SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.55 número3Church commitment amongst the younger generations: Is relationship marketing the key?Principals' educational practices in the field of rural villages índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.55 no.3 Pretoria sep. 2015

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2015/V55N3A7 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS

 

Die nuwe bedreiging van samelewingsvryhede: 'n Terugkeer tot Christen-vervolging?

 

The new Threat to Societal Freedoms: A return to the persecution of Christians?

 

 

Danie Strauss

Skool vir Filosofie, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom Kampus. E-pos: dfms@cknet.co.za

 

 


OPSOMMING

Ten spyte van die ruimte wat deur verskillende Aktes van Menseregte vir persoonlike (en kollektiewe) vryhede geskep is, insluitende persoonlike akademiese vryheid en geloofsvryheid, het daar gedurende die afgelope paar dekades ontwikkelinge ingetree wat sterk aan totalitêre tendense herinner wat ook tydens die vroeë geskiedenis van die Christendom na vore getree het. Hierdie verwikkelinge is besig om opnuut die sinvolle onderskeiding tussen strukturele pluralisme en 'n pluralisme van oortuigings te ondergrawe. Die wyse waarop die openbare skole in die VSA immers tans, op die basis van die positivistiese postulaat van "objektief-neutrale" wetenskap, die Darwinistiese Ortodoksie in biologie-onderrig tot 'n dogma proklameer wat bo enige kritiek verhewe is, getuig inderdaad van 'n sonderlinge terugkeer tot die lank-agterhaalde vroeg-Middeleeuse era van Christen-vervolging, beliggaam in 'n vorm van wetenskaplike fascisme waarin akademiese vryheid, vryheid van spraak, vrye openbare meningsuiting en persoonlike geloofsvryheid op die altaar geplaas word. Na 'n vlugtige verwysing na die situasie in Nederland sluit die artikel af met vermelding van positiewe elemente in die nuwe Suid-Afrika van vandag. Tog belig 'n onlangse ervaring van die outeur van hierdie artikel die deurskemering van iets wat 'n kommerwekkende ooreenkoms toon met dit wat tans in Amerika in swang is (sien die Aanhangsel).

Trefwoorde: Gedifferensieerde samelewing, samelewingsvryhede, strukturele differensiasie, rigting-differensiasie, strukturele pluralisme, rigting-pluralisme, outonomie, persoonlike vryheid, akademiese vryheid, vryheid van spraak, kompetensiesfeer, regsgelykheid


ABSTRACT

Societal freedoms need to be understood both in terms of structural pluralism and directional pluralism. The former concerns personal freedom as well as the plurality of societal entities present in a differentiated society while the latter accounts for the freedom allowing diverging life- and worldviews to live to the full their deepest convictions in all walks of life, liberated from any form of unlawful interference. Acknowledging this distinction exceeds the limitations of the underlying atomistic (individual-centric) underpinnings of modern social contract theories (such as is found in Locke's view: "for all being kings as much as he, every man his equal"). This spirit is breathed by the so-called "conscience clause" almost hundred years ago introduced in the Private Law of South African universities (it started with the University of South Africa and the University of Stellenbosch, respectively in 1916 and 1917). The University of Potchefstroom as well as the Homeland universities did not inherit this clause. It is striking that universities, as academic institutions, were confronted with a religious clause, as if a university is a faith community. The conscience clause is still at home within the positivist idea of an un-prejudiced, objective and neutral science mediated by factual sense data. This positivist view was thoroughly criticised by the philosophy of science of the previous century (Kuhn, Popper, Lakatos, Toulmin, Stegmüller and many others). The idea of an autonomous individual gave way to the collective identity of supra-individual institutions, which had to account for their directional orientation by formulating mission and vision statements. It falls outside the sphere of competence of the government to interfere with the directional choice of a citizen in non-political contexts - and the same applies to the domain of the public opinion. In the Netherlands it is still possible, for example, to promote the ideals of a specific trend of thought in scholarly pursuits by establishing special chairs at public universities. During the third decade of the 20th century this was done by the Bolland Foundation which established in Leiden a special chair in Hegelian Philosophy. At the moment there are still special chairs in Reformational Philosophy at six public universities in the Netherlands. Academic freedom, individually and collectively, entails directional freedom. Currently the Darwinian orthodoxy in the USA controls the teaching of biology to such an extent that no biology teacher is even allowed to raise scientific criticism against Darwinism. It contains a threat to various freedoms, amongst which are freedom of speech, freedom of thought, academic freedom, and religious freedom. This is amply demonstrated by Jerry Bergman in his work, Slaughter of the Dissidents (2008). Similar to what was required in the Soviet Union of the 20thcentury, biology teachers in the USA now have to be atheists. The "in-between-position" of theistic evolutionists, which holds that God directed evolution (a process which is actually, according to Darwinism, undirected) is even worse in the eyes of Darwinian orthodoxy, because it violates the church-state division by smuggling God back into the classroom. In his Review of Bergman's book, Brian Thomas remarks that all "Darwin Doubters" are seen as "creationists." Althouh highly qualified, these scientists were threatened, while losing opportunities, jobs and even whole careers because of their doubts about the standard evolutionary story. Bergman remarks that this situation already "claimed many thousands of victims." This completes the circle, reminding us of what happened in early Christendom during the persecution of Christians. Fortunately, there is positive legislation in South Africa which avoids this extreme position. However, a recent experience of the author of this article apparently highlights the emergence of something similar to what is happening in the USA (see the brief Appendix).

Key Concepts: Differentiated society, societal freedoms, structural differentiation, directional differentiation, directional pluralism, autonomy, personal freedom, academic freedom, freedom of speech, sphere of competence, legal equality


 

 

INLEIDEND

Na die aanvanklike vervolging van die vroeë Christene het dit eeue geduur alvorens die moderne regstaat daarin kon slaag om samelewingsvryhede tot hul reg te laat kom. Die Grieks-Middeleeuse erfenis asook die eerste moderne staatsteorieë (Machiavelli en Hobbes) kon weliswaar nie daarin slaag om samelewingsvryhede te verskans nie (vgl. Strauss 2015). Selfs die teorieë van Locke, Rousseau en Kant het hierdie tekortkoming besit. Gevolglik hoef dit ons nie te verbaas dat daar gedurende die tweede helte van die 20ste eeu en die begin van die 21ste eeu binne sogenaamde "liberaal-demokratiese" state opnuut 'n bedreiging vir samelewingsvryhede ontstaan het nie. Die stryd om persoonlike en kollektiewe (nie-staatlike) vryhede binne 'n gedifferensieerde samelewing te beveilig beleef immers tans 'n hernieude aanslag vanuit die moderne humanistiese lewensbeskouing. Benewens die strukturele differensiasie wat binne 'n samelewing voltrek mag word kan daar immers ook 'n rigting-differensiasie na vore tree.

Hoe behoort die owerheid van 'n regstaat juridies op so 'n situasie te reageer?

 

STRUKTURELE PLURALISME EN PLURALISME VAN OORTUIGINGS

Wanneer 'n proses van samelewingsdifferensiasie beslag kry in die uitkristallisering van struktuur-tipiese samelewingsvorme, kom ons te staan voor 'n voorbeeld van strukturele pluralisme. Slegs binne die kader van 'n veelheid (pluraliteit) nie-staatlike samelewingsvorme (met hul tipies-onderskeie sfere van samelewingsvryhede) asook allerlei vorme van persoonlike vryheid, kan onder meer geloofsvryheid juridies geborg word.

Merkwaardig genoeg het die enkeling-sentriese (individualistiese) inslag van die klassiek-liberale staatsidee tot 'n siening van akademiese vryheid gelei wat nie genoegsaam ag geslaan het op bo-individuele (kollektiewe) verbintenisse nie. Die idee van gelyke koningsmense is immers die kern van Locke se politieke filosofie: "for all being kings as much as he, every man his equal" (Chapter IX, §123; Locke 1966:179). Glendon (1991:70) wys daarop dat die "idea of the human person as a free self-determining individual" gemeenskaplik aan alle Westerse regstelsels is. Sedert die Renaissance is daar klem op die vermeende vryheid en outonomie van die mens gelê - en dit sou uiteindelik in die denke van Rousseau beslag kry in die humanistiese outonomie-opvatting waarvolgens "vryheid gehoorsaamheid aan die wet [is] wat die mens vir sigself gestel het" (Rousseau 1975:247). Dat hierdie outonomie-idee tot die self-opheffing van die idee van outonome vryheid gelei het, laat ons tans daar en verwys bloot na sy siening dat die almagtige volkswil die "ongehoorsame minderheid" sal dwing om (gehoorsaam en derhalwe) vry te wees (Rousseau 1975:246)!

Skillen (1994:61 ff.) beklemtoon die belang van 'n erkenning van die aard van 'n gedifferensieerde samelewing en waarsku teen die negatiewe effek van ongedifferensieerde diskoerse. Die moontlikheid om by 'n ernstige diskussie van regte betrokke te raak, is volgens hom afhanklik van 'n openheid "to the consideration of society's differentiated structure" want slegs dan kan die ongedifferensieerde "moralismes" van waaruit oor regte nagedink word deurbreek word: "Our aim is to open a window on a distinctive approach to public-moral discourse that breaks through the undifferentiated moralisms and 'rights talk' that dominate political and legal arguments in the United States today" (Skillen 1994:68).

Wend ons die blik na Suid-Afrika is dit opvallend dat daar bykans'n honderd jaar gelede 'n klousule in die privaatwet van verskillende Suid-Afrikaanse universiteite ingevoeg is wat onder meer op die beskerming van die persoonlike vryheid van dosente en studente gerig is. In die meeste Westerse samelewings is universiteite tewens selfstandige staatsondersteunde inrigtings, waaruit volg dat dergelike universiteite oor 'n eie (parlementêr-goedgekeurde) privaatwet beskik. In Suid-Afrika het die owerheid egter sedert 1916 hierdie kousule, wat as die "gewetensklousule" bekend sou staan, in die privaatwet van universiteite ingevoeg. Die Universiteit van Suid-Afrika, die Universiteit van Kaapstad en die Universiteit van Stellenbosch (eersgenoemde in 1916 en laasgenoemde twee in 1917), het almal die gewetensklousule in hul privaatwet opgeneem. In 1950 het die Universiteit van die Oranje Vrystaat (met die gewetensklousule) en die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (sonder die gewetensklousule) selfstandig geword. Die verskillende "Tuisland Universiteite" wat daarna orentgebring is, het geeneen die gewetensklousule ontvang nie.

Dit is natuurlik opvallend dat universiteite - wat akademiese instellings is - met 'n godsdiensbepaling opgesaal word. Die gewetensklousule verbied tewens die Raad van 'n universiteit om by die aanstelling van personeel (akademies en nie-akademies) of by die toelating van studente en die toekenning van grade, enige persoon se godsdienstige gesindheid in aanmerking te neem, of om op grond van godsdienstige oorwegings'n persoon te bevoordeel of te benadeel. 'n Mens sou verwag dat 'n akademiese instelling eerder 'n positiewe akademiese toets as maatstaf sou aanlê as 'n negatiewe godsdienstoets. Onderliggend aan die bepaling is egter die oortuiging (= geloof!) dat wetenskap en geloof geensins met mekaar verband hou nie.

 

'N AGTERHAALDE POSITIVISTIESE SIENING

Die onderliggende skeiding van "wetenskap" en "geloof" in die bedoeling van die gewetensklousule reflekteer 'n bepaalde filosofiese opvatting van wat wetenskap is. Die akademiese klimaat aan die begin van die vorige eeu was immers in die greep van die positivistiese siening wat na 'n "objektief-neutrale" wetenskap strewe. In die latere wetenskapsfilosofie van die tweede helfte van die 20ste eeu is hierdie seining egter agterhaal. Popper maak selfs aanspraak daarop dat hy die positivisme "doodgemaak" het (Popper 1974:269). Vanuit die hermeneutiese tradisie wys Gadamer op die vooroordeel teen vooroordele wat teruggryp na die Verligting van die agtiende eeu (Gadamer 1989:276), terwyl Stegmüller, vanuit die hoek van die wetenskapsfilosofie, beklemtoon dat daar op geen enkele terrein 'n self-versekerdheid (Selbstgarantie) van die menslike denke bestaan nie: die mens moet eers in iets glo, alvorens iets anders regverdig kan word (Stegmüller 1969:314).1

 

VAN INDIVIDUELE OUTONOMIE TOT KOLLEKTIEWE IDENTITEIT

Ten spyte van die klassiek-liberale klem op individuele outonomie sou die ontwikkelinge gedurende die 20ste eeu toenemend aanleiding gee tot 'n kollektiewe stellingname van universiteite (en ook ander samelewingsinstellings). Die reaksie teen die positivistiese neutraliteitsdogma het tydens die studente-opstande van die laat-sestigerjare selfs baniere na vore gebring waarin gestel word: "neutrale wetenskap is verdag".

Die gevolg was dat Westerse universiteite hulself teenoor die breëre samelewing moes verantwoord en wel deur 'n kollektiewe identiteit te kies - beliggaam in missie- en visie-formuleringe. Deur hierdie ontwikkeling is universiteite in die posisie geplaas om hul koers aan te dui, dit wil sê om rekenskap van die rigting wat deur hulle ingeslaan word te gee. Hierdie ontwikkeling het vir lewensbeskoulike oriëntasies ruimte geskep, dit wil sê vir rigting-pluralisme. Wanneer samelewingsinstellings soos skole en universiteite uiteenlopende rigting-keuses maak, is daar sekerlik nie meer van neutraliteit sprake nie.

Daarom is dit betekenisvol dat 'n gesaghebbende neo-Darwinis, Stephen Gould (wat eventueel 'n eie weg bewandel het met kritiek op verskeie sleutel-aannames van die neo-Darwinisme), in alle erns van die wetenskapsteoretiese gedagte-wêreld kennis geneem het, soos blyk uit sy opmerking:

Facts have no independent existence in science, or in any human endeavor; theories grant differing weights, values, and descriptions, even to the most empirical and undeniable of observations.(Gould 2002:759)

Die wetenskapsfilosofie van die twintigste eeu het benewens die onvermydelikheid van 'n teoretiese verwysingsraamwerk (deur Kuhn as 'n paradigma aangedui) bykomend ook daarop gewys dat alle (natuur- en geestes-)wetenskaplikes van een of ander diepste oortuiging uitgaan, van 'n ultimate commitment. Popper (1966-II:231) praat van 'n irrasionele geloof in die rasionaliteit van die rede (wat nie sélf rasioneel is nie)2 en ons het reeds opgemerk dat Stegmüller beklemtoon dat 'n mens eers in iets moet glo alvorens iets anders regverdig kan word.

 

STRUKTURELE DIFFERENSIASIE EN RIGTING-DIFFERENSIASIE

Die lewe van die mens is 'n eenheid, en so ook die blik van die mens op die wêreld, dit wil sê die mens se wêreld-perspektief of lewens- en wêreldbeskouing is veronderstel om ook 'n eenheid te wees, al is daar talle voorbeelde van gesplete (dualistiese) wêreldbeskouings. Die vraag is egter watter implikasies die eenheid van die mens en die eenheid van 'n lewensoortuiging vir staat, skool en universiteit inhou?

Dit is allereers belangrik om te besef dat hierdie vraag slegs sinvol vanuit 'n gedifferensieerde perspektief op die menslike samelewing beantwoord kan word. Op die struktuurvlak betref differensiasie die uitkristallisering van selfstandige en eie-geaarde samelewingsvorme en op die rigtingvlak gaan dit oor lewensbeskoulike differensiasie. Beide vlakke van differensiasie verteenwoordig samelewingsvryhede wat nie verstaatlik behoort te word nie. Die vryheid van nie-staatlike samelewingsvorme vorm immers die voorwaarde vir die bestaan van 'n regstaat, want daarsonder verval die veelheid regsbelange wat deur die owerheid in een openbare regsorde juridies saamgebind moet word.

Universiteite en skole vorm deel van die strukturele differensiasie van die menslike samelewing en juis daarom skep hul bestaan ruimte vir rigting-differensiasie. Laasgenoemde kom nie slegs in die vorm van godsdienstige praktyke na vore nie, want binne elke struktureel-onderskeie samelewingsinstelling kry dit beslag. Daarom mag die ondersteuning en befondsing wat deur die staat aan publieke skole gebied word nie omskep word tot beheer en besit nie.

Skillen wys daarop dat dit sekerlik die goeie reg van die owerheid is om belasting te in wat gedeeltelik vir die vrye opvoeding van almal aangewend kan word. Die probleem tans in die VSA is egter dat al die belasting gebruik word vir gesekulariseerde publieke skole terwyl onafhanklike (eksplisiet) lewensbeskoulik-georiënteerde skole niks van hierdie belastinggeld ontvang nie. Die redenering onderliggend aan hierdie siening is dat die owerheid nie "godsdiens" mag ondersteun nie en dat wát die staat ook al beheer, waaronder "publieke" skole, per definisie "sekulêr" is en derhalwe daarvoor kwalifiseer om met belastinggeld ondersteun te word. Hierteenoor stel Skillen dan:

My argument to the contrary is that equal protection of all religious ways of life should mean that all parents are equally free to choose education for their children (whether of a secularist, Christian, Jewish, Muslim, or some other variety) without penalty or discrimination from government. Government funding for the education of citizens should flow equitably to all children, and thus to the diverse schools they attend is proportionate to their numbers. Secularized schools (whether government-run or independent) should be neither privileged nor disadvantaged. Christian schools should be neither privileged nor disadvantaged. Government's support of the education of all children in this fashion does not establish religion in general or any particular religion; it merely promotes universal education without religious discrimination. An illegitimate establishment does occur, however, when government privileges the secularist schools, as it does today. The only way to avoid establishment of a religion and to protect the free exercise of everyone's faith is to treat all schools with equal justice. (Skillen 1997:8)

Hierdie siening van Skillen verwys onder meer na die "establishment of a religion" wat implisiet appelleer op die Eerste Amendament (First Ammendment) van die Amerikaanse grondwet:

Congress shall make no law respecting an establishment of religion, or prohibiting the free exercise thereof; or abridging the freedom of speech, or of the press; or the right of the people peaceably to assemble, and to petition the Government for a redress of grievances.

Normaalweg word na die eerste twee geledinge in hierdie Eerste Amendament as die "Establishment Clause" en die "Free Exercise Clause" verwys. Eersgenoemde word dan vanuit die perspektief van die skeiding van "staat en kerk" geïnterpreteer en laasgenoemde het betrekking op geloofsvryheid en in samehang daarmee ook enkele ander burgervryhede, soos vryheid van spraak wat akademiese vryheid insluit.

Die kritieke vraag is egter wat gebeur as daar 'n botsing met die idee van die skeiding tussen die kerk-staat aan die een kant en die aard van persoonlike vryheid aan die ander kant ontstaan? By wyse van kontrastering kan daarop gewys word dat dit gedurende die twintigste eeu 'n geykte praktyk in die Kommunistiese lande was om van akademici te verwag dat hulle ("belydende") ateïste moes wees. Die ironie is immers dat biologie-onderrig in die openbare skole van Amerika vandag effektief dieselfde vereiste stel, naamlik dat 'n biologie-onderwyser 'n (Darwinistiese) ateïs moet wees. Hierdie situasie word nader toegelig in die volgende paragraaf.

 

SLAGOFFERS VAN WETENSKAPLIKE FASCISME

Alvorens ons op die huidige praktyk in Amerikaanse publieke skole let, vermeld ons die veelseggende ervaring van Richard Milton, 'n Engelse wetenskapsjoernalis.

Hoewel prominente biologiese denkers wetenskaplikheid pretendeer, getuig die instelling van sommige neo-Darwiniste van alles behalwe openheid tot wetenskaplike gespreksvoering. Richard Milton is 'n Engelse wetenskapsjoernalis wat altyd 'n vurige aanhanger van die Darwinisme was totdat hy na twintig jaar se studie en skryf nie meer kon vrede maak met die talle "lacunes" (gapings/gebreke) van die teorie nie. Hy het sy siening in 'n boek uiteengesit: Shattering the Myth of Darwinism (2000).

Die reaksie op hierdie boek is veelseggend. Van den Beukel haal Milton aan: "Ik werd voorwerp van de heksenjacht van de darwinistische politie. Door Richard Dawkins werd ik omschreven als 'geschift' en 'hard toe aan psychiatrische hulp' " (Van den Beukel 2005:114).

Soos wat meestal gebeur, is hy as 'n kreasionis bestempel sonder dat inhoudelik op sy argumente ingegaan is. Tog het die London Times Educational Supplement Milton genooi om sy kritiek op die Darwinisme in 'n artikel uiteen te sit. 'n Week tevore het die koerant aangekondig: "Next week: Darwinism. Richard Milton goes on the attack". Van den Beukel merk egter op: "In die week zag de heer Dawkins kans om, via zijn connecties met de Times, de publicatie van het artikel te verhinderen" (Van den Beukel 2006:114). Hoewel die westerse wetenskaplike "establishment" en die massamedia daarop roem dat dit sonder vooroordeel oop forums vir die publiek verteenwoordig, is daar volgens Milton nóg in Amerika nóg in Engeland "ooit 'n tv-programma uitgezonden waarin aandacht werd gegeven aan de zwakheden van het darwinisme" (Van den Beukel 2006:114).

Die huidige praktyk in die publieke skole van Amerika adem dieselfde gees. Die feitlike gegewens betreffende die onverdraagsaamheid waaroor dit hier gaan, is in die werk van Jerry Bergman vervat, Slaughter of the Dissidents (2008). Daarin verduidelik Kevin Wirth onder meer dat geen kritiek op een of meer fasette van die (neo-)Darwinisme in publieke skole toegelaat word nie. Wie skepties staan of verskil van die Darwinisme word slagoffers van "a form of scientific fascism" wat 'n bedreiging vir verskeie vryhede inhou, waaronder vryheid van spraak, vryheid van denke, akademiese vryheid en geloofsvryheid. Dit gaan hier nie bloot oor enkele gevalle nie, maar oor 'n praktyk "[which] claimed many thousands of victims" (Bergman 2008:22). Hierdie praktyk van intimidasie bestaan ten spyte van die feit dat daar in die VSA geen wet is wat 'n verbod op die aanbied van "evidence" (bewysstukke) teen die neo-Darwinisme plaas nie (Bergman 2008:216).

'n Verteenwoordigende voorbeeld is die geval van LeVake, 'n biologie-onderwyser wat aan 'n kollega vertel het dat hy van die probleme wat hy met Darwin se teorie het, onder meer rakende Haeckel se embrio's, met sy skoliere wil bespreek.3 As gevolg hiervan is hy deur die skool-administrasie versoek om 'n artikel te skryf waarin hy sy stellingname verduidelik. Hy het die skoolhoof by herhaling verseker dat "he could and would teach the theory of evolution". Hy het ook gestel dat hy op grond van sy navorsing tot die gevolgtrekking gekom het dat "life's complexity and the fossil record do not support the theory of macroevolution or biochemical evolution" en dat hy in die bespreking van evolusie eerlik sal let op die probleme en inkonsekwensies van die teorie, sonder om sy klas in 'n godsdiensklas te verander (Bergman 2008:207). Hy was die enigste biologie- onderwyser verbonde aan die Faribault openbare skool in Minnesota met 'n meestersgraad in biologie.

LeVake se opmerking dat hy nie die klas in 'n godsdiensklas wil verander nie moet begryp word teen die agtergrond van 'n tipering van 'n resensent van Bergman se boek, Brian Thomas. In sy bespreking van Bergman se boek verwys Thomas na Bergman se opmerking dat "evolutionary elitists incorrectly lump all 'Darwin Doubters' into one group, 'creationists,' who are then categorically ridiculed. Though highly qualified, these scientists and educators are verbally and physically threatened, lose privileges, lose opportunities for promotion, and lose jobs and whole careers, just for expressing some measure of doubt about the standard evolutionary story" (sien Thomas 2014 - http://www.icr.org/article/book-review-slaughter-dissidents/-besoek op 14-10-2014).

LeVake se oorplasing na Chemie is nie gegrond op wat hy aan skoolkinders geleer het nie, maar gerig op sy persoonlike geloofsoortuigings. In die hofsaak wat gevolg het, is daar nooit enige bewys gelewer dat hy skepping in sy klasse aan die leerlinge voorgehou het nie. Regter Bernard Borene van die Rice Country District Court het sonder 'n hofgeding beslis LeVake "has no constitutional right to teach his proposed criticism of evolutionary theory, though they may be scientifically meritorious" (Bergman 2008:210)!

In die appèlsaak beslis die hof op 8 Mei 2001 dat "...the established curriculum and LeVake's responsibility as a public school teacher to teach evolution in the manner prescribed by the curriculum, overrides his First Amendment rights as a private citizen". Die hof stel selfs dat hierdie beslissing geensins sy vryheid van spraak inperk deur hom te verhoed om kritiek op evolusie uit te spreek nie!

Sedert 2002 bestaan daar 'n WEB-Werf wat natuurwetenskaplikes wat probleme met die Darwinistiese teorie ondervind, die sogenaamde "Darwin Doubters", bloot uitnooi om die volgende stelling te onderteken:

We are skeptical of claims for the ability of random mutation and natural selection to account for the complexity of life. Careful examination of the evidence for Darwinian theory should be encouraged.4

Let terloops daarop dat sedert 1982 sewentien meningsopnames (steeds met dieselfde vraag - skepping of evolusie) in Amerika getoon het dat die aantal "kreasioniste" tussen 40% en 47% bly fluktueer, terwyl die ortodokse (naturalistiese) Darwiniste tussen 9% en 19% varieer. (Die opnames laat egter nie ruimte vir ander uiteenlopende biologiese standpunte nie.)

Bergman kom tereg uit hierdie (en tallose soortgelyke) gebeure tot die gevolgtrekking dat "Darwinism now has become state-supported orthodoxy. LeVake was branded guilty of 'heresy' " (Bergman 2008:214). 'n Berig hieroor in die WorldNetDaily (Dinsdag 25 Julie, 2000) het onder die volgende veelseggende opskrif verskyn: "Evolution Critic Sensored. Teacher Punished for Pointing Out Flaws in Darwin's Theory".

Die rede waarom hierdie gegewens na vore gebring word, is om daarop te wys dat die VSA tans gebuk gaan onder 'n nuwe vorm van Christen-vervolging waarin die samelewingsvryhede wat moeisaam oor millennia verwerf is opnuut bedreig word en wat dui op die voltooiing van die sirkelgang van geloofsvryheid in die Westerse beskawingsgeskiedenis (soos vermeld in die titel van hierdie artikel). Geloofsvryheid hang ten nouste saam met denkvryheid, akademiese vryheid en lewensbeskoulike vryheid. Die ondergrawing van hierdie samelewingsvryhede bedreig inderdaad een van die hoekpilare van die Westerse demokratiese erfenis (verkieslik aan te dui as die regstaatserfenisvan die Weste).5

Soos in die kommunistiese staatskole van die twintigste eeu moet 'n biologie-onderwyser vandag in die VSA prakties eers sy ateïstiese naturalisme bely alvorens hy of sy toegelaat sal word om (kritieklose) biologie-onderrig te gee. 'n Onderwyser wat enigsins twyfel aan die waarheid van die Darwinisme word nie toegelaat om biologie in 'n "public school" te gee nie. Bergman vermeld byvoorbeeld die hofbeslissing in the Webster saak waar die uitspraak "actually requires indoctrination of an anti-Christian viewpoint as the official state-approved educational approach, and ruled that deviations from this approach are illegal" (Bergman 2008:184).

Kan die kurrikulum van enige vak vereis dat 'n onderwyser alles moet glo wat in die leerplan aangebied word? Wat van gevalle waar die geskiedenis van 'n dissipline uiteenlopende en selfs botsende (mekaar-wederkerig-uitsluitende) standpunte herberg? Soos in elke vakwetenskap onderstreep die geskiedenis daarvan juis standpuntverskille (en dit sluit vakgebiede soos die wiskunde, fisika en die biologie in). Moet daar nou van 'n onderwyser wat opponerende strominge in 'n vak bespreek verwag word dat hy of sy telkens eers 'n aanhanger moet word van die standpunt wat behandel word?

In 'n breëre konteks, waarin akademiese vryheid en geloofsvryheid eerbiedig word, kan die uitspraak van Evelyn Beatrice Hall vermeld word: "I disapprove of what you say, but I will defend to the death your right to say it" (aangehaal deur Bergman 2008:20). Cindy Cain besef ook dat die stryd onder meer oor spraakvryheid gaan: "Even though I disagree with the philosophy [of evolution], I'd fight for your right to teach it" (aangehaal deur Bergman 2008:177).

'n Soortgelyke regsinnige ingesteldheid word in die woorde van Ralph Boyd Junior (Assistent Prokureur Generaal vir siviele regte) gevind na afloop van 'n ondersoek deur die Staatsdepartement: 'n biologie-student mag dit nodig vind om die teorie van evolusie te verstaan en te verduidelik, maar "a state-run university has no business telling students what they should or should not believe in" (Bergman 2008:123).6

Hoewel daar talle akademici (veral teoloë) is wat teïstiese evolusie voorstaan (deur te glo dat God "deur evolusie geskep het" of dat God evolusie "gerig" het), is dit opvallend dat die Darwinistiese ortodoksie selfs nog skerper teen hierdie oriëntasie reageer as teen sesdaagse kreasioniste: "theistic evolutionists are even more dangerous than those who accept six-day creation" want dit kom daarop neer dat God in die publieke skole ingesmokkel word (Bergman 2008:157).

 

DIE "RELIGIEUSE" BASIS VAN DIE DARWINISME

Die onkritiese ateïstiese positivistiese oortuiging wat aan die idee van "religie-lose" publieke skole ten grondslag lê, is ook vanuit 'n ander hoek te bevraagteken. In geen hofgeding is teïstiese of ateïstiese evolusie gedefinieer nie - en dieselfde geld van kreasionisme. Die mees fundamentele element van die idee van neutrale staatskole in die VSA is egter vervat in die vraag hoe die aard van "religion" gesien word? In sy werk, The Myth of Religious Neutrality (2005) omskryf Roy Clouser 'n "religious belief" soos volg:

A religious belief is a belief in something as divine per se no matter how that is further described, where "divine per se" means having unconditionally non-dependent existence".(Clouser 2005:23)

Hiervolgens is die fisikalistiese materialisme van ons dag 'n voorbeeld van 'n "religious belief": alles wat bestaan is van materie afhanklik en dit is onvoorwaardelik van niks anders afhanklik nie. Enersyds word elke vorm van rasionalisme deur hierdie omskrywing ontwortel. Daar kan immers geen argumente of redes vir die betroubaarheid van die menslike verstand wees wat nie reeds van dieselfde verstand gebruik moet maak en derhalwe in 'n sirkelredenasie verval nie. Die dominante natuurwetenskaplike wêreldbeskouing van ons dag huldig die geloof dat materie alles is (dat alles derhalwe materie is). Paul Ziff, 'n filosoof van statuur in eie reg, omskryf sy eie materialisme soos volg: "If you ask me why I'm a materialist I'm not sure what to say. It's not because of the arguments. I guess I'd just have to say that reality looks irresistibly physical to me" (aangehaal deur Clouser 2005:38).7

Hoewel die fisiese aspek van die werklikheid bloot een naas en in onderskeiding van talle ander aspekte is, kan uiteraard aan enigeen 'n goddelike status toegeken word. Die bekende Duitse skrywer-digter-filosoof-natuurondersoeker, Johann Wolfgang Goethe, uit die Romantiek aan die begin van die negentiende eeu het byvoorbeeld geglo "gevoel is alles". Die aard van biotiese verskynsels, soos geboorte, groei (evolusie), volwassewording, veroudering en afsterwe kan ook met goddelike status beklee word. Dit gebeur naamlik in die naturalistiese wêreldbeskouing van die Darwinisme. Julian Huxley, wat bekend staan as 'n "religious humanist", het in 'n voordrag op die Dankseggingsdag by die "Convocation Ceremony" in 1959 gesê:

This is one of the first public occasions on which it has been frankly faced that all aspects of reality are subject to evolution, from atoms and stars to fish and flowers, from fish and flowers to human societies and values - indeed, that all reality is a single process of evolution (die voordrag het oor "The Evolutionary Vision" gehandel).8

Binne die naturalistiese wêreldbeskouing van die Darwinisme besit "evolusie" die status van 'n "divinity belief" soos deur Clouser gedefinieer. Dit figureer tegelyk as kondisionerende oorsprong en as dit wat daaraan beantwoord, dit wil sê dit is tegelyk wet en wetsonderdaan (subjek): as WET: "all aspects of reality are subject to evolution" (met "unconditionally non-dependent existence") en as SUBJEK (wat prakties met die wet saamval): "all reality is a single process of evolution".9

Gegewe die wyse waarop Amerikaanse howe die kerk-staat skeiding van die "establishment clause" (First Amendment) interpreteer, behoort die "religieuse humanisme" van Huxley ook by alle publieke skole verbode te wees. Die positivistiese neutraliteitspostulaat wat in die standaardsiening meeleef, berus op die aanname dat ateïsme nie in 'n lewens- en wêreldbeskouing gefundeer is nie en derhalwe ook nie verband hou met 'n geloofsoortuiging nie. Hierteenoor is reeds opgemerk dat die immunoloog George Klein sy ateïsme inderdaad as 'n geloofsoortuiging sien (voetnoot 1 hierbo).

Die skynbare "teenstelling" van "wetenskap" en "geloof" is nie vanselfsprekend nie,10 want implisiet of eksplisiet besit elke (natuur-)wetenskaplike een of ander akademiese credo, 'n wetenskaplike geloofsbelydenis.'n Sterk kritiese beoordeling word in hierdie verband in 'n opmerking van Lyn Margulis (Massachusetts University) aangetref. Sy het bekendheid verwerf vir haar teorie omtrent die aard van mitochondria ('n sub-sellulêre orgaan wat waarskynlik voorheen 'n onafhanklike bakterie was). By geleentheid merk sy op dat "history will ultimately judge neo-Darwinism as a minor twentieth-century religious sect within the sprawling religious persuasion of Anglo-Saxon biology" (aangehaal deur Behe 2006:26).11Selfs iemand soos Sterelny, wat tot die "binnekring" van die neo-Darwiniste behoort, skryf met vrymoedigheid oor die verskille tussen Dawkins en Gould en tipeer eersgenoemde dan in pertinente geloofsterme: "Dawkins is an old-fashioned science worshipper" (Sterelny 2007:157).

Let daarop dat die punt waarom dit hier gaan, uitsluitlik is om te vermeld dat selfs bioloë van aansien 'n oog het vir die wetenskaplike geloofsoortuigings van die Darwinisme. Meer as honderd jaar gelede het Kuyper in sy rede-voering oor "Evolutie" (1899) ook reeds, met verwysing na die meganisties-monisties-ateïstiese inslag van die Darwinisme, melding gemaak van die "enthousiasme van een nieuwe geloof" (Kuyper 1899:197). Sewe jaar vroeër tipeer hy ook reeds die magsgreep van die evolusie-dogma in geloofsterme wanneer hy verklaar dat die evolusionisme tans die "formulier van eenigheid" is wat alle priesters van die moderne wetenskap in hul gesekulariseerde tempel verenig. Volgens hom het dit die "modesysteem" geword waaraan teoloë, psigoloë, linguiste, juriste en moraliste hul blindelings oorgegee het.

 

DIE ONDERSKEIDENHEID VAN STRUKTUUR EN RIGTING

'n Gedifferensieerde samelewing laat ruimte vir verskillend-geaarde samelewingsvorme sodanig dat nie alleen duidelik onderskei kan word tussen verskillende kompetensiesfere in so 'n samelewing nie, maar sodat daar ook sinvol van (persoonlike en) samelewingsvryhede rekenskap gegee kan word. Die agtergrond-perspektief is te vinde in die lang kultuur-historiese proses wat met die Christen-vervolging tydens die Romeinse ryk begin het en wat uiteindelik via die opkoms van die moderne staatsidee tot die erkenning en juridiese beskerming van persoonlike en kollektiewe samelewingsvryhede asook publiekregtelike burgervryhede gelei het. Onderweg het die Protestantisme afskeid geneem van die Roomse twee terreine-leer en daarmee die perspektief van die Nuwe Testament rakende die eenheid en goedheid van die skepping tot sy reg laat kom.

Daarmee is tegelyk stelling ingeneem teen dualistiese wêreldbeskouings wat die rigting-teenstelling tussen goed en kwaad (die antitese) verwring het deur dit met onderskeie terreine binne die skepping te identifiseer. In die RES Testimony on Human Rights wat in 1983 deur die Reformed Ecumenical Synod gepubliseer is, word dit kernagtig saamgevat:

Dualist world-views always misconstrue the biblical idea of antithesis. The antithesis gets defined, not in terms of a spiritual warfare which is being waged in every sector of life, but along structural lines. It places one set of societal structures off against another - for example, church against state, a mission station against a political party. Christians then end up fighting the wrong battles. (Schrotenboer 1983:76)

Wanneer die owerheid van 'n regstaat die onderskeiding tussen struktuur en rigting eerbiedig, kan dit wel'n formele (strukturele) eis stel waaraan onderrig op alle vlakke moet beantwoord - primer, sekondêr en tersiêr. Dit val egter buite die bevoegdheidsfeer van die owerheid om die rigting-oriëntasie van 'n skool of 'n individu voor te skryf, soos wat dit tans in die Amerikaanse publieke skoolsisteem beslag gekry het.

Binne die onderwyssektor, met name op die vlak van staatskole in Suid-Afrika, bestaan daar tans 'n differensiasie op basis van geslag (seuns- en meisieskole) en van taal (Zulu, Xhosa, Sotho, Engelse en Afrikaanse skole). Die vraag is egter: Waarom kan 'n gedifferensieerde samelewing binne die onderwyssektor nie ook ruimte laat vir lewensbeskoulik-gedifferensieerde skole (soos Rooms-Katolieke, Humanistiese, Protestantse, Moslem en Ateïstiese skole) nie? Dit spreek vanself dat daar ruimte vir "rigting-gedifferensieerde" privaatskole behoort te wees.12

In 1889 het Minister Heemskerk die weg in Nederland geopen tot'n ryksbydrae vir "besondere" onderwys. Deur die toedoen van Baron MacKay het die onderwyswet van Kappijne sodanig verander dat besondere skole voortaan dieselfde bedrag uit de skatkis sou ontvang as wat die munisipaliteite ontvang vir openbare onderwys, met name "de salarissen van hun onderwijzers". Daarmee is die beginsel van die regsgelykheid van openbare en besondere onderwys erken.

Nederlandse universiteite in die twintigste eeu het hierdie beginsel van regsgelykheid praktyk gemaak deur aan universiteite die bevoegdheid te verleen om doseer-ruimte te skep vir bepaalde wysgerige denkrigtings. Na sy dood in 1922 het die leerlinge van G.P.J.P. Bolland die "Bolland-Genootschap voor zuivere rede" opgerig en ook 'n "Bijzondere Leerstoel" aan die universiteit van Leiden onderhou - aan die filosofie van Hegel georiënteer. (In die "Nasionale Biblioteek van Nederland" is 'n boekeversameling te vind wat deur Jan Jacob van der Harst en G.J.P.J. Bolland geskenk is (onderskeidelik 775 en 480 titels).13Die Stichting Reformatorische Wijsbegeerte onderhou reeds sedert die middel van die vorige eeu verskeie Besondere Leerstoele in Reformatorische Wijsbegeerte aan Nederlandse staatsuniversiteite. Studente kan by hierdie Besondere Hoogleraars promoveer. Daar is tans ses sulke leerstoele. Soortgelyk hieraan is die Radboud-leerstoele wat deur die Radboud Stigting (Rooms-Katolieke Kerk) befonds word.

 

WAAR STAAN SUID-AFRIKA?

Mede as gevolg van die erfenis van die gewetensklousule (waarna ons vroeër verwys het) is die debat in Suid-Afrika vertroebel deurdat nie tussen geloofs-oortuigings en wetenskaplike oortuigings onderskei is nie - nog afgesien van die gegewe dat sedert die instelling van die gewetensklousule Christelikheid ten onregte met godsdienstigheid vereenselwig is - waarop hier nie nader ingegaan word nie. Enige universiteit wat byvoorbeeld na die wetenskaplike oortuiging van 'n dosent of student sou vra, oortree nie die gewetensklousule nie.

Nogtans is dit verblydend om daarop te wys dat die toedrag van sake in Suid-Afrika wél ruimte laat vir die onderskeiding van struktuur en rigting. Dit gaan hier oor die "Suid-Afrikaanse Skolewet 84 van 1996 (goedgekeur op 6 November 1996) (datum van inwerkingtreding: 1 Januarie 1997). Artikel 7 handel oor "Vryheid van gewete en godsdiens in openbare skole" en stipuleer: "Behoudens die Grondwet en enige toepaslike provinsiale wet kan godsdiensbeoefening by 'n openbare skool gehou word ingevolge reëls wat deur die beheerliggaam uitgevaardig is, indien sodanige beoefening op 'n billike wyse geskied en bywoning daarvan deur leerders en personeellede vry en vrywillig is". Artikel 45 maak voorsiening vir die "Stigting van onafhanklike" skole: "Behoudens hierdie Wet en enige toepaslike provinsiale wet kan elke persoon op sy of haar eie koste 'n onafhanklike skool stig en onderhou".

Tog sou die "reënboognasie" ten beste in die lewensbeskoulike "diversiteit" daarvan tot sy reg kom indien daar ook binne die bestaande staatskole ruimte vir "rigting-differensiasie" gebied word. Dit sal uiteraard afhang van die uitvoerbaarheid daarvan, gemeet aan die bevolkingsamestelling binne die opvanggebied van die betrokke skole. Net soos wat die geskiedenis van die vakwetenskappe 'n verskeidenheid oriëntasies ken, weerspieël die vakke wat op skool aangebied word die invloed van uiteenlopende denkstrominge. Daarom bly dit die taak van die onderwyser om selfs in die vermeende "neutrale" staatskole steeds aandag aan alternatiewe gesigspunte en standpunte te gee, sodat die skoliere van kleins af leer om siftend solidêr-krities met die leerstof om te gaan. Wanneer 'n "rigting-gedifferensieerde" skool vanuit 'n bepaalde perspektief beslag aan die kurrikula gee, sluit dit geen leerder wat nie dieselfde lewensbeskouing deel uit nie want die leerstof wat in 'n spesifieke kurrikulum figureer, laat in beginsel ruimte vir alternatiewe perspektiewe wat kontrasterend aan die leerders voorgehou word.

In die Business Day van 11 September 2002 het 'n berig oor die Kurricula van privaatskole in Suid-Afrika verskyn: "Private schools may choose their own curriculums". Minister Kader Asmal het aan die Parlementêre Portefeulje Komitee meegedeel dat die Nasionale Onderwys Departement glad nie die bedoeling het om die detail van die kurrikulums wat in privaatskole onderrig word, voor te skryf nie. Onderliggend aan hierdie opmerking is die implisiete besef dat ook binne staatskole aandag aan uiteenlopende benaderings gegee mag word.

Tog het daar onlangs 'n onrusbarende berig in die Pers verskyn: "Plan met handboeke 'grens aan sensuur'" (Die Volksblad, 13 November, 2014, bladsy 12). Dit handel oor die Onderwysdepartement se voorstel "om slegs een handboek per vak per graad voor te skryf". Aangesien dieselfde kurrikulum vanuit verskillende rigting-oriëntasies gestruktureer kan word, sal die beperking tot "slegs een handboek" op 'n soortgelyke (totalitêre) situasie neerkom as dit wat ons vandag in die VSA met betrekking tot biologie-onderrig aantref.

Mag die toekoms van rigting-keuses in die onderwys van Suid-Afrika 'n beskeie bydrae lewer tot die voortgaande beskerming van die samelewingsvryhede wat in 'n lang kultuur-historiese proses van ontwikkeling en differensiasie vorm aangeneem het.

Dat die uiteenlopende denkstrominge in die natuur- en geesteswetenskappe uiteindelik wysgerig-bepaald is en deur "ultimate commitments" gerig en gestuur word, word uitvoerig in 'n geskrif oor die Filosofie as Wetenskap van die Wetenskappe beredeneer (sien Strauss 2009).

 

AANHANGSEL

Na 'n uitvoerige debat oor die Darwinisme in 'n Afrikaanse Dagblad, versprei oor 10 briewe en antwoorde in 2010 (waarin die outeur die eerste en laaste woord gegee is), het die outeur onlangs opnuut iets oor die Darwinisme geskryf, wat in dieselfde Afrikaanse Dagblad gepubliseer is. Daarna is twee leser-reaksies daarop geplaas, maar geen van die antwoorde op hierdie twee briefskrywers is geplaas nie. Dit ten spyte daarvan dat 'n Briewe-Kolom-Redakteur van die Dagblad by navraag die versekering gegee het dat dit wel geplaas sal word.

Is die media in Suid-Afrika nou besig om dieselfde (totalitêre) pad as die VSA te loop?

 

BIBLIOGRAFIE

Bergman, J. 2008. Slaughter of the Dissidents. Southworth WA: Leafcutter Press.         [ Links ]

Chatterjee, Deen, K. Scheid, & Don, E. (eds). 2003. Ethics and foreign intervention. Cambridge-New York: Cambridge University Press.         [ Links ]

Clouser, R.A. 2005. The Myth of Religious Neutrality: An Essay on the Hidden Role of Religious Belief in Theories. Notre Dame: University of Notre Dame Press (nuwe hersiene uitgawe; eerste uitgawe 1991).         [ Links ]

Dekker, C., Meester, R. & Van Woudenberg, R. 2005. Schitterend Ongeluk of Sporen van Ontwerp? Kampen: Ten Have.         [ Links ]

Dumbauld, E. 1966: Political writings of Thomas Jefferson. New York: The Liberal Arts Press.         [ Links ]

Gadamer, H-G. 1989. Truth and Method, Tweede hersiene uitgawe (eerste vertaalde uitgawe 1975). New York: The Continuum Publishing Company.         [ Links ]

Glendon, M.A. 1991. Rights talk: The impoverishment of political discourse. New York: Free Press.         [ Links ]

Habermas, J. 1996. Between Facts and Norms: Contributions to a Discourse Theory of Law and Democracy, vertaal deur William Rehg; 2nd print, Cambridge: Massachusetts: MIT Press.         [ Links ]

Kant, I. 1787. Kritik der reinen Vernunft, 2de Druk. Hamburg: Felix Meiner Uitgawe (1956).         [ Links ]

Kant, I.1797. Die Metaphysik der Sitten, First Edition (A) 1797, Tweede Uitgawe (B) 1798, Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft.         [ Links ]

Kates, P. 1928. The Two Swords, Washington: D.C., St Anselm's Priory.         [ Links ]

Klein, G. 1990. The Atheist in the Holy City. Cambridge MA: MIT Press.         [ Links ]

Krabbe, H. 1919. De moderne staatsidee. The Hague: Martinus Nijhoff.         [ Links ]

Krüger, H. 1966. Allgemeine Staatslehre, Tweede Druk. Berlin: W. Kohlhammer Verlag.         [ Links ]

Kuyper, A. 1899. Evolutie. Rede bij de overdracht van het rectoraat aan de Vrije Universiteit op 20 Oktober 1899, herdruk in Kuyper-Bibliografie, Uitgegee deur J.C. Rullmann. Kampen: J.H. Kok.         [ Links ]

Lennox, J.C. 2007. God's Undertaker, Has Science Buried God? Oxford: Lion.         [ Links ]

Locke, J. 1690. Two Treatises of Civil Government. London: Everyman's Library Edition (1966).         [ Links ]

Lucas, George R. Jr. 2003. From jus ad bellum to jus ad pacem: re-thinking just-war criteria for the use of military force for humanitarian ends. In: Chatterjee & Scheid (2003:72-96).         [ Links ]

Lucas, J.R. 1980. On Justice: Peri Dikaiou, Oxford: Clarendon Press.         [ Links ]

Milton, L. Shattering the Myth of Darwinism. 2000. http://www.amazon.com/Shattering-Myths-Darwinism-Richard-Milton/dp/0892818840 - besoek op 16-02-2015.         [ Links ]

Popper, K. 1966. The Open Society and its Enemies, Vol. I & II, London: Routledge & Kegan Paul.         [ Links ]

Popper, K.R. 1974. Intellectual Autobiography, In: The Library of Living Philosophers, ed. A. Schilpp, Volume XIV, I. Lazalle, Illinois: Open Court Publishing Company, pp.259-284.         [ Links ]

Rousseau, J.J. 1975. Du contrat social et autres oeuvres politiques. Uitgawe Garnier Frères, Paris.         [ Links ]

Schrotenboer, P.G. 1983. RES Testimony on Human Rights. Grand Rapids: Reformed Ecumenical Synod.         [ Links ]

Skillen, J.W. 1994. Recharging the American Experiment, Principles Pluralism for Genuine Civic Community.Grand Rapids: Baker Books.         [ Links ]

Skillen, J. 1997. Is there a place for Christian Politics in America? Available in Stencilled form (12 A4 bladsye).         [ Links ]

Stegmüller, W. 1969. Metaphysik, Skepsis, Wissenschaft, (eerste uitgawe 1954). Berlin/New York: Springer.         [ Links ]

Sterelny, K. 2001. Dawkins vs. Gould, Survival of the Fittest. London: Icon Books (tweede uitgawe, 2007).         [ Links ]

Strauss, D.F.M. 2009. Philosophy: Discipline of the Disciplines. Grand Rapids: Paideia Press.         [ Links ]

Strauss, D.F.M. 2015. Differensiasie: die basis van Samelewingsvryhede. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 55(2):304-318.         [ Links ]

Thomas, B. 2014.http://www.icr.org/article/book-review-slaughter-dissidents/ [Besoek op 06-10-2014].         [ Links ]

Van den Beukel, A. 2005. Darwinisme: wetenschap en/of ideologie? In: Dekker, et al., (2005:101-116).         [ Links ]

 

 

 

Danie Strauss word in 1971 as senior lektor in Wysbegeerte aan die destydse UOVS aangestel. Vanaf Januarie 1976 is hy bevorder tot medeprofessor en in Oktober 1977 word hy aangestel as professor en hoof van die Departement Wysbegeerte aan die UOVS. In 1994 vertrek by na Kanada waar hy as eerste Direkteur van die Dooyeweerd Centre die publikasie van die versamelde werke van Herman Dooyeweerd in Engels van stapel stuur. Hy keer in 1997 terug na Suid-Afrika en vanaf April 1998 tot 31 Desember 2001 ageer hy as Dekaan van die nuwe Fakulteit van Geesteswetenskappe aan die UVS. Benewens 15 selfstandige publikasies, 40 internasionale konferensie-voordragte en 20 bydraes tot versamelde werke het meer as 285 vakartikels in nasionale en internasionale tydskrifte uit sy pen verskyn. In 2005 is 'n werk oor die wysgerige grondslae van die moderne natuurwetenskappe deur die Duitse Uitgewer Peter Lang gepubliseer, Paradigmen in Mathematik, Physik und Biologie und ihre philosophische Wurzeln (216 pp.) (Frankfurt am Main). In 2006 het 'n werk oor die sosiologie ook by Peter Lang verskyn - Reintegrating Social Theory - Reflecting upon human society and the discipline of sociology (310 pp.) (Oxford: New York). In 2009 het sy werk, Philosophy: Discipline of the Disciplines by Paideia Press, Grand Rapids, USA verskyn (715 pp.). In 2011 is dit in Amsterdam deur die Stichting Reformatorische Filosofie beloon as die mees omvattende uitbouing van die sistematiese erfenis van hierdie filosofie. Die uitgewer het versoeke tot die vertaling daarvan in Portugees en Spaans ontvang. Sedert 2013 is Danie Strauss Navorsingsgenoot by die Skool vir Filosofie, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom Kampus.
Danie Strauss was appointed as senior lecturer in Philosophy at the then UOFS in 1971. He was promoted to associate professor in January 1976 and in October 1977 he became professor and head of the Department of Philosophy at the UOFS. In 1994 he went to Canada, where as the first Director of the Dooyeweerd Centre, he initiated the publication of the collected works of Herman Dooyeweerd in English. He returned to South Africa in 1997 and from 1 April 1998 to 31 December 2001 he was Dean of the new Faculty of Humanities at the UFS. Apart from 15 independent publications, 40 international conference papers and 20 contributions to collected works, he has published more than 285 articles in national and international journals. In 2005 his work on the philosophical foundations of the modern natural sciences was published by Peter Lang Publishers - Paradigmen in Mathematik, Physik und Biologie und ihre philosophische Wurzeln (216 pp.) (Frankfurt am Main). In 2006 Peter Lang published his work Reintegrating Social Theory - Reflecting upon human society and the discipline of sociology (310 pp.) (Oxford New York). In 2009 his work, Philosophy: Discipline of the Disciplines was published by Paideia Press, Grand Rapids, USA (715 pp.). In 2011 this book received the award for work in the fields of systematic philosophy or the history of philosophy for advancing the cause of the "Philosophy of the Cosmonomic Idea". The Publisher has already received requests to translate this work into Portuguese and Spanish. Since 2013 Danie Strauss is a Research Fellow at the School of Philosophy, North West University, Potchefstroom campus.
1 Lennox verwys na die immunoloog, George Klein, wat pertinent stel dat sy "ateïsme nie op die wetenskap gebou is nie aangesien dit 'n apriori geloofsverbintenis is. In reaksie op die aanklag dat hy 'n agnostikus is, stel hy kategories: "I am not an agnostic. I am an atheist. My attitude is not based on science, but rather on faith... The absence of a Creator, the non-existence of God is my childhood faith, my adult belief, unshakable and holy" (aangehaal deur Lennox 2007:34; sien Klein 1990:203).
2 Op hierdie bladsy meld Popper die alternatief van 'n kritiese rasionalisme wat insien dat 'n rasionalistiese benadering van 'n geloofsakt uitgaan, naamlik geloof in die rede: "the fundamental rationalist attitude results from an (at least tentative) act of faith - from faith in reason".
3 Embrionale ooreenkomste het Haeckel in 1868 tot sy biogenetiese wet gebring: elke individuele mens deurloop (van konsepsie tot volwassenheid) die (volwasse) fases wat die spesie stam-histories ondergaan het: "Ontogenese rekapituleer die Filogenese". So algemeen as wat dit aanvanklik aanvaar is, word "wet" tans as ongeldig beskou. Die menslike embrio is van meet af menslik en deurloop nie opeenvolgende fases waarin die mens suksessief eers 'n vis, dan 'n amfibie, dan 'n reptiel en dan 'n soogdier sou wees nie. Die aanspraak dat gewerwelde embrio's die meeste ooreenkoms in hul vroegste fases vertoon, is ook foutief, aangesien die eerste vier fases oor die hoof gesien is, afgesien daarvan dat Haeckel twee visklasse weggelaat het en by twee klasse voorkeur gegee het aan "eksemplare" wat beter by sy skema gepas het. Haeckel se tydgenote, die embrioloog Wilhelm His (in 1874) en die anatoom Carl Semper (in 1875) het hom van vervalsing beskuldig. Haeckel het byvoorbeeld hipotetiese voorvaderlike mikro-organismes beskryf en benoem wat nêrens ooit gevind is (en nie bestaan) nie. Die embrioloog en Nobelpryswenner, Christiane Nüsslein-Volhard, stel gevolglik in 2003 in 'n gesprek met die Duitse weekblad Die Zeit tereg: "Ernst Haeckel het vervals (gefälscht) ["Ernst Haeckel hat gefälscht. Viele seiner Bilder von Organismen sind schlicht erfunden, um seine Theorie zu bestätigen" - "Wir Deutschen sind nicht moralisch höher stehend". In: Die Zeit, Nommer. 22/2003.]. Talle van sy prentjies is bloot uitvindinge om sy teorie te bevestig. Haeckel het inderdaad "erken ... dat 'n klein deel van sy vele afbeeldinge van embrio's (miskien 6 of 8 persent) werklik ... 'gefälscht' [vervals] is"! As "verskoning" het Haeckel aangevoer dat by gebrek aan die nodige waarnemingsmateriaal hy die gapings hipoteties moes opvul. (Sien ook Betrug und Fälschung in der Wissenschaft. 2003 http://de.wikipedia.org/wiki/Betrug_und_F%C3%A4lschung_in_der_Wissenschaft) [besoek op 01-12-2014].
4 Tot en met 24 April 2014 het 963 natuurwetenskaplikes hierdie stelling onderteken (terwyl waarskynlik tienduisende dit nie kan waag om dit te doen nie). Ondertekenaars van die Scientific Dissent From Darwinism besit doktorsgrade in die biologiese wetenskappe, fisika, chemie, wiskunde, mediese wetenskappe, rekenaarwetenskap en verwante dissiplines, van instellings soos Oxford, Cambridge, Harvard, Dartmouth, Rutgers, Universiteit van Chicago, Stanford en die Universiteit van California te Berkeley. Talle is ook professore of navorsers by groot universiteite en navorsingsinstellings soos Cambridge, Princeton, MIT, UCLA, die Universiteit van Pennsylvania, die Universiteit van Georgia, Tulane, Moscow se Staatsuniversiteit, die Chitose Instituut vir wetenskap en tegnologie in Japan en die Ben-Gurion Universiteit in Israel. (Sien Bergman 2008:8 en http://www.discovery.org/scripts/viewDB/filesDB-download.php?id=660 - besoek op 24-08-2014).
5 In historiese perspektief gesien is die regstaat van die laaste twee eeue die vrug van die Protestantisme in Wes-Europa en die buite-stigtings daarvan. Kuyper praat van die "calvinisme" wanneer hy op hierdie effek van die Protestantse Christendom wys in 'n geskrif uit die jaar 1874: "Het calvinisme: oorsprong en waarborg onzer constitutioneele vrijheden: een Nederlandsche gedachte" (sien Kuyper 1874).
6 Kelly Schakelford, agerend op die Die Hoofraad van die Liberty Legal Institute, skryf: "Students are being denied recommendations not because of their competence in understanding evolution, but solely because of their personal religious beliefs" (aangehaal deur Bergman 2008:123).
7 Ons laat die self-ondergrawing van hierdie "alles"-aanspraak verder rus deur bloot op te merk dat die wette vir materie (d.i. fisiese wette) nie sélf materieel is nie en derhalwe die aanspraak dat alles fisies is weerlê (die wet/kondisies vir dinge wat groen is, is byvoorbeeld nie sélf groen nie).
8 http://people.biology.ufl.edu/bsmocovi/Bettys_Website/Publications_I_files/Unity-of-Science-Unifying-Vision-(Huxley).pdf.
9 Dat die kondisies vir iets nie met daardie "iets" kan saamval nie, het Huxley klaarblyklik nie opgemerk nie.
10 Immanuel Kant wou die sfeer van (situiglik-gebonde) verstandskennis veilig stel sodat hy vir geloof plek kon inruim. Hy skryf: "Ek moes derhalwe wete(nskap) inperk om vir geloof plek te maak" (Kant 1787:xxx). Die domein van natuurverskynsels word deur die kousaliteitswet beheers, terwyl die (vryheid van die menslike siel, as "Ding-op-Sigself", tot die domein van die praktiese rede behoort). Natuurkousaliteit versus praktiese sedelike outonomie, die klassieke wetenskapsideaal (natuur) versus die persoonlikheidsideaal, natuur versus vryheid onderlê dus die geykte skeiding van wetenskap en geloof!
11 Ewe kras is haar opmerking dat voorstanders van die standaard teorie "wallow in their zoological, capitalistic, competitive, cost-benefit interpretation of Darwin-having mistaken him... Neo-Darwinism, which insists on (the slow accrual of mutations), is in a complete funk" aangehaal deur Behe 2006:26). Hierdie kritiek moet vanuit die agtergrond van wat Behe ook op hierdie bladsy meld begryp word: "At one of her many public talks she asks the molecular biologists in the audience to name a single, unambiguous example of the formation of a new species by the accumulation of mutations. Her challenge goes unmet".
12 Die vraag rakende privaatskole besit uiteraard ook 'n ekonomiese kant. Sedert 1801 het die skoolsituasie in Nederland deur verskeie wette en selfs grondwette telkens wysigings beleef (met name in die jare 1806, 1848, 1857, 1878, 1889, 1920 en 1985). Na die afsterwe van Groen van Prinsterer het die jong, nuwe leier van die "Anti-Revolutionaire", Alexander de Savornin Lohman, die eis gestel van "een restitutie van dit belastinggeld aan hen die voor hun kinderen van het openbaar onderwijs geen gebruik wensten te maken". Die "buiten-parlementaire voorman van de beweging" was Abraham Kuyper.
13 Sien: http://www.kb.nl/speciale-collecties/collecties-per-thema/hegelbolland.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons