SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.55 issue1Charl-Pierre Naudé and Gert Vlok Nel in the Low Countries: Lateral transnational movements of Afrikaans poets into Dutch and English language areasRedakteursnota: Afrikaans as universiteitstaal author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.55 n.1 Pretoria Mar. 2015

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2015/V55N1A9 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS

 

EET en DRINK in Afrikaans - 'n leksikaal-semantiese ondersoek

 

EATING and DRINKING in Afrikaans - a lexical semantic study

 

 

Nerina Bosman

Departement Afrikaans Universiteit van Pretoria. Nerina.Bosman@up.ac.za

 

 


OPSOMMING

Die artikel is 'n kognitief semantiese, korpusgebaseerde leksikale ondersoek na die konsepte EET en DRINK in Afrikaans en vorm een onderdeel van 'n groter navorsingsprojek. Die artikel sluit aan by die studie van Taljard en Bosman (2014) wat interkulturele variasie tussen Noord-Sotho en Afrikaanse EET-metafore ondersoek en brei hierop uit deur ook DRINK-metafore te betrek. Die groter polisemiese struktuur van werkwoorde in die eet- en drinkwoordvelde is vervolgens ook by die ontleding betrek. As teoretiese raamwerk is die konseptuele metafoorteorie gebruik. Metafore is geïdentifiseer deur twee groot korpusse, naamlik die Universiteit van Pretoria Afrikaanse Korpus en die Taalkommissiekorpus met soekwoorde wat verband hou met die konsepte EET en DRINK te deursoek. Die motiverende rol wat die volksverstaan van die eet- en drink-prosesse speel in die tussendomeinkarterings is ondersoek en daar is aangetoon dat ons beliggaamde ervaring van die twee prosesse die groot dryfkrag is agter die totstandkoming van die metafore. Vir die bestudering van die interne polisemiese netwerke is daar gesteun op artikels in die WAT. Een afleiding wat gemaak word, is dat figuurlike betekenisuitbreidings, wat op grond van konseptuele metafore met die letterlike, meer basiese betekenisse skakel, volledig geleksikaliseer is in Afrikaans. In die slotparagraaf word aspekte soos die ouderdom en moontlike universele aard van die metafore aangeraak.

Trefwoorde: eet, drink, Afrikaans, kognitiewe semantiek, konseptuele metafoorteorie. korpusgebaseerde ondersoek, metafore, beliggaamde ervaring, universele metafore, kultuurspesifieke metafore, volksverstaan, polisemiese struktuur


ABSTRACT

This article reports on a cognitive semantic, corpus-based investigation into the semantics of eating and drinking in Afrikaans. It is part of a bigger research project on these concepts and builds on research by Taljard and Bosman (2014) on cross-linguistic variation between Northern Sotho and Afrikaans metaphors for eating, by also including metaphors for drinking in the analysis. The current article has as its focus the semasiological network of verbs in the word fields of eating and drinking and involves more than metaphor identification, although it is undoubtedly the case that metaphor plays an important role in such a network of expanding meanings. The study can broadly be described as Cognitive Semantic and in particular makes use of the insights regarding polysemy whithin this field. Conceptual Metaphor Theory as initially developed by Lakoff and Johnson (1980), Kõvecses (1986) and Lakoff (1987a, 1987b, 1993) provided the heuristic tools for analysing the linguistic metaphors that were identified. Newman's (1997, 2009b) work on what he terms the "linguistics of eating and drinking" served as the stimulus for the research.
The methodology chosen to identify the metaphors is empirical and corpus-based. As Stefanowitsch (2007:12) points out, corpus-based research into conceptual metaphors is still relatively new. In the light of Steen et al. 's (2010) plea for more rigorous methods in linguistics in general, and in metaphor research in particular, this study aimed to complement linguistic intuition with data extracted from two Afrikaans corpora, namely the University of Pretoria Afrikaans Corpus (UPAK, 15 million running words) and the corpus of the Language Commission of the South African Academy of Science and Arts (44 million running words). In addition, the Woordeboek van die Afrikaanse Taal ("Dictionary of the Afrikaans Language") and De Stadler and De Stadler's Tesourus van Afrikaans ("Thesaurus of Afrikaans") were used.
The focus ofthis investigation was not so much the verbs "to eat" and "to drink", signifying the activity of physically eating, as the conceptual notions of eating and drinking. Hence, the search words included not only the lexical items eet ("eat") and drink ("drink") and their derived forms, but also verbs which are semantically related to the notions of eating and drinking, such as vreet ("eating done by animals"), suip ("drinking done by animals"), verteer ("consume") and insluk ("swallow, gulp down"). After identifying possible search words, Wordsmith Tools was used to generate concordances in which the words could be studied in their context. Linguistic metaphors were identified by means of a manual search of the concordance lines.
The folk theory of the processes of eating and drinking was used to look for the motivation behind the metaphors. The embodied experience of the two processes and visual images representing the destruction and disappearance of the physical food and fluids clearly play a role in the creation of the metaphors. Moreover, some of the lexical items in the word field of eating and drinking, such as vreet, suip, verteer and verorber, carry additional emotive semantic meanings and associated images which contribute to the motivation underpinning, for example, metaphors of destruction.
As in Newman (2009b), the metaphorical expressions were grouped into two main categories: the first was based on the concept of internalisation, the second on that of destruction. Metaphors such as EMOTIONAL OR INTELLECTUAL ACTIVITY IS EATING/DRINKING; EMOTIONAL OR SPIRITUAL PAIN IS DRINKING; INTELLECTUAL ACTIVITY IS EATING and ACCEPTING IDEAS IS EATING/DRINKING were grouped under Internalisation. DIMINISHING IS EATING/ DRINKING, PHYSICAL OR SPIRITUAL TORMENT OR TORTURE IS EATING and DISAPPEARING OR ABSENCE IS EATING/DRINKING were grouped under the metaphors of destruction. Where metaphors showed evidence of both internalisation and destruction, such as ENSLAVEMENT or VICTORY IS EATING, they were discussed in a third group.
An analysis of the polysemous structure of some of the verbs showed that conceptual metaphors such as PHYSICAL TORMENT IS EATING are present in the figurative meaning extensions and are fully lexicalised in Afrikaans.
Lakoff (1993) suggests that some metaphors are universal, some are widespread and some are culture-specific. It may be argued that most of the Afrikaans metaphors that were identified are universal and not culture-specific, probably because the concepts themselves do not depend on specific cultural codes, but stem from universal embodied experiences. With regard to methodological considerations, it was noted that Stefanowitsch's call for more quantitative research to indicate the relative frequency and salience of certain metaphors still poses a challenge for Afrikaans.

Key words: Eating, drinking, Afrikaans, cognitive semantics, conceptual metaphor theory, corpus-based research, metaphors, embodied experience, universal metaphors, culture specific metaphors, folk theory, polysemous structure


 

 

1. INLEIDING

"Research on figurative language is fun. It leads one to find all sorts of intriguing phenomena", merk Hoffman en Honeck (1980:3) op. Van alle tipes figuurlike taalgebruik is metafoor miskien dié prototipiese voorbeeld. Die onteenseglike fassinasie wat metafoorondersoek vir filosowe, psigolinguiste en semantici inhou, is duidelik uit die hernude opbloei van belangstelling in hierdie ondersoeksterrein sedert die publikasies van Ortony (1979), Honeck en Hoffman (1980) en Lakoff en Johnson (1980). "Metaphor is booming business", merk Steen (2010:1) dan ook op. Die onderhawige leksikaal-semantiese ondersoek na die konsepte EET en DRINK in Afrikaans sluit aan by hierdie lewenskragtige tradisie binne die kognitiewe linguistiek in die breë en die kognitiewe semantiek in die besonder.

Een van die grondbeginsels van die kognitiewe linguistiek is dat menslike wesens beskik oor voorkonseptuele wetes wat uit ons beliggaamde ervaring spruit. Belangstelling in en respek vir "the body in the mind", wat 'n mens letterlik kan vertaal as "die liggaam in die verstand", of vryer vertaal as "beliggaamde kognisie", is een van dié kenmerkende ingesteldhede van die kognitiewe linguistiek. Een manier waarop 'n mens 'n leksikale ondersoek vanuit hierdie teoretiese raamwerk kan aanpak, is om te fokus op die rol wat die liggaam (liggaamsdele en liggaamsfunksies byvoorbeeld) speel in die menslike konseptualisering van die werklikheid, 'n konseptualisering wat dikwels in wese metafories is. Die konseptualisering en gepaardgaande metafore ontstaan, soos wat Gibbs (1999:147) dit stel, uit herhalende en terugkerende patrone van beliggaamde ervaring.

Die navorsingsprojek waarvan hierdie artikel een onderdeel vorm, is geïnspireer deur 'n 1997-artikel van Newman getiteld "Eating and drinking as sources of metaphor in English". In 2009 verskyn ook, met Newman as redakteur, die boek The linguistics of eating and drinking waarin verslag gedoen word van navorsing in 'n hele aantal tale. Hierdie twee publikasies het as prikkel gedien vir Taljard en Bosman (2014) se ondersoek na moontlike interkulturele variasie tussen EET-metafore in Noord-Sotho en Afrikaans.1 Die huidige meer uitgebreide navorsing rakende beide EET en DRINK in Afrikaans bou op laasgenoemde artikel voort.

Die doel van die ondersoek was om, teen die teoretiese agtergrond van die kognitiewe semantiek, die konsepte EET en DRINK, soos wat hulle in Afrikaans geleksikaliseer is, te ondersoek. 'n Eerste stap was om die konsep DRINK te betrek by die konseptuele metafore wat deur Taljard en Bosman geïdentifiseer is. As teoretiese raamwerk hiervoor is die konseptuele metafoorteorie (KMT) gebruik.2

Een van die winste van die kognitiewe semantiek soos wat Geeraerts (2010:239) aantoon, is dat dit gelei het tot innoverende maniere om die interne semasiologiese (polisemiese) struktuur van woorde te analiseer. Sulke analises kan lei tot 'n heroorweging van hoe metafoor en metonimie, byvoorbeeld, deel vorm van 'n hele netwerk van polisemiese betekenisonderskeidings. Geeraerts verwys na kritiek teen die oënskynlike gemak waarmee metafore gepostuleer word en wys pertinent daarop dat hierdie metafore binne die volle polisemiese struktuur van die betrokke uitdrukkings waarin hulle voorkom, beskou moet word (Geeraerts 2010:209). 'n Bestudering van die polisemiese struktuur van werkwoorde wat met eet en drink verband hou, volg op die metafooridentifisering.

 

2. TERMINOLOGIESE BEGRIPSVERHELDERING

Die volgende kernbegrippe word baie kortliks uiteengesit, sonder om in te veel detail in te gaan op die onderliggende kognitief-semantiese teorie.

2.1 Konseptuele metafoorteorie

Volgens die KMT is metafore in die eerste plek konseptueel, konvensioneel en deel van ons denken taalsisteem (Lakoff 1993). Langacker (2008:35) stel dit só: "A primary means of enhancing and even constructing our mental world is metaphor".3 Metaforiese prosesse fasiliteer met ander woorde die tot-taal-wording van (beliggaamde) konsepte.

2.2 Metafoor

Wat in hierdie artikel onder metafoor verstaan word, word ten beste verduidelik in die nou reeds welbekende stelling deur Lakoff (1993:202): "The generalizations governing poetic metaphoric expressions are not in language, but in thought: They are general mappings across conceptual domains [my nadruk]. (...) the locus of metaphor is not in language at all, but in the way we conceptualize one domain in terms of another."

2.2.1 Metafoor (1)

Metafoor - in die literatuur word metafore in dié betekenis toenemend konseptuele metafore genoem, vergelyk byvoorbeeld onder andere Deignan en Potter (2004), Deignan (2005), Steen (2010) en Simó (2011) - word in hierdie ondersoek in die eerste plek beskou as 'n tussendomeinkartering binne 'n konseptuele sisteem. Binne die kognitiewe benadering word hierdie metafore beskou as gegrond in ervaring, afhanklik van en bepaal deur kulturele kodes.

2.2.2 Metafoor (2)(Metaforiese uitdrukking, linguistiese metafoor)

Die tweede begripsomskrywing betref die meer algemene gebruik van die term. Dit gaan om 'n talige uitdrukking ('n woord, frase of idioom) wat die oppervlakrealisering is van 'n tussen-domeinkartering. Sogenaamde poëtiese metafore soos die fyn, fyn net van die woord (uit Raka van N.P. van Wyk Louw) is hier prototipiese voorbeelde, maar ook alledaagse uitdrukkings soos die petrolprys styg al weer môre en jou argumente moet deur feite ondersteun word is voorbeelde van sulke metaforiese uitdrukkings, soos wat Lakoff en Johnson (1980) aangetoon het.

Ons het hierdie metaforiese uitdrukkings (oftewel linguistiese metafore) in taal nodig, omdat ons leksikale struktuur in wese uiters minimalisties is - met 'n taamlike beperkte woordvoorraad moet 'n baie ryk en komplekse konseptuele sisteem weergegee word. Metafore dien dan ook as een van die sterk konseptuele en kreatiewe dryfkragte in ons leksikon.

2.2.3 Dooie en kreatiewe (innoverende) metafore

Dooie metafoor word hier verstaan soos wat soos Lakoff (1987a:144) dit verduidelik, naamlik metafore waarvan die oorspronklike kartering nie meer deur 'n hedendaagse taalgebruiker opgeroep word nie, of soos Geeraerts dit stel, "expressions that have lost their motivation for the average contemporary language user" (Geeraerts 2010:209). Terwyl die letterlike betekenis van 'n woord nog duidelik in verband gebring kan word met metaforiese uitbreidings, word daar dus nie gepraat van "dooie" metafore nie.

Innoverende metafoor kan óf verwys na niekonvensionele metafore in alledaagse taalgebruik óf baie spesifiek na die tipe unieke, eenmalig-geskepte, verrassende metafore wat byvoorbeeld in advertensies of poësie voorkom. Hierdie metaforiese kreatiwiteit "goes well beyond the metaphorical resources of everyday language (and thought)" (Semino & Steen (2008:236) en literêre metafore verg dikwels fyn ontledingsvermoë van die ondersoeker. Hierdie soort metafore is nie by hierdie ondersoek betrek nie.

2.3 Tussendomeinkartering ("mapping")

Lakoff (1987b:276) verduidelik die dinamiek wat ons in metafore vind, so: "Each metaphor has a source domain, a target domain and a source-to-target mapping". Kartering is die sistematiese bymekaarbring van elemente van 'n bron- en doeldomein en konseptuele metafore kan begryp word omdat ons die kartering tussen bron- en doeldomeine herken. Hierdie kartering is 'n kognitiewe proses soortgelyk aan analogiese redenering en die vermoë om afleidings te maak, oorsaak en gevolg te verbind, ensovoorts. Konseptuele metafore word op hulle beurt gemotiveer deur beeldskemas wat prelinguistiese, abstrakte skemas is betreffende ruimte, beweging en ander kernelemente van beliggaamde menslike ervaring soos swaartekrag en die ervaring van hitte en koue, byvoorbeeld.

2.4 Domeine

Volgens Langacker is domeine kognitiewe entiteite: "any kind of conception or realm of experience" (Langacker 1987:147; 2008:44). Domeine hou verband met mentale ervarings, verteenwoordigende ruimtes, konsepte of konseptuele entiteite met wisselende grade van kompleksiteit en organisasie. Basis- of brondomeine is konkreet, gebaseer op gedeelde menslike ervaring en daarom ook universeel. Voorbeelde van basisdomeine wat direk afgelei word uit ons ervaring van die werklikheid is:

TEMPERATUUR (onder andere geleksikaliseer in woorde soos hitte, koud, warm, lou)

SWAARTEKRAG (onder andere geleksikaliseer in woorde soos val, stort, af)

LIGGAAM, LIGGAAMSDELE, LIGGAAMSFUNKSIES (ek sien wat jy bedoel)

Abstrakte (of doel-) domeine word verstaan in terme van die basisdomeine en nie direk in terme van ons ervaring van die werklikheid nie:

EMOSIE: sy was baie bewoë (Brondomein: NATUURKRAG)

DENKE: ek sien wat jy bedoel; ek begryp (Brondomein: LIGGAAMSDELE en LIGGAAMSFUNKSIES)

2.5 Motivering

Motivering is nog 'n belangrike kernkonsep in die kognitiewe semantiek. Een van die maniere waarop metafore gemotiveer word, word "liggaamlike motivering" genoem, vergelyk byvoorbeeld Kävecses (1995:183). By eet- en drinkmetafore is daar 'n baie duidelike verband tussen konseptuele motivering en beliggaming. Die verskillende stadia van die eetproses soos wat ons dit verstaan, speel byvoorbeeld 'n rol in die motivering van die metafore. Visuele beelde gekoppel aan die liggaamlike ervaring kan ook 'n motiverende rol speel.

2.6 Polisemiese kategorieë

Die kognitiewe semantiek se insigte rakende kategorisering en prototipes lei tot die voorstelling van die polisemiese struktuur van woorde as 'n kategorie wat 'n stervormige of stralingspatroon ("radial network") vertoon. In so 'n netwerk word verskillende betekenisonderskeidings onder andere aan mekaar geskakel deur konseptuele prosesse soos metafoor en metonimie.4

 

3. METODOLOGIE

Metodologiese aspekte rakende dataversameling en -analise in metafoorondersoek ontvang in die 21ste eeu baie spesifieke aandag. Gibbs (2007:41) wys daarop dat kognitiewe linguiste meer empiriese navorsing moet doen en in Steen (2007) word metafoorondersoek indringend en deurtastend bespreek. Hierdie ondersoek kan as empiries beskryf word: dit is kwalitatief van aard en maak hoofsaaklik gebruik van data wat uit twee Afrikaanse korpusse verkry is. Hierbenewens is die Bybel as 'n gespesialiseerde korpus gebruik en woordeboekartikels uit die WAT en die Tesourus van Afrikaans van De Stadler en De Stadler (2007) was ook bronne vir data.

Korpuslinguistiese navorsing het onteenseglik waarde toegevoeg tot metafoorondersoek -vergelyk onder ondere Deignan (2005), Stefanowitsch en Gries (2007) en Deignan (2008). Soos wat Stefanowitsch (2007:12) uitwys, is korpusgebaseerde ondersoek na metaforiese karterings nog relatief nuut. In Afrikaanse semantiese ondersoeke is die gebruik van korpusse taamlik skaars en daar is tans nog min studies oor metafore binne die raamwerk van die kognitiewe semantiek onderneem.5 Weens die gebrek aan semanties-geannoteerde korpora is korpusondersoek na metafore baie arbeidsintensief omdat metafore met die hand uitgesoek moet word, maar ten spyte van die uitdagings wat dit bied, dra die gebruik van korpusse onteenseglik by tot die kwaliteit van semantiese navorsing. Deignan (2005) en Stefanowitsch en Gries (2007) gee deeglike uiteensettings van die voordele wat korpusgebaseerde ondersoek inhou. Hierdie voordele kan kortliks só opgesom word:

- Korpusse bied toegang tot 'n groot hoeveelheid outentieke taaldata en rekenaars, met hulle onuitputlike vermoë om groot hoeveelhede taaldata te stoor en te ontleed, is van onskatbare waarde.

- Korpusse verminder die afhanklikheid van die linguistiese kennis en intuïsie van die ondersoeker en lei tot minder subjektiewe ontledings van die taaldata. Sulke resultate is dikwels verrassend.

- Die resultate van korpusondersoek kan getoets word of die ondersoek kan gerepliseer word deur ander ondersoekers.

Taljard en Bosman (2014) gebruik een van die strategieë wat Stefanowitsch (2007:2-5) voorstel, naamlik om brondomein-leksikale-items in die korpus op te soek en met behulp van die Concordancy Tool van WordSmith Tools konkordansies (woorde in konteks) te genereer. Dit is 'n haalbare strategie, een wat ook deur Deignan (2005) en Newman (2009b:5) voorgestel word. Die ondersoek van Taljard en Bosman is hier uitgebrei met soekwoorde in die semantiese veld van drink. Die woordnetanalise6 wat Taljard en Bosman (2014) gedoen het vir EET is gebruik en 'n soortgelyke analise is gedoen vir DRINK. Soekwoorde is geïdentifiseer deur sinonieme, troponieme (ledig, opslurp, teug, wegslaan, knaag en knibbel byvoorbeeld), hipernieme (nuttig, gebruik, inneem) en woorde wat insluiting aandui (soos aansit (vir 'n ete), kou) te identifiseer (vergelyk bylaag A). Hierdie soekmetode maak die groot hoeveelheid data wat met die hand ondersoek moet word, relatief hanteerbaar.

In die analisefase is die data deursoek om veral die nieletterlike gebruik van die soekwoorde te identifiseer en vervolgens konseptuele metafore te postuleer. Steen (2007), met verwysing na die aanvanklike metafoorondersoek deur die Pragglejazz Group, skenk baie pertinent aandag aan die feit dat verskillende navorsers nie noodwendig ooreenstem in hulle analise van dieselfde data nie. In die huidige navorsing is die Pragglejazz-metode (Pragglejazz Group 2007) nie gebruik nie, want die 12 stappe wat deur hierdie groep voorgestel word, is onprakties en baie stadig as die groot hoeveelheid data7 wat deursoek moes word, in ag geneem word. Die voorstel van Schmitt (2005) soos verduidelik deur die Pragglejazz-groep (2007:34) is meer prakties:

- 'n Woord of frase kan, binne konteks, in 'n nieletterlike betekenis verstaan word.

- Die letterlike betekenis van die woord of frase hou verband met fisiese of kulturele ervaring (die brondomein).

- Hierdie letterlike betekenis kan oorgedra word na 'n dikwels abstrakte doeldomein.

Die identifisering van metafore in 'n korpus hou hierdie drie voorwaardes in gedagte en berus in die laaste instansie op die taalintuïsie van die ondersoeker.8

Die volgende skermbeeld is 'n uittreksel van 16 uit die 31 konkordansiereëls van die werkwoord herkou uit die UPAK.

 

 

Wat dadelik opval, is dat herkou in hierdie uittreksel (en trouens ook in die hele UPAK) nie een keer in sy letterlike of basiese betekenis ("weer kou, plantvoedsel nadat dit ingesluk is weer opbring en fyn kou om finaal ingesluk te word") gebruik word nie. Links en regs van die soekwoord verskyn voorwerpe soos "nederlaag", "die taal", "die storie", "die vraag", "die idee" - aanduiders dat hier sprake is van 'n figuurlike betekenis, waarin onderliggende metafore blootgelê sou kon word. In die geval van metafore waarin die werkwoord herkou voorkom, is die doeldoemein as INTELLEKTUELE AKTIWITEIT geïdentifiseer (vergelyk 5.1.2).

3.1 Die korpusse

Die volgende twee korpusse is in hierdie ondersoek gebruik: die Universiteit van Pretoria Afrikaanse Korpus (UPAK) en die Taal-kommissiekorpus.9

Dit is duidelik dat die woord eet (die korpusse is nie geannoteer nie, woordlyste en konkordansies sluit dus werkwoorde en selfstandige naamwoorde in) 'n baie hoër frekwensie het as drink (vergelyk Tabel 1). 'n Soortgelyke frekwensieverskil kry ons ook by vreet (8807ste in die UPAK-lys en 5070ste in die Taalkommissiekorpuslys) en suip (in UPAK 17 795ste en in die Taalkommissiekorpus 12 852ste).

 

 

UPAK bestaan uitsluitlik uit koeranttekste, terwyl die TK-korpus opgebou is uit koerant- en tydskrifartikels, letterkundige werke, akademiese artikels, die Bybel en die Koer'aan en internetwebblaaie.

 

4. DIE PRAKTYK VAN EET EN DRINK

Benewens die feit dat eet en drink lewensnoodsaaklik is en nodig is vir oorlewing, gaan hierdie handelinge ook gepaard met belangrike sosiale en kulturele praktyke. Die ensiklopediese en kulturele kennis wat ons het van eet en drink is besonder ryk en gevarieerd. Afgesien van die prototipiese gevoel van versadiging en tevredenheid, kan die prosesse van eet en drink, afhangend van wat mens inneem, ook ander sensoriese ervarings tot gevolg hê: vanaf gevoelens van uiterste sensuele genot tot ontstellende en onrusbarende veranderings in geestesgesteldheid, verhoogde sintuiglike gewaarwordings, dronkenskap, bedwelming, naarheid, ongemak en geweldige pyn, met as moontlike uiteinde, in plaas van voeding en daarom lewe, die dood. Daar is verskillende rituele praktyke wat met eet en drink geassosieer word. Vergelyk byvoorbeeld Joods-Christelike rituele rondom die Pasga, Paasfees en Nagmaal, religieuse taboes wat verband hou met eet en drink en vaspraktyke.

Sowel die positiewe as negatiewe ervarings wat verband hou met veral eet, is reeds as idiomatiese uitdrukkings geleksikaliseer in Afrikaans: om te watertand, jou bekoms eet, iemand die ore van die kop af eet, jou 'n boggel eet, met lang tande eet, jou mond nie aan iets sit nie, 'n oordeel oor jouself eet en drink (laasgenoemde na aanleding van 1 Kor 11: 29), jou woorde (op) eet, (in)sluk.

Die uitgebreide ensiklopediese kennis wat ons het betreffende eet en drink kan ook as 'n soort volksverstaan van die proses voorgestel word.10

Die volgende tabel is opgestel in navolging van Newman (1997) om aan te toon hoe die verskillende stadia van die eet- en drinkproses, soos wat 'n lekepersoon dit waarskynlik verstaan, as motivering dien vir die metaforiese uitdrukkings wat uit die data geïdentifiseer is.

 

 

Voeding en versadiging, maar ook verdwyning en gewelddadige vernietiging, kan as onderliggend aan die twee prosesse geassosieer word.

 

5. EET- EN DRINK-METAFORE

Die konsepte EET en DRINK is oorvleuelende kategorieë - dit is trouens die rede waarom hulle saam bespreek word. Soos wat verderaan uit die data-ontleding blyk, is die konseptuele metafore waartoe die onderskeie handelinge van eet en drink aanleiding gee in die meeste gevalle dieselfde. Waar daar wel verskille is, word dit duidelik aangetoon. Die digotomie pasiënt / agent wat as eerste groot kategorie-onderskeiding deur Newman (1997) voorgestel word, het te make met die feit dat die werkwoorde eet en drink (en al die ander werkwoorde wat as soekterme gebruik is) oorganklik is. In sinskonstruksies met dié woorde word óf die eter-drinker, met ander woorde die agent, óf dit wat geëet of gedrink word, die pasiënt, geprofileer. Hiedie oriëntasie onderlê die twee groot metaforiese kategorieë wat onderskei is, naamlik metafore van internalisering en van vernietiging. Newman (1997) groepeer uitdrukkings waarin die fokus op én agent én pasiënt val in 'n derde groep. Die indeling in drie groepe gee nie voor dat daar waterdigte skeidings tussen die drie kategorieë is nie, maar, soos gesien kan word in afdeling 5.3, toon die ontleding van die laaste groep uitdrukkings juis aan dat konseptuele metafore soms oorvleuel en meng in een uitdrukking om 'n meer komplekse metafoor, gegrond in 'n oorkoepelende kognitiewe wete van die eet- en drinkhandelinge, tot stand te bring.

 

 

5.1 Internalisering

Soos aangetoon deur Newman (1997, 2009b) is die volksverstaan van die eet- en drinkproses onderliggend aan die kartering tussen aspekte van die brondomeine van eet en drink en die abstrakte doeldomeine wat vir elke groep uitdrukkings geïdentifiseer is. Die sistematiese karterings tussen bron-en doeldoemeine wat volg, word in navolging van Newman (1997) in tabelvorm aangebied. Weens ruimtebeperking en die groot aantal uitdrukkings wat in die korpusse aangetref is, word individuele uitdrukkings nie een vir een ontleed nie, maar daar word aangedui hoe die kartering oor die algemeen tussen die bron- en doeldomeine plaasvind.

Die motivering vir die metafore in hierdie groep is veral te vinde in die effek wat die eet- en drinkhandelinge op die eter-drinker het. Voeding en versadiging is prominent in hierdie uitdrukkings, maar eet en drink kan ook gevoelens van ongemak en pyn tot gevolg hê.

5.1.1 EMOSIONELE /INTELLEKTUELE / GEESTELIKE VOEDING OF BEVREDIGING IS EET / DRINK13

Soos wat Newman (1997:218) ook opmerk, is daar 'n baie volledige kartering tussen die eetdomein en die emosionele of intellektuele domein, soos geïllustreer in tabel 4. Metaforiese uitdrukkings met die volgende werkwoorde wat verband hou met sowel eet as drink is ontdek: (ge)eet, (ge) drink, ingedrink, inkry, opslurp, inneem, verteer, weglê, ingesluk, verorber, herkou, verslind, op(ge)eet. Die eerste voorbeeld hier onder hou spesifiek verband met die inname en verwerking van inligting wat tot intellektuele bevrediging kan lei. Enkele voorbeelde uit die korpusse:

Ek kon nie alles inneem nie.

Hy eet, drink en slaap skaak.

... die skoonheid van die Oos-Vrystaat ingedrink.

Daar is ook 'n heerlike Lemony Snicket waaraan julle kan weglê

Hulle het gesit en gesit en die saamwees ingedrink.

 

 

Waar Newman (1997) emosionele en intellektuele voeding as twee aparte karterings ontleed, word hulle hier saam gegroepeer, omdat dit nie altyd duidelik is waar die skeidslyn tussen emosionele en intellektuele voeding lê nie. Intellektuele voeding wat verkry word uit die lees van 'n gedig of die luister na musiek, byvoorbeeld, is nie so duidelik te onderskei van die emosionele bevrediging wat ook uit die lees- en luisteraktiwiteite, byvoorbeeld, verkry word nie.14 Uit die groot hoeveelheid data wat verkry is, is dit duidelik dat hierdie metafoor besonder lewenskragtig is en dat 'n veel meer gedetailleerde ontleding van die spesifieke uitdrukkings waarin dit voorkom, die moeite sal loon.

5.1.2 INTELLEKTUELE AKTIWITEIT IS EET

Die aand sit Koos en sy vrou aan hulle afsonderlike gedagtes en kou

... 'n vraagstuk waaraan stuk-stuk gekou moet word

Die fliek bied baie om aan te herkou

Hoe anders gaan die klubgenerasie en die MTV-koolkoppe die boodskap hoor en verteer?

 

 

Tipies van hierdie kartering is dat dit aangetref word in uitdrukkings met die werkwoorde kou, herkou en verteer wat verwys na die prosesse wat plaasvind in die mond of maag. Basisvlakwerk-woorde soos eet of gebruik gee nie aanleiding tot hierdie metafoor nie. Geen voorbeelde met soekwoorde wat hoort by die konsep DRINK is gevind nie. Die proses word ook ewe sterk geprofileer as die effek wat dit het op die agent. Die sterk fokus op die kou of fynmaal van voedsel verklaar ook waarom die kartering nie voorkom by drinkwerkwoorde nie - die stadige fynmaalproses is nie betrokke by die drinkhandeling nie.15

5.1.3 EMOSIONELE / GEESTELIKE PYN / STRAF IS DRINK

Soektogte met die woorde drink, gedrink, indrink en ledig het onder andere die volgende uitdrukkings opgelewer:

'n skroeiende wind: dit is die beker wat hulle sal drink (Ps 11:6)

Jerusalem, jy wat gedrink het uit die hand van die Here die beker van sy grimmigheid (Jes 51:17 -1933-vertaling)

Jy wat die oordeelsbeker uit die hand van die Here gedrink het, wat die beker gedrink het wat jou laat steier het. (Jes 51:17 - 1983-vertaling)

Kan julle die lydensbeker drink wat ek drink (Markus 10:38; vergelyk ook Matteus 20:22)

Jy sal nie ongestraf bly nie; drink sal jy die beker drink.

Ek sal die bitter beker ledig.

Opvallend hier is dat die meeste voorbeelde uit die Bybel kom. Die laasgenoemde voorbeeld is een van slegs twee met ledig wat in die UPAK gevind is.

 

 

In sterk kontras met die vorige metafoor, is die feit dat dit nie die prototipiese drink-ervaring (waar die behoefte aan die bevrediging van dors oorheersend is) weerspieël nie. Soekwoorde in die leksikale veld van eet het geen voorbeelde van hierdie kartering gelewer nie. 'n Moontlike rede is miskien die baie duidelike kulturele (Bybelse) oorsprong van die metafore. Die motivering vir die metafoor is wel duidelik geleë in die feit dat negatiewe ervarings van die soort vloeistof wat gedrink kan word - dit kan sleg, bitter of selfs giftig wees - ook meespeel in ons kennis en ervaring van die drinkproses. Oudtestamentiese praktyke wat geassosieer word met wraak, oordeel en vergelding (wat deurgetrek word na die Nuwe Testament en die beker wat Jesus moet drink, verwysend na sy kruisiging) het 'n aantoonbare aandeel gehad in die totstandkoming van hierdie metafoor.16

5.1.4 AANVAARDING IS EET

In uitdrukkings met die soekwoorde verorber, opvreet, opeet, in(ge)sluk en verteer geskied die aanvaarding van handelinge of idees óf onnadenkend óf teësinnig. Alhoewel 'n werkwoord soos sluk met óf eet óf drink geassosieer kan word, dui die ander werkwoorde soos verorber, opeet, opvreet en verteer aan dat spesifiek die eetproses 'n duidelike motiverende rol speel in hierdie kartering. Die metafoor is besonder kragtig en is ook as frase gekonvensionaliseer in die idioom iets vir soetkoek opeet / opvreet. Wat betref die teësinnige manier waarop die handeling soms verrig word (veral die slukhandeling geskied nie altyd uit vrye wil nie) toon dit 'n ooreenkoms met die pyn-metafoor wat hier bo bespreek is. 'n Werkwoord soos sluk dui eerder op die afwesigheid van 'n bewuste denkproses en daar is 'n suggestie van dwang in die kontekssinne. Soos wat dikwels gebeur wanneer daar 'n poging tot woordspel is, word die letterlike en die figuurlike betekenis gelyktydig in die eerste voorbeeldsin hier onder geaktiveer - die figuurlike betekenis van sluk word deur die idioom dwars in die krop steek gesinjaleer:

Die Tsoenami-hoenderburger op Mugg & Bean se spyskaart het glo party klante dwars in die krop gesteek en daar is toe 'n plan bedink om mense makliker daaraan te laat sluk.

Elke jaar of twee word daar ook 'n nuwe denkrigting opgedis en jy moet dit sluk.

Volgens hom gaan inwoners nie die raad toelaat om voort te gaan met dié "Robin Hood-beleid" nie. Inwoners gaan dit net tot op 'n punt opvreet.

Ons gewone burgers sluk nie meer aan die storie dat alles wat verkeerd loop se oorsaak dateer uit die vorige bedeling nie.

 

 

5.1.5 VERNEDERING IS EET / DRINK

Hierdie metafoor toon soveel ooreenkomste met AANVAARDING IS EET dat 'n aparte sistematiese uiteensetting van die bron-doeldomeinkartering nie hier gegee word nie. Die motivering is hier veral geleë in die menslike ervaring dat nie alles wat 'n mens eet 'n aangename gevoel tot gevolg het nie. Soos by die AANVAARDING-metafoor, kan 'n mens selfs gedwing word om iets wat onsmaaklik is te eet of te drink en af te sluk. Die werkwoord sluk (die enigste soekwoord wat tot hierdie kartering gelei het) kan hier sowel die eet- as die drinkproses aandui. Net soos met die vorige metafoor, kan 'n mens makliker gedwing word om iets af te sluk as om dit te byt of kou, byvoorbeeld.

Die bitter medisyne wat Harmony reeds begin sluk het, wag op die ander twee.

Sy het swaar aan die nederlaag gesluk.

5.2 Vernietiging

In die tweede kategorie metafore is die fokus op die pasiënt - dit wat geëet word. Soos in die eerste kategorie, word hierdie metafore ook gemotiveer deur ons liggaamlike ervaring: dit wat geëet word, ondergaan 'n transformasie deur die handelinge van byt en kou, dit verdwyn uit die oog en word ten slotte heeltemal vernietig in die verteringsproses. Daar is 'n oorgang van sigbaar (en heel) en buite die liggaam na onsigbaar (en vernietig) binne die liggaam. Beelde van pyniging, vernietiging en uitwissing is veral aanwesig en geen gevoel van voeding of versadiging word ervaar nie.

Vir die groep VERNIETIGING-metafore word 'n oorkoepelende domeinkartering in tabel 8 aangebied.

 

 

Die "eet"-proses word in hierdie groep metafore duidelik nie deur die pasiënt geïnisieer nie. Die aspek "voedsel" uit die brondomein word oorgedra na die ontvanger van die eetproses. Dit wat geëet of gedrink word, word sterk geprofileer en kom aan die ontvangkant van die eetproses te staan.

5.2.1 VERMINDERING IS EET /DRINK

Die volgende soekwoorde het gelei tot die identifisering van die metafore: eet, vreet, verteer, verslind, wegvreet, op(ge)vreet, opslurp. Laasgenoemde werkwoord is die enigste een wat ook te make kan hê met die drinkproses. Die ander handelinge kan almal as meer gewelddadig as slurp beskou word - daar is 'n aktiewe vernietigingsproses aan die gang. In baie van die korpusvoor-beelde is dit geld (spaargeld, pensioen, wins, byvoorbeeld) wat figuurlik weggevreet word. 'n Metafoor wat hier meespeel, is GELD IS KOS, wat saam met die eet-metafoor sorg vir 'n komplekse metafoor.

(...) die droogte wat die Boesmanland, die Hantam-Karoo en 'n strook van die Kalahari verteer (...).

Waar woestyne die groen aarde verslind

die sand in die uurglas wat geleidelik die glas wegvreet

Die belasting van 18% vreet aanhoudend in ons swaarverdiende pensioen.

5.2.2 PYN/LYDING IS EET

Geen uitdrukkings is gevind met soekwoorde in die drink-woordveld nie. Soos in bostaande voorbeelde, vereis pyniging of marteling 'n meer aktiewe proses in die mond as wat tipies is van die drinkhandeling. Dieselfde soekwoorde (eet, kou, vreet, opvreet, uitvreet, wegvreet, verteer) is aangetref by sowel fisiese as sielkundige pyn of lyding.

Fisiese pyn

Die suur het haar gesig weggevreet

Die naelsweer kou my

Geestelike pyn

jou nerves klaarmaak en jou uitvreet, soos hy al die jare gedoen het

dat mense so verteer raak deur kommer

5.2.3 VERDWYNING / AFWESIGHEID IS EET/ DRINK

Die werkwoord insluk (die enigste soekwoord wat tot hierdie kartering gelei het) motiveer baie duidelik hierdie metafoor by wyse van die ensiklopediese kennis wat ons van die brondomein het, naamlik dat kos of drank onsigbaar word sodra dit gesluk word.

Die een politieke party het die ander ingesluk soos die walvis vir Jona

Dooie swart sonne wat lig insluk

Ek bedoel dat die dorp dalk ons seun sal insluk

5.3 Internalisering en vernieting

Newman (1997 en 2009b) onderskei 'n derde kategorie. Hy benoem hierdie groepe as "extensions with both agent and patient orientation" (1997) en "extensions based on sensation and destruction" (2009b).Uitdrukkings waar die agent en pasiënt in gelyke mate betrokke is by die eet- en/of drinkproses en waar sowel internalisering as vernietiging aangetref word, val in hierdie groep. Die ervaring van agent en pasiënt is soms teenstellend - die agent ervaar byvoorbeeld tevredenheid en die pasiënt verlies of nederlaag (soos in 5.3.2) - maar nie al die gevalle toon blyke van hierdie teenstellende gevoelens nie. Miskien as gevolg van die sterk idiomatiese aard van sommige uitdrukkings kan die motivering nie altyd duidelik met 'n buitelinguistiese ervaring geassosieer word nie. Trouens, die "eetproses" is soms selfs bisar of kontra-intuïtief, soos in die volgende voorbeeld.

5.3.1 BETONING VAN LIEFDE IS EET

Soos Adam wat aan Eva sê, à la Hennie Aucamp: "Ek kan jou opeet van liefde."

Mens wil die ou babatjie net opeet

Die voorbeelde suggereer, ten spyte van die letterlike betekenis van die woorde, in der waarheid die teenoorgestelde van die VERNIETIGING-kartering. Die agent verrig die eethandeling en word hierdeur emosioneel "gevoed", maar ook die pasiënt deel in die gevoel van tevredenheid wat verkry word uit die betoning van liefde - vreemd genoeg uitgedruk in woorde soos opeet of opvreet. Hierdie kartering toon dus 'n sterk ooreenkoms met EMOSIONELE BEVREDIGING IS EET (5.1.1), met die verskil dat én die pasiënt, én die agent in die ervaring deel. Om hierdie rede word die bogenoemde uitdrukkings in die derde groep ingedeel.17

5.3.2 OORWINNING (AGENT) / NEDERLAAG (PASIËNT) IS EET

Mannas het Colleges 14 - 3 verslind.

Ons glo ons kan die Reds eet.

Hy het my vandag darem gekou op die tennisbaan.

Newman (2009b) klassifiseer die Amhariese "wen"/ "oorwin"-uitdrukkings onder die groep fisiese vernietigingsmetafore, maar merk op dat hulle terselfdertyd ook getuig van emosionele bevrediging. Op grond van die effek van die eethandeling op sowel die agent, wat 'n gevoel van genoegdoening en tevredenheid ervaar, as op die pasiënt, wat emosionele pyn en vernedering, (en nie fisiese vernietiging soos wat Newman (2009b:16) suggereer nie), as gevolg van die nederlaag ervaar, verkies ek om hulle in die derde groep te plaas.

5.3.3 TOEGEE / INGEE IS EET / DRINK

Hierdie kartering word deur Newman (1997 en 2009b) bespreek in sy ontleding van die Engelse idioom to eat one's words. (In die Afrikaanse voorbeelde is dit die werkwoord sluk wat gebruik word.) Die beeld wat opgeroep word, is dat die eter iets (woorde, beskuldigings, leuens) wat reeds by sy mond uit is (as 't ware uitgespoeg is) weer moet insluk. Alhoewel die fokus baie duidelik op die onaangename gevoel is wat die agent ervaar, ondergaan die pasiënt (die woorde, ensovoorts) ook 'n transformasie en verdwyn (weer) na binne:

Jy sal jou woorde moet insluk

BP sluk woorde oor 'skoner' petrol.

Diegene wat nog praat van Venynige Dougie sal hul woorde moet sluk.

In die geval van As dit gebeur, vreet ek my hoed op is dit moeilik om die uitdrukking in 'n bepaalde groep te plaas. Die voorbeeld sluit aan die een kant aan by die voorbeelde hierbo: daar word gesuggereer dat daar toegegee sal word (deur in plaas van woorde, 'n hoed "op te vreet") indien iets wel waar sou wees, alhoewel die moontlikheid sterk betwyfel word. Daar is terselfdertyd ook sprake van 'n moontlike aanvaarding (sy dit dan baie teësinnig), wat weer aansluiting vind by die INTERNALISERING-metafore (vergelyk 5.1.4.).

5.3.4 ONDERWERPING IS EET18

(...) voordat die pers uit haar hand eet

as't ware uit die hand laat eet

die gehoor uit sy hand laat eet

Die motivering hier is waarskynlik geleë in die kennis wat ons het van die temproses by wilde diere - wanneer die dier uit iemand se hand eet, is hy makgemaak en onderwerp hy hom aan die voeder se gesag. In die proses ervaar sowel die agent (die temmer) as die pasiënt (wat makgemaak word) 'n gevoel van bevrediging. Vergelyk die letterlike gebruik van hierdie uitdrukking in Kiri die mak kameelperd eet kos uit die toeriste se hande (uit UPAK). Die motivering vir hierdie metafoor is miskien: deur mense te voorsien van emosionele voeding, kan 'n mens hulle oorhaal om hulle aan jou sjarme of oorredingsvermoë te onderwerp.

5.3.5 SWAARKRY IS EET

Deelnemers en toeskouers kan klippe kou met die internasionale SpecSavers Yster-mankampkompetisie môre.

Goudmynaandele kou harde bene

Dié geleentheid gaan oor veel meer as bloedsweet en klippe kou

Die toertjie is een van die gevaarlikstes in die Moskouse sirkus en laat die gehoor behoorlik naels kou.

Alhoewel die idiome in hierdie uitdrukkings duidelik in die VERNIETIGING-kategorie val en ook by 5.2.2 ingedeel sou kon word, is die fokus in die eerste drie voorbeeldsinne nie op die pasiënt (harde bene, klippe) wat relatief onaangeraak bly, nie maar op die agent wat die handeling van kou verrig en as gevolg daarvan ly. In die korpusse is daar voorbeelde van nielewende agente uit die finansiële sektor wat "swaarkry": goudmynaandele, die sekuriteitebeurs, die advertensie-bedryf, die moedermaatskappy, die dollar. Personifikasie gaan dikwels hand aan hand met metaforiese betekenisuitbreiding, soos hier. Ook die naels in die laaste sin word waarskynlik figuurlik gesproke bedoel, maar die geïmpliseerde fisiese leed is iets wat deur die agent (die kouer) ervaar sou word indien die naels wel fisies afgebyt of gekou sou word. Die oorheersende beeld by hierdie uitdrukkings is dié van fynmaal en uiteindelike vernietiging, 'n beeld wat ook duidelik aanwesig is by van die INTERNALISERING-metafore, soos 5.1.1, byvoorbeeld.

Daar is in hierdie afdeling aangetoon dat konseptuele metafore nie waterdigte kategorieë vorm nie, maar dat daar bepaalde semantiese vermenging te bespeur is in sommige van die metaforiese uitbreidings. In die volgende afdeling word die mate waartoe die metaforiese uitbreidings reeds deel geword het van die konvensionele betekens van die leksikale items wat ter sake is, bekyk.

 

6. BETEKENISUITBREIDING AS DEEL VAN POLISEMIESE STRUKTUUR

Wanneer leksikale items wat as brondomein vir metafoorkarterings dien die fokus is van 'n leksikaal-semantiese ondersoek soos hierdie een, kan die semasiologiese betekenisstruktuur van die items nie buite bespreking gelaat word nie. Soos opgemerk in die inleidende afdeling, is dit nodig om krities te kyk na die konseptuele metafore wat in die bostaande ontleding gepostuleer is deur onder andere die interne polisemiese struktuur van die woorde te ondersoek. Dit is moontlik dat bestaande betekenisonderskeidings die beginpunt vorm van konseptuele metafore. Daar moet verder ook oorweging geskenk word aan die moontlikheid dat daar in so 'n uitstralende netwerk ("radial network") ook sogenaamde dooie metafore aangetref kan word. Geeraerts (2010:209) gebruik ter illustrasie onder andere die Engelse werkwoord strike in die uitdrukking I was struck by his sincerity en argumenteer dat strike reeds, histories gesien, 'n tweede, letterlike betekenis ontwikkel het: "to surprise, to affect suddenly" - 'n baie algemene, reeds gekonvensionaliseerde betekenis wat nie meer die lewendige metaforiese kartering (EMOTIONAL EFFECT IS PHYSICAL CONTACT wat Lakoff & Johnson (1980:50) postuleer) oproep nie. Die vraag is nou of so 'n proses van betekenisuitbreiding na gekonvensionaliseerde letterlike betekenisse ook by die Afrikaanse leksikale items wat in die linguistiese metafore optree, aangetoon kan word. 'n Ondersoek na leksikale items in die eet-woordveld toon aan dat konseptuele metafore soos INTELLEKTUELE AKTIWITEIT IS EET, VERMINDERING IS EET en PYNIGING IS EET deur geleksikaliseerde en gekonvensionaliseerde betekenisonderskeidings met die basiese, prototipiese betekenisse van die brondomeinwoorde skakel. Personifikasie (wat dikwels by ontologiese metafore aangetref word) waar nielewende entitieite in terme van menslike eienskappe gekonseptualiseer word, is nog 'n kenmerkende aspek van die polisemiese struktuur van die woorde. Vergelyk die betekenisuitbreidings (geëtiketteer as "figuurlik"), soos opgeteken by die volgende lemmas in die WAT:

INTELLEKTUELE AKTIWITEIT IS EET

kou: (na)denkend verwerk; tot oplossing [probeer] bring, peinsend besig wees met; peins, nadink (oor)

herkou: gedurig nadink oor; telkens, langdurig oordink

VERMINDERING IS EET

eet, opeet, opvreet: 'n groot hoeveelheid van iets gebruik; skade aanbring aan, laat vergaan of tot niet maak, in so 'n mate verbruik dat dit op is

PYNIGING IS EET

eet:slaan, opdons, opdreun, opkeil; laat swaarkry; liggaamlik pynig

kou:streng berispe, uitskel; geestelik pynig, kwel; geestelik of liggaamlik laat ly

opvreet: geestelik of liggaamlik laat ly, laat swaarkry of pyn laat ervaar

EMOSIONELE/GEESTELIKE/INTELLEKTUELE BEVREDIGING

drink: met die sintuie, gees inneem, geniet

indrink: (Gretig) in jou opneem, met die sintuie, gees inneem, geniet

Die voorbeelde ondersteun Geeraerts (2010:205) se opmerking dat "(...) metaphor comes in patterns that transcend the individual lexical item". Hierdie figuurlike betekenisuitbreidings is volledig geleksikaliseer en word nie as nuutgeskepte, innoverende uitdrukkings beskou nie. Die polisemiese betekenisuitbreidings vorm 'n stralingspatroon waarin die skakeling met die basiese, prototipiese betekenis via konseptuele metafore plaasvind en bied stawende getuienis ter onder-steuning van die ontledings in afdeling 5. Die metafore is ook nie dooie metafore nie, maar verteenwoordig via betekenisuitbreidings nog herkenbare karterings tussen die brondomeine van eet en drink en die verskillende doeldomeine. Alhoewel sterk gekonvensionaliseer, is dit is myns insiens nie die geval dat die uitgebreide betekenisse letterlik verstaan word, soos wat Geeraerts beweer die geval is met strike nie.

 

7. DIE UNIVERSELE AARD VAN DIE EET- EN DRINK-METAFORE

'n Laaste opmerking betref die moontlike universaliteit van die metafore. 'n Vinnige vergelyking met die artikels vir die werkwoorde eat en drink in die historiese woordeboek The Oxford English Dictionary (OED) en die Woordenboek der Nederlandsche Taal (WNT) toon aan dat die metafore ook in Engels en Nederlands volledig deel is van die interne semantiese struktuur en reeds besonder oud is. In die kategorie INTERNALISERING vind ons byvoorbeeld in die OED Deel IV by die lemma drink: "To take into the mind, especially by the eyes or ears, to listen to, gaze upon, or contemplate"; asook "to consume or spend in drinking (money, etc.)". In die WNT Deel III is een van die betekenisonderskeidings by drinken: "door den geest, of door een der zintuigen opnemen".

Ook in die VERNIETIGING-kategorie is daar ooreenkomste tussen Engelse en Afrikaanse metafore. In die OED by die lemma eat tref ons onder andere die volgende betekenisonderskeidings aan:

"to destroy by devouring; to ravage, devastate"

"to absorb (time) wastefully"

"to harm, injure"

"to torment".

Uit die korpusse wat gebruik is, is dit opvallend dat baie van die metafore in die Bybel, in sowel die Ou as die Nuwe Testament, aangetref word. Uit die Taalkommissiekorpus, by die konkordansie van verteer, met vuur as onderwerp, kry ons sterk vernietigingsmetafore uit die Bybel: Nehemia 3:14, Jesaja 9:5, Esegiël 21:32, Joël 2:1 en Handelinge 12:24, byvoorbeeld. In die lig van die hoë ouderdom van hierdie metafore is dit geensins verbasend dat hulle ook in ander tale voorkom nie - metafore wat ontstaan uit algemeen menslike en gedeelde liggaamlike ervaring is waarskynlik universele metafore wat oor alle tale en deur alle eeue heen aangetref sal word. Dit is verder, wat Afrikaans betref, ook waarskynlik so dat die metafore in die Bybel (sowel die onderliggende konseptuele metafore as die oppervlak- linguistiese metafore) doodgewoon uit die brontale (Hebreeus en Grieks) oorgedra is in die vertaling(s) van die Bybeltekste, maar verdere ondersoek sal hieroor gedoen moet word.

Gibbs (1997:55) het die volgende te sê aangaande liggaamlike ervaring en metafore: "The bodily experiences that form the source domains for conceptual metaphors are themselves complex social and cultural constructions". Dit is miskien soms wel die geval, maar in die geval van die eet- en drinkmetafore in Afrikaans, is die ervaring van eet- en drinkhandelinge nie werklik kompleks nie en waarskynlik ook nie uniek, met ander woorde gekoppel aan spesifiek "Afrikaanse" sosiale en kulturele praktyke nie. Callies en Zimmermann (2002:31) wys byvoorbeeld daarop dat 'n metaforiese uitdrukking soos "something is hard to swallow" ook in Tsjeggies, Sweeds, Japanees, Arabies en Spaans voorkom. 'n Vergelyking met die metafore wat in Newman (1997 en 2009b) bespreek word, ondersteun hierdie standpunt. 'n Mens sou hierdie eet- en drinkmetafore as universeel kon beskou - hulle ontstaan uit algemeen menslike en gedeelde fisiologiese ervarings.19

 

8. SAMEVATTING

Die doel van hierdie ondersoek was om die konsepte EET en DRINK in Afrikaans te ondersoek. 'n Hele aantal leksikale items waarin die konsepte geleksikaliseer is, is geïdentifiseer. Sommige van hierdie items, soos vreet, suip, verteer en verorber byvoorbeeld, dra ook bepaalde emotiewe ladings en roep sterk beelde op, wat as't ware natuurlik aansluit by metafore van vernietiging. Die leksikale items is in 'n korpusondersoek gebruik om eerstens figuurlike betekenisse, en daaruit voortspruitend, konseptuele metafore te identifiseer. Die motiverende verband tussen die volksverstaan van die liggaamlike ervarings van eet en drink en die geïdentifiseerde metafore is aangetoon en daar is ook bevind dat daar metafore is wat nie al te netjies inpas by 'n rigiede kategorisering nie.

Wat die metodologie betref, is Stefanowitsch (2007:7) se voorstel vir meer kwantitatiewe ondersoek waardeur die relatiewe frekwensie en dus belangrikheid ("salience") van sekere metafore aangetoon kan word, nog 'n geweldige uitdaging vir Afrikaanse metafoorondersoek. Kwantitatiewe inligting oor byvoorbeeld die frekwensie van sekere kollokasionele patrone sal in alle waarskynlikheid lei tot fyner ontledings en die fraseologiese of idiomatiese aard van sommige uitdrukkings sal duideliker aangetoon kan word. En laastens: 'n verteenwoordigende, groot gesproke korpus van sowel Standaardafrikaans as ander variëteite soos Kaaps, sou sonder twyfel groot waarde kon toevoeg tot ondersoeke soos hierdie een.

 

BIBLIOGRAFIE

Boers, F. & Demecheleer, M. 1997. A few metaphorical models in (western) economic discourse. In Liebert, Redeker & Waugh (eds). Discourse and perspective in cognitive linguistics. Amsterdam, Philadelphia: John Benjamins, pp. 115-131.         [ Links ]

Callies, M. & Zimmermann, R. 2002. Cross-cultural metaphors. Investigating domain mappings across cultures.Philipps Universitat Marburg. http://www.staff.uni-mainz.de/mcallies/metaphor/complete-report-final.pdf [30 September 2011].         [ Links ]

Deignan, A. & Potter, L. 2004. A corpus study of metaphors and metonyms in English and Italian. Journal of Pragmatics 36:1231-1252.         [ Links ]

Deignan, A. 2005. Metaphor and Corpus Linguistics. Amsterdam: John Benjamins.         [ Links ]

Deignan, A. 2008. Corpus linguistics and metaphor. In Gibbs, R. (ed.). The Cambridge Handbook of Metaphor and Thought. Cambridge: Cambridge University Press, pp.280-294.         [ Links ]

Evans, V., Bergen, B. & Zinken, J. (eds). 2007. The cognitive linguistics reader. Advances in cognitive linguistics. Sheffield: Equinox Publishing.         [ Links ]

Fauconnier, G. & Turner, M. 2002. The way we think: conceptual blending and the mind's hidden complexities. New York: Basic Books.         [ Links ]

Geeraerts, D. 2010. Theories of Lexical Semantics. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Gibbs, R.W. 1999. Taking metaphor out of our heads and putting it in the cultural world. In Gibbs & Steen (eds). Metaphor in cognitive linguistics. Amsterdam: John Benjamins, pp. 145-166.         [ Links ]

Gibbs, R. W. & Steen, G.J. (eds). 1999. Metaphor in cognitive linguistics. Amsterdam: John Benjamins.         [ Links ]

Gibbs, R.W. (2007). Why cognitive linguists should care more about empirical methods. In Evans, Bergen & Zinken (eds).The cognitive linguistics reader. Advances in cognitive linguistics. Sheffield: Equinox Publishing, pp. 40 - 56.         [ Links ]

Gibbs, R.W. (ed.). 2008. The Cambridge Handbook of Metaphor and Thought. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Hoffman, R. & R. Honeck. 1980. A Peacock looks at its Legs: Cognitive Science and Figurative language. In Honeck & Hoffman R. (eds). Cognition and Figurative Language. Hillsdale, N.J: Erlbaum, pp. 3-24.         [ Links ]

Honeck, R.P. & Hoffman, R. (eds). 1980. Cognition and Figurative Language. Hillsdale, N.J: Erlbaum.         [ Links ]

Kövecses, Z. 1986. Metaphors of Anger, Pride and Love: A Lexical Approach to the Study of Emotion Concepts. Amsterdam: Benjamins.         [ Links ]

Kövecses, Z. 1995. Anger: its language, conceptualization, and psychology in the light of cross-cultural evidence. In Taylor & MacLaury (eds). Language and the cognitive construal of the world. Berlin: Mouton De Gruyter, pp. 181-196.         [ Links ]

Kövecses, Z. 2002. Metaphor: a practical introduction. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Lakoff, G. & Johnson, M. 1980. Metaphors we live by. Chicago: The University of Chicago Press.         [ Links ]

Lakoff, G. 1987a.The Death of Dead Metaphor. Metaphor and Symbolic Activity, 2(2):143-147.         [ Links ]

Lakoff, G. 1987b. Women, fire, and dangerous things. Chicago: The University of Chicago Press.         [ Links ]

Lakoff, G. 1993. The contemporary theory of metaphor. In Ortony Metaphor and thought. Cambridge: Cambridge University Press, pp. 202-251.         [ Links ]

Langacker, R. 1987. Foundations of cognitive grammar, Volume I. Stanford, CA: Stanford University Press.         [ Links ]

Langacker, R.W. 2008. Cognitive grammar: a basic introduction. Oxford, New York: Oxford University Press.         [ Links ]

Liebert, W.A., Redeker, G. & Waugh, L. (eds). 1997. Discourse and perspective in cognitive linguistics. Amsterdam, Philadelphia: John Benjamins.         [ Links ]

Newman, J. 1997. Eating and drinking as sources of metaphor in English. Cuadernos de Filologia Inglesa, 6(2):213-31.         [ Links ]

Newman, J. 2009a. Preface. In Newman (ed). The linguistics of eating and drinking. Amsterdam: John Benjamins, pp. i-vi.         [ Links ]

Newman, J. 2009b. A cross-linguistic overview of 'eat' and 'drink'. In Newman (ed). The linguistics of eating and drinking. Amsterdam: John Benjamins, pp. 1-16.         [ Links ]

Newman, J. (ed). 2009c. The linguistics of eating and drinking. Amsterdam: John Benjamins.         [ Links ]

Ortony, A. 1993. Metaphor and Thought. Second edition. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Pragglejaz Group. 2007. A practical and flexible method for identifying metaphorically-used words in discourse. Metaphor and Symbol, 22(1):1-39.         [ Links ]

Semino, E. & Steen, G. 2008. Metaphor in literature. In Gibbs, R. (ed.). The Cambridge Handbook of Metaphor and Thought. Cambridge: Cambridge University Press, pp.232-246.         [ Links ]

Simó, J. 2011. Metaphors of blood in American English and Hungarian: A cross-linguistic corpus investigation. Journal of Pragmatics 43: 2897-2910.         [ Links ]

Steen, Gerard. J. 2007. Finding metaphor in grammar and usage: A methodological analysis of theroy and research. Amsterdam: John Benjamins.         [ Links ]

Steen, G.J., Dorst, A.G., Hermann, J.B., Kaal, A.A., Krennmayr, T. &Pasma, T. 2010. A Methodfor Linguistic Metaphor Identification. Amsterdam: John Benjamins.         [ Links ]

Stefanowitsch, A. 2007. Corpus-based approaches to metaphor and metonymy. In Stefanowitsch & Gries (eds). Corpus-based approaches to metaphor and metonymy. Den Haag: Mouton de Gruyter, pp. 1-16.         [ Links ]

Stefanowitsch A. & Gries, S. Th. (eds). 2007. Corpus-based approaches to metaphor and metonymy. Den Haag: Mouton de Gruyter.         [ Links ]

Taljard, E. & Bosman, N. 2014. The Semantics of Eating in Afrikaans and Northern Sotho: Cross-linguistic Variation in Metaphor. Metaphor and Symbol, 29(3):224-245. http://dx.doi.org/10.1080/10926488.2014.924306.         [ Links ]

Taylor, J.R. & MacLaury, R.E. (eds).1995. Language and the cognitive construal of the world. Berlin: Mouton De Gruyter.         [ Links ]

Verstraten, L. 1992. Vaste verbindingen. Een lexicologische studie vanuit cognitief-semantisch perspectief naar fraseologismen in het Nederlands. Utrecht: LEd.         [ Links ]

Wierzbicka, A. 2009. All people eat and drink. Does this mean that 'eat' and 'drink' are universal human concepts? In Newman, (ed). The linguistics of eating and drinking. Amsterdam: John Benjamins, pp. 65-87.         [ Links ]

Woordeboeke

De Stadler, L. & de Stadler, A. 2007. Tesourus van Afrikaans. Kaapstad: Pharos.         [ Links ]

Knuttel, J.A.N. 1916. Woordenboekder Nederlandsche Taal. Derde deel. 's Gravenhage, Kaapstad: Juta.         [ Links ]

Simpson, J.A. & Weiner, E.S.C. 1989. The Oxford English Dictionary. Second edition. Volume IV. Oxford: Clarendon Press.         [ Links ]

Woordeboek van die Afrikaanse taal.Dele II, IV, VIII, XI. Pretoria: Die Staatsdrukker.         [ Links ]

BYLAAG A: DIE SOEKWOORDE

(ge)eet, (ge)vreet, (ge)drink, (ge)suip), (ge)sluk, (ge)kou, insluk, afsluk, ledig, geniet, herkou, inkry, inneem, knaag, opeet, slurp, opslurp, opvreet, uitvreet, verbruik, verorber, verslind, verteer, weglê.

 

 

Nerina Bosman is 'n senior lektor verbonde aan die Departement Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria. Sy doseer voor- en nagraadse kursusse in Afrikaanse Taalkunde en nagraadse kursusse in Toegepaste Taalstudies. Haar navorsingsgebiede is in die eerste plek die Afrikaanse leksikologie en die leksikale semantiek. Binne die teoretiese raamwerk van die konseptuele metafoorteorie is sy tans besig met 'n projek oor eet- en drinkmetafore inAfrikaans en ander tale. Woordeskatkwessies by die aanleer van tweede tale is ook al deur haar ondersoek aangesien sy ook 'n kursus "Leer Nederlands" aanbied. Danksy 'n navorsingstoekenning deur die Nasionale Navorsingstigting, is daar in 2014 onder haar leiding begin met 'n groot projek oor aanspreekvorme in Afrikaans, nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in Namibië. In 2014 verskyn, onder haar en prof. Wannie Carstens se redakteurskap, Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde.
Nerina Bosman is a senior lecturer in the Department of Afrikaans at the University of Pretoria. She teaches undergraduate and postgraduate courses in Afrikaans Linguistics and postgraduate courses in Applied Language Studies. Her research areas are in the first instance Afrikaans lexicology and lexical semantics. Within the theoretical framework of conceptual metaphor theory, she is currently working on a project on eat and drink metaphors in Afrikaans and other languages. Vocabulary issues in the acquisition of second languages is also a focus area in her research, since she also presents a course "Learning Dutch" at UP. Thanks to a research grant by the National Research Foundation, a big project on forms of address in Afrikaans was launched under her leadership. This project will involve participants in the whole of South Africa as well as in Namibia. In 2014 Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde appeared with her and prof. Wannie Carstens as editors.

1 'n Volledige semantiese verkenning van eet en drink in Afrikaans is nie moontlik binne die bestek van een of twee artikels nie. Twee verdere artikels binne hierdie projek is in wording - een met die fokus op eet- en drinkmetafore in die Bybel (met spesifieke verwysing na die beker-metafoor) en een wat poëtiese (of "kreatiewe") eet- en drinkmetafore in Afrikaans verken.
2 Dié teorie is ontwikkel deur Lakoff en Johnson in hulle baanbrekerswerk Metaphors we live by (1980), Kävecses (1986) en Lakoff (1987a, 1987b, 1993) en sedertdien getoets, verfyn en uitgebrei deur talle ander navorsers (vergelyk onder baie ander byvoorbeeld Verstraten (1992), Boers en Demecheleer (1997), Gibbs (1999), Callies en Zimmermann (2002) Kävecses (1986, 1995, 2002) en Simó (2011).
3 'n Ander manier waarop daar binne die kognitiewe linguistiek na metafoor gekyk word, is om metafore te beskou as bronne van konseptuele versmelting, ("conceptual blending") waar sekere eienskappe van twee konseptualiserings ("conceptions") saamgevoeg word om 'n derde te vorm (vergelyk byvoorbeeld Fauconnier en Turner 2002).
4 Ander prosesse wat meespeel. is byvoorbeeld betekenisverenging en -veralgemening.
5 Hierdie toedrag van sake is enigsins verrassend. Metafoorondersoek is wêreldwyd besonder gewild in die sielkunde, filosofie, linguistiek, poëtika, geskiedenis, antropologie, diskoersstudies en ook ander dissiplines (Steen et al 2010:1). Die werk wat wel oor metafore in Afrikaans gedoen is binne die raamwerk van die kognitiewe semantiek steek in omvang opvallend af teen internasionale meta- foorondersoek.
6 WordNet (http://wordnet.princeton.edu/) is 'n groot leksikale databasis vir Engels. Selfstandige naamwoorde, werkwoorde, byvoeglike naamwoorde en bywoorde word in sogenaamde "synsets" (kognitiewe sinonieme) gegroepeer. In so 'n woordnetanalise staan woorde in paradigmatiese semantiese verhoudings soos (gedeeltelike) sinonimie, hiperonimie en hiponimie tot mekaar.
7 Vir die werkwoord eet is daar byvoorbeeld 6360 konkordansiereëls in die Taalkommissiekorpus en 1183 reëls in die UP-korpus gevind. Die Pragglejazz-metode word gebruik in enkel tekste, nie in groot korpusse nie.
8 Taljard & Bosman (2014) het wel ooreengekom oor die eet-metafore en hulle stem ook grotendeels ooreen met dié wat Newman (1997 en 2009b) geïdentifiseer het.
9 Die Taakommissiekorpus word gebruik met erkenning aan die Sentrum vir Tekstegnologie (CTexTTM), Noordwes-Universiteit, wat die korpus beskikbaar gestel het.
10 Die rol wat volksgelowe en bygelowe of "gewone mense" se verstaan van bepaalde liggaamsdele en-funksies in metaforiese prosesse en karterings speel, is al deeglik in leksikaal-semantiese studies binne die kognitiewe semantiek gedokumenteer sedert Lakoff & Johnson se Metaphors we live by (1980) en Lakoff se gevallestudies in Women, Fire and Dangerous Things (1987b) aanvanklik die verband tussen metafoor en volksteorie aangetoon het.
11 Nievaste voedsel kan ook geëet word, vergelyk: Ons eet sop vanaand.
12 Vergelyk egter: Sy drink elke dag 'n handvolpille en *ons drink sop vanaand.
13 Die notasievorm DOELDOMEIN IS / AS BRONDOMEIN word algemeen gebruik om konseptuele metafore aan te dui.
14 Intellektuele aktiwiteit word wel as 'n aparte metafoor geïdentifiseer in 5.1.2.
15 Dieselfde aspek van die eetproses speel ook 'n belangrike rol by die idiome klippe kou en harde bene kou wat verderaan aan bod kom (afdeling 5.3).
16 Ruimte ontbreek om hierdie interessante metafoor, waar metonimie ook duidelik meespeel, verder te ontleed.
17 Anders as Newman (1997:219) wat 'n duidelike seksuele konnotasie vind in die Engelse uitdrukking wat hy ontleed, is die oorheersende betekenis wat in die Afrikaanse voorbeelde uitgedruk word baie duidelik nie dié van seksuele liefde nie. Dit is ook opvallend dat die kartering SEKS IS EET juis nie in die korpusdata gevind is nie, alhoewel dit wel voorkom in gesproke Afrikaans.
18 Die oorsprong van dié uitdrukking is die Engelse to eat out of another's hand.
19 Wierzbicka (2009) beskou EET en DRINK nie as universele menslike konsepte nie. Sy wys daarop dat die konsepte nie as aparte woorde in Kalam ('n Papuataal) en Warlpiri ('n Australiese taal) geleksikaliseer is nie.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License