SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.55 número4The contractual dimension of constitutions: new challenges for South Africa? índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.55 no.4 Pretoria Dez. 2015

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2015/V55N4A1 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS

 

Voorwoord: Besinninge oor die voorwaardes vir 'n gesonde samelewing

 

 

Same-lewing is 'n komplekse begrip. Die begrip gesonde same-lewing mag selfs aanvegbaar wees. Besinning oor 'n gesonde same-lewing is dus ewe kompleks. Is so-iets moontlik of verwesenlikbaar gegee die werklikhede van verval wat ons omring? Is dit moontlik om op konseptuele wyse klaarheid te kry oor gesondheid met betrekking tot same-lewing? Besinning vra nie na meetbaarhede nie, maar na aannames, veronderstellinge, voorkeure en vooroordele, diepgesetelde sake, sake wat nie vir meting toeganklik is nie. Die probleem wat almal met betrekking tot gemeenskap, same-lewing, op een of ander manier ervaar, en wat moontlik gedoen kan word om sake te verander, word uit verskeie perspektiewe betrag. In hierdie reeks artikels word daar geensins probeer om die tema uit te put nie. Bepaalde perspektiewe word uit 'n verskeidenheid oorwegings en roetes geopen om te help om op pad te kom met verantwoordelike nadenke oor same-lewing en selfs die skets van voorwaardes vir die invensie van 'n gesonde samelewing. Eerder as om die tema te probeer uitput, was dit ons begeerte om met bepaalde geopende perspektiewe gedagtes los te laat met die hoop dat baie ander wat oor soveel meer wysheid mag beskik ook die pen sal optel om vanuit ander perspektiewe, of vanuit kritiese gesigspunte, by te dra tot die dringend nodige besinning oor 'n gesonde same-lewing wat almal begeer maar min iets oor te sê het.

In hierdie spesiale uitgawe word aan die volgende sake geraak: die bydrae wat be-gees-terde werkers, wat sorgsaam begeesterd is, binne enige organisasie kan maak tot 'n gesonde same-lewing is onbeperk (Du Plessis); die plek van en oproep tot denke as 'n algemene voorwaarde vir beter same-lewings, met klem op die vermoë om in elke situasie te dink wat die beste antwoord behoort te wees, wat dan spesifiek belig word uit 'n regsperspektief (Van Marle) en 'n staatsamptelike perspektief (Wessels), word treffend uiteengesit; die rol van die media as 'n belangrike bydraende of selfs afbrekende instelling tot gesonde samelewing word konstruktief belig in terme van 'n semiologiese bewussyn en mediageletterdheid (Fourie); 'n kerninstelling in same-lewings soos die biblioteekwese kan betekenisvolle bydraes lewer tot vrede in situasies waarin gewelddadige onvrede hoogty vier veral as die biblioteek vredestigtend uitbeweeg na die gemeenskap (Lor en Britz); 'n voorstelling van menswees weg van 'n representasionalistiese en in die rigting van 'n retories-lyflike subjek is van wesenlike belang in die invensie van same-lewing (Vorster); houding teenoor wette, veral ook die grondwet, na die letter en na die gees, vorm 'n hoeksteen vir 'n gesonde same-lewing by die gebrek waaraan daar nie alleen min van teregkom nie maar selfs die teenoorgestelde verwesenlik word (Pauw); hierbenewens is die belangrikste voorwaarde vir 'n gesonde same-lewing die beduidende verwesenliking van outonome, singuliere, individuerende individue wat met geestelike volwassenheid verantwoordelikheid vir die invensie van 'n gesonde same-lewing aanvaar en wat aanvaar dat die reg op 'n gesonde samelewing volledig afhanklik is van die verantwoordelikheid van elkeen om so 'n samelewing te vestig deur so volledig moontlik in alle opsigte ten opsigte van eie vermoëns te herkapasiteer in belang van alle same-lewingsdomeine (De Beer).

Hiermee ook besondere dank aan die Tydskrif vir Geesteswetenskappe en die Suid Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns wat hierdie spesiale uitgawe oor "Besinninge oor die voor-waardes vir 'n gesonde same-lewing (gemeenskap)" moontlik gemaak het, aan die redakteur, prof Ina Wolfaardt-Gräbe in persoon, wat geen tyd of moeite ontsien om te help, te bemoedig en uiteindelik te bemoontlik nie. Al haar toegewyde en sinvolle leeswerk en die tyd daaraan bestee verdien net die grootste lof. Dank aan die skrywers (vir harde dinkwerk, deursettingsvermoë en volharding ondanks baie verpligtinge en met groot gevoeligheid vir konstruktiewe kommentaar deur keurders); dank ook aan elke keurder, wat soms selfs onder groot tydsdruk, na deeglike leeswerk insiggewende, verrykende en verdiepende kommentaar gelewer het en sodoende 'n wesenlike bydrae tot 'n hopelik betekenisvolle publikasie gelewer het.

C S (Fanie) de Beer
Gasredakteur: Voorwaardes vir 'n gesonde samelewing
November 2015

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons