SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.54 número4Teaching Afrikaans vocabulary and varieties from an inclusive language-historical perspectiveSpreke en saamleef: Oor korrektheid en waarheid in Suid-Afrika se kultuurpolitieke diskoers índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.54 no.4 Pretoria dic. 2014

 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS

 

Aan die en besig in Afrikaanse progressiwiteits-konstruksies: die ontstaan

 

Aan die and besig in Afrikaans progressive constructions: the origin and development (1)

 

 

Adri BreedI; Gerhard van HuyssteenII

IVakgroep: Afrikaans en Nederlands, Skool vir Tale, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom adri.breed@nwu.ac.za
IISentrum vir Tekstegnologie (CTexT), Noordwes-Universiteit, Potchefstroom gerhard.vanhuyssteen@nwu.ac.za

 

 


OPSOMMING

In 'n tweetal artikels (hierdie artikel en Breed & Van Huyssteen (voorgele)) stel ons ondersoek in na die wyse waarop twee perifrastiese konstruksies, te wete die VKOP besig om te V- en die VKOP aan die V-konstruksies, gebruik word om progressiewe betekenis in Afrikaans uit te druk. Die bespreking word gebaseer op 'n korpusondersoek waarin drie Afrikaanse perifrastiese progressiewe konstruksies (d.i. die twee genoemde konstruksies, sowel as die Vpos en V-konstruksie; sien Breed 2012 en Breed & Brisard voorgele) met mekaar vergelyk is. Drie ewekniekonstruksies word in Nederlands gevind, en daarom word die konstruksies ook, waar ter sake, met die Nederlandse konstruksies vergelyk. Aangesien Breed & Brisard (voorgele) fokus op die Vpos en-konstruksies, handel hierdie tweetal artikels oor die besig- en aan die-progressiewe. Terwyl die tweede artikel se fokus is om, aan die hand van die korpusondersoek se resultate, die spesifieke wyses aan te dui waarop die twee konstruksies gebruik word, is die hoofdoelwit van hierdie eerste artikel om die twee konstruksies se totstandkoming en ontwikkeling aan te toon. In hierdie artikel word die grammatikaliseringsproses aan die hand van die evolusie van die hoofwerkwoord het tot temporele hulpwerkwoord verduidelik, en daar word aangetoon dat die aan die-/aan het-konstruksies lokatiewe oorsprong het, terwyl die oorsprong van die besig-/bezig-konstruksies leksikaal gemotiveerd is.

Trefwoorde: aspek, imperfektief, progressief, perifrastiese konstruksie, grammatikalisering, Afrikaans, Nederlands


ABSTRACT

Progressive aspect is a grammatical category which signifies that an event is continuing or taking place (Comrie 1976:33-36; Bybee et al. 1994:126). In two articles, this article and Breed and Van Huyssteen (submitted), we investigate the manner in which two periphrastic constructions, namely the VCOP besig om te V and the VCOP aan die V constructions, are used to express progressive meaning in Afrikaans. The discussions are based on a corpus investigation in which the three Afrikaans periphrastic progressive constructions (the two already mentioned) and the VPOS en V constructions are compared to each other (Breed 2012; Breed & Brisard submitted). Dutch has three similar constructions, and for this reason the constructions were also compared to the Dutch ones where relevant. Breed and Brisard (submitted) explain how the VPOS en construction is used to express progressive meaning. In this article and in Breed and Van Huyssteen (submitted) the focus is therefore on the specific manner in which the besig and aan die constructions are used as progressive markers. The main objective of this first article is to show the origin and development of the two constructions, while the focus of the second article is to demonstrate - on the basis of the results of the corpus investigation - the specific ways in which the constructions are used. The grammaticalisation theory offers insight into the manner in which grammatical constructions develop. For this reason, the origin, development and use of the two relevant periphrastic constructions were investigated from this perspective. Grammaticalisation can be described as the process of language change during which lexical constructions develop systematically into constructions with grammatical meaning (Bybee et al. 1994; Hopper & Traugott 2003; Lehmann 1995). This process of language change is characterised by specific mechanisms or characteristics, for instance universal routes, unidirectional change, lexical origin, semantic generalisation, an increase in frequency and re-analysis. This first article firstly explains the theory of grammaticalisation. The grammaticalisation of the Afrikaans auxiliary het is given as an example to illustrate specific relevant aspects of grammaticalisation. Secondly, it explains how the aan die and besig periphrastic constructions originate and develop. One of the most general lexical origins ofprogressives is constructions with locative meaning (Bybee et al. 1994:129). The motivation behind the development of a progressive from locative constructions is probably the connotation of "be in the place of VERBing" or "be at VERBing" (Bybee et al. 1994:129-130). The hypothesis offered by Bybee et al. (1994:131) is that, apart from a few exceptions, all progressive constructions develop from locative meaning. The aan die progressive is a construction of locative origin. The structure of the periphrastic construction can be divided into three parts: firstly, the introductory copulative verb; secondly, the locative aan preposition; and thirdly, the nominalised verb which is preceded by the definite article die [aan + die] has received unit status andforms the analysed construction of the periphrase. The aan die progressive therefore supports the hypothesis that progressive constructions develop from locative meanings. The besig progressive 's lexical origin differs from that of the aan die progressive, as well as from the VPOS en progressive (consult Breed 2012; Breed & Brisard submitted), due to the fact that this progressive construction does not have a locative origin. The word besig has a lexical meaning which implies that a subject is involved in a process which is continuing, and the development of this progressive construction is, therefore, lexically motivated.

Keywords: aspect, imperfective, progressive, periphrastic construction, grammaticalisation, Afrikaans, Dutch


 

 

1. INLEIDING1

Progressiewe aspek is 'n grammatikale kategorie wat uitdruk dat 'n gebeurtenis voortgesit word of aan die gang is (Bybee et al.1994:126; Comrie 1976:33-36). 'n Situasie wat in die verlede afgespeel het, kan ook as progressief aangebied word, indien dit in die verlede beskou is as 'n situasie wat oor 'n tydperk aan die gang was. Voorbeeldsinne (1) en (2) dui aan hoe progressiewe betekenis in Engels morfologies uitgedruk word deur die suffiks -ing:

(1) I am doing the best I can. (Progressiewe hedetyd)

(2) I was being angry for no reason. (Progressiewe verledetyd)

In Afrikaans word drie perifrastiese konstruksies hoofsaaklik gebruik om progressiewe betekenis uit te druk, te wete die is+aan+die/'t+V-konstruksie (vergelyk voorbeeldsinne (3) en (4)), die is+besig+om+te+V-konstruksie (waarvan sin (5) 'n voorbeeld is) en die Vp0S+en+V-konstruksie (byvoorbeeld sinne (6) tot (8)).2 Perifrastiese konstruksies kan beskryf word as 'n grammatikale kategorie wat betekenis uitdruk deur losstaande woorde (teenoor byvoorbeeld morfologiese markering soos die -ing-morfeem in Engels).

(3) Die storm was aan die afneem.3

(4) Die mense is al aan't optrek eetkamer toe.

(5) Sy ma is besig om brood af te knie.

(6) Maja sit en kyk hoe hy swem en beny hom.

(7) Jy kan glad nie so in die donker kamer lê en muf nie!

(8) Sy bly staan en glimlag vir hom.

In Nederlands word drie soortgelyke konstruksies4 gebruik om progressiewe betekenis uit te druk. Vergelyk voorbeelde (9) tot (13).5

(9) Ik ben aan het eten, kom later maar weer terug.i

(10) Wij moeten op dit punt meer doen, en ik ben bezig dat ook te verwezenlijken.ii

(11) Ik zit gewoon mijn eigen kind uit te lachen.iii

(12) Hallo, ik sta al een hele tijd te wachten, hoor.iv''

(13) Ik lig te dromen onder een boom.v

Ten spyte van enkele vormlike verskille tussen die twee tale se konstruksies, kan die progressiewe perifrastiese konstruksies van Afrikaans en Nederlands as ewekniekonstruksies beskou word. Hierdie ooreenstemming is nie verrassend nie: Afrikaans en Nederlands kan immers as sustertale, oftewel nabyverwante tale, beskou word. Daar word trouens gereken dat tussen 90 en 95 persent van Afrikaans en Nederlands se woordeskat ooreenstem (Carstens 1989:144, Brandford & Claughton 1995:214; Raidt 1972:177). Op grond van die sterk verband tussen Afrikaans en Nederlands, sou daar gemaklik 'n hipotese gestel kon word dat hierdie ooreenstemmende konstruksies in die twee verskillende tale op naastenby ooreenstemmende wyse gebruik word om progressiwiteit uit te druk.

Vanuit 'n literatuuroorsig oor die Nederlandse progressiewe konstruksies6 is dit duidelik dat die aan het-progressief semanties gesien 'n redelik veralgemeende progressief is, terwyl die bezig-progressief besonder skaars en periferaal is. Die Vpos te-progressief is, hoewel frekwent, 'n gespesialiseerde konstruksie wat byvoorbeeld duidelik met sekere soort werkwoorde kollokeer, naamlik werkwoorde wat sosiale interaksie (byvoorbeeld praat en gesels), kreatiewe aktiwiteit (byvoorbeeld skryf en brei), persepsie (byvoorbeeld kyk en luister), kognitiewe aktiwiteit (byvoorbeeld dink en lees), menslike noodsaaklikheid (byvoorbeeld eet en slaap) of afwagting (wag en uitkyk) uitdruk.

Aangesien daar tot op hede nog min navorsing gepubliseer is oor die Afrikaanse progressiewe konstruksies, sou die vraag gevra kon word of die Afrikaanse progressiewe perifrastiese konstruksies op dieselfde wyse gebruik word as dié van Nederlands. Is die bevindinge oor die Nederlandse konstruksies ook geldig vir die ooreenstemmende Afrikaanse konstruksies? In Breed en Brisard (voorgele) is aangedui dat daar inderwaarheid 'n baie sterk ooreenstemming bestaan tussen die Nederlandse en Afrikaanse VPOS-progressiewe konstruksies. In beide tale is hierdie progressief byvoorbeeld 'n gespesialiseerde konstruksie wat prototipies saam met werkwoorde kombineer wat sosiale interaksie, kreatiewe en kognitiewe aktiwiteite, persepsie of menslike noodsaaklikheid uitdruk.

Die doel van hierdie artikel, sowel as die artikel, "Aan die en besig in Afrikaanse progres-siwiteitskonstruksies: 'n korpusondersoek" (Breed & Van Huyssteen voorgelê),is om verder ondersoek in te stel na die moontlike ooreenstemming tussen Afrikaanse en Nederlandse ewekniekonstruksies. Daarom word daar in hierdie eerste artikel ondersoek ingestel na die herkoms en gebruik van die aan die- en besig-perifrastiese konstruksies. Resultate van die ondersoeke na die twee Nederlandse ewekniekonstruksies word, waar moontlik, as basis gebruik, sodat die mate van ooreenstemming tussen die twee tale se konstruksies bepaal kan word. Die ondersoek word vanuit 'n grammatikaliseringsperspektief aangepak, aangesien dit, soos aangetoon sal word, toeligting bied op die wyse waarop die konstruksies ontwikkel het, asook op die spesifieke wyses waarop dit gebruik word om progressiewe betekenis uit te druk.

In hierdie artikel word gefokus op die totstandkoming van die aan die- en besig-konstruksies. Daar sal aangetoon word dat die twee konstruksies deur 'n proses van grammatikalisering vanuit vrye leksikale morfeme ontwikkel het tot perifrastiese progressiewe konstruksies. Alvorens die ontwikkeling van aan die en besig aangetoon word, sal 'n kort beskrywing van grammatikalisering aangebied word, en die proses van grammatikalisering sal met 'n voorbeeld (naamlik die ontwikkeling van het tot tempuskonstruksie) geïllustreer word. Laastens sal die grammatikalisering van die twee genoemde perifrasties progressiewe konstruksies omvattend bespreek word.

In die volgende artikel, "Aan die en besig in Afrikaanse progressiwiteitskonstruksies: 'n korpusondersoek", (Breed & Van Huyssteen voorgele) word 'n korpusondersoek geloods om te bepaal op watter verskillende wyses die twee konstruksies gebruik word om progressiewe betekenis uit te druk. Die twee konstruksies word op grond van drie parameters ondersoek, te wete i) die frekwensie; ii) die verhouding tussen aspektuele teenoor leksikale gebruik; en iii) die werkwoordkollokasies. Sodoende kan daar aangedui word op watter spesifieke of unieke wyses elkeen van die konstruksies gebruik word om progressiwiteit in Afrikaans uit te druk en in watter mate dit verskil of ooreenstem met die twee Nederlandse ewekniekonstruksies.

 

2. GRAMMATIKALISERING

Die grammatikaliseringsteorie bied insig in die wyse waarop grammatikale konstruksies ontwikkel. Om hierdie rede is dit ook sinvol om die totstandkoming en ontwikkeling van perifrastiese konstruksies vanuit hierdie perspektief te bekyk.

Grammatikalisering kan beskryf word as die proses van taalverandering waar leksikale konstruksies stelselmatig ontwikkel om grammatikale betekenis uit te druk. Hierdie taalver-anderingsproses word gekenmerk deur spesifieke meganismes, eienskappe of prosesse.7 Vir doeleindes van hierdie ondersoek kan ses van hierdie meganismes uitgelig word, te wete universele roetes, eenrigtingsroetes, leksikale oorsprong, semantiese verbleking, frekwensie en reanalise. Hierdie ses meganismes sal kortliks bespreek word en daarna aan die hand van 'n voorbeeld uit Afrikaans geïllustreer word.

2.1 ses meganismes van grammatikalisering

Die eerste veronderstelling van grammatikalisering is dat hierdie tipe taalverandering altyd op 'n universele roete evolueer, 'n Universele roete kan gesien word as die ontwikkelingspad wat 'n evoluerende konstruksie volg. Vanuit 'n tipologiese perspektief lyk dit asof dieselfde roetes in verskillende tale gevind word (Hopper & Traugott 2003:6). Bybee et al (1994:15) gee 'n motivering vir hierdie tipologiese ooreenstemming van universele roetes - daar bestaan gedeelde kognitiewe en kommunikatiewe patrone in taal:

The degree of cross-linguistic similarity that recent studies have uncovered suggests that forces in language are pushing toward the selection of particular source material and movement along particular paths propelled by certain common mechanisms of change... We attribute the fact that certain grammaticalization paths are common in diverse genetic and areal groups to the existence of common cognitive and communicative patterns underlying the use of language. (Bybee et al. 1994:15)

Aansluitend hierby is die tweede veronderstelling van grammatikalisering, die beginsel van 'n eenrigtingsroete. Die taalverandering wat volgens 'n grammatikaliseringsroete evolueer, behoort in 'n bepaalde rigting plaas te vind - van minder grammatikaal (of leksikaal) na meer grammatikaal (Campbell & Janda 2001:101). Aangesien grammatikaliseringsprosesse altyd bepaalde grammati-kaliseringsroetes volg, behoort die bepaalde stappe of fases altyd in die spesifieke volgorde voor te kom. Hierdie fases stem ook tipologies ooreen.

Die beginsel van eenrigtingontwikkeling behels dat 'n spesifieke fase altyd op 'n ander spesifieke fase sal volg en dat daar 'n vaste patroon bestaan oor watter fase op ander fases volg (Bybee et al. 1994:13). Hierdie roetes met fases wat in 'n vaste volgorde voorkom, kan ook 'n klien genoem word.

The term "cline" is a metaphor for the empirical observation that cross-linguistically forms tend to undergo the same kinds of changes or have similar sets of relationships, in similar orders. (Hopper & Traugott 2003:6-7)

In die derde plek word aangeneem dat die leksikale oorsprong (d.i. die letterlike, oorspronklike betekenis) van die woord 'n invloed het op die grammatikaliseringsroete wat gevolg word. Die leksikale betekenis van 'n konstruksie bepaal dus op 'n spesifieke wyse die roete wat hierdie grammatikaliseringproses gaan volg, asook die grammatikale funksie wat die konstruksie gaan verrig (Campbell & Janda 2001:101). Deur die verskeie grammatikaliseringsroetes wat in verskillende tale gevind word met mekaar te vergelyk, kan geldige afleidings gemaak word oor watter tipe konstruksies geneig is om tot ander tipes konstruksies te ontwikkel. So is daar byvoorbeeld gevind dat werkwoorde van beweging, behoefte of verpligting tipologies vergelykend geneig is om te ontwikkel tot toekomsmerkers (Bybee et al. 1994:13). In Afrikaans het die bewegingswerkwoord gaan (byvoorbeeld in sin (14)) ontwikkel tot 'n toekomsmerker (byvoorbeeld in sin (15)):

(14) Hy gaan huis toe, en maak verskoning omdat hy effe laat is.

(15) Hy gaan in Augustus in Suid-Korea aan die Wêreld-brandweerspele deelneem.

Wanneer 'n leksikale konstruksie stelselmatig volgens 'n universele en eenrigtingsroete evolueer tot 'n grammatikale konstruksie, vind semantiese verbleking plaas. Hierdie is 'n vierde veronderstelling van grammatikalisering en impliseer dat daar betekenisverskuiwing plaasvind. Waar 'n inhoudswoord, vanweë sy spesifieke leksikale betekenis, beperkte gebruike het (d.i. slegs binne die toepaslike leksikale moontlikhede), het 'n woord wat 'n grammatikale funksie verrig (en dus nie hierdie selfde leksikale betekenis het nie) groter gebruiksmoontlikhede. Daar vind dus 'n semantiese veralgemening (semantic generalization) plaas waarbinne 'n item gebruik kan word (Bybee et al. 1994:6; Bybee & Pagliuca 1985:60). 'n Konstruksie kan tot so 'n mate veralgemeen dat die oorspronklike leksikale betekenis van die konstruksie heeltemal afwesig is en dat die konstruksie dan leksikaal deursigtig is (lexical transparency of opacity, soos aangetoon is deur Rhee 2008:10). Hoe meer gegrammatikaliseer 'n konstruksie se betekenis is, hoe minder ooreenstemming bestaan daar tussen die grammatikale gebruik van die ontwikkelende konstruksie en die oorspronklike leksikale betekenis. Vergelyk die verduidelikings van Lehmann (1995:127):

For the sake of simplicity, I will assume that the semantic representation of a sign consists of a set of propositions taken from some semantic metalanguage commonly called semantic components or features, and that those propositions which are conjoined (rather than disjoined) contribute to semantic complexity or semanticity of the sign (details in Lehmann 1978). Desemanticization, or semantic depletion (Weinreich 1963:180f) or bleaching, is then the decrease in semanticity by the loss of such propositions. (Lehmann 1995:127)

Hierdie semantiese veralgemening of verbleking bring die vyfde veronderstelling van gramma-tikalisering teweeg, naamlik dat die gebruiksfrekwensie van die konstruksie begin toeneem. Aan-gesien die grammatikaliserende konstruksie afstand doen van sy leksikale betekenis, kan die konstruksie in meer kontekste gebruik word as vantevore en derhalwe toeneem in frekwensie. 'n Hoë frekwensie van 'n grammatikale konstruksie kan derhalwe dikwels 'n aanduiding wees van 'n hoër mate van grammatikalisering. Dit is egter nie te sê dat 'n konstruksie met 'n hoë frekwensie noodwendig 'n grammatikale konstruksie is nie, aangesien sommige leksikale konstruksies ook 'n hoë frekwensie kan hê.

Reanalise, die sesde en laaste grammatikaliseringsmeganisme wat gedefinieer kan word, is nie 'n voorvereiste van grammatikalisering nie, maar dikwels 'n proses wat grammatikalisering aan die gang sit. Langacker (1977:59) definieer reanalise as "change in the structure of an expression or class of expressions that do not involve any immediate or intrinsic modification of its surface manifestation".

Vergelyk byvoorbeeld truvorming (back-formation) as 'n voorbeeld van morfologiese reanalise. Die woord pakkasie "klomp goedere" kom uit die Nederlandse pakkage < packaige "daad van inpak", wat weer uit die Franse pacquage met dieselfde betekenis kom (Van Veen & Van der Sijs 1997). 'n Korrekte morfologiese analise van pakkasie sou wees pak(k)-asie, waar -asie algemeen as nominaliseerder in Afrikaans voorkom - vergelyk byvoorbeeld plant-asie, of rot-asie (<rot-eer). Wanneer pakkasie egter gereanaliseer word as 'n diminutiefvorm op grond van 'n verbeelde diminutiefmorfeem -ie in die woord, lei dit tot die morfologiese analisepakkaas-ie, waarpakkaas (as truvorm) geïnterpreteer word as "enorme klomp goedere". Dieselfde reanalise vind plaas by bosgaas "enorme wilde haardos" (<bosgasie) of stellaas "groot, omvattende steierwerk" (<stellasie), waar die -ie "verkeerdelik" as diminutiefmorfeem geanaliseer word.

Sintaktiese reanalise is veral relevant vir die ondersoek na die grammatikalisering van perifrastiese progressiewe konstruksies in Afrikaans. Lord (1976:179), soos aangehaal deur Heine en Reh (1984:97) verduidelik sintaktiese reanalise as "a process by which a verb loses semantic, morphological and syntactic properties, and survives as a grammatical morpheme marking the relationship between clauses". Hopper en Traugott (2003:50) gee die Engelse try and V-konstruksie as 'n voorbeeld van sintaktiese reanalise. Daar is 'n verskil in die wyse waarop try in voorbeeldsin (16) en voorbeeldsinne (17) en (18) gebruik word:

(16) I'll try and contact her.vi

(17) They have tried and failed to contact her.

(18) I'll try to contact her.

In (17) en (18) word try in sy oorspronklike, leksikale betekenis as hoofwerkwoord gebruik. Die konstruksie kan geanaliseer word as [[V] + and + [V]]. Onder sekere omstandighede het [try and] in die konstruksie try and V (byvoorbeeld (16)) eenheidstatus bekom en as hulpwerkwoord begin optree. Die konstruksie is derhalwe gereanaliseer tot [hulpwerkwoord (try and) + werkwoord (contact)] en word ontleed as [[VAUJ+[V]].

2.2 'n Grammatikaliseringsvoorbeeld in Afrikaans: die werkwoord

'n Goeie voorbeeld vanuit Afrikaans om die grammatikalisering van 'n konstruksie te illustreer, is die evolusie van het as hoofwerkwoord tot hulpwerkwoord van tyd. Hoewel nie al ses bespreekte meganismes by die bespreking betrek word nie, is dit 'n nuttige voorbeeld om die basiese beginsel van grammatikalisering te illustreer.

Die leksikale betekenis (dus die leksikale oorsprong) van hê8 dui op ruimtelike besitting (d.i. "om iets te besit"). Om die volledige grammatikalisering van het tot tempusmerker te verduidelik, is dit egter noodsaaklik om die ontwikkeling van die Afrikaanse werkwoord te vergelyk met die ontwikkeling van dieselfde werkwoord in ander Germaanse tale soos Engels (have) en Nederlands (hebben).

In al drie tale word 'n gegrammatikaliseerde het/hove/hebben-konstruksie gebruik om temporele betekenis uit te druk. Hierdie konstruksie het dieselfde oorsprong en het volgens die tipologiese grammatikaliseringsroete [leksikaal ^ aspek] geëvolueer tot aspektuele merker. Vergelyk sinne (19) en (20):

(19) Eng: a. I have a beach house. Ndl: b. Ik heb een strandhuis. Afr: c. Ek het 'n strandhuis.

(20) Eng: a. I have eaten an apple. Ndl: b. Ik heb een appel gegeten. Afr: c. Ek het 'n appel geëet.

In sinne (19) druk die leksikale werkwoorde have/hebben/het ruimtelike betekenis van besitlik-heid uit - die spreker "besit 'n strandhuis". Die leksikale betekenis van have/hebben/het in voorbeeldsinne (20) het verbleek om grammatikale, oftewel aspektuele betekenis uit te druk. Die wyse waarop have/hebben/het in hierdie sinne gebruik word, skep die interpretasie dat die handeling van die appel wat in die verlede geëet is en die resultaat van hierdie handeling, steeds relevant is vir die hede. Hierdie sinne se betekenis wat deur die gegrammatikaliseerde have/hebben/het uitgedruk word, is dus anterior betekenis.

Die konstruksie is in al drie tale egter nie ewe ver gegrammatikaliseer nie. Het in Afrikaans is die verste egrammatikaliseer op die roete [leksikaal →→ IMAGEMAQUI aspek IMAGEMAQUI tempus] en die Nederlandse hebben is verder gegrammatikaliseer as die Engelse have. Vergelyk die volgende sinne:

(21) Eng: a. *Yesterday I have eaten an apple. b. Yesterday I ate an apple. Ndl: c. Ik heb gisteren een appel gegeten. Afr: d. Ek het gister 'n appel geëet.

Die aanwesigheid van die bywoord gister/gisteren/yesterday is 'n aanduiding daarvan dat hierdie sinne na 'n bepaalde tyd in die verlede (dus definite past) verwys. In beide Afrikaans en Nederlands is dit moontlik om die bepaalde verledetyd deur het/hebben uit te druk, terwyl dit in Engels nie moontlik is om have te gebruik om bepaalde verledetydsinne uit te druk nie. Die eenvoudige verledetyd (simple past) word gebruik om in Engels die bepaalde verledetyd uit te druk.

Hoewel die moontlike gebruik van die Afrikaanse en Nederlandse het/hebben in bepaalde verledetydskonstruksies ooreenstem (soos byvoorbeeld in die wyse waarop dit in bepaalde verlede-tyd gebruik word), is die Afrikaanse het in selfs nog meer kontekste as die Nederlandse hebben bruikbaar. Vergelyk die voorbeelde in (22):

(22) Eng: a. *Thick smoke has filled the corridor. ( imperf.verledetyd) b. Thick smoke filled the corridor. c. Thick smoke was filling the corridor. Ndl: d.*Dikke rook heeft de gang gevuld. ( imperf.verledetyd) e. Dikke rook vulde de gang. f. Dikke rook was de gang aan het vullen Afr: g. Digte rook het die vertrek gevul.

In die bogenoemde kontekste kan die situasie telkens as imperfektief geïnterpreteer word, maar dit is onmoontlik om die imperfektiewe betekenis van hierdie kontekste met die Engelse en Nederlandse have-/hebben-konstruksie oor te dra (vergelyk ook Michaelis 2004:53-54). In Engels en Nederlands is dit verpligtend om die eenvoudige- (byvoorbeeld (22) b en (22) e) of progressiewe-(byvoorbeeld (22)c en (22)f) verledetydsvorme te gebruik om hierdie imperfektiewe betekenis oor te dra, terwyl dit in Afrikaans heeltemal grammatikaal is om het te gebruik om ook hierdie imperfektiewe betekenis uit te druk.

Die feit dat die Afrikaanse het-werkwoord in meer grammatikale kontekste as die Nederlandse en Engelse ewekniewerkwoorde gebruik kan word, is 'n aanduiding daarvan dat die Afrikaanse het verder gegrammatikaliseer is as die Nederlandse hebben en die Engelse have. Die Nederlandse hebben is op sy beurt weer verder gegrammatikaliseer as die Engelse have. Hierdie veralgemening van die Afrikaanse het-werkwoord verduidelik waarom die Afrikaanse het ge-verledetydskon-struksie aspektueel meerduidig is, aangesien die het in betekenis só veralgemeen het dat dit afstand doen van grammatikaal-aspektuele betekenis (d.i. perfektiewe of imperfektiewe betekenis) en gewoon tempusbetekenis uitdruk.

'n Verdere gevolg van Afrikaanse het-konstruksie se veralgemening van 'n aspek- tot 'n tempusmerker, is dat dit gebruik kan word in kontekste waar die gebruik van have of hebben in Engels en Nederlands onmoontlik is. 'n Voorbeeld hiervan is die sogenaamde "oop voorwaardelike konstruksie" (open conditional construction) (Mittwoch et al. 2002:748). Vergelyk die volgende voorbeeldsinne:

(23) Eng:a. If he bought it at that price, he got a bargain.viiiNed:b.Als hij het voor die prijs kocht, kreeg hij een koopje.ix Afr:c. As hy dit teen daardie prys gekoop het, het hy 'n winskopie gemaak.

(24) Eng: a. If he had bought it at that price, he would have got a bargain. Ned:b.Als hij het voor die prijs had gekocht, zou hij een koopje hebben gekregen. Afr:c. As hy dit maar teen daardie prys gekoop het, het hy 'n winskopie gemaak.

In Engels en Nederlands word die eenvoudige verledetyd gebruik om 'n oop voorwaarde aan te dui (vergelyk(23)a en (23)b), wat beteken dat daar nie duidelikheid is of die subjek wel die item aangekoop het teen 'n winskopie, al dan nie. Dit is dus eerder 'n hipotetiese stelling. Indien have/ hebben egter in die voorwaardekonstruksie gebruik word, verander die betekenis na irreaal, oftewel teenfeitlik: die subjek het sy kans verspeel om die item teen 'n winskopie te koop. Mittwoch et al. (2002:784) noem hierdie ongerealiseerde voorwaardelike konstruksie 'n "afstandsvoorwaarde" (remote conditional) (vergelyk (24)a en (24)b). In Afrikaans word het in beide tipes voorwaardekonstruksie gebruik - dus in die geval van 'n hipotetiese stelling, sowel as in 'n teenfeitlike stelling. Om 'n niemeerduidige teenfeitlike betekenis te impliseer, moet verdere konstruksies, byvoorbeeld die bywoord maar tot die voorwaardelike sin gevoeg word (vergelyk voorbeeldsinne (23)c en (24)c).

 

3. GRAMMATIKALISERING VAN DIE AAN DIE- EN DIE BESIG-PROGRES- SIEWE KONSTRUKSIES

In die hipotese is gestel dat daar, net soos die Nederlandse en Afrikaanse VpQS-progressiewe konstruksies, ooreenstemming bestaan in die wyse waarop hierdie nabyverwante tale se ander twee ewekniekonstruksies, d.i. die aan het/aan die- en die bezig/besig-perifrases, progressiewe betekenis uitdruk.

In die volgende gedeelte word aangetoon hoe hierdie ewekniekonstruksies tot stand gekom het. Ook die vormlike ooreenkomste en verskille tussen die Afrikaanse en Nederlandse konstruksies sal hier aandag geniet.

3.1 Die leksikale oorsprong van progressiewe konstruksies

Soos genoem, grammatikaliseer konstruksies volgens vasgestelde roetes. Hierdie grammatika-liseringsroete is in een rigting en ontwikkel vanuit 'n bepaalde leksikale oorsprong. Dit blyk dat een van die mees algemene leksikale oorspronge vir progressiewe konstruksies, konstruksies met lokatiewe betekenis is (Bybee et al. 1994:129). Die motivering vir die ontwikkeling van 'n progressief uit lokatiewe konstruksies is waarskynlik as gevolg van die konnotasie van "is op die plek waar V plaasvind" ("be in the place of VERBing") of "wees by V" ("be at VERBing") (Bybee et al. 1994:129-130). Die hipotese wat Bybee et al. (1994:131) stel, is dat, behalwe vir enkele bepaalde uitsonderings, alle progressiewe konstruksies uit lokatiewe betekenis ontwikkel het:

Thus one strong hypothesis for sources of progressives would be that a progressive involving a stative auxiliary always derives from a construction which originally included an element with locative meaning. Or, stated another way, aside from movement sources, reduplications, and constructions with verbs meaning "to keep on", all progressives derive from locative constructions. (Bybee et al. 1994:131)

Bybee et al (1994:131) toon aan dat Heine (1990) egter 'n verdere leksikale oorsprong aantoon. Volgens hom kan progressiewe konstruksies ook afgelei word van gelykstellende sinne in die vorm van "Xis a Y" soos byvoorbeeld He is (an) eating (one). Verder is daar ook bewegings-werkwoorde geïdentifiseer wat as leksikale oorsprong dien vir progressiewe konstruksies. Die Spaanse werkwoord seguir ("om te volg") word byvoorbeeld gebruik om kontinuatiewe aspek aan te dui, en in Nederlands en Afrikaans kan die perifrastiese konstruksie loop te VINF/loop en VmF gebruik word om progressiewe betekenis uit te druk. Die ooreenkoms tussen lokatiewe en bewegingswoorde is dat albei 'n mate van lokatiewe betekenis uitdruk. Albei tipes konstruksies sê iets oor die ruimtelike plasing van die subjek en die aktiwiteit - hetsy dat die subjek êrens geplaas is en iets doen, óf dat die subjek (rond)beweeg (in 'n ruimte) terwyl hy iets doen (Bybee et al. 1994:133).

Garcia (1990) wys daarop dat perifrastiese konstruksies ontwikkel om betekenis uit te druk wat nie reeds grammatikaal deur die huidige taalkonstruksies uitgedruk word nie. Alle tale het maniere om hedetyd en voortdurende aktiwiteite uit te druk, maar tale sonder eksplisiete progressiewe grammatikale items wat progressiwiteit uitdruk, gebruik gewoonlik dieselfde middele vir habituele situasies, voortgesette toestande en alle ander hedetydsituasies (Bybee et al. 1994:133).

Bybee et al. (1994:133) bespreek die antwoord op die vraag in (25) as voorbeeld:

(25) Q: Where is Lou? A: He is sleeping.

Die meer geskikte antwoord op die vraag sou waarskynlik eerder kon wees "in his bedroom", maar die progressiewe konstruksie "he is sleeping" bied meer informasie aan. Enersyds bied dit lokatiewe inligting aan, aangesien daar binne hierdie konteks aangeneem kan word dat Lou in die slaapkamer is. Andersyds bied hierdie antwoord ook inligting rakende 'n aktiwiteit waarmee Lou homself besig hou. 'n Progressiewe konstruksie verskaf dus 'n gepaste antwoord op 'n lokatiewe navraag.

Indien daar na die betekeniselemente van progressiewe perifrastiese konstruksies gekyk word, blyk dit dat die oorspronklike funksie van die progressief was om plasing van die agente te midde van 'n aktiwiteit aan te toon. Nielokatiewe progressiewe konstruksies is daarom baie skaars -".if they exist at all" (Bybee et al. 1994:135). Die semantiese verandering wat plaasvind in die ontwikkeling van die progressief na 'n volgende konstruksie, is die geleidelike verandering weg vanaf die oorspronklike, voller betekenis van hierdie konstruksie. Die oorspronklike betekenis van die progressiewe konstruksie is dat:

A. 'n Agent

B. ruimtelik geplaas is

C. te midde van

D. 'n aktiwiteit

E. op die oomblik waarna verwys word. (Bybee et al. 1994:136)

Op grond van hierdie algemene verskynsel word daar gereeld na progressiewe konstruksies verwys as voorbeelde van temporele kategorieë wat gebaseer is op lokatiewe kategorieë (Anderson 1973; Traugott 1978, soos aangehaal deur Bybee et al. 1994:137). Die vraag kan derhalwe gevra word of die leksikale oorsprong van die twee genoemde Afrikaanse perifrastiese progressiewe konstruksies, te wete die aan die- en die besig-progressiewe, met hierdie gestelde hipotese ooreenstem. In hierdie volgende gedeelte word die grammatikalisering van die twee konstruksies van naderby bekyk.

3.2 Die grammatikalisering van die aan die-progressief

Om die leksikale oorsprong en ontwikkeling van die aan die-progressiewe konstruksies aan te toon, is dit noodsaaklik om die sintaktiese struktuur van die konstruksie van naderby te bekyk. Vergelyk voorbeelde (26) en (27):

(26) Ik ben aan het lezen.

(27) Ek is aan die lees.

In hierdie Nederlandse en Afrikaanse progressiewe konstruksies word die werkwoord zijn/is gebruik, gevolg deur die abstrakte ruimtelike voorsetsel aan, wat 'n voorsetselstuk as komplement met 'n genominaliseerde infinitiewe werkwoord neem (Lemmens 2005:184). Die konstruksie kan ontleed word as 'n struktuur met drie dele: 1) die inleidende werkwoord; 2) 'n perifrastiese element en 3) 'n nominale komplement (Mortier 2008:9); vergelyk Figuur 1:

 

 

So volg die struktuur van die Nederlandse aan het-progressief - d.i. 'n voorsetselstuk en 'n verbale infinitief as hoofwerkwoord - die reëls van die Nederlandse sintaksis. Infinitiewe kan in hierdie konteks funksioneer as nomina en is onsydig; om hierdie rede word die lidwoord het gebruik (Lemmens 2005:184). Die voorsetsel aan kan ook gebruik word om aan te toon waar die subjek van die sin homself bevind. Die lokatiewe oorsprong van die aan het/aan die-progressief is dus duidelik, aangesien die aan-voorsetsel in sy leksikale gebruik aandui dat 'n objek hom in die nabye omgewing van iets bevind (byvoorbeeld (28)), of selfs "aanraak" (byvoorbeeld (29)) (Den Boon & Geeraerts 2005).

(28) Ik ben aan het station met een groot transport kongresafgevaardigden en een belangrijke post en kan niet verder.x

(29) Op welke punten zitten de panlatten gespijkerd aan het dak?xi

Die verskil tussen die Afrikaanse en Nederlandse konstruksie is dat Afrikaans wat geen het-lidwoord het nie, gevolglik die bepaalde lidwoord die gebruik. Die lidwoord word gevolg deur die ongemerkte, genominaliseerde infinitiewe werkwoord, soos in (30):

(30) Afr:a. Ek is aan die lees.

(31) Ndl:b. Ik ben aan het lezen.

Die Afrikaanse variasiekonstruksie van die aan die-progressief, naamlik die aan 't-progressief, stem vormlik meer ooreen met die Nederlandse konstruksie. Die afkappingsteken in 't dui die afwesigheid van uitgespreekte [ha] aan. Slegs die [t] van die Nederlandse het ([hat]) word behou en die oorspronklike 17de-eeuse Nederlandse aan het-konstruksie is in Afrikaans foneties gereduseer of saamgesmelt tot aan 't. Hierdie redusering van aan het tot aan 't word in Nederlands ook gevind.

In Afrikaans word hierdie twee konstruksies, dit is die aan die- en die aan 't-progressiewe, beide gebruik. Soos in Breed en Brisard (voorgelê) aangetoon word, is beide konstruksies nie ewe frekwent nie en word die konstruksies nie op presies dieselfde wyse gebruik nie.

Die totstandkoming en ontwikkeling van aan die tot progressiewe konstruksie, ondersteun dus Bybee et al. (1994) se hipotese dat die leksikale oorsprong van progressiewe konstruksies lokatief van aard is.

3.3 Die grammatikalisering van die besig-progressief

Besig se leksikale betekenis impliseer dat 'n subjek betrokke is by 'n proses of situasie. Besig dien as 'n adjektief by die kopula is of wees om 'n bepaalde kwaliteit van die subjek aan te toon, byvoorbeeld sinne (32)en (33):

(32) Hy is besig met takies in en om die huis.

(33) Die dorp is baie besig.

Anders as aan die, kan geen lokatiewe interpretasie aan besig gekoppel word wat sal verklaar waarom dit tot progressief sou kon ontwikkel nie. Onses insiens kan die ontwikkeling van die leksikale konstruksie besig tot 'n grammatikale konstruksie wat progressiewe aspek uitdruk, eerder verklaar word aan die hand van die beginsel van leksikale gemotiveerdheid - besig se leksikale gebruik as adjektief hou betekenis in wat op sigself 'n mate van progressiewe betekenis uitdruk.

In beide Afrikaans en Nederlands kan 'n perifrastiese konstruksie met besig/bezig gebruik word om progressiewe betekenis uit te druk (Geleyn 2010:1). Sin (34) is 'n voorbeeld van die Afrikaanse konstruksie, terwyl sinne (35) tot (37) voorbeelde is van die Nederlandse konstruksie.

(34) Ek is besig om die kos te maak.

(35) Ben jij bezig de krant te lezen?

(36) Ik ben bezig om mijn stukjes verder uit te werken.

(37) We waren net bezig met eten.xiv

Uit die voorbeelde is dit duidelik dat die Nederlandse konstruksie vormlike variasie toon, terwyl dieselfde vormlike moontlikhede nie ewe algemeen in Afrikaans bestaan nie. Die Afrikaanse progressiewe perifrase vorm hoofsaaklik deur besig+om+te + V,9 terwyl die Nederlandse konstruksie op drie wyses kan vorm, te wete bezig+te+V soos in (35), bezig+om+NOBJ+te+V soos in (36) en bezig+met+V soos in (37) (vergelyk Geleyn 2010:1, Geleyn & Colleman 2014:57; sowel as Breed 2012:106-112).

Behalwe vir onlangse werk gedoen deur Geleyn (2010) en Geleyn en Colleman (2014), het die Nederlandse bezig-progressief nog nie veel aandag in die literatuur oor die Nederlandse progressief gekry nie, aangesien dit skynbaar nie dikwels voorkom nie. Mortier (2008:9) bevraagteken selfs die perifrastiese aard van die Nederlandse bezig-progressief. Die rede hiervoor kan waarskynlik toegeskryf word aan die feit dat dié konstruksie sintakties nog 'n onvaste struktuur het.

The construction bezig zijn met is compatible with the infinitive as well as with nouns (for example ik ben besig met de was). It is, however, doubtful that this construction, as well as its variants with met + infinitive and te + infinitive, is really periphrastic by nature. We therefore chose not to treat them under the heading of verbal periphrases. (Mortier 2008:9)

Vanweë die frekwensie van die konstruksie (vergelyk Breed & Van Huyssteen voorgelê), sowel as die vaste sinstruktuur, bestaan daar egter geen twyfel oor die perifrastiese aard van die Afrikaanse besig-progressief nie. Die items waaruit die Afrikaanse besig-konstruksie bestaan, kan geanaliseer word as VKOP + besig + om + te +VJNF.

Die totstandkoming van die besig-progressief kan onses insiens toegeskryf word aan twee gelyktydige taalveranderingsprosesse wat 'n invloed gehad het op die ontwikkeling van die perifrastiese konstruksie, te wete die grammatikalisering van om te, asook die grammatikalisering van besig.

Eerstens word die konstruksie om te in Afrikaans gebruik as deel van 'n doelwitskonstruksie om aan te dui wat die doelwit of motivering is waarom 'n bepaalde aksie uitgevoer word, byvoorbeeld (38). Terselfdertyd word om te in Afrikaans gebruik om die infinitiewe werkwoord in sommige sinne te merk. In (39) is bly die infinitiewe werkwoord wat ingelei word deur om te en gesmeek tree op as die hoofwerkwoord van die sin (Ponelis 1979:208). 'n Moontlike afleiding wat gemaak kan word, is dat die doelwitkonstruksie om te, net soos die Engelse doelwitkonstruksie to (vergelyk Hopper & Traugott 2003:2-3), verder gegrammatikaliseer het tot infinitiefmerker:

(38) Ek kom om jou te help.

(39) Ek het hulle gesmeek om te bly.xv

Die tweede ontwikkeling wat relevant is vir die totstandkoming van die besig-progressiewe perifrastiese konstruksie, te wete die grammatikalisering van besig, is egter moeiliker om aan te toon. Dit behoort vanuit 'n diakroniese perspektief benader en gestaaf te word en aan die hand van 'n diakroniese korpus getoets te word. Hierdie studie word egter vanuit 'n sinkroniese perspektief aangepak en slegs 'n sinkroniese korpus is in hierdie studie gebruik. Daar is tans nog geen voldoende Afrikaanse diakroniese korpus beskikbaar wat gebruik kan word om die historiese ontwikkeling van die konstruksie aan te toon nie. Die ontwikkeling van besig tot progressiewe merker, word daarom slegs as 'n hipotese aangebied. Hoewel ons besef dat die verandering gradueel plaasgevind, gaan ons tog poog om dit aan die hand van vier onderskeibare fases te illustreer.

Die adjektief besig word in sy leksikale betekenis gebruik om aan te dui dat 'n subjek "druk, bedrywig", "werksaam, aan die werk" is (Pharos 2009), soos in voorbeeldsinne (40) en (41):

(40) Los my uit, ek is besig!

(41) Ek is besig met die kos, dit is amper klaar.

In die leksikale gebruik is die besig-konstruksie kombineerbaar met 'n voorsetselstuk (byvoorbeeld met die kos). Die is word geanaliseer as die koppelwerkwoord en die besig as die adjektiefstuk. Dié konstruksie is hoofsaaklik beperk tot naamwoordelike konstruksies en nie oor die algemeen kombineerbaar met werkwoorde nie (byvoorbeeld (42)), aangesien besig se leksikale gebruik vereis dat die subjek besig moet wees "met iets".

(42) Ek is besig met eet.10

In die volgende fase van ontwikkeling tot progressiewe konstruksie veralgemeen is besig om te kombineer met die doelwitkonstruksie om te. Die konstruksie kry die letterlike betekenis "is besig met die doel om te V ". Op hierdie stadium is die konstruksie dus kombineerbaar met VINF wat uitdruk dat die subjek ten doel het om die aksie wat deur die werkwoord uitgedruk word, uit te voer (byvoorbeeld (43)). Tydens hierdie fase het die eenheidstatus van is besig wel reeds begin vorm en die proses van ouksiliëring het al begin.

(43) Ek is besig om te help. Lett.: "Ek is besig met die doel om te help."

Die derde fase van die ontwikkeling tot progressiewe perifrase, is naamlik dat die om te in die is besig om te-konstruksie veralgemeen vanaf doelwitkonstruksie tot infinitiefmerker. Die werkwoorde wat in die konstruksie gebruik kan word, is nie meer slegs werkwoorde wat die doelwit van die subjek uitdruk nie, maar het veralgemeen tot enige werkwoord wat progressief van aard kan wees, soos in voorbeeld (44):

(44) Die vuur is besig om te brand. Lett.: *Die vuur is besig met die doel om te brand.

Die semantiese beperking van die Nederlandse bezig om te-progressiewe konstruksie word hier vanuit 'n sinkroniese perspektief aangebied om die geldigheid van die gestelde hipotese te toets. Die bezig om te-progressief, byvoorbeeld (36), is, in teenstelling met bezig te (byvoorbeeld (34)) en bezig met (byvoorbeeld (37)), semanties skynbaar beperk tot teliese situasies. In Nederlands kan die perifrastiese konstruksie bezig om te VINFoënskynlik slegs gebruik word in situasies waar 'n resultaat verwag word, terwyl die ander twee variasies van die bezig-progressief ook met aktiwiteitswerkwoorde kan kombineer. Die bezig om te-konstruksie is dus meer semanties beperk as die Afrikaanse besig om te-konstruksie, aangesien laasgenoemde konstruksie met beide teliese en ateliese situasietipes kan kombineer. Dit is dus waarskynlik moontlik dat daar 'n fase in die ontwikkeling van die Afrikaanse besig-progressiewe konstruksie was, waar besig om te semanties beperk was tot situasies waar 'n resultaat verwag word (dus teliese situasies).

In die vierde en laaste van die ontwikkeling tree die nuutgevormde perifrase is+besig+om+te as 'n volledig-geöuksilieerde konstruksie op. Hierdie frase kan as 't ware as 'n hulpwerkwoordstuk gesien word met die funksie om aspektuele betekenis uit te druk. Hierdie fase is 'n direkte gevolg van die semantiese verbleking wat in die derde fase van ontwikkeling plaasgevind het.

Die voorgestelde ontwikkeling van die besig-konstruksie tot perifrastiese progressiewe konstruksie kan gevolglik geanaliseer word soos in Figuur 2:

 

4. SAMEVATTING

Die doel van hierdie artikel was om ondersoek in te stel na die wyse waarop die aan die- en die besig-perifrastiese konstruksies tot stand gekom het. Daar is vanuit 'n grammatikaliserings-perspektief aangedui dat die aan di'e-progressief, net soos die Nederlandse ewekniekonstruksie, te wete die aan het-progressief, vanuit 'n lokatiewe leksikale konstruksie, naamlik 'n konstruksie wat met die aan-voorsetsel vorm, ontwikkel het. Dit ondersteun Bybee et al. (1994) se hipotese dat progressiewe konstruksies hoofsaaklik vanuit lokatiewe konstruksies ontwikkel. Daar is ook aangetoon dat die twee bes/g/bez/g-ewekniekonstruksies egter nie 'n lokatiewe oorsprong het nie. Die leksikale oorsprong van besig as progressiewe merker stem verder ook nie ooreen met enige van die alternatiewe leksikale oorspronge wat aangedui word deur Heine (1990) nie - dit is gelykstellende sinne of bewegingswerkwoorde. Die ontwikkeling van besig tot progressief blyk tipologies gesproke dus relatief uniek te wees. Die ontwikkeling kan onses insiens verklaar word aan die hand van die leksikale betekenis van besig, aangesien besig as ongegrammatikaliseerde adjektief op sigself 'n mate van progressiewe betekenis uitdruk.

In die artikel "Aan die en besig in Afrikaanse progressiwiteitskonstruksies: 'n korpusondersoek" (Breed & Van Huyssteen voorgelê) fokus ons op die hedendaagse wyses waarop die twee konstruksies gebruik word om progressiewe betekenis uit te druk. Die resultate van 'n korpusondersoek word aangebied, om sodoende aan te toon hoe die konstruksies verskil in terme van i) frekwensie; ii) die verhouding tussen leksikale en aspektuele gebruike van die konstruksie; iii) werkwoordkollokasies.

 

BIBLIOGRAFIE

Anderson, J.1973. An essay concerning aspect: some considerations .The Hague: Mouton de Gruyter. Booij, G. 2003. In Ackerman, Blevins & Stump (eds). Paradigms and periphrases. Chicago: University of Chicago Press, pp.79-104.         [ Links ]

Booij, G. 2004. In De Schutter (ed). Taeldeman man van de taal, schatbewaarder van de taal. Gent: Academia Press, pp.97-106.         [ Links ]

Booij, G. 2008. In Bergs & Diewald (eds). Constructions and language change .Berlin: Mouton de Gruyter, pp.81-106.         [ Links ]

Booij, G. 2010. Construction morphology. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Brandford, W. & Claughton, J.W. 1995. In Mesthrie (ed). Language and social history: studies in South African sociolinguistics. Cape Town: David Philip, pp. 209-221.         [ Links ]

Breed, C.A. 2012. Die grammatikalisering van aspek in Afrikaans: 'n semantiese studie van die perifrastiese progressiewe konstruksies. Ongepubliseerde PhD-proefskrif, Noordwes-Universiteit.         [ Links ]

Breed, C.A. & Brisard, F. Voorgelê. Hoe sit, staan en lê progressiwiteit in Afrikaans loop en uitdruk. (ongepubliseerde artikel, voorgelê         [ Links ]).

Breed, C.A. & Van Huyssteen, G.B. Voorgele. Aan die en besig in Afrikaanse progressiwiteitskonstruksies: 'n korpusondersoek.(ongepubliseerde artikel, voorgelê         [ Links ]).

Bybee, J.L. & W. Pagliuca, W. 1985. In Fisiak (ed). Historical semantics, historical word formation. The Hague: Mouton de Gruyter, pp. 59-83.         [ Links ]

Bybee, J.L., Perkins, R.D. & Pagliuca, W. 1994. The evolution of grammar: tense, aspect and modality in the languages of the world. Chicago: University of Chicago Press.         [ Links ]

Campbell, L. & Janda, R. 2001. Introduction: conceptions of grammaticalization and their problems. Language sciences, 23(2-3):93-112.         [ Links ]

Carstens, W.A.M. 1989. Norme vir Afrikaans. Pretoria: Academica.         [ Links ]

Comrie, B. 1976. Aspect: an introduction to the study of verbal aspect and related problems. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Croft, W. 1990. Typology and universals. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Den Boon, T. & Geeraerts, D. 2005. Van Dale Groot Woordenboek der Nederlandse Taal. Utrecht/Antwerpen: Van Dale Lexicografie. http://www.vandale.be/opzoeken?pattern=aan&lang=nn [28 Maart 2012\.         [ Links ]

Garcia, H. 1990. In Andersen & Koerner (eds). 8th International Conference on Historical Linguistics, Lille, 30 August - 4 September 1987. Amsterdam: John Benjamins, pp. 141-161.         [ Links ]

Geleyn, T. 2010. De progressieve constructies bezig zijn en besig wees: een contrastief corpusondersoek Nederlands-Afrikaans. Ongepubliseerde MA-verhandeling. Universiteit Gent.         [ Links ]

Geleyn, T. & Colleman, T. 2014. De progressieve constructies bezig zijn en besig wees: Een contrastief corpusonderzoek Nederlands-Afrikaans. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 54(1):56-74.         [ Links ]

Heine, B. & Reh, M.1984. Grammaticalization and reanalysis in African languages. Hamburg: Helmut Buske Verlag.         [ Links ]

Heine, B. 1990. In Pagliuca (ed). Perspectives on grammaticalization. Amsterdam: John Benjamins, pp. 255287.         [ Links ]

Hopper, P.J. & Traugott, E.C. 2003. Grammaticalization. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Langacker, R.W. 1977. In Li (ed). Mechanisms of syntactic change. Austin: The university of Texas Press, pp. 57-139.         [ Links ]

Lehmann, C. 1995. Thoughts on grammaticalization. 2nd ed. Erfurd: Arbeitspapiere des Seminars für Sprachwissenschaft der Universität Erfurt.         [ Links ]

Lemmens, M. 2003. In Newman (ed). The linguistics of sitting, standing and lying. Amsterdam: John Benjamins, pp. 103-139.         [ Links ]

Lemmens, M. 2005. Aspectual posture verb constructions in Dutch. Journal of Germanic linguistics, 17(3):183-217.         [ Links ]

Lord, C. 1976. In Steever, Walter & Mufwene (eds). Papers from the parasession on diachronic syntax, April 22. Chicago: Chicago Linguistic Society, pp. 179-191.         [ Links ]

Michaelis, L.A. 2004. Type shifting in construction grammar: an integrated approach to aspectual coercion. Cognitive linguistics, 15(1):1-67.         [ Links ]

Mittwoch, A., Huddleston, R. & Collins, P. 2002. The clause: adjuncts. In Huddleston & Pullum (eds). The Cambridge grammar of the English language. Cambridge: Cambridge University Press, pp. 663-785.         [ Links ]

Mortier, L. 2008. An analysis of progressive aspect in French and Dutch in terms of variation and specialization.Languages in contrast, 8(1):1-20.         [ Links ]

Pharos Verklarende Afrikaanse Woordeboek. 2009. Besig. Pharos aanlyn woordeboek. www.pharosonline.co.za [31 Julie 2013 geraadpleeg\.         [ Links ]

Ponelis, F.A.1979. Afrikaanse sintaksis. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Raidt, E.H. 1972. Afrikaans en sy Europese verlede. Kaapstad: Nasou Beperk.         [ Links ]

Rhee, S. 2008. Cognitive semantic representation of instrumentals: crosslinguistic and grammaticalization perspectives. Studies in modern grammar, 54:123-146.         [ Links ]

Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. 2011. Taalkommissiekorpus 1.1. Noordwes-Universiteit: CTexT.         [ Links ]

Traugott, E.C.1978. On the expression of spatio-temporal relations in language. Greenberg (ed). Word structure. Stanford: Stanford University Press, pp. 369-400.         [ Links ]

Van Pottelberghe, J. 2002. Nederlandse progressiefconstructies met werkwoorden van lichaam. Nederlandse taalkunde, 7:142-174.         [ Links ]

Van Veen, P.A.F. & Van der Sijs, N. 1997. Van Dale etymologisch woordenboek. Utrecht: Van Dale Lexicografie.         [ Links ]

Weinreich, U.1963. On the semantic structure of language. In Greenberg (ed). Universals of language. Cambridge: MIT Press, pp. 142-216. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Jaargang 54 No. 4: Desember 2014        [ Links ]

 

 

Adri Breed is 'n senior dosent in Afrikaanse taalkunde aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus. In 2007 voltooi sy haar Meestersgraad in Afrikaanse letterkunde (Skryf-kuns) aan die NWU en in 2012 haar PhD in Afrikaanse taalkunde. Sy spandeer ongeveer tien maande van haar studietydperk in België, as lid van die Universiteit Antwerpen se Centrum voor Grammatica, Cognitie en Typologie (CGCT).
Adri Breed is a senior lecturer in Afrikaans linguistics at the North-West University. She completed her Master's degree in Afrikaans Literature (Creative Writing) in 2007 and her PhD in Afrikaans linguistics in 2012, both at the NWU. She spent almost ten months of her study term in Belgium, as a member of the University of Antwerp's Center for Grammar, Cognition and Typology (CGCT).

 

 

Gerhard van Huyssteen is professor in Afrikaanse taalkunde en taaltegnologie aan die Noordwes-Universiteit. Hy dien sedert 2005 op die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en is tans voorsitter van dié liggaam. Vanaf2009 dien hy ook op die paneel van mensetaaltegnologiekundiges van die Departement Kuns en Kultuur. Hy is onder andere ontvanger van die Elizabeth Eybers-beurs, asook van die CL Engelbrecht-prys vir taalkunde-navorsing vir sy aandeel in die publikasie van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls. Hy het al ver-skeie grootskaalse, internasionale multimiljoen-randprojekte gelei, waaronder projekte vir Microsoft, MTN en die Suid-Afrikaanse regering. Van Huyssteen is veral bekend vir sy bydrae as taalkundige in die ontwikkeling van tekstegnologie-toepassings en verskeie elektroniese hulpbronne vir Afrikaans, asook vir sy taalvasvraprogram op Radio Sonder Grense.
Gerhard van Huyssteen is a professor in Afrikaans linguistics and language technology at the North-West University. He has been serving in the Language Commission of the South African Academy for Science and Arts since 2005, and is currently chairperson of this language standardisation body. In 2009, he was appointed as member of the HLT Expert Panel of the South African Government's Department of Arts and Culture. Van Huyssteen is the holder of the prestigious Elizabeth Eybers bursary, as well as the CL Engelbrecht Prize for Scientific Language Research for his contribution to the publication of the tenth edition of the Afrikaanse Woordelys en Spelreëls ["Afrikaans Wordlist and Spelling Rules"]. He has initiated and led numerous large-scale, international multimillion rand projects, for clients such as Microsoft, MTN and the South African Government. Van Huyssteen is best known for his contribution as a linguist in the development of real-world text-based computer applications and core computer technologies for Afrikaans, as well as for his weekly language quiz on Radio Sonder Grense.
1 Met dank aan prof. Frank Brisard (Universiteit Antwerpen, België) vir sy waardevolle bydrae tot hierdie studie. Die National Research Foundation, Suider-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek en Noordwes-Universiteit word ook bedank vir die finansiële ondersteuning wat hierdie ondersoek moontlik gemaak het. Dankie ook aan die drie anonieme keurders vir hul waardevolle bydrae tot die verbetering van die artikelinhoud.
2 Die genoemde perifrastiese konstruksies sal voorts onderskeidelik na verwys word as aan die-, besig-en Vpos en-konstruksies. Wanneer daar na die aan die-konstruksie verwys word, sal die aan 't-variasiekonstruksie daarby ingereken of geïmpliseer wees.
3 Tensy anders aangedui, is alle Afrikaanse voorbeeldsinne geneem uit die Taalkommissiekorpus (2011). Die doel van hierdie 60 miljoen-woord-korpus is om 'n gestratifiseerde voorbeeld te wees van geskrewe Standaardafrikaans. Dit bestaan uit 'n verskeidenheid tipes tekste, byvoorbeeld prosa, akademiese tekste, koerante, tydskrifte en nie-fiksie boeke. Aangesien die korpusondersoek eers in die volgende artikel aan die bod kom, word die korpus volledig in Breed & Van Huyssteen (voorgele) bespreek.
4 Daar word voorts onderskeidelik na hierdie konstruksies verwys as aan het-, bezig- en VPOSte-konstruksies.
5 Nederlandse en Engelse voorbeeldsinne is meestal bekom vanaf internetbronne of is oorgeneem uit ander bronne. Die bronverwysings van die voorbeeldsinne word in die eindnotas van die artikel aangedui.
6 Booij (2003), (2004), (2008); Geleyn (2010); Geleyn & Colleman (2014); Lemmens (2003), (2005); Mortier (2008); Van Pottelberghe (2002).
7 Vergelyk Bybee et al (1994:4-5); Croft (1990:257); Heine & Reh (1984:11-12); Hopper & Traugott (2003:1); Lehmann (1995:3).
8 Hê is die infinitiewe werkwoordvorm en impliseer in hierdie artikel alle ander vorme van hierdie
werkwoord, byvoorbeeld het en gehad.
9 Geleyn & Colleman (2014:66) vind in hul Afrikaanse korpus enkele voorbeelde van ’n progressief
wat vorm met besig+met+V en dui aan dat hierdie konstruksie ’n “marginale konstruksie” is. In die
TK-korpus word ses voorbeelde van hierdie konstruksie gevind, naamlik saam met die werkwoorde
[kos] aandra, [kos] kook, skilder, skryf en teken. Hoewel die resultate te min is om ’n duidelike
gevolgtrekking te maak rakende ’n moontlike gespesialiseerde gebruik van die konstruksie, is dit tog
opmerklik dat vier van die vyf werkwoorde kreatiewe handeling uitdruk.
10 Soos aangetoon in Voetnota 9, is daar wel enkele voorbeelde van die besig+met+V-konstruksie in die TK-korpus te vinde, maar dit is nie 'n algemene konstruksie nie. Wanneer die handeling eet in die progressief aangebied word, sal die verstekkonstruksie - afgelei uit die frekwensie en werkwoord-kollokasies van beide konstruksies - eerder die besig om te-konstruksie wees as die besig met-konstruksie. Verdere navorsing sou ook uitgevoer kon word om te bepaal wat die betekeniseffek van die nominalisering van die werkwoord eet in die geval van besig met eet is en of dit eerder semanties ooreenstem met die konstruksies besig+met+die+V+van+N (24 resultate in die TK-korpus, byvoorbeeld Ons is besig met die bymekaarsit van die tydskrif) en besig+met+die+V-ing+van+N (55 resultate in die TK-korpus, byvoorbeeld. Ek hou my besig met die opeenstapeling van klein dingetjies), as met die besig om te-progressief (vergelyk ook Geleyn 2010:12-13 oor die nominalisering van werkwoord in die besig/bezig-konstruksie).