SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.55 número3Monolingualism, integration and assortative mixing in social networks: A literature reviewFour viewpoints on Christ's presence at the Lord's Supper: An analysis of their philosophical foundations índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.55 no.3 Pretoria sep. 2015

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2015/V55N3A4 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS

 

"Sonder siel en anoniem": Elisabeth Eybers se "Huiskat" in die konteks van dierestudies

 

"Without soul and anonymous": Elisabeth Eybers' poem "Huiskat" [Domestic Cat] in the context of animal studies

 

 

Marius Crous

Departement Tale, Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit, Port Elizabeth. E-pos: Marius.Crous@nmmu.ac.za

 

 


OPSOMMING

In hierdie artikel word die bekende gedig van Elisabeth Eybers, "Huiskat" uit haar bundel Die helder halfjaar (1956) geanaliseer in die konteks van dierestudies. Aandag word geskenk aan aspekte soos die verhouding tussen die mensdier (of menslike dier) as spreker teenoor die niemensdier (of niemenslike dier) as ander; en veral die projeksie van antropomorfiese eienskappe op die niemensdier word uitgelig. In aansluiting by Woodward (2003) en Derrida (2008) word die interaksie tussen mensdier en niemensdier beskou om, onder meer, vas te stel of daar sprake is van 'n intersomatiese verwantskap tussen die twee (Woodward 2014). Bestaande voorbeelde van dierestudies word betrek, en die aard, konteks en definisie van 'n geesteswetenskaplike ondersoek soos dierestudies word ook toegelig.

Trefwoorde: Dierestudies, mensdier en niemensdier, antropomorfisme, Eybers, die diereblik, spesisisme


ABSTRACT

This article examines the poem "Huiskat" (Domestic cat) within the context of animal studies. Having discussed the different approaches to concepts such as "animal" and "domesticated animal", definitions of animal studies and related concepts are considered. Animal studies is a sub section of the broader field of ecocriticism and forms part of the so-called "greening of the humanities". It is a common fact that animals have always been represented in literature and when analysing such texts we consider not only the interaction between human and nonhuman animals but also the issue of animal rights and the humane and ethical treatment of animals.
Several key texts relating to animal studies are considered in this analysis, for example Derrida (2002), Haraway (2003) and Woodward (2008). J.M.Coetzee's path breaking study on animal rights, The Lives of Animals (1999), is also included to analyse the relationship between human and nonhuman animals. Despite the fact that Derrida regards "the animal" as a clear example of essentialist thinking, he is criticised by Woodward for othering nonhuman animals.
Since the Enlightenment, and especially in following Descartes, human animals are seen as the centre of the universe and nonhuman animals are regarded as subservient and, among others, to be unemotional and unintelligent. The aim of animal studies is to deconstruct this speciesist way of thinking and in particular to dismantle the binary opposition between human self and nonhuman other. In analysing the poem by Eybers aspects such as the domestication of nonhuman animals, the giving of names to animals and the projection of anthropomorphic qualities onto the animal are considered. Woodward (2014:6) poses that one often finds an "intersomatic connection" between human animal, the human body and the nonhuman animal. The nonhuman animal is no longer "relegated to the margins of representation". Nonhuman animals are seen as an extension of their human counterparts, playing a vital role in the identity formation of the self. This is not the case with Eybers' poem. The speaker remains distant and unattached and even decides not to name the domesticated animal but merely refers to it as "cat".
In representing the nonhuman animal as other the speaker in the poem shows the similarities between the cat and its counterpart in the wild, namely the leopard. In doing so the speaker indirectly comments on the domestication of animals, just as the reference to the spaying of the cat in the poem comments on the intrusive practice of spaying and neutering. The human animal exerts his or her power over the nonhuman animal and in the process robs the nonhuman animal of its potency. This issue, however, is another cause for concern because from a global perspective, the uninhibited breeding of stray animals in most contexts not only leads to overpopulation but also is a cause of concern for those involved in animal rights. The abuse of animals is rife under such circumstances.
Included in the article are references to existing examples of animal studies in the Afrikaans and South African context, ranging from contributions to special editions of Journal of Literary Studies with several contributions on animal rights to academic analyses by Swart, Woodward, Visagie and Meyer - to mention but a few.
Further research on the issue is encouraged, not only on the depiction of nonhuman animals in literary texts but also on the filial bond between "man and beast" or the intricate relation between humans, nonhumans and the soil.

Keywords: Animal studies, human animal and non-human animal, anthropomorphism, Eybers, the animal gaze, speciesism


 

 

We think we are playing with the cat, but how do we know that the cat isn't playing with us? - J.M.Coetzee (1999:37)

 

1. INLEIDING

Die uitbeelding van diere het nog altyd 'n belangrike rol gespeel in die letterkunde, waarvan die vroegste voorbeelde tekste insluit soos die allegoriese Van den Vos Reynaerde in Middelnederlands, Chaucer se voëlparlement of die mitiese beskrywings van diere in Lucretius of in die filosofie van Aristoteles of Plutarchus. Ook in Afrikaans word die dier reeds vroeg uitgebeeld en as studie-objek (onder meer miere en ape) waargeneem in Eugène Marais se oeuvre. Visagie (2013) is van mening dat Marais se natuurvers "Winternag", wat as "een van die oudste en bekendste gedigte in Afrikaans" bestempel word, as moontlike verklaring kan dien hoekom daar 'n belangstelling in die ekokrtiiek in Afrikaans ontwikkel het.

In 1966 het T.T. Cloete Faune,'n bloemlesing oor die dier in die Afrikaanse poësie, saamgestel en in die inleiding skryf hy soos volg: "Die dier is hier wyd opgevat, sodat dit voël, soogdier, vis, insek en so meer insluit." Hy vervolg: "Wel, hierdie nie-menslike maar nogtans biologiese tema is 'n stuk werklikheid soos enige ander, bv. die plante- of geologiese wêreld, en al lesende deur die Afrikaanse poësie met die oog op die dier soos dit daarin voorkom[.]" (Cloete 1966: geen bladsynommer). Cloete se oorsig strek van die vroeë Afrikaanse volksliedjies tot en met die werk van Sheila Cussons. Sedert sy debuut as digter in 1980 het Cloete verskeie gedigte oor die interaksie tussen mens en natuur geskryf en die titel van sy bundel Met die aarde praat (1992) is veelseggend in dié verband.

Die dier speel 'n belangrike rol in die eietydse Afrikaanse poësie, veral in die poësie van Johann Lodewyk Marais, Carina Stander en in die onlangse verse van Marlene van Niekerk. Johann Lodewyk Marais word trouens deur Susan Smith as "die digter met die mees uitgebreide natuursentriese oeuvre" (Smith 2013) beskou. Johann Lodewyk Marais stel ook in 1990 die bloemlesing Groen saam en in 1997 Ons klein en silwerige planeet in samewerking met Ad Zuiderent.

In hierdie ondersoek wil ek aanknoop by die kritiese praktyk van dierestudies ("animal studies") en'n klassieke teks, naamlik Eybers se "Huiskat", ondersoek.Voorbeelde van dierestudies in Afrikaans sluit in enkele artikels in Tydskrif vir literatuurwetenskap (2007) waar twee uitgawes gewy word aan die ekokritiek en artikels oor dierestudies. In 2010 word twee uitgawes van die aanlyntydskrif Safundi gewy aan dierestudies en ekokritiek in die Suid-Afrikaanse konteks - geen artikels in Afrikaans, maar Afrikaanse tekste word wel bespreek. Dana Philips (2010:1) skryf in die inleiding tot hierdie spesiale uitgawe dat enige ondersoek na die ekokritiese studie met 'n Suid-Afrikaansgerigte fokus die dier sal betrek, gegewe "the vital role played by animals, especially large game animals, in South African landscapes both real and imaginary."

Vervolgens is dit Meyer (2012), wat die gesprek tussen mens en dier in Strachan se Dwaalpoort ontleed binne die raamwerk van die ekokritiek. Visagie (2013) grond sy ondersoek na die rol van diere in die Afrikaanse literatuur op die volgende redes:

Vervlegtings tussen mens en dier is egter nie net 'n biologiese feit nie - binne die postkoloniale ekokritiek is daar die uitdaging om die plek van niemenslike diere in die voorheen gekoloniseerde wêreld te bestudeer en om na te gaan hoe die diere betrokke is by die komplekse proses van skering en inslag in die verwewing (en soms die lostorring) van self en ander.

In aansluiting hierby lewer Van Heerden en Visagie (2013) 'n insiggewende herlesing van 'n ouer teks (Van Wyk Louw se Raka) aan die hand van onder meer dierestudies en die ekokritiek. Teen die agtergrond van modernisme en moderniteit ondersoek hulle die klassieke epos en maak die volgende tersaaklike opmerking oor die representasie van die dier in die teks:

Die advent van die moderne era wat met industrialisering gepaardgegaan het, het die mens se lewe op so 'n fundamentele manier verander dat daar partymaal vergeet word dat diere toenemend uit ons alledaagse bestaanswêreld verdwyn.

Dink byvoorbeeld aan die sentrale plek van wild (soos die eland, die gemsbok, die volstruis) in die Sankultuur, die waarde van beeste vir tradisionele Afrika-kulture in sake van rykdom, status, lobola; of, breër gesien, die belangrike rol van diere, soos perde en esels, in diens van die mens. (Van Heerden & Visagie 2013:108)

Die hernieude belangstelling in die verhouding tussen menslike en niemenslike dier word volgens Swart (2007:272) as 'n belangrike faset van die sogenaamde "greening of the humanities" beskou. Aangesien diere - veral troeteldiere - so 'n belangrike rol speel in die lewens van hul eienaars word hulle feitlik onsigbaar in kritiese literatuur, omdat daar eerder gekonsentreer word op hulle wilde eweknieë soos renosters, wat openlik bedreig word. Dit is hierdie onsigbaarheid of andersmaking wat in die dierestudies reggestel word. Die fokus van Woodward en Lemmer se spesiale uitgawe van Tydskrif vir Literatuurwetenskap, wat in Desember 2014 verskyn, is die uitbeelding van die dier in postapartheid Suid-Afrika en bevat van die eerste artikels in 'n reeks oor "human-animal studies". Woodward en Lemmer (2014) verwys ook in die inleiding na die onderskeie kollokwia wat aan die Universiteit van Wes-Kaapland gehou is oor dié ondersoekterrein.

 

2. WAT IS DIERESTUDIES?

Dierestudies is 'n komponent van die groter navorsingsterrein van die ekokritiek, wat volgens Glotfelty en Fromm (1996:xviii) neerkom op die bestudering van die interaksie tussen die letterkunde en die fisiese omgewing. In aansluiting hierby kwalifiseer Smith (2014) wat die praktyk van ekokritiek behels soos volg: "Ekokritiese ondersoek sluit vraagstukke in soos die betekenis van die begrip natuur; die wyse waarop plek op dieselfde wyse as klas, geslag en ras bestudeer behoort te word; die begrip wildernis (as chaos) en hoe persepsies daarvan met verloop van tyd verander het; kommentaar op die grond/aarde waarop ons leef en die wyse waarop ons daarop leef[.]" Sedert 2000 het daar volgens Woodward en Lemmer (2014:2) 'n sogenaamde "animal turn" binne die geesteswetenskappe ontstaan, wat grotendeels die gevolg is van onder meer Derrida se The animal that therefore I am (2008) en Coetzee se The lives of animals (1999). Volgens Woodward en Lemmer het Derrida die weg gebaan vir 'n filosofiese benadering tot die niemenslike dier as synde in staat "to respond (rather than merely reacting)". Op sy beurt het Coetzee by monde van sy karakter Elizabeth Costello gefokus op die voorstelling van diere en tot die slotsom gekom dat "poets are more primed and equipped to imagine and represent animals".

Best (2009) meen dat die begrip dierestudies ontoepaslik is as oorkoepelende benaming vir 'n kritiese praktyk wat nie net betrekking het op niemenslike diere in isolasie van menslike diere nie, maar ook fokus op menslik-niemenslike diere-verhoudings. Voorts moet dit ook insluit hoe ons lewens, identiteite en lewensloop gekoppel is aan ander intelligente, kommunikatiewe wesens op wyses wat menslike diere (in die Westerse sin van die woord) gewoonlik negeer het. Best (2009) is ook van mening dat, in aansluiting by die poststrukturalisme, die binêre opposisies tussen mens en dier, asook die kwessie van spesisisme ("speciesism") gedekonstrueer word. Slabbert (2011:106) verwys na Tiffin se omskrywing van spesisisme waarvolgens die mens as superieur beskou word en oor die dier wil heers, as 'n teoretiese problematiek wat onlosmaaklik gekoppel word aan rassisme, seksisme en kolonialisme. Deur die niemenslike dier se standpunt in te neem - soos wat Derrida (2008) doen in sy The animal that therefore I am, het tot gevolg dat niemenslike diere die vormende krag word binne die geestesgoedere van die mens, in die sielkunde, die morele en sosiale lewe en in die geskiedenis in die breë.

In aansluiting by Derrida (2008) wys Sanders (2003:406) op die feit dat niemenslike diere nog altyd vanuit die Cartesiaanse oogpunt as niedenkend bestempel is en gevolglik van menslike diere onderskei is. As voorbeeld van die interaksie tussen die twee groepe diere verwys hy na die verhouding tussen mense en hulle troeteldiere - 'n aspek wat byvoorbeeld deur Woodward (2001 en 2008); Libin (2009) en Jackson (2011) met betrekking tot Marlene van Niekerk se uitbeelding van honde in Triomf ondersoek word.

Die tradisionele Cartesiaanse opvatting oor niemenslike diere kom volgens Cavallieri (2001:42) op die volgende neer:

As a hybrid composed of soul and body, not foreign to nature but placed above it via the presence of the soul or cogito, the human is a sort of bridge between the two worlds. Nonhumans, on the contrary, wholly belong in the sphere of brute matter - something that means not only that they are entirely subject to deterministic principles but also that they lack any form of subjectivity.

Lafollette en Shanks (1996:41) meen dat die dierebeskermers en dierebevryders spesisisme gelykstel aan rassisme om sodoende die aandag te kan vestig op die mens se ingesteldheid om eietydse morele waardes onkrities as die waarheid te aanvaar. Wetenskaplikes wat op diere eksperimenteer word as spesisisties beskou, aangesien hulle diskrimineer teen lede van ander spesies. Ter verdediging van sulke wetenskaplikes meen Lafollette en Shanks (1996:42) dat menslike en niemenslike diere biologies eiesoortig van aard is, maar dat hulle verskil op grond van "morally relevant respects".

Al hierdie aspekte kompliseer die aard en omvang van dierestudies en dit verklaar hoekom McFarland (2010:814) onseker voel of dit as 'n filosofie of as 'n aktivistiese handeling ten gunste van die bevordering van niemenslike diere se regte beskou moet word. Tweedens, is sy, nes Best (2009) onseker oor die keuse van die benaming vir die studieveld: Is dit dierestudies, kritiese dierestudies, mens/dier-studies of antrosoölogie? Die derde kwessie waarna McFarland (2010:814) verwys en wat deels aansluit by hierdie ondersoek na Eybers se gedig, lui soos volg: "Should it simply point out animals in literature, radically decenter the human, promote animal rights, or advocate the complete liberation of nonhuman beings?" Behels dierestudies meer as net die identifisering van verskillende niemenslike diere in 'n teks, asook om die wisselwerking tussen mensdier en niemensdier te beskou?

Mthathiwa (2011:4) noem, in aansluiting by Soper, drie maniere waarop diere gewoonlik in die letterkunde uitgebeeld word, nl. Naturalisties, allegories en deernisvol ("compassionate"). In die geval van eersgenoemde word die niemenslike dier "in a fairly straightforward way and figure as part of the narrative situation and environmental context" beskryf, terwyl in die geval van die allegorie hul uitgebeeld word as "metaphors for human beings or registers of human forms of behaviour." Wat betref die deernisvolle representasie word literêre tekste gebruik "as a way of meditating upon or bringing us to think about our treatment of animals". Die gedig "Huiskat" wat hier bespreek gaan word, bied aan die leser 'n naturalistiese beskrywing van die niemensdier, terwyl 'n karakter soos Tibert in Van den Vos Reyanerde as 'n allegoriese voorstelling van 'n kat beskou kan word. In die werk van Spies en De Lange word 'n simbiotiese en somatiese relasie tussen mensdier en niemensdier uitgebeeld en veral gedigte oor die sterfte van katte kan as voorbeelde van deernisvolle uitbeelding van die kat bestempel word.

Derrida (2008:34) meen dat die woord dier in aanhalingstekens gebruik behoort te word, want deur van "die dier" te praat, impliseer dat alle niemenslike lewende wesens onder een konsep ressorteer. Op sy beurt omskryf Ryder (1989:2) die gebruik van die begrip niemenslik soos volg: "To some this may itself sound speciesist, in that it could be asserting that human is the norm and that nonhuman is inferior. All I can say is that no such inferiority is intended or understood. In the absence of other appropriate words I use 'nonhuman' or 'nonhuman animal' in the hope that their use reminds the reader, as it does me, of the kinship between those of my own species and others."

Volgens McFarland (2010:815) kom die gebruik van dié konsep daarop neer dat 'n verskeidenheid spesies van dierelewe saamgegooi word as sou hulle almal alles in gemeen hê met mekaar. Deur van niemenslike diere te praat, impliseer dat mense ook as diere bestempel word en sodoende word die tradisionele Cartesiaanse opvatting gedekonstrueer. In When species meet (2008) verkies Haraway om van critters te praat, wat volgens haar verwys na

a motley crowd of lively beings including microbes, fungi, humans, plants, animals, cborgs and aliens. Critters are always relationally entangled rather than taxonimically neat. (Haraway 2008:330)

Volgens die Pharos Afrikaans-Engels Woordeboek (2010:890) is die woord critter informele Amerikaanse sleng en kan vertaal word as "dierasie of kreatuur".

Vanuit 'n moreel-filosofiese oogpunt wys Cavallieri (2001:7) op die feit dat die lede van die menslike spesie as gelykwaardig beskou word vanweë "high-sounding claims about our rationality and moral capacity". Dekoven (2009:363) beskou egter die gebruik van niemenslike dier as ideologies gelade, aangesien dit die mens sentraal stel en die dier beskou word vanuit die oogpunt van die mens. Anders as Haraway verkies sy dat daar eerder na wesens ("beings") verwys word in terme van spesie, habitat, ekologiese posisie, tipe voeding (karnivoor, herbivoor of nivoor) en of dit 'n roofdier of die prooi is.

Daar bestaan in'n mate ook binne die geesteswetenskappe 'n kritiese ingesteldheid jeens ekokritiek en dierestudies. Albei hierdie velde is nog in hul ontwikkelingsfases in Afrikaans maar, soos Slabbert (2011:118) aandui, "both fields have at times met with academic sniggering (researchers are often labelled as green neo-colonialists, bunny-and tree-huggers, etc.)".

Tog is Swart (2007:273) die mening toegedaan dat diergerigte vorms van ondersoek nie meer "surprise and amusement" ontlok, soos wat dit jare gelede die geval was nie. Sy vervolg:

Instead of being dismissed as simply a fad, the increasing inclusion of animals is gaining momentum - as part of our social and political narratives, from the early movement of hunters and gatherers, to the grand narrative of domestication and agricultural transformation, to figuring allegorically and materially in religions, social rituals and literature.

'n Ander aspek van dierestudies is die kwessie van diereregte en die etiese doel daarvan, wat, tesame met die fokus op die interaksie tussen menslike en niemenslike diere, die grondslag vorm van Coetzee se The Lives of Animals (1999). Hierdie teks, wat gebaseer is op die Tanner-lesings by Princeton, is een van die bekendste besinnings oor diereregte en die etiese kwessies rakende vegetarisme; dit bied ook aan die leser 'n oorsigtelike perspektief op die filosofiese denkrigtings rakende diereregte. Chauduri (2007:9) noem dit "one of the contemporary classics of animal studies", wat die interdissiplinêre aard van dierestudies beklemtoon. Coetzee betrek ook skrywers soos Kafka, Rilke en Ted Hughes in sy "lecture-narratives" (Garber in Coetzee 1999:73). Coetzee (1999:33) lewer by monde van sy fiktiewe karakter ook soos volg kommentaar op die Cartesiaanse perspektief:

To be alive is to be a living soul. An animal - and we are all animals - is an embodied soul. This is precisely what Descartes saw and, for his own reasons, chose to deny. An animal lives, said Descartes, as a machine lives. An animal is no more than the mechanism that constitutes it; if it has a soul, it has one in the same way that a machine has a battery, to give it the spark that gets it going; but the animal is not an embodied soul, and the quality of its being is not joy.

In 'n poging om die antroposentriese siening van die wêreld met die mens as middelpunt of as die belangrikste entiteit te dekonstrueer, verwys Woodward (2008:3) eerder na "verwantskaplike epistemologieë" met betrekking tot die verhouding tussen menslike en niemenslike diere. Volgens haar is daar 'n nouer verwantskap tussen die twee en word die niemenslike dier nie, soos in Derrida se geval, gereduseer tot die absolute ander nie. Dit impliseer voorts dat die grense tussen spesies meer poreus ("permeable") is. Woodward (2008:7) is ook van mening dat daar sprake is van 'n gedeelde diskoers tussen menslike en niemenslike diere, veral wanneer laasgenoemde nie gereduseer word tot 'n niedenkende Cartesiaanse ander nie. Antropomorfisme speel in dergelike gevalle dikwels 'n toonaangewende rol en volgens Garrard (2012:206) impliseer dit sentimentele voorstellings van niemensdiere met menslike eienskappe.

 

3. "ONS NOEM HAAR KAT" - BESPREKING VAN EYBERS SE GEDIG

Wat betref die uitbeelding van troeteldiere, merk Woodward (2008:174, noot19) op dat alhoewel honde geredelik voorkom in Suider-Afrikaanse narratiewe, "cats hardly seem to exist, apart from the large felines [.]" In die Afrikaanse poësie word egter etlike gedigte aangetref wat oor die mens-katverhouding handel, waarvan Jan F.E. Celliers se "Katjies" (opgeneem in Cloete 1966:41) een van die vroegste voorbeelde is. In die werk van digters soos Ina Rousseau, Lina Spies en Johann de Lange word ook etlike gedigte oor katte aangetref. Spies stel op haar beurt in 1998 die versamelbundel, Majesteit, die kat saam waarin sy 42 Afrikaanse, Nederlandse, Franse, Spaanse en Engelse skrywers se gedigte en verhale oor katte insluit - trouens, die gedig "Huiskat" van Elisabeth Eybers wat ek in hierdie artikel ondersoek, is ook in Spies se bundel opgeneem. Hierdie gedig oor katte is een van die klassieke, gekanoniseerde tekste in Afrikaans en is uit haar bundel Die helder halfjaar (1956):

Die kat strek hoog op vier strak bene, buig

behaaglik om haar luiperdlies te lek,

rol om en lê fluwelig oopgevlek

dat keel en bors en buik die son kan suig.

Ons noem haar "kat" want sy is sonder siel

en anoniem. Smal skerwe van agaat

staar koud uit die driehoekige gelaat.

Arglistig, vloeibaar, soos 'n blink reptiel

van los en lenig wees versadig: sy

sal nooit - die veearts het haar "reggemaak" -

ekstase en angs van lewe voortbring smaak,

sal, steeds eenselwig, alle teerheid stuit.

Ek hol my hand behoedsaam, smalend sluit

sy haar oë, kronkel by my greep verby.

Vanuit 'n tradisioneler simplistiese siening oor dierestudies sou Eybers se gedig beskou kan word as synde 'n teks wat indruis teen die beginsels van die groter "gelykheid" en die afwesigheid van hiërargie in die menslik-niemenslike-dier-verhouding. Dit het tot gevolg dat die leser homself in 'n sogenaamde "double bind" bevind. Spivak (2012:ix) verklaar dit onder meer as sou dit behels dat wanneer die leser van 'n teks na 'n bepaalde teks soek om 'n teoretiese benadering te illustreer, daar dikwels sprake is van 'n "intended mistake", wat sy soos volg verder omskryf: "I would rather suggest that we must know what mistake to make with a specific text and must also know how to defend our mistake as the one that will allow us to live. I assume that the passing of a text into my grasp is a mis-take, of course [...] we can only learn through mistakes" (Spivak 2012:28). Dit verklaar die keuse van my titel as "in die konteks van dierestudies", want ek gaan nie pertinent illustreer hoe konsep X binne die dierestudies uitgebeeld word as X in 'n bepaalde gedig nie; dit word eerder 'n saamlees van tekste, te wete 'n gedigteks en kritiese tekste oor dierestudies.

Ekokritiek, waarvan dierestudies 'n onderdeel is, het veral begin ontwikkel teen die einde van die negentigerjare, alhoewel Garrard (2012:1) meen dat die moderne mens se omgewingsbewustheid teruggevoer kan word na Rachel Carson se Silent spring (1962). Die vraag wat dus nou ontstaan is of uitbeeldings van diere uit die periode wat hierdie omgewingsbewustheid voorafgegaan het, grotendeels mensgesentreerd was. Die taak van die dierestudie is dus onder meer om hierdie voorstellings te kritiseer. Clark (2011:195) meen dat alle menslike voorstellings van diere 'n tipe "human measure of some sort" veronderstel en dat enige skryfwerk oor die grense van spesies heen, "a beguiling and under-recognised practice" is. Hy staan krities teenoor antropomorfiese voorstellings van diere, maar gegewe sy begrip vir die mens se beperkte insig, lewer hy 'n pleidooi vir groter balans. Vergelyk die volgende opmerking:

In sum, questions of anthropomorphism in representations of the non-human open a decisive space in which several difficult issues - about the nature of other animals, of language, of the human intersect in fascinating and perhaps ultimately irresolvable ways. (Clark 2011:194-95)

Die uitdaging vir die skrywer is om 'n betekenisvolle rekonstruksie weer te gee van die spesies se onderskeie leefwêrelde en posisionering binne daardie bepaalde habitat.

Soos die titel van Eybers se gedig reeds suggereer, handel dit oor die verhouding tussen 'n mensdier en 'n makgemaakte niemensdier. Dit is 'n wyfiekat wat hier beskryf word en as niemenslike dierespesie word sy met die vroulike geasossieer. Boria Sax (2001:57) is van mening dat die "curvilinear design of the feline body", asook die "cat's rhythmic way of walking" as vroulik bestempel kan word.

In haar beskouing oor die verhouding tussen mens en troeteldier wys Woodward (2008:117) daarop dat die interaksie tussen die twee plaasvind binne 'n interspesie-grensgebied waar die moontlikhede bestaan vir subjektiewe interaksie tussen mens en dier. Sy vind die gebruik van "troeteldier" en "aanhou van troeteldiere" problematies, aangesien dit patroniserend is met betrekking tot die dier en daar nie sprake is van 'n gelyke vennootskap tussen die twee nie. Woodward verwys ook na Berger se opvatting dat die aanhou van troeteldiere deel uitmaak van die "physical and cultural marginalisation of animals". Die woord "troeteldier" impliseer dat die dier ondergeskik word aan die mens, asook aan sy wilder eweknie. Veral met betrekking tot die aanhou van honde word die dominering van die dier deur die mens krities bevraagteken. Serpell (1996:xviii) meen egter dat die verhouding tussen mense en troeteldiere meer gelykwaardig van aard is, as byvoorbeeld die verhouding met diere wat slegs vir ekonomiese redes aangehou word:

Pets straddle that uncertain, ambiguous territory between humans and animals, they are neither strictly one thing nor the other.

Burgess-Jackson (1998:160) meen dat daar 'n spesiale verhouding bestaan tussen mense en hul troeteldiere en dat laasgenoemde beskik oor "a worth, dignity, integrity, and well-being". Dit is ook belangrik vir eienaars van troeteldiere om altyd in ag te neem dat dié diere van elders in ons lewens ingebring is. Aangesien ons hulle deel van ons lewens gemaak het, het ons 'n morele verpligting om na die dier se behoeftes om te sien. Wat die makmaak ("domestication") van diere betref, beskou Swart (2007:283) dit as 'n proses waardeur opeenvolgende generasies van onderdanige, makgemaakte diere geleidelik deel geword het van menslike gemeenskappe, waar hulle toenemend meer afgesonder word van hul wilde voorsate.

In die geval van Eybers se gedig oor 'n troetelkat wat deel geword het van die spreker se huishouding, val die anonimiteit van die dier onmiddellik op: daar word gepraat van 'n huiskat en na "die kat" verwys. Een van die eerste maniere waarop die mens in die konteks van interspesiekontak'n mate van identiteit met die dier bereik, is deur middel van naamgewing, wat dus nie in hierdie gedig plaasvind nie. Strauss (1997: 20) skryf in dié verband soos volg:

To name is to know and the extent of knowing is dependent upon the extent of the naming ... The act of naming is central to any human's cognition of his world. The naming of an object provides a directive for action ... and arouses a set of expectations toward the object thus classified.

Dit word bevestig in die tweede strofe van Eybers se gedig wanneer daar oor die naamgewing besin word, en genoem word dat die kat anoniem bly, want sy is "sonder siel / en anoniem". Die spreker se verwysing na "Ons noem haar kat" kan eweneens gelees word as kritiek op die menslike beperkinge in denke en taal. Die mens skiet ver tekort om die ware aard van die kat as spesie te begryp. Die spreker huldig die Cartesiaans-geïnspireerde siening dat die mensdier superieur is omdat hy oor die konsep van 'n siel beskik, terwyl dit by die dier ontbreek en die dier gevolglik nie van 'n identiteit voorsien hoef te word nie. Die dier as ander word gekoppel aan haar wilde voorsaat, die luiperd (vergelyk "luiperdlies") en haar oog word selfs met dié van reptiele vergelyk.Die kat bied dus vir die spreker 'n poort tot ander aspekte van die omgewing, sowel ander niemenslike dierespesies soos die luiperd en die reptiel, maar ook in die woord "kronkel" en die anorganiese agaat en selfs die son waaraan die kat "suig". Die koppeling van die huiskat aan die beskrywing van haar wilde eweknie, die luiperd, illustreer voorts ook die andersmaking van die niemensdier deur die spreker. Vergelyk Cloete (2007:320) se opmerking wat hier ter sake is:

The animal might have no share in the abstraction of words but could be victim of the metaphors of animality that spread like contagion in keeping the animal, the wild, that which cannot be tamed, outside of the human so that absolute otherness is perceived as malign. The beast and the brute, the monster and the alien, places the animal in perpetual opposition to the human.

Die blik ("gaze") van die niemensdier word vooropgestel in hierdie gedig en skakel intertekstueel met Derrida (2008) se uitgangspunt in sy boek oor die verhouding tussen mensdier en niemensdier. Derrida het, nadat hy nakend uit die stort geklim het, opgemerk dat sy kat vir hom sit en kyk en dit het by hom die vraag laat ontstaan: sien die kat hom raak? Wat dink die kat? Derrida (2008:4) meen dat sy naaktheid voor die "insistent gaze of the animal" hom 'n gevoel van skaamte gee. Eybers se pertinente beskrywing van die oog as "Smal skerwe van agaat / staar koud uit die driehoekige gelaat" suggereer iets van die "bottomless gaze" van die niemenslike dier (Derrida 2008:12) waaroor Derrida soos volg skryf:

I am here thinking of those seeing eyes, those eyes of a seer whose color must at the same time be seen and forgotten. In looking at the gaze of the other, Levinas says, one must forget the color of his eyes; in other words, see the gaze, the face that gazes before seeing the visible eyes of the other.

Wanneer die kat dus na die filosoof kyk, stimuleer dit by hom nuuskierigheid oor die mens wanneer hy deur die dier dopgehou word (Woodward 2008:3). Die "bottomless gaze" het volgens Woordward (2008:3) die gevolg dat die kat "agentive" word en "with her observant eyes, and has brought the speaker to an awareness of himself through his acceptance of the point of view of the cat." Of die blik letterlik of metafories is, is onbelangrik, want soos Woodward (2008:3) dit stel, "the central issues here are whether the human acknowledges subjective kinship with animals and what potential emerges."

Die interpretasie van die huiskat se blik berus op die tekstuele tekens wat deur Eybers verskaf word. Die kleur en vorm word genoem, maar die konnotasies met 'n primordiale gevaar word ook genoem. Vanuit die spreker se antropomorfiese blik word die niemensdier dus as afstandelike en onemosionele ander beskryf. Van Heerden en Visagie (2013:119) verwys na die "onpeilbare blik" wat dikwels eie is aan die gerepresenteerde dier, wat hier ook ter sake is.

Enersyds is daar in Eybers se teks 'n vermensliking van die niemensdier waardeur die dier nader aan die mens gebring word, weens die gedeelde eienskappe met die mensdier, maar terselfdertyd is daar ook 'n afstandelikheid wat die spreker toeskryf aan die kat se afsydigheid.Die afstandelikheid tussen mens en dier in hierdie gedig word verder gesuggereer deur die gebruik van woorde soos "koud" en "smalend" wanneer na die kat verwys word. Woorde met 'n sterk emotiewe inslag en wat tekenend is van die spreker se interpretasie van die kat se optrede, word gebruik. Hierdie antropomorfiese spreker skryf menslike eienskappe aan die dier toe - 'n praktyk/proses wat Karlsson (2011:709) soos volg verduidelik:

Anthropomorphism is the habit of attributing traits, believed to be uniquely or typically human, to non-human entities such as divinities, machines or animals. [...] A trait that is typical to human beings is by no means necessarily restricted to our species. A trait that is merely believed to be unique to the human species may still actually be prevalent among other animals.

Volgens Sherry (2009:17) was dit vir die primitiewe mens belangrik om te kan onderskei tussen mensdier en niemensdier, want laasgenoemde het 'n belangrike rol in hul oorlewing gespeel. Hierdie onderskeid word deesdae steeds getref, veral in die geval van troeteldiere - soos blyk uit hierdie gedig.

Vanuit 'n psigoanalitiese perspektief beskou, staan die kwessie van projeksie sentraal met betrekking tot die antroposentriese siening van die niemensdier. Projeksie, verduidelik Rycroft (1988:125-6), verwys binne die psigoanalise daarna dat die geestesbeeld as objektiewe werklikheid beskou word. Volgens dié proses word sekere impulse, wense, aspekte van die self of geïnternaliseerde objekte beskou as synde gelokaliseer in 'n objek buite die self. Dikwels word daardie aspek van die eie self ontken. In die geval van die kontak tussen die spreker en die troeteldier in "Huiskat" is daar sprake van projeksie: die gevoel van afstandelikheid en kilheid jeens die dier genaamd "kat" word geprojekteer op die dier as ander en as die dier se emosionele reaksie beskryf.

Die interspesie-kommunikasie tussen mens en dier in Eybers se gedig vind plaas wanneer die spreker haar hand uitreik na die kat en die kat haar oë smalend sluit en dan wegkronkel. Die kommunikasie wat plaasvind lei nie tot die gewenste wisselwerking wat die spreker nastreef nie. Die optrede van die spreker is 'n poging om haar magsposisie te verstewig, maar is ook 'n poging om op begripsvlak 'n greep te kry op die dier as ander. Die taal wat hierdie interaksie beskryf, is veelduidend. Daar word verwys na "kronkel verby" en "my greep". Laasgenoemde suggereer die krampagtige poging van die spreker om haar magsposisie te bevestig en die dier vas te gryp, terwyl die handeling van die dier gelyk gestel word aan die optrede van 'n reptiel. Dit skakel met die vroeëre assosiasie van die kat se oog met dié van 'n reptiel. In hierdie situasie wil die spreker as eienaar van die troeteldier haar superieure posisie bevestig teenoor die dier as ander, maar daar vind geen wisselwerking plaas nie.Die intersomatiese kontak tussen mensdier en niemensdier is gering en in die gedig is daar sprake van die "particular positionings" (Woodward 2014:9) tussen die twee. Daar is geringe beliggaamde kontak tussen die twee en die niemensdier is steeds 'n naamlose ander wat gerelegeer word tot die randgebied van die mensdier se persepsie.

Meyer (2012:301) is van mening dat "die deel van 'geheime' tussen mens en dier as die intiemste vlak bestempel word waarop ekologiese diskoers moontlik is," en wanneer dergelike kommunikasie plaasvind, word die grense tussen mensdier en niemensdier oorgesteek en word kwessies soos "die dierlikheid van die mens en die menslikheid van die dier" (Meyer 2012:310) belig.

Die spreker in Eybers se "Huiskat"skryf die dier se gebrek aan "teerheid" toe as synde die gevolg van sterilisering. Die dier is, weens die ingryping van die veearts op haar liggaam, "reggemaak" en kan nie voortplant nie. "Regmaak" of "reggemaak" is beslis 'n pejoratiewe konsep met betrekking tot diere.Volgens die HAT verwys die lemma regmaak na "in orde bring, verbeter, heelmaak, herstel." Volgens die Merriam-Webster Dictionary is die oorsprong van die Engelse ekwivalent, spay, soos volg:

Middle English, from Anglo-French espeer to pierce, castrate, from espee sword, from Latin spatha sword.

Ter wille van die mensgemaakte orde in die samelewing word die liggaam van die dier onderwerp aan 'n proses wat veronderstel is om die dier te "verbeter". In die Engelse ekwivalent word die prosedure etimologies geassosieer met geweld en as deel van die verklaring van die lemma word selfs terme uit die gevegkuns betrek.

Die vertrouensverhouding tussen mens en dier word daardeur versteur, want die niemensdier word onderwerp aan 'n mensgerigte proses. Indien hierdie ingrypende prosedure nie sou plaasvind byvoorbeeld in die Suid-Afrikaanse konteks nie, sou dit aanleiding gee tot rondloperhonde en -katte wat onversorg gelaat word, veral omdat niemand die werpsels wil hê nie. Arkow (1998:196) ondersoek etiese dilemmas betreffende dierewelsyn en meen dat die "lack of a clear consensus about how society values animals" een van die kernoorsake van hierdie ambivalente gevoel jeens sterilisasie is.

In Eybers se gedig word verwys na die gevolge van die ingryping deur die veearts, naamlik die verlies aan vrugbaarheid en die onvermoë om te kan voortplant ("sal nooit [...] /ekstase en angs van lewe voortbring smaak"). Binne die gesinsverband, waar die huisdier as een van die gesinslede bestempel word (Sanders 2003:414), neem die dier die posisie in van een van die ondergeskiktes, waarskynlik as 'n kind en daarom is dit ondenkbaar vir die dominante lede van die gesin dat die dier enigsins in staat is om te mag en kan voortplant.

Die interaksierituele tussen versorgers en hulle kat is volgens Leger en Leger (1997:77) hoofsaaklik gemik op sosiale doelwitte ("goals") en sentreer rondom die uitruil van wedersydse gevoelens. Kateienaars beskou hul verhouding met 'n spesifieke kat as geslaagd, indien hulle meen dat daardie spesifieke kat die inisieerder is van interaksie. Sodra daardie kat ook liefde en vriendskap jeens die eienaar betoon, word dit as 'n gesonde en liefdevolle verhouding bestempel; anders as in die geval van die verhouding tussen spreker en kat in "Huiskat".

Slegs wanneer die mensdier in die rol van versorger-metgesel voel dat daar 'n wedersydse uitruil van toegeneentheid en emosionele wisselwerking tussen haar en die niemensdier bestaan, word so 'n interaksie as geslaag beskou. Leger en Leger spits hulle veral toe op die bestudering van die relasie tussen mense en katte, omdat katte hoofsaaklik beskou word as "aloof, independent, and indifferent to human desires and needs" (Leger & Leger 1997:72).

Die kat se gedrag word bepaal deur 'n vertoon van toenadering en sekere speletjies wat gewoonlik gespeel word. Regan (1983:243) se siening van die subjekskap van die dier kom hier ter sprake en volgens Woodward (2008:7) impliseer dieresubjektiwiteit dat die dier gepresenteer word as 'n subjek wanneer hy of sy bestempel word as "an individual, sentient being who experiences emotions, who, possibly, enacts morality, who has agency, intentionality, a sense of the teleology of her or his life, as well as an ability to recognise and fear death and its advent." Met betrekking tot agentskap ("agency") meen Donaldson en Kymlicka (2011:65) dat mensdiere tradisioneel as primêre agente beskou is en die inisieerders van mens-dierverhoudings. Mensdiere het aangegaan met hul lewens en het gekies wanneer hulle niemensdiere wil jag of makmaak. Volgens Donaldson en Kymlicka (2011:65) vertoon niemensdiere ook 'n mate van agentskap: hulle kies om menslike nedersettings te vermy, maar kan dit ook opsoek as daar 'n behoefte bestaan. In "Huiskat" weet die niemensdier wanneer dit nodig is om 'n mate van toenadering te soek by die mensdier en toe te laat dat sy aangeraak word - volgens haar behoefte en agensie. Die mensdier tree hier as agent op deur haar hand hol te maak, maar die niemensdier ignoreer haar en "kronkel" verby.

Eybers se keuse om 'n Italiaanse sonnet oor die verhouding tussen die spreker en die kat uit te beeld, lewer ook metapoëtiese kommentaar op die beperkings van die sonnet as 'n digvorm wat dikwels kwessies omtrent die verhouding tussen mens en omgewing ondersoek. In die slotreëls probeer sy om 'n konseptuele "greep" (ook 'n letterlike greep) op die kat te kry, maar dit misluk en sodoende suggereer dit ook die onvolmaaktheid van die sonnet as digvorm wat menslike begrip en toe-eiening ("appropriation") van die natuur en spesifiek 'n niemenslike spesie soos die kat fasiliteer. 'n Verdere illustrasie hiervan is die afwyking van die konvensionele rympatroon vir die Italiaanse sonnet in die sekstet. In plaas van die gebruiklike rympatroon, CDDECE, het ons by Eybers CDDEEC.

 

SLOTOPMERKINGS

Aan die hand van 'n bekende gedig is kortliks die studieterrein van dierestudies belig. Uit die interpretasie van dié gedig binne die konteks van dierestudies kan die leser uit Eybers se naturalistiese uitbeelding van die niemensdier aflei dat ons grotendeels hier 'n antroposentriese perspektief op die mensdier-niemensdier-verhouding aantref. Die mensdier het die niemenslike huisdier onderwerp aan bepaalde regulering deur die kat te ontneem van haar vermoë tot voortplanting en ook in die proses op te tree as 'n agensie wat die natuur manipuleer vir eie gewin. Die enigste verweer wat die niemensdier het teen hierdie ingryping is om afsydig teenoor die mensdier op te tree. Veral van belang by die lees van Eybers se gedig is die Cartesiaanse ingesteldheid van die spreker en die onvermoë om die kat as gelykwaardige subjek te bestempel, asook dat die anonimiteit van die niemensdier as ander vooropgestel word. Ten spyte van die stipte waarneming van die ander en die beskrywing van sy uiterlike, is daar nie 'n hegte intersomatiese verhouding tussen die twee nie. Die niemensdier word ook getekstualiseer deurdat sy die onderwerp is van die spreker se gedig, maar enige tekstuele representasie van niemensdiere geskied deur middel van mensgemaakte taal, asook hoe die mens die dier dophou en beskryf. Die leser van 'n teks oor die niemensdier vergelyk ook altyd die representasie met sy eie kennis van die niemensdier in die werklikheid.

Hierdie ondersoek fokus uitsluitlik op die literêre voorstelling van die niemensdier en kan as 'n vertrekpunt dien vir verdere studie oor die onderwerp. Die nie-Cartesiaanse ingesteldheid van digters soos Lina Spies en Johann de Lange met betrekking tot die uitbeelding van katte is slegs een moontlike verdere ondersoek.

 

BIBLIOGRAFIE

Arkow, P. 1998. Application of ethics to animal welfare. Applied animal behavior science 59:193-200.         [ Links ]

Best, S. 2009. The rise of critical animal studies: putting theory into action and animal liberation into higher education. State of Nature: An online journal of radical ideas. www.stateofnature.org[1 November 2014].         [ Links ]

Brandes, S. 2009. The meaning of pet cemetery gravestones. Ethnology 48(2):99-118.         [ Links ]

Burgess-Jackson, Keith. 1998. Doing right by our animal companions. The Journal of Ethics 2:159-185.         [ Links ]

Chauduri, U. 2007. (De)Facing the Animals. Zooësis and performance. The Drama Review 51(1):8-20.         [ Links ]

Clark, T. 2011. The Cambridge introduction to literature and the environment. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Cloete, E. 2007. Tigers, humans and animots.Tydskrif vir Literatuurwetenskap 23(3): 314-333.         [ Links ]

Cloete, T.T. 1966. Faune. 'n Bloemlesing oor die dier in die Afrikaanse poësie. Elsiesrivier: Nasionale Boekhandel.         [ Links ]

Coetzee, J.M. 1999. The lives of animals. Princeton: Princeton University Press.         [ Links ]

Dekoven, M. 2009. Why animals now? PMLA 124(2):361-369.         [ Links ]

Derrida, J. 2008. The Animal That Therefore I Am. New York: Fordham University Press.         [ Links ]

Donaldson, S & Kymlicka, W. 2011. Zoopolis. A political theory of animal rights. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Garber, M. 1993. Reflections. In: Coetzee, J.M. The lives of animals. Princeton: Princeton University Press, pp. 73-84.         [ Links ]

Glotfelty, C. & Fromm, H. (eds). 1996. The ecocriticism reader. Athene & London: University of Georgia Press.         [ Links ]

Haraway, D. 2003. The companion species manifesto: Dogs,people, and significant others. Chicago: Prickly Paradigm Press.         [ Links ]

Haraway, D. 2008. When species meet. Minnesota: University of Minneapolis Press.         [ Links ]

Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. 2005 (1965). Kaapstad: Pearson.         [ Links ]

Jackson, J. 2011. Going to the Dogs: Enduring Isolation in Marlene van Niekerk's "Triomf." Studies in the Novel 43(3): 343-362.         [ Links ]

Karlsson, F. 2011. Critical anthropomorphism and animal ethics. Journal of Agricultural and Environmental Ethics 25: 707-720.         [ Links ]

Lafolette, H. & Shanks, N. 1996. Brute science: Dilemmas of animal experimentation. New York, London: Routledge.         [ Links ]

Leger, J.M. & Leger, S. 1997. Beyond Mead: Symbolic interaction between humans and felines. Society and Animals 5(1): 65-81.         [ Links ]

Libin, M. 2009. Dog-angels in wolf time: Locating the place of the human in Marlene van Niekerk's Triomf. Journal of Postcolonial Writing 45(1):37-48.         [ Links ]

Marais, J.L. & Ad Zuiderent (samestellers). 1997. Ons klein en silwerige planeet. Pretoria: Academica.         [ Links ]

Marais, J.L. (samesteller). 1990. Groen. Pretoria: HAUM-Literêr.         [ Links ]

McFarland, S. 2010. "The Animal" is a verb: Liberating the subject of animal studies. JAC 30 (3/4):813-823.Merriman-Webster Online Dictionary. http://www.merriam-webster.com. [11 November 2014]        [ Links ]

Meyer, S. 2012. Stemme van agter die plaas se hek: Die mens-natuur-"gesprek" in Dwaalpoort van Alexander Strachan. Tydskrif vir geesteswetenskappe 52(2): 290-306.         [ Links ]

Mthatiwa, S.D.M. 2011. Human-Animal Relationships and Ecocriticism: A Study of the Representation of Animals in Poetry from Malawi, Zimbabwe, and South Africa. Unpublished PhD thesis. Witwatersrand University.         [ Links ]

Pharos Afrikaans-English English Afrikaans Dictionary. 2005. Kaapstad: Pharos.         [ Links ]

Philips, D. 2010. Introduction to special issue on animal studies and ecocriticism. Safundi 11(1-2):1-2.         [ Links ]

Regan, T.1983. The case for animal rights. Berkeley: University of California Press.         [ Links ]

Rycroft, C. 1988. A critical dictionary of psychoanalysis. Harmondsworth: Penguin.         [ Links ]

Ryder, R.D. 1989. Animal revolution: changing attitudes towards speciecism. Oxford: Basil Blackwell.         [ Links ]

Sanders, C.R. 2003. Actions speak louder than words: close relationships between humans and nonhuman animals. Symbolic Interaction 26(3): 405-426.         [ Links ]

Spivak, G.C. 2012. An aesthetic education in the era of globalization. Cambridge: Harvard University Press.         [ Links ]

Sax, B. 2001. The mythical zoo: Animals in myth, legend and literature. Santa Barbara: ABC-Clio.         [ Links ]

Serpell, J. 1996. In the company of animals: A study of human-animal relationships.Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Sherry, C.J. 2009. Animal rights. A Handbook. Santa Barbara: Greenwood.         [ Links ]

Slabbert, M. 2011. Animals and nature: mapping storylines and metaphors in David Kramer's narratives. Literator 32(1):99-120.         [ Links ]

Smith, S. 2013. Ekokritiek: In gesprek met Susan Smith. Litnet Akademiese gespreksruimte. 11 April 2013. http://www.litnet.co.za/Article/ekokritiek-in-gesprek-met-susan-smith.         [ Links ] [1 Februarie 2015]

Smith, S. 2014. Ekokrtiek en die nuwe materialisme: 'n Ondersoek na die nuwe materialisme in enkele gedigte van Johann Lodewyk Marais. Litnet Akademies 11(2):749-774. http://www.litnet.co.za/assets//pdf/joernaaluitgawe_11_2/11_2_Smith.pdf. [1 Februarie 2015]        [ Links ]

Spies, L. 1998. Majesteit, die kat: verhale en gedigte oor katte. Kaapstad: Quellerie.         [ Links ]

Strauss, A. 1997. Mirrors and masks: The search for identity. New Brunswick, NJ: Transaction.         [ Links ]

Swart, S. 2007. "But where's the bloody horse?": Textuality and corporeality in the "Animal Turn". Tydskrif vir literatuurwetenskap 23(3):271-292.         [ Links ]

Van Heerden, N. & Visagie, A. 2013. Twee dieregestaltes by N.P. van Wyk Louw: Raka en 'Die swart luiperd'. Tydskrif vir letterkunde 50(3):106-120.         [ Links ]

Visagie, A. 2013. Pasmaatspesies, niemenslike diere en die omgewing: gedagtes oor die postkoloniale ekokritiek in Suid-Afrika Litnet. Webseminaar .http://www.litnet.co.za/Article/pasmaatspesies-niemenslike-diere-en-die-omgewing-gedagtes-oor-die-postkoloniale-ekokritiek[3 November 2014].         [ Links ]

Woodward, W. 2001. Dog Stars and Dog Souls: The Lives of Dogs in Triomf by Marlene van Niekerk and Disgrace by J.M. Coetzee. Tydskrif vir Literatuurwetenskap 17(3/4):90-120.         [ Links ]

Woodward, W. 2008. The animal gaze. Animal subjectivities in Southern African narratives. Johannesburg: Wits University Press.         [ Links ]

Woodward, W. 2014. The Post-humanist gaze: Reading Fanie Jason's photo essay on carting lives. Tydskrif vir literatuurwetenskap 30(4):6-24.         [ Links ]

Woodward, W. & Lemmer, E. 2014. Inleiding tot die spesiale uitgawe van Tydskrif vir literatuurwetenskap 30(4):1-5.         [ Links ]

 

 

 

Marius Crous is 'n senior lektor in die Departement Tale aan die NMMU in Port Elizabeth. Hy het twee doktorsgrade verwerf, naamlik in Afrikaans-Nederlands (US, 2002) en Engels (UK, 2013). Drie digbundels het al uit sy pen verskyn.
Marius Crous is a senior lecturer in the Department of Languages at NMMU in Port Elizabeth. He was awarded doctoral degrees in both Afrikaans-Nederlands (US, 2002) and English (UCT, 2013) and he is also a published poet.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons