SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.55 número3Gebroke land: armoede in die afrikaanse gemeenskap sedert 1902 índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.55 no.3 Pretoria sep. 2015

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2015/V55N3A14 

TAALRUBRIEK

 

Die Afrikaanse idioom onder druk: Oor die gebruik van Afrikaans in die openbare domein1

 

 

Tom Mclachlan

Vertaler en Taalversorger. E-pos: tommcl@whalemail.co.za

 

 

Ek is ingeteken op net een Afrikaanse tydskrif buiten die Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Dit is 'n tydskrif wat gewoonlik heerlike Afrikaans gebruik: in die algemeen redelik lughartig en ontspanne sonder om platvloers te raak, kreatief en plesierig, met sinne wat goed en korrek gebou is en samestellings wat slegs in uitsonderlike gevalle nie korrek geskryf is nie. Dis 'n tydskrif wat ek graag lees, want ek lees my nie gedurig in swak taalgebruik vas nie. Die redaksie gooi wel soms 'n Engelse woord tussenin, maar dit is telkens stilisties geregverdig en nooit oordoen nie. Dis 'n tydskrif wat gewoonlik bewys dat 'n mens goeie Standaardafrikaans in ligter trant kan gebruik sonder om die idiomatiese en ander norme van die taal oorboord te gooi en dat Standaardafrikaans nie net plegstatig hoef te wees nie.

Nou die dag het ek egter daarin op 'n anglisistiese fout afgekom wat ek gedink het kommentaar regverdig. Dit was naamlik 'n loksin in groot letters by 'n artikel oor allerlei wildsvleisresepte. Dit het gelui: "As jy dink wildsvleis is net goed genoeg vir biltong en droëwors, mis jy uit op van die lekkerste kos wat daar is."

In 'n enigsins gemoedelike e-posbrief aan die redakteur wys ek toe daarop dat indien die doodonskuldige, hoewel informele, Engelse uitdrukking to miss out (on something) klakkeloos in Afrikaans oorgesit word, soos in die onderhawige sin, dit 'n onafrikaanse resultaat oplewer en 'n ongelukkige skatologiese betekenis het.

Ek kry toe 'n antwoord van die eindredakteur terug, nie onvriendelik nie, wat my daarop wys dat mis nie eenduidig is nie en dat "die woordeboek" ses betekenisonderskeidings daarvan aangee en dat die betekenis wat ek aan mis geheg het, glad nie by hulle opgekom het nie. Dit kos my toe verduidelik dat die probleem allermins by mis op sigself lê, maar by die klakkelose weergawe van die Engelse segswyse met uitmis (op iets).

Die erns van die saak lê vir my nie daarin dat 'n senior redaksielid van so 'n tydskrif dalk nie die definisie van anglisisme2 ken nie, maar in die feit dat daar oënskynlik geen aanvoeling is vir of geen besef is van die onafrikaansheid van uitmis (op iets) nie.

Hierdie soort miskenning van die Standaardafrikaanse idioom is ook nie geïsoleerd nie. Onlangs plaas 'n bekende supermarkketting 'n groot pienk advertensie in 'n dagblad wat in vet letters uitroep: "Roer daai litte - Uitmis is nie 'n opsie nie!", en 'n ander skree in 13 mm hoë letters "MIS DIT, MIS UIT".

En luister maar hoe dikwels hierdie onding in gesprekke en in dialoog op Afrikaanse TV gebesig word. Dit geld in selfs groter mate vir die Engelse bevestigende of ontkennende uitdrukking I do/don't, it does/doesn't ens. wat goedsmoeds - en ongelukkig toenemend - in Afrikaans weergegee word as ek doen/doen nie; dit doen/doen nie en so meer. Tot my groot skok het ek dié onafrikaanse "ek doen" onlangs selfs by twee moedertaal-Afrikaanse kleuters van drie jaar oud gehoor!

In 'n onlangse reeks TV-advertensies van een van ons groot bankgroepe waarin een van ons bekendste manlike akteurs die stemkunstenaar was, is aanmekaar gepraat van die boer wie dit of dat doen of Vir elke boer wie die nasie dra, sê ons .... As 'n mens dink wat 'n paar reklamesekondes op spitstyd-TV kos, verbaas dit jou dat die adverteerder nie die moeite gedoen het om seker te maak dat korrekte Afrikaans gebruik word nie. 'n Mens wonder ook of die stemkunstenaar, wat gewis moet geweet of aangevoel het dat dié wie fout is, straks belet is om die teks te korrigeer.

Nog 'n groot bankgroep het 'n reeks advertensies wat sekere goed moet "laat gebeur". 'n Tyd gelede was een van dié dinge Laat spaar vir ʼn reënerige dag gebeur. Van wanneer af spaar ons in Afrikaans vir reëndae of reënerige dae?

As 'n mens na Afrikaanse radio of TV luister, hoor jy maar te gereeld dat ervare omroepers wie se taalgebruik normaalweg baie goed is, sê Sus en so in die span word gerus of Suid-Afrika moet sy ekonomie groei of Die Bokke speel Engeland Saterdag op Loftus. En besluite word skielik links en regs gemaak in plaas van geneem.

En so sou 'n mens ongelukkig kon voortgaan.

Feit 1, dus: In die openbare domein kom die (tradisionele/korrekte) Afrikaanse idioom toenemend onder druk.

ooOOoo

Almal weet hoeveel Engelse woorde in private Afrikaanse gesprekke gebruik word, maar wat besonder steurend is, is die skynbare onvermoë van Afrikaanssprekende mense om hulle in gesprekke of onderhoude met die media of by openbare geleenthede in goeie Afrikaans uit te druk sonder om hulle gedurig (en onnodig) van Engelse woorde en uitdrukkings te bedien.

Luister maar hoe gereeld sportlui van game, championships, score, tackle en so meer praat. Afrikaanse sportterme word skynbaar, soos meisies wat fluit, by die deur uitgesmyt. En dan praat ek nie eens van die sogenaamde pop- en glanspersoonlikhede nie, want die meeste vind dit skynbaar onmoontlik om 'n sin sonder 'n Engelse woord in te uiter.

Let wel: Hier praat ek nie van Engelssprekende mense wat Afrikaans praat nie, of van vakwoorde wat moontlik in Afrikaans nie so bekend is nie. Dit gaan oor Afrikaanse mense wat doodgewone woorde deur Engelse woorde vervang.

Feit 2: Mense van alle kleure en geure en stande en ouderdomme vind dit blykbaar al hoe moeiliker om in die openbaar te praat sonder om Engelse woorde en uitdrukkings te gebruik, of hulle gee nie meer om om gemengde brabbeltaal in die openbaar te gebruik nie, of hulle dink die Engels tussenin laat hulle byderwets of jonk of koel of meer aanvaarbaar of iets klink.

ooOOoo

Daagliks kyk 'n mens in veral Afrikaanse reklame vas waarin daar geen benul van Afrikaanse ortografiese en idiomatiese norme te bespeur is nie, of waarvan die voortbrenger eenvoudig nie omgee nie.

Dit is wel so dat skryfwyse3 vandag waarskynlik die grootste probleem is vir mense wat Afrikaans skryf. Dit blyk onder meer daaruit dat die eerste AWS van 1917 die kwessie in min of meer 'n paragraaf behandel het, terwyl die 2009-AWS meer as 35 bladsye daaraan afstaan. Desondanks kry die Afrikaanse pers (bedoelende koerante, tydskrifte, boeke e.d.) dit in verreweg die meeste gevalle reg, danksy veral kundige (sub)redakteurs, joernaliste en so meer.

Dieselfde kan skynbaar nie van die reklamewese gesê word nie. Binne vyf minute uit 'n week se gedrukte advertensies het ek die volgende foutiewe skryfwyses en spellings aangeteken:

2-Gang Winter Spyskaart; wildernes; winter onkruiddoder-produkte; braai's; eenstop mode & skooldrag voorsiener; Gospel Skouspel; winter karnaval; kinder oppaser; Afrikaans as moeder taal spreukend; aplikasie; Somer Son; ʼn Familie Gedoente.

En dan het ek nog nie eens die kwistige volkleuradvertensies in die eiendomsbylaes van koerante bekyk nie, waar "samestellings" soos kus eiendomme, sekuriteits landgoed, grondvloer woonstel, en droom prys (maar droomhuis!) soos hare op 'n hond staan.

Natuurlik steun publikasies soos koerante en tydskrifte swaar op reklame, maar terselfdertyd wil die adverteerders die Afrikaanssprekende lesers se geld of klandisie hê. Desondanks lê die reklamewese - hetsy die adverteerder of die reklameagentskap - nie die basiese hoflikheid teenoor die taalgroep onder wie hulle reklameer, aan die dag om die norme van die taal waarin hulle adverteer, te eerbiedig nie.

Hier is ook geen aandag gegee aan die soms bedenklike en onidiomatiese vertalings van advertensies nie.

Feit 3: Die reklamewese misken die basiese norme van Standaardafrikaans maar alte geredelik.

ooOOoo

Wat steek agter hierdie agteruitgang?

Want ja, ek beskou dit as agteruitgang en nie net as onvermydelike en natuurlike taalverandering nie, deels omdat dit saamhang met die verandering in die hantering van Afrikaans van owerheidsweë en die posisie van Afrikaans in die openbare sektor.

Vir my is die kern van die probleem histories-maatskaplik van aard. Toe organisasies soos die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en andere vroeg in die 20ste eeu daadwerklik begin het om Afrikaans te standaardiseer, het verskeie buitetalige faktore 'n rol daarin gespeel. Die belangrikste twee redes was stellig eerstens dat die wit Afrikaans-Hollandse gemeenskap, veral van die pas verslane Boererepublieke, hom tot elke prys wou handhaaf teen Engels en Britse oorheersing. Afrikaans was, by wyse van spreke, 'n vaandel waaronder 'n gemeenskap hom kon verenig ten einde te voorkom dat hy deur 'n wêreldmag en -taal verswelg word.

Tweedens was daar in dié gemeenskap meningsverskil tussen diegene wat Nederlands - Standaardnederlands, sal ons vandag sê - wou hervestig en bevorder, en diegene wat Afrikaans tot 'n kultuurtaal wou verhef en dit as sodanig wou vestig. Dit is algemeen bekend dat Engels en Nederlands die amptelike tale van die pas gestigte Unie van Suid-Afrika geword het, gevolg deur Afrikaans anderhalf dekade of wat later. Dit is dus nie verbasend dat die Nederlandse herkoms van Afrikaans tot vandag een van die grondbeginsels van die Afrikaanse spelling uitmaak en bepalend vir die Afrikaanse woordeskat en idioom was nie.

Veral hierdie twee histories-maatskaplike faktore - waarvan die handhawing van Afrikaans, aanvanklik teen twee groot wêreldtale, Engels en Nederlands, en later teen veral Engels, en die doelbewuste standaardisering daarvan tot 'n volwaardige kultuurtaal seker die kern is - het vir die grootste deel van die 20ste eeu 'n deurslaggewende rol in die ontwikkeling van Standaardafrikaans gespeel.

Daarnaas het die gans ander wêreldbeskouing wat tot en pas ná die Tweede Wêreldoorlog in veral die Weste geheers het, en die politieke bedeling in Suid-Afrika veral ná 1948, die rol van bruin Afrikaanssprekendes en van "bruin" Afrikaans te veel - want heeltemal was dit darem ook nie - buite rekening gelaat wat die standaardisering en normering van Standaardafrikaans betref. Hoewel dit met die wysheid wat terugskouing bring, bitter jammer is dat so 'n wesenlike deel van die Afrikaanssprekende gemeenskap uitgesluit was van die formele standaardisering van Afrikaans, kan dit nie die feit dat Afrikaans tot 'n volwaardige kultuurtaal - dit wil sê 'n taal van die wetenskap, die onderwys en akademie, die letterkunde, die tegnologie, die handel, die politiek, die reg en so meer - ontwikkel het, ongedaan maak nie. In dié gestandaardiseerde variëteit van Afrikaans is daar die afgelope eeu 'n enorme korpus werk geskep op elke denkbare terrein van die maatskaplike lewe.

Vanselfsprekend het die erkenning van die twee amptelike tale wat vir die Zuid-Afrika Wet, 1909, beding is, die bewoording van daardie "taalartikel" en die streng toepassing van die beleid in die openbare sektor 'n belangrike rol vervul, maar 'n groot deel van die sukses van die standaardiseringsproses van Afrikaans lê in die feit dat die breë (wit) Afrikaanse taalgemeenskap aktief daaraan deelgeneem het. In minstens die naoorlogse tyd was daar beswaarlik 'n skoolhandboek vir Afrikaans wat nie iets oor die Nederlandse herkoms van Afrikaans gesê het en aandag gegee het aan idiomatiese taalgebruik nie. Skoolkinders is onder meer geleer - dikwels met behulp van uitvoerige lyste in hulle Afrikaanse taalleerboeke op laer- en hoërskool, iets waarop daar skynbaar deesdae neergesien word - wat korrekte (gepaste, idiomatiese) Afrikaanse taalgebruik was: die gangbare voorsetsels, idiome en spreekwoorde, woorde wat maklik verwar word, korrekte vertalings van algemene Engelse woorde, wat as anglisismes beskou is, "een woord vir baie" (dus woordeskatuitbreiding), en dergelike meer.

Daarbenewens is Afrikaanse terminologie vir letterlik tientalle terreine van die natuur- en geesteswetenskappe, die tegnologie, die ekonomiese en kulturele lewe geskep, en vak- en algemene woordeboeke is gereeld gepubliseer. Belangrik is dat hierdie inisiatiewe hoegenaamd nie altyd staatsinisiatiewe was nie, maar meestal dié van die (wit) burgerlike samelewing. Hiermee het gepaardgegaan die invloed van allerlei kultuurorganisasies soos die FAK, die ATKV en honderde plaaslike kultuurverenigings (o.m. leeskringe), en van die media, waarin Standaardafrikaans daadwerklik en doelbewus bevorder is. Afgesien van die gebruik daarvan in, en derhalwe die popularisering daarvan deur, hulle publikasies, kan 'n mens maar net dink aan die talle belangwekkende artikels oor Afrikaans wat in Die Huisgenoot en ander populêre tydskrifte van destyds gepubliseer is, aan die nuutskeppings wat Afrikaanse koerante en tydskrifte moes maak, aan die skepping van sportterme deur uitsaaiers, en so meer.

Dit alles het meegewerk om in mindere of meerdere mate - miskien eerder bewustelik of onbewustelik - 'n taaltrots by (wit) Afrikaanssprekendes te kweek, 'n faktor wat m.i. deesdae grotendeels afwesig is.

In die neëntigerjare het daar by baie Afrikaanssprekendes skielik 'n verandering in die gesindheid teenoor Afrikaans begin intree. Die einde van die apartheidsera was op hande, en die kultureel-politieke protes van veral jonger Afrikaanssprekendes (byvoorbeeld die Voëlvry-beweging en hulle protesmusiek) het oorgespoel na die taal self. Skielik is oral - selfs in die hoofstroommedia, wat tot dan toe die norme van Standaardafrikaans streng gehandhaaf het - stemme gehoor dat Afrikaans "van sy borstrokke" en "van die Broederbond" "bevry" moes word en trouens bevry is. Dit het mode geword om taal wat voorheen nooit in goeie geselskap gehoor en in die hoofstroommedia gebruik is nie, wyd en syd ten toon te stel.

Dié "nuwe", "bevryde" Afrikaans word m.i. gekenmerk deur veral drie dinge:

  • Eerstens die gebruik van kruer of meer gekruide taal - die soort taal wat skoolseuns, studente en jonger mans (en vroue?) miskien onder mekaar gebruik het. Dit is op amper uitdagende wyse ingevoer in 'n mens se voorhuis, dermate dat dit al hoe meer sosiaal aanvaarbaar geword het en byvoorbeeld hoofstroomkoerante dit in kwalik verbloemde vorm begin publiseer het. (As 'n redelik mak illustrasie hiervan het Beeld onlangs berig van 'n vrou wat sou gesê het: "Die donders het sy lewe opgeneuk.")
  • Tweedens is al hoe meer Engelse woorde gebruik, nie omdat Afrikaans nie die ekwivalente daarvoor gehad het nie, maar omdat dit die spreker skynbaar in die kategorie van 'n byderwetse, "borstroklose" nuwe geslag Afrikaanssprekendes geplaas het. Dit vind tans ook nog neerslag daarin dat koerantberigte sulke spraak in hulle berigte sal rapporteer en dit nie sal "suiwer" of "uitredigeer" nie.
  • Derdens het anglisismes, wat dekades lank (redelik suksesvol) bestry is, weer soos kakiebos in Standaardafrikaans begin opslaan en versprei. Dié anglisismes het nie net baie van die "oues" (soos "siende dat", "uit [petrol] hardloop", "jou besigheid hardloop" en dergelike) ingesluit nie, maar ook talle nuwes ingevoer (soos die vermaledyde "ek/dit/sy doen", al die probleme wat "aangespreek" of "geadresseer" word, mense en dinge wat iewers "opeindig", planne wat "afkom", spanne of mense wat mekaar of iets "aanvat", en dergelike). Die gevolg is dat die kenmerkende idioom van Standaardafrikaans regstreeks bedreig word.

Moontlik is hierdie verskynsel ook deels daaraan toe te skryf dat wit Afrikaanssprekendes die uitspraak geglo het dat Afrikaans "die taal van die onderdrukker" sou wees en dat hulle hulle dus uit 'n soort skuldgevoel doelbewus wou distansieer van die soort taal wat hulle met die NP-bewind geassosieer het - m.i. ten onregte, omdat geen taal die skuld kan kry omdat (die) sprekers daarvan onreg pleeg of gepleeg het nie. As dit so was, sou talle tale immers van die aardbol af gevee moes word: Engels, Spaans, Duits, Frans, Russies, Japannees ...

Die bewindsverandering van 1994 het ook meegebring dat allerlei ander dinge daarmee saam moes verander, en dikwels was die wiel wat herontwerp is, 'n bietjie hoekig. Ook skoolkurrikulums is op groot skaal verander, wat ook 'n verandering in die soort taalonderrig meegebring het - nie dat alles aan die politiek toegeskryf kan of moet word nie; ander opvoedkundige beskouinge het stellig ook 'n rol gespeel. Hoe dit ook al sy, die hedendaagse Afrikaanse taalleerboek lyk drasties anders as dié van 'n paar dekades gelede.

'n Lywige taalleerboek wat tans in gebruik is, kan as voorbeeld dien. Uit 'n onlangse beskouing van dié gr. 10-boek het dit geblyk dat die hoofstukke om bepaalde temas gestruktureer is. In so 'n hoofstuk kom 'n hele mengelmoes van studiemateriaal aan bod: lees, begrip, taalleer, woordeskat, spreekwoorde, literêre vorme en dergelike meer. Sonder om nou verder hierop in te gaan, sou 'n mens kon sê dat die gr. 10-leerlinge van vandag op die een of ander wyse met alles, en selfs meer, te doen kry as waarmee hulle eweknieë van 'n dekade of drie, vier gelede te doen gekry het. Die inhoud is wellig ook wetenskaplik goed gefundeer. Wat egter opval, is dat alles broksgewys aangebied word. Sommige van die leesstukke is baie kort, en soms slegs 'n strook strokiesprente. Daarrondom en daaruit word al die leermateriaal vir die hoofstuk gebou en onttrek. In die loop van die skooljaar kom die leerlinge dus wel met die breë spektrum van taalsake in aanraking wat 'n mens as minimum sou verwag. Die sleutelwoord is m.i. egter broksgewys.

Of daar werklik sprake van die deeglike inoefen en aanleer van basiese grammatikale en ander taalleerelemente is, kon ek nie vasstel nie. Daar is wel "geordende" samevattings en oefeninge in die boek, maar die grootste deel van die leermateriaal kom bietjies-bietjies deur die hele boek voor. Ek is nog een van dié wat glo dat 'n leerling en student sekere dinge moet leer en selfs memoriseer - alle kennis gaan nie sommer asof deur osmose van die buitewêreld na die verstand beweeg nie - en m.i. is die betrokke boek nie bevorderlik daarvoor nie.

Die vraag wat ten slotte gevra moet word, is of die huidige stelsel - hoe dit ook al opvoedkundig gemotiveer (kan) word - werk en die resultate lewer wat die wêreld van werk en volwassenheid vereis. En daaroor het ek my bedenkinge. Die grootskaalse gebruik van oorbruggingskursusse aan hoëronderwysinrigtings - en die feit dat dit hoegenaamd nodig is - laat 'n mens verder wonder of die skoolstelsel die resultate lewer wat dit moet.

'n Tweede faktor wat die snelle verandering van die aard van Afrikaans beïnvloed, is dat die eiesoortige karakter van Afrikaans nie meer hoog aangeslaan word nie. Ek dink 'n mens kan op minstens twee maniere na Afrikaans kyk. Die eerste is suiwer as 'n objek van wetenskaplike studie. Dan neem 'n mens net waar wat met die taal gebeur en hoekom en hoe. Geen waardeoordele word gemaak nie, en "reg" of "verkeerd" of "onafrikaans" of "anglisisties" en dergelike begrippe is nie ter sake nie. Die tweede, en meer problematiese, is om Afrikaans ook as 'n kultuurobjek te sien wat bewarenswaardig is. Dit is problematies omdat nie alle sprekersgroepe van Afrikaans dieselfde oor dié kultuurobjek voel nie en nie dieselfde waarde heg aan die ontwikkelingsgeskiedenis daarvan en aan een van sy kultuur-historiese mantels nie: bruin Afrikaanssprekendes dink dalk anders daaroor as wit Afrikaanssprekendes, en onder laasgenoemde dink "Transvaalse" en "Vrystaatse" Afrikaanssprekendes dalk anders as "Kaaplandse" en "Natalse" Afrikaanssprekendes. In die lig van ons land se geskiedenis is dit begryplik.

Wat egter jammer is, is dat te veel Afrikaanssprekende mense, ongeag hulle herkoms of ouderdom, nie meer juis omgee oor Afrikaans nie, in elk geval nie oor die karakter en wese van Afrikaans nie. Daar kan verskeie redes daarvoor wees: mense het oorlewingskwessies om hulle oor te bekommer, of hulle voel skuldig of veronreg of ongeërg oor die verlede, of hulle is onkundig oor wat dit gekos het om Afrikaans tot 'n volwaardige kultuurtaal te ontwikkel, of hulle het die linguistiese klok oor taalverandering hoor lui en weet so min of meer waar die klepel hang en aanvaar dit nou as die enigste en volle waarheid. Bowendien word Afrikaanssprekendes in baie, baie groter mate as ooit tevore blootgestel aan Engels (in al sy vorme) deur middel van die gedrukte en elektroniese media, en 'n wêreld wat deur allerlei tegnologieë klein gemaak is.

Kardinaal is egter dat die onderrig van, en opvoeding oor, Afrikaans drasties verander het, en 'n mens kan die jonger geslag beswaarlik kwalik neem dat hulle nie weet wat hulle nie geleer word nie.

Prof. SPE Boshoff het in die vyftigerjare in radiopraatjies by geleentheid gesê elke taal het sy eie "stem", wat dit moontlik maak om 'n taal as sodanig uit te ken, net soos wat 'n radioluisteraar die een omroeper se stem van die ander s'n kan onderskei. Dit is dié stem - sy onderskeidende karakter - van Standaardafrikaans wat tans so vinnig aan die verander is dat dit skaars meer van Engels onderskei kan word. Dit is m.i. die gevolg van minstens bogenoemde faktore.

Ouers en onderwysers het dikwels nie meer die vermoë om kinders reg te help nie omdat hulle self nie die fout sien of hoor nie, of miskien gee hulle net nie meer om nie. Op skool leer kinders skynbaar nie meer wat korrekte of idiomatiese Afrikaans is nie. Die taalleerboeke op skool lei die leerlinge nie meer na korrekte en idiomatiese taalgebruik in die sin dat hulle leer wat korrek (gepas, idiomaties) en verkeerd is nie. Daar word nie meer vanuit die gemeenskap 'n ingesteldheid van taaltrots gekweek nie, en "taalhandhawing" het skynbaar 'n skelwoord geword.

Daar is toenemend skynbaar die beskouing dat iets Afrikaans is bloot omdat die gebruikers Afrikaanse woorde gebruik, en hoe nader daardie woorde of uitdrukkings of segswyses aan Engels is, hoe beter.4

Dink maar aan lukraak gekose voorbeelde soos die volgende (al kan van hulle in sekere streke algemener wees as in ander): 'n Vragmotor het 'n lorrie of 'n trok geword, en bakkies word al hoe meer trokkies. DNS en MIV is by voorkeur DNA en HIV, en raar het seldsaam geword en nie meer vreemd of eienaardig nie. Brutaal het wreed geword, en is nie meer ongemanierd of onbeskof of vrypostig nie. 'n Sjabloon deug nie meer nie; dit moet 'n templaat wees. 'n Wekker het 'n alarm geword, en op die nuus word daar sommer teen ringleiers aksie geneem, in plaas daarvan dat teen voorbokke of belhamels stappe gedoen word. In rugbykommentaar pop die koppe in die skrum op. Die nuusbulletin "was met trots aangebied" deur maatskappy Sus en So, in plaas van "is" deur hom aangebied. Aangesien word siende dat en laat slaap word inlê. Daar was 'n tyd toe Afrikaans dikwels kreatief terme geskep het - dink maar aan woorde soos bromponie, kitskoffie, moltrein, duimry. Dit gebeur al hoe minder, want nader aan Engels is mos beter, en dan word 'n nuutskepping soos toep as onaanneemlik of bespotlik afgemaak en daarom word app eerder gebruik.

Toenemend beland iets nie meer êrens nie, maar eindig daar op of land selfs daar op. En iets kom nie meer ter sprake nie, dit kom op, asof dit ontkiem het! Luister maar hoe dikwels word 'n idiomaties korrekte bysin (veral dié wat met wat begin) verdring deur 'n om te-konstruksie, byvoorbeeld Sy was die eerste speler om in soveel toetse te speel in plaas van Sy was die eerste speler wat in soveel toetse gespeel het. Niks gebeur deesdae meer op die ou end of op die ou einde nie, maar aan die einde van die dag en selfs aan/op die ou einde van die dag.

Die inkleding van wesenlik Engelse segswyses in Afrikaanse woorde wek dus die skyn van Afrikaansheid maar verdring in werklikheid idiomatiese Afrikaans: die ware anglisismes waardeur die herkenbare stem van Afrikaans verander word.

Die invloed van Engels is ook sigbaar in Afrikaansskrywendes se onvermoë om Afrikaans se skryfreël dat samestellings vas geskryf word, toe te pas. Engels skryf mos samestellings los of vas of met koppeltekens sonder dat daar 'n merkbaar konsekwente patroon is. Hoekom moet dit dan anders in Afrikaans? En ek praat nie van die uitsonderlike of moeilike of ingewikkelde gevalle nie, maar dikwels van gewone tweeledige samestellings. Ons skryf dus maar los of vas of prop koppeltekens in, en mog't troffe.

Daar was 'n tyd toe die radio (daar was toe nog nie TV nie!) voorgehou is as 'n navolgenswaardige voorbeeld van Standaardafrikaanse uitspraak, maar luister maar hoe die tradisionele Afrikaanse uitspraak deur (veral jonger) radio- en TV-omroepers verskuif: sionale, míljoen, nister/sinistêr, Mersydies-Benz en so meer, en dan is die donderbye wat yt die noorde kom, nog nie eens genoem nie.5

Natuurlik verander taal met verloop van tyd - Afrikaans het immers ontstaan as gevolg van taalverandering. Intussen is Afrikaans egter gestandaardiseer en het hy sy eie "stem" ontwikkel. Die vraag wat ons ons egter moet afvra, is hoe gou ons wil sien dat Standaardafrikaans so ontoeganklik vir gewone Afrikaanssprekendes word as wat die Engels van Milton of Bunyan vir die deursnee-Engelssprekende van vandag is. Dit gaan dus nie om taalverandering as sodanig nie, maar om die tempo daarvan en die redes daarvoor.

Dit is na my mening moontlik om die eie aard van Standaardafrikaans te bewaar en die onvermydelike taalverandering teen 'n natuurliker tempo te laat plaasvind, maar daarvoor sal ons Afrikaanssprekendes weer die hand aan die ploeg moet slaan. Daar word gesê dat Afrikaanssprekendes die taalgroep met die grootste koopkrag in Suid-Afrika is. Daarom kan en moet ons ons stem dikker maak in ons land - en daarmee bedoel ek glad nie 'n bohaai oor "die stand van Afrikaans" in die openbare sektor nie.

Ons kan byvoorbeeld daarop aandring dat die taalleerplanne vir Afrikaans aangepas word sodat ons kinders en kleinkinders, in plaas van te steun op 'n soort magiese osmotiese proses, op skool behoorlik leer wat Standaardafrikaans is. Dit sluit in -

  • dat Afrikaans se spelreëls behoorlik onderrig en toegepas word,
  • dat leerlinge weer geleer word om behoorlike sinne te bou (en te kan lees en verstaan!),
  • dat Afrikaans se Nederlandse grondslae weer aandag kry (ons kan gerus en met groot vrug weer ons talige Nederlandse herkoms afstof!),
  • dat leerlinge weer idiome en spreekwoorde léér,
  • dat ons woordeskat weer behoorlike aandag kry,
  • dat die idiomatiese voorsetsels en kollokasies van byvoorbeeld naamwoord-werkwoord-kombinasies en so meer weer daadwerklik onderrig en geleer word,
  • dat hulle weer geleer word wat die korrekte Afrikaans vir Engelse woorde en segswyses is (sodat hulle dalk weer hulle ouers kan begin reghelp), en dergelike meer.

Dit is m.i. kardinaal dat die hele Afrikaanssprekende gemeenskap aandring op inspraak in die Afrikaanskurrikulum, sodat dit nie net in die hande van 'n staatsdepartement en politici gelaat word nie. Dit sal waarskynlik ook nodig wees om die vorm en aard van taalleerhandboeke aan te pas.

Dit is ook uiters belangrik dat goeie taalgebruik nie tot die Afrikaansles of -klas beperk word nie, maar dat dit in alle vakke neerslag vind (die leerlinge gaan immers eendag in 'n groot verskeidenheid beroepe staan). Om dit te bereik sal dit waarskynlik ook nodig wees om onderwysers en dosente van ander vakke as tale te oortuig (en daarvoor touwys te maak) dat hulle ook 'n taak het wat goeie, korrekte en veral doeltreffende taalgebruik betref. Die geregverdigde klagtes deur dosente aan tersiêre onderwysinrigtings en deur voornemende werkgewers oor die gebrekkige taalvaardighede van aansoekers of werknemers kom immers uit alle dissiplines en beroepe.

Wat het dit alles met die SAAWK te doen?

Hierdie kommentaarstuk is die gevolg van onder meer kommer deur die redakteur van die Akademie se Tydskrif vir Geesteswetenskappe oor die gehalte van Afrikaans in akademiese of wetenskaplike artikels en spruit voort uit 'n gesprek hieroor, onder leiding van prof. Wannie Carstens, tussen verskeie belanghebbendes in die Akademie. Deel van die missie en algemene doelwitte van die Akademie is immers om die gebruik en gehalte van Afrikaans te bevorder, regstreeks deur byvoorbeeld die werk van die Taalkommissie en die toekenning van die verskeidenheid van pryse vir skeppende werk in Afrikaans, maar ook onregstreeks deur die bevordering van die wetenskap, die tegnologie, die ekonomie en so meer in Afrikaans. Die toekenning van 'n erepenning aan die skrywers van Die verhaal van lewe en die omgewing: ʼn Afrika-perspektief is 'n uitstekende voorbeeld van laasgenoemde.

Hopelik word daar in die toekoms in die TGW aandag aan hierdie saak gegee.

Tog is dit allermins net die Akademie as entiteit of sy fakulteite of organe wat hierdie taak moet vervul. Elke lid kan en moet dit doen. Akademielede moet die suurdeeg in eie kring en in hulle beroepsomgewings word wat die gebruik en gehalte van Afrikaans bevorder. Ons kan dit doen by die ondernemings met wie ons sake doen, by ons kinders en kleinkinders, in ons skole en op ons vakgebiede, en noem maar op. En onthou dat geld hard kan praat. As ondernemings en adverteerders begin agterkom dat Afrikaanssprekendes se geld begin praat, sal hulle gou genoeg die hoflikheid begin toon om aan die norme van Afrikaans te voldoen.

Ons kan byvoorbeeld ouers en studente oortuig dat studie (op primêre, sekondêre en tersiêre vlak) in Afrikaans nodig en voordelig is. Studies en opnames toon dat al hoe meer leerlinge en studente en hulle ouers meen dat om in Engels te studeer, hulle in die lewe beter te staan sal kom. Dit is 'n siening wat kwalik op wetenskaplike bewyse berus. Bowendien word Afrikaanssprekendes deur die hedendaagse media - by name televisie en die internet - en deur die veranderde polities-maatskaplike samelewing so wyd aan Engels blootgestel dat hulle baie meer met Engels vertroud is as die gemiddelde jongmens van 'n halfeeu gelede. Onderrig in Afrikaans sal hulle dus hoegenaamd nie onkundig oor Engels laat nie.

Akademielede en akademici moet ook aangemoedig en gehelp word om in Afrikaans te skryf en te publiseer, ook handboeke. Laasgenoemde word finansieel al hoe moeiliker, en daarom moet skrywers gehelp word om metodes te verken om hulle Afrikaanse publikasies op alternatiewe wyses te publiseer wat kostedoeltreffender of minstens finansieel haalbaar is. In dié opsig kan tersiêre instellings en Afrikaanse kultuurorganisasies 'n belangrike rol speel, hetsy deur kundigheid of deur befondsing.

Taal is onteenseglik 'n belangrike - indien nie die belangrikste nie - draer van kultuur, en of ons dit wil weet of nie: deur ons taal deel alle Afrikaanssprekendes 'n baie groot stuk kultuur. Bowenal moet ons as Akademielede die suurdeeg wees wat Afrikaanssprekendes opnuut oortuig dat Afrikaans "'n pêrel van groot waarde" is, 'n kultuurobjek wat bewarenswaardig is, en nie net 'n streng studie-objek nie. Ons sal ook weer moet begin om taaltrots by Afrikaanssprekendes aan te kweek. Dit moet vir mense 'n saak van eer en trots word om goeie en "suiwer" Afrikaans te praat, nie iets wat bespot en verkleineer moet word nie. En weereens: goeie en suiwer Afrikaans hoef geensins styf, formeel, hoogdrawend of plegstatig te wees nie!

Dit beteken allermins dat ander variëteite as die standaardvariëteit geminag of opsy geskuif moet word. Inteendeel; hedendaagse Standaardafrikaans kan waarskynlik baie verryk word deur die niestandaardvariëteite, onder meer deur woorde, uitdrukkings en segswyses wat kan help om die Engelse wolwe in die Afrikaanse skaapsklere uit die trop uit te keer. In hierdie opsig het die sprekers en/of kenners van die variëteite natuurlik 'n enorme rol te speel deur sulke woorde, uitdrukkings en segswyses meer algemeen te begin gebruik, ook in die skryftaal.

Of ons as Afrikaanssprekendes dus iets aan die kwale van Afrikaans kan doen, hang volkome van ons self af, nie van die staat of die owerhede nie. Die vraag is of die grootste gros Afrikaanssprekendes nog (of weer) gemotiveer kan word om te handhaaf en uit te bou wat in die verlede tot stand gebring is. Of gaan ons sienderoë toelaat dat die invloed van Engels op Standaardafrikaans so groot word dat 'n mens werklik eers Engels moet ken voordat jy Afrikaans kan verstaan?

 

 

 

Tom Mclachlan is 'n beroepstaalpraktisyn wat die grootste deel van sy loopbaan in die Staatstaaldiens, vir die Suid-Afrikaanse Kernenergiekorporasie en in die Direktoraat Taaldiens van Unisa gewerk het. In die vroeë tagtigerjare was hy ook die hooftaalredakteur van die ensiklopediereeks Wêreldspektrum. Van 1995 tot 2013 was hy lid, ondervoorsitter en voorsitter van die Taalkommissie van die SA Akademie, en was as sodanig ten nouste betrokke by die negende en die tiende uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls. Hy was medeskrywer van X-Kit Afrikaans for English speakers, wat met 'n ATKV-Veertjie bekroon is, die skrywer van die taalgedeelte van die HAT Taal- en Feitegids en 'n medewerker aan verskeie woordeboeke. In 2015 ken die Akademie die CJ Langenhovenprys vir Taalwetenskap aan hom toe vir sy bydrae tot die Afrikaanse taalpraktyk en as lid van die Taalkommissie van die Akademie. Sedert sy aftrede is hy 'n aktiewe vryskuttaalpraktisyn.
Tom Mclachlan is a professional language practitioner, who for a large part of his career worked as a language practitioner at the State Language Service, the South African Nuclear Energy Corporation and the Unisa Language Services Directorate. In the early 1980s he was the chief language editor of the Afrikaans encyclopaedia Wêreldspektrum. He served as member, deputy chairman and chairman of the Taalkommissie (language commission) of the SA Akademie from 1995 to 2013 and, as such, was closely involved in the ninth and tenth editions of the authoritative Afrikaanse woordelys en spelreëls (Afrikaans word list and spelling rules). He co-authored the X-Kit Afrikaans for English speakers, which was awarded an ATKV-Veertjie, was the author of the language section of the HAT Taal- en Feitegids and has contributed to several dictionaries. In 2015, he was awarded the CJ Langenhoven Prize for Linguistics by the SA Akademie for his contribution to Afrikaans language practice and the Taalkommissie. Since his retirement he has become an active freelance language practitioner.
1 Hierdie kommentaarstuk berus deels op 'n soortgelyke stuk wat in 2013 vir die FAK geskryf is.
2 Die Afrikaans woordelys en spelreëls (AWS; Pharos 2009:556) definieer 'n anglisisme as "'n Engelse taalvorm (woord, uitspraakwyse of sinskonstruksie) wat in Afrikaans gebruik word, maar wat in stryd is met die Afrikaanse taalpatroon en 'n bestaande Afrikaanse vorm verdring, byvoorbeeld *ek myself was daar, in plaas van die korrekte ek was self daar; en *hy moes agter die kinders kyk, in plaas van die korrekte hy moes die kinders oppas of hy moes na die kinders kyk. Nie alle gevalle van Engelse invloed is egter anglisisties nie, aangesien Afrikaans en Engels baie gemeenskaplike woorde bevat wat óf aan ander tale (bv. Latyn en Frans) ontleen is, soos garage of restaurant, óf uit die Germaanse voorgeskiedenis van beide tale afkomstig is, soos steak of Speaker."
3 Die AWS (Pharos 2009:571) onderskei soos volg tussen spelling en skryfwyse: "Spelling is 'n versameling reëls om die klankvorme van 'n taal met behulp van skryftekens in skrifvorm vas te lê. ... Onder skryfwyse ressorteer ... die gebruik van hoofletters, die los of vas skryf van woorde, en die gebruike van die koppelteken." Kortom dus: spelling het te doen met die letters wat in 'n woord gebruik word, en skryfwyse met veral die vas of los skryf van woorde.
4 In hierdie stuk word uitsluitlik klem op die invloed van Engels op Afrikaans gelê omdat geen ander taal tans so 'n merkbare uitwerking op die eiesoortigheid van Standaardafrikaans het nie.
5 Carstens (Norme vir Afrikaans Van Schaik 2003:320-325) bespreek anglisismes breedvoeriger. Dié wat hier genoem word, sou grammatiese, foniese, sintaktiese, grafiese, leksikale en idiomatiese anglisismes genoem kan word.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons