SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.55 número3Creating a standardised version of Afrikaans - the first 50 yearsMonolingualism, integration and assortative mixing in social networks: A literature review índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.55 no.3 Pretoria sep. 2015

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2015/V55N3A2 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS

 

Wie is die teikengebruikers van eentalige aanleerderwoordeboeke?

 

Who are the target users of monolingual learners' dictionaries?

 

 

Rufus H. Gouws

Departement Afrikaans en Nederlands Universiteit van Stellenbosch. E-pos: rhg@sun.ac.za

 

 


OPSOMMING

Eentalige aanleerderwoordeboeke is gerig op gebruikers wat 'n vreemde taal aanleer. Die fokus is op hulle behoeftes met betrekking tot die vreemde taal. Die moedertaal van 'n uiteenlopende groep gebruikers word egter nie in aanmerking geneem nie. Hierdie artikel wys daarop dat eentalige aanleerderwoordeboeke aangepas moet word, sodat die verskillende moedertale van verskillende gebruikers 'n invloed op die keuse van aanduiders en die aard van die leksikografiese bewerking sal hê. Daar word daarop gewys dat 'n generiese eentalige aanleerderwoordeboek nie moedertaalsprekers van verskillende tale bevredigend kan help met betrekking tot byvoorbeeld vals vriende, kultuurgebonde leksikale items en met die impak van taalbeïnvloeding en taalversteuring nie. Voorstelle word gemaak vir 'n model waarvolgens sowel gedrukte as aanlyn eentalige aanleerderwoordeboeke 'n sterker gebruikersgerigtheid kan toon. Vir aanlyn woordeboeke word voorgestel dat een databasis geskep moet word waaraan verskillende variante artikels onttrek kan word.

Trefwoorde: aanleerderwoordeboek, aanlyn woordeboek, artikelstruktuur, dataverspreiding, eentalige aanleerderwoordeboek, gebruikersbehoeftes, kultuurgebonde leksikale items, laaistruktuur, taalbeïnvloeding, uitgebreide verpligte mikrostruktuur, vals vriende


ABSTRACT

Many terms used in the era prior to the emergence of a general theory of lexicography are still in frequent use in the lexicographic practice and in theoretical discussions, albeit that these terms have not all been allocated a definition that accurately reflects their use in lexicography. This paper offers a critical discussion of monolingual learners' dictionaries, and emphasises the fact that the term monolingual learners' dictionary has not been defined in a scientifically sufficient way because the nature of the learner in this learners' dictionary has not been appropriately described. These dictionaries are primarily directed at learners of a foreign language, and the needs of these users with regard to the foreign language are at the centre of theoretical and practical work in this component of lexicography. However, the users of monolingual learners' dictionaries often have different mother languages. Unfortunately little or no attention is given to the mother language of these users and the implications it has for their successful use of monolingual learners' dictionaries. As a result of this failure, the lexicographic practice produces dictionaries that do not take cognizance of some of the real needs of the users of monolingual learners' dictionaries.
A brief discussion of the introduction of learners' dictionaries to the typological spectrum is followed by a discussion of some significant features of this dictionary type. The focus is then shifted to the need for better user-directed monolingual learners' dictionaries. It is shown how the mother language of users can demand more guidance in learners' dictionaries with regard to the presentation and treatment of false friends and culture-bound lexical items. More attention should be given to language influence and language interference between the language treated in the dictionary and the mother language of intended target users.
Proposals are made for a better model for monolingual learners' dictionaries. In printed dictionaries a well-devised data distribution structure should introduce the use of extended obligatory microstructures in order to complement the generic and default data with data directed at the needs of users with specific mother languages. Utilising a drawer structure, outer texts could be included with data regarding a selected number of languages that are mother languages of the intended target user group.
Online dictionaries offer better possibilities to solve the problem of users with different mother languages that consult the same generic monolingual learners' dictionary. The planning of these dictionaries could make provision for the use of a single data bank from which different user-directed variants of the dictionary can be retrieved. Following the user profile specified by each user, the generic data and treatment can be retrieved. If a user has specified a specific mother language in his/her user profile, the generic data will be complemented by data relevant to the specific mother language. For a single guiding element, different partial articles can be retrieved as screen shots, and the user can switch from a default profile to a language-specific profile. In such a case, the default data will be complemented by additional data, with unique items presented in an extended obligatory microstructure.
The inclusion of data regarding different mother languages of the users of the monolingual learners' dictionaries leads to a question regarding the monolingual nature of such a dictionary. Following the established notion of monolingual dictionaries with a bilingual dimension, this paper argues in favour of a monolingual learners' dictionary with a multilingual dimension.
By making provision not only for the needs of users with regard to the foreign language they have to learn, but also for the problems due to different mother languages within a single user group, a model can be developed that will enhance the quality and user-directedness of monolingual learners' dictionaries.

Key Terms: article structure, culturally-bound lexical items, data distribution, drawer structure, extended obligatory microstructure, false friends, language influence, learners' dictionary, monolingual learners' dictionary, online dictionary, user needs


 

 

1. INLEIDEND

Die ontwikkeling van die leksikografie as vakgebied het onder meer 'n standaardisering van leksikografiese terminologie meegebring. Dit blyk onder meer uit die daarstelling van verskillende vakwoordeboeke in die leksikografie, byvoorbeeld Hartmann en James (1998), Bergenholtz et al. (1997), en veral Wiegand et al. (2010) - dit is die meertalige Wörterbuch zur Lexikographie und Wörterbuchforschung/Dictionary of Lexicography and Dictionary Research waarin leksikografieterme vir nie minder nie as tien tale, insluitende Afrikaans, weergegee word.

Baie terme wat in die leksikografiepraktyk geskep is in 'n era voor die ontwikkeling van die metaleksikografie word vandag steeds met vrug in sowel die praktiese as die teoretiese leksikografie gehandhaaf. Sulke terme bied nie altyd 'n akkurate weerspieëling van die betrokke begrip nie, maar het reeds so gevestig geraak dat dit dikwels onkrities gebruik word. In die benoeming van woordeboeksoorte is daar dikwels baie algemene terme gebruik, byvoorbeeld tweetalige woordeboek, standaardwoordeboek, skoolwoordeboek, wat so vaag is dat 'n veel nouer benoeming en gepaardgaande omskrywing nodig is. Desondanks word die terme gehandhaaf en word woordeboeke met hierdie tipologiese benoeming steeds saamgestel.

In die beplanning en samestelling van nuwe woordeboeke het 'n bepaalde tradisionele tipologiese klassifikasie dikwels as vertrekpunt gedien, en die aard en omvang van so 'n woordeboek is daardeur bepaal - sonder dat die term ter aanduiding van die bepaalde tipologiese klassifikasie, asook die praktiese samestelling van die woordeboeksoort wat deur die term verwoord word, krities beoordeel is. So 'n benadering kon maklik tot die skep van woordeboeke gelei het wat te sterk aan die tipologiese klassifikasie hou, maar nie noodwendig genoegsaam gerig was op die behoeftes en naslaanvaardighede van hulle geïdentifiseerde teikengebruikers nie.

In hierdie artikel word een aspek van hierdie probleem bespreek, naamlik die tipologiese kategorie eentalige aanleerderwoordeboek. Alhoewel hierdie kategorie vroeër miskien voldoende was om 'n plek binne die tipologiese verskeidenheid te verdien, word daar in hierdie artikel daarop gewys dat die term eentalige aanleerderwoordeboek nie meer presies genoeg is om as wetenskaplike term gebruik te word nie en dat kriteria vir woordeboeke wat tot hierdie kategorie behoort, hersien moet word. Die voortgesette gebruik van hierdie term en die gebrek aan ʼn herbesinning oor die aard van hierdie woordeboeksoort het nadelige implikasies vir die leksikografiepraktyk en vir die potensiële teikengebruikers van hierdie woordeboeke.

 

2. DIE AANLEERDER IN AANLEERDERWOORDEBOEKE

2.1 Verskillende interpretasies

Een van die kernbegrippe in onlangse en selfs minder onlangse leksikografiese gesprekke is dié van die woordeboekgebruiker - vergelyk onder meer Hartmann (1989). Wiegand (1977:59) was vroeër al krities daaroor dat leksikograwe hulle daarop beroep dat hulle woordeboeke op die gebruiker se behoeftes gerig is, maar dat hierdie teikengebruiker dikwels nie duidelik genoeg omskryf is nie. Daarom praat Wiegand van die "bekannte Unbekannte", die bekende vreemdeling. Wanneer 'n mens na die tipologiese klassifikasie van woordeboeke kyk, is dit dikwels moeilik om op grond van dié klassifikasie vas te stel wie die veronderstelde teikengebruiker van 'n bepaalde woordeboeksoort is. In die leksikografie het die gebruikersperspektief 'n minder ingrypende invloed op die benoeming van tipologiese klassifikasie gehad. Die een opvallende uitsondering in hierdie verband is die aanleerderwoordeboek - 'n tipologiese kategorie waar die teikengebruiker eksplisiet in die term ter aanduiding van die betrokke woordeboeksoort verskyn - of so lyk dit, altans.

Oor die begrip "aanleerderwoordeboek", asook oor die tipologiese klas wat deur die term aanleerderwoordeboek benoem word, is daar in die onlangse jare insiggewende uitsprake gemaak. Bogaards (2013:400) sê tereg dat "Learners' dictionaries constitute the best researched type of lexical reference works, at least as far as learners' dictionaries for English are concerned."

Ondanks die feit dat daar soveel navorsing oor aanleerderwoordeboeke gedoen is, bly die term aanleerderwoordeboek steeds nie 'n ondubbelsinnige term nie.Tarp (2011:219) beweer dat:

A short panoramic review shows that especially the terms "pedagogical lexicography/dictionaries", "didactic lexicography/dictionaries", "school dictionaries" and "learners' dictionaries" are used with a lot of different meanings that vary from author to author, from country to country, from culture to culture.

Een van die kwessies waaroor leksikograwe verskil, is, ironies genoeg, die tipiese teikengebruiker van hierdie woordeboeksoort. Die verskil lê onder meer daarin of die aanleeraktiwiteit, dit waarop die aanleerderwoordeboek primêr gerig is, net t.o.v. 'n vreemde taal geld, al dan ook t.o.v. die teikengebruiker se eerste taal. In hierdie verband sê Rothenhöfer (2013:415): "A German (general purpose) learner's dictionary is a dictionary especially designed for prototypical, non-native speakers of German with their prototypical information needs in prototypical contexts of learning."

In teenstelling met hierdie uitspraak beweer Tarp (2011:223-224): "A learner's dictionary is a dictionary especially designed to assist learners of languages (whether a native or a foreign language) and of scientific and practical disciplines."

'n Interpretasie van die term aanleerderwoordeboek wat dikwels voorkom, word weerspieël in die verklaring wat in Wikipedia gevind word, naamlik: "a type of dictionary designed to meet the reference needs of people learning a foreign language." http://en.wikipedia.org/wiki/Monolingual_learner's_dictionary.[19 Maart 2015]

Die kwessie of aanleerderwoordeboeke slegs vir die aanleer van 'n vreemde taal of ook vir die aanleer van die moedertaal saamgestel word, word nie verder in hierdie artikel bespreek nie. Vir die hieropvolgende bespreking is dit wel van belang om bewus te wees van verskillende interpretasies en gebruike van die term aanleerderwoordeboek. Die fokus in hierdie artikel is egter op ander problematiese aspekte van die term aanleerder.

2.2 Die werk van A.S. Hornby

In die leksikografiese praktyk moet die Britse toegepaste taalkundige A.S. Hornby as die vader van aanleerderwoordeboeke beskou word. In die leksikografiese literatuur is daar gereeld verwysings na sy baanbrekende werk Idiomatic and Syntactic English Dictionary (1942) wat later vir die internasionale mark voorberei is as A Learner's Dictionary of Current English (1948) en nog later as The Advanced Learner's Dictionary of Current English (1952) verskyn het - cf. Cowie (1998).

Die verskyning van Hornby se woordeboeke het die gebruik van die term aanleerder in die woordeboektipologie ingelui. Dit is belangrik om daarop te let dat sy eerste aanleerderwoordeboek 'n eentalige produk was. Dit is eweneens belangrik om bewus te wees van die spesifieke gebruiksomgewing waarin en waarvoor sy woordeboek beplan, saamgestel en gepubliseer is. In 1931 is Hornby uitgenooi om hom aan te sluit by die taalkundige H.E. Palmer om saam te werk aan woordeskatnavorsing by die Tokyo Institute for Research into English Teaching (IRET) - vgl. http://www.britishcouncil.org/learning-elt-hornby-information.htm. Volgens Cowie (1998) was dit bykans tien jaar nadat Palmer die opdrag gekry het om 'n gekontroleerde woordeskat vir Japannese middelbare skole saam te stel. Palmer het reeds die behoefte aan 'n spesiale woordeboek vir aanleerders aangedui, en die idee van 'n algemene eentalige woordeboek wat spesifiek vir Japannese aanleerders van Engels ontwerp is, is reeds vroeër deur Palmer en Naoe Naganuma van die uitgewer Kaitakusha bespreek. Hornby se kennis van die behoeftes van taalaanleerders in Japan het hierdie gedagtes gerig, en dit het gelei tot die publikasie van die Idiomatic and Syntactic English Dictionary in 1942 en later The Advanced Learner's Dictionary of Current English (1952). In die voorwoord tot die eersgenoemde woordeboek het Hornby aangedui dat die woordeboek so saamgestel is dat dit aan die behoeftes sal voldoen van vreemdetaalstudente van Engels. Alhoewel dit nie eksplisiet in die woordeboektitel gestel is nie was 'n belangrike kenmerk van die Idiomatic and Syntactic English Dictionary die duidelik omskrewe teikengebruiker, te wete die Japannese aanleerder van Engels. Hornby se grammatikale beskrywings en ander werk wat hy aan die Tokyo Institute for Research into English Teaching gedoen het, het 'n wesenlike bydrae tot hierdie eerste aanleerderwoordeboek gelewer - vergelyk Cowie (1998).

Verdere ontwikkeling op die gebied van aanleerderwoordeboeke het mettertyd ook tot 'n subtipologiese ontwikkeling gelei, met tweetalige aanleerderwoordeboeke wat naas eentalige aanleerderwoordeboeke verskyn het. Vanuit 'n gebruikersperspektief was dit duidelik genoeg wie die aangewese teikengebruikers van hierdie tweetalige aanleerderwoordeboeke was, want die leksikograwe was telkens bewus van watter taal as vreemde taal aangeleer moes word en wat die moedertaal van die teikengebruikers was. 'n Goeie voorbeeld van so 'n woordeboek isTakebayashi en Kojima (1990) se Kenkyusha's Lighthouse English-Japanese Dictionary, 'n tweetalige aanleerderwoordeboek met Japannees en Engels as behandelde taalpaar, maar uitsluitlik gerig op die leksikografiese behoeftes van sprekers van Japannees wat Engels as vreemde taal aanleer. In hierdie woordeboek is die teikengebruiker duidelik geïdentifiseer, en die keuse van lemmata en die gepaardgaande bewerking is gerig op die spesifieke behoeftes van hierdie gebruikersgroep.

In sommige gevalle het leksikograwe van tweetalige aanleerderwoordeboeke probeer om in die behoeftes van twee gebruikersgroepe te voorsien, te wete die moedertaalsprekers van albei lede van die taalpaar wat in die woordeboek behandel word. Dit is byvoorbeeld die geval in Du Plessis (1993) se Tweetalige aanleerderswoordeboek/Bilingual learner's dictionary, 'n tweetalige aanleerderwoordeboek met Engels en Afrikaans as taalpaar. Hierdie woordeboek is vir die Suid-Afrikaanse gebruiksomgewing saamgestel, waar sowel Afrikaans as Engels 'n amptelike taal is, en die woordeboek is op albei hierdie sprekersgroepe se behoeftes by die aanleer van die ander taal gerig. Alhoewel die woordelysreeks van hierdie woordeboek twee lyste bevat, met vergelykbare keuse- en bewerkingsprosedures, is dit nie maklik om in een aanleerderwoordeboek gelykwaardige hulp aan gebruikers wat tot twee taalgroepe behoort, te gee nie.

Alhoewel in die eentalige aanleerderleksikografie die gebruiker wat in Hornby se vroeë aanleerderwoordeboeke as aanleerder benoem is, duidelik identifiseerbaar is as sprekers van Japannees wat Engels wou aanleer, het hierdie benadering om in eentalige aanleerderwoordeboeke so 'n goed omskrewe teikengebruiker te hê, met die verloop van tyd al hoe meer in onbruik verval. In die hedendaagse leksikografiese praktyk bestaan dit dikwels glad nie meer nie. Eentalige aanleerderwoordeboeke word tipies saamgestel vir gebruikers wat die taal van die woordeboek as 'n vreemde taal moet aanleer, maar daar is geen verwysing na die moedertaal van hierdie gebruikersgroep nie. Leksikograwe van eentalige aanleerderwoordeboeke is onvoldoende vertroud met die moedertaal van die aanleerder wat die aanleerderwoordeboek gebruik, en dit het besliste implikasies vir die sukses van hierdie woordeboeksoort as praktiese gebruiksinstrument.

 

3. BELANGRIKE KENMERKE VAN EENTALIGE AANLEERDERWOORDEBOEKE

Metaleksikografiese navorsing oor eentalige aanleerderwoordeboeke het tot die vasstelling van 'n aantal belangrike kenmerke van hierdie woordeboeksoort gelei - vergelyk onder meer Atkins (1995). Bogaards (2013:406) wys op drie hoofkenmerke van 'n aanleerderwoordeboek, te wete gekose woordeskat, eenvoudige definisies en eksplisiete gebruiksinligting.

Hierdie datatipes en die doeltreffende aanbieding daarvan is belangrik vir iemand wat 'n vreemde taal aanleer. Die feit dat die teikengebruiker (dit is die aanleerder) sentraal staan in die naam van die betrokke woordeboeksoort, behoort leksikograwe te oortuig om baie meer aandag aan hierdie gebruiker te gee. Hierdie aandag sou hulle tot die besef gelei het dat dit nie voldoende is om die teikengebruiker van 'n eentalige aanleerderwoordeboek bloot te sien as iemand wat die betrokke taal as vreemde taal aanleer nie. Die probleem lê daarin dat by die omskrywing van die gebruikers van eentalige aanleerderwoordeboeke, die fokus slegs geplaas word op die taal wat aangeleer moet word, en nie op die moedertaal van die teikengebruikers nie. Die moedertaal behoort 'n bepalende rol te speel in die manier waarop die vreemde taal vir die teikengebruikers aangebied en bewerk word.

 

4. DIE BEHOEFTE AAN BETER GEBRUIKERSGERIGTE EENTALIGE AANLEERDERWOORDEBOEKE

Deur spesifiek op die behoeftes van Japannese aanleerders van Engels te fokus, kon A.S. Hornby 'n woordeboek saamstel wat die behoeftes van sy teikengebruikers kon bevredig en wat hulle spesifieke linguistiese en kulturele agtergrond ook in berekening gebring het. 'n Mens sou verwag dat hierdie benadering verder ontwikkel moes word deur leksikograwe van alle latere eentalige aanleerderwoordeboeke. In die kommersiële leksikografie bring aanleerderwoordeboeke wesenlike finansiële voordeel vir die uitgewers mee, en die voortgaande kompetisie tussen uitgewers is fel en ongenadig. Daarom probeer hierdie uitgewers, onder meer die uitgewers van die sogenaamde "Groot Vyf", dit is die Cambridge Advanced Learner's Dictionary (CALD), Collins Cobuild English Dictionary for Advanced Learners (COBUILD), Longman Dictionary of Contemporary English (LDOCE), Macmillan English Dictionary for Advanced Learners (MEDAL) en Oxford Advanced Learner's Dictionary (OALD), leksikografiese troefkaarte ontwikkel om meer sukses in ʼn mededingende mark te verseker. In hierdie pogings word talle vernuwende metodes aangewend om, al is dit net visueel, die woordeboeke te verbeter. Baie van hierdie pogings is deur Wiegand en Gouws (2011:238) beskryf as blote leksikografiese ontrimpelingsmetodes wat kosmetiese aanpassings is en nie werklik leksikografiese verbetering meebring nie.

In onlangse eentalige aanleerderwoordeboeke speel die gebruik van meer artikelvensters, gekleurde soeksones, tekskassies en ingevoegde binnetekste wel 'n rol om 'n beter dataverspreiding en -aanbieding te verseker. Dit help ook met die gehalte van die leksikografiese bewerking, maar dit is te bevraagteken of hierdie hulp tot voordeel van al die veronderstelde teikengebruikers van die betrokke woordeboeke is. Die vraag is naamlik in watter mate die leksikograwe oorweging geskenk het aan die manier waarop 'n aanleerder se benadering tot die gebruik van 'n eentalige Engelse aanleerderwoordeboek beïnvloed word deur die moedertaal van die sprekers en die linguistiese en leksikografiese tradisies en kultuur wat daar geld. Dit moet duidelik gestel word dat hierdie probleem nie net in eentalige Engelse aanleerderwoordeboeke voorkom nie, maar dit is opvallender in Engelse woordeboeke, omdat hulle so 'n breë spektrum potensiële teikengebruikers het.

In die besluitneming oor die manier waarop die moedertaal van teikengebruikers 'n rol moet speel in die leksikografiese aanbieding en bewerking, is daar verskillende kwessies waaraan die leksikograaf aandag moet gee. Dit sluit kwessies in soos die struktuur van die moeder- en die vreemde taal, die verhouding tussen die twee tale, die kultuur van die sprekers se taalgemeenskap, ooreenkomste en verskille tussen die twee tale, ensovoorts.

Enkele aspekte van hierdie problematiese kwessies word in die hieropvolgende afdelings kortliks bespreek.

4.1 Vals vriende

Alhoewel vals vriende iets is waarvan die opstellers van tweetalige woordeboeke deeglik bewus moet wees, bied dit nie werklik 'n probleem waar dit om die bewerking van nieverwante tale gaan nie. Die woord gare kom byvoorbeeld nie net in Afrikaans voor nie, maar ook in Frans en Sepedi. In hierdie ander twee tale het dit egter telkens 'n volledig ander betekenis - naamlik "stasie" in Frans en "middel" in Sepedi. Tussen hierdie drie tale is gare 'n vals vriend; maar omdat hierdie tale nie verwant is nie, behoort dit nie sprekers te verwar om dié woord in een van die ander tale te sien nie. In naverwante tale bied die voorkoms van vals vriende wel probleme, en leksikograwe moet daarop bedag wees om hulle gebruikers bewus te maak van die bestaan daarvan.

Afrikaans en Nederlands is naverwante tale, en daar is talle vals vriende tussen hierdie twee tale - vergelyk onder meer Gouws, Prinsloo en De Schryver (2004). In 'n Nederlandse eentalige aanleerderwoordeboek wat vir Franse aanleerders van Nederlands saamgestel is, sal die leksikograaf soms aandag moet gee aan vals vriende wat tussen hierdie twee tale voorkom, maar daar sal nie baie kandidate wees wat probleme vir die tipiese teikengebruiker verskaf nie. In 'n Nederlandse eentalige aanleerderwoordeboek wat vir Afrikaanssprekende gebruikers wat Nederlands aanleer, saamgestel is, moet 'n ander benadering tot hierdie probleem gevolg word. Een enkele Nederlandse aanleerderwoordeboek kan nie Franse en Afrikaanse aanleerders van Nederlands op vergelykbare en voldoende manier help nie. Indien so 'n eentalige aanleerderwoordeboek nie vir teikengebruikers met 'n spesifieke moedertaal saamgestel word nie, sal die leksikograaf nie weet watter lemmata as vals vriende geëtiketteer moet word en watter leksikografiese bewerking nodig is om moontlike kommunikatiewe verwarring te voorkom nie. In 'n eentalige aanleerderwoordeboek is die aanduiding en suksesvolle hantering van vals vriende slegs moontlik indien die moedertaal van die teikengebruikersgroep bekend is.

4.2 Taalbeïnvloeding en taalversteuring

Leksikograwe van aanleerderwoordeboeke moet bewus wees van die rol wat taalbeïnvloeding en taalversteuring in 'n taalverwerwingsproses kan speel. Die invloed wat taalbeïnvloeding en taalversteuring op die aanleerproses van enige indiwidu het, word medebepaal deur die verhouding tussen die aanleerder se moedertaal en die taal wat aangeleer moet word. Eentalige aanleerderwoordeboeke moet praktiese gebruiksinstrumente wees wat hulle gebruikers ook bewus moet maak van die manier waarop hulle moedertaal en die vreemde taal invloed en versteuring kan uitoefen in die betrokke aanleerproses. Dit is weer eens slegs moontlik indien die aanleerderwoordeboek op gebruikers met 'n spesifieke moedertaal gerig is.

Taalbeïnvloeding kan op 'n verskeidenheid maniere plaasvind, en woordeboeke moet hulle gebruikers van die potensiële probleme bewus maak. Een so 'n kwessie is byvoorbeeld die sintaktiese struktuur van taal en die gepaardgaande woordordekwessies. Tale soos Afrikaans en Duits het elk verskillende woordvolgordepatrone in hulle hoof- en bysinne, terwyl Engels nie hierdie verskil het nie. 'n Duitse eentalige aanleerderwoordeboek wat vir Engelssprekende gebruikers saamgestel is, sal aan hierdie verskil moet aandag gee, terwyl so 'n woordeboek wat vir Afrikaanssprekende gebruikers saamgestel is, die gebruikers op die ooreenkoms moet wys, maar sonder verdere aandag daaraan.

4.3 Kultuurgebonde leksikale items

Die bewerking van kultuurgebonde leksikale items bied 'n uitdaging aan enige leksikograaf van verklarende of vertalende woordeboeke, en veral ook van aanleerderwoordeboeke. Die aard en omvang van die bewerking van kultuurgebonde items en die bevrediging van hierdie kognitiewe funksie van 'n woordeboek word weer eens medebepaal deur die kennis of gebrek daaraan van die teikengebruikers van 'n bepaalde woordeboek ten opsigte van die kultuur van die taal wat aangeleer word. 'n Franse eentalige aanleerderwoordeboek wat in België saamgestel word vir Belgiese Vlaamssprekende gebruikers wat Frans aanleer, sal in hierdie verband verskil van so 'n Franse aanleerderwoordeboek wat saamgestel word vir Britse Engelssprekende gebruikers wat Frans aanleer en nie vertroud is met die Waalse kultuur nie. In die meertalige Gaboen, waar Frans die enigste amptelike taal is, sal moedertaalsprekers van die talle inheemse tale van Gaboen wat Frans aanleer, 'n plaaslike eentalige Franse aanleerderwoordeboek nodig hê. Hierdie woordeboek sal nie in dieselfde mate aandag gee aan die Gaboenese kultuur as wat nodig sou wees indien 'n gebruiker wat nie 'n moedertaalspreker van een van die Gaboenese tale is nie, Gaboenese Frans as vreemde taal moet aanleer nie.

Wanneer die teikengebruiker van 'n eentalige aanleerderwoordeboek vasgestel word, is dit nie voldoende om bloot aan te dui dat dit iemand is wat die taal wat in die woordeboek behandel word, as vreemde taal aanleer nie. 'n Werklike gebruikergerigte woordeboek moet 'n verwysing hê na die moedertaal van die voornemende teikengebruiker, omdat dit bepalend is vir die lemma- en aanduiderkeuse, aanbieding en bewerking van die betrokke woordeboek.

Leksikografie, ook aanleerderleksikografie, staan nie los van realistiese ekonomiese en finansiële beperkings nie. Die vraag ontstaan dus hoe leksikograwe van eentalige aanleerderwoordeboeke moet reageer op die behoeftes van 'n verskeidenheid potensiële gebruikers met verskillende moedertale wat dieselfde vreemde taal wil aanleer en 'n aanleerderwoordeboek daarvoor nodig het.

 

5. 'N MODEL VIR EENTALIGE AANLEERDERWOORDEBOEKE

Aanleerder is 'n gevestigde term in sowel die metaleksikografie as die leksikografiepraktyk - vergelyk byvoorbeeld Otto (1989). Tog wys die voorafgaande bespreking daarop dat daar in die omgang met hierdie term in eentalige aanleerderwoordeboeke nie genoegsaam voorsiening gemaak word vir probleme wat ontstaan as gevolg van die nie-erkenning van die rol van die gebruiker, 'n aanleerder, se moedertaal nie. Die term aanleerder verteenwoordig 'n begrip wat nie net in terme van die vreemde taal wat aangeleer moet word, gedefinieer moet word nie, maar ook in terme van die moedertaal van die betrokke gebruikers. Dit is belangrik dat voorstelle vanuit die veld van die metaleksikografie gemaak moet word om die bestek van die gebruikersgerigtheid van eentalige aanleerderwoordeboeke te verbreed. Die medium van so 'n woordeboek, dit wil sê as gedrukte, al dan elektroniese, produk, kan ook 'n invloed hê op die aard van die taalspesifieke hulp aan gebruikers wat 'n vreemde taal aanleer. Dit moet ook ondersoek word.

5.1 Gedrukte woordeboeke

Weens ekonomiese redes is dit nie haalbaar om 'n groot verskeidenheid eentalige aanleerderwoordeboeke vir dieselfde taal saam te stel nie. Leksikograwe het verskillende keuses ter oplossing van die probleem van aanleerders met verskillende moedertale wat dieselfde vreemde taal wil aanleer. Woordeboekstrukture kan 'n belangrike rol speel om 'n beter en meer gebruikersgerigte aanbieding van data in eentalige aanleerderwoordeboeke te verseker. Slegs een voorbeeld word in die hieropvolgende afdeling bespreek.

5.1.1 Die dataverspreidingstruktuur

In die beplanning van 'n nuwe eentalige aanleerderwoordeboek werk die leksikograaf met 'n taal wat in die woordeboek behandel word en wat 'n vreemde taal vir die potensiële teikengebruikers is. Dit is daarom belangrik om te fokus op daardie aspekte van die behandelde taal wat relevant is vir alle aanleerders van die betrokke taal. Deur ag te slaan op die werk van Hornby en die voorstelle van Bogaards (2013) en andere oor die tipes data wat vir aanleerders ter sake is, kan die leksikograaf goed vorder met die vasstelling van die inhoud van die beplande woordeboek. Dit kan tot 'n algemene benadering lei wat die keuse en aanbieding van daardie data verseker wat as die verstekinhoud van so 'n eentalige aanleerderwoordeboek aangebied moet word - generiese inhoud wat nie op sprekers van 'n spesifieke moedertaal gerig is nie. Dit is die tipe benadering wat tans die omvattende leksikografiese proses van die meerderheid beskikbare eentalige aanleerderwoordeboeke verteenwoordig. Die fokus is slegs op die behandelde taal, en nie op die behoeftes wat voortspruit uit die moedertaal van enige lid van die breë teikengebruikersgroep nie.

Ter aanvulling van hierdie benadering moet leksikograwe ook data identifiseer wat relevant is vir gebruikers van spesifieke moedertale. Die ideale situasie sou wees om verskillende woordeboeke te hê vir elk van die verskillende moedertaalgroepe, maar om ekonomiese redes is dit nie sonder meer haalbaar nie. Waar leksikograwe bewus is van 'n beduidende aantal moedertaalsprekers met 'n gemeenskaplike taal wat hulle wil aanleer en waarvoor 'n woordeboek nodig is, sou dit kon lei tot die samestelling van 'n eentalige aanleerderwoordeboek van taal X wat saamgestel word vir gebruikers wat almal moedertaalsprekers van taal Y is. So 'n woordeboek sou steeds die verstekbenadering volg, maar dit kan aangevul word met data wat spesifiek gekies is ter bevrediging van die behoeftes van sprekers van taal Y. So 'n eentalige aanleerderwoordeboek sal vergelykbaar wees met die model van Hornby se eerste aanleerderwoordeboek. Die fokus in so 'n woordeboek op, onder meer, sowel die ooreenkomste as die verskille tussen die behandelde taal en die moedertaal van die teikengebruikers, vereis 'n deeglike kontrastiewe benadering. Maniere moet gevind word om data ter ondersteuning hiervan te vind en in te sluit - ten beste in die woordeboekartikels. Dit is moontlik, onder meer deur gebruik te maak van 'n uitgebreide verpligte mikrostruktuur - vergelyk Gouws en Prinsloo (2005:91) - wat vir die insluiting van hierdie data as aanduiders in die woordeboekartikels voorsiening maak. Daarbenewens kan buitetekste wat die adresse is van verwysings vanuit die artikels ook gebruik word vir 'n uitvoeriger bespreking van bepaalde aspekte, byvoorbeeld 'n kontrastiewe analise van sekere grammatikale aspekte, 'n alfabetiese lys vals vriende wat tussen die twee tale geld - veral in die geval van 'n woordeboek wat met naverwante tale werk - of 'n buiteteks waarin bepaalde kultuurgebonde items bespreek word ter bevrediging van die woordeboek se kognitiewe funksie. Vergelyk in hierdie verband die agtertekste in Pahl (1989).

Waar 'n eentalige aanleerderwoordeboek nie uitsluitlik vir leerders met een gemeenskaplike moedertaal gemaak kan word nie, kan leksikograwe steeds veel doen ter verbetering van die bestaande situasie met slegs een algemene eentalige aanleerderwoordeboek deur 'n generiese keuse van lemmata, en aanduiders aangebied ter bewerking van die lemmata. In die artikels van so 'n woordeboek kan die generiese en verstekbenadering steeds gehandhaaf word, maar die dataverspreiding kan vir 'n wye reeks buitetekste voorsiening maak waarin taalspesifieke kwessies vir 'n uitgesoekte verskeidenheid tale ter sprake gebring word. In so 'n laaistruktuur - vergelyk Gouws en Leroyer (2009) - maak die leksikografiese bewerking bevredigend voorsiening vir die generiese kwessies van die vreemde taal, asook vir taalspesifieke kwessies van verskillende moedertale van teikengebruikers van die woordeboek. Sulke buitetekste word nie as deel van leksikografiese ontrimpeling of as kommersiële troefkaart aangebied nie, maar ter bevrediging van die behoeftes van duidelik geïdentifiseerde teikengebruikers van die betrokke woordeboek. Dit sal 'n veel sterker gebruikersgerigte benadering op die gebied van eentalige aanleerderwoordeboeke help vestig, en kan daartoe bydra dat hierdie woordeboeksoort beantwoord aan die eise en verwagtinge van 'n uiteenlopende teikengebruikersgroep.

Belangrik in so 'n benadering is dat al die werk nie deur 'n enkele leksikograaf gedoen kan word nie. 'n Span leksikograwe is nodig om aan die verskillende tale aandag te gee.

5.2 Aanlyn woordeboeke

Die diverse aansprake en behoeftes van sprekers uit verskillende taalgemeenskappe wat dieselfde eentalige aanleerderwoordeboek gebruik aangesien hulle die taal van die woordeboek as vreemde taal aanleer, kan ten beste in 'n aanlyn woordeboek bevredig word. In 'n aanlyn woordeboek kan die verstekkeuse van lemmata en aanduiders wat slegs gerig is op 'n generiese gebruikersgroep wat die betrokke taal as vreemde taal aanleer, gehandhaaf word sonder enige verwysing na die moedertaal van die teikengebruikers. Hierdie verstekaanbieding kan op verskillende maniere aangevul word om gebruikers met verskillende moedertale leksikografies tot hulp te wees.

Die openingskermskoot kan byvoorbeeld 'n lys bevat van tale wat in die beplanning en samestelling van die woordeboek in berekening gebring is wat betref eiesoortige probleme wat sprekers van daardie tale met die vreemde taal wat in die woordeboek bewerk word, mag ondervind. Die woordeboekgebruiker kan dan 'n gebruikersprofiel saamstel waarin aangedui word of toegang deurgaans tot slegs die verstekweergawe van die woordeboek verleen moet word, of ook tot data oor een of meer van die ander tale. In feite gaan dit hier om een databasis waaraan 'n verskeidenheid woordeboekvariante onttrek kan word. Al die woordeboeke in die enkele databasis deel die inskrywings wat die leksikograwe as ter sake ag vir die aanleer van daardie taal, ongeag die moedertaal van 'n spesifieke gebruiker. In die taalspesifieke bewerking sal die onderskeie leksikograwe - want ook hier is 'n spanbenadering van die uiterste belang - daardie bykomende data aanbied wat die leksikograaf as belangrik ag vir die teikengebruikers met die besondere moedertaal.

Voorstelle oor die verbetering van die struktuur van aanlyn woordeboeke - vergelyk Gouws (2014; 2014a) - wys onder meer daarop dat aanlyn woordeboeke verskeie artikelstrukture vir dieselfde woordeboekartikel kan hê. Dit spruit daaruit voort dat een lemma die gidselement van verskillende deelartikels wat as verskillende skermskote aangebied word, kan wees. Elke skermskoot vertoon 'n ander deel van die omvattende bewerking wat aan 'n artikel toegewys is. Hierdie benadering kan ook gebruik word om leiding te gee aan sprekers van verskillende moedertale wat dieselfde eentalige aanleerderwoordeboek raadpleeg. Vir 'n gegewe gidselement kan die verstekartikel met die generiese data onttrek word. Dit is die artikel wat 'n gebruiker kry vir wie daar nie in die profielopstelling 'n moedertaal gespesifiseer is nie. Na aanleiding van die gekose gebruikersprofiel, kan daar aan dieselfde databasis vir dieselfde gidselement naas die verstekdata ook ander taalspesifieke data onttrek word. Hier gaan dit weer eens om artikels met 'n uitgebreide verpligte mikrostruktuur, waar die bykomende aanduiders data vir 'n gebruiker met 'n gespesifiseerde moedertaal aanbied. Vir 'n gebruiker wie se moedertaal in die profielopstelling gespesifiseer is, kan unieke data onttrek word wat buite die bestek van die generiese bewerking val.

Die byvoeging van data oor verskillende ander tale plaas 'n vraagteken oor die eentalige status van dit wat tot nou toe 'n eentalige aanleerderwoordeboek genoem is. Hartmann (1994) het reeds daarvoor voorsiening gemaak dat eentalige woordeboeke soms 'n tweetalige dimensie kan kry. Hier gaan dit egter om 'n eentalige woordeboek met 'n meertalige dimensie.

Waar 'n gebruiker tuis genoeg voel in die vreemde taal om die verstekgebruikersprofiel te hê, dit wil sê sonder om 'n moedertaal te spesifiseer, is toegang tot taalspesifieke data steeds bereikbaar. By elke woordeboekraadpleging kan daar op die skerm 'n kieslysie wees met die verskillende tale wat in die woordeboek in berekening gebring is. Deur tydens 'n raadpleging op enige van hierdie tale te klik, kry die gebruiker toegang tot daardie taalspesifieke data deur gelei te word na die artikel met die uitgebreide verpligte mikrostruktuur waarin data uit of oor die betrokke taal die verstekbewerking aanvul. Hierdie kitstoegang tot data oor ander tale in 'n eentalige woordeboek verhoog die gehalte van die leksikografiese aanbod en verteenwoordig 'n sterker gebruikersgerigtheid.

 

6. TER AFSLUITING

In 'n leksikografiese era gekenmerk deur 'n sterk fokus op die gebruikersperspektief sou 'n mens verwag dat die beplanning en samestelling van alle woordeboeke voorafgegaan word deur 'n deeglike ontleding van die leksikografiese behoeftes en naslaanvaardighede van die potensiële teikengebruiker. In die veld van taalverwerwing word dit wyd aanvaar dat 'n persoon se moedertaal 'n belangrike rol kan speel wanneer 'n mens 'n vreemde taal bestudeer. Omdat eentalige aanleerderwoordeboeke gerig is op gebruikers wat 'n vreemde taal aanleer, sou 'n mens verwag dat die moedertaal van hierdie gebruikers ook in ag geneem moet word. Aanleerderleksikografie is een van die bes nagevorste terreine van die leksikografie. Tog gee die teoretiese gesprekke, asook die leksikografiese praktyk, min blyke van die rol van die moedertaal in die gebruik van aanleerderwoordeboeke. Dit is tot nadeel van die teikengebruikers. 'n Nuwe interpretasie van die term eentalige aanleerderwoordeboek is nodig. Dit moet beter blyke gee van wie die aanleerder is wat aanleerderwoordeboeke regtig gebruik en wat daardie gebruiker vanuit sy/haar moedertaalagtergrond nodig het om die bewerking van die vreemde taal wat die woordeboek aanbied, optimaal te kan benut.

 

ACKNOWLEDGEMENT

This research is supported in part by the National Research Foundation of South Africa (grant specific unique reference number (UID) 85434).

The Grantholder acknowledges that opinions, findings and conclusions or recommendations expressed in any publication generated by the NRF supported research are that of the author, and that the NRF accepts no liability whatsoever in this regard.

 

ERKENNING

Hierdie navorsing is ten dele deur die Nasionale Navorsingstigting van Suid-Afrika ondersteun (beursspesifieke unieke verwysingsnommer 85434). Die beurshouer erken dat menings, bevindinge, afleidings of aanbevelings uitgespreek in enige publikasie wat met NNS-ondersteuning tot stand gebring is, dié van die skrywer is; die NNS aanvaar geen aanspreeklikheid daarvoor nie.

 

7. LITERATUUR

Woordeboeke

Bergenholtz, H. et al. 1997. Nordisk Leksikografisk Ordbok. Oslo: Universitetsforlaget        [ Links ]

ASCALD =Cambridge Advanced Learner's Dictionary. 2003. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

COBUILD3 =Collins Cobuild English Dictionary for Advanced Learners, 3rd ed., 2001. Glasgow: Harper Collins Publishers.         [ Links ]

Du Plessis, M. 1993. Tweetalige Aanleerderswoordeboek. Bilingual Learner's Dictionary. Afrikaans-Engels / English-Afrikaans. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Hartmann, R.R.K. & James, G. 1998. Dictionary of Lexicography. London: Routledge.         [ Links ]

Hornby, A.S., Gatenby, E.V. & Wakefield, H. 1942. Idiomatic and Syntactic English Dictionary (Photographically reprinted and published as A Learner's Dictionary of Current English by Oxford University Press, 1948; subsequently, in 1952, retitled The Advanced Learner's Dictionary of Current English).Tokyo: Kaitakusha.         [ Links ]

LDOCE3 =Longman Dictionary of Contemporary English, 3rd ed. 2001. Essex: Pearson Education.         [ Links ]

MEDAL =Macmillan English Dictionary for Advanced Learners, 2002. London: Macmillan Publishers and Bloomsbury Publishing.         [ Links ]

OALD7 =Oxford Advanced Learner's Dictionary, 7th ed., 2005. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Pahl, H.W. (red.).1989. The Greater Dictionary of Xhosa. Alice: University of Fort Hare        [ Links ]

Takebayashi, S. and Kojima, Y. (eds). 1990. Kenkyusha's Lighthouse English- Japanese Dictionary. Tokio: Kenkyusha.         [ Links ]

Wiegand, H.E. et al. 2010. Wörterbuch zur Lexikographie und Wörterbuchforschung/Dictionary of Lexicography and Dictionary Research. Berlin: De Gruyter.         [ Links ]

Ander bronne

Atkins, B.T. 1985. Monolingual and bilingual learners' dictionaries: A comparison. In Ilson, R. (ed.) 1985. Dictionaries, lexicography and language learning. Oxford: Pergamon Press, pp. 15-24.         [ Links ]

Bogaards, P. 2013. New developments in learners' dictionaries I: English and French. In Gouws et al. 2013: 400-414;         [ Links ]

Cowie, A. 1998. A. S. Hornby: a Centenary Tribute. In Fontenelle, T. et al. 1998. EURALEX '98 Proceedings. Liège: 3-16.         [ Links ]

Gouws, R.H. et al. (eds). 2013. Dictionaries. An International Encyclopedia of Lexicography. Supplementary Volume: Recent Developments with Focus on Electronic and Computational Lexicography. Berlin/New York: De Gruyter.         [ Links ]

Gouws, R.H. 2014. Article structures: Moving from printed to e-dictionaries. Lexikos 24: 155-177.         [ Links ]

Gouws, R.H. 2014a. Makrostruktuuraanpassings vanaf gedrukte na e-woordeboeke. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 54 (3) 2014: 481-504.         [ Links ]

Gouws, R.H. & Leroyer, P. 2009. Verhoogde leksikografiese toeganklikheid in die oorgang van 'n toeristewoordeboek na 'n toeristegids as naslaanbron. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 49(1): 145-159.         [ Links ]

Gouws, R.H., Prinsloo, D.J. & De Schryver, M. 2004. Friends will be friends - true or false: Lexicographic approaches to the treatment of false friends. In Williams, G. & S. Vessier, S. (eds). 2004. Proceedings of the 11th Euralex International Congress. Lorient: UBS: 797-806.         [ Links ]

Hartmann, R.R.K. 1989. Sociology of the Dictionary User: Hypothesis and Empirical Studies. In Hausmann, F.J. et al. (eds.) 1989-1991: 102-111.         [ Links ]

Hartmann, R.R.K. 1994. Bilingualised versions of learners' dictionaries. Fremdsprachen lehren und lernen 23: 206-220.         [ Links ]

Hausmann, F.J. et al. (eds). 1998-1991. Wörterbücher. Dictionaries. Dictionnaires. An International Encyclopedia of Lexicography. Berlin: De Gruyter.         [ Links ]

Otto, A.N. 1989. Kriteria vir 'n Afrikaanse aanleerderwoordeboek. Ongepubliseerde proefskrif. Universiteit van Stellenbosch.         [ Links ]

Rothenhöfer, A. 2013. New developments in learners' dictionaries II: German. In Gouws, R.H. et al. 2013:414-425.         [ Links ]

Tarp, S. 2011. Pedagogical Lexicography: Towards a New and Strict Typology Corresponding to the Present State-of-the-Art. Lexicos 21: 217-231.         [ Links ]

Tarp, S. 2013. New developments in learners' dictionaries III: Bilingual learners' dictionaries. In Gouws, R.H. et al. 2013: 425-431.         [ Links ]

Wiegand, H. E. & Gouws, R. H. 2011. Theorie bedingte Wörterbuchformprobleme und wörterbuchformbedingte Benutzerprobleme I. Ein Beitrag zur Erweiterung der Theorie der Wörterbuchform. Lexikos 21: 232.297.         [ Links ]

Wiegand, H.E. 1977. Nachdenken über Wörterbücher: Aktuelle Probleme. In Drosdowski, G., Henne, H. & Wiegand, H.E. 1977. Nachdenken über Wörterbücher. Mannheim: Duden: 51-102        [ Links ]

http://www.britishcouncil.org/learning-elt-hornby-information.htm        [ Links ]

http://en.wikipedia.org/wiki/Monolingual_learner's_dictionary        [ Links ]

 

 

 

Rufus Gouws is Professor in Afrikaanse taalkunde in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy navorsing fokus primêr op die metaleksikografie en woordeboeknavorsing - 'n gebied waarin hy op nasionale en internasionale vlak wyd publiseer. Hy is 'n redakteur van twee toonaangewende internasionale tydskrifte in die leksikografie, te wete Lexikos en Lexicographica, asook van die boekreeks Lexicographica Series Maior. Gouws is 'n NNS-geëvalueerde navorser en die ontvanger van verskeie beurse, pryse en toekennings, onder meer die SA Akademie se CJ Langenhovenprys vir Taalwetenskap. Hy vul sy werk in die teoretiese leksikografie aan met aktiewe deelname aan die leksikografiepraktyk as redakteur/mederedakteur van verskillende woordeboeke, onder meer die bekende Afrikaanse woordeboek HAT, die internasionale Wörterbuch zur Lexikographie und Wörterbuchforschung/Dictionary of lexicography and dictionary research en ANNA, die vernuwende woordeboek met Nederlands en Afrikaans as taalpaar.
Rufus Gouws is Professor of Afrikaans linguistics in the Department of Afrikaans and Dutch at the University of Stellenbosch. In his research he focuses primarily on metalexicography and dictionary research - a field in which he publishes widely nationally as well as internationally. He is editor of two renowned international journals on lexicography, namely Lexikos and Lexicographica, as well as the book series Lexicographica Series Maior. Gouws is a NRF rated researcher and the recipient of a number of prizes and awards, inter alia the CJ Langenhoven prize for Linguistcs, awarded by the South Aftican Academy for Science and Arts. He complements his work in the field of theoretical lexicography with active participation in the practice of lexicography in his capacity as editor or co-editor of various dictionaries, among which the well-known Afrikaans dictionary HAT, the international Wörterbuch zur Lexikographie und Wörterbuchforschung/Dictionary of lexicography and dictionary research and ANNA, the innovative dictionary pairing Afrikaans and Dutch.