SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.55 número2"Die huid huil luid in stilhuil" [The epidermis cries loudly in still crying] - tracking (sound) repetition in T.T. Cloete's poetryThe South African Navy's so-called controversial new frigates: Their first decade of service, 2004-2014 índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.55 no.2 Pretoria jun. 2015

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2015/V55N2A7 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS

 

Aan die en besig in Afrikaanse progressiwiteits-konstruksies: 'n korpusondersoek (2)

 

Aan die and besig in Afrikaans progressive construction: A corpus investigation (2)

 

 

Adri BreedI; Gerhard van HuyssteenII

IVakgroep: Afrikaans en Nederlands Skool vir Tale, Potchefstroomkampus Noordwes-Universiteit E-pos: adri.breed@nwu.ac.za
IISentrum vir Tekstegnologie (CTexT) Potchefstroomkampus, Noordwes-Universiteit E-pos: gerhard.vanhuyssteen@nwu.ac.za

 

 


OPSOMMING

In 'n tweetal artikels (hierdie artikel en Breed & Van Huyssteen 2014) stel ons ondersoek in na die wyse waarop twee perifrastiese konstruksies, te wete die VKOP besig om te V- en die VKOP aan die V-konstruksies, gebruik word om progressiewe betekenis in Afrikaans uit te druk. Die bespreking word gebaseer op 'n korpusondersoek waarin drie Afrikaanse perifrastiese progressiewe konstruksies (d.i. die twee genoemde konstruksies, sowel as die VPOS en V-konstruksie; sien Breed 2012 en Breed & Brisard 2015) met mekaar vergelyk is. Drie ewekniekonstruksies word in Nederlands gevind, en daarom word die konstruksies ook, waar ter sake, met die Nederlandse konstruksies vergelyk. In Breed (2012) word die grammatikaliseringsproses verduidelik, en daar word aangetoon dat die aan die-/aan het-konstruksies lokatiewe oorsprong het, terwyl die oorsprong van die besig-/bezig-konstruksies leksikaal gemotiveerd is. In hierdie artikel word die frekwensie van die twee konstruksies ondersoek en daar word bewys dat daar aansienlike verskille tussen die verspreiding van die Afrikaanse en Nederlandse konstruksies is. Die werkwoorde waarmee elk van die konstruksies prototipies kombineer, word bestudeer en daar word bevind dat die Afrikaanse besig-konstruksie met 'n groot aantal werkwoordtipes kan kombineer, terwyl die aan die-progressiefkonstruksie meer gespesialiseerd is.

Trefwoorde: aspek, imperfektief, progressief, perifrastiese konstruksie, grammatikali-sering, Afrikaans, Nederlands


ABSTRACT

Progressive aspect is a grammatical category which signifies that an event is continuing or taking place (Comrie 1976:33-36; Bybee et al. 1994:126). In two articles, this article and (Breed & Van Huyssteen 2014), we investigate the manner in which two periphrastic constructions, namely the VCOP besig om te V and the VCOP aan die V constructions, are used to express progressive meaning in Afrikaans. The discussions are based on a corpus investigation in which the three Afrikaans periphrastic progressive constructions (the two already mentioned) and the VPOS en V constructions are compared to each other (Breed 2012; Breed & Brisard 2015). Dutch has three similar constructions, and for this reason the constructions were also compared to the Dutch ones where relevant. Breed and Brisard (2015) explains how the VPOS en construction is used to express progressive meaning. In this article and in Breed and Van Huyssteen (2014) the focus is therefore on the specific manner in which the besig and aan die constructions are used as progressive markers. Grammaticalisation theory offers insight into the manner in which grammatical constructions develop. For this reason the origin, development and use of the two relevant periphrastic constructions were investigated from this perspective. Grammaticalisation can be described as the process of language change during which lexical constructions develop systematically into constructions with grammatical meaning. This process of language change is characterised by specific mechanisms or characteristics, for instance universal routes, unidirectional change, lexical origin, semantic generalisation, an increase in frequency and re-analysis (cf. Bybee et al. 1994:4-5; Croft 1990:257; Heine & Reh 1984:11-12; Hopper & Traugott 2003:1; Lehmann 1995:3). Breed and Van Huyssteen (2014) firstly explains the theory of grammaticalisation. The grammaticalisation of the Afrikaans auxiliary het is given as an example to illustrate specific relevant aspects of grammaticalisation, namely universal routes, unidirectionality, lexical source, semantic bleaching, frequency and reanalysis. Secondly this article explains how the aan die and besig periphrastic constructions originate and develop. One of the most general lexical origins for progressive constructions is constructions with locative meaning (Bybee et al. 1994:129). The motivation behind the development of a progressive from locative constructions is probably due to the connotation of "be in the place of VERBing" or "be at VERBing" (Bybee et al. 1994:129-130). The hypothesis offered by Bybee et al. (1994:131) is that, apart from a few exceptions, all progressive constructions develop from locative meaning. The aan die progressive is a construction of locative origin. The structure of the periphrastic construction can be divided into three parts: firstly, the introductory copulative verb, secondly the locative aan preposition and thirdly the nominalised verb which is preceded by the definite article die. [aan + die] has received unit status and forms the analysed construction of the periphrasis. The aan die progressive therefore supports the hypothesis that progressive constructions develop from locative meanings. The besig progressive's lexical origin differs from that of the aan die progressive, as well as from the VPOS en progressive (consult Breed 2012; Breed & Brisard 2015), due to the fact that this progressive construction does not have a locative origin. The word "besig" has a lexical meaning which implies that a subject is involved by means of a process which is continuing, and the development of this progressive construction is, therefore, lexically motivated. In this article, we investigate the frequency of these two constructions, as well as the verbs with which each of the constructions prototypically combine. The frequency of the two constructions was investigated in order to determine to what extent the constructions have been generalised. The aan die progressive (approximately 4,900 results in a corpus of circa 60 million words) appears significantly less frequently than the besig progressive (approximately 8,000 results). For the aan die construction a variant construction was also apparent, namely the aan 't progressive. This construction is, however, very scarce (only 330 results) and is seemingly archaic. Furthermore, it seems as though besig has been generalised to such an extent that the progressive use of this word (62%) in Afrikaans, is more frequent than the lexical use (38%). It seems as though the aan die construction forms strong collocations and has a few specialised uses, amongst others, to be combined with i) inchoative verbs (such as toeneem, afneem, taan and opbou); ii) idiomatic expressions such as aan die brand, aan die slaap andaan die rol; iii) process nouns such as aan die gang and aan die stuur, and iii) activity verbs. The aan 't progressive seems to be less specialised than the aandie progressive, although this construction is combined mainly with activity verbs. This construction is also generally found in contexts where a feeling of being "old-fashioned" or nostalgic is being conveyed, for example historical novels. The besig progressive combines with a great variety of verb types (i.e. activities, accomplishments and achievements). The frequency of transitive verbs with the besig progressive is also high in comparison to the other Afrikaans periphrastic progressive constructions.

Key words: aspect, imperfective, progressive, periphrastic construction, grammati-calisation, Afrikaans, Dutch


 

 

1. INLEIDING

In Afrikaans kan van drie perifrastiese konstruksies gebruik gemaak word om progressiewe betekenis uit te druk, te wete die is+aan+die/'t+V-konstruksie (vergelyk voorbeeldsinne (1) en (2)), die is+besig+om+te+V-konstruksie (waarvan sin (3) 'n voorbeeld is) en die Vpos+en+V-konstruksie (byvoorbeeld sinne (4) tot (6)).1

(1) Afr: Die storm was aan die afneem. 2

(2) Afr: Die mense is al aan't optrek eetkamer toe.

(3) Afr: Sy ma is besig om brood af te knie.

(4) Afr: Maja sit en kyk hoe hy swem en beny hom.

(5) Afr: Jy kan glad nie so in die donker kamer lê en muf nie!

(6) Afr: Sy bly staan en glimlag vir hom.

Hierdie artikel vorm deel van 'n tweetal artikels oor twee van die drie progressiwiteitskonstruksies in Afrikaans. In "Aan die en besig in Afrikaanse progressiwiteitskonstruksies: 'n grammatika-liseringsondersoek" (Breed & Van Huyssteen 2014) is ondersoek ingestel na die totstandkoming van die aan die- en besig-progressiewe; in hierdie artikel gaan ons die hedendaagse gebruik van hierdie konstruksies met mekaar vergelyk, en waar moontlik die Nederlandse eweknieë ook by die vergelyking betrek.

In Nederlands word drie soortgelyke konstruksies3 gebruik om progressiewe betekenis uit te druk. Vergelyk voorbeelde (7) tot (11). 4

(7) Ndl: Ik ben aan het eten, kom later maar weer terug.i

(8) Ndl: Wij moeten op dit punt meer doen, en ik ben bezig dat ook te verwezenlijken.ii

(9) Ndl: Ik zit gewoon mijn eigen kind uit te lachen.iii

(10) Ndl: Hallo, ik sta al een hele tijd te wachten, hoor.iv

(11) Ndl: Ik lig te dromen onder een boom.v

In Breed en Van Huyssteen (2014) is aangetoon dat die twee konstruksies deur 'n proses van grammatikalisering vanuit leksikale konstruksies ontwikkel het tot progressiewe konstruksies. Enkele relevante aspekte van grammatikalisering is aan die hand van die evolusie van die werkwoord het tot hulpwerkwoord van tyd bespreek, met die oog op die verheldering van die volgende begrippe: i) universele roetes; ii) eenrigtingroetes; iii) leksikale oorsprong; iv) semantiese verbleking; v) gebruiksfrekwensie; en vi) reanalise. Ten slotte is daar ook vanuit 'n grammatikali-seringsperspektief aangedui hoe die aan die- en besig-progressiewe tot stand gekom het. Aan die het ontwikkel vanuit 'n lokatiewe konstruksie, terwyl die adjektief besig tesame met die om te-infinitiefsmerker tot 'n aspektuele hulpwerkwoordstuk geöuksilieer het.

In hierdie artikel word 'n korpusondersoek gedoen om vanuit 'n grammatikaliseringsper-spektief te bepaal op watter spesifieke wyses die twee konstruksies as progressiewe merkers gebruik word. Daar word spesifiek gekyk na die twee konstruksies se i) frekwensie; ii) verhouding tussen aspektuele teenoor leksikale gebruik; en iii) werkwoordkollokasies.

Aangesien daar nog nie baie navorsing oor die Afrikaanse progressiewe konstruksies verskyn het nie, en aangesien daar reeds 'n aantal ondersoeke op die drie Nederlandse konstruksies uitgevoer is (hoofsaaklik dié van Booij 2003, 2004 en 2008; Geleyn & Colleman 2014; Lemmens 2003, 2005 en 2008; Mortier 2008; Van Pottelberghe 2002), is dit handig om resultate van die Afrikaanse konstruksies, waar moontlik en relevant, met die bestaande Nederlandse resultate te vergelyk. Só 'n vergelyking gee 'n aanduiding van die unieke en spesifieke wyses waarop die twee Afrikaanse konstruksies as progressiewe konstruksies gebruik word. Die Nederlandse konstruksies vorm dus 'n basis van vergelyking van waaruit verdere korpusondersoek gedoen kan word.

 

2. DIE KORPUS

Die Afrikaanse korpus wat in hierdie studie gebruik word, is die Taalkommissiekorpus (TK-korpus) van 2011, saamgestel deur die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (Taalkommissie 2011). Die doel van hierdie gestratifiseerde korpus is om 'n sinkroniese blik te bied op geskrewe Standaardafrikaans. Die korpus bestaan uit ongeveer 60 miljoen Afrikaanse woorde en is saamgestel uit 'n verskeidenheid geskrewe tekste, naamlik prosatekste (ongeveer 6 miljoen woorde), akademiese tekste (ongeveer 24 miljoen woorde) en nie-fiksie, nie-akademiese tekste, soos byvoorbeeld koerante, tydskrifte en boeke (ongeveer 27 miljoen woorde).

Die TK-korpus word gebruik vir hierdie ondersoek, aangesien die korpusse wat gebruik is in die onderskeie genoemde Nederlandse korpusondersoeke (naamlik dié van Booij 2003, 2004 en 2008; Geleyn & Colleman 2013; Lemmens 2003, 2005 en 2008; Mortier 2008; Van Pottelberghe 2002) hoofsaaklik blyk saamgestel te wees uit geskrewe Standaardnederlands. Hoewel die verskillende korpusse nie noodwendig volledig vergelykbaar is nie, sal 'n vergelyking met die TK-korpus steeds 'n aanduiding kan gee, of as 'n illustrasie kan dien van die wyse waarop die aan die- en besig-konstruksies ooreenstemmend of verskillend van mekaar, asook van die Nederlandse aan het- en bezig-konstruksies, gebruik word om progressiewe betekenis uit te druk.5

 

3. FREKWENSIE

In afdeling 2.1. van Breed en Van Huyssteen (2014) het ons aangetoon dat die frekwensie van 'n konstruksie dikwels korreleer met die mate waarin dit gegrammatikaliseerd is. 'n Logiese gevolg van 'n woord wat veralgemeen in betekenis, is dat sy gebruiksfrekwensie sal toeneem. Aangesien die grammatikaliserende konstruksie afstand doen van sy leksikale betekenis, kan die konstruksie in meer kontekste gebruik word as vantevore (vergelyk Hopper & Traugott 2003:126-130). Dit is dus sinvol om die frekwensies van die progressiewe konstruksies met mekaar te vergelyk, aangesien dit 'n eerste aanduiding gee van die mate waarin die konstruksies begin veralgemeen of spesialiseer het as aspektuele konstruksies.

Volgens die Nederlandse literatuur (vergelyk Booij 2004:98; Geleyn & Colleman 2014:62; Lemmens 2003) word die Nederlandse Vposte-progressief heelwat meer gebruik as die aan het-progressief. Geleyn & Colleman (2014:62) vind byvoorbeeld in hul koerantkorpus van ongeveer 6.5 miljoen woorde 181 resultate vir die bezig-progressief, 390 resultate vir die aan het-progressief en 666 resultate vir die Vposte-progressief. Hoewel die bezig-progressief wel in Nederlands gevind word, is dit 'n skaars konstruksie wat nie veel aandag in die literatuur geniet nie.6

'n Frekwensieondersoek is uitgevoer op die totale TK-korpus, en dit was duidelik dat die frekwensierangorde van die progressiewe konstruksies in Afrikaans verskil van dié van die Nederlandse konstruksies. Die besig-progressief is beduidend7 meer frekwent as beide die aan die- en die Vposen-progressiewe, maar ook die frekwensieverskil tussen die aan die- en Vpos en-progressiewe is beduidend8 groot. Vergelyk Tabel 1 en Figuur 1.

 

 

 

Vanweë die feit dat die Afrikaanse infinitiewe werkwoord nie morfologies gemerk word nie, is dit egter problematies om 'n lys van werkwoordkollokasies saam te stel vir die aan die-progressief. Dit is nie onmiddellik duidelik of sommige resultate met 'n hoë frekwensie, soos aan die brand, aan die slaap, aan die lewe, aan die werk en aan die stuur, in die lys van werkwoordkollokasies opgeneem behoort te word nie. Hierdie genoemde woorde is woordsoortlik meerfunksioneel (vergelyk Kempen 1969), aangesien dit as naamwoorde óf werkwoorde geïnterpreteer kan word. Boonop is hierdie genoemde konstruksies se gebruik sterk gekonvensionaliseerd (vergelyk (12) tot (15)).

(12) Afr: Die slegtes steek die bome wat op die oewer staan aan die brand.

(13) Afr: Terwyl sy in die badkamer is, raak hy aan die slaap.

(14) Afr: Dis soms dae lank wat hy nie sy mond aan kos sit nie, sodat sy wonder wat hou hom aan die lewe.

(15) Afr: Met hierdie leiers aan die stuur, is ek bevrees, gaan ons op dieselfde trant voortploeter en sal ons nie die wêreldbekersukses proe nie.

Onses insiens kan die hoë frekwensie van hierdie meerfunksionele werkwoorde met die aan die-progressief deels toegeskryf word aan die spesialisering wat die konstruksie ondergaan, en derhalwe het ons alle meerduidige voorbeelde (dit wil sê wanneer dit nie duidelik was of die konstruksie na 'n nominale of werkwoordelike betekenis verwys nie), in die kollokasielys opgeneem. Hierdie saak word verder in die vyfde afdeling van die artikel bespreek.

Die frekwensierangorde van die progressiewe konstruksies is nie vir elk van die afsonderlike tekstipes waaruit die TK-korpus saamgestel is, ondersoek nie. Aangesien Geleyn en Colleman (2014) egter die frekwensies van die Nederlandse progressiewe konstruksies in 'n koerantkorpus aandui, is die frekwensierangorde van die drie Afrikaanse progressiewe konstruksies wel in die TK-korpus se koeranttekste ondersoek. Die frekwensierangorde van die drie progressiewe konstruksies stem ooreen met dié van die totale TK-korpus (vergelyk Tabel 2 en Figuur 2). Dit is 'n aanduiding daarvan dat die frekwensierangorde nie noodwendig genre-spesifiek is nie. Dit lyk egter wel asof die aan die-progressief aansienlik meer algemeen in koeranttekste voorkom as die Vposen-progressief. Hierdie verskil kan moontlik toegeskryf word aan die feit dat die Vpos en-progressief bepaalde gespesialiseerde gebruike het (byvoorbeeld om te kollokeer met werkwoorde van persepsie of negatiewe kommunikasie), wat moontlik nie noodwendig so gereeld in koeranttekste voorkom nie (vergelyk Breed en Brisard 2015:23-25).

 

 

 

 

Die verskil tussen die Nederlandse en Afrikaanse konstruksies met betrekking tot frekwensie is dat die Vpos te- progressiewe konstruksie die mees frekwente perifrastiese progressiewe konstruksie in Nederlands is, terwyl die Afrikaanse ewekniekonstruksie, te wete die Vpos en, die minste frekwent is van die Afrikaanse perifrastiese progressiewe konstruksies. Verder is die besig-progressief in Afrikaans aansienlik meer frekwent as die ander Afrikaanse perifrastiese progressiewe konstruksies, terwyl die bezig-progressief in Nederlands nie 'n frekwente perifrastiese progressiewe konstruksie is nie. Die frekwensierangorde van die Afrikaanse en Nederlandse perifrastiese progressiewe konstruksies kan soos volg vergelyk word:

Nederlands: VPOS te > aan het > bezig

Afrikaans: besig > aan die > VPOS en

Met betrekking tot frekwensie is die Afrikaanse besig-progressief verder gegrammatikaliseer as die Nederlandse bezig-progressief (vergelyk weer Geleyn & Colleman 2014:62): daar kan derhalwe verwag word dat besig in Afrikaans meer grammatikale kenmerke sal vertoon as die Nederlandse bezig. Verder is die besig-progressief ook heelwat meer frekwent as die ander Afrikaanse progressiewe konstruksies en sal dit daarom waarskynlik meer veralgemeen en dus in meer kontekste bruikbaar wees as die ander Afrikaanse konstruksies.

 

4. VERHOUDING TUSSEN LEKSIKALE EN ASPEKTUELE GEBRUIK

Hoe verder 'n konstruksie gegrammatikaliseerd is, hoe meer gereeld sal hy gebruik word in nieleksikale (grammatikale) kontekste. Dit is dus sinvol om die frekwensie van 'n konstruksie se leksikale gebruike te vergelyk met die frekwensie van die konstruksie se grammatikale gebruike, aangesien dit 'n aanduiding gee van die mate waartoe die konstruksie gegrammatikaliseer het.

4.1 Verhouding tussen leksikaal en aspektueel: aan die en aan 't

Soos in Breed en Van Huyssteen (2014) aangetoon is, is die leksikale oorsprong van die aan die-progressief 'n lokatiewe voorsetselkonstruksie met aan, wat oorspronklik 'n ruimtelike betekenis uitgedruk het (byvoorbeeld (16)a). Aan word ook in Afrikaans gebruik om verskeie nieprogressiewe betekenisse uit te druk (byvoorbeeld (17) en (18)). In hiérdie leksikale (asook nieprogressiewe) gebruike van aan die het, anders as die aan die-progressief, aan + die egter geen eenheidstatus nie. Om hierdie rede is dit in die meeste gevalle moontlik om die bepaalde lidwoord die te vervang deur die onbepaalde lidwoord 'n (vergelyk (16)a en (16)b), terwyl dit nie in die progressiewe gebruik van hierdie konstruksie moontlik is nie (vergelyk (19)).

(16) Afr: a. Na 'n rukkie verskyn Egmond weer en gaan sit effens mistroostig aan die kop van die tafel. Afr: b. Na 'n rukkie verskyn Egmond weer en gaan sit effens mistroostig aan 'n kop van die tafel.

(17) Afr: Eintlik wil ek later aan die 400 deelneem.

(18) Afr: Daar word aandag gegee aan die aard van die inklusiewe skool-omgewing.

(19) Afr: a. Dit is Greller wat die drama vir sy gaste aan die aandik is.

(20) Afr: b. *Dit is Greller wat die drama vir sy gaste aan 'n aandik is.

Die kollokasiefrekwensie van aan + die is derhalwe baie hoog. Die soektog vir "aan die" het 130 228 resultate opgelewer. Wanneer die progressiewe gebruike9 van aan die vergelyk word met die nieprogressiewe gebruike van aan die (byvoorbeeld sinne (16) tot (18)), is dit duidelik dat aan die se progressiewe gebruike (byna 4 600 gevalle, oftewel 3,5%) aansienlik minder is as die nieprogressiewe gebruike (ongeveer 125 629, oftewel 96,5%).

'n Soektog na aan 't het 360 resultate opgelewer. Wanneer dieselfde vergelyking gemaak word vir die resultate van aan 't, word gesien dat 330 (dus 91,66%) van die aan 't-resultate progressiewe betekenis het (byvoorbeeld (20)), terwyl slegs 30 (dus 8,33%) van die resultate nieprogressiewe betekenis het (byvoorbeeld (21)). Aan 't se gebruik het dus byna volledig gespesialiseer tot progressief.

(21) Afr: Vader is aan 't uitkyk vir julle vir 'n regte skoolmeester.

(22) Afr: Aan 't eettafel glip daar maklik stories uit wat eintlik 'n maatskappy-geheim is.

Uit die frekwensieverskil tussen hierdie twee Afrikaanse konstruksies en die gespesialiseerde gebruik van aan 't kan onses insiens afgelei word dat aan 't besig is om te verouder. Die enkele nominale konstruksies van aan 't wat wel in die korpus gevind is (byvoorbeeld (21)), word hoofsaaklik vir stilistiese doeleindes gebruik. Dus, hoewel aan 'tbyna uitsluitlik in sy grammatikale (d.i. progressiewe) betekenis gebruik word en in dié sin dus verder gegrammatikaliseerd is as die aan die-progressief, kan die konstruksie se lae frekwensie, die beperkte kontekstuele gebruik, asook die ooreenstemming met die Nederlandse konstruksie 'n aanduiding daarvan wees dat die aan 't-konstruksie besig is om uit Afrikaans te verdwyn.

4.2 Verhouding tussen leksikaal en aspektueel: besig

Hoewel die hoë frekwensie van die besig-progressief 'n eerste aanduiding kan wees dat dié konstruksie tot 'n hoë mate gegrammatikaliseerd is, is dit ook sinvol om op soortgelyke wyse as in 4.1. die frekwensie van besig se progressiewe teenoor nieprogressiewe gebruike te vergelyk. Sinne (23) tot (28) is voorbeelde van bezig/besig in nieprogressiewe gebruik. In hierdie sinne word die adjektief in sy leksikale betekenis gebruik, terwyl sinne (29) tot (33) voorbeelde is van grammatikale (d.i. progressiewe) gebruike.10

(23) Ndl: Terwijl de huiszoeking bezig was, boden zich nog enkele andere gebruikers aan.vi

(24) Ndl: Leeuwerink was bezig aan zijn achste seizoen bij de mannen-eredivisionst.

(25) Ndl: De liefdadigheidsprojecten nemen niet weg dat Janssens zelf al lang bezig is met aparte projecten.

(26) Afr: Sy was in die kombuis besig toe twee jeugdiges skielik by die kombuisdeur inkom en haar en haar seun met 'n mes dreig.

(27) Afr: Ek is lankal besig met my doktorsgraad in die Regte en is op die oomblik besig met my doktorale tesis.

(28) Afr: Die borduurwerk is vir haar iets wat jou ure lank besig hou.

(29) Ndl: De industrie is bezig dat probleem te overwinnen.vii

(30) Ndl: Welke organisaties houden zich bezig met bestrijden van terrorisme?viii

(31) Ndl: Weer anderen zijn bezig om de jonge rijstplantjes uit te zetten.ix

(32) Afr: Dieselfde is besig om in Potchefstroom te gebeur - waar dieselfde oplossing ook moontlik is.

(33) Afr: Die wat nie kerk toe gaan nie, het ieder te veel gehad die ou Krismisnag of is besig met kos kook.

In 'n korpusondersoek deur Geleyn en Colleman (2014:65) is aangetoon dat die frekwensie van die Nederlandse bezig in progressiewe en nieprogressiewe konstruksies heelwat verskil van dié van die Afrikaanse besig. In Nederlands kom die nieprogressiewe gebruike van bezig heelwat meer voor as die progressiewe gebruike. In Afrikaans word besig egter meer gereeld in 'n progressiewe konstruksie gebruik as in 'n leksikale konstruksie. Die leksikale betekenis van besig fokus eerder op die subjek van die situasie, terwyl die progressiewe gebruik van besig op die gebeurtenis van die situasie fokus (oftewel deel vorm van die predikaat van die sin). Vergelyk Tabel 4 en Figuur 4.

 

 

 

 

 

 

 

 

'n Soortgelyke soektog in die TK-korpus (Taalkommissie 2011) het 12 791 resultate vir besig opgelewer, waarvan 7 992 (ongeveer 62%) progressiewe betekenis het. Die resultate van die soektog stem dus sterk ooreen met dié van Geleyn en Colleman (2014:65).

In Afrikaans is dit nie, anders as in Nederlands, algemeen om besig met te laat volg deur 'n werkwoord nie (vergelyk voorbeeldsinne (34) en (35)). Besig in die Afrikaanse werkwoordelike konstruksie word eerder gevolg deur die voorsetsel om, tesame met die infinitiewe werkwoord wat voorafgegaan word deur te.

(34) Ndl: In de verschillende hoofdstukken van het verhaal kan de speler de kunstenaars tegenkomen terwijl ze bezig zijn met filmen (in het hoofdstuk People).

(35) Afr: Hulle is druk besig met vrugte pluk, maar Maandag was 20 werkers weens drankmisbruik afwesig.x

Vir beide Afrikaans en Nederlands is dit egter wel moontlik om 'n variant van die besig/bezig-progressief te gebruik, naamlik dat besig met/bezig met gevolg word deur 'n genominaliseerde infinitief,11 soos gesien kan word in voorbeeldsinne (36) en (37) (Geleyn & Colleman 2014:63).

(36) De ARD is bezig met het maken van een reeks portretten over de Europese konings-kinderen.

(37) Jan Ellis is druk besig met die skryf van 'Dikker as Water '.xi

Die bezig met- progressiewe konstruksie met 'n genominaliseerde infinitief is egter heelwat meer frekwent in Nederlands as in Afrikaans. Geleyn en Colleman (2014:66) het gevind dat die genominaliseerde konstruksie in die Nederlandse korpus 46 keer gebruik word (26.44% van alle bezig-resultate), maar slegs 2 keer in die Afrikaanse korpus (0,32% van alle besig-resulate). In die TK-korpus is hierdie konstruksie slegs 18 keer gebruik, dus 'n totaal van 0,14%.

Soos genoem, kan uit die groot frekwensieverskil tussen die bezig- en besig-progressiewe afgelei word dat die Afrikaanse besig-konstruksie verder gegrammatikaliseerd is as die Nederlandse ewekniekonstruksie. Verder is die Afrikaanse besig-progressief meer frekwent as die ander Afrikaanse progressiewe konstruksies. Die hoë frekwensie van die besig-progressief is 'n eerste aanduiding dat hierdie konstruksie verder gegrammatikaliseer is as ander Afrikaanse progressiewe konstruksies. Daar behoort bepaal te word of hierdie konstruksie ook meer veralgemeen is as die ander konstruksies en dus meer bruikbaar is in verskillende kontekste en kombineerbaar is met meer werkwoorde.

 

5. WERKWOORDKOLLOKASIES

0m verder te bepaal of 'n konstruksie veralgemeen het in betekenis, is dit nuttig om te kyk na die tipe werkwoorde waarmee die perifrastiese progressiewe konstruksies prototipies kollokeer. Die verwagting is dat wanneer 'n konstruksie tot 'n hoë mate gegrammatikaliseerd is (soos in Breed & Van Huyssteen 2014 aangetoon is), dit veralgemeen is in betekenis en sal kollokeer met 'n groter aantal leksikale items (oftewel woorde) as 'n konstruksie wat nie tot dieselfde mate gegrammatikaliseer het nie (vergelyk onder meer Bybee et al. 1994:5-10; Hopper & Traugott 2003:100-106). In dieselfde asem kan gestel word dat 'n konstruksie wat nie tot 'n hoë mate gegrammatikaliseerd is nie, geneig is om eerder met spesifieke leksikale items te kombineer. Dit gebeur dan ook dikwels dat, wanneer daar twee of meer semanties verwante grammatikale konstruksies in 'n taal bestaan (byvoorbeeld die drie progressiewe konstruksies in Afrikaans), en een van die konstruksies veralgemeen om saam met 'n groot verskeidenheid tipes leksikale items te kombineer, die kompeterende konstruksie(s) "spesialiseer"12 om sekere items bo 'n ander te verkies, oftewel 'n voorkeur daarvoor te ontwikkel.

Stefanowitsch en Gries (2003) definieer kollokasies as "(purely linear) co-occurrence preferences and restrictions pertaining to specific lexical items holding between specific lexical items and the word-class of the items that precede or follow them". In hierdie artikel word die leksikale werkwoorde (dit wil sê die hoofwerkwoorde van die sin waarin die progressiewe konstruksie voorkom) wat saam met die twee ter sake progressiewe konstruksies voorkom, ondersoek. Sodoende sal bepaal kan word of elk van die twee konstruksies veralgemeen in betekenis, of eerder spesialiseer om 'n voorkeur aan sekere werkwoordtipes te ontwikkel.

In Stefanowitsch en Gries (2003) en Gries en Stefanowitsch (2004a; 2004b) word die sogenaamde kollostruksieanalise (collostructional analysis) ontwikkel. Hierdie analise maak van 'n statistiese metode13 gebruik om die assosiasiesterkte wat tussen 'n konstruksie en die leksikale items wat met die konstruksie geassosieer word, te meet (Gilquin 2010:195). Deur dié metode in hierdie studie te gebruik, kan met ander woorde aangetoon word watter werkwoorde of werkwoordtipes prototipies geneig is om onderskeidelik met die aan die- en besig-progressief te kollokeer.

Drie tegnieke kan by kollostruksieanalise betrek word, naamlik i) kollekseemanalise (collexeme analysis); ii) onderskeidende kollekseemanalise (distinctive collexeme analysis); en iii) kovariërende kollekseemanalise (covarying collexeme analysis) (Gilquin 2010:195).

Deur kollekseemanalise word 'n sekere konstruksiegleuf (slot) in 'n spesifieke konstruksie bestudeer, byvoorbeeld die N-gleuf in die konstruksie [N wating to happen] (Stefanowitsch & Gries 2003:219). Hierdie eerste tegniek word in dié ondersoek gebruik om die werkwoord, dit wil sê die V-gleuf, in die [is aan die V]-konstruksie, sowel as die [is besig om te V]-konstruksie te bestudeer.

Deur onderskeidende kollekseemanalise word 'n spesifieke gleuf in twee of meer soortgelyke konstruksies bestudeer, byvoorbeeld die werkwoord, oftewel die V-gleuf, in [V Prt Obj]- en [V Ojb Prt]-konstruksies14 (Gries & Stefanowitsch 2004a:112). Sodoende kan bepaal word of 'n spesifieke lekseem geneig is om eerder met 'n sekere konstruksie te kombineer as met ander soortgelyke konstruksies. In hierdie ondersoek word die tegniek gebruik om te bepaal of spesifieke werkwoorde geneig is om eerder met die aan die-progressief te kombineer as die besig-progressief, en visa versa.

Kovariërende kollekseemanalise bestudeer die interaksie tussen twee gleuwe in 'n spesifieke konstruksie, byvoorbeeld tussen V1 en V2 in die [X V1 Y into V2GERUND] -konstruksie15 (Gries & Stefanowitsch 2004b:225-227). Die tegniek word nie in hierdie ondersoek toegepas nie.

Aangesien die TK-korpus 'n ongeannoteerde korpus16 is, en aangesien dit vir 'n kollostruksie analise van kardinale belang is dat alle frekwensies van leksikale items absoluut korrek moet wees (vergelyk Gries et al. 2005: 643-648), was dit noodsaaklik om elke resultaat vir die twee progressiewe konstruksies handmatig na te gaan. Die frekwensies wat in die werkwoordkollokasie-lys aangedui word, moes nagegaan word, sodat dit 'n ware weerspieëling is van die frekwensies van die twee progressiewe konstruksies in die korpus. Om hierdie taak van kontrole meer uitvoerbaar te maak, is 'n subkorpus uit die TK-korpus vir hierdie analise afgebaken, naamlik alle koeranttekste wat in die TK-korpus opgeneem is. Hierdie subkorpus bestaan uit 16 458 450 woorde. Die aan die-progressief het 2 399 keer in die subkorpus voorgekom, en die besig-progressief 2 615 keer. Die rekenaarprogram Coll.analysis 3.2a. (ontwikkel deur Gries 2007) is gebruik om alle statistiese berekeninge in hierdie studie te maak.

Soos reeds genoem, was dit noodsaaklik om vir die kollostruksie analise werkwoordkollokasie-lyste van beide die aan die- en die besig-progressiewe saam te stel. Die kollokasielyste het aangetoon dat daar 'n groter aantal werkwoorde met die besig-progressief kollokeer (254 verskillende werkwoorde uit die 2 615 besig-progressiewe) as met die aan die-progressief (228 verskillende werkwoorde uit die 2 399 aan die-progressiewe). Die stelling sou gemaak kon word dat dit 'n verdere bewys is dat die besig-progressief verder veralgemeen is as die aan die-progressief, maar die verskil in die werkwoordaantal wat saam met die twee progressiewe konstruksies kollokeer, is nie statisties beduidend nie (logaanneemlikheid = 0.06, p>0.05).

Tabel 5 dui die dertig werkwoorde wat die sterkste met die aan die-progressief in die subkorpus kollokeer aan en Tabel 6 dui die werkwoorde vir die besig-progressief aan. In hierdie tabelle word ook aangetoon hoe gereeld die werkwoord in die subkorpus voorkom (kolom 3), asook hoe gereeld die werkwoord met die progressiewe konstruksie voorkom (kolom 4). In die laaste kolom word die kollokasiesterkte van die werkwoord met die perifrastiese konstruksie aangetoon. Hoe hoër hierdie syfer is, hoe sterker is die kollokasie.17

 

 

Uit hierdie twee tabelle kan 'n hele paar afleidings gemaak word rakende die sterkte van die kollokasies wat die twee konstruksies met spesifieke werkwoorde of werkwoordtipes vorm.

Die aan die-progressief vorm sterker werkwoordkollokasies as die besig-progressief. Die kollokasiesterkte van die dertigste aan die-werkwoord (lag = 16.1) is wel hoër as die dertigste besig-werkwoord (speel = 13.2), terwyl die eerste besig-werkwoord (maak = 63.81) se kollokasiesterktewaarde vergelyk met die vyftiende aan die-werkwoord (afneem = 57.99). Uit hierdie vergelyking kan afgelei word dat die aan die-progressief 'n gespesialiseerde konstruksie is met 'n sterk voorkeur vir spesifieke werkwoorde of werkwoordtipes. Soos reeds genoem, is die besig-progressief meer veralgemeen, en dit kombineer met 'n groter aantal verskillende werkwoorde.

Daar is reeds genoem dat 'n aantal woorde baie sterk met aan die kollokeer en dat hierdie woorde dikwels ook woordsoortlik meerfunksioneel is, naamlik brand, slaap, stuur, lewe en werk. Dit is dus onduidelik of hierdie konstruksies as werkwoordelike of naamwoordelike konstruksies geïnterpreteer moet word. Boonop is hierdie genoemde konstruksies se gebruik sterk gekonvensio-naliseerd en funksioneer dit as vaste uitdrukkings (vergelyk (38) tot (40)), of metaforiese taalgebruik (byvoorbeeld sin (41)).

(38) Afr: Die slegtes steek die bome wat op die oewer staan aan die brand.

(39) Afr: Terwyl sy in die badkamer is, raak hy aan die slaap.

(40) Afr: Dis soms dae lank wat hy nie sy mond aan kos sit nie, sodat sy wonder wat hou hom aan die lewe.

(41) Afr: Met hierdie leiers aan die stuur, is ek bevrees, gaan ons op dieselfde trant voortploeter.

Hoewel hierdie woorde nie in die werkwoordkollokasielys opgeneem is nie, is dit nietemin interessant om op te merk dat kollokasiefrekwensie van sommige prosesnaamwoorde18 met aan die ook hoog is. Boonop het hierdie konstruksies ook 'n werkwoordelike interpretasie, byvoorbeeld aan die gang (1 222 resultate), aan die stuur (194 resultate) en aan die bewind (166 resultate). Sinne (42) tot (44) is voorbeelde van hierdie verskynsel.

(42) Afr: Die dans is reeds aan die gang, af en toe skyn die lig van nog 'n motor teen die muur.

(43) Afr: Grassley se komitee is aan die stuur van handelswetgewing.

(44) Afr: Toe Mugabe in 1980 aan die bewind gekom het, het die lugdiens 15 vliegtuie gehad.

Dit is ook opmerklik dat 'n hele aantal van die aan die-werkwoorde as inchoatiewe19 werkwoorde geklassifiseer kan word, te wete toeneem, afneem, taan, opbou, verander, ontwikkel, groei, kwyn en broei.

Uit die werkwoorde wat in Tabel 5 en Tabel 6 opgeneem is, lyk dit asof die aan die-progressief meer beperk is ten opsigte van leksikale aspektualiteit20 as die besig-progressief. Vyf en twintig van die aan die-werkwoorde is aktiwiteitswerkwoorde (byvoorbeeld brand, praat en gesels), terwyl 'n groter verskeidenheid leksikaal-aspektuele werkwoorde vir besig gesien word. Minder as die helfte van die besig-werkwoorde kan as aktiwiteitswerkwoorde geklassifiseer word (byvoorbeeld stort, brei en speel), en daar is meerdere voorbeelde van werkwoorde wat as uitvoerings (byvoorbeeld daal en trek) en verwesenlikings (sterf en stel) geklassifiseer kan word. Daar is ook 'n enkele voorbeeld van 'n toestandwerkwoord (geld).

Aansluitend hierby lyk dit of aan die eerder met onoorganklike werkwoorde kollokeer. Slegs tien werkwoorde in Tabel 5 kan as tipiese oorganklike werkwoorde geklassifiseer word (byvoorbeeld brei en skryf), terwyl ongeveer die helfte van die werkwoorde in die besig-tabel prototipies as oorganklik geklassifiseer word (byvoorbeeld kyk en onderhandel).

Die resultate van die kollekseemanalise bevestig die stellings wat reeds in voorafgaande gedeeltes gemaak is: die besig-progressief is verder gegrammatikaliseer as die aan die-progressief. Die aan die-progressief is 'n gespesialiseerde konstruksie wat 'n voorkeur vir sekere werkwoorde en werkwoordtipes ontwikkel het, terwyl die besig-progressief minder beperk is ten opsigte van die werkwoorde of werkwoordtipes waarmee dit kollokeer.

Hierdie gevolgtrekking word verder ondersteun deur die resultate van die onderskeidende kollekseemanalise. Van die 417 werkwoorde wat ondersoek is, kom 70 werkwoorde in albei kollokasielyste voor (16,79%). Uit Tabel 7 kan gesien word watter spesifieke werkwoorde 'n voorkeur vir hetsy die aan die- of besig-progressief ontwikkel het.

Uit die kollokstrukturele analise is dit duidelik dat die twee progressiewe konstruksies, hoewel semanties ooreenstemmend, nie gewoon uitwisselbaar is nie. Dit wil voorkom of die besig-progressief die verstekkonstruksie is om progressiewe betekenis mee uit te druk. Hoewel die aan die-progressief ook gebruik kan word om 'n verskeidenheid tipe werkwoorde in die progressief aan te bied, is hierdie laasgenoemde konstruksie tog besig om te spesialiseer om eerder saam met spesifieke werkwoorde en werkwoordtipes te kollokeer. Die besig-progressief is die verste gegrammatikaliseerd met betrekking tot werkwoordkollokasies.

 

6. GEVOLGTREKKING

In Afrikaans en Nederlands word drie ewekniekonstruksies gevind wat progressiwiteit uitdruk, te wete die aan die-/aan het-, besig-/bezig- en VPOS en-/VPOS te -perifrases. In 'n tweetal artikels, waarvan hierdie ene die tweede is (vergelyk ook Breed & Van Huyssteen 2014), is die hipotese dat hierdie ewekniekonstruksies in die twee tale progressiwiteit op soortgelyke wyse uitdruk, verder ondersoek. Breed en Brisard (2015) het reeds ondersoek ingestel na die wyse waarop die VPOSen-konstruksie progressiewe betekenis uitdruk. In hierdie artikel is daar derhalwe gefokus op die aan die- en besig-progressiewe konstruksies.

Eerstens is die frekwensie van die konstruksies aan die hand van 'n Afrikaanse korpus ondersoek. Daar is gevind dat daar 'n beduidende verskil bestaan in die frekwensies van die twee Afrikaanse en Nederlandse ewekniekonstruksies. Waar die bezig-progressief 'n skaars en periferale konstruksie in Nederlands is, is die besig-konstruksie die mees frekwente Afrikaanse progressiewe konstruksie. In Afrikaans is die aan die-progressief meer frekwent as die VPOSen-progressief, terwyl die VPOSte-progressief in Nederlands aansienlik meer frekwent is as die aan het-progressief.

Tweedens is die frekwensie van die progressiewe gebruik van die konstruksies vergelyk met die leksikale gebruik van die konstruksies, aangesien dit 'n aanduiding gee van die mate van veralgemening van die konstruksies. In beide Afrikaans en Nederlands word aan die in 'n groot aantal kontekste gebruik, en derhalwe is die progressiewe gebruik van beide tale se konstruksies laag in verhouding tot die nie-progressiewe gebruike. Geleyn (2010:10) het egter gevind dat besig in Afrikaans se progressiewe gebruike selfs meer frekwent is as nieprogressiewe gebruike. In Nederlands is die progressiewe gebruik van bezig baie skaars in vergelyking met die leksikale gebruike. Hierdie verskil, sowel as die algemene verskil in frekwensie, is 'n aanduiding van die groot mate van gegrammatikaliseerdheid van die Afrikaanse besig-progressief.

Laastens is die werkwoordkollokasies van die konstruksies ondersoek. Werkwoordkollokasies is 'n goeie aanduiding van die mate van veralgemening van konstruksies, aangesien 'n konstruksie wat verder gegrammatikaliseerd is, en derhalwe meer veralgemeen is, met 'n groter aantal werkwoordtipes sal kombineer. Daar is gevind dat die Afrikaanse besig-konstruksie in só mate veralgemeen het dat dit gemaklik met 'n groot aantal werkwoordtipes kan kombineer. Die aan die-progressief in Afrikaans blyk meer gespesialiseerd te raak om hoofsaaklik met i) woordsoortlik meerfunksionele werkwoorde; ii) prosesnaamwoorde; iii) inchoatiewe werkwoorde; iv) aktiwiteitswerkwoorde; en v) onoorganklike werkwoorde te kollokeer.

 

BIBLIOGRAFIE

Breed, A. 2012. Die grammatikalisering van aspek in Afrikaans: 'n semantiese studie van die perifrastiese progressiewe konstruksies. Ongepubliseerde PhD-proefskrif, Noordwes-Universiteit.         [ Links ]

Breed, A. & G. van Huyssteen. 2014. Aan die en besig in Afrikaanse progressiwiteitskonstruksies: die ontstaan en ontwikkeling (1). Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 54(4):708-725.         [ Links ]

Breed, A. & F. Brisard. 2015. Postulêre werkwoorde as progressiewe merkers in Afrikaans en Nederlands. Internationale Neerlandistiek, 53(1):3-28.         [ Links ]

Booij, G. 2003. In Ackerman, Blevins & Stump (eds). Paradigms and periphrases. Chicago: University of Chicago Press, pp. 79-104.         [ Links ]

Booij, G. 2004. In De Schutter (ed). Taeldeman man van de taal, schatbewaarder van de taal. Gent: Academia Press, pp. 97-106.         [ Links ]

Booij, G. 2008. In Bergs & Diewald (eds). Constructions and language change. Berlin: Mouton de Gruyter. pp. 81-106.         [ Links ]

Bybee, J., Perkins, R. & Pagliuca, W. 1994. The evolution of grammar: Tense, aspect, and modality in the languages of the world. Chicago: The University of Chicago Press.         [ Links ]

Comrie, B. 1976. Aspect: an introduction to the study of verbal aspect and related problems. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Croft, B. 1990. Typology and universals. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Geleyn, T. 2010. De progressieve constructies bezig zijn en besig wees: een contrastief corpusondersoek Nederlands - Afrikaans. Ongepubliseerde MA-verhanderling. Universiteit Gent.         [ Links ]

Geleyn, T. & Colleman, T. 2014. De progressieve constructies bezig zijn en besig wees: Een contrastief corpusonderzoek Nederlands-Afrikaans. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 54(1):56-74.         [ Links ]

Gilquin, G. 2010. Corpus, Cognition and Causative Constructions. Amsterdam: John Benjamins.         [ Links ]

Gries, S. Th. & Stefanowitsch, A. 2004a. Extending collostructional analysis A corpus-based perspective on 'alternations'. International Journal of Corpus Linguistics, 9(1): 97-129.         [ Links ]

Gries, S. Th. & Stefanowitsch, A. 2004b. In Achard & Kemmer (eds). Language, Culture, and Mind. Stanford: CSLI Publications, pp. 225-236.         [ Links ]

Gries, S. Th., Hampe, B. & Schönfeld, D. 2005. Converging evidence: bringing together experimental and corpus data on the association of vebs and constructions. Cognitive linguistics, 16(4):635-676.         [ Links ]

Gries, S.Th. 2007. Coll.analysis 3.2a. 'n program vir R vir Windows 2.x.         [ Links ]

Heine, B. & Reh, M. 1984. Grammaticalization and reanalysis in African languages. Hamburg: Helmut Buske Verlag.         [ Links ]

Hopper, P.J. & Traugott, E.C. 2003. Grammaticalization. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Kempen, W. 1969. Samestelling, afleiding en woordsoortlike meerfunksionaliteit in Afrikaans. Kaapstad: Nasou.         [ Links ]

Lehmann, C. 1995. Thoughts on grammaticalization. 2nd ed. Erfurd: Arbeitspapiere des Seminars für Sprachwissenschaft der Universitat Erfurt.         [ Links ]

Lemmens, M. 2003. In Newman (ed). The linguistics of sitting, standing and lying. Amsterdam: John Benjamins. pp. 103-139.         [ Links ]

Lemmens, M. 2005. Aspectual posture verb constructions in Dutch. Journal of Germanic linguistics, 17(3):183-217.         [ Links ]

Lemmens, M. 2008. Een contrastieve analyse van progressiefconstructies in het Nederlands, het Engels en het Zweeds: IVN-colloquium. Antwerpen, 27-31 Augustus, Presentation handout.         [ Links ]

Mortier, L. 2008. An analysis of progressive aspect in French and Dutch in terms of variation and specialization. Languages in contrast, 8(1):1-20.         [ Links ]

Pedersen, T. 1996. Fishing for exactness. Proceedings of the SCSUG 96 in Austin, TX, 188- 200.         [ Links ]

Smith, C.S. 1997. The parameter of aspect. 2nd ed. London: Kluwer Academic.         [ Links ]

Stefanowitsch, A. & Gries, S. Th. 2003. Collostructions: Investigating the interaction of words and constructions. International Journal of Corpus Linguistics, 8(2):209-243.         [ Links ]

Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. 2011. Taalkommissiekorpus 1.1. Noordwes-Universiteit: CTexT.         [ Links ]

Tatevosov, S. 2002. The parameter of actionality. Linguistic typology, 6:317-401.         [ Links ]

Van Pottelberghe, J. 2002. Nederlandse progressiefconstructies met werkwoorden van lichaam. Nederlandse taalkunde, 7:142-174.         [ Links ]

Vandeweghe, W. 2007. Grammatica van de Nederlandse zin. Antwerpen/Apeldoorn: Garant.         [ Links ]

Vendler, Z. 1957. Verbs and times. The philosophical review, 66(2):143-160.         [ Links ]

 

 

 

Adri Breed is 'n senior dosent in Afrikaanse taalkunde aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus. In 2007 voltooi sy haar Meestersgraad in Afrikaanse letterkunde (Skryf-kuns) aan die NWU en in 2012 haar PhD in Afrikaanse taalkunde. Sy spandeer ongeveer tien maande van haar studietydperk in België, as lid van die Universiteit Antwerpen se Centrum voor Grammatica, Cognitie en Typologie (CGCT).

Adri Breed is a senior lecturer in Afrikaans linguistics at the North-West University. She completed her Master's degree in Afrikaans Literature (Creative Writing) in 2007 and her PhD in Afrikaans linguistics in 2012, both at the NWU. She spent almost ten months of her study term in Belgium, as a member of the University of Antwerp's Center for Grammar, Cognition and Typology (CGCT).

 

 

 

Gerhard van Huyssteen is professor in Afrikaanse taalkunde en taaltegnologie aan die Noordwes-Universiteit. Hy dien sedert 2005 op die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en is tans voorsitter van dié liggaam. Vanaf2009 dien hy ook op die paneel van mensetaaltegnologiekundiges van die Departement Kuns en Kultuur. Hy is onder andere ontvanger van die Elizabeth Eybers-beurs, asook van die CL Engelbrecht-prys vir taalkunde-navorsing vir sy aandeel in die publikasie van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls. Hy het al ver-skeie grootskaalse, internasionale multimiljoen-randprojekte gelei, waaronder projekte vir Microsoft, MTN en die Suid-Afrikaanse regering. Van Huyssteen is veral bekend vir sy bydrae as taalkundige in die ontwikkeling van tekstegnologie-toepassings en verskeie elektroniese hulpbronne vir Afrikaans, asook vir sy taalvasvraprogram op Radio Sonder Grense.

Gerhard van Huyssteen is a professor in Afrikaans linguistics and language technology at the North-West University. He has been serving in the Language Commission of the South African Academy for Science and Arts since 2005, and is currently chairperson of this language standardisation body. In 2009, he was appointed as member of the HLT Expert Panel of the South African Government's Department of Arts and Culture. Van Huyssteen is the holder of the prestigious Elizabeth Eybers bursary, as well as the CL Engelbrecht Prize for Scientific Language Research for his contribution to the publication of the tenth edition of the Afrikaanse Woordelys en Spelreëls ["Afrikaans Wordlist and Spelling Rules"]. He has initiated and led numerous large-scale, international multimillion rand projects, for clients such as Microsoft, MTN and the South African Government. Van Huyssteen is best known for his contribution as a linguist in the development of real-world text-based computer applications and core computer technologies for Afrikaans, as well as for his weekly language quiz on Radio Sonder Grense.

 

 

BYLAAG

Verwysings van voorbeeldsinne in Breed, A. & G. Van Huyssteen. 2014. Aan die en besig in Afrikaanse progressiwiteitskonstruksies: die ontstaan en ontwikkeling (1). Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 54(4):708-725.

i. http://www.looopings.nl/weblog/843/Was-elke-job-maar-zo-plezant.html

ii. http://en.bab.la/dictionary/dutch-english/ik-ben-bezig

iii. http://blog.jmouders.nl/2012/01/

iv. http://www.bokt.nl/forums/viewtopic.php?f=2&t=1462507&start=975

v. http://www.sinterklaasgedichten.com/archief.php?jr=2008&subpag=4

vi. Voorbeeldsinne (16)-(18) is geneem uit Hopper & Traugott (2003:50).

vii. Voorbeeldsin is geneem uit Michealis (2004:53-54).

viii. Voorbeeldsinne (23)a en (24)a is geneem uit Mittwoch et al. (2002:748)

ix. Baie dankie aan Jente Rhebergen vir die vertalings van die Engelse sinne na Nederlands.

x. http://www.gutenberg.org/files/29590/29590-h/29590-h.htm

xi. http://www.klusidee.nl/Forum/about27573-15.html

xii. http://www.let.ru.nl/ans/e-ans/18/05/04/02/body.html

xiii. http://nl.wikipedia.org/wiki/Gebruiker:B222

xiv. http://www.let.ru.nl/ans/e-ans/18/05/04/02/body.html

xv. Voorbeeldsin (38) is geneem uit Ponelis (1979:208).

Verwysings van voorbeeldsinne in Breed, A. & G. Van Huyssteen. 2015. Aan die en besig in Afrikaanse progressiwiteitskonstruksies: 'n korpusondersoek (2): Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 55(2):251-268.

i. http://www.looopings.nl/weblog/843/Was-elke-job-maar-zo-plezant.html

ii. http://en.bab.la/dictionary/dutch-english/ik-ben-bezig

iii. http://blog.jmouders.nl/2012/01/

iv. http://www.bokt.nl/forums/viewtopic.php?f=2&t=1462507&start=975

v. http://www.sinterklaasgedichten.com/archief.php?jr=2008&subpag=4

vi. Voorbeeldsinne geneem uit Geleyn (2010:10).

vii. http://ans.ruhosting.nl/e-ans/18/05/05/02/body.html

viii. http://www.nederlandtegenterrorisme.nl/fileadmin/user_upload/Bestuur/PDF-s/10._welke_organisaties_houden_zich_bezig_met_bestrijden_van_terrorisme.pdf

ix. http://en.wikipedia.org/wiki/File:COLLECTIE_TROPENMUSEUM_Het_bewerk-en_van_de_sawa_TMnr_3525-23.jpg

x. Voorbeeldsinne geneem uit Geleyn & Colleman (2014:63)

xi. Voorbeeldsinne geneem uit Geleyn & Colleman (2014:67)

 

 

1 Daar sal voorts na die genoemde perifrastiese konstruksies verwys word as aan die-, besig- en Vpos en-konstruksies onderskeidelik. Wanneer daar na die aan die-konstruksie verwys word, sal die aan t-variasiekonstruksie daarby ingereken of geïmpliseer wees.
2 Alle Afrikaanse voorbeeldsinne is geneem uit die Taalkommissiekorpus (2011). 'n Beskrywing van die korpus volg in Afdeling 2. Alle voorbeeldsinne wat uit ander bronne afkomstig is, se verwysings word in die bylaag aangedui.
3 Daar word voorts onderskeidelik na hierdie konstruksies verwys as aan het-, bezig- en VPOS te-konstruksies.
4 Nederlandse en Engelse voorbeeldsinne is meestal bekom vanaf internetbronne of is oorgeneem uit ander bronne. Die bronverwysings van die voorbeeldsinne word in die eindnotas van die artikel aangedui.
5 Die spesifieke metode van analise en onttrekking van voorbeelde vir hierdie ondersoek word volledig in Breed (2012) bespreek.
6 In meeste van die Nederlandse publikasies (byvoorbeeld Booij 2004 en Lemmens 2003) word slegs die aan het en VPOS te-progressiewe konstruksies se resultate aangebied, en geen frekwensiesyfer vir die bezig-progressief nie.
7 Chi:726; p<0,001, soos aangedui in Breed & Brisard (2015:12).
8 Chi:726; p<0,001, soos aangedui in Breed & Brisard (2015:12).
9 Soos reeds genoem, word die infinitiewe werkwoord van Afrikaans nie gemerk nie, en is dit dus nie moontlik om met 'n elektroniese soektog werkwoordelike konstruksies te onderskei van nominale konstruksies nie. Dit was derhalwe nodig om alle gevalle van die aan die-perifrastiese progressief met die hand uit te soek en te onderskei van alle nieprogressiewe aan die's in die kollokasielys.
10 Soos uit die Nederlandse voorbeeldsinne gesien kan word, toon die Nederlandse bezig-progressief sintaktiese variasie. Dit is moontlik om hierdie perifrastiese konstruksie te vorm deur bezig+zijn+met+VP, bezig+zijn+te+VPof bezig+zijn+om+te+VP(vergelyk voorbeeldsinne (29) tot (31).
11 By sintaktiese nominalisering is daar geen morfologiese aanduiding van woordsoortkategorie nie, maar word die nominalisering sintakties aangedui deur die toevoeging van 'n lidwoord.
12 Hopper (1991:22) gebruik die term "specialization" om te verwys na 'n proses waardeur die vormlike variasies van 'n grammatikaliserende konstruksie minder word en derhalwe meer algemene grammatikale betekenisse kan uitdruk, aangesien beperkinge wat met vorige vorme geassossieer word, afgeskud word. In hierdie artikel word die term egter aangewend om aan te toon dat 'n kompeterende grammatikale konstruksie 'n voorkeur aan spesifieke woordtipes ontwikkel, oftewel begin "spesialiseer om op sekere wyse te kollokeer".
13 Stefanowitsch & Gries (2003) en Gries & Stefanowitsch (2004a; 2004b) maak van die presiese chikwadraattoets (Fisher exact test) (Pedersen 1996) gebruik om die kollokasiesterkte in al drie genoemde tegnieke te bepaal. Dié toets word ook in hierdie ondersoek aangewend om die kollokasiesterktes van die onderskeie werkwoorde in die aan die- en besig-progressief te ondersoek.
14 'n Voorbeeld van die [V Prt Obj]-konstruksie is picked up the book. 'n Voorbeeld van die [V Obj Prt]-konstruksie is picked the book up (Gries & Stefanowitsch 2004a:110-111).
15 Voorbeelde van hierdie konstruksie is He tricked me into employing him en His aim was to force the Government into holding a plebiscite (Gries & Stefanowitsch 2004b:225).
16 Met ander woorde, woordsoortetikette is nie outomaties in die korpus aangebring nie. Voorts is daar, soos vroeër in die artikel aangetoon is, 'n hele aantal meerduidige woorde wat hetsy as 'n werkwoord of naamwoord geïnterpreteer kon word, en derhalwe moet elke resultaat nagegaan word om werkwoordelike van naamwoordelike konstruksies te onderskei.
17 Die kollokasiesterkte is gebaseer op p-waardes en kan as volg geïnterpreteer word: Koll.sterkte > 3 => p<0.001; Koll.sterkte>2 => p<0.01; Koll.strekte>1.30103 => p<0.05.
18 Prosesnaamwoorde is naamwoorde wat inherent dinamies van aard is aangesien dit van werkwoorde afgelei is. Dit impliseer dat 'n spesifieke aansyn eienskappe besit wat in fases uitgevoer word.
19 Dit is werkwoorde wat aandui dat daar 'n verandering van toestand plaasvind.
20 Leksikale aspek is onderskeibaar van grammatikale aspek (bv. progressiwiteit) deurdat eersgenoemde te make het met die inherente, semantiese eienskappe van 'n situasie. Drie eienskappe, te wete [+/-duur], [+/-telies] en [+/- staties], bepaal of 'n situasietipe as 'n toestand (state), aktiwiteit (activity), uitvoering (accomplishments), verwesenliking (achievements) of semelfaktief (semelfactive) geklassifiseer word (vergelyk o.m. Breed 2012:38; Comrie 1976; Smith 1997; Tatevosov 2002:317; Vendler 1957:143-160).

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons