SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.54 issue4Aan die and besig in Afrikaans progressive constructions: the origin and developmentThe enterprise in the society: Corporate social engagement by Sanlam, 1918-1980 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912

Tydskr. geesteswet. vol.54 n.4 Pretoria Dec. 2014

 

AKTUEEL

 

Spreke en saamleef: Oor korrektheid en waarheid in Suid-Afrika se kultuurpolitieke diskoers

 

 

Anton A van Niekerk

Departement Filosofie Universiteit Stellenbosch E-pos: aavn@sun.ac.za

 

 

Johan Degenaar begin sy opstel1 oor "Die paradigma van volksnasionalisme" in sy bundel Moraliteit en Politiek (Degenaar 1976) met 'n verhaal oor die volgende insident wat hy die vorige jaar meegemaak het.2 Nodeloos om daarmee rekening te hou dat dit gebeur het in die hoogty van Suid-Afrika se apartheidsbedeling.

Ek haal Degenaar volledig aan:

Verlede jaar was ek teenwoordig by 'n oorwegend swart konferensie oor nasionalisme wat gehou is by Umpumulo in Kwazulu. 'n Klein dramatiese botsing het ontstaan toe 'n jong swart teoloog ná die lesing van 'n blanke Afrikaanse teoloog wat ten gunste van Afrikaner- volksnasionalisme gepraat het, opstaan en beweer: 'As u só aanhou praat, professor, dan het ons geen hoop om te lewe nie'. 'n Oomblik het hy geswyg asof hy na nuwe woorde soek, en toe herhaal hy sy uitspraak: 'As u só aanhou praat, professor, dan het ons geen hoop om te lewe nie. ' Hier sê 'n swartman dat die politieke taal van die witman hom nie net politieke pyn in die hede aandoen nie, maar dat dit ook geen hoop vir die toekoms bied nie. (Degenaar 1976:44)

Ek neem hierdie verhaal van Degenaar as my vertrekpunt vir 'n kort besinning oor politieke korrektheid. Die basiese punt wat Degenaar maak, is dat woorde regtig saak maak. Woorde - veral die woorde van mense wat beskik oor politieke en ekonomiese mag - maak wêrelde oop, skep ruimte vir die ander, gee hoop of wanhoop. Die woorde van Adolf Hitler wat dreig met 'n "radikale" oplossing vir Europa se vermeende "Jode-probleem", was woorde van wanhoop, selfs vir die Jode wat hom nie aanvanklik wou glo nie. Die woorde van Winston Churchill in die Britse Laerhuis rondom die "Battle of Britain" was woorde wat hoop en 'n alternatief geskep het vir die Britte in wat andersins na 'n totaal uitsiglose situasie gelyk het. Die woorde van Hendrik Verwoerd in die vyftigerjare oor die nutteloosheid van hoër onderwys vir swartmense - omdat hulle dit na bewering "nie nodig sou hê nie" - was woorde van wanhoop, soos ge-eggo in die woorde van die wit teoloog waarna Degenaar hierbo verwys. Woorde maak saak, en daarom noop dit ons om ons woorde versigtig te kies. Laasgenoemde argument is geen blanko betoog ten gunste van volgehoue politieke korrektheid in hoe ons oor ons samelewing en situasie praat nie. Dis bloot 'n betoog om te sê dat enige afwysing van sorg om woorde vanweë 'n afkeer van politieke korrektheid, 'n wesenlike morele verantwoordelikheid rondom ons manier om werklikheid te onthul, verontagsaam.

Ek het nou die term waarom dit oorhoofs in hierdie artikel gaan, gebruik, naamlik "politieke korrektheid". Wat verstaan ek daaronder? Die begrip "politieke korrektheid" verwys myns insiens na 'n soort geveinsdheid in spreke en optrede wat daarvan wegskram om onreg en onbevoegdheid by die naam te noem, en wat daarom, bloot ter wille van gedienstigheid aan aanvaarde, regtens afdwingbare sosiale konvensies, sake só voorstel dat die waarheid omtrent wat verkeerd loop in die samelewing, verdoesel word deur wat ons sê en soms ook doen. Hierdie geveinsdheid het daarby nie slegs die doel om sosiale kodes ten alle koste in stand te probeer hou nie, maar word ook gemotiveer deur sosiale druk en persoonlike gedienstigheid (dikwels gemotiveer deur persoonlike ambisie) om nooit op 'n manier te praat wat gevoelens kan seermaak of stereotipes kan bestendig nie.

So byvoorbeeld is dit in die akademiese diskoers oor gestremdheid soms polities inkorrerk om van "blindes" en "dowes" te praat, en word begrippe soos "gesigs- en gehoorgestremdes" ("the visually challenged") verkies; die begrippe "blindes" en "dowes" wek assosiasies van hulpelose en daarom, na bewering, minderwaardige samelewingsburgers. Maar dis ook polities inkorrek om te beweer dat "plaasmoorde" in die sin van 'n berekende, georganiseerde aanslag van swartmense op wit boere in Suid-Afrika plaasvind, aangesien dit die stereotipes van swartes as barbaarse moordenaars en wittes as relatief welvarende en ekonomies produktiewe landsburgers bevorder, en die idee bestendig dat swartmense en witmense nie in vrede in dieselfde land kan leef nie.

Is "politieke korrektheid" in die politieke diskoers van 'n land soos Suid-Afrika, by wie ek my hoofsaaklik bepaal, ooit geregverdig? Dis 'n moeilike vraag aangesien die spektrum van veranderlikes wat 'n besluit oor so iets beïnvloed, haas onoorskoulik is. Ek wil egter 'n prinsipiële keuse maak en die gestelde vraag ontkennend beantwoord. Politieke korrektheid is nie geregverdig nie. Die vernaamste rede daarvoor is dat die idee van vryheid van spraak, wat die lewensbloed van 'n liberaal-demokratiese staat is, in stryd is daarmee. 'n Liberaal-demokratiese staat is myns insiens die beste soort staat om in te bly, al kan 'n mens toegee dat so 'n staat ook 'n reeks kenmerke het wat nie ideaal is nie. My keuse vir so 'n staat bly egter wesenlik gemotiveer deur Churchill se bekende waarneming dat 'n liberale demokrasie moontlik een van die swakste staatsvorme is wat ooit ontwikkel is, "except for all the others which have been tried so far". Die tekortkominge van die liberale demokrasie is myns insiens eenvoudig die prys wat ons moet betaal vir al die beduidende voordele en sekuriteit wat so 'n staatsvorm oplewer. Vryheid van spraak en die gepaardgaande instelling van 'n vrye pers is regte waaraan ons liefs nooit moet torring nie, al bring die geïmpliseerde gebrek aan politieke korrektheid wat daarmee gepaardgaan, mee dat op tone getrap word en persoonlike en sosiale senuwees geïrriteer word.

Nog 'n voorbeeld van die "prys" wat ek meen ons bereid moet wees om vir die voordele van die liberale demokrasie te betaal, is die vrye beskikbaarheid van pornografie (waarby ek nie kinder-pornografie insluit nie; daar is wêreldwyd konsensus daaroor dat laasgenoemde nie toegelaat behoort te word nie). Daar bestaan 'n moontlikheid (navorsing hieroor is, soos die Engelse sê "inconclusive") dat daar minder uitbuiting van en geweld teen vroue kan voorkom in 'n samelewing waar pornografie verbied word. Dit weeg egter nie op teen die prys wat daarvoor betaal moet word nie, naamlik die prysgawe van volwassenes se reg om te lees en te kyk wat/waarna hulle wil nie. Veral ons wat in die ou Suid-Afrika geleef het en gesien het watter effek sensuur op 'n samelewing kan hê, sien eenvoudig nie weer kans vir daardie situasie nie. Die punt is weer eens: liberale demokrasie, wat pornografie toelaat, is nie 'n volmaakte sosiale bestel nie. Dit kos 'n prys. Dit bly egter steeds die beste politieke bedeling waarvan ons weet.

As ek daarom teen politieke korrektheid in 'n liberale demokrasie kies, dan kies ek vir 'n situasie waarin ons sal trag om sover moontlik, en met inagneming van al die "checks" en "balances" wat dit normaalweg moontlik maak, die waarheid te praat, eerder as om korrek te probeer wees. Die keuse vir "waarheid" eerder as "korrektheid" is egter nie filosofies oninteressant nie. Om te kies vir waarheid bo korrektheid vereis dat 'n mens die begrip "waarheid" in hierdie konteks 'n bietjie beter probeer verstaan. Dit is my oortuiging dat 'n beter verstaan van hierdie eeu-oue wysgerige brandnetel wel 'n bydrae daartoe kan lewer om nie alleen politieke korrektheid te vermy nie, maar om terselfdertyd sorg te bly dra dat ons woorde, soos ek aan die begin aangevoer het, nogtans vir mense hoop en ruimte skep eerder as om toe te laat dat ons só met mekaar praat-veral in 'n politieke konteks - dat ons woorde hoop en uitsig afsny en ons gevange hou in die kettings van ellende, stereotipes en ondeurdagte, onuitvoerbare en (vir jou opposisie) vreesaan-jaende en wanhoopskeppende populisme wat die politieke retoriek van SA, aan die regter - en die linkerkant, so dikwels kenmerk.

Om teen korrektheid, en vir waarheid te kies, beteken in die eerste plek dat ons sal verstaan dat waarheid nie slegs 'n epistemologiese kategorie is nie, maar veral ook 'n etiese kategorie. Waarheid is nie bloot juistheid of korrektheid in die sin van "ooreenstemming met die feite", soos vereis word in die diskoers van die vakwetenskappe nie. In die vakwetenskappe soek ons na juistheid, en juistheid staan teenoor vergissing. Hennie Rossouw skryf in dié verband: "'n Vergissing is nie 'n daad wat vir etiese beoordeling in aanmerking kom nie. 'n Vergissing stel jou nie eties skuldig nie, maar hoogstens bloot aan epistemiese kritiek. As etiese opgawe staan die spreke van die waarheid daarenteen teenoor die vertel van 'n leuen. 'n Leuen is 'n eties afkeurenswaardige daad. In die leuen spreek mens so dat hy homself teenoor sy medemens skuldig stel. 'n Vergissing kan reggestel of gekorrigeer word om dit ongedaan te maak. 'n Leuen moet vergewe word om dit ongedaan te maak" (Rossouw 1982:103; my klem).

Rossouw ontwikkel hierdie insiggewende analise binne die konteks van die vraag of dit altyd geregverdig is om vir 'n terminaal siek pasiënt "die waarheid" omtent sy of haar situasie te vertel. Rossouw kies, soos ek ten opsigte van politieke korrektheid, vir die opsie om altyd eerder die waarheid te praat. Maar dit vereis terselfdertyd dat 'n mens goed moet verstaan wat dit beteken om "die waarheid te praat". In die konteks van die siekbed van 'n terminale pasiënt beteken om "die waarheid te praat" nie om die noodlydende sonder meer met die sogenaamde "naakte feite" te konfronteer nie. Dit beteken om 'n egte vertrouensverhouding met so 'n pasiënt met verloop van tyd op te bou, en om daarom nie slegs toevertrou te word met die "korrekte feite" nie, maar om geloofwaardig te kan kommunikeer, en om tyd te maak met die pasiënt totdat die regte oomblik vir die waarheid aangebreek het. Om vir iemand anders tyd te gee, is om iets van jouself te gee, want geld of goed kan aan jou terugbesorg word, maar tyd wat jy aan 'n ander afstaan, kan jy nooit weer terugkry nie. Dit beteken eweneens om in staat te wees om so met die pasiënt te kan kommunikeer dat hy/sy gehelp word om hulself nie blind te staar teen die oënskynlike uitsig-loosheid wat blyk uit die brute feite omtrent hul toestand nie, maar om die pasiënt te help - moeilik soos dit ook al mag wees - om verby sy/haar feitelike situasie ook die eksistensiële sin van wat met haar aan die gebeur is, te probeer peil of te interpreteer, en so verder te vorder as 'n radelose opgeskeeptheid met die uitsigloosheid van die "naakte feite".

Rossouw skryf in hierdie verband: "Naakte feite is abstraksies. Hulle word vasgestel danksy 'n kunsmatige, metodiese inperking van die volle werklikheid....Die waarheid [daarenteen] is nooit naak nie. Om die waarheid te praat, is nie 'n 'strip-tease' nie. Die waarheid is altyd geklee-tekstiel, teks en konteks. ['n Teks word nie meegedeel nie, maar geïnterpreteer - AAvN] Die waarheid is 'n samehang waarin die uitgerafelde drade van geïsoleerde feite verweef is tot 'n patroon. Tot die waarheid behoort naamlik die sin van feitelike gegewens, dit wil sê die belang of die waarde wat sulke gegewens het vir die mens wat lewensoriënterend daarmee gemoeid is" (Rossouw 1982:104).

Ek meen dat daar uit hierdie analise iets belangrik te leer is omtrent die tema van politieke korrektheid, veral met verwysing na die teenswoordige kultuurpolitieke diskoers in Suid-Afrika. Ek sê weer: ek kies téén politieke korrektheid, en ek kies vír die strewe na en praat van die waarheid. Ek hou nie van die geveinsdheid en oormatige sosiale en individuele fyngevoeligheid wat aandring op politieke korrektheid en wat in die proses die openhartigheid en versoberende robuustheid wat openbare debat in 'n liberale demokrasie soos SA behoort te kenmerk, ondermyn nie. Terselfdertyd, egter, sal dit ons loon om ons beter te verantwoord oor wat dit presies beteken om "die waarheid" in 'n land en 'n historiese konteks soos SA te praat.

Waarheid, soos vroeër opgemerk, is nie sonder meer gelyk te stel met "die naakte feite" nie. Kom ons kyk kortliks, byvoorbeeld, na die debat oor regstellende aksie ("affirmative action") in SA. Dit is so dat, as ons onsself bloot vasstaar teen "die naakte feite", swartmense sonder die gepaste kwalifikasies en ervaring ten gunste van wit kandidate in poste aangestel of tot prestige studierigtings soos geneeskunde aan universiteite toegelaat word. Dit is meermale 'n onverstandige en onregverdige praktyk wat nouliks goed te praat is, veral as dit blyk dat die ooreenkomstige werksprestasie of uitkomste van dié praktyk benede peil is.

Terselfdertyd, egter, kan ons onsself nie eenvoudig blindstaar teen die sogenaamde "naakte feite" van wat tans waargeneem word in hierdie verband nie. Ons kan veral nie oor die onderliggende problematiek wat regstellende aksie in hierdie stadium in die oë van die oorgrote meerderheid van die bevolking 'n ononderhandelbare vereiste van die Suid-Afrikaanse samelewing maak, praat asof ons onlangse geskiedenis in Suid-Afrika weggewens kan word nie. Ons geskiedenis is 'n verhaal van een van die die mees blatante instansies van diskriminasie teen mense op grond van velkleur wat die wêreld nog ooit gesien het. Terwyl witmense in regse kringe fulmineer oor slim, wit jongmense wat deesdae nie meer so maklik toegang tot 'n studierigting soos geneeskunde kry nie, vergeet ons veels te vinnig die feit dat swartmense voor relatief laat in die 20ste eeu hoegenaamd nie toelating tot enige Suid-Afrikaanse universiteit gehad het nie - laat staan nog tot medies. Terwyl baie witmense woedend is oor die voorkeur wat soms aan swartes in die werkplek gegee word - al bly dit 'n feit dat die oorgrote meerderheid van bestuursposte in die ekonomie steeds deur wittes beklee word, en al gaan dit tans met witmense ekonomies beter as in enige stadium onder apartheid - vergeet ons veels te maklik al die dekades toe werkreservering die meeste gesogte poste in die ekonomie vir swartes belet het.

My punt is dat "die waarheid" nie so eenvoudig is soos "die harde feite" wat byvoorbeeld tans aantoon dat, om grondhervorming as 'n ander voorbeeld te neem, talle swart boere aan wie landbougrond verniet verskaf is, as ekonomiese landbouprodusente misluk het nie. Dit is so dat vele van hierdie nuwe swart boere misluk het. Ons kan ook saamstem dat dit onverstandig is om landbougrond aan mense uit te deel wat nie genoeg opleiding en kennis van landbou het nie. Maar agter hierdie sogenaamde kliniese feite wat ons graag ophaal van agter die oogklappe wat ons slegs die hede laat raaksien, staan die beskuldigende horison van die geskiedenis toe swartes slegs 13% van SA se grond kon besit - en daarvan baie min privaat kon besit.

Om "die waarheid te praat" is daarom nie 'n al te eenvoudige saak nie. Wat saak maak in ons spreke, soos Habermas3 ook al aangetoon het in sy bekende analise van die geldigheidsaansprake van verstaanbare taalgebruik, is nie bloot die resonansie van die sogenaamde feite nie, maar ook die geloofwaardigheid van sowel dit wat gesê word as van die spreker self. Die diskoers wat ons uiteindelik in staat sal stel om 'n nuwe Suid-Afrikaanse gemeenskap in Suid-Afrika te vorm, sal nie een wees waarin ons mekaar onophoudelik met die naakte, brute feite van die hede probeer toetakel nie. Daardie soort diskoers maak geen indruk nie en vererger die konflik net. Om die waarheid te praat, vereis 'n nuwe verstandhouding waarin wat die geval is en kan wees, voortdurend geïnterpreteer moet word teen die agtergrond van 'n geskiedenis wat ons nie sal uitlos totdat ons geleer het om saam met mekaar sin daarvan te maak nie. As 'n verstandige diskoers wat na 'n sodanige waarheid strewe, soms vir sekere mense klink na politieke korrektheid, dan is dit 'n prys wat ons bereid moet wees om te betaal.

 

BIBLIOGRAFIE

Degenaar, J.J. 1976. Moraliteit en politiek. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers.         [ Links ]

Habermas, J. 1979. Communication and the evolution of society. London: Heinemann.         [ Links ]

Rossouw, H.W. 1982. Waarheid en siekte. In: D.W. de Villiers & J.A.S. Anthonissen: Dominee en dokter by die siekbed. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.         [ Links ]

Van Niekerk, A.A. 1992. Rasionaliteit en relativisme: op soek na 'n rasionaliteitsmodel vir die menswetenskappe. Pretoria: RGN.         [ Links ]