SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.56 número1Hengelo is Afrika: de Afrikaanse literatuur in Nederland in 2009 índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.56 no.1 Pretoria mar. 2016

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2016/v56n1a20 

BOEKBESPREKINGS

 

 

Titel: Die familie Changuion van Suid-Afrika: Vanaf Frankryk deur Duitsland en Nederland tot Suid-Afrika, 1560's - 1960's
Outeur: Louis Changuion
Uitgewer: Haenertsburg: Pennefather Books, 2014
Bladsye: 385 pp.
ISBN: 978-0-620-60738-4
Prys: R870.00

Van 'n prolifieke en deurwinterde historikus soos Louis Changuion, die outeur van meer as twintig boeke, kon 'n mens verwag dat hy mettertyd ook die merkwaardige verhaal van die afkoms en die bydrae van die familie Changuion in Suid-Afrika te boek sou stel. Dit het inderdaad in 2014 gebeur toe Die familie Changuion van Suid-Afrika in 'n beperkte, genommerde en getekende oplaag van slegs honderd eksemplare verskyn het.

Die bronnelys en verwysings getuig daarvan dat hierdie genealogiese publikasie op uitgebreide en deeglike navorsing berus. Changuion het geen steen onaangeroer gelaat om inligting oor die Changuions in argiewe en gepubliseerde werke hier ter plaatse, maar ook onder meer in argiewe en biblioteke in Londen in Engeland, Paramaribo in Suriname, Den Haag en Middelburg in Nederland en Wassy in Frankryk op te spoor nie. Die lyste van korrespondensie en onderhoude wat gevoer is, is indrukwekkend. Maar wat die leser van Changuion se publikasies moontlik die heel meeste beïndruk, is die feit dat hy oor geen plek skryf wat hy nie persoonlik besoek het nie. Dit stel hom in staat om in die beskrywing van historiese gebeure 'n beeld en atmosfeer te skep wat sonder sodanige besoeke nie moontlik sou gewees het nie. Ook vir hierdie Changuion-boek het hy letterlik hier en oorsee in die voetspore van sy voorsate getrap om meer aangaande hulle en hulle leefwêrelde te wete te kom.

Die eerste twee hoofstukke handel oor die vroeë geskiedenis van die Changuions in Frankryk, die herroeping van die Edik van Nantes, waardeur godsdiensvryheid gewaarborg is, deur koning Louis XIV in 1685 en die voorsate van A.N.E. Changuion, stamvader van die Changuions in Suid-Afrika, synde Protestante, se besluit om Frankryk te verlaat en hulle aanvanklik in Duitsland en later in Nederland te vestig. Dit is duidelik dat die Changuions deur die eeue 'n gesiene familie was. François Changuion was sedert 1718 in die uitgewers- en drukkersbedryf in Amsterdam betrokke en het onder meer werke van Jean Jacques Rousseau en Voltaire uitgegee. Pierre-Jean Changuion is in 1804 deur die Nederlandse regering as Goewerneur van die eiland Curaçao en aangrensende eilande in die Karibiese See (Wes-Indië) aangestel, maar later oneervol ontslaan. In 1814 is Francois-Daniel Changuion as die eerste Ambassadeur, Buitengewone Gesant en Gevolmagtigde Minister van die Prins van die Nederlande (toe Koning Willem I) by die regering van die Verenigde State van Amerika aangestel, maar ook hy is na skaars 'n jaar in die V.S.A. teruggeroep om 'n ambassadeurspos in Turkye te aanvaar. Kort na sy terugkeer na Nederland is hy in 1815 tot die adelstand verhef en deur die Koning as jonkheer, Baron François-Daniel Changuion geslaan. In Desember 1815 word hy ook tot Ridder van die Nederlandse Leeu verklaar. Ongelukkig beland hy in 'n finansiële verknorsing wat tot ongerymdhede aanleiding gee en daartoe lei dat hy in 1823 van sy adelskap gestroop word. Dit is tog interessant dat die Changuions deur die eeue dikwels tot die hoogste poste gevorder het en dan, om verskillende redes, in onguns geraak het. Dit is ook opvallend dat hulle deur die eeue gesiene mense was, maar dat hulle skynbaar nie 'n besondere aanleg gehad het om met geld te werk nie. François-Daniel se middelste seun, Antoine Nicolas Ernst Changuion (1803-1881), het in 1831 'n pos aan die Kaap die Goeie Hoop aanvaar en sou die stamvader van die Changuions in Suid-Afrika word.

In hoofstuk 3 tot 5 word die lewensloop van stamvader A.N.E. Changuion breedvoerig beskryf. Hoofstuk 3 handel oor Changuion se suksesjare aan die Kaap. Opgelei in Lettere enTeologie aan die Universiteit van Leiden, het hy 'n pos as professor in tale aan die Zuid Afrikaansch Athenaeum in Kaapstad aanvaar. Siegs 'n jaar na sy aankoms aan die Kaap het hy met Madeleine Elizabeth Faure (1814-1890) in die huwelik getree; 'n egverbintenis waaruit nege kinders gebore sou word. In 1843 het Changuion 'n tweetalige privaatskool gestig wat uitstekende onderrig gegee het. Changuion was nie net 'n uitstekende leermeester nie, maar het hom spoedig ook as taalkundige en skrywer van skoolhandboeke onderskei. Benewens handboeke het hy talle boeke, pamflette en tydskrif- en koerantartikels in Nederlands, maar ook in Engels, Frans en Duits geskryf. Hoewel hy 'n teenstander van verengelsing was, was hy geen kampvegter vir die ontluikende taal Afrikaans nie, maar was hy 'n groot voorstander van die gebruik van Nederlands aan die Kaap. As kultuurman en kunskenner, het hy kunsaande georganiseer en lesings oor skilderkuns en poësie gelewer en was hy in 1856 by die stigting van 'n museum in Kaapstad betrokke. Hoofstuk 4 vertel die tragiese verhaal van hoe Changuion geleidelik aansien en steun aan die Kaap in die tydperk 1850 tot 1865 verloor het. As hoofartikelskrywer vir De Zuid-Afrikaan het Changuion se anti-Engelse gevoel en kritiek op die Kaapse owerheid dikwels deurgeslaan. Ten spyte daarvan het sy eie skool geleidelik verengels en is uiteindelik in 1860 gesluit. Bowendien het sy idees oor godsdiens aansienlik van dié van die streng ortodokse predikante van die Kaapse N.G. Kerk verskil en was hy 'n teenstander van die gedagte om 'n teologiese kweekskool in Suid-Afrika te stig. Dit alles het daartoe bygedra dat Changuion geleidelik in onguns geraak het. In 1865 het Changuion as ontgogelde man besluit om na Europa terug te keer. Hoofstuk 5 beskryf A.N.E. Changuion se verblyf in Europa van 1865 tot 1881, waartydens hy onder meer 'n tydelike aanstelling aan die Universiteit van Lausanne in Switserland aanvaar het. Hierdie hoofstuk bevat merkwaardige en aangrypende korrespondensie tussen Changuion en sy kinders in Suid-Afrika. Op 14 Oktober 1881 het die Changuion-stamvader in Lörrach Baden gesterf.

Die outeur som sy stamvader se lewe so op: "Eintlik was hy 'n wereldburger sonder vaste nasionaliteit wat hom met geen spesifieke land geïdentifiseer het nie." En tog: latere Suid-Afrikaanse letter- en taalkundiges het groot waardering vir die werk wat A.N.E. Changuion aan die Kaap verrig het. Omdat daar nie 'n behoorlike biografie oor A.N.E. Changuion bestaan nie en alle lesers nie noodwendig 'n groot belangstelling in die wel en wee van sy nasate het nie, sal dit goed wees indien die outeur hoofstuk 3 tot 5 as 'n selfstandige publikasie uitgee deur bloot hoofstukke 1 en 2 opsommend tot 'n inleidende hoofstuk te verwerk, terwyl hoofstukke 6 tot 11 baie saaklik as slothoofstuk opgesom kan word.

Die kinders van A.N.E. Changuion en hulle nageslagte kom in hoofstuk 6 tot 11 aan die orde. Die hoofstukke handel onderskeidelik oor die seuns van die stamvader en hulle afstammelinge, maar in hoofstuk 6 word ook aan die drie seuns wat nie nakomelinge gehad het nie, naamlik Francois Daniel (Francis) (1833-1877), Laurent Ernest (1842-1917) en Jean (John) (1844-1910) aandag gegee. Hoofstuk 7 vertel die lewensverhaal van Abraham Arnoldus Faure Changuion (1835-1877) en sy afstammelinge wat voorheen as "Kleurlinge" geklassifiseer is. In hoofstukke 8, 10 en 11 word die wel en wee van Louis Annes Changuion (1840-1910), die man van wie alle Changuions in Suid-Afrika afstam wat onder die ou bedeling as "Blank" gekassifiseer was, in drie onderskeie tydperke beskryf. Hierdie hoofstukke sal waarskynlik vir die ware genealoë die interessantste en ook die waardevolste wees, hoewel hulle dalk die outeur sal verkwalik omdat dit nie streng volgens die genealogiese "resep" gedoen is nie. Maar sy bedoeling was duidelik dat die inhoud die historiese en kultuurhistoriese "verhaal" van die Changuions moet vertel. Vir nie-Changuions is hierdie hoofstukke waarskynlik minder boeiend as die voorafgaande vyf, maar, synde 'n kenner van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902), kon die outeur natuurlik nie die versoeking weerstaan om die Changuions se betrokkenheid in dié oorlog in 'n afsonderlike en uiters boeiende hoofstuk 9 uit te lig nie. Die gevangeneming van die jong oorlogskorrespondent Winston Churchill en Frans Changuion se betrokkenheid daarby is natuurlik 'n opwindende en omstrede gebeurtenis wat in hierdie hoofstuk oortuigend uitgepluis word. Romantikus wat die outeur is, kon hy ook nie nalaat om die mooi liefdesverhaal van Louis John Stanley Changuion (1875-1960) en sy geliefde Dolly Potgieter in detail te vertel nie. Ook die krygsgevangenskap van enkele Changuions in die kampe te Groenpunt by Kaapstad, Diyatalawa op Ceylon (Sri Lanka) en Ahmednagar in Indië kom aan die orde. Soos in vele families, was daar ook in die geledere van die Changuions nie volkome eensgesindheid oor deelname aan die Anglo-Boereoorlog nie, wat tot bitterheid aanleiding gegee het.

Die boek is besonder ryklik met 'n magdom toepaslike historiese en eietydse foto's geïllustreer. Laasgenoemde is meestal in kleur en deur die outeur tydens sy navorsingsreise geneem. Die talle kaarte is onontbeerlik vir die verstaan van die omswerwinge van die Changuions. 'n Prestige publikasie soos hierdie verdien moontlik 'n deeglike register.

Twee interessante bylae is ingevoeg. In Bylae A (pp. 359-361) is daar ruimte vir die vierde geslag Changuions om foto's en genealogiese besonderhede van hulle kinders, kleinkinders en agterkleinkinders in te vul. Die outeur het sy eie nasate se gegewens as voorbeeld in sy eie handskrif verstrek. Bylae B bevat lyste van publikasies deur Changuions. Daaruit blyk dat die stamvader A.N.E. Changuion, wat aantal publikasies betref, sy historikus-nasaat tans nog net met 'n kortkop voor is.

Hoewel die boek se titel met die eerste oogopslag die indruk skep dat dit 'n suiwer genealogiese publikasie is, is dit veel meer, want dit sluit brokke Europese en Suid-Afrikaanse geskiedenis, kultuur- en mentaliteitsgeskiedenis in en verdien daarom 'n wye leserskring. Die familie Changuion van Suid-Afrika is 'n pragpublikasie en uiters leesbaar juis omdat dit nie die gewone patroon van genealogiese publikasies volg wat normaalweg deur genealogiese tabelle oordonder word nie. Dit was natuurlik moontlik omdat die Changuions in Suid-Afrika 'n betreklik klein familie is.

O.J.O. Ferreira
Knysna
E-pos: ojof@lantic.net

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons