SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.56 número1On the status of "oe" in Afrikaans: an acoustic analysisSustainability reporting in the mining sector: identifying critical issues índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.56 no.1 Pretoria Mar. 2016

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2016/v56n1a4 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS

 

Veranderinge in adverbiale tydsverwysing in Afrikaans van 1911 tot 20101

 

Changes in adverbial temporal reference in Afrikaans from 1911 to 2010

 

 

Johanita Kirsten

Skool vir Tale, Noordwes-Universiteit, Vaaldriehoekkampus E-pos: Johanita.Kirsten@nwu.ac.za

 

 


OPSOMMING

Die tempussisteem van Afrikaans is heelwat vereenvoudig in vergelyking met dié van Nederlands, waaruit dit ontwikkel het, en daarom maak sprekers en skrywers van Afrikaans ook staat op verskeie ander maniere om gebeurtenisse of situasies in tyd deikties te anker, soos adverbia van tyd (byvoorbeeld "toe", "gister", "oormôre") en setselgroepe (byvoorbeeld "in die aand"). Terwyl die tempusstelsel van Afrikaans min opsigtelike verandering toon sedert die standaardisering van Afrikaans, staan sake anders wat die adverbiale elemente se rol in temporele verwysing betref. Die frekwente woorde "nou", "toe" en "dan" verrig verskeie funksies, waarvan temporele verwysing 'n belangrike deel uitmaak. Hierdie artikel ondersoek eerstens die gebruike van die adverbiale gebruike van "nou", "toe" en "dan" in diachroniese korpusse van Afrikaans wat vier periodes (1911-1920, 1941-1950, 1971-1980, 2001-2010) dek, met ongeveer 261 000 woorde per periode. Die gebruike van hierdie woorde toon sterk tekens van verandering, en spesifiek "nou" en "dan" toon 'n radikale vermindering van gebruike. In die tweede plek word moontlike verklarings vir die veranderinge rondom hierdie woorde in die korpus gesoek. 'n Toename in die gebruik van 'n aantal meer spesifieke temporele adverbia (byvoorbeeld "terwyl", "wanneer") dui aan dat adverbiale temporele verwysing se funksionele lading versprei het. Dit sluit ook aan by die groter sosio-kulturele konteks van Afrikaans, wat aanleiding gegee het tot toenemende standaardisering en verformalisering van Afrikaans deur die loop van die twintigste eeu.

Trefwoorde: Afrikaans, tempus, temporele verwysing, absolute temporele verwysing, relatiewe temporele verwysing, temporele adverbia, korpus, diachroniese korpuslinguistiek, gebruiksfrekwensie, verformalisering


ABSTRACT

The Afrikaans tense system simplified somewhat in its development from Dutch, retaining only the present tense (which is unmarked), and a past tense (marked by the auxiliary verb "het" and, usually, the verbal prefix "ge-") based loosely on the Dutch present perfect tense. In order to express more specific and fine-grained temporal reference, speakers and writers of Afrikaans frequently draw on additional linguistic options, including temporal adverbs (for example "toe" (then), "gister" (yesterday), "oormöre" (the day after tomorrow)) and preposition phrases (for example "in die aand" (in the evening)). The tense system of Afrikaans shows few radical changes during the past century, after the standardisation of Afrikaans eliminated the last remnants of the extended Dutch tense system. However, the use of temporal adverbs has been much less stable. This article investigates the use of the temporal adverbs "nou" (now), "toe" (when/then) and "dan" (then) in diachronic Afrikaans corpora that covers a century of language use, including specifically the periods 1911-1920, 1941-1950, 1971-1980 and 2001-2010, with more or less 261 000 words per period, represented by text samples from a variety of written genres. The genres included are: fiction, biographical texts, news reports, informative texts, religious texts, texts from the humanities, texts from the natural sciences, and manuscripts (letters and diary entries).
The abovementioned lexical items ("nou", "toe " and "dan") are some of the most frequently used adverbs in Afrikaans according to the corpora used in this article, and their frequent use is also noted by Van der Merwe (1996:91) - however, temporal reference is not the only functions that these lexical items perform. During the course ofthe twentieth century, the use ofthese lexical items, as temporal adverbs and otherwise, shows some significant changes. Specifically "nou" and "dan" show a radical decline in overall use as well as temporal use, and the different uses of "toe " are also not stable throughout. The lexical item "nou" is used predominantlyfor temporal reference, although its overall use and temporal use decrease significantly. The different types of temporal reference for which "nou" is used do not show significant changes other than reflecting the overall decrease. The overall use of "dan" shows the most radical decrease ofthe three lexical items in question, although the temporal use decreases the least. There are some noticeable changes with regard to the different temporal uses, showing a slight increase in uses referring to the future. The use of "toe" is predominantly temporal throughout, although there is a slight decrease in temporal usage, and some shift to the historical present in the tense accompanying the temporal uses.
One explanation offered for these changes is the increasing use of more specific and less context dependent temporal adverbs, like "terwyl" (while) and "wanneer" (when), which indicates a partial shift in the functional load from the more general temporal adverbs to some that are more specific andfine-grained. While there is not a compensatory increase in one specific temporal adverb to account for the decrease of the abovementioned ones, there are a number of more specific temporal adverbs that show some increase, pointing to a noticeable tendency.
The abovementioned shift towards more specific temporal adverbs also relates to the broader socio-cultural context of Afrikaans during the course of the century, which includes the persistent and ongoing standardisation as well as the expansion of contexts of (formal) use until shortly before the lastperiod. The increasing formality and sophistication ofthe demands put on Afrikaans aided the formalisation of the language, where more formal, specific and seemingly sophisticated options in linguistic expression became more attractive and were used increasingly. This tendency is further confirmed by the decrease of the use of the lexical items "nou" and especially "dan" as discourse markers, as the use of discourse markers is associated with more involved (compared to more informative) language use (Biber 1998:148).

Keywords: Afrikaans, tense, temporal reference, absolute temporal reference, relative temporal reference, temporal adverbs, corpus, diachronie corpus linguistics, frequency, formalisation


 

 

1. INLEIDING EN KONTEKSTUALISERING

Wanneer daar in die linguistiek oor tydsaanduiding gepraat word, is die konsep tempus van besondere belang. Comrie (1985:9) stel dat "tense is grammaticalised expression of location in time" - die gevestigde siening van tempus is dié van 'n deiktiese kategorie wat die temporele verhouding tussen 'n gebeurtenis en 'n deiktiese sentrum (meestal die spraakmoment) aandui (Deo 2012:158; Klein 2008:9). Comrie se spesifikasie van "grammaticalised" verwys daarna dat dié temporele verwysing geïntegreerd in die grammatikale sisteem van 'n taal is, teenoor suiwer leksikale temporele verwysing (Comrie 1985:10). Die onderskeid tussen grammatikale en leksikale temporele verwysing betrek verpligting en morfologiese gebondenheid - duidelik gegrammatikaliseerde tydsaanduiding is beide verplig en morfologies gebonde, en duidelik leksikale tydsaanduiding is nie een van die twee nie; met grensgevalle wat nie sonder meer in een van die twee kategorieë geplaas kan word nie (Comrie 1985:10). Wanneer tale wel tempus bevat, word dit op die werkwoord aangedui - hetsy deur die werkwoord se morfologie, of deur grammatikale woorde wat aan die werkwoord grens (Comrie 1985:12). Die wyse waarop tempus uitgedruk word in 'n spesifieke taal hang grotendeels van die morfologiese tipologie van daardie taal af (Nicolle 2012:370), wat egter nie heeltemal stabiel is nie (Nicolle 2012:371).

In teorie oor tempus word 'n liniêre tydlyn dikwels geïmpliseer (byvoorbeeld Botha 1990), en soms eksplisiet daargestel (Comrie 1985:5). Comrie (1985:36) gebruik die term absolute tempus ("absolute tense") om te verwys na tempusse wat die huidige oomblik as deiktiese sentrum neem.

'n Drieledige onderskeid (verlede, teenwoordig, toekomend) of tweeledige onderskeid (verlede en nie-verlede, of toekomend en nie-toekomend) is absolute tempusse wat gebeurtenisse voor, ná of tydens die huidige oomblik as deiktiese sentrum op die liniêre tydlyn posisioneer.

Daar is egter 'n verdere tipe tempus - Comrie (1985:56) gebruik die term relatiewe tempus ("relative tense") om te verwys na dié tempusse waar die deiktiese sentrum nie noodwendig die huidige oomblik is nie. In die gebruik van relatiewe tempusse word die deiktiese sentrum dikwels bepaal deur die tempus van die naaste werkwoorde met absolute tydsverwysing (Comrie 1985:60).

In Afrikaans word tempus hoofsaaklik analities aangedui, deur die kontras tussen 'n enkele werkwoord (byvoorbeeld gee) en 'n werkwoordkombinasie (byvoorbeeld het gegee) (Ponelis 1979:264). Die terminologie wat in die literatuur gebruik word om na Afrikaanse tempus te verwys, is egter inkonsekwent.

De Villiers (1971:23) let op hierdie probleem, en verkies om byvoorbeeld "verlede tyd" of "teenwoordige tyd" te gebruik wanneer hy na algemene tydsaanduiding verwys, en die name van spesifieke tempusse, byvoorbeeld "presens" of "plusquamperfectum" te gebruik wanneer daarna verwys word. Ponelis (1979:263) beskryf die Afrikaanse tempusstelsel in terme van die "presens" en die "preteritum", waar "preteritum" verwys na "verledetydsverwysing" (Ponelis 1979:264). Conradie (1998:38) gebruik "verledetydsvorme" om te verwys na die restante van die Nederlandse perfektum en preteritum wat in Afrikaans behoue gebly het, en "presens" vir die oorblywende kategorie.

Aan die een kant kan die onderskeid tussen terminologie vir algemene tydsaanduiding en vir tempus sinvol wees, maar die probleem wat onmiddellik opduik is hoe om die tempus wat na die verlede verwys, te benoem - nie "preteritum" of "perfektum" is akkuraat nie, aangesien beide hierdie terme 'n spesifieke betekenis het wat nie die volledige omvang van die Afrikaanse grammatikale verlede tyd insluit nie. Die formulering "verlede tyd" kan gewoon gebruik word, maar dan kan daar nie onderskei word tussen tempus en algemene tydsverwysing nie. Ter wille van ondubbelsinnigheid word terminologie in hierdie artikel soos volg aangewend: "verlede tyd", "teenwoordige tyd" en "toekomende tyd" word gebruik vir algemene tydsverwysing, en "grammatikale verlede tyd" en "presens" word gereserveer vir spesifiek tempus.

Afrikaans se grammatikale verlede tyd is afkomstig van die Nederlandse perfektum, met uitsondering van 'n aantal werkwoorde wat tradisionele preteritale fleksie behou het. Die grammatikale verlede tyd word gevorm deur middel van die hulpwerkwoord het en 'n hoofwerkwoord wat in die meeste gevalle die prefiks ge- neem (Ponelis 1979:264). Die presens is die ongemerkte vorm - dit kan gebruik word om atemporele sinne soos algemene uitsprake en gewoontelike sinne uit te druk (Ponelis 1979:261), asook teenwoordige tyd, en toekomende tyd met die hulpwerkwoorde sal of gaan (behalwe vir werkwoorde wat 'n afsonderlike infinitiefvorm besit - byvoorbeeld "sal werk", maar "sal wees"). Aangesien die tempusstelsel van Afrikaans slegs hierdie twee tempusse differensieer, maak sprekers en skrywers van Afrikaans ook staat op verskeie ander maniere om gebeurtenisse of situasies in tyd deikties te anker, soos adverbia van tyd (byvoorbeeld toe, gister, oormöre) en setselgroepe (byvoorbeeld in die aand) (Van Wyk 2009:3) asook tekstuele binding en samehang (Wybenga 1993:17).

Adverbiale temporele verwysing vorm 'n substansiële deel van tydsaanduiding in Afrikaans, en spesifiek toe, nou en dan het 'n besonder hoë gebruiksfrekwensie (Van der Merwe 1996:91). Hierdie gebruike het al in vorige navorsing aandag geniet,2 waar Van der Merwe (1996) op die spesifieke woorde fokus en ander moontlik 'n afdeling daaraan afstaan. Die prominensie van hierdie gebruike word telkens beklemtoon, hoewel daar deurgaans min of geen aandag aan (potensieel omvangryke) veranderende gebruik geskenk word. Adverbiale temporele verwysing in Afrikaans het egter gedurende die afgelope eeu 'n aantal belangrike veranderinge ondergaan, en hierdie veranderinge is nog nie sistematies beskryf nie. Terwyl dit moontlik vir die algemene taalgebruiker onopgemerk verbygaan, is die veranderinge, die implikasies daarvan, asook die verklaring daarvan relevant vir 'n grondige taalkundige begrip van die temporele sisteem van Afrikaans.

Die belangrikste gebruiksveranderinge (beskryf in afdeling 3) wat toe, nou en dan ondergaan, is 'n afname in algehele gebruik (nou, dan) en veranderinge in temporele gebruik (toe). Ter verklaring van veral die genoemde afnemende gebruike word die toenemende gebruik van 'n aantal meer spesifieke temporele adverbia ondersoek, asook die relevante sosio-kulturele konteks van Afrikaans gedurende die eeu wat ondersoek word. Met die aanvanklike en voortdurende standaardisering van Afrikaans word die verwagting geskep dat daar toenemend wegbeweeg sal word van situasie-afhanklike en betrokke taalgebruik (sien Biber 1998:148). Dit kan verdere implikasies hê in terme van toenemende verformalisering3 van Afrikaans, in teenstelling met die toenemende verinformalisering ("colloquialization") van Engels (Mair 2006:204).

 

2. METODOLOGIE

Die bevindinge van hierdie studie word gebaseer op kwantitatiewe data wat verkry word uit diachroniese korpusse, en met behulp van korpuslinguistiese metodes ondersoek word. Twee belangrike oogmerke van korpuslinguistiese metodes, wat ook die oogmerke van hierdie studie is, is eerstens om te bepaal hoe en hoeveel 'n patroon voorkom, en tweedens om die kontekstuele faktore wat variasie of verandering beïnvloed, te bepaal (Biber et al. 1998:3). Verder leen korpuslinguistiek sigself daartoe dat groot volumes taalgebruik hanteer en geanaliseer kan word, terwyl verskeie kontekstuele faktore bygereken bly (Reppen et al. 2002:viii). Die einddoel is nie om bloot die kwantitatiewe patrone weer te gee nie, maar om funksionele interpretasies te gee vir waarom dié patrone bestaan (Biber et al. 1998:9).

Die empiriese ontwerp van hierdie studie word gebaseer op die model wat deur Mair (2006) en Leech et al. (2010) daargestel word, wat genoem word "comparative corpus linguistics, or more specifically short-term diachronie comparable corpus linguistics" (Leech et al. 2010:24). Dit is wanneer vergelykbare korpusse uit verskillende tydperke gebruik word om variasie of verandering na te gaan. Die sterkpunt van die vergelykende korpusmetodologie is dat dit grondig gebaseer is op waarneembare verskille tussen twee (of meer) korpusse (Leech et al. 2010:32). Die belang hiervan word deur Leech et al. (2010:50) uitgelig:

...one of the messages we wish to convey is that frequency evidence is far more important in tracing diachronic change than has generally been acknowledged in the past.

' n Belangrike konsep in die bogenoemde metodologie is dié van vergelykbaarheid. Wanneer twee of meer korpusse vergelykbaar met mekaar is, beteken dit dat die samestelling van die korpusse dieselfde is, behalwe dat dit verskil in terme van een veranderlike, in terme waarvan dit vergelyk word (Leech et al. 2010:28). Daar is egter beperkings op hierdie metode, soos wat Leech et al. (2010:30) dit stel:

But it is difficult to argue that the comparable corpus methodology can be easily extended indefinitely to longer periods of time - say, of a century or more. This is because comparability depends on stability of the 'genre map' of a language over time.

Dit is juis op grond hiervan dat hierdie ondersoek afgebaken word tot 'n eeu se taalverandering. Mair, wat twintigste-eeuse verandering in Engels bestudeer, definieer "twentieth-century changes in English grammar" as daardie ontwikkelinge waarvoor daar deeglike dokumentasie uit die gegewe korpusse verkry kan word (Mair 2006:83). Hy merk egter op dat, aangesien sy studie beperk is tot 'n enkele eeu, dit onwaarskynlik is dat enige verandering tot voleinding sal ontwikkel in die gegewe tydperk (Mair 2006:83).

Mair (2006:1) se korpusse is saamgestel uit geskrewe bronne, aangesien vergelykbare historiese gesproke data moeilik, indien enigsins, bekombaar is. Verder fokus hy op die standaardvariëteit van Engels, aangesien hy algemene taalverandering wil naspoor, en nie op streeksgebonde of sosiale variasie wil fokus nie (Mair 2006:1). Hy stel pertinent dat "[w]hile this restriction is problematical for many reasons, it is justifiable because of the social prominence of the standard in the present" (Mair 2006:1). Dieselfde oorwegings geld ook vir Afrikaans, en daarom word hierdie studie grootliks op Mair (2006) se model gebaseer. Daar is egter noodgedwonge enkele afwykings.

Eerstens is hierdie studie se korpusse aanpassings van die dertigjaar intervalle wat Mair (2006) gebruik. Aangesien daar geen gedateerde historíese korpusse beskikbaar is vir Afrikaans vir die gegewe tydsraamwerk nie, is die korpusse wat in hierdie artikel gebruik word self versamel en saamgestel.4 Van die bronne wat in die korpusse ingesluit is, is egter skaars en moeilik bekombaar (sien hieronder), en daarom is dit nie prakties haalbaar om slegs bronne uit 'n enkele jaar per korpus te gebruik nie. Ter wille van 'n realistiese tydraamwerk is daar bronne van elke derde dekade ingesamel. Die ingeslote dekades is:

1. 1911-1920

2. 1941-1950

3. 1971-1980

4. 2001-2010

Elke korpus bestaan uit min of meer 261 000 woorde per dekade in vergelykbare hoeveelhede vir elke kategorie, met 'n maksimum van ongeveer 2 000 woorde uit een teks. In een geval van uiterste skaarste (verdere besonderhede hieronder) is 'n absolute maksimum van 5 000 woorde daargestel. Die kategorieë met die woordtelling van elk is soos volg:

Fiksie (±60 000)

Populêre nie-fiksie:

°    Biografíese tekste (±20 000)

°    Verslaggewing (±20 000) ° Informatiewe tekste (±60 000)

°    Religieuse tekste (±20 000)

Akademiese tekste:

°   Geesteswetenskaplike tekste (±30 000)

°   Natuurwetenskaplike tekste (±30 000)

Manuskripte (briewe en dagboeke) (±21 000)

Die tweede afwyking van Mair (2006) en Leech et al. (2010) se model is dat daar ongepubliseerde bronne of manuskripte (briewe en dagboeke) in die korpusse ingesluit is. Al is dit 'n relatief klein proporsie van die korpusse, beoog dit om enigsins ongeredigeerde taalgebruik ook by die studie te betrek. Al die briewe en dagboekinskrywings wat uit privaat versamelings bekom is, is geanonimiseer om die identiteite en persoonlike inligting van enige betrokke partye te beskerm.

Daar is een onvolledige kategorie in een van die korpusse, waar beskikbare Afrikaanse tekste feitlik geheel ontbreek: die Natuurwetenskappe-afdeling in die 1911-1920-korpus bestaan uit slegs 9 260 woorde, aangesien daar slegs twee Afrikaanse tekste in die kategorie opgespoor kon word. Gedurende daardie tydperk het natuurwetenskaplikes in Suid-Afrika grotendeels steeds in Nederlands en andersins Engels geskryf, en daar is amper geen tekste van dié aard in Afrikaans uit daardie dekade beskikbaar nie. In alle gevalle waar data uit hierdie korpus met dié van die ander korpusse vergelyk is, is die korpusgrootte omgewerk na dieselfde totaal as die ander korpusse, en gebruiksgetalle omgewerk in dieselfde verhouding, ter wille van vergelykbaarheid.

In die analise van die data is twee analise-hulpmiddels gebruik. Eerstens is woordelyste (wat frekwensie insluit) en konkordansies van die relevante woorde uit die data onttrek met WordSmith Tools 6.0. Tweedens is tabelle en grafieke wat die resultate van die aanvanklike analises opsom in Microsoft® Excel 2010 saamgestel. Waar daar veranderinge opgemerk is, is daar log waarskynlikheidstoetse vir statistiese beduidendheid uitgevoer - in gevalle waar twee datastelle met mekaar vergelyk is, is 'n waarde van groter as 3.84 as beduidend geneem (wat aandui dat daar slegs 'n 5% kans is dat die verandering aan toeval toegeskryf kan word), en wanneer meer as twee datastelle met mekaar vergelyk is (bv. frekwensieveranderinge oor al vier korpusse heen) is 'n strenger waarde van groter as 6.63 as beduidend geneem (wat aandui dat daar slegs 'n 1% kans is dat die veranderinge aan toeval toegeskryf kan word).

 

3. ADVERBIALE TYDSVERWYSING: ANALISES EN BEVINDINGE

Die beperkte omvang van die Afrikaanse tempussisteem is reeds kortliks bespreek. Dit beteken egter nie dat Afrikaans beperkte moontlikhede bied vir temporele verwysing nie - hierdie artikel fokus op adverbiale temporele verwysing, wat heel dikwels in Afrikaans aangewend word (Van Wyk 2009:3). Van der Merwe (1996:91) beweer dat die woorde nou, toe en dan onder die mees gebruikte leksikale elemente in die Afrikaanse spreektaal tel, en in hierdie studie se korpusse, wat uit geskrewe tekste saamgestel is, tel al drie hierdie leksikale elemente telkens onder die top 70 mees frekwente woorde (uit 22 000-25 000) in elke korpus. Volgens Van der Merwe (1996:91) is nou die mees frekwente van die drie in die spreektaal, met toe in die tweede plek en daarna dan, maar dit blyk meer gekompliseerd te wees in die korpusdata. In ag genome dat hierdie leksikale items ook vir ander funksies gebruik word (Van der Merwe 1996:92; meer daaroor later), word die rou gebruiksgetalle in tabel 1 gegee.

 

 

In terme van die temporele funksies van hierdie woorde, kan daar tussen twee hoofkategorieë onderskei word: aan die een kant is daar die deiktiese verwysingsfunksie (Botha 1990:104; Van der Merwe 1996:91; Van Wyk 2009:47), oftewel absolute tempus in Comrie (1985:36) se terme, wat gebeurtenisse in die verlede, hede of toekoms plaas; aan die ander kant is daar die funksie om relatiewe tempus (Comrie 1985:56) aan te dui, of soos Van der Merwe (1996:91) dit stel, "as temporele verbandleggers in gebeurtenistyd tussen verskillende proposisies in uitings".

Die verskillende gebruike van elk van hierdie leksikale items word vervolgens afsonderlik ondersoek.

3.1 Toe

Die leksikale item toe word vir verskeie ander funksies gebruik buiten temporele verwysing (Conradie 1996:67) - dit word gebruik as 'n adjektief wat die teenoorgestelde van oop beteken (voorbeeld 1), as 'n adverbium wat rigting of bestemming aandui [2], as deel van skeibare werkwoorde [3], as deel van gevestigde vaste uitdrukkings [4] wat moontlik temporele betekenis het, maar nie meer uit die blote som van die onderskeie woorde bestaan nie, en as diskoersmerker (wat interaktief die verloop van 'n gesprek of teks aandui) [5] waarin die temporele betekenis vervaag het.

[1] Denk net hoeveel ergernis 'n mens het als jou plaas nie toe is! (1911-1920, Informatief)

[2] Ons ry na ete en kom huis toe. (1971-1980, Manuskrip)

[3] My tyd laat my nie toe verder te gaan nie. (1941-1950, Natuurwetenskappe)

[4] Die riem wen af en toe weer op. (2001-2010, Fiksie)

[5] Nou toe, ons moet roer. (1971-1980, Fiksie)

Ter wille van 'n volledige beeld van die gebruike van toe, en om die temporele gebruike daarvan te kontekstualiseer, gee tabel 2 die gebruiksgetalle van die verskillende gebruike van toe.

 

 

Wat die totale gebruiksgetalle van toe betref, is daar 'n beduidende daling vanaf die eerste na die tweede periode, waarna dit weer geleidelik toeneem.6 Terwyl al die verskillende gebruike in elke periode teenwoordig is, bly die twee grootste kategorieë deurgaans rigtingaanduiding en temporele verwysing. Terwyl temporele verwysing in getalle en proporsie eers redelik beduidend afneem, waarna dit weer effens toeneem,7 is daar weer 'n proporsionele toename van rigtingaanduiding tot en met die derde periode, waarna dit effens afneem. Temporele verwysing bly deurlopend die grootste proporsie van die gebruike van toe, deurgaans meer as die helfte van die gebruike, maar daar moet kennis geneem word van die substansiële gebruike in ander funksies, veral rigtingaanduiding.

Daar is reeds genoem dat toe op meer as een wyse na tyd kan verwys, onder andere deur absolute temporele verwysing en relatiewe temporele verwysing (Conradie 1996:74), wat grootliks met Nederlandse dialektiese gebruike van toen en verwante vorme ooreenstem (Conradie 1996:74). Wat absolute temporele verwysing betref, plaas toe altyd gebeurtenisse in die verlede tyd (Van der Merwe 1996:97). Wat relatiewe temporele verwysing betref, gaan die gebruik van toe daaroor om verskillende gebeurtenisse in verhouding tot mekaar te plaas (Conradie 1998:42). Daar is egter 'n verdere onderskeid - aan die een kant kan toe gebruik word om opeenvolgende gebeurtenistyd aan te dui, maar ook om oorvleuelende gebeurtenistyd aan te dui (Van der Merwe 1996:101). Terwyl opeenvolgende gebeurtenistyd beteken dat een gebeurtenis per implikasie voltooi is en 'n ander daarop volg, is die konsep van oorvleuelende gebeurtenistyd meer kompleks. Van der Merwe (1996:96) wys uit dat toe op 'n spesifieke tydstip maar ook op tydsduur kan dui, en hier is die konsep van 'n tydraam (sien Van Rooy 2014:166) relevant. Terwyl die gebeurtenisse nie noodwendig in die werklikheid temporeel met mekaar oorvleuel nie, word 'n temporele raam daargestel waarbinne beide van hierdie gebeurtenisse, of 'n gedeelte van elk, ingesluit word. Dit verskil van blote opeenvolging deurdat dit 'n tipe onmiddellikheid impliseer, en dikwels kan slegs die konteks of kennis oor die buitetalige werklikheid aandui of daar werklike oorvleueling of eerder onmiddellikheid bedoel word - daarom word dit as een kategorie gekonseptualiseer. In voorbeeld [6] word toe as absolute temporele verwysing gebruik, terwyl [7] opeenvolging illustreer (soortgelyk as daarna), en [8] oorvleueling.

[6] In mij jong daë was dit glad anders; toe het die ouërs nog wat te sê gehad. (1911-1920, Fiksie)

[7] "Jy kon éérs gehelp en toe by sy voete gaan sit het," kap Martha terug. (2001-2010, Religieus)

[8] Hulle is maar "simpel", maar ek was nie myself toe ek hulle geskryf het nie. (1971-1980, Manuskrip)

Wanneer toe in absolute tydsverwysing gebruik word, val dit saam met die grammatikale verlede tyd. Wanneer dit egter in relatiewe tydsverwysing, beide opeenvolging en oorvleueling, gebruik word, kan die res van die sin in die presens geformuleer word. Hierdie gebruik word die historiese presens genoem, wat per implikasie na die verlede tyd verwys, terwyl sommige of alle relevante sinne in die presens geformuleer word. Voorbeeld [9] illustreer die historiese presens met toe wat opeenvolging aandui, en [10] met oorvleueling.

[9] Kort daarna val weer twee of drie pistoolskote, en toe is dit stil. (1941-1950, Fiksie)

[10] 'n Keerpunt in hierdie ontwikkelingsgeskiedenis werd bereik toe Pestalozzi op die toneel kom. (1911-1920, Informatief)

In tabel 3 word die gebruiksgetalle van die temporele gebruike van toe weergegee.

 

 

Die absolute tydsverwysing bly deurgaans proporsioneel min of meer stabiel. In die verskillende kategorieë van relatiewe tydsverwysing is daar egter duidelike veranderings te bespeur. In beide opeenvolging en oorvleueling is daar 'n beduidende afname in gebruike in die grammatikale verlede tyd,8 en 'n toename in die historíese presens.9 Veral wat oorvleueling betref neem die historiese presens toe om vanaf die tweede kleinste kategorie na by verre die grootste kategorie te verskuif - twee maal soveel soos die tweede grootste kategorie. So 'n toename in die historiese presens met behulp van temporele adverbia in hierdie kontekste toon dieselfde tendense in suidelike Duitse dialekte (Zug 2011:12), so die ontwikkeling is nie geheel onverwags in so 'n na-verwante taal nie. Behalwe vir die afname van die eerste na die tweede periode, is daar dus deur die res van die eeu 'n geleidelike toename in gebruike van die historiese presens ten koste van gebruike in die grammatikale verlede tyd.

'n Verdere onderskeid tussen verskillende wyses waarop toe gebruik word, betrek verskillende woordsoorte - toe kan as 'n onderskikkende voegwoord gebruik word, soos wat voorbeelde [8] en [10] aandui, maar ook as adverbium (insluitend voegwoordelike adverbium). Toe word hoofsaaklik as voegwoord vir oorvleuelende tydsverwysing gebruik, hoofsaaklik as adverbium vir opeenvolgende tydsverwysing, en sedert die tweede periode geredelik as beide vir absolute tydsverwysing. Sien tabel 4 vir verdere besonderhede.

 

 

Terwyl toe dus, behalwe vir die eerste periode wat in heelwat opsigte a-tipies is, meer gereeld gebruik word as voegwoord as wat dit gebruik word as adverbium, hoef dit nie buite rekening gelaat te word wanneer adverbiale tydsverwysing ondersoek word nie, aangesien voegwoordelike toe adverbiale bysinne inlei, en dit adverbiale funksies vervul (sien Van Wyk 2009:37 in dié verband).

3.2 Nou

Die leksikale item nou het, soos toe, ander gebruike buiten temporele verwysing: dit word ook as 'n adjektief gebruik wat die teenoorgestelde as "wyd" beteken (voorbeeld 11), as 'n naamwoord wat "die hede" beteken [12], in vaste uitdrukkings waar die oorspronklike temporele betekenis weereens saamgesmelt het met die ander woorde om 'n nuwe betekenis te vorm [13], en weereens ook as diskoersmerker waar die temporele betekenis gedeeltelik of volledig verdwyn (voorbeeld 14, sien ook Van der Merwe 1996:95).

[11] ...en oral streep die drentelaars uit tallose nou gange en sypaadjies uit. (1941-1950, Fiksie)

[12] Hy kom stadig terug na die nou toe en sy kop haak weer in. (2001-2010, Fiksie)

[13] Hij is daarom so nou en dan 'n ordentlike kerel, wat an sij ou vrinde dink. (1911-1920, Manuskrip)

[14] Nou ja, kom - dis laat. (1971-1980, Biografíes)

Die gebruiksgetalle van die verskillende gebruike van die woord nou word in tabel 5 gegee.

 

 

Die naamwoordgebruik van nou is besonder seldsaam en figureer eers in die laaste periode, en die gebruike as adjektief en in vaste uitdrukkings handhaaf ook deurgaans 'n lae frekwensie. Opmerklik is dat "nou en dan" die mees frekwente vaste uitdrukking in die eerste periode is (met 40 gebruiksinstansies), met die meer Nederlandse ekwivalent "nu en dan" ses keer en "nou die dag" twee keer gebruik. In die tweede periode is daar slegs vyf gebruike van "nou en dan" en twee van "nou die dag", en in die laaste twee periodes kom die reduplikasiekonstruksie "nou-nou" vir die eerste keer voor (10 keer in die derde periode, en vier keer in die laaste periode).

Die twee hoofgebruike van nou blyk dié van diskoersmerker en temporele verwysing te wees, met temporele verwysing wat die grootste proporsie uitmaak, net soos met toe. Terwyl die gebruiksgetalle self amper halveer deur die loop van die eeu (met beduidende verskille tussen veral die eerste twee maar ook die laaste twee periodes11), is die proporsionele gebruik van die twee groter kategorieë min of meer stabiel.

Soos met toe is daar egter ook verskillende tipes temporele verwysing wat deur nou geënkodeer kan word. Daar is die absolute tydsverwysing waar nou na die spraakmoment verwys (voorbeeld 15). Beide Botha (1990:109) en Van der Merwe (1996:93-94) wys egter uit dat hierdie nou op 'n tydstip (tipies die spraakmoment) kan dui, maar ook 'n wyer begrip kan wees wat die spraakmoment insluit, deur Botha (1990:109) die omvangryke nou genoem. Van der Merwe (1996:94) wys verder uit dat die tydsduur waarop nou dui, uit die totale konteks sowel as die konvensies van die taalgemeenskap afgelei moet word. In Afrikaans word nou ook soms gebruik met verwysing na die onmiddellike verlede [16], dikwels in die kollokasie nou net, of die onmiddellike toekoms [17]. Daar is egter ook 'n relatief-absolute verwysingsfunksie van nou, waar dit op 'n spesifieke tydstip of tydperk in die verlede dui (voorbeeld 18). Dan is daar ook die relatiewe verwysingsfunksie van nou, wat op opeenvolging dui (Van der Merwe 1996:99), en in die presens [19] en die verlede tyd [20] gebruik kan word.

[15] Nicht Lenie het nou vertien kinders bij mekaar. (1911-1920, Manuskrip)

[16] Ekdink nou net daaraan, Pa... (1941-1950, Fiksie)

[17] "Die polisie is nou hier, kind," pleit Ouma. (2001-2010, Fiksie)

[18] Maar nou was ek reg vir hom. (1971-1980, Fiksie)

[19] En nou maak die auteur 'n fantastiese draai. (1941-1950, Informatief)

[20] Hy het sy geld gemaak en nou het hy aangestap, op soek na nuwe uitdagings. (2001-2010, Geesteswetenskappe)

Die gebruiksgetalle van hierdie ses verskillende kategorieë van gebruike van nou met temporele verwysing word in tabel 6 gegee.

 

 

Anders as met toe, waar die relatiewe tydsverwysing besondere voorkeur binne temporele verwysing geniet, is die gebruike van nou om die absolute hede aan te dui deurgaans net meer as twee-derdes van die totale temporele verwysings. Terwyl die totale gebruiksgetal weereens min of meer halveer, bly die verskillende gebruike proporsioneel relatief stabiel. Die relatiewe temporele verwysing in die verlede tyd is teenwoordig in elke periode, maar word telkens maar enkele kere gebruik, terwyl die verwysings na die onmiddellike verlede en toekoms ook telkens teenwoordig is, maar met slegs enkele gebruiksgevalle.

3.3 Dan

Die laaste temporele adverbium wat ondersoek word, is dan. Net soos die vorige twee word dan ook vir ander funksies buiten temporele verwysing gebruik: in die eerste helfte van die eeu word dit nog in vergelykingskonstruksies gebruik soos wat slegs as vandag gebruik word [21], verder word dit ook in vaste uitdrukkings gebruik [22], en in 'n konteks waar dit as 'n diskoersmerker of aanduiding van voorwaardelikheid funksioneer [23].

[21] Selde het daar 'n gebeurtenis plaas gevind, wat 'n groter invloed op die gees en verbeelding van die tijd gehad het dan die Franse Omwenteling. (1911-1920, Geesteswetenskappe)

[22] ...of dit in die kiem geskied, al dan nie. (1941-1950, Informatief)

[23] Dan werk die trop mos vir die munisipaliteit. (2001-2010, Fiksie)

Die getalle van die verskillende gebruike van dan word in tabel 7 gegee.

 

 

Wat totale gebruiksgetalle betref toon dan die mees radikale vermindering van die drie woorde - die laaste periode se totaal is minder as 'n derde van die eerste periode s'n, wat 'n hoë graad van beduidendheid aantoon.12 Hierdie radikale vermindering word aan die een kant meegehelp deur die algehele verdwyning van een van die gebruikskategorieë, maar ook die ander kategorieë toon 'n sterk afname in getalle. Die enigste vaste uitdrukking waarin dan in die eerste periode gebruik word is "n(o)u en dan" (soos reeds vroeër gerapporteer), terwyl die uitdrukkings "al dan nie" (vanaf tweede periode), "daar en dan" (derde periode) en "dan en wan" (laaste periode) sporadies kop uitsteek. Dan is verder die enigste van die drie woorde wat nie deurgaans voorkeur toon vir temporele verwysing nie, en die gebruik in voorwaardes en diskoersmerkers maak vir die eerste drie periodes die grootste kategorie uit, wat in die laaste periode net-net deur temporele verwysing verbygesteek word.

Die verskeidenheid van temporele verwysings waarvoor dan aangewend kan word is ook groter as die voorafgaande twee woorde. Dan kan vir absolute tydsverwysing gebruik word om na die toekoms [24] te verwys. Dit word ook gebruik om relatiewe tyd aan te dui in terme van opeenvolging (Van der Merwe1996:102), in die verlede [25], die toekoms [26] en in sinne wat in die hede afspeel of waar algemeen-geldende waarhede in die presens uitgedruk word [27]; en dit word gebruik om oorvleuelende gebeurtenistyd aan te dui in die verlede [28] en die hede [29]. Dit is belangrik om op te merk dat dan sigself verleen tot gebruik in die historiese presens, en in daardie geval is dit steeds onder "verlede" gereken, omdat dit na die verlede verwys ongeag van die grammatikale kenmerke van die formulering.

[24] Hulle is seker hy sal weer terugkom en dan wil hulle reg wees vir hom. (2001-2010, Fiksie)

[25] Schuurman (l.c.) het byvoorbeeld van haar materiaal oorgebring na 'n 0.4mm. gegradeerde telkamertjie en dan mikroskopies ondersoek. (1941-1950, Natuurwetenskappe)

[26] "Ons slaan hom uit en dan gooi ons hom terug oor die muur," is sy plan. (2001-2010, Fiksie)

[27] Draai dit dan toe en om met mooi uitgevlegte mielieblaar-touw. (1911-1920, Informatief)

[28] Leyds het Chamberlain ook verwittig dat hy oor 'n paar dae in Londen sou wees en dan te eniger tyd vir samesprekings tot Chamberlain se beskikking sou wees. (1971-1980, Geesteswetenskappe)

[29] Die leiers doen na elke biduur verslag ... Annamarie kan dan daaraan aandag skenk. (1971-1980, Informatief)

Die getalle van die verskillende temporele gebruike van dan word in tabel 8 gegee.

 

 

Wat temporele verwysing betref is daar 'n beduidende afname in totale gebruiksgetalle,13 hoewel nie so radikaal soos met die ander twee woorde nie. Soos met toe maak dan se relatiewe temporele verwysings die grootste hoeveelheid van die gebruike uit, hoewel die opeenvolging in die hede proporsioneel verminder van driekwart na net oor die helfte. Die twee gebruike wat in getalle en proporsie toeneem, is absolute toekomsverwysing en opeenvolging in die toekoms, hoewel dit in die laaste periode steeds minder as 'n derde van die totale temporele gebruike uitmaak. Van die kategorieë se gebruiksgetalle is egter besonder laag, en geen verdere uitsprake kan oor die gebruik van dan gemaak word nie.

3.4 Meer spesifieke temporele adverbia

Die temporele gebruike van toe, nou en dan wat reeds ondersoek is, neem al drie tot 'n mindere of meerdere mate af deur die loop van die eeu, wat potensieel uitsprake wat verskeie dekades gelede oor hierdie woorde gemaak is, in 'n ander lig kan plaas. Terwyl moontlike buitetalige oorsake van hierdie vermindering in die gevolgtrekking verreken word, is dit sinvol om kortliks die gebruik van ander temporele adverbia te ondersoek. Na aanleiding van die tydsaanduidende konjunksiemerkers wat deur Van Rooy en Esterhuizen (2011:76) gebruik word, is daar 'n aantal potensiële temporele adverbia in hierdie studie se korpusse geïdentifiseer wat moontlik 'n gedeelte van die bogenoemde adverbia se funksionele lading kon oorgeneem het. Slegs adverbia wat twintig keer of meer in een of meer van die korpusse gebruik word, is in berekening gebring. Daar is 'n aantal wat aan hierdie vereiste voldoen, maar geen toename of afname toon nie, naamlik gedurende, gelede, intussen, saans, vandag en vroeër. Daar is egter 'n groter aantal wat wel toeneem met verloop van tyd, wat in tabel 9 aangedui word.

 

 

In isolasie beskou wys slegs terwyl en wanneer deurlopende toename met gebruiksfrekwensie wat hoog genoeg is om werklik 'n impak op ander temporele adverbia te hê. Gesamentlik wys hierdie temporele adverbia egter op 'n tendens waarin meer spesifieke temporele adverbia toenemend in Afrikaans aangewend word, wat aandui dat die afname in die temporele gebruike van toe, nou en dan nie 'n verlies van temporele inligting behels nie, maar 'n sistematiese verspreiding van funksionele lading na ook ander, meer spesifieke en minder situasiegebonde adverbia.

 

4. GEVOLGTREKKING: DIE VERFORMALISERING VAN DIE AFRIKAANSE SKRYFTAAL

Dit blyk uit die data dat die drie algemene temporele adverbia wat ondersoek is, naamlik toe, nou en dan, se totale temporele gebruiksgetalle (asook buiten toe die totale gebruiksgetalle) merkbaar afgeneem het. Die verspreiding van funksionele lading om toenemend meer spesifieke en minder situasiegebonde temporele adverbia in te sluit is reeds aangedui as 'n moontlike faktor in die daling van die meer algemene adverbia.

'n Verdere potensiële verklaring vir die frekwente gebruik in die eerste periode (en toenemende verskuiwing na meer spesifieke opsies daarna) het moontlik met die groter sosio-kulturele konteks te doen - die formele standaardisering van Afrikaans het pas 'n aanvang geneem, en skoolopleiding en hoë vlakke van geletterdheid was hoegenaamd nie vanselfsprekend vir 'n groot deel van die taalgemeenskap nie. Die gebruik van temporele adverbia val in Biber (1998:148) se kategorie van aanduiders van situasiegebonde taalgebruik, en diskoersmerkers ('n ander prominente gebruik van al drie die bogenoemde adverbia) val onder sy aanduiders vir betrokke (teenoor informatiewe) taalgebruik. In die gegewe sosio-historiese konteks maak die frekwente gebruik van die meer algemene temporele adverbia, wat kenmerkend is van informele, gesproke taal, in die eerste periode sin, terwyl die afname daarvan sedertdien (en verskuiwing na meer spesifieke, minder situasiegebonde, moontlik meer gesofistikeerde opsies) toegeskryf kan word aan die toenemende standaardisering en verformalisering van Afrikaans. Die toenemende formaliteit en sofistikasie van die eise wat aan die taal gestel is, het die verformalisering daarvan aangehelp, wat die meer spesifieke en gesofistikeerde uitdrukkings aantrekliker keuses gemaak het. Terwyl die standaardisering van Afrikaans al tot 'n groot mate verken is en in heelwat navorsing verreken word, is dit nie die geval met die onderliggende verformalisering van die taal nie. Hierdie tendens kan belangrike implikasies in terme van taalverandering (buiten dié wat in hierdie artikel beskryf word) hê, wat verder in toekomstige navorsing ondersoek kan word. Dit is ook nodig om in gedagte te hou dat, gegewe die immer-veranderende sosio-kulturele konteks van enige gegewe taal, hierdie tendens nie noodwendig onbepaald gaan voortduur nie. Dit herinner dat grammatikas van verskeie dekades oud nie onkrities as geldig aanvaar kan word nie, en dat sodanige beskrywings voortdurend op datum gehou of selfs vervang behoort te word.

 

BIBLIOGRAFIE

Biber, D, Conrad, S & Reppen, R. 1998. Corpus Linguistics: Investigating Language Structure and Use. New York: Cambridge University Press.         [ Links ]

Botha, W.J. 1990. Deiktiese tydsverwysing. Acta Academica, 22(3):102-115.         [ Links ]

Comrie, B. 1985. Tense. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Conradie, C.J. 1996. "En toen was er koffie..." Die bywoord toe(n) as narratiewe merker in Afrikaanse en Nederlandse vertellings. Taal en Tongval, 9:67-75.         [ Links ]

Conradie, C.J. 1998. Tempusgebruik in Afrikaanse narratiewe. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Taalkunde, 16(2):37-43.         [ Links ]

Deo, A. 2012. In Binnick, R.I. (ed.). The Oxford Handbook ofTense andAspect. Oxford: Oxford University Press, pp.155-183.         [ Links ]

De Villiers, M. 1971. Die grammatika van tyd en modaliteit. 2de druk. Kaapstad: A.A. Balkema.         [ Links ]

Klein, W. 2008. Time in Language, Language in Time. Language Learning, 58(Suppl. 1):1-12.         [ Links ]

Leech, G., Hundt, M., Mair, C. & Smith, N. 2010. Change in Contemporary English: A Grammatical Study. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Mair, C. 2006. Twentieth-Century English: History, Variation and Standardization. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Nicolle, S. 2012. In Binnick, R.I. (ed.). The Oxford Handbook ofTense andAspect. Oxford: Oxford University Press, pp.370-397.         [ Links ]

Ponelis, F.A. 1979. Afrikaanse Sintaksis. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Reppen, R., Fitzmaurice, S.M. & Biber, D. 2002. Using Corpora to Explore Linguistic Variation. Amsterdam / Philadelphia: John Benjamins.         [ Links ]

Van der Merwe, T. 1996. Nou, toe en dan as temporele leksikale elemente in Afrikaans. Literator, 17(2):91-104.         [ Links ]

Van Rooy, B. 2014. Progressive aspect and stative verbs in Outer Circle varieties. World Englishes, 33(2): 157-172.         [ Links ]

Van Rooy, B. & Esterhuizen, I. 2011. Die gebruik van konjunksiemerkers by nagraadse studente en gepubliseerde navorsing oor Afrikaanse taal- en letterkunde. Tydskrif vir Taalonderrig, 45(1):67-86.         [ Links ]

Van Wyk, T. 2009. Tempusgebruik in Afrikaanse narratiewe tekste. Johannesburg: Universiteit van Johannesburg. (Skripsie - MA.         [ Links ])

Wybenga, D.M. 1993. Gewete en waargenome wêreld: 'n tekstuele perspektief op Afrikaanse tydsuitdrukking. South African Journal of Linguistics, 24(2):15-30.         [ Links ]

Zug, J. 2011. The use of the preterite and the present perfect in English and German. A contrastive analysis. Oslo: Universitetet i Oslo (MA-thesis).         [ Links ]

 

 

 

Johanita kirsten, lektor in AfrikaanseTaal-kunde aan die Vaaldriehoekkampus van die Noordwes-Universiteit, se akademiese belangstelling handel oor die ontwikkeling van Afrikaans vanuit Nederlands. Haar M.A.-verhandeling, getiteld Laaste spore van Nederlands in Afrikaanse werkwoorde, onder leiding van Prof. Bertus van Rooy aan die NWU Vaaldriehoekkampus, ondersoek die oorgangstydperk van die gebruik van Nederlands na Afrikaans as skryftaal, en die gedrag van sekere werkwoordvorme gedurende daardie tydperk. Sy brei tans haar diachroniese ondersoek van Afrikaans verder uit, deur mikrolinguistiese kenmerke se verandering met verloop van tyd verder te ondersoek, aan die hand van gedateerde, elektroniese korpora van Kaaps-Nederlandse en Afrikaanse tekste. Die fokus val veral op grammatikale verandering vanaf die vroeg-twintigste eeu tot die vroeg-een-en-twintigste eeu. Sy het pas haar PhD, getiteld Grammatikale verandering in Afrikaans van 1911 tot 2010, onder leiding van Prof. Bertus van Rooy aan die NWU Vaal-driehoekkampus voltooi.
Johanita kirsten, lecturer in Afrikaans Linguistics at the Vaal Triangle Campus of the North-West University, is interested in the development of Afrikaans from Dutch. Her M.A. dissertation, titled Laaste spore van Nederlands in Afrikaanse werkwoorde, under supervision of Prof. Bertus van Rooy at the NWU Vaal Triangle Campus, investigates the transition phase from the use of Dutch to Afrikaans as written language, and how certain verbal constructions behave during this phase. She is currently expanding her diachronic research on Afrikaans, by further investigating the change of micro-linguistic characteristics over time, on the basis of dated electronic corpora of Cape Dutch and Afrikaans texts. The focus is primarily on grammatical changes from the early twentieth to the early twenty first centuries. She has just completed her PhD, entitled Grammatikale verandering in Afrikaans van 1911 tot 2010, under supervision of Prof. Bertus van Rooy, at the NWU Vaal Triangle Campus.
1 Ek spreek graag my dank uit teenoor my promotor, Bertus van Rooy, wat kommentaar gelewer het op die afdeling van my PhD-onder-konstruksie waarop hierdie artikel gebaseer is, asook twee anonieme keurders wat sinvolle en opbouende kommentaar gelewer het. Enige foute en tekortkominge bly myeie.
2 Byvoorbeeld in Botha (1990), Conradie (1996) en (1998), De Villiers (1971), Van der Merwe (1996), Van Wyk (2009), Wybenga (1993).
3 Die term "verformalisering" is gekies na aanleiding van die term "verinformalisering", die Afrikaanse vertaling van "colloquialization"; die vertaling word so hanteer op grond van Christiaan Mair se soortgelyke Duitse vertaling.
4 Met erkenning aan die Sentrum vir Tekstegnologie (CTexT®), Noordwes-Universiteit, vir die beskikbaarstelling van die Taalkommissiekorpus en die PUK-Protea-korpus, waaruit tekste vir die korpusse geselekteer is.
5 Die woordvorm toen is nog tydens hierdie periode gebruik; dit word vir die doeleindes van hierdie artikel as wisselvorm gereken en die gebruike daarvan word saam met dié van toe getel.
6 Die resultate van 'n log waarskynlikheidstoets: periode een tot twee 35.22; twee tot drie 14.29; drie tot vier 0.57.
7 Die resultate van 'n log waarskynlikheidstoets: periode een tot twee 43.56; twee tot drie 0.27; drie tot vier 5.77.
8 Die resultate van 'n log waarskynlikheidstoets: vir al vier periodes gesamentlik 85.42; een tot twee 19.23; twee tot drie 7.90; drie tot vier 1.45.
9 Die resultate van 'n log waarskynlikheidstoets: vir al vier periodes gesamentlik 38.61; een tot twee 17.12; twee tot drie 1.25; drie tot vier 18.55.
10 Die woordvorm nu is nog tydens hierdie periode gebruik; dit word vir die doeleindes van hierdie artikel as wisselvorm gereken en die gebruike daarvan word saam met dié van nou getel.
11 Die resultate van 'n log waarskynlikheidstoets: vir al vier periodes gesamentlik 214.03; een tot twee 118.21; twee tot drie 0.02; drie tot vier 4.60.
12 Die resultate van 'n log waarskynlikheidstoets: vir al vier periodes gesamentlik 658.61; een tot twee 195.23; twee tot drie 30.80; drie tot vier 15.97.
13 Die resultate van 'n log waarskynlikheidstoets: vir al vier periodes gesamentlik 28.32; een tot twee 7.20; twee tot drie 0.36; drie tot vier 3.84.

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons