SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.55 issue1Redakteursnota: Afrikaans as universiteitstaalDie uitdagings vir Afrikaans in die hoër onderwys author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912

Tydskr. geesteswet. vol.55 n.1 Pretoria Mar. 2015

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2015/V55N1A10 

AKTUEEL

 

SAAWK Simposium: Opsomming van die gesprekke op 24 Julie 2014

 

 

Wannie Carstens

Skool vir Tale, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom. Wannie.Carstens@nwu.ac.za

 

 

1. Taal is altyd gekoppel aan mense. Dit geld ook Afrikaanse mense, wat passievol oor hulle taal is en aandring op die gebruik van hulle taal in die land. Afrikaanse mense glo in moedertaalonderrig, en glo in die reg wat hulle in die land het om hulle taal te mag gebruik. Afrikaanse mense weet ook die grondwet gee hulle daardie reg, en hulle wil dit graag opeis. Pogings om Afrikaans te na te kom, lok daarom altyd reaksie uit. Vir Afrikaanse mense is hulle universiteite van groot waarde, ook simbolies.

2. Elke universiteit waar Afrikaans vroeër aangebied is, soos UV, US, UP, NWU-PUK, UJ, UWK, UNISA, het 'n eie oplossing vir die hanteer van die posisie waarin hulle tans is. Die gesprek op 24 Julie was ook tekenend hiervan. Deur hierdie inligting te deel, leer ons by mekaar. Ons moet ook nie huiwer om verder met mekaar hieroor te praat nie.

3. Die stadige insluip van Engels by universiteite is opvallend. Aanvanklik was dit subtiel, maar uit die jongste uitsprake uit regeringskringe lyk dit asof die handskoene nou af is en die agenda duidelik is: word SA universiteite en nie taalgefokuste universiteite nie. Dus is Engels die gemene deler en Afrikaans, of Zoeloe, ensovoorts moet nie die pret kom bederf nie. Die tendense om hierdie skuif te illustreer, kom voort uit die statistiek oor taalgebruik aan SA universitiete. Aanvanklik was UP, PUCHO, UV, RAU, US sogenaamd Afrikaanse kampusse, maar die prentjie het in 20 jaar dramaties verander:

UP: nie meer oorwegend Afrikaans nie.

RAU: het UJ geword en daar is min Afrikaanse studente oor

US: Afrikaans in meertalige verband. Sluit in sterk fokus op Engels. Sluit in verskeidenheid opsies. Gebruik ook tolking.

UV: parallelmedium

NWU-PUK: Potch nog Afrikaans as primêre voorgraadse onderrigtaal, maar maak toegang moontlik deur opvoedkundige tolking

Dit blyk ook die Afrikaanse gemeenskap stem met hulle voete en gaan graag na sekere universiteite, soos US, NWU-PUK, minder na UP en UV, UJ verdwyn van die Afrikaans-sprekende radar af. Die Afrikaanse mark is 'n nismark.

4. Praktiese faktore werk in op die Afrikaanse karakter van universiteite: nasionaal en internasionaal is daar 'n swaai na Engels as taal van tersiêre gebruik. Dit word aangehelp deur 'n verskeidenheid faktore: politiek (baie sterk!, die ANC sterk gedryf deur ideologie en ook gefokus op regstelling), finansies, demografie (wat aan die verskuif is in SA, ook onder Afrikaanssprekendes), leierskap aan SA universiteite (gevaar van leierskap gekoppel aan een persoon). Die uitdaging is om dit te verreken in enige strategie.

5. Oplossings waarmee universiteite na vore kom, word nie waardeer nie, of selfs gering geskat. Tolking as oplossing aan die NWU word selfs intern ondergrawe, soos aan die NWU se Potchefstroomkampus. Die nuwe visekanselier bevraagteken byvoorbeeld dat tolking 'n oplossing vir taalprobleme kan wees, terwyl die belangrikste werk hieroor juis aan die NWU gedoen is. Die dilemma is ook 'n tekort aan fondse om die taalprobleme te kan aanpak op kampusse. Die gevoel is dat daar juis nie geld beskikbaar gestel word nie ten einde die verengelsingsproses te verhaas. Of dit waar is, weet ons nie, maar dis wel 'n persepsie.

6. Hoe dan nou? Is daar 'n oplossing, 'n strategie? Het die klok dus begin lui vir Afrikaans of nie? Ons moet wel weet: daar moet saamgewerk word om sukses te kan behaal. 'n Strategie moet gebou word op samewerking.

7. Ons moet die volgende as vertrekpunt gebruik:

a) Die enigste werklike oplossing is 'n politieke oplossing. Dis die kern van die proses.

b) Meertaligheid is 'n gegewe - daar moet binne hierdie raamwerk beplan word.

c) Daar moet ook die ander SA tale betrek word by die proses om 'n oplossing te kry. Dis nie net 'n Afrikaans-probleem nie, maar eerder 'n taalprobleem vs. ideologiese stiksienigheid.

8. Die pad vorentoe behels die uitwerk van 'n goed deurdagte strategie. Hierdie strategie sal die volgende moet betrek:

a) Bewusmaking van die breë publiek deur die media (koerante, TV, radio) - doel: laat publiek deur vrae die probleem in die openbare oog hou.

b) Die uitwerk van 'n plan deur belanghebbendes - in hierdie geval die aanbieders van die lesings by die simposium op 24 Julie. Dit is kundige mense, mense wie se insette kan help om 'n werkbare plan te formuleer. Kry hierdie mense dringend bymekaar.

c) Kry die mandaat van die Afrikaanse gemeenskap om die proses namens hulle te bestuur- daar is reeds voorgestel dat die SA Akademie hierdie rol vervul. Dit is ook so aanvaar deur die aanwesiges op die byeenkoms.

d) Gebruik die aspekte in par 7 as vertrekpunt.

e) Kommunikeer die plan.

9. Die SA Akademie sal reël dat die referente voor die einde van Augustus vergader. Ook aanwesig: prof J van der Elst (ATR), prof D Goosen (FAK), dr D Prinsloo en prof W Pienaar (SA Akademie).

10. Die opvolgvergadering het op 6 Sept. 2014 te Pretoria plaasgevind. Die volgende persone was hier aanwesig: Proff WAM Carstens, WJ Pienaar, dr. D Prinsloo (SA Akademie), prof NJ Grové (UP), prof D Goosen (FAK), dr Theuns Eloff (vroeër NWU), mnr F Buys (Solidariteit).

11. Opvolgwerk word nou gedoen en die komitee sal so spoedig dit prakties haalbaar is, weer vergader.