SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.56 número1Hengelo is Afrika: de Afrikaanse literatuur in Nederland in 2009 índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.56 no.1 Pretoria mar. 2016

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2016/v56n1a19 

BOEKBESPREKINGS

 

 

Titel: As the crow flies. My Bushman experience with 31 Battalion
Outeurs: Delvillle Linford en AL J Venter
Plek: Protea Boekhuis, 2015
ISBN: 9781485302681
Bladsye: 336
Prys: R275,00

Die groter wordende getal boeke wat die afgelope aantal jare deur militêre veterane oor bepaalde aspekte van hulle loopbane en ondervindings geskryf word, is 'n belangrike toevoeging tot ons militêre geskiedenis en -erfenis. Dit neem egter teen só 'n tempo toe, dat dit baie moeilik is om tred daarmee te hou en dit alles te lees. Van die boeke is baie suksesvol en het reeds verskeie herdrukke ondergaan, van die ander minder só en moet hoofsaaklik teen 'n groot finansiële verlies op koste van die skrywers self gedruk word. Ten spyte daarvan wil die betrokkenes graag hulle herinneringe op skrif stel, as deel van 'n afsluitingsproses en om iets vir hulle eie nageslag na te laat.

Dit was vir my 'n groot voorreg om versoek te word om 'n resensie oor Delville Linford en Al J Venter se boek te skryf. Ek het Delville destyds as 'n kollega geken, alhoewel ons nooit direk saamgewerk het nie. Niemand kon hom egter ignoreer nie. Hy is een van die ware legendes van die ou SA Weermag, daarvan getuig die magdom staaltjies oor sy belewenisse saam met die Boesmanbataljon, wat onder verskillende name bekend geword het beide in die Wes-Caprivi en tydens operasies in Angola.

Wat vir my die boek só besonders gemaak het dat ek dit amper nie kon neersit nie, was Delville se spontane en vloeiende skryfstyl, sy uitgesprokenheid en die groot eerlikheid en die beskeie dog humoristiese aanslag waarmee hy dit gedoen het; dit spreek boekdele van die skrywer se persoonlikheid en aanslag. Van die kollegas wat baie nou met hom saamgewerk het, het hom beskryf as "'n baie diep persoon wat ure lank (en nagte deur onder die maan en sang en dans van die Boesmans) kon filosofeer oor die lewe. Sy harde, rowwe en brutale uiterlike was 'n voorgee dop/omhulsel, wat 'n sagte, omgee binneste verberg het". Hy het 'n baie sagte plek vir en grondige kennis van sy Boesmansoldate en hulle gesinne gehad. Sy opregte medemenslikheid spreek duidelik uit sommige van die situasies wat in die boek beskryf word.

Na alles wat hulle saam beleef het, was dit vir Delville 'n bron van groot kommer en uiterste teleurstelling om te beleef hoe die Boesmans, wat in belang van hulle fisiese oorlewing by die SA Weermag ingelyf is, deur die verwestering waaraan hulle blootgestel is, uiteindelik van hulle eie kultuur beroof is. Die Boesmans, wat deur die koloniale Portugese nie eens as "mense" erken is nie, was telkens verplig om in belang van sodanige oorlewing uit te wyk en te vlug. Dit het ook daartoe gelei dat hulle aan die einde van die sogenaamde Bosoorlog, toe Namibië onafhanklik geword het, uit eie keuse na die RSA gebring is, net om weer die slagoffers van die nuwe bestel te word, wat hulle opnuut verwerp het.

Delville het toe hy nog die bevelvoerder van Veggroep Alpha was, gepoog om die verwes-teringsproses te temper deur die doelbewuste instandhouding van die Boesmans se waardes, norme, gebruike en tradisies. Nogtans het hy terselfdertyd aktief gepoog om die jeug te ontwikkel, onder andere deur 'n skool en 'n jeugbrigade vir hulle te stig. Sy sagte plek vir veral die kinders was welbekend en het van hom hulle held gemaak.

Die grootste gedeelte van die boek word gewy aan Delville se belewenis van die oorlog in Angola en spesifiek tydens die kort maar baie intense Operasie Savannah, waarin hy en die

Boesmanbataljon 'n sleutelrol gespeel het. Ook in hierdie opsig is die boek 'n waardevolle toevoeging tot ons krygsgeskiedenis, omdat Delville goed rekord gehou het van sy belewenisse en nie gehuiwer het om reguit en eerlik, en soms ten koste van homself, te kommunikeer nie. Alhoewel dit moontlik nodig was om sekere gapings in die groter operasionele prentjie aan te vul metuittreksels uit ander boeke, asook die insette van sy medeskrywer, onderbreek dit in 'n mate Delville se eie vloeiende en boeinde vertelling van die verhaal.

Die Boesmans het diep spore getrap tydens die Bosoorlog, waartydens hulle hulleself met groot onderskeiding gehandhaaf het. Hulle kennis van die bos en uitnemende vermoë om ongeag die omstandighede te oorleef en te navigeer, tesame met hulle groot veglus, het hulle 'n waardevolle toevoeging gemaak tot enige gevegsmag, mits die vreemde bevelvoerders wat nie die Boesmans só goed as Delville en sy kollegas geken het nie, sekere aanpassings kon maak. Die kere wat dit nie gebeur het nie, het tot 'n botsing van kulture gelei wat nie altyd ewe suksesvol hanteer is nie. Delville gee ook in hierdie verband waardevolle voorbeelde van hoe maklik dinge as gevolg daarvan verkeerd kon geloop het.

Een van die laaste kere wat ek die voorreg gehad het om Delville Linford in lewende lywe te sien, was tydens die onthulling van die 31/201 Bataljon Erenaald by die SA Weermag Muur van Herinnering in Mei 2011. Op een van die foto's wat tussen pp. 192 en 193 geplaas is, verskyn hy saam met die legendariese kolonel Jan Breytenbach, met wie hy soveel tydens Operasie Savannah gedeel het. Ek sal altyd die emosie onthou toe hierdie twee geharde vegters en leiers van weleer, na sovele jare weer ontmoet en mekaar in trane omhels het.

Van daardie emosie en kameraderie kan gelees word in hierdie besondere boek, wat met groot vrymoedigheid aanbeveel word vir enige persoon wat belangstel in militêre geskiedenis. Die leser sal meer te wete kom oor die rol wat die SA Weermag in Angola gespeel het en veral van Operasie Savannah. Die mees blywende indrukke sal nietemin waarskynlik sentreer om die rol wat 'n besondere soldaat en mens in die proses gespeel het; asook om die Boesmansoldate en hulle naasbestaandes wat hulle alles gegee - en verloor - het, in diens van 'n nuwe vaderland wat hulle

Generaal-majoor (afgetree) Gert Opperman
Pretoria
E-pos: gertopperman5@gmail.com

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons