SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.55 issue2Differensiasie: Die basis van samelewingsvryhede author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.55 n.2 Pretoria Jun. 2015

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2015/V55N2A6 

Huldigingsgedigte vir T.T. Cloete op 91

 

 

Epifanie

Vir die digter
van die jukstaposisie

Huise uit sandsteen geweef
nes tapyte uit sywurms gegis
soos wyn uit druif gekap,
vir weef, kap of gisting
tot 'n unieke klein gedig:

immers meer poësie
in 'n sneeuvlok,
in die huis snags
as die strofe bedags;

meer te wroeg
oor die dood
en Marilyn Monroe
as oor lewensbrood;

rympatrone gevind
in die ontoelaatbare,
die ongesegde,
met stilte gerinkink.

In die huis van die digkuns
was daar vele wonings:
Huise uit sandsteen gegis
nes tapyte uit sywurms gekap
soos wyn uit druif geweef ...

dié digter, 'n allotroop
stap jambies
ligvoets
eenkant
onversadig
verby.

  • Joan Hambidge

salle des pas perdus

woorden gonzen in een kooi van faraday
er dansen bijen in mijn hoofd
de rust verstoord na jaren lethargie

een enkel woord waarin de zin
besloten ligt komt vrij
kortgesloten in een bliksemschicht

ontsnapt, uit het witte licht gesneden
een treffen in voorheen het niemandsland
het limbo wordt verlaten

  • Gerard Scharn

tt

Theunis,
toe ek verneem dat Anna, jou vrou,
sóveel jare lank jou lewensmaat,
nou sewe jaar reeds van jou weg is,
het meegevoel my om woorde gevra.
Aldus hierdie vers.

Rosalie, my lewensgesél, en ek is vanjaar
vier-en-veertig somers en winters in die eg,
en ek wroeg met die gedagte:
sou dinge vir ons soos met jou gebeur,
hóé sal ek die koste
van die bedroewende lang ure en dae
van 'n toekoms sonder Rosalie
besleg?

Dus, tt, laat my sê
- ek doen so met piëteit -
dat ek my íngedink het in jou pyn
en glo dat, ter berusting, God Sy
Lig van Liefde versagtend oor jou
helder sal laat skyn,
en met volledigheid rondom jou
úit sal straal,
en jou hartseer sal verhaal,
en jou geheel omvou.

  • Adam Small

 

 

 

the last sitting: marilyn monroe in litografie

vir ttc
"I saw what I wanted, I pressed the button, and she was mine.
It was the last picture." (Bert Stern)

wat bly behoue van die allerlaaste nag van roem?
in die donkerkamer van my fotoverbeelding
soek die perfekte moment mý vir 'n laaste sitting
buite beur die skeurende wind woedend teen die nag
maar hier binne hier binne is dit droomstil
marilyn vly haar lyf op die honger bed
- 'n middernagson kom op -
sjampanjeborrels verstrik in die hare
pêrels gewigloos gesuspendeer bo die litosfeer
die tingelende geklink van suiwer wit klank
weerlig van die stroboskoop wat terugstuit
in 'n opslagskoot kyk sy reg deur die lens
die sluiter sluit dig
I am become your veil and I am all you see
in 'n miljoenste van 'n miljardste van 'n sekonde
verskyn en verdwyn die ware marilyn
'n bosonblits in my towerlanternflits
oerknal in die doodstil baarmoer van die oneindige

soos aan die allerbegin
net die godsverb(l)inding blý

(4 Julie 2012)

  • Tom Gouws

Reitzstraat, Potchefstroom

vir TTC

Sommige somers, as jy jou blou Valiant pak
en see toe verkas met jou Anna en kroos,
het ek 'n oog oor jou tuin moes hou teen
verdroging en vir ingeval: 'n Jong tuin is broos
as reën wegbly in Desember. Van oorkant die straat
het ek, toe nog 'n skolier, gesien hoe jy perke laat spit,
buitelyne beplan en beddings vul met struike: vir lower
vir blom vir geur; gesien hoe jy rankers voorlopig stut
met riet. Gaandeweg het ek patrone begin snap:
dat sipresse net in pare alleenheid oorleef; dat die pom-pom
van 'n blomperske net uit kaal takke kartetse kleur
kan skiet; dat die lente, benewens in die kweper, ook blom
in die dweperige pers van die yl tamarisk. In dié tuin
het ek begryp hoe vingers groen kan vroetel,
hoe oog en oor en neus die taal van tuin kan lees.
Na jou voorbeeld het ek groenigheid begin troetel
en algaande woord vir woord aan die groei gekry,
later selfs ryme jasmyn lelie iris roos aangelê, my verloor
in kwatryne. Sedertdien swymel ek steeds oor die boeket
van tuine en die toorkrag van 'n rymende eindkoeplet.

  • Johan Myburg

ttc

I used to think about meaning a lot - Brian Cox

hy is lewenslank
in huisarres in sy dorpshuis
tog reis verder as al die spoetniks
trap op wyer geleë planete as armstrong

hy het klaar die godpartikel gesplyt
sweef materieloos sonder swaartekrag
ingedagte

hy ken die paringsdans van die kolibrie
koko se gebaretaal
die pronk van die springbok
die oerknal en die dinosourusse

blaai saam met revius en calvyn
deur milton greene
was immers gheselscap goet ende fijn

alleen op brood en stroop
kan ook hy slu skuiwer
die Syn in skaakmat sit

  • Marius Crous

Woordensvol

Vol glas, vol emmer, vol skottel, vol dam:
daar is iets welbehaagliks in vol wees,
in die vermoë om gevul te word -
'n houer, bereidwillig en gedeë.
Vol mond, vol oë, vol ore, vol hart:
randvol aangevly deur soepelhede
wat kontoere vul maar ook bly uitdy
tot iets ongrypbaar gans en alles is.

Die mens se stem gebruik 'n melodie
wat enkelvoudig, enkellynig bly:
mens praat nie in akkoorde nie, nooit nie,
jy ryg jou stem se note een vir een.
Jy knoop jou pen se enkel lyn ook so,
steeds enkelvoudig tot daar letters vorm,
een vir een, tot uit die dun lyn reekse
tekens groei: woorde, sinne, boeke vol.

Die stuifmeel en die vrugbeginsel is
met 'n haardun draad verbind, die spinweb
en die spinnekop se pens vol sy deur
enkeldrade ingewikkeld saamgeknoop.
Daar is ylheid, enkelhede; daar is
die eindelose moontlikheid van vol:
van breed en lank, van reik na hoog en diep,
van weet, van voel, van dink en kan onthou.

Ek hoor die sneeuvlok val en smelt, bergaf
sypel, in die rivier oor vlaktes vloei,
deur al die ou en nuwe stede reis
tot in die see, om hier, hier reg voor my,
met die deining hoog te styg, te hang,
dan met die golf geweldig oor te stort:
die woord wat bruisend in die branding staan,
reik uit en vul my weids en bodemloos.

  • Heilna du Plooy

Plaasmiddag, Vredefort-distrik

vir T. T. Cloete

Die namiddag loop voller, &,
afgemeet in jambes
van die staanhorlosie, vol.
Die ver vaal heuwelriwwe drywe
bo die uitgewaste bekken.

Rooitong in die skadu
van 'n lukwart lê die hond stertstil.
'n Pietswind swiep verby & strooi
die sterredons van sade
& laat die plaasdam ligweg frons.

  • Johann de Lange

raar maak waar

aan ttc op 91

waarneem maak kwarke waar
en leptone
wat niks en nêrens was iets hier of daar

donkerver sterre sterspirale sterrestelseltrosse ontketen glans en al

'n lig-

palimpses

wanneer 'n ruimteteleskoop se prakseerpupil
skoon staar
van nou tot toet
op toet

doofpotstil
is beethoven sonder sy gehoor
in konsertsale sy polifone
geluid elektrochemies onbewoë tot vol gemoed
die lied van riete gebroke ruiswind faal
sonder luister
sonder gerugmaak in 'n gedig

tree liefde nie uit ons in die bres
nie word gemis nie geheel nie tot paar gesin gemeenskap nie getransendeer nie die uitsoekroos
word oën-skynlik eers iets wonderskoons
moet hom sy welriekendheid aan 'n neus getroos

bly godpartikels wiskundig onvermoed
dan word die knal van krag tot dinge nie gekloon
nie in 'n megaversnellertonnel gesimuleer nie
sonder ons modelle raak ons dalk 'n multiversum byster

aldagwonders word gewaar
in rare lewens van somtyds neëntig jaar

  • Bernard Odendaal

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License