die individu oftewel die individu se aanspraak op persoonlike Vryheid (Hegel 2001: 196).
31 Universalisme in hierdie konteks as 'n hoogste omvattende totaal verband wat teenoor individualisme (oftewel atomisme) staan.
32 Soos by Aristoteles is die staat die volmaakte natuurlike gemeenskap en alle ander natuurlike verhoudinge is afhanklik daarvan (kyk Dooyeweerd 2013(a):75-76 en Pretorius 1986:11).
33 Goosen (2007(b):149): "Die grootsheid van Hegel se denke was 'n funksie van die wyse waarop hy 'n antwoord gebied het op die demonisering waaraan historiese gemeenskappe deur die liberale modernisme onderwerp is."
34 Vir die oorsprong van die vorm-materieleer in Aristoteles se filosofie, kyk Raath (1983:194 e.v.).
35 Politokratiese kommunitarisme se gunsteling aversie is Thomas Hobbes se staatsteorie (Malan (2007:125).
36 Malan verkies "territoriale staat" bo "nasiestaat".
37 Kyk Aristoteles (1920a: Boek I, hoofstuk 2:8 1252a-1253a); Aquinas (1920b: Deel 2, hfst. II, qu. 65, art. 2 ad 2; Deel 1, hoofstuk II, qu. 90, art. 2; Deel. 1, hoofstuk II, qu. 90, art. 3 ad 3; 1965: Boek I, hoofstuk 1).
38 Aristoteles (1920a: Boek I, hoofstuk 2:13-14 (1252a-1253a); Aquinas (1965: Boek I, hoofstuk 1. Kyk Dooyeweerd (2013(b):97).
39 Aristoteles (1920a: Boek I, hoofstuk 2:13-14 (1253a); Aquinas (1920b: Deel 1, hoofstuk II, qu. 90, art. 2; Deel. 1, hfst. II, qu. 90, art. 3).
40 Aristoteles (1920a: Boek VIII, hoofstuk 1:1 (1338a) - Boek VIII, hoofstuk 3:13 (1338b); Aquinas (1920b: Deel. 2, hoofstuk II, qu. 47, art. 10 ad 2). Vgl. Dooyeweerd (2013(b):97).
41 Aristoteles (1920a: Boek I, hoofstuk 2:13 (1253a). Die staat gaan van nature voor die familie en die individu; die geheel gaan voor die dele.
42 Kyk Aristoteles (1920a: Boek I, hoofstuk 2:13-14 (1253a); Aquinas (1920b: Deel 1, hoofstuk II, qu. 90, art. 2; Deel 1, hoofstuk II, qu. 90, art. 3 ad 3).
43 Vir die Aristoteliese vorm-materieleer en die implikasie daarvan kyk Dooyeweerd (2012(a):50).
44 Aristoteles (1920a: Boek I, hoofstuk 2: 13-14 (1253a); Aquinas (1905: Boek III, hoofstuk 85:10; Boek III, hoofstuk 129:4.
45 Goosen (2007(b):143). Kyk Aristoteles (1920a: Boek III, hoofstuk 9:1-15 (1280b-1281a); Boek VIII, hoofstuk 1); Aquinas: (1920b: Deel 2, hoofstuk II, qu. 47, art. 10 ad 2).
46 Behalwe vir Aristoteles se vorm-materiemotief in die plek van Plato se mikro-makrokosmosskema, is daar nie 'n wesenlike verskil in hul onderskeie sienswyses oor die universalistiese polis-gemeenskap soos wat politokratiese kommunitariërs beweer nie (bv. Goosen (2007a:199-202)).
47 Vir 'n deeglike uiteensetting van die kompetensiebeperkende insig wat die beginsel van soewereiniteit in eie kring bied, kyk Strauss (2013b: 93-123).
48 Vir Aristoteles oor die polis as voltooide (ideale) gemeenskap kyk (1920a, Boek III, hoofstuk 9:12-13 (1280b)); vgl. Dooyeweerd (2013(a):75) en Pretorius (1986:12).
49 Vir kritiese opmerkings oor dié beginsel kyk Dooyeweerd (2013(a):75). Vgl. ook Strauss (2013b: 93-123).
50 In wese volg die Skolastieke denke Aristoteles se politieke teleologie.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons