SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.55 issue1Hengelo is Afrika: de Afrikaanse literatuur in Nederland in 2009 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.55 n.1 Pretoria Mar. 2015

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2015/V55N1A10 

AKTUEEL

 

Uitdagings vir Afrikaans in hoëronderwys: Die taalbeleid van die Universiteit van Johannesburg as gevallestudie

 

 

Anne-Marie Beukes

Departement Linguistiek, Universiteit van Johannesburg. ambeukes@uj.ac.za

 

 

1. HISTORIESE AGTERGROND

Die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU), die voorganger van die hedendaagse Universiteit van Johannesburg (UJ), is in 1967 gestig met die doel om 'n tuiste te bied aan Afrikaanssprekende studente in die Witwatersrandse omgewing wat oorheersend Engels was. Die RAU was sterk daarop gefokus om "eerstegenerasie" Afrikaanse studente uit 'n werkersklasagtergrond te bemagtig deur kwaliteitonderrig deur medium van Afrikaans aan te bied.

Twintig jaar later het die eerste Engelssprekende studente egter reeds aan die RAU begin inskryf en is onderrig deur medium van Engels geleidelik ingefaseer sodat tweetalige onderrig in 1996 ingevoer is. Parallelmedium onderrig het in die praktyk gemanifesteer in aparte lesings in Afrikaans en Engels, asook aparte leergidse en ook tutoriaal klasse in Engels en in Afrikaans. Hierdie praktyk het uiteraard 'n swaar finansiële las op die RAU se begroting, infrastruktuur en menslike hulpbronne geplaas.

Beperkte ruimte op die lesingrooster en beperkte aantal lesinglokale het veroorsaak dat die aantal lesings per week per module met die helfte verminder moes word. Die gevolg was dat slegs twee lesings per taal per module weekliks aangebied kon word in plaas van die pedagogies aanvaarbare vier lesings per taal per module. Daar is van dosente verwag om in albei tale te funksioneer terwyl nuwe aanstellings beperk is tot dosente wat tweetalig was. Daarbenewens is dosente se taak verder deur die parallelmedium beleid bemoeilik omdat voorbereidingstyd met die helfte per module verminder het. Dosente se navorsingsuitsette het ook in die gedrang gekom in 'n tydvak wat in die hoër onderwys toenemend bekend geword het as die "publish or perish"-era.

Die getal studente met 'n voorkeur vir Engels as onderrig- en leertaal het jaarliks aan die RAU toegeneem en gelei tot 'n wanbalans in die getal studente wat Afrikaanse en Engelse lesings bygewoon het. Teen 2004 het die ratio op 1:4 gestaan van studente wat Engelsmedium onderrig verkies het (Beukes & Pienaar 2009). Hierdie tendens het versnel sodat daar 'n sterk afname aan studente was met 'n voorkeur vir Afrikaansmedium onderrig (vgl. tabel1). Parallelmedium onderrig aan die RAU het spoedig plek gemaak vir Engelsmedium onderrig.

 

 

2. 'N NUWE INSTELLING VIR 'N NUWE ERA: DIE UNIVERSITEIT VAN JOHANNESBURG

Die heersende sosiopolitieke klimaat beïnvloed ook die hoëronderwyslandskap in die vroeë 2000's met die herskepping en integrering van Suid-Afrika se universiteite en technikons wat lei tot die vermindering van 36 instellings tot 22. Daarmee saam vind die grondwetlike bepaling oor veeltaligheid neerslag in die Wet op Hoër Onderwys (101 van 1997) en ook die Taalbeleid op Hoër Onderwys (2002) wat die bestaan van Afrikaanse universiteite verwerp omdat dit "runs counter to the end goal of a transformed higher education system" (DvO 2002:12). Die Taalbeleid op Hoër Onderwys (2002) poog om 'n nuwe veeltaligheidsdiskoers in te lei wat hoër-onderwysinstellings sal verplig om die ideaal te bereik van "the simultaneous development of a multilingual environment in which all our languages are developed as academic/scientific languages" (DvO 2002:5). Met die aanbreek van die demokratiese bestel in 1994 het 21 van die hoëronderwysinstellings slegs deur medium van Engels onderrig aangebied, vyf was Afrikaanse universiteite en tien instellings is beskou as tweetalig. Tien jaar later bestaan daar geen Afrikaanse universiteite nie, maar is daar 15 Engelsmedium instellings en sewe tweetaliges (Beukes 2014). Teen hierdie agtergrond kom die Universiteit van Johannesburg in Desember 2005 tot stand as die produk van die samesmelting tussen die RAU, die Vista Universiteit se Soweto- en Oos-Rand-kampusse en die Technikon Witwatersrand. Hiermee word ongelyksoortige instellings byeen-gebring met hulle histories-ongelyke infrastruktuur, menslike hulpbronne, onderrigaanbod, kampuskultuur met uiteenlopende personeel- en studentegemeenskappe en verskillende taalbeleidpraktyke om 'n sogenaamd veelomvattende universiteit tot stand te bring.

Die UJ aanvaar in 2006 'n taalbeleid met Sesotho saleboa, isiZoeloe, Engels en Afrikaans as "primêre tale vir akademiese en administratiewe, kommunikasie- en bemarkingsdoeleindes". Tabel 2 gee 'n aanduiding van die taaldemografie van die studentekorps ten tye van die ontwikkeling van UJ se taalbeleid waaruit 'n sterk verteenwoordiging van Engelssprekende studente blyk.

 

 

Die UJ se taalbeleid verbind hom wel tot die veeltaligheidsopdrag van die Taalbeleid op Hoër Onderwys (2002) met die bepaling om in "toenemende mate, en sover dit redelikerwys doenlik is, onderrig, leer en assessering in isiZoeloe, Engels, Afrikaans en Sesotho saleboa" te verskaf. Daarbenewens bind sy beleid die universiteit om "spesiale en omvattende kort-, medium- en langtermynmaatreëls(te) tref om Sepedi en isi Zoeloe vir akademiese, administratiewe, kommunikasie- en bemarkingsdoeleindes te ontwikkel en te gebruik".

Die UJ se taalbeleid bevat egter geen implementeringsplan met omvattende strategieë en meganismes of tydraamwerke aan die hand waarvan die beoogde beleidsbepalings aangepak sou word nie. Engels word vining die de facto-onderrigtaal wat tot gevolg het dat Afrikaanssprekendes UJ die rug keer. Beukes (2010) voer aan dat Afrikaanssprekendes uit die UJ se voedingsgebied in beduidende getalle hulle tot die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-universiteit en ook Stellenbosch Universiteit wend waar Afrikaansmedium onderrig tans wel beskikbaar is. In 'n poging om hierdie tendens die hoof te bied, loods die UJ 'n geïntegreerde bemarkingspoging in 2008 en 2009 om die universiteit se verbintenis tot Afrikaans onderrig wyer bekend te maak. Daar is ook duidelike tekens dat Afrikaanssprekende studente toenemend Engels as onderrigmedium verkies in die lig van globalisering (Beukes 2014).

Tabel 3 toon die kreeftegang van Afrikaans as voorkeuronderrigtaal aan die UJ aan.

 

3. Afrikaans se status as wetenskapstaal

Saam met die herstrukturering en Anglisering van die hoëronderwyslandskap om wyer toegang tot onderwys te verseker, het Afrikaans se status as 'n dinamiese onderrig- en wetenskapstaal uiteraard ook in die gedrang gekom. Mouton (2005) se navorsing toon die skerp afname in die beoefening van die wetenskap in Afrikaans aan (vgl. tabel 4).

 

SLOTSOM

Afrikaans se kreeftegang by die Universiteit van Johannesburg bevestig die grootskaalse domeinverlies wat Afrikaans tans in die hoër onderwys beleef te midde van die post-apartheid era se politieke en ekonomiese oogmerke. Die taal se glybaan in die hoëronderwyssektor is ook die gevolg van die snelle pas waarteen die sektor gegroei het deur die regering se massafikasie-projek. Grové (2006) bereken hierdie groei op sowat 62% gedurende die eerste post-apartheid dekade. Daarby moet die Anglisering van kennisproduksie en hulpbronontwikkeling wêreldwyd ook verreken word as 'n funksie van die strewe na internasionalisering en 'n wêreldekonomie.

Die vraag moet gevra word hoe die glybaan van Afrikaans as 'n akademiese en wetenskapstaal bestuur moet word ten einde die taal se plek en funksie in hoër onderwys te bestendig. Konstruk-tiewe proteksionisme soos die suksesvolle oprigting en/of voortbestaan van 'n Afrikaansmedium instelling is stellig een van die beste opsies. So 'n pro-Afrikaans benadering, of enige ander nie-Engels-opsie, moet duidelik nie vereenselwig kan word met etniese enklaves, oftewel 'n gebrek aan integrasie, in die hoër onderwys nie.

Daarmee saam moet konstruktiewe intervensie geskied soos die monetêre aanmoediging om in Afrikaans te publiseer ingevolge die LitNet Akademies-model. Die erkenning en uitleef van Afrikaans as wetenskapstaal moet in erkenning van taaldiversiteit in 'n naasmekaarbestaan-model as 'n belangrike hulpbron benut word. In hierdie konteks moet Afrikaans se vaktaalontwikkeling byvoorbeeld nie in isolasie plaasvind nie.

 

BIBLIOGRAFIE

Beukes, A-M. & M. Pienaar. 2009. Simultaneous Interpreting: Implementing multilingual teaching in a South African tertiary classroom. J. Inggs & L. Meintjes (eds). Translation Studies in Africa. London: Continuum, pp. 223-244.         [ Links ]

Beukes, A-M. 2010. 'Opening the doors of education': Language policy at the University of Johannesburg. Language Matters, 41(2):193-213.         [ Links ]

Beukes, A-M. 2014. Challenges for South Africa's Medium-Sized Indigenous Languages in Higher Education and Research environments. F. Xavier Vila & V. Bretxa (eds). Language Policy in Higher Education. The Case of Medium-sized Languages. Bristol: Multilingual Matters, pp. 121-137.         [ Links ]

Departement van Onderwys (DvO). 1997. Language in Education Policy. Pretoria: Departement van Onderwys.         [ Links ]

Departement van Onderwys (DvO). 2002. Language Policy for Higher Education. Pretoria: Departement van Onderwys.         [ Links ]

Grové, N. 2006. 'n Volhoubare plek vir Afrikaans in hoër onderwys en regeringsteun daarvoor. Deel I & II. www.litnet.co.za (Toegang 10 Februarie 2007).         [ Links ]

Mouton, J. 2005. Afrikaans as wetenskapstaal in Suid-Afrika. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 45(3):370- 385.         [ Links ]

Universiteit van Johannesburg (UJ). 2006. Taalbeleid. September 2006.         [ Links ]

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License