SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.56 issue1Schreiner vs Joubert: Their innovating role in the South African literary systemStudent learning engagement at a private higher education institution author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.56 n.1 Pretoria Mar. 2016

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2016/v56n1a12 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS

 

Die Eerste Wereldoorlog as faktor in die Suid-Afrikaanse toetrede tot die internasionale gemeenskap

 

The First World War as factor in the South African entry into the international community

 

 

Leopold Scholtz; Ingrid Scholtz

Navorsingsgenote, Universiteit van Stellenbosch E-pos: Leopold.Scholtz@media24.com

 

 


SAMENVATTING

Toen Zuid-Afrika op 4 augustus 1914 betrokken raakte bij de Eerste Wereldoorlog, was het als onvrij deel van het Britse Rijk. Vijfjaar later tekenden de generaals Louis Botha en Jan Smuts de Vrede van Versailles namens een land dat in alles behalve naam onafhankelijk was - al werd die onafhankelijkheid pas in 1926 en 1931 ook in de praktijk erkend. Dit was dankzij Zuid-Afrika's militaire deelname aan de oorlog, en Smuts' enorme rol als internationaal staatsman in Londen en Parijs in 1917-1919. Smuts' bijdrage aan Brittanje's oorlogspoging was uniek, en hij kreeg het bij de Rijksconferentie van 1917 voor elkaar dat de voormalige Britse kolonies in de praktijk als gelijken van Brittanje erkend werden. Ook speelde hij een doorslaggevende rol bij de stichting van de Volkenbond. In 1919 verzette hij zich tegen de vernedering van Duitsland met het argument dat dit in de toekomst opnieuw een oorlog kon uitlokken - hetgeen inderdaad gebeurde. Hier moest Smuts echter het onderspit delven. Nietemin was het hoofdzakelijk aan hem te danke dat Zuid-Afrika tegen 1919 een volwaardig deel van de internationale gemeenschap was.

Trefwoorde: Eerste Wêreldoorlog, Volkebond, Vrede van Versailles, Jan Smuts, David Lloyd George, Woodrow Wilson, Georges Clemenceau


ABSTRACT

When the First World War started on 4 August, 1914, the Union of South Africa was barely four years old. In international terms the country was on the far end of the world and not very important. In addition, the country was a self-governing British Dominion, not able to pursue an independent foreign policy. Nevertheless, at the Versailles Peace Treaty of1919, co-signed by its representatives, Generals Louis Botha and Jan Smuts, South Africa was recognised as a player in its own right on the international political podium. This was brought about by especially two factors. The first was South Africa's military role in occupying German South West Africa and its important role in the occupation of German East Africa. The second was the participation of an infantry brigade on the Western Front in France and Flanders. Although this role was limited, it was exploited to the hilt by Jan Smuts during his sojourn in London and Paris during 1917-1919. Smuts was received as a hero when he arrived in London in the first months of 1917, and became a member of both the Imperial War Cabinet and the British War Cabinet. As such, his contribution to the Imperial Conference of April 1917 was conclusive in getting recognition for the Dominions' right to independence - although it would take until 1926 and 1931 for this to be legally formalised. Nevertheless, Smuts played a decisive role in winning the right for the Dominions to be represented in their own right at the Paris Peace Conference and sign the Versailles Peace Treaty. In the months before the Armistice of November 1918, he was Prime Minister David Lloyd George's right hand man and did an unbelievable amount of work, including advising the British High Command on Western Front operations, the founding of the Royal Air Force, solving various labour disputes and even sounding out the Austrians about peace. After the Armistice, Smuts played a huge role in conjunction with President Woodrow Wilson in bringing about the League of Nations. However, the last weeks before the Peace saw Smuts locked in a bitter fight with French Prime Minister Georges Clemenceau-full of hatred for the despised Boches - as well as Woodrow Wilson (who had all but abandoned his own conciliatory approach) and an opportunistic, vaccillating Lloyd George, Smuts resisted the severe peace conditions dictated to the Germans. He repeatedly drew the others 'attention to the British magnanimity after the Anglo-Boer War as an example of how conciliation could be achieved, and pleaded for a similar approach to the Germans. Moreover, he saw that Germany had to play a decisive role in any future Europe. He feared that the severe conditions would fuel so much bitterness in Germany that it could lead to a future war - which, of course, did happen barely 20 years later. Smuts felt so strongly about this that he threatened not to sign the peace treaty, and it took massive pressure by Lloyd George and his own Prime Minister, Louis Botha, to change his mind. Nevertheless, in spite of his failure, by June 1919 especially Smuts had carved out for South Africa an international standing which nobody could have imagined five years previously.

Key terms: First World War, League of Nations, Peace of Versailles, Jan Smuts, David Lloyd George, Woodrow Wilson, Georges Clemenceau


 

 

INLEIDING

Toe die Eerste Wereldoorlog op 4 Augustus 1914 uitbreek, het genl. Louis Botha as eerste minister van die Unie van Suid-Afrika onmiddellik aan die Britse regering laat weet dat die Unie sy eie verdediging sou waarneem en dat die nagenoeg 6 000 Britse koloniale troepe dus vir diens elders onttrek kon word. Drie dae later het Londen Botha formeel versoek om Duits-Suidwes-Afrika te verower. Nä 'n paar dae se interne debat het die regering ingestem.1

Die land wat op 10 Augustus - die dag waarop die kabinet die Britse versoek goedgekeur het - tot die oorlog toegetree het, was 'n selfregerende dominium van Groot-Brittanje, in alle opsigte taamlik onbelangrik. Ofskoon die Unie-regering binnelandse selfbestuur gehad het, had hy geen volkeregtelike status nie: Geen dominium kon op eie gesag 'n verdrag met 'n buitelandse moondheid sluit nie, en kon ook nie neutraal bly in 'n oorlog waarby Brittanje betrokke was nie.2

Brittanje se toetrede tot die oorlog het beteken dat Suid-Afrika, soos die ander gebiede in die Britse Ryk, outomaties in die oorlog met Duitsland en Oostenryk-Hongarye betrokke geraak het. Kragtens 'n besluit op die Rykskonferensie van 1911 het die Ryksdele egter wel die mag gehad om self te besluit hóé hulle aan die oorlog sou deelneem.3 Dit egter met 'n Suid-Afrikaanse weermag wat nog in sy kinderskoene was.4

Die land was, 12 jaar nä die Vrede van Vereeniging, tot op die been verdeel. Die verlies van die Boererepublieke se onafhanklikheid (saam met die grootskaalse verwoesting en lyding in die konsentrasiekampe) het die kole van die bitterheid tussen Afrikaners en Engelssprekendes steeds rooiwarm laat smeul. Daarby was daar ook groot verskille in insig tussen gematigde en onversetlike Afrikaners en Engelssprekendes onderling oor hoe die twee bevolkingsgroepe met mekaar moes omgaan. "There was no South African nation," skryf Ian van der Waag.5

Tog, toe die Vrede van Versailles op 28 Junie 1919 geteken word, het die handtekeninge van genls. Louis Botha en Jan Smuts gestaan naas dié van staatsmanne soos pres. Woodrow Wilson van Amerika, en premiers David Lloyd George en Georges Clemenceau van Brittanje en Frankryk respektiewelik. Daarby het Smuts in die oorlogsjare steeds meer op die voorgrond getree as 'n gewaardeerde internasionale leier wie se mening deur baie met groot respek bejeën is.

Hoe dit sover kon kom - dit is die onderwerp van hierdie analise. Vanselfsprekend is Smuts die hooffiguur in dié verhaal, want sonder sy rol sou Suid-Afrika se internasionale posisie in 1919 skaars van dié in 1914 verskil het.

 

SUID-AFRIKA SE MILITÊRE ROL

In die breër opset was Suid-Afrika se militêre rol in die oorlog beperk. Sy geografiese posisie wat hom as beskermer van die Kaapse seeroete aangewys het (al het die land nog geen eie vloot gehad nie) was belangrik vir die uitgestrekte Britse Ryk, wat hoofsaaklik van sy maritieme verbindings afhanklik was. Die feit dat Duitsland oor diepsee-hawens in Duits-Suidwes en Duits-Oos-Afrika beskik het, was trouens een van die redes waarom Brittanje dié kolonies van die Duitsers wou afneem.

Maar die Kaapse seeroete sou slegs in die praktyk belangrik wees indien die Duitsers 'n vloot gehad het wat dit kon bedreig. En dit was nie die geval nie; hul vloot was ontwerp vir operasies in die Noordsee. Vir operasies verder weg was slegs enkele vinnige kruisers beskikbaar. ' n Kruiser-taakmag onder bevel van v.adm. Maximilian von Spee het die Britte wel in die eerste maande van die oorlog die skrik op die lyf gejaag in die Stille en die suidelike Atlantiese Oseaan, terwyl die kruiser Königsberg - wat in Duits-Oos gestasioneer was - die Britte 'n paar grys hare in die Indiese Oseaan besorg het. Maar Spee se eskadron is in Desember 1914 by die Falkland-eilande verras en uitgewis, terwyl die Königsberg teen Julie 1915 uitgeskakel is. Daarmee was Suid-Afrika se geopolitieke belang ook op 'n einde.6

Nietemin het die Unie se deelname aan die oorlog in Afrika Brittanje gehelp in die sin dat duisende troepe vir aanwending in Frankryk - die swaartepunt van die oorlog in die Weste -vrygemaak is. Nä 'n kortstondige rebellie in Suid-Afrika deur ontevrede Afrikaners het die nuwe Unie-Verdedigingsmag sy buitelandse vuurdoop ondergaan deur Duits-Suidwes binne te val. Teen Julie 1915 het die Duitse koloniale magte hulle oorgegee. Daarna het Suid-Afrikaanse magte 'n lang veldtog onderneem om Duits-Oos te onderwerp, eers onder bevel van Smuts en daarna onder genl. Jaap van Deventer. Onder leiding van die briljante kol. (later genl.) Paul von Lettow-Vorbeck het die Duitsers en hul askari's 'n uitgerekte guerrilla-oorlog begin, met die gevolg dat hulle steeds nie verslaan was toe die wapenstilstand op 11 November van 1918 van krag word nie.7 In die Duitswes-veldtog het Suid-Afrika 67 000 man ontplooi, van wie 88 gesneuwel en nog 178 weens ander oorsake gesterf het. In Duits-Oos het 43 000 Suid-Afrikaners geveg, van wie 502 gesneuwel en 1 109 weens siekte oorlede is.8

Dié relatief ligte verliese sou egter nie in Frankryk herhaal word nie. Om politieke redes het Botha ook 'n brigade met drie infanteriebataljons op die been gebring om aan die Wesfront teen die Duitsers te veg. Daar het hulle onder meer aan die Slag van die Somme deelgeneem, waar hulle in Delville-bos ernstige verliese gely het. Daarna is hulle noordwaarts, na Ieper en Passendale in Wes-Vlaandere, verskuif, waar hulle ook by dié takties sinlose bloedbaddens betrokke was. In totaal het 12 354 Suid-Afrikaanse militêre van die 254 666 wat gedien het in die Eerste Wereldoorlog gesterf.9 Waar die veldtogte in Afrika 'n beskeie, maar waardevolle bydrae tot die Geallieerde oorlogspoging gelewer het, was die deelname aan die gevegte in Frankryk, gesien die swaar verliese (25%),10 militêr sinloos.

Polities het dit egter wel sin gemaak, want dit het gehelp om aan Suid-Afrika 'n bepaalde internasionale geloofwaardigheid te gee waarvan Smuts tydens sy verblyf in Londen en Parys in die jare 1917-1919 goed gebruik kon maak.

 

BOTHA EN SMUTS SE OORLOGSDOELWITTE

Uit bogenoemde kan 'n mens al die eerste kontoere sien van wat die Unieregering deur sy deelname aan die oorlog wou bereik. Daar was veral twee oorkoepelende doeleindes: Geopolitieke en politieke oogmerke.

Vir Botha en Smuts was dit belangrik om veral Duits-Wes sonder die deelname van Britse troepe te verower. Dit was ook belangrik om 'n prominente rol in die verowering van Duits-Oos te speel. Reeds in 1915 het Smuts die sluier gelig deur te sê Suid-Afrika se noordelike grense kan noordwaarts verskuif word, "and we shall leave to our children a huge country".11

Nä die Suidwes-veldtog het Smuts met besliste geopolitieke oogmerke sy pyle op Duits-Oos gerig. "If that country were conquered by us," het hy aan John X. Merriman geskryf, "we could probably effect an exchange with Mozambique and so consolidate our territories south of the Zambezi and Kunene."12 Deur Portugal se toetrede tot die oorlog vroeg in 1916 het dié oogmerk byna onmoontlik geword, maar na sy bevelstermyn in Duits-Oos in dieselfde jaar het Smuts nog daarop gesinspeel: "Through our own efforts and our own sacrifices, we have secured a voice in the ultimate disposal of this sub-continent ... I trust that ... South Africa, instead of being a small, cramped, puny country, gnawing at its own entrails, will have a larger freedom and a better life, and will become the great country which is its destiny .. ,"13

Soos hierna gesien sal word, het Botha en Smuts wel daarin geslaag om Suidwes min of meer te behou, maar van hul vergesigte om Duits-Oos vir Mosambiek te verruil het dadels gekom. Die Britse regering het die idee in 1917 geveto.14 Dit was ewenwel 'n ironiese oorname van die Britse imperialisme deur 'n Boeregeneraal.

Maar geopolitieke oogmerke was nie al wat die Suid-Afrikaanse staatsmanne besig gehou het nie. Dit het veral gegaan om van Suid-Afrika se onderhorige status in die Britse Ryk af te kom. In Desember 1916 het Botha Smuts gevra om die Rykskonferensie wat vir 1917 beplan is namens hom by te woon, en daarvan sou Smuts handig gebruik maak om sy doel te bevorder.

In 1902 het Brittanje uit die Anglo-Boereoorlog te voorskyn getree, enigsins geskok oor sy byna algehele politieke isolasie in Europa. Dit het gelei tot 'n wysiging van sy tradisionele beleid van "splendid isolation", maar Londen het ook ingesien dat die kolonies in 'n gemeenskaplike verdedigingsnetwerk vir die Ryk ingetrek moet word. Die Rykskonferensies van 1907 en 1911 het die fondamente hiervoor gelê. Daarby het die toekoms vir Brittanje en Frankryk teen 1917 uitsigloos gelyk. Verskeie offensiewe op die Wesfront in Frankryk het met massiewe ongevalle misluk, Italië het noustrop getrek teen Duitsland en Oostenryk, en Rusland was op die punt om ineen te stort. Die tyd vir 'n nuwe Rykskonferensie was ryp.

Dus het David Lloyd George, wat kort tevore by Herbert Asquith as eerste minister oorgeneem het, in die Laerhuis verklaar: "We feel that the time has come when the Dominions ought to be more formally consulted as to the progress and course of the war, as to the steps that ought to be taken to secure victory, and as to the best methods of garnering in the fruits of their efforts as well as of our own."15 Die Rykskonferensie het voorts plaasgevind teen die agtergrond van 'n interne debat tussen mense soos lord Milner wat die Ryk in 'n soort federasie wou omskep, en dié wat die Ryk tot 'n bond van vrye, gelyke state wou omvorm. Dus het Smuts op die Rykskonferensie reguit gesê die idee van "a Central Parliament and a Central Executive" beteken "to court disaster".16En Botha het in 'n brief aan sir Wilfried Laurier, gewese premier van Kanada, geskryf hy sien eerder dat die selfregerende kolonies méér regte kry, "putting in fact the Dominions on an equal footing with the mother country and converting them into sister rather than daughter colonies".17

Smuts se idee het die magstryd gewen. In sy toespraak op die Rykskonferensie het hy, gesien die oorlogsomstandighede, voorgestel om die finale vorm waarin die Ryk georganiseer sou word, tot nâ die konflik uit te stel, maar om intussen wel die beginsel goed te keur dat dit gebaseer word op "a full recognition of the Dominions as autonomous regions of an Imperial Commonwealth". Só is inderdaad besluit, asook dat hul reg op "an adequate voice in foreign policy and in foreign relations" erken word.18

Die belang hiervan kan byna nie oordryf word nie. G.D. Scholtz noem dit "een van die belangrikste dade in die lang politieke loopbaan van Smuts",19 terwyl Ockie Geyser daarna verwys as "a historical landmark".20

Aan sy vrou, Isie, het Smuts sy uiteindelike doel blootgelê: "Ik wil zeer gaarne zien dat in de toekomst onze positie in de Dominies [sic] verbeterd wordt; ik kan niet en zal nooit vergeten dat wij vrije republieken waren. En ik kan mijne collegas van de andere Dominies in de rechte richting influenceren."21 "Dat vrije volk zijn wij! zal nog gezongen worden ...," het hy 'n maand later bygevoeg.22

En dus kon hy in 'n toespraak23 by 'n banket in die parlement die Britse Ryk met berekende politieke effek oordrewe idealisties beskryf as "a system of states, not only a static system, a stationary system, but a dynamic system, growing, evolving all the time towards new destinies". Dit, het hy entoesiasties gesê, is "the British Commonwealth of Nations" - die eerste keer dat dié begrip in die openbaar gebruik is.

Smuts het die heuningkwas kwistig gebruik en dié statebond gekontrasteer met al die ryke uit die geskiedenis wat gebaseer was op "the idea of assimilation, of trying to force different human material through one mould so as to form one nation". Die Britse Ryk, het hy voortgegaan, is heeltemal anders: "You want to develop them into greater nationhood. These younger communities, the offspring of the Mother Country, or territories like that of my own people, which have been annexed after various vicissitudes of war - all these you want not to mould on any common pattern, but you want them to develop according to the principle of self-government and freedom and liberty. Therefore your whole basic idea is different from anything that has ever existed before, either in the empires of the past or even in the United States."

Smuts het dit nie slegs by vleitaal gelaat nie; hy het ook iets van sy eie siel as Afrikaner geopenbaar: "And even nations who have fought against you, like my own, must feel that they and their interests, their language, their traditions, and all their cultural interests are as safe and secure under the British flag as those of the children of your household and your own blood."

Ironies genoeg, langs Smuts het lord Milner gesit, wat dié vertolking beslis nie gesteun het nie. Net 'n paar maande tevore nog, toe Smuts in Duits-Oos verneem hy moet na Londen gaan, het hy minagtend in 'n brief aan sy vrou verwys na "de half-Duitscher Milner".24

Hoe ook al, uit voorgaande is dit duidelik dat Smuts uit sy hart gepraat het toe hy in 'n toespraak in Edinburg gesê het: "The cause I fought for fifteen years ago [tydens die Anglo-Boereoorlog] is the cause for which I am fighting today. I fought for freedom and for liberty then, and I am fighting for them today. You are a large-hearted people, and I am sure you will forgive me if I express my view that fifteen years ago ... you were wrong. For a brief moment in your long national history you got off the track and you came to grips with a very small people, and in that struggle I did my best. I fought with whatever strength I had in me, just as my little people did, in order to conserve our self-existence and our liberty." Hy het daarop laat volg dat die Britte egter verstandig genoeg was om dié verlore vryheid gedeeltelik terug te gee, waarmee hy die verleen van selfbestuur aan Transvaal en die Vrystaat in 1905 en 1906 en dié aan die Unie in 1910 bedoel het. Daardeur veg Suid-Afrika tans "in a common cause with you". En dus is die toekoms van die Britse Ryk geleë in "a basis of freedom and the completest autonomy": "The spirit of comradeship which is the only basis of union, is there, and on that basis I am sure we shall find a solution of our constitutional relations in future."25

Gegrond op die vordering wat op die Rykskonferensie van 1917 gemaak is, het Suid-Afrika (soos trouens die ander Dominiums) in die praktyk gelyke status met Brittanje by die Vredeskonferensie van Parys in 1919 verwerf. Elke Dominium kon twee verteenwoordigers benoem, dieselfde as kleiner lande soos België, Serwië, ensovoorts. Dit beteken, het Smuts trots aan Isie geskryf, "dat Zuid-Afrika hare plaats inneemt op de Vredes-Conferentie onder de volkeren der wereld." Hy het gewys op die bittere Vrede van Vereeniging, maar bygevoeg dat Suid-Afrika nou onder die wenners is. "Ik ben dankbaar dat het mij gegund is geweest mijn deel in dit groote werk te nemen en mijn volk te helpen leiden uit het smartelijke verleden naar het heden van triomf."26

Inderdaad, toe die Vrede van Versailles op 28 Junie 1919 geteken word, het die handtekeninge van Louis Botha en Jan Christiaan Smuts as verteenwoordigers van die Unie van Suid-Afrika naas dié van al die ander ook onder die verdrag gepryk. Hiervandaan was daar 'n reguit pad na die Balfour-Deklarasie van 1926 en die Statuut van Westminster van 1931, waardeur die Dominiums se gelyke status met Brittanje volkeregtelik erken is. Dié mylpaal is weliswaar bereik onder die Nasionale Party-regering van genl. J.B.M. Hertzog, wat Botha en Smuts in die oorlogsjare verbitterd beveg het, maar dit is ironies genoeg deur veral Smuts moontlik gemaak.

Een laaste opmerking met ewe ironiese implikasies: In korrespondensie met Lloyd George gedurende die vredeskonferensie het Botha (in 'n brief wat deur Smuts opgestel is), daarop gewys dat "in some future Continental war, Great Britain may be at war and one or more of the Dominions may stand out and maintain their neutrality. But that result is inevitable, and flows from the status of independent nationhood of the Dominions."27 Twee dekades later sou die neutraliteitskwessie Suid-Afrika wéér tot op die been verdeel.

Hoe ook al, in die oorlogsdoel om Suid-Afrika se internasionale status 'n stap nader aan soewereine onafhanklikheid te kry, het Smuts glansryk geslaag.

 

SMUTS IN LONDEN, 1917-1918

Toe Smuts in Maart 1917 in Londen aankom, was dit nie slegs om Suid-Afrika op die Rykskonfe-rensie te verteenwoordig nie. Die volgende meer as twee jaar sou hy soos 'n kolos bo die Geallieerde oorlogspoging uittroon en die statuur van 'n wêreld-staatsman verwerf, veel meer as wat die Unie se internasionale status in daardie stadium geregverdig het. Hy is soos 'n held ontvang, die Boer wat eers téén Brittanje geveg en nou sy aan sy met die Britte gestaan het. Lloyd George het hom as "one of the most brilliant generals in this war" voorgestel, terwyl Winston Churchill in 'n koerantartikel na hom verwys het as "a new and altogether extraordinary man".28 Van Cambridge het hy 'n ere-doktorsgraad in die regte gekry en is beskryf as "like the younger Scipio, our Second Africanus".29 "Men maakt hier tamelijk veel van mij," het hy beskeie aan sy vrou laat weet, "maar ik houd mij maar een beetje buitenkant alles om te veel attentie te vermijden."30

Die Britse politieke establishment se dunk van die Suid-Afrikaner was só hoog dat hy in die nagenoeg 18 maande tot aan die wapenstilstand van November 1918 'n enorme vrag werk gekry het. Om mee te begin is hy onmiddellik tot lid van die "Imperial War Cabinet" benoem, 'n oorkoepelende liggaam wat die Ryk se politieke strategie moes help bepaal. In Junie het Lloyd George hom tewens aangestel as lid van die "British War Cabinet", 'n soort binnekring-liggaam, bestaande uit Lloyd George self as voorsitter, lord Curzon (vroeëre onderkoning van Indië en leier van die House of Lords), lord Milner, lord Carson (Noord-Ierse politikus), Andrew Bonar Law (minister van finansies) en George Nicoll Barnes (minister sonder portefeulje namens die Arbeidersparty). Maurice Hankey was die sekretaris. Stuk vir stuk swaargewigte dus, by wie se name nou dié van die Suid-Afrikaner Jan Smuts gevoeg is. Hy was die enigste lid sonder 'n setel in die parlement, 'n absolute unikum in die Britse konstitusionele geskiedenis.31

In sy tyd as lid van die Imperial War Cabinet en die War Cabinet het Smuts in 'n ontploffing van energie 'n yslike hoeveelheid versoeke gekry en die meeste uitgevoer. Dit sluit die volgende in:

Binne 'n maand na sy aankoms is hy gevra om die Wesfront in Frankryk te besoek ("Dan word ik voor een militaire expert gehouden," het hy droogweg aan Isie geskryf32) en die Britse opperbevel van raad oor strategiese sake te dien. Sy advies was om die enorme druk wat die Franse leër in dié stadium van die Duitsers gevoel het, te verlig deur 'n offensief in die rigting van die Vlaamse hawestede Zeebrugge en Oostende te begin.33Dit het uitgeloop op die rampspoedige Britse offensief by Passendale, waar honderdduisende soldate se bloed in die Vlaamse modder weggesink het.

Smuts moes ook 'n steenkoolmynwerkerstaking in Wallis gaan oplos. Hy het die stakers gevra om vir hom te sing, waarna hulle weggeval het met die emosionele "Land of my Fathers". Dit het die ys gebreek, Smuts het hulle toegespreek, en die staking is vreedsaam beëindig.34

Twee verdere stakings, een deur Londense polisiebeamptes en een deur werkers in 'n ammunisiefabriek in Coventry, het hy ook opgelos.35

Hy is gevra om raad te gee oor lugoorlogvoering. Sy memorandum, waarin hy groot vlote bomwerpers (soos in die Tweede Wereldoorlog) voorsien het, het gelei tot die omvorming van die Royal Flying Corps, wat toe nog onderdeel van die leër was, tot die Royal Air Force, die eerste onafhanklike lugmag ter wêreld.36

Smuts is verder versoek om aandag aan die Ierse probleem te gee. Sy raad aan Lloyd George was om 'n nasionale konvensie te reël soos dié wat in 1908-1909 tot die Unie van Suid-Afrika gelei het. Weens die oorlog het Lloyd George nie onmiddellik aandag hieraan gegee nie, maar nâ die konflik het dit 'n momentum teweeg gebring wat enkele jare later tot Ierland se onafhanklikheid gelei het.37

In April 1917 het Lloyd George Smuts die opperbevel oor die Geallieerde magte in Palestina teen die Turke aangebied. Maar nadat hy Louis Botha geraadpleeg het, het Smuts dit beleefd van die hand gewys omdat dit hom weg van die magsentrum - Londen - sou neem. Hy is wel vir 'n paar weke na Egipte en Palestina gestuur, waar hy aan die strategiese beplanning deelgeneem het.38

In September 1917 het Smuts voorsitter geword van die Oorlogskabinet se "War Priorities Committee", wat moes kyk na die koördinasie van beperkte hulpbronne tussen die weermag en staatsdepartmente.39

Ten slotte is Smuts versoek om voelers na die Oostenryks-Hongaarse regering uit te steek om te kyk of dié van sy bondgenootskap met Duitsland losgeweek kon word. Smuts het inderdaad geheime samesprekings met die gewese Oostenryks-Hongaarse ambassadeur in Londen, graaf Albert von Mensdorff-Pouilly-Dietrichstein in Switserland gehou, maar Smuts kon uit die Oostenryker se reaksie sien dat dié se land te vasgemessel in die alliansie was.40

Geen wonder nie dat kol. Edward M. House, pres. Woodrow Wilson van Amerika se persoonlike afgesant in Europa, uiters lowend oor Smuts geskryf het: "He has grown to be the lion of the hour ... He is one of the few men I have met in Government who do not seem tired. He is alert, energetic, and forceful."41

Deur al dié energie het Smuts uiteraard baie geloofwaardigheid opgebou, nie alleen vir homself nie, maar ook vir Suid-Afrika. En, soos die maande aangestap het, het hy die haat van die Britte en veral die Franse teenoor die Duitsers met kommer waargeneem. Hy sou die laaste maande van die oorlog onder meer wy aan pogings om 'n vrede te bevorder wat die Duitsers nie te veel sou verneder nie.

 

SMUTS EN DIE DUITSERS, 1918

In teenstelling tot die uitsinnige vreugde wat by die uitbreek in die strate van die Europese hoofstede sigbaar was, was Smuts, met sy groot kennis van en insig in die geskiedenis en kultuur, diep bekommerd oor wat die oorlog kon meebring. In die laaste dae van die vrede in 1914 het hy in 'n brief aan 'n vriend verwys na "a general conflict which is bound to put Europe back fifty or more years".42

Smuts se politieke stryd tot Junie 1919 was nou om te voorkom dat die Duitsers aan 'n alte vernederende vrede onderwerp word, 'n stryd wat op sy eie ervaring met die Vrede van Vereeniging berus het. "Ik zeg het volk hier steeds de waarheid omtrent den boerenoorlog en waarschuw hen tegen dergelijke flaters voor de toekomst," skryf hy aan Isie. "Het Britsche rijk moet of op vrijheid gebaseerd zijn of ten gronde gaan."43

Teen dié agtergrond is dit interessant om die notas te lees vir 'n toespraak wat hy in 1917 gehou het. Terwyl hy 'n militêre oorwinning oor Duitsland as 'n sine qua non beskou het, het hy belangrike voorbehoude gehad: 'n Absolute oorwinning is nie meer moontlik nie, was sy gevoel. Daarby: "Germany must not believe that she is fighting for national existence." (Overgezet zijnde: Moenie Duitsland in 'n hoek druk nie; gee hom uitkomkans.) En: "I feel sure destruction of Germany not our aim. Whatever our horror and indignation, dominant facts must not be forgotten. Germany cannot be crushed. Nor desirable. Into vacuum 7 worse devils may enter."44(Laasgenoemde was 'n verwysing na die Russiese Revolusie, waarvan Smuts gevrees het dat dit na 'n vernederde, verslane Duitsland kan oorspoel.)

Dié idees het hy in 'n toespraak in Glasgow in Mei 191845 uitgewerk deur te sê die Geallieerdes het die oorlog sonder aggressiewe oogmerke begin; dit was 'n verdedigende stryd vir "the liberties of mankind, of the rights of small nations, and of the public law of Europe" (op die keper beskou, oordrewe idealistiese taal, maar Smuts wou die Britte se woede teenoor die Duitsers temper, en dus moes hy maar só praat.)

Hy het voortgegaan: "When we talk of victory, we don't mean marching to the Rhine, we don't mean marching to Berlin, we don't mean going on with this war until we have smashed Germany and the German Empire, and are able to dictate peace to the enemy in his capital." Sy waarskuwing was: "The result may be that the civilization we are out to save and to safeguard may be jeopardized itself. It may be that in the end you have the universal bankruptcy of government, and you loose the forces of revolution, which may engulf what we have so far built up in Europe." Die beskawing "can be broken down, and you resort to barbarism just as after the Roman Empire the world reverted to barbarism." Dit was 'n vrees wat, gesien wat in Rusland aan die gang was en wat baie amper nä die wapenstilstand van November 1918 in Duitsland gebeur het, naamlik pogings tot 'n revolusie, nie onrealisties was nie.46

In die Geallieerde kamp was Smuts duidelik in die minderheid. Aan sy vrou het hy verwys na "een partij die gedetermineerd is Duitschland eerst te breken voor vrede gesloten wordt." Hy het negatief verwys na Lloyd George, "de auteur van de uitdrukking 'the knock-out blow' die veel kwaad gedaan heeft en nog zal doen."47

Uit dié brief blyk dat Smuts reeds in dié stadium die begin van 'n verwydering tussen hom en Lloyd waargeneem het, iets wat tydens die vredesamesprekings tot 'n haas onoorbrugbare kloof sou ontwikkel.48

 

SMUTS IN PARYS, 1919: DIE SKAAKSPELERS

Na byna vier jaar se militêre skaakmat aan die Wesfront in Frankryk het Duitsland in Maart 1918, nadat Rusland uitgeskakel was, 'n yslike offensief van stapel gestuur en tot aan die Marne naby Parys gevorder voordat hulle stoom verloor het. Daarna het die Geallieerdes, gesteun deur tienduisende Amerikaanse versterkings, 'n teenoffensief begin en die Duitsers ver teruggedruk. Vroeg in November het keiser Wilhelm II geabdikeer, en die Duitsers het om 'n wapenstilstand gevra, wat op 11 November van krag geword het. 'n Internasionale vredeskonferensie is nou vir Parys belê. Suid-Afrika sou verteenwoordig word deur genls. Louis Botha en Jan Smuts. (Die Duitsers is nie uitgenooi nie; die Geallieerdes het self onderling oor die vredesvoorwaardes beraadslaag en die diktaat in Junie 1918 aan die Duitsers oorhandig, wat dit eenvoudig moes aanvaar of verwerp.)

Dié nuwe situasie het ewenwel beteken dat Smuts se status ook gewysig is. Hy het as lid van die Britse War Cabinet bedank,49 en sou voortaan bloot as tweede man van die Suid-Afrikaanse afvaardiging fungeer. Agter die skerms sou hy ewenwel voortgaan om die invloed en prestige wat hy in die voorafgaande maande opgebou het, aan te wend.

Hy het hier te make gekry met veral drie internasionale staatsmanne, pres. Woodrow Wilson van Amerika, premier David Lloyd George van Brittanje, en premier Georges Clemenceau van Frankryk. Dit kan die moeite loon om vlugtig na elkeen te kyk.

Wilson, 'n gewese hoogleraar in staatsreg en politieke wetenskap, was die vader van die sogenaamde Veertien Punte, waarin hy 'n reeks gematigde vredesvoorwaardes voorgestel het.50Dit was dié program wat die Duitsers in gedagte gehad het toe hulle tot die wapenstilstand ingewillig het. Helaas was Wilson 'n dromerige idealis, geen praktiese politikus wat op sy voete kon dink nie. In regstreekse samesprekings het harde politici soos Clemenceau bo-oor hom geloop.51

Smuts se seun sê sy vader het baie gedink van Wilson se hoë ideale, maar nie van dié se leiding in Parys nie. "The rough and tumble of the Conference diplomacy was rather beyond his control," aldus Smuts junior.52

Clemenceau - algemeen bekend as Le Tigre - ("Die Tier") - het daarenteen van haat teenoor die Duitsers gebrand. Sy groot doel was om die Duitsers nog erger te verneder as wat die Duitsers in 1871 aan die einde van die Frans-Pruisiese Oorlog met die Franse gemaak het en hulle finaal as bedreiging vir sy land uit te skakel.53

Die derde staatsman, Lloyd George, was 'n opportunis - soos sy raadgewer in Parys, die ekonoom John Maynard Keynes, hom beskryf het, "rooted in nothing".54 In Desember 1918 is sy regering in 'n algemene verkiesing aan die oordeel van die kiesers onderwerp, en het gewen. Hy het sy eie beweegruimte in Parys egter aansienlik beperk deur sy verkiesingsprogram op strawwe Duitse herstelbetalings te baseer.55

 

SMUTS IN PARYS: DIE VOLKBOND

Smuts se rol in Parys val in twee dele uiteen: Sy rol in die stig van die Volkebond, en sy vergeefse pogings om die strawwe bepalings wat uiteindelik in die Vrede van Versailles opgeneem is, te matig.

Kort ná die wapenstilstand het Smuts 'n toespraak voor Amerikaanse koerantredakteurs gehou. Daarin het hy sy idees oor 'n internasionale organisasie wat oorlog in die toekoms moes voorkom ('n idee waarvan Wilson ook 'n aanhanger was) uiteengesit. Dis 'n paar weke later opgevolg met 'n brosjure waarin hy die idees uitgewerk het.56

Smuts se basiese uitgangspunt is in sy toespraak saamgevat in een sin: "A whole world order is visibly passing away before our eyes."57 In die brosjure het Smuts gesê die Volkebond "will have to occupy the great position which have been rendered vacant by the destruction of so many of the old European Empires and the passing away of the old European order". Die groot ryke is vervang deur "small nations, embryo states, derelict territories. Europe has been reduced to its original atoms." Oorlog, het hy geskryf, "is a symptom of deep-seated evils: it is a disease or growth out of social and political conditions. ... The new institution of peace must not be something additional, something external, superimposed on the pre-existing structure. It must be an organic change; it must be woven into the very texture of our political system."58

Wat Smuts hier voorgestel het, was nie sommer 'n aanpassing nie. Dit was niks anders nie as 'n totale revolusie in die internasionale politieke stelsel en politieke kultuur. Leiers soos Clemenceau en Vittorio Orlando, Italiaanse premier wat basies aanhangers van die 19de-eeuse politieke kultuur was,59 het met nouliks bedekte neerbuigendheid na sulke revolusionêre idees gekyk. Maar daar was een staatsman wat opgewonde was: Woodrow Wilson. Naïef en onprakties ofte nie, hy was president van Amerika, en dus het sy stem wel deeglik gewig gedra.

Henry Kissinger som Wilson se benadering só op: "Wilson was proposing a world order in which resistance to aggression would be based on moral rather than geopolitical considerations. Nations would ask themselves whether an act was unjust rather than whether it was threatening."60Met só 'n idealistiese siening is dit nie moeilik om in te sien waarom die president onmiddellik beïndruk met Smuts se pamflet was toe dit kort nâ sy aankoms in Londen in Desember 1918 aan hom oorhandig is nie. 'n Dag of twee later het Lloyd George Wilson ontmoet, en kon hy aan sy kabinet rapporteer dat die President se idees "were apparently travelling in very much the same direction of the proposals advocated by Lord Robert Cecil [Britse onderminister van buitelandse sake] and General Smuts." Nä sy aankoms in Parys op 31 Desember 1918 het een van die Amerikaanse afgevaardigdes, genl. Tasker H. Bliss, in 'n brief geskryf Wilson "was very much impressed" met Smuts se skrywe, wat hy (Wilson) beskryf het "as thoroughly statesmanlike in character".61

Smuts het Wilson 'n paar dae tevore in Londen ontmoet, en aan 'n vriendin geskryf: "I told him this was the great opportunity in history and the future would write us down very small people if we did not mark a new stage in world government." Hy het verder genoem dat sy pamflet "an enormous impression in high circles" gemaak het.62 Nä 'n verdere lang gesprek met die president skryf Smuts, dié keer enigsins verleë, dat Wilson sy (Smuts se) idees in die brosjure, met inbegrip van die foute, oorgeneem het. Dit het hom bekommer, aangesien die brosjure haastig geskryf was, en hy sekere dinge sedertdien anders sou wou stel.63

Inderdaad, toe die konsep-handves van die Volkebond in Februarie die lig sien, kon Smuts vasstel dat dit "almost entirely my original conception" was. Beskeie het hy bygevoeg: "I have kept well in the background so that the others might have the credit for the League as in that way co-operation could best be secured."64

Daar kan geen twyfel wees nie dat Smuts, saam met Wilson, 'n deurslaggewende rol gespeel het in die stigting van die Volkebond.

 

BOTHA EN SMUTS IN PARYS: DIE VREDE

Vroeër is verduidelik hoe Smuts op grond van sy eie ervaring nä die Vrede van Vereeniging gekant was teen 'n vrede wat Duitsland alte veel sou verneder. Terwyl die oorlog nog gewoed en 'n Geallieerde oorwinning die Britte en Franse ontwyk het, was laasgenoemdes geneig om effens toegeefliker teenoor die Duitsers te wees. Maar nâ die mislukking van die Duitse offensief van Maart 1918 en die ineenstorting van dié se strydkragte in Frankryk, het die ou haatgevoelens weer opgevlam, veral by Clemenceau.65

Op die Paryse vredeskonferensie sou Clemenceau onversetlik teenoor 'n idealistiese Wilson en Smuts te staan kom, met Lloyd George wat opportunisties tussen die twee kampe gemaneuvreer het. Omdat die Fransman 'n veel slimmer politikus as Wilson was, kon hy hom uitoorlê. 'n Uitgeputte genl. Louis Botha het Smuts so goed as wat hy kon, probeer ondersteun, maar ondanks die vordering wat Smuts vir Suid-Afrika in Britse ryksverband verseker het, het dié land steeds nie naastenby dieselfde gewig as Frankryk gedra nie. 'n Nederlaag vir Smuts was dus as 't ware in die sterre geskryf. Clemenceau was vernietigend-minagtend oor Smuts, en het hom le saboteur du Traité Versailles ("die saboteur van die Verdrag van Versailles") genoem. Aan genl. Henri Pétain het Clemenceau blykbaar gesê: "Sê aan die maarskalk [Smuts] daar is net een ding wat hy kan doen om sy verraad ongedaan te maak. Dit is om baie gou te sterf." Geen wonder nie dat Smuts nooit 'n vriend van die Franse - "a bad neighbour" - was nie.66

Dit het gou begin duidelik word dat daar van versoeningsgesindheid by die Britte en veral die Franse nie veel sprake was nie. Smuts was gevoelig vir dié atmosfeer: "There is a bad spirit about," het hy in 'n brief geskryf.67

Smuts was dodelik ontnugter deur die eerste gesamentlike sitting van die Vredeskonferensie: "What a farce that first meeting was! You must have heard the smug [pres. Henri] Poincaré roll out his periods about Justice! And I thought of the wise old Lao Tzu saying: 'The more unrighteous men are, the more they talk of righteousness'! What a poor beginning! Here is a world waiting for the Word, for some crumb of comfort to fall from the table of the great and the wise. And we had nothing to say except punishment for war crimes with which our tempers are already worn threadbare through the agonies of five years!"68

In die komende weke het Smuts al die registers van sy retoriese vermoëns en logika oopgetrek om Lloyd George tot sy siening te beweeg. In sy korrespondensie is daar veral twee lang briewe - eintlik meer memorandums - waarin hy sy beskouings uiteensit. In die eerste maak hy twee fundamentele punte:

"1. We cannot destroy Germany without destroying Europe;

"2. We cannot save Europe without the co-operation of Germany.

"Yet we are now approaching a peace which must destroy Germany, and yet we think we shall save Europe by so doing! The fact is, the Germans have been, and will continue to be, the dominant factor on the Continent of Europe, and no permanent peace is possible which is not based on that fact." Ter illustrasie het Smuts verwys na die vrede van 1815, wat die belang van Frankryk (ondanks die Napoleontiese onheil) in die toekomstige vredestruktuur erken het. In dié geval, het hy gevrees, kan 'n verswakte Duitsland moontlik meegee, wat kan beteken dat "the Bolshevists will reap where they have sown". "If it is necessary for Germany to be made to bear her share of the heavy burden of the new Europe, she ought not to be despoiled and treated as an international pariah but rather to be taken in hand by the Allies and helped to her feet again." Hy het na sy eie agtergrond verwys: "My experience in South Africa has made me a firm believer in political magnanimity ..." Hy het afgesluit met 'n dringende waarskuwing: "[O]ur present panic policy towards Germany will bring failure on the Conference, and spell ruin for Europe."69

In private korrespondensie het Smuts laat blyk dat Lloyd George te kenne gegee het hy stem grotendeels saam, en dat die brief "has had a great effect on Wilson".70 As die uitwerking inderdaad só groot was, was dit maar tydelik. Want die finale vredesvoorwaardes wat aan die Duitsers gedikteer sou word, het gewys dat Clemenceau se wraaksug grotendeels geseëvier het. Wéér moes Smuts dringend aan Lloyd George skryf om wal te gooi. In agt punte het hy sy besware in detail uiteengesit. In 'n private brief het hy dit saamgevat: "Sometimes they appear to have been conceived more in a spirit of making war than of making peace."71 Half wanhopig het hy profeties aan Lloyd George en Wilson geskryf: "Under this Treaty Europe will know no peace ... I am grieved beyond words that such should be the result of our statesmanship."72

Teenoor sy vrou het Smuts dit "een vreselijk document" genoem: "Onder dit tractaat gaat de toestand in Europa ondragelijk worden en moet er of revolutie komen of weer een oorlogs uitbarsting mettertijd."73

Deel van Smuts se besware was die buitensporige herstelbetalings wat van Duitsland geëis is, veel swaarder as wat dié land met sy geruïneerde ekonomie kon dra. Duitsland was Brittanje se grootste mark, en dit was dus in die Britse belang om die ekonomiese situasie daar so gou moontlik te laat herstel, was sy gevoel.74 Die ironie is egter dat Smuts, dalk onbedoeld, hiertoe bygedra het. Hy is as juris gevra om 'n regsmening oor die beginsel van herstelbetaling te gee, en in twee memorandums het hy voorgestel dat Duitsland ook moet betaal vir "all direct damage and loss inflicted on civilians". Dit het ingesluit pensioene vir die gesinne van gesneuwelde Geallieerde soldate.75 Juridies was dit moontlik in orde, maar die aanvaarding van sy advies sou Duitsland aan 'n ondraaglike ekonomiese las onderwerp. Veral Wilson se aanvaarding van die strawwe herstelbetalingsvoorstelle het gewys hoe ver dié sy eie uitgangspunte verlaat het. Volgens Keynes was dit "the most decisive moment in the disintegration of the President's moral position."76

Hoe ook al, met sy stroom kritiek op die vredesvoorwaardes het Smuts irritasie by Lloyd George en Wilson gewek. Die swak Wilson is hopeloos deur die Clemenceau-stoomroller platgewals, en daarna het die Amerikaner homself teen wil en dank bevind in posisies waarin hy ingedwing is en wat hy dan moes verdedig. In 'n brief aan Smuts het die president viervoet vasge-steek en geweier om toe te gee. "[I]nevitably," het hy geskryf, "my thought goes back to the very great offence against civilization which the German State committed, and the necessity of making it evident once for all that such things can only lead to the most severe punishment."77 Daar is waarskynlik geen ander dokument waaruit duideliker blyk hoe ver Wilson uiteindelik van sy oorspronklike idees gedwing is nie.

Andersyds was Lloyd George gewoon 'n pragmatiese politikus wat Smuts se aandrang op moraliteit en beginsels toenemend as lastig ervaar het: "I understand the Prime Minister is very angry with me. Wilson is also failing me. He is not really a great man, and Clemenceau has proved too strong for both him and our mecurial, tricky Prime Minister," het 'n ontstelde Smuts aan 'n vriendin verduidelik.78 (Nä die vredesluiting sou Smuts Wilson verbitter as "a second-rate man" beskryf. Vir Lloyd George het hy respek gehad tot die verkiesing van Desember 1918, waarna dié "unstable" geword het, "without any clear guiding principle, jumping about from one position to another".79)

Op 30 Mei en 1 Junie het die Britse ryksafvaardiging in Parys die finale voorwaardes oorweeg, en hier het Smuts, gesteun deur Botha, 'n allerlaaste wanhopige poging aangewend om die skip van koers te laat verander. Smuts se pleidooi was dat die vredesooreenkoms binne die perke van Wilson se Veertien Punte moes pas, aangesien dit die oorspronklike verwysingsraamwerk was op grond waarvan die Duitsers tot vrede ingewillig het. Hy het ook gewys op die Britse oorlogsoogmerke wat Lloyd George in Januarie 1918 uitgespreek het en dit die "bedrock" genoem waarop enige verdrag moes berus. Die konsep-verdrag was egter "a bad treaty" wat "the roots of war" bevat het. Ook Louis Botha het verwys na die Vrede van Vereeniging: "On that occasion, it was moderation which had saved South Africa for the British Empire, and he hoped on this occasion that it would be moderation which saved the world."80

Dit het nie veel gehelp nie. Die meeste teenwoordiges was moeg vir die hele affêre en wou huis toe gaan. Ondanks beleefde woorde teenoor die twee Suid-Afrikaners het dié op 'n muur gestuit.81

Smuts was geweldig beswaard, en het gemeen as dit die vrede is, kan hy dit nie onderteken nie. Uiteindelik het hy dit onder enorme druk van Lloyd George en Botha, sy dit met 'n swaar hart, gedoen. Soos gewoonlik, het hy sy hart aan Isie ontboesem: "Ik heb voor een andere vrede gevochten en gewerkt - een vrede van verzoening en herstel onder de volkeren, terwijl deze een vrede is van haat en bittere verwijdering."82

Op 28 Junie 1919 was die handtekeninge van sowel Louis Botha as Jan Christiaan Smuts onder die Vredesverdrag van Versailles. Die seremonie was volgens Smuts "uninspired, unimpressive, mechanical, soulless".83

'n Enigsins verbitterde Smuts het op 18 Julie 1919, toe hy terug na Suid-Afrika vertrek het, 'n afskeidsalvo in 'n verklaring aan die Britse pers afgevuur: "The brutal fact is that Great Britain is a very small island on the fringe of the Continent" - iets wat die Britte moes seergemaak het - "and that on the Continent the seventy odd million Germans represent the most important and formidable national factor. You cannot have a stable Europe without a stable settled Germany, and you cannot have a stable, settled and prosperous Great Britain while Europe is weltering in confusion and unsettlement next door. In our policy of European settlement the appeasement of Germany therefore becomes one of cardinal importance . The great issue will probably be decided in Germany for good and all."84

Dit sou skaars twee dekades duur voordat Smuts reg bewys is. Vanaf 1 September 1939 het 'n tweede, aansienlik erger duisternis oor Europa en uiteindelik ook ander wêrelddele gedaal.Toe het Adolf Hitler, wat mede deur die vernedering van Versailles in Duitsland aan die bewind gekom het, die vasteland opnuut in 'n oseaan van bloed, vuur en verwoesting gedompel.

 

GEVOLGTREKKING

Ondanks Botha en Smuts se nederlaag rakende die vernedering van Duitsland kan daar geen twyfel wees nie veral laasgenoemde in die jare 1917-1919 'n groot rol gespeel het om Suid-Afrika se internasionale status aansienlik te verhoog nie. Al was die land se militêre rol in Afrika en Europa beperk, het dit aan hom 'n bepaalde politieke geloofwaardigheid gegee wat Smuts tot die maksimum sou uitbuit. Die groot rol wat hy in 1917-1918 in die Britse oorlogspoging gespeel het, het sowel sy eie as Suid-Afrika se internasionale status verhoog.

Geen wonder nie dat Lloyd George aan die Vryheidsdeputasie wat onder leiding van genl. J.B.M. Hertzog op die herstel van die Boererepublieke kom aandring het, geskryf het: "In the greatest conference in history South Africa is represented by two statesmen of indubitable Dutch origin who have won for South Africa an extraordinary influence in the affairs of the world."85En dus kon Smuts vlak voor sy vertrek terug na Kaapstad daarop aanspraak maak dat die Dominiums se "complete nationhood has now received international recognition" en dat hulle "on terms of equal brotherhood with the other nations" vorentoe kon beweeg.86

Die Suid-Afrika wat op 28 Junie 1919 in eie reg die vrede geteken het, was internasionaal 'n heel ander land as die een wat op 4 Augustus 1914 outomaties in die Eerste Wêreldoorlog ingesleep is.

 

 

 

Leopold Scholtz het aan die Universiteit van Stellenbosch, die ou Randse Afrikaanse Universiteit en die Universiteit van Leiden gestudeer, waar hy in 1978 in die geskiedenis gepromoveer het. Hy was onder meer adjunkredakteur van Die Burger en Europa-korrespondent vir die Media-24-koerante. Hy was lid van die Raad van die SA Akademie, asook buitengewone professor aan die Universiteit van Stellenbosch, waar hy sy verbintenis as navorsingsgenoot voortsit. Hy is tans - op papier - afgetree, maar gaan voort as akademikus en ontleder van die internasionale politiek saam met sy vrou.
Leopold Scholtz studied at the University of Stellenbosch, the former Rand Afrikaans University and the University of Leiden, where he received a PhD in history in 1978. He was, inter alia, deputy editor of Die Burger and Europe correspondent for the Media24-newspapers. He was a member of the Council of the SA Academy, as well as professor extraordinaire at the University of Stellenbosch, where he continues as research fellow. He is presently - on paper - retired, but he continues as academic and analyst of international politics together with his wife.

 

 

Ingrid Scholtz het aan die Universiteit van Leiden gestudeer, waar sy in 1974 met die graad Doctorandus Historiae afgestudeer het. Sy was dosent aan die Universiteit van Wes-Kaapland, die Universiteit van Stellenbosch en redakteur van Wereldburger, 'n bylae oor die internasionale politiek tot Die Burger. Sy is tans afgetree, maar gaan voort as akademikus saam met haar man.
Ingrid Scholtz studied at the University of Leiden, where she graduated in 1974 as Doctorandus Historiae. She was a lecturer at the University of the Western Cape, the University of Stellenbosch and editor of Wereldburger, a supplement of Die Burger, focussing on international politics. Currently retired, she continues her academic work together with her husband.
1 G.D. Scholtz: Suid-Afrika en die Wereldpolitiek 1652-1952 (Johannesburg, Voortrekkerpers, 1954), pp. 260-261;G.D. Scholtz: Die Ontwikkeling van die Politieke Denke van die Afrikaner, VI (Johannesburg, Perskor, 1979), pp. 216-217.
2 A.V. Dicey: Introduction to the Law of the Constitution (herdruk, Indianapolis, Liberty Classics, 1982), pp. xlvii-xlviii.
3 Leopold en Ingrid Scholtz: "Die internasionale agtergrond van die Rebellie", in D.J. Langner en A.W.G. Raath (reds.): Die Afrikanerrebellie 1914-1915 (Pretoria, Kraal-uitgewers, 2014), p. 43; N.G. Garson: "South Africa and World War I" (The Journal of Imperial and Commonwealth History, 8/1, 1979, p. 68).
4 Bill Nasson: WWI and the People of South Africa (Kaapstad, Tafelberg, 2014), pp. 72-73.
5 Ian van der Waag: "South African defence in the age of total war, 1900-1940" (Historia, 60/1, Mei 2015, p. 140).
6 Kyk G.D. Scholtz se beskouing in sy Suid-Afrika en die Wereldpolitiek, pp. 265-266. Vgl. Ook Edward Paice: Tip & Run: The Untold Tragedy of the Great War in Africa (Londen, Weidenfeld & Nicolson, 2007), p. 3.
7 Kyk Hew Strachan: The First World War in Africa (Oxford, Oxford University Press, 2004), hoofstuk 4; Paice: Tip & Run, hoofstuk 10.
8 André Wessels: "SouthAfrica's land forces, 1912-2012" (SA Journal of Contemporary History, 38(1), Junie 2013, p. 234).
9 Ibid., p. 236.
10 Van der Waag: ""South African defence in the age of total war, 1900-1940" (Historia, 60/1, Mei 2015, p. 140).
11 Scholtz: Ontwikkeling van die Politieke Denke van die Afrikaner, VI, pp. 310-311.
12 W.K. Hancock en Jean Van der Poel (reds.): Selections from the Smuts Papers, III (Cambridge, At the University Press, 1966), p. 310 (Smuts - Merriman, 30.8.1915).
13 F.S, Crafford: Jan Smuts. A Biography (Kaapstad, Howard B Timmins, s.j.), p. 133. Kyk ook Selections from the Smuts Papers, p. 603 (Botha - Smuts, 26.2.1918).
14 W.K. Hancock: Smuts, I. The Sanguine Years 1870-1919 (Cambridge, At the University Press, 1962), p. 498.
15 Hancock: Smuts, I, p.426
16 Ibid., p. 430.
17 F.V. Engelenburg: Genl. Louis Botha (Pretoria, Van Schaik, 1926), p. 252.
18 Scholtz: Ontwikkeling van die Politieke Denke van die Afrikaner, VI, p. 319; Scholtz: Suid-Afrika en die Wêreldpolitiek, pp. 268-269.
19 Scholtz: Ontwikkeling van die Politieke Denke van die Afrikaner, VI, p. 319.
20 O. Geyser: Jan Smuts and his International Contemporaries (Johannesburg, Covos Day, 2001), p. 79.
21 Selections from the Smuts Papers, III, p. 473 (Smuts - sy vrou, 5.4.1917). My kursivering.
22 Ibid., p. 496 (Smuts - sy vrou, 5.5.1917).
23 Ibid., p. 512 (toespraak, 15.5.1917).
24 Ibid., p. 435 (Smuts - sy vrou, 27.12.1916).
25 Ibid., pp. 505-506 (toespraak, 11.4.1917).
26 Ibid., IV, p. 43 (Smuts - sy vrou, 15.1.1919).
27 Ibid., pp. 158-159 (Botha - Lloyd George, 15.5.1919).
28 J.C. Smuts junior: Jan Christiaan Smuts (Kaapstad, Cassell, 1952), pp. 180-181; Crafford: Jan Smuts, p. 134.
29 Crafford: Jan Smuts, p. 136.
30 Selections from the Smuts Papers, III, p. 470 (Smuts - sy vrou, 31.3.1917).
31 Smuts junior: Jan Christiaan Smuts, pp. 180-181 en 186; Geyser: Jan Smuts and his International Contemporaries, pp. 83-84.
32 Selections from the Smuts Papers, III, p. 463 (Smuts - sy vrou, 5.4.1917).
33 Ibid., pp. 481-491 (memo van Smuts, 17.4.1917).
34 Crafford: Jan Smuts, pp. 146-157.
35 Ibid., p. 145.
36 David MacIsaac: "Voices from the Central Blue: The Air Power Theorists", in Peter Paret (red.): Makers of Modern Strategy from Macchiavelli to the Nuclear Age (Oxford, Clarendon Press, 1986), pp. 628-629.
37 Geyser: Jan Smuts and his International Contemporaries, pp. 80-81; Crafford: Jan Smuts, pp. 148153.
38 Selectionsfrom the Smuts Papers, III, pp. 493-494 en 494-495 (Smuts - Botha, 24.4.1917 en 26.4.1917).
39 Antony Lentin: General Smuts (Londen, Haus, 2010), p. 43.
40 Hancock: Smuts, I, pp. 466-467.
41 Charles Seymour: The Intimate Papers of Colonel House into the World War Arranged as a Narrative (New York, Houghton Mifflin, 1928), p. 229.
42 Selections from the Smuts Papers, III, p. 181 (Smuts - H.J. Wolstenholme, 30.7.1914). Vgl. ook ibid., p. 362 (Smuts - Margaret Gillett, 2.5.1916).
43 Ibid., p. 496 (Smuts - sy vrou, 5.5.1917).
44 Ibid., pp. 503-504 (notas vir toespraak, 1917).
45 Ibid., pp. 649-650 (toespraak van Smuts, 17.5.1918).
46 Vgl. hieroor Eberhard Kolb: Die Weimarer Republik. Eine Unvollendete Demokratie (München, R. Oldenbourg Verlag, 2002), pp. 1-22.
47 Ibid., p. 667 (Smuts - sy vrou, 7.8.1918).
48 Vgl. Hancock: Smuts, I, p. 444; Geyser: Jan Smuts and his International Contemporaries, pp. 86-87.
49 Selections from the Smuts Papers, IV, pp. 25-26 (Smuts - Lloyd George, 14.12.1918).
50 Kyk "President Woodrow Wilson's Forteen Points, 8 January, 1918", by http://avalon.law.yale.edu/20th_century/wilson14.asp (opgeroep op 1.8.2015).
51 John Maynard Keynes: The Economic Consequences of the Peace (Faksmilee-uitgawe, s.p., BiblioBazaar, 2002), pp. 20-21.
52 Smuts jr.: Jan Smuts, pp. 220-221.
53 Keynes: The Economic Consequences of the Peace, pp. 16-17.
54 John Maynard Keynes: Essays in Biography (Londen, Macmillan, 1951), pp. 32-33.
55 Kenneth O'Morgan: "Lloyd George and Germany" (The Historical Journal, 39/3, 1996, p. 760).
56 Smuts jr.: Jan Smuts, pp. 214-215; Lentin: General Smuts, pp. 53-55.
57 Selections from the Smuts Papers, IV, pp. 8-16 (toespraak van Smuts, 14.11.1918).
58 Smuts jr.: Jan Smuts, pp. 214-215; Lentin: General Smuts, pp. 53-55.
59 Vgl. Macmillan: Peacemakers, p. 289.
60 Henry Kissinger: Diplomacy (New York, Simon & Schuster, 1994), p. 227.
61 George Curry: "Woodrow Wilson, Jan Smuts and the Versailles Settlement" (The American Historical Review, 66/4, Julie 1961, pp. 975-976.
62 Selections from the Smuts Papers, IV, p. 34 (Smuts - Margaret Gillett, 27.12.1918). Vgl. ook ibid., p. 44 (Smuts - sy vrou, 15.1.1919).
63 Ibid., pp. 49-50 (Smuts - Margaret Gillett, 20.1.1919). Vgl. ook ibid, p. 57 (Smuts - Margaret Gillett, 29.1.1919).
64 Ibid., p. 71 (Smuts - Alice Clark, 16.2.1919). Vgl. ook Scholtz: Ontwikkeling van die Politieke Denke van die Afrikaner, VI, p. 482; Meurs: Smuts, pp. 161-162, 163 en 169.
65 H.E. Goemans: War and Punishment, The Causes of War Termination & the First World War (Princeton, Princeton University Press, 2000), hoofstukke 6-7.
66 Geyser: Jan Smuts and his International Contemporaries, pp. 185 en 188; Lentin: General Smuts, p. 49.
67 Selections from the Smuts Papers, IV, p. 60 (Smuts - Margaret Gillett, 4.2.1919). Vgl. ook ibid., p. 96 (Smuts - Margaret Gillett, 31.3.1919); Seymour: The Intimate Papers of Colonel House, IV, pp. 218-219.
68 Selections from the Smuts Papers, IV, pp. 47-48 (Smuts - Margaret Gillett, 19.1.1918).
69 Ibid., pp. 83-87 (Smuts - Lloyd George, 26.3.1919).
70 Ibid., pp. 89-90 en 95 (Smuts - Margaret Gillett, 27.3.1919 en 31.3.1919).
71 Ibid., p. 151 (Smuts - Alice Clark, 7.5.1919).
72 Ibid., p. 157 (Smuts - Lloyd George en Wilson, 14.5.1919).
73 Ibid., p. 174 (Smuts - sy vrou, 20.5.1919).
74 Ibid., pp. 140 en 148-149 (Smuts - Margaret Gillett, 1.5.1919 en Smuts - Lloyd George, 5.5.1919).
75 Ibid., pp. 93-94 en 96-98 (memorandums van Smuts, 29.3.1919 en 31.3.1919).
76 Keynes: The Economic Consequences of the Peace, p. 48.
77 Selections from the Smuts Papers, IV, p. 160-161 (Wilson - Smuts, 16.5.1919).
78 Ibid., p. 171 (Smuts - Margaret Gillett, 19.5.1919). Vgl. ook ibid., p. 166 (Smuts - Alice Clark, 18.5.1919).
79 Lentin: General Smuts, p. 122.
80 Macmillan: The Peacemakers, pp. 479-480.
81 Ibid., pp. 96-104; Macmillan: The Peacemakers, pp. 479-480.
82 Selections from the Smuts Papers, IV, p. 223 (Smuts - sy vrou, 10.6.1919).
83 Lentin: General Smuts, p. 112.
84 Selections from the Smuts Papers, IV, pp. 271-272 (Smuts se afskeidsboodskap, 18.7.1919).
85 Scholtz: Genls. Hertzog en Smuts en die Britse Ryk (Kaapstad, Tafelberg, 1975), pp. 73-74.
86 Selections from the Smuts Papers, IV, p. 273 (afskeidsboodskap van Smuts, 18.7.1919).

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License