SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.55 número4The media's "image" of society: A semiotic perspectiveThe problem of representationalism and the possibilities of rhetoric(s) of the body for consideration of a healthy community índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.55 no.4 Pretoria dic. 2015

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2015/v55n4a6 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS

 

Biblioteke en vrede: 'n kritiese besinning oor die rol van biblioteke in vredestigting

 

Libraries and peace: A critical reflection on the role of libraries in promoting peace

 

 

Peter LorI; Johannes BritzII

IDepartement Inligtingkunde, Universiteit van Pretoria. E-pos: peter.lor@up.ac.za
IIUniversiteit van Wisconsin, Milwaukee en Universiteit van Zululand, KwaDlangezwa. E-pos: britz@uwm.edu

 

 


OPSOMMING

Daar word dikwels aangeneem, byvoorbeeld in uitsprake van UNESCO, dat biblioteke deur die voorsiening van inligting bydra tot begrip, verdraagsaamheid en vrede. Ons bevraagteken hierdie aannames. Op grond van 'n besinning oor die begrip "vrede", handhaaf ons vir die doeleindes van die analise die konsep van positiewe vrede en sien ons dit as dinamies (prosesse) eerder as staties ('n toestand). Dit hou in dat strukturele en kontekstuele faktore in ag geneem moet word, dus ook onder andere maatskaplike geregtigheid en versoening. Vervolgens ontleed ons die aannames dat biblioteke tot opvoeding bydra en inligting verskaf, dat inligting kennis en begrip bevorder, en dat begrip vir ander tot vrede lei. Ons bevind dat die idee dat inligting tot vrede lei 'n erge oorvereenvoudiging is. Demokrasie, vrede en vryheid is inderdaad afhanklik van die vrye vloei van inligting, maar die verband tussen inligting en vrede bestaan uit 'n hele reeks oorsaak-en-gevolg verhoudings. Implikasies vir biblioteke se versamelings en dienste word kortliks ondersoek, en klem word daarop geplaas dat die biblioteek behoort uit te beweeg na die gemeenskap om sowel direk as indirek tot vrede by te dra. Ons verwys in die besonder na openbare biblioteke. 'n Meer aktiewe rol in vredestigting het belangrike implikasies vir die professionele etos van die bibliotekaris. Indien die tradisionele "neutraliteit" van die bibliotekaris plek moet maak vir groter maatskaplike betrokkenheid sal bibliotekarisse deur bewusmaking en opleiding daarvoor toegerus moet word.

Trefwoorde: Versoening, verdraagsaamheid, meelewing, demokrasie, biblioteke, openbare biblioteke, inligting, biblioteekversamelings, inligtingsdienste, gemeenskapsbetrokkenheid, aktivisme, professionele etiek, neutraliteit, opleiding


ABSTRACT

From the mid-19th century national and international library associations and professional librarianship developed in close association with polity and liberal internationalism and peace movements, and later with the League of Nations and UNESCO. The emphasis in polity internationalism was not on questioning the system of nation states, but on creating mechanisms for maintaining peaceful relations among them. This corresponds to the motivations of civic leaders who founded the first free public libraries. They sought to stabilize existing relations among social groups and to prevent revolution.
Key pronouncements by UNESCO state that libraries can or should contribute to peace. It is thought that the provision of information will lead to increased knowledge, hence to greater understanding and tolerance of other groups, and that this will promote peace. We critically examine these assumptions, starting with a reflection on what is implied by the concept of "peace". Peace embodies juridical, ethical and legal dimensions. For the purposes of our analysis, we conceptualize peace as positive (not merely the absence of conflict) and as processes rather than as a state. This implies that peace cannot be promoted merely by attempts to maintain existing social relations, whether by the suppression of alternative views, the signing of agreements, negotiation of constitutions, or the creation of democratic institutions. The latter are a necessary but not sufficient condition for peace. Social justice and reconciliation are conditions for lasting peace and reconciliation. Reconciliation must include restoring the humanity of parties to violent conflict.
In light of this reflection, we analyse the following assumptions: (1) libraries contribute to education; (2) libraries provide information; (3) libraries disseminate information; (4) information promotes knowledge; (5) knowledge leads to understanding; (6) understanding of others leads to peace. We conclude that it is simplistic to see a straightforward link between information and peace. While the free flow of information is vital to democracy, peace and freedom, the relationship between information and peace involves a series of complex causal relations.
We consider implications of our analysis for the role of libraries, with particular reference to public libraries. In respect of collections efforts should be made to acquire materials that will support peace processes. In respect of services, librarians need to go beyond simply making materials available. Traditional promotional activities also do not suffice. Libraries need to reach out to communities with programmes that promote a peace agenda and a climate of consultation. At a practical level they can reduce the circulation of rumours by providing mechanisms for dissemination of factual information about community governance and political issues. Libraries can contribute to peace more indirectly but lastingly by capacity building: supporting educational institutions, empowering community members through literacy and skills development, and by inculcating information literacy for more effective participation of community members in the political process.
Traditionally librarians have sought to maintain the library's "neutrality" in respect of social and political issues. Arguably, however, maintaining neutrality under conditions of injustice amounts to siding with the oppressor. A more activist role for librarians in working for peace in their communities has implications for their professional ethos. It calls the neutrality principle into question and also holds some risks for the place of the library in the community and the position of the librarian. The organized library profession and library education institutions have a responsibility for raising awareness of social problems among librarians. To be able to engage effectively with their communities in the interests of promoting peace, they need to have a good understanding of social conditions, the dynamics of community politics, and public administration, as well as an understanding of the conditions for peace and the processes of promoting peace.

Keywords: Peace, positive peace, social justice, reconciliation, tolerance, empathy democracy, libraries, public libraries, information, library collections, information services, community engagement, activism, professional ethics, neutrality, training


 

 

1. INLEIDING

Daar word algemeen aanvaar dat biblioteke goeie en nuttige instellings is wat 'n bydrae tot die ontwikkeling, gesondheid en welvaart van die samelewing lewer. Deur die beskikbaarstelling van inligtingsbronne, so word daar geredeneer, dra biblioteke onder andere by tot opvoeding, navorsing, innovasie, ekonomiese groei, beleidsvorming en doeltreffende administrasie. Die beskikbaarstelling van inligting sou dan ook bydra tot maatskaplike samehorigheid ("social cohesion") deurdat dit verskillende groepe binne gemeenskappe kan help om 'n beter begrip van mekaar se omstandighede en denkwyse te ontwikkel. Sodanige begrip sou dan lei tot groter verdraagsaamheid en dus tot maatskaplike vrede. Dié siening is nie tot die vlak van die gemeenskap of van 'n bepaalde nasie beperk nie. In die internasionale literatuur vind ons ook talle verwysings na die rol (of potensiële rol) van biblioteke in die bevordering van wêreldvrede. Is hierdie idealistiese uitsprake egter gegrond? In hierdie bydrae ondersoek ons die aanname dat biblioteke tot vrede bydra en ontleed ons die voorveronderstellings waarop dit berus, met besondere verwysing na Afrika en veral Suid-Afrika. Ons kyk in die besonder na die konsep vrede en wat dit impliseer. Ons stel dan verder die vraag: indien biblioteke wel tot vrede kan bydra, watter rol behoort hulle - veral openbare biblioteke - te speel en wat behoort bibliotekarisse se rol in hierdie verband te wees?

 

2. BIBLIOTEKARISSE EN DIE BEVORDERING VAN VREDE

Dit is opmerklik dat die ontwikkeling van internasionale inisiatiewe en werksaamhede op die gebied van die biblioteekwese en inligtingswese sedert die 19de eeu in samehang met die opkoms van die internasionalisme en internasionale vredesbewegings plaasgevind het. In die tweede helfte van die 19de eeu het toenemende internasionale mededinging tussen die groot Europese moondhede aanleiding gegee tot die ontwikkeling van verskeie vorms van internasionalisme, onder andere staatsinternasionalisme ("polity internationalism"), wat daarop gerig was om die vrede tussen nasiestate deur die skepping van formele strukture te bewaar (Kuehl 1986:4-5; Herman 1969:6-8). Hieraan verwant is liberale internasionalisme ("liberal internationalism") wat, vanuit 'n bourgeois-agtergrond, die klem op optimistiese, positiwistiese en praktiese middele vir die bevordering van wêreldvrede geplaas het (Kuehl 1986:5). Dit is geen toeval nie dat die goue eeu van die groot internasionale (of universele) tentoonstellings teen die middel van die 19de eeu aangebreek het (Rayward 2014). Dit was tydens hierdie grootse gebeurtenisse dat die eerste internasionale samekomste van bibliotekarisse en inligtingswerkers plaasgevind het, wat aanleiding gegee het tot die stigting van die eerste nasionale biblioteekverenigings in die VSA (1876) en Brittanje (1877) (Gambee 1968). Naas die aanbieding van "universele tentoonstellings" was dit ook 'n tydperk waarin pogings aangewend is om universele katalogi van wetenskaplike literatuur saam te stel. Die doel van hierdie ambisieuse projekte was om die internasionale uitruil van inligting te bevorder. Die onderliggende veronderstelling was dat die moderne wetenskap maatskaplike probleme sou oorkom, en dat potensiële internasionale konflikte met behulp daarvan voorkom sou kon word. Die ontwikkeling van die moderne biblioteekwese en inligtingsbedryf was nou verweef met 19de-eeuse internasionalisme en vredesbewegings (Rayward 2012; Rayward 2014; Ranfa 2013).

Nog 'n belangrike ontwikkeling in die biblioteekwese sedert die middel van die 19de eeu was die koms van die vrye openbare biblioteek. Dit is voorafgegaan deur verskeie vroeëre vorms van openbare lektuurvoorsiening, soos die mechanics' institutes wat hulle vir die opheffing van die arbeidersklas en die opleiding van geskoolde ambagslui beywer het. Daar was ook verskeie soorte sosiale biblioteke wat teen betaling lektuur aan 'n beslote intekenaarskring voorsien het (Rubin 2004:274-277; Sturges 2003:96-98). Die egte vrye openbare biblioteek, wat deur openbare owerhede met belastinggeld befonds is en vryelik vir alle inwoners toeganklik was, was egter 'n verskynsel van die tweede helfte van die 19de eeu. In Brittanje het die Public Libraries Act, wat in 1850 aanvaar is, stede gemagtig om belastinginkomste aan te wend om openbare biblioteke te befonds. In die vyftigerjare van die 19de eeu het stede soos Manchester, Liverpool, Sheffield en Birmingham van dié vergunning gebruik gemaak om openbare biblioteke te stig (Sturges 2003:99-100). In die Verenigde State was die eerste groot stedelike vrye openbare biblioteek dié van die stad Boston, wat in 1854 gestig is. Biblioteekhistorici het hierdie ontwikkeling aanvanklik toegeskryf aan verskeie idealistiese en filantropiese motiewe, soos die opheffing van die laer klasse en die bevordering van demokrasie. Die revisionistiese historikus Michael Harris (1975) het hierdie siening egter as 'n mite beskryf. Volgens hom was die stigting van die Openbare Biblioteek in Boston deel van die strategie van die stad se welgestelde patrisiaat om die plaaslike maatskaplike orde in stand te hou. Harris haal talle uitsprake van vooraanstaande biblioteekstigters en -leiers aan waarin hierdie beweegrede verwoord word. Een voorbeeld is die volgende opmerking deur die bekende filantroop Andrew Carnegie, wat die stigting van duisende openbare biblioteke deur skenkings moontlik gemaak het: "[T]he result of knowledge [gleaned from libraries] is to make men not violent revolutionists, but cautious evolutionists; not destroyers, but careful improvers" (Harris 1975:15).

Hieruit kan ons aflei dat sowel die 19de-eeuse staatsinternasionaliste ("polity internationalists") as hulle tydgenote in Brittanje en die VSA, wat hulle vir die stigting van vrye openbare biblioteke beywer het, biblioteke en die vloei van inligting beskou het as 'n middel om die status quo te handhaaf: vrede deur die verstewiging van die internasionale en maatskaplike orde.

Na die beëindiging van die Eerste Wereldoorlog is internasionale biblioteekwerk steeds nouer verbind met die strewe na wereldvrede. Die Internasionale Federasie van Biblioteekverenigings (International Federation of Library Associations and Institutions (IFLA))1 wat in 1927 gestig is, was nou verbonde met die Volkerebond se Internasionale Komitee vir Intellektuele Samewerking (International Committee on Intellectual Cooperation). Direk na die Tweede Wereldoorlog het IFLA noue aansluiting gevind by die nuut gestigte United Nations Educational, Scientific and Cultural Organization (UNESCO) (Lor 2012). UNESCO het sy bestaansreg uitdruklik gekoppel aan die bevordering van vrede, soos verwoord in die aanhef van sy grondwet: "...since wars begin in the minds of men, it is in the minds of men that the defences of peace must be constructed" (UNESCO 1945). UNESCO het biblioteke beskou as 'n middel om vrede te bevorder, soos uitdruklik deur die UNESCO public library manifesto (UNESCO 1949) gestel is:

[Unesco's] aim is to promote peace and social and spiritual welfare by working through the minds of men. The creative power of Unesco2 is the force of knowledge and international understanding.

This manifesto, by describing the potentialities of the public library, proclaims Unesco's belief in the public library as a living force for popular education and for the growth of international understanding, and thereby for the promotion of peace.

Die mees onlangse weergawe van die Manifesto, wat in 1994 onder die titel IFLA/UNESCO Public Library Manifesto 19943 uitgegee is, plaas steeds die bevordering van vrede voorop:

This Manifesto proclaims UNESCO's belief in the public library as a living force for education, culture and information, and as an essential agent for the fostering of peace and spiritual welfare through the minds of men and women.

Sedert die eerste uitgawe daarvan in 1949 is die Manifesto talle male aangehaal en het dit ongetwyfeld gedien as 'n bron van inspirasie vir diegene wat biblioteekontwikkeling wou bevorder. Hier wil ons egter die koppeling van biblioteke aan vrede van nader bekyk.

 

AANNAMES

In die internasionale literatuur, soos in bostaande aanhalings uit die Manifesto's, vind ons tipies 'n aaneenskakeling van aannames, soos byvoorbeeld:

Biblioteke Inligting oor ander groepe of gemeenskappe Opvoeding Kennis Begrip Verdraagsaamheid Vrede

Bibliotekarisse plaas veral klem op inligting. Dit word geïllustreer deur die uitspraak deur Campbell, wat in 'n opstel oor Librarianship for enduring peace and social progress, die volgende rasionaal aanbied:

It is only through the provision of full and accurate information that we can hope to counter actions and beliefs based on lack of knowledge and lack of awareness to[sic] what has already been attempted in humankind's recorded history (Campbell 1989: 80).

Dit is opvallend dat onlangse literatuur oor die rol van biblioteke in vredestigting veral afkomstig is uit ontwikkelende lande wat erge onrus en burgeroorloë meegemaak het, byvoorbeeld Nigerië (Echezona 2007; Ifidon & Ahiauzu 2005; Tunde 2006), Sierra Leone (Kargbo 2002a), Pakistan (Bhatti 2010) en Sri Lanka (Maheswaran 2008). In hierdie literatuur vind ons nog ietwat naïewe veronderstellings, byvoorbeeld die hoopvolle uitspraak van Tunde (2006:10) dat blywende eenheid en vrede in Nigerië bewerkstellig kan word deur goedontwerpte inligtingsdienste. Toenemend is daar egter ook meer genuanseerde insigte, byvoorbeeld dié van Kargbo (2002a:2), wat uitwys dat 'n staat van vrede slegs haalbaar is indien dit ingebed is in demokratiese norme, geregtigheid en universele ekonomiese en maatskaplike welstand.4 Ons kyk later weer hierna.

Opsommend en vereenvoudigend word die pad - of paaie - vanaf biblioteke na vrede, soos tot dusver geargumenteer, in Figuur 1 diagrammaties uitgebeeld.

 

 

Elke pyltjie in Figuur 1 verteenwoordig 'n veronderstelling oor die bydrae van biblioteke tot die handhawing van vrede. Hulle kan dus gesien word as hipoteses betreffende oorsaaklike verbande. Elke pyltjie beeld 'n hipotetiese oorsaak (onder) en die hipotetiese gevolg (bo) uit. 'n Kritiese beskouing van hierdie hipotetiese verbande is noodsaaklik, en veral die "kortpad" wat hier aangedui word, moet bevraagteken word. Voordat ons daartoe oorgaan, is dit egter wenslik om te besin oor wat ons met die begrip vrede bedoel.

 

VREDE

Die begrip vrede kan op verskillende maniere verstaan word. Die Latynse pax dui op 'n juridiese konsep van vrede, waar konflik deur 'n legitieme owerheid soos die staat besleg, vermy of onderdruk word. Volgens hierdie konsep, waarna reeds hierbo verwys is, word verhoudings tussen nasiestate deur verdrae, internasionale oiganisasies, instrumente of magsewewigte gereël (Chatfield 1986:11). Die Griekse woord ειρηνη (eirēnē) dui op vrede wat op regverdige en etiese maatskaplike verhoudinge berus. Die Hebreeuse woord IMAGEMAQUI (shalom) dui eerder op geestelike vrede, wat Chatfield (1986:11) as "a sense of well-being that flows from spiritual wholeness" beskryf.

Daar word verder onderskei tussen "negatiewe vrede", wat op die afwesigheid van direkte fisieke geweld neerkom, en "positiewe vrede", wat berus op maatskaplike verhoudinge wat deur 'n redelike mate van gelykheid van geleenthede, geregtigheid, en selfs harmonie gekenmerk word (Kriesberg 2000:2044). 'n Verdere onderskeid is dat vrede óf as 'n staat of toestand, óf as 'n proses, of eerder veelvuldige prosesse, beskou kan word. Hier kan drie kategorieë prosesse onderskei word, naamlik prosesse wat verband hou met (1) die behoud van vrede (dus die voorkoming van gewelddadige konflikte ("building peace")), (2) die maak van vrede (die deëskalasie en beëindiging van konflik ("making peace")), en (3) die herstel van vrede (prosesse wat ná die beëindiging van konflik die vrede help bewaar en wat billike en duursame verhoudings tussen die voorheen strydende partye bevorder, ("restoring and keeping peace"))(Kriesberg 2000:2044-2048). In hierdie artikel verwys ons kortliks na die drie prosesse gesamentlik as "vredestigting".

Ons uitgangspunt is dat ons die konsep van positiewe vrede handhaaf en dat vrede as dinamies (as prosesse), en nie soseer as staties (as 'n toestand) nie, gesien moet word. Dit sluit in dat strukturele en kontekstuele faktore in ag geneem moet word. Ons stel dit verder dat vrede onverdeelbaar is en nie in die "waterdigte kompartemente" van politieke jurisdiksies gehandhaaf kan word nie.

Op die internasionale vlak (interstaat-verhoudings) moet ons in 'n tyd van globalisering daarmee rekening hou dat die nasiestaat nie in isolasie kan funksioneer nie. Transnasionale verskynsels soos epidemies, terrorisme, smokkelhandel, misdadige bendes, multinasionale ondernemings, die vloei van kapitaal, migrasie, milieuprobleme en dies meer kan nie meer deur die nasionale state op eie houtjie hanteer word nie (United Nations 2004). Etniese en ander konflikte kring oor landsgrense uit. Soos die huidige probleme in Irak bewys, bring 'n militêre oorwinning waarin een van die strydende partye verslaan word nie noodwendig vrede nie. Vrede kan ook nie langdurig deur 'n wêreldmag soos die VSA afgedwing word nie. Sedert die verbrokkeling van die Sowjetunie is die VSA die enigste wêreldmag, maar sy alleenheerskappy en sy vermoë om wêreldwyd vrede af te dwing, die sg Pax Americana, het grense.

Waar dit gaan om verhoudings tussen groepe binne die staat, dws vrede op nasionale vlak, moet vrede nie met die behoud van bestaande verhoudinge tussen groepe of met staatsveiligheid verwar word nie. Waar sulke verhoudinge onregverdig, ongelyk en repressief is, sal die onderdrukking van afwykende gesigspunte nie noodwendig blywende vrede verseker nie. Ook demokratiese instellings sal nie noodwendig vrede verseker nie. Dit geld ook op plaaslike vlak. Die talle, dikwels gewelddadige betogings teen swak dienslewering ("service-delivery protests") in Suid-Afrikaanse dorpe en stede, waarin ook biblioteke in die slag gebly het (Lor 2013), bied oorvloedige bewyse hiervan. Dit is geensins ongewoon dat huise van demokraties verkose raadslede tydens sulke betogings afgebrand word nie. Die betogings gaan nie noodwendig uitsluitlik oor swak munisipale dienste en korrupsie nie - daar word ook betoog teen omstandighede waaroor munisipaliteite geen beheer het nie (Alexander 2010:26). 'n Indringende kwalitatiewe studie van sewe gevalle wat in 2008 voorgekom het, het getoon dat binnegevegte binne die heersende party nie ongewoon is nie (Von Holdt et al. 2011:8-16). 'n Verklaring van die gereelde gewelddadige protesaksies kan moontlik gevind word in die totstandkoming van 'n nuwe klassestruktuur in die betrokke gemeenskappe. Die opkoms van nuwe elitegroepe wat mag het en beheer oor hulpbronne uitoefen, staan in skerp teenstelling met 'n sukkelende subklas ("precarious underclass") (Von Holdt et al. 2011:18) wat uit armes en werkloses bestaan.

Daar is dus noodsaaklike maar komplekse verwantskappe tussen vrede, veiligheid, geregtigheid, vryheid en demokrasie. Die interrelasie tussen vrede en geregtigheid is nie nuut nie, maar vorm deel van lang tradisies van die sosiale leerstelling van beide die Protestantse en Katolieke kerke. Dit het ook weerklank gevind in internasionale ooreenkomste en verdrae en is verder geartikuleer in wetsontwerpe en konstitusies (De Waal et al. 2000). Dit vind hoofsaaklik uitdrukking in die gedagte dat daar nie werklik vrede kan wees in 'n samelewing wat nie in geregtigheid begrond is nie. Hierna word verwys as "just peace" (Rawls 1999; Bar-Siman-Tov 2004). Hiervolgens het die samelewing - en meer spesifieke die staat - dan die morele verantwoordelikheid om deur middel van 'n demokratiese proses strukture, waaronder biblioteke, wat 'n vrye en veilige samelewing kan waarborg, daar te stel.

Die verhouding tussen vrede en geregtigheid is egter meer kompleks tydens aktiewe konflik en oorlog. Johan Heyns (1989) lê in sy etiese ontleding van vrede sterk klem op die feit dat die afwesigheid van oorlog nie die aktiewe teenwoordigheid van vrede beteken nie, maar maan egter dat die afwesigheid van vrede nie 'n uitnodiging tot oorlog kan wees nie (1989:238). Vrae soos die volgende kan gestel word: Moet geregtigheid eers geskied voordat daar enige vorm van vrede kan wees? en Kan die afwesigheid van geregtigheid morele regverdiging bied vir die gebruik van geweld om juis geregtigheid daar te stel? Heyns (1989) se stelling impliseer dat geregtigheid (veral straffende geregtigheid) nie in alle gevalle 'n voorwaarde vir die sluiting van vrede kan wees nie. Suid-Afrika se geskiedenis tydens die oorgang na 'n demokrasie (veral die tydperk 1987-1994) geld hier as 'n voorbeeld. Indien die ANC byvoorbeeld eerstens sou aangedring het op straffende geregtigheid voordat daar enige sprake van samesprekings en versoening kon wees, sou die intensiteit van geweld in Suid-Afrika waarskynlik net toegeneem het. Die keuse van versoening bo straffende geregtigheid kan wel tot die skep van strukturele vrede lei.

Transformerende geregtigheid vereis verder dat vrede nie bloot die afwesigheid van gewelddadige konflik kan wees nie, en dat dit nie blywend gevestig kan word deur slegs ooreenkomste, grondwette of verdrae nie. Versoening moet bewerkstellig word tussen die partye wat betrokke was by die konflik wat beëindig is. Transformerende geregtigheid beklemtoon die noodsaaklikheid daarvan dat die waarheid oor menseregtevergrype aan die lig moet kom en dat die skuldiges gestraf moet word om te verseker dat 'n stewige grondslag vir 'n demokratiese bestel en die handhawing van regsoewereiniteit ("rule of law") gelê word (Graybill & Lanegran 2004:3). Daar is 'n enorme hoeveelheid literatuur oor versoening waarin die proses wat die Waarheidskommissie (Truth and Reconciliation Commission) in Suid-Afrika gevolg het allerweë beskou word as 'n belangrike voorbeeld vir ander om na te volg. Dis egter ook 'n proses waarteen waarnemers aan beide kante sterk kritiek uitspreek. Versoening en die gepaardgaande toepassing van geregtigheid is 'n baie komplekse aangeleentheid. Die woord versoening het baie betekenisse (Borer 2004:23-26). Daarbenewens is die koppeling van waarheid, versoening en geregtigheid besonder problematies. Waarheid is nie noodwendig bevorderlik vir versoening nie, en tussen geregtigheid en versoening is daar in baie gevalle spanninge (Graybill & Lanegran 2004:4-5). Die soeke na vrede in konflikgeteisterde samelewings veronderstel die erkenning van skuld vir die geweld wat aan alle kante gepleeg is, bereidwilligheid om die skuldiges te vergewe, en 'n begeerte by al die betrokkenes om vreedsame middele te benut om hul aspirasies te verwesenlik. Skulderkenning deur indiwidue en verteenwoordigers van organisasies kan inderdaad bydra tot begrip van die oorsake van konflik en van die motiewe van die strydende partye. In tye van gewelddadige konflik word die andersheid van die teenparty beklemtoon, en sy menslikheid ("humanity") verminder en ontken. Die waarde van so 'n versoeningsproses wat op transformerende geregtigheid berus en waartydens die betrokkenes van hul verdriet en berou getuig kan, indien dit suksesvol oorgedra word, help om die menslikheid van die partye te herstel. Dit kan egter nie op sigself blywende vrede verseker nie. Tans word daar toenemend geredeneer dat bloot formele skulderkenning nie noodwendig vrede kan verseker nie, en word daar gewys op die voortdurende ongelykheid tussen groepe in ons land, wat tot afguns en frustrasie lei. Dit is om dié rede dat Rawls (1999) beklemtoon dat maatskaplike geregtigheid 'n voorwaarde vir blywende vrede en versoening is. Dit beteken dat 'n regverdige verdeling van hulpbronne binne afsienbare tyd bewerkstellig moet word, met gelyke geleenthede vir al die partye in die konflik wat besleg is. 'n Demokratiese bestel is 'n voorwaarde daarvoor, maar kan dit nie waarborg nie.

Hierbo verwys ons na die besondere en uiterste toestande wat geld ten opsigte van prosesse rondom die maak van vrede en die herstel van vrede na die beëindiging van gewelddadige konflik, maar ook die behoud van vrede vereis dat maatskaplike geregtigheid daadwerklik en sigbaar nagestreef moet word, tesame met die handhawing van demokratiese norme en waardes en die bevordering van die maatskaplike en ekonomiese welvaart waarna Kargbo (2002a) verwys, en die kweek van begrip en meelewing (empatie) jeens ander groepe. Dit hou belangrike implikasies in vir die taak van die bibliotekaris.

 

KRITIESE BESKOUING VAN DIE AANNAMES

Teen hierdie agtergrond kan ons sommige van die aannames wat in Figuur 1 uitgebeeld is, krities beskou.Weens die fokus van hierdie artikel word die toepassingsvoorbeelde hoofsaaklik beperk tot die Suid-Afrikaanse konteks.

Biblioteke dra by tot opvoeding

Opvoeding is relevant, want dit dra by tot gelyke geleenthede en ontwikkeling. Agtergeblewe groepe en minderhede met 'n lae gemiddelde onderwyspeil kan nie op gelyke vlak met ander groepe meeding nie en kan makliker uitgebuit en ook uitgesluit word, wat tot frustrasie en konflik kan lei. Daar is baie soorte biblioteke wat almal in 'n mindere of meerdere mate tot opvoeding bydra. In die geval van akademiese en skoolbiblioteke is dit vanselfsprekend dat hulle tot opvoeding bydra. By openbare biblioteke is dit nie so vanselfsprekend nie. UNESCO het veral belanggestel in die potensiële rol van openbare biblioteke in die bevordering van geletterdheid, volwasse opvoeding en voortgesette selfstandige leer deur individue buite formele strukture, hetsy as nie-formele of informele opvoeding. Openbare biblioteke bied wel geleenthede hiervoor, maar juis in baie van die ontwikkelende lande waar sodanige opvoeding die grootste uitwerking sou kon hê, is die openbare biblioteekwese onderontwikkel en is daar tekorte aan hulpbronne en professionele personeel (Kargbo 2002b:101-102). Die rekord van bibliotekarisse in geletterdheidsonderrig in Afrika is swak (Olden 1995:131-132). In Zaaiman, Roux en Rykheer (1988:24) se belangrike verslag oor die benutting van biblioteke vir die ontwikkeling van Suid-Afrika was die bevinding dat "libraries seemed to be at a loss how to act in regard to the spreading of literacy". Hierdie situasie het sedert die negentigerjare ietwat verbeter (Witbooi 2007:67-69). Meer aandag word aan volwasse opvoeding bestee, maar slegs deur 'n minderheid Suid-Afrikaanse biblioteke (De Jager et al. 2007:10). Bibliotekarisse is geneig om te veel as funksionarisse op te tree en plaas dan meer klem op die behoud van versamelings en op tegniese prosedures as op uitbeweeg na hulle gemeenskappe (Olden 1995:129-132).

Biblioteke verskaf inligting

Hier ontstaan twee vrae: eerstens oor die aard van die inligting wat verskaf word, en tweedens oor wat verskafbehels. Bibliotekarisse verskaf tradisioneel inligting deur middel van hulle versamelings. Carter (1948:4) stel voor dat openbare biblioteke wêreldvrede kan bevorder deur die beskikbaarstelling van "the means by which people can be well-informed and can reach rational, dispassionate opinions on current affairs". Dit beliggaam 'n ietwat ouderwetse vertroue in rasionele besluitneming en weerspieël die tradisie dat bibliotekarisse neutraal moet wees en nie bepaalde standpunte moet verkondig of verdedig nie (vgl. Omotayo 2006:329). Biblioteekgebruikers moet op grond van die bronne wat die biblioteek beskikbaar stel hulle eie menings kan vorm. In hoe 'n mate kan biblioteekversamelings egter alle standpunte verteenwoordig? Die versamelings wat biblioteke opbou, word bepaal deur verskeie faktore, onder andere die bedrae wat vir aankope beskikbaar is, skenkings, die behoeftes van huidige of potensiële biblioteekgebruikers soos deur hulself uitgespreek of deur bibliotekarisse afgelei, die gemeenskap se idees oor wat welvoeglik is en beperkinge wat die staat op die verspreiding van inligting plaas. Biblioteke versamel hoofsaaklik boeke en media wat deur formele, meesal kommersiële kanale, versprei word. Veral laasgenoemde plaas noodwendig beperkinge op watter standpunte daarin verteenwoordig word.

Biblioteke verskaf inligting

Wat word met verskaf bedoel? Biblioteke neem inligtingsmateriaal in hul voorraad op, ontsluit dit deur middel van katalogi en databasisse, en plaas dit op rakke, in kabinette, of deesdae op webbladsye. Op sigself is dit egter nie genoeg nie. Selfs in hoogs ontwikkelde lande is biblioteekgebruikers 'n minderheid; nog minder gebruikers is in staat om inligtingsmateriaal doelgerig en kundig op te spoor en te evalueer. Wat in die biblioteek is, bereik nie noodwendig diegene wat daarby sou kon baat nie. Dit is daarom belangrik dat biblioteke as 'n instelling nie net inligting moet kan verskaf nie, maar dit ook behoort, soos dit geartikuleer word in IFLA se etiese gedragskode (IFLA 2012, Artikel 1), uit te dra.

Inligting bevorder/lei tot kennis

Biblioteke kan 'n baie belangrike rol speel om deur middel van hul versamelings mense beter in te lig oor geskiedkundige gebeurtenisse, insluitende die verskillende politieke standpunte en oorwegings wat aanleiding gegee het tot oorlog of die skep van vrede.

Inligtingsbronne dra egter nie net bloot feite oor gebeurtenisse (soos oorloë, massaslagtings, revolusies, staatsgrepe, ens) oor nie. Ook nie bloot feite oor die herkoms, ontwikkeling, kenmerke, prestasies, gewoontes of standpunte van bepaalde nasies, volksgroepe, belangegroepe of leiers nie. Sulke inligting word uit die aard van die saak binne bepaalde verwysingsraamwerke aangebied deur mededelers met bepaalde agtergronde en standpunte. Afgesien van leemtes en onwaarhede wat uit onkunde of gebrek aan insig spruit, is party inligtingsbronne doelbewus propagandisties en misleidend.

Die stryd oor nasionale erfenis en die nasionale geheue ("national memory") is hier ter sake: Wie se geheue is die nasionale geheue? Geskiedenis word deur die oorwinnaars geskryf.5 In heelwat ontwikkelende lande is onafhanklikheid eers verwerf na 'n konflik waaraan meerdere onafhanklikheidsbewegings deelgeneem het. Ná onafhanklikheid behaal een van die bewegings uiteindelik die oorhand, hetsy vreedsaam of deur voortgesette konflik. Dit is dan die regerende party wat besluite neem oor monumente, die inhoud van museums, argiewe en biblioteke, en opvoedkundige leerplanne. Die versoeking is groot om die oorwinning of uitkoms, en alle prestasies wat in die land behaal is, aan slegs een groep toe te skryf en die ander se bydraes te minimaliseer of selfs totaal te elimineer met die gevolg dat bepaalde groepe in die nasionale bewussyn gemarginaliseer word. Boamah se proefskrif (2014:171-173) bied 'n meer positiewe siening oor die bestuur van Ghana se digitale erfenis. Hy is van mening dat die digitalisering van die kulturele erfenis van verskillende stamme nasionale eenheid en versoening sal bevorder. Die stamme sal in staat gestel word om mekaar se kulture te waardeer en die gedigitaliseerde dokumente sal in die vreedsame oplossing van geskille benut kan word. Ons reken dat dié siening ietwat naïef is.

Kennis bevorder begrip

Wanneer die bevordering van kennis en begrip ter sprake is, moet ons daarmee rekening hou dat beriggewing oor ander groepe dikwels hul sogenaamde "andersheid" beklemtoon. Hier dink ons byvoorbeeld aan wat ons in die sestigerjare op skool geleer het oor die anders kleurige bevolkingsgroepe. Die wyse waarop die leerstof aangebied is, het ten doel gehad om die regeringsbeleid van apartheid en afsonderlike ontwikkeling te regverdig. In sy boek Orientalism het Edward Said (1979) 'n indringende (maar ook omstrede) analise aangebied van die wyse waarop die Arabiere in die wetenskaplike literatuur uitgebeeld word - 'n wyse wat volgens Said daarop gemik is om die Arabiessprekende volkere uit te beeld as eksoties of eienaardig, dus interessant, maar nie as mense wat ernstig opgeneem moes word nie. Die beklemtoning van hierdie andersheid sal nie noodwendig meelewing of selfs begrip verwek nie en sal dus nie 'n wesenlike bydrae tot vrede kan maak nie.

Begrip vir ander lei tot vrede

Daar bestaan 'n redelike mate van konsensus dat begrip - 'n begrip wat die menslikheid van die ander erken en dus meelewendheid moontlik maak - tot groter verdraagsaamheid lei, en dat verdraagsaamheid 'n beter kans vir vrede bied. UNESCO se webwerf stel dit so: "Peace must be established on the basis of humanity's moral and intellectual solidarity".6 Die probleem is dat sodanige begrip en solidariteit beperk mag wees tot 'n minderheid goed opgevoede persone wat nie noodwendig die breë bevolking of hul verkose verteenwoordigers se houdings en optredes kan beïnvloed nie.

Inligting lei tot vrede

Dit behoort teen hierdie tyd duidelik te wees dat die opvatting wat in Figuur 1 as die "kortpad" aangedui is, 'n erge oorvereenvoudiging is. Terwyl demokrasie, vrede en vryheid inderdaad van die vrye vloei van inligting afhanklik is, is baie ander faktore ook ter sake. Die verband tussen inligting en vrede bestaan uit 'n hele reeks oorsaak-en-gevolg-verhoudings wat moeilik is om uit te pluis.

 

WAT BEHOORT BIBLIOTEKE TE DOEN?

Versamelings

In 'n dreigende konfliksituasie bevind die biblioteek hom dikwels in 'n omgewing waar boeke en media oorweldigend een bepaalde standpunt verkondig en die ander kant nie verteenwoordig word nie. Dit is dus 'n morele imperatief dat bibliotekarisse die moeite moet doen om materiaal te bekom wat vir die algemene leserspubliek:

  • die agtergrond en veelvuldige dimensies belig van kwessies of meningsverskille wat tot konflik aanleiding gee;
  • die posisies van al die partye in 'n meningsverskil of konflik eerlik weergee;
  • inligting oor vredesbewegings bied; en
  • die stand van wetenskaplike kennis oor die voorkoming en beslegting van konflik en die bevordering van vrede vir 'n lekegehoor belig.

Vir diegene wat as leiers en besluitnemers, of in 'n professionele hoedanigheid by konflikte betrokke is, behoort daar relevante wetenskaplike literatuur in voorraad te wees oor die oorsprong en agtergrond van die kwessie, asook oor die voorkoming en beslegting van konflik en die bevordering van vrede. Dit geld veral vir akademiese en wetenskaplike biblioteke.

Dienste

Dit is nie voldoende om bloot materiaal beskikbaar te stel nie. Bibliotekarisse het 'n lang tradisie van neutraliteit: "Ons stel inligtingsbronne beskikbaar en laat dit aan die gebruikers oor om dit te ontgin." Dié tradisie moet egter nie tot passiwiteit lei nie.UNESCO se Public library manifesto (UNESCO 1949:2) het die volgende aanbeveel: "[The public library] should not tell people what to think, but it should help them decide what to think about." In IFLA se etiese kode (IFLA 2012: Artikel 5) word streng handhawing van neutraliteit vereis:

Librarians and other information workers are strictly committed to neutrality and an unbiased stance regarding collection, access and service. Neutrality results in the most balanced collection and the most balanced access to information achievable.

Hier word geïmpliseer dat "gebalanseerde toegang" as 't ware vanselfsprekend uit neutrale professionele optrede sal voortvloei. IFLA se Artikel 5 het hoofsaaklik betrekking op die verantwoordelikheid van die bibliotekaris om tussen sy persoonlike oortuigings en sy professionele pligte te onderskei. So 'n tradisionele opvatting vind ons ook in Artikel 14 van die Library and Information Association of South Africa (LIASA) se etiese kode (LIASA 2013). Veral in armer gemeenskappe waar geletterdheids- en opvoedingsvlakke laag is, is so 'n passiewe benadering ontoereikend.

Uitstallings, boekbesprekings en ander tradisionele uitreikaktiwiteite van openbare biblioteke kan inligting oor ander kulture en groepe in die gemeenskap versprei - maar hul "andersheid" mag nie oorbeklemtoon word nie. Biblioteke kan voorlesings, seminare en besprekingsgroepe reël oor internasionale betrekkinge, politieke kwessies, probleme in die gemeenskap, of algemene voorligting of opvoeding oor vrede ("peace education"), byvoorbeeld om saam te val met die jaarlikse Internasionale Vredesdag (International Day of Peace) op 21 September. Alhoewel hierdie soort aktiwiteite onvermydelik 'n minderheid van gemeenskapslede lok, kan die biblioteek as 'n bron van inligting vir 'n denkende minderheid wat leierskap uitoefen bydra tot die skep van 'n vrede-agenda en 'n klimaat van oorlegpleging. Vandag bied webwerwe en sosiale netwerkplatforms ook steeds meer moontlikhede om gehore te bereik wat nie tradisionele biblioteekgebruikers is nie.

Waar geregtigheid as 'n voorvereiste vir vrede beskou word, is die implikasie dat mense gelyke geleenthede moet hê, wat vereis dat hulle ingelig moet wees. Toegang tot inligting is noodsaaklik vir die uitoefening van vryheid, vir bestaansveiligheid en vir die bevrediging van redelike behoeftes vir menslike bestaan. In die VSA is openbare biblioteke aktief betrokke by hulpverlening aan ongeletterde of semi-geletterde persone, byvoorbeeld deur die ontwikkeling van rekenaarvaardighede en hulp met die voltooiing van inkomstebelastingopgawes en aansoekvorms vir maatskaplike dienste en identiteitsdokumente.

Op die vlak van plaaslike gemeenskappe is dit bekend dat konflik dikwels ontstaan vanweë, of vererger word deur 'n gebrek aan inligting oor die besluite of voornemens van plaaslike owerhede. In Nigerië het Ifidon en Ahiauzu (2005) ondersoek ingestel na die verskaffing van inligting aan inwoners van die petroleumryk deltagebied waar konflikte met die oliemaatskappye gereeld tot onrus en geweld lei. Daar is bevind dat ooreenkomste wat tussen die Nigeriese federale regering en die oliemaatskappye aangegaan is nie aan die inwoners bekend gemaak is nie, wat gerugte en onrus tot gevolg gehad het. In Suid-Afrika laat gemeenskapsleiers se kommunikasie met gemeenskapslede dikwels veel te wense oor, en dit gee aanleiding tot gerugte, onsekerheid en onrus (Karamoko 2011:13; Sebugwawo 2011:17; Tapscott 2011:66). Biblioteke kan help om inligting vanaf die plaaslike owerheid na die inwoners te versprei, byvoorbeeld deur die plasing van 'n kennisgewingbord met munisipale inligting, die name en adresse van raadslede, notules van vergaderings en aankondigings.

Biblioteke kan baie doen om die gemeenskap in die algemeen beter in te lig, en dus beter toe te rus om op vreedsame wyse beter omstandighede vir hulself te beding. Hier dink ons aan die rol van biblioteke in die ondersteuning van geletterdheidsprogramme. Omotayo (2006:327-329) plaas besondere klem op die bemagtiging van vroue. Op die langer duur het biblioteke 'n belangrike taak om inligtingsgeletterdheid in al die sektore van hul gemeenskappe te bevorder en inligtinggebruikers se weerbaarheid te verhoog. Hiermee bedoel ons die ontwikkeling van 'n gesonde skeptisisme jeens die internet en alle inligtingsbronne. As iets in 'n boek of op die Web staan, is dit nie noodwendig waar nie. Gebruikers moet leer om "tussen die reëls" te lees en die retoriese middele te herken wat kampvegters gebruik om feite te verdraai en emosies op te sweep.

Die indirekte bydrae wat biblioteke kan maak moet nie onderskat word nie. Die lewens-omstandighede van inwoners kan verbeter word deur byvoorbeeld die opgradering van plaaslike onderwys en deur die skepping van werkgeleenthede. In gemeenskappe waar die skole nie hulle eie biblioteke het nie, voorsien openbare biblioteke reeds in 'n hoë mate in die literatuurbehoeftes van leerders wat inligting vir werkopdragte soek, of wat eenvoudig 'n stil plek soek om huiswerk te doen en te studeer (Hart & Zinn 2007:91). Biblioteke kan ook bydra tot die stimulering van ekonomiese aktiwiteite, byvoorbeeld deur die verskaffing van inligting en internettoegang aan entrepreneurs, veral opkomende en voornemende entrepreneurs. Tunde (2006) beklemtoon die rol van inligtingsvoorsiening in die bemagtiging van landbouers in die landelike gebiede ten einde groter voedselsekerheid ("food security") te bewerkstellig. 'n Hoër vlak van opvoeding en beter lewensomstandighede kan help om onrus te bekamp. Hoewel hierdie aktiwiteite nie direk met vredestigting verband hou nie, dra dit by tot die bekamping van die oorsake van onrus.

Daar is ook ander vorme van dienslewering. As openbare ruimte ("the library as space") wat almal vryelik kan betree en waar niemand onder druk staan om iets te glo, te ondersteun of te koop nie, speel die biblioteek 'n belangrike rol. Biblioteke bied neutrale ontmoetingsruimtes waar groepe van verskillende oortuigings mekaar kan ontmoet om geskille te besleg. Op 'n heel ander vlak, vanuit die traumatiese geskiedenis van Pakistan, stel Bhatti (2010) voor dat biblioterapie (die terapeutiese gebruik van boeke om genesing te bevorder) aangebied moet word.

 

IMPLIKASIES VIR DIE BIBLIOTEKARIS SE PROFESSIONELE ETOS

Ons het reeds vroeër na die tradisionele beklemtoning van die bibliotekaris se neutraliteit verwys. Daar is egter heelwat literatuur, waarvan Samek (2007) verteenwoordigend is, uit die geledere van die "progressiewe biblioteekwese" ("progressive librarianship") wat hierdie neutraliteit kritiseer as ontvlugting van die professie se verantwoordelikheid en beweer dat dit in ongelyke en uitbuitende omstandighede op die aanvaarding van maatskaplike ongeregtigheid neerkom. Die reg van vrye toegang tot inligting word veral in ontwikkelde lande as 'n integrale deel van die bibliotekaris se professionele etiek beskou. Hiervolgens behoort die biblioteekprofessie in die openbaar standpunt in te neem teen die onderdrukking of distorsie van inligting deur sensuur, die selektiewe openbaarmaking van amptelike dokumente en die selektiewe digitalisering van dokumente vir langtermynbewaring, asook teen ongelyke toegang tot inligting.

Terwyl bibliotekarisse hulle reeds lank teen sensuur verset, is openbare stellinginname teen maatskaplike ongeregtigheid 'n ander saak. Hoewel aanvaarding van die status quo ook 'n (implisiete) standpunt is, voel baie bibliotekarisse uiters ongemaklik oor enige uitdruklike standpuntinname, laat staan aktivisme, oor maatskaplike en politieke kwessies. 'n Analise van sowel IFLA as LIASA se etiese kodes suggereer dat 'n beperkte mate van aktivisme toelaatbaar is, maar dat sodanige aktivisme beperk is tot faktore wat die bibliotekaris se taakverrigting direk beïnvloed. Probleme soos maatskaplike ongelykheid kom slegs indirek ter sprake. Daar word nêrens na geweld of vrede verwys nie.

Om jou vir vrede te beywer is nie om neutraal te bly nie. Wanneer 'n dominante groep in 'n gemeenskap besluit om konfrontasioneel op te tree, is die keuse ten gunste van vrede 'n politieke keuse waardeur die vredemakers hulle die vyandskap van die gemeenskap op die hals kan haal. Bibliotekarisse is terdeë daarvan bewus dat slegs 'n minderheid van die bevolkings in die meeste lande biblioteekgebruikers is. Uit vrees dat hulle lede van dié minderheid dalk kan vervreem, wil bibliotekarisse nie graag die biblioteek met enige bepaalde groep of rigting assosieer nie. Aangesien die meeste biblioteke deur sentrale, provinsiale of munisipale owerhede befonds word, hou openbare standpuntinname risiko's in vir biblioteekbegrotings - en bibliotekarisse se salarisse.

Daar rus 'n verantwoordelikheid op die georganiseerde biblioteekprofessie en op opleidingsinstansies om vraagstukke rondom neutraliteit, maatskaplike betrokkenheid en aktivisme aan te spreek, want die relevansie van die biblioteek vir gemeenskappe wat deur onrus en geweld geteister word, is op die spel. Die professionele organisasies en opleidingsinstansies behoort bibliotekarisse bewus te maak van die maatskaplike probleme rondom hulle en om leiding te gee. Bibliotekarisse behoort byvoorbeeld 'n goeie begrip te hê van maatskaplike omstandighede, die dinamiek van gemeenskapspolitiek en openbare administrasie. Voordat ons van hulle kan verwag om aktief tot vredestigting by te dra, behoort hulle voorligting te ontvang oor basiese prosesse in die bevordering van vrede en die voorkoming en beslegting van konflikte. So kan hulle beter toegerus word vir 'n sinvolle rol in heterogene en konflikvatbare gemeenskappe.

 

SLOT

Sommige bibliotekarisse en voorstanders van biblioteke huldig die oortuiging dat biblioteke deur die verskaffing van inligting tot vrede kan bydra. Dié oortuiging berus egter op betwyfelbare aannames wat steun op oppervlakkige opvattings oor vrede en oor die behoud, maak en herstel daarvan. 'n Meer diepgaande beskouing van die prosesse van vredestigting en die voorwaardes vir vrede suggereer dat biblioteke wel 'n bydrae tot vredestigting kan maak, en wel op twee vlakke. Op 'n basiese en tradisionele vlak dink ons aan die uitbreiding van tradisionele biblioteekversamelings en -dienste: die insluiting in biblioteekversamelings van materiaal wat vrede op verskillende wyses bevorder en die aanbieding van aktiwiteite wat op voorligting en opvoeding oor vrede gemik is. 'n Tweede vlak verg egter meer aktivistiese optrede deur bibliotekarisse, wat dan meer betrokke moet raak by die bekamping van maatskaplike probleme en ongeregtigheid in hul gemeenskappe. So 'n rol vereis 'n paradigmaverandering. Die tradisionele neutraliteit van die bibliotekaris sal plek moet maak vir maatskaplike betrokkenheid. Dit sluit in dat bibliotekarisse hulle aan konfliksituasies sal moet blootstel (wat die potensiaal van konflik met hul werkgewers inhou). Dit is noodsaaklik dat bibliotekarisse hiervan bewus gemaak moet word. Aanvanklike, asook voortgesette opleiding is nodig om bibliotekarisse voor te berei op 'n meer sigbare rol, wat ook aan die biblioteek 'n meer prominente rol in die gemeenskap kan besorg, te speel. Dit stel nuwe eise aan die georganiseerde biblioteekprofessie, wat hier leiding sal moet gee.

 

BIBLIOGRAFIE

Alexander, P. 2010. Rebellion of the poor: South Africa's service delivery protests - a preliminary analysis. Review of African political economy, 37(123):25-40.         [ Links ]

Bar-Siman-Tov, Y. 2004. Dialectics between stable peace and reconciliation. In From conflict resolution to reconciliation, ed. Y. Bar-Siman-Tov. Oxford; New York: Oxford University Press, pp.61-80.         [ Links ]

Bhatti, R. 2010. Libraries and education for peace in Pakistan. Library philosophy and practice (e-journal), (Paper 467). http://digitalcommons.unl.edu/libphilprac/467 [Gelees: 28 Februarie 2014].         [ Links ]

Boamah, E. 2014. Towards effective management and preservation of digital cultural heritage resources: an exploration of contextual factors in Ghana. PhD-thesis. Wellington, NZ: Victoria University of Wellington. http://researcharchive.vuw.ac.nz/xmlui/bitstream/handle/10063/3270/thesis.pdf?sequence=2 [Gelees: 25 Oktober 2014].         [ Links ]

Borer, L. 2004. Reconciling South Africa or South Africans? Cautionary notes from the TRC. African studies quarterly, 8(1):19-38.         [ Links ]

Campbell, H.C. 1989. Librarianship for enduring peace and social progress: Professor P N Kaula endowment lecture. Herald of library science:2879-2886.         [ Links ]

Carter, E.J. 1948. UNESCO and public libraries. Referaat gelewer tydens die UNESCO-IFLA Internasionale Somerskool vir Bibliotekarisse, Manchester, 1948. http://unesdoc.unesco.org/images/0014/001474/147430eb.pdf [Gelees: 10 Februarie 2015].         [ Links ]

Chatfield, C. 1986. Concepts of peace in history. Peace & change, 11(2):11-21.         [ Links ]

De Jager, K., Nassimbeni, M. & Underwood, P.G. 2007. Libraries, literacies and learning: retrospects and prospects. In Libraries for the future: progress and development of South African libraries onder redaksie van T.J.D. Bothma, P. G. Underwood & P. Ngulube. Pretoria, Suid-Afrika: Biblioteek- en Inligtingsvereniging van Suid-Afrika (LIASA):133-147.         [ Links ]

De Waal, J., Currie, I. & Erasmus, G. 2000. The Bill of Rights Handbook. 3de uitgawe. Kenwyn: Juta &Kie Bpk.         [ Links ]

Echezona, R.I. 2007. The role of libraries in information dissemination for conflict resolution, peace promotion and reconciliation. African journal of library, archives and information science, 17(2):143-151.         [ Links ]

Gambee, B.L. 1968. Best foot forward: representation of American librarianship at World's Fairs, 1853-1904. In Library History Seminar no. 3 proceedings, 1968, red. M.J.K. Zachert. Tallahassee FL: Journal of library history:137-174.         [ Links ]

Graybill, L. & Lanegran, K. 2004. Truth, justice, and reconciliation in Africa: issues and cases. African studies quarterly, 8(1):1-18.         [ Links ]

Harris, M.H. 1975. The role of the public library in American life a speculative essay. Urbana IL: University of Illinois Graduate School of Library and Information Science. https://www.ideals.illinois.edu/bitstream/handle/2142/3863/gslisoccasionalpv..?sequence=1 [Gelees: 2 April 2015].         [ Links ]

Hart, G. & Zinn, S. 2007. The conundrum of school libraries in South Africa. In Libraries for the future: progress and development of South African libraries, onder redaksie van T.J.D. Bothma, P.G. Underwood, & P. Ngulube. Pretoria, Suid-Afrika: Biblioteek- en Inligtingsvereniging van Suid-Afrika (LIASA):89-106.         [ Links ]

Herman, S.R. 1969. Eleven against war: studies in American internationalist thought. Stanford CA: Hoover Institution Press.         [ Links ]

Heyns, J.A. 1989. Teologiese etiek, deel 2/2. Pretoria: NG Kerk Boekhandel.         [ Links ]

Ifidon, S. & Ahiauzu, B. 2005. Information and conflict prevention in the Niger-Delta Region of Nigeria. African journal of library, archives & information science, 15(2):125-132.         [ Links ]

IFLA. 2012. IFLA code of ethics for librarians and other information workers (full version).http://www.ifla.org/news/ifla-code-of-ethics-for-librarians-and-other-information-workers-full-version [Gelees: 10 Augustus 2015].         [ Links ]

Karamoko, J. 2011. Service delivery protests : less frequent, more violent. Local government bulletin, 13(3):10-13.         [ Links ]

Kargbo, J.A. 2002a. Effects of the civil war and the role of librarians in post-war reconstruction in Sierra Leone. World libraries, 12(2):37-47.         [ Links ]

Kargbo, J.A. 2002b. Narrowing the information divide. International information & library review, 34(1): 97-105.         [ Links ]

Kriesberg, L. 2000. Peace. In Encyclopedia of sociology, onder redaksie van E.F. Borgatta & R.J.V. Montgomery. New York: Macmillan Reference USA: 2044-2051. http://arsmath.org/msl/Library/sociology/common/Borgatta-Socio-T1.pdf [Gelees:20 Maart 2015].         [ Links ]

Kuehl, W.F. 1986. Concepts of internationalism in history. Peace & change, 11(2):1-10.         [ Links ]

LIASA. 2013. LIASA code of ethics and conduct. http://liasa.org.za/sites/default/files/documents/Code%20of%20ethics%20and%20conduct_with_disciplinary_action_2014_0.pdf [Gelees: 14 Augustus 2015].         [ Links ]

Lor, P.J. 2013. Burning libraries for the people: questions and challenges for the library profession in South Africa. Libri, 63(4):359-372.         [ Links ]

Lor, P.J. 2012. The IFLA-UNESCO partnership 1947-2012. IFLA journal, 38(4):269-282.         [ Links ]

Maheswaran, R. 2008. Role of libraries in conflict and peace process in Sri Lanka. Journal of the University Librarians Association of Sri Lanka, 12:107-123.         [ Links ]

Olden, A. 1995. Libraries in Africa: pioneers, policies, problems. Lanham MD: Scarecrow Press.         [ Links ]

Omotayo, B.O. 2006. Women and Conflict in the New Information Age. IFLA journal, 32(4):325-332.         [ Links ]

Ranfa, E. 2013. Paul Otlet: una vita per la documentazione. AIB Studi, 53(1):45-62.         [ Links ]

Rawls, J. 1999. The law of peoples. Cambridge MA: Harvard University Press.         [ Links ]

Rayward, W.B. 2012. The search for universal access to information: from the Office of Publick Addresse to the world-wide web: and beyond? In A belt around the world: A world building on education, lifelong learning and technology: Afestschrift honoring Nasser Sharify, onder redaksie van J. Southard & W.D. Penniman. Nasser Sharify Foundation Publication Series. Bloomington Indiana: iUniverse:190-211.         [ Links ]

Rayward, W.B. 2014. Introduction: international exhibitions, Paul Otlet, Henri La Fontaine and the paradox of the Belle Époque.In Information beyond borders: international and cultural exchange in the Belle Époque. Onder redaksie van W.B. Rayward. Aldershot, Engeland: Ashgate:1-22.         [ Links ]

Rubin, R.E. 2004. Foundations of library and information science. 2de uitgawe. Chicago: Neal-Schuman Publishers.         [ Links ]

Said, E.W. 1979. Orientalism. 1st Vintage Books, New York: Vintage.         [ Links ]

Samek, T. 2007. Librarianship and human rights: a twenty-first century guide. Oxford, Engeland: Chandos.         [ Links ]

Sebugwawo, M. 2011. Service delivery protests in South Africa: lessons for municipalities. The transformer, 17(3):17-18.         [ Links ]

Sturges, R.P. 2003. Great city libraries of Britain: their history from a European perspective. Library history, 19(2):93-111.         [ Links ]

Tapscott, C. 2011. Social mobilisation and its efficacy - a case study of social movements in Langa. Africanus, 41(1):57-69.         [ Links ]

Tunde, O.K. 2006. The libraries of Nigeria and their role in promoting peace, unity, and rural development. Bookmobile & outreach services, 9(2):9-16.         [ Links ]

UNESCO. 1945. Constitution of the United Nations Educational, Scientific, and Cultural Organization, adopted in London on 16 November 1945. ICOMOS. http://www.icomos.org/unesco/unesco_constitution.html [Gelees: 22 Julie 2010].         [ Links ]

UNESCO. 1949. The public library: a living force for popular education. Paris: UNESCO. http://unesdoc.unesco.org/images/0014/001474/147487eb.pdf [Gelees: 6 Februarie 2015].         [ Links ]

United Nations. 2004. A more secure world: our shared responsibility. Report of the High-level Panel on Threats, Challenges and Change. New York: Verenigde Nasies. http://www.un.org/en/peacebuilding/pdf/historical/hlp_more_secure_world.pdf [Gelees:12 Mei 2014].         [ Links ]

Von Holdt, K., Langa, M., Molapo, S., Mogapi, N., Ngubeni, K., Dlamini, J. & Kirsten, A. 2011. The smoke that calls: insurgent citizenship, collective violence and the struggle for a place in the new South Africa. Eight case studies of community protest and xenophobic violence. Johannesburg: Sentrum vir die Studie van Geweld, en die Universiteit van die Witwatersrand se Society, Work and Development Institute, Universiteit van die Witwatersrand. http://www.humansecuritygateway.com/documents/CSVR_InsurgentCitizenshipCollectiveViolenceandStruggleforaPlaceinNewSA.pdf [Gelees: 15 Februarie 2013].         [ Links ]

Witbooi, S.L. 2007. Current developments in public libraries in South Africa. In Libraries for the future: progress and development of South African libraries onder redaksie van T.J.D. Bothma, P.G. Underwood, & P. Ngulube. Pretoria, Suid-Afrika: Biblioteek- en Inligtingsvereniging van Suid-Afrika:61-70.         [ Links ]

Zaaiman, R.B., Roux, P.J.A. & Rykheer, J.H. 1988. The use of libraries for the development of South Africa: final report on an investigation for the South African Institute for Librarianship and Information Science. Pretoria: Sentrum vir Biblioteek- en Inligtingsdiens, Departement Biblioteek- en Inligtingkunde, Universiteit van Suid-Afrika.         [ Links ]

 

 

 

Peter Johan Lor is 'n professor in die Departement Inligtingkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy was Suid-Afrika se eerste Nasionale Bibliotekaris (1999-2003), en het daarna in Den Haag gewerk as die Sekretaris-Generaal van die International Federation of Library Associations and Institutions (IFLA), en in die VSA as 'n besoekende professor aan die Universiteit van Wisconsin-Milwaukee. Hy is steeds aktief betrokke by IFLA en stel veral belang in die internasionale biblioteekwese en die internasionale politieke ekonomie van inligting.
Peter Johan Lor is professor in the Department of Information Science at the University of Pretoria. Hy was South-Africa's first National Librarian (1999-2003); subsequently he was employed in The Hague as the Secretary-General of the International Federation of Library Associations and Institutions (IFLA), while in the USA he was visiting professor at the University of Wisconsin-Milwaukee. He is still actively involved with IFLA and he is interested especially in the international discipline of library science and the international political economy of information.

 

 

 

Johannes Britz is sedert 2010 die Vise-Kanselier (Provost) vir Akademiese Sake by die Universiteit van Wisconsin-Milwaukee, Wisconsin VSA. Voorheen was hy Dekaan van die Skool vir Inligtingstudies asook interim Dekaan van die Kollege vir Mediese Wetenskappe by dieselfde instelling. Sy navorsingsveld is inligtingsetiek met spesifieke fokus op sosiale geregtigheid en armoede. Hy het wyd oor die onderwerp gepubliseer en is ook die mede-redakteur van die International Review of Information Ethics.
Johannes Britz has been the Vice-Chancellor (Provost) for Academic Affairs at the University of Wisconsin-Milwaukee, Wisconsin USA since 2010. Previously, he was Dean of the School of Information Studies as well as interim Dean of the College for Medical Sciences at the same institution. His field of research is information ethics, with special focus on social justice and poverty. He has published widely on the subject; in addition, he is co-editor of the International Review of Information Ethics.
1 IFLA se naam is later verander na International Federation of Library Associations and Institutions, maar die akroniem IFLA is onveranderd behou.
2 Die huidige spelling van UNESCO, met hoofletters, word hier gevolg, behalwe waar dokumente aangehaal word waarin die naam met kleinletters gespel is.
3 http://www.ifla.org/publications/iflaunesco-public-library-manifesto-1994, gelees 2015-04-06.
4 In Kargbo se woorde: "A state of peace involves the practice of democratic norms and values, justice, universal economic and social well-being."
5 Hierdie uitspraak word dikwels aan Winston Churchill toegeskryf. Dit is egter meer waarskynlik dat die Engelse skrywer George Orwell dié stelling gemaak het in sy rubriek 'As I please', wat op 4 Februarie 1944 in Tribune verskyn het. (http://alexpeak.com/twr/hiwbtw/, gelees 2015-04-06). Die idee was egter nie nuut nie.
6 http://en.unesco.org/about-us/introducing-unesco#sthash.BBejZT6y.dpuf

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons