SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.55 issue3Who are the target users of monolingual learners' dictionaries? author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.55 n.3 Pretoria Sep. 2015

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2015/V55N3A1 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS

 

Oor die eerste 50 jaar se maak aan Standaardafrikaans

 

Creating a standardised version of Afrikaans - the first 50 years

 

 

Christo Van Rensburg

Navorsingsgenoot: Navorsingseenheid Tale en literatuur in die SA konteks, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom. E-pos: cvrensb@mweb.co.za

 

 


OPSOMMING

Steyn (2014) bespreek in sy publikasie Ons gaan 'n taal maak, die GRA se verskrifteliking van Afrikaans in 1875. Hierdie skryfvorm het daarna verander - 'n proses wat die stimulus verskaf vir hierdie artikel, wat voortbou op Steyn se gegewens oor hoe Afrikaans gemaak is.
'n Groot aantal mense was van die GRA-periode af by die maak van Afrikaans betrokke, almal taalmakers. Steyn toon aan wat baie van hulle gedoen het, hoekom sekere besluite geneem is, en wys op die verwagtings wat hulle vir Afrikaans gekoester het. Hy beklemtoon die mensewerk wat nodig was om Standaardafrikaans te maak in noukeurige besonderhede, en bring daarmee 'n
dokument van besondere waarde tot stand.
Daar was sprekers van Afrikaans wat hulle nie kon vereenselwig het met die ingeboude beperkings van GRA-Afrikaans nie. Dié boeredialek waarop GRA-Afrikaans gebaseer is, en volgens 'n "skryf-soos-ons-praat-uitgangspunt" geskryf is, is gekritiseer oor die gebrek aan sofistikasie wat daarmee gepaardgegaan het, en oor die Khoi-Afrikaans wat nóú daarmee verweef is. Taalmakers wat op 'n kortpadmanier vir Afrikaans kultuurfunksies wou skep, wou hulle nie verlaat het op 'n skryftaal, wat eers na verloop van 'n lang tyd moontlik 'n kultuurtaal kon word nie. Dit het in die eerste dekades van die twintigste eeu gelei tot die maak van 'n Afrikaans wat meer kultuurfunksies binne die bereik van sprekers geplaas het, wat daartoe toegang gehad het.
Die nouer aansluiting by Nederlands het 'n korpusuitbreiding vir Afrikaans meegebring, sy funksieontwikkeling gestimuleer, en die verkryging van sy ampstaalstatus vergemaklik. Die nuwe verbintenisse tussen Afrikaans en Nederlands is gepropageer deur makers van nuwe taalgeskiedenisse, wat meegebring het dat verbintenisse met Afrikaans se dialekbasis verontagsaam is. Politici het ook nie die kans laat verbygaan om hulle ideologieë deur hierdie Afrikaans te versprei nie.
Met sy standaardisering is Afrikaans in 'n hoë mate vernederlands, maar dit het nie Nederlands geword nie. Daar het baie van sy wortels steeds behoue gebly.

Trefwoorde: Afrikaans as ampstaal, Afrikaans se geskiedenis, Afrikaans se skryftaaltradisies, Afrikaans se variëteite, diglossie, Khoi-Afrikaans, ontkenning met nie-2, Standaardafrikaans, vernederlandsing van Afrikaans


ABSTRACT

With Steyn's 2014 publication We are going to make a language (Ons gaan 'n taal maak) as stimulus, the beginning of organised writing of Standard Afrikaans since 1875 is discussed, as well as its consequences for the continued creation of Afrikaans. In particular, in this paper comments are made on some of the points that Steyn made.
Plans for an Afrikaans Bible translation were initially unsuccessful because Afrikaans was not yet serving a written function at the time. The written language subsequently established by the Genootskap van Regte Afrikaners ("GRA") (Association of Real Afrikaners) was able to fill this gap, as illustrated by the many publications that appeared under the banner of the GRA.
Steyn points out that many people were enthusiastically involved in the creation of Afrikaans, then indicates what many of them had done, and continues to mention the expectations some of them had of Afrikaans. The way in which this publication shows how people were involved in the creation of Afrikaans makes it an exceptional document on the development of Afrikaans.
The fact that people create standard languages, of which Standard Afrikaans is an example, is highlighted. People often start this process by developing written forms of spoken languages. The title of Steyn's work refers to this human endeavour. In the history of Afrikaans as a written language, a start was made as early as the nineteenth century with the development of a written form of some varieties of Afrikaans. A written tradition where Muslim Afrikaans was written in religious scriptures, in Arabic script, has possibly been in existence since 1830. This movement had a large readership and was based on the Cape variety of Afrikaans. At Genadendal Afrikaans was possibly written from 1859, and in Paarl from 1875.
All these ways in which Afrikaans was written were close to the spoken variety. Patriot Afrikaans, as the GRA's written Afrikaans in the Paarl was also known, was based on the farmers' dialect of the area. It did not enjoy a high status, and developed speakers did not want to associate themselves with it. This Afrikaans was nevertheless made known by means of a large number of publications, which were read across the country. Up to 1895 no fewer than 81 000 copies were printed under the GRA banner.
Afrikaans was also written from time to time by newspapers, but not uniformly, with Afrikaans being written the way it was spoken by the various speech communities whom these newspapers wished to reach. The Afrikaans written in this newspaper tradition made the dialectal Afrikaans of their target group a little more dignified by adding some Dutch to it.
The farmers' variety on which GRA Afrikaans was based, was closely interwoven with the Khoi Afrikaans of the Khoi-Khoi people, the learner's Afrikaans that to a large extent had displaced their Khoi-Khoi mother tongue by the end of the seventeenth century. Besides the Afrikaans of the farmers, Khoi Afrikaans was one of the two main languages spoken for approximately a hundred years in the Interior Region, located more or less between the Hottentots Holland mountains and Graaff-Reinet. The two dialects had a mutual influence on one another, as is illustrated by the general use of the word ons (in the subject position) in current Afrikaans, which was earlier stigmatised as Khoi Afrikaans. This area of the interior is currently regarded as the origin of many of today's Afrikaans dialects.
At the beginning of the twentieth century, language creators made serious efforts to Dutchify GRA Afrikaans, and the "write as we speak" principle of the GRA was changed in such a way as to link Afrikaans more closely to Dutch; the writing somewhat resembled the way Afrikaans was written in the newspaper tradition. In this way, a shortcut was taken to elevate the status of Afrikaans and expand its corpus. This Dutchification process had a number of implications for later Standard Afrikaans. Dutchified Afrikaans created some distance between this Afrikaans and the Afrikaans of its dialects, with the result that this rich source of Afrikaans became marginalised. The spelling of many words from GRA Afrikaans was adapted to the Dutch model, and earlier well-known rural constructions and dialectal forms were lost (such as agint, speul and worre, for agent, speel and word).
Currently there is an increase in literary works written in varietal Afrikaans. The Afrikaans used in these works differs in various respects from Standard Afrikaans because it still contains some remnants of the language spoken in the period before Dutchification took place.
But Dutchified Afrikaans remained a separate language. Quite a bit of material from the farmers' language, as written by the GRA, was preserved. The same applies as regards created constructs. The argument put forward here is that the Afrikaans double negative, for which a source cannot be found in the history of the Afrikaans language, was created by the GRA.
By linking Afrikaans to Dutch during early legislation, an interesting move was made to support Afrikaans: In this, the argument was that Dutch included Afrikaans, something that is not borne out by the history of Afrikaans. After the Dutchification phase, "Dutch" continued to be linked to the language name "Afrikaans", for example in compounds such as "Afrikaans-Dutch".
Steyn's outstanding book does not just deal with the origins of Afrikaans. Ons gaan 'n taal maak shares with its readers, through many of the approximately 200 photographs that have been used, the highlights of the Afrikaans language creation period, and takes them through the later period of its history, sometimes with quite some nostalgia. Reading Steyn's book brings one to a better understanding of the creation of Afrikaans, and it is simultaneously also quite thought-provoking.

Keywords: Afrikaans as an official language, the Afrikaans writing traditions, diglossia, dutchification of Afrikaans, history of Afrikaans, Khoi Afrikaans, negation with nie-2, standard Afrikaans, varieties of Afrikaans


 

 

1. AANLOOP

"Dit het gebeur op 'n nare en winderige Saterdagmôre 14 Augustus 1875." Dié gebeurtenis was 'n vergadering wat in die Paarl gehou is om oor 'n Bybelvertaling in Afrikaans te praat, waarvan Steyn onderhoudend (2014:21) in Ons gaan ʼn taal maak, vertel.

Die Bybelvertaalplanne, waaroor hierdie vergadering gegaan het, en ander vergaderings daaroor, is gefnuik omdat Afrikaans nog nie 'n skryftaal was nie ̶ geen taal kan hoër funksies vervul as dit nie 'n skryftaal is nie. Vir die verskrifteliking van Afrikaans het die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) gou daarna gesorg, en begin om op hulle manier Afrikaans te skryf. Wat met die GRA gebeur het, en daarna met Afrikaans, wys Steyn uit in sy belangwekkende publikasie.

Sy aanslag verskil van ander werke oor die vormingsgeskiedenis van Afrikaans. Hy lê in Ons gaan ʼn taal maak klem op die besondere rol van die sprekers van Afrikaans, deurdat baie van hulle met oortuiging aan die taalmakers "se kant" kom staan het, soos die GRA gevra het, toe hulle Afrikaans begin maak het (Steyn 2014:25). Steyn toon aan hoe hierdie Afrikaanse mense, op verskillende maniere, ook taalmakers was. Hy noem hulle Afrikaans se "'onbesonge helde' en 'heldinne'", vanweë hulle groot aandeel aan die maak van Afrikaans. Hierdie werk van hom, gaan oor sommige van hierdie "[d]uisende mense" (2014:11).

Afrikaans het nie vanself 'n taal geword nie. Talle van die taalmakers aan Afrikaans, se bydraes word uitgelig. Hulle het 'n ruimte geskep waarin Afrikaans kon gedy, en het Afrikaans se kultuurskeppinge gekoester. In Ons gaan ʼn taal maak, vertel Steyn van die vergesigte wat baie sprekers vir hulle taal getroetel het, hoe graag hulle van Afrikaans 'n kultuurtaal wou maak, hoe hulle nuwe wêrelde deur hulle taal wou ontdek, en van hulle visie oor daardie "rykdom van onvervangbare waardes wat ons in dié taal [gaan] voortbring" (waarvan Van Wyk Louw praat).

Dit het ook gebeur dat taalmakers hulle eie taalmaakidees probeer deurvoer het, soos verderaan sal blyk. Uit die gegewens wat Steyn aan die bod stel, kan die nalatenskap van sulke individue vandag nog bespeur word. Sou Afrikaans se ontwikkeling anders verloop het as so veel mense nie op húlle manier seggingskrag daaroor uitgeoefen het nie, en by terugblik, nie help maak het aan Afrikaans, as die eiendom van 'n taamlike geslote sprekersgemeenskap, met "geprivilegeerde toegang" daartoe nie? (In terme van 'n uiteensetting van taaleienaarskap, waarvan Kotzé (2014:640) praat, met verwysing na Hutton.)

Steyn wys op baie van die taalmakers se onderlinge familie- en vriendskapsbande, en hy dui aan wat hulle gemotiveer het, en soms ook wat hulle politieke en kulturele verbintenisse was. Met die skryf van Afrikaans se geskiedenis, tussen die Patriottyd en vandag, bring hy skaarsbekende gegewens na vore, wat verband hou met mense se betrokkenheid by die maak van Afrikaans. Ons gaan ʼn taal maak bied aan lesers die geleentheid om hierdie data te interpreteer, daarby aan te sluit, en die tydvak wat behandel word, verder te ontgin. Die eerste vyftig jaar van die maak van Afrikaans, word hier afgebaken en geïnterpreteer.

 

2. DOELWITTE

Ons gaan ʼn taal maak verskaf die stimulus vir die bespreking wat hierna volg, wat vier temas beklemtoon wat nie in Steyn se boek uitgewerk word nie, om:

  • op die ingeboude beperkings van die GRA se verskrifteliking van Afrikaans te wys, en aan te toon hoe dit noodwendig moes uitloop op ingrypende wysigings daaraan;
  • daarop te wys dat Khoi-Afrikaans in GRA-Afrikaans voorgekom het, en daarna op verskillende maniere in Standaardafrikaans geïnkorporeer is;
  • aan die hand van twee voorbeelde aan te toon hoe taalmakers sinskonstruksies vir geskrewe Afrikaans gemaak het, wat in die een geval gefaal, en in die ander een geslaag het; en om
  • te wys op taalhistorici se voorkeur vir taalname soos "Afrikaans-Nederlands", bo "Afrikaans", in studies oor Afrikaans.

 

3. IS EERSTE VERSKRIFTELIKINGS TOEREIKEND?

3.1 Die makers van nuwe skryftale

"Ons skryf nes ons praat" (Du Toit 1902:6), was 'n veelbetekenende verklaring van die GRA in 1875, oor die manier waarop hulle die Afrikaans van die Paarlse boerderyomgewing geskryf het. Hulle kon as taalmakers daardie besluit neem.

Mense het ook besluit oor die manier waarop ander soorte Afrikaans geskryf moes word: Moesliemafrikaans, dalk al in 1830 (Davids 2011:90, 91; Kotzé 2012; Stell 2007:97 e.v.), en die Afrikaans van Genadendal, moontlik al vanaf 1859 (Belcher 1987:28; Steyn 2014:39). In elkeen van die gevalle is dit Afrikaanse dialekte wat verskriftelik is, en is die skryfvorm daarvan nóú met daardie variëteit geassosieer.

Die titel van Steyn se werk, Ons gaan ʼn taal maak, sinspeel op die mensewerk van taalmakers aan Afrikaans (ook Steyn 2014:11), wie se rolle hy telkens uitwys. Dit was ook mense wat hulle daarvoor beywer het om die Afrikaans wat aan die GRA gekoppel was, later te vernederlands. Hier word, aanvullend tot Steyn, daarop gewys dat die beperkings van GRA-Afrikaans aanleiding gegee het tot 'n normverandering daarna, wat gepaardgegaan het met korpusverruiming.

Op die oog af lyk dit of die mense wat aan die normgewingfases van Afrikaans deelgeneem het, reg van die grondvlak af daarby betrokke was. In die meerderheid van die gevalle het hulle as lede van verenigings of organisasies, of as bekleërs van bepaalde posisies, wat alreeds binne 'n groter struktuur gefunksioneer het, by die maak van Afrikaans betrokke geraak. Die voorstel dat Afrikaans imperfektumvorme as tempusaanduiders moet gebruik (vgl. 5.1), is op 'n ATV-jaarkongres gemaak. 'n Sterk afgewaterde vorm daarvan het nie inslag by gewone Afrikaanssprekendes gevind nie, en hulle het dit nie gebruik nie. Dit het nie in die reël gebeur dat sulke onverbonde sprekers die laaste woord gespreek het nie.

3.2 Voldoen GRA-Afrikaans aan sprekersbehoeftes?

3.2.1 Ontevredenheid met die manier waarop die GRA geskryf het

Die GRA se skryftradisie wat in 1875 begin is, was die bekendste van die Afrikaanse skryftradisies wat in die negentiende eeu begin is, skryf Steyn (2014:154).

GRA-Afrikaans het vinnig bekend geword, maar dit het teen die begin van die twintigste eeu nog nie die taalbehoeftes van die sprekersbolaag bevredig nie. Die vroeë taalmakers se besluite oor verskrifteliking was daarop gerig om aan 'n skryfbehoefte te voldoen, waarin hulle geslaag het. Met die kultuurbehoeftes van die bolaag van die sprekers, wat met die verwerwing van hoër funksies en taalstatus saamgehang het, was dit anders gesteld. Daarvoor moes daar oor 'n baie langer termyn beplan word. Jonger taalmakers wou gouer méér met hulle taal doen. 'n Samelewing en sy taal staan in konstante wisselwerking met mekaar. Historici (vgl. Giliomee 2012:226) wys dat Du Toit se pro-Engelse politiek verantwoordelik was vir die teenkanting teen die GRA se Afrikaans. Dit is goed moontlik dat dit onvermydelik was dat Patriotafrikaans in elk geval sou verander. Die "geleerdes en studente van Stellenbosch", was byvoorbeeld nie vir die Paarlse beweging se Afrikaans vatbaar nie, het Steyn (2014:29) opgemerk. Hulle het hoër vereistes aan Afrikaans gestel. Die gevoelens teen Du Toit het die maak van 'n taal wat meer moontlikhede vir sy sprekers gebied het as GRA-Afrikaans, wel verhaas.

Talle ondernemende Afrikaanssprekers het reeds 'n skryftaal in die oog gehad waarmee hulle nouer by Nederlands kon aansluit. Du Plessis (1987:112) wys daarop dat die groot verskil tussen GRA-Afrikaans en Nederlands, wat Afrikaans se taalisolasie beklemtoon het, deur Engelse koerante gebruik is om Afrikaans se bestaansreg te bevraagteken. 'n Hegter band tussen Afrikaans en Nederlands, sal Afrikaans nie so weerloos laat nie, is aangevoer, en argumente vir die erkenning van Afrikaans, sal dan meer gewig dra ('n redenasie wat later ook gevoer is ter ondersteuning van Afrikaans se erkenning as ampstaal). Daar is na geleenthede gesoek om vernederlandsing toenemend deel van die taalmaakgesprek te maak. Die manier waarop die GRA hulle Afrikaans geskryf het, en wat van Nederlands verskil het, het 'n maklike teiken gebied waarteen voorstanders van verandering standpunt kon inneem.

Die ATV-kongresgangers van 1908, waarna Steyn verwys (2014:154), het van daardie geleentheid gebruik gemaak om "teen alles wat soos die Patriot-spelling lyk" in verset te kom, sodat hulle vernederlandsing kan propageer. Wat daarvan dat die lidwoord as die geskryf word, is onder andere gevra, soos in Nederlands, en nie meer di nie, soos dit gebruik is in die GRA-publikasies?

Met die ander Afrikaanse skryftradisies uit daardie tyd was dit anders gesteld. Moesliemafrikaans het sy funksies binne die godsdienssfeer waar hy gebruik is, bevredigend vervul, en die Afrikaans van Genadendal, soos uit tekste afgelei kan word, het aangesluit by skryftradisies van sowel Nederlands as Afrikaans, en sy sprekers het nie druk vir verandering uitgeoefen nie.

3.3 Geskrewe Afrikaans in die negentiende eeu

3.3.1 Die "skryf-soos-ons-hoor-koeranttradisie"

Koerante het teen die middel van die negentiende eeu hulle eie tradisie begin om Afrikaans te skryf, met Boniface en Meurant aan die voorpunt (Franken 1953:189; Scholtz 1965:31 e.v.). Hierdie manier van skryf het aanduidings gegee van die veranderings wat vir Afrikaans aan die kom was. Die Koerantafrikaans wat teruggevoer kan word na die 1840's toe (Ponelis 1992:73; Du Plessis 1986:21 e.v.), is nie deur sprekers van Afrikaans gemaak nie, maar deur redakteurs wat nie moedertaalsprekers van Afrikaans was nie. Wanneer hulle Afrikaans geskryf het, het hulle telkens 'n variëteit van Afrikaans in die oog gehad, en dit aangepas by Nederlandse skryftaalkonvensies. Hierdie Nederlandse kleur aan hulle Koerantafrikaans het terselfdertyd status daaraan toegevoeg, en die gesag van hulle publikasies onderskryf.

Die koerante het Afrikaans gebruik om oor 'n wye spektrum van onderwerpe te skryf. Soms was dit waarnemings in ligte luim, waarin afrikaanshede inkonsekwent voorgekom het. Dit het ook gebeur dat 'n redakteur lesers wou oorreed tot standpuntinname. Dan is Afrikaans met groter toewyding geskryf.

3.3.2 Die skryftaal en die dialekvorm

Steyn (2014:23) dui aan dat die GRA besluit het om hulle Afrikaans op die "boeretaal"-variëteit van hulle omgewing te skoei ̶ een van die drie Afrikaanse dialekte wat hulle onderskei het. Toe die GRA gesê het "ons skryf soos ons praat", het dit tegelykertyd beteken dat hulle geskrewe Afrikaans naby gebly het aan die gesproke Afrikaans van die plattelandse dialek. Hierdie besluit het interessante gevolge gehad vir Afrikaans (vgl. 3.3).

Deftige "Here-Afrikaans, of Hollands-getinte Afrikaans", en "Khoi-Afrikaans" was die ander variëteite wat hulle geïdentifiseer het. Elffers (1908:5) het waarnemings oor variëteite van Afrikaans gemaak, wat hierby aansluit, asook Van Rijn (1914:9). Die GRA-taalmakers het hulle in 1875 in 'n voorpossituasie bevind (vgl. Du Plessis 2013 oor die kenmerke van voorpossituasies), waar nie net na oorlewing gestreef is nie, maar ook na die vestiging van 'n identiteit - die GRA wou immers "Regte Afrikaners" wees. In die gees van die groeiende Afrikanernasionalisme van daardie periode (Grobler 2012:166), het hulle Afrikaans aangewend om Afrikaanssprekendes se selfstandigheid te onderstreep. Om te ooglopend by Nederlands te probeer aanhaak, sou daardie outonomie in die gedrang gebring het.

Saam met hulle ander aktiwiteite, het die GRA hierdie Afrikaans bekend gemaak. Tussen 1875 en 1895, het daar nie minder nie as 81 000 boeke in GRA-Afrikaans verskyn (Steyn 1980: 139). Dié Afrikaans het egter nie merkbaar aan status gewen nie. 'n Bydrae in De Bode van Genadendal (10 Sept. 1899:76), onderstreep dit. Daar word na die GRA-skryfvorm verwys as "... di plat taal", en "des mos di taal waarin di Perlse korant di Patriot gedruk wort." Of GRA-Afrikaans navolgenswaardig is? Daar is gewonder: "As ohns nou net so spelle soos di mehnse in di Paterjotse taal praat, sel onhs ni di skool Inspekters op ohnse lijf kry nie?"

Afrikaanssprekendes was goed bewus van die bestaan van tale soos Nederlands en Engels. Ds. Moorrees het byvoorbeeld in 1890 verskille tussen GRA-Afrikaans en Nederlands aangetoon, en op die ondoeltreffendheid van daardie Afrikaans gewys (Steyn 2014:30). GRA-Afrikaans se funksiegebreke het hom teen kultuurtale laat afsteek - wat deur vernederlandsing reggestel kan word, is aangevoer. Hoogenhout (1879:44), van die GRA-kamp, het uit 'n nasionalistiese oogpunt na die verskille tussen die tale gekyk, en dit weggepraat. Na aanleiding van 'n anekdote oor 'n olifant wat kapstewels sou aanhê, het hy gesê: "Net so bespottelik is 'n Afrikaner wat syn lands aard en taal en sede wil verwerp om 'n Engelsman of 'n Hollander te wees". Waarmee hy nie by Afrikaans se funksiegebreke uitgekom het nie.

Is Afrikaans, sonder Nederlands, meer as net 'n spreektaal? Die "pro-Nederlandse Preller" (Steyn 2014:212) was later, in 1905, hoogs beïndruk met die inhoud van 'n gedig in Afrikaans, wat onder die skuilnaam "Klaas Vakie" geskryf is. Hy het dit toegeskryf aan 'n "ongeleerde Boer". Die gedig was Winter Nag, (soos dit toé gespel is), en die plaasjapie? Dit was toe al die tyd sy vriend, Eugѐne Marais (Steyn 2014:86). Afrikaans was duidelik meer as net 'n spreektaal. Maar daar kan gevra word of dit heeltemal sonder Nederlands ook die geval sal wees?

Dit was maklik om vanuit daardie sosiaal-gevoelige maatskappy fout te vind met die dialekbasis wat die GRA-taalmakers gekies het vir die taal wat hulle gemaak het. Kritici het op die ongesofistikeerdheid van die boeregemeenskap gewys, en die gebrek aan status van hulle taal, wat gepaardgegaan het met die Khoi-aandeel daaraan, wat al die Afrikaanse variëteite gekenmerk het (vgl. 4). "The incorporation of the Khoi was the single most important demographic contribution to the Afrikaans speech community during the eighteenth century" (Ponelis 1993:39). Is dit moeilik om te verstaan dat GRA-Afrikaans, neerhalend, nie net 'n kombuistaal nie, maar ook Khoi-Afrikaans genoem is?

Meurant se Zamenspraak in die boeredialek van die Oostelike Provinsie (vgl. 5.2.2) het dieselfde ontvangs gekry (Nienaber 1940:32), en die boeretaal in die twee republieke het vanweë die koppeling van materiële welvaart aan status, ook nie hoë aansien geniet nie. Steyn (1980:152) wys daarop dat dit " 'n verarmde bevolking [was] wat hulle na die Trek in die twee republieke gevestig het". Dit het daartoe aanleiding gegee dat daar na talle Afrikaanssprekendes verwys is as armblankes, waarmee ook 'n statusoordeel gepaardgegaan het. "Onder die rykstes van die land was daar byna geen Afrikaner nie", meld Steyn (2014:235, ook 272). (In 1893 het ds. Andrew Murray die aandag op hulle sukkelbestaan gevestig, asook die Carnegie-kommissie van 1928.)

3.3.3 Die vervlegtheid van Boere-Afrikaans en Khoi-Afrikaans

Die Khoi-Khoi het hulle Aanleerdersafrikaans aanvanklik in diglossiesituasies gebruik, en dit teen die einde van die sewentiende eeu hulle voorkeurtaal gemaak. Khoi-Afrikaans is vir sowat honderd jaar lank naas Veeboerafrikaans gepraat, as een van die twee hooftale in die Binnelandse Taalgebied, tussen die Hottentots-Hollandberge en Graaff-Reinet (Van Rensburg 2013). Vandag kan verskillende skakerings van die reste van daardie Afrikaans steeds in dié gebied gehoor word.

Dit was hierdie Binnelandse Afrikaans wat ook in die vroeëre buitedistrikte, soos in die Paarl, gehoor is. Die variëteite van Binnelandse Afrikaans het onderling van mekaar verskil, hoofsaaklik as gevolg van die sprekersamestelling in die dialekgebiede, maar is deur hulle vervlegtheid met Khoi-Afrikaans, taalkundig goed onderskeibaar van die "Hollands-getinte Afrikaans", waaraan die GRA nie hulle Skryfafrikaans wou koppel nie. Nog 'n verskil het op die statusvlak gelê: hierdie Afrikaans is kennelik laer gewaardeer as die verdeftigde "Hollands-getinte Afrikaans".

3.3.4 ʼn Assosiasie met Nederland?

Die oorgrote meerderheid Afrikaanssprekendes het Nederlands nie geken nie, maar was sedert die Kaapse tyd daarvan bewus, hoofsaaklik as gevolg van sy administrasiefunksie. As dit by skryf kom, moes 'n effense skyn van Nederlands sorg dat plaasname, kontrakte, geykte skryfformules, testamente, ens. so deftig en formeel as moontlik lyk. Die assosiasie met Nederland? Louis Tregardt het die Trekkers tydens die Groot Trek as Hollandse immigrante voorgehou.

Dit is verstaanbaar dat ondernemende Afrikaanssprekers hulle afgevra het hoekom GRA-Afrikaans so ver van Nederlands af gestaan het.

3.4 Die vernederlandsingsfase van Afrikaans

3.4.1 Nuwe besluite

Die besluit van die Woordelys-komitee in 1921 (1921:viii), dat Afrikaans "[n]ie onnodig van die Vereenvoudigde Nederlandse Spelling" sal afwyk nie, het 'n lang aanloop gehad (3.2), en het bevestig dat die GRA se sigbare verbintenis met Boere-Afrikaans, as die basis van hulle skryftaal, iets van die verlede was. Hierdie stappe wat geneem is oor nouer aansluiting van Afrikaans se skryftaal by Nederlands, is verteenwoordigend van soortgelyke besluite wat op verskeie fronte deurgevoer is, en ingrypende gevolge vir Afrikaans gehad het.

3.4.2 Nuwe vergesigte vir Afrikaans

Met die aansluiting by Nederlands, kon daar ander oorwegings vir die skryf van Afrikaans in berekening gebring word, as wat voorheen die geval was, en selfs as daar getwyfel is oor hoe sy sinskonstruksies en tempusstelsel (vgl. 5.1) moes lyk, kon duidelikheid gekry word deur na vergelykbare Nederlandse gevalle te kyk. Dat Afrikaans in sulke gevalle gemeet is aan Nederlands, het ongelukkig meegebring dat talle Afrikaanse dialekvorme, hiervolgens te kort geskiet het (vgl. 3.4.3 hierna).

Vernederlandse Afrikaans en Nederlands was onderling makliker verstaanbaar as wat dit met GRA-Afrikaans en Nederlands die geval was, en Afrikaans kon op 'n kortpadmanier toegang tot die Nederlandse taalwêreld kry. Daar kon uit 'n gevestigde onderwysstelsel geput word, 'n nuwe rykdom van kultuurgoedere kon geniet word, en die wêreld van die twintigste eeu kon vanuit Nederlandse gesigspunte bekyk word. Deur Afrikaans te verbind aan die Nederlandse kultuurtaal was 'n meesterskuif, waarmee die meeste van Afrikaans se statusprobleme, gelyktydig met korpustekortkominge, besweer kon word - 'n Interessante voorbeeld van die maak van 'n nuwe taal in 'n nedersettingsgebied. Vernederlandsing kon ook as 'n buffer teen toenemende Engelse taalbeïnvloeding dien, wat meegebring het dat talle taalmakers heelhartig daaraan saamgewerk het.

Toe Afrikaans vernederlands is, het baie van die GRA-Afrikaans daarin behoue gebly. Daar was sprekers wat meer Nederlands in Afrikaans wou hê, en ander wat wou gehad het dat Afrikaans meer van die Afrikaanse taaleie moes behou. Alhoewel Afrikaans vernederlands is, kon dit grammatikaal steeds as 'n afsonderlik identifiseerbare taal geïdentifiseer word. Afrikaans is nie deur Nederlands verplaas nie.

3.4.3 Afrikaans of Nederlands?

Teen die begin van die twintigste eeu moes die vraag dikwels beantwoord word: Wanneer kan sprekers terugval op Afrikaans, al is dit nie meer die modetaal nie, en wanneer moet hulle voorkeur gee aan Nederlands?

Smith (een van die vier lede van die Woordelys-komitee), het in 1917 geen twyfel gehad oor hoe die taalmakers hulle moet laat lei nie. "Als daar verskillende uitsprake van een en dieselfde woord bestaan, is dit stellig die verstandigste plan om die vorm vir ons skrjftaal te kies, wat die naaste aan die nederlandse skrijfvorm is" (Steyn 2014:159).

Daar was Afrikaanssprekendes wat Afrikaans aan die einde van die negentiende eeu as skryftaal gebruik het, en nie Nederlands nie. Uit 'n opmerking van Steyn (2014:29), blyk dit dat J. H. H. de Waal se pa hom heeltemal met Nederlands as skryftaal vereenselwig het. Hy het volgehou om vir sy seun in Nederlands te skryf, en het die volgende reëling vir hulle briefwisseling getref: "Verkiest u liefst het Afrikaansch, doen dan maar zooals u best denkt".

Die Afrikaansheid van Afrikaans is deur taalmaakagente, soos die Akademie, gekoester, en hulle wou dit binne die beweegruimte wat hulle gehad het, illustreer, deur byvoorbeeld bestaande Nederlandse pleknaamspellings te verafrikaans: vernederlandsing het ook 'n teenhanger gehad. In 1922 het hulle 'n versoek aan die regering gerig om Ligtenburg en Pêrel in Afrikaans te skryf (Steyn 2014:212). Generaal Smuts, self 'n akademielid, het later namens die regering daarop geantwoord, en gesê dat die veranderings nie gemaak kan word nie, omdat dit die gevaar inhou om "die posisie van Nederlands te verswak". "Lichtenburg" en "Paarl" se spelling het nie verander nie.

Daar is ook wal gegooi teen die vervanging van Nederlands op skool en universiteit met Afrikaans. Nederlands is "absoluut" noodsaaklik vir Afrikaans, en kan nie prysgegee word nie, is in 'n bespreking daaroor aangevoer, waarby dit gebly het. 'n Gevolg daarvan is die dubbelslagtigheid in die name van baie van die departemente vir Afrikaans aan universiteite, deur die betrek van Nederlands by Afrikaans.

Na die eerste kwart van die twintigste eeu het vernederlandsing die steun gehad van politici, skrywers, die CNO-skole, grammatici, uitgewers en redakteurs. Nie net in die Woordelys en Spelreëls nie, maar ook in die skole, met die Bybelvertaling, in die koerante en tydskrifte, in woordeboeke en skoolboeke, as sporttaal, vaktaal, radiotaal, en op watter terrein ook al, is hierdie nuwe Standaardtaalnorme deurgevoer.

3.4.4 Korpusbeplanning: Wat van die Afrikaans van die dialekte?

Die band tussen die Afrikaanse skryftaal van die GRA, en die dialekte van Afrikaans wat as 'n voedingsbron daarvoor kon dien, het met die vernederlandsingsaksies 'n knou gekry (waarop Odendaal 2014:661 e.v. ook kommentaar lewer). Taalmakers se verdeling van die sprekers van Afrikaans op grond van "kleur en die geskiedenis" het hierdie afstand vergroot (Steyn 1980:120) - 'n verdeling wat Ponelis (1987:4) as "die felste nie-talige skeiding binne die Afrikaanse taalgemeenskap", beskryf het. Dit is nie moeilik om te verstaan dat daar tussen die wêreld van Dialekafrikaans en Standaardafrikaans sedertdien 'n ongemaklike afstand gevestig is nie. Die toenemende aantal literêre werke (B. Odendaal 2014) wat in die afgelope aantal jare in Variëteitafrikaans gepubliseer is, vernou die gaping enersyds, maar bevestig die bestaan daarvan terselfdertyd.

As kronolekte (Du Plessis 1995:117) weerspieël die Afrikaanse dialekte nog baie kenmerke uit die pre-vernederlandsingsperiode, soms met ietwat Engelse invloed daarby. Die beklemmende anglisismevrees wat Standaardafrikaans ongeskonde moes hou, was daar afwesig.

Uys (1983) wys op woorde wat bekend was onder briefskrywers, uit briewe wat onveranderd in negentiende-eeuse Transvaalse koerante geplaas is, en wat tydens die standaardiseringsperiode opsy geskuif is. Daaronder is gevalle soos gaat en staat (vir gaan en staan), en speul, teun en veul (vir speel, teen en veel). (Vgl. Odendaal 2014:660, Roberge 2003:31, Van Rensburg 1983:139-140 vir meer voorbeelde.) In die 1933-vertaling van die Bybel kom heelwat Nederlands voor (vgl. Odendaal 2014:660, en haar verwysing na Stell 2008). Daar was 'n agterna reaksie teen te veel vernederlandsing. Latere vertalings en bewerkings van die Bybel is mettertyd weer verafrikaans, soos wat ook met die AWS-inskrywings gebeur het. Stell (2007:90) merk op: "from the mid 19th century up to the mid 20th century, there was a gradual transition from Dutch to Afrikaans". Moesliemafrikaans het gaandeweg ook van die Nederlandse invloed verloor wat aanvanklik daarin aanwesig was.

Kon -y- in plaas van -ei- , en -f- in plaas van -v- (ygenaam en fer, soos die GRA gespel het Du Toit 1902:6), nie maar gebly het nie? is 'n versugting van seker baie van die geslagte skoolkinders wat Standaardafrikaans leer skryf het. Reneilwe Dhludhlu, skryf in JIP (Beeld 16 Maart 2015) waarderend aan haar meneer Afrikaans, en spog daarmee dat sy nou fiets met 'n "kierietjie-f" skryf, en vorm met 'n "varkie-v"! Van Selms het in sy transkripsie van Arabies-Afrikaanse tekste ook nie 'n onderskeid tussen -f- en -v- gemaak nie (firghaan), hoewel Davids (2011:160) dit later wel gedoen het (vierghaan). Die invloed van die Nederlandse skryftradisie het wyd wortel geskiet in die verskillende soorte Afrikaans.

Taalmakers het aan die begin van die twintigste eeu besluite geneem om woorde wat die GRA volgens die uitspraak van Boere-Afrikaans gespel het, en wat nog in die eerste helfte van die twintigste eeu in die noordelike provinsies gehoor kon word, te wysig, soos agint, worre, en suffel, en dit te skryf as agent, word en so veel, soos in Nederlands. "[E]rge Nederlandismes", soos gebroeders, het nog lank in Afrikaanse woordeboeke en die AWS oorleef (vgl. Odendaal 2014:668).

Sprekers van Maleis het die woord bannyak in Kaaps gebruik. Die Buganese, ook uit die ooste, het nie 'n -k- aan woordeindes uitspreek nie: hulle het baiing gesê (Davids 2011:59). Die GRA het baing geskryf. Naas dié twee variante het daar nog 'n stuk of 40 wisselvorme voorgekom, wat nooit gestandaardiseer kon word nie. Smith het hom daarvoor beywer om tussen al die moontlikhede, op baie ('n gedenasaliseerde variant (Ponelis 1993:100)) te besluit, wat dié woord se oosterse herkoms versluier het. Daarna het baie die keuse van die Afrikaanse Bybelvertalers geword, en is dit in Afrikaans gevestig (Steyn 2014:159). Taalmaak? Taalmakers se ingrepe kan duidelik in die skryfvorm van dié woord gesien word.

3.4.5 Nie soos Engels nie

Die vernederlandsing van geskrewe Afrikaans het algemene praktyk geword, alhoewel die GRA se skryfmanier nie oornag vervang is nie. In die skole is vernederlandse Afrikaans van 1914 af ingevoer, en ampstaalstatus het ook in die verte gewink. In die benadering van hulle doelwit, het die taalmakers van Afrikaans op interessante maniere van mekaar verskil, soos Steyn (2014:212 e. v.) aantoon. Preller en Langenhoven (sien hierna) kon byvoorbeeld nie ooreengekom het of Afrikaans of Nederlands skooltaal moes wees nie. (Vgl. 4.2.2 vir die meningsverskil tussen Smith en De Waal oor die erkenning van ek of ik.)

Preller was by heelwat taalmaakaksies betrokke, en het hom, anders as Langenhoven, byvoorbeeld uitgespreek teen die maak van 'n Standaardafrikaans wat te veel Afrikaanse elemente bevat het, en te min Nederlands. Met sy pro-Nederlandse ingesteldheid (wat Steyn uitwys), het hy gehoop op méér Nederlands in Standaardafrikaans, later. Standaardisering en die invoer van Afrikaans as skooltaal, het vir hom te vroeg plaasvind. Indien Afrikaanssprekendes later meer Nederlands gebruik, kan dit deur praktiese gebruik gevestig raak, en kan daardie taalvorm eerder gestandaardiseer word. Maar daar kon nie te lank versuim word nie, omdat die verengselsingsfaktor ook in berekening gebring moes word. Dit het Preller besef, en in 1926 toegegee dat die tyd vir standaardisasie nie verspeel moet word nie. Dit is nodig dat Nederlands die Afrikaans van daardie periode versterk, "anders verval ons vanself en maklik in Engels", haal Steyn (2014:213) hom aan.

 

4. KHOI-AFRIKAANS EN STANDAARDAFRIKAANS

4.1. Gedeelde taalbesit

4.1.1 Taalmakers en Khoi-Afrikaans

Die Boere-Afrikaans waarop die Skryfafrikaans van die GRA gebaseer is, het in die agtiende eeu elemente van Khoi-Afrikaans sowel as van Veeboerafrikaans bevat, soos dit in die Binnelandse Taalgebied (vgl. 3.3.3) deur die sprekers van dié variëteite gebruik is, in ooreenstemming met konvensies wat onderling tussen hulle gegeld het.

Eienskappe van Khoi, wat sistematies in Khoi-Afrikaans neerslag gevind het, het 'n deel van Boere-Afrikaans geword (vgl. 4.2 hierna), en is voortgesit in latere vorme van geskrewe Afrikaans, GRA-Afrikaans en vernederlandse Afrikaans. Khoi-Afrikaans is later ook langs ander weë in Standaardafrikaans opgeneem, soos hierna sal blyk (4.2.2).

Khoi-Afrikaans kan steeds in Afrikaanse dialekte gehoor word. In heelwat plekname steek daar Khoi-Afrikaans (vgl. Raper e.a. 2014). Afrikaanse taalgeskiedenisse en Afrikaanse leerplanne gee geen aandag aan die struktuur van Khoi-Afrikaans, of aan sy geskiedenis nie. Soms, taamlik terloops, kom iets van die invloed daarvan op geskrewe en gesproke Afrikaans ter sprake. Die rol van Khoi-Afrikaans in die maak van Afrikaans, word nie in Ons gaan ʼn taal maak bespreek nie. Enkele aanduidings daarvan geniet hierna oorsigtelik aandag.

4.1.2 Khoi-Afrikaans: Van wanneer af?

Die Afrika-Afrikaans van die Khoi-Khoi is al vir lank gehoor, waarskynlik al van 1595 af (Van Rensburg 2012). Teen die begin van die agtiende eeu, het die Khoi-Khoi se aanleerdersvariëteit, Khoi-Afrikaans, op enkele uitsonderings na, alreeds die Khoi-Khoi se moedertaal verplaas. Die gebruik van ons in onderwerpsposisie het 'n integrale deel van verskeie soorte Afrikaans geword. Dat die konstruksie deur Khoi-Afrikaans geïnisieer is, word nie deur dié woordvorm verklap nie. In Piet-goed daarenteen, kan die verafrikaansing van die Khoi kollektief -gu-, wel raakgesien word, en sy geskiedenis het anders verloop.

4.2 Taalassimilasie

Khoi-Afrikaanse taalelemente is aanvanklik uit Veeboerafrikaans geweer. In die Binnelandse Afrikaanse taalsituasie, het die gemerktheid in talle woorde en uitings vervaag, en het absorpsie toenemend in beide rigtings plaasgevind.

Die boervrou wat (heelwaarskynlik teen 1730) ons in onderwerpsposisie teenoor die besoeker Menzel gebruik het, het gebloos toe sy gewys is op haar gebruik van dié Khoi-gestigmatiseerde vorm (Ponelis 1993:218), en die omgangstaalvorm ek is in die Patriottyd deur die meeste Afrikaanssprekendes gebruik, alhoewel hulle verseg het om dit te skryf (vgl. 4.2.2). Sprekers wat Khoi-Afrikaans waarskynlik ook lukraak gebruik het (soos die genoemde ek-sprekers), het nie geskroom om beterweterig Khoi-Afrikaanse elemente in die GRA-publikasies, en in Meurant se koerantstukke, uit te wys nie (vgl. 3.3.2). Verskillende woorde uit Khoi-Afrikaans vertoon hulle eie, afsonderlike assimilasiegeskiedenisse in Standaardafrikaans, onderhewig aan gebruiksfrekwensie, stigmatisering, en ander faktore. Die oorkoepelende assimilasieproses in die binneland is onderbreek lank voordat dit voltooi kon word, maar dit het nie verhoed dat Khoi-Afrikaans 'n rol in latere Standaardafrikaans gespeel het nie.

4.2.1 Ons in onderwerpsposisie

Die gebruik van ons in onderwerpsposisie is van 1672 af opgeteken (Ponelis 1993:216), en is vir lank gestigmatiseer as Khoi-Afrikaans. Mettertyd het ons onskeidbaar deel van gedeelde Binnelandse Afrikaans geword (Van Rensburg 2013), en teen 1875 het die GRA nie geskroom om dié woord deel van hulle Patriotafrikaans te maak nie.

Die woord wij was 'n merker van sosiale gelaagdheid, en het by Here-Afrikaans gehoort (Steyn 2014:23), wat die GRA-Afrikaans nie gepas het nie. Meurant se Oos-Kaapse boere het ons ook gebruik, blyk uit sy samesprake, maar sy belangrike sprekers praat nie so nie: Hy laat hulle "met 'n gebaar van vernaamheid"wij sê (Nienaber 1940:58).

In die vernederlandse Afrikaans van die begin van die twintigste eeu is ons in onderwerpsposisie al in so 'n mate gedestigmatiseer, dat dit sonder meer as Standaardafrikaans erken is. Wie sou kon sê dat dié ons in die agtiende eeu sodanig gemerk was, dat dit vroeër in burgers se getuienis in hofdokumente, tot wij gewysig is, soos Scholtz (1981:94; 116) gevind het?

4.2.2 Ek of ik? Twee woordgeskiedenisse

Ek se standaardiseringsgeskiedenis het anders verloop as wat dit met ons die geval was. Lank nadat ons nie meer as Khoi-Afrikaans ervaar is nie, was die woord ek nog gestigmatiseer. Taalmakers neem soms opvallend lank om agter te kom dat die norme waarvolgens hulle hulle vroeër besluite geneem het, al verander het.

Ek is eers in 1920, wys Steyn (2014:157) uit, as Skryftaalafrikaans erken, en dit het nie sonder teenstand gebeur nie. Hy wys daarop dat De Waal (die skrywer en taalaktivis), daarna vir Smith (van die WAT) verkwalik het vir sy aandeel aan die aanvaarding van ek. Waarom het die Woordelys-komitee waarvan Smith 'n lid was, besluit om die opname van ek in die 1921-AWS uitdruklik te verwoord? Hulle het die vorm wat nie meer erken word nie, ook in hulle besluit genoem, sodat alle twyfel daaroor uit die weg geruim kan word: "net een vorm [word] erken" ... "ek (nie ik nie)", het hulle geskryf (Woordelys-komitee 1921:xiv). Kon dit wees om teenkanting daarteen in die kiem te smoor?

Voor 1920 was ik die gebruiklike skryfmoontlikheid, ook in die GRA-publikasies. Kan die teenstand wat die wysiging na ek toe uitgelok het, daaraan toegeskryf word dat ek te kenmerkend van Afrikaanse dialekgebruik was? In die vernederlandsingsfase van Afrikaans is daar wal gegooi teen die opneem van vorme wat duidelik as Dialekafrikaans gemerk is. Om ek te gebruik, karakteriseer Kaapse Afrikaans, is geargumenteer. Dit was gedeeltelik waar, want ek het in Kaaps voorgekom, maar in ander dialekte ook. In geskrewe Kaapse Moesliemafrikaans was ek goed bekend, hoewel Steyn (2014:157) daarop wys dat Piet Uithaalder ik ook in sy geskrewe stukke gebruik het. In die Arabiese gelooftekste wat Davids (2011) behandel, kom ek voor, onder andere in 'n vasboek van 1921 (die Kitaaboes Sooem) waar ek geskryf is in "ek is klaar met de Kitaab" (a.w.:103). In die daaglikse taalgebruik, buite die geloofstekste, het ek ook voorgekom: Abu Bakr Effendi, skryf byvoorbeeld in 'n brief uit 1894 (Davids 2011:94) "ek is bajang vir ander" (=verander).

In die Khoi-variëteite van Kaaps was ek ook bekend, lank voordat dit in 1920 as Standaardafrikaans erken is. Changuion (1848:100), wat goed na die aanleerdersvorme van Nederlands in die Kaap geluister het, het teen die toenemende gebruik van ek gewaarsku, omdat die Khoi-Khoi dit gebruik, het hy gesê. Sy Khoi-voorbeelde was: "ek is, ek heef", in plaas van "ik ben, ik heb".

Die taal van die GRA-publikasies was goed versorg. In Hoogenhout (1879) het ik konsekwent voorgekom. In 'n gediggie (waarin 'n volksliedjie dalk steek?) oor "Di Resies" glip ek in 'n onbewaakte oomblik deur: "Ek denk nog menigmaal terug". Elffers (1908:5) onderskei in sy "Cape Dutch"-grammatikavariëteite wat ooreenkom met dié wat die GRA geïdentifiseer het: 'n variëteit met meer Nederlandse kenmerke, en dan "the real patois" wat hy karakteriseer as "indispensable to all South Africans", en wat niks anders as Afrikaans was nie. Elffers se leestekste (1908:32-92) gee duidelike riglyne vir die gebruik van ik en ek in die voor-1920-periode. Ek is duidelik die woord wat in Afrikaans gebruik is, hoewel ik hier en daar opduik. In sy woordelys gee hy ek aan as die enigste vertaling van die Engelse voornaamwoord I (Elffers 1908:97). Hy het 'n Nederlandse grammatika ook geskryf (Elffers 1898), en Nederlands en Afrikaans konsekwent uitmekaar gehou. Ek kom nie in sy Nederlandse grammatika voor nie.

4.2.3 Khoi-verafrikaansings

Dit is moeilik om 'n eenvoudige patroon vir die inkorporering van taalelemente uit Khoi-Afrikaans in Standaardafrikaans te agterhaal. Veranderlikes soos kontakomstandighede, klankkombinasies en sosiale en rassevooroordele speel daarin 'n groot rol. Met die vernederlandsing van Afrikaans is voorkeur gegee aan woorde uit Khoi-Afrikaans wat by Nederlandse klank- en woordboupatrone aansluit.

Pa-goed (waarna hierbo verwys is), word steeds (2015) nie algemeen in Afrikaans gebruik nie, hoewel sprekers van Afrikaans daarmee bekend is, en dialeksprekers daaraan voorkeur gee. Pa-hulle, die verafrikaansing daarvan, het algemene Afrikaans geword. Goed-konstruksies was ook in die Afrikaans van die boere vir wie Meurant geskryf het, bekend, want hy gebruik dit meermale.

Hittete weer, vir byna, is redelik goed bekend in Afrikaans (en hou waarskynlik verband met Khoi ártátá, die inskrywing wat Haacke en Eiseb (2002) by almost aangee). Die Khoi-herkoms van hittete val op: die herhaling van die lettergrepe, die wisselvorme, ooreenkomstig Khoi-fonologiereëls daarvoor, wat WAT opgeteken het, asook sy ondeursigtigheid, vanuit 'n Afrikaanse oogpunt gesien. Alles moontlike redes waarom dié woord nie die toets van vernederlandsing behoort te geslaag het om in die AWS opgeneem te word nie.

Daar bestaan optekenings van Khoi-Afrikaans wat van vroeg af al net soos hedendaagse Afrikaans lyk (na skryfaanpassings). In 1655 het De Flacourt (Nienaber 1963:105 e. v.) môre (vir Nederlands morge) in Khoi-Afrikaans opgeteken, soos dit later ook in Standaardafrikaans geskryf is, asook gee (ghe), en bôre (vir borde, soos dit steeds in Afrikaanse omgangstaal uitgespreek word).

4.3 Onderbrekings van die assimilasieproses

4.3.1 Die werk aan ʼn mite: taalmakers is ook taalgeskiedenismakers

Die skryftaalfunksie van 'n taal gee nie noodwendig 'n besondere status aan daardie taal nie, en ook nie aan die gebruikers daarvan nie.Taalstatus word tydsaam met die verwerwing van kultuur- en ander funksies verwerf. As 'n Nederlandse herkoms die persepsie van gekultiveerdheid sal versnel, is dit nie genoeg rede dat Afrikaans se herkomsfeite daarby aangepas word nie? Met die kultivering van Afrikaans in die twintigste eeu het Afrikaans se taalmakers hard gewerk om nuwe persepsies oor die herkoms van Afrikaans te vestig, en om die beeld van "kitchen Dutch", te wysig.

"Nuwe mites en 'n ander identiteit" (soos Du Plessis 2013:449 oor beeldbou op die voorposte van die agtiende eeu skryf), moes vir Afrikaans geskep word. Dit het invloedryke Afrikaanssprekers op verskillende fronte gedoen. Hierdie taalmakers het aan 'n nuwe beeld van Afrikaans gebou, een wat saamgehang het met 'n nuwe identiteit, en 'n vermaarde geskiedenis wat vermoedelik beter sou pas by die wêreld van Nederlands.

4.3.2 Afrikanernasionalisme en die beeld van Afrikaans

Die groeiende Afrikanernasionalisme het Afrikaans se beeldbou gevoed. Ponelis noem hierdie nasionalisme "[d]ie belangrikste sosiale dryfkrag agter ... die ... kultivering van Afrikaans (Ponelis 1992:72). In die aanloop tot Afrikaans se ampstaalwording, merk Steyn (2014:205) op, sou dit verbasend wees "as die hoogbloei van nasionalisme Afrikaans onaangeroerd" gelaat het. Aan die hand van sulke waarnemings kan die maak van nuwe herkomsmites oor Afrikaans begryp word.

'n Uitspraak van ds. Postma oor die totstandkoming van Afrikaans, in 'n Brandwag-bydrae van 1912, illustreer die rol van taalbetrokke mense aan die bou van die nuwe beeld vir Afrikaans. Ds. Postma kon 'n belangrike rol as taalmaker speel, soos blyk uit sy posisie in die Afrikaanse gemeenskap. Hy was die leier van die Vrystaatse Taalbeweging (Steyn 2014:97), word verbind met die latere Sentraal hoër- en laerskole in Bloemfontein (Steyn 2014:75), en het ook onder die skuilnaam dr. O'Kulis (Steyn 2014:98) in Afrikaans geskryf. Polities was hy aktief in die Hertzog-kamp (Steyn 2014:123).

"Dit is onsin", het hy hom oor die kombuistaalbeeld van Afrikaans uitgelaat (Postma 1912:593), en sy "voornaamste stelling" ter motivering was: "Afrikaans is die taal van die Afrikaanse kind gebore uit Hollandse ou'ers ..." (Postma 1912:594). Afrikaans is in hierdie trant toenemend voorgehou as die taal van die blanke middelklas, en taalmakerpolitici gebruik kleur, wat niks met taalstruktuur te make het nie, om die Afrikaanse taalgemeenskap meedoënloos te verdeel. Taalmakers wat aan Afrikaans se groeiende nuwe status, en sy verbintenis met Nederlands, gewerk het, vind fout met sy geskiedenis, en tree op as nuwe taalgeskiedenismakers.

4.3.3 Die Afrikakant van Afrikaans

Aan die einde van die twintigste eeu het 'n Nederlandse ondersoeker, Den Besten (1987:24), hom nugterder oor die herkoms van Afrikaans uitgelaat, soos die titel van sy publikasie "Het Afrikaans: Mag het ietsje meer Zuid-Afrika zijn?" aantoon.

Die mite van Afrikaans as 'n "witmenstaal" is nie deur ds. Postma geskep nie. Hy het help bou daaraan. Sy taaltrots het meegebring dat hy nie daarvan gehou het "as van sy taal 'n grap gemaak word" nie, vertel Steyn (2014:103) van hom. Hierdie voorbeeld illustreer hoe daar met gedagtes, waarvan Afrikaans die draer was, onder 'n deel van die Afrikaanssprekendes in die negentiende eeu voortgeborduur is op maniere waaroor die oorspronklike taalmakers geen beheer gehad het nie, en waarvan hulle die gevolge nie kon voorsien nie. Steyn (2014:155) wys daarop dat Langenhoven (in 1914) propagandisties van Afrikaans as 'n "witmenstaal" gepraat het, en dat hy daaroor gekritiseer is. Cachet (1896) se gediggie oor Afrikaans verwoord die klimaat waarvolgens daar 'n Europese herkoms vir Afrikaans bedink is. Hy stel Afrikaans voor as " 'n arme boerenôi", wie se pa uit Holland uit kom, en die ma uit Frankryk.

Van die Afrikakant van Afrikaans word mens niks wys uit die argument wat gevoer is tydens die veldtog om Afrikaans in 1925 ampstaal te maak nie. Dáár is aangevoer dat Afrikaans ingesluit sou wees by Hollands (vgl. Steyn 2012:206). Dit was politieke wartaal. Dié stelling het baie bekend geword, maar dit hou nie verband met Afrikaans se geskiedenis nie. Vir politici was vernederlandsing 'n handige politieke instrument.

Die herkomsverhaal van Afrikaans het 'n belangrike Afrikakant, wat al van 1595 af aantoonbaar is. "[E]k glo" ... sê Gerwel in 1975, nader aan die waarheid, dat mense, soos die wat uit die ooste gekom het, en die Khoi-Khoi, "aan Afrikaans geboorte gegee het en hom lewend gehou het in sy suigelingsjare" (aangehaal deur Steyn 1980:473, uit 'n bydrae van Gerwel in Buurman). Cussons (1979:33) neem ook kennis van hierdie belangrike kant van Afrikaans, en haar bede is: Dat "U hom [Afrikaans] nooit van die liggaam/van Afrika sal amputeer nie".

 

5. TAALMAKERS MAAK GRAMMATIKASTRUKTURE

Taalmakers het hulle hand ook aan die grammatikastrukture van Afrikaans gewaag, soos Steyn (2014:162) illustreer in sy beskrywing van hulle poging om 'n imperfektum vir Afrikaans te probeer maak. Hy laat hom nie uit oor die moontlike maak van die herhalingsontkenning met nie-2 nie, maar 'n herbekyk van die gegewens wat daaroor bekend is, toon aan dat taalmakers ook daarmee te make gehad het.

5.1 Tydsaanduiding

Taalmakers (soos Brümmer), met die vernederlandsing van Afrikaans in die oog, het aan die ATV-kongres van 1908 (Steyn 2014:162 e.v.) voorgestel dat Afrikaans met imperfektumvorme tempus moet aandui. Daarvolgens sou "vond plaas" in Afrikaans geskryf moet word, en nie "het plaasgevind" nie.

Teenstanders van dié plan, waaronder De Waal, het aangevoer dat Afrikaans nie 'n imperfektum het nie, en moet bly "soos hy is". Ernstige gesprekke is in 1908 tydens die ATV-jaarkongres hieroor gevoer. In 1927 het dié dispuut tot by die Akademie gevorder. Die gevolg? 'n Komitee moes 'n aanbeveling maak.

5.1.1 Taalgebruikers kan eindbesluitnemers wees

Die komitee het aanbeveel dat daar gerus imperfektumvorme in geskrewe Afrikaans gebruik moet word, waaronder werd ("hulle werd algar vervul met die Heilige Gees"), en ook mog, had, wis, en dog.

Taalgebruikers is op grondvlak, dikwels onbewustelik, ook taalmakers. Werd het vir hulle vreemd gebly, en mog (vir mag)? Daarmee is al lankal opgehou. Dialeksprekers hou steeds by had (vir het) (Ponelis 1993:439), en soms skryf koerante nog so, maar wis (weet) en dog (dink), is rariteite. Hierdie plan om 'n imperfektum vir Afrikaans se sprekers te maak, het hulle nie gepas nie.

Dit lyk of taalmakers besig is om sterk voltooide deelwoorde (byvoorbeeld geholpe) ook uit te faseer, in 'n opruimingsproses wat nog ver van voltooi af is. Die kategorie voltooide deelwoorde wat in Standaardafrikaans as attributiewe adjektiewe optree, wys Odendaal (2014:661), met verwysing na Stell, word nog steeds volgens die Nederlandse patroon gebruik: aangewese persoon, eerder as aangewysde persoon.

Onder dialeksprekers is vokaalwisseling by werkwoorde tot 'n minimum beperk, soos sy het 'n slim plan gehet (vir gehad). Met die maak van vernederlandse Afrikaans was die moontlikheid maar skraal dat het ... gehet Standaardafrikaans sou haal.

5.2 Afrikaans se ontkenningskonstruksie met nie-2

Die ingryp van taalmakers kan ook raakgesien word wanneer die geskiedenis van ontkenningsinne in Afrikaans herbekyk word.

5.2.1 Spore van moontlike ontkenningspatrone?

"[I]k het oom nog die helfte nie vertel nie". So skryf Meurant in 1861 (Nienaber 1940, no.1:9), waar hy 'n ontkenningsin in Afrikaans met nie-2 aan die sinseinde gebruik. Hy het help maak aan dié Afrikaanse ontkenningspatroon. In sy reeks van ses Afrikaanse bydraes in Oos-Kaapse koerante, gemik op die boere van die omgewing, gebruik hy nie-2 in 80% van die moontlike gevalle (Ponelis 1993:467). Dié ontkenningspatroon is dieselfde as die van latere Standaardafrikaans (vgl. Den Besten 2012: 251-252; Ponelis 1968: 25-29, 1979: 367-375, 1993: 453-478; en Stell 2009:92, vir beskrywings daarvan). Waar sou Meurant hieraan gekom het?

Optekenings met twee, of selfs drie ontkenningspartikels in data van vroeë Afrikaans, kom wel voor, en is maar skraps (vgl. Nienaber 1994:98-102; Den Besten 2012:242 e. v.; Ponelis 1993:453-478). Gevalle met nie aan die sinseinde, bevind Ponelis (1993:475), is "very scarce". Waar dit lyk of vroeë data ooreenkomste met Standaardafrikaans vertoon, merk Den Besten (2012:265) op, is dit dikwels nie voldoende om oor die sintaksis daarvan afleidings te maak nie. Nie-3 kom steeds voor, het Feinauer (1994:117) gevind, "frequently used in spoken Afrikaans mostly when the speaker omitted something which he wanted to be within the scope of negation".

Die beperkte data oor die vroeë gebruik van die Afrikaanse ontkenning wys dat hierdie ontkenningspartikels nie aan vaste sinsposisies gebonde was nie, identifiseer nie 'n groep sprekers wat die nie-2 ontkenningspatroon kon geïnisieer het nie, en dui ook nie 'n gebied aan wat die uitstralingsentrum daarvan kon gewees het nie.

Meurant het sy 1861-bydraes vir die Oos-Kaapse boeregemeenskap geskryf, Teenstra (1825) het die Afrikaans van die slaaf November in die Caledon-omgewing probeer weergee, en enkele nie-2 voorbeelde gebruik, en Boniface (1830), in 'n verbeelde onderhoud, die Afrikaans van die Griekwa Hendrik Kok, wat uit Somerset-Oos sou kom (Teenstra en Boniface se bydraes is opgeneem in Nienaber 1971:7-10, 36-42). Uit seevaartkorrespondensie van die sewentiende eeu (Nobels 2013:129 e.v.) blyk dit dat die ontkenning met meer as een ontkenningselement ook deur skeepslui gebruik is, en dat die voorkoms daarvan sosiaal gestratifiseer is. Laer- en laermiddelklas skrywers gebruik hierdie ontkenning in 41% van die gevalle (Nobels 2013:146). Daar was sprekers uit die seevaartomgewing wat hulle aan die Kaap gevestig het, en wat meer as een ontkenningselement hier kon gebruik het.

Wie nou eintlik die makers van die Afrikaanse nie-2 ontkenning is, kan glad nie uit die beskikbare gegewens daaroor afgelei word nie.

Die nie-2 ontkenningspatroon van Afrikaans, kon ook nie teruggevoer word na ontkenningspatrone wat in ander tale voorkom nie. Frans is al van nader bekyk, as 'n moontlike bron, sonder dat oortuigende argumente daarvoor uitgemaak kon word. Ponelis (1993:465) vat dit saam: "French inlfuence on Afrikaans negation may be safely ruled out". Die struktuurverskille is net te groot. Sinne in 'n Vlaamse dialek, Aarschots, bevat ook meer as een ontkenningselement. Dit is al aangevoer dat die antwoord dalk daar lê. Die kontaksituasie tussen sprekers van Aarschots en Afrikaans is nog nie aangetoon nie, en Ponelis (1993:469) en Den Besten (2012:237 e. v.) het op onversoenbare verskille tussen die negasiepatrone van Aarschots en Afrikaans gewys, en dié argumente ook deurgevoer na gevalle van ontkenning waar nie in Wes-Germaanse ontkenningspatrone twee (of meer) kere in 'n sin voorkom.

Sprekers van Khoi-Afrikaans sou die skryf van die ontkenning met nie-2 miskien kon geïnisieer het (Nienaber 1994:22 e. v.; Den Besten 2012:242 e. v.), gesien die kontak tussen Khoi-Khoi en Veeboere in die loop van die agtiende eeu (vgl. Van Rensburg 2013), en die voorkoms van Khoi-ontkenningspartikels in die sinsfinale posisie. Die voorafgaande ontkenningselement ontbreek egter (Nienaber 1994:115), en Khoi en Afrikaanse ontkenningstrukture verskil op ander maniere ook (Ponelis 1993:472).

Verder gebruik die nasate van die sprekers van Khoi-Afrikaans, soos die Griekwas (volgens die data van Van Rensburg 1984), en sprekers van ander verwante Afrikaanse dialekte, waaronder dié in die Kharkamsgebied, die sinsfinale nie opvallend min, en dan ook willekeurig (Links 1989:72; Ponelis 1993:455). Ander elemente van Khoi-Afrikaans wat gestandaardiseer is (vgl. 4.2.1 en 4.2.2), het steeds 'n hoë gebruiksfrekwensie buite Standaardafrikaans in dialekreste.

Daar is al op ooreenkomste tussen die ontkenning in die Aanleerdersportugees van die Golf van Guinee en Afrikaans gewys, maar die moontlikheid dat die herkoms van die Afrikaanse ontkenningskonstruksie daar lê, "seems slight indeed", voer Ponelis aan (1993:472-4).

5.2.2 Maak nie-2 dan maar self

Meurant, en ook Boniface, het ontkenningsinne waar nie-2 patroonmatig voorkom, in hulle skryfwerk gebruik (Ponelis 1993:476). So 'n sistematiek het nie in die spreektaal bestaan nie, hulle het dit self gemaak, en in hulle Nederlandsgekleurde Afrikaans ingebed. Té veel variasie skep verwarring, en toe Meurant probeer het om die Oos-Kaapse boere te oorreed om sy afskeidingsbeweging (van die Kaap) te ondersteun, moes hy sy boodskap so duidelik as moontlik oordra. In sy reeks tweegesprekke van 1861 oor die afskeidingstema, het hy die moontlikhede waarbinne dié ontkenning kon voorkom, vir sy gebruik, gereduseer tot 'n patroon waar 'n vroeëre ontkenningselement herhaal word met 'n sinsfinale nie. Heelwat lesers het die stukke gelees waarin sy ontkenningsinne voorgekom het: hierdie ses dialoë het later in boekvorm verskyn, en is deur verskeie ander koerante oorgeneem. S. J. du Toit (van die GRA, 'n anderhalf dekade later), het deeglik van Meurant se bydraes kennis geneem (Du Toit 1909:3-4). Hy het daarna beswaar gemaak omdat Meurant Afrikaans gebruik het vir politieke gewin (Du Plessis 1986:15-16).

Meurant het al vóór 1861 Afrikaanse ontkenningsinne met nie-2 gemaak. In 'n brief van 1844 in Het Kaapsche Grensblad, waarvan hy redakteur was, skryf hy nie-2-ontkenningsinne sewe keer, soos in hedendaagse Afrikaans. Hy het dié patroon nie gereeld in sy skryfwerk gebruik nie.

Voor hom het Boniface, as redakteur van De Zuid Afrikaan tussen 1830 en 1832, nie-2 in 62% van die ontkenningsinne gebruik wat hy gemaak het (Ponelis 1993:476; Franken 1953:188-207; Nienaber 1940:61-62; 1965:32; Scholtz 1965:31-58, 76-103, 259-274). Binne die Arabiese Afrikaanse skryftradisie (vgl. 4.1) was nie-2 ontkenningsinne nie heeltemal vreemd nie. 'n Greep uit Ghatieb Magmoed se manuskrip van 1880, in Davids (2011:86), bevat so 'n voorbeeld.

5.2.3 Dit is hoe Afrikaans se ontkenning nou gaan lyk

Van 1875 af het die GRA se publikasies in Afrikaans begin verskyn, en die herhalingsontkenning wat daarin voorkom (Du Toit 1902:30), is dieselfde as die ontkenningspatroon van huidige Standaardafrikaans. Die ontkenningsinne met nie-2 van Boniface en Meurant, lyk ook so. Die GRA het standaardisering in die oog gehad, hulle groot aantal publikasies het daarmee gehelp, en hulle manier om dié ontkenning te skryf, het nie teenkanting ontlok nie, die nie-2 ontkenningsinne was trouens 'n kenmerk van die nuwe skryftaal. Die GRA se invloed was baie groter as die invloed wat die skrywers van die voorafgaande Afrikaanse koeranttradisie ooit kon hê, en het vir lank geduur. In 1907 is Cachet se Sewe duiwels en wat hulle gedoen het, byvoorbeeld herdruk deur Het Westen-drukkery, steeds in GRA-Afrikaans. Die vierde druk in 1911 het vinniger verkoop as wat dit gedruk is, vermeld Steyn (2014:89-90).

Met die vernederlandsing van Afrikaans het die GRA se herhalingsontkenning maklik deurgeglip om Standaardafrikaans te word, moontlik omdat dit nie as 'n dialekkonstruksie gestigmatiseer is nie. "Nowadays, nie-2 seems to be generalized in white colloquial speech" sê Stell (2009:92), met verwysing na die bevolkingsgroep waarmee vernederlandsing geassosieer was. Hierdie manier om ontkenningsinne te skryf, is voortgesit in die Bybelvertaling van 1933, en in publikasies wat gedurende die standaardiseringsperiode van Afrikaans, en daarna, verskyn het.

'n Voetnota by die voorafgaande bespreking: Den Besten het in 1985 in verband met die sinsfinale nie van Afrikaans 'n mening geuiter, waarvoor hy toe nie krediet gegee is nie: "[t]he obligatoriness of nie-2 seems to be a consequence of standardization ..." het hy gesê (ook Den Besten 2012: 242), 'n opmerking wat aangesluit het by 'n suggestie wat Nienaber (1965:38) nóg vroeër gemaak het.

 

6. DIE IDENTITEIT VAN 'N TAAL

6.1 Ons maak ʼn taalnaam!

Teen 1875 is daar al af en toe, oor 'n wye front, na Afrikaans verwys as 'n selfstandige taal, en bekende mense uit die begin van die GRA-periode, onder andere Du Toit, Pannevis, Hoogenhout, en Brill (Steyn 2014:21) het dit ook gedoen. Vir dié taal het die GRA die naam Afrikaans van 1875 af gebruik. Steyn, en ander taalhistorici, verwys meermale met een of meer van 'n verskeidenheid name soos Kaaps(e)-Nederlands, Nederlands(e)-Afrikaans, Afrikaans(e)-Nederlands, Kaaps(e)-Hollands en Kaaps-Nederduits (Changuion), na vroeëre vorme van die taal met die grammatikakenmerke van Afrikaans, of na variëteite daarvan.

Hoekom word die naam "Afrikaans" nie by terugblik gebruik nie, en was die deel van die naam wat na Nederlands verwys het, werklik Nederlands?

Buite die Paarl, is daar na nog 'n variëteit van Afrikaans, Moesliemafrikaans, as 'n selfstandige taal verwys. Nederlands het aan die begin 'n invloed op die geskrewe taalvorm gehad, maar namate Nederlands minder gebruik is, teen 1870, praat Davids (2011:124) daarvan as Afrikaans, 'n ander taal as Nederlands. Sy siening illustreer hy aan die latere skryfwerk van Ghatieb Magmoed, naas dié van 'n aantal ander outeurs. Ghatieb Magmoed is aan die Kaap gebore, sy "syntax is almost perfect" en sy "Afrikaans is also an indication of the extensive use of the language in his community" (Davids 2011:122).

6.2 Verkeerde Nederlands of Afrikaans?

6.2.1 Is Nederlands buite Nederland nog Nederlands?

Kan Nederlands buite Nederland maklik as Nederlands herken word? Dit kan gebeur. Vir twee en 'n halwe eeu, tot aan die begin van die twintigste eeu, het die Nederlands (Leeg Duits) wat in Amerika gepraat is, goed behoue gebly (Willemyns 2013:203).

Daardie gemeenskap was die enigste beduidende Nederlandse nedersetting buite Suid-Afrika, sê Buccini (1996), volgens Willemyns (2013:203), met groot getalle Nederlandssprekendes teen die einde van die agtiende eeu, in die state New York en New Jersey. Was dit Voortsettingsnederlands? "De meeste menschen spreeken in en omstreeks Albany Hollandsch, [en] 't kwam mij vreemd voor te hooren dat de Hollandsche taal hier zo wel gesprooken wierd, want schoon er eenige woorden verbasterd zijn, zijn er evenwel verscheijde plaatzen in de Nederlanden, daar het niet beter gesproken word", haal Noordegraaf (2010:2) uit 'n reisverslag van Van Steenwijk in die 1780's aan. Die foute in dié Nederlands? Noordegraaf (2008:2) wys dat besoekers daarin afwykings waarneem: "[K]erel is het fatsoenlijke woord voor man, ellendig is iets, dat mooi is". Die soort foute dui eerder op verwaarlosing, wat aan die isolasie van die nedersetters toegeskryf kan word, en is nie struktuurwysigings nie.

Met die Nederlands in die VOC-nedersetting in Suid-Afrika, was dit anders gesteld as met die Nederlands wat in Noord-Amerika gepraat is. Afrikaans vertoon "duidelijk van het Nederlands afwijkende kenmerken", haal Noordegraaf (2014:82) vir (Buccini 1996: 44) aan, wat van Afrikaans as 'n "structurally distinct language" praat. In Suid-Afrika was daar nie van 'n geïsoleerde Nederlandse taalgemeenskap sprake nie, en kan daar nie van Suid-Afrikaanse Nederlands wat buite Nederland voortgesit is, soos in Noord-Amerika, gepraat word nie.

Steyn (2014:22) verwys na uitsprake waarvolgens Afrikaans "beskou [is] as 'n verkeerde vorm van Nederlands", wat net verstaan kan word, as daar vanuit 'n Nederlandse oogpunt na Afrikaans gekyk is. Die "foute" aan die Afrikaans van die Kaap, lyk heeltemal anders as dit wat hierbo as foute vir Nederlands in Amerika beskou is.

In Suid-Afrika was daar te veel sprekers van ander tale wat hulle aan Nederlands gewaag het, met 'n beperkte aanleerwoordeskat wat in baie gevalle tot Nederlandse woordstamme beperk was, en gebruik is deur die Khoi-Khoi, slawe, Hugenote, en besoekers wat 'n wye verskeidenheid ander tale gepraat het, waaronder ook Europese tale, en wat nooit 'n hoë graad van Nederlandsvaardigheid bereik het nie. Afrikaans kon al vroeg van Nederlands onderskei word.

6.2.2 Status

Die waarneming dat Afrikaans anders gelyk het as Nederlands, het ook 'n statusoordeel ingehou. Vanuit 'n Nederlandsgeoriënteerde oogpunt is Afrikaans soms beskou as 'n "deviant, corrupt or basterdized form of Dutch" (Roberge 1994:155). Davids praat van "spoken Afrikaans or creolised Dutch" (Davids 2011:91). Alles wat nie duidelik Nederlands kon wees nie, het te kort geskiet. Die Kaapse amptenarekorps wat uit die buiteland gekom het, en in die eerste eeu van die kolonie bestuursposisies gevul het, het neergekyk op die Kapenaars: "if ever I have seen a trifle of pre-eminence in a man, woman or child ... they were not natives of this place", haal Schoeman (2014:253) 'n opinie in dié verband aan. Teen Kaapsgebore amptenare is daar op verskeie gronde gediskrimineer, oor hulle swak opleiding, maar ook omrede hulle taal, merk Schoeman verder op.

Verkeerde Nederlands het gebore Kapenaars al vroeg gemerk. Hendrik Persoon, wat aan die Kaap gebore is, vermeld Raidt (1976:150), het byvoorbeeld in Nederland gaan studeer, later bekend geword as 'n plantkundige, en vertel (1775) hoe hy geterg is oor sy Kaapse taal, as verkeerde Nederlands.

Op grond van sosiale oorwegings is daar al vroeg aan die Kaap verskeie sprekersgroepe gevorm (Schoeman 2014). Hulle taalgebruik was een van die veranderlikes wat hulle groepsidentiteit bepaal het. Dié sosiale differensiasie is later in die binneland voortgesit (Du Plessis 2013:445). In vergelyking met Engels het Afrikaans min status geniet. Steyn (2014:28) vermeld die geval van 'n ouerpaar wie se dogter in Wellington op skool was, en 'n Afrikaanse woord in haar brief gebruik het. "She is starting to use Cape Dutch at Wellington", het die ma ontsteld opgemerk, en wou haar dadelik laat terugkom.

Dié siening dat Afrikaans 'n taal was wat aan waardigheid ontbreek het, het tot in die twintigste eeu 'n rol gespeel in houdings oor Afrikaans en besluite wat daaroor geneem is. Mense met anti-Afrikaanse gesindhede, het hulle nie net van Afrikaans gedisassosieer nie, maar het die taal ook goed laat deurloop. Steyn (2014:53) wys op karakteriserings van Afrikaans soos 'n "mongrel language", wat gedurende die Anglo-Boereoorlog gebruik is. In die Kaap, skryf De Waal (Steyn 2014:53), het Afrikaanssprekendes teen die eeuewending ook geïntimideer gevoel as hulle Afrikaans in treine of op trems gebruik het.

Steyn (2014:31, 35) vermeld dat Du Toit, of Cachet (hy kon nie vasstel watter een nie), in 1881 met President Paul Kruger, M. W. Pretorius en Piet Joubert vergader om te hoor of GRA-Afrikaans, wat in die ZAR goed bekend was, nie daar as ampstaal gebruik kon word nie, in plaas van Nederlands. President Kruger was goed bewus van Afrikaans se gebrek aan status. In Nederland, in 1884, het hy van sy taal as "'n vorm van Hollands" gepraat (Steyn 2014:32). Sy Afrikaans kon hy (gedeeltelik) na Nederlands toe aanpas, wanneer dit moes. Wat die versoek dat Afrikaans ampstaal gemaak word, betref? Die president het nie blyke gegee dat hy onsimpatiek daarteenoor gestaan het nie, maar hy wou sien dat so 'n voorstel uit die volk se geledere moes kom. 'n Antwoord wat van meer taktvolheid getuig as die reaksie van die ma van Wellington. Van die opvolgwerk daarvoor, het daar dadels gekom.

6.3 Kan Afrikaans nie maar Afrikaans genoem word nie?

6.3.1 Watter taal?

Die naam Afrikaans is al sedert 1875 gevestig. Hoekom sou taalhistorici name soos Afrikaans-Nederlands vir vroeë taalvorms gebruik, in plaas van Afrikaans? Dit is moontlik om die sprekers in 'n taalkontaksituasie, en die naam van die taal wat hulle gebruik, uitmekaar te hou. Die titel van Davids (2011) se boek: The Afrikaans of the Cape Muslims, illustreer dat dit kan gebeur.

Het daar ooit 'n taal bestaan soos Kaaps-Hollands? Vandag is dit duidelik dat wanneer Kaaps-Hollands gebruik word, en ander soortgelyke taalnaamsamestellings, dit verwys na die wye spektrum ineengeskakelde variëteite van die taal Afrikaans, wat deur gedeelde grammatikakenmerke met mekaar verband hou. Kotzé (2014:639) maak melding daarvan dat die naam Afrikaans ook 'n taalspesifieke kultuur simboliseer "waardeur daar 'n verband gelê word tussen die sprekers en 'n Afrika-gebaseerde taalvorm". Niks verhoed taalhistorici om by terugblik daardie variëteite van Afrikaans so te noem nie. Was Afrikaanse taalhistorici nie lank genoeg met fiktiewe taalname soos Maleis-Portugees opgesaal nie?

Duidelike verwysings na vroeë Afrikaans word gekompliseer met die vervlegting van 'n taalnaam soos Hollands daarmee. Steyn (2014b:35) ontrafel die betekenis van Hollands soos dit aan die einde van die negentiende eeu gebruik is: "Hollands in Transvaal en die Vrystaat het in die praktyk die geskrewe Hollands van Afrikaners en Hollanders, gesproke Hollands van Hollanders én gesproke Afrikaans ingesluit. Hollands was in praktyk dus Afrikaans plus Nederlands". 'n Verwarrende situasie. Kon mens nie doodgewoon van Afrikaans gepraat het waar dit ter sprake was nie?

Die naam Hollands sluit sowel Afrikaans in as Nederlands, het "Afrikanerpolitici en taalstryders" (Steyn 2014b:44) in 1909 besluit, as 'n kompromis om sowel die voorstanders van Nederlands as die voorstanders van Afrikaans tevrede te stel. Agter hierdie kompromisgebruik van die naam Hollands skuil daar 'n stuk taalpolitiek, wat nie na 'n taal verwys nie. As Langenhoven sê dat "Afrikaans-Hollands as medium gebruik" moet word op skool, maak hy van 'n politieke skepping 'n (onderwys)taal, wat nie bestaan het nie.

Taalhistorici, opvoeders, koerantredakteurs en teoloë was onder die mense wat in Afrikaans se wordingstyd dié politieke jargon oorgeneem het, en weggeskram het van die naam Afrikaans, lank na die GRA-tyd. Vandag weet taalhistorici genoeg van die omstandighede waaronder Afrikaans gebruik is, en hóé Afrikaans gelyk het, om sy vroeë vorms Afrikaans te noem.

6.3.2 Diglossie

Die suksesvolle skrywer aan die einde van die negentiende, en begin van die twintigste eeu, D'Arbez (Steyn wys daarop dat sy skuilnaam die omgekeerde van Zebra is), sê byvoorbeeld dat hy in "eenvoudige Hoog-Hollands" skryf, wat Afrikaanssprekendes ook kon verstaan, en dat dit die taal is van "die meeste van ons mense" (Steyn 2014:33). Hierdie uitspraak bevat onduidelikhede, maar dit was heel waarskynlik goeie verkoopspolitiek. In watter taal skryf hy? Die taal waarin Afrikaanssprekendes vanselfsprekend die beste tuis was, was Afrikaans. D'Arbez se dialoë (Steyn 2014:33-34) is juis in Afrikaans geskryf. En sy "eenvoudige Hoog-Hollands"? Niks anders as verdeftigde Afrikaans nie, wat genoeg Afrikaanssprekendes in die diglossiesituasie van daardie tyd ook enigsins kon beheer.

Alle Afrikaanssprekendes kon nie maklik oorslaan na Nederlands toe nie. Generaal de Wet het sy Afrikaans byvoorbeeld moeilik met Nederlands afgewissel. Sy boek De strijd tusschen Boer en Brit van 1902 is in "geradbraakte Hollands" geskryf (Steyn 2014:72), en Kestell het die taal tot 'n "suiwerder" Nederlands verbeter. Danie Theron weer, kon Nederlands naas Afrikaans beheer, en het met groter gemak tussen die twee tale gewissel, soos uit 'n telegram blyk waaroor Steyn skryf (Steyn 2014:51).

6.4 Standaardtaal: 'n Elitolek?

Standaardafrikaans is 'n kode wat vir 'n sprekersboklas gemaak is om die variëteite van Afrikaans se funksie- en korpustekortkominge aan te vul. Kotzé (2014:644) verwys na Standaardafrikaans as 'n "kunsmatige taalvorm", en noem dit ook 'n "prestige vorm". 'n Groot persentasie van Afrikaans se sprekers het nie gedeel aan die ingrypende mensewerk, die vernederlandsing daarvan, wat aan die begin van die twintigste eeu, binne 'n betreklike kort tydjie, aan Afrikaans gedoen is nie, en kon Afrikaans nie vir die nuwe moontlikhede wat toe na vore gekom het, gebruik nie.

Is Standaardafrikaans 'n variëteit van Afrikaans, soos die ander variëteite? Heel waarskynlik nie. Standaardafrikaans is 'n byna gesigslose taalvorm, wat maar min spontaan gebruik word. Júís anders as wat dit die geval is met die variëteite van Afrikaans. Is Standaardafrikaans nie eerder 'n elitolek nie?

6.5 Is Afrikaans anders gemaak?

Die taal van koloniste kan in nedersettingsgebiede naas 'n wye spektrum ander tale gehoor word. Sprekers wat nie die administrasietaal van die immigrante ken nie, begin dan met taalaanpassings, en maak 'n verskeidenheid nuwe spreektale uit hulle eie tale, en elemente van die koloniale taal. Die nuwe taal kom op die ou einde nie by die doelwittaal uit nie, en word in 'n diglossiesituasie naas die sprekers se eie tale gebruik. Daarna kan taalmakers skryftale daarvan maak. Hulle staan voor die keuse om die skryftaal nader aan die koloniale taal te normeer, of om die nuwe aanleerderstaal, in 'n "van-onder-af-taalmaakproses", te vestig. Die geskiedenis van Afrikaans wys op die uitvoering van beide hierdie moontlikhede: vernederlandsing, en 'n "skryf-soos-ons-praat-poging".

'n Vergelyking van die verskriftelikingsgevalle van Afrikaans, en die gevolge daarvan, met die lotgevalle van tale in ander nedersettingsgebiede, bring interessante vrae na vore: bevestig die geskiedenis van Afrikaans, en van ander nedersettingstale, prosesse van 'n taalevolusionistiese aard? Het vroëe Nederlands byvoorbeeld vanself verander in een of meer van die Afrikaanse dialekte? Getuienis wat sulke veranderings ondersteun, ontbreek.

Verder is dit opmerklik hoeveel elemente uit Oosterse en Afrikatale, asook tale wat as Germaans geëtiketteer word, deel uitmaak van die verskillende soorte Afrikaans.Taalfamilievoorstellings daarvoor, volgens taalgenealogiese uitgangspunte, sal heel waarskynlik met vrug herbedink kan word.

 

7. ONS GAAN 'N TAAL MAAK: EVALUERING

Steyn se boek gaan oor meer as net die maak van 'n eerste skryftaal, en omvat baie meer as net vyftig jaar van Afrikaans se geskiedenis. Hy toon aan dat die omvattende kultuurmaakproses wat met die taalmaakplanne vir Afrikaans vervleg was, 'n aanduiding was van Afrikaanssprekendes wat besig was om hulle op 'n verskeidenheid maniere in Suid-Afrika te vestig. Hy wys hoe hulle deur Afrikaans toenemend die vreugde van skep en skryf ontdek het, in 'n taalvorm waarmee hulle al hoe meer geïdentifiseer het, hoe die kultuurmaakproses deur vernederlandsing met rasse skrede vooruitgang gemaak het, en wat daarna met Afrikaans gebeur het.

Ons gaan ʼn taal maak wys op die indrukwekkende letterkunde wat in geskrewe Afrikaans tot stand gekom het, maak melding van die eerste Afrikaanse Bybel van 1933 wat 'n "blitsverkoper" was, vertel van geliefde tydskrifte en koerante in Afrikaans, van die FAK Volksangbundel; die begin van die "Groot Woordeboek", en uitsonderlike Afrikaanse woordeboekprojekte, van die Afrikaanse radio se "goue kwarteeu", besondere toneel- en wetenskapprestasies in Afrikaans, en wys hoe naarstiglik Afrikaanssprekendes aan moedertaalonderwys vasgehou het. Daarin word ook aangedui dat Afrikaans gebruik is as die draer van Afrikanernasionalisme.

Die skrywer deel die produkte van Afrikaans se taalmaakperiode, soms nostalgies, met sy lesers, as hy hulle op 'n reis deur die sowat 200 foto's in die boek neem. Ons gaan ʼn taal maak bied nie net geleentheid vir 'n beter verstaan van Afrikaans se geskiedenis nie, maar ook vir indringende nadink daaroor.

Watter ingrepe in die bestaan van Afrikaans het dié taal die meeste geraak? In hoofstuk 15 vertel Steyn in besonderhede van die politieke "oorgangstydperk" (2014:419-439). Die taalartikel in die oorgangsgrondwet van 1993, en die taalklousule van die 1996-Grondwet, wat as bylaes A en B in Ons gaan 'n taal maak ingesluit is (Steyn 2014:526-7), wys op 'n interessante verskil tussen die twee dokumente. Die tweede punt van die 1993-taalklousule vermeld dat: "Regte met betrekking tot taal en die status van tale wat by die inwerkingtreding van hierdie Grondwet bestaan, word nie ingekort nie ..." Hierdie gedeelte kom nie in die finale taalklousule van 1996 voor nie. 'n Taal word nie net gemaak nie, maar kan ook kwesbaar gemaak word.

Hoe lyk Steyn se boek? Die boekmaakwerk is góéd gedoen, waarvoor die uitgewers erkenning moet kry. Om lees nóg te vergemaklik, is kassies wat aandag trek, gebruik, die bladsye is in twee kolomme verdeel, endnotas wat die teks afrond, kom voor, drie belangrike bylaes oor taalwetgewing is opgeneem, en 'n bruikbare bronnelys, persoonsregister en saakregister is ingesluit. Enkele gevalle kom voor wat die proefleser se aandag ontglip het.

Ons gaan ʼn taal maak, is 'n naslaanboek met waardevolle wetenswaardighede oor Afrikaans, wat maklik prikkelende langer lekkerleesstukke word. Dié boek is 'n kleinood, 'n boek oor prestasies, van herinneringe, en vir lees en deel en bewaar.

 

BIBLIOGRAFIE

Belcher, R. 1987. Afrikaans en kommunikasie oor die kleurgrens. In Du Plessis, H. en T. du Plessis (reds.). Afrikaans en taalpolitiek. Pretoria: HAUM, pp.17-36.         [ Links ]

Coetzer, P. P. J. 1889. Gebeurtenisse uit di Kaffer-oorloge fan 1834, 1835, 1846, 1850 tot 1853. Faksimilee herdruk, 1963. Kaapstad: Struik.         [ Links ]

Cussons, S. 1979. Gebed van die loot aan die wynstok, in Die sagte sprong. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Davids, A. 2011. (Geredigeer deur Willemse, H. en S. E. Dangor). The Afrikaans of the Cape Muslims. Pretoria: Protea.         [ Links ]

Den Besten, H. 1985. Double negation and the genesis of Afrikaans. In Muysken, P. en N. Smith (eds). Substrata Versus Universals in Creole Genesis [Creole Language Library 1]). Amsterdam: John Benjamins, pp.185-230.         [ Links ]

Den Besten, H., 1987. Het Afrikaans: Mag het ietsje meer Zuid-Afrika zijn, Onze Taal 56(2/3): 24-25.         [ Links ]

Den Besten, H. 2012. Double negation and the genesis of Afrikaans. In Van der Wouden, T (red.). Roots of Afrikaans. Selected writings of Hans den Besten. Amsterdam & Philadelphia: Benjamins, pp. 221-256.         [ Links ]

Du Plessis, H. 1987. Aspekte van Suidwes-Afrikaans met spesiale verwysing na die Afrikaans van die Van der Merwes. Ongepubliseerde verslag van 'n Navorsingsprojek ondersteun deur 'n Groter Toekenning van die RGN.         [ Links ]

Du Plessis, H. 1995. Variasietaalkunde. Pretoria: Kagiso.         [ Links ]

Du Plessis, H. 2013. Die Groot Trek 175: Storie of historie? Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 53(3):437-451.         [ Links ]

Du Plessis, L.T. 1986. Afrikaans in beweging. Bloemfontein: Patmos.         [ Links ]

Du Toit, S. J. 1902. Fergelijkende Taalkunde fan Afrikaans en Engels. Paarl: D. F. du Toit.         [ Links ]

Elffers, H. 1898. An elementary grammar of the Dutch Language. Cape Town: Juta.         [ Links ]

Elffers, H. 1908. The Englishman's Guide to the speedy and easy acquirement of Cape Dutch for the use of Travellers, Settlers and Military Men. Cape Town: Juta.         [ Links ]

Feinauer, I. 1994. Die plasing van nie-1 en nie-2 in die Afrikaanse spreektaal. South African Journal of Linguistics 19:92-119.         [ Links ]

Franken, 1953. Taalhistoriese bydraes. Kaapstad: Balkema.         [ Links ]

Giliomee, H. 2012. Afrikanernasionalisme, 1875-1899. In Pretorius, F. (red.). Geskiedenis van Suid-Afrika. Van voortye tot vandag. Kaapstad: Tafelberg, pp. 219-234.         [ Links ]

Grobler, J. 2012. Staatsvorming en stryd, 1850 - 1900. In Pretorius, F. (red.). Geskiedenis van Suid-Afrika. Van voortye tot vandag. Kaapstad: Tafelberg, pp. 153-182.         [ Links ]

Haacke, W.H.G. en E. Eiseb. 2002. A Khoekhoegowab Dictionary with an English-Khoekhoegowab Index. Windhoek: GamsbergMacmillan.         [ Links ]

Hoogenhout, C. P. 1879. Eerste Afrikaanse Printjies Boeki ver soet Kinders. Faksimile-weergawe, versorg deur I. S. J. Venter, 1975. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

Kotzé, E. 2012. Boekbespreking: The Afrikaans of the Cape Muslims. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 52(3):474-479.         [ Links ]

Kotzé, E. 2014. Afrikaans as besitting, en die vraagstuk van herstandaardisering. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 54(4):635-655.         [ Links ]

Nienaber, G. S. 1940. Klaas Waarzegger se Zamenspraak en brieve uit 1861. Johannesburg: Voortrekkerpers.         [ Links ]

Nienaber, G. S. 1963. Hottentots. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Nienaber, G. S. 1965. Iets naders oor die ontkenning in Afrikaans. In P. J. Nienaber (red.). Taalkundige Opstelle. Kaapstad: A. A. Balkema, pp. 22-38.         [ Links ]

Nienaber, G. S. 19712. Afrikaans in die vroeër jare. Johannesburg: Voortrekkerpers.         [ Links ]

Nienaber, G.S. 1994. Na 60 jaar weer nie-2. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Taalkunde, 21:68-149.         [ Links ]

Nienaber, P. J. 1940. Jan Lion Cachet met sy sewe duiwels. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Nienaber, P. J. 1974. Notules van die Genootskap van Regte Afrikaners 1875-1878. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Nobels, J. 2013. (Extra)Ordinary letters. A view from below on seventeenth-century Dutch. Utrecht. LOT.         [ Links ]

Noordegraaf, J. 2008. Nederlands in Noord-Amerika. Over de studie van het Leeg Duits (LowDutch)'. Trefwoord, tijdschrift voor lexicografie:1-29. (http://www.fryske-akademy.nl/trefwoord).         [ Links ]

Noordegraaf, J. 2010. 'Waar komt Leeg Duits vandaan?'. Trefwoord, tijdschrift voor lexicografie, juni, 1-10. (http://www.fryske-akademy.nl/fa/uitgaven/trefwoord).         [ Links ]

Noordegraaf, J. 2014. Koloniaal Nederlands in verandering. Afrikaans versus Amerikaans Leeg Duits. Neerlandica Wratislaviensia (Acta Universitatis Wratislaviensis 361), 24:67-91.         [ Links ]

Odendaal, G. 2014. Moet Afrikaans geherstandaardiseer word? Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 54(4):656-674.         [ Links ]

Odendaal, B. 2014. Omgangsafrikaans in digkuns. Voordrag tydens die seminaar oor Omgangsafrikaans in digkuns, NWU, Potchefstroom-Kampus, 27 September 2014.         [ Links ]

Ponelis, F. 1968. Grondtrekke van die Afrikaanse Sintaksis. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Ponelis, F. 1979. Afrikaanse Sintaksis. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Ponelis, F. 1987. Die eenheid van die Afrikaanse taalgemeenskap. In Du Plessis, H., & T. du Plessis, (reds.). 1987. Afrikaans en Taalpolitiek. Pretoria: HAUM. pp.3-16.         [ Links ]

Ponelis, F. 1992. Standaardafrikaans in oorgang. In Webb (red.). Afrikaans na Apartheid. Pretoria: Van Schaik, pp.70-89.         [ Links ]

Ponelis, F. 1993. The development of Afrikaans. Frankfurt am Main: Peter Lang.         [ Links ]

Postma, W. 1912. Afrikaans. Die ontstaan daarvan. Die Brandwag. 15 Februarie: pp. 593-596.         [ Links ]

Raper, P. E., L. A. Möller, L. T. du Plessis. 2014. Dictionary of Southern African placenames. Johannesburg: Jonathan Ball.         [ Links ]

Raidt, E. 1976. Afrikaans en sy Europese verlede. Kaapstad: Nasou.         [ Links ]

Roberge, P. 1994. On detecting a prior linguistic continuum in Cape Dutch. In Olivier, G. & A. Coetzee (reds.). Nuwe perspektiewe op die geskiedenis van Afrikaans. Halfweghuis: Sigma Pers, pp. 153-165.         [ Links ]

Roberge, P. 2003. Afrikaans. In A. Deumert en W. Vandenbussche (eds). Germanic standardizations: Past to present. Amsterdam: John Benjamins, pp.15-40.         [ Links ]

Scholtz, J. du P. 1965/1981. Taalhistoriese opstelle. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Schoeman, K. 2014. Hoogty. Die opbloei van ʼn koloniale kultuur aan die Kaap. Pretoria: Protea.         [ Links ]

Spellingkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir taal, lettere en kuns. 1930. Afrikaanse Woordelys en Spelreëls. Kaapstad: Nasionale Pers.         [ Links ]

Stell, G. 2007. From Kitaab-Hollandsch to Kitaab-Afrikaans: The evolution of a non-white literary variety at the Cape (1856-1940). Stellenbosch Papers in Linguistics, 37, 89-127 doi: 10.5774/37-0-16.         [ Links ]

Steyn, J. C. 1980. Tuiste in eie taal. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Steyn, J. C. 2014. Ons gaan 'n taal maak. Afrikaans sedert die Patriot-jare. Centurion: Kraal uitgewers.         [ Links ]

Steyn, J. C. 2014b. Nederlandstaliges se bydrae tot die behoud en erkenning van Afrikaans 1870-1920. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 54(3):425-445.         [ Links ]

Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir wetenskap en kuns. 2009. Afrikaanse Woordelys en Spelreëls. Kaapstad: Pharos.         [ Links ]

Uys, M. 1983. Die vernederlandsing van Afrikaans. D.Litt.-proefskrif. Pretoria. Universiteit van Pretoria.         [ Links ]

Van Rensburg, C. 1983. Nie-standaardvorme, variasiepatrone en Afrikaans uit die vorige eeu. In G. N. Claassen & M. C. J. van Rensburg (reds). Taalverskeidenheid. Pretoria:Academica, pp.134-161.         [ Links ]

Van Rensburg, C. 1984. Die Afrikaans van die Griekwas van die negentigerjare. Ongepubliseerde verslag van 'n Navorsingsprojek ondersteun deur 'n Groter Toekenning van die RGN.         [ Links ]

Van Rensburg, C. 2012. Twee betekenisvolle momente in die geskiedenis van Kaaps. Kongresreferate: Kaaps-kongres. UWK.         [ Links ]

Van Rensburg, C. 2013. 'n Perspektief op 'n periode van kontak tussen Khoi en Afrikaans. Literator, 34(2):6-16 doi: 10.4102/lit.v34i2.413.         [ Links ]

Van Rijn, C. J. 1914. Het zeer nauwe verband tussen het Afrikaans en het Nederlands. Kaapstad. Cyrus J. Martin.         [ Links ]

Woordelys-komitee van die Suid-Afrikaanse Akademie vir taal, lettere en kuns. 1921. Afrikaanse Woordelys en Spelreëls. Bloemfontein: De Nationale Pers.         [ Links ]

 

 

 

Christo Van Rensburg stel baie belang in Afrikaans se variëteite, wat hy in verband bring met herkoms- en beskrywingsvraagstukke van Afrikaans. Hy het sy akademiese loopbaan by die Afrikaanse Departement van die Universiteit van Pretoria begin, waar hy nou geskakel het met die Afrikaanse Taalatlas, en hy het ook aan die Universiteit van Marburg, waar die Duitse Taalatlas gemaak word, studeer. Later was hy aan die Universiteit van die Oranje Vrystaat verbonde, waar hy verskeie navorsingsprojekte uitgevoer het, onder andere oor die Afrikaans van die Griekwas, en oor vroeë Transvaalse Afrikaans. Hy was lank lid van die Taalkommissie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, en werk tans aan verskeie aspekte van vroeë Afrikaans. In 2012 is sy jongste boek gepubliseer: So kry ons Afrikaans.
Christo Van Rensburg is very interested in the varieties of Afrikaans, which he links to questions regarding the origins and descriptions of Afrikaans. He started his academic career in the Afrikaans Department of the University of Pretoria, where he had close links with the Afrikaans Language Atlas, and he also studied at the University of Marburg, home of the German Language Atlas. Later on, he joined the University of the Free State, where he carried out quite a number of research projects, inter alia on Griqua Afrikaans, and also concerning early Transvaal Afrikaans. He served as a member of the Language Commission of the SA Academy for Science and Arts, and he is currently working on various aspects of early Afrikaans. In 2012 his latest book was published, entitled So kry ons Afrikaans ("And that is how we got Afrikaans").

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License