SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.55 número4A simplified model to measure brand loyalty of fast-moving consumer goodsOn speaking to violence in post-apartheid schools índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.55 no.4 Pretoria dic. 2015

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2015/v55n4a11 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS

 

Die rol van alkohol- en dwelmmisbruik by vrouemishandeling: 'n Maatskaplikewerk-perspektief

 

The role of substance abuse in domestic violence: A social work perspective

 

 

Ilze Slabbert

Departement Maatskaplike Werk. Stellenbosch Universiteit. E-pos: islabbert@sun.ac.za

 

 


OPSOMMING

Vrouemishandeling bied 'n groot uitdaging vir maatskaplike werkers. In Suid-Afrika word na berekening elke 6 ure 'n vrou vermoor deur haar lewensmaat, die hoogste voorkomssyfer ter wêreld. Navorsing toon 'n verband tussen vrouemishandeling en alkohol- en dwelmmisbruik. Vanuit die ekologiese perspektief word die sosiale omgewing van 'n persoon as onlosmaaklik deel van haar beskou en dit is dus 'n geskikte teoretiese uitgangspunt vir hierdie studie. 'n Kwalitatiewe studie is gedoen, en etiese klaring is daarvoor verkry. Die doel van die studie was om vroue se ervaring rondom intieme geweld te ondersoek, asook die moontlike rol wat alkohol- en dwelmmisbruik speel in gewelddadige verhoudings. Die studie was beskrywend en verkennend van aard en 20 vroue is daarvoor geïdentifiseer, deur middel van doelbewuste en sneeubal-steekproefneming. Data is ingesamel deur middel van semi-gestruktureerde onderhoude. Tydens verwerking van die data is vyf temas geïdentifiseer, naamlik alkoholmisbruik deur lewensmaat, dwelmmisbruik deur lewensmaat, alkoholmisbruik deur die deelnemers aan die studie, statutêre intervensie en polisie-intervensie. Die gevolgtrekking kan gemaak word dat die deelnemers groot uitdagings ervaar het ten opsigte van intieme geweld. Meer as die helfte van die deelnemers het aangedui dat hul lewensmaat alkohol en/of dwelms misbruik het.

Trefwoorde: Intieme geweld; alkohol- en dwelmmisbruik; vroue; ekologiese benadering; sosiale omgewing; sisteme; maatskaplike werkers; kwalitatiewe navorsing; korrelasie; temas


ABSTRACT

Domestic violence poses a huge challenge for social workers. It is estimated that in South Africa a woman is killed by her intimate partner every six hours, the highest incidence in the world. Research also indicates the correlation between domestic violence and substance abuse. Men under the influence of alcohol or drugs often display higher levels of aggression than do sober men and could display violent behaviour in the home. It is also significant that where men report for rehabilitation from addictive substances, domestic violence is often cited as a fall-out. The ecological perspective is useful when viewing this correlation between domestic violence and substance abuse as the different systems of this perspective, namely the micro, mezzo, eco, macro and chrono systems are all relevant. In the micro system the intimate relationship between a man and woman is negatively affected by substance abuse, often leading to domestic violence. In the mezzo system organisations such as Alanon could provide support for abused women when their partners abuse substances. In the eco system social workers in welfare organisations could provide support for abused women. In the macro system the community a woman is part of might have an influence in how she copes with domestic violence and substance abuse. In the final system, the chrono system, legislation could provide legal support for abused women needing intervention. From a social work perspective the need to gain more insight into domestic violence and substance abuse is crucial, as statistics indicate an increase in both these issues. The social work profession would thus benefit from such a study to determine how women in an abusive relationship experience domestic violence, and to determine the correlation between domestic violence and substance abuse.
The aim of this study was to explore the experiences of abused women, as well as the possible correlation between substance abuse and domestic violence. A qualitative study with a phenomenological approach was proposed. The phenomenon in this study was the experiences of abused women and the role of substance abuse in domestic violence. This study made use of an explorative and descriptive research design to explore and describe abused women's experiences where substance abuse might also play a role. Two non-governmental organisations and one psychologist were approached to obtain the sample of 20 women. Purposive and snowball sampling were used.
The criteria for inclusion were:
Participants had to be female and between the ages of 22 and 60 years.
They had to have been in an abusive relationship at the time of the study or not more than 6 months prior to the study.
They had to reside in and around Cape Town.
They must have received professional help by a social worker, a psychologist or a nursing sister at the time of the study or not more than 6 months prior to the study.
Data were collected by means of interviewing, and a semi-structured questionnaire. The data were analysed and categorised into themes. Ethical clearance was obtained. The findings included the following demographic details and themes. According to the demographic information, all the participants but one, still had dependent children in the home. The impact of domestic violence on children is severe, especially as their father is often the perpetrator. The educational level of the participants varied from illiterate to a grade 12. None of the participants had a post- matric qualification.
Five themes were identified. Theme one was alcohol abuse by the partner. Nine (45%) of the participants indicated that their partners abused alcohol. Seven (35%) of these nine participants indicated that their partners' drinking increased the violence in their relationship. Theme two was drug abuse by the partner. Four (20%) participants indicated that their partners misused drugs. Theme three was alcohol abuse by the participant. Four (20%) participants indicated that they abused alcohol as a means to cope with the domestic violence. It was significant that these four participants also turned to the church to help them through difficult times. Theme four related to statutory intervention. None of the participants indicated that they found a protection order helpful. The six (30%) participants who obtained a protection order did not find it helpful either, and indicated that the substance abuse of their partners still continued, accompanied by domestic violence. Theme five dealt with police intervention. Six (30%) participants made use of police intervention, but only one (5%) found this helpful. Most participants indicated that the police were not effective in dealing with domestic violence and substance abuse. It can be concluded that domestic violence poses a huge challenge to social workers. During intervention with abused women, the role of substance abuse should be taken into consideration, as the use of substances could increase domestic violence.

Key words: Domestic violence; substance abuse; women; ecological perspective; social environment; systems; social workers; qualitative research; correlation; themes


 

 

INLEIDING

Vrouemishandeling is 'n uiters uitdagende kwessie vir maatskaplike werkers. Suid-Afrika het een van die mees progressiewe konstitusies in die wêreld en sterk wetgewing om die regte van vroue te beskerm. Naas Ruanda en Swede spog Suid-Afrika met die meeste vroulike parlementslede ter wêreld. Geweld teen vroue neem egter nog steeds onrusbarende afmetings aan. Na raming word daar elke ses ure 'n vrou vermoor deur haar lewensmaat, die hoogste syfer ter wêreld van dood deur intieme geweld. Daar is dus 'n groot teenstrydigheid tussen die teorie en die praktyk. Ongelukkig word baie vroue steeds gesien as 'n objek, en nie as 'n persoon in eie reg nie (Björnberg 2012).

Navorsing (Crane, Schlauch, Hawes, Mandel & Easton 2014; Klosterman & Chenn 2009) toon ook 'n verband tussen huishoudelike geweld en die misbruik van alkohol of dwelms. Mans onder die invloed van drank of dwelms, tree dikwels irrasioneel op en toon groter vlakke van aggressie en minder selfbeheersing as wanneer hulle nugter is. Dit is ook bekend dat sekere chemiese middels soos metamfetamien ("tik") die oordeelsvermoë van mense aantas, met gevolglike intense woedebuie wat mag lei tot geweld teenoor hulle lewensmaats (Stover, Easton & McMahon 2013; Stuart, McGeary, Shorey, Knopik, Beaucage & Temple 2014:386).

Uit bogenoemde bespreking is dit duidelik dat vrouemishandeling asook alkohol- en dwelmmisbruik groot uitdagings bied vir die maatskaplikewerk professie. In hierdie studie word gepoog om 'n duideliker prentjie te skets oor mishandelde vroue se belewenisse en die rol wat alkohol- en dwelmmisbruik in mishandeling speel vanuit 'n maatskaplikewerk-perspektief. Die doel van hierdie studie is dus om die ervaringe van mishandelde vroue te ondersoek, asook die rol wat alkohol- en/ of dwelmmisbruik speel in huishoudelike geweld.

 

KONSEPTUALISERING EN TEORETIESE BESPREKING

Vrouemishandeling kom in baie vorms voor waarvan fisieke geweld maar een vorm is. Emosionele mishandeling kan verbaal of nie-verbaal wees. Dit is die doelbewuste, onophoudelike afbreek van 'n persoon se eie-waarde en selfbeeld. Dié tipe mishandeling sluit gewoonlik beledigings, spot, beskuldigings, ontrouheid en afsydigheid van die lewensmaat in. Emosionele mishandeling kan ook manifesteer in die doelbewuste uitsluit van familie en vriende. Emosionele mishandeling gaan gewoonlik gepaard met fisieke mishandeling (Sanderson 2008:23; Slabbert & Green 2013:238). Ekonomiese mishandeling verwys na enige handeling van 'n lewensmaat om doelbewus noodsaaklike lewensmiddele te weerhou van sy maat, soos geld vir voedsel. Seksuele mishandeling is moontlik die een vorm van geweld waarna die minste verwys word. Dit word nie maklik aangemeld nie, te wyte aan die stigma en vernedering wat daarmee gepaardgaan. Al vier vorms van mishandeling moet egter as ernstig beskou word. Sommige vroue ervaar al vier vorms van mishandeling tegelykertyd (Slabbert & Green 2013: 240-242).

'n Groot oorsaak van vrouemishandeling is dat sekere mans volkome beheer oor hul lewensmaats wil uitoefen, en dan deur gewelddadige optrede. Die volgende uittreksels uit 'n studie wat gedoen is in die Wes-Kaap (Slabbert 2010:142) toon hoe sekere vroue hierdie beheer van hul lewensmaats ervaar:

"Hy het 'n jaloesie...Hy vertrou my glad nie. Hy het 'n boodskap saam met 'n ander vrou gestuur dat hy my nie vertrou nie en my sal doodmaak... en hy sluit my toe in die huis en hy vat die sleutel as hy gaan drink."

"Hy is ook baie jaloers. Ek mag met niemand praat nie, dan wil hy my ook slaan. Hy wil heeltyd weet waarheen ek gaan. Ek kan nie eers alleen dorp toe gaan nie. Hy wil my heeltyd dophou. Ek voel baie vasgehok..."

"Maar ek mag nêrens heen gegaan het nie. Hy het my soos 'n valk dopgehou. As ek te lank weg was, het hy my geslaan, maar hy kon kom en gaan soos hy wil, ook na die smokkelhuis."

Navorsing in Suid-Afrika (Keith 2012; Marinus 2015) toon 'n skokkende toename in alkohol- en dwelmmisbruik. Die misbruik van alkohol en dwelms speel 'n beduidende rol in die disintegrering van gesinne. Daar is heelwat literatuur (Crane, Schlauch, Hawes, Mandel & Easton 2014; Cunradi, Todd, Duke & Ames 2009; Stover et al. 2013) wat die korrelasie tussen alkohol- en dwelmmisbruik en huishoudelike geweld toon. Die verhouding tussen alkohol- en dwelmmisbruik en aggressie behels oor die algemeen komplekse interaksies tussen sielkundige, fisiologiese en situasionele faktore. Navorsing (Cunradie et al. 2009; Stuart et al. 2014) meld egter dat gewelddadige mans beduidend meer geneig is om alkohol en/of ander dwelms te gebruik of te misbruik as mans wat nie gewelddadig is nie. Dit is ook insiggewend dat man-tot-vrou-geweld dikwels aangedui word as 'n probleemarea as mans aanmeld vir rehabilitasie van alkohol- en dwelmverslawing. Waar mans intervensie ontvang ten opsigte van gewelddadige gedrag teenoor hulle lewensmaats, is ook 'n hoë voorkoms van misbruik van alkohol en/of dwelms gevind. Alkohol- en dwelmmisbruik lei dikwels tot 'n troebel verhoudingsdinamika wat kan eindig in huishoudelike geweld (Mallow & Ward 2009:51).

Dit is sinvol om vanuit 'n ekologiese perspektief (Bronfenbrenner 1979:3), na hierdie korrelasie tussen alkohol- en dwelmmisbruik en huishoudelike geweld te kyk, aangesien die verskillende sisteme in die ekologiese perspektief relevant is. Die spanning wat mense daagliks ervaar, lei dikwels tot 'n soeke na ontvlugting in alkohol of dwelms (Oduru, Swartz & Arnot 2012:278). Die ekologiese perspektief fokus op die sosiale omgewing en konteks waarin persone funksioneer.

Mense word kennelik beïnvloed deur die interaksies en transaksies van verskillende ekosisteme. Die interafhanklikheid van relevante sisteme in 'n persoon se lewe moet ook in ag geneem word. Die wedersydse verhouding tussen 'n persoon en sy/haar omgewing is onlosmaaklik deel van die ekologiese beskouing. Die mens se gedrag word beïnvloed deur die omgewing, en ook word die omgewing gevorm deur menslike handeling. In 'n verhouding waar 'n man byvoorbeeld alkohol misbruik sal sy gedrag 'n invloed hê op sy sosiale omgewing (vrou en kinders). Sou sy drinkery lei tot intieme geweld, affekteer dit die sosiale omgewing waar die gesin emosionele stres ervaar, wat weer kan lei tot verdere ontvlugting in die bottel vir die man - 'n bose kringloop. Die Geïntegreerde Diensleweringsmodel (Departement Maatskaplike Ontwikkeling 2006:10) verklaar dat mense meer verbind tot mekaar en hul sosiale omgewing behoort te wees in terme van besluitneming, beplanning en ander aspekte in hul lewens.

Bronfenbrenner (1979:514) het vyf vlakke van sisteme geïdentifiseer wat by 'n ondersoek na die korrelasie tussen alkohol- en dwelmmisbruik en vrouemishandeling in ag geneem moet word. Die eerste vlak is die mikrosisteem. Hierdie vlak verwys na die intieme verhouding byvoorbeeld tussen 'n man en vrou, of dan ook ander nabye verhoudings byvoorbeeld met kinders of vriende. Ondersteuning op hierdie vlak kan ervaar word waar vriende byvoorbeeld 'n alkoholis-man sou motiveer om behandeling te ondergaan, of waar 'n mishandelde vrou ondersteun word deur 'n vriendin. Dit is egter dikwels so dat 'n mishandelde vrou in 'n negatiewe verhouding vasgevang voel en dat sy juis in hierdie mikrosisteem waar sy koestering en veiligheid behoort te ervaar, blootgestel is aan geweld en onstabiliteit (Bronfenbrenner 1979; Oduru et al. 2012).

Mesosisteme, die tweede vlak van sisteme, beskryf die inter-verhoudinge tussen sisteme, soos die gesin en werk. Hierdie vlak is nou verbind aan die mikrosisteem en kan 'n nuttige ondersteuningsnetwerk vir die mishandelde vrou bied. Alanon is byvoorbeeld 'n organisasie wat ondersteuning bied aan vroue wat konflik ervaar as gevolg van hulle lewensmaats wat alkohol of dwelms misbruik. Spanning kan egter ook ervaar word waar werkgewers nie altyd simpatiek staan teenoor vroue wat moet verlof neem by die werk as gevolg van verhoudingskonflik nie (Bronfenbrenner 1979; Oduru et al. 2012).

Ekosisteme, die derde vlak, is van toepassing op die sisteme en praktyke wat nie noodwendig direk deel vorm van mishandelde vrouens se netwerke nie, soos byvoorbeeld die polisie of welsynsorganisasies. Welsynsorganisasies kan van groot hulp wees vir vroue in gewelddadige verhoudings en kan ook dienste in terme van alkohol- en dwelmmisbruik bied. In werklikheid is daar egter ongelukkig dikwels oorwerkte maatskaplike werkers en beperkte bronne wat doeltreffende dienslewering belemmer (Bronfenbrenner 1979; Oduru et al. 2012). Die ervarings van mishandelde vroue en die rol van die polisie sal later bespreek word.

Vierdens hou die makrosisteme verband met aspekte wat inherent is aan 'n spesifieke kultuur of gemeenskap. Sekere gemeenskappe beskou vroue as minderwaardig en dit is bekend dat die regte van vroue nie altyd erken word nie. Alkohol- en dwelmmisbruik is ook dikwels aan die orde van die dag in sekere gemeenskappe. Albei faktore kan aanleiding gee tot vrouemishandeling. Alhoewel Suid-Afrika uitstekende wetgewing het in terme van vroueregte en die gelykheid tussen geslagte beklemtoon, is statistieke nog steeds onrusbarend ten opsigte van vrouemishandeling (Ali 2007; Björnberg 2012; Bronfenbrenner 1979; Institute for Security Studies (ISS) 2014; Oduru et al. 2012).

Die laaste sisteem, naamlik die chronosisteem, hou verband met verandering in sowel die persoon as die omgewing. Die politieke omgewing in Suid-Afrika bied byvoorbeeld baie meer ondersteuning vir vroue en vroueregte as in die verlede, wat aan die mishandelde vrou groter wetlike beskerming verleen. Wetgewing maak ook voorsiening vir vroue om 'n beskermingsbevel teen hulle oortreders te kry (Prinsloo 2007; Vogt 2007). Soos reeds gemeld, dui die statistieke egter op 'n groot gaping tussen die wetboeke en die praktyk (Dyer 2010:34; Institute for Security Studies (ISS) 2014). Die ervaring van mishandelde vroue ten opsigte van statutêre instellings sal later bespreek word. Veranderinge kan ook mishandelde vroue se stresvlakke verhoog. Die meeste mense, selfs mishandelde vroue, kan spanning redelik goed hanteer. Soms kan moeilike situasies soos 'n gewelddadige verhouding selfs positiewe groei in die hand werk. Deur die situasie te kan hanteer, kan die mishandelde vrou se eiewaarde versterk word met die aanleer van sekere hanteringsvaardighede soos die benutting van 'n veiligheidsplan in noodsituasies. Toevlug tot dwelms en drank mag egter ook 'n manier wees waarop die mishandelde vrou die geweld in haar lewe probeer hanteer (Beaulaurier, Seff, Newman, & Dunlop 2007:747; Oduru et al. 2012:275).

Tydens assessering van vroue wat geweld ervaar in hulle intieme verhoudings, behoort hanteringsmeganismes sorgvuldig geëvalueer te word deur maatskaplike werkers. Assessering omvat onder andere die vrou se fisieke gesondheid, geestesgesondheid, welstand, haar siening van haarself, haar beskouing van intieme geweld en die oorsaak van geweld in verhoudings, selfbeeld, probleemoplossingsvaardighede, sosiale vaardighede, ondersteuning en materiële bronne soos behuising. Struikelblokke tot effektiewe hantering van die verhoudingsgeweld wat insluit beperkte bronne in die omgewing en die vlak van bedreiging moet ook ondersoek word. Ander stresfaktore soos armoede moet ook geëvalueer word (Beaulaurier et al. 2007; Levendosky & Graham-Berman 2001:171).

 

PROBLEEMSTELLING

Die toename in huishoudelike geweld en alkohol- en dwelmmisbruik is wêreldwyd waarneembaar, ook in Suid-Afrika. Alhoewel daar reeds heelwat navorsing (Barkhuizen & Pretorius 2005; Dyer 2010; Klosterman & Chen 2009) oor hierdie kwessie gedoen is, is daar min navorsing gedoen oor mishandelde vroue se belewenis van hoe hulle die geweld tesame met alkohol- en dwelmmisbruik ervaar het vanuit 'n maatskaplikewerk-perspektief. Maatskaplike werkers sal veral baat by groter insig in hierdie aspek, omdat vroue met hierdie ervarings dikwels deel vorm van hul gevallelading. Beter begrip van hoe hierdie vroue dit ervaar en watter verskillende sisteme betrekking het, sal lei tot verbeterde intervensie, veral omdat huishoudelike geweld en alkohol- en dwelmmisbruik dringende kwessies is waarmee hulle daagliks worstel. Dit sal hulle met groter begrip toerus vir die uitdagings wat mishandelde vroue ervaar en hulle in staat stel om meer doeltreffende dienste te lewer. Soos reeds gemeld, dui statistieke ook op 'n toename in vrouemishandeling asook alkohol- en dwelmmisbruik en daarom is navorsing oor hierdie kwessie uiters noodsaaklik ten einde 'n beter insig te verkry om intervensieplanne saam te stel om hierdie uitdagende kwessies te takel. Die gaping wat hierdie studie dus poog om te vul, is om vanuit 'n maatskaplikewerk-perspektief mishandelde vroue se ervarings asook die rol van alkohol en dwelms in vrouemishandeling te ondersoek en te verken.

 

NAVORSINGSMETODOLOGIE

Die doel van die studie is om die ervaringe van mishandelde vroue te ondersoek asook die moontlike rol wat alkohol- en/of dwelmmisbruik speel in huishoudelike geweld. Hieruit is die volgende navorsingsvraag geformuleer: Wat is die ervaring van mishandelde vroue in gewelddadige verhoudings en watter moontlike rol speel alkohol- en/of dwelmmisbruik in huishoudelike geweld?

'n Kwalitatiewe studie met 'n fenomenologiese benadering is gekies vir hierdie studie. Fouché en De Vos (2011:64-65) verduidelik dat die navorser met kwalitatiewe navorsing wil bepaal wat, hoe en waarom iets gebeur het, soos ook die geval is by kwantitatiewe navorsing. In kwalitatiewe navorsing word daar egter bykomend gefokus op die gevoelens en gedagtes van die deelnemers, nie net die gedrag nie. 'n Fenomenologiese benadering word gevolg waar die kern van menslike ervarings ten opsigte van die verskynsel (fenomeen) beskryf word deur die deelnemers aan die studie. Hierdie studie is 'n poging om te ondersoek hoe mishandelde vroue hul situasie hanteer en tot watter mate alkohol- en dwelmmisbruik 'n impak op hul situasie het.

Die studie het gebruik gemaak van 'n eksplorerende en beskrywende navorsingsontwerp. Eksplorerende studies het ten doel om 'n spesifieke aspek te ondersoek en antwoorde te probeer kry oor kwessies wat daaruit voortspruit. Beskrywende studies het weer ten doel om insig in te win oor 'n verskynsel, in hierdie geval mishandelde vroue se belewenis van hulle situasie waar alkohol- en dwelmmisbruik ook 'n rol mag speel.

Twee nie-regeringsorganisasies en een sielkundige wat dienste aan mishandelde vroue lewer, is genader om die steekproef van 20 deelnemers te vind. Doelbewuste en sneeubal-steekproefneming is gebruik. In doelbewuste steekproefneming kies die navorser die deelnemers hoofsaaklik na aanleiding van hulle kennis en ervaring in die verskynsel wat ondersoek gaan word. Sneeubal-steekproefneming is ook gedoen om deelnemers te vind toe sommige deelnemers aan die studie die navorser na ander deelnemers verwys het (Royse 2008; Strydom & Delport, in De Vos, Strydom, Fouché & Delport 2011).

Die steekproef is uit 'n populasie getrek wat aan die volgende kriteria moes voldoen:

  • Hulle moes vroulik wees, en tussen die ouderdomme van 22 en 60.

  • Hulle moes in 'n gewelddadige verhouding wees tydens die studie, of minder as ses maande voor aanvang van die studie.

  • Hulle moes in of naby Kaapstad woon.

  • Hulle moes professionele hulp van 'n maatskaplike werker, sielkundige of 'n verpleegsuster ontvang het gedurende die ses maande wat die studie voorafgegaan het, of steeds professionele hulp ontvang het tydens die studie.

Data is ingesamel deur middel van 'n semi-gestruktureerde onderhoudskedule. Die fokus van hierdie onderhoudskedule was om vroue se belewenisse van hulle gewelddadige situasies te ondersoek. Daar is 'n paar oop vrae gebruik wat gefokus het op hul uitdagings, hulp wat hulle ontvang het asook moontlike bronne wat hulle tot hulle beskikking gehad het. Die verskillende sisteme soos vroeër bespreek, is gebruik om die vraelys saam te stel. Daar is egter ook gedurende die onderhoude aan die deelnemers geleentheid gegee om hul eie belewenisse weer te gee en die vraelys het dus slegs as riglyn gedien. Die onderhoude is getranskribeer met die deelnemers se toestemming en in temas en subtemas geklassifiseer. Die verskillende sisteme volgens die ekologiese perspektief is gebruik om die temas en subtemas te identifiseer. Etiese klaring is verkry vir die studie en die korrekte protokol is gevolg tydens die onderhoudvoering en verwerking van data. Skuilname is gebruik om deelnemers se identiteit te beskerm (Creswell 2012). Data is geverifieer deur te verseker dat die data geloofwaardig, oordraagbaar, betroubaar en gelykvormig was. In terme van gelykvormigheid, is vier (20%) van die twintig deelnemers die geleentheid gegee om deur die getranskribeerde onderhoude te lees, ten einde te verseker dat dit 'n ware refleksie is van wat hulle gesê het tydens die onderhoude (De Vos et al. 2011).

 

BEVINDINGE

Demografiese Inligting

Die ouderdomme van die deelnemers het gewissel tussen 23 en 49 jaar. Navorsers soos Fleury-Steiner, Bybee, Sullivan, Belknap en Melton (2006:32) en Rende (2014:2548) dui aan dat vroue wat nog kinders kan baar, baie meer kwesbaar is vir huishoudelike geweld as vroue wie se kinders al onafhanklik is, omdat afhanklike kinders bydra tot groter emosionele spanning. Chireshe (2014:3) en Danisen en Lockheart (2004:28) voer egter aan dat vroue in enige ouderdomsgroep en gemeenskap blootgestel is aan intieme geweld, nie net dié wat nog kinders in die huis het nie. Negentien (95%) van die 20 deelnemers het aangedui dat hulle nog afhanklike kinders in die huis gehad het.

Nege van die 20 (45%) deelnemers was getroud. Vyf (25%) deelnemers was in 'n saamleefverhouding en ses (30%) was vervreem van hulle lewensmaats ten tyde van die onderhoude. Die besluit om hulle lewensmaats te verlaat was moeilik, aangesien al die deelnemers finansiële druk ervaar het. Die mikrosisteem van intieme verhoudings het dus geweldige stres op die deelnemers geplaas, ondanks hul huwelikstatus (Bronfenbrenner 1979; Oduru et al. 2012). Slegs twee van die deelnemers wat hulle lewensmaats verlaat het, was vasbeslote om nie weer terug te keer nie. Hulle grootste bekommernis was om finansieel te oorleef en huisvesting te vind. Dit stem ooreen met literatuur wat aandui dat vroue wat oorweeg om hulle lewensmaats te verlaat groot uitdagings in die gesig staar, soos om enkelouer te wees, en om te oorleef sonder finansiële steun van hul lewensmaats. Die feit dat sekere deelnemers se lewensmaats alkohol en dwelms misbruik het, het egter bygedra tot die besluit om weg te trek. Literatuur het aangedui dat 'n vrou se huwelikstatus nie 'n beduidende rol speel in haar kanse om intieme geweld te ervaar nie (Riger, Bennet & Sigurvinsdottir 2014:208).

Soos reeds gemeld, het al die deelnemers behalwe een afhanklike kinders gehad wat nog onder hulle sorg was. Dit is onvermydelik dat huishoudelike geweld 'n negatiewe invloed sal hê op kinders. Wantroue en vrees is kenmerkend by kinders wat in gewelddadige huise woon. Huishoudelike geweld werk 'n unieke vorm van trauma in die hand, omdat die oortreder in dieselfde huis woon as die kind en dikwels die kind se vader is. Sulke kinders ervaar dikwels gevoelens van verloëning en hulle konsep van tuiste en veiligheid is erg belemmer. Hulle toon dikwels afwykende gedragspatrone en emosionele tekens soos lae selfbeeld, paniekaanvalle, aggressiewe gedrag en koestering van selfdoodgedagtes (Danis & Lockheart 2004; Rende 2014:2550). In die mikrosisteem volgens Bronfenbrenner (1979) is dit juis hier waar 'n persoon veilig moet voel en gekoester word teen die aanslae van die wêreld. In 'n huis waar geweld voorkom, word groot stres ervaar.

Die opvoedingspeil van die deelnemers het gewissel van ongeletterdheid tot matriek. Slegs vier (20%) deelnemers het matriek voltooi. Ses (30%) deelnemers het 'n opvoedkundige kwalifikasie van graad 9 of 10. Twee (10%) deelnemers het graad 8 voltooi. Ses (30%) deelnemers het slegs 'n laerskoolkwalifikasie, terwyl twee (10%) deelnemers ongeletterd is. Bogenoemde bevindinge korreleer met navorsing wat aandui dat daar dikwels 'n verband is tussen lae opvoedkundige kwalifikasie en lae inkomste (Sahoo & Raju 2007:135).

Tema 1: Alkoholmisbruik deur 'n lewensmaat

Die eerste tema wat geïdentifiseer is, is alkoholmisbruik deur 'n lewensmaat. Hierdie tema hou verband met die mikrosisteem volgens die ekologiese perspektief, aangesien dit te make het met die stresvolle intieme verhoudings tussen die deelnemers en hul lewensmaats (Bronfenbrenner 1979; Oduru et al. 2012). Soos reeds gemeld, het verskeie outeurs (Crane et al. 2014:151; Martin & Bryant 2001: 578) 'n verband tussen alkohol- en dwelmmisbruik aan die een en vrouemis-handeling aan die ander kant aangedui. Alhoewel ander faktore ook 'n rol speel by huishoudelike geweld, soos oormatige stres en hoë aggressievlakke, wys literatuur (Cunradi et al. 2009; Klosterman & Chen 2009:495) daarop dat 'n oormaat alkohol en dwelms logiese denke belemmer, wat kan bydra tot verhoogde vlakke van geweld in intieme verhoudings. Die volgende uittreksels uit onderhoude illustreer hoe deelnemers dit beleef het.

"Hy neem 'n doppie. Hy verniel my erg en ek moet baie keer weghardloop van hom af. Hy is bietjie beter as hy nie drank in sy lyf het nie..." Anel

"Ja, hy drink te veel. Hy is elke aand dronk en skel hy my. Hy vloek my ook. Dit is nie net die skel nie, maar ook die vuisslanery. sommer so in my gesig. Die drank maak hom baie aggressief." Bessie

"Hy drink baie en slat my dat my lyf gekneus is. Dit is erger as hy baie drink, maar hy slat my selfs al is hy nugter." Nita

"Hy slaan my as hy gedrink het. Hy kom in die huis in en soek dan skoor en dan weet ek hier kom moeilikheid. Hy sal my ook slaan al het hy nie gedrink nie, maar nie so erg nie." Petro

Nege (45%) van die deelnemers het genoem dat hulle lewensmaats 'n drankprobleem het. Die alkoholmisbruik het gewissel van 'n "doppie" neem tot oormatige drankmisbruik. Dit is insiggewend dat sewe (35%) deelnemers gemeld het dat hul lewensmaats se drinkery geweld laat toeneem, maar dat hulle steeds mishandel is, al was hulle lewensmaats nugter. Bogenoemde bevindinge korreleer met Cunradi et al. (2009:63-74) se navorsing wat bevind dat alkoholmisbruik as sulks nie 'n enkele oorsaak vir geweld in 'n verhouding is nie. Hulle het verder bevind dat waar die man te veel drink en ook werkloos is, die risiko vir intieme geweld beduidend hoër is as waar die man nie 'n drankprobleem het nie.

Tema 2: Dwelmmisbruik deur 'n lewensmaat

Vier (20%) deelnemers het aangedui dat hul lewensmaats dwelms gebruik het, wat die gewelddadige gedrag vererger het. Dwelmmisbruik het gewissel van dagga, metamfetamien ("tik") en kokaïen. Hierdie tema hou ook verband met die mikrosisteem van die ekologiese perspektief (Bronfenbrenner 1979; Oduru et al. 2012) en in die volgende narratiewe kan waargeneem word watter stres in hierdie sisteem ervaar is.

My 'boyfriend' gebruik tik en dan raak hy anders. As hy getik is bly ek uit sy pad. Hy dreig my en skel my... Hy raak ook baie aggressief en slaan my baie seer met enige ding wat hy in die hande kan kry." Hantie

"As hy nie geld vir 'drugs' het nie, gaan dinge 'n bietjie beter. Hy rook dagga. Hy rook ook ander goeters. Dit maak hom kwaai en ook dat hy nie reguit dink nie. Sy kop werk nie lekker as hy daai goed in sy lyf het nie en dit help nie om met hom dan te praat nie. Jy moet maar net uit sy pad uit bly." Elmarie

"Hy gebruik tik. Hy gebruik ook 'cocaine' en... dan is dit baie gevaarlik vir my. Ek sorg dat ek ver weg is van hom as hy in daai toestand is, anders sal hy my sommer doodmaak." Sonja

Dit korreleer met navorsing wat getoon het dat dwelmmisbruik 'n beduidende rol kan speel by geweld in intieme verhoudings. Dwelmmisbruik, veral van kokaïen, toon 'n beduidende korrelasie met ernstige beserings. Sommige vroue in armer gebiede moet ook met geweld en dwelmmisbruik saamleef in hul omgewings en gemeenskap (Macy & Goodburn 2012:236; Walker, Neighbors, Mbilinyi, O'Rourke, Zegree, Roffman & Edleson 2010:1684).

Tema 3: Alkoholmisbruik deur die deelnemer self

Navorsers soos Barkhuizen en Pretorius (2005:11) en Martin en Bryant (2001:578) stem saam dat alkohol soos vet in die vuur is by intieme geweld. Geen vrou in hierdie studie het aangedui dat sy dwelms misbruik het nie. Dit is insiggewend dat vier (20%) deelnemers wat aangedui het dat alkohol hulle help om te vergeet of om hulle situasie te hanteer, ook genoem het dat die kerk hulle help. Die mikrosisteem en mesosisteem het hier betrekking waar die inter-verhoudinge tussen verskillende sisteme ook waargeneem kan word soos deur die volgende narratiewe gesien kan word (Bronfenbrenner 1979; Oduru et al. 2012).

"Die suster van die kerk, het gesê sy gaan haar suster bel en vra of ek daar kan woon. Hulle sal my met 'n ope hart aanvaar. Hulle sal my ook help om op te hou suip..." Hettie;

"Die kerkmense help my partykeer, ook as ek bietjies te veel in het en veral as dinge swaar gaan. Die een kerkman het al die polisie gebel." Sally.

Dyer (2010:47) beskryf die spesifieke rol wat geestelike leiers kan speel om hierdie vroue te ondersteun. Alkoholmisbruik het gewissel van sowat ses biere elke Vrydagaand en elke Saterdagaand tot oormatige gebruik van alkohol elke dag.

Die volgende twee subtemas toon 'n hegte verband met mekaar.

Subtema 3.1: Alkohol om te vergeet

"Nee, hy drink nie, maar ek drink. Voor die Here ek is ene wat drink... ek drink net dat ek kan aangaan en vergeet van my ellende... die lewe wat hy my laat lei... Ek drink dat ek nie die houe kan voel nie." Kotie

"Ek drink om al die seer hierbinne weg te kry en net te vergeet van al die pyn en die hel waarin ek is." Fiona

Vier (20%) deelnemers het gemeld dat alkohol hulle help om van hul stresvolle situasie te vergeet. Drie (15%) van hierdie deelnemers se lewensmaats het ook alkohol of dwelms misbruik, terwyl een (5%) deelnemer nie saam met hom alkohol misbruik het nie. Navorsing het bevind dat alkohol 'n baie gewilde ontsnappingsmiddel vir sommige mishandelde vroue is. Cunradi et al. (2009:63) en Macy en Goodburn (2012:234) is dit eens dat sommige vroue wat intieme geweld beleef, drink om tydelik te vergeet van hulle swaarkry.

Subtema 3.2: Alkohol om te oorleef

"Hy neem 'n doppie en dan neem ek 'n doppie. Dit is hoe ek 'cope'. Die alkohol help my om net aan te gaan, want glo my, ek sal nie anders deur hierdie ding kan kom nie." Hettie

"Jy jol mos maar lekker. Jy neem 'n doppie en dans en kuier lekker net om deur die lewe te kom en om die pyn te vergeet. Al weet jy die alkohol bring ook ellende, help dit om net deur terrible situasies te kom..." Sally

Dieselfde vier deelnemers het aangedui dat hulle alkohol misbruik om geweld te hanteer, veral as hulle later konflik verwag ("Ek drink voor hy Vrydae van die werk kom, want ek weet al Vrydae aande gaan die poppe dans" Sally). Dit stem ooreen met Flinck, Paavilain en en Asredt-Kurki (2005:387) en Macy en Goodburn (2012:234) se verduideliking dat alkoholmisbruik onder mishandelde vrouens 'n hanteringsmeganisme kan wees vir 'n stresvolle situasie. Twee deelnemers (10%) het aangedui dat hulle ernstig drank misbruik en nie net drink as daar konflik is nie. Literatuur (Fleury-Steiner et al. 2006; Mallow & Ward 2009) meld egter ook dat alhoewel alkohol deur sommige mishandelde vroue as 'n hanteringsmeganisme gebruik word, dit vroue meer kwesbaar maak en kan lei tot groter konflik. Die oormatige gebruik van alkohol is dus 'n tweesnydende swaard. Aan die een kant is dit 'n hanteringsmeganisme vir vroue in 'n gewelddadige verhouding en help hulle om met hulle emosionele en fisieke pyn saam te leef, maar dit kan ook lei tot verdere mishandeling, kwesbaarheid en ernstige gesondheids- en emosionele probleme.

Tema 4: Statutêre intervensie

Die Wet op Gesinsgeweld, Wet 116 van 1998 (Republiek van Suid-Afrika) is saamgestel om individue te beskerm teen enige vorm van huishoudelike geweld. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens is ook verplig om slagoffers te beskerm deur die oortreder te arresteer en dit op die register vir huishoudelike geweld aan te teken (Combrink & Wakefield 2010:27, Kethineni & Beichner 2009:311, Kruger 2004:152). Bronfenbrenner (1979) se ekosisteem het hier betrekking waar wetgewing nie noodwendig direk deel vorm van 'n mishandelde vrou se netwerk nie. Die makrosisteem is weer van toepassing waar uit onderstaande narratiewe gesien kan word dat sekere deelnemers nie hulle wetlike reg wou afdwing nie, omdat hulle nie in hul gemeenskap die nodige ondersteuning sou kry nie. Laastens het die chronosisteem betrekking, in terme van die wetgewing wat mishandelde vroue beskerm, maar daar is praktiese uitdagings in die toepassing daarvan. Dit is opmerklik dat al die deelnemers aan hierdie studie nie die statutêre dienste wat tot hulle beskikking was, van nut gevind nie ("Ek bly maar ver weg van die hof. Hulle help nie eintlik nie... doen eintlik meer "damage" as goed...") Linda.

Nie een van die deelnemers het die Interim Beskermingsbevel (IB) van veel waarde gevind nie. Sommige wou nie 'n IB verkry nie, uit vrees ("Hy sal my doodmaak as ek na die hof toe gaan. Ek is te bang, veral as hy dan nog ook dronk is" Anel) en ander het gevoel dat 'n IB nie gehelp het nie ("Ek het een gekry, maar dit het my net niks gehelp nie." Petro). Dit klop met Prinsloo (2007:25) se siening. Moontlike redes vir die oneffektiwiteit van 'n IB is:

  • Sekere vroue is nie ingelig oor hulle regte en veiligheidsmaatreëls wat in plek gestel word in terme van die Wet op Gesinsgeweld, Wet 116 van 1998 (Republiek van Suid-Afrika) nie.

  • Sekere vroue is skepties en wil daarom nie hof toe gaan om 'n IB te bekom nie.

  • Daar is 'n behoefte aan alternatiewe en meer informele meganismes in terme van konflikresolusie.

Dissel en Ngubani (2003:4) voer aan dat die Wet op Gesinsgeweld, Wet 116 van 1998 (Republiek van Suid-Afrika) die ernstige aard van huishoudelike geweld in Suid-Afrika beklemtoon.

Subtema 4.1: Verkry 'n interdik

"Ek het 'n interdik teen hom gekry, maar hy het dit net in stukkies opgeskeur. Ek het dit gaan kry nadat hy bedwelm was en my ernstig aangerand het. Hy het geen notisie van die interdik geneem nie, en het net aangegaan soos vroeër." Lara

"Ek het 'n interdik teen hom gehad en hy was een tyd opgesluit, ook omdat hy gesuip was. Hy het op borg uitgekom. Ek het maar op die ou end die saak gaan terugtrek, want ek het hom jammer gekry en wou nie gehad het hy moet tronk toe gaan nie." Maria

Ses (30%) van die deelnemers het wel 'n IB tydens die gewelddadige optrede verkry, maar nie daarby gebaat nie. Daar was sekere praktiese uitdagings vir sommige deelnemers om 'n IB te verkry, soos die groot afstand tussen die hof en hulle blyplek en ontoereikende openbare vervoer. Sommige deelnemers het ook nie die nodige kennis gehad oor 'n IB nie. Vogt (2007:244) het bevind dat die verkryging van 'n IB nie die voorkoms van geweld beduidend beïnvloed het nie. Daar is egter bevind dat die verkryging van 'n IB wel belangrik was om gevoelens van wanhoop te verlig. Deelnemers aan Vogt (2007:244) se studie wat 'n IB verkry het, het op 'n emosionele, kognitiewe en gedragsvlak gevoel hulle hanteer hulle situasie beter as voordat hulle 'n IB verkry het.

Subtema 4.2: Verkry nie 'n interdik nie

"Ek het nie 'n interdik teen hom gekry nie. Ek was te bang vir hom gewees. Hy raak mos ook erger as hy gedrink is en verstaan nie rede nie. As ek 'n interdik teen hom gekry het dan sou hy wou weet hoekom en sou erger baklei het." Anel

"Hy sal my doodmaak as ek 'n 'order' teen hom gaan kry. Ek is baie bang vir hom. Ek sal dit nie waag nie. Ek sorg maar net dat ek uit sy pad bly as ek sien daar kom moeilikheid, soos as hy te veel gedrink het." Nita

"Ek het nie 'n 'protection order' nie. Dit sal geen verskil maak nie. Hierdie man is 'n vark wat net ken van suip, rondslaap en geweld." Petro

Soos reeds gemeld, het nie een deelnemer aan hierdie studie die IB van enige nut gevind nie. Ten minste tien (50%) deelnemers het gemeld dat hulle bang is dat geweld teen hulle sal toeneem sou hulle 'n IB verkry. Vogt (2007:244) het bevind dat dit eerder 'n gebrek aan kennis van beskikbare wetlike bronne is en hoe dit werk, wat vroue verhoed om 'n IB te verkry, as dat hulle teen so 'n bevel gekant is.

Tema 5: Polisie

Navorsing gedoen deur Combrink en Wakefield (2010:27) het bevind dat polisiebeamptes wel opleiding ontvang oor hoe om huishoudelike geweld te hanteer. Daar is egter tekortkominge, soos om die situasie sonder genoeg menswaardigheid te hanteer en onsensitiewe aanmerkings te maak, byvoorbeeld dat die slagoffer gesoek het vir die geweld, of waar polisiebeamptes huiwerig is om op te tree by 'n insident wat ook vir hulle lewensgevaarlik mag wees. Deelnemers aan hierdie studie het gemeld dat hulle gebruik gemaak het van die polisie, maar dat hulle nie altyd behulpsaam was nie ("Hulle het hom gearresteer vir die nag nadat hy dronk was en amok gemaak het. Hy was al weer uit die volgende dag. Ek het nie huis toe gegaan daai aand nie, anders sou hy geskel en geslaan het." Bessie)

Subtema 5.1: Polisie behulpsaam

"Hulle het hom gearresteer en kwaai met hom gepraat. Hulle het hom al baie kom haal veral as hy in daai toestand is, maar hy is weer los die volgende dag..." Erna

"Die polisie help my ook. Hulle ken my al... Ek hardloop na hulle toe as daar probleme kom en hy getik is... hy is skrikkerig vir hulle." Nita

Alhoewel ses (30%) deelnemers gebruik gemaak het van die polisie se dienste, was net een deelnemer positief oor hul optrede. Die ander vyf deelnemers (25%) het verklaar dat die polisie wel van nut is in 'n krisis en dat hulle lewensmaats opgesluit sou word tot hulle weer nugter is, maar dan net weer losgelaat word. Hierdie deelnemers het melding gemaak van hulle vrees en angs as hulle lewensmaats sou terugkeer na die huis.

Subtema 5.2: Polisie onbehulpsaam

"Ek het 'n klag teen hom gaan lê by die polisiestasie toe hy so vol dwelms was en ook 'vicious' was, maar hulle kon hom nie in die hande kry nie. Toe soek hulle hom nie meer nie. Dit hinder my nog steeds." Lara

"As ek na die polisiestasie toe gegaan het om 'n klag in te dien, het niks daarvan gekom nie. Hulle het net vir hom ge-'cover'. Hulle was sy 'buddies' by die kroeg." Anel

Veertien (70%) deelnemers het aangedui dat die polisie nie hulpvaardig was nie. Vier (20%) van dié 14 deelnemers het die polisie gekontak in die een of ander stadium tydens die gewelddadige gedrag. Die helfte (50%) van die deelnemers wou nie die polisie betrek by hulle situasie nie, hoofsaaklik omdat hulle bang was vir verdere geweld. ("Nee, ek sal nooit na die polisie toe gaan nie... dit sal net dinge vererger..." Susan). Dit stem ooreen met navorsing wat gedoen is deur Sullivan en Hagen (2005:346) wat bevind het dat al die vroue met wie hulle onderhoude gevoer het (61), behalwe een, nie die polisie verwittig het van die gewelddadige optrede nie. Hierdie deelnemers het gevoel dat die regs- en polisiesisteem hulle weer viktimiseer. In 'n studie (Moody 2002:14) wat in die platteland gedoen is, is bevind dat al sewe vroue wat deelgeneem het aan die studie, verkies het om nie klagtes te gaan indien by die polisie oor huishoudelike geweld nie. Van die redes wat aangevoer was, was wantroue in die polisie, self-verwyt, ekonomiese afhanklikheid, vrees om doodgemaak te word, en om kinders te beskerm. Prinsloo (2007:25) het tot die gevolgtrekking gekom dat sekere vroue teleurgesteld is met polisie-intervensie tydens huishoudelike geweld. Sommige vroue het ook gevoel dat polisiebetrokkenheid by sekere tipes geweld soos seksuele geweld en emosionele geweld, nie geskik was nie. Subtemas 5.1 en 5.2 het betrekking op die ekosisteem waar mishandelde vroue nie werklik die polisie as deel van hulle ondersteuningsnetwerk sien nie (Bronfenbrenner1979; Oduru et al. 2012).

 

GEVOLGTREKKING

Nege (45%) van die 20 deelnemers het aangedui dat hulle lewensmaats alkohol misbruik het wat huishoudelike geweld vererger het. Vier (20%) deelnemers het aangedui dat hulle lewensmaats dwelms misbruik het. Vier (20%) deelnemers het self alkohol misbruik om hulle situasie te probeer hanteer. Een (5%) van hierdie vier deelnemers se lewensmaat het nie alkohol of dwelms misbruik nie. Altesaam 14 (70%) van die 20 deelnemers het dus aangedui dat alkohol of dwelms 'n betekenisvolle rol in huishoudelike geweld speel. Daar kan dus tot die slotsom gekom word in hierdie studie dat alkohol- en dwelmmisbruik bygedra het tot groter konflik en die huishoudelike geweld vererger het. Statutêre ingryping is ook bespreek en die rol van die polisie wat as oorwegend negatief beskou is.

 

AANBEVELINGS

Die volgende aanbevelings word gemaak:

In terme van die mikrosisteem:

  • Die uitdagings van mishandelde vroue moet deeglik geassesseer word.

  • Die rol van alkohol- en dwelmmisbruik moet in ag geneem word tydens assessering by vrouemishandeling.

In terme van die mesosisteem:

  • Mishandelde vroue behoort bemagtig te word deur hulle in verbinding te bring met die gepaste hulpbronne.

  • Maatskaplike werkers kan ook bemiddelaars wees tussen mishandelde vroue en hul sisteme soos kerke en werkgewers ten einde hulle die nodige ondersteuning te bied.

In terme van die ekosisteem:

  • Beter samewerking tussen maatskaplike werkers, die howe en die polisie behoort plaas te vind ten einde vrouemishandeling te verminder en meer effektief te bekamp.

In terme van die makrosisteem:

  • Bewusmakingsprogramme kan geloods word in gemeenskappe om die ernstige gevolge van vrouemishandeling asook alkohol- en dwelmmisbruik uit te lig.

  • Die belangrike rol van vroue in gemeenskappe kan ook benut word om hulle te bemagtig en hulle bewus te maak van hul wetlike regte.

In terme van die chronosisteem:

  • Bewusmakingsprogramme oor vrouemishandeling en alkohol- en dwelmmisbruik kan aangebied word spesifiek aan verskillende rolspelers soos die polisie en howe.

 

BIBLIOGRAFIE

Ali, A.H. 2007. Infidel, my life. London: Free Press.         [ Links ]

Barkhuizen, M. & Pretorius, R. 2005. Professional women as victims of emotional abuse within marriage or cohabiting relationships: A victimological study. Acta Criminologica, 18(1):10-20.         [ Links ]

Beaulaurier, R.L., Seff, L.R., Newman, F.L. & Dunlop, B. 2007. External barriers to help seeking for older women who experience intimate partner violence. Journal of Family Violence, 22(8):747-755.         [ Links ]

Björnberg, K. 2012. Violence against women in South Africa. A cultural and socio-economic issue, http://www.genderacrossborders.com/2012/01/12/violence-against-women-in-south-africa-a-cultural-and-socio-economic-issue/ [11/03/2013].         [ Links ]

Bronfenbrenner, U. 1979. Toward an experimental ecology of human development. Cambridge, MA: Harvard University Press.         [ Links ]

Chireshe, E. 2014. Christian women's experience of domestic violence in Zimbabwe. Affilia: Journal of Women and Social Work (1-15).         [ Links ]

Combrink, H. & Wakefield, L. 2010. Going the extra mile: Police training on domestic violence. SA Crime Quarterly, 31:27-34.         [ Links ]

Crane, C.A., Schlauch, R.C., Hawes, Mandel S.W. & Easton, D.L. 2014. Legal factors associated with change in alcohol use and partner violence among offenders. Journal of Substance Abuse Treatment, 47:1(151-159).         [ Links ]

Creswell, J.W. 2012. Educational research: Planning conducting and evaluating quantitative and qualitative research (4th ed.) Boston, MA: Pearson.         [ Links ]

Cunradi, C.B., Todd, M., Duke, M. & Ames, G. 2009. Problem drinking, unemployment and intimate partner violence among a sample of construction industry workers and their partners. Journal of Family Violence, 24:63-74.         [ Links ]

Danis, F.S. & Lockheart, L. 2004. Breaking the silence in social work education. Domestic violence modules for foundation courses. Alexandria: Council of Social Work Education.         [ Links ]

De Vos, A.S., Strydom, H., Fouché, C.B. & Delport, C.S.L. 2011. Research at grassroots: For the Social Sciences and Human Service Professions (4th ed.). Pretoria: Van Schaik Publishers.         [ Links ]

Departement van Maatskaplike Ontwikkeling. 2006. Geïntegreerde diensleweringsmodel. Pretoria: Departement van Maatskaplike Ontwikkeling.         [ Links ]

Dissel, A. & Ngubeni, K. 2003. Giving women their voice: Domestic violence and restorative justice in South Africa. Paper delivered at the XIth International Symposium on Victimology, 13-18 July, Stellenbosch.         [ Links ]

Dyer, J. 2010. Challenging assumptions: Clergy perspectives and practice regarding intimate partner violence. Journal of Religion and Spirituality, 29(1):33-48.         [ Links ]

Fleury-Steiner, R.E., Bybee, D., Sullivan, C.M., Belknap, J. & Melton, H.C. 2006. Contextual factors impacting battered women's intentions to reuse the criminal legal system. Journal of Community Psychology, 34(3):327-342.         [ Links ]

Flinck, A., Paavilainen, E. & Asredt-Kurki, P. 2005. Survival of intimate partner violence as experienced by women. Journal of Clinical Nursing, 14(3):383-393.         [ Links ]

Fouché, C.B. & De Vos, A.S. (2011). "Formal formulations" in De Vos, A.S., Strydom, H., Fouché, C.B. & Delport, C.S.L. Research at grassroots: For the Social Sciences and Human Service Professions (4th ed.) Pretoria: Van Schaik Publishers.         [ Links ]

Institute for Security Studies (ISS) (2014). Fact sheet: Explaining the official crime statistics for 2013/14 (19 September 2014). http://www.issafrica.org/uploads/ISS-crime-statistics-factsheet-2013-2014.pdf [09/10/2015].         [ Links ]

Keith, L.A. 2012. Die aard en bydrae van maatskaplikewerk-dienslewering aan die dwelmafhanklike adolessent. Pretoria: UNISA (MSW).         [ Links ]

Kethineni, S. & Beichner, D. 2009. A comparison of civil and criminal orders of protection as remedies for domestic violence victims in a midwestern county. Journal of Family Violence, 24:311-321.         [ Links ]

Klosterman, M.T. & Chen, R. 2009. The relationship between relapse to alcohol and relapse to violence. Journal of Family Violence, 24(7):495-505.         [ Links ]

Kruger, H.B. 2004. Addressing domestic violence: To what extent does the law provide effective measures? Journal for Juridical Science, 29(1):152-173.         [ Links ]

Levendosky, A.A. & Graham-Berman, S.A. 2001. Parenting in battered women. The effects of domestic violence on women and their children. Journal of Family Violence, 16(2):171-195.         [ Links ]

Macy R.J. & Goodburn, M. 2012. Promoting successful collaborations between domestic violence and substance abuse treatment sectors: A review of the literature. Trauma, Violence and Abuse 13(4): 234-251.         [ Links ]

Mallow, A. & Ward, K. 2009. Helping students to understand the link between substance abuse and intimate partner violence. Journal of Teaching in Addictions 8(51-64).         [ Links ]

Marinus, D.R. 2015. Adolescents' experience and coping strategies with parental substance addiction within a rural farming community: A social work perspective. Pretoria: UNISA (Master of Arts).         [ Links ]

Martin, S.E. & Bryant, K. 2001. Gender differences in the association of alcohol intoxication and illicit drug use amongst persons arrested for violent and property offenses. Journal of Substance Abuse 13:563-581.         [ Links ]

Moody, S.R. 2002. Responding to victims of crime in rural areas. Reparation and victim-focused social work. London & Philadelphia: Jessica Kingsley Publishers.         [ Links ]

Oduru, G.A., Swartz, S. & Arno, M. 2012. Gender-based violence: Young women's experiences in the slums and streets of three sub-Saharan African cities. Theory and Research in Education, 10(3):275-294.         [ Links ]

Prinsloo, J. 2007. An exploration of the efficacy of the Domestic Violence Act: A statistical analysis of domestic violence in the greater Johannesburg area, South Africa. Child Abuse Research in South Africa, 8(1):18-36.         [ Links ]

Republiek van Suid-Afrika (RSA), Staatskoerant. 1998. No. 116 of 1998: Wet op Gesinsgeweld. Staatsdrukkers.         [ Links ]

Rende, S. 2014. The relationship between a mother's attitude toward domestic violence and children's schooling outcomes in Turkey. Journal of Interpersonal Violence, 29(14):2548-2570.         [ Links ]

Riger, S., Bennet, L.W. & Sigurvinsdottir, R. 2014. Barriers to addressing substance abuse in domestic violence court. Society for Community Research and Action, 53(1):208-217.         [ Links ]

Royse, D. 2008. Research Methods in Social Work (5th ed.).Belmont: Thomson Brooks/Cole.         [ Links ]

Sahoo, H. & Raju, S, 2007. Domestic violence in India: Evidences and implications for working women. Social Change, 37(4):131-152.         [ Links ]

Sanderson, C. 2008. Counselling survivors of domestic abuse. London & Philadelphia: Jessica Kingsley Publishers.         [ Links ]

Slabbert, I. 2010. The experience of low-income female survivors of domestic violence. Stellenbosch: University of Stellenbosch (PhD).         [ Links ]

Slabbert, I. & Green, S. 2013. Types of domestic violence experienced by women in abusive relationships. Social Work/ Maatskaplike Werk, 49(2):234-247.         [ Links ]

Stover, C.S., Easton, C.J. & McMahon, T.J. 2013. Parenting of men with co-occurring intimate partner violence and substance abuse. Journal of Interpersonal Violence, 28(11):2290-2314.         [ Links ]

Strydom, H. & Delport, C.S.L. 2011. Sampling and pilot study in qualitative research. In: De Vos, A.S., Strydom, H., Fouché, C.B. & Delport, C.S.L. Research at grassroots: For the Social Sciences and Human Service Professions (4thed.). Pretoria: Van Schaik Publishers.         [ Links ]

Stuart, G.L., McGeary, J.E., Shorey, R.C., Knopik, V.S., Beaucage, K & Temple, J.R., 2014. Genetic associations with intimate partner violence in a sample of hazardous drinking men in batterer intervention programmes. Violence Against Women, 20(4):385-400.         [ Links ]

Sullivan, M. & Hagen, L.A. 2005. Survivors' opinions about mandatory reporting of domestic violence and sexual assault by medical professionals. Affilia Journal of Women and Social Work, 20(3):346-361.         [ Links ]

Vogt, T. 2007. The impact of an Interim Protection Order (Domestic Violence Act 116 of 1998) on the victims of domestic violence. Stellenbosch: University of Stellenbosch. (Unpublished PhD Dissertation).         [ Links ]

Walker, D.D, Neighbors, C., Mbilinyi, L.F., O'Rourke, A., Zegree, J., Roffman R.A. & Edleson, J.L. 2010. Evaluating the impact of intimate partner violence on the perpetrator: The perceived consequences of a domestic violence questionnaire. Journal of Interpersonal Violence, 25(9):1684-1698.         [ Links ]

 

 

 

Ilze Slabbert is verbonde aan die Departement Maatskaplike Werk van die Universiteit van Stellenbosch. Sy is 'n lektor in alkohol- en dwelmmisbruik, gevallewerk en gesondheidsorg. Sy tree ook op as studieleier van nagraadse studente. Sy was voorheen as senior maatskaplike werker in diens. Dr Slabbert se belangstelling het gelei tot navorsing in intieme geweld, alkohol- en dwelmmisbruik en ook die welstand van studente. Artikels in hierdie verband het reeds in vaktydskrifte verskyn, en sy het verskeie aanbiedings by vakkonferensies gedoen.
Ilze Slabbert is a lecturer in the Department of Social Work at the University of Stellenbosch, where she teaches on substance abuse, case work and health care. She also supervises post-graduate research. She was previously employed as a senior social worker. Dr Slabbert's special interests have culminated in research regarding domestic violence, substance abuse and the well-being of students. Articles on these topics have been published in scholarly journals. She has also presented several papers at professional conferences.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons