SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.55 issue2Remuneration trends in the public sector during sustained inflation: an economic perspectiveThe use of body maps by educators in fulfilling their pastoral role author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.55 n.2 Pretoria Jun. 2015

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2015/V55N2A4 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS

 

"Wat is die mens wat U so ryk beskenk het?" Die uitbeelding van die geveg tussen Karnaval en Lent by Bruegel en T.T. Cloete

 

"What is man that Thou hast endowed him with such grace?" The representation of the battle between Carnival and Lent by Bruegel and T.T. Cloete

 

 

Marlies Taljard

Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus E-pos: marlies.taljard@nwu.ac.za

 

 


OPSOMMING

In hierdie artikel word 'n vergelyking getref tussen die skildery Die geveg tussen Karnaval en Lent van Pieter Bruegel de Oude en T.T. Cloete se bundel Karnaval en Lent is een gedig. Die vergelykende ontleding word gedoen met aandag aan die uitbeelding van die tydgenootlike mens in sy toestand van swakheid en verval, aan die ooreenkomste en verskille ten opsigte van die gebruik van simboliek en aan vraatsug as simptoom van 'n ongebalanseerde, skeefgetrekte samelewing. Daar word geredeneer dat, hoewel beide kunstenaars sterk op kategoriese opposisies fokus, die tema van beide werke eintlik die ambivalensie is wat die menslike kondisie kenmerk. Die kunswerke dien as spieël vir die mens sodat hy sy eie dwaasheid kan erken en dié insig hom tot selfkennis kan lei.

Trefwoorde: Cloete, T.T., Geveg tussen Karnaval en Lent, Pieter Bruegel de Oude, menslike dwaasheid, godsdienskritiek, kritiek teen samelewing, vraatsug, simboliek in poësie, simboliek in middeleeuse skilderkuns


ABSTRACT

The aim of this article is to compare certain similarities and differences in Peter Breugel the Elder's painting "The battle between Carnival and Lent" and T.T. Cloete S most recent volume of poetry, "Karnaval en Lent is een gedig" ("Carnival and Lent are one poem"). The central theme of the volume of poetry is based on the painting by Bruegel which was painted in 1559. Because both works of art function by means of collective transcendents, thereby activating archetypal matter, it is possible to make such a comparison. The implication intended by this statement is that basic human nature, which is depicted in both works of art, does not change with time. Thus it is possible that, 450 years after Bruegel's painting was made, we can still identify with his representation of the human condition, which is, to some extent, depicted in a modern version in Cloete's work. It will be argued that, in both works of art, the emphasis falls on the representation of Carnival and Lent as symbols of the good and the evil nature of man, but also that the liminal zone, where no categorical oppositions are possible, is the focus point of both artists. It is clear that Bruegel neither sides with the "bad behaviour" (of the Lutherans) that is depicted on the left part of the painting, nor with the "good behaviour" (of the Roman Catholics) portrayed on the right. In his painting the accent clearly falls on the folly of man, who will, notwithstanding his religious denomination, always be prone to human folly and sin. In Cloete's poetry the accent falls on the Janus-faced man and the inherent duality which is characteristic of human nature: man is both body and mind, holy and evil, egotistic and part of the O/other. His purpose - after the manner of Desiderius Erasmus - is to emphasise oppositions in order to reconcile the antitheses which are an inherent feature of man's nature as such. Bruegel and Cloete regard the human condition - the condition of the unthinking, anonymous masses - as folly and depravity. In this regard, both works of art have a somewhat moralistic character, although not in a restrictive sense. Both artworks focus on the symbolic significance of eating as a metaphor of the decadent and debased human society in which the artists live. Bruegel paints the diseased, disfigured and disabled human being as a mirror in which human society should see itself. The same underlying principle marks several of Cloete's poems, works in which he refers to those who deform themselves by overeating and other excesses and by gross overutilization of that which we have received through the grace of God. However, Cloete's characters are neither sick, nor disabled or mutilated - they are unsightly as a result of their unhealthy lifestyles. On the other hand, whenever Cloete uses disabled characters throughout his body of work they mostly symbolise either the author himself, or (and!) the creative artist (for instance the crippled Hefaistos who manufactures the shield of Achilles). Thus it would appear that both Bruegel and Cloete aim to confront human society with a metaphorical mirror in order to facilitate a process of reflection which might lead to self-knowledge. An important part of this process is that which Bakhtin calls "carnavalesque laughter": the liberating laughter at the foolishness of humanity in which everybody joins in, an ambivalent laughter, at the same time mocking and triumphant, and full of joy. In essence this kind of reflection is a collective process which takes place in the liminal space of the Carnival, as well as in the space in which the fool looks at his reflection in the mirror which the artist holds up in front of him, i.e. in order for him to perceive his own foolishness.

Key words: Cloete, T.T., Battle between Carnival and Lent, Pieter Bruegel the Elder, human folly, critique of religion, social critique, gluttony, symbolic language in poetry, symbols in medieval painting


 

 

"Wir sind alle Gelachter, Fabel und Fastnachtspiel vor Gott." (W. Dilthey, 1914)

 

1. INLEIDING

In die inleiding tot sy nuutste digbundel, Karnaval en Lent is een gedig (2014), verduidelik T.T. Cloete dat die titel en tematiek van dié bundel berus op 'n skildery van Pieter Bruegel1 de Oude, Die geveg tussen Karnaval en Lent, oftewel De strijd tussen Carnaval en Vasten (1559). In 'n onderhoud (Taljard 2014) beweer hy dat meeste gedigte egter voor die titelkeuse ontstaan het, want: " 'n Mens dig mos maar hoofsaaklik uit jou onderbewuste." Hierdie uitsprake lei 'n mens tot die afleiding dat die digter by Bruegel iets van die argetipiese inhoud wat ook sy gedigte kenmerk, moes raakgesien en daarom soms eksplisiet, ander kere implisiet daarmee in gesprek getree het. Die doel van hierdie artikel is om te wys op bepaalde ooreenkomste én verskille tussen Cloete se bundel en Bruegel se skildery, veral wat betref simboliek, uitbeelding van die tydgenootlike mens en die fokus op patologiese aspekte van eet en vas as simptome van n ongebalanseerde (selfs verdorwe) samelewing. Daar sal hoofsaaklik eksemplaries te werk gegaan word en voorbeelde sal beperk word, selfs al sou daar baie meer voorbeelde wees om bepaalde insigte en stellings te staaf.

 

2. DIE GEVEG TUSSEN KARNAVAL EN LENT - PIETER BRUEGEL DE OUDE

Pieter Bruegel De Oude se meesterwerk, Die geveg tussen Karnaval en Lent (olie op hout), behoorlik deur die skilder onderteken en gedateer 1559, is tans te sien in die Weense Staatsgalery. Die Karnaval is 'n driedaagse fees waarin brassery, 'n gefuif en bandeloosheid hoogty vier. Die veertig dae lange Lentvieringe is 'n tydperk van boetedoening, vas en onthouding waartydens, in die Rooms Katolieke tradisie, veral op goeie dade gefokus word.

Bruegel slaag daarin om hier n sensus-agtige opgawe van die mens in al sy fasette uit te beeld. Daar is ongeveer 170 karikatuuragtige figure op die skildery, maar terselfdertyd is elke figuur 'n unieke, lewensgetroue mens wat binne 'n realistiese kleindorpse ruimte optree. Die skildery word gekenmerk deur verbysterende detail en n uiters komplekse komposisie.

Die toneel wat Bruegel uitbeeld, behels 'n formele konfrontasie tussen personifikasies van Karnaval en Lent op 'n Vlaamse dorpsmeent. Die voorgrond word in beslag geneem deur, op linkerkant, die Karnavalskoning en sy volgelinge wat oordadig aan die eet is en regs die verpersoonliking van Lent met haar gevolg wat selfbejammerend daar uitsien weens hulle onthouding aan kos tydens die vastyd voor Pase. Die simboliek van regs- en linksplasing speel n belangrike normerende rol, hoewel dit nie noodwendig die posisie van die skilder verteenwoordig ten opsigte van die verskillende liturgiese tye nie: regs word, in terme van die norme van die Middeleeuse Roomse Kerk, die "goeie" gedrag uitgebeeld, terwyl links die "sondige" gedragsge-bied verteenwoordig. Die drempelgebied wat die skeiding tussen die Karnaval- en Lentvieringe uitmaak, vorm die fokuspunt van die skildery.

Die uitbeelding van die aktiwiteite wat eie is aan Karnaval en Lent was teen die middel van die sestiende eeu reeds geskoei op n redelik gevestigde allegoriese ikonografie (Swarzenski 1951:2) waarin simbole vaste betekenis gehad het. Die Karnavalskoning, wat op allegoriese wyse die Karnaval self verteenwoordig, is n vet man met n geweldige boepens. Hy sit op n biervaatjie wat op n skuit rus, waardeur Jeroen Bosch se skildery Die skip van dwase in herinnering geroep word. In sy hand het hy n lans met n varkkop en op sy kop n pastei. Aan sy sy hang n slagtersmes. Agter hom verskyn n menigte van sy volgelinge wat, al etende en feesvierende, tussen twee teaters en n kroeg beweeg. Hulle maak n bespotting van die naderende Lent deur verskeie van die sewe doodsondes te pleeg wat deur die Roomse Kerk veroordeel word: vraatsug, gierigheid, luiheid, hoogmoed, wellus, woede en afguns. Die fokus val hier op vraatsug.

Aan die regterkant verskyn Lent, n uitgeteerde figuur in rougewaad wat deur 'n monnik en n non op n wa getrek word. Dié figuur is n natekening van 'n Jeroen Bosch-heks (Stridbeck 1956:99). Dit is bekend dat Bruegel, veral vroeg in sy loopbaan, doelbewus in die styl van Bosch geskilder het en soms van laasgenoemde se uitbeeldings van figure in sy eie skilderye gebruik het (Foote 1971:53). Lent dra n byekorf op haar kop: n ambivalente simbool van sowel toewyding en gematigdheid as van die strydende "Roomse byekorf' (Stridbeck 1956:102); in haar linkerhand hou sy n bondel dun takkies vas vir kastyding van biegtelinge (ook simbool van menslike ontaarding) en in haar regterhand n houtspaan met twee visse waarmee sy haar teen die Karnavalskoning beskerm. Sy word gevolg deur n skare wat aalmoese vir armes gee, vir die dooies bid en transaksies (soos visverkope) beklink, asook deur kinders wat speel (in Bruegel se tyd as n lighartige, sondige tydverdryf beskou). Dié wat eet, eet pretzels of droë brood en drink water - n toelaatbare dieet tydens vastye. Teenoor die kroeg aan die regterkant staan daar n kerk waar gelowiges uitkom ná boetedoening. Die skildery word vertikaal in twee verdeel deur n straat wat die dorpsmeent in twee sny. n Put wat deur albei partye gebruik word, neem n sentrale plek op die plein in. Aan die Karnavalskant staan n vark iets op die grond en vreet. Aan die Lentkant is n visstalletjie; nie ver daarvandaan nie, lê n groot vis in n mandjie. Die vark is hier beslis simbool van onreinheid en sonde, terwyl die vis (Ichtus) n ambivalente simbool is wat Jesus Christus en soms ook Satan simboliseer (Cloete 2014:7). Oor die algemeen is die skeiding tussen die kante van Karnaval en Lent swak afgebaken; die spel waarin potte gebreek word, loop byvoorbeeld oor die "skeidslyn". Die enigste ryk burger op die skildery gee aan die Lentkant n aalmoes aan n blinde. Hoewel dit lyk asof hy pas uit die kerk kom, beweeg hy in die rigting van die Karnaval.

Soos dit by Bruegel en sy tydgenote gebruiklik was, plaas hy in die middel van die skildery n detail wat as n simboliese interpretasiesleutel funksioneer - in hierdie geval n paartjie wat van agter gesien word en deur n nar met n fakkel (simbool van stryd en vernietiging) in sy hand gelei word. Hulle staan geïsoleerd uit teen die verligte middelvlak van die skildery. Ons kan met redelike sekerheid aanneem dat dié paartjie betekenisvol is vir interpretasie van die skildery. In Bruegel se werk dra die fokus op die agterkant van n figuur dikwels die betekenis van "die anonieme mens", die gesiglose massa wat hoofsaaklik blindelings, ondeurdag en sonder rasionele oorwegings handel (Stridbeck 1956:108). Die vrou dra n lamp aan haar gordel wat herinner aan die gelykenis van die verstandige en onverstandige meisies in Mattheus 25:1-3 en waarin die dwase meisies nie genoeg olie gehad het om hulle lampe te laat brand nie (Bybel 1989:NT35). Die man het óf n boggelrug óf hy dra n sak onder sy jas. Stridbeck (1956:108) interpreteer hierdie figuur as n allegorie van egoïsme, veral na aanleiding van 'n bekende fabel van die mens wat een sak met die onvolmaakthede van ander mense voor hom dra, maar n baie groter sak met sy eie gebreke op sy rug het. Volgens Coornhert, soos aangehaal deur Stridbeck (1956:108), simboliseer hierdie figuur die dwaasheid van die onnadenkende massa, soos dit in sy eie tyd te voorskyn tree in die religieuse onverdraagsaamheid van die Hervorming.

 

3. INTERPRETASIE VAN DIE SKILDERY DIE GEVEG TUSSEN KARNAVAL EN LENT MET DIE OOG OP INTERPRETASIE VAN CLOETE SE BUNDEL

Pieter Bruegel is gebore enkele jare na die dood van Raphael, tydens die leeftyd van Michelangelo, enkele jare na die verskyning van Desiderius Erasmus se Tot lof van dwaasheid in 1511, en kort nadat Martin Luther in 1517 sy 95 Stellinge teen die kerkdeur van Wittenberg vasgespyker het. Jeroen Bosch is oorlede 'n jaar voor die veronderstelde geboorte van Bruegel in 1525. Bruegel het dus geleef in tye van groot intellektuele en kreatiewe prestasie, maar ook in n tyd van godsdienstige omwentelinge. Die Reformasie was gedurende sy leeftyd in volle swang. Luther het hom verset teen gebruike wat op uiterlike vertoon fokus en wat gebaseer is op die geloof aan vergifnis deur goeie dade. Te midde van sulke politieke omstandighede is dit nie verbasend dat 'n groot deel van Bruegel se werk 'n godsdienstige of moraliserende strekking het nie.

Die skildery Die geveg tussen Karnaval en Lent word redelik algemeen as n moralistiese allegorie geïnterpreteer (Swarzenski 1951:2) wat hoofsaaklik op simboliese vlak funksioneer en waar figure dus karikatuuragtig uitgebeeld word. Hoewel die skildery geïnterpreteer kan word as n allegoriese voorstelling van die kontras tussen goed en kwaad of tussen deug en ondeug, sou dit n beperkende interpretasie van die skilderygegewe meebring. Die blote feit dat karakters in beide dele van die skildery satiries uitgebeeld word en negatiewe simbole gebruik word om beide die strydende partye uit te beeld, weerspreek 'n interpretasie wat op kategoriese opposisies berus. Ook die feit dat daar geen duidelike grense tussen die Karnavals- en Lentvieringe bestaan nie, maak so n interpretasie onwaarskynlik. Die feit dat skilderye met dieselfde tema deur ander skilders van die laat Middeleeue dikwels as "Luther se dans met sy non" bekendgestaan het, wys heen op n meer geskakeerde, dalk selfs alternatiewe interpretasiemoontlikheid.

In terme hiervan is dit meer waarskynlik dat die skildery bestempel kan word as kritiek op die dwaasheid van die mensdom wat verskillende denominasies aanhang (Lent = Katolisisme; Karnaval = Lutherane) - 'n geloofskeuse wat die mens egter nie kan vrywaar van sy ingebore dwaasheid wat tot sonde aanleiding gee nie. In ooreenstemming met hierdie interpretasie is dit nie vreemd dat die stryd gelykop verloop nie. Heelwat van die Karnavalsondersteuners is reeds aan Lent se kant van die ruimte óf naby die grens óf op pad soontoe. Die bakkery wat pannekoeke (lekkernye) én pretzels (Lentkos) verkoop, sowel as die put is ambivalente plekke. Die voëlvlug-perspektief wat die skildery kenmerk, suggereer dat die skilder nie kant wil kies nie, maar (dalk effens sinies) as buitestander op die toneel van die strydendes afkyk. Dit is bekend dat Bruegel, hoewel hy lank onder die beskerming van die Katolieke kardinaal Granvelle gestaan het, in die geheim lid was van 'n groep vrydenkers wat rondom D.V. Coornhert gesentreer en uiteraard antiklerikaal gesind was (Foote 1971:79; Schneeman 1986:30).

Soos dit ook ten opsigte van die werk van ander beeldende kunstenaars van sy tyd die geval is, moet Bruegel se skildery gelees word as n teologiese argument waarin iets van die skilder se eie oortuigings deurskemer (Schneeman 1986:30). Die skildery bevat snydende kritiek teen Christene en hulle leefwyse as sodanig. Aan die Lentkant word Katolieke skynheiligheid uitgebeeld in die vreugdelose onthouding van kos; aan die Karnavalskant word Lutherane by wyse van vraatsugvoorstellings uitgebeeld - diegene wat glo dat verlossing deur genade alleen verkry word, wat opsetlik sondig deur hulleself te buite te gaan en sodoende die konsep van "genade alleen" besonder ver te dryf. Bruegel het dit in sy skildery teen uiterlikhede en die mens wat tot belaglike uiterstes gaan in sy ondiskriminerende navolging van mensgemaakte kategorieë, en sy uitbeelding daarvan is inderdaad besonder kras. Hy kritiseer karnalvalsweek, wat nog tot laat in die negentiende eeu algemeen as "de duivelsweek" bekend gestaan het (Stridbeck 1956:98), in sowel die Katolieke as die Lutherse geledere. Die Katolieke Kerk het die Karnaval veroordeel weens die uitspattighede wat direk voor die lydenstyd plaasvind en lidmate se aandag van die erns van laasgenoemde aftrek. Die Lutherse Kerk het die Karnaval met agterdog bejeën omdat die fokus gereeld op parodiëring van Luther en sy Kerk geval het met sy vryhede in terme van Lentgebruike.

Ook die simboliek wat in die skildery n bepalende rol speel, gee n aanduiding dat die skilder nie kant kies nie. Albei opponerende partye word duidelik satiries uitgebeeld, soos reeds hierbo aangetoon is. Die wa waarop Lent ry, is in Bruegel se tyd dikwels in antikatolieke grafiese kuns gebruik; die spelende kinders aan die Lentkant dui daarop dat die skilder die uiterlikhede van die Katolieke Kerk beskou as dwaas en waardeloos. Lutherane is destyds dikwels deur Katolieke as "drinkebroers" uitgeskel; die luitspeler aan die Karnavalskant simboliseer Martin Luther; verskeie voorstellings van doodsondes kan aan die Karnavalskant geïdentifiseer word. Hierdeur word die suggestie gelê dat Lutherane, wat beweer dat mens n Christen kan wees én jouself te buite kan gaan, hulleself sowel as ander mislei en n waarlik skrikwekkende lewe van bedrog lei (Stridbeck 1965:102-107). Katolieke, daarenteen, word as huigelagtig en oppervlakkig in hulle geloof uitgebeeld.

Daar is nog een belangrike simbool wat vermelding verdien, naamlik die groot aantal gestremde persone wat aan beide kante van die skildery voorkom. Sommiges ly aan spasmodiese paraplegia, ander aan gevorderde locomoter ataxia (n uitgroeisel as gevolg van akute sifilis), nog ander het horrelvoete en gebreklike bene (Quilldrivers 2015). Die tyd waarin Bruegel geleef het, staan in die geskiedenis bekend as die era van die opbloei van die rede. Soos Foucault (1973) argumenteer, het die opkoms van die rede gepaardgegaan met n parallelle konsep van nie-rede. Stainton (2004:241) wys op die gebruik van Bruegel en sy tydgenote om rede en nie-rede as opposisiepare in die beeldende kunste voor te stel. In terme van die rasionele mens, word die Ander, aldus Foucault, dan dikwels gesimboliseer deur die gestremde of gebreklike mens, die idioot of die blinde. Die dwaas word dikwels voorgehou as n spieël waarin die mens homself kan sien. Daarom word die nar meestal met n spieël in die hand uitgebeeld (Watson 1979:335). Gesien in die lig van die interpretasie dat daar n ooreenkoms is tussen gestremdheid en morele verval, is dit insiggewend dat gestremde figure nie net aan een kant van die skildery voorkom nie, maar aan beide kante (Stainton 2004:229, 235) - n bevestiging van die argument dat dwaasheid oor die hele spektrum van menslike groeperinge voorkom en nie beperk is tot n enkele groep nie.

Bruegel se ikonografie sluit aan by die algemene gebruike van sy tyd. In die skildery onder bespreking slaag die skilder dan ook daarin om n besonder getroue weergawe te verskaf van die gemeenskap waarin hy lewe. Die skildery verskaf, in allegoriese terme waarmee die meeste mense van Bruegel se tyd welbekend was, n aktuele weergawe van die onenigheid tussen die Katolieke en die gereformeerde Lutherane wat indertyd die Europese samelewing vergiftig het. Dit beeld ook die siening uit (wat veral deur Coornhert gewild gemaak is) dat die universele dwaasheid van die mens hom telkens in onguns by God laat verval (Stridbeck 1956:105, 108). Anfam (2003:707) wys daarop dat Bruegel, waarskynlik in aansluiting by Erasmus, dikwels in opposisiepare gewerk het in n poging om antiteses te versoen. Die morele tema van Bruegel se skildery kan, in terme van hierdie verduideliking, dus beskou word as sowel van toepassing op sy eie tyd as universeel van aard. Hierin sluit die skildery aan by Erasmus se Tot lof van dwaasheid, waaruit eweneens die opvatting spreek dat alle menslike optrede noodwendig spruit uit dwaasheid en selfsug. Nadruk op Karnaval en die karnavaleske lag in die Middeleeue word algemeen geïnterpreteer as klemlegging op dwaasheid as die inherente menslike kondisie. Hierdie alomteenwoordigheid of universaliteit van "karnavaleske lag" word deur Bakhtin (1984:11) soos volg verklaar:

It is, first of all, a festive laughter. Therefore it is not an individual reaction to some isolated 'comic event'. Carnival laughter is the laughter of all the people. Second, it is universal in scope; it is directed at all and everyone, including the carnival's participants. [...] Third, this laughter is ambivalent: it is gay, triumphant, and at the same time mocking, deriding.

Vir Erasmus is hierdie "lag" van die Karnaval selfs meer as 'n lag saam met ander vir die self en die A/ander. By hom is refleksie oor dwaasheid 'n simboliese proses wat selfkennis fasiliteer en wat vergestalt word deur die spieël wat die nar voor sy eie gesig hou (Watson 1979:340). Ten slotte kan gestel word dat die ruimtes van die Karnaval en van die dwaas in wese ambivalent is: in beide gevalle word 'n alternatiewe wêreld tot stand gebring deur die ondermyning van kategorieë van professionalisme, identiteit en prestige. Karnavalstyd met sy klem op dwaasheid is in wese ook n ambivalente tyd: n tyd van fees en boetedoening; n tyd waarin Christus se lyding, dood én opstanding gedenk word; n tyd van klem op die heilige én die profane wat steeds saamresoneer in die problematiek waarmee die mens van 450 jaar later daagliks moet saamleef.

 

4. WAT IS DIE MENS? T.T. CLOETE SE BEWERKING VAN DIE KARNAVAL EN LENT-GEGEWE

Omdat Bruegel dikwels van tegnieke soos satire en allegorie gebruik maak wat hoofsaaklik met die letterkunde geassosieer word, word sy werk allerweë as besonder poëties beskou. Sy sosiale kommentaar bly, ten spyte van die verloop van etlike eeue, steeds relevant (Burness 1972/1973:157; Homan 2006). Homan (2006) is die mening toegedaan dat Bruegel se skildery verrassend noukeurige kommentaar lewer op die moderne lewenstyl, veral ten opsigte van eet en sy teenhanger dieet. In die lig daarvan is dit nie vreemd nie dat T.T. Cloete 450 jaar later steeds konstruktief en kreatief met die skilderygegewe in gesprek kan tree. Dit is onmoontlik om binne die beperkinge van hierdie artikel dié "gesprek" in besonderhede na te gaan. Daar sal dus volstaan word by n kort bespreking van die gebruik van die Karnaval- en Lentsimbole by Cloete, waarna die uitbeelding van die mens van sy tyd, soos dit aansluiting vind by of afwyk van Bruegel, onder die loep geneem word.

4.1 Karnaval en Lent as verpersoonliking van die menslike kondisie

Soos dit uit die bespreking in die eerste deel van die artikel geblyk het, word Bruegel se skildery deur baie kritici as n allegoriese uitbeelding beskou van onder andere menslike swakheid en verval in Bruegel se eie tyd en ruimte, maar met die klem op universele menslikheid. Aangaande die digterlike werkwyse wat neerslag gevind het in Cloete se bundel, is die slotgedig besonder insiggewend, aangesien dit die werkwyse van die digter openbaar maak. Dit is opvallend dat Cloete verskeie van Bruegel se skildertegnieke as't ware in poëtiese vorm op sy bundel oordra:

op sy beurt is die gedig omvattend geïnteresseer
in die beleefbaar eksistensiële benoembare
en vermoedelik onnaspeurbare Onbenoembare

hoe die vis deur my ingewande gekonsumeer
word tot drek en tegelyk Ichtus simboliseer
die liggaam kan selfs as hy vermink is
homself in n raptus mentis
tot die eteriese sublimeer

die gedig verklaar
die omblom van soma in pleroma
is en bly onverklaar

die gedig wil die geveg tussen karnaval en lent
in n onbesliste gewapende stilstand op die ou end
in taal besweer (160).2

Hierdie gedig kan beskou word as tesisstelling van wat en hoe in die tersaaklike bundel geargumenteer word. In dié sin is dit natuurlik ook n gekonsentreerde opsomming van die hooftemas wat in die bundel aangeroer word. Dit blyk dat die digter geïnteresseerd is in die gedig as literêre artefak wat in staat is om die transendentale en die subliem ongrypbare in taal te "besweer" - in die sin van bonatuurlik betoor, die gees(telike) oproep, bearbei, versper, ensovoorts. Deur aktivering van die opposisiepare vis/Ichtus en ingewande/drek word n belangrike aspek van die digter se werkwyse openbaar gemaak, naamlik dat kategoriese opposisies hier n beduidende rol by betekenisgewing speel. Die reël "die omblom van soma in pleroma" is n presisering van hoe daar met opposisies gewerk sal word: vir hierdie bundel is die inherente dualiteit en ambivalensie van die menslike kondisie wel belangrik, maar die primêre fokus val op die versoening van opposisies en nié op die absolute skeiding van kategorieë nie. Daarom is die verklaring van die digter dat die stryd tussen Karnaval en Lent onbeslis is, belangrik, soos dit ook by Bruegel belangrik is dat hy vanuit n objektiewe, voëlvlugperspektief skilder. Trouens, dieselfde voëlvlugperspektief kom by Cloete voor, byvoorbeeld in die gedig "die baksel"(65) waar die digter as't ware afkyk op die aarde "as oorstromings stede uitwis".

Die gebruik van bepaalde simbole by sowel Bruegel as Cloete is ook opmerklik in die bundel wat ter sprake is. Die mees voor die hand liggende simboliek is natuurlik dié van Karnaval en Lent, wat verskeie kere by Cloete voorkom. In die gedig Lent word Karnaval (77) spreek die digter skerp kritiek uit teen die kommersialisering van (voorheen) Christelike feesdae: Kersfees se Kersvader mag wel " n kindermolesteerder sonder naam" wees, terwyl die Jesus van Paasfees lankal vergete is, maar die vakansie wat die naam daarvan dra, steeds onder andere "op beenwit[!] stande" deurgebring word. Uiteindelik eggo in die somber slotsom iéts saam van die uitspattigheid, bedrog en oppervlakkigheid waarin die Karnaval in Bruegel se tye ontaard het:

by die opgefoptes
onder die gloeiende fopname
neon sy Naam nog altyd die heel beste reklame (78).

Ook in Bruegel se tyd het die klem op die Karnaval geval en die Lentvieringe is deur baie verontagsaam of dit het ontaard in uiterlike vertoon, soos dit duidelik uit die tersaaklike skildery spreek.

Insgelyks word in "nieu-karnaval: sitstaking in londen of washington" (110) n moderne, ironiserende weergawe van die antieke Karnaval aangebied wat inderdaad, as omdigting en herskrywing van die Bruegel-kunswerk, n egte ekfrasis-voorbeeld is. Uit die gedig wil dit voorkom asof die mens wat sigself besig hou met "opruiende pestivals" (110) dit steeds doen sonder die krag van eie oortuiging en in navolging van leiers wat ideologieë en filosofieë verkondig wat min van hulle volgelinge verstaan. Soos reeds gesien, beskou kunskritici soos Stridbeck (1956:108) die hooftema van Bruegel se skildery as n uitbeelding van die anonieme massa se onvermoë om vir hulleself te dink. Die talryke verteenwoordigers en klakkelose na-apers van sowel die allegoriese Karnavalskoning as Lent wat in die strate feesvier, sou net sowel die moderne mens kon wees wat bepaalde denkrigtings aanhang sonder om dit te bevraagteken:

die uitsoekplekke vir opruiende pestivals
is op straat

vir die opwinding van aktivisme in sit- en slaap-
stakings ter wille van die aktivisme as sodanig
sonder agenda soos sky diving
vir die blote avontuur van die veilige waag (110).

Hieruit blyk die massamens-sindroom van die oorbekende stakings wat ook ons eie demokratiese bestel kenmerk. Die skatologiese einde van Cloete se gedig is wel in ooreenstemming met sommige tydgenote van Bruegel se werke, soos Sebald Beham en Pieter van der Borcht s'n (Steward 2004), maar dit kom nêrens by Bruegel self voor nie. Die beskrywing van weersinwekkende besonderhede mag hier dui op n walging aan die sinnelose protesaksies en die doellose vermorsing van tyd wat eie is aan die post-postmoderne tydvak, maar kan eweneens in verband gebring word met die sinsnede "die luukse van die versadigdes" vroeër in die gedig - n versadiging wat oorloop na die openbare ruimte waarin individualiteit en veral individuele verantwoordelikheid en verantwoordbaarheid vervaag:

op sypaadjies van die metropole
ontlas en urineer ons tussen slymerige kondome (110).

In aansluiting by die bogenoemde interpretasie sou dié reëls ewe goed gelees kon word as die manifestasie van die verveelde mens van ons tyd wat sy sin vir waardes verloor het en wat as gesiglose lid van die anonieme massa sy selfrespek kwytgeraak het. Implisiete verwysings na die anonieme massa kom trouens heel dikwels in die bundel voor, soos in die gedig vyf brak kolle:

bedelaars by stopstrate
en prostitute vir penisse van getroude selibate
is die kinders van die fallus
en eier wat eksponensieel
eier en maag en eier en maag teel (97)

Die twee simbole wat by Bruegel verteenwoordigend is van die opposisiepaar Karnaval en Lent, naamlik die vis en die vark, word deur Cloete in dieselfde semantiese konteks benut, naa mlik as simbole van heiligheid en onheiligheid. In die gedig "kat" (15) kom die vis as teenhanger van die "onreine" voor, terwyl die "die vis / Ichtus" in "hutspot" (64) sowel vis as geheime teken van die Christus is, soos wat "die hottentotsgot / en Iwan die Verskriklike" in dieselfde "misantropiese gesig" saamgevat is. Net soos by Bruegel, staan die vark by Cloete vir die sondige en die onreine. In "andoelie kom eerste" (17) beweer Cloete selfs dat eet "ons eerste opstand teen die Heilige" was en, erger selfs:

uiteindelik sal ons sterf met vet om ons lippe
en vleis tussen ons tande as die armaggeddon kom (17)

'n Ambivalente simbool wat nie net in Cloete se nuutste werk 'n belangrike rol speel nie, maar wat sy hele oeuvre kenmerk, is dié van die gestremde mens. In aansluiting by die negatiewe simboliese waarde van kreupeles en idiote as die Ander in Bruegel en sy tydgenote se werk, word die volgende vraag in die gedig "dronk gedraai" (29) gevra: "hoe het die idiopaat / tussen dit wat heilig en suiwer is beland"?

Die negatiewe konnotasies wat algemeen by Bruegel en sy tydgenote aan die simbool van die gestremde mens gekoppel word, is egter nie oor die algemeen tiperend van Cloete se werk nie. Taljard (2012:5-6) toon aan dat wanneer Cloete oor die gestremde mens skryf, daar dikwels outobiografiese besonderhede betrokke is, maar ook dat dié mens by Cloete gewoonlik kreatiwiteit en die kunstenaar as sodanig simboliseer. Dit is inderdaad ook die betekenis wat dié simbool meestal in Karnaval en Lent het. In "kaalgat" (127) sê die sprekende ek van homself: "ek hang in my krukke voor die ruit". Hierdie stelling sou ewe goed waar kon wees van die konkrete outeur, wat ook met krukke loop. In die gedig "hierdie sigbare gedig"(148-149) word kreupelheid simbolies van die kunstenaar wat aan die werk is, maar dié kunstenaar is beslis ook T.T. Cloete self:

hierdie gedig is geskryf met die vingerpunte
van my linkerhand
eintlik skryf mens met jou pols
maar myne is vol artritis aan my regterhand

- van my skedel af tot by my groottone
en voetsole is hierdie gedig geheimsinnig
geskryf in die mees ongryplike sublieme efemeros
van n pynlik gebakkelde lyf

Cloete se vroeër werk wemel van verwysings na gestremdes. Die kunstenaar Hefaistos word byvoorbeeld in die bundel Onversadig (2011) beskryf as "die hinkende horrelvoet Hefaistos", wat egter ook "die kunstenaar met die behendige hande" is (Cloete, 2011:82). Cloete (2013:143) beweer: "In die kunswêreld is daar n vreemde saamgaan van genialiteit en artistieke begaafdheid in n liggaam wat lyk of dit n belemmering is." Die klem op die "lelike", mismaakte mens sluit by Cloete nie noodwendig gestremdes in nie, maar slaan meer dikwels op diegene wat hulleself mismaak deur hulle dwase lewenswyse.

4.2 Cloete se uitbeelding van die mens van sy tyd

Soos die mens in Bruegel se skildery hoofsaaklik as sondig en dwaas uitgebeeld word, is Cloete se uitbeelding van die tydgenootlike mens in Karnaval en Lent ook oorwegend negatief. Die mens het n probleem vir homself en vir die planeet geword:

toe het ons gekom n plaag geword
die opmars van n horde
voetgangersprinkane en kommandowurms
wat alles voor hulle verteer (117)

Die lewenswyse van die moderne mens waaraan die digter n afsku het, word dikwels met vraatsug in verband gebring. Die gedig "ons die mismaaktes" (63) bevat byvoorbeeld n karnavaleske beskrywing van die moderne mens se obsessie met eet:

onsierlike mense
sakke vet hang van die voor-
en agterkant af (...)
vetaanpaksels rondom die anale en erogene sones
deur die Voorsienige voorsien vir tye
van onvoorsiene honger en dors

oorbodige banale aanpaksels
ironies
ook wanneer dié honger en dié dors
nié daar ís nie (63)

Beskou mens die skildery van Bruegel, is dit duidelik dat die moderne mens soos uitgebeeld deur Cloete in die opsig van brassery en ooreet nie veel verskil van sy eweknie van 450 jaar gelede nie. "[E]et was ons eerste sonde", staan in die gedig "andoelie kom eerste" (17). Die verwysing na andoelie (varkwors) is 'n heenwysing na die onreinheid van die vark wat in die Bruegel-skildery n sentrale plek inneem. Met verwysing na Bruegel se uitbeelding van brassery, skryf Cloete in "Brueghel bestry Descartes en Kant" (23):

Pieter Brueghel - die wysgeer van die kwas -
begin anders as Descartes en Kant heel vóór
by die leb

het ons vulgêre krop dan nie oortuigende
bewyskrag nie

ek éét
dáárom is ek

In hierdie skreiend ironiese reëls definieer nie ons denkvermoë nie, maar die vermoë om te eet ons dus as mense! Ons eetlus noop ons weer om, in 'n poging om aan die eise van 'n mooi liggaam te voldoen, "gimnasiums / en skoonheidsalonne" (25) te onderhou. Die hoogtepunt van die digter se afsku aan die vraatsugtige mens word in die gedig "God lees koerant nadenkend" verwoord waar die vraat die metafoor word van die plunderende mens oor wie God berou het:

ek het berou die eiegeregtige vrate
is te veel snoep klein happies
van my geheime toegelaat

Ten opsigte van die teenhanger van ooreet, naamlik dieet, word deur sowel Bruegel as Cloete kritiese kommentaar gelewer. Homan (2006) vestig die aandag op die parallelle tussen die skildery en die moderne lewenstyl waarin "a new secular and scientific morality, the discipline of diet" die plek ingeneem het van Lent-onthouding wat deur Bruegel op oordrewe wyse uitgebeeld word. Cloete beskryf anorexia nervosa as 'n siekte van ons tyd:

as anorexia nervosa van jou 'n geraamte maak
is jou skoot en jou grysstof se blus uit

In hierdie siekte is die ander twee siektes wat die gedig noem - gebrek aan libido en Alzheimers - saamgetrek. Dit is dus 'n siekte wat in homself die simptome van leefstylsiektes verenig. Dit is natuurlik ook n siekte wat met egosentrisme en klem op voorkoms verbind word - aspekte wat by herhaling in die Cloete-bundel ter sprake kom en wat die moderne verbruikersgemeenskap kenmerk:

ons skryf boeke oor ons rekord
vir toegewyde leesgieriges wat self
sat en passief is
voetbalkapteine popsterre en ikone skryf outobiografieë vir en met hulle tande

Die mooi en suksesvolle mens het die afgod van ons tyd geword:

vandag is dit so maklik en aanloklik om te dros
om op te gaan in glanspersone en glitterati
in ikone wat kom en gaan (56)

Al die bogenoemde simptome dui op n bepaalde kunsmatigheid en gebrek aan eie identiteit wat die moderne mens en sy "onedele transenderinge" (Cloete 2013:293) kenmerk. In die gedigte "lewensafrigters" (114-118) en "mi gruwelt" (119-121) spreek die digter hom besonder sterk uit oor die "afgerigte geoefende gedresseerde mens" (121), "die wekes wat ly aan angs aan stres / trauma vrees neurose psigose" (118). Vergelyk:

afgerigte afrigters rig afrigters af
my God my God ontferm U oor ons
om ons soos honde en perde
katte en papegaaie af te rig
om te lewe (118)

Die mens se ontrou aan God as manifestasie van sy inherente dwaasheid (by Bruegel word dit deur die pleeg van die sewe doodsondes gesimboliseer) kom herhaaldelik in die bundel onder bespreking voor, byvoorbeeld in "mense" (55) waarin dit eweneens - soos hierbo aangehaal -eksplisiet gestel word dat God berou gehad het dat hy die mens gemaak het. In aansluiting by Bruegel wat dwaasheid oor die spektrum van denominasies veroordeel, lê ook Cloete klem daarop dat ons een mensheid is en God een God. In "god lees koerant nadenkend" (81-82) skryf hy:

is ek n kerk? hulle versnipper en verstik my
in n olla potdrida denominasies
[...]
onderling is hulle n verleentheid vir mekaar
hulle weier dat hulle in een liggaam
deel is van mekaar hulle verdeel
volgens die kleur van hulle huid en hare
of die oë die dunner of dikker oogbanke
die neuse die hoogte van die wangbene
die breedte van die heupe die skewe geel
of bloedbevlekte slagtande.

Hier sluit die digter aan by sy argument in sy reflekterend-outobiografiese Die ander een is ek, naamlik dat die skeiding tussen persone en entiteite eintlik maar n fiksie is en deel uitmaak van ons siening van wie ons is.

Dit lyk, na aanleiding van die voorafgaande bespreking, asof die digter van Karnaval en Lent die moderne mens hoofsaaklik negatief beoordeel. Hierdie beeld van die mens vind ook in die Bruegel-skildery neerslag, onder andere in die Bosch-heks as Lentsimbool, die gepynigde gesigsuitdrukkings van haar volgelinge, die suur gesigte aan die Karnavalkant van die skildery en die boosaardige maskers wat sommige feesvierendes dra, maar ook deur die uitbeelding van doodsondes in die skildery. Aan die ander kant is dit wel ook so dat daar verskeie gedigte in Cloete se bundel staan oor die sublieme eienskappe van die mens as sodanig, ongeag die feit dat die moderne mens in wese verdorwe is en in sonde en dwaasheid verval het: die mens is, aldus die digter van Karnaval en Lent, in sy wese "homo duplex" (40).

4.3 Die menslike kondisie as grondliggend ambivalent

In Die ander een is ek (Cloete 2013:35) skryf Cloete dat dit hom stomslaan waarom ons die "vraagteken [van die maag] met iets so banaal, so platvloers en kombuiserig soos pap moet voer as ons wil sing [...] [D]it het my geboei dat ons liggame ons tot die numineuse en pneumatologiese kan laat styg en ons 'n angelus kan laat sing." In 'n onderhoud (met Taljard 2014) sonder hy twee aspekte van die "dubbele gesig van die werklikheid" uit wat hom geboei het en wat hy in die onderhawige bundel probeer gestalte gee het: "Hoe onverklaarbaar is hierdie versoening van heilig en onheilig in een liggaam!" Dit is een aspek van die bundel; die ander is: "Hoe kan biologiese materie omgesit word in die immateriële, die konkrete in die abstrakte, vleis in woord ...?" Die Janusgesig is een van die belangrikste motiewe in die bundel - 'n beginsel wat in Bruegel se skildery vergestalt word deur die ineenvloei van grense, deur die put wat die Karnaval- én die Lentkant bedien, die pad wat deur beide partye gebruik word en die bakkery wat Karnaval- én Lentgebak voorsien.

Die ambivalente aard van menswees word deur Cloete in die gedig "kat" vergestalt in die verskoning wat die digter aanbied en die klem wat op die menslike aktiwiteit geplaas word deur middel van die rymende woorde "onreine", "pynlike" en "gepeins":

ek vra vergifnis omdat ek die onreine
in my pynlike peins
saam met die spartelende vis indra (15)

Die mens word in dieselfde gedig beskryf as:

nietig en nederig hooghartig
bestem vir liefde en vir moord (15)

In Die ander een is ek, n werk wat in dieselfde tyd as die bundel Karnaval en Lent ontstaan het, skryf Cloete (2013:294) oor dié ambivalensie in die mens se samestelling:

Dit is onbegryplik dat die homp vleis in ons ivoorskedel, wat op verbysterende en onverklaarbare wyse omgesit word in kosbaarhede soos liefde, hoop en dergelike, tegelyk ook (noem maar op) aaklige en selfs dodelike dinge soos haat, woede, afguns of moord transendeer.

Die fassinasie van die digter ten opsigte van die gelyktydige bestaan van teenoorgestelde pole in die mens, hang saam met sy verwondering aan die omsetting van soma in pleroma, soos blyk uit verskeie gedigte:

onbegryplik hang die begryp van die heilige en ewige
af van vleis en brood (15)

In hierdie gedig rym verskeie woorde met teenoorgestelde betekenis met mekaar om die saambestaan van teenstrydighede in die wese van die mens te suggereer: "onbegryplik" rym uiteraard met "begryp" en "heilige" rym met "vleis". Ook hier is die goue draad wat dwarsdeur die bundel loop opmerklik, naamlik dat ons liggame "kwyl, urineer en ontlas, maar uit hierdie liggaam ontstaan wonderlike dinge: Dit kan praat [... ] boeke skryf en musiek maak" (Cloete 2013:33 - oorspronklike kursivering).

Die volgende aanhaling verteenwoordig een van die mees eksplisiete verklarings van die digter se verwondering oor die omsetting van die onheilige in die heilige:

hoe spring ek oor die afgrondelike
dun afstand tussen
soma en pleroma

ek word gedryf tussen Karnaval en Lent
n wrede uitputtende geskarrel (45)

Hoewel die mens se dwaasheid, onvolmaaktheid en diepe verdorwenheid in gedig na gedig aan bod kom, lê die klem in die bundel bepaald nie eenduidig op die negatiewe nie, maar in die feit dat die negatiewe getransendeer kan word, soos dit onder andere spreek uit die bostaande sitate. In hierdie geval moet n mens Die ander een is ek met Karnaval en Lent saamlees, waar Cloete (2013:58) in laasgenoemde argumenteer dat ons deur die skryf van poësie ons eenmalige lewens kan transendeer, kan vermenigvuldig en kan vier sonder dat die aarde konkreet oorbevolk raak. Poësie werk met kollektiewe transendente by wyse van metafore, simbole en beelde wat in verskillende tale, kulture en tye dieselfde geïnterpreteer word: "Deurdat die gedig praat in kollektiewe transendente, praat die gedig nie net namens die skrywer nie, maar namens ontelbare lesers" (Cloete 2013:58); sodoende verkry die gedig dus algemeen-geldige of universele betekenis. Daarom is dit moontlik dat Bruegel se skildery en Cloete se gedigte, ten spyte van die verskillende mediums waarin die werke gemaak is en die groot tydspan wat hulle skei, as't ware dieselfde taal praat en dat die voorstelling van die mens wat daaruit na vore tree, desnieteenstaande deur ons verstaan word.

 

5. SLOT

Die doel van hierdie artikel was om enkele ooreenkomste en verskille tussen die twee kunswerke wat aan bod gekom het, uit te lig en te bespreek. Omdat beide kunswerke by wyse van kollektiewe transendente funksioneer en gevolglik argetipiese inhoude aktiveer, is dit moontlik om so n vergelyking te maak. Dit beteken dat die grondtrekke van wat die kunstenaars as die mens van hulle tyd uitbeeld, ook vir alle tye geldig is en dat ons 450 jaar later steeds kan identifiseer met Bruegel se voorstelling van die menslike kondisie.

Daar is gepoog om aan te toon dat die klem in beide kunswerke val op die simboliese uitbeelding van Karnaval en Lent, die goeie en die slegte in die mens, maar dat die liminale sone - daar waar geen kategoriese opposisies geld nie - in beide kunswerke die fokuspunt vorm. By Bruegel beteken dit dat die skilder hom nie skaar by enige van die groepe wat hy uitbeeld nie, maar dat hy die klem daarop lê dat die mens, ongeag die denominasie wat hy aanhang, steeds menslik bly en geneig is tot dwaasheid en sonde. By Cloete val die klem op die inherente dualiteit (die Janusgesig) wat die mens kenmerk: hy is sowel liggaam as gees, boos én heilig, egoïsties én deel van die "ander een". Die doel met die klem op opposisiepare is - soos ook by Erasmus - n poging om antiteses te versoen.

Sowel Bruegel as Cloete beskou die menslike kondisie - die kondisie van die onnadenkende anonieme massas - as dwaasheid en verdorwenheid. In dié sin bevat beide kunswerke iets van n moraliserende karakter, alhoewel nie in n beperkende sin nie. Die twee kunswerke deel n fokus op eet as simbool van die dekadente en diep verdorwe mens. By Bruegel word die gebreklike en siek mens n spieël waarin die mensdom sigself behoort te sien. By Cloete neem "dié wat blote fok is" (28), die "onsierlike mense" (63) wat hulleself mismaak deur oordaad en oorbenutting van dit wat "die teruggetrokke Heilige [...] te goeder trou [...] van sy infras en ultras aan ons vrygestel" het (55), die plek in van gebreklikes, blindes en siekes by Bruegel. Hoe dan ook, dit lyk asof dit by Bruegel én by Cloete die doel was om die mens voor 'n metaforiese spieël te plaas ten einde n simboliese proses wat tot selfkennis mag lei, te fasiliteer. Deel van die proses van selfinsig is dit wat Bakhtin die karnavaleske lag noem: die bevrydende insig van 'n gemeenskap, n "lag", nie vir ánder nie, maar sáám met ander vir die dwaasheid van die gemeenskap, 'n ambivalente lag wat vrolik, seëvierend en spottend tegelyk is. Hierdie refleksie is in sy wese 'n simboliese proses wat kollektief plaasvind binne die meerduidige ruimte van die Karnaval en van die dwaas wat homself in die spieël wat die kunstenaar voor hom hou, as dwaas leer eien het.

 

BIBLIOGRAFIE

Anfam, David. 2003. De Kooning, Bosch and Bruegel: some fundamental themes. The Burlington Magazine, 145(1207):705-715.         [ Links ]

Bakhtin, Mikhail. 1984/1941. Vert. Helene Iswolski. Rabelais and his world. VSA: Indiana University Press.         [ Links ]

Bybel. 1989. Verklarende Bybel. Kaapstad: Lux Verbi.         [ Links ]

Cloete, T.T. 2011. Onversadig.Tafelberg: Kaapstad.         [ Links ]

Cloete, T.T. 2013. Die ander een is ek. Plettenbergbaai: Pooka.         [ Links ]

Cloete, T.T. 2014. Karnaval en Lent is een gedig. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers.         [ Links ]

Foote, Timothy. 1971. The world of Bruegel c. 1525 - 1569. VSA: Time-Life International.         [ Links ]

Foucault, M. 1973. The Birth of the Clinic: An Archaeology of Medical Perception. London: Random House.         [ Links ]

Homan, Roger. 2006. Carnival and Lent: Pieter Bruegel the Elder's The Battle between Carnival and Lent makes apt comment for the twenty-first century. http://www.socialaffairsunit.org.uk/blog/archives/000829.php. [18 Februarie 2015].         [ Links ]

Quilldrivers. 2015. The fight between Carnival and lent by Peter Bruegel (1525-1569). http://quilldrivers.com/FBCAL.shtml.[18 Februarie 2015].         [ Links ]

Schneeman, Liane. 1986. Pieter Bruegel the Elder and the Vogtherrs: Some sources of influence. Zeitschrift für Kunstgeschichte, 49(1):29-40.         [ Links ]

Stridbeck, C.G. 1956. 'Combat between Carnival and Lent' by Peter Bruegel the Elder: An allegorical picture of the sixteenth century. Journal of the Warburg and Courtauld Institutes, 19(1/2):96-109.         [ Links ]

Stainton, Tim. 2004. Reason's Other: the emergence of the disabled subject in the Northern Renaissance. Disability and Society, 19(3):225-243.         [ Links ]

Swarzenski, Hanns. 1951. Bulletin of the museum of fine arts, 49(275):2-11.         [ Links ]

Taljard, Marlies. 2012. Gesprek oor drie millenniums: T.T. Cloete se herskrywing van Homeros se Achillesskild-gegewe. Literator, 33(2):1-8.         [ Links ]

Taljard, Marlies. 2014. Onderhoud met T.T. Cloete. http://versindaba.co.za/tag/marlies-taljard-onderhoud-met-tt-cloete/.[18 Februarie 2015].         [ Links ]

Watson, Donald G. 1979. Erasmus' Praise of Folly and the spirit of Carnival. Renaissance Quaterly, 32(3):333-353.         [ Links ]

 

 

 

Marlies Taljard is verbonde aan die Skool vir Tale van die Noordwes-Universiteit, Potchefstroom-kampus. Verskeie artikels en hoofstukke van haar het in geakkrediteerde vakpublikasies verskyn. Sy tree op as artikelkeurder vir nasionale en internasionale akademiese tydskrifte en as manuskripkeurder vir Suid-Afrikaanse en Nederlandse uitgewers. Sy het referate op nasionale en internasionale kongresse gelewer en tree op as spreker by openbare geleent-hede. Sy is redakteur van Woord en Daad. Die afgelope jare het 'n groot aantal resensies van haar in verskeie publikasies verskyn. Op Versindaba behartig sy 'n blog oor die digkuns en dien sy op die permanente resensiepaneel. Sy is tans betrokke by navorsing oor sowel die toegepaste linguistiek as die literêre teorie.
Marlies Taljard is a lecturer in the School of Languages at the North-West University (Potchef-stroom Campus). She has published extensively nationally and internationally and presented papers at numerous conferences. She regularly writes book reviews for local and international newspapers and academic journals. Her solo blog on a prestigious SA poetry website is widely read. She serves on the editorial staff of several accredited and non-accredited journals and acts as adjudicator for literary awards. Currently her research focusses on rhetoric and literary theory.
1 Pieter Bruegel het sy naam tot 1559 as "Brueghel" geteken, maar daarna het hy die "h" weggelaat. Sy seuns, wat hom opgevolg het, het egter die "h" behou. Ek bebruik in die teks deurgaande die vorm sonder die "h".
2 Waar slegs 'n bladsynommer as verwysing voorkom, word verwys na Cloete, T.T. Karnaval en Lent. 2014. Kaapstad: Tafelberg.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License