SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.55 issue3Gebroke land: armoede in die afrikaanse gemeenskap sedert 1902 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.55 n.3 Pretoria Sep. 2015

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2015/V55N3A13 

TAALRUBRIEK

 

Redakteursnota

 

 

Die gehalte van Afrikaans as Wetenskapstaal

As redakteur is ek al geruime tyd bekommerd oor die gehalte van Afrikaans in (sommige van die) artikels wat aan die TGW voorgelê word. Dit is 'n probleem wat dieper sny as bloot die redigering van die taalgebruik met betrekking tot spelling, leestekengebruik of sinsbou - alle artikels word immers taalversorg deur ervare taalpraktisyns. Waarskynlik omdat byna alle skrywers ook in Engels publiseer en ook omdat die skepping van Afrikaanse vakterminologie nie tred gehou het met nuwe ontwikkelings in verskeie dissiplines nie, is daar dikwels 'n neiging om die Afrikaanse term so na as moontlik aan die Engelse ekwivalent te hou. Alhoewel hierdie praktyk moontlik kommunikasie tussen vakgenote bevorder, geskied dit nietemin ten koste van die behoud en vernuwing van Afrikaans in sy sogenaamde "hoëvlakfunksies". LitNet se rubriek "Gespierde Afrikaans" is 'n poging om skrywers en lesers te betrek by 'n verruiming van terminologie. Die TGW verwelkom en ondersteun hierdie inisiatief.

In 'n poging om Wetenskapsafrikaans te bevorder, het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) 'n komitee aangestel om ondersteuning te bied aan skrywers wat in Afrikaans publiseer. Tydens 'n telefoonkonferensie op 19 Mei is die volgende probleme uitgelig: die verarming van Afrikaans se seggingskrag, swak en/of foutiewe vertalings uit Engels en 'n gebrek aan konsekwentheid in skryfwyse, keuse van terminologie en styl.

Die komitee was ook bekommerd oor 'n persepsie dat dit "te moeilik" sou wees om goeie Afrikaans te skryf en dat Afrikaanssprekende akademici daarom dikwels eerder in Engels skryf (hoewel dikwels nie die beste Engels nie). Die komitee was dit eens dat opleiding, maar dan reeds van 'n vroeë stadium af, nodig is om skryftaalvaardighede te slyp. Allerlei moontlikhede word in die vooruitsig gestel, onder meer 'n hersiening en uitbreiding van die TGW se huidige Voorskrifte aan skrywers, asook webinare gerig op die gebruik van Afrikaans.

Ter verkenning van die probleem stel die TGW met hierdie uitgawe 'n Taalrubriek bekend waar belangstellendes (akademici, opvoeders, taalpraktisyns) menings kan lug. As eerste kommentaarstuk - let wel: dit is nie bedoel as 'n volwaardige navorsingsartikel nie - plaas ons een van ons redaksielede, mnr Tom McLachlan, se analise van die gebruik van Afrikaans in die openbare domein. Kommentaar oor onder meer die spelreëls (AWS) sal in toekomstige aflewerings aan die bod kom. Intussen nooi die redaksie u graag uit om deel te neem aan die gesprek en ons te help met die verbreding en verdieping van Wetenskapsafrikaans.

Ina Wolfaardt-Gräbe
Redakteur: Tydskrif vir Geesteswetenskappe
Augustus 2015

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License