SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.54 número4Swartskaap: Odette Schoeman índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.54 no.4 Pretoria Dez. 2014

 

BOEKBESPREKINGS

 

Die belewenisse van ouers wie se kinders emigreer het

 

The experiences of parents whose children have emigrated

 

 

Douline Minnaar; Chris Myburgh; Marie Poggenpoel

Departement Opvoedkundige Sielkunde / Verpleegkunde, Unversiteit van Johannesburg. chrism@uj.ac.za

 

 


ABSTRACT

This research focuses on the manner in which parents experience the emigration of their children. Migration of people, both within a country and across borders, is a global phenomenon. South Africa has diverse historical and contemporary migration patterns, and there are various factors underlying emigration; these may be of an economic, social or personal nature. A general theory regarding the causes of migration distinguishes between push and pull factors. Pull factors include personal safety in society, a better standard of living as well as various job opportunities. Push factors in South Africa, among others, include dissatisfaction of the standard of public and commercial services, perceptions of moral decline in society, an unemployment-rate of 25.6% (Statistics SA 2013) and dissatisfaction with affirmative action issues. One of the main push factors in South Africa is the high level of crime. The desire to travel and a sense of adventure also play a part in people 's decision to emigrate. The country 's database and statistics on emigration flows are inadequate; and the impact of emigration on the mental health of the families who have been left behind, especially parents, remains a neglected topic in South Africa. According to media reports, South Africa is suffering from the effects of a "brain-drain", and the country is also exposed to free trade agreements and globalising tendencies. Each person leaving the country leaves behind a family. The effects on those who have to remain in South Africa, particularly the parents, have yet to be sufficiently researched. Part of the parents 'psycho-social support system suddenly falls away when their children emigrate. Some parents lose all their children as a result of emigration. The communication and interaction with their children on different continents become complex. A contributing factor to poor communication is parents ' inability to utilize technology as a means of staying in contact with their children. These parents are usually middle-aged and some of them even older, and are dependent on other people for their daily care. They have to adapt to the new circumstances in this relatively advanced phase in their lives. In previous generations, this used to be a phase in which people slowed down, retired and settled down to enjoy their grandchildren. After their children 's emigration, they are no longer able to see their grandchildren growing up; in a significant way, they are being excluded from their children 's daily life. Some of the parents relied on their children to take care of them in later years and suddenly they have to try and find alternative support systems. A Christian existential paradigm was used, which, in searching to find meaning in life and to make responsible choices, views a person as a whole entity. The framework of the Theory of Health Promotion (Department of Nursing 2010) forms the philosophical and theoretical basis, as the phenomenon of emigration impacts on families as a system; seeing that the abovementioned theory follows a holistic perspective, it should adequately address families ' sense of loss. A qualitative, exploratory, descriptive and contextual study of the experiences of parents whose children had emigrated, was done by using community radio as the medium of interaction. The community radio was used to invite parents whose children had emigrated to participate in this research. The radio medium is a powerful, cost-effective medium with which to reach thousands of people at the same time. It is also ideal for psycho-educational purposes because of the convenience to listen to it in your house, car or while doing something else. The aim was to facilitate the mental health of those parents who had been left behind. Indepth interviews were conducted with 16 parents after broadcasting an invitation to participate in the study by means of a community radio station. The population was Afrikaans-speaking people with a Christian tradition. The average period of their children 's emigration was nine years. All the parents 'children had emigrated longer than one year ago. The following was found: parents whose children emigrate experience a feeling of disillusionment, expressed in the words "we raise them to leave us!" The loss is ambiguous, with a main feeling of helplessness; their affective response painfully fluctuates. The experience is unique and personal and parents apply effective and less effective coping mechanisms in order to deal with the ambiguous loss.

Key Concepts: psycho-education, parents, children, emigration, radio medium, ambiguous loss, affective response, defense mechanisms


OPSOMMING

Tussen 2000 en 2005 was daar wêreldwyd 'n merkbare styging in die getal emigrante vanaf 176 na 193 miljoen. Statistiek in verband met emigrasie-syfers is in die meeste lande, soos dit dan ook in Suid-Afrika die geval is, gewoonlik onderverteenwoordigend van die werklike stand van sake. Tydens emigrasie word familie en vriende agtergelaat en die impak op die geestesgesondheid van die agtergeblewene ouers hier te lande is nog nie genoegsaam ondersoek nie. Ten einde hierdie leemte te vul, is 'n kwalitatiewe, verkennende, kontekstuele en beskrywende navorsingsontwerp toegepas en 'n fenomenologiese benadering gevolg met betrekking tot die insameling en analise van data tydens individuele onderhoude met 16 doelgerig gekose ouers. Daar is bevind dat ouers gevoelens van ontnugtering, onuitgeklaarde verlies, magteloosheid en 'n pynlike wisseling in affektiewe respons beleef en dat hulle hanteringsmeganismes om hierdie onuitgeklaarde verlies te hanteer, wissel in doeltreffendheid.

Trefwoorde: psigo-opvoedkundig, ouers, emigrasie, kinders, radio-medium, onuit geklaarde verlies, affektiewe respons, verdedigingsmeganismes


 

 

AGTERGROND EN RASIONAAL

Wêreldwyd neem die aantal emigrante toe (Samers 2010:21) en landsgrense word daagliks oorgesteek. In Suid-Afrika is huidige akkurate statistiek met betrekking tot emigrasie sedert 2004 nie beskikbaar nie. Die laaste statistiek van 2003 toon dat 16,165 Suid-Afrikaners in daardie jaar geëmigreer het teenoor 8,487 in 1999 (Carrels 2005:3). Die oorsake daarvan wissel van ekonomiese tot politieke redes; die wêreldwye globaliseringstendens speel ook 'n groot rol. Dit is die naakte feite van emigrasie.

'n Ander kant van die fenomeen is die mense wat persoonlik deur emigrasie van geliefdes geraak word, soos die ouers wat agterbly as hul kinders geëmigreer het. Emigrasie het 'n voortdurende invloed op die familie in beide die land van herkoms en die nuwe land van vestiging (Baldassar, Baldock & Wilding 2007:220).

Die belewenis van dié ouers is 'n fenomeen wat nog nie genoegsaam in Suid-Afrika ondersoek is nie. Die land het 'n unieke konteks as jong demokrasie met verskeie uitdagings op sosiaal-maatskaplike vlak. Die menslike arbeidspotensiaal blyk aanloklik te wees vir ander lande, en die land verloor vaardighede wanneer mense emigreer.

Dit is egter veral die ouers wat agterbly as hul kinders emigreer, wat vanuit die gevorderde psigiatriese verpleegkundige se oogpunt belangrik is. Die impak op die ouers se geestesgesondheid is ondersoek om sodoende 'n psigo-opvoedkundige program te ontwikkel. Die ouers word dikwels gekonfronteer met die probleem dat van hulle verwag word om te kies naby watter kind hulle wil bly, aangesien verskeie ouers meer as een kind het wat na verskillende lande geëmigreer het. Buiten die interne konflik, is die ouers bewus van die veelvuldige verliese wat hulle met betrekking tot hul kleinkinders gaan ly. Die situasie kan lei tot die belewenis van 'n doellose lewe; die psigo-opvoedkundige program sal ouers begelei om weer sin in hul eie lewens te vind.

Families speel meestal 'n groot rol in mense se lewens. Die behoefte om aan iemand bekend en verbonde te wees, word veral deur familielede vervul (Jordaan 2007:14). Om skielik in mens se middeljare gekonfronteer te word met 'n mens se kinders en hul kinders (dus 'n eie nageslag) wat geëmigreer het, kan 'n probleem inhou vir ouers se geestesgesondheid.

Ouers sien gewoonlik uit daarna om grootouers te word. Grootouerskap is ongetwyfeld 'n besonderse mylpaal in die mens se lewensiklus (Kulik 2007:131). Die geleentheid om aktief by die kleinkinders betrokke te wees, word tot tegnologiese kontak gereduseer met die gebruik van die Internet, soos elektroniese pos en opnames deur middel van web- en video-kameras.

Skielik verdwyn die toekomsbeelde van saamwees en gesellige interaksie van die familielede. Nuwe planne moet vir die oudag gemaak word en die ouers moet hulle voorberei op die afskeid van hul kinders en kleinkinders. Die onsekerheid oor hul eie toekoms in 'n land vol veranderinge, kan meebring dat die ouers dit beleef dat hul totale ondersteuningsnetwerk wegval en dat hul lewe sin en betekenis verloor.

Dikwels leef die middeljarige ouers se eie ouers nog. Dan bevind hulle hulself in die middel van hul eie bejaarde ouers se versorging en die emigrasie van hul eie kinders. Daar kan dus na hulle as die sandwich generation verwys word. Die kinders wat emigreer, versoek dikwels die ouers om ook te emigreer, en die druk kan bykomende spanning en vrese vir die agtergeblewe grootouers meebring.

Van die ouers het hul lot in die media bekla. Dit was asof die ouers 'n noodkreet uitgestuur het met briewe wat hulle na populêre tydskrifte en nuusblaaie gestuur het.

In 'n nasionale nuusblad deel ouers onder die skuilnaam "Oupa en Ouma" (2007:10), hul hartseer: "Waar Kerstye en verjaarsdae gewoonlik saamweesgeleenthede vir familie is, sal die geleenthede waarskynlik in die toekoms uiters beperk of onmoontlik wees." Dit blyk dat sekere dae en tye van die jaar as besonder moeilik beleef word.

Dit het duidelik geblyk uit inbelprogramme oor die radio-medium dat ouers baie hartseer is as hulle oor hul kinders wat emigreer het, gepraat het. Op die program "Monitof' van die radiostasie RSG (23-08-2013), is die brandende vraag oor hul belewenis aan luisteraars gestel. Talle ouers het gereageer en dit is duidelik dat ouers 'n behoefte het om hul stories te vertel. Die rol van die media, veral die radio-medium, is dus uitgesonder om in die fasiliteringsproses van die psigo-opvoedkundige program gebruik te word, aangesien die radio-medium so kragtig is en 'n groot aantal mense gelyktydig bereik.

Die sogenaamde middeljare-krisis ontstaan wanneer mense verliese, tesame met verskeie verwagtinge wat nie realiseer nie, beleef (Hollis 1993:26). Teen die tyd dat 'n mens jou middeljare betree, is reeds baie teleurstellings, die platval van drome en die beperkinge van eie intelligensie beleef (Hollis 1993:22). Die middeljare word verder gekenmerk deur 'n lewensfase waarin ouers se volwasse kinders keuses begin maak wat werk en woonplek betref, sowel as die keuse van 'n lewensmaat. Terwyl die kinders hulleself begin vestig, beweeg die ouers deur die middeljare en beleef hulle 'n nuwe lewensfase.

Volgens Hoare (2002:3-4) is die Duitse psigo-analitiese denker en skrywer, Erik Erikson bekend vir sy teorie oor die psigo-sosiale ontwikkeling van die mens - van geboorte tot sterfte. Erikson beskryf die middeljare, wat volwassenheid genoem word, as 'n fase van stagnasie ofvan generatiwiteit by die middeljarige (Sadock & Sadock 2003:271). Generatiwiteit dui op die produktiewe oordrag van dít wat as waardevol beskou word, na die volgende geslag (De St. Aubin, McAdams & Kim 2004:271). Tydens hierdie jare begin identiteitsvrae soos: "wie is ek sonder die rolle wat ek speel?" opduik (Hollis 1993:19).

 

PROBLEEMSTELLING

Daar is verskeie hulpbronne, soos handleidings tot oriëntasie van 'n spesifieke land, vir die voornemende emigrant beskikbaar om die emigrasie so glad as moontlik te laat verloop. Daar word egter min aandag aan die emosionele sy van emigrasie gegee, veral die belewenis van die ouers wat agterbly. Indien die ouers nog nie bejaard en afhanklik is nie, kan hulle wel hul kinders besoek, maar daar is ouers wat nie finansieel of fisies in staat is om in die buiteland te gaan kuier nie. Die skeiding kan daartoe lei dat hulle in 'n groot mate nie meer deel van hul kinders se bestaan voel nie. Die vraag rakende wat die ouers beleef as hul kinders geëmigreer het en wat gedoen kan word om die ouers by te staan, het ontstaan.

Die navorsers het in die gedrukte media, asook op die radio-medium, reeds van die ouers se situasie kennis geneem. Sommige ouers het briewe na nuusblaaie en tydskrifte gestuur om hul situasies te skilder. Ander ouers het radiostasies geskakel om oor hul verlange na hul kinders te praat. Dit was asof ouers 'n noodkreet na die media uitstuur om mense bewus te maak van hul uitdagings en hartseer. Dit het voorgekom asof die ouers wat agtergebly het nie 'n stem gehad het wat namens hulle praat nie, en dat hulle ook nie oor genoegsame selfkennis en vaardighede beskik om die uitdaging effektief te hanteer nie. Die volgende vraag het ontstaan:

Wat is die belewenisse van ouers wie se kinders emigreer het?

 

NAVORSINGSDOELWITTE

Die doel van die navorsing is die verkenning en beskrywing van die belewenis van ouers wie se kinders emigreer het.

 

NAVORSINGSONTWERP EN -METODE

'n Kwalitatiewe, verkennende, beskrywende en kontekstuele navorsingsontwerp (Babbie & Mouton 2001:79, 80) is gebruik, aangesien die ouers se belewenis binne konteks beskryf word. Die konteks behels Suid-Afrika as land waar die ouers agterbly; die deelnemers aan die studie was van twee provinsies afkomstig, naamlik Gauteng en Noordwes (Minnaar 2010:73-74).

Etiese klaring

Die Fakulteit van Gesondheidswetenskappe van die betrokke universiteit se Akademiese Etiese Komitee het etiese klaring, nommer 58/08, aan hierdie studie toegeken (Minnaar 2010:31-33).

 

VERTROUENSWAARDIGHEID

Guba se model van vertrouenswaardigheid (Lincoln & Guba 1985:289) is gebruik om die studie se akkuraatheid te verseker. Waarheidswaarde is deur die toepassing van geloofwaardigheid verseker; toepasbaarheid is deur oordraagbaarheid verseker; konsekwentheid deur vertroubaarheid, en neutraliteit deur bevestigbaarheid (Minnaar 2010:58-70).

Geloofwaardigheid dui, volgens Krefting (1991:216-2017), op vertroue in die waarheid van die navorser se resultate. Langdurige betrokkenheid by die ouers het verseker dat die deelnemers die bevindings as hul eie kon herken. Indien hierdie studie in 'n ander konteks, wat dieselfde kenmerke as die oorspronklike studie het, dieselfde resultate oplewer, dui dit op die oordraagbaarheid van die studie. Die bevindings is in diepte beskryf en met verbatim woordelikse aanhalings uit die onderhoude ondersteun (Babbie & Mouton 2006:277). Indien hierdie studie in 'n soortgelyke konteks met soortgelyke deelnemers herhaal word en konsekwente resultate lewer, dui dit op vertroubaarheid. Die navorsinsmetodologie van hierdie studie is dig beskryf. Bevestigbaarheid is verseker deur die gereelde rekordering van die vordering van die studie. Die resultate van hierdie studie is uitsluitlik dié van die deelnemers en bevooroordeling deur die navorsers is uitgesluit deur die afstand tussen navorsers en deelnemer deur middel van voortdurende kontak te verklein.

Navorsingsparadigma en -ontwerp

Die navorsers het vanuit 'n paradigma van christelike eksistensialisme gewerk, waar die fokus op die individu se subjektiewe belewenis val (Solomon 2001:77). Die christen eksistensialis kies, volgens die Deense filosoof, Sören Kierkegaard, om as individu, toegewyd 'n eie lewe te leef (Solomon 2001:77). Die mens poog om uit alle belewenisse van die lewe, sin en betekenis te haal, en is heeltyd besig om vrae oor die doel van 'n eie bestaan en 'n eie identiteit te vra (Babbie & Mouton 2006:28). Die Duitse psigiater, Victor Frankl, het geglo dat elke lewensituasie 'n opdrag en verantwoordelikheid insluit (Frankl 1959:14). In die belewenis van die ouers lê daar dus 'n taak opgesluit. Die ouers word begelei om verder as die emigrasie te kyk en opnuut van hulleself as holistiese wesens bewus te raak. Volgens die Teorie vir Gesondheidsbevordering in Verpleging (Departement Verpleegkunde 2010:9), word die mens as 'n geïntegreerde wese wat interaktief by die omgewing betrokke is, beskou. Die navorsers beskou die mens as 'n heelpersoon en het die multi-dimensionele impak op die ouers ondersoek.

 

POPULASIE, STEEKPROEF, DATA-INSAMELING EN -ANALISE

Die teikenpopulasie was Afrikaanssprekende Suid-Afrikaanse ouers wat agtergebly het toe hul kinders geëmigreer het. Die ouers is deur middel van die radio-medium (Knowles & Cole 2008:342343) uitgenooi om aan die navorsing deel te neem. Aangesien die gemeenskapsradiostasie hoofsaaklik christelike Afrikaanssprekende luisteraars het, was die deelnemers wat op die uitnodiging gereageer het, Afrikaanssprekende ouers. Die ouers wat op die uitnodiging gereageer het, het die navorsers na ander ouers van kinders wat geëmigreer het, verwys. Verskeie e-pos briewe is van ouers ontvang.

In-diepte fenomenologiese onderhoude is met die deelnemers gevoer. Die fenomenologiese benadering wat in hierdie ondersoek gevolg is, is hermeneutiese fenomenologie (Creswell 2007:59). Hermeneutiese fenomenologie in navorsing verken en beskryf die belewing van mense van 'n spesifieke verskynsel waaraan hulle blootgestel is. Die vraag wat aan die begin van die onderhoud aan almal gestel is, was: "Hoe was dit vir u dat u kinders emigreer het?"

Die onderhoude is verbatim getranskribeer en volgens Tesch se metode van oop-kodering geanaliseer (Creswell 1994:154-156). 'n Ervare, onafhanklike kodeerder het selfstandig die kodering uitgevoer, waarna die navorsers en die kodeerder 'n konsensus-gesprek gevoer het. Data-versadiging is bereik en die navorsers en kodeerder was tevrede met die resultate en opsomming van die belewenisse van die ouers.

 

BEVINDINGS

Tabel 1. Voorsien 'n oorsig van die demografie van die deelnemers.

Sestien in-diepte fenomenologiese onderhoude is met die ouers in hul huise gevoer. Die ouers se ouderdomme het tussen 55 en 75 jaar gewissel. Aanvanklik is man en vrou saam gesien, maar die navorser wat die onderhoude gevoer het, het van die derde onderhoud af die ouers individueel gesien. Dit het meer ruimte gebied vir elke deelnemer se persoonlike deelname. Tien vroulike en ses manlike deelnemers het vrywillig aan die studie deelgeneem. Drie van die ouers was nog in voltydse beroepe; die res het reeds afgetree. Veertien ouers woon in Gauteng en twee ouers in die Noordwesprovinsie. Al die deelnemers se kinders het langer as een jaar voordat die onderhoude gedoen is geëmigreer, en die gemiddelde periode van die tydperk na emigrasie was nege jaar (Minnaar 2010:72-75).

Die ouers se belewenisse kan as volg beskryf word: ouers wie se kinders geëmigreer het, beleef 'n ontnugtering in die woorde "we raise them to leave us!" Die verlies aan hul kinders is 'n onuitgeklaarde verlies wat deur veral magteloosheid en 'n pynlike wisseling in die affektiewe respons, gekenmerk word. Die belewenis is uniek en persoonlik en ouers wend effektiewe en minder effektiewe hanteringsmeganismes aan om die onuitgeklaarde verlies te hanteer (Minnaar 2010:78-137).

 

TEMA A: Ontnugtering in die woorde: "we raise them to leave us"

Die ouers beleef 'n diep ontnugtering wanneer hul kinders emigreer. Virjare het die ouers opgeoffer en tyd en geld in hul kinders belê om hulle selfstandig te maak. Noudat die kinders selfstandig is, neem hul selfstandige besluite, soos om te emigreer, en dit raak die ouers direk. "We raise them to leave us" is 'n gesproke frase wat die ouers se belewenis van 'n veelvuldige verlies saamvat. Die ouers beleef dat hulle ontneem is van hul kosbaarste besitting, naamlik hul eie nageslag. Die emigrasie en die gevolge daarvan kom as 'n skok vir ouers, want die situasie klop dikwels nie met hul toekomsdrome nie. Skielik besef die ouers dat hulle magteloos voor die keuse van hul kinders staan.

Die veelvuldige verlies sluit nie slegs die kinders en die kleinkinders wat weggaan in nie, maar ook die geleenthede vir die ouers om sekere rolle te vertolk, is skielik nie meer van toepassing nie. Die rolle behels om as grootouers in hul nageslag se lewens betrokke te kon wees, hulle te kan sien en met hulle te kan gesels. Die rol as grootouer waarna daar dikwels met groot verwagting uitgesien is, verander in 'n afstandsouer en grootouer. Die geleentheid om die kleinkinders te vertroetel en hulle te sien grootword, is skielik nie meer daar as die kinders emigreer nie. Die geleentheid om die rol van 'n persoonlike mentor vir die kinders en kleinkinders te vervul, is grotendeels nie meer daar nie.

Baie van die ouers se kinders het aanvanklik eers met kontrakwerk in die buiteland begin. Die tydelike verblyfreëlings is goed ontvang deur die ouers; van die ouers het die kinders aangemoedig om die ondervinding op te doen. Dit is egter wanneer die tydelike kontrakwerk permanent word dat ouers ontnugtering en magteloosheid beleef. 'n Ouer wat baie uitgesien het daarna om sy kinders by te staan wanneer hy aftree, het die volgende opgemerk: "Ek is afgetree, ek is nou in staat om te help ... maar dit kan jy nou weer eens nie doen met jou kinders oorsee nie ..."

Die keuses wat volwasse kinders maak, kan nie meer deur die ouers beheer word nie (Isay 2007:94), en die keuses is dikwels strydig met wat die ouers verwag het. Die ouers het nie noodwendig verskillende toekomsplanne met hul kinders uitgeklaar nie. Dit kan wees dat die ouers onbewustelik aanvaar het dat hul kinders vir altyd fisies en psigies deel van hul lewens sou wees. Die emigrasie van die kinders bring mee dat van die ouers se toekomsverwagtinge nie meer geldig is nie. 'n Ouer beskryf die verwagtinge wat hy van sy familielewe gehad het as volg: "ons sien hoe hou ons familiefeeste en dit was ons drome en daar kom nou niks van nie ..."

Ouers koester meestal die verwagting dat hul kinders vir hulle daar sal wees namate hulle ouer word (Miltiades 2002:47-51). Die ouers beleef dit dat hulle van hul drome en van die reg om 'n versorger te wees, veral vir hul kleinkinders, ontneem is (Vullnetari & King 2008:153). Die koms van kleinkinders is 'n groot en vreugdevolle mylpaal in die ouers se lewens. Die "spog" oor hulle by vriende en familie word egter na emigrasie beperk tot hoor-sê stories wat deur die kinders gedeel word. Die ouers begin met 'n voortdurende verlange saam te leef en is nou hoofsaaklik afstands-grootouers of "skype-grootouers". Dit blyk problematies vir grootouers te wees om fisies ver van hul kleinkinders te woon (Isay 2007:156). 'n Ouer spreek haar moedeloosheid as volg uit: "Die kleinkinders is 'n verlore situasie van die begin af ..."

Die grootouerrol bring mee dat ouers, met die aanskouing van twee nageslagte, 'n gevoel van onsterflikheid beleef. Verder bring dit bevrediging mee as hulle as ouer en wyser beskou word (Cavanaugh & Blanchard-Fields 2006:409). As kinders geëmigreer het, is hierdie verwagtinge van grootouer-wees nie vir die ouers op die tradisionele wyse beskore nie.

Die navorsers het tydens data-insameling en al die interaksie met die ouers beleef dat hulle hul kinders werklik geluk en voorspoed in die buiteland gun. Die ander kant van die saak is egter hul eie verlies en hartseer wat hulle meestal vir die kinders weggesteek het. Die ouers het dus sterk ambivalente gevoelens beleef. Een ouer verwoord dit as volg: "Ek het my kind al die geluk gegun, maar dit was vir my moelik ... ek het dit baie swaar ervaar toe sy weg is."

In 'n studie deur Vullnetari en King (2008:151) is bevind dat ouers van Albanië wie se kinders geëmigreer het, hul hartseer vir hul kinders weggesteek het met die woorde: "we can't spoil things for our children ..." Ouers beleef dit dat hulle baie opoffer as hul kinders emigreer, maar volgens Boss (2006:91) maak dit die lyding draagliker as mense hul lyding sien as opoffering vir geliefdes. Dikwels fokus ouers op die kinders se geluk om hul eie ongelukkigheid te verskans. Verskeie ouers het die volgende frase herhaaldelik genoem: "hulle geluk is ons geluk ..."

Die natuurlike omgang tussen ouers en kinders verander na emigrasie. Daar moet nou op tegnologiese hulpmiddele staatgemaak word om kontak tussen familielede te behou. 'n Soort kunsmatigheid tree in aangesien gesprekke soms volgens afspraak moet plaasvind omdat die verskillende lande se tydsones verskil. Dit is 'n besondere uitdaging vir die ouer-kindverhouding. Van die ouers is nie rekenaargeletterd nie, en van die ouers is nie finansieel of fisies in staat om by hul kinders in die buiteland te gaan kuier nie. Die onvoorspelbare kontak met die kinders vereis dat 'n nuwe manier van interaksie ontwikkel moet word. 'n Ouer beskryf die onnatuurlikheid as volg: "Ek bel hulle of skype, ek praat met hulle, maar dit is nie dieselfde as wanneer 'n mens op 'n nabyheidsgrondslag is nie ..." Dit is veral die "elke-dag-verhouding" waarin familielede daaglikse kleinighede met mekaar kon deel, wat intens gemis word (Wilding & Baldassar 2009:180).

 

TEMA B: Die onuitgeklaarde verlies

Die ouers ontvang dikwels nie genoegsame ondersteuning van die gemeenskap nie, aangesien daar nie dood by die verlies aan hul kinders betrokke is nie. Daar is geen afskeidsritueel soos by 'n begrafnis nie, en 'n langdurige, onafgehandelde rouproses tree by die ouers in. Die tipe verlies word 'n onuitgeklaarde verlies of "ambiguous loss" genoem omdat geen finale afhandeling plaasvind nie. Die belewenis om 'n geliefde te hê en ook nie te hê nie, word deur Boss (2006:5) as n buitengewone menslike belewenis beskryf.

Die gevolge van emigrasie hou vir ouers veelvuldige verliese in. Die ouers verloor nie net die geleentheid van maklike toegang tot hul nageslag nie; daar is ook sekondêre verliese betrokke. Die sekondêre verliese word dikwels eers mettertyd ontdek en versterk die belewenis van die aanvanklike magteloosheid. Die geleentheid om aan die kinders hulp te bied, veral in krisistye, of gou met hulle te gesels, is nie meer daar nie. Sommige dae beleef die ouers dit as makliker as ander dae, maar die voortdurende afwesigheid van die kinders lei tot 'n belewenis van kwesbaarheid by die ouers (King & Vullnetari 2009:35).

Ouers, en veral grootouers, wil graag hul liefde aan hul kinders en kleinkinders uitdruk. Na emigrasie kan die ouers telefonies of deur middel van die rekenaar met die kinders kommunikeer, maar dit het nie dieselfde besondere waarde as hul fisiese teenwoordigheid nie. Dit blyk dat veral die vroulike deelnemers 'n groter behoefte aan die persoonlike kontak het en dat manlike deelnemers dit mis om projekte saam met hul kinders en kleinkinders aan te pak.

Die manlike deelnemers se oorwegende sosialiseringsrol, naamlik dat mans sterk staan, kan tot 'n dieper belewenis van alleenheid lei indien hulle nie hul gevoelens deel nie. 'n Vroulike deelnemer beskryf haar verlange as volg: "... 'n mens mis tog die persoonlike kontak en veral met ons kleinkinders ... jy kan nie meer hulle hare vroetel nie ...", en 'n manlike deelnemer: "Ek en my seuns het altyd saam gejag ... nou gaan ek maar alleen."

Die instink om te versorg is veral met die aankoms van die eerste kleinkind by 'n grootmoeder aanwesig (Kornhaber & Woodward 2003:56). 'n Kombinasie van instinkte tree by grootouers in om die kleinkinders te sien, te hoor, vas te hou en te versorg (Kornhaber & Woodward 2003:61).

Die geleentheid om kennis, taal, kultuur en erflatings aan 'n eie nageslag oor te dra, bring in 'n mate 'n gevoel van onsterflikheid vir ouers mee. Aangesien die oordrag van dit wat vir ouers kosbaar is, nie meer moontlik is as hul kinders emigreer nie, word ouers met dit wat hulle nie kan doen nie, gekonfronteer. Hulle kan wel nalatenskappe aan vreemde mense maak, maar dit hou nie 'n persoonlike waarde in nie. Dit laat die ouers raadop voel: "Nou sit ek met 'n klomp goed wat ek kan doen, wat ek graag wil aangee, maar dit is goed wat jy moeilik vir enige ou of vreemde kinders kan gee."

Tydens die later jare wanneer die druk van kinderopvoeding verby is, geniet ouers dit meestal om hul eie kinders se vooruitgang en suksesse te aanskou. Nadat die kinders geëmigreer het, kan die ouers beleef dat hulle doelloos en oorbodig is. Ouers kan selfs in die pad voel: "Hulle het my beslis nie meer nodig nie, 'n mens voel so half as jy nie eintlik meer nodig is nie."

Die meeste ouers het in 'n era geleef waar volwasse kinders vir hul ouers gesorg het, maar as die kinders minder beskikbaar vir die ouers is, kan dit daartoe lei dat ouers verwerp voel (Walter & McCoyd 2009:269).

Een van die sterkste belewenisse is die magteloosheid van ouers ten opsigte van wat voor, tydens en na emigrasie gebeur. Eers moet hulle die nuus oor die emigrasie aanhoor; dan die oppakkery aanskou en uiteindelik afskeid neem. 'n Verlies aan beheer word intens beleef, veral as die kinders probleme ondervind en die ouers nie byderhand kan wees om te help nie: "jy is amper so magteloos . jy kan nie gaan help nie en jy weet daar is probleme ." Volgens Boss (2006:99) beleef mense wat daarvan hou om in beheer te wees, so 'n onuitgeklaarde verlies as meer stresvol, aangesien daar nie 'n oplossing is nie. Die gevoel van magteloosheid ontstaan dikwels by mense in situasies wat buite hul beheer is (Boss 2006:101).

Aangesien ouers wie se kinders geëmigreer het se verlies 'n onuitgeklaarde verlies is, waar afhandeling van die verlies nie moontlik is nie, is die tradisionele roufases (Foos & Clark 2003:383) van die bekende Elizabeth Kübler-Ross, slegs gedeeltelik van toepassing. Die grootste onderskeid is dat "closure" nooit bereik word met 'n onuitgeklaarde verlies nie. Indien daar nie 'n ondersteunende ritueel, soos 'n begrafnis, na 'n groot verlies is nie, voel mense verward in hul rouproses en smag hulle na genesing (Boss 2006:19).

In die geval van kinders wat geëmigreer het, kan die ouers se aanpassing selfs omvergegooi word wanneer die kinders kom kuier en daar herhaaldelik afskeid geneem moet word. Die ouers beleef intense pyn met die groet wanneer die kinders weer vertrek. Hulle tel die maande of jare voordat hulle almal weer sal sien. Soms wonder die ouers heimlik by hulself of hulle die kinders en kleinkinders ooit weer gaan sien.

Die rouproses van 'n onuitgeklaarde verlies het hoofsaaklik 'n begin-, middel- en eindfase. Die beginfase word deur die fisiese en psigologiese manifestasies gekenmerk. Die middelfase word deur die belewenis van treur gekenmerk, en die eindfase behels die aanpassing om met die verlies saam te leef (Ebersole, Hess, Touhy, Jett, Schmidt & Luggen 2008:640-642).

Kinders se emigrasie is nie altyd deel van die ouers se verwagtinge nie alhoewel ouers hulle kinders aanvanklik ondersteun om in die buiteland te gaan werk. Sommige ouers beleef dit dat al hul kinders emigreer; talle ouers is maar net te dankbaar as daar van hul kinders nog in Suid-Afrika is. Volgens Sadock en Sadock (2003:65) is skok en ontkenning die eerste fase van rou, en dit gaan met 'n gevoel van onwerklikheid asook protes gepaard.

Die ouers se affektiewe respons kan op een dag wissel van intense verlange na bekommernis en magteloosheid. Hulle deel nie graag die gevoelens met hul kinders nie, aangesien hulle nie die verhouding wil skaad nie. Een ouer het 'n retoriese vraag gestel: "Wat maak ek met my hartseer en verlange? Sal ek hulle ooit weer sien?" Affektiewe reaksies tydens rou is gewoonlik hartseer, woede, bangheid, vrees en magteloosheid (Martin & Doka 2000:17-18).

Sommige ouers was heeltemal gemaklik met hul kinders se emigrasie en het dit selfs aangemoedig. Dit blyk dat ouers makliker aanpas as hulle gereeld die kinders kan besoek en self nog gesond en aktief is. 'n Ouer het sy tevredenheid as volg saamgevat: "As ek alles moet saamvat is ek tog gelukkig dat my kind oorsee is ..." Volgens Gardner (2009:21) hanteer ouers die hele proses baie makliker as hulle weet dat dit met die kinders goed gaan.

Nadat ouers besef dat hul kinders veilig is en 'n goeie lewe lei, kry hulle meestal berusting. Hulle leer om hul lewe in te rig sonder die teenwoordigheid van die kinders en, al verlang hulle steeds baie na hulle, gaan hulle aan met 'n eie lewe. 'n Ouer beskryf sy berusting na jare se worsteling as volg: "Ek kon dit net nie in 'n mate aanvaar nie. "Ek het uiteindelik tot berusting gekom." Aanvaarding of berusting beteken dat die persoon werklik oor verliese wat gely is, getreur het, en weer in staat is om geluk in die lewe te ervaar (Sadock & Sadock 2003:64-65).

 

TEMA C: Hanteringsmeganismes om die onuitgeklaarde verlies te hanteer

Die ouers het verskillende hanteringsmeganismes gebruik om hul kinders se emigrasie te hanteer. Sommige meganismes is gesond en konstruktief, terwyl ander meganismes minder effektief is, soos verdedigingsmeganismes.

Verdedigingsmeganismes funksioneer buite 'n mens se bewussyn; dit wil sê op 'n onbewuste vlak, met die doel om die huidige belewenis, gevoel of gedagte te verander (Cramer 2004:325). Die verskillende verdedigingsmeganismes wat gebruik is, sluit die volgende in:

  • Rasionalisering

Aangesien dit vir ouers soms so pynlik is om oor hul kinders se emigrasie te praat en selfs voor vriende dit te noem, verskaf hulle redes waarom hul kinders kwansuis sou moes emigreer en word die fokus van die eintlike pyn na 'n rede geskuif: "... die gebeure in hierdie land het gemaak dat hulle beter geholpe geraak het ." Die ware redes word dus verskans omdat dit te pynlik is, en deur moontlike redes te gee, word angs verminder (Neeraja 2008:24).

  • Intellektualisering

Sommige ouers laat hulself nie toe om emosioneel op die emigrasie te reageer nie. Dit maak dit vir hulle makliker om slegs intellektueel na die saak te kyk en geen gevoelens met betrekking daartoe toe te laat nie. 'n Ouer erken dit self: "Ons verwerk dinge op 'n rasionele vlak en dis dit." Die onderwerp word dus op 'n suiwer kognitiewe vlak hanteer (Kline 2004:47).

  • Ontkenning

Tydens die onderhoude met die ouers was van die ouers verbaas oor hul eie trane toe hulle oor hul kinders se emigrasie gesels het. Die doelbewuste ignorering en ontkenning van die situasie bring tydelike verligting, maar gevoelens word nie deurgewerk en afgehandel nie. Baie ouers maak slegs staat op tyd wat moet verbygaan en wonde moet genees. Een van die ouers stel dit so: "Ek laat daai seer toegaan, ek vergeet dat daar kleinkinders is ..." Volgens Sadock en Sadock (2007:70) word ontkenning gebruik om 'n eksterne realiteit uit die bewuste te blok, aangesien die erkenning van die realiteit angs kan meebring.

  • Verplasing

Die verlange na hul kinders gaan gepaard met 'n leemte wat die ouers voel. Hulle probeer die leemte met 'n verplasing van hul kinders en kleinkinders vul. Dit hou nie dieselfde waarde in nie, maar bring verligting vir die leemte in ouers se hande en harte: "... jou kleinkinders is onder jou hande uit, maar mens sit met jou hande en jy moet jou hond streel of iets ..." Die gehegtheid aan die oorspronklike subjek bly voortduur en die plaasvervanging bevredig nie soos die oorspronklike subjek nie (Meyer, Moore & Viljoen 1988:49-50).

  • Projeksie

Dit blyk dat die ouers opstandig raak oor hul kinders se emigrasie, veral in die eerste fase van hul rouproses. Deur 'n ander persoon, objek of land te blameer, draai hulle hul eie fokus weg van hul pyn. Een ouer het die land waarheen haar kinders emigreer het, geblameer: "... die ander land het my kinders gesteel." In die geval van projeksie word die gedagte of gevoel met interne standaarde vergelyk en, as dit onaanvaarbaar is, word dit na 'n eksterne bron oorgedra (Cramer 2004:327).

  • Onderdrukking

Hierdie verdedigingsmeganisme word aangewend om eie pyn te vermy, maar is oneffektief vir die geestesgesondheid van 'n persoon. 'n Ouer het genoem dat sy nooit oor haar pyn praat nie: "... daar groei 'n kors oor die seer ..." Die respons van onderdrukking van gevoelens kom in die geval van 'n onuitgeklaarde verlies by mense voor (Boss 2006:57).

Effektiewe hanteringsmeganismes

Sommige ouers wend effektiewe hanteringsmeganismes aan om die situasie van hul kinders wat geëmigreer het, te hanteer. Van die ouers wat aan die studie deelgeneem het, lei bedrywige lewens en dit was nie maklik om 'n afspraak vir die onderhoud te maak nie. Hierdie ouers is op verskeie terreine van die samelewing produktief. Die dinamiese ingesteldheid staan teenoor persoonlike ontwikkeling wat tot stilstand gekom het (Sadock & Sadock 2003:46). In Erikson se lewensfasesteorie (Sadock & Sadock 2003:46), wys hy op die stryd tussen generatiwiteit en stagnasie van persoonlike ontwikkeling in die volwasse jare (Hutchison 2008:391).

  • Handhawing en uitbouing van ondersteuningsnetwerke

Die ouers wat hulleself nie onttrek nie, maar betrokke bly in die gemeenskap, se ondersteunings-netwerk is groter en sterker. Ouers wat aktief is in hul eie lewens en nuwe projekte beplan en aanpak, se verlange is nie noodwendig minder nie, maar daar is steeds ontwikkeling in hul lewens en vermeerdering van kennis. 'n Ouer wat 'n weeklikse afspraak met vriende het, merk op: "... ek is baie bedrywig met my brug en ek het regtig vreeslike goeie vriende ..." Aangesien 'n mens in die later jare van jou lewe 'n algemene vermindering van ondersteuningsbronne begin ervaar, moet daar ekstra moeite gedoen word om ondersteuningsbronne te behou en te bestuur (Hutchison 2008:335).

  • 'n Nuwe perspektief op dieselfde situasie

Verskeie ouers het nuwe perspektiewe op die situasie van die kinders se emigrasie ontwikkel. Vir sommige ouers was dit 'n uitkoms vir kinders se werkloosheid; vir ander was dit die geleentheid om die kleinkinders goeie skoolopleiding in die buiteland te gee en vir ander was dit 'n geleentheid om kundigheid te gaan opdoen en dit later na Suid-Afrika terug te bring. Dit was asof die ouers die positiewe gaan soek het: "As jy dit net negatief sien, dan gaan jy baie ongelukkig wees ..."

In gevalle waar dit blyk dat 'n stresvolle situasie onveranderlik gaan bly, kan 'n ander, nuwe perspektief op dieselfde situasie dit minder bedreigend laat voorkom (Feldman 1996:511). Volgens Tolle (2004:60) dui dit wat mens as die toekoms beskou, op 'n persoon se huidige stand van bewustheid. Die kwaliteit van die toekoms word dus deur 'n persoon se huidige vlak van kwaliteit van sy/haar bewustheid bepaal.

Dit blyk dat die kinders se welsyn en lewensgehalte 'n direkte invloed op die ouers se belewenis het. Deurgaans tydens die onderhoude het die ouers opgemerk dat die skeiding met die kinders ongemaklik is, maar dat dit 'n gedeeltelike troos is as dit met die kinders goed gaan in die buiteland. Die neiging om jouself nie as 'n individu te beskou nie, maar slegs as 'n ouer, is deur die navorser opgemerk. Die neiging lei daartoe dat die ouers indirek beleef wat die kinders beleef en dus nie altyd bewus is van hul eie gevoelens nie.

Dieselfde kenmerke wat ouers se verhouding met hul kinders as babas het, kom soms nog na vore in die verhouding met die volwasse kinders. Simbiose begin tydens bevrugting, maar afstand begin stelselmatig tussen ouers en hul kinders intree op verskeie stadia van kinders se ontwikkeling (Klever 2003:221). Die ouers beleef dikwels hul opofferings as 'n goeie daad wat hulle vir hul kinders doen. Hulle stel hul eie behoeftes tweede en fokus op die kinders se geluk. Verskeie ouers het die volgende frase gebruik: "Hulle geluk is my geluk ." Waar mense se behoeftes bevredig word deur eerder die behoeftes van ander te vervul, word na altruïsme verwys (Kline 2004:47).

  • Nuwe projekte

Die voortdurende en snelle ontwikkeling van tegnologie hou die voordeel in dat mense onmid-dellike kontak wêreldwyd kan hê. Van die ouers het egter geen of beperkte tegnologiese hulpmiddels en het dus vir lang tye geen kontak met hul kinders nie. Indien ouers wel finansieel daartoe in staat is om tegnologie-geletterd te raak, soos byvoorbeeld om te leer om 'n basiese e-pos te kan stuur, kan dit tot 'n gevoel van verbinding met die kinders bydra. Ouers wat nuwe dinge aanleer en kursusse en projekte aanpak, is oor die algemeen meer gemotiveerd. Een ouer erken die voordeel van sy kinders se emigrasie met die volgende woorde: "Dit het my gemaak met 'n 'computer' kan werk dat ek kan e-mail, wat ek nie voor die tyd kon doen nie." Die kontak wat die ouers met hul kinders en kleinkinders kan handhaaf, asook met ander mense, dra, volgens Cooper (2010:328), by tot sosiale verbintenisse met verskillende generasies wat in die middeljare nodig is.

  • Persoonlike groei en ontwikkeling

Die skielike alleenwees van die ouers en die rolverandering wat intree as die kinders emigreer, bied vir die ouers die geleentheid om na hul eie persoonlike groei en ontwikkeling om te sien. Die krisis van die kinders se emigrasie kan positief aangewend word deur bestekopname van hul eie lewens te maak. 'n Ouer merk op dat haar spirituele dimensie uitgedaag word: "... dit beteken 'n nuwe vorm van geestelike volwassenheid vir myself." Indien mense met hul lewens tevrede is en aktief besig is om voluit te leef, dra dit tot hul psigologiese welstand by (Veitch 2007:97).

 

SAMEVATTING EN SLOTGEDAGTES

Die doel van die navorsing was om die belewenis van ouers wie se kinders emigreer, te verken en te beskryf. In-diepte fenomenologiese onderhoude is gevoer met doelgerig geselekteerde ouers om hulle belewenisse van hulle kinders se emigrasie vas te stel. Hierdie ouers beleef ontnugtering, onuitgeklaarde verlies en gebruik verskillende effektiewe en minder effektiewe hanteringsmega-nismes om hulle onuitgeklaarde verlies te hanteer. Ouers het duidelik ondersteuning nodig om hulle belewenis van hulle kinders se emigrasie konstruktief te kan herformuleer.

 

AANBEVELINGS

Die resultate van hierdie studie behoort as basis te dien vir die ontwikkeling, implementering en assessering van 'n psigo-opvoedkundige program om ouers te ondersteun om hulle belewenis van hulle kinders se emigrasie konstruktief te kan herformuleer.

 

BIBLIOGRAFIE

Babbie, E. & Mouton, J. 2001. The practice of social research. Kaapstad: Oxford University Press Southern Africa.         [ Links ]

Babbie, E. & Mouton, J. 2006. The practice of social research. Kaapstad: Oxford University Press Southern Africa.         [ Links ]

Baldassar, L., Baldock, C.V. & Wilding, R. 2007. Families caring across borders. New York: Palgrave Macmillan.         [ Links ]

Bohke, A. 2008. Setting boundaries with your adult children. Oregon: Harvest House.         [ Links ]

Boss, P. 2006. Loss, trauma and resilience: therapeutic work with ambiguous loss. New York: W.W. Norton & Company.         [ Links ]

Cavanaugh, J.C. & Blanchard-Fields, F. 2006. Adult development and aging. Belmont: Thomson Wadsworth. Carrels, M. 2005. Exodus of SA skills doubles in six years. Cape Argus, 27 November, page 3.         [ Links ]

Cooper, C. 2010. Psychological counselling with young adults. In Handbook of Counselling Psychology. 3rd edtion. Edited by Woolfe, R., Strawbridge, S., Douglas, B. & Dryden, W. London: SAGE.         [ Links ]

Cramer, P. 2004. Stress, autonomic nervous system reactivity and defence mechanisms. In Defense mechanisms. Edited by Hentscel, U., Gudmund, S., Draguns, J.G. & Ehlers. Oxford: Elsevier. Creswell, J. 1994. Research design: qualitative and quantitative approach. London: Sage Publications. Creswell, J. 2007. Qualitative inquiry and research design: choosing among five approaches. London: Sage Publications.         [ Links ]

Department of Nursing. 2010. Theory for health promotion in nursing. Johannesburg: University of Johannesburg.         [ Links ]

Departement Verpleegkunde. 2010. Teorie vir gesondheidsbevordering in verpleegkunde. Johannesburg: Universiteit van Johannesburg.         [ Links ]

De St. Aubin, E., McAdams, D.P. & Kim, T. 2004. The generative society: an epilogue. In The generative society. Edited by De St. Aubin, E.,; McAdams, D.P. & Kim, T. Washington: American Psychological Association, pp. 265-271.         [ Links ]

Ebersole, P., Hess, P., Touhy, T.A., Jett, K., Schmidt, H. & Luggen, A. 2008. Toward healthy aging. 7th edition. Canada: Mosby        [ Links ]

Feldman, R.S. 1996. Understanding psychology. New York: McGraw-Hill.         [ Links ]

Foos, P.W. & Clark, M.C. 2003. Human aging. Boston: Pearson Education Inc.         [ Links ]

Frankental, S & Sichone, O.B. 2005. South Africa's diverse peoples: a reference sourcebook. California: ABC-CLIO.         [ Links ]

Frankl, V. 1959. Man 's search for meaning: an introduction to logotherapy. London: Hodder & Stoughton. Gardner, A. 2009. 'n Seisoen van verlange, deel van die lewe. Plus 50, April/May, 4(3):20-21.         [ Links ]

Hoare, C.H. 2002. Erikson on development in adulthood: new insights from the unpublished papers. New York: Oxford University Press, Inc.         [ Links ]

Hollis, J. 1993. The middle passage: from misery to meaning in midlife. Toronto: Daryl Sharp.         [ Links ]

Hutchison, E.D. 2008. Dimensions of human behavior; the changing life course. 3rd edition. Los Angeles: Sage.         [ Links ]

Isay, J. 2007. Walking on eggshells. New York: Broadway Books.         [ Links ]

Jordaan, W. 2007. Ma's se mistieke middelvlietende krag. Beeld, p 14 (23 Mei).         [ Links ]

King, R. & Vullnetari, J. 2009. The intersections of gender and generation in Albanian migration, remittances and transnational care. Journal compilation 2009. Swedish Society for Anthropology and Geography: 19-38.         [ Links ]

Klever, P. 2003. Marital functioning and multigenerational fusion and cutoff. In Emotional cutoff: Bowens family systems theory perspectives. Edited by Titelman, P. New York: The Haworth Press, Inc., pp. 219244.         [ Links ]

Kline, P. 2004. A critical perspective on defense mechanisms. In Defense Mechanisms. Edited by Hentscel, U., Gudman, S., Draguns, J.G. & Ehlers, W. Oxford: Elsevier, pp. 43-54.         [ Links ]

Knowles, J.G. & Cole, A.L. 2008. Handbook for the arts in qualitative research. Los Angeles: Sage Publications.         [ Links ]

Kornhaber, M.D. & Woodward, K.L. 2003. Grandparents/grandchildren: the vital connection. 4th printing. New Jersey: Transaction Publishers.         [ Links ]

Krefting, L. 1991. Rigor in qualitative research: the assessment of trustworthiness. The American Journal of Occupational Therapy, March 45(3):214-222.         [ Links ]

Kulik, L. 2007. Contemporary midlife grandparenthood. In Women over 50: psychological perspectives. Edited by Muhlbauer, V. & Chrisler, J.C. New York: Springer.         [ Links ]

Martin, T.L. & Doka, K.J. 2000. Men don't cry ... women do. Philadelphia: Brunner/Maze        [ Links ]

Meyer, W.F., Moore, C. & Viljoen, H.G. 1988. Persoonlikheidsteorieë - van Freud tot Frankl. Johannesburg: Lexicon Uitgewers.         [ Links ]

Miltiades, H.B. 2002. The social and psychological effect of an adult child's emigration on non-immigrant Asian Indian elderly parents. Journal of Cross-Cultural Gerontology, 17:33-55. Kluwer Academic Publishers. Printed in the Netherlands.         [ Links ]

Minnaar, H.J.D. 2010. 'n Psigo-opvoedkundige program om ouers wie se kinders emigreer, se geestesgesondheid te fasiliteer. Doktorale proefskrif. Johannesburg: Universiteit van Johannesburg.         [ Links ]

Neeraja, K.P. 2008. Essentials of mental health and psychiatric nursing. Volume 1. New Delhi: Jaypee Brothers Medical Publishers.         [ Links ]

Oupa en Ouma. 2007. Reeds treurende ouers. In briewekolom. Beeld, p. 10 (16 Desember).         [ Links ]

RSG radio-stasie. 2013. Monitor. 06h00-8h00. 23-08-2013.         [ Links ]

Sadock, B.J. & Sadock, V.A. 2003. Synopsis of psychiatry. 9th edition. Philadelphia: Lippincot Williams & Wilkins.         [ Links ]

Sadock, B.J. & Sadock, V.A. 2007. Kaplan and Sadock's study guide and self-examination review in psychiatry. Philadelphia: Lippincot Williams & Wilkins.         [ Links ]

Samers, M. 2010. Migration. New York: Routledge.         [ Links ]

Solomon, R.C. 2001. From rationalism to existensialism: The existentialism and their nineteenth-century backgrounds. Lanham: Rowman & Littlefield Publishers.         [ Links ]

Statistics South Africa. 2013. StatsOnline: latest key indicators. Available from: http://www.statssa.gov.za/keyindicators/keyindicators.aspf (Accessed lAugust 2013).         [ Links ]

Tolle, E. 2004. The power of now. California: Namaste Publishung and New World Library.         [ Links ]

Veitch, H.G. 2007. The development and evaluation of a psychological wellness programme for adults. BA Honn. Psychology. Bloemfontein: University of the Free State.         [ Links ]

Vullnetari, J. & King, R. 2008. 'Does your granny eat grass?' On mass migration, care drain and the fate of older people in rural Albania. Global Networks, 8(2):139-171.         [ Links ]

Walter, C.A. & McCoyd, J.L.M. 2009. Grief and loss across the lifespan: a biopsychosocial perspective. New York: Springer Publishing Company.         [ Links ]

Washburn, M. 2003. Embodied spirituality in a sacred world. New York: State University of New York Press.         [ Links ]

Wilding, R. & Baldassar, L. 2009. Transnational family-work balance: experiences of Australian migrants caring for ageing parents and young children across distance and borders. Journal of family Studies, 15:177-187.         [ Links ]

 

 

Douline Minnaar is ’n psigiatriese verpleegkundige in privaatpraktyk waar sy individuele psigoterapie, spirituele asook huweliksbegeleiding doen. Sy is data-analiseerder vir kwalitatiewe navorsing.
Douline Minnaar is a psychiatric nurse in private practice, where she is involved in individual psychotherapy; as well as spiritual and marriage counselling. She is a data analyst for qualitative research.

 

 

Chris Myburgh is professor in die Departement Opvoedkundige Sielkunde aan die Universiteit Johannesburg. Hy is ’n NRF-erkende navorser, het reeds meer as 160 artikels gepubliseer, en meer as 100 doktorsgraad- en 160 M-kandidate suksesvol begelei.
Chris Myburgh is professor in the Department of Educational Psychology at the University of Johannesburg. He is a NRF-graded researcher, has published more than 160 articles; and he has also successfully supervised more than 100 doctoral as well as 160 Masters candidates.

 

 

Marie Poggenpoel is professor in die Departement Verpleegkunde aan die Universiteit van Johannesburg. Sy is ’n NRF-erkende navorser, het reeds meer as 160 artikels gepubliseer, en meer as 100 doktorsgraad- en 160 M-kandidate suksesvol begelei.
Marie Poggenpoel is professor in die Department of Nursing Science at the University of Johannesburg. She is a NRF-graded researcher, has published more than 160 articles; and she has successfully supervised more than 100 doctoral as well as 160 Masters candidates.

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons