SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.55 número2Voorwoord"The poem is play" - aspects of play in a number of T.T. Cloete's poems índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.55 no.2 Pretoria jun. 2015

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2015/V55N2A2 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS

 

T.T. Cloete en die subalterne1

 

T.T. Cloete and the subaltern

 

 

Marius Crous

Departement Tale Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit Marius.Crous@nmmu.ac.za

 

 


OPSOMMING

T.T. Cloete was nog altyd, sedert sy debuut in 1980, 'n digter wat kritiek gelewer het op die Suid-Afrikaanse samelewing in die breë. In navolging van Rancière (2004), wat in sý navorsing die verhouding tussen filosowe en die armes ondersoek het, kan die volgende vrae gestel word: In watter mate word die werklike lot van die armes in Cloete se oeuvre uitgebeeld? Hoe word hulle representeer? Spivak (1988) se teoretisering oor die subalterne en oor stemgewing aan die subalterne word betrek in hierdie ondersoek. Die vraag word ook gestel: In watter mate tree daar by die skrywende subjek 'n afleer en 'n verleer van sy bevoorregte subjekposisie in? Slaag hy daarin om aan die stemlose Ander 'n ruimte te bied waarbinne hulle kan praat?

Trefwoorde: subalterne, T.T. Cloete, Afrikaanse poësie, armes, Spivak, Rancière, subjek, post-koloniale subjek, afleer van subjekposisie


ABSTRACT

In his poetry the eminent Afrikaans poet T.T. Cloete has, since the publication of his first collection in 1980, always been very critical of contemporary society and the lack of respect by humans for fellow human beings and for the environment, as well as of the lack of interest in intellectual matters shown by the large majority of people. In his later poems, situated in post-colonial, post-apartheid South Africa (after 1994), he is even more acerbic in his satirical take on society and in particular on the new political elite, guilty of inhumane treatment of the people who voted them into power. The French philosopher Rancière (2004) writes extensively on the poor, in particular on the prevalence of writings about the poor (an essentialist concept usedfor the sake of the theoretical argument), and asks why there is such a preoccupation with the poor amongst philosophers. He poses this question in the light of the fact that there seems to be no interest on the side of the poor for philosophy and philosophers. The theoretical basis of my reading of three poems by Cloete is underpinned by Spivak's classical question whether the subaltern can speak, as well as by her famous dictum that one should be "unlearning one'sprivilege as one's loss". Spivak (1988) examines Gramsci's use of the term subaltern and - based on her interaction with the Subaltern Studies group, in particular with the comments by Guha - shows to what extent Deleuze and Foucault perpetuated the colonial view of the subject. In her revisionary essay she uses the practice of sati, or widow burning, as an example of how the subaltern Other may be silenced. Spivak's classic essay, "Can the subaltern speak" forms the basis of this engagement with the Other in Cloete's poems. By positing this theoretical approach, the critic is aware ofthe binary oppositions underpinning such a reading, but do so in order to "interrogate the covert philosophical and political presuppositions" (Derrida) of both the text and the method of reading. Readers of analyses of literary texts still favour the search for the meaning of the text and such an approach is undermined in this analysis of Cloete's work. The premise of my reading is that the white patriarchal male writing subject uses the poor, or the underprivileged as Other, as material for his poems, not only to highlight the plight of the poor, but also to deliver his scathing commentary on the dystopic post-colonial society in which he is writing and speaking. In the second part of this analysis, I will show how two poems describing the suffering of young children mimic the poet's attempt to "unlearn" his position of privilege. As will be indicated in conclusion, however, the reader is faced with an aporia The subaltern remains silent because of the unwillingness and/or inability of the writing subject to allow them to speak in their own voices. To what extent did the subject "unlearn" his position? Despite him showing compassion towards the Other, the reader is still not satisfied. The Other is still not allowed to speak and serves merely as poetic models for the writing subject. Significant is the fact that Cloete examines a sense of self-transcending empathy with the Other in his poems on children. In thefirst ofthe two poems under discussion, the subaltern, or the object ofdescription, is a young girl. In Spivak's writings on the subaltern, perennial concerns are the position ofwomen and the silencing of women in colonial historiography. Male dominance is still central to the hegemonical discourse into which the female subaltern has to inscribe her own subjectivity.

Key words: subaltern, T.T. Cloete, Afrikaans poetry, the poor, Spivak, Rancière, subject, postcolonial subject, unlearning of subject position


 

 

INLEIDING

In sy poësie het T.T. Cloete hom nog altyd krities uitgespreek oor die tekortskietende individu en samelewing, veral oor wanpraktyke wat hy in die eietydse Suid-Afrika waarneem. Die Ander van Cloete se poësie sluit jongmense in wat plesier najaag, 'n jong, ongetroude swanger meisie en haar morele transgressie, mense wat die ekologiese sisteem bedreig, asook die armes as slagoffers van gierige regeringsleiers wat nie simpatiek staan teenoor die armes se lyding nie.

Die digter se voorstelling van die armes (die stemlose massa) herinner myns insiens aan Rancière se betoog in die boek The philosopher and his poor (2004), wat oorspronklik in 1983 in Frans verskyn het. 'n Sentrale kwessie wat in Rancière se teks na vore kom, is die vraag: Waarom is filosowe so ingestel op die lot van armes en die werkersklas? Hy wys voorts daarop dat die werkers nie ingestel is op die kritiese aktiwiteite van die filosowe nie. Hoekom skryf die filosowe dan so graag oor die armes uit die werkersklas? Rancière ondersoek hierdie kwessie aan die hand van idees deur onder meer Plato, Marx, Sartre en Bourdieu en stel sy gevolgtrekking soos volg: "A philosophy of the poor populates our theories, our politics, our social sciences" (Rancière 2004:131). Die gevolg van hierdie preokkupasie is dikwels 'n reeks ongeldige aannames oor die bestaan van 'n homogene sodanige groep.

Die vraag wat ontstaan, is in watter mate digters - in die besonder dan T.T.Cloete - op die armes fokus en die armes tekstueel representeer. Die definisie van die sogenaamde armes - van die Ander of die subalterne of watter etiket ons ookal daaraan gaan koppel - het volgens Rancière deur die jare verander. Of dit nou die skoenmaker is wat Plato in sy republiek aangetref het of die werker in Marx se Das Kapital: om van "die armes" te praat kom neer op 'n voorlopige en selfs polemiese definisie wat 'n groep op essensialistiese wyse homogeniseer. Tog, ter wille van dié ondersoek, is dit 'n benaming wat hier gebruik gaan word. In dekonstruksieterminologie sou die woord geskrap ("sous rature" - Derrida 1976:44) kan word om aan te dui dat dit gebruik word ter wille van die kritiese argument, maar dat dit eintlik ontoereikend is om wat beskou word, te omskryf.

 

TEORETIESE BEGRONDING

As teoretiese vertrekpunt vir hierdie ondersoek sluit ek aan by wat Spivak in haar klassieke opstel "Can the subaltern speak?", wat in 1988 in Nelson en Grossberg se Marxism and the interpretation of culture opgeneem is, aangaande die onderhawige kwessie geskryf het. In hierdie opstel formuleer Spivak ook een van haar belangrikste kritiese uitgangspunte, naamlik dat "postcolonial intellectuals learn that their privilege is their loss" (Spivak 1988). Spivak se ondersoek na die subalterne klas - 'n begrip wat sy ontleen aan Gramsci se Prison Notebooks (Morton 2003:48) - kom op die volgende neer: Spivak (1988:272) problematiseer die Westerse subjek soos dit manifesteer in die werk van Deleuze en Foucault, maar gebruik Marx se konsep van die desentralisering van die subjek om aan te dui dat Deleuze en Foucault essensialisties is in hulle beskouing van die Ander; daartydens bestem hulle die werkers en armes as 'n enkele, heterogene groep. Veral Foucault word gekritiseer omdat hy, volgens Spivak (1988:272), te veel konsentreer op die "pervasive heterogeneity of power" en op die konstruksie van die subalterne deur middel van diskoers en representasie. Sy kritiseer beide Deleuze en Foucault omdat hulle, volgens haar, te veel staat maak op 'n deursigtige model van representasie, waarvolgens "oppressed subjects speak, act and know their own conditions" (Spivak 1988:276).

Voorts beskou sy die Westerse opvattings oor die subjek as 'n tipe herkolonisering. Ten slotte fokus sy op die sati-praktyk in Indië, waarvolgens weduwees verbrand word ná hul mans se dood, en analiseer veral Westerse diskoers en die stemgewing aan die vrou binne dergelike diskoers, om vas te stel of die vrou wel 'n stem gegun word, al dan nie. Net soos die koloniste geswyg het oor die sati-praktyke in Indië, maak Westerse intellektuele die subalterne stil en gun die subalterne nie 'n stem nie. Spivak (1988:295) skryf in dié verband soos volg:

In seeking to learn to speak to (rather than listen to or speak for) the historically muted subject of the subaltern woman, the postcolonial intellectual systematically "unlearns" female privilege. This systematic unlearning involves learning to critique postcolonial discourse with the best tools it can provide and not simply substituting the lost figure of the colonized.

Gramsci (in Ashcroft et al. 2010:198) het die begrip subaltern gebruik om te verwys na daardie lede van die samelewing wat onderworpe is aan die hegemonie van die heersersklas; daardie onderworpenes sluit in kleinboere, werkers en groepe wat tradisioneel nie toegang het tot hegemoniële mag nie. Gramsci brei uit op die Leninisties-Marxistiese visie op klasposisie, oftewel op klasbewussyn-opposisie, en is veral ingestel op die intellektueel se rol in die kulturele en politieke mobiliteit van die subalterne, dit wil sê vanuit 'n marginale na 'n sentrale posisie binne die hegemonie (Spivak 1999:269). In haar kritiek jeens Guha en die sogenaamde "Subaltern Studies"-kollektief in Indië staan Spivak veral opgestel teenoor die Westerse Marxistiese klasmodel, wat gebruik word om die geskiedenis van Indië te ondersoek. Guha is van mening (kyk Morton 2003:7) dat die klasseverdeling wat tot op daardie stadium in post-koloniale Indië gegeld het, gehandhaaf is deur die kloof tussen "a small group of educated, middle-class men holding political and economic power, and a large impoverished population of rural-based peasant labourers, with little or no access to the benefits of national independence".

Vir die doel van my bespreking gaan ek fokus op die volgende gedigte deur T.T.Cloete: "nuttelose verse" uit sy bundel Onversadig (2011:117), en "Kinders 1 en 2" uit die bundel Karnaval en lent (2014:90-91). My "metode" sluit aan by die volgende opmerking van Beardsworth (aangehaal deur Royle 2000:4):

Derrida is careful to avoid the term ['method'] because it carries connotations of a procedural form of judgment. A thinker with a method has already decided how to proceed, is unable to give him- or herself up to the matter of thought in hand, is a functionary of the criteria which structure his or her conceptual gestures. For Derrida this is irresponsibility itself.

Die tendensie dat kritiese lesers, ongeag hul teoretiese diskoers, altyd ingestel is op die interpretasie van 'n gedig, woord na woord, reël na reël, sonder om strategieë soos die tekstuele spoor ("trace"), die uitstel van betekenis ("différance") of die kritiek-as-teks in ag te neem, is 'n probleem. In sy bespreking van De Saussure se siening van die teken is Derrida (1976:51) van mening dat, in plaas van in terme van tekens, daar eerder in terme van spore ("traces") gedink moet word. Laasgenoemde is volgens hom die absolute oorsprong van die algemene sin vir teksontsyfering en die spoor "is the différance which opens appearance and signification" (Derrida 1976:65). Mikics (2009:84) verklaar die spoor as "difference, deferral-différance: the gap between one word and another, or one moment and another that makes meaning."

As supplement tot Cloete se gedigte self, verteenwoordig hierdie artikel nie 'n poging om tot 'n sluitende geheelbevinding te kom of om die sogenaamde interpretatiewe betekenis van die onderhawige gedigte te ontsluit nie. Spivak, in haar onlangse Readings (2014), is gepreokkupeer met die literêre leesproses en skryf byvoorbeeld soos volg daaroor:

How does one read? One inserts oneself inside the text of the other, not as her/himself. It is not 'Please Hegel, be like me!' It is rather 'Hegel, here I come, to ventriloguize you'. (Spivak 2014:31)

Of soos Spivak (2000:23) dit elders stel:

You mark your place in the text, as far as you can, so that you don't feel like offering your thoughts as a totalizable generalization, which, by the presuppositions of deconstruction, would be a transgression.

My interpretasie van Cloete se tekste sluit hierby aan, aangesien dit vir my nie soseer gaan oor die interpretasie van die gedigte om tot 'n sluitende betekeniskonstruksie te kom nie. Of soos Culler (1983:221) dit stel: "The conclusions deconstructive readings reach are frequently claims about structures of language, operations of rhetoric, and convolutions of thought, rather than the conclusion about what a particular work means."

 

DIE SUBJEK EN DIE ANDER

In die volgende metapoëtiese gedig van Cloete reflekteer die digter-spreker oor die rol van sy skryfwerk en is daar by hom, soos die titel reeds suggereer, 'n gevoel van onvergenoegdheid en ontevredenheid omdat sy werk as nutteloos beskou word:

nuttelose verse

ek het oor julle geskryf

julle sinkkaias wat lek
julle strate waarop julle kniediep
deur die modder loop om te stem
vir julle munisipaliteite se dienslewering
en demokratiese parlement

ek het geskryf oor die rommelhope
op julle straathoeke julle kaalvoetkinders
wat in vodde loop en met beespense
vir sokkerballe speel in julle velde
vol stof en klippe

dit staan in my boeke

het julle dit gelees
het julle pryslieddigters
wat dit aan julle voordra

skoolkinders en studente
van die elite skryf daaroor eksamens

is julle kaias nou baksteenhuise
met dakke wat nie lek nie
met platforms wat nie stink na rook nie

het julle nou spoeltoilette met geursproeiers
en vrieskaste of wasmasjiene

is julle mae nou vol
julle dors geles
het julle komberse

ruik julle die parfume van my taal[.]

Die sprekende subjek in hierdie teks is 'n digter en stel homself teenoor die Ander, wat hy as "julle" aanspreek. Die woord "julle" kom trouens 16 keer in die gedig voor en illustreer die volgehoue opstelling van die binêre opposisie tussen ek en Ander. Dit verklaar hoekom die openingsreël, "ek het oor julle geskryf", as tweeledig van betekenisimplikasie interpreteer kan word: enersyds wys die subjek daarop dat hy oor die armes geskryf het as tema in sy gedig, maar, andersyds, verwys dit ook na die feit dat sy skryfwerk bokant hul vermoëns was (hy het "bo-oor" hulle geskryf) - soos blyk uit die res van die gedig. Die volgende opmerking van Benveniste (1971:225) oor die wisselwerking tussen die ek en die jy/julle is hier ter sake: "Language is possible only because each speaker sets himself up as a subject by referring to himself as I in his discourse.

Because of this, I posit another person, the one who, being as he is, completely exterior to me, becomes my echo, to whom I say you and who says you to me." Hierdie vasstelling van die subjek-objek-relasie sluit aan by Hegel se bekende meester-slaaf-dialektiek en is funksioneel in hierdie konteks waar die skrywende subjek hom posisioneer teenoor die post-koloniale Ander en vanuit 'n posisie van bevoorregting en superioriteit skryf.

Cloete situeer sy gedig in die post-1994 Suid-Afrika met verwysings na die "demokratiese parlement" en die stemproses wat dit voorafgegaan het. Die leser word in hierdie gedig gekonfronteer met die postkoloniale Ander; die homogene groep wat as "julle" aangespreek word en teenoor wie die spreker ooglopend krities is. Die post-koloniale bestel met sy hebsug en die politieke vergrype van die nuwe heersersklas verklaar ook Cloete se distopiese visie op sy vasteland en vaderland.

Teenoor die Ander staan die skrywende, intellektuele subjek wat vanuit sy patriargaal bevoorregte posisie standpunt inneem as wit manlike digter teenoor die vergrype en die onregte in die land, maar dit direk assosieer met die post-koloniale Ander. Beide subjek en objek is in hierdie posisies ingeskryf - iets waaroor Spivak (1990:68) soos volg skryf:

The space I occupy myself might be explained by my history. It is a position into which I have been written. I am not privileging it, but I do want to use it. I can't fully construct a position that is different from the one I am in.

Hierdie subjekposisie suggereer dat Cloete 'n intellektueel is wat boeke skryf oor die Ander en hulle ekonomiese stryd om oorlewing binne die nuwe bestel van bevrydheid. Hy skryf sy idees neer en is in die bevoorregte posisie dat sy tekste voorgeskryf word aan "skoolkinders en studente / van die elite". Skryf staan sentraal in sy intellektuele projek en, soos De Jong (2011:2) aandui, staan die volgende gegewe by so iets inbereken: "[o]m tot skrif en die gedrukte media toegang te hê, beteken vir die inheemse, nie-Europese of gekoloniseerde subjek om die oormag van 'n oorgeplante taal te aanvaar". Die inheemse subalterne in Cloete se gedig blyk nie toegang tot die gedrukte media te hê nie en moet op die gesproke woord staatmaak om sy kritiek te kan hoor. In haar oorsig oor die werk van Cloete meen Pretorius (1998:348) dat "Cloete se intellek die stramien van sy verse [vorm]", naamlik soos dit voortspruit uit sy "ensiklopediese kennis, sy beheersing van die gekompliseerde wondere van die mens, van 'boeke - ons verlengstukke'"; en soos dit tot uitdrukking kom in Cloete se "verbasende leksikale toerusting".

Epistemiese verskille tussen die subjek en die Ander blyk ook uit Cloete se jukstaponering van die twee kulture: enersyds is daar die skryfkultuur waarvan hy deel uitmaak, en wat sentreer om "verse", "skryf en "boeke"; andersyds die orale kultuur van die Ander, met "pryslieddigters" en die "voordra" van poësie. Die versugting van die subjek is dat sy sosiale kritiek teen die nuwe dispensasie aan die Ander voorgedra moet word, sodat hulle kennis kan neem daarvan en moontlik daardeur aangespoor kan word om in verset te kom. As skrywende subjek illustreer hy die relevansie van die volgende uitspraak: "Oral communication unites peoples in groups. Writing and reading are solitary activities" (Ong 1982:69). Op etnosentriese patroon word die subalterne in Cloete se teks geassosieer met 'n fonosentriese kultuur, terwyl skrif en die geskrewe woord sentraal staan in die kultuur en diskoers van die skrywende subjek. Vir Derrida (1976:43), in wie se argumente hieraangaande skrif of grammatologie sentraal staan, word geïmpliseer dat spraak oënskynlik voorsiening maak vir 'n begrypbare en klinkklare betekenis, terwyl skrif meer verhuld funksioneer. Mikics (2009:73) verklaar Derria se verduideliking oor dié opposisie soos volg: "[Writing] surprises us, disconcerts us in a way that speech cannot (at least not in its straightforward, ideal version)." Skrif word as superieur bestempel.

In die Cloete-teks hier onder beskouing is, gegewe die Suid-Afrikaanse konteks, ook juis hierdie ondergeskiktes wat binne die post-koloniale bestel steeds slagoffers is van 'n hegemoniese staatsapparaat, daar dit hulle geensins ekonomies bevoordeel nie. Die kritiek op die hegemonie word uitgespreek in 'n diskoers gekenmerk deur uitinge soos "sinkkaias" en "vodde". Hierteenoor word die nuwe staatsmaghebbers beskryf as "die elite" wat toegang het tot beter basiese dienste en opvoeding. Die elite is, volgens Rancière (2004:165), verantwoordelik vir die skep van 'n gevoel van verwerping by die armes, vir die skep van 'n behoefte ('n "want") en vir die oprigting van grense. Dié sienings eggo die woorde van Ngugi (1993:91) wanneer hy post-koloniale samelewings beskryf as "a perfect replica of colonial practices".

Die Ander as homogene groep wat deel uitmaak van die nuwe politieke bestel word feitlik deur die subjek ondervra, naamlik in 'n poging om die mislukkings van die postkoloniale projek aan te dui. Die skrywende subjek enumereer daardie aspekte van die ander se bestaanservaring waaroor hy wel skryf: "die rommelhope op julle straathoeke julle kaalvoetkinders / wat in vodde loop en met beespense / vir sokkerballe speel in julle velde / vol stof en klippe". Die diskoers van die subjek word gekenmerk deur tekens wat eie is aan die leefwêreld van die Ander, maar vanuit sy bevoorregte posisie gebruik hy hierdie tekens om oor sy sogenaamde nuttelose verse te skryf.

 

DIE AFLEER VAN 'N SUBJEKPOSISIE

Een van Spivak se sentrale dicta is dat die subjek sy of haar bevoorregte posisie moet afleer. Die bevoorregtes se posisie in terme van ras, klas, geslag of nasionaliteit weerhou hulle daarvan om "Other knowledge" (vergelyk Landry en Maclean 1996:4) te bekom. Spivak (1990:62) skryf in dié verband soos volg: "Why not develop a certain degree of rage against the history that has written such an abject script for you that you are silenced? Then you begin to investigate what it is that silences you [.]" Die afleerproses veronderstel ook 'n geskiedenisgerigte bekritisering van die subjek se posisie as bevoorregte Self wat die Ander reduseer tot 'n tekstuele objek.

Hierdie opmerking van Spivak word as uitgangspunt geneem vir die bespreking van die volgende Cloete-gedigdeel:

kinders

1.
die kind kan nie afweer nie
haar handjies is van koue in vuiste gebal

sy kan nie opstaan nie
haar beentjies swik onder haar - sy val

sy het in baragwanath 'n kartonboks
vir 'n wieg gehad

haar onbekende pa en ma is werkloos
sy woon in 'n makoekoe teenaan die breë pad

waar die son jou uitbak
waar die reën jou deurweek en vigs jou siek
maak as dit oor ou sinkplate plastiek
en karton en oor die parlement en Parktown uitsak[.]

Die subjek in hierdie gedig skryf weer oor die armes, die subalterne Ander, en spreek kritiek uit jeens die nuwe, post-koloniale hegemonie. In hierdie intertekstuele gesprek met Ingrid Jonker se gekanoniseerde gedig "Die kind", tree daar, myns insiens, egter 'n verandering in by die subjek en is daar 'n poging om sy bevoorregte posisie al skrywende te bevraagteken. Die intertekstuele skakel met Ingrid Jonker se "Die kind wat doodgeskiet is deur soldate by Nyanga" word myns insiens nie net geaktiveer deur die "trace" in die titel nie, maar ook deur die openingsreël, wat Jonker s'n eggo.

Die aangesproke Ander in hierdie teks is 'njong meisie wat gebore is in die nuwe dispensasie en dus dubbele diskriminasie beleef, nie net vanweë haar klasposisie binne die hegemoniële struktuur nie, maar ook op grond van haar gender. Sy word gebore te midde van 'n patriargale diskoers waarin sy as ondergeskik aan die man beskou word. As vaderlose Ander kan sy nie aanspraak maak op bevoorregting nie en word haar lewe gereduseer tot abjekte armoede.

Cloete se herskrywing van die Jonker-interteks is, vanuit 'n genderperspektief, betekenisvol aangesien die manlike kind in Jonker se teks hier voorgestel word as vroulik. Wat veral koloniale historiografie betref, wys Spivak (1999:274) daarop dat die manlike gender steeds oorheers in diskoerse oor die subalterne objek. Die gevolg hiervan is dat die vroulike subalterne se posisie as stilgemaakte Ander steeds 'n ondergeskikte een is. Vergelyk ook die volgende uitspraak deur Spivak (1999:304):

Between patriarchy and imperialism, subject-constitution and object-formation, the figure disappears, not into a pristine nothingness, but into a violent shuttling that is the displaced figuration of the 'third-world woman' caught between tradition and modernization, culturalism and development.

Ten spyte van ontwikkelings in die post-1994 staatsbestel, so kan uit die teks afgelees word, is die Ander 'n jong, swart kind (want sy is gebore in die Baragwanath-hospitaal in Soweto en sy bly in 'n "makoekoe" langs die pad). 'n Makoekoe is 'n bewoonde hut uit "ou sinkplate plastiek / en karton". Die klassestelsel binne die post-koloniale opset word geïllustreer deur die verwysing na die "parlement en Parktown" - laasgenoemde woord die enigste in die teks waarvoor 'n hoofletter gebruik word. "Parktown" word hier 'n teken van die ekonomiese middelklas, terwyl "parlement" die hegemoniële staatsapparatuur met sy magsvergrype en post-koloniale voortsetting van ekonomiese dispariteit denoteer.

Soos die openingsreël ("die kind kan nie afweer nie") suggereer, beskik sy nie oor die nodige verweer om haar te kan verset teen die subjekposisie waarin die samelewing haar ingeskryf het nie: sy ly honger, sy kry koud, sy is vaderloos en vatbaar vir siektes.

Die afleerproses wat hier ter sake is, kan soos volg gepostuleer word: Die skrywende subjek van die eerste teks ("nuttelose verse") beleef 'n eksistensiële krisis in die tweede teks, want al gebruik hy steeds die subalterne as beskrewe objek in sy teks, is daar nie meer by hom die selfversekerde, byna chauvinistiese en hovaardige posisie nie. Die subjek toon deernis met die Ander en sy taalgebruik is ook nie meer so skerp afgeëts in die binêre opposisie ons / julle nie.

Empatie word betoon met die jong kind in die kartonboks sonder om in die diskoers van ideologiese Andersmaking te verval, en derhalwe slaag Cloete daarin om sy bevoorregte posisie as intellektuele, wit man in die nuwe politieke dispensasie te bevraagteken en te probeer verleer. Hy het die armes nodig om oor hulle te kan skryf, maar hy het ook die armes nodig om 'n deernis en empatie in homself te ontdek.

Vergelyk in dié verband 'n opmerking wat Cloete self maak in sy besinnende teks Die ander een is ek (2013):

Ek kan deur my medelye 'otherness' beleef. Ek kon medelye hê nie alleen met my langsaam sterwende vrou nie, maar ook met my oudstudent en vriendin, die skrywer Gretel Wybenga [...]. Medelye maak van jou die ander een, hoe kort dit ook al mag duur. (Cloete 2013:171 & 174)

Volgens Cloete ervaar die digter wat verse skryf oor die armes, 'n mate van katarsis. Die digter beleef deur selftransendering die ellende van die Ander.

Wat Cloete dus in hierdie ars poetica-gedig verwoord, is die artikulasie van 'n subjekposisie waar geskryf word vanuit 'n eie bevoorregte posisie as intellektueel en waar hy homself plaas teenoor die armes, die Ander, as objek van sy diskoers. Die Ander bly objekte; hulle word die stilgemaaktes, die stof waaroor hy 'n teks skryf. "[E]k het oor julle geskryf' het geïllustreer hoe daar oor die armes en namens die armes gepraat word. Om van "julle" te praat, is tewens ook tekenend van 'n essensialistiese ingesteldheid. Die meerderheid in die land is as 'n gender-onspesifieke, amorfe massa uitgebeeld. Wat Cloete, myns insiens, in die tweede bespreekte teks probeer doen, is om die problematiese binne die besinning oor die subalterne te betrek, naamlik om die vrou as beskrewe-objek-as-Ander in te skryf.

Die ongevoeligheid jeens die Ander se posisie word ook verwoord in die volgende gedig uit die tweeluik "kinders":

2.
hy weet dit nie hy is u kind
op 'n Sondag skuil hy langs die besigste straat
teen die snerpende suidewind

hy sit aan die noordekant
van 'n ou stuk karton agter sy rug
in die bevrore hoëveldse son

as skerm rondom hom
lê sakkies suur nartjies te koop
oos en wes gestapel

mense wat uit die erediens kom
ry verby na hulle knus
kombuise na eetvertrekke
en gaan ná ete
soos God op die sewende dag
rus[.]

Die subalterne Ander - hierdie keer is dit 'n manlike swart kind - se armoedige bestaan word gekontrasteer met dié van (waarskynlik) Christengelowiges ("mense wat uit die erediens kom") en is 'n aanklag teen laasgenoemde groep oor hulle onbetrokkenheid by die lot van die ander. Die kind probeer onder moeilike omstandighede "suur nartjies" te verkoop en sodoende ekonomies aktief wees, maar word heeltemal genegeer deur die welvarendes met hul "knus / kombuise" en "eetvertrekke". Soos in die eerste gedig in dié tweeluik, word die leefruimte van die kind gekoppel aan 'n "ou stuk karton" en word die tekstuele gebeure gesitueer op 'n ongewone plek, naamlik langs die "besigste straat". Uit albei gedigte lei die leser dus af dat die Ander se bestaan gekenmerk word deur ontworteling, ontnugtering en armoede, asook deur 'n onbetrokkenheid van diegene wat welvarend is (en moreel daarop ingestel behoort te wees om hul empatie en medelye met die Ander te betoon). Die erediensgangers in die tweede teks word gekritiseer omdat hulle nie die essensie van die Christelike godsdiens uitleef nie. Hulle betoon nie naasteliefde en betrokkenheid by die leed van ander nie.

Die suggestie in die openingsreël van die teks is dat die goddelike aangespreek word en die spreker konstateer dat die lydende Ander "u kind is". Dit impliseer dat die Ander, ten spyte van die onwilligheid van die elite om hom te help, vertroosting kan vind in die metafisiese. Ironies egter dat die welvarende elite se middagslapie met God se rus ná die skepping vergelyk word en as 'n relativering in die teks ingeskryf word.

"[U] kind" kan ook gelees word as synde 'n verwysing na die bevoorregte elite as subjekte, wat op 'n formele en gedistansieerde manier as "u" aangespreek word. Die elite neem nie die verantwoordelikheid op hulle om, getrou aan die beginsels van hul Christelike ideologie, simpatie en toegeneentheid jeens die objek te betoon nie. Daar is ook onkunde by die objek, want hy "weet nie" dat hy hierdie sentrale posisie binne die Christelike diskoers beklee nie. Metonimies kan hierdie teks ook gelees word as kritiek op die kerstening van die gekoloniseerde deur die sendeling as kolonis, wat eintlik maar net in diens staan van die ekonomiese sentrum en ingestel is op die bevordering en verryking van die self.

 

TEN SLOTTE, 'N APORIA

Ten spyte van hierdie afleerproses, word die leser van dié twee (of dan drie) tekste steeds gekonfronteer met die volgende aporia, verwoord in die terminologie van Spivak: "How the radical western intellectual can paradoxically silence the subaltern by claiming to represent and speak for their experience?" (Morton 2003:56)

Die aporia-konsep kom, volgens Derrida (1978:xvi), op die volgende neer: "Once a system has been shaken by following its totalizing logic to its final consequence, one finds an excess which cannot be construed within the rules of logic, for the excess can only be conceived as neither this nor that, or both at the same time - a departure from all rules of logic." Die onoplosbare konflik in die gemoed van die leser van Cloete se tekste lei tot die volgende tese: Cloete stel nooit die Ander in die drie tekste aan die woord nie, maar tekstualiseer eerder hul situasie in 'n poging om sy eie posisie van bevoorregting te bevestig of af te leer. Daar is by hom geen kritiese bevraagtekening van sy eie bevoorregte posisie as self nie. Hy kritiseer nie sy posisie binne die nuwe hegemoniële orde nie en hy vra ook nie vrae oor hoekom hy as intellektueel steeds, ná die post-koloniale moment van 1994, in "die parfume van sy taal" kan skryf oor die Ander nie, wetende dat die Ander hom nooit gaan lees nie, ook dat hulle nooit "by monde" van die digtende intellektueel met die leser gaan kommunikeer nie. Vergelyk Cloete (2013:173) se selfrefleksiewe opmerking in dié verband: "'n Mens kan nie altyd, miskien meestal nie, die medelydende gedig skryf wat jy graag wil skryf nie, juis omdat dit so futiel lyk.Jy kan niks doen aan die lydende mense in Bangladesj deur die skryf van 'n gedig nie, maar jy kan deur selftransendering hulle ellende beleef, dit kan verder selftransendering skep in die 'ander een' wat jou gedig lees, of wat jou skildery bekyk."

As skrywende subjek is hy steeds vasgevang in die "textuality of ideological and historical production" (Spivak 1990:28). Die vroulike subalterne van sy diskoers word steeds geïdentifiseer deur die "historically determinate systems of political and economic representation" (Morton 2003:67). Cloete is, in die woorde van Spivak (1999:369), deel van die intellektuele groep wat hul "complicity in the muting" van die subalterne moet erken; slegs dán kan sy selftransenderende empatie met die Ander geloofwaardiger wees. Sy opposisionering van self/ Ander is egter as kritiese vertrekpunt geneem in my ondersoek. In die woorde van Spivak (1999:112) "Let us hold on to this opposition, if only as a différance, one pushing at the other so that our discourse may live.". So 'n opposisionering is nodig om die teks te kan ontsluit, selfs al kom die leser mettertyd tot die besef dat hier sprake is van 'n aporia.

 

BIBLIOGRAFIE

Ashcroft, Bill et al. (eds). 2010 (2000). Post-Colonial Studies: The Key Concepts. Abingdon: Routledge.         [ Links ]

Benveniste, E. 1971. "Subjectivity in language." In: Problems in general linguistics. Miami: University of Miami Press.         [ Links ]

Cloete, T.T. 2010. Onversadig. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Cloete, T.T. 2013. Die ander een is ek. Plettenbergbaai: Pooka.         [ Links ]

Cloete, T.T. 2014. Karnval en Lent. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Culler, J. 1983. On deconstruction: Theory and criticism after structuralism. London & New York: Routledge.         [ Links ]

De Jong, M. 2011. "Ystervarken's gat" en "porcupine hole": Kaapshollands in die vroeë romans van J.M. Coetzee as transnasionalisme. Stilet 23(2):1-27.         [ Links ]

Derrida, J. 1976. Of grammatology. Baltimore: Johns Hopkins University Press.         [ Links ]

Derrida, J. 1978. Writing and difference. Chicago: University of Chicago Press.         [ Links ]

Gramsci, A. 2010 (2000). Subaltern. In: Ashcroft, Bill et al. (eds). 2010 (2000), pp. 244 -253.         [ Links ]

Landry, D. & Maclean, G. (eds). 1996. The Spivak reader: Selected works of Gayatri Chakavorty Spivak. New York: Routledge.         [ Links ]

Mikics, D. 2009. Who was Jacques Derrida? New Haven: Yale University Press.         [ Links ]

Morton, S. 2003. Spivak. London & New York: Routledge.         [ Links ]

Ngugi wa Thiong'o. 1993. Moving the centre. The struggle for cultural freedoms. London: James Currey.         [ Links ]

Ong, W. 1982. Orality and literacy. London: Routledge.         [ Links ]

Pretorius, R. 1998. T.T.Cloete. In: Van Coller, H.P. (red.). Perspektief en profiel, deel 1. Pretoria: Van Schaik, pp. 339-361.         [ Links ]

Rancière, J. 2004. The philosopher and his poor. Durham: Duke University Press.         [ Links ]

Royle, N. 2000. What is deconstruction? In: Royle, N. (ed.). Deconstructions. A user's guide. Houndmills: Palgrave, pp.1-13.         [ Links ]

Spivak, G.C. 1988. Can the subaltern speak? In: Nelson, Cary & Grossberg, Lawrence (eds). Marxism and the interpretation of culture. Chicago: University of Illinois Press, pp. 271- 313.         [ Links ]

Spivak, G.C. 1990. The post-colonial critic. Interviews, strategies, dialogues. New York: Routledge.         [ Links ]

Spivak, G.C. 1999. A critique of postcolonial reason. Cambridge: Harvard University Press.         [ Links ]

Spivak, G.C. 2000. Deconstruction and Cultural Studies. In: Royle, N. (ed.). Deconstructions. A user s guide. Houndmills: Palgrave, pp.14-43.         [ Links ]

Spivak, G.C. 2014. Readings. London, New York, Calcutta: Seagull Books.         [ Links ]

 

 

 

Marius Crous is 'n senior lektor in die Departement Tale aan die NMMU in Port Elizabeth. Hy het twee doktorsgrade verwerf, naamlik in Afrikaans-Nederlands (US, 2002) en Engels (UK, 2013). Drie digbundels het al uit sy pen verskyn.
Marius Crous is a senior lecturer in the Department of Languages at NMMU in Port Elizabeth. He was awarded doctoral degrees in both Afrikaans-Nederlands (US, 2002) and English (UCT, 2013) and he is also a published poet.
1 'n Eerste weergawe van hierdie artikel getiteld "Die digter en sy armes", is gelewer tydens die ALV-kongres aan die Universiteit van Pretoria in 2014.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons