SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.56 número1Hengelo is Afrika: de Afrikaanse literatuur in Nederland in 2009 índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.56 no.1 Pretoria Mar. 2016

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2016/v56n1a18 

TAALRUBRIEK

 

Taalrubriek: Twee terme vertaal

 

 

Wanneer η mens begin vertaal, leer jy gou dat konteks van bepalende belang is en dat dit meestal beter is om η vakspesifieke woordeboek eerder as η algemene woordeboek te gebruik. Jare gelede moes ek η slag die vertaling van η jong nuweling in die destydse Staatstaaldiens nagaan. Die dokument het gehandel oor die voorskrifte waaraan reddingstoerusting op vissersvaartuie moes voldoen. Groot was my verbasing toe ek lees dat daar reddingsboeie moes wees wat met onder meer stroomstote gevul kon wees.

Hoe nou? Stroomstote? Die verklaring het gekom toe ek die volgende in Terblanche se Tegniese Woordeboek sien: "rush: stroomstoot (elek.); Die "rushes" waarmee die reddingsboeie gevul kon wees, moes natuurlik "biesies" gewees het.

Bogenoemde was wel h uiterste geval, maar dit illustreer tog hoe belangrik dit is dat h mens konteks en betekenis deeglik in ag neem en nie sommer die eerste die beste vertaling of die bekendste of algemeenste vertaling voor die voet gebruik nie.

Twee Engelse terme wat deesdae baie dikwels verkeerd vertaal word, is social engineering en challenge.

(a) social engineering: Die term het sy ontstaan gehad by η Nederlander wat van sociale ingenieurs gepraat het; die term het na die VSA oorgewaai, van waar dit mettertyd wyd versprei het. Vandag dui social engineering op pogings, deur byvoorbeeld die owerheid of die media, om die gesindhede en houdings van die maatskappy - in die sin van die samelewing of gemeenskap - te beïnvloed en so die maatskaplike gedrag grootliks te verander.

Hoewel die term ontstaan het uit η metaforiese aanwending van die selfstandige naamwoord ingenieur in die "gewone" of algemene betekenis daarvan, dui die Engels vandag in die eerste plek op 'η handeling, nl. "to engineer". Die Shorter Oxford English Dictionary (SOED) definieer hierdie betekenisonderskeiding van die werkwoord (to) engineer as "to apply sociological principles to solve (a problem) or to manipulate (a person)" en die gepaardgaande dissipline as "the application of sociological principles to specific social problems".

Dit is dus duidelik dat die vertaling verkieslik η term moet wees wat eweneens η handeling aandui, maar aangesien Afrikaans nie so geredelik η onvoltooide of teenwoordige deelwoord as selfstandige naamwoord kan aanwend as Engels nie, moet ons η ander plan maak.

Nederlands ken wel die werkwoord ingenieuren "ingenieurswerk doen, werken in het vak van den ingenieur", wat Afrikaans nie het nie. Afrikaans het egter wel die werkwoord genieer, wat berus op die Latynse stam gen-, wat te sien is in die woord ingenieur, genie (soos in geniekorps) en so meer. Die WAT definieer genieer (verlede tyd: gegenieer) soos volg: "As ingenieur aanlê, bou, bestuur, werksaam wees". Die WAT gee ook η afleiding daarvan aan, nl. geniëring, en dit is wat ons eintlik nodig het in social engineering.

Die Sosiologie woordeboek vertaal die Engelse term met o.m. sosiogeniëring.

My persoonlike voorkeur is om, indien ek nie die verbindingsvorm sosio- gebruik nie, die byvoeglike naamwoord maatskaplik te gebruik - hier dus maatskaplike geniëring - omdat dit regstreeks in verband gebring kan word met maatskappy in bogenoemde betekenis. Daarenteen dui sosiaal dikwels bloot op die gemoedelike of gesellige verkeer tussen of samesyn van mense, wat hier nie ter sake is nie. Dit is soms baie nuttig om tussen dié twee woorde te onderskei, hoewel dit natuurlik geen voorskrif is nie.

Uit bostaande behoort dit duidelik te wees waarom "sosiale ingenieurswese" nie kan deug nie, al is die algemeenste vertaling van engineering wel ingenieurswese.

Twee algemene woordeboeke vertaal social engineering met maatskaplike/sosiale manipulasie, wat eweneens op die handeling dui. Of h mens manipulasie of manipulering eerder as geniëring wil gebruik, hang seker van jou persoonlike voorkeure af, of hoe naby jy aan die Engels wil bly.

Dié geniëring kom ook voor in terme soos genetiese geniëring (naas genetiese manipulasie/ modifikasie/modifisering) en trugeniëring (backengineering).

(b) challenge : Die gewone of algemeenste vertaling van dié woord is natuurlik uitdaag. Vroeër dae kon mans mekaar byvoorbeeld uitdaag tot h tweegeveg, of 'n mens kan jou vriend uitdaag om iets gevaarliks of ondeunds te doen, of jy kan jou teenstander uitdaag om haar bewerings te staaf, en so meer. Die handeling van uitdaag behels dus in die eerste plek dat een mens h ander oproep om iets te doen, of hom/haar (soms tergend of uittartend) voor die keuse stel om iets te doen, by gebreke waarvan die uitgedaagde as h lafaard beskou kan word.

In Afrikaans (en Nederlands) kan ons egter ook sake of dinge, gewoonlik in h soort gepersonifieerde vorm, uitdaag of tart, byvoorbeeld die noodlot, die hel of die dood.

Die Engelse challenge het egter minstens twee betekenisonderskeidings wat uitdaag in Afrikaans (en Nederlands) nie het nie. Die eerste is h regsterm wat (soos gedefinieer in die SOED) beteken "take exception or object to (a juror, evidence, etc.)". In dié betekenis kan ons in Afrikaans nie uitdaag gebruik nie, maar wel iets soos protes/beswaar aanteken teen, wraak (ww., bv. h regter wraak), aanveg of betwis, afhangende van die konteks. Hier word nie te gereeld gesondig nie, hoewel ek dit al teëgekom het dat aanvaarbaarheid van sekere getuienis in h hof "uitgedaag" word (wat eerder betwis moet wees).

Die ander betekenisonderskeiding van challenge wat Afrikaans nie het nie, is (weer volgens die SOED) "call into question; dispute, deny". Hier word uitdaag nogal dikwels ten onregte gebruik, veral in die media. Daar sal sommer maklik gesê word dat iemand sy/haar skorsing of ontslag in die hof "uitdaag", of dat iemand die perke van menslike uithouvermoë "uitdaag" of die toepassing van h bepaalde beleid "uitdaag", of die veldtog (teen geweld teen vroue) word "uitgedaag", en so meer. Afgesien daarvan dat dit h bedenklike vertaling is, is die bedoeling van die spreker/skrywer meestal ook nie helder nie.

Sulke gevalle het dikwels ook h regselement, maar dit is nie so gespesialiseerd soos die eerste betekenisonderskeiding hier bo nie. Daar is verskeie moontlike vertalings, weereens natuurlik afhangende van die konteks: bestry, betwis, beveg, aanveg, toets, teenspreek, in twyfel trek, beswaar/ protes aanteken teen, beswaar maak teen, bevraagteken en dergelike.

Laat ons dus nie ons reddingsboeie met stroomstote stop nie - dit kan dalk net h lelike ding afgee.

JD (Tom) McLachlan
Vertaler en Taalversorger tommcl@whalemail.co.za

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons