SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.54 número4"We are people. My children have faces." The natural environment and the conceptualising of the self in My Children Have Faces (Carol Campbell)Aan die and besig in Afrikaans progressive constructions: the origin and development índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.54 no.4 Pretoria dic. 2014

 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS

 

Die onderrig van Afrikaanse woordeskat en variëteite vanuit 'n inklusiewe taalgeskiedkundige perspektief

 

Teaching Afrikaans vocabulary and varieties from an inclusive language-historical perspective

 

 

Ronel Van OortI; Wannie CarstensII

IVakgroep Onderwysafrikaans, Fakulteit Opvoedings- wetenskappe, Potchefstroomkampus,Noordwes-Universiteit ronel.vanoort@nwu.ac.za
IIAfrikaans en Nederlands, Skool vir Tale, Fakulteit Lettere en Wysbegeerte, Potchefstroomkampus, Noordwes-Universiteit wannie.carstens@nwu.ac.za

 

 


OPSOMMING

Hierdie artikel fokus op die onderrig van die (geleende) woordeskat van Afrikaans (Intermediêre Fase) en die streeksvariëteite van Afrikaans (Senior Fase) aan die hand van 'n inklusiewe taalhistoriese perspektief. In breë trekke behels die inklusiewe ontwikkelingsgeskiedenis van Afrikaans roetes van verskillende groepe mense oor oseane en kontinente heen wat aan die suidpunt van Afrika ontmoet het. Danksy dié (onwaarskynlike) samekoms van Europese setlaars, inheemse Khoi en slawe uit onder andere Asië ontwikkel 'n taal in Afrika met 'n penwortel in Wes-Europa, maar met duide-like wortels in Asië en Afrika (Hugo 2009; Raidt 1991). Pogings van die gekoloniseerde Khoi en ingevoerde slawe om Nederlands (taal van die koloniseerders) aan die vroeë Kaap te praat, het aanleiding gegee tot die ontstaan van die historiese Westelike en Suidelike Afrikaanse aanleerdersvariëteite van die Khoi en van die slawe. Hierdie aanleerdersvariëteite het belangrike kulturele en taalbydraes tot die ontwikkeling van die Afrikaanse woordeskat gelewer wat sterk in moderne Afrikaans na vore kom. Kennis van en insig in hierdie "ryk en sterk erfenis" moet volgens Boesak (2007) "ontdek, erken en omarm" word, aangesien die miskenning van "gekleurde" bydraes in die ontwikkeling van Afrikaans tot in die onlangse verlede persepsies verstewig het dat Afrikaans slegs 'n "wit" herkoms het (Carstens 2013). Om verhoudings tussen Afrikaanssprekendes én ander Suid-Afrikaners te verbeter, behoort die eksklusiewe weergawe van die Afrikaanse taalgeskiedenis met die inklusiewe ontwikkelingsgeskiedenis van Afrikaans (wat die bydraes van groepe uit Wes-Europa, Afrika en Asië in die ontstaan van Afrikaans insluit) vervang te word. Die aangewese vertrekpunt daarvoor is die skoolgaande jeug van Suid-Afrika.

Trefwoorde: Afrikaans, woordeskat, variëteite, eksklusief, inklusief, sewentiende-eeuse Kaap, volgehoue taalkontak en interaksie, ontwikkelingsgeskiedenis, kulturele en sosiopolitieke milieu, taalinvloede, erkenning, onderrig


ABSTRACT

This article focuses on the teaching ofthe (borrowed) vocabulary of Afrikaans (in the Intermediate Phase) and the regional varieties of Afrikaans (in the Senior Phase) on the basis of an inclusive historical language perspective The seventeenth-century VOC ("Vereenigde Oostindische Compagnie") sea route between the Netherlands and Batavia led to the establishment of the Cape maritime supply station in 1652. This refreshment station became the meeting point for the languages, cultures and religions of three continents (Titus 2007:2). This unique coming together of divergent (mainly Western and Arabic) language groups required a common means of communication and this led to the evolution of Afrikaans. It is a modern language born and developed on the African continent but with clear European (Western), Arabic (Eastern) and African origins. The VOC 's objectives in establishing a supply station did not include the establishment of a colony or by extension, a new language. However, most of the Europeans wanted to settle at the Cape permanently and linguistic contact between them, the indigenous Khoi and the slaves imported from the East formed the basis for the origin of Afrikaans. Ongoing contact and interaction led to the development of specific socio-cultural and -linguistic circumstances that nourished the further evolution of Afrikaans:

  • The European colonisers (the rulers in this situation) had great difficulty in mastering the indigenous Khoi languages. The colonised Khoi (the subordinates in this situation) therefore had no choice but to learn to communicate in Dutch.
  • The settlers initially consisted mainly of men, which led to the forming of relationships between the men and slave and Khoi women. This implies that there was a need to communicate, which resulted in acculturation.
  • The assimilation and integration of the Khoi and the imported slaves into (Western) Cape society played a role with regard to the socio-cultural and -linguistic aspects of the Cape 's multilingual and -cultural society.

Afrikaans is therefore the communal creation of Europeans and non-Europeans, of white and black, of rulers and slaves (Giliomee 2004:42). It is in essence Dutch; however, the role played by slaves and the Khoi in its beginnings (the start of colonisation in 1652), must be taken into account and acknowledged (Du Plessis H. 1994:122). The vocabulary and the modern variety of Afrikaans are proof of its evolution through language contact since the initial contact between the various language groups at the Cape during the seventeenth century. The meeting of and interaction between three groups (Western Europeans, imported slaves from the East and indigenous Khoi) allowed a unique language-contact situation to develop. This situation has been underestimated in the past because of the socio-political (apartheid) circumstances in South Africa. It suited the socio-political philosophy of the previous apartheid government to focus on the European origins of Afrikaans, although Afrikaans is a language in which the sounds of Dutch, Malay, Creole-Portuguese, as well as Indian, Arabic, European and African languages can be heard. It became a new language for a new nation formed out of the melting pot of racial groupings in South Africa.

Key words: Afrikaans, lexicon, variety, exclusive, inclusive, seventeenth-century Cape, ongoing contact and interaction, evolution of Afrikaans, socio-cultural and -linguistic circumstances, recognition, teaching


 

 

1. INLEIDING

Dit was (is steeds) nie duidelik hoe die Afrikaanse taallegkaart presies inmekaar steek nie, aangesien die studie oor die ontwikkeling van Afrikaans aanvanklik (as gevolg van sosiopolitieke, -kulturele en -linguistiese oorwegings van die vorige eeu) slegs dele van die volle spektrum van die ontwikkelingsgeskiedenis van Afrikaans behels het. Reeds dekades vóór1 die ontstaan van die Apartheids-era (1948) het 'n eksklusiewe beskouing oor die Afrikaanse taalgeskiedenis aanleiding gegee tot die (wan-)persepsie dat Afrikaans uitsluitlik 'n "wit" skepping is. Hierteenoor het inklusiewer benaderings - danksy die opkoms van die sosiolinguistiek sedert die sestigerjare van die vorige eeu - ontwikkel wat die "onlosmaaklike" verband tussen taal en die samelewing waarin dit voorkom, beklemtoon (Groenewald 2002:1). Taalkontak en interaksie aan die sewentiende-eeuse Kaap tussen Europese groepe uit die Weste, inheemse groepe uit Afrika en ingevoerde slawegroepe uit die Ooste het in die bepaalde én bepalende sosiopolitieke, -kulturele samelewing bygedra tot die inklusiewe ontwikkeling van Afrikaans.

Die inklusiewe ontwikkelingsgeskiedenis van Afrikaans - wat die bydraes van die Nederlandse matrilek en die interlekte van Khoi-groepe en ingevoerde slawegroepe verreken en omhels - dra by tot 'n waardering van die gedeelde (maar terselfdertyd ook verdelende) verlede van wit, bruin en swart moedertaalsprekers van Afrikaans. Sedert 1994 is hernieude pleidooie deur akademici soos Carstens (2012) en Le Cordeur (2012) en historici soos Giliomee (2004:41-42) gelewer dat die inklusiewe aard van Afrikaans erken moet word. Carstens (2013) reken tereg dat die verhaal van Afrikaans "... nog nie na behore vertel is nie." Die Afrikaansklas is volgens Van Oort (2008) die aangewese plek om leerders van fasette van die inklusiewe ontwikkelingsgeskiedenis van Afrikaans bewus te maak en die verhaal van Afrikaans aan hulle te vertel.

Die onderskeie nasionale skoolkurrikula wat sedert 1994 verskyn het - soos die nuutste Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (KABV) (Suid-Afrika 2011) - skryf nie enige aspekte van die inklusiewe ontwikkelingsgeskiedenis van Afrikaans voor nie. Na aanleiding van die bogenoemde ontstaan die vraag of daar binne die raamwerk van die KABV-voorskrifte enige moontlikhede - wat Grundlingh (2007:21) 'n "essensiële geskiedenispakket waarvan elke jong Suid-Afrikaner kennis moet neem" noem - bestaan om aan die hand van hierdie geskiedenis die geleende woordeskat en die Afrikaanse variëteite te onderrig.

Die doel van hierdie artikel is eerstens om aan te dui dat aspekte van die inklusiewe ontwikkelingsgeskiedenis van Afrikaans in die verlede verwaarloos is. Tweedens om sinvolle voorstelle te maak vir die onderrig van Afrikaanse woordeskat (in die Intermediêre Fase) en (streeks-)variëteite (in die Senior Fase) vanuit 'n inklusiewe taalgeskiedkundige perspektief binne die ruimte wat die NKABV (Suid-Afrika 2011) bied.

 

2. 'N BEKNOPTE OORSIG VAN DIE ONTSTAAN VAN DIE HISTORIESE AFRIKAANSE AANLEERDERSVARÏETEITE

Taal en politieke mag in die veeltalige en multikulturele Suid-Afrika is al eeue lank verweef (Du Plessis, H. 2003a:32). Só het die VOC se koloniale taalbeleid (1652-1795) byvoorbeeld bepaal dat slegs Nederlands aan die multitalige Kaap gepraat mag word. Dit het die inheemse Khoi en ingevoerde slawe genoodsaak om Nederlands te leer praat (Ponelis 2004:2). Dié pogings om Nederlands aan te leer, het aanleiding gegee tot die ontstaan van aanleerdersvariëteite van Nederlands onder die inheemse Khoi-groepe en ingevoerde slawe (Van Rensburg 2012:11-28).

Taalkontak en taalbeïnvloeding het danksy die opkoms van die sosiolinguistiek in die 1960s aandag begin gekry. Vóór die opkoms van die sosiolinguistiek is die homogeniteit - eerder as die heterogeniteit - van tale beklemtoon. Variëteite van tale is in die verlede as afwykings van die norm - die standaardvariëteit - beskou en met groepe van 'n lae status geassosieer (Webb 1983:229). Labov (1972), in teenstelling met Chomsky (1965), het die fokus op die niestandaardvorme van tale geplaas en is tereg van mening dat werklike taalgebruik kontekstueel as 'n sosiomaatskaplike verskynsel bestudeer behoort te word (Kotzé 1983:1).

Die bepaalde (en bepalende) sosiopolitieke en -maatskaplike milieu van die twintigste eeu in Suid-Afrika het meegebring dat die gebruiksvorme van wit Afrikaanssprekendes die norm vir standaardisasie (formeel en informeel) geword het, en dit het aanleiding gegee tot tiperings soos "suiwer Afrikaans" (standaardvorm) en "Kombuisafrikaans" (niestandaardvorme) (Van Rensburg 2012:93 e.v.). Die aanvaarding van hierdie beginsel het politieke magshebbers van die tyd perfek gepas, want sodoende kon die vroeë Kaapse (kreoolse, multitalige, -kulturele en -religieuse) milieu waarbinne die historiese aanleerdersvariëteite van Afrikaans ontstaan het, uit die wetenskaplike beskouing van Afrikaans geweer word en die wit herkoms van Afrikaans bewaar word (Du Plessis, H. 2003:129). Dit het daartoe aanleiding gegee dat die rol wat nie-Germaanse tale in die ontwikkeling van die Afrikaanse variëteite én Afrikaans gespeel het, onderspeel is.

Sedert die tagtigerjare van die vorige eeu het die studie van die variasie in Afrikaans die taalgeskiedenis in 'n nuwe rigting gestuur (Du Plessis, H. 2001a:77-79). Dit het bevestig dat daar n duidelike verband tussen Afrikaans se geskiedenis en die variëteite binne die taal bestaan (Van Rensburg 1989:436). Daarom het dit onafwendbaar geword om in die bespreking van die taalgeskiedenis van Afrikaans óók op die historiese Afrikaanse aanleerdersvariëteite te fokus, aangesien hedendaagse Afrikaanse variëteite (onder andere Griekwa-Afrikaans en Kaapse Afrikaans) lewende getuienis is van die taalkontaksituasie wat tot die taalkontakevolusie van Afrikaans aanleiding gegee het (Du Plessis, H. 2001a:77-79). Den Besten (1989:207 e.v.) reken tereg dat die sosiolinguistiese benadering ten opsigte van die Afrikaanse variëteite, asook politieke liberalisme en demokrasie (Du Plessis L.T. 1992:93), aanleiding gegee het tot perspektiewe aangaande die oorsprong van Afrikaans wat die eens skeefgetrekte geskiedenis (te wyte aan sosiopolitieke ideologieë) van Afrikaans uiteindelik regstel.

Vervolgens word sosiolinguistiese en -kulturele aspekte wat aanleiding tot die ontwikkeling van die historiese Afrikaanse aanleerdersvariëteite gegee het, bespreek.

2.1 Die ontstaan van die historiese Westelike Afrikaanse aanleerdersvariëteit

Volgens Du Plessis (1995:155) is die historiese Westelike Afrikaanse aanleerdersvariëteit die oudste Afrikaanse variëteit en het dit ontwikkel deur Khoi-groepe se noodgedwonge pogings om Nederlands te praat. Die hedendaagse variëteit, Griekwa-Afrikaans, vloei uit hierdie historiese aanleerdersvariëteit en dit het in die woorde van Du Plessis (1992:2): "... sy eie Afrikageit behou: in woordeskat, fonologie, morfologie, sintaksis en semantiek".

As gekoloniseerdes het die Khoi nie oor politieke of ekonomiese mag beskik nie, aangesien hulle veestapels deur ruilhandel uitgedun is en hulle nomadiese mobiliteit ingekort is. Dit het aanleiding gegee tot Khoi-groepe se noodwendige akkulturasie en assimilasie in die Europese koloniseerders se taal en kultuur. Die gevolg hiervan was beide absorpsie (die Khoi het in diens van die setlaars getree) en verplasing (die Khoi het uit die Kaap weggetrek) (Roberge 2003:18). Sodoende is verskillende vorme/variëteite van die Khoi se gebrekkige (aanleerders-)Nederlands die binneland in versprei (Elphick & Shell 1988:169): van Namakwaland noordwaarts tot in die Richtersveld en ooswaarts langs die Gariep tot in die suide van die Vrystaat waarvandaan dit in die negentiende eeu uitgebrei het tot in Kokstad in KwaZulu-Natal (Van Rensburg 2012:39 e.v.).

Van Rensburg et al. (1989:36) reken dat die Khoi-tale (as die eksterne faktor) die grootste invloed van al die tale wat aan die suidpunt van Afrika gepraat is, op Kaaps-Hollands uitgeoefen het, alhoewel dié invloed beperk was tot gesproke variëteite.

Aanvanklike navorsing oor die aard en omvang van die Khoi-invloed was hoofsaaklik beperk tot die geleende Khoi-woordeskat, alhoewel die taalkontak tussen Kaaps-Hollands en die Khoi-tale volgens Du Plessis (2003:137-138) 'n groter linguistiese invloed op die grammatikale vlakke van moderne Afrikaans het as bloot die oorneem van enkele leenwoorde. Die invloed wat die Khoi op die ontstaan en ontwikkeling van die Afrikaanse woordeskat uitgeoefen het, sluit die volgende in:

  • Enkele voorbeelde van geleende Khoi-woordeskat wat deel uitmaak van Afrikaans van die 21ste eeu is die volgende:

    Plante: boegoe, karee

    Voorwerpe: kierie, karos

    Diere: kwagga, gogga

    Uitroepe: eina, aitsa

    Plekname: Karoo, Gariep (Bowes 2005).

  • Voorbeelde van herhalingskonstruksies wat uit die Khoi-tale in Afrikaans opgeneem is (wat moontlik die ontkenningsvorm in Afrikaans kon beïnvloed): noem-noem, hê-ê (Van Rensburg 1990:32).

Die onderstaande voorbeelde kom in moderne subvariëteite van die historiese Westelike Afrikaanse aanleerdersvariëteit voor en bewys dat die Khoi-invloed op die ontwikkeling van Afrikaans méér as slegs woordeskatuitbreiding was:

  • Besitskonstruksies wat in die woordeskat van subvariëteite van die historiese Westelike Afrikaanse variëteit voorkom: hy se huis, meneergoed (Van Rensburg et al. 1997:23-24).
  • Verkleinwoorde soos: klippertjies (net bepaalde konstruksies)
  • Meervoudsvorming soos: goete (goeters)
  • Werkwoorde soos: gewore (geword)
  • Besitlike voornaamwoorde: jou se prate, Pa-goed (Crafford 2004:78-80)
  • Voorsetsels soos: Moenie vir my slaan nie (Van Rensburg 2012:27). Daar kan uit die vroegste berigte oor die Kaaps-Hollandse vorm wat die Khoi gepraat het, voorbeelde gevind word wat later in die geskrewe vorm van Afrikaans opgeteken is en nog later deel sou uitmaak van Afrikaans: Hy het vir hulle gewerk, maar loop slaap toe in die straat in (Van Rensburg et al. 1997:26-31).
  • Fonologiese verskynsels wat in subvariëteite van die historiese Westelike Afrikaanse variëteit voorkom, is die opvallende intonasieverskynsels, byvoorbeeld: Die skappe loop in die graas (Du Plessis H. 2005).

Khoi-tale het sodanig tot die woordeskat van subvariëteite van die historiese Westelike Afrikaanse aanleerdersvariëteit bygedra dat die Taalkommissie van die Akademie die Afrikaanse woordelys en spelreëls hersien het om bogenoemde voorbeelde te akkommodeer (Van Rensburg 2012:117).

Die Westelike historiese aanleerdersvariëteit van Afrikaans het aanvanklik as 'n gesproke taal, en nie as 'n skryftaal nie, bekend geword. Die hedendaagse vorme van dié aanleerdersvariëteit het danksy die geïsoleerde gebiede waarin dié variëteite gepraat is, besonder goed bewaar gebly en kon goed dokumenteer word (Du Plessis, H. 1992:2).

Van Rensburg (1999:5) is van mening dat die historiese Westelike Afrikaanse aanleerdersvariëteit die meeste daarin geslaag het om die historiese Oostelike Afrikaanse variëteit (wat later tot die standaardvariëteit - Standaardafrikaans - verhef is) te beïnvloed, ondanks die destydse beperkte kontak tussen die westelike en oostelike dele van die oorspronklike Kaapkolonie.

Daar bestaan tans voorbeelde van literêre werke in Griekwa-Afrikaans, soos onder andere Boegoe van die liefde (2002) van Hans du Plessis. Hierdie literêre werke het Griekwa-Afrikaans in die grafosfeer2 geplaas en lesers van Afrikaans het op hierdie wyse ook bewus geword van die bestaan van dié spesifieke variëteit.

2.2 Die ontstaan van die historiese Suidelike Afrikaanse aanleerdersvariëteit

Die ingevoerde slawe se aanleerdersvorm van Niestandaardnederlands aan die vroeë Kaap, behels die Oosterse slawe-invloed ten opsigte van die ontstaan en ontwikkeling van Afrikaans (Van Rensburg 2012:25-27). Armstrong (1988:89-90) beskryf die taalvorm wat die slawe aan die vroeë Kaap gebruik het om met mekaar en met hulle Europese meesters te kommunikeer as 'n "onontwikkelde" vorm van Hollands. Die hedendaagse Suidelike Afrikaanse variëteite, soos byvoorbeeld Kaapse Afrikaans, kan beskou word as "'n historiese erfenis" wat teruggevoer kan word tot die omgangstaaltoestand aan die vroeë Kaap, waartydens die Kaapse slawe se taal toe reeds 'n sterk Afrikaanse karakter getoon het.

Die ingevoerde slawe het 'n verskeidenheid slawetale (veral hooftale en dialekte van die Maleis-Polinesiese familie) na die Kaap gebring (Valkhoff 1966). Dié verskillende slawetaalgroepe het geen gemene (taal-)deler aan die Kaap gehad nie en hulle moes van 'n intertaalvorm gebruik maak om met mekaar en die koloniseerders te kommunikeer (Du Plessis, H. 1994:126; Van Rensburg 2012:56). Dié variëteit sou uiteindelik die grondslag lê vir die historiese Suidelike Afrikaanse aanleerdersvariëteit:

The pidgin was itself part of a larger developing system, namely the Cape Dutch vernacular, which was a complex multidimensional space comparing a wide range of competing linguistic variants. (Roberge 2003:18)

Akkommodasie en verplasing is twee sosiokulturele funksies wat met linguistiese akkulturasie verband hou. In die intertale van die slawe het beide dié sosiokulturele funksies voorgekom as gevolg van die slawe se bereidwilligheid om hulle lingua francas, Maleis en Kreools-Portugees, met die Kaaps-Hollands van hulle sosiale milieu te vervang (Davids 1994b:117). Die Europese meesters het volgens De Ruyter en Kotzé (2002:141-143) sommige woorde van die slawe en dié van die VOC-seevaarders3 oorgeneem, soos onder anderepieringe (pierings) en baiing (baie).

Die impak van linguistiese akkulturasie aan die vroeë Kaap was reeds in die sewentiende eeu sigbaar in die gekreoliseerde vorm van Hollands wat die Kaapse Moesliemgemeenskap gebruik het. Die Moesliemgemeenskap aan die Kaap het nie obsessies oor taal en identiteit gehad nie -hulle godsdiens was van groter belang (Hugo 2009:17) en dit het in 1799 gelei tot die stigting van 'n madrassa met die volgende onderrigtaal:

Cape Dutch, the name which the creolized Dutch now assumed, was elevated to a religious language in the mosque of Cape Town, and as a medium of instruction in this community's religious schools. (Davids 1994a:51)

Die oudste vertaalde teks in Arabiese Afrikaans is in 1877 deur Sjeg Abubakr Effendi vertaal en deur die Turkse Departement van Onderwys gedruk. Dié geskrif is as 'n skoolhandboek gebruik waarin Islamitiese beginsels in die slawe se vorm van Kaaps-Hollands vertaal en verduidelik is. Sodoende het die vroegste vorme van Arabiese Afrikaans bewaar gebly (Raidt 1991:162).

Volgens Davids (1991:80-81) word die rol van die Christendom in die ontwikkeling van Afrikaans in Europese geskiedskrywing oorbeklemtoon en die rol van Islam onderspeel. Daarteenoor is Arabiese Afrikaanse tekste reeds jare vóór die eerste Afrikaanse publikasie al in boekvorm gedruk. Davids (1994b:116) is van mening dat Afrikaans soos dit tans bestaan, nie sonder die invloed van die slawe aan die vroeë Kaap kon ontstaan het nie.

Die volgende is enkele voorbeelde van slawetale se invloed op die Afrikaanse woordeskat (Van Rensburg 2012:56):

 

 

Vorme van die historiese Suidelike en Westelike Afrikaanse aanleerdersvariëteite is in die verlede (te wyte aan die bepaalde sosiopolitieke en -linguistiese milieu) op 'n geestige, ironiese, stereotiperende en bevooroordeelde wyse gebruik (Kwaa Prah 2003:143). Hierteenoor staan gewaardeerde (én bekroonde) letterkunde in moderne subvariëteite van die historiese Suidelike Afrikaanse aanleerdersvariëteit (Van Rensburg et al. 1997:19).

Die bekende kunstenaar, David Kramer, sê na aanleiding van sy navorsing oor die slawe se taal- en musiekgeskiedenis in 'n koerantonderhoud aan Die Burger (2005:6):

Die slawe moes 'n nuwe taal leer omdat hulle nie Hollands kon praat nie. Hulle het die klanke in hul monde rondgerol en so is Afrikaans gevorm. Wit mense het dit nie geskep nie - hulle het dit net leer praat.

Die bekroonde dramaturg, Adam Small, het reeds in 1962 gepleit dat Kaaps as 'n volwaardige taal beskou behoort te word.

Uit die bostaande bespreking blyk dit dat die ontstaan van Afrikaanse nié eksklusief aan een bepaalde groep aan die vroeë multitalige en -kulturele Kaap verbind kan word nie, maar dat verskillende groepe 'n rol in die ontwikkeling van Afrikaans én die Suid-Afrikaanse kultuur gespeel het. Dit is aspekte wat vroeër nie aandag in die algemene aanbieding - asook in die onderrig van die Afrikaanse taalgeskiedenis aan die skoolgaande jeug van Suid-Afrika - geniet het nie.

 

3. ONDERRIG VAN AFRIKAANSE WOORDESKAT EN VARIËTEITE VANUIT 'N INKLUSIEWE PERSPEKTIEF

Voorgeskrewe nasionale skoolkurrikula is volgens Hoadley en Jansen (2010) nooit neutraal nie. Kurrikula en skoolhandboeke was en bly steeds (in mindere of meerdere mate) stemme van heersende regerings en politieke ideologieë. Nasionale voorgeskrewe skoolkurrikula, taalhand-boeke en Afrikaansonderwysersopleiding het (onder die invloed van die bepaalde sosiopolitieke en -kulturele milieu van die tyd) in die vorige eeu hoofsaaklik op die eksklusiewe "wit" herkoms van Afrikaans gefokus. Die gekleurde invloede op die ontwikkeling van Afrikaans is in die proses geminimaliseer.4 Dit het aanleiding gegee tot 'n gevoel van vervreemding by gekleurde Afrikaans-sprekendes, wat meer bewus was (is) van die inklusiewe herkoms van bepaalde Afrikaanse woordeskat en variëteite as wit Afrikaanssprekendes (Van Oort 2008:128, 168-169).

Voorgeskrewe kurrikula wat sedert 1994 die lig gesien het, het genoegsame ruimte vir die onderrig van fasette van die inklusiewe ontwikkelingsgeskiedenis van Afrikaans gebied, maar uitgewers van skoolmateriaal en Afrikaansonderwysers het nie dié geleenthede benut nie. Fasette van die inklusiewe ontwikkelingsgeskiedenis van Afrikaans kan egter sinvol binne die raamwerk van die nasionale kurrikula onderrig word (Van Oort 2008:225).

In 2011 het die Nasionale Kurrikulum- en Assesseringsbeleidverklaring (NKABV) verskyn. Dié kurrikulum bied ruimte vir beide insidentele en doelbewuste onderrig van (geleende) Afrikaanse woordeskat asook variëteite van Afrikaans.

3.1 Voorstelle vir die onderrig van woordeskat in die Intermediêre Fase aan die hand van 'n inklusiewe perspektief

In die Intermediêre Fase kan (geleende) Afrikaanse woorde sinvol vanuit 'n inklusiewe perspektief onderrig word. In die onderstaande teksvoorbeeld kom leenwoorde uit Khoi-tale voor wat reeds aan die vroeë Kaap gebruik is en steeds gebruik word. Om aan leerders 'n gebalanseerde perspektief op die inklusiewe ontwikkelingsgeskiedenis van Afrikaans te bied, word leenwoorde uit Europese tale ook daarby ingesluit.

Dié paragraaf is uit 'n koerantberig5 geneem:

Voorbeeldteks:

Suid-Afrikaanse plekname vertel 'n storie

Die name wat die eerste inwoners van die suidpunt van Afrika - die Khoi en die San - aan plekke gegee het, is volgens professor Benjamin Fourie, bekende taalnavorser, al eeue deel van die Suid- Afrikaanse woordeskat. Voorbeelde van hierdie plekname is Tsitsikamma (helder water), Karoo (dors / droog), Gariep (groot rivier), Augrabies (groot geraas) en Kango (tussen die heuwels).

Fourie sê met die Europeërs se koms na die suidpunt van Afrika, is plekke ook met Nederlandse name soos Blaauwklippen, Duitse name soos Steinkopf, Franse name soos La Motte en Engelse name soos Queenstown benoem.

Die "ingeligte"6 Afrikaansonderwyser kan van die voorbeeldteks gebruik maak om (binne metodologiese voorskrifte en die NKABV-raamwerk (2011)) leerders bewus te maak van die rol wat die verskillende taalgroepe aan die vroeë Kaap in Suid-Afrikaanse naamgewing (nomenkultuur) gespeel het. Tydens die aanvangfase van hierdie leerervaring kan die onderwyser leerders bewus maak van die feit dat Afrikaans in Afrika ontstaan het en daarom die kontinent se naam gekry het. Die Afrikaansonderwyser kan byvoorbeeld aan leerders soortgelyke begeleidende vrae stel om leerders selfontdekkend tot die gevolgtrekking te lei.

Voorbeeldaktiwiteite:

a) Watter tale word in die volgende lande gepraat: Duitsland, Engeland en Nederland?

b) Hierdie lande se tale is na die lande vernoem of nie?

c) Bestaan daar tale soos Australies en Suid-Amerikaans?

d) Australië en Suid-Amerika is kontinente, nie waar nie?

e) In watter kontinent het Afrikaans ontwikkel?

f) Bestaan daar nog tale wat na kontinente vernoem is?

g) Waarom dra Afrikaans die naam van die kontinent, Afrika?

Gedurende die onderrigleermoment kan die onderwyser die leerders op kreatiewe wyses na verdere pleknaamvoorbeelde en ander voorbeelde begelei wat uit die samekoms van verskillende taalgroepe tot stand gekom het, byvoorbeeld:

Plekname met 'n Khoi-herkoms: Knysna, Okiep, Kakamas, Keimoes, Tsitsikamma

Dierename met 'n Khoi-herkoms: koedoe, kwagga, geitjie, gogga

Plantname met 'n Khoi-herkoms: noem-noem, kambro, boegoe

Uitroepe met 'n Khoi-herkoms: Eina!Aitsa!

Herhalingsamestellings met 'n Khoi-herkoms: gou-gou, nou-nou, kort-kort

Plekname met 'n Nederlandse herkoms: Stellenbosch, Bloemhof, Eikendal, De Rust

Plekname met 'n Franse herkoms: Franschhoek, La Provence

Plekname met 'n Duitse herkoms: Heidelberg, Utrecht, Steinkopf

Plekname met 'n Engelse herkoms: George, Port Elizabeth, Prince Albert

Die onderwyser sien toe dat toepaslike atlasse, (pad)kaarte, reisbrosjures en die HAT vir die leerders beskikbaar is vir naslaanwerk.

Voorbeeldaktiwiteite:

Soeklees

a) Groepe soek in atlasse / op kaarte en reisbrosjures na aanleiding van die koerantberig se voorbeelde na nog plekname wat hulle reken Khoi-name is; nog plekname met 'n Nederlandse, Duitse en Franse herkoms.

b) Dié opdrag kan uitgebrei word deur leerders aan die hand van 'n fauna- en flora-gids na name vir diere en plante te laat soek wat 'n Khoi-herkoms het.

c) Groepe kan as opvolgaktiwiteit woorde soos karos, kierie, kambro, kwagga, oribi in die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse taal (HAT) naslaan en vir die onderwyser sê uit watter taal die genoemde woorde ontleen is.

'n Verdere voorbeeld is om aan die hand van die onderstaande voorbeeldteks leerders in die Intermediêre Fase op insidentele wyse van die multikulturele sosiale interaksie wat tussen taalgroepe van die vroeë Kaap geheers het, bewus te maak. Hierdie interaksie het bygedra tot die uitruiling van kultuurgoedere tussen die Ooste en die Weste (soos die totstandkoming van sekere tradisionele Suid-Afrikaanse geregte). Die onderwyser kan tydens die aanvangsfase van so 'n leerervaring leerders daarop wys dat slawekokke Oosterse geure en smake by hulle Westerse meesters se geregte gevoeg het. Dit het nie net aanleiding gegee tot ons unieke Suid-Afrikaanse kostradisie nie, maar ook tot die gebruik van leenwoorde uit slawetale in die moderne woordeskat van Afrikaans (soos sosaties, bobotie, breyani, blatjang, samoesas, sambal).

Voorbeeldteks: Mite dat bobotie en sosaties uit boerekombuis kom

Lekkerbek-fees

Tydens die Lekkerbek-fees op Lekkersing in Namakwaland is daar hulde gebring aan interessante geregte wat deur die Oosterse slawe van die vroeë Kaap ontstaan het. Slawe-kokke het opwindende nuwe Oosterse geure en smake by kos gevoeg. Só het mosbolletjies anys gekry, melktert kaneel, kerriekos droëvrugte, geelrys borrie, frikkadelle neutmuskaat en bobotie suurlemoenblare.

Op die Lekkerbek-fees is daar ook - soos 'n eg Suid-Afrikaanse braai betaam - sappige sosaties gebraai en was daar blatjang op die etenstafel. Vir die soettand het slawe-kokke van jare gelede vir stroopsoet-soetgoed, die bekende koeksister gesorg!

n Volgende moontlike werkswyse wat in hierdie verband gebruik kan word, is om 'n instruksieteks7 soos n resep met n slawe-herkoms (bv. breyani of bobotie) te gebruik en leerders insidenteel bewus maak van die sosiokulturele, -politiese en -linguistiese milieu aan die vroeë Kaap.

3.2 Voorstelle vir onderrig van Afrikaanse variëteite in die Senior Fase aan die hand van n inklusiewe perspektief

Vanaf (geleende) woordeskat kan daar in die Senior Fase na tekste in variëteite van Afrikaans beweeg word.

Leerders kan byvoorbeeld deur 'n gedig wat in 'n variëteit geskryf is, bewus gemaak word van die herkoms van ons hedendaagse Afrikaanse variëteite-skat. In teksboeke soos "Piekfyn Afrikaans, Graad 9" (Viljoen et al. 2013) kom onder andere poësietekste in hedendaagse variëteite van Afrikaans voor.

Onderwysers slaag dikwels nie daarin om die verband tussen die herkoms van hierdie variëteite en die inklusiewe ontwikkelingsgeskiedenis van Afrikaans vir leerders te lê nie (Van Oort 2008:182183). Dit gaan nie daaroor om eers 'n omvattende geskiedenisles oor die ontwikkelingsgeskiedenis van Afrikaans aan te bied alvorens gedigte in hierdie variëteite onderrig word nie. Die onderwyser kan as konteksskepmiddel leerders insidenteel begelei tot kennis van die sosiokulturele interaksie en taalkontak wat daar aan die vroeë Kaap tussen groepe van verskillende kontinente en tale geheers het. Die onderwyser kan vervolgens aan leerders toon dat hierdie interaksie tussen verskillende taalgroepe aanleiding gegee het tot die Khoi en slawe se noodgedwonge pogings om Nederlands te praat. Die gevolg daarvan was die ontstaan van die aanleerdersvariëteite van die Khoi en die slawe waaruit moderne variëteite soos Griekwa-Afrikaans en Kaapse Afrikaans voortgevloei het.

h Gedig8 van Adam Small in Kaaps kan baie goed in hierdie verband gebruik word (Piekfyn Afrikaans Graad 9:2013):

Voorbeeldgedig:

Ko, Lat ons sing

Vrinne

lat ons die Bybel oepeslaan

en lat ons daaryt lies -

o Allahoegste Gies

lat hierie woorde na onse harte gaan! -

yt die twiere boek van Mosas

yt die Exoras

yt die viere hoefstuk die ee 'ste en die twiere verse -

o God

maak vi' ons lig moet hierie woorde soes met kerse! -

toe antwoord Mosas en hy sê: ma ' wat

as hulle my nie glo, nie aan my woorde vat

as hulle sê die Here het nie ga-appear aan my?

ma 'die Here sê vir hom: djy sal djou mense lei

wat's in djou hand?

en Mosas sê: 'n staf

nou vrinne

dit was al wat hy gahad het

hierie man van God

'n staf

'n dooie stok

en boenop het hy nog gahakkel ok

ma ' die Here het toe lank moet hom gapraat

oor hoe hy moet daai kierie doodgaslaat

het die Egiptanaar

en Mosas het sy groote kop lat hang

en toe

toe skielak was daai selfde kierie in sy hand 'n slang!

nou vrinne

die Here het gabring

aan my sy wonnerwerke oek so

hy het gavra wat 's in my hand

en vrinne

in my hand was my kitaar

kô, laat ons sing

Pre-aktiwiteite

Moses het gevoel dat hy nie die aangewese persoon is om as leier in hierdie bevryding op te tree nie, aangesien hy gehakkel het. Tydens die vorige politieke bedeling het sprekers van Kaapse Afrikaans nie die reg gehad om te stem, hulle menings te lug en op te staan vir hulle regte nie. Kan julle 'n verband tussen die gedig en die bogenoemde omstandighede lê? Verduidelik.

As julle na die titel kyk, waaraan laat dié woorde julle dink?

Wat in reël 2 bevestig jou bogenoemde antwoord? Hoe verander die trant van die gedig in reël 4?

Post-leesaktiwiteite

As jy na die titel van die gedig kyk, waaraan laat dié woorde jou dink?

Wat in reël 2 bevestig jou bogenoemde antwoord? Hoe verander die trant van die gedig in reël 4?

In die gedig kom daar twee gebede voor. Skryf die gebede neer.

Demonstreer waarmee die spreker die preek begin en waaruit die preek bestaan.

Volgens die gedig het die Here ook 'n wonderwerk laat plaasvind vir die spreker van die gedig / die prediker. Verklaar wat die wonderwerk is.

Hierdie wonder omsluit die boodskap van die gedig - bepaal die boodskap van die gedig.

Die gedig blyk aanvanklik grappig te wees, maar dit is nie werklik snaaks nie, maar ernstig. Brei hierop uit.

(Du Preez 1995:6.)

Die algemene metode wat Afrikaansonderwysers volg, is om die gedigte aan die leerders voor te lees, maar nie volgens die uitspraak en intonasie van die variëteit nie. Dit gee daartoe aanleiding dat leerders nooit hoor hoe die variëteit klink nie. Die onderwyser gee vervolgens die opdrag aan leerders om die gedigte in "korrekte" of "suiwer" Afrikaans oor te skryf. Dit skep die persepsie dat die betrokke variëteit "verkeerd" en dus minderwaardig is.

 

GEVOLGTREKKING

"Taal is niemand se eiendom nie, maar almal se rykdom."(Boesak 2007)

Afrikaans het sy ontstaan te danke aan die wisselwerking tussen mense uit drie uiteenlopende kontinente (Afrika, Europa en Asië) aan die vroeë Kaap. Die tyd is ryp om die inklusiewe ontwikkeling van Afrikaans uit daardie unieke wisselwerking te "omarm" en aan die breë publiek bekend te stel deur met die skoolgaande jeug te begin.

Dit is moontlik om leerders in die onderrig van Afrikaanse woordeskat en die variëteite van Afrikaans van fasette van die inklusiewe ontwikkelingsgeskiedenis bewus te maak. Die insluiting van hierdie fasette behels die taalkontaksituasie wat tydens die vroeë mutlikulturele en -talige Kaapse samelewing tussen die Europese setlaars, inheemse Khoi en Oosterse ingevoerde slawe geheers het. Die onderrig hiervan behoort tot erkenning en waardering van al die groepe se aandeel in die ontwikkeling van Afrikaans by leerders aanleiding te gee.

Die Afrikaansonderwyser kan dus die volgende mites en wanpersepsies van die verlede besweer:

  • Afrikaans behoort nie aan een bepaalde groep nie, maar aan Suid-Afrikaners en Afrikaanssprekendes van alle Afrikaanse variëteite.
  • Die Afrikaanse variëteite is nie "foutiewe" of "onsuiwer" Afrikaans nie, maar waardige (moeder)-tale vir baie Suid-Afrikaners, en hulle verryk die Afrikaanse woordeskat en letterkunde.

 

BIBLIOGRAFIE

Armstrong, J.C. 1988. Die slawe, 1652-1795. In Giliomee, H. & Elphick, R., reds, n Samelewing in wording: Suid-Afrika, 1653-1820. Kaapstad: Maskew Miller Longman, pp.80-123.         [ Links ]

Biesenbach, J., Engelbrecht, A., Henning, C., Hofmeyr, L., Hugo, J., Louw, W., Michai, M., Van Oort, R. & Van Rooy, R. 2012. Platinum Afrikaans Huistaal, Graad 4-6-leerderboeke. Kaapstad: Maskew Miller Longman.         [ Links ]

Boesak, E. 2007. Versoening in die Afrikaanse gemeenskap met ander gemeenskappe. Referaat gelewer tydens die Tweede Nasionale Afrikaanse Taalberaad. Pretoria, Feb.         [ Links ]

Bowes, J. 2005. Persoonlike mededeling as kurator van die Paarlmuseum in die Paarl, Wes-Kaap aan outeur, Sept.         [ Links ]

Burger, K. 2005. David en Taliep delf diep en sê: Uit die mond van die slawe kom Afrikaans. Rapport Perspektief: 6,Nov.         [ Links ]

Carstens, W.A.M. 2007. 'n Huis met baie wonings. Koerantonderhoud met Jacobs.Taalgenoot: 28-29, Feb. Carstens, W.A.M. 2012. Net eenheid red Afrikaans. Referaat gelewer tydens konferensie in Antwerpen as voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns,31 Aug.         [ Links ]

Carstens, W.A.M. 2013. Op pad van 'n verdeelde na 'n gedeelde toekoms in die Afrikaanse taalgemeenskap: die rol van die Afrikaanse Taalraad in die proses van versoening. Litnet Akademies,10(1):513-550. Chomsky, N. 1965. Aspects of the theory of syntax. Cambridge, Mass: MIT Press.         [ Links ]

Crafford, M. 2004. Kooivrou se onthou. Sarie: 78-80, Aug.         [ Links ]

Davids, A. 1990. Words the Cape slaves made: a socio-historical-linguistic study. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Taalkunde, 8(1):1-24.         [ Links ]

Davids, A. 1991. The Afrikaans of the Cape Muslims from 1815 to 1915: a sociolinguistic study. Durban: University of Natal. (Dissertation - MA).         [ Links ]

Davids, A. 1994a. The contribution of the slaves to the genesis of Afrikaans. In February, V, red. Taal en identiteit: Afrikaans en Nederlands. Kaapstad: Tafelberg, pp. 39-53.         [ Links ]

Davids, A. 1994b. Afrikaans - die produk van akkulturasie. In Olivier, G. & Coetzee, A., reds. Nuwe perspektiewe op die geskiedenis van Afrikaans. Pretoria: Southern Boekuitgewers, pp. 110-119.         [ Links ]

De Ruyter, C. & Kotzé, E.F. 2002. Oor Austro-Nederlands en die oorsprong van Afrikaans. Literator, 23(3):139-160, Nov.         [ Links ]

Den Besten, H. 1989. From Khoekhoe Foreigner talk via Hottentot Dutch to Afrikaans: the creation of a novel grammar. In Pütz, M. & Dirven, R., eds. Wheels within wheels. Papers of the DuisbergSymposium on Pidgin and Creole Languages. Frankfurt am Main: Peter Lang, pp. 207-249.         [ Links ]

Du Plessis, H. 1984. Gewete van glas. Kaapstad: Human & Rosseau.         [ Links ]

Du Plessis, H. 1992. En nou, Afrikaans? Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Du Plessis, H. 1994. Taalkontakvariasie. (In Olivier, G. & Coetzee, A., reds. Nuwe perspektiewe op die geskiedenis van Afrikaans. Halfweghuis: Southern Boekuitgewers. pp. 120-129).         [ Links ]

Du Plessis, H. 1995. Taalverskeidenheid in Afrikaans as spieël van sy kontakgeskiedenis. In Ester, H. & Van Leuvensteijn, A. reds. Afrikaans in een veranderende context. Taalkundige en letterkundige aspecten. Amsterdam: Suid-Afrikaanse Instituut, pp. 144-160.         [ Links ]

Du Plessis, H. 2001a. Die ontwikkeling van die Afrikaanse variasietaalkunde. In Carstens, A. & Grebe, H. Taallandskap. Pretoria: Van Schaik, pp. 69-80.         [ Links ]

Du Plessis, H. 2001b. Innie skylte vannie Jirre: Griekwapsalms en ander gedigte. Pretoria: LAPA.         [ Links ]

Du Plessis, H. 2002. Boegoe van die liefde: Griekwahooglied. Pretoria: LAPA.         [ Links ]

Du Plessis, H. 2003. Afrikaans en die Khoe. In Kwaa Prah, K. ed. Silenced voices: studies on minority languages of South Africa. Kaapstad: CASAS. pp. 129-139).         [ Links ]

Du Plessis, H. 2005. Persoonlike mededeling aan outeur. 9 Jun., Potchefstroom.         [ Links ]

Du Plessis, L.T. 1992. Veranderde opvattings rondom Afrikaans sedert die sewentigerjare. In Webb, V.N., red. Afrikaans ná apartheid. Pretoria: Van Schaik. pp. 91-115.         [ Links ]

Du Toit, D.F. & Heyl, J.A. s.j. Verseboek vir standerd VI. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.         [ Links ]

Elphick, R. & Shell, R. 1988. Die Khoisan tot c. 1770. In Giliomee, H. & Elphick, R., reds. 'n Samelewing in wording: Suid-Afrika 1652-1820. Kaapstad: Maskew Miller Longman, pp. 3-43.         [ Links ]

Esterhuyse, J., Pienaar, J., Gouws, R., Botha, K. & Links, T. 1989. Ruimland 8. Kaapstad: Maskew Miller Longman.         [ Links ]

Esterhuyse, 1999. Taalapartheid en Skoolafrikaans. Kaapstad: Taurus.         [ Links ]

Giliomee, H. 2004. Die Afrikaners. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Giliomee, H. 2007. Afrikaans en haar geskiedenisse: Andersmaak en saammaak. Web: http://www.argief.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&news Datum van gebruik: 17 Aug. 2007.         [ Links ]

Groenewald, G.J. 2002. Slawe, Khoekhoens en Nederlandse pidgins aan die Kaap, ca. 1590-1720: 'n kritiese ondersoek na die sosiohistoriese grondslae van die konvergensieteorie oor die ontstaan van Afrikaans. Kaapstad: Universiteit van Kaapstad. (Verhandeling - MA).         [ Links ]

Grundlingh, A. 2007. Wat elke seun en dogter moet weet van Suid-Afrika se geskiedenis. Rapport: 21, Feb. 18.         [ Links ]

Hoadley, E. & Jansen, J. 2009. Curriculum: Organizing knowledge in the classroom. 2nd ed. Cape Town: Oxford University Press.         [ Links ]

Hugo, D. 1984. Titellose gedig uit Breekware vir die revolusie. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

Kwaa Prah, K. ed. 2003. Silenced voices. Cape Town: CASAS.         [ Links ]

Labov, W. 1972. Sociolinguistic patterns. Oxford: Blackwell.         [ Links ]

Le Cordeur, M. 2012. FAK-beraad. Pretoria. Aug.         [ Links ]

Meyer, P.S., Odendaal, F.F., Vosloo, J. & Wolvaardt, H.S. 1986. Keurige Afrikaans. Goodwood: Nasionale Opvoedkundige Uitgewery.         [ Links ]

Nasionale Kurrikulum- en Beleidsverlaring (NKABV). 2011. (sien Suid-Afrika). Departement van Basiese Onderwys. Pretoria: Departement van Basiese Onderwys.         [ Links ]

Ponelis, F.A. 2004. Die oorspronge van Afrikaans. Web: http://www.vriende.za.net.oorspronge.htm Datum van gebruik: 14 Jul. 2004.         [ Links ]

Raidt, E.H. 1991. Afrikaans en sy Europese verlede. Kaapstad: Nasou.         [ Links ]

Roberge, P.T. 2003. Afrikaans. In Deumert, A. & Vandenbussche, W. eds. German standardizations: past to present. Amsterdam: John Benjamins, pp. 15-40.         [ Links ]

Scholtz, H. v.d. M., Senekal, H.E.J., Kempen, W. & Van der Merwe, C.P. s.j. Ons eie taal. Kaapstad: Nasionale Opvoedkundige Uitgewery.         [ Links ]

Small, A. 1962. Kitaar my kruis. Kaapstad: HAUM.         [ Links ]

Smuts, J.P. & Smuts, R.1980. Japtrap. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Suid-Afrika. Departement van Basiese Onderwys. 2012. Nasionale Kurrikulum- en Beleidsverklaring. Pretoria: Departement van Basiese Onderwys. Titus, D. 2007. Ons is bruin en trots daarop. Rapport Perspektief: 2, 13 Mei.         [ Links ]

Valkhoff, M.F. 1966. Studies in Portuguese and Creole, with special reference to South Africa. Johannesburg: Witwatersrand University Press.         [ Links ]

Van Oort, C.P. 2012. Kurrikulums kom en gaan, maar die Afrikaansonderwyser bly staan. Pretoria, Groenkloof: Lenteseminaar.         [ Links ]

Van Oort, C.P. 2008. Die ontstaan en ontwikkeling van Afrikaans: 'n inklusiewe perspektief en implementering van 'n lesreeks. Potchefstroom: NWU.(Proefskrif - PhD).         [ Links ]

Van Rensburg, M.C.J. 1989. Soorte Afrikaans. In Botha, T. J.R. red. Inleiding tot die Afrikaanse taalkunde. Pretoria: Academica, pp. 436-467.         [ Links ]

Van Rensburg, M.C.J. 1990. Taalvariëteite en die wording van Afrikaans in Afrika. Bloemfontein: Patmos.         [ Links ]

Van Rensburg, M.C.J. 1994. Die ontstaan van Afrikaans. In Olivier, G. & Coetzee, A. reds. Nuweperspektiewe op die geskiedenis van Afrikaans. Halfweghuis: Southern Boekuitgewers, pp. 166-179.         [ Links ]

Van Rensburg, M.C.J. 1997. Die eerste vyftig jaar van Afrikaans in die Kaap. In Van Rensburg, M.C.J. red. Afrikaans in Afrika. Pretoria: Van Schaik. pp. 7-9.         [ Links ]

Van Rensburg, C. 1999. Fasette van die gesprek oor die gepolitiseerdheid van Afrikaans: Repliek op Jan Esterhuyse. In Du Plessis T. & Van Gensen, A. reds.Taal en stryd, 1989-1999. Gedenkbundel. Pretoria: Van Schaik, pp. 69-81.         [ Links ]

Van Rensburg, C. 2012. So kry ons Afrikaans. Pretoria: LAPA-uitgewers.         [ Links ]

Van Rensburg, M.C.J., Davids, A., Ferreira, J., Links, T. & Prinsloo, K. 1997. Afrikaans in Afrika. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Viljoen, W.J. 1896. Beiträge zur Geschichte der Cap-Holländische Sprache. Strassburg: Trübner.         [ Links ]

Webb, VN. 1983. Die taalwetenskap as sosiale wetenskap. In Claassen, G.N. & Van Rensburg, M.C.J. reds. Taalverskeidenheid. Pretoria: Academica, pp. 229-246.         [ Links ]

Webb, VN. 2002. Language in South Africa: the role of language in national transformation, reconstruction and development. Philadelphia, PA.: John Benjamins.         [ Links ]

Webb, V.N., Driven, R. & Kock, E. 1992. Afrikaans: feite en interpretasies. In Webb, VN. red. Afrikaans ná Apartheid. Pretoria: Van Schaik, pp. 25-67.         [ Links ]

 

 

Ronel van Oort is 'n dosent in Onderwysafrikaans verbonde aan die bogenoemde instansie. Haar spesialiseringsveld is onder andere die ontwikkeling en implementering van Afrikaans-lesreekse binne die raamwerk van die nasionale skoolkurrikulum. Sy is ook outeur van twee Afrikaanshandboekreekse en 'n Afrikaans-metodiekhandboek vir onderwysers en studente. Sy het reeds drie internasionale referate tydens konferensies aangebied.
Ronel van Oort is a lecturer of Afrikaans for Education at die above-mentioned institution. She specialises in the design and implementation of lesson series in Afrikaans in terms of the national school curriculum framework. She is also the author of two Afrikaans school textbook series and an Afrikaans methodology textbook for teachers and students. She has presented three papers at international conferences.

 

 

Wannie Carstens is 'n oudstudent van die Universiteit van Stellenbosch. Hy is tans verbonde aan die Noordwes-Universiteit, Potchef-stroomkampus waar hy die huidige direkteur van die Skool vir Tale en professor in die Afrikaanse taalkunde is. Hy is ten nouste betrokke by aktiwiteite wat Afrikaans raak (op beide akade-miese en organisatoriese vlak), onder andere as voorsitter van die Afrikaanse Taalraad (ATR) tot November 2011, as die huidige voorsitter van die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans (NTLA), asook van die Raad van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en van die Raad van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument. As gegradeerde NNS-navorser is hy die alleenouteur van twee akademiese boeke en van twee as mede-outeur, waarvan TextEditing (saam met Kris van de Poel en John Linnegar) in Junie 2012 verskyn het. 'n Boek, met prof Edith Raidt as mede-outeur, met die titel Die storie van Afrikaans: van Europa tot Afrika verskyn in 2014.
Wannie Carstens, a graduate of the University of Stellenbosch, is currently Director of the School for Languages and Professor of Afrikaans linguistics at the Potchefstroom campus of NorthWest University. He is closely involved in activities that concern Afrikaans (at both academic and organisational levels, amongst others as former chairman of the Afrikaans Language Council, the current chairperson of the National Language Body for Afrikaans, the Council of the SA Academy for Science and Arts as well as the Council of the Afrikaans Language Museum and Monument. He is an NRS-rated researcher and the sole author of two academic textbooks and co-author of two, of which TextEditing (with Kris van de Poel and John Linnegar) appeared in June 2012. Die storie van Afrikaans: van Europa tot Afrika (with Edith Raidt) will be published in 2014.
1 Die beskouing van die GRA was dat Afrikaans variasieloos is. Dit spruit voort uit die sosiopolitieke konteks waarbinne variasie as onaanvaarbare afwykings beskou is. Dit het aanleiding gegee tot 'n Eurosentriese, ("wit") Afrikanernasionalistiese ontstaansperspektief waarin die Nederlandse matrilek sterk beklemtoon is.
2 Die sfeer van die gedrukte woord / drukkuns.
3 Die VOC-seevaarders het op seereise met Oosterse tale in aanraking gekom.
4 Sien byvoorbeeld: Verseboek vir st.vi (Du Toit en Heyl s.j.), Japtrap (Smuts 1980), Ons eie taal (Scholtz et al. s.j.), Keurige Afrikaans (Meyer et al. 1986).
5 Die NKABV-voorgeskrewe teks vir Graad 6, Kwartaal 1, Week 1 en 2 (Suid-Afrika 2011).
6 "Ingeligte onderwyser" impliseer dat dié onderwyser op hoogte is van die sosiokulturele, -politieke en -linguistiese milieu aan die vroeë Kaap (Sien par. 2).
7 NKABV-voorgeskrewe teks vir Graad 5, Kwartaal 1, Week 3 en 4 (Suid-Afrika 2011).
8 Die NKABV-voorgeskrewe teks vir Graad 7-9, Kwartaal 1, Week 3 en 4 (Suid-Afrika 2011).