SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.56 número1Older women's subjective experience of loneliness: applying the Mmogo- methodTM índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.56 no.1 Pretoria Mar. 2016

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2016/v56n1a1 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS

 

Spesiale tema oor Afrikaanse werkwoorde en werkwoordkonstruksies

 

 

Bertus van Rooy

 

 

INLEIDING

Sedert die publikasie van Ponelis (1979) se Afrikaanse Sintaksis en Combrink (1990) se Afrikaanse Morfologie het navorsing op die terrein van Afrikaanse grammatika slegs sporadiese aandag gekry. Naas enkele gevestigde navorsers wat vir langer periodes steeds sistematies aandag gegee het aan grammatikale verskynsels (bv. Barbara Bosch, Jac Conradie, Hans den Besten en Fritz Ponelis) was daar 'n aantal doktorale studies, byvoorbeeld Feinauer (1987), Stell (2011) en Van Huyssteen (2000), en bydraes vanuit teoretiese navorsingsprogramme en/of diachroniese taalkunde wat ook tot grammatikale beskrywing bygedra het. Nietemin, op die keper beskou het die studie van die morfologie en sintaksis veel minder aandag geniet as studies oor taalbeplanning, taalbeleid en die posisie van Afrikaans in 'n veranderende Suid-Afrika.

Intussen het taalteorie wêreldwyd groot groei ondergaan, waarvan relatief min sistematies ingespan is om insig in die grammatika van Afrikaans te verdiep, en daar selfs nog minder gebruikgemaak is van Afrikaans as databron om teoretiese konstrukte te verdiep. Tot 'n groot mate het die simbiotiese verhouding tussen grammatikale beskrywing en teoretisering nie tot sy reg gekom in soverre dit die studie van die Afrikaanse grammatika betref nie. Die metodologie van die taalkunde het ook, veral met die ontwikkeling van korpuslinguistiek en daarmee saam baie meer gesofistikeerde gebruik van statistiek, uitgebrei en kragtiger geword.

Nie net is dit waar dat die studie van Afrikaans deur die loop van die twintigste eeu maar slegs enkele aspekte van die grammatika in diepte belig het nie, maar soos alle ander tale bly Afrikaans verander en is insigte van 'n halwe eeu of meer gelede nie noodwendig meer 'n akkurate beskrywing van die hedendaagse grammatikale sisteem of taalgebruik nie. In die konteks van 'n veranderende Suid-Afrika, maar ook 'n veranderende Namibië, is die aantal kontaksituasies waarin Afrikaanssprekendes hulleself bevind al hoe meer, en oefen dit noodwendig n invloed op taalgebruik uit, wat op den duur tot grammatikale verandering sal lei. Binne 'n globaliserende wêreld met die ontploffing van kommunikasietegnologieë en verspreiding van inligting op 'n skaal en via kanale wat byna daagliks verruim, kan verwag word dat die aard van die beïnvloeding van eksterne faktore op taal en die tempo van taalverandering onwillekeurig sal bly toeneem.

Daar is tekens dat die gety begin draai. Die verskyning van 'n nuwe omvattende handboek, Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde (Carstens & Bosman 2014), en die ontwikkeling van 'n omvattende aanlyngrammatika van Afrikaans op die Taalportaalplatform (http://taalportaal.org/taalportaal/topic/), as onderdeel van VivA (http://viva-afrikaans.org/), is belowende stappe in die rigting van hernieude aandag aan die studie van die Afrikaanse grammatika. Die ontwikkeling van taaltegnologie bied nuwe uitdagings aan die volledigheid en noukeurigheid van die grammatikale beskrywing van Afrikaans, en dra by om navorsing te stimuleer (bv. Van Huyssteen & Verhoeven 2014).

 

IN HIERDIE UITGAWE

Hierdie spesiale uitgawe van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe word aangebied as n verdere bydrae om die wetenskaplike studie van die Afrikaanse grammatika uit te bou. Die meeste artikels

is uitgebreide en hersiene weergawes van lesings wat tydens 'n tematiese sessie oor die Afrikaanse werkwoord tydens die gesamentlike jaarkongres van die Linguistevereniging van Suid-Afrika en die ander taalkundeverenigings in Junie 2014 by die Universiteit van die Witwatersrand gelewer is. Die deelnemers word ook by voorbaat bedank vir hulle kommentaar en insette waarvan die skrywers met vrug kon gebruikmaak. Erkenning word ook verleen aan die keurders wat hulle tyd beskikbaar gestel het, in sommige gevalle op baie kort kennisgewing, om manuskripte te keur en sodoende waardevolle insette te lewer om die gehalte te verbeter. In dieselfde asem erken ek ook graag die ondersteuning en advies van die hoofredakteur van die Tydskrifvir Geesteswetenskappe, Ina Wolfaardt-Gräbe, om hierdie uitgawe moontlik te maak en vir die hantering van die keuring van die bydrae waarvan ekself medeskrywer was.

Die fokus van hierdie spesiale uitgawe is die werkwoord en werkwoordkonstruksies. Deur n sameloop van omstandighede, het dit duidelik geword dat n hele paar navorsingsinisiatiewe wat onafhanklik van mekaar van stapel gestuur is tog in bepaalde opsigte by mekaar aansluit. Drie van die sewe bydraes tot hierdie uitgawe spruit uit doktorale studies (Breed; Kirsten; Wasserman), en 'n verdere twee uit meestersgraadstudies (Butler; Colleman, Feinauer & Braeckeveldt), wat almal binne naastenby dieselfde periode onderneem is. Die ander twee bydraes (Conradie; Van Rooy & Kruger) vorm 'n onderdeel van navorsing waarmee die onderskeie outeurs oor n langer tydperk besig is, maar hierdie drie outeurs is ook die drie primêre skrywers wat die Afrikaanse werkwoord en werkwoordstuk binne die aanlyngrammatika van Taalportaal behartig. Deur die fokus op n samehangende gedeelte van die grammatika van Afrikaans het daar 'n bepaalde sinergie ontwikkel en vertrou ons dat die leser die samehang en wedersydse verdieping van insig oor die verskillende bydraes heen insiggewend en boeiend sal vind. Hoewel die bydraes nie almal ewe eksplisiet n teoretiese invalshoek vooropstel nie, vind hulle tog samehang in n gebruiksgebaseerde, of breedweg kognitief-funksionele benadering, en is almal veranker in groter versamelings empiriese materiaal, meestal sistematiese korpora van taalgebruik.

Die eerste twee bydraes fokus op modaliteit. Jac Conradie, stellig die mees aktiewe navorser oor die grammatika van Afrikaans die afgelope twee tot drie dekades, ondersoek die betekenis en gebruik van die modale hulpwerkwoord "wil", maar argumenteer dat hierdie werkwoord uitsonderlik is binne Afrikaans en meer funksioneer soos n hoofwerkwoord met die betekenis van n voorbereidende aksie. Deur die analise van n groot versameling voorbeelde, onderskei hy tussen die binneperspektief en die buiteperspektief op die voorbereidende aksie, verklaar in die loop van die analise bepaalde eiesoortige vormlike eienskappe van die werkwoord "wil", byvoorbeeld dat dit die enigste modale werkwoord in Afrikaans is wat reduplikasie na "wil-wil" ondergaan, en ontwikkel in die proses n samehangende model wat sowel die betekenisskakerings as vormlike eienskappe van "wil" verklaar. Indien nie met dieselfde graad van vooropstelling nie, is hierdie verklaring tot n groot mate in ooreenstemming met die kognitiewe en konstruksiegram-matika benaderings van verskeie ander bydraes in die bundel.

Ronel Wasserman ondersoek die betekenis van die modale hulpwerkwoord "moet" in samehang met die Engelse ekwivalent "must" binne die groter vraag na die wedersydse beïnvloeding tussen Afrikaans en Engels, deur n analise te onderneem van historíese en eietydse korpora van geskrewe Afrikaans en Suid-Afrikaanse Engels. Die korpus van Suid-Afrikaanse Engels is deur Wasserman self ontwikkel, terwyl sy gebruikmaak van die historíese korpus van Afrikaans wat deur Kirsten ontwikkel is (sien hieronder). Wasserman ontwikkel n semantiese model van die betekenisse van die twee werkwoorde, en dui aan die hand daarvan aan hoe albei deur die loop van die twintigste eeu n betekenis ontwikkel waarin swakker grade van verpligting uitgedruk word as wat histories die geval was vir beide tale. Deur die vergelykende analise van verskeie dimensies van die gebruik van "moet" en "must", waaronder die vergelyking van die betekenisuitbreiding op verskillende historíese momente en die mate waartoe die werkwoorde grammatikalisering ondergaan het, kom sy tot die slotsom dat die taalverandering eers in Afrikaans voorgekom het, en van hier na Engels versprei het in die taalkontaksituasie wat in die blanke gemeenskap van die gesegregeerde twintigste-eeuse Suid-Afrika geheers het. Die samehang tussen die sosio-historiese omstandighede en taalverandering word hierdeur uitgelig.

Die volgende drie bydraes verskuif die aandag na die uitdrukking van temporele betekenisse in Afrikaans. Johanita Kirsten ondersoek taalverandering in adverbiale uitdrukkings van tyd wat deur die loop van die twintigste eeu plaasvind nadat die tempussisteem gestabiliseer het, deur die analise van die historiese korpus van twintigste-eeuse Afrikaans wat sy self saamgestel het. Drie hoëfrekwensie adverbia, "nou", "toe" en "dan", toon 'n geleidelike afname in gebruiksfrekwensie deur die loop van die twintigste eeu. Gegewe dat die tempussisteem van Afrikaans selfs nie eers so sterk gegrammatikaliseer is soos in ander Germaanse tale nie, verteenwoordig dit 'n oënskynlike raaisel dat 'n kompensasiemeganisme ook nog al minder gebruik word. Die raaisel word opgelos wanneer Kirsten deur die analise aantoon dat meer spesifieke temporele adverbia in die plek van die baie algemene en konteksgebonde adverbia toeneem in gebruik. Sy verklaar dit as die ontwikkeling van 'n standaardvariëteit wat meer en meer verformaliseer, en dus eintlik by implikasie as afsonderlike register van die taal vestig en wegbeweeg van die gesprekstaalherkoms wat met die vroeë slagspreuk "ons skryf soos ons praat" geassosieer kan word.

Adri Breed bepaal haar aandag by die uitdrukking van aspektuele betekenisse in Afrikaans, n onderwerp wat vir byna 40 jaar nouliks aandag van navorsers gekry het. Waar die tempussisteem nog n mate van gevestigde reëlmaat en ten minste een gespesialiseerde konstruksie as uitdrukkingsmiddel het, vertoon die uitdrukking van aspektualiteit - die interne perspektief op handelinge en toestande wat in taal voorgestel word - nie dieselfde mate van grammatikalisering nie. Nogtans argumenteer Breed dat dit n fout is om hieruit af te lei dat Afrikaans nie aspektuele betekenisse kan uitdruk nie. Sy bied vervolgens h uitgebreide raamwerk van aspektuele betekenisse aan, vanuit n tipologiese en kognitiewe invalshoek, wat kulmineer in n taksonomie van aspektuele betekenisse wat in Afrikaans verwoord kan word. Hierna ontleed sy die verskeidenheid van omskrywingskonstruksies wat wel beskikbaar is om aspektuele betekenisse te verwoord, om sodoende ondersteuning te verleen aan haar vertrekpunt dat Afrikaans wel oor die nodige uitdrukkingsmiddele beskik om aspektuele betekenisse uit te druk.

Anneke Butler ondersoek die toereikendheid van die bestaande karakteriserings van die deelwoord in Afrikaans. Soos Breed wy sy haar aandag aan n onderwerp wat oor n lang tyd betreklik min aandag geniet het in Afrikaanse taalkunde, terwyl die onderwerp in die studie van ander tale heelwat verdieping en verfyning van insig ondergaan ook, ten dele deur die toepassing van insigte vanuit die kognitiewe grammatika. Sy toon aan, deur n sistematiese analise van die vormlike en semantiese verskille tussen die verskillende gebruike van deelwoorde en verwante werkwoordvorme, dat daar sistematies tussen twee konstruksies onderskei moet word: n deelwoord wat prototipies in adjektiwiese konstruksies gebruik word maar tog bepaalde verbale eienskappe behou, en n konstruksievorm van die werkwoord wat in meer prototipiese verbale konstruksies gebruik word. Hierdeur word n sistematiese oplossing vir die analiseprobleem van die beskrywende taalkunde gebied, terwyl dit terselfdertyd n sleutel bied vir die oplossing van n klassifikasiepro-bleem wat sy oorsprong het in n taaltegnologieprojek.

Die laaste twee bydraes in hierdie spesiale uitgawe handel oor die komplementsinkonstruksie en die verband tussen die keuse tussen die twee vorme, n komplementsin met onafhanklike woordorde oftewel die "skoon bysin", en die afhanklike woordorde wat saam met die onderskikker "dat" voorkom, die meer prototipiese bysintipe. Bertus van Rooy en Haidee Kruger formuleer die probleem van volgordevariasie binne die konteks van n groter aantal faktore wat moontlik n verklaring kan bied vir die keuse tussen variante. Op die basis van vorige navorsing oor Afrikaans, aangevul met die meer uitgebreide literatuur oor ander tale, vernaamlik Engels en Duits, word 'n aantal faktore geïdentifiseer. Hierdie faktore word geoperasionaliseer en 'n steekproef van meer as 10,000 eksemplare uit die Taalkommissiekorpus word geannoteer, waarna 'n statistiese model met behulp van 'n besluitboomtegniek vir die data onttrek word. Die bevindinge dui op die belangrikheid van veral die hoofwerkwoord en die graad van formaliteit van die register. Die outeurs verklaar die bevindinge met verwysing na die relatiewe tematiese prominensie van die komplementsin en die hoofsin wat die dryfkrag agter die keuse tussen die twee vormlike variante van die komplementsin is.

Timothy Colleman, Ilse Feinauer en Charlotte Braeckeveldt sluit baie nou aan by Van Rooy en Kruger. Waar laasgenoemde outeurs gebruikmaak van die bevindinge van Braeckeveldt (2013) se magisterstudie, neem Colleman et al. die analise verder. Hulle brei die oorspronklike analise van werkwoorde se voorkeure vir die twee tipes komplementsinne uit aan die hand van verdere literatuur en veral die werk van Van Rooy en Kruger, en ontwikkel sodoende 'n nog meer volledige analise van die rol wat werkwoordlemmas speel in die bepaling van die keuse tussen die twee tipes komplementsinne. Hulle maak van distinktiewe kollekseemanalise gebruik, n statistiese tegniek wat die afgelope dekade binne die korpuslinguistiek ontwikkel het, en onderneem ´n omvattende analise van data wat uit 'n koerantkorpus onttrek is. Sodoende dien hulle studie ter bevestiging van die bevindinge van Van Rooy en Kruger, maar bied ook verdere besonderhede oor die aard van die verhouding tussen spesifieke werkwoorde en die keuse tussen komplement-konstruksies, en in besonder die rol van die versameling kousatiewe werkwoorde, wat nie veel aandag geniet het in vorige analises nie.

 

BESINNING

Oorsigtelik beskou kan 'n aantal oorkoepelende verbande tussen die bydraes in hierdie spesiale uitgawe geïdentifiseer word, waaruit ook bepaalde rigtingwysers vir toekomstige navorsing blyk. n Hele paar van die temas van artikels handel oor onderwerpe wat eintlik sedert die vroeë 1970's nouliks of geen aandag geniet het van navorsers nie. Hierdie bundel maak dus n bydrae om afgeskeepte temas af te stof en, in die lig van nuwe insigte wat by implikasie blyk uit voortdurende nontwikkeling in die taalteorie of beskrywende navorsing op ander tale, insig in die grammatika van Afrikaans uit te brei en te verdiep.

Die artikels in hierdie bundel streef na n delikate balans tussen noukeurige grammatikale beskrywing en taalteoretiese begronding (sien ook Kirsner 2014 vir uitgebreide refleksie op hierdie balans). Daar is twee risiko's wat vermy moet word. Aan die een kant sou 'n slaafse "toepassing" van teorie op die beskrywing van n taal daartoe kon lei dat daar nie werklik noukeurige insig in die grammatika van 'n spesifieke taal verkry word nie, en die belangrike wetenskaplike doelwitte van die beskrywende grammatika nie ondersteun en uitgebou word nie. 'n Spesifieke taal dien op hierdie wyse net as 'n dam waaruit bepaalde vissies gevang word om teoretiese punte aan te teken in n hengelkompetisie wat nie groot waarde heg aan sistematiese en volledige beskrywing as sodanig nie. Aan die ander kant is beskrywende taalkunde wat in isolasie van die winste van beskrywing van ander tale of ontwikkelings in die taalteorie plaasvind n verarmde beskrywing waarin die wiel telkens herontdek moet word, en die tempo en diepte van die ontwikkeling van insig in gedrang kom.

Die meeste bydraes in hierdie bundel is begrond in die kognitiewe benadering (insluitende konstruksiegrammatika), waarvoor n uitgebreide regverdiging en n ander toepassing op n Afrikaanse konstruksie deur Van Rooy en Kruger (2015) voorgehou word. Die gedeelde teoretiese benadering dra daartoe by dat artikels in hierdie bundel die klassieke digotomieë in die taalkunde van die meer formalistiese benaderings oorbrug. Die vorm en funksie van grammatikale konstruksies word deurgaans in samehang met mekaar beskou. Taalvariasie word in terme van die buitetalige en binnetalige motivering daarvan bestudeer, en nie as n artefak beskou wat los staan van die geïdealiseerde beskrywingstaak van die navorsing nie. Buitetalige faktore word nie buite rekening gelaat ten koste van n eksklusiewe fokus op die outonome taalsisteem nie. Diachroniese dimensies, oftewel taalverandering, word nie buite rekening gelaat in die analise van sinchroniese data nie. Dus word daar oor die artikels heen gepoog om tot 'n samehangende, geïntegreerde verstaan van taal binne 'n komplekse werklikheid te kom. Nogtans word insigte wat deur ander paradigmas opgelewer word, nie hiermee tersyde gestel nie, en maak Van Rooy en Kruger, sowel as Colleman et al. met vrug gebruik van die werk van Biberauer (2002) wat sistematies vanuit die generatiewe raamwerk ontwikkel is.

In hierdie bundel is die klem in die eerste plek op noukeurige beskrywing van Afrikaans, maar ingebed binne die groter konteks van taalteoretiese en metodologiese ontwikkeling in die taalkunde wêreldwyd. Daarmee hoop die skrywers om 'n vars en substantiewe bydrae tot die verstaan van die grammatika van Afrikaans te maak wat bou op die winste van navorsing wêreldwyd. Dit laat die uitdaging vir taalkundiges wat op Afrikaans werk om ook in die toekoms meer aandag te gee aan die ander kant van die munt, naamlik om vanuit analises van Afrikaans by te dra tot voortgesette ontwikkeling en uitbreiding van teorie en metodologie, sowel as vergelykende beskrywings binne die Germaanse taalfamilie en verder.

 

BIBLIOGRAFIE

Biberauer, T. 2002. Verb second in Afrikaans: Is this a unitary phenomenon? Stellenbosch Papers in Linguistics, 34:19-69.         [ Links ]

Braeckeveldt, C. 2013. De skoon bysin in Afrikaanse krantentaal: Voorkomen en parameters. Ongepubliseerde MA verhandeling. Gent: Universiteit Gent.         [ Links ]

Carstens, W.A.M. & Bosman, N. (reds.). 2014. Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Combrink, J.H.G. 1990. Afrikaanse Morfologie: Capita Exemplaria. Pretoria: Academica.         [ Links ]

Feinauer, A.E. 1987. Sinsvolgorde in Afrikaans. Ongepubliseerde D.Litt proefskrif, Universiteit van Stellenbosch.         [ Links ]

Kirsner, R.S. 2014. Qualitative-quantitative analyses of Dutch and Afrikaans grammar and lexicon. Amsterdam: Benjamins.         [ Links ]

Ponelis, F.A. 1979. Afrikaanse sintaksis. Pretoria: JL van Schaik.         [ Links ]

Stell, G. 2011. Ethnicity and language variation: Grammar and code-switching in the Afrikaans speech community. Frankfurt am Main: Peter Lang.         [ Links ]

Van Huyssteen, G.B. 2000. Die reduplikasiekonstruksie in Afrikaans: Enkele aspekte van 'n kognitiewe gebruiksgebaseerde model vir Afrikaans. Ongepubliseerde PhD proefskrif, Potchefstroomse Universiteit vir CHO.         [ Links ]

Van Huyssteen, G.B. & Verhoeven, B. 2014. A Taxonomy for Afrikaans and Dutch compounds. In: Proceedings of the 25th International Conference on Computational Linguistics (COLING 2014): The First Workshop on Computational Approaches to Compound Analysis (ComAComA). ISBN: 978-1-873769-43-0. 21-22 August. Dublin, Ireland, pp. 31-40.         [ Links ]

Van Rooy, B. & Kruger, H. 2015. The case for an emergentist approach. Stellenbosch Papers in Linguistics PLUS, 48. doi:http://dx.doi.org/10.5842/48-0-676.         [ Links ]

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons