SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.54 número4Constancy and Change, Historical Types and Trends in the Passion of the Western MindUitnodiging - Bydraes oor T.T. Cloete índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.54 no.4 Pretoria dic. 2014

 

BOEKBESPREKINGS

 

Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde - W. A.M. Carstens en N. Bosman (reds.)
Uitgewer: Van Schaik
xix + 491 bladsye
ISBN: 978-0-627-03019-2

In die voorwoord van Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde (KAT) word gesuggereer dat dit hoogtyd geword het dat 'n nuwe taalkundehandboek vir studente van Afrikaans beskikbaar gestel word. Volgens die redakteurs is die rede hiervoor eenvoudig: "sedert die verskyning van die vorige inleidende bron oor die Afrikaanse taalkunde, naamlik Inleiding tot die Afrikaanse taalkunde [IAT] (1989, met prof. TJ.R. Botha as hoofredakteur) het daar heelwat ontwikkelinge in die taalkunde, internasionaal en nasionaal, plaasgevind. Die tyd was ryp vir 'n nuwe boek oor aspekte van die Afrikaanse taalkunde wat hierdie insigte aan n eietydse geslag studente kon oordra" (p. v). n Mens wonder onwillekeurig waarom die 1989-inleiding nie gereeld hersien is nie: dít was immers reeds n tweede, hersiene uitgawe wat net vyf jaar ná die eerste uitgawe verskyn het. (Moontlik is die antwoord duidelik vir diegene wat die 2011-jaarkongres van die LVSA bygewoon het, waartydens die moontlikheid van n nuwe handboek bespreek is.) Nietemin is KAT n geregverdigde en welkome publikasie.

Die boek beslaan 14 hoofstukke, almal geskryf deur erkende spesialiste op die betrokke gebiede. Die manuskripte is ook deur gesamentlik 24 kritiese lesers beoordeel voordat hulle vir publikasie goedgekeur is.

In hoofstuk 1 gee Bertus van Rooy n uitleg van wat die taalkunde in die algemeen en die Afrikaanse taalkunde in die besonder behels. Aspekte soos die begrip taal en taalkunde kom aan die bod, sowel as verskillende vertakkings, teorieë en benaderings. Elke eerstejaartaalkundestudent behoort deeglik van hierdie oriëntering kennis te neem.

Hoofstuk 2 en 3 val onder die vertakking van die historiese taalkunde.

In hoofstuk 2 bespreek Jac Conradie en Gerald Groenewald die ontstaan en vestiging van Afrikaans. Onderwerpe wat gedek word, is die voorgeskiedenis, kontakgeskiedenis, ontstaansmodelle en vestiging van Afrikaans tot ná apartheid.

Jac Conradie beskryf taalverandering in hoofstuk 3. Besonder lesersvriendelik is die tiental grammatikale terme wat in die inleiding aangebied en kortliks verklaar word. Daarna volg die sistematiese beskrywing van klankverandering, morfologiese verandering, morfosintaktiese verandering, sintaktiese verandering en semantiese verandering in die geskiedenis van Afrikaans, "dikwels sonder om dit te probeer verklaaf' (p. 61), ter wille van oorsigtelikheid en sistematiek. Daarna word 14 korterige tekste wat tussen 1670 en 1900 dateer eksemplaries in terme van bepaalde eienskappe van verandering ontleed.

Hoofstuk 4 tot 10 kan onder die beskrywende taalkunde tuisgebring word.

Daan Wissing is aan die woord in hoofstuk 4, wat die fonetiek van Afrikaans aan die bod stel. Opvallend in hierdie hoofstuk, veral in vergelyking met die fonetiekhoofstuk in IAT, is die relatief groot aantal figure en tabelle (afgesien van die verwagte vokaal- en konsonantkaarte, -diagramme en -tabelle), onder meer MRI-beelde, ossilogramme en spektrogramme wat bepaalde aspekte demonstreer en wat aantoon hoe moderne tegnologiese hulpmiddele sedert 1989 in die fonetiek benut word. Die hoofstuk word ook ingelei deur 'n lys vakterme wat voorlopig beskryf word. Dit is wel jammer dat 'n toeganklike sleutel tot die fonetiese alfabet in byvoorbeeld tabelvorm ontbreek. Fonetiese transkripsie as onderwerp word ook nie in die hoofstuk behandel nie hoewel dit kennelik 'n basiese vaardigheid verteenwoordig.

Hoofstuk 5 handel oor die fonologie en is ook deur Daan Wissing geskryf. Hierin word gekonsentreer op "die belangrikste klankverskynsels met betrekking tot die twee hoofklasse foneme, naamlik vokale en konsonante. Dié verskynsels word geïdentifiseer, en aan die hand van toepaslike voorbeelde beskryf" (p. 127). Reduksie en assimilasie as hoofkragte, finale-konsonantontstemming, konsonantreduksie, ontronding en /a/-ronding word uitvoerig bespreek. Ander belangrike aspekte word bondiger behandel, waaronder vokaalreduksie tot [a], vokaalkwaliteitsveranderinge en kwantiteitsveranderinge wat gepaardgaan met verandering van kwaliteit. Onder die opskrif van die morfonologie kom klemtoon en die meervoudsvorm aan die bod. Die vooruitgang in die fonologie oor die afgelope twee dekades is onmiskenbaar.

Hoofstuk 6, deur Gerhard van Huyssteen, dek die morfologie. 'n Oorsigtelike vergelyking met die morfologiehoofstuk in IAT laat blyk ook duidelik watter mate van ontwikkeling oor die afgelope twee dekades in die morfologie plaasgevind het. Enkele van die terme wat die eerste keer met betrekking tot die morfologie in n Afrikaanse taalkundehandboek genoem word, sluit in komponentstruktuur, komposisiestruktuur, konstruksieskema en affiksoïed. Onder komponent-strukture word die onderskeibare morfologiese eenhede soos morfeme en woorde bespreek, en onder komposisiestrukture word woordvormingsprosesse beskryf. Enkele figure bied n nuttige oorsig oor die verskeie komponent- en komposisiestrukture. Die hoofstuk bied ook n nugtere waardering van die fleksie-afleiding-debat in Afrikaans voordat Van Huyssteen motiveer waarom hy hom by die fleksiekamp skaar.

Hoofstuk 7 is getiteld "Basiese Afrikaanse sintaksis". Dit is n verwerking deur Ilse Feinauer van die sintaksishoofstuk deur Fritz Ponelis wat in IAT verskyn het (p. vi); daarom word Feinauer én Ponelis as outeurs aangedui. Die hoofstuk behandel die vernaamste sintaktiese konstruksies: die naamwoordstuk, die adjektiefstuk, die setselgroep en die werkwoordstuk/sin. Feinauer se verwerking optimaliseer die stof didakties deur ruim van boomdiagramme gebruik te maak om die tersaaklike strukture uit te lê. Hulle funksies word ook telkens uitgelig. Die inhoud "kan as basis dien waarop komplekse Afrikaanse sinne ontleed kan word en verdere sintaktiese teorieë toegepas kan word" (p. 242), soos binne die Funksionele Grammatika, die Kognitiewe Grammatika en die Generatiewe Grammatika.

In hoofstuk 8 bied Nerina Bosman en Marné Pienaar die Afrikaanse semantiek aan. Die kernbegrip betekenis word aangepak, gevolg deur n aanduiding van die raakpunte met ander dissiplines in die taalkunde. Daarna verskuif die fokus na die leksikale semantiek met die bespreking van die paradigmatiese leksikale betrekkinge sinonimie, teenoorgesteldheid en hiponimie. Polisemie, homonimie, leksikale ambivalensie en woordvelde word ook behandel. Die hoofstuk word afgesluit met verwysing na enkele toepassingsvelde van die leksikale semantiek.

Angelique van Niekerk en Jako Olivier is die outeurs van hoofstuk 9, wat oor die pragmatiek handel. Die verband tussen die pragmatiek, diskoersanalise en tekslinguistiek word aanvanklik verduidelik waarna kernaspekte soos konvensionele en uiteindelike betekenis en konteks onder die loep kom. Die bespreking van taalhandelinge vorm n sentrale deel van die hoofstuk, waarna aandag geskenk word aan gespreksvoorwaardes, mag en gesag, affek en hoflikheid, die koöperatiewe beginsel, aanspreekvorme, en kenmerke van gesproke taal. n Oorweging van die waarde en noodsaak van pragmatiese analise sluit die hoofstuk af.

Die sosiolinguistiek kom aan die beurt in hoofstuk 10, geskiyf deur Annél Otto. Die verskil tussen die sosiolinguistiek en ander verwante dissiplines word aanvanklik beskryf, gevolg deur n afdeling wat die belangrikste terme en metodes in die sosiolinguistiek uiteensit. Daarna word die verskillende taalkundige vlakke van variasie kortliks behandel, gevolg deur n oorsig oor die indeling van die variëteite in Afrikaans: van die historiese variëteite tot die nuutste indeling wat Wes-Kaapse Afrikaans, Karoo-Afrikaans, Oos-Kaapse Afrikaans, Oranjerivierafrikaans, Afrikaans van Gauteng en omliggende provinsies, en Vrystaatse Afrikaans erken. Spesifieke verskynsels van die subvariëteite Kaapse Afrikaans, Namakwalandse Afrikaans, Griekwa-Afrikaans en Van der Merwe-Afrikaans word uitgelig. Bendetaal, Tsotsitaal, Flaaitaal en Scamto word kortliks geïdentifiseer. Die belangrikste sosiolinguistiese veranderlikes word uitgelig, waarna etnolekte, kontakvariasie en gebruiksvariasie die hoofstuk afsluit.

Hoofstuk 11 tot 14 kan onder die toegepaste taalkunde tuisgebring word. Die tersaaklike onderwerpe word vervolgens bloot genoem en nie beskiyf nie ten gunste van 'n oorweging van die rasionaal vir hulle insluiting.

In hoofstuk 11 stel W.A.M. Carstens die normatiewe taalkunde as studiegebied bekend. In hoofstuk 12 gee Rufus H. Gouws n oorsig van die leksikografie. Leon de Stadler, Elvis Saal en Piet Swanepoel stel in hoofstuk 13 die dissipline van dokumentontwerp bekend. Taalverwerwing en taalonderrig word in hoofstuk 14 deur Elbie Adendorff aan die bod gestel.

Hoewel die laaste vier hoofstukke hoegenaamd nie aan kwaliteit ontbreek nie, is dit nie duidelik nie waarom juis dié onderwerpe as verteenwoordigend van die toegepaste taalkunde ingesluit is terwyl ander ewe verdienstelike onderwerpe uitgelaat is. Geen motivering vir die seleksie word in die voorwoord gebied nie. Oor hierdie kwessie kan twee teenoorstaande standpunte gehuldig word as die mate van oorvleueling met die beskrywende taalkunde buite rekening gelaat word: (1) Sluit alle onderwerpe in die toegepaste taalkunde in wat aan Suider-Afrikaanse universiteite behandel word. (2) Beperk n taalkundehandboek tot die kerndissiplines van die historiese en beskrywende taalkunde. Beide hierdie standpunte kan kortliks gemotiveer word.

Die eerste standpunt ondersteun die gedagte dat n taalkundehandboek soos KAT alles vir almal moet wees. Te oordeel aan die modulebeskrywings op die webtuistes van departemente verantwoordelik vir Afrikaanse taalkunde aan sewe Suid-Afrikaanse universiteite (waaraan die meeste KAT-medewerkers verbonde is) behoort die volgende dissiplines/onderwerpe dan ook in hoofstukke verteenwoordig te wees: Afrikaans vs. Nederlands, korpuslinguistiek, leksikologie, praktiese taalgebruikskunde, psigolinguistiek, rekenaarlinguistiek, taalpolitiek/-beplanning, tekslinguistiek, teksredaksie en vertaling. Die waarskynlikste argument vir die uitsluiting van hierdie onderwerpe is dat die boek dan te dik en duur sou word. Dít sluit aan by die tweede standpunt - die ekonomiese argument: Die genoemde departemente se leerplanne laat ook blyk dat twee van die laaste vier hoofstukke aan hoogstens twee universiteite behandel sou word en die ander twee aan slegs een, terwyl die volstrekte meerderheid van die historiese- en beskrywendetaalkundehoofstukke by byna al die universiteite relevant behoort te wees. Daar is n moontlike alternatief in die moderne uitgewersbedryf wat die middeweg sou kon bied: lesers sou in staat gestel kon word om slegs die hoofstukke wat hulle benodig op n druk-op-aanvraag-basis of as dele van n e-boek aan te koop.

Die betrokkenheid van die elektroniese medium by KAT word wel in die voorwoord in die vooruitsig gestel: "Die medewerkers het ooreengekom dat daar saam met hierdie boek n webblad tot stand sal kom, waar lesers onder meer oefeninge oor die onderskeie vakgebiede sal kan vind: http://www.taalkunde.co.za/" (p. v). Helaas het daar teen die einde van Oktober 2014 niks van dié voorneme gekom nie: slegs die boek se voorblad en basiese besonderhede saam met n skakel waarop die leser kan klik om die boek te bestel, verskyn by die webadres. Hopelik sal die beloofde bykomende stof vir die volgende akademiese jaar beskikbaar wees.

Afgesien van enkele vraagtekens in die kantlyn is KAT ongetwyfeld n nuttige en nodige hulpbron by die onderrig van die Afrikaanse taalkunde - ook (en veral) vir universiteite waar n kleiner personeelkomplement die volle spektrum van die (beskrywende) taalkunde moet onderrig sonder dat daar noodwendig n spesialis op elke gebied is wat op die hoogte van die nuutste ontwikkelinge bly.

Die medewerkers se aanbod is deurgaans leesbaar, sistematies en duidelik. Die meeste hoofstukke gee aanvanklik n kort historiese oorsig van die dissipline en elke hoofstuk het sy eie bronnelys. Aan die einde van die boek is n register van onderwerpe en name.

KAT word opgedra aan die nagedagtenis van proff. Fritz Ponelis en Alf Jenkinson.

Die redakteurs kan gelukgewens word met KAT: dit vul beslis die leemte wat oor die afgelope twintig jaar ontstaan het. Die hoop word uitgespreek dat hierdie nuwe handboek wel gereeld hersien sal word sodat so 'n leemte nie weer ontwikkel nie.

Herman L. Beyer
Departement Taal- en Literatuurstudie
Universiteit van Namibië
hbeyer@unam.na

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons