SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.55 issue1German paths in the Hague. Johannes Visscher and the "südafrikanische Propaganda" during World War I author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912

Tydskr. geesteswet. vol.55 n.1 Pretoria Mar. 2015

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2015/V55N1A1 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS

 

Wat maak jou mummie? 'n Oorsig van die stand van mummienavorsing aan die hand van die 8ste wêreldkongres

 

What's your mummy doing? An overview of the status of mummy research with reference to the 8th world congress

 

 

Ruhan Slabbert; Liani C. Swanepoel; Izak Cornelius

Departement Antieke Studie Universiteit Stellenbosch. E-pos: ruhan.slabbert@kapabiosystems.com; E-pos: ancient7@sun.ac.za; E-pos: sakkie@sun.ac.za

 

 


OPSOMMING

Die doel van hierdie artikel is om opsommend al die temas en studierigtings te beskryf wat by die 8ste Wêreldkongres oor Mummienavorsing aangebied is om die huidige stand van die bestudering van mummies aan te dui. Mummies is unieke bronne van inligting oor die verlede en die studie van mummies gee ons insig in die lewens van mense uit vervloë dae en van vele kulture. Mummies het nog altyd bekoor, selfs vandag nog. Die 8ste Wêreldkongres oor Mummienavorsing is vanaf 6 tot 9 Augustus 2013 in Rio de Janeiro, Brasilië, gehou. Hierdie kongres bring wetenskaplikes bymekaar wat mummies en hul toebehore bestudeer. Die 8ste kongres het verskeie internasionaal erkende navorsers se werk deur middel van 99 referate en 45 plakkaataanbiedings ten toon gestel. Twee plakkate het selfs oor werk gehandel wat in Suider-Afrika gedoen word, naamlik die studie van antieke Egiptiese dieremummies in Iziko Museums van Suid-Afrika (Kaapstad) en die studie van die Tuli-mummie wat in Botswana gevind is. Die wetenskaplike studie van mummies is goed gevestig en toon merkwaardige groei. Die enigste kritiek teen die kongres is egter die oordrewe klem op suiwer wetenskaplike studie en dat die kulturele en sosiale interpretasie van die mummies grootliks agterweë gelaat is. Die natuur-, mediese en chemiese wetenskappe is goed verteenwoordig en die data is waardevol, maar die ware integrasie van hierdie en die sosiale wetenskappe is nog onvoldoende. 'n Meer gebalanseerde kombinasie van die verskillende dissiplines sal die waarde van so 'n kongres aansienlik verhoog.

Trefwoorde: CT-skandering; dieremummies; DNS; Egipte; Europa; mensmummies; natuurwetenskappe; patogene; patologie; pessiektes; sosiale wetenskappe; Suid-Amerika


ABSTRACT

The aim of this article is to summarise the current state of mummy research by describing all the themes andfields of study which were covered during the 8th World Congress on Mummy Studies. Mummies are exceptional and unique sources of information about the past. The study of mummies gives us insight into the lives of peoples from bygone eras and their cultures. A mummy is the preserved body of either a human or an animal and includes skin, hair and flesh, regardless of whether it was created by natural processes or artificial methods. The best-known mummies are those from ancient Egypt, but mummies are found all over the world, from Europe to South America and even Australia. Mummification is the process whereby a mummy is created. A distinction is made between natural mummification and artificial or rather intentional mummification. Both the technical and religious aspects of mummification are of great importance when studying the funeral practices of ancient societies.
Mummies have always fascinated the scientific community as well as everyday folk, a trend that continues to this day. The study of mummies and the processes and mechanisms responsible for mummification has a long and varied history. Modern mummy research is an interdisciplinary field which makes use of highly advanced experimental and analytical methodologies. Anthropologists, anatomists, chemists, physicists, biologists, geneticists and other specialists are working together to reveal the secrets of mummies. To facilitate this atmosphere of collaboration the 8th World Congress on Mummy Studies was held in Rio de Janeiro in Brazil from 6 to 9 August 2013. This congress brought together a number of scientists who work on mummies and their paraphernalia. The 8th congress exhibited the work of various internationally recognised researchers - in the form of 99 papers and 45 posters. Two posters even presented work that was done in Southern Africa, namely the study of ancient Egyptian animal mummies in Iziko Museums of South Africa (Cape Town) and the study of the Tuli mummy which was found in Botswana.
Other work that was presented at this congress covered a number of scientific disciplines. The study of ancient DNA has grown in popularity as the advances in technology increased. Ancient DNA is useful in studying human population history and the evolution of diseases such as tuberculosis. Techniques such as gas chromatography-mass spectrometry (GC-MS) and high performance liquid chromatography (HPLC) are also popular when studying ancient pathogens. The most popular technique used by scientists presenting at the congress was computed tomography, better known as CT-scanning. This technology uses x-rays to create cross-sections or whole three-dimensional images of both organic and inorganic samples. This technique is perfect for nondestructive and non-invasive studies of mummified materials. Researchers can use this technology to perform a virtual autopsy on valuable specimens without cutting or removing anything. Information can be gathered on the health status of the mummy. The presence of tuberculosis lesions, heart disease, skeletal deformities and dental pathologies can be studied using CT-scanning technologies. Other objects associated with mummies and mummy burials can also be examined with CT-scanning. Amulets, jewellery and other known or unidentified trinkets found in mummy bundles can be seen in the scanning data and isolated to be studied in more detail.
The congress showed that the scientific study of mummies is a healthy and growing field. However, the only criticism about the congress is the excessive emphasis on the pure scientific studies while the cultural and social interpretation of the data and the mummies are being neglected to a great extent. The natural, medical and chemical sciences are well represented and the data are valuable, but a true integration of the social sciences and natural sciences is still insufficient. The importance and scientific value of the congress, if such a balanced combination can be achieved in future, will increase greatly.

Key words: animal mummies; CT-scanning; DNA; Egypt; Europe; human mummies; natural sciences; pathogens; pathology; pests; social sciences; South America


 

 

1. INLEIDING

Mummies is unieke bronne van inligting oor die verlede. Die studie van mummies gee ons insig in die lewens van mense uit vervloë dae en van vele kulture. Mummies bekoor vandag nog omdat hulle 'n visuele metafoor vir die droom van 'n ewige lewe is (Rosendahl 2010:11).

'n Mummie1 is die bewaarde dooie liggaam van 'n mens of dier - insluitende vel, hare en vlees - ongeag of dit deur natuurlike prosesse of deur kunsmatige metodes geskep is.2 Die bekendste mummies is natuurlik dié van die antieke Egiptenare, maar mummies word regoor die wêreld gevind, in Europa, Suid-Amerika en selfs Australië. Mummifikasie is die proses wat die transformasie van 'n dooie liggaam tot 'n mummie beskryf. Onderskeid word tussen natuurlike mummifikasie en kunsmatige of eerder opsetlike mummifikasie getref.3 In die studie van die begrafnisgebruike van ou samelewings is beide die tegniese en godsdienstige aspekte van mummifikasie belangrik. Vir Egiptoloë is mummifikasie byvoorbeeld nie net die metode om die sagte weefsel van die liggaam te bewaar nie, maar ook die breër betekenis van die rituele behandeling van die dooie persoon voor sy/haar uiteindelike begrafnis, wat balsemingsmateriale en linnewindsels insluit (Aufderheide 2003; Pommerening 2010; Rosendahl 2010).

Die studie van mummies het mense nog altyd geboei. Die antieke Griekse geskiedskrywer, Herodotos, het reeds in die 5de eeu v.C. uitvoerig oor kunsmatige mummifikasie en verskillende tipes balseming geskryf (Boek II:86-90 = Van Rensburg 1994:106-108). Die Griekse skrywer, Diodoros Sikeliotes (1ste eeu v.C.), het vier eeue later selfs meer uitvoerig daaroor verslag gedoen (Boek I:91 = Oldfather 1933:308-313). Selfs die Bybel (Gen. 50:26) noem die gebruik. Die meer wydverspreide belangstelling in antieke Egiptiese mummies wat in die 13de eeu in Europa posgevat het, is met die vraag na die medisyne, mumia, verbind (sien ook voetnota 1). Teen die 16de en 17de eeu is hierdie middel algemeen in Europa as 'n kuur gebruik.

Die belangstelling in mummies het daartoe gelei dat dit algaande as kosbare voorwerpe in versamelings gedurende die 17de eeu opgeneem is. Napoleon se veldtogte in Egipte (1798-1801) (Gillispie & Dewachter 1987) en die algemene fiksasie op Egipte wat daarop gevolg het, het die vraag na mummies sterk laat toeneem. Mummies is ook nie bloot net uitgestal nie. Tentoonstellings is gehou waar mummies oopgemaak is. Sulke vertonings is hoofsaaklik deur nuuskierigheid, morbiede betowering en die hoop om waardevolle artefakte te vind, gedryf. Die gemummifiseerde liggaam was slegs 'n bysaak (Rosendahl 2010:10).

Thomas Joseph Pettigrew, arts vir die Hertog van Kent, het een van die eerste belangrike stappe in die rigting van die wetenskaplike navorsing van mummies geneem. Sy boek, History of Egyptian mummies, het vir die eerste keer die oopmaak van ' n mummie noukeurig beskryf (Pettigrew 1834). Daadwerklike wetenskaplike navorsing van mummies het in die begin van die 20ste eeu toegeneem waartydens insigte oor mummies as mense ingewin is. Interdissiplinêre programme is geïmplementeer wat hoofsaaklik op nie-vernietigende ontledingsmetodes, soos radiografie, gegrond is. Die era van moderne mummienavorsing het begin. Aanvanklik is slegs Egiptiese mummies ondersoek, maar deesdae word beide mens- en dieremummies - van alle natuurlike omgewings en kulture - as wetenskaplik belangrik geag. Moderne mummienavorsing is interdissiplinêr van aard en maak van baie gevorderde eksperimentele en ontledingsmetodes gebruik. Antropoloë, anatome, geneeskundiges, chemici, fisici, bioloë, genetici en ander spesialiste werk saam om die geheime van mummies te onthul4 (Aufderheide 2003; Wieczorek & Rosendahl 2010).

Die 8ste Wêreldkongres oor Mummienavorsing5 is vanaf 6 tot 9 Augustus 2013 in Rio de Janeiro, Brasilië, gehou. Die gashere was die Museu Nacional en die Universidade Federal do Rio de Janeiro (UFRJ). Die 8ste kongres het verskeie internasionaal erkende navorsers se werk in die vorm van 99 referate en 45 plakkaataanbiedings ten toon gestel. Daar was ook twee plakkate oor werk wat in Suider-Afrika gedoen word, naamlik die studie van antieke Egiptiese dieremummies in Iziko Museums van Suid-Afrika (Kaapstad) (Cornelius et al. 2012) en die studie van die Tuli-mummie wat in Botswana gevind is (Mosothwane 2011). Opsetlike of antropogeniese6 asook natuurlike mummies is bespreek. Verskillende tydperke, geografiese gebiede en wetenskaplike dissiplines is gedek. Nie net is antropomorfiese mummies bespreek nie, maar ook temas wat oor diere, parasiete en bakterieë handel, het hoofrolle gekry. Selfs die kleiner biomolekules, naamlik deoksiribonukleïensuur (DNS) en proteïene het volle sessies van die kongres gevul. Hierdie artikel sal opsommend al die temas en studierigtings beskryf wat tydens die kongres bespreek is om die huidige stand van mummienavorsing aan te dui.

 

2. DIE AGTERGROND VAN DIE KONGRES

Die "vader" van die wêreldkongres oor mummienavorsing is Art Aufderheide, die skrywer van boeke soos The scientific study of mummies (2003). Sy deursettingsvermoë en passie het tot die eerste kongres gelei wat in Tenerife, op die Kanariese Eilande, Spanje, gehou is. Art het op 'n besoek aan hierdie eilande 'n belangstelling in die oorspronklike Guanche-beskawing ontwikkel en saam met die plaaslike argeoloë 'n groot navorsingsprojek begin. Hierdie groep het vir 'n paar jaar lank hard gewerk om die 1991 kongres te reël. Nog ses verdere kongresse het in lande gevolg wat 'n sterk tradisie van mummienavorsing het. Lande soos Colombië (1995), Chili (1998), Groenland (2001), Italië (2004), die Kanariese Eilande (2007) en die Verenigde State van Amerika (2011) het as gashere gedien (Lynnerup et al. 2012). Die kongres word elke drie jaar gehou, maar dit wil voorkom asof dit nou elke twee jaar aangebied sal word. Die doel van hierdie reeks kongresse is om wetenskaplikes bymekaar te bring wat mummies en hul toebehore bestudeer. Natuurwetenskaplikes, paleopatoloë, argeoloë en tegnoloë kan almal om een tafel sit, idees uitruil en multidissiplinêre projekte beplan.

 

3.TEGNIEKE EN TEGNOLOGIEË

Daar is 'n groot aantal tegnieke en tegnologieë wat gebruik word om mummies te bestudeer.7

Die gebruik van antieke DNS (aDNS) is in verskeie voordragte bespreek. DNS is die molekuul wat verantwoordelik is vir die oordrag van oorerflike fisiese eienskappe soos oog- en haarkleur asook vir afwykings soos Down-sindroom. Antieke DNS is van groot waarde, maar is moeilik om te isoleer en verskil chemies van DNS in lewende selle. Twee spronge in tegnologiese ontwikkeling het die ontleding van DNS 'n werklikheid gemaak. In die laaste deel van die 20ste eeu is die polimerasekettingreaksie (PKR; cf. Rabinow 1996) ontwikkel wat die klonale vermeerdering van die molekules vergemaklik. In 1996 (Ronaghi et al. 1996) is die nuwegenerasie-DNS-volgordebepalingsmetodes ontwikkel. Nuwegenerasie-DNS-volgorde bepalingsinstrumente het in 2005 (cf. Margulies et al. 2005) op die mark verskyn. Hierdie tegnologie stel navorsers in staat om te kyk na al die genetiese materiaal wat in 'n mummie is. DNS van mummies is veral nuttig om die evolusie van siektes soos tuberkulose en melaatsheid na te vors (Donoghue 2013; Schuenemann et al. 2013).

Proteïene en lipiede is metaboliese produkte wat deur prosesse in lewende organismes vervaardig word. Hierdie tipe molekules breek mettertyd af (Metcalfe & Freemont 2012), maar dikwels bly daar baie jare later nog steeds voldoende hoeveelhede oor om genoegsame inligting in te samel. Die tipe instrumente en tegnieke wat gebruik word om na hierdie biomerkers te kyk, sluit mikroskopie, gaskromatografie-massaspektrometrie (GC-MS) en fluoresserende hoëverrigtingvloeistofkromato-grafie (HPLC) in. Hierdie tegnologie word veral gebruik om die voorkoms van sekere patogene in menslike oorblyfsels te bevestig8 (Donoghue et al. 2010; Minnikin 2013).

Die gewildste tegniek is verreweg rekenaartomografie of CT-skandering. Hierdie tegnologie gebruik x-strale om driedimensionele beelde te skep wat op die digtheidsverskille van die verskillende voorwerpe, been- en weefselsoorte gebaseer is. Verskeie deursnitte kan van interessante areas gemaak word en die toekenning van verskillende kleurskakerings kan met die visualisering van strukture help. CT-skandering is nievernietigend en laat die navorser toe om die mummie virtueel oop te maak en selfs te dissekteer. Waardevolle inligting oor die skelet, sagte weefsel, gebit en selfs patologie van die individu kan op hierdie wyse ingesamel word (cf. Forshaw 2013; Saleem & Hawass 2013b; Thompson et al. 2013). Nie-biologiese voorwerpe soos beelde, pylpunte, amulette en ander juwele kan ook bestudeer word (cf. Cavka et al. 2012; Gostner et al. 2013). Al hierdie inligting dra by om die lewensverhaal van die mummie te onthul. Moderne CT-skandeerders en sagteware het hierdie tegnologie feitlik sinoniem met die bestudering van mummies gemaak.

 

4. TEMAS VAN VOORDRAGTE

4.1 Antieke pessiektes

Mense was nog altyd siek, is siek en sal siek bly. Patogene, parasiete en mense is onafskeidbare kwaaivriende. 'n Aantal voordragte het siektes beskryf wat deur bakterieë veroorsaak is. Die bekendste is ongetwyfeld tuberkulose (TB) wat deur Mycobacterium tuberculosis veroorsaak word. Tuberkulose is een van die antieke siektes wat met behulp van moderne diagnostiese metodes bestudeer is (Donaghue 2013). Die DNS van hierdie organisme bly uitstekend behoue weens die struktuur en samestelling van die bakteriële selwand wat dit ideaal vir genetiese ontleding maak. Deur van genetiese data gebruik te maak, is dit moontlik om na die ko-evolusie9 tussen verskillende periodes van menslike ontwikkeling en die variante en families van TB te kyk, asook hoe dit ons geskiedenis beïnvloed het. Die rol van ko-infeksies10 tussen endoparasiete en bakterieë kan ook deesdae ondersoek en die rolle hiervan bepaal word (Nerlich et al. 2013). Kelvin et al. (2013) het 120 natuurlike mummies en geraamtes wat in 'n kerk in Sardinië, Italië, opgegrawe is, bestudeer om na die rol van oordraagbare siektes tydens die onstuimige tydperk tussen die 17de en 19de eeu in Europa te kyk. Shin et al. (2013) het dieselfde tipe studie op Koreaanse mummies wat uit die 15de tot 19de eeu dateer, gedoen.

4.2 Help my krap

Die ander kleiner bewoners van die menslike liggaam, naamlik endo- en ektoparasiete, het ook baie aandag in verskeie studies gekry.11 Die geskiedenis van parasitiese infeksies kan vir ons baie oor die lewensomstandighede van ons voorouers leer. Die vlakke van infeksies het stadig deur die eeue gestyg. Soos wat menslike samelewings se getalle vermeerder en nedersettings gegroei het, het oordraagbare siektes ook toegeneem. Parasiete soos lintwurms en lewerslakke bied baie inligting oor die lewensomstandighede, higiëne en bevolkingsdigtheid van die antieke mens asook inligting oor ander kommunale organismes (bv. rotte) wat lewensruimtes met mense gedeel het.12 Die oorgang van parasietsoorte tussen geografiese gebiede kan ook vir ons baie vertel oor die kontak tussen samelewings. 'n Goeie voorbeeld hiervan is die Europese kontak met Suid-Amerika, waar parasiete wat met menslike afval vereenselwig word, eers na die kolonialisering van die Nuwe Wêreld werklik posgevat het (Reinhard 2013). Die praatjie wat die verbeelding aangegryp en mens laat kopkrap het, het oor ons meer jeukerige passasiers gehandel, naamlik kopluise. Kopluise was volop in die verlede en groot getalle is op Suid-Amerikaanse mummies gevind wat van die Chinchorro- tot Inka-tydperk (5000 v.C.-1500 n.C.; Arriaza 2013) strek.13 Wat baie interessant was, was die afname in digthede van luise en eiers14 per haar soos wat kamme mettertyd verbeter het en ook meer vir persoonlike versorging gebruik is.

4.3 My hart klop vir jou

Sowel natuurlik as antropogenies gemummifiseerde materiaal van verskillende tydperke is vir die teenwoordigheid van patogene en ander siektetoestande ondersoek. Die Horus-groep (cf. Thompson et al. 2013), wat mummies van regoor die wêreld bestudeer, het van hul resultate op die kongres bespreek. Mummies vanaf 3100 v.C. tot 1930 n.C.van antieke Egipte, antieke Peru, die Unangan en die Aleoetiese Eilande is bespreek. Die studie het spesifiek op die toestand van aterosklerose15 gefokus. Hierdie siekte word as 'n meer moderne toestand gesien wat aan 'n bepaalde lewenstyl te wyte is. Die navorsers het dus besluit om te kyk of hulle dit ook in antieke bevolkings kon waarneem. CT-skandering is toegepas om vir die kenmerkende patrone van verkalking van die are te soek wat met hierdie siekte vereenselwig word. Hul resultate was baie interessant: 34% van die 137 mummies wat bestudeer is, het tekens van aterosklerose getoon, veral dié wat ouer as 40 jaar met hul dood was. Die outeurs het gevolglik gepostuleer dat hierdie toestand nie noodwendig deur lewenstyl veroorsaak word nie, maar dat dit inherent aan mense is en meestal tydens gevorderde ouderdom manifesteer.

4.4 Sê AAAAAH...

Natuurlik kan ons nie mondhigiëne uitlaat nie. Verskeie aanbiedings is oor die odontologiese patologie van mummies gelewer. CT-skandering is weereens gebruik om die nodige inligting in te samel om akkurate diagnoses van historiese materiale te maak. Verskeie absesse, granulomas en holtes is deur Seiler en Rühli (2013) geïdentifiseer. Alhoewel dit moontlik is om die data van hierdie ou materiale met moderne gevalle te vergelyk om sodoende afleidings oor die kliniese aard van die waarnemings te kan maak, is dit nodig om te besef dat die interpretasies slegs teoreties is. Forshaw (2013) het na honderde skedels, afkomstig vanaf antieke Nubië, gekyk om meer oor die gesondheid van hierdie antieke kultuur se gebit uit te vind. Tandverwering was algemeen en het baie van die siektes wat waargeneem is, veroorsaak.16 Een van die meer interessante en rare waarnemings was die ontdekking van 'n gesplete verhemelte in 'n volwasse skedel. Weens die fisiese aard van 'n gesplete verhemelte sou sulke individue ekstra versorging vereis het om te kon oorleef. Hierdie kan dus moontlik as 'n aanduiding van empatie en nasorg in 'n antieke samelewing beskou word.

4.5 Waar is my heupbeen?

Paleoantropologie is 'n baie waardevolle vakgebied vir die bestudering van mummies (Aufderheide 2003). Navorsers in hierdie veld bestudeer die skelet om meer inligting te bekom oor die geslag, ouderdom, gesondheid en moontlike oorsake van die dood van 'n individu. 'n Baie belangrike nuwe bron van inligting in hierdie veld is die samestelling van 'n massiewe databasis genaamd Digitised Diseases (Wilson et al. 2013). Hierdie aanlynbron bevat prente van gedigitaliseerde beendere met patologiese toestande wat gebruik kan word om studiemateriaal met ander monsters te vergelyk. Radiografiese data is ook vir verskeie monsters beskikbaar.17

4.6 Wat sê ons gene? Niks nuuts nie

Die studie van antieke DNS (aDNS) is 'n opwindende nuwe veld in die argeologie. Hierdie studierigting kan groot hoeveelhede inligting lewer en nuwe tegnologie en ontledings- en statistiese metodologie sal nog baie tot die verdere ontwikkeling hiervan bydra. Hierdie metodes is toegepas om die Tiroolse ysmummie, beter bekend as Ötzi, te bestudeer (Keller et al. 2012). Die nukleêre18 genoom van Ötzi is reeds ontleed. Keller et al. (2012) se studie het gevind dat hy aan die hand van sy DNS volgordes en mutasies aan die bevolkings van Korsika en Sardinië verwant is en nie aan moderne endemiese Europeërs van die Alpe nie. Hierdie tipe data dra dus tot die studie van die prehistoriese migrasieroetes van verskillende groepe mense by. Die navorsingsgroep het ook gevind dat die ysman se oogkleur bruin was asook dat hy laktose-intolerant was. CT-skanderings-data toon dat Ötzi se are tekens van verkalking gehad het. Hierdie waarneming is deur genetiese navorsing gestaaf wat toon dat hy die risikomutasies vir aterosklerose gedra het. Deur die genetiese samestelling van ons voorvaders te bestudeer, is dit dus moontlik om verskeie afleidings te maak oor hoe hulle gelyk het, hulle fisiologie asook aan watter genetiese afwykings hulle kon gely het. Wat dit ons leer, is dat hulle gene en ons gene steeds dieselfde is. Ons kan dus ons eie biologiese geskiedenis op hierdie manier navolg.

4.7 Kultuur en geskiedenis

Die wetenskaplike data wat ingesamel word, kan ook baie tot die interpretasie van die kulturele aspekte van die antieke volke bydra. Die mummifikasieproses van die antieke Egiptenare is natuurlik een van die mees bestudeerde aspekte van mummienavorsing (Ikram & Dodson 1998). CT-skandering is deur Saleem en Hawass (2013 a) gebruik om die kosmetiese prosesse te bestudeer wat tydens mummifikasie gebruik is. Die mummies wat in die studie gebruik is, het dié van die farao's Thutmoses I, Amenhotep IV (Akhenaten) en Ramses II ingesluit. Hulle het gevind dat sekere materiale19 gebruik is om die orbitale en nasale holtes te vul om sodoende vorm daaraan te gee. Die mond- en keelholte is ook op soortgelyke wyse gevul om sodoende die lyne daarvan te bewaar. Sekere materiale is ook net onder die uitgedroogde vel geplaas om meer volume aan die betrokke liggaamsdeel te gee. Sulke areas van die liggaam sluit die borskas en penis in. Saleem en Hawass (2013b) het ook na die verskillende maniere waarop die kop tydens mummifikasie hanteer is met behulp van CT-skandering ondersoek en het gevind dat dit gewissel het. Die brein is óf verwyder óf nie en in gevalle waar dit wel uitgehaal is, was verskillende verwyderingsmetodes betrokke.

Die rol van vroue in antieke samelewings is veral van belang in moderne navorsing (cf. James & Dillon 2012). Talle opgrawings in Peru het daarop gedui dat vroue belangrike sosiale posisies beklee het asook in die antieke kulture van die Andes geregeer het. Die geval van die Dame van Cao is deur Guillén (2013) behandel. Die mummie is in 'n Mochekatakombe gevind en is om en by 1500 jaar oud. Waardevolle juwele, tekstiele, klere en wapens is saam met haar opgegrawe.

Die mummie se arms het verskeie tatoeëermerke bevat wat van kulturele belang was. Die liggaam van 'n geofferde tienermeisie is ook by die Dame van Cao se graf ontdek.20 Al hierdie artefakte en grafgoedere kan as aanduidings dat sy 'n baie hoë sosiale status in haar samelewing geniet het, beskou word; sy kon selfs 'n prinses of koningin gewees het.

4.8 Suider-Afrikaanse verteenwoordiging

Suider-Afrika is natuurlik ook by hierdie kongres verteenwoordig. Suid-Afrikaanse museums het waardevolle Egiptologiese versamelings. Hierdie versamelings bevat nie net artefakte soos keramiek- en faïenceware nie,21 maar ook mummies van mense en diere. Die voorlopige resul-tate van werk wat op die Sosiaal-Historiese Versamelings van Iziko Museums van Suid-Afrika (Kaapstad) se dieremummies uitgevoer is (Cornelius et al. 2012), is aangebied. Die vyf mummie-bondels (twee valke, een kat, een met net vere en een met vere en 'n valk se been en klou) se CT-skanderingsdata is saam met volledige beskrywings van die buite- en binnekante vertoon (Slabbert et al. 2013) (Figuur1).

In 2008 is Botswana se eerste en sover enigste menslike mummie gevind22 (Mosothwane 2011). Hierdie tipiese natuurlike mummie is deur die konstante temperatuur en lae humiditeit van die gebied bewaar en hare, naels asook sagte weefsel is steeds herkenbaar. Die CT-skanderingsdata is aangebied (Bodiba et al. 2013) en die skrywers noem dat DNS ontledings tans aan die gang is. Die mummie behoort heel moontlik aan die Khami-koninkryk en dateer uit die Laat Ystertydperk (1500-1800 n.C.)

4.9 Te veel harde wetenskap?

Die gemiddelde kongresganger moes baie syfers, grafieke, ingewikkelde beelde en terme tydens die kongres trotseer. Die outeurs voel dat die sogenaamde harde wetenskappe oorheers het, terwyl die kulturele en historiese verhaal van die mummies nie werklik oorgedra is nie. 'n Mummie is tog meer as net 'n uitgedroogde liggaam wat op sigself uiters interessant is, maar die godsdiens, begrafnisrituele, simboliek, grafkuns en -goedere moet nie agterweë gelaat word nie. Day (2013) se aanbieding was byvoorbeeld die enigste wat onder andere oor die mummiemanie ('n aspek van die groter Egiptomanie) van 19de-eeuse Europa gehandel het (Day 2006). Sy het gepraat oor hoe hierdie obsessie deur vroeë Egiptoloë se fisionomiese studie van die gesigte van mummies beïnvloed is. In hierdie studies is farao's se gesigte gerekonstrueer en sekere afleidings is oor ras, klas en godsdiens gemaak. In die proses is Westerse waardes, lewensverhale en gesigte aan die antieke Egiptenare oorgedra om hulle meer menslik en bekend vir die 19de-eeuse Europeër te maak. Uiteindelik is die vraag of die moderne forensiese gesigsrekonstruksie van Egiptiese mummies nie op dieselfde gemeensaamheid met 'n vreemde kultuur neerkom nie (Day 2013).

Die hoop is dat toekomstige kongresse oor mummienavorsing 'n groter balans tussen die blote verslagdoening van indrukwekkende wetenskaplike resultate en die kulturele, historiese en sosiale interpretasie van die mummies self sal vind.

 

5. SAMEVATTING

Die kongres was waarlik 'n skatkis van inligting en interessanthede. Die bestudering van ons voorvaders gee vir ons 'n uitstekende blik op hoe hulle geleef het, asook hoe ons nog steeds leef. Die wetenskaplike studie van mummies is gesond en dit toon merkwaardige groei. Die enigste werklike kritiek teen die kongres is die byna totale afwesigheid van die kulturele en sosiale interpretasie van die mummies. Die natuur-, mediese en chemiese wetenskappe is goed verteenwoordig en die data is waardevol, maar die ware integrasie hiervan met die sosiale wetenskappe skiet nog te kort. Indien 'n balans tussen die natuur- en sosiale wetenskappe in die toekoms gevind kan word, sal die belangrikheid en wetenskaplike waarde van die kongres aansienlik toeneem. Wie weet, dalk kan Suid-Afrika eendag gasheer vir hierdie internasionale geleentheid speel en die res van die wêreld wys hoe dit eintlik gedoen moet word.

 

BIBLIOGRAFIE

Arriaza, B. 2013. South American mummies: conservation and research. In Rodrigues-Carvalho, C. et al. (orgs.). 8th World Congress on Mummy Studies /8° CongressoMundial de Estudos sobreMúmias: Book of Abstracts /Livro de Resumos. Série Livros 51. Rio de Janeiro: Museu Nacional/UFRJ, p. 13.         [ Links ]

Aufderheide, A.C. 2003. The scientific study of mummies. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Bodiba, M.K. et al. 2013. The Tuli mummy: The most complete historic sub-Saharan human mummy ca. 1500-1800 AD. In Rodrigues-Carvalho, C. et al. (orgs.). 8th World Congress on Mummy Studies / 8° Congresso Mundial de Estudos sobre Múmias: Book of Abstracts / Livro de Resumos. Série Livros 51. Rio de Janeiro: Museu Nacional/UFRJ, p. 101.         [ Links ]

Boshoff, A. & Cornelius, I. 2002. The Egyptian collection in Iziko Museums of Cape Town, South Africa. In Eldamaty, M. & Trad, M. (eds). Egyptian museum collections around the world. Vol. 1. Cairo: Supreme Council of Antiquities, pp. 133-142.         [ Links ]

Cavka, M. et al. 2012. Scenes from the past: CT-guided endoscopic recovery of a foreign object from the cranial cavity of an ancient Egyptian mummy. RadioGraphics, 32:2151-2157.         [ Links ]

Cornelius, I. 2005. Van die Nyl tot Stellenbosch: Antieke Egiptiese voorwerpe op Stellenbosch. Akroterion, 50:125-136.         [ Links ]

Cornelius, I. et al. 2012. Looking inside votive creatures: Computed tomography (CT) scanning of ancient Egyptian mummified animals in Iziko Museums of South Africa: A preliminary report. Akroterion, 57:129-148.         [ Links ]

Day, J. 2006. The mummy's curse: Mummymania in the English-speaking world. London: Routledge.         [ Links ]

Day, J. 2013. Facing the mummy: Physiognomy, facial reconstruction and the "delirious biographies" of Egyptian mummies. In Rodrigues-Carvalho, C. et al. (orgs.). 8th World Congress on Mummy Studies / 8° Congresso Mundial de Estudos sobre Múmias: Book of Abstracts / Livro de Resumos. Série Livros 51. Rio de Janeiro: Museu Nacional/UFRJ, p. 65.         [ Links ]

Donoghue, H.D. 2013. Insights from ancient DNA analysis into the characterization of ancient tuberculosis. In Rodrigues-Carvalho, C. et al. (orgs.). 8th World Congress on Mummy Studies / 8° Congresso Mundial de Estudos sobre Múmias: Book of Abstracts / Livro de Resumos. Série Livros 51. Rio de Janeiro: Museu Nacional/UFRJ, pp. 15-16.         [ Links ]

Donoghue, H.D. et al. 2010. Tuberculosis in Dr Granville's mummy: A molecular re-examination of the earliest known Egyptian mummy to be scientifically examined and given a medical diagnosis. Proceedings of the Royal Society B, 277:51-56.         [ Links ]

Fletcher, J. 2002. Ancient Egyptian hair and wigs. The Ostracon, 13(2):2-8.         [ Links ]

Forshaw, R. 2013. Cases of oral pathologies from the KNH Manchester Mummy Studies. In Rodrigues-Carvalho, C. et al. (orgs.). 8th World Congress on Mummy Studies / 8° Congresso Mundial de Estudos sobre Múmias: Book of Abstracts /Livro de Resumos. Série Livros 51. Rio de Janeiro: Museu Nacional/ UFRJ, p. 33.         [ Links ]

Gillispie, C.C. & Dewachter, M. 1987. The monuments of Egypt: The Napoleonic edition. New York: Princeton Architectural Press.         [ Links ]

Gostner, P. et al. 2013. New radiological approach for analysis and identification of foreign objects in ancient and historic mummies. Journal of Archaeological Science, 40:1003-1011.         [ Links ]

Guillén, S. 2013. The lady of Cao and mummies of ancient Andean female rulers. In Rodrigues-Carvalho, C. et al. (orgs.). 8th World Congress on Mummy Studies / 8° Congresso Mundial de Estudos sobre Múmias: Book of Abstracts /Livro de Resumos. Série Livros 51. Rio de Janeiro: Museu Nacional/UFRJ, p. 13.         [ Links ]

Harris, J.E. & Ponitz, P.V. 1983. Dental health in ancient Egypt. In Cockburn, A. & Cockburn, E. (eds). Mummies, disease and ancient cultures. Abridged version. Cambridge: Cambridge University Press, pp. 45-51.         [ Links ]

Ikram, S. 2010. Mummification. In Dieleman, J. & Wendrich, W. (eds). UCLA Encyclopedia of Egyptology. Los Angeles. http://escholarship.org/uc/item/0gn7x3ff [16 September 2013].         [ Links ]

Ikram, S. & Dodson, A. 1998. The mummy in ancient Egypt: Equipping the dead for eternity. London: Thames & Hudson.         [ Links ]

James, S.L. & Dillon, S. (eds). 2012. A companion to women in the ancient world. Malden, MA: Wiley-Blackwell.         [ Links ]

Keller, A. et al. 2012. New insights into the Tyrolean Iceman's origin and phenotype as inferred by whole-genome sequencing. Nature Communications, 3:698-706.         [ Links ]

Kelvin, N. et al. 2013. Genetic, historical and ancient pathogen analyses of crypt burials in Castelsardo, Sardinia, Italy (1600-1825). In Rodrigues-Carvalho, C. et al. (orgs.). 8th World Congress on Mummy Studies / 8° Congresso Mundial de Estudos sobre Múmias: Book of Abstracts / Livro de Resumos. Série Livros 51. Rio de Janeiro: Museu Nacional/UFRJ, pp. 17-18.         [ Links ]

Lynnerup, N. 2009. Methods in mummy research. Anthropologischer Anzeiger, 67(4):375-384.         [ Links ]

Lynnerup, N. et al. 2012. The world congresses on mummy studies. In Buikstra, J. & Roberts, C. (eds). The global history ofpaleopathology: Pioneers and prospects. Oxford, New York: Oxford University Press, pp. 694-699.         [ Links ]

Margulies, M. et al. 2005. Genome sequencing in open microfabricated high density picoliter reactors. Nature, 437:376-380.         [ Links ]

Metcalfe, R. & Freemont, T. 2012. Variations in immunohistochemical preservation of proteins in a mummification model. Journal of Anatomy, 220:112-115.         [ Links ]

Minnikin, D.E. 2013. Mycobacterial lipid biomarkers for the diagnosis of ancient leprosy and tuberculosis. In Rodrigues-Carvalho, C. et al. (orgs.). 8th World Congress on Mummy Studies / 8° Congresso Mundial de Estudos sobre Múmias: Book of Abstracts /Livro de Resumos. Série Livros 51. Rio de Janeiro: Museu Nacional/UFRJ, p. 16.         [ Links ]

Mosothwane, M.N. 2011. The Tuli mummy: A preliminary report from northeastern Botswana. South African Archaeological Bulletin, 66(194):157-160.         [ Links ]

Nerlich, A.G. et al. 2013. Human endoparasitoses: Insights into the co-occurrence among infectious diseases in mummified remains. In Rodrigues-Carvalho, C. et al. (orgs.). 8th World Congress on Mummy Studies / 8° Congresso Mundial de Estudos sobre Múmias: Book of Abstracts /Livro de Resumos. Série Livros 51. Rio de Janeiro: Museu Nacional/UFRJ, p. 17.         [ Links ]

Oldfather, C.H. (trans.). 1933. Diodorus of Sicily. Vol. 1. London: Heinemann.         [ Links ]

Pettigrew, T.J. 1834. A history of Egyptian mummies: And an account of the worship and embalming of the sacred animals by the Egyptians: With remarks on the funeral ceremonies of different nations, and observations on the mummies of the Canary Islands, of the ancient Peruvians, Burman priests, etc. London: Longman, Rees, Orme, Brown, Green & Longman.         [ Links ]

Pommerening, T. 2010. Mummies, mummification techniques and the cult of the dead in ancient Egypt: A chronological overview. In Wieczorek, A. & Rosendahl, W. (eds). Mummies of the world. München: Prestel, pp. 75-91.         [ Links ]

Rabinow, P. 1996. MakingPCR: A story of biotechnology. Chicago: The University of Chicago Press.         [ Links ]

Reinhard, K. 2013. New world and old world transitions. In Rodrigues-Carvalho, C. et al. (orgs.). 8th World Congress on Mummy Studies / 8° Congresso Mundial de Estudos sobre Múmias: Book of Abstracts / Livro de Resumos. Série Livros 51. Rio de Janeiro: Museu Nacional/UFRJ, p. 40.         [ Links ]

Ronaghi, M. et al. 1996. Real-time DNA sequencing using detection of pyrophosphate release. Analytical Biochemistry, 242:84-89.         [ Links ]

Rosendahl, W. 2010. Mumia, mummies and mummification: An introduction. In Wieczorek, A. & Rosendahl, W. (eds). Mummies of the world. München: Prestel, pp. 10-11.         [ Links ]

Saleem, S.N. & Hawass, Z. 2013a. Multi-detector computerized tomography (MDCT) study of cosmetic care and beautification of royal ancient Egyptian mummies dated to 18th to 20th dynasties. In Rodrigues- Carvalho, C. et al. (orgs.). 8th World Congress on Mummy Studies / 8° Congresso Mundial de Estudos sobre Múmias: Book of Abstracts /Livro de Resumos. Série Livros 51. Rio de Janeiro: Museu Nacional/ UFRJ, p. 37.         [ Links ]

Saleem, S.N. & Hawass, Z. 2013b. Variability in cranial mummification ofroyal ancient Egyptians (18th-20th Dynasties): A multi-detector computed tomography study. In Rodrigues-Carvalho, C. et al. (orgs.). 8th World Congress on Mummy Studies / 8° Congresso Mundial de Estudos sobre Múmias: Book of Abstracts /Livro de Resumos. Série Livros 51. Rio de Janeiro: Museu Nacional/UFRJ, p. 38.         [ Links ]

Schuenemann, V. J. 2013. Genome-wide comparison of medieval and modern Mycobacterium leprae. Science, 341:179-183.         [ Links ]

Seiler, R. & Rühli, F. 2013. Ancient odontogenic infectious pathologies: Diagnostic procedures and correlative clinical cases. In Rodrigues-Carvalho, C. et al. (orgs.). 8th World Congress on Mummy Studies / 8° Congresso Mundial de Estudos sobre Múmias: Book of Abstracts /Livro de Resumos. Série Livros 51. Rio de Janeiro: Museu Nacional/UFRJ, p. 32.         [ Links ]

Shin, D.H. et al. 2013. Methods used for showing authenticity of ancient DNA analysis on Korean mummies. In Rodrigues-Carvalho, C. et al. (orgs.). 8th World Congress on Mummy Studies / 8° Congresso Mundial de Estudos sobre Múmias: Book of Abstracts /Livro de Resumos. Série Livros 51. Rio de Janeiro: Museu Nacional/UFRJ, p. 18.         [ Links ]

Slabbert, R. et al. 2013. Looking inside votive creatures: Computed tomography (CT) scanning of ancient Egyptian mummified animals in South African museums. In Rodrigues-Carvalho, C. et al. (orgs.). 8th World Congress on Mummy Studies / 8° Congresso Mundial de Estudos sobre Múmias: Book of Abstracts / Livro de Resumos. Série Livros 51. Rio de Janeiro: Museu Nacional/UFRJ, pp. 104-105.         [ Links ]

Spencer, A.J. 1982. Death in ancient Egypt. Harmondsworth: Penguin.         [ Links ]

Steyn, M. et al. 2007. The Kouga mummified human remains. South African Archaeological Bulletin, 62(185):3-8.         [ Links ]

Thompson, R.C. et al. 2013. Atherosclerosis across 4000 years of human history: The Horus study of four ancient populations. Lancet, 381:1211-1222.         [ Links ]

Van Rensburg, J.P.J. (vert.). 1994. Die Ooste teen die Weste: Herodotus se geskiedenis. Menlopark: Hans Kirsten Uitgewery.         [ Links ]

Wilkinson, T. 2010. The rise and fall of ancient Egypt: The history of a civilisation from 3000 BC to Cleopatra. London: Bloomsbury.         [ Links ]

Wilson, A.S. et al. 2013. Digitised diseases: A resource for mummy studies and paleopathology. In Rodrigues-Carvalho, C. et al. (orgs.). 8th World Congress on Mummy Studies / 8° Congresso Mundial de Estudos sobre Múmias: Book of Abstracts / Livro de Resumos. Série Livros 51. Rio de Janeiro: Museu Nacional/ UFRJ, pp. 53-54.         [ Links ]

 

 

Ruhan Slabbert het 'n PhD in Molekulêre Genetika aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Hy werk tans as 'n senior wetenskaplike in die Navorsing- en Ontwikkelingseenheid by Kapa Biosystems in Kaapstad. Hy het vanaf 2014 'n aanstelling as navorsingsgenoot by die Departement Genetika, Universiteit Stellenbosch. Hy is as 'n professionele natuurwetenskaplike by die South African Council for Natural Scientific Professions (SACNASP) geregistreer. Hy is ook besig met 'n nagraadse diploma in Antieke Kulture by die Departement Antieke Studie, Universiteit van Stellenbosch.
Ruhan Slabbert holds a PhD in Molecular Genetics from the University of Stellenbosch. Currently he is a senior scientist in the Research and Development Unit at Kapa Biosystems in Cape Town. He was appointed as a research fellow by the Department of Genetics, Stellenbosch University in 2014. He is a registered professional scientist at the South African Council for Natural Scientific Professions (SACNASP). He is also doing a postgraduate diploma in Ancient Cultures at the Department of Ancient Studies, University of Stellenbosch.

 

 

Liani Swanepoel het 'n meestersgraad in Klassieke Letterkunde, asook een in Hipermedia vir Taalaanleer aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Sy is die navorsingsassistent vir die Suid-Afrikaanse Mummieprojek, Departement Antieke Studie, Universiteit van Stellenbosch. Sy beplan om 'n PhD aan te pak.
Liani Swanepoel obtained a master's degree in Classical Literature, as well as one in Hypermedia for Language Learning from the University of Stellenbosch. She is the research assistant for the South African Mummy Project, Department of Ancient Studies, University of Stellenbosch. She is planning to do a PhD.

 

 

Izak (Sakkie) Cornelius is 'n professor in Antieke Studie by die Universiteit van Stellenbosch en 'n geëvalueerde navorser van die NNS. Hy het Teologie en Ou Nabye Oosterse Studie aan Stellenbosch en die Eberhard-Karls-Universitat Tubingen (Duitsland) studeer. Sy spesialisasie is in die kulture van die Ou Nabye Ooste (die ou beskawings van Egipte, Palestina en Mesopotamië) met klem op die visuele nalatenskap (ikonografie) en die verband met die kultuur en godsdiens. Hy is die skrywer van The Iconography of the Canaanite Gods Reshef and Baal (Fribourg/Göttingen 1994), The Many Faces of the Goddess: The Iconography of the Syro-Palestinian Goddesses Anat, Asherah, Astarte and Qedeshet (Fribourg/Göttingen 2008) en mede-outeur saam met Herbert Niehr (Tubingen) van Gutter undKulte in Ugarit (Mainz 2004). Prof. Cornelius is 'n navorsingsgenoot van die gerespek-teerde Duitse Alexander von Humboldt-Stigting en was ook 'n genoot by die Kate Hamburger-Kolleg aan die Ruhr-Universitat Bochum in Duitsland.
IzAK (Sakkie) Cornelius is a professor of Ancient Studies at the University of Stellenbosch and a rated researcher of the NRF. He studied Theology and Ancient Near Eastern Studies at Stellenbosch and the Eberhard-Karls-Universitat Tubingen (Germany). He specialises in the cultures of the Ancient Near East (the ancient civilisations of Egypt, Palestine and Mesopotamia) with emphasis on the visual heritage (iconography) and the relationship with culture and religion. He is the author of The Iconography of the Canaanite Gods Reshef and Baal (Fribourg/Göttingen 1994), The Many Faces of the Goddess: The Iconography of the Syro-Palestinian Goddesses Anat, Asherah, Astarte and Qedeshet (Fribourg/Göttingen 2008) and co-author with Herbert Niehr (Tubingen) of Gutter und Kulte in Ugarit (Mainz 2004). Prof. Cornelius is a research associate of the respected German Alexander von Humboldt Foundation and was also an associate at the Kate Hamburger-Kolleg at the Ruhr-Universitat Bochum in Germany.
1 Die woord "mummie" is vanaf die Persiese en Arabiese woord mum afgelei wat asfalt, bitumen of was beteken. Die Arabiere het hierdie naam aan die bewaarde liggame van antieke Egiptenare gegee omdat hulle met 'n swart stof bedek was wat hulle foutiewelik vir bitumen, afkomstig van die Mummieberg in Persië, aangesien het. Die swart kleur was egter meestal nie aan bitumen te wyte nie, maar eerder aan 'n kombinasie van olies, harpuis, vuilheid en ouderdom toe te skryf. Hierdie misgissing het veroorsaak dat verpoeierde mummies as 'n bron van medisyne rondom die 12de eeu beskou is omdat aardpik of asfalt destyds as 'n kuur vir die behandeling van 'n wye verskeidenheid siektes en kwale gebruik is (Ikram 2010:1-2).
2 In die Egiptologie word 'n toegedraaide liggaam ook gewoonlik 'n mummie genoem - wanneer die silhoeët van die afgestorwene bewaar is, maar net die skeletoorblyfsels binne-in die linnewindsels gevind word (Pommerening 2010:75).
3 Natuurlike mummifikasie ontstaan vanweë klimaatstoestande en terrein (soos droogte, koue of hoë soutkonsentrasies in die grond). Opsetlike mummifikasie bestaan nie bloot uit verskeie balsemings- en bewaringstegnieke (kunsmatige mummifikasie) nie, maar ook uit die bewustelike of voorbedagte blootstelling of onderwerping van 'n lyk aan 'n natuurlik mummifiserende omgewing (Rosendahl 2010:10).
4 Sien byvoorbeeld hoe moderne navorsing en tegnologie ingespan word in 'n aanlyn video oor die digitale onthulling van die mummie van die Egiptiese priester Neswaiu: http://vimeo.com/90628190.
5 8th World Congress on Mummy Studies / 8° Congresso Mundial de Estudos sobre Múmias.
6 Antropogenies: Iets wat deur mense veroorsaak of vervaardig is.
7 Slegs temas wat besondere aandag by die kongres geniet het, word bespreek. Vir meer oor al die beskikbare ontledingsmetodes sien Aufderheide (2003), Lynnerup (2009) en Wieczorek en Rosendahl (2010).
8 Mikoliensuur kom in die selwand van onder andere Mycobacterium tuberculosis voor, maar nie in menslike selle nie. Die instrumente kan die oorblyfsels van hierdie unieke molekules opspoor en op so 'n manier kan navorsers vasstel of TB in die mummie teenwoordig is of nie.
9 Ko-evolusie is die verandering van die genetiese samestelling van een spesie (of groep) in reaksie op 'n genetiese verandering in 'n ander spesie (of groep).
10 Ko-infeksies vind plaas wanneer meer as een patogeen of ander opportunistiese mikro-organisme 'n mens of dier gelyktydig siek maak.
11 Endoparasiete is organismes soos lintwurms wat binnekant die gasheer woon. Ektoparasiete is organismes soos kopluise wat aan die buitekant van 'n gasheer woon. Ekto- en endoparasiete is nie noodwendig skadelik vir die gasheer nie. Parasiete kan ook as tussengashere optree en vir die oordrag van ander patogene soos tifus verantwoordelik wees.
12 Parasiete word dikwels deur voedseltipes soos rou vis of deur menslike afval oorgedra. Sekere spesies parasiete word ook meer met diere geassosieer soos byvoorbeeld muise en rotte wat in menslike leefruimtes voorkom. Die teenwoordigheid of afwesigheid van sekere spesies gee dus leidrade oor hoe mense kon geleef het, wat hulle geëet het, aan watter siektes hulle gely het en hoekom honderde duisende mense op sekere tye in die geskiedenis aan epidemies gesterf het.
13 Sien ook die studie van Joann Fletcher oor hare en pruike in antieke Egipte waarin sy onder andere die voorkoms van kopluise bespreek (Fletcher 2002).
14 Digthede van kopluise word gemeet in luise / eiers per cm2. Volgens Arriaza (2013) is daar byvoorbeeld 2.4 eiers per cm2 per mummie in sy studie gevind.
15 Aterosklerose is 'n siekte van die are wat deur die aanpak van vetterige materiaal en verkalking aan die binnekant van die wande gekenmerk word. Dit kan byvoorbeeld tot hartversaking lei.
16 Die grootste tandprobleem waarmee antieke Egiptenare gesukkel het, was slytasie van die tande weens hul growwe dieet. Ryk en arm het daaraan gely, want farao's en boere van beide antieke en moderne Egipte toon dieselfde slytasie. Slytasie verweer die tandemalje en stel die tandbeen of dentien bloot wat dan deur bakterieë binnegedring word. Die lewende weefsel sterf en die leë wortelkanale word 'n bron van chroniese infeksies en absesse. Ramses II se tande dien as goeie voorbeelde van die effek van ouderdom, afslyting en absesse (Harris & Ponitz 1983:45).
17 Vir meer inligting sien http://barc.sls.brad.ac.uk/digitiseddiseases.
18 Daar is verskeie genome (versameling van gene en ander nie-koderende komponente) in alle selle. Die menslike nukleêre genoom bestaan uit 46 chromosome en is die primêre samestelling van DNS wat verantwoordelik is vir die kodering van onder andere ons lewensprosesse en fenotipe.
19 Hierdie materiale sluit onder andere harpuis en/of lappe in.
20 In Egipte is daar in die heel vroegste periodes ook mense saam met die farao begrawe (Wilkinson 2010:50ff.), maar die gebruik is in latere periodes laat vaar en die beroemde usjabtis (werkers vir die lewe na die dood) is gebruik (Spencer 1982:68-69). Daar is 'n versameling usjabtis in die Egiptiese versameling in Kaapstad (cf. http://academic.sun.ac.za/antieke/iziko/Index.htm).
21 Sien Boshoff & Cornelius (2002) en Cornelius (2005) vir meer oor die Egiptiese versameling van Iziko Museums van Suid-Afrika in Kaapstad.
22 Suid-Afrika se eie mensmummie is byvoorbeeld die een wat in 'n rotsskuiling in die Kougaberge naby Joubertina in die Oos-Kaap gevind is (Steyn et al. 2007).