SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.54 número4Spreke en saamleef: Oor korrektheid en waarheid in Suid-Afrika se kultuurpolitieke diskoersThe extension of cost-benefit analysis with social analysis in the planning of public road construction projects: Suggestion in support of the creation of a developmental state índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912

Tydskr. geesteswet. vol.54 no.4 Pretoria dic. 2014

 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS

 

Die onderneming in die gemeenskap: Korporatiewe maatskaplike betrokkenheid deur Sanlam, 1918-1980

 

The enterprise in the society: Corporate social engagement by Sanlam, 1918-1980

 

 

Grietjie Verhoef

Departement Rekeningkunde Universiteit van Johannesburg gverhoef@uj.ac.za

 

 


OPSOMMING

Korporatiewe sosiale verantwoordelikheid het 'n statutêre verpligting geword wat deur verskeie belanghebbende partye gebruik word om uiteenlopende oogmerke te verwesenlik. Die konsep "korporatiewe sosiale verantwoordelikheid" (corporate social responsibility (CSR) het eers gedurende die 1990s prominensie in die korporatiewe omgewing begin kry, hoewel die konsep van ondernemings se sosiale verantwoordelikheid teenoor die breër gemeenskap ingrypend deur die geskiedenis verander het. Hoe behoort ondernemings se sosiale betrokkeheid beslag te kry? Watter rasionaal behoort daardie optrede te motiveer? Hierdie artikel ondersoek die inherente dryfvere in Sanlam vir sosiale betrokkenheid teen die agtergrond van die teorie van korporatiewe sosiale verantwoordelikheid. Hierdie artikel wys op die eiesoortige geaardheid van maatskaplike betrokkenheid deur Sanlam as 'n langtermynversekeringsmaatskappy in Suid-Afrika. Dit dui op 'n bydrae tot die teoretiese diskoers oor korporatiewe sosiale verantwoordelikheid aan die hand van die geskiedenis van korporatiewe maatskaplike betrokkenheid in Sanlam.

Trefwoorde: gemeenskap, polishouers, maatskaplike verantwoordelikheid, groei, versekeringsmaatskappy


ABSTRACT

Corporate social responsibility, broadly understood to be the conduct of enterprises to contribute to sustainable economic development in conjunction with employees, families, the community as well as the broader society to improve the quality of life of all, has become statutory responsibility manipulated by various stakeholders to serve different purposes in the social and business contexts. The concept of corporate social responsibility CSR acquired prominence and value for enterprises, especially big business and transnational conglomerates that needed to address legitimacy concerns in the markets in which they operated. Animosity between business and society developed as a result of business conduct exploiting resources in the host markets, exploitation of human resources as well as attempts to manipulate governments to gain preferential treatment. The drive to sustain the value extraction within tight time schedules in order to deliver commodities as contracted, from markets in the southern hemisphere to northern hemisphere business, led to labour practices and business conduct which aroused protest and opposition in the exploited markets. International human rights organisations gradually responded by labelling business contravening best practice publically as exploitative and not doing business in good faith. Global activism against business exploitation led to the formulation of principles of good conduct, which fed into more formal programmes of responsible business conduct. The early post-industrialisation history in Britain has witnessed benevolent actions by well-intended businessmen to alleviate the plight of poor labour, or the poor in the industrialised urban society. These actions were primarily philanthropic, but were later supplemented by entrepreneurial activity to conduct "better business".This paper recognises the long history of responsible conduct by business with respect to the needs of the broader society, but it presents a case study of a life assurer in South Africa, Sanlam. Sanlam was not forced by any statute to engage constructively with the broader society, but implemented a policy of corporate social engagement since its formation. Sanlam 's vision and commitment to policyholders 'best interests, to the education of people whereby they would be empowered to take responsibility for their own lives, was the overarching purpose of the company. It was argued that empowerment of the people is the only method of creating real benefits to the entire South African society (which meant everybody living in South Africa), which was the ultimate goal of the life assurer. Sanlam implemented corporate social engagement to empower its policyholders, to enable them to make a substantial contribution to the South African economy and thereby to the benefit of all South Africans. This paper explores the Sanlam corporate social engagement programmes from 1918 to 1980 to illustrate the successful implementation of CSR long before CSR became a political tool. It is argued that when CSR is voluntary and linked directly to stakeholders, such programmes serve to build successful CSR and create real benefit to the recipients as well as the broader society. A historical analysis is made of the rationale of Sanlam management in implementing programmes to facilitate empowerment of policyholders, the education of needy children as well as bursary schemes for university study. These actions were supplemented by programmes to enable schools to build hostels for school children. Sanlam provided credit to people in need of credit, but who would not qualify for credit at ordinary bank institutions, as well as mortgages on agricultural land as a means of empowering its policyholders. Sanlam advocated its role as mutual assurer to provide security to its policyholders. Therefore Sanlam offered access to credit, or a postponement of the payment ofpolicy premiums in case of temporary inability to pay, since thereby the company was seen to practise what it preached: security through life assurance to the people and then through them being secure, greater stability to the South African society and economic progress for everybody living in the country in the long run. Sanlam set out to build local ownership of the economy. Life assurance thus provided a savings mechanism and simultaneously an ability to grow financial independence, thereby beating white poverty which had taken on crisis proportions during the late 1920s and 1930s. Real economic empowerment lay in self-empowerment, facilitated by responsible corporate social engagement by the Sanlam Management. The corporate social engagement programmes of Sanlam before 1980 was directed at its own policyholders, but the profile of that constituency always included non-Afrikaners as well. This paper explores the non-statutory real social engagement programmes of Sanlam aimed at real empowerment and not politically sanctioned action to serve biased political interests.

Keywords: society, policyholders, social responsibility, growth, insurance company


 

 

INLEIDING

In 1961 het Mnr W J Bezuidenhout,1 Algemene Bestuurder van Sanlam, die onderneming beskiyf as 'n "bron van inspirasie" vir hom omdat "...ons hier te doen het met 'n beweging - gemik op die verwesenliking van 'n grootse ideaal - wat reeds 42 jaar aan die gang is en waaraan groot getalle volksgenote reeds getroue diens gelewer het".

Daar is 42 jaar gelede bewustelik 'n groot taak aangepak... (dit was) juis hierdie bewustheid van sy taak - die opheffing van ons eie mense - 'n taak wat steeds groter word namate ons Land vooruitgaan en ons Volk al meer 'n verstedelikte volk word .Dit is hierdie roepingsbewustheid waarin die verskil tussen Sanlam en ander versekeringsmaatskappye lê. Sodra ek gehelp word om tot hierdie diepere wese van Sanlam deur te dring en my met sy roeping te vereenselwig dan vind ek dat Sanlam as maatskappy vir my 'n besieling word. (SA 6/5/1: Bezuidenhout,1961)

Die oprigting van ondernemings word normaalweg gemotiveer deur die winsmotief en daarsonder sal geen onderneming die toets van die tyd deurstaan nie. Die versterking van die bestaansreg van die onderneming deur breër samelewingsanksionering verhoog die lewensvatbaarheid en volhoubaarheid van die onderneming. Nog lank voordat filantropiese en omgewingsoorwegings die bestuurstrategie van ondernemings direk beïnvloed het, het Sanlam 'n eiesoortige inhoud gegee aan dié onderneming se verstaan van sy maatskaplike verantwoordelikheid. Diepliggende ontwikkeling het sedertdien in die besigheidsomgewing in Suid-Afrika plaasgevind. Daardie ontwikkelings het gelei tot die ontplooiing van 'n statutêr voorgeskrewe en polities gesanksioneerde korporatiewe sosiale verantwoordelikheid (Fury 2010:6; RSA 2007:4). In hierdie artikel word ondersoek ingestel na die besondere motivering vir en beskouing van die maatskaplike verantwoordelikheid van Sanlam teenoor die breë gemeenskap en sy polishouers sedert 1918 as 'n radikaal anderse vorm van korporatiewe maatskaplike betrokkenheid - met 'n wesenlik andersoortige uitkoms. Dit was 'n korporatiewe maatskaplike betrokkenheid wat anders as tans, nie deur wetgewing gedryf is nie en wat die groter voordeel van die Suid-Afrikaanse samelewing ten doel gehad het as synde die uitvloeisel van opheffing van polishouers asook die groter samelewing waarvan hulle deel uitgemaak het.

Die artikel word soos volg uiteengesit: eers word die ontwikkeling en teorie van korporatiewe sosiale verantwoordelikheid breedweg verduidelik. Daarna word die Sanlam-perspektief daarop vanuit die historiese ontwikkeling in Sanlam verduidelik en ten slotte word die programme in breë kategorieë verduidelik.

 

BEKNOPTE OORSIG OOR ONTWIKKELINGS VAN DIE BEGRIP "KORPORATIEWE SOSIALE VERANTWOORDELIKHEID"

Reeds tydens die Viktoriaanse era (1819-1901) het welgestelde lede van die gemeenskap hulle by wyse van filantropiese handelinge sorgsaam ontferm oor verwese en verarmde mense in die stedelike gebiede. Hulle het gehelp om die nadelige sosio-ekonomiese gevolge van die Industriële Rewolusie die hoof te bied (Cannon 1994:12, 21; Cameron1993:189). Terwyl mense soos Robert Owen en John H Patterson, twee Britse industrialiste, welsynsprogramme geïmplementeer het om die omstandighede wat aanleiding gegee het tot arbeidsonrus te verlig, was die programme gelyktydig ook daarop gemik om verbeterde produktiwiteit by deelnemende ondernemings te bewerkstellig (Carroll 2008:21). Die uitgangspunt was dat wanneer sosiale vraagstukke wat die produktiwiteit van die werkers aan bande lê, uit die weg geruim word, dit indirek ook sorg vir beter uitsette van die onderneming (Cannon 1994:17). In Engeland het hierdie ontwikkeling aanleiding gegee tot die sogenaamde "nuwe model" werkgewers van die 1850s en 1860s, terwyl dit in die VSA uitgeloop het op die "verbeterde industrieë"-beweging. Die tendens was om goed te doen aan die werknemers van die eie onderneming (Jenkins 2009:69).

Ondernemings kom egter onder druk ten tye van 'n afswaaifase in die ekonomie, soos wat dit inderdaad gebeur het tydens die depressie van die laat 1920s en vroeë 1930s, want dan is daar eenvoudig minder fondse om aan sodanige projekte te bestee. Dit was onder hierdie ellendige omstandighede van die Groot Depressie dat die staat na vore getree het met welsynsprogramme. Dit was met die New Deal2 in die VSA dat welsynsprogramme deur die owerheid 'n nuwe verskynsel geword het. Die staat het die rol van privaat ondernemings oorgeneem en werk geskep, bestaansbeveiliging en gesondheidsvoordele ingestel en armoede probeer verlig in feitlik alle sfere van die Amerikaanse samelewing (Cameron 1993:361). Tydens die na-oorlogse oorheersing van John Maynard Keynes se makro-ekonomiese denke met die klem op indiensneming as 'n funksie van verbruik en investering (Snowdon & Vane 2005:36-65), het die klem weer eens geval op die stimuleringsrol van owerheidsbesteding om indiensneming te bewerkstellig en sosiale vraagstukke op te los. In hierdie konteks het Howard R. Bowen, 'n Amerikaanse ekonoom van die laat vyftiger-en sestigerjare, weer die sosiale verpligting van sake-ondernemings om aan die burgerlike samelewing iets terug te gee in ruil vir die geleentheid om sake te doen, beklemtoon (Frederick 1960:56; Carroll 2008:25). Hierdie beskouing het 'n ontvanklike teelaarde gevind in die sosiaal-demokratiese denkrigtings in Europa na die Tweede Wêreldoorlog, maar dit was eers gedurende die laat 1960s dat die groeiende rol van transnasionale korporasies (TNKs) in verskillende wêrelddele die kwessie van verantwoordelike en regverdigbare besigheidsoptrede op die agenda geplaas het (Carroll 2008:27).

Twee breë fases van ontwikkeling in korporatiewe sosiale verantwoordelikheid het daarna gevolg - eers was dit die periode sedert die laat 1960s en 1970s, en daarna die dominante fase van na 1990. Wanpraktyke van TNKs in politieke aangeleenthede van die lande waarin besigheid onderneem is, het die kollig laat val op etiese vraagstukke rakende die samelewings waarin sake gedoen is. Die aandag het geleidelik wegbeweeg van die werknemers van die eie onderneming en is verplaas na die breër verbruiksgemeenskap en die owerheid (Jenkins 2009:69, 71). Met die oplewing in neoklassieke makro-ekonomiese denke is skerp kritiek uitgespreek teen enige oorweging in die doelstellings van ondernemings anders as om die belange van aandeelhouers voorop te stel. Korporatiewe sosiale verantwoordelikheidsoorwegings is voorgehou as 'n beperking op die optimale funksionering van die vrye mark (Friedman 1962:133). 'n Groeiende appèl is geplaas op optimale opbrengs op aandeelhouersfondse (Peck & Tickell 2002:381), maar met die tweede aanspraak op verantwoordelike korporatiewe sosiale optrede sedert die 1990s, het omgewingsoorwegings en arbeidspraktyke op die voorgrond getree. Die groot klem op die waardeskakel waarin die produsente in die noordelike halfrond leweransiers in die suidelike halfrond beheer het, wat weer eens 'n besorgdheid was oor tydige lewering van kwaliteit produksie, het die aandag gerig op werks-omstandighede van arbeid en die omgewingsimpak van produksie (Jenkins 2005; 2009:70). Na die Aardeberaad3 in Rio de Janeiro in 1992 het ondernemings probeer om selfregulering te verseker deur middel van vrywillige handveste en gedragskodes om staatsregulering te vermy (Jenkins 2005; 2009:70). In die periode na 1990 het korporatiewe sosiale verantwoordelikheid toenemend gegaan oor die openbare reputasie van die onderneming en daarom is sodanige beleidsrigtings as bestuursmeganisme aangewend om negatiewe persepsies teen te werk. Bestuur het toenemend beheer verkry oor meningsvorming oor wat korporatiewe sosiale verantwoordelikheid is. Bestuur het ook meer en meer sodanig die inhoud van daardie programme, die risiko's en implementering daarvan beheer sodat hulle die legitimiteit van korporatiewe sosiale verantwoordelikheid kon omskryf (Bebbington1997; Owen et al 1997; Puxty 1986; O'Dwyer 2003; Branco & Rodriques 2008). Legitimiteitsteorie word gebruik om die optrede van bestuur te verklaar: maatskappye se korporatiewe sosiale verantwoordelikheidsbydraes word aangebied in dieselfde waarde-, normatiewe, gewoonte- en tradisionele raamwerke van die samelewing, sodat dit geassosieer word met dié waardes, norme, gewoontes en tradisies van die gemeenskap. So word die legitimiteit van die onderneming vereenselwig met dié van die samelewing en die legitimiteit van die maatskapppy verhoog (DiMaggio &Powell 1983; Oliver 1991; Scott 1987; Deegan 2002; Hibbitt 2004). Die volhoubaarheid van die onderneming word nou nie alleenlik beskou as 'n aangeleentheid vir die maatskappybestuur nie, maar as 'n veelvuldige volhoubaarheidstrategie van die onderneming, die omgewing en die gemeenskap (die sogenaamde drie-dubbele afsluiting van die rekeningstaat).

Breedweg kan korporatiewe sosiale verantwoordelikheid verstaan word as die optrede van ondernemings om by te dra tot volhoubare ekonomiese ontwikkeling in samewerking met werknemers, families, die omliggende gemeenskap asook die groter gemeenskap ten einde almal se lewenskwaliteit te verbeter (WBCSD 2002). Hierdie korporatiewe sosiale verantwoordelikheid word op verskillende wyses geïnterpreteer: as 'n wen-wen uitkoms beide vir die onderneming en die samelewing; as bloot die herverspreiding van welvaart; as nadelig beide vir winsneming van die onderneming asook vir die gemeenskap omdat met die vrye werking van die mark ingemeng word en bronne dus nie optimaal toegewys word nie; of dit word verstaan as 'n openbare betrekkinge oefening wat ook lei tot die wantoewysing van bronne (Jenkins 2009:73).

In die ontplooiing van die teorie van korporatiewe sosiale verantwoordelikheid blyk dit dat ondernemings hul korporatiewe sosiale verantwoordelikheidsprogramme formuleer in reaksie op eksterne veranderlikes. Teen die einde van die twintigste eeu het korporatiewe skandale gelei tot statutêre regulering van sodanige programme (Horrigan 2010:1-17; Okike 2011:234-237; Hiller 2013:287). Sanlam se geskiedenis dui daarop dat die onderneming se vestiging- en bestuurstrategie uit die teenoorgestelde hoek ontwikkel het, naamlik as 'n inisiatief om baie spesifieke behoeftes van die Suid-Afrikaanse samelewing op te los deur dit by die horings te pak deur 'n maatskappy te stig, d.w.s Sanlam tot stand te bring. Sanlam se sosiale verantwoordelikheidsprogramme staan, in die tydperk onder bespreking, bekend as korporatiewe maatskaplike betrokkenheid (KMB - die term wat Sanlam intern gebruik het om te verwys na die maatskappy se aksies in belang van die groter samelewing) en dateer uit die jare sedert maatskappystigting. Dit dui op die direkte betrokkenheid van die maatskappy by die belange van sy polishouers in die eerste geval, maar terselfdertyd ook by die behoeftes van die groter samelewing waarvan die polishouers onlosmaaklik deel was. Hoewel Van den Ende (2004:83) beweer dat die grondslae van korporatiewe sosiale verantwoordelikheid eers sedert die sewentigerjare in Suid-Afrika gelê is, al het dit in verskillende vorme reeds vir baie jare bestaan, getuig daardie uitspraak van 'n eng eietydse omskrywing daarvan. Van den Ende se vertrekpunt is die politieke konteks van die sewentigerjare toe Meyer Feldberg, Professor in Bestuur aan die Columbia Sakeskool in die VSA, verkondig het dat sake-ondernemings 'n wyer verantwoordelikheid tot die gemeenskap behoort in te neem en 'n breër spektrum van sosiale waardes behoort te bedien (Van den Ende 2004:83). Dié vertolking van korporatiewe sosiale verantwoordelikheid staan in die teken van Bowden se siening dat besighede iets aan die samelewing moet teruggee in ruil vir die voorreg om sake te doen - 'n soort "verdien" van die reg om besigheid te doen. Daarteenoor staan die Sanlam-perspektief op KMB, uiteengesit in hierdie artikel. Daar word daarop gewys dat die ontplooiing daarvan tot ongeveer 1980 in die eerste plek diensgedrewe was, hoewel daar ook aandag geskenk is aan die besigheidswaarde van daardie aksies. Sanlam het inderwaarheid van die oortuiging uitgegaan dat die breër samelewing direk sal baat by die bestaansekuriteit van polishouers. Polishouers dra deur verantwoordelike spaargedrag by tot die opbou van die land en dus die totale Suid-Afrikaanse bevolking.

 

LEWENSVERSEKERAAR EN DIE GEMEENSKAP: SANLAM SE RASIONAAL EN INKLEDING SEDERT 1918

In Desember 1919 het W A Hofmeyr,4 die Voorsitter van Sanlam, in die eerste jaarverslag met trots gewys op die sukses behaal tydens die eerste besigheidsjaar - ook die jaar van die vernietigende Spaanse griep. Hofmeyr was besield met die idee dat Sanlam in die toekoms . .een van die sterkste en suiwerste van die aard in Suid-Afrika sal wees, en nie alleen tred sal hou met die ontwikkeling van ons vaderland nie, maar daartoe aanmerklik sal bijdra" (SA 5/2/1: Jaarverslag 1919:1). Die fokus op die bydrae tot die ontwikkeling van die land as die oorkoepelende doel, het soos 'n refrein geloop deur die Voorsittersredes. Hofmeyr se sterk gevoel oor die ontwikkeling van Suid-Afrika moet verstaan word teen die agtergrond van die ekonomiese tol wat die oorloë (Tweede Vryheidsoorlog en die Eerste Wêreldoorlog) op die land gehad het, asook die negeerbare klein rol van Afrikaners in die land se hoofstroom ekonomie teenoor die onteenseglike beheer van buitelanders en Engelssprekende sakelui. As 'n voorstander van die "Suid-Afrika Eerste"-idee wou Hofmeyr deur groter groei daartoe meewerk dat Suid-Afrikaners self groter beheer oor die land se ekonomie verkry. In 1921 sê Hofmeyr Sanlam is ".'n volksinrigting in die wydste sin van die woord... wat aan jonge Afrikaners werk verskaf en hul op(te)lei in assuransiewese. Hierdeur meen ons 'n groot diens aan Suid-Afrika te bewys. Wil ons ekonomies selfstandig word dan moet ons ons eie inrigting ondersteun. ", en Afrikanerkapitaal moet in ". die hande wees van Afrikaners om diensbaar gemaak te word vir die ontwikkeling van ons land". Terselfdertyd is hulp aan polishouers verleen onder moeilike omstandighede om hulle polisse in stand te hou ".en dit is bewys van die voorneme van die direksie om die Maatskappy diensbaar te maak aan die belange van sy polishouers" (SA:5/2/1:Jaarverslag 1921). Die maatskappy het eerstens mense geleer om deur middel van lewensversekering voorsiening te maak vir afhanklikes sodat hulle vir hulself kan sorg, en tweedens om deur daardie spaarsin en verantwoordelikheid op te neem, ook indirek die landsekonomie in groter konteks te dien. In die tariefboek van Sanlam van 1919 word uitdruklik verklaar dat agente in die oog moet hou dat ".die vernaamste doeleindes van hierdie Maatskappij die ontwikkeling is van 'n nasionale trots in suiwer Suid-Afrikaanse onderneminge" (SA:F12/1942[3]). Die eerste Algemene Bestuurder Alfred Macdowell het in sy korrespondensie as leuse van Sanlam gebruik "Suid-Afrika eerste" (SA /5/2/1: Korrespondensie Macdowell 23/1/1919) en in die 1927 brosjure van Sanlam word verwys na Sanlam as 'n veiligheidskakel ".uit die volk gebore om die volk te dien" (SA:5/2/2: brosjure 1927). Hierdie verklarings van die Sanlam leierskorps verwoord 'n roepingsbewussyn waardeur die onderneming sy bestaansreg koppel aan die groter welstand van die hele land. Dit is wel so dat ander versekeringsmaatskappye op dieselfde wyse probeer het om die bevolking op te voed met betrekking tot die beginsel van samewerking, of soos dit dikwels in die tyd van die Helpmekaarbeweging genoem is, 'n helpmekaaraksie. Hierdie artikel dui aan dat Sanlam sy strategie nie uitsluitlik en diskriminerend gerig het net op Afrikaanssprekendes nie, maar inderdaad uit die staanspoor gerig was op, soos Hofmeyr dit self verwoord het, "die volk van Suid-Afrika in die wydste sin van die woord".

Om hierdie begripsinkleding korrek in historiese verband te verstaan, is dit noodsaaklik om te verduidelik hoe Afrikanerleiers in die Kaap die begrip "Afrikaner" in die konteks van die vroeë dekades van die twintigste eeu gebruik het. Onze Jan Hofmeyr5 het die begrip Afrikaner inklusief gebruik. Hy het nie slegs verwys na persone wat die Afrikaanse taal gebruik nie, maar ook almal wat die kultuurskatte van die Hollandse en Engelse gemeenskap vir die Afrikaner toegeëien het. Op politieke gebied het hy 'n Afrikaner beskryf as "...een ieder die, zich in dit land neergezet hebbende, hier wenst te blijven, onze gemeenschappelike belange te verzekeren" (Hofmeyr 1913:574). Giliomee wys ook daarop dat die grondwet van die Afrikanerbond wat in 1883 aangeneem is, bepaal het dat "De Bond kent geen nasionaliteit hoegenaamd, dan alleen die der Afrikaners, en beschouwt als daartoe behorend een ieder, van welke afkomst ook, die de welvaart van Zuid-Afrika beoog" (Giliomee 1975:33; Hofmeyr 1913:712). Ook in die Zuid-Afrikaansche Republieke het Genl Piet Joubert uitlanders beskou as "potensiële Afrikaners en landsburgers" (Giliomee 1975:34). Ook Genl J B M Hertzog se verwysing na Afrikaners was inklusief - 'n verwysing na al die blankes wat in hierdie land gewortel is en Suid-Afrika se belange eerste en nie die Britse Kroon as eerste lojaliteit aanhang nie (Giliomee 1975:36). Wanneer daar dus aan die begin van die twintigste eeu na Afrikaners verwys word, moet dit histories korrek verstaan word as 'n inklusiewe konsep wat verwys na patriotisme teenoor Suid-Afrika - beide Afrikaanssprekendes en Engelssprekendes.

Die klem op persoonlike voordeel word uit die staanspoor in Sanlam gekoppel aan die groter vooruitgang van die hele land. Die klem op "diensvaardigheid en veiligheid aan sy Polishouers", soos verklaar deur die Voorsitter, was omdat Sanlam ".'n eg Afrikaanse volksinstelling in die wydste sin van die woord" was, wat aan jong Afrikaners werk verskaf en hulle oplei. Hofmeyr verklaar, "Hierdeur meen ons 'n groot diens aan Suid-Afrika te bewys. Wil ons ekonomies selfstandig word, dan moet ons ons eie inrigtings ondersteun" (SA:5/2/1: Jaarverslag 1922:3-4). Met hierdie standpunt word bedoel instellings wat aan die burgers van die land behoort, en spesifiek juis nie aan buitelanders nie. Die mark waarin Sanlam begin sake doen het, was juis oorheers deur buitelandse maatskappye. Vir Sanlam was die opheffingstaak van verarmde Afrikaanssprekendes van die grootste belang, maar daarmee het die maatskappy nooit nie-Afrikaanssprekendes uitgesluit of hulle probeer verhoed om polishouers te word nie. Sanlam was ook nie die enigste versekeraar wat op die groter diensvaardigheid aan die land gesinspeel het nie. Wat Sanlam se benadering anders maak is die genuanseerde benadering tot beide Afrikaanssprekendes met hulle spesifieke probleme in Suid-Afrika, en nie-Afrikaanssprekendes - beide groepe wat hulle met die land vereenselwig het. Teenoor Sanlam was daar versekeringsmaatskappye, sommige buitelandse maatskappye, wat nie spesifiek Afrikaanssprekendes probeer werf het nie, of wat hulle diwidende na die buiteland gerepatrieer het (SA5/2/1: Voorsittersverslag 28/12/1923:2). Laasgenoemde optrede is beskou as nie in belang van Suid-Afrika nie. Met die perspektief van Sanlam se "rentmeesterskap" as onderneming, het betrokkenheid by die breër gemeenskap die vorm aangeneem van konstruktiewe bemagtiging van Suid-Afrikaners. Korporatiewe sosiale betrokkenheid was nie uitsluitlik filantropies van aard nie, maar ingestel op burgerlike bemagtiging vir selfstandigwording. Filantropie was handelinge wat probeer om die swaarkry van armes te versag, veral deur welsynsgawes. Daarteenoor was die aksies van Sanlam nie welsynsgeoriënteerd nie, maar hoofsaaklik bemagtigend, d.w.s. om mense te help om hulself te help. As 'n lewensversekeringsmaatskappy het Sanlam gewerk met polishouers se spaarfondse en daarom was Sanlam kontraktueel verantwoordelik aan sy polishouers. Alle KMB inisiatiewe was gedrewe deur polishouers se belange en polishouers was hoofsaaklik, maar nie uitsluitlik nie, Afrikaanssprekendes. Reeds sedert die beginjare het Sanlam Engelssprekende polishouers gehad en hierdie groep het toegeneem tot ongeveer 10% in 1960 en tot meer as 20% teen 1980 (Halleen 2013:95,113). In 1923 is 'n volbladadvertensie in die Cape Times geplaas en in 1928 is 'n volledige brosjure in Duits opgestel. Die advertensie in die Cape Times is herhaal en was 'n presiese vertaling van advertensies in Afrikaanse koerante. Dit dui daarop dat Sanlam sy polisse op dieselfde wyse aan beide taalgroepe bemark het. Die Duitse brosjure was 'n poging om Duitse landsburgers in te lig oor Sanlam se polisse en sodoende ook in daardie mark aanklank te vind. Die swart, Kleurling en Indiër polishouers was ongeveer 5% van totale polishouers teen 1950 en het gegroei tot 12% teen 1980 (Halleen 2004:119,149). Daarenteen was die polishouers in die industriële afdeling,6 wat later oorgeplaas is na African Homes Trust (wat in 1935 'n volfiliaal van Sanlam geword het) feitlik uitsluitlik swart en Kleurling-polishouers (SA:5/2/3: Direksienotule 29/10/19: SA:5/2/1 Jaarverslag 1935;12).

Die beleid met betrekking tot KMB was dat donasies wat uit die sentrale fonds van Sanlam toegeken word, alleenlik toegeken sou word as die organisasie wat daarom aansoek gedoen het 'n landswye karakter het, en indien die organisasie nie slegs een bepaalde deel van die samelewing bedien nie (seksionele belange), maar inderdaad 'n wyer samelewingskomponent bedien. Wanneer donasies van taal- of raskonnotasie toegeken word, is die bronne van Sanlam se fondse (polishouersprofiel) in ag geneem (SA 5/3/2/Direksienotule 23/1/80). Daar was geen bewustelike KMB beleid in 1918 nie, maar 'n benadering tot "donasies en skenkings" wat met verdrag vorm aangeneem het, totdat dit uiteindelik verwys het na KMB teen die laat sestigerjare. Die belang van hierdie gebrek aan 'n formele beleid ten aansien van KMB is dat Sanlam aksies geloods het sonder dat daar 'n formele oorkoepelende beleid daaroor was. Die maatskappy het merendeels gereageer op versoeke vir donasies en skenkings en heelwat later die praktyk geformaliseer in 'n amptelike KMB beleid.

Vir Sanlam om sy "rentmeesterskap" en "diensvaardigheid" gestand te doen, het die maatskappy gedurende die aanvangsjare polishouers bygestaan onder moeilike omstandighede. Die periode ter sprake was die tyd van groeiende armoede, beroepsmarginalisering en 'n gewaarwording van toekomsloosheid. Sanlam se hulp aan polishouers het die outomatiese instandhouding van polisse behels wanneer polishouers dit moeilik gevind het om premies te betaal, maar wel later weer in 'n beter posisie kon wees om premiebydraes te hervat. Op die wyse het die bestuur geredeneer dat stabiliteit in die breë samelewing gedien word, terwyl polishouers onder druk aangespoor is om so spoedig moontlik weer te begin bydra. Daardeur is die opvoedingstaak in die gemeenskap gestand gedoen, welsynsafhanklikheid verminder en ekonomiese selfstandigheid in die hand gewerk (SA:5/2/1 Jaarverslag 1922:12). Verder het Sanlam sedert 1922 verbande en polislenings aan polishouers toegestaan om sodoende toegang tot krediet te verleen aan persone wat nie onder normale omstandighede vir lenings by banke in aanmerking sou kom nie. Sanlam het ook gratis brosjures oor gesondheid onder polishouers versprei om hulle in te lig oor gesondheidsaange-leenthede as 'n vorm van voorkomende gesondheidsorg. Daar is ook sedert 1928 rentevrye lenings toegestaan vir operasies (SA: 5/2/1: Jaarverslag1922:3; 1929:4). Sanlam het sedert 1928 ook werkgewers genader om pensioenskemas vir hulle werksmag te skep en sodoende bestaansbe-veiliging aangebied aan 'n groter gemeenskap as bestaande polishouers. In die praktyk sou sodanige pensioenskemas moontlik wel kon lei tot die aankoop in een of ander vorm van Sanlampolis, maar die inisiatief dui op die diensvaardigheidsoogmerk van die onderneming. Sanlam het dus geleidelik 'n groter gedeelte van die bevolking "opgevoed" oor verskillende maniere om vir hulle eie toekoms en dié van hulle families te sorg.

Hierdie aksies om bestaande polishouers te help om deur die moeilike tye van beide die insinking na die Eerste Wêreldoorlog en die Depressie te kom en die algemene opvoeding van 'n goeie lewenstyl het natuurlik ook goeie besigheidsin gemaak. Daar was altyd die oorweging van watter uitwerking beleidsbesluite op die vloei van besigheid sou hê. Hier word nie te kenne gegee dat Sanlam die enigste versekeraar was wat dermate menslikheidsoorwegings geopenbaar het in die hantering van polishouers of die bepaling van strategie nie. Ander versekeraars, soos Old Mutual, Southern Life, African Life en andere het dit ook gedoen, maar daar word hier daarop gewys hoe Sanlam sy besigheidstrategie as 'n holistiese benadering tot opheffing en bemagtiging van al sy polishouers benader het. Dit was inderdaad van geweldige belang vir die grootste meerderheid Afrikaanssprekende polishouers, maar geen onderskeid is gemaak tussen polishouers wat Afrikaans was en polishouers wat aan ander groepe behoort het nie. Wat wel deur Sanlam bereik is, was om baie meer mense wat voorheen geen versekeringsvoorsiening gehad het nie, op te voed daartoe en sodoende die algehele welstand van die groter samelewing bevorder het. Hierdie studie wys uit dat Sanlam sy beleid gebalanseer het tussen die goeie besigheid waarvan die voortbestaan van die onderneming afhanklik was, die roepingsbewustheid teenoor die verarmde deel van die bevolking waaruit die onderneming gespruit het en die groter menslikheidsoorwegings van alle polishouers ongeag die etniese of taalverbondenheid van enigeen.

Die aanvangsjare van Sanlam se KMB staan in die teken van die bemagtigingsoogmerk van die maatskappy. Die eerste veertig jaar van die bestaan van Sanlam het saamgeval met die verskerpte fokus op die verligting van die onderliggende oorsake van die armblankevraagstuk en die netwerk van entrepreneuriese inisiatiewe voortspruitend uit die Eerste Ekonomiese Volkskongres van 1939 (Verhoef 2006a; 2006b). Die leiers van Sanlam het 'n sleutelrol in die rigtinggewende denke ten grondslag van die vestiging van nuwe ondernemings met Afrikanerkapitaal, opleidingsinstitute en gemeenskapsorganisasies gespeel. Met verdrag het Sanlam se KMB breër beweeg as net die vestiging van 'n sosiale bewussyn dat ook arm mense moet leer om vir hulle eie toekoms voorsiening te maak. 'n Sterk klem is geplaas op versekering met die oog op onderwys en opvoeding. Teen 1942 het Sanlam se KMB skenkings in drie kategorieë uiteengeval, naamlik universiteite, Afrikaner volks- en kultuuraktiwiteite en welsyns- en liefdadigheidswerk. Ongeveer 50% van alle skenkings was aan universiteite, soos die Universiteit van Stellenbosch, spesifiek ook aan die Buro vir Handel (omdat die maatskappy veral Afrikaanse jongmense wou aanmoedig om die sakewêreld met goeie opleiding te betree) wat later bekendgestaan het as die Buro vir Ekonomiese Ondersoek, die Universiteit van Pretoria se mediese fakulteit en die Universiteit van Potchefstroom. Sanlam en Santam het saam in 1948 befondsing bewillig vir die bou van die mediese fakulteit aan die Universiteit van Stellenbosch, op voorwaarde dat bouwerk binne vyfjaar voltooi sou wees. Fondse is ook bewillig aan die Afrikaanse Taalmonument Studiefonds gedurende die 1950s en 1960s (SA:5/2: D4A).

Daarnaas is volksbelange, dit wil sê belange van die Afrikanervolk, altyd sterk oorweeg. Hier word verwys na skenkings aan die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings, die Reddingsdaadbond en die Afrikaanse Handelsinstituut. Breë welsyns- en liefdadigheidinstellings soos hospitale, weeshuise, droogtefondse, natuurtrusts en kerke het ook skenkings van Sanlam ontvang (SA:5/2:D4A: Donasies en Borgskappe 1942-1950). In die loop van die volgende dertig jaar (1950-1980) het dit duidelik geblyk hoe die perspektief op die bemagtiging van polishouers geleidelik soos die polishouersprofiel verander het, die konteks van die groter geheel van die Suid-Afrikaanse samelewing weergegee het. Dit was teen die middel vyftigerjare reeds duidelik dat die Armblankevraagstuk grootliks die hoof gebied is en dat die verstedelikingsproses van die Afrikaner reeds ver gevorder was. Afrikaners in die stede het begin vermeng met ander taal- en kultuurgroepe en die hoeveelheid nie-Afrikaanssprekende polishouers het begin toeneem. Die onderneming se KMB het toenemend daaraan gevolg gegee.

 

ONDERWYS, OPVOEDING EN OPLEIDING

Sonder geletterdheid is daar geen toekoms nie. Vir Sanlam was die belangrikste element van KMB 'n belegging in onderwys. Sanlam was nie die enigste organisasie wat onderwys direk gekoppel het aan die oplossing van armoede nie, maar die fokus van hierdie artikel is nie om al die rolspelers te identifiseer wat daardie mening toegedaan was nie. Dit gaan nou oor hoe Sanlam inhoud gegee het aan sy siening oor onderwys as bemagtigingsinstrument. Sanlam het oor 'n breë front onderwys bevorder. Sedert maatskappystigting is ruimskoots aan universiteite fondse geskenk vir die oprigting van spesialisfakulteite, vir biblioteke, en administrasiegeboue. In 1962 het Dr A D Wassenaar, Hoofbestuurder van Sanlam, daarop aangedring dat aan alle universiteite en sommige universiteitskolleges in Suid-Afrika befondsing toegeken sal word. Wassenaar was 'n goeie sakeman. Daar was 'n groeiende aantal Afrikaanssprekende studente wat ook aan Engelstalige universiteite gaan studeer het en daarom was dit net voor die hand liggend dat die klem op hoër onderwys sou val en nie noodwendig alleen op Afrikaanstalige universiteite nie. Sanlam het fondse bewillig aan al die Engelstalige universiteite (Rhodes, Kaapstad [uitbreidings aan die mediese fakulteit], Natal met die twee kampusse in Durban en Pietermaritzburg) en ook aan die universiteitskolleges vir swart, Indiër- en Kleurlinggemeenskappe. Hierdie ontwikkeling staan in die konteks van die groeiende ineengestrengeldheid van Afrikaanse en Engelstaliges in die stede, in die werksomgewing en in die politieke sfeer. Gedurende die sestigerjare het die regerende party aansienlik steun ook onder Engelstaliges gewen. Sanlam het natuurlik ook die swart universiteite ondersteun omdat die onderneming die rasionaal ten grondslag van die totstandkoming van daardie universiteite ondersteun het en op dieselfde wyse in onderwys ook vir daardie gemeenskappe wou belê. Sedert die sewentigerjare het die swart polishouers van Sanlam geleidelik begin toeneem en het Sanlam dus steeds die beleid gevolg om sy polishouers se belange te dien met KMB. Kort na die oprigting van die Universiteit van Port Elizabeth en die Randse Afrikaanse Universiteit het Sanlam ook daardie instellings by hulle befondsingsformule ingesluit (SA:5/2 D4A: Donasies; D4B: donasies). Hierdie skenkings is volgens 'n formule bereken soos goedgekeur deur die Direksie op 21 Februarie 1962 (SA:5/2/3: Notule van Direksievergadering 21/2/62), met voorkeur aan die twee groot Afrikaanse universiteite (Universiteit van Stellenbosch en die Universiteit van Pretoria) en daarna toekennings per formule aan die res. In sommige gevalle is spesifieke mediese navorsingsprojekte uitgesonder, soos hart-en niernavorsing deur die Universiteit van Stellenbosch se mediese skool, hartnavorsing en orgaanoorplanting deur die Universiteit van Kaapstad se mediese skool (SA:5/2:D4B: Memorandum 9/7/68; Memorandum 12/8/68). Sanlam het ook navorsing in 'n medies aanverwante veld soos wat by die WNNR se Nasionale Voedingsinstituut onderneem is, ondersteun (SA:5/2/D4B: Memorandum 12/1/68).

Geen publisiteit is aan die skenkings aan universiteite verleen nie, want ". die Bybelse opdrag (is) dat die regterhand nie moet weet wat die linkerhand doen wanneer daar liefdadigheid bedryf word nie.". Daar was egter ook 'n ander oorweging, naamlik dat Sanlam se polishouers ontevrede sou kon wees met skenkings aan sekere universiteite. Die Direksie was egter van mening dat die formulebenadering polishouers se fondse ".sorgvuldig en berekend bestee om 'n beter en sterker land vir ons en ons nakomelinge te help skep". Hierdie uitspraak dui daarop dat die bestuur van Sanlam inderdaad met "ons land" bedoel het alle mense wat daarin woon en nie uitsluitlik net Afrikaners nie. Die bestuur het, soos reeds uitgewys, inklusief oor die bevolking van Suid-Afrika gepraat. In 1968 is beleid ten aansien van skenkings aan universiteite aangepas om voorsiening te maak vir die skrapping van die formule van die verlede en dat toekomstige bydraes gemaak sou word tydens strategiese of sielkundige "oomblikke" wanneer geld ingesamel word vir 'n spesifieke doel en daardie doel Sanlam se steun verdien (SA:5/2: D4B: Memorandum aan Direksie 17/7/68). Sanlam het derhalwe sy steun aan universiteite regverdig as synde polishouers se bydrae tot die groter taak om by te dra tot die opbou van "ons land".

Sanlam het besef dat daar oorvleueling tussen sy behoefte aan gekwalifiseerde personeel en die groter onderwysbehoeftes van die gemeenskap bestaan. Dit het reeds vroeg in die vyftigerjare duidelik geword dat daar skrander leerlinge was wat nie kon bekostig om universiteit toe te gaan nie. In Junie 1953 het die direksie in beginsel besluit om deur skoolhoofde skrander leerlinge te identifiseer vir universiteitsbeurse. (Hierdie skole was hoofsaaklik blanke skole en aanvanklik was die meeste beurshouers seuns, maar later het dogters ook beurse ontvang.) Kort daarna in 1955 is skole in die Wes-Kaap en Suid-westelike Distrikte besoek om personeel te werf. Sanlam het net drie leerlinge gevind wat uitstaande in Wiskunde presteer het, wat begerig was om verdere studie in Wiskunde te onderneem en wat finansieel beswaarlik in staat was om universiteit toe te gaan. In al drie gevalle was hul vaders werknemers by die Suid-Afrikaanse Spoorweë en sou die leerlinge geen kans gehad het om verder te studeer nie. Sanlam het studiebeurse aan die drie jongelinge toegestaan, op voorwaarde van suksesvolle studie en 'n verpligte werkskontrak by Sanlam vir drie jaar (SA:5/2: B23: Beurse, Memorandum aan Direksie 25/10/55). Met hierdie begin het Sanlam daarna nog baie ander leerlinge gehelp met universiteitsbeurse, weliswaar in 'n rigting waar Sanlam hulle nodig gehad het, naamlik Wiskunde met die oog op aktuariële studies. Sanlam het later die graadrigting uitgebrei om voorsiening te maak vir studie in enige breë sakerigting (B Com). Hierdie Sanlam beursskema het uiteindelik baie gekwalifiseerde werknemers tot Sanlam se beskikking gestel, maar ook in die breër verband bygedra tot die geletterdheidsvlak van die Suid-Afrikaanse jongmense. Marinus Daling, die Uitvoerende Voorsitter van Sanlam tussen 1997 en 2001, was in 1962 'n matrikulant van Hoërskool Nylstroom wat met 'n Sanlambeurs aktuariële studie gaan onderneem het. Sedert 1962 het Sanlam ook soortgelyke beurse aan personeel beskikbaar gestel. Dit het beteken dat Sanlam belowende jongmense in diens geneem het na matriek en na enkele jare van werk by Sanlam wanneer die werknemer ryper was en sukses getoon het met privaatstudie, die geleentheid gegee is om voltyds universiteit toe te gaan (SA: B23:Beurse: Memorandum aan Direksie 17/8/62). Hierdie uiteensetting gee nie te kenne dat Sanlam die enigste versekeraar in Suid-Afrika was wat studiebeurse aan skrander jongmense toegestaan het nie - Old Mutual het dit inderdaad ook gedoen. Wat hier van belang is, is dat Sanlam die beurse beskikbaar gemaak het aan skrander leerlinge, weliswaar meestal Afrikaanssprekende leerlinge, maar nie uitsluitlik nie (O'Meara 1983:98-99; Freschi 2009:524). Die mite dat Sanlam net Afrikaanssprekendes bevoordeel het, word dus gekorrigeer.

Dit het gou duidelik geword dat dit ook nodig was om beurse toe te ken om leerlinge in staat te stel om selfs net matriek te voltooi. In 1959 is derhalwe ook begin met ' n beursskema vir leerlinge wat oor die vermoë beskik het om matriek te voltooi, maar geldelik nie daartoe in staat was nie. 'n Beurs is vir twee jaar aangebied om matriek te voltooi. Hierdie beursskema is aanvanklik net aan seuns aangebied, maar knap dogters het ook daarvoor aansoek gedoen en beurse is sedert die sestigerjare ook aan hulle toegeken. 'n Opname van Sanlam het getoon dat die behoefte die grootste in die Kaapprovinsie was, maar die skema is uitgebrei na al die provinsies. Sanlam het in samewerking met skoolhoofde, die ACVV in Kaapland, die Natalse CVV, die Oranje Vroue-vereniging in die Vrystaat en die SAVF in die Transvaal, en die Helpmekaar Studiefonds (wat meer op universiteitsbeurse gekonsentreer het), die omvang van die behoefte geïdentifiseer. 'n Beurs van £30 perjaar is toegeken en halfjaarliks uitbetaal op grond van goeie rapporte (SA: B23: Beurse: Memorandum aan Direksie,8/12/59). Voorsiening is gemaak vir 1100 beurse per jaar en in 1960 is 'n totaal van 255 matriekbeurse toegeken - 120 in Kaapland, 59 in die Vrystaat, 37 in Transvaal, 37 in Natal en 2 in Suidwes-Afrika (vandag bekend as Namibië) (SA:5/2: B23 Beurse: Memorandum aan Direksie, 29/11/60). Hierdie getalle het voortdurend toegeneem en teen 1963 was die aantal dogters wat beurse ontvang het amper gelyk aan die getal seuns - en beurse is toegeken aan Afrikaans- sowel as Engelssprekende leerlinge (SA:5/2: B23: Beurse: 19/1/63). Daar was byvoorbeeld leerlinge aan Kingsway High School in Amanzimtoti, High School Port Shepstone, Russel High School in Pietermaritzburg, Mitchell High School in Durban en Greytown High School wat matriekbeurse ontvang het (SA 5/2: Direksie D/4/A: Verslag aan Direksie, 30/11/60). Sanlam het die netwerk van Afrikanerorganisasies gebruik om die behoeftebepaling te doen. Die beter sosio-ekonomiese posisie van Engelstaliges was ook daarvoor verantwoordeik dat daar minder behoefte in daardie gemeenskap bestaan het vir matriekbeurse. Geen statistiek is gehou oor die verdeling tussen Afrikaanssprekende en Engelssprekende leerlinge wat beurse ontvang het nie, want dit was van geen wesenlike belang vir Sanlam van watter taalgroep die behoeftige leerling afkomstig was nie. Die belangrike feit is egter dat Sanlam beurse aan leerlinge van beide taalgemeenskappe toegeken het. Hierdie skema het tot in die sewentigerjare voortbestaan. Sanlam het dit beskryf as "ons unieke volksdiens, deurdat behoeftige seuns en dogters wat andersins die skool te vroeg sou moes verlaat, in staat gestel word om tot nuttige burgers te ontwikkel" (SA: B23: Beurse: Skoolbeurse, 15/11/65).

Tydens die Tweede Wêreldoorlog was nie-militêre bouprojekte regoor die hele land skaars en na die oorlog toe die skoolbouprogram hervat is, was skoolsale nie 'n prioriteit nie. Sekere skole het Sanlam genader om hulp met die bou van skoolsale en Sanlam het dit in beginsel ondersteun. Die voorwaarde waarop Sanlam sodanige skenkings sou maak, was dat die saal die "Sanlamsaal" genoem moes word en dat die Superintendent van Onderwys goedkeuring moes verleen. Enkele skole in die Wes-Kaap het die aanbod met ope arms aanvaar, maar in die ander provinsies was daar sterk teenkanting daarteen (SA:5/2: D4A: Donasies aan skole 14/5/54). Daar was gewis 'n bemarkingsdoelwit ingesluit by hierdie inisiatief - dit is die hele rasionaal daaragter om 'n naam aan openbare geboue te koppel. (Die hele naamsveranderingsindroom na 1994 onderstreep hierdie saak.) Die teenkanting teen die koppeling van Sanlam se naam aan skoolsale was die gevolg van die standpunt van sekere onderwysleiers dat verskillende belangegroepe in skole saamgevloei het. Identifikasie met een entiteit sou verdeeldheid onder die ouergemeenskap kon veroorsaak, veral omdat Old Mutual, die groot mededinger van Sanlam, ook 'n enorme voetspoor onder Afrikaanssprekendes gehad het. Dit was dieselfde geval van verdeelde sentiment tussen Afrikaanssprekendes wat by Standard Bank of Barclays Bank banksake gedoen het en diegene wat sake gedoen het met Volkskas.

Sanlam het wel deur middel van die sogenaamde Goeie Hoop Koshuise (GHK) 'n groot bydrae gelewer om huisvesting aan leerlinge in landelike gebiede te verleen en sodoende onderwys te bevorder. Die skema het die volgende behels: die Provinsiale Administrasie kon nie bekostig om koshuise te bou waar dit in landelike gebiede benodig is nie. Sanlam het lenings vir die bou van koshuise aan gemeentes van die NG Kerk toegestaan in die vorm van skuldbewyse, gewaarborg deur die Provinsiale Administrasie. Die waarborgskema het voorsiening gemaak vir die uitreik van 'n waarborg vir die skuldbewys, met dien verstande dat by die finale aflossing van die hoofsom van die lening plus die rente daarop, die transport van die eiendom (grond en die gebou) na die provinsiale administrasie oorgaan. In werklikheid het die kerkgemeentes oor grond beskik waarop 'n koshuis gebou kon word, maar het nie oor die fondse beskik om dit te bou nie. Die Sanlamlening het dan die bouproses moontlik gemaak en die gemeentes het begin om rente daarop geleidelik te delg. Na verstryking van die leningsperiode (gewoonlik 25 jaar), het die Provinsiale Administrasie die uitstaande bedrag op die skuldbriewe afgelos en is die transportakte ten opsigte van die eiendom (die GHK) aan die Provinsiale Administrasie oorgedra (SA:3/1/3/2: Lenings koshuise A, B).

Daar was twee waarborgskemas van die Provinsiale Administrasie. Tussen 1953 en 1959 is skuldbriewe ten opsigte van 25 GHK ter waarde van £1 222 575, teen heersende rentekoerse aan NG gemeentes toegestaan. GHK is gebou op die volgende dorpe: Calitzdorp, Williston, Douglas, Murraysburg, Riviersonderend, Touwsrivier, Malmesbury, Alexandria, Ladismith, Niekerkshoop, Villiersdorp, Prins Albert, Molteno, Sterkstroom, Clanwilliam, Loeriesfontein, Stella, Vryburg-Wes, Namakwaland, Reivilo, Kakemas, Mafeking, Caledon, Stella en Ugie. Die meeste GHK was dus op die Kaapprovinsie se platteland, waar die behoefte groot was om leerlinge uit die uitgestrekte landelike gebiede gereeld by skole te kry. Teen die laat 1960s het van die gemeentes probleme ondervind om die verskuldigde rente terug te betaal en is verdere skuldbriewe uitgereik. Die Provinsiale Administrasie het uiteindelik in 1973 besluit om die uitstaande leningswaarborge af te los aangesien van die gemeentes nie hulle verpligtinge teenoor Sanlam kon nakom nie. Teen 1975 het die Provinsiale Administrasie die skuldbriewe van gemeentes wat nie verder hulle verpligtinge kon nakom nie, by Sanlam afgelos (SA:3/1/4/2: Brief Provinsiale Administrasie Sanlam Beleggings 10/3/75). Ander gemeentes het selfs nog tot in 1978 die laaste skuldbriewe afgelos, byvoorbeeld Kakemas, Prins Albert, Clanwilliam en Molteno. Op hierdie wyse het Sanlam se KMB koshuisinwoning aan 2 270 leerlinge (dit is die totale kapasiteit van die opgerigte koshuise op die stadium van oprigting - wat natuurlik jaarliks kon roteer namate leerlinge skool voltooi het) verseker en bygedra tot onderwysvoorsiening aan die breë gemeenskap. Polishouers het markverwante opbrengs op hul beleggings verdien en Sanlam het lenings toegestaan waarvoor die kerke nie by banke sou kwalifiseer nie. Op 'n eng siniese vlak sou aangevoer kon word dat die leerlinge potensiële polishouers was en dat Sanlam die lenings toegestaan het as 'n bemarkingsoefening, maar die siening maak nie voorsiening daarvoor dat leerlinge na skool aan baie meer as net Sanlam se versekeringsvoorstelle bekendgestel kon word nie. Hierdie skemas verteenwoordig wel in die tydperk toe dit aangebied is, 'n uitsonderlike vorm van gemeenskapsdiens en 'n unieke vorm van KMB in Suid-Afrika. Dit getuig van die noue verbintenis tussen die onderneming en die breër behoeftes van die gemeenskap verteenwoordig deur sy belanghebbendes, in hierdie geval sy polishouers. Die GHK het inderdaad die breë gemeenskap gedien. Jongmense met goeie skoolopleiding verhoog die waarde van menslike kapitaal waardeur die hele samelewing bevoordeel word.

Verskeie ander ad hoc versoeke tot Sanlam om onderwys, opleiding en studie te ondersteun, is gereeld met gunstige gevolg beantwoord. Die South African Council for English Education (SACEE) het Sanlam versoek om te help met die befondsing van die onderrig van Engels en dit is toegestaan by verskeie geleenthede (SA: 5/2/D4: Donasies SACEE brief 6/6/61; Brief H G Beak Sanlam 13/6/63). Fondse is bewillig vir die Van Riebeeck Skool by Thompsons Falls in Kenia waar Afrikaanssprekende kinders skoolgegaan het (SA5/2: Brief Van Riebeeck Skool 19/3/57). Fondse is bewillig aan die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir verskillende projekte soos die vaktaalwoordeboek vir die versekeringswese en vir Ekonomie en Handel, en by herhaling vir die Wiskunde Olimpiade vir skole, maar ook dikwels aan die Helpmekaar Studiefonds. Sedert 1980 is fondse aan die Universiteit van Wes-Kaapland bewillig vir die oprigting van 'n Wiskunde leerlaboratorium. Daar is ook beurse tot die beskikking van Kleurlingonderwysers wat hulle kwalifikasies in Wiskunde wou verbeter, gestel (SA/S.17: Skenkings 1980-1989). Die reikwydte van hierdie betrokkenheid het onmiskenbaar die grense van die direkte Sanlam polishouersgemeenskap oorskry, maar het inderdaad die oorkoepelende oogmerk van Sanlam gedien, naamlik om die vooruitgang van die hele land te bewerkstellig deur die verhoging van die kwaliteit van menslike kapitaal. Bemagtiging deur onderwys was die vervulling van die rentmeesterskap van Sanlam, 'n roeping om te verwesenlik in belang van die hele land.

 

VIR "VOLK", VADERLAND EN BARMHARTIGHEID

Sanlam se vaderlandsgebondenheid was uit die staanspoor 'n faktor wat in bemarking gebruik is om landsburgers oor te haal om polisse by Sanlam te koop. Die "volk" waarna hier verwys word, is reeds verduidelik - dit verwys na die mense wat in die land woon en die land as hulle eerste lojaliteit aangeneem en gedien het. MacDowall het saam met die patriotiese Afrikaners "Suid-Afrika Eerste" as leuse van Sanlam gebruik. Dit het geensins beteken dat slegs ondersteuners van die Nasionale Party in die visier was nie, maar Sanlam wat die land eerste gestel het, in teenstelling met buitelandse versekeringsmaatskappye wat hulle verdienste gerepatrieer het na buitelandse aandeelhouers. Sanlam wou spesifiek bewerkstellig dat die verdienste op polishouersfondse in die land bly. Sanlam het derhalwe inisiatiewe wat die beeld van Suid-Afrika bevorder of in perspektief stel, ondersteun. In hierdie opsig word onder andere verwys na Sanlam se steun aan die Maatskappy vir Europese Immigrasie (MEI) wat sedert 1948 die vestiging van Europese immigrante gefasiliteer het om geskoolde en kundige mannekrag na die land te bring (SA 5/2/D4 A Donasies Memorandum 14/1/54; SA:5/2/3 Memorandum Direksie vergadering 25/2/62). Hoewel die MEI voorkeur verleen het aan immigrante van protestantse afkoms, waarby Sanlam potensieel aanklank sou kon vind, was die motief van Sanlam se ondersteuning geleë in die voordeel wat geskoolde arbeid vir die landsekonomie kon hê. Beter ekonomiese aktiwiteit moes inderdaad Sanlam bevoordeel - hoe groter die welvaart, hoe groter die vraag na bestaansbeveiligingsvoorsiening. Verskeie liefdadigheidsorganisasies het gereeld 'n simpatieke oor by Sanlam gevind - die Burger-Strandhuis, die Transvaler, Volksblad en die Burger se kersfeesfondse, verskeie kerkgenootskappe, die Rotariërbeweging, skole vir blindes en vir dowes, die SA Noodhulpliga, die Westelike Provinsie Gemeenskapskas, die WP Raad vir Aftrede en die SA Raad vir Bejaardes (SA/5/3/2: memorandum aan Direksie 28/1/70).

Om gevolg te gee aan die veranderende polishouersprofiel het Sanlam oor 'n baie breë front aan nasionale belangegroepe hulp verleen. Die polishouersprofiel het reeds teen die sestigerjare verander deurdat die verskille tussen Afrikaanssprekendes en Engelssprekendes baie vervaag het, sosiale en bloedvermenging toenemend plaasgevind het en politieke verdelings begin vervaag het. In die verkiesing van 1966 het die Nasionale Party 'n groot swaai in sy guns weg van die Verenigde Party ondervind. Tydens die Tweede Ekonomiese Volkskongres van 1950 is verklaar dat die doelwitte van die Eerste Volkskongres grootliks verwesenlik is, met die gevolg dat die aanvanklike klem op die armoedeverligting plek gemaak het vir 'n appèl op hoogsgeskoolde persone van verskillende taal- en politieke verbintenisse. Teen 1950 het die persentasie Afrikaanssprekendes in professionele beroepe van 22% in 1936 toegeneem tot 44,4% in 1950; Afrikaanssprekendes in die staatsdiens het afgeneem van 59% tot 50%, terwyl Afrikaanssprekendes in die handel toegeneem het van 22% na 30% (FAK 1950:46). Die belangrikste maatstaf vir KMB in die toekoms, was soos A D Wassenaar in 1958 aangedui het, die direkte finansiële belang vir Sanlam by die saak waarvoor die skenking aangevra word, maar ook of die saak in belang van die versekeringsbedryf was (SA:5/2D4A: AD Wassenaar memorandum 1/12/58). Die direkte finansiële belang vir Sanlam was daarin geleë dat 'n beter opgeleide bevolking meer ekonomies onafhanklik sou wees en opgevoed sou wees tot verantwoordelikheid vir die instandhouding en uitbouing van daardie selfstandigheid. Sanlam het dan in sy produkbemarking klem geplaas daarop dat die verskillende produkte aangebied, middele in die hande van landsburgers plaas waardeur daardie doelwitte verwesenlik kon word. Die motivering van KMB vir Sanlam was dus nie alleen maar geleë in goeie dade om die reg om besigheid te doen te verdien nie, of om beter werksomstandighede vir sy werknemers te voorsien nie (dit alles wel, maar nie uitsluitlik nie), maar om juis die impak van owerheidsinmenging in die ekonomie, soos gepropageer deur Keynes, teen te werk. Sanlam wou Suid-Afrikaners bemagtig om ekonomies selfstandig te word en agentskap te neem van hulle toekoms. Natuurlik sou Sanlam direkte finansiële voordeel daaruit trek - sy produkte sou in aanvraag wees - maar die groter doel van die ontwikkeling van Suid-Afrika en 'n groter aandeel deur Suid-Afrikaners self in hulle ekonomie teenoor die buitelandse oorheersing van die verlede, sou daardeur gedien word.

Wanneer die belangegroepe waaraan Sanlam onder die kategorie "kultureel/politiek/ekonomie" skenkings verleen het tot aan die einde van die sewentigerjare, ontleed word, is die groter vereenselwiging van Sanlam met die breë Suid-Afrikaanse gemeenskap duidelik. Om die land se beeld te bevorder toe die land internasionaal onder skoot gekom het vanweë die binnelandse beleid van afsonderlike ontwikkeling, is steun verleen aan die SA Stigting7 by wyse van lidmaatskap asook deelname aan die Raad van Direkteure daarvan. Net in een geval is in die buiteland fondse bewillig vir die South African Society in Londen onder die leiding van Blyth Thompson, wat feite oor die land gebalanseerd weergee (SA 5/2: D4B: Memorandum 5/9/64). Sanlam het die publikasie "300 jaar nasiebou" help borg, publikasies van die UP Regsfakulteit "Praelectiones", die Bybelgenootskap, die Gesinskongres, die Afrika-Instituut, die Rhodesian Promotion Council, die Stigting vir Onderwys, Wetenskap en Tegnologie, kunsfeeste en 'n verskeidenheid Afrikaanse kultuurorganisasies. Hier word verwys na die FAK, die ATKV, die Nasionale Raad vir Volksang en Volkspele, die AHI en die Nasionale Jeugraad van die FAK. Sanlam het selfs die Suid-Sotho ampstaf geborg. Elk van hierdie versoeke om finansiële ondersteuning is vertolk binne die konteks van Suid-Afrika sedert die begin sestigerjare. Dit was 'n land wat toenemend aan internasionale kritiek oor die binnelandse beleid van afsonderlike ontwikkeling onderwerp is, maar ook 'n land waarin die verskillende gemeenskappe op soek was na bestaansreg en 'n toekomsvisie. Die South African Society in Londen het probeer om die internasionale negatiwiteit teen die land teen te werk, terwyl die Rhodesian Promotion Council probeer het om die perspektief van Rhodesiërs te vertel. Sanlam het ook takke in Rhodesië gehad en dit was te verstane dat die maatskappy sou probeer om stabiliteit daar te bestendig. Kultuur- en wetenskaplike organisasies is ondersteun omdat hulle deel uitgemaak het van die maatskappy se fokus op opheffing, onderwys en volkstrots.

'n Wye verskeidenheid historiese monumente en gedenkfondse het Sanlam se steun gekry, byvoorbeeld die restourasie van die Langenhovenhuis "Arbeidsgenot", die Hertzogmonumentfonds, die Jan Smuts inheemse gedenktuin, die D F Malan gedenkfonds, die H F Verwoerdfonds, die oprigting van die Gedenkkerk in Pietermaritzburg, die Duitse Setlaars Eeufeeskomitee, die instandhouding van die Van Riebeeckhuis in Culemborg (Nederland), die restourasie van die Krugerplaas, die Hugenote Gedenkmuseum in Franschhoek, die Stigting Simon van der Stel, die Ierse Kommandogedenktuin, die 1820 Setlaars Monumentekomitee en die T E Dönges Studiefonds (SA 5/2/3: Memorandum Direksie 7/12/77). Hoedanig Sanlam homself met die verskillende kultuurgemeenskappe vereenselwig het, spreek uit die verduideliking vir die KMB met die 1820 Setlaarsmonument: "In Pretoria is die Voortrekkermonument en op Franschhoek die Huge-notemonument.In Oos-Londen is 'n monument ter ere van die Duitse immigrante wat hulle aandeel in die republiek se geskiedenis in herinnering roep.. .met hierdie poging wil die komitee die belangrike bydrae van die 1820 Setlaars in die Republiek se geskiedenis in gedagte bring" (SA /5/2 D4B: Memorandum 12/8/68). By ander geleenthede is bydraes tot Afrikaner monumente van die hand gewys, bv die bou van 'n muur om die Bloedriviermonument of die restourasie van kampkerkhowe. Alle sake van Afrikaner kultuurbelang het dus nie noodwendig Sanlam se steun geniet nie. Die redes waarom versoeke van die hand gewys is, was wanneer die versoeke nie direk verband gehou het met die oorkoepelende fokus op onderwys en bemagtiging nie of dat die versoek verband hou met ander sake wat reeds ondersteuning ontvang het.

Van belang is egter dat Sanlam sy KMB vertolk het as 'n integrale deel van die maatskappy se doelwit, naamlik om deur die verrigting van sy primêre doel die beste moontlike opbrengs vir polishouers te bewerkstellig, ook by te dra tot die groei van die landsekonomie. Dit was die beste manier waarop die versekeringsbesigheid suksesvol bedryf kon word. Hoewel welsynsdiens gelewer is met skenkings aan projekte ten bate van behoeftige mense, was die oorheersende klem op KMB vir samelewingsbemagtiging deur onderwys, opleiding en opvoeding. Die volhoubaarheid van Sanlam as lewensversekeraar is dus afhanklik gestel van goeie besigheid doen. Borgskappe en donasies het wel die openbare beeld van die maatskappy gebou, maar as onderlinge versekeraar moes in die eerste plek verseker word dat polishouers se beleggings groei. Indirek het gelukkige mense, gemeenskappe ofbelangegroepe bygedra tot die ekonomiese vooruitgang van 'n samelewing. Ten einde aan samelewings geluk of tevredenheid te bewerkstellig was Sanlam se KMB wyer verspreid as net sy polishouersbasis. Teen die begin van die 1980s was baie van die aanvanklike doelwitte verwesenlik en was die tyd geleë om die maatskappy se KMB in heroorweging te neem.

 

KONTEKS EN VERNUWING

Teen die begin van die sewentigerjare het die binnelandse omstandighede geleidelik begin verander. Toenemende druk is deur die opposisie op die regering van die dag geplaas om die politieke bestel te verander om die bevolkingsgroepe wat nie in die parlement verteenwoordig was nie, groter deelname aan die wetgewende proses toe te laat. Met die Soweto-onluste van 1976 en die voortslepende geweld wat aanleiding gegee het tot die afkondiging van 'n noodtoestand in die land, en weer eens in 1986, was dit duidelik dat die samelewing waarin Sanlam opgetree het, grondig verander het. Sanlam het sedert 1918 polishouersbelange vooropgestel in die besluite oor KMB. Die KMB programme vertoon juis aanpasbaarheid by veranderde omstandighede in die land. Enersyds het Sanlam se polishouersprofiel verander en andersyds het Afrikaanssprekendes met aanvanklike sukses die ekonomie as aandeelhouers met wie rekening gehou moes word, betree. Teen die laat sewentigerjare is reeds redelike sukses behaal met die uitwissing van armoede onder verstedelikte Afrikaners. Afrikaners se verworwe ekonomiese staanplek teen 1975 was aansienlik sterker as aan die begin van die eeu. Teen 1975 het Afrikaners 38% van persone in die professies uitgemaak, teenoor 16% in 1948. Afrikaners het hulle beheer oor die privaatsektor ekonomie verstewig van 9,6% in 1948 tot 27% in 1975. Wanneer die landbousektor uitgesluit word, was die algehele posisie van Afrikaners in die ekonomie 9,6% in 1948, maar het verstewig tot 20,8% in 1975 (Sadie 2002:28). Met verdrag het Afrikaners as ondernemers 'n plek in die stedelike sake-omgewing ingeneem. Die omset van Afrikaners se sake-ondernemings was 8% van totale handelsomset in 1948, maar het toegeneem tot 25% van omset in die handel teen 1975. Die gemiddelde omset van Afrikaner sake-belange was 5% van totale omset in Suid-Afrika, maar teen 1975 was die gemiddelde posisie reeds 11% (Sadie 2002:28). Hoedanig die veranderde polishouersprofiel daar uitgesien het, is hierbo na verwys. In Januarie 1980 is die Direksie se beleid ten aansien van donasies en borgskappe hersien.

Daar het by Sanlam 'n gewaarwording ontstaan dat ".donasies geneig was om ietwat handuit te ruk" en daarom is "die skroewe aangedraai". Dit het daartoe gelei dat die globale bedrag van donasies wat gemiddeld 0,16% van jaarlikse premie-inkomste beloop het tussen 1965 en 1969, daarna afgeneem het na 0.05% jaarliks tussen 1973 en 1979 (SA 5/3/2; Direksienotule 23/1/80). Daar is vir die eerste keer besluit om 'n kwantitatiewe verband tussen donasies en besteding aan borgskappe en die groei in premie-inkomste by die jaarlikse begroting in te voer. Die kwantitatiewe maatstaf is tussen 0,05% en 0,1% van jaarlikse premie-inkomste neergelê. Die Direksie het besluit om voorkeur te verleen aan ad hoc toekennings en dat skenkings groter as R10 000 deur die Direksie goedgekeur moes word. Die klem moes val op aktuele projekte, d.w.s projekte wat aan Sanlam groot mediadekking sou verleen; projekte met 'n karakter wat Sanlam se beeld ten goede sal strek en waarmee die maatskappy kan identifiseer. Projekte moes ook die volle ondersteuning geniet van die oorkoepelende beheerliggaam onder wie se beskerming dit val. Oorkoepelend moes voortgesette KMB die beeld van Sanlam bevorder en terselfdertyd markbereiding bewerkstellig. Die bou van die maatskappy se beeld moes Sanlam altyd in staat stel om sy "verpligting teenoor die gemeenskap in die algemeen na te kom" (SA 5/3/2: Direksienotule 23/1/80).

Die nuwe beleid was slegs "nuut" in soverre 'n kwantitatiewe maatstaf neergelê is. Verder het die fokus op sake van landsbelang en breë samelewingsbelang in plaas van beperkte seksionele belange, steeds gegeld. Die onderskeid is hier nie tussen Afrikaans of Engels nie, maar tussen klein groepies wat beperkte seksionele belange bevorder het (bv. nie die bou van 'n muur om die Bloedriviermonument nie, maar wel vir die Nasionale Raad vir Historiese Monumente). Sanlam het steeds barmhartigheidsdiensorganisasies ondersteun, aan ondewys en opleiding hoë prioriteit verleen, verskeie kultuursentra in die swart state ondersteun (en dit beteken nie blanko steun vir die regering se beleid van Swart Tuislande nie), mediese navorsing oor 'n breë front gehelp en musiek en letterkunde in 'n groot verskeidenheid kontekste bevorder (SA S. 17a: Borgskappe). Met die aanbreek van televisie uitsendings teen die laat 1970s, het sport al groter publisiteit geniet en Sanlam het sportborgskappe as 'n uitstekende werktuig gesien om sy doelwitte te verwesenlik. Die beleid was om slegs sportsoorte waarmee Sanlam geassosieer wou wees, soos sogenaamde "skoon" sport te borg, d.w.s sportsoorte soos atletiek en gimnastiek. Die rede vir die keuse van beide gimnastiek en atletiek was dat Sanlam nie kontaksport wou borg nie.

Sanlam se finansiële sukses het ingevolge die kwantitatiewe KMB formule 'n geweldige toename in besteding aan KMB sedert 1980 bewerkstellig. Hoewel die bestek van die artikel die einde van die sewentigerjare is, word hierdie finansiële inligting verstrek om aan te dui hoe die konteks verander het wat Sanlam in die periode na 1980 sou bring by 'n herbesinning oor KMB. Totale besteding aan KMB het tussen 1980 en 1989 met 1204% toegeneem (bereken volgens nominale toename in Sanlam se verdienste - syfers is nie aangepas vir inflasie nie, maar stel die nominale posisie) teenoor besteding in die 1970s, d.w.s tussen 1970 en 1979. In 1986 het Sanlam vir die eerste keer meer as R1 miljoen aan KMB bestee (SA 5/3/2: Direksienotule 22/1/86). Die groot veranderlike was die verandering in die polishouersprofiel en die verbetering in Sanlam se markaandeel. Tussen 1970 en 1980 het Sanlam se markaandeel van 21% toegeneem tot 27% (SA: 5/3/2 Direksienotule 18/11/81), maar teen die middel 1980s was dit reeds op 28% (SA: 5/3/2 Direksienotule 18/2/87). Die versterking van Sanlam se markaandeel was grootliks die gevolg van nuwe produkontwikkeling en beter markindringing. Binne die volgende dekade, dus sedert die 1990s, het die sosio-politieke omgewing sodanig verander dat politieke determinante toenemend die vrywillige maatskappyinkleding van KMB beïnvloed het. Die groter klem op die openbare reputasie van ondernemings in korporatiewe sosiale verantwoordelikheidsprogramme, het die konteks waarin Sanlam sy betrokkenheid by die gemeenskap uitoefen, verander.

 

SLOTSOM: MAATSKAPPY EN GEMEENSKAP

Sanlam het deur sy bepaalde benadering tot KMB gewys dat suksesvolle betrokkenheid by die gemeenskap gesetel is in 'n direkte belang tussen eienaarskap van die onderneming en die prestasie van die onderneming. KMB is kunsmatig indien dit ekstern deur 'n politieke magshebber statutêr afgedwing word. In die geval van Sanlam het die bestuur van die onderneming die belanghebbendes van die onderneming (in hierdie geval polishouers, maar in ander gevalle kan dit aandeelhouers wees), saamgeneem op die pad van die onderneming se groei. Die maatskappy het polishouers se belange vooropgestel en sy KMB was daarop gemik om polishouersbelange optimaal te bevorder, aangesien dit op die lange duur in belang van die hele land sou wees. Natuurlik was dit ook in belang van Sanlam se besigheid, maar dit word juis uitgewys hoe Sanlam sy "roeping" teenoor diegene wie se opheffing die maatskappy wou bewerkstellig, terselfdertyd vertolk het om alle Suid-Afrikaners in te sluit. Sanlam het wel vir 'n redelike periode die regering van die dag ondersteun, maar het veral teen die sewentigerjare krities begin staan teenoor aspekte van owerheidsbeleid. Die regering het nie by wyse van wette enige vorm van sosiale verantwoordelikheid op die versekeringsbedryf of Sanlam afgedwing nie. KMB was 'n aksie om polishouers se belange te dien, goeie besigheid te doen en uiteindelik by te dra tot die groter ekonomiese vooruitgang van die land. In hierdie strewe was dit nie net Sanlam wat sodanig opgetree het nie. Die verskil was dat Sanlam 'n duidelike opheffings- en bemagtigingstaak vir homself opgelê het en dit sodanig ten uitvoer gebring het dat dit nooit ander belangegroepe of kultuurgroepe uitgesluit het nie. Hierdie bydrae dui juis daarop dat dit 'n ernstige oorvereenvoudiging is om aan te voer dat Sanlam uitsluitlik 'n maatskappy was wat net na die belange van Afrikaners omgesien het. Namate sosiale en politieke toegeneentheid tussen volks- en taalgroepe in die land versag het sedert die sestigerjare, het Sanlam se polishouerprofiel meer opmerklik verander. Sanlam se KMB was aanpasbaar en het daarby aangesluit. Die belangrike punt is egter dat Sanlam sy polishouers se belange in ag geneem het en KMB geïmplementeer het op sodanige wyse dat dit terselfdertyd ook die groter Suid-Afrikaanse samelewing tot voordeel gestrek het.

Teen die laat sestigerjare is baie van die oogmerke van die Afrikanerleiers wat betrokke was by die totstandkoming van Nasionale Pers, Santam en Sanlam reeds bewaarheid. Reeds ten tye van die Tweede Ekonomiese Volkskongres in 1950 is verslag gedoen dat die geweldige armoedetoestand van Afrikaners grootliks verlig is en dat die vlak van onderwys sodanig verbeter het, dat mense toenemend vir hulself kon sorg (FAK 1950). Hier word spesifiek verwys na die rol van die inisiatiewe van die Eerste Ekonomiese Volkskongres saam met Nasionale Pers, Sanlam, Santam en die Reddingsdaadbond (RDB), een van die inisiatiewe van die Ekonomiese Volkskongres van 1939. Hierdie inisiatiewe het nie die probleem volkome uit die weg geruim nie - daar was steeds groot behoefte aan studiebeurse en daarom het Sanlam sedert die 1950s doelgerig daardie veld betree. Natuurlik het Sanlam daarby gebaat om goed opgeleide werknemers in diens te kon neem, maar dit was hoegenaamd nie die enigste voordeel van die projekte nie. Die groter samelewing het gebaat by opgeleide mense, en sommige van hulle het nooit eers vir Sanlam gaan werk nie -dan was daar dus ook ander werkgewers wat die voordeel getrek het. Dit was Sanlam se oogmerk om ekonomiese selfstandigheid te bewerkstellig deur mense op te voed tot die rol van lewensversekering en ander sosiale sekuriteitsprodukte, soos pensioenskemas, waardeur hulle bemagtig kon word om na hulself te kan omsien. Teen die einde van die sewentigerjare het Afrikaners reeds hulle relatiewe aandeel in die Suid-Afrikaanse ekonomie verhoog (Sadie 2002:28). Dit was die oogmerk van Sanlam - ekonomiese bemagtiging en dit deur middel van selfbemagtiging. Sanlam het saam met ander organisasies deelgeneem aan die ekonomiese bewusmakingsaksies wat voortgespruit het uit die Ekonomiese Volkskongres van 1939 (Verhoef 2006a), maar dit het maar een aspek verteenwoordig van ekonomiese selfstandigmaking. Die tweeledige strategie van maatskappyvorming en besigheid bedryf aan die een kant en aan die ander kant die bemagtiging van afhanklike mense om selfstandig te word en sodoende die hele land se vooruitgang te bevorder, was die innoverende aspek van Sanlam se KMB. Sanlam het deur sy betrokkenheid by sy polishouers wat die hele spektrum van samelewingsgroeperinge verteenwoordig het, 'n bydrae gelewer om sy langtermyn doel te verwesenlik. Die belangrike perspektief is dat Sanlam nooit eksklusief was nie en nooit mense uitgesluit het wat nie Afrikaanssprekend was nie. Die politieke verdeling in die Suid-Afrikaanse konteks, wat direk gespruit het uit die wedywering tussen Afrikaanssprekendes en Engelssprekendes, by uitstek verdiep deur die Tweede Vryheidsoorlog en vererger deur die wydverspreide armoede wat daarop gevolg het, het onvermydelik daartoe meegewerk dat 'n breë konsentrasie van een groep aanklank gevind het by die meer Engels georïenteerde versekeringsmaatskappye, en ander, veral Afrikaanssprekendes, doelbewus geteiken is deur ander maatskappye. Dit was die ekonomiese selfstandigheid van sy polishouer, ongeag van watter volksgroep (dit beteken behorende aan 'n bepaalde volk, hetsy Zoeloe, Tswana, Afrikaner, Duits, Frans, Italiaans ens.), sosio-ekonomiese stratum of taaloriëntasie hulle was. Hierdie maatskaplike betrokkenheid was nie alleenlik of uitsluitlik op een groep van die Suid-Afrikaanse samelewing afgestem nie, maar die begrip "Afrikaner" is wyd geïnterpreteer om alle mense in te sluit wat hulle met die lotgevalle van die land vereenselwig het. Die maatskappy is ook nie uitsluitlik gedryf deur winsbejag nie, maar ook deur die groter voordeel van die hele land. Wins voer 'n voordeel vir die hele land in en die voordeel vir die hele land besorg uiteindelik groter wins - so was hierdie oorwegings vervleg. Dit was 'n situasie van groei vir die land, want dan kon Sanlam ook groei - en per slot van rekening, ook alle ander ondernemings. Die sterk klem op "ons land" was juis gemik op ander versekeringsmaatskappye wat in die buiteland geregistreer was en dividende aan buitelandse aandeelhouers uitbetaal het. Die sukses van die onderneming het dus nie optimaal die land bevoordeel nie. Sanlam was 'n onderlinge maatskappy en alle verdienste op beleggings en openbare blootstelling het polishouers toegekom. Of Sanlam die beste opbrengs behaal het, is 'n ander debat, maar die maatskappy se KMB was 'n integrale deel van die stigters se oogmerk, naamlik om Suid-Afrika se ekonomie te versterk en Suid-Afrikaners te bemagtig om 'n groter deel daarvan self te besit en te bestuur.

Lank voordat daar enige statutêre voorskrifte met betrekking tot KMB was, het Sanlam vanweë die "rentmeesterskap" en "diensvaardigheid" van die onderneming KMB geïmplementeer. Dit het die vorm aangeneem van filantropiese welsynshulp, maar by uitstek was dit bemagtigingstrategieë om die breë Suid-Afrikaanse samelewing te dien. Die verwysing van "volk" het in die vestigingsjare van Sanlam 'n baie breër konnotasie gehad wat gedui het op Suid-Afrikaners, in teenstelling met buitelanders. Wassenaar het besef dat daar 'n bepaalde vertrouensverhouding tussen Sanlam en sy polishouers bestaan het, want hy voer aan "...'n baie groot deel van Afrikaners het Sanlam beskou as 'hulle ' maatskappy, wat in teenspoed ondersteun moet word en in voorspoed vertrou moes word" (Fakkel, Junie 1968:4). M S Louw het tydens die halfeeufees van Sanlam verklaar: "Sanlam behoort aan Suid-Afrika" (Fakkel, Junie 1968:9). So was die maatskappybestuur bewus van die verbintenis met Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners, maar het dit altyd beklemtoon dat die maatskappy daar was om Suid-Afrika te dien.

Sanlam het weliswaar 'n meerderheid Afrikaanssprekende polishouers gehad, en Afrikaanse kultuuraksies ondersteun, maar die maatskappy het sedert maatskappystigting oor die hele spektrum van die samelewing sy maatskappybeleid konsekwent toegepas. Dit was deurgaans beleid dat die Suid-Afrikaanse samelewing uiteindelik moes baat by Sanlam se KMB en nie 'n beperkte seksionele belang alleenlik nie. Afrikaanse en Engelse kultuurinisiatiewe is ondersteun, die 1820 Setlaarstigting het by herhaling steun van Sanlam gekry, net soos die FAK. Engelse sowel as Afrikaanse leerlinge het gebaat by matriekbeurse, by universiteitsbeurse en by die GHK. Die omvattende skenkings aan universiteite het alle studente wat aan daardie universiteite studeer het, tot voordeel gestrek, asook al die werkgewers wat hulle uiteindelik in diens geneem het. Die bydrae van hierdie artikel is dat dit daarop wys dat KMB, oftewel korporatiewe sosiale verantwoordelikheid soos dit tans genoem word, alleenlik suksesvol kan wees as drie voorwaardes nagekom word. Die aksies moet 'n direkte verwantskap tussen maatskappy en samelewing vergestalt. Verder moet daardie aksies wesenlik bemagtigend wees en nie bloot 'n beeldbou bemarkingsaksie verteenwoordig nie. Dit beteken dat daar blywende vaardigheidsoordrag moet wees, daar moet inherente waarde oorbly waarmee toekomstige voordeel bewerk kan word. In die laaste geval behoort sodanige aksies uit innerlike oortuiging te vloei en nie statutêr voorgeskryf en afgedwing te word nie. Onder sodanige omstandighede is die egtheid van die aksies onder verdenking en loop dit gevaar om kosmeties en nie fundamenteel van aard te wees nie. Indien dit die geval is, is polishouers of aandeelhouers se geld verkwis. Sanlam het sy KMB tussen 1918 en 1980 vertolk as deel van sy "rentmeesterskap" teenoor polishouers. Daar was deurentyd die verband tussen polishouers en KMB en Sanlam het daarin geslaag om die maatskappy se doelwitte te verwesenlik deur goeie bestuur en KMB.

 

BIBLIOGRAFIE

Sanlam Argief (SA):

SA 5/2/1/; Jaarverslae, 1918 - 1970.

SA.6/5/1: Bezuidenhout, A J (1961) 'Sanlam as bron van inspirasie'. Referaat gelewer 18 Januarie 1961.         [ Links ]

SA 5/2.D4A Donasies, 1940 - 1962.         [ Links ]

SA 5/2 D4B Donasies, 1963 - 1972.         [ Links ]

SA B23 Beurse.

SA 3/1/3/2: Lenings Koshuise A-B.         [ Links ]

SA.S.17 Skenkings 1980 - 1989.         [ Links ]

SA 5/3/2 : Direksienotules, 1918 - 1990.         [ Links ]

Bebbington, J. 1997. Engagement, education and sustainability: a review essay on environmental accounting. Accounting, Auditing and Accountability Journal, 10(3):365-381.         [ Links ]

Branco M C & Rodriques, L. L. 2008. Social responsibility disclosure: A study of proxies for the public visibility of Portuguese banks. British Accounting Review, 40:161-181.         [ Links ]

Cameron, R 1993. A Concise Economic History of the World. From Paleolithic times to the present. Second Edition. New York: Oxford University Press.         [ Links ]

Cannon, T. 1994. Corporate Responsibility: A textbook on Business Ethics, Governance Environment, Roles and Responsibility. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Carroll, A B. 2008. A History of Corporate Social Responsibility, in The Oxford handbook of Corporate Social Responsibility. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

DiMaggio, P. J., & Powell, W. W. 1983. The iron cage revisited: Institutional isomorphism and collective rationality in organizational fields. American Sociological Review, 48(2):147-160.         [ Links ]

Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings: verslag van die tweede Ekonomiese Volkskongres (1950). Ekonomiese Instituut: Bloemfontein.         [ Links ]

Frederick, W. C. 1960. The Growing Concern over Business Responsibility. California Management Review, 2(4): 54-61.         [ Links ]

Freschi, F. 2009. The Business of Belonging: Volkskapitalisme, Modernity and the Imaginary of National Belonging in the Decorative Programmes of Selected Commercial Buildings in Cape Town, South Africa, 1930-1940. South African Historical Journal, 61(3), 521- 549.         [ Links ]

Friedman, M. 1962. Capitalism and Freedom. Chicago: Chicago University Press.         [ Links ]

Fury, B. 2010. Social Enterprise - The Next Social Investment Wave? CSI The Human Face of Business. Johannesburg: Creative Space Media.         [ Links ]

Halleen, S. 2013. From Life Insurance to Financial Services: A Historical Analysis of Sanlam 's Client Base, 1918-2004. Unpublished PhD Thesis, University of Stellenbosch.         [ Links ]

Hiller, J. 2013. The benefit corporation and corporate social responsibility. Journal of Business Ethics, 118: 287-301.         [ Links ]

Hofmeyr, J. H. 1913. Het leven van Jan Hendrik Hofmeyr (Onze Jan). Kaapstad: Van de Sandt Villiers.         [ Links ]

Horrigan, B. 2010. Corporate Social responsibility in the 21st Century, debates, models and practices across governance, law and business. Cheltenham: Edward Elgar.         [ Links ]

Jenkins, R. 2005. Globalization, corporate social responsibility and poverty. International Affairs, 81(3):525-540.         [ Links ]

Jenkins, R. 2009. Corporate social responsibility, in Peil, J. & Van Staveren, I. (eds). Handbook ofEconomics and Ethics. Cheltenham: Edward Elgar, pp. 69-76.         [ Links ]

O'Dwyer, B. 2003. Conceptions of corporate social responsibility: the nature of managerial capture. Accounting, auditing and Accountability Journal, 16(4):523-557.         [ Links ]

Okike, E. 2011. Financial reporting and fraud; in Idowu, S. & Louche, C. (eds). Theory and practice of Corporate social responsibility. Heidelberg: Springer Verlag, pp. 229-264.         [ Links ]

Oliver, C. 1991. Strategic responses to institutional processes. Academy ofManagement Review, 16(1):145-179.         [ Links ]

O'Meara, D. 1983. Volkskapitalisme: Class, Capital and Ideology in the Development of Afrikaner Nationalism,1934-1948. Johannesburg: Ravan.         [ Links ]

Owen, D. L., Gray, R. H. & Bebbington, J. 1997. Green accounting: cosmetic irrelevance or radical agenda for change? Asia Pacific Journal of Accounting, 4(2):175-198.         [ Links ]

Peck, J. & Tickell, A. 2002. Neoliberalizing space, in Antipode. Oxford: Blackwell Publishers.         [ Links ]

Pretorius, F. (red). 2012. Geskiedenis van Suid-Afrika. Van voortye tot vandag. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Puxty, A. G. 1986. Social accounting as immanent legitimation: a critique of a technisist ideology. Advances in Public Interest Accounting,1: 95-111.         [ Links ]

Republic of South Africa (RSA). Department of Trade and Industry. 2007. Background to, Intention and Application of the Codes of Good Practice. Pretoria: Staatsdrukker.         [ Links ]

SA Stigting sluit kantore : http://152.111.1.88/argief/berigte/beeld/1995/03/29/1/5.html.         [ Links ]

Sadie, J. L. 2002. The Fall and Rise of the Afrikaner in the South African economy. Stellenbosch Annale, 2002/1: Universiteit van Stellenbosch.         [ Links ]

Scott, W. R. 1987. The adolescence of institutional theory. Administrative Science Quarterly, 32(4):493-511.         [ Links ]

Snowdon, B. & Vane, H. R. 2005. Modern macroeconomics. It's origins, development and current state. Cheltenham: Edward Elgar.         [ Links ]

Van den Ende, L. 2004. Corporate social responsibility in South Africa: fact or fiction. Unpublished M Com Dissertation, Rand Afrikaans University.         [ Links ]

Verhoef, G. 2006a. Die Stigting van Instellings as werktuie in die Ekonomiese Opbouproses van die Afrikaner sedert die Anglo-Boereoorlog. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 46(2):381-391.         [ Links ]

Verhoef, G. 2006b. Die Afrikaner se Toetrede tot die Suid-Afrikaanse Ekonomie.Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 46(3): 211-220.         [ Links ]

WBCSD (World Business Council for Sustainable Development). 2002. Washington: World Bank.         [ Links ]

 

 

Grietjie Verhoef is die Direkteur van die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Rekeningkunde Geskie-denis in die Departement Rekeningkunde aan die Universiteit van Johannesburg. Haar navorsing handel oor Sake- en Ekonomiese Geskiedenis van Suid-Afrika, asook die ontwikkeling van die rekeningkundige professie in Suid-Afrika. Sy het hoofstukke bygedra tot twaalf boeke en 57 geakkrediteerde artikels gepubliseer. Haar voort-gesette navorsingsprojekte handel oor die ontwikkeling van entrepreneurskap in Suid-Afrika en Afrika, die rekeningkundige professie en entre-preneurskap, die versekeringsbedryf en groot besigheidsgroepe in Suid-Afrika. Sy is tans die President van die Internasionale Ekonomiese Geskiedenis Vereniging.
Grietjie Verhoef is Director of the South African Centre for Accountancy History in die Department of Accountancy at the University of Johannesburg. Her research focuses on the Business and Economic History of South-Africa, as well as the development of the accountancy profession in South Africa. She contributed chapters to twelve books and has published 57 articles in accredited journals. Her ongoing research projects deal with the development of entrepreneurial ability in South Africa and Africa, the accountancy profession and entrepreneurial ability, the insurance industry and big business in South Africa. She is currently President of the International Economic History Association.
1 Mnr W J Bezuidenhout was die Algemene Bestuurder, aangestel op 1 Oktober1948 met spesifieke opdrag Agentsake. Hy het dus 'n verantwoordelike posisie beklee met betrekking tot die opleiding van en toesig oor agente.
2 Die New Deal was die program van ekonomiese herstel en sosiale hervorming in the VSA aangekondig deur President F D Roosevelt, om die nadelige gevolge van sosio-ekonomiese ontwrigting en werkloosheid tydens die depressie die hoof te bied.
3 Die Aardeberaad of "Earth Summit" is georganiseer deur die Verenigde Nasies se Konferensie oor Ekonomiese Ontwikkeling in Rio de Janeiro in Junie 1992 om aangeleenthede te bespreek rakende produksiewyses, alternatiewe bronne van energie, water en openbare vervoer as faktore wat klimaatsverandering raak.
4 W A Hofmeyr was ook 'n prokureur en persoonlike vriend van Genl J B M Hertzog, en organiserende Sekretaris van die Nasionale Party. Hofmeyr was onbeskroomd Afrikaans en 'n ondersteuner van die "Suid-Afrika Eerste"-idee.
5 Onze Jan Hofmeyr was Jan Hendrik Hofmeyr, die vooraanstaande leier van die Afrikanerbond in die Kaapkolonie sedert die begin 1880s (Pretorius 2012:226-227).
6 Die industriële afdeling het polisse verkoop aan persone wat hoofsaaklik in industrieë gewerk het en weekliks lone ontvang het. Die loonarbeiders het dan weekliks klein bedrae op hulle beperkte lewenspolisse betaal. Industriële afdelings het ook in ander lande van die wêreld voorgekom, bv Brittanje en Australië. Dit was dus versekering vir die laer inkomste loonarbeiders.
7 Die SA Stigting was 'n onafhanlike organisasie van gemeenskapsleiers en sakelui wat die beeld van die land in die buiteland in perspektief wou stel gedurende die jare van sanksies en isolasie. Lede van die trustees van die SA Stigting het onder andere ingesluit Meyer Kahn van SA Brouerye, Michael Spicer van Anglo American, Marinus Daling van Sanlam, Elizabeth Bradley van Wesco (http://152.111.1.88/argief/berigte/beeld/1995/03/29/1/5.html).