SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.55 número3Afrikaans speech norms and prescriptive Afrikaans norms: is there enough scope for grammatical diversity in standard Afrikaans? índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.55 no.3 Pretoria sep. 2015

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2015/V55N3A9 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS

 

Volksblad se uitbeelding van skoolgeweld in die Vrystaat

 

Volksblad's portrayal of school violence in the Free State

 

 

Corene de Wet

Skool vir Oopleer, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein. E-pos: dewetnc@ufs.ac.za

 

 


OPSOMMING

Die doel van die studie was om te bepaal hoe Volksblad skoolgeweld in die Vrystaat uitbeeld. Kwalitatiewe inhoudsontleding is gebruik om 44 koerantberigte, briewe aan die pers en redaksionele kommentare wat oor 'n tydperk van vyf jaar in Volksblad verskyn het, te ontleed. Die belangrikste bevindinge van die studie is: (1) Skoolgeweld is 'n ernstige probleem in die Vrystaat; (2) sommige skoolhoofde en rolspelers bevraagteken die wyse waarop Volksblad skoolgeweld uitbeeld; en (3) sensasionele beriggewing oor skoolgeweld in die Vrystaat illustreer die dubbele rol van die privaatnuusmedia in 'n demokrasie, naamlik om die publiek in te lig oor skoolgeweld én om om te sien na die belange van eienaars en aandeelhouers. Die volgende aanbevelings is gemaak: (1) Skoolhoofde moet die nuusmedia eerder as 'n vennoot in hul stryd teen skoolgeweld sien as die vyand wat daarop uit is om die beeld van die skool af te kraak. (2) Hoewel die sensasionele aard van sommige berigte 'n groter bewustheid van skoolgeweld tot gevolg kan hê, behoort beriggewing oor skoolgeweld in ooreenstemming met die bepalings van die Suid-Afrikaanse Mediakode plaas te vind. (3) Kampvegters vir skoolveiligheid, onder andere opvoeders, ouers, gemeenskapsleiers, provinsiale en nasionale onderwysdepartemente, die Suid-Afrikaanse Polisiediens, sielkundiges en akademici, moet in samewerking met die nuusmedia hulle beywer vir die aanvaarding en implementering van skoolveiligheidbeleide op nasionale, provinsiale en skoolvlak.

Trefwoorde: media-ontleding, skoolgeweld, sosiale konstruktiwisme, Suid-Afrika, Volksblad


ABSTRACT

INTRODUCTION: Researchers, policy makers and the South African community's increasing interest in school violence since the beginning of the 21st century can amongst others be ascribed to the news media's coverage of high-profile, extremely violent incidents of violence at schools. The news media's role in democracies is, amongst other things, to inform the public about social problems such as school violence. The news media may not exert a direct and instant influence on public opinion. Nonetheless, research has shown that news coverage of social and political issues may have a wide range of subtle, but powerful effects on what the public think about these issues. Well informed citizens, with knowledge of social and political issues may be able to take part in public debates and make informed decisions. The news media may have an influence on individuals' choices and decisions, as well as their willingness to become involved in social problems. In democratic countries the news media are expected to play a responsible role of watchdog for the public interest. However, researchers found that privately owned news media have a dual role, namely to act as watchdog for the public interest and as guardian of their own financial interests. The way in which the news media report about school violence is consequently often determined by striving towards higher circulation figures. The aim of this article is to report on an investigation about Volksblad's coverage of school violence in the Free State. This daily paper has the highest circulation figure of all papers in the Free State. The study is directed at the following problem question: How does Volksblad portray school violence in the Free State? The study is grounded in social constructivism insofar as it has bearing on the role of the news media in the declaration of school violence as a social problem
METHODOLOGY: Qualitative content analysis was used to analyse the newspaper reports, letters to the press and editorial commentaries. The corpus of texts selected for an analysis of this study has appeared in Volksblad over a period of five years (1 January 2009 to 31 December 2013). The texts were identified by means of the SA Media data basis (http://www.samedia.uovs.ac.za/) on 14 April 2014. With the help of key words, the computer search produced 44 items
FINDINGS: The main findings of the study are: (1) Volksblad portrays school violence as a serious problem in the Free State: Free State educators and learners are victims of emotional, sexual and physical violence, which is on the increase, and may even be out of control. The latter means learners' and/or educators' behaviour that can affect learners and/or educators is unrestrained, unmanaged, without limits or monitoring, not subject to influence or manipulation within the control of the school, resulting in an unpredictable and chaotic school enviornment. (2) According to Volksblad, some school principals and role-players question the newspaper's portrayal of violence at their schools: By giving voice to learners, parents and principals the impression is created that some role-players regard school violence neither as a problem nor out of control. These views are aligned with detailed information published in the Volksblad about specific incidents of violence. Furthermore, the normalisation of school violence is juxtaposed with statements by parents and principals who are concerned about the levels of violence at the Free State schools referred to in the analysed newspaper articles. The suggestion is therefore left amongst readers that some principals live in denial about what is happening at their respective schools and/or do not want to assume responsibility for violence at their schools. (3) Sensational reporting of some incidents of school violence illustrates the dual role of privately owned news media in a democracy, namely to inform the public and to look after the interests of their owners and shareholders. Despite criticism by principals and other role-players about the way in which the paper reported on school violence and accusations by some that incidents were blown up out of all proportion, Volksblad informs readers about the seriousness of school violence. This finding particularly comes to the fore in the ombudsman of the newspaper's reaction to letters to the press to the effect that the paper sensationalises fighting amongst learners
CONCLUSIONS AND RECOMMENDATIONS: Volksblad's portrayal of school violence as a serious problem in the Free State, corresponds with research findings about the scope of school violence in the province. By creating an awareness of the nature and extent of school violence Volksblad may inadvertently motivate organisations with an interest in education, such as government, family and the broader community, as well as commerce and industry, to take a stand against school violence. By making society aware of school violence, newspapers such as Volksblad often play a more important role than research publications. This privately owned newspaper virtually has a monopoly in the province. It is therefore important that Volksblad maintains a balance between generating income and informing the public about a social wrong such as school violence. Well informed citizens, with knowledge of school violence may be able to take part in public debates and make informed decisions. Even though sensationalism may heighten public interest in school violence, responsible reporting should remain the norm. Journalists should be guided by the South African Press Code. However, it is also important that school principals in particular would regard the news media as a partner in their struggle against school violence, rather than the enemy that is bent on slating the image of the school. Champions for school safety, such as educators, parents, community leaders, provincial and national departments of education, South African Police Services, psychologists and academics, must work towards the acceptance and implementation of school safety policies at national, provincial and school level.

Key words: media analysis, school violence, social constructivism, South Africa, Volksblad


 

 

1. INLEIDING

Geweld in Suid-Afrikaanse skole is nie 'n nuwe verskynsel nie. Tog het navorsers, beleidmakers en die Suid-Afrikaanse gemeenskap eers sedert die begin van die 21ste eeu begin insien dat geweld in skole 'n sosiale probleem is wat dringend om aandag vra (Burton & Leoschut 2013:1). Burton en Leoschut (2013:1), Mncube en Harber (2013:1), en Prinsloo en Neser (2007:323) skryf hierdie groeiende belangstelling toe aan die nuusmedia se dekking van hoëprofiel, uiters gewelddadige insidente van geweld in skole. Die nuusmedia se rol in 'n demokrasie is onder andere om die publiek op hoogte te hou van sosiale euwels soos skoolgeweld (cf. Riaz 2011:89; Wasserman & De Beer 2005:37). Die skrywer van die eerste omvattende studie oor skoolgeweld in Suid-Afrika (Burton 2008) en die opvolgstudie (Burton & Leoschut 2013:1), asook ander navorsers (o.a. Mncube & Harber 2013:1; Prinsloo & Neser 2007:323) gee dus erkenning aan die rol van die nuusmedia in die bewusmaking van beleidmakers, ouers, opvoeders en die breë Suid-Afrikaanse gemeenskap oor die bogenoemde verskynsel.

In demokratiese samelewings het die nuusmedia 'n verantwoordelikheid om die publiek op hoogte te hou van belangrike sosiale en politieke aangeleenthede. Die nuusmedia het egter nie 'n direkte of onmiddellike invloed op openbare mening nie. Navorsers (Kim, Han, Choi & Kim 2012:53) het wel bevind dat die nuusdekking van sosiale en politieke aangeleenthede 'n groot verskeidenheid subtiele, maar belangrike invloede op openbare mening kan hê. 'n Ingeligte publiek, wat aan 'n verskeidenheid standpunte blootgestel is, kan volgens Riaz (2011:90) waarskynlik aan openbare debatte deelneem en ingeligte besluite neem. Die nuusmedia is meer as net 'n inligtingsbron: dit kan waarskynlik ook 'n invloed uitoefen op individue se keuses en besluite, asook hulle bereidwilligheid om by maatskaplike en politieke aangeleenthede betrokke te raak (Ertm, Donmez & Oksel 2010:578; Jacobs 2014:2). Dit wat in die nuusmedia gerapporteer word, word dikwels onkrities as die waarheid aanvaar (Ertm et al. 2010:578). Dit wat deur die nuusmedia aan sy lesers voorgehou word, is egter nie 'n objektiewe nie, maar 'n geïnterpreteerde werklikheid (De Wet 2013:346, 2003a:113 en 2003b:36). Navorsers is van mening dat die nuusmedia bewustelik en onbewustelik deur seleksie en beklemtoning bepaal watter aspekte van 'n spesifieke nuusgebeurtenis belangriker as ander is.1 Deur seleksie, uitsluiting, en onder- en/of oorbeklemtoning gee die nuusmedia 'n stem aan sekere rolspelers ten koste van ander, suggereer of spel duidelik uit wat die kern van die nuusgebeurtenis is en skep die konteks van die gebeurtenis. Die nuusmedia kan dus 'n invloed hê op die breë publiek se siening oor 'n openbare aangeleentheid soos skoolgeweld.

Die nuusmedia en onderwys het volgens Mills en Keddie (2010:428) 'n komplekse verhouding en die outeurs beklemtoon die invloed wat die nuusmedia uitoefen op die ontwikkeling van nasionale onderwysstelsels en die aktiwiteite van skole en leerders. 'n Emosionele openbare aangeleentheid soos skoolgeweld geniet volgens Mills en Keddie (2010:428) wye dekking in die nuusmedia. Voorbladopskrifte soos die volgende bring skoolgeweld in die huise van die lesers van Volksblad, 'n streekskoerant wat in Bloemfontein gepubliseer word: "VS-leerkrag vrees 666" (Van der Merwe 2012:1), "Seun agter tralies oor seksklag; maats het glo foto's" (De Wet 2013:1) en "Meisies laat vuiste by skool klap" (Phillips 2011a:1). Ter wille van sirkulasiesyfers is koerante soos Volksblad meer as bereid om in hul lesers se vraag na nuus oor skoolgeweld te voorsien (De Wet 2003b:36). Na die plasing van 'n videogreep oor bogenoemde vuisgeveg op die terrein van 'n hoërskool in Welkom (Phillips 2011a:1) het die ombudsman van Volksblad (Coetzee 2011:8) byvoorbeeld die plasing van die video en hul beriggewing as volg geregverdig: "Die video-greep het in vier dae nagenoeg 16 000 trefslae op www.volksblad.com gekry - meer as enige ander Afrikaanse koeranttitel in dié tyd". Mills en Keddie (2010:428) skryf tereg dat "issues related to schools and violence are often a media staple, alongside stories of youth out of control". Masitsa (2011:171), Prinsloo en Neser (2007:322), asook Burton en Leoschut (2013:2) waarsku dat die oorbeklemtoning van enkele insidente van erge skoolgeweld tot gevolg kan hê dat die gemeenskap nie ingelig word oor meer algemene vorms van emosionele en fisiese geweld nie. Prinsloo en Neser (2007:322) verwys in dié verband na "bisarre uitsonderings" wat wye mediadekking geniet wanneer dit plaasvind. Die voorafgaande verwysing na sirkulasiesyfers sinspeel op die tweeledige rol van nuusmedia in privaatbesit in demokratiese lande. In hierdie lande word van die nuusmedia in privaatbesit verwag om as waghond vir openbare belange op te tree (Riaz 2011:92), maar ook om sy ekonomiese verantwoordelikheid teenoor eienaars en aandeelhouers na te kom (Johnson 2014:369). In Suid-Afrika is die nuusmedia - met die uitsondering van die drie openbare televisie en verskeie nasionale en streeksradiostasies - in privaatbesit (Media Club South Africa 2015).

Verskeie media-ontledings oor skoolgeweld het die afgelope paar jaar die lig gesien. Van die studies kyk byvoorbeeld na hoe beriggewing oor skoolgeweld tot 'n vrees-psigose onder die breë publiek kan lei (Altheide 2009:13541367; De Wet 2013:369-371; Kupchik & Bracy 2009:137); die nuusmedia se negatiewe uitbeelding van swart jeugdiges in die VSA (O'Grady, Parnaby & Schikschneit 2010:5577); Rapport se vergestalting van skoolgeweld as rassegeweld in Suid-Afrika (De Wet 2013:363-366); die reduksionistiese uitbeelding van Moslems in skole (Mills & Keddie 2010:427-444); die nuusmedia se uitbeelding van jeugdige geweldenaars as onaantasbare mitiese figure (Muschert 2007:351366); die nuusmedia se voorstelling van skoolgeweld in Suid-Afrika (Jacobs 2014:115) en die aard en omvang van skoolgeweld in Suid-Afrika (De Wet 2003a:113121) en Suid-Amerika (Stabstein 2013:378382). Media-ontleding is 'n gevestigde navorsingsbenadering waardeur insig verkry kan word van onder andere die verskillende wyses waarop die nuusmedia skoolgeweld uitbeeld.

Teen die agtergrond van die voorafgaande bespreking oor die rol van die nuusmedia as bron van inligting, die suggestie dat sirkulasiesyfers die seleksie en beklemtoning van 'n spesifieke nuusgebeurtenis bepaal, word hierdie studie deur die volgende probleemvraag gerig: Hoe beeld Volksblad skoolgeweld in die Vrystaat uit? In 'n soeke na 'n antwoord op dié vraag sal ek argumenteer dat Volksblad deur beriggewing oor spesifieke geweldsinsidente, die verskaffing van spesifieke inligting, uitsluiting en die onder- en/of oorbeklemtoning van die sieninge van belanghebbendes (o.a. skoolhoofde, beheerliggaamlede, ouers en waarnemers) skoolgeweld in die Vrystaat as 'n ernstige probleem uitbeeld. Dié uitbeelding moet in die lig van navorsingsbevindinge oor skoolgeweld in die Vrystaat beoordeel word.

 

2. WAT IS SKOOLGEWELD?

Henry (2009:1254) se omvattende definisie lees soos volg:

School violence ... is ... any acts, relationships, or processes that use power over others, exercised by whatever means, such as structural, social, physical, emotional, or psychological, in a school or school-related setting or through the organization of schooling and that harm another person or group of people by reducing them from what they are or by limiting them from becoming what they might become for any period of time.

Skoolgeweld omsluit dus antisosiale en/of kriminele gedrag, insluitende vandalisme, diefstal, aanranding en selfs moord, voor of na amptelike skoolure tydens enige skoolverwante aktiwiteit. Voorafgaande definisie beklemtoon die lang- sowel as korttermyninvloed van skoolgeweld op slagoffers, sowel as die onderrig- en leermilieu. Van der Merwe (2011:393) verduidelik skoolgeweld aan die hand van 'n geweldkontinuum. Volgens haar sluit skoolgeweld beledigings, afkraking, haatspraak, dreigemente, treitering en rondstamp in. Soos een tipe gedrag tot 'n ander lei, verhoog die vlak van geweld van bakleiery, seksuele teistering, diefstal, die gebruik van drank en dwelms, die gebruik van wapens, vandalisme, haat, bendebetrokkenheid, die aanhou van gyselaars en verkragting, tot moord en selfdood, wat die einde van die kontinuum is.

 

3. NAVORSING OOR SKOOLGEWELD IN DIE VRYSTAAT

Ten spyte van 'n omvattende soektog na navorsingspublikasies oor skoolgeweld in die Vrystaat, kon slegs enkeles, asook een ongepubliseerde proefskrif (Jacobs 2012) en twee verhandelinge (Greeff 2004; Janse van Rensburg 2010) opgespoor word. Die belangrikste bevindinge van dié studies sal vervolgens aan die orde gestel word. Die doel van die literatuuroorsig is om die wyse waarop Volksblad oor skoolgeweld in die Vrystaat rapporteer binne die konteks van navorsingsbevindinge te plaas.

'n Omvattende studie wat in 2012 deur Burton en Leoschut (2013:20) onderneem is, het bevind dat skoolgeweld 'n ernstige probleem in die Vrystaat is. Leerders (n=5939), skoolhoofde (n=121) en opvoeders (n=239) afkomstig van al nege provinsies het aan die studie deelgeneem. Ongeveer 'n derde (30,4%) van die leerder-respondente afkomstig van die Vrystaat het aangetoon dat hulle slagoffers van skoolgeweld was in die jaar wat die studie voorafgegaan het. Dit is aansienlik meer as die nasionale gemiddeld van 22,2%. Die volgende persentasies toon dat daar, met die uitsondering van diefstal en seksuele aanranding, 'n dalende tendens in verskillende tipes skoolgeweld in die Vrystaat is indien die 2008 (Burton 2008:29) met 2012-syfers (Burton & Leoschut 2013:23) vergelyk word: dreigemente van geweld: 13,2% (2012) - 17,4% (2008); aanranding: 6,4% (2012) - 12,2% (2008); seksuele aanranding: 9,2% (2012) - 2,2% (2008); roof: 7,2% (2012) - 20,9% (2008); en diefstal: 52,0% (2012) - 37,1% (2008). Op grond van die vergelykende statistiek oor die omvang van die verskillende tipes skoolgeweld in die nege provinsies, skryf Burton en Leoschut (2013:23) "[t]he high levels of violence in the Free State in both 2008 and 2012 studies suggest there is an urgent need to prioritise this province when it comes to school safety". Voorts het 12,4% van Vrystaatse leerder-respondente aangedui dat hulle onveilig voel by hulle onderskeie skole. Dié persentasie is statisties beduidend meer as die nasionale gemiddeld (5%, p˂0.05) (Burton & Leoschut 2013:39).

Op grond van vergelykende statistiek oor skoolgeweld in die Vrystaat, Oos-Kaap en Gauteng het Jacobs (2012:222) bevind dat naas die Oos-Kaap skoolgeweld in die Vrystaat die hoogste van die drie provinsies is. Vrystaat-spesifieke statistiek word egter nie verskaf nie. Wolhuter en Van Staden (2008) se navorsingsbevindinge oor skooldissipline, wat onder meer lig werp op fisiese en verbale geweld, is gebaseer op die response van opvoeders afkomstig uit Gauteng, Noordwes en die Vrystaat. Soos die geval met Jacobs se studie, verskaf die twee skrywers ook nie provinsie-spesifieke statistiek nie.

Masitsa (2011:163) se studie oor skoolgeweld in Vrystaatse townships waaraan 396 opvoeders verbonde aan 44 sekondêre skole deelgeneem het, toon dat skole tydens en na skoolure relatief veilige plekke vir beide opvoeders en leerders is. Dit blyk uit sy studie dat die volgende selde indien ooit by die deelnemende opvoeders se skole gebeur: leerders bring gevaarlike wapens skool toe, leerders is gewelddadig of leerders intimideer opvoeders. Tog het hy bevind dat leerders dikwels onder mekaar baklei en mekaar afknou.

Leerders (n=710) verbonde aan twee skole in die Moakeng-distrik in die Vrystaatprovinsie, het aan Jansen van Rensburg (2010:59-60) se studie oor skoolgeweld deelgeneem. Uit die deelnemers se response blyk dit dat fisiese geweld onder leerders 'n probleem by die twee skole is: 27,3% het aangetoon dat dit "gereeld" en 29,5% dat dit "baie gereeld" by hulle skole voorkom. 'n Groot persentasie van die deelnemers (73,6%) het voorts aangedui dat leerders mekaar óf "gereeld" óf "baie gereeld" beledig en slegsê. Die studie het ook na opvoeders as slagoffers en geweldplegers gekyk. Die volgende bevindinge oor leerder-op-opvoeder-geweld kan genoem word: opvoeders is óf "gereeld" (16,%) óf "baie gereeld" (14,6%) deur leerders beledig. Opvoeders is voorts ook "gereeld" (9,2%) of "baie gereeld" (7,4%) deur van hulle leerders te lyf gegaan. Dié studie het ook bevind dat opvoeders leerders beledig (17,6% "gereeld" en 20,6% "baie gereeld") en seksueel teister (6,2% "gereeld" en 8,3% "baie gereeld").

De Wet (o.a. 2005; 2007), asook De Wet en kollegas (o.a. De Wet & Jacobs 2006; De Wet, Jacobs & Palm-Forster 2008) het verskeie publikasies oor verskillende aspekte van skoolgeweld in die Vrystaat die lig laat sien. Enkele van die bevindinge word kortliks aan die orde gestel.

De Wet (2005:82) bevind dat afknouery 'n algemene verskynsel in Vrystaatse skole is. Slegs 16,2% van die 339 sekondêre skoolleerders wat aan hierdie studie deelgeneem het, het aangedui dat die vorm van geweld nie 'n probleem by hulle skole is nie. Voorts het van die respondente aangedui dat hulle slagoffers van verbale (kwetsende aanmerkings) (70,8%) en fisiese (slaan, skop, stamp of enige ander handeling om 'n persoon fisiese skade aan te doen) (32,2%) afknouery was. Navorsing oor afknouery waaraan Vrystaatse opvoeders (n=544) deelgeneem het (De Wet & Jacobs 2006:61), het getoon dat 76,7% van die deelnemers die slagoffers van een of ander vorm van afknouery deur van hulle leerders was. Van die deelnemers het aangedui dat hulle die slagoffers van verbale (48,3%), fisiese (14,3%) en seksuele (11,6%) afknouery was. Dié tipe geweld vind egter nie baie gereeld plaas nie. Die volgende persentasies dui op die respondente wat "een of twee keer 'n week" of "daagliks" daaraan blootgestel was: verbale (9,0%), fisiese (5,5%) en seksuele (2,2%) afknouery (De Wet & Jacobs 2006:61).

'n Studie oor geweld waaraan 801 Vrystaatse opvoeders deelgeneem het, het bevind dat 16,9% van die respondente slagoffers van verbale en 7,1% van fisiese geweld deur leerders was (De Wet 2007:17). Voorts het van die respondente aangetoon dat hulle gehoor het hoe hul kollegas leerders met geweld gedreig het (42,5%) en gesien het hoe van hulle kollegas hul skuldig gemaak het aan fisiese geweld teen leerders (27,1%). Die statistiek moet egter in perspektief geplaas word: slegs 6,5% en 1,9% van die deelnemers het onderskeidelik aangedui dat hulle voorafgenoemde tipes opvoeder-op-leerder-geweld op 'n daaglikse basis gesien of gehoor het.

Uit 'n verkennende studie oor seksuele teistering waaraan 474 Vrystaatse sekondêre skoolleerders deelgeneem het, blyk onder andere die volgende: respondente is deur medeleerders (56,8%) en opvoeders (5,2%) verbaal geteister ("called me 'babe' or 'sexy thing' or 'hot' or something similar"). Respondente is ook blootgestel aan suggestiewe stories of grappe deur medeleerders (45,9%) en opvoeders (8,9%). Respondente het voorts aangedui dat hulle teen hulle wil deur medeleerders (54,6%) en opvoeders (2,1%) gesoen is. Enkele leerders het aangedui dat hulle deur medeleerders (3,6%) en opvoeders (0,6%) verkrag is (De Wet et al. 2008:118).

Navorsing toon dus dat skoolgeweld 'n realiteit in Vrystaatse skole is. Vergelykende studies (Burton 2008:29; Burton & Leoschut 2013:23; Jacobs 2012:222) toon dat skoolgeweld 'n ernstige probleem in die Vrystaat is indien die situasie in die Vrystaat met dié van ander provinsies vergelyk word. Indien van die voorafgaande statistiese data oor geweld in die Vrystaat (o.a. De Wet 2005:82; De Wet et al. 2008:118; Jansen van Rensburg 2010:60) naas die nasionale 2012-gemiddeld (22,2%) (Burton & Leoschut 2013:23) geplaas word, kan ook afgelei word dat skoolgeweld in die Vrystaat 'n ernstige probleem is. Hierdie afleiding word egter met groot omsigtigheid gemaak, want die verskillende studies het op verskillende aspekte van skoolgeweld gekonsentreer én verskillende meetinstrumente, tydskale, statistiese toetse en steekproewe gebruik.

 

4. TEORETIESE RAAMWERK

In navolging van O'Grady et al. (2010:57) word hierdie studie deur sosiaal-konstruktiwisme onderlê in soverre dit betrekking het op die rol van die nuusmedia in die verklaring van misdaad as 'n sosiale probleem. Volgens bogenoemde outeurs het konstruktiwisme 'n belangrike invloed op hoe akademici die verhouding tussen die nuusmedia se uitbeelding van misdaad aan die een kant, en die gemeenskap se persepsies van misdaad aan die ander kant, interpreteer. Hiervolgens, "the media have constructed school shootings as a serious social problem worthy of public attention" (O'Grady et al. 2010:58). Omdat vuurwapengeweld van die omvang van die Columbine en Virginia Tech-skietery nie deel van die Suid-Afrikaanse skoolgeweldtoneel is nie (Jacobs 2014:8), sal hierdie studie ondersoek instel na hoe Volksblad ander vorme van skoolgeweld as 'n sosiale probleem gekonstrueer het. In hierdie studie sal ek toon dat Volksblad, deur byvoorbeeld 'n berig oor die bakleiery tussen twee dogters van Welkom op die voorblad van die koerant te plaas en die gedetailleerde beskrywing van die bakleiery neig tot "distortion or what some moral-panic scholars might call disproportionality" (O'Grady et al. 2010:58). Die tendens word aangevuur deur "the sheer profitability of crime-related news and the extent to which crime news cater to organizational requirements of the news industry" (O'Grady et al. 2010:58).

 

5. NAVORSINGSMETODOLOGIE

Kwalitatiewe inhoudontleding is gebruik om die koerantberigte, briewe aan die pers en redaksionele kommentare te ontleed. Henning, Van Rensburg en Smit (2011:104-106), asook O'Grady et al. (2010:58) se riglyne vir inhoudontleding is benut om die inhoud van die koerantberigte, briewe aan die pers en redaksionele kommentare te verkort, saam te vat en te groepeer. 'n Koderingsraamwerk, wat ook voorsiening vir direkte aanhalings gemaak het, is opgestel. Ek het sistematies deur al die tekste gewerk en hulle gekodeer. Verbandhoudende kodes is gekategoriseer. Hierna het ek weer al die berigte, briewe en redaksionele kommentare gelees om myself te vergewis dat ek die belangrike insigte wat uit die data na vore kom, aangeteken het. Vervolgens is tendense en temas geïdentifiseer en beskryf. Die identifisering van temas het my in staat gestel om die inligting te ontleed en met bestaande literatuur oor skoolgeweld en mediastudies in verband te bring. Ek het tydens die inhoudontleding gepoog om nie te veralgemeen nie, want die doel van die studie was om vas te stel hoe 'n enkele Afrikaanse dagblad oor skoolgeweld verslag doen. Voorts het ek direkte aanhalings met omsigtigheid gekies ter ondersteuning van my argumente. Laasgenoemde drie stappe, naamlik om my bevindinge met vorige navorsingsbevindinge in verband te bring, om te waak teen veralgemenings en die gebruik van gepaste aanhalings het ten doel om die geldigheid van die studie te verhoog (Creswell 2007:226227).

Die korpus van die tekste wat vir ontleding vir hierdie studie uitgekies is, bestaan uit nuusberigte, inligtingsartikels, redaksionele kommentare en briewe aan Volksblad oor skoolgeweld wat oor 'n tydperk van vyf jaar (1 Januarie 2009 tot 31 Desember 2013) in Volksblad verskyn het. Voksblad is die oudste Afrikaanse dagblad in Suid-Afrika. Die koerant het die hoogste sirkulasiesyfer van alle koerante in die Vrystaat. Die koerant word deur middel van afleweringsvoertuie vroegoggend aan verspreidingspunte in al die dorpe en stede in die Vrystaat gelewer. Die koerant vorm deel van die Media 24-groep (Media 24 2014). Die Media 24-groep is ook verantwoordelik vir die publikasie en verspreiding van tien streekskoerante in die Vrystaat, onder andere Vista (Welkom), Kroonnuus (Kroonstad), Maluti (Harrismith) en drie verskillende uitgawes van Express (Goudvelde, Oos-Vrystaat en Mangaung) (Media 24 2015). Die koerante verskyn weekliks. Slegs twee van die koerante wat in die Vrystaat gepubliseer en versprei word, is nie deel van die Media 24-sindikaat nie. Free State Times is 'n Engelstalige weekblad wat in Bloemfontein gedruk en vandaar oor die provinsie versprei word (Free State Times 2015). Bloemfontein Courant, 'n tweetalige weekblad, word deur die Caxton-sindikaat in die Vrystaatse hoofstad gedruk en versprei (Bloemfontein Courant 2015).

Die tekste wat as databasis vir hierdie studie dien, is met behulp van die SA Media-databasis (http://www.samedia.uovs.ac.za/) op 14 April 2014 geïdentifiseer. Die rekenaarsoektog het met behulp van sleutelwoorde (geweld/violence, afknouery/bullying, verkragting/rape, seksuele teistering/sexual harassment, bendes/gangs, onderwys/education, skole/schools) 44 items opgelewer. Berigte wat in sindikaatkoerante (Media 24) verskyn, word eenmalig in SA Media se databasis opgeneem en geïndekseer onder die naam van die koerant wat die berig die eerste keer geplaas het. Dit impliseer dat nie alle nuusberigte wat in Volksblad gepubliseer is tydens my soektog geïdentifiseer kon word nie. Tabel 1 gee 'n opsomming van die korpus van tekste wat ontleed is.

 

 

 

6. BEVINDINGE EN BESPREKING

6.1 Skoolgeweld is 'n ernstige probleem

In onderstaande bespreking word daarop gewys dat Volksblad deur gedetailleerde rapportering suggereer dat skoolgeweld 'n ernstige probleem in die Vrystaat is. In teenstelling met vergelykende navorsingsbevindinge wat daarop dui dat geweld in Vrystaatse skole besig is om af te neem (cf. Afdeling 3), blyk dit uit sommige van die berigte asof die geweld besig is om toe te neem. Die optrede van die geweldplegers is skynbaar ontdaan van enige medemenslikheid.

Uit inligting bekom uit die berigte blyk dit dat Vrystaatse leerders aan fisiese, seksuele en emosionele geweld blootgestel word. Leerders verbonde aan Hoërskool Bloemfontein-Suid (Bürger 2011:14), asook skole in Odendaalsrus (Phillips 2010:4) steek mekaar met messe. Leerders verbonde aan die Hoërskool Dr. Bӧhmer in Bloemfontein gebruik volgens 'n berig deur Damons (2013a:1) drade, ysterpype, stokke en stene as wapens tydens skermutselinge. Volksblad berig ook oor leerders verbonde aan hoërskole in Petrusburg (Ebersohn 2009:5) en Senekal (Van der Merwe 2010a:2) wat skoolmaats met skêre aanval. Vuisgevegte kom skynbaar ook algemeen onder Vrystaatse leerders voor: Volksblad rapporteer oor vuisgevegte by hoërskole in Sasolburg (Britz 2010:4), Brandfort (Coetzee 2009:5) en Welkom (Phillips 2011:1a). Britz (2010:4) rapporteer oor leerders verbonde aan twee skole in Sasolburg wat mekaar skop en klap. Coetzee (2009:5) berig oor 'n gevaarlike boorlaagvat by 'n skool in Brandfort. Insidente waar leerders deur medeleerders (Damons 2011:2) en opvoeders (Welkom) (De Wet 2012:5) verkrag is, word ook aan die kaak gestel. Messtekery by skole het tot die hospitaliserings van die slagoffers gelei (Bürger 2011:14; Ebersohn 2009:5). Van die leerders wat betrokke was by vuisgevegte in Sasolburg het harsingskudding opgedoen (Britz 2010:4). Die boorlaagvat van 'n seun van Brandfort het die slagoffer verlam gelaat (Coetzee 2009:5). In 'n berig word melding gemaak van 'n negejarige leerder van die Laerskool Brandwag in Bloemfontein wat sy opvoeder met 'n hokkiestok geslaan het (Damons 2012:7). 'n Opvoeder van die Hoërskool Sasolburg is deur 'n leerder in die been geskiet (Volksblad 2013:6). "Oproerige druipelinge" verbonde aan 'n skool in Botshabelo - 'n township naby Bloemfontein - het hulle skoolhoof se kantoor met 'n petrolbom aan die brand gesteek, klaskamervensters gebreek, paaie versper en klippe na die polisie, wat na die toneel ontbied is, gegooi (Sapa 2011:2). Uit die berigte blyk dit voorts dat beide opvoeders en leerders slagoffers van emosionele geweld, byvoorbeeld intimidasie (Damons 2011:2), doodsdreigemente (Van der Merwe 2012:1) en verbale treitering (Viviers 2010:11) is. Lesers word dus op 'n gereelde basis met gedetailleerde en ontstellende inligting oor die aard en omvang van skoolgeweld in die Vrystaat gekonfronteer. Volksblad se uitbeelding van skoolgeweld as 'n ernstige probleem in die provinsie, word - soos reeds vermeld - deur navorsing bevestig.

Uit van die nuusberigte wil dit voorkom asof geweld by "spogskole" (Damons 2013c:4), geweldpleging tussen dogters (Viviers 2010:11), leerder-op-opvoeder-geweld (Damons 2012:7), asook afknouery (bullebakkery) (Viviers 2010:11) besig is om toe te neem in Vrysaatse skole. Nie een van die berigte het na statisties-geverifieerde opvolgstudies verwys om die aanname dat genoemde soorte geweld in skole in die provinsie besig is om toe te neem, te verifieer nie. Navorsing wat in die Vrystaat onderneem is, weerlê die aanname van bogenoemde joernaliste dat skoolgeweld besig is om toe te neem in die provinsie: met die uitsondering van diefstal en seksuele geweld is geweld in die provinsie besig om af te neem (Burton 2008:29; Burton & Leoschut 2013:23). Internasionale navorsing deur Kupchik en Bracy (2009:145), asook plaaslike navorsing deur De Wet (2013:370) bevind ook dat mediaberigte daarop aanspraak maak dat skoolgeweld besig is om toe te neem sonder om die aansprake te verifieer. De Wet (2013:370) wys egter op teenstrydige navorsingsbevindinge oor die aard en omvang van skoolgeweld in Suid-Afrika. Dit bemoeilik navorsingsgebaseerde verifiëring van inligting vervat in nuusberigte oor skoolgeweld. Sy is van mening dat navorsers én die media met groot omsigtigheid te werk moet gaan wanneer hulle uitsprake oor die toename van skoolgeweld maak. Die vestiging van die persepsie dat skoolgeweld besig is om toe te neem, kan volgens dié navorsers (De Wet 2013:370; Kupchik & Bracy 2009:145) tot 'n gevoel van vrees onder die gemeenskap lei.

Uit van die berigte wil dit voorkom asof skoolgeweld in die Vrystaat nie net aan die toeneem nie, maar inderwaarheid buite beheer is. Phillips (2010:4) skryf byvoorbeeld dat die polisie gedurende Oktober 2010 "'n katnes van bendebedrywighede by skole in die Noord-Vrystaat oopgekrap" het. De Wet (2010:10) noem dat sowat 24 bendegroepe onder die jeug in Kutloanong, 'n township aangrensend aan Odendaalsrus, bedrywig is. Uit navorsing deur Grapes (2004:6), asook Marsh en Melville (2011:2) blyk dit dat die nuusmedia skoolgeweld redelik algemeen as buite beheer tipeer. Dit blyk uit genoemde twee publikasies dat daar vaagheid is oor wat die media of diegene wat navorsing oor skoolgeweld onderneem as skoolgeweld-buite-beheer beskou. Die volgende aanpassing van die Oregon Department of Human Services (2010:7) se definisie oor gesinsgeweld kan moontlik as 'n riglyn vir besprekings oor skoolgeweld-buite-beheer dien:

Buite beheer beteken dat die gedrag van leerders en/of opvoeders wat 'n invloed op leerders en/of opvoeders kan hê, bandeloos, onbeheerbaar en sonder enige grense of monitering is. Die gedrag is ook nie onderworpe aan enige beïnvloeding of manipulering deur die skool nie. Dit het 'n onvoorspelbare en chaotiese skoolomgewing tot gevolg.

Die definisie impliseer dat die skool nie in staat is om 'n veilige onderrig- en leeromgewing vir leerders en/of werkmilieu vir opvoeders te skep nie.

Deur die gedetailleerde beskrywing van koelbloedige en berekende geweld word die lesers van Volksblad ook gekonfronteer met inligting oor die afwesigheid van medemenslikheid en die berekenheid van sommige van die geweldenaars. In dié verband kan verwys word na 'n berig waarin in besonderhede geskryf is oor 'n leerder verbonde aan 'n skool in Odendaalsrus wat, nadat sy deur twee polisiemanne verkrag is, "uit die motor gegooi [is] en die polisiemanne weggery" het (Damons 2011:2). Van der Merwe (2010a:2) berig oor 'n leerder verbonde aan die Sekondêre Skool E.E. Monese in Senekal wat na 'n konfrontasie met 'n medeleerder huis toe gegaan en 'n mes gaan haal het. Hy het die slagoffer in 'n klaskamer, ten aanskoue van medeleerders en 'n opvoeder, twee keer in die bors gesteek. In haar navorsing oor Rapport se beriggewing oor skoolgeweld in Suid-Afrika het De Wet (2013:369) ook bevind dat joernaliste dikwels insidente oor skoolgeweld in die fynste besonderhede beskryf. Lesers word nie net deur die geskrewe woord nie, maar ook deur videobeelde met skoolgeweld gekonfronteer. Uit die berigte blyk dit dat die neem van video's van geweldsinsidente en die verspreiding daarvan onder medeleerders en die breë publiek deur middel van selfone en sosiale media soos byvoorbeeld YouTube algemeen voorkom (Britz 2010:4; De Wet 2013:1; Phillips 2011a:1). Deur die verskaffing van internetadresse kry die leser toegang tot die opnames (Coetzee 2011:8) en word hulle toeskouers van geweldsinsidente. Deur woord en beeld word skoolgeweld dus tot binne-in die huise van Volksblad-lesers gebring. Dit kan volgens De Wet (2013:369) tot "'n gees van wanhoop en vrees lei".

6.2 Sommige skoolhoofde en rolspelers bevraagteken die wyse waarop Volksblad skoolgeweld uitbeeld

In sommige van die berigte word skoolhoofde aangehaal wat Volksblad daarvan beskuldig dat insidente uit verband geruk óf dat die insidente nooit plaasgevind het nie. In 'n berig deur Coetzee (2009:5) oor 'n beweerde boorlaagvat by 'n skool in Brandfort staan onder andere: "Volgens [die skoolhoof] is die bewerings 'absolute snert'. 'Ek het Maandag weer met die kinders gepraat en ook met Hanru se vriendin. Sy en die kinders het bevestig dat dit nie juis 'n bakleiery was nie. Dit was baie vinnig verby. Daar is nie eers geslaan nie'". Dié kommentaar van die skoolhoof word naas inligting bekom uit onderhoude met leerders, waarin die boorlaagvat-insident in besonderhede beskryf word, geplaas. Die hoof van die Hoërskool AJC Jooste op Petrusburg wou nie kommentaar lewer oor 'n insident waar leerders mekaar met skêre gesteek het nie. Hy het bloot gesê "die voorval word uit verband geruk" (Ebersohn 2009:5). De Wet (2013:366) argumenteer dat hierdie tipe ontkennings, asook betrokkenes se bevraagtekening van die wyse waarop 'n koerant insidente van skoolgeweld uitbeeld, vergestaltings van die "ons is nie so nie"-diskoers is. Diegene met wie joernaliste onderhoude voer, distansieer hulle dikwels van optrede wat in hulle oë onaanvaarbare gedrag is.

Verskeie berigte is geïdentifiseer waarin die skoolhoofde met wie Volksblad onderhoude gevoer het, geweldsinsidente afmaak as normaal en deel van die grootwordproses. Die hoof van 'n skool in Sasolburg het byvoorbeeld aan Britz (2010:4) gesê dat "sporadiese gebrek aan goeie oordeel, volwassenheid en selfbeheersing lei tot die uitbarsting van skolegeweld". Die hoof van 'n skool in Welkom waar 'n vuisgeveg tussen twee meisies plaasgevind het, het aan Phillips (2011a:1) gesê "bakleiery kom gereeld by die skool voor, soos ook by ander skole". Na aanleiding van die vuisgeveg tussen dié twee dogters het Phillips (2011b:2) drie Welkom-skoolhoofde om hulle mening oor skoolgeweld genader. Al drie was dit eens dat bakleiery by skole 'n algemene verskynsel is en dat geen skool daarvan gevrywaar is nie. Ek volstaan by 'n aanhaling uit een van die onderhoude: "Skole moet maar erken, almal het probleme met geweld, niemand is te 'grand' daarvoor nie." Die skoolhoofde suggereer dus dat Volksblad insidente van skoolgeweld oorbeklemtoon en uit verband ruk. Hulle bevraagteken gevolglik die wyse waarop Volksblad skoolgeweld uitbeeld. Nie alle skoolhoofde maak skoolgeweld af as iets algemeen nie. Die hoof van 'n skool in Senekal waar 'n leerder sy klasmaat doodgesteek het, het aan Van der Merwe (2010a:2) gesê: "dit is verskriklik". Die hoof van 'n skool waar 'n medeleerder met 'n ysterpyp geslaan is, sê: "Die voorval word in 'n ernstige lig beskou Dit is baie jammer dat die voorval gebeur het" (Damons 2013b:9).

Nie net skoolhoofde nie, maar ook ouers lewer teenstrydige uitsprake oor die erns van skoolgeweld. Die ma van die seun van Brandfort wat tydens 'n beweerde boorlaagvat beseer is, het die hele insident afgemaak as "'n ongeluk daar was geen bedoeling om hom seer te maak nie 'Ek wil nie hê mense moet die voorval lelik maak nie'" (Coetzee 2009:5). Terwyl die ma die voorval as 'n blote ongeluk wil afmaak, is dit juis die stem van die moeders wat deur van joernaliste aangehaal word om die boodskap uit te dra dat die situasie by van die skole in die provinsie haglik is. Die ma van 'n seun verbonde aan Dr. Bӧhmer Hoërskool in Bloemfontein het byvoorbeeld aan Damons (2013a:1) gesê "dit is 'n risiko om jou kind skool toe te stuur. Elke tweede dag gebeur daar iets en die oortreders is die volgende dag terug by die skool".

Deur 'n stem aan sommige leerders, ouers en skoolhoofde te gee word die indruk geskep dat sommige rolspelers skoolgeweld nóg as 'n probleem nóg as buite beheer sien, maar bloot as deel van die grootwordproses. Hierdie sieninge word naas gedetailleerde berigte oor die geweldsinsidente geplaas. Voorts word die normalisering van skoolgeweld deur van die rolspelers gejukstaponeer met uitsprake deur ouers en skoolhoofde wat bekommerd is oor die vlakke van geweld in Vrystaatse skole. Dit word dus aan die lesers gestel dat van die skoolhoofde óf nie verantwoordelikheid wil aanvaar vir wat by hulle skole gebeur nie óf nie weet wat op hul skoolterreine gebeur nie óf skoolgeweld normaliseer. Volksblad suggereer egter dat die koerant sy verantwoordelikheid om lesers in te lig oor die stand van skoolgeweld in die Vrystaat nakom (vergelyk ook Afdeling 6.3).

Die siening van aangehaalde skoolhoofde dat skoolgeweld 'n algemene verskynsel is, is in lyn met navorsing oor skoolgeweld in Suid-Afrika (Burton & Leoschut 2013; Van der Merwe 2010b:122) en die Vrystaat (De Wet 2005). Clark (2012:84) bevind dat Suid-Afrikaanse leerders geweld in skole as normaal, alledaags en roetine beskou. 'n Studie deur Van der Merwe (2010b:122) onder Gauteng-leerders (n=532) bevind voorts dat leerders 'n pro-geweld-houding openbaar en nie 'n afkeer van die gebruik van geweld toon nie. Meer as die helfte van die deelnemers aan haar studie het byvoorbeeld aangetoon dat hulle nie sou huiwer om hulle tot geweld te wend om hulself of hul eiendom te beskerm nie. Burton en Leoschut (2013:15) waarsku tereg dat bakleiery - wat in genoemde navorsers se vraelys as 'n vorm van skoolgeweld geïdentifiseer is - so 'n algemene verskynsel in Suid-Afrikaanse skole is dat "it has long been considered normal adolescent and playground behaviour".

6.3 Sensasionele beriggewing

Navorsers maak dikwels die beskuldiging dat die media insidente van skoolgeweld oorbeklemtoon ter wille van sirkulasiesyfers (Mills & Keddie 2010:428). Jemphrey en Berrington (2000:479) argumenteer dat "as long as there is a market for prurience, sensation and intrusion, newspapers will try to meet public demand." Grabe, Zhou en Barnett (2001:637) onderskei as volg tussen sensasionele en korrekte beriggewing:

While sensationalism is characterized as content that amuses, titillates, and entertains, "proper" news is commended for its assumed ability to enhance the political and social knowledge of the audience by appealing to reason over emotion.

Masitsa (2011:171), asook Burton en Leoschut (2013:2) argumenteer dat sensasionele beriggewing oor skoolgeweld tot 'n skeefgetrekte beeld van die werklikheid kan lei. In sy studie oor skoolgeweld, bevind Masitsa (2011:171) dat Vrystaatse township-skole relatief veilige plekke is. Masitsa (2011:171) skryf dat "the situation regarding the learners' safety in the Free State is not as critical as portrayed by the literature, and in particular, by the media".

Die beskuldiging deur skoolhoofde dat Volksblad 'n skeefgetrekte beeld van skoolgeweld gee, wentel hoofsaaklik rondom 'n 2011-nuusberig oor 'n vuisgeveg tussen twee skooldogters van Welkom. Die volgende is 'n uittreksel uit die berig:

In die video moedig die vloekende omstanders, party met sigarette in hul hande, die meisies die hele tyd aan om mekaar te slaan. Dit is nie duidelik wat die oorsaak van die bakleiery is nie. Die donkerkopmeisie vat eers 'n teug aan 'n sigaret voordat sy die eerste hou ingekry het. Haar blonde teenstander word deur een van die seuns nader gestamp toe sy nie gou genoeg aan die geveg begin deelneem nie. Later het die blonde meisie bloed aan haar mond. (Phillips 2011a:1)

Na aanleiding van bogenoemde berig het die hoof van die skool waar die bakleiery plaasgevind het en die voorsitter van die beheerliggaam briewe aan Volksblad geskryf. Hoewel hulle die voorval betreur, spreek die twee briefskrywers fel kritiek uit teen die wyse van beriggewing. Die skoolhoof skryf onder andere "vir jare is ons skool op veral akademiese gebied die toonaangewende skool in Lejweleputswa en was die voorbladdekking van 'n negatiewe insident in ons skool seker te wagte" (Scott 2011:4). Die volgende is 'n uittreksel uit die voorsitter van die beheerliggaam se brief:

Die feit dat 'n paar leerders hulle so sleg gedra en dan die res van die skool daaronder laat ly, is sekerlik nie regverdig nie. Tog ook jammer dat die media net oor die negatiewe berig en nalaat om te berig oor al die mooi geleenthede waar ons skool 'n sieraad vir die gemeenskap is. tog sorg sensasionele beriggewing dat net die negatiewe die voorblad haal. (Nieuwoudt 2011:6)

Die uitsprake van die skoolhoof (Scott 2011:4) en voorsitter van die beheerliggaam (Nieuwoudt 2011:6) sluit aan by die reeds vermelde "ons is nie so nie"-diskoers (cf. De Wet 2013:366). Terwyl skoolhoofde (sien ook Afdeling 6.1) en 'n beheerliggaamvoorsitter (Nieuwoudt 2011:6) die reg van die publiek om ingelig te word oor wat in skole aangaan teenoor die beeld van die skool plaas, lê die ombudsman van Volksblad klem op die rol van die koerant as inligtingsbron. In 'n rubriek reageer die ombudsman (Coetzee 2011:8) as volg op Nieuwoudt (2011:6) en Scott (2011:4) se aantygings dat die beriggewing sensasioneel was en dat gebeure uit verband geruk is:

As Volksblad nie hieroor berig het nie, of dit 'versag' het, sou dit uit verband geruk en skeefgetrek wees - eenogige, gemanipuleerde sonskynjoernalistiek is in niemand se belang nie. Dit druis in teen dié koerant se werk - hy is die 'spieël' van die gemeenskap. En nie die 'hefboom' om goed of sleg te probeer bewerkstellig nie.

Coetzee (2011:8) se siening is in lyn met dié van 'n kenner van skoolgeweld, Kobus Maree. Tydens 'n onderhoud met Phillips (2011a:1) sê hy: "Die media verdien 'n klop op die skouer, omdat die video aan die groot klok gehang is. Dit moet uitgelig word, want mense moet weet wat aangaan". Die ombudsman se regverdiging van die plasing van 'n gedetailleerde beskrywing wat by tye herinner aan populêre fiksie (Phillips 2011a:1) laat die indruk by lesers dat skoolhoofde (en lede van hulle beheerliggame) in ontkenning oor skoolgeweld leef en hulle verlang skynbaar "eenogige, gemanipuleerde sonskynjoernalistiek" (Coetzee 2011:8). In aansluiting by Maree en Coetzee se argumente, skryf Grabe et al. (2001:636):

... sensationalism plays an important role in maintaining a society's commonly shared notions of decency and morality by publicly showcasting what is unacceptable.

Terwyl sensasionele beriggewing soos dié van Phillips (2011a:1) moontlik deur die winsmotief gedryf kon gewees het, kan daar volgens Grabe et al. (2001:637) nie ontken word dat sensasionalisme 'n belangrike rol in die openbare bewusmaking van 'n sosiale euwel speel nie. Volgens hulle gebruik joernaliste dikwels sensasionalisme "to incite the public to act against perceived injustices". Volksblad se sensasionele beriggewing oor 'n vuisgeveg tussen twee dogters illustreer ook die privaatnuusmedia se dubbele rol in 'n demokrasie, naamlik om die publiek in te lig oor onaanvaarbare gedrag én om om te sien na die belange van eienaars en aandeelhouers.

Desnieteenstaande die sensasionele aard van Phillips (2011a:1) se berig moet gemeld word dat joernaliste werksaam by Volksblad op die oog af uit hulle plek gegaan het om 'n stem aan skoolhoofde te verskaf (Ebersohn 2009:5). Dit is dikwels die keuse van die skoolhoofde of hulle 'n sogenaamde "amptelike" weergawe van gebeure wil verskaf of nie (Coetzee 2009:5). Voorts is in feitlik al die ontlede nuusberigte ten minste twee inligtingsbronne aangehaal. Inligtingsbronne sluit veral ouers, getuies (medeleerders of lede van die gemeenskap), departementele woordvoerders, opvoeders, skoolhoofde of kundiges in. Dit het aan die berigte geloofwaardigheid verskaf (De Wet 2013:366; Tiung & Hasim 2009:422).

 

7. SLOTGEDAGTES EN AANBEVELINGS

Nuusberigte, briewe aan Volksblad en redaksionele kommentare wat oor 'n tydperk van vyf jaar in Volksblad verskyn het, beeld skoolgeweld in die provinsie uit as 'n ernstige probleem. Volgens die inligting bekom uit Volksblad-artikels wat as databasis vir hierdie artikel gedien het, is leerders, opvoeders en lede van die gemeenskap nie net slagoffers nie, maar ook skuldig aan die pleeg van fisiese, seksuele, emosionele en verbale dade van geweld op die skoolterrein en tydens skoolaktiwiteite tydens en na skoolure buite die skoolterrein (cf. Henry 2009:1254 se defininsie oor skoolgeweld). Uit van die nuusberigte wil dit voorkom asof skoolgeweld besig is om toe te neem en moontlik buite beheer is. In van die berigte oor geweld-buite-beheer word dié gedetailleerde beskrywings van geweldsinsidente gejukstaponeer met die stemme van skoolhoofde en ander belanghebbendes wat Volksblad daarvan beskuldig dat die koerant geweldsinsidente buite verband ruk, onwaarhede publiseer en dat geweld (byvoorbeeld bakleiery tussen leerders) deel van die grootwordproses is. Voorts stel Volksblad die beskuldigings deur veral skoolhoofde dat die koerant 'n skeefgetrekte beeld van skoolveiligheid gee teenoor die koerant se verantwoordelikheid om sy lesers op hoogte te hou van wat in skole gebeur. Die jukstaponering van Volksblad se uitbeelding van insidente van skoolgeweld en skoolhoofde se siening van wat by hulle skole gebeur, dui op die komplekse verhouding tussen die media en skole: skole wil die media as beeldbouers gebruik, die media wil skoolgeweld gebruik om sirkulasiesyfers te verhoog. Terwyl rolspelers - in besonder skoolhoofde - besonder krities is oor die wyse waarop Volksblad oor skoolgeweld rapporteer, bied die tipe beriggewing juis aan Volksblad die geleentheid om sy verantwoordelikheid teenoor eienaars en aandeelhouers, maar ook sy rol as waghond in 'n demokratiese samelewing na te kom: sensasionele beriggewing lei tot groter sirkulasiesyfers én hou die publiek op hoogte van 'n belangrike sosiale euwel.

Die Volksblad se uitbeelding van skoolgeweld as 'n ernstige probleem in die Vrystaat stem ooreen met ander navorsingsbevindinge (cf. Afdeling 3). Die skepping van 'n bewustheid oor die aard en omvang van skoolgeweld in die Vrystaat kan moontlik onderwysbelanghebbende sosiale strukture soos die staat, die gesin en breër gemeenskap, asook handel en industrie motiveer tot standpuntinname en optrede teen skoolgeweld. In hierdie bewusmaking van 'n sosiale euwel speel koerante soos Volksblad dikwels 'n belangriker rol as navorsingspublikasies (cf. Afdeling 1). In 'n provinsie waar 'n enkele koerant feitlik 'n monopolie het, moet Volksblad 'n fyn balans handhaaf tussen winsbejag en sy funksie om sy lesers in te lig oor sosiale euwels soos skoolgeweld. Laasgenoemde kan moontlik die Volksblad-lesers in staat stel om aan openbare debatte deel te neem en om ingeligte besluite te neem. Terwyl sensasionele berigte oor insidente van skoolgeweld 'n groter bewustheid by die algemene publiek oor skoolgeweld kan skep, moet verantwoordelike, deeglik nagevorsde beriggewing die norm bly. Joernaliste moet daarna streef om op 'n eerlike, akkurate en gebalanseerde wyse oor skoolgeweld te rapporteer. Insidente van skoolgeweld moet binne konteks en op 'n genuanseerde wyse - in lyn met die bepalings van die Suid-Afrikaanse Mediakode - aan die lesers van Volksblad voorgehou word (cf. Press Council 2015). Dit is egter ook belangrik dat veral skoolhoofde die nuusmedia eerder as 'n vennoot in hul stryd teen skoolgeweld sien, as die vyand wat daarop uit is om die beeld van die skool af te kraak. Kampvegters vir skoolveiligheid, onder andere opvoeders, ouers, gemeenskapsleiers, provinsiale en nasionale onderwysdepartemente, die Suid-Afrikaanse Polisiediens, sielkundiges en akademici, moet in samewerking met die nuusmedia hulle beywer vir die aanvaarding en implementering van skoolveiligheidsbeleide op nasionale, provinsiale en skoolvlak.

 

BIBLIOGRAFIE

Altheide, D.L. 2009. The Columbine shootings and the discourse of fear. American behavioural scientist, 52(10):13541370.         [ Links ]

Bloemfontein Courant. 2015. About us. http://www.bloemfonteincourant.co.za/content/6/About-Us [30 Januarie 2015].         [ Links ]

Britz, J. 2010. 'Kommerwekkend dat leerlinge gevegte aanhits en video's maak'. Volksblad, 1 Desember: 4.         [ Links ]

Bürger, V. 2011. Leerling van Bfn met mes gesteek. Volksblad, 31 Augustus: 14.         [ Links ]

Burton, P. 2008. Merchants, skollies and stones. Experiences of school violence in South Africa. Cape Town: Centre for Justice and Crime Prevention.         [ Links ]

Burton, P. & Leoschut, L. 2013. School violence in South Africa. Results of the 2012 National School Violence Study. Cape Town: Centre for Justice and Crime Prevention.         [ Links ]

Chyi, H.I. & McCombs, M. 2004. Media salience and the process of framing: coverage of the Columbine school shooting. Journalism & Mass Communication Quarterly, 81(1):2235.         [ Links ]

Clark, J.N. 2012. Youth violence in South Africa: the case for a restorative justice respons. Contemporary Justice Review, 15(1):7795.         [ Links ]

Coetzee, S. 2009. Bewerings oor bakleiery by skool onwaar - hoof. Volksblad, 27 Mei: 5.         [ Links ]

Coetzee, G. 2011. Die nuus gebeur. Volksblad, 1 September: 8.         [ Links ]

Creswell, J.W. 2007. Educational Research. 3rd edition. Pearson: Upper Saddle River, New Jersey.         [ Links ]

Damons, A. 2011. Polisiemans praat glo by skool; verkrag toe meisie. Volksblad, 28 Mei: 2.         [ Links ]

Damons, A. 2012. Geweld teen onnies aan die toeneem. Volksblad, 6 Augustus: 7.         [ Links ]

Damons, A. 2013a. Ouers vrees vir kinders se veiligheid by Dr. Bӧhmer. Volksblad, 6 September: 1.         [ Links ]

Damons, A. 2013b. Leerkrag het kind gered. Volksblad, 2 September: 9.         [ Links ]

Damons, A. 2013c. Seuns pak mekaar in bakleiery by nog 'n spogskool. Volksblad, 22 Mei: 4.         [ Links ]

Dempers, A. 2013. As meneer en juffrou geboelie word. Volkblad, 31 Augustus: 5.         [ Links ]

De Wet, C. 2003a. Misdaad in die Suid-Afrikaanse onderwys soos weerspieël deur die gedrukte media. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Opvoedkunde, 23(2):113121.         [ Links ]

De Wet, C. 2003b. 'n Media-analise oor misdaad in die Suid-Afrikaanse onderwys. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Opvoedkunde, 23(1):3644.         [ Links ]

De Wet, C. 2005. The nature and extent of bullying in Free State secondary schools. South African Journal of Education, 25(2):8288.         [ Links ]

De Wet, C. 2007. Educators as perpetrators and victims of school violence. Acta Criminologica, 20(2):1042.         [ Links ]

De Wet, C. 2013. Rapport se beriggewing oor skoolgeweld 1994-2011: 'n multidimensionele sosiale probleem. LitNet Akademies, 10(1):341-379.         [ Links ]

De Wet, C. & Jacobs, L. 2006. Educator-targeted bullying: fact or fallacy? Acta Criminologica, 19(2):5373.         [ Links ]

De Wet, C., Jacobs, L. & Palm-Forster, T. 2008. Sexual harassment in Free State secondary schools: an exploratory study. Acta Criminologica, 21(1):97122.         [ Links ]

De Wet, T. 2010. Bendeprobleme onder jeug op Odendaalsrus, Volksblad, 24 Maart: 10.         [ Links ]

De Wet, T. 2012. Leerkrag gestraf oor verkragting. Volksblad, 24 Januarie: 5.         [ Links ]

De Wet, T. 2013. Seun agter tralies oor seksklag; maats het glo foto's. Volksblad, 7 Maart: 1.         [ Links ]

Dimitrova, D.V. & Lee, K.S. 2009. Framing Saddam's execution in the US press. Journalism Studies, 10(4):536550.         [ Links ]

Ebersohn, K. 2009. Leerling met skêr by skool gesteek. Volksblad, 14 September: 5.         [ Links ]

Ertm, G., Donmez, Y.C. & Oksel, E. 2010. An investigation of nursing news in Turkish daily newspapers. Social behaviour and personality, 38(5):577582.         [ Links ]

Free State Times. 2015. Free State Times. The leading provincial newspaper. http://fstimes.co.za [27 Januarie 2015].         [ Links ]

Grabe, M.E., Zhou, S. & Barnett, B. 2001. Explicating sensationalisms in television news: content and the bells and whistles of form. Journal of Broadcasting & Electronic Media, 45(4):635-655.         [ Links ]

Grapes, B.J. 2004. Violent children. San Diego: Greenhaven Press.         [ Links ]

Greeff, P. 2004. The nature and prevalence of bullying during the intermediate school phase. Unpublished MA thesis. Bloemfontein: University of the Free State.         [ Links ]

Henning, E., Van Rensburg, W. & Smit, B. 2011. Finding your way in qualitative research. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Henry, S. 2009. School violence beyond Columbine: a complex problem in need of an interdisciplinary analysis. American Behavioral Scientist, 52(9):12461265.         [ Links ]

Herda-Rapp, A. 2003. The social construction of local school violenc threats by the news media and professional organizations. Social Inquiry, 73(4):545574.         [ Links ]

Jacobs, L. 2012. School violence: a multidimensional educational nemesis. Unpublished PhD thesis. Bloemfontein: University of the Free State.         [ Links ]

Jacobs, L. 2014. Framing of school violence in the South African printed media - (mis)information to the public. South African Journal of Education, 34(1):116.         [ Links ]

Jansen van Rensburg, A.J. 2010. Dimensions, coping strategies and management of school-based violence. Unpublished MSocSc. Bloemfontein: University of the Free State        [ Links ]

Jemphrey, A. & Berrington, E. 2000. Surviving the media: Hillsborough, Dunblane and the press. Journalism Studies, 1(3):469483.         [ Links ]

Johnson, D.E. 2014. The mass media's dual role: 'watchdog' and guardian of their own interests. Journal of Public Affairs, 14(3):369-378.         [ Links ]

Kim, S., Han, M., Choi, D. & Kim, J. 2012. Attribute agenda setting, priming and the media's influence on how to think about a controversial issue. The International Communication Gazette, 74(1):43-59.         [ Links ]

Kupchik, A. & Bracy, N.L. 2009. The news media on school crime and violence: constructing dangerousness and fuelling fear. Youth violence and juvenile justice, 7(2):136155.         [ Links ]

Marsh, I. & Melville, G. 2011. Moral panic and the British media - a look at some contemporary 'folk devils'. Internet Journal of Criminology, 1-22. www.internetjournalofcriminology.com [29 Januarie 2015].         [ Links ]

Masitsa, M.G. 2011. Exploring safety in township secondary schools in the Free State province. South African Journal of Education, 31:163174.         [ Links ]

Media 24. 2014 Volksblad. http://www.media24.com/en/newspapers/dailies/volksblad.html [29 Mei 2014].         [ Links ]

Media 24. 2015. Media 24 - alle handelsmerke. http://www.media24.com/af/newspapers/ [27 Januarie 2015].         [ Links ]

Media Club South Africa. 2015. The media in South Africa http://www.mediaclubsouthafrica.com/component/content/article?id=110:the-media-in-south-africa [28 Januarie 2015].         [ Links ]

Mncube, V. & Harber, C. 2013. The dynamics of violence in schools in South Africa. Report 2012. Pretoria: Unisa.         [ Links ]

Mills, M. & Keddie, A. 2010. Cultural reductionism and the media: polarising discourses around schools, violence and masculinity in an age of terror. Oxford Review of Education, 36(4):427-444.         [ Links ]

Muschert, G.W. 2007. The Columbine victims and the myth of the juvenile superpredator. Youth violence and juvenile justice, 5(4):251366.         [ Links ]

Nieuwoudt, A. 2011. Goudveld-HS se intergriteit bly staan. Volksblad, 2 September: 6.         [ Links ]

Nel, J. 2013. Geweld glo ergste in skole in VS. Volksblad, 18 April: 7.         [ Links ]

O'Grady, W., Parnaby, P.F. & Schikschneit, J. 2010. Guns, gangs, and the underclass: a constructionist analysis of gun violence in a Toronto high school. Canadian Journal of Criminology and Criminal Justice, 52(1):5577.         [ Links ]

Oregon Department of Human Services. 2010. Child welfare practices for cases of domestic violence. Salem, Oregon: Oregon Department of Human Services.         [ Links ]

Phillips, M. 2010. Polisie pak bendegeweld in skole met projekte. Volksblad, 24 November: 4.         [ Links ]

Phillips, M. 2011a. Meisies laat vuiste by skool klap. Volksblad, 27 Augustus: 1.         [ Links ]

Phillips, M. 2011b. Alle skole het probleme met geweld, sê skoolhoof. Volksblad, 31 Augustus: 2.         [ Links ]

Press Council. 2015. South African press code. http://www.presscouncil.org.za/ContentPage?code=PRESSCODE [29 Januarie 2015].         [ Links ]

Prinsloo, J. & Neser, J. 2007. Skoolgeweld en portuurgroep-viktimisering in openbare skole in Tshwane-Suid. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 47(3):320330.         [ Links ]

Riaz, S. 2011. Role of news media in a democratic society. FWU Journal of Social Sciences, 4(2):89-98.         [ Links ]

Sapa. 2011. Druipelinge oproerig by skool. Volksblad, 12 Januarie: 2.         [ Links ]

Scott, S.W.P. 2011. Skoolhoof reageer oor bakleiers. Volksblad, 31 Augustus: 4.         [ Links ]

Stabstein, J.C. 2013. News reports of bullying-related fatal and nonfatal injuries in the Americas. Rev Panam Salud Publica, 33(1):378382.         [ Links ]

Tiung, L.K. & Hasim, M.S. 2009. Media framing of a political personality: a case study of a Malaysian politician. European Jounal of Social Sciences, 9(3):408424.         [ Links ]

Van der Merwe, J. 2010a. Leerling by skool met mes doodgesteek. Volksblad, 21 Januarie: 2.         [ Links ]

Van der Merwe, J. 2012. VS-leerkrag vrees 666. Volksblad, 18 September: 1.         [ Links ]

Van der Merwe, N. 2010. A quantitative study on the pro-violence attitudes among learners in South Africa. Acta Criminologica, Conference edition 1: 107-125.         [ Links ]

Van der Merwe, P. 2011. 'n Skoolgebaseerde sosiaal-emosionele program as strategie teen misdaad en geweld. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 51(3):388-402.         [ Links ]

Verhoef, C. 2010. Bakleiery by skool verwerp. Volksblad, 28 September: 6.         [ Links ]

Viviers, G. 2010. Meisies raak ál meer afknouerig en geniepsig. Volksblad, 22 April: 11.         [ Links ]

Volksblad. 2013. SA onderwyslui só uitgelewer, 25 September: 6.         [ Links ]

Wasserman, H. & De Beer, A. 2005. Which public? Whose interest? The South African media and its role during the first ten years of democracy. Critical Arts, 19(1 & 2): 36-51.         [ Links ]

Wolhuter, C.C. & Van Staden, J.G. 2008. Bestaan daar 'n dissiplinekrisis binne Suid-Afrikaanse skole? Belewenis van opvoeders. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 48(3):389-398.         [ Links ]

 

 

 

Corene De Wet is professor in Vergelykende Opvoedkunde verbonde aan die Skool vir Oopleer, Universiteit van die Vrystaat. In 1991 verwerf sy 'n DEd in Vergelykende Opvoedkunde en in 1998 'n PhD in Geskiedenis. Sy is die outeur en mede-outeur van meer as 90 portuurbeoordeelde artikels in nasionale en internasionale tydskrifte, asook twee hoofstukke in akademiese boeke. Sy het verskeie voordragte by Suid-Afrikaanse en internasionale konferensies gelewer. Haar navorsing fokus eerstens op skoolgeweld en treitering, tweedens op opvoeders as slagoffers en aggressors in situasies van werkplekteistering, en derdens op oop- en afstandsleer. Sy is lid van die redaksie van die South African Journal of Education en Perspectives in Education. Sy is 'n C2-gegradeerde navorser.
Corene De Wet is professor in Comparative Education at the School of Open Learning, University of the Free State. She holds a DEd in Comparative Education (1991) and a PhD in History (1998). She has authored and co-authored more than 90 articles in national and international peer reviewed journals, as well as two chapters in books. She presented numerous papers at South African and international conferences. Her research focuses firstly on violence, bullying and sexual harassment amongst learners, secondly on educators as victims and perpetrators of workplace bullying and violence, and thirdly on open and distance learning. She serves on the editorial board of the South African Journal of Education and Perspectives in Education. She is a C2 NRF rated researcher.
1 Kyk onder meer Chyi & McCombs (2004:22); De Wet (2003b:36); Dimitrova & Lee (2009:538); Jacobs (2014:3); Kupchik & Bracy (2009:137).

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons