SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.54 número4Should Afrikaans be restandardised?Teaching Afrikaans vocabulary and varieties from an inclusive language-historical perspective índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.54 no.4 Pretoria dic. 2014

 

NAVORSINGS-  EN OORSIGARTIKELS

 

"Ons ís mense. My kinders hét gesigte." Die natuurlike omgewing en die konseptualisering van die self in Karretjiemense (Carol Campbell)

 

"We are people. My children have faces." The natural environment and the conceptualising of the self in My Children Have Faces (Carol Campbell)

 

 

Susan Meyer

Fakulteit Opvoedingswetenskappe, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom Susan.meyer@nwu.ac.za

 

 


OPSOMMING

Carol Campbell se debuutroman, My Children Have Faces: A Novel About the Karretjiemense of the Karoo (2013), in Afrikaans vertaal as Karretjiemense, is die verhaal van 'n brandarm, nomadiese Karoo-gesin, voortdurend op reis met hul donkiekar. Hulle leef as "onsigbare" mense: op grond van hulle lae sosiale peil en ongeletterdheid verag of geïgnoreer deur die samelewing, op grond van hulle haweloosheid en gebrek aan identiteitsdokumente negeer deur die owerheid. Tog demonstreer elke lid van Muis en Kapok se gesin 'n unieke besef van eiewaarde en van die persoonlik onderskeidende eienskappe wat verband hou met wie en wat hy/sy werklik is. Die ondersoek is daarop gerig om vas te stel in watter mate die invloed van die natuurlike omgewing bewys kan word in die prosesse van die identiteitskonstruksie van die karretjiemense in hierdie roman en op watter wyse hierdie beïnvloeding gestalte kry in die karakters se konseptualisering van die self. Daar word bevind dat Muis en haar mense hulleself op aktiewe wyse met die natuur verbind: deur die proses van betekenisgewing waarby hulle op kognitiewe, affektiewe sowel as spirituele vlakke betrokke is en deur hulle interaksie met die natuur op fisieke en emosionele vlak. Die karakters se individuele belewing van en reaktiewe betrokkenheid by die Karoo-omgewing is die kernfaktor in die ontwikkeling en bevestiging van persoonlike identiteit, asook van elkeen se gevoel van te behoort. Elke karakter in die karretjiegesin demonstreer op eiesoortige wyse die effek van hulle natuurverbintenis op die konstruering van selfkennis en -identiteit.

Trefwoorde: Carol Campbell, Karretjiemense, identiteitskonstruksie, natuurlike omgewing, gevoel van plek en van te behoort, ekokritiek


ABSTRACT

Carol Campbell's debut novel, My Children Have Faces: a novel about the Karretjiemense of the Karoo (2013), translated by Kirby van der Merwe into Afrikaans as Karretjiemense, is the story of a desperately poor, nomadic Karoo family, continually journeying on their donkey cart. They live as "invisible" people: because of their low social standing and illiteracy, they are seen as the scum of society, because of their homelessness and lack of identity documents, they are disregarded by the authorities. These characters struggle to find acknowledgment of their existence and worthiness in the eyes of the world. Nonetheless, each member of Muis and Kapok's family demonstrates a unique understanding of self-worth and of the personal identifying characteristics that relate to who and what he/she really is. The investigation is aimed at establishing to what extent the influence ofthe natural environment can be proven in the processes ofidentity construction of the karretjie people in this novel, and in which ways this influence shapes the characters ' conceptualising of the self. The focus of this exploration is ecocritical: the purpose is to come to an understanding of the concrete and psychological effects of the natural environment on human life and identity in Karretjiemense. The investigation is approached within the framework of on-going interest in questions of identity that are becoming an increasing focus of ecocriticism within South African literary studies. In my theorising of the concept of identity, the question of identity construction is thus placed within ecocritical context.The novel is also examined with attention to the socio-political context. The karretjie family are descendants of the San and Khoi people; the possibility that the development of their self-worth and a sense of belonging, which are components of personal identity, can be coupled with their relationship with nature is meaningful, read within the context of the debate on belonging and the self in nature (Steenkamp 2011:23) in the postcolonial South African era. In this debate, questions ofplace and displacement are central as a consequence of our history which is characterised by segregation, land disputes, forced removals and dispossession. Karretjiemense casts light on the experience of the self in relation to the natural world by those who could be expected to experience the connection with the land as problematic as a consequence of our colonial past.The investigation first establishes how the socially constructed identity of the karretjie people appears and what the effects of social thinking are on their self-image and self-experience. From this part of the investigation, it appears that Muis and her people struggle to form any positive self-image from the opinions of the community that scorns or ignores them therefore, it strikes the reader that none of these family members is depicted as someone without self-worth and self-respect. The investigative focus then shifts to establish how the natural environment and experiences in nature influence the characters' self-regard as well as what the extent of nature's impact on the shaping ofpersonal identity in the separate individuals of the family may be. This part comprises a probing investigation into the nature of the interaction with the natural world by focusing on the individual characters ' experiences thereof: those of Muis herself, Witpop, Fansie, and Kapok. Attention is focused on the manner in which meaning is allotted to the Karoo landscape by this family, and the various dimensions of their being that are involved in this process: the cognitive and the affective, as well as the spiritual. Further, the guidelines offered by the text regarding the scope and meaning of the physical and emotional interaction between these characters and the environment are interpreted to establish how nature contributes to each character 's self-worth and self-knowledge, qualities that are part of personal identity, and to establish an experience of belonging. Sufficient evidence was found that it is within the relationship with nature, through the individual experience ofthe Karoo environment and the reactive involvement with it, that Muis and her people discover their own value as well as qualities that contribute to their self-respect. It was also found that nature exercises a prominent and interactive presence in the lives of the karretjie family through its unavoidable power and the climate changes of the Karoo. The increasingly dry landscape becomes a character in itself through the impact that it exerts on the plot development and the direct effect that it has regarding the karretjie family's life situations and theirfinal circumstances. Evidence of the dramatic way in which nature affects the human experience in Karretjiemense provides motivation for the finding that the people-nature connection is a key aspect ofthe characters ' experience of reality and consequently also on their self-perception and -image. Each character in the karretjie family uniquely demonstrates the effect of his/her close ties with nature on the construing of self-knowledge and self-identity as well as on each one 's sense of belonging. Read against the socio-political background of our times, Karretjiemense reflects insightful character experiences regarding the depiction of the self in relation to the natural world. The novel demonstrates close and unique connections between the self and nature, connections with an important function regarding the creation of identity. This offers a surprising alternative for the depiction of identity issues which accentuates the problematics of the concept of environmental belonging within the postcolonial context. Karretjiemense presents a disconcerting account of a segment of society that has so little and is so frequently overlooked, people who courageously arrive at the conceptualising ofthe self with the help of what is available: the context ofthe natural world.

Keywords: Carol Campbell, My children have faces, identity construction, natural environment, sense of place and belonging, ecocriticism


 

 

1. INLEIDEND

Identiteitskwessies is al dekades lank die brandpunt van ondersoek in die velde van die sielkunde, opvoedkunde, postmoderne literêre teorie, feminisme, kulturele studies, korporatiewe kommunikasie - om net 'n paar te noem. Die letterkunde bemoei hom vanselfsprekend met identiteit; Gergen (aangehaal in Burger 2001:81), beskou identiteit as die produk van 'n "discursive achievement", en een spesifieke vorm van diskoers, naamlik die narratiewe vertelling, word beskou as die belangrikste rolspeler in die vorming van persoonlike en kollektiewe identiteit. In die Afrikaanse letterkunde is die identiteitskonsep sentraal gestel juis in die afgelope periode van globale onsekerhede en postkoloniale twyfel, meen Roos (2006:59). Sy beskou die soeke na, bevraagte-kening en skepping van identiteit as 'n tematiese raamwerk waarbinne die Afrikaanse prosa vandag gelees en geïnterpreteer kan word (Roos 2006:59).

In 2013 verskyn Carol Campbell se debuutroman, My Children Have Faces: A Novel About the Karretjiemense of the Karoo, en ook die Afrikaanse vertaling daarvan deur Kirby van der Merwe: Karretjiemense. Karretjiemense is die verhaal van 'n brandarm Karoo-gesin wat 'n nomadiese bestaan voer. Hulle is voortdurend op reis met hul donkiekar; van plek tot plek waar Kapok (Josef Bitterbessie) werk kan kry as skaapskeerder. Sy houvrou, Muis, het drie kinders. Die oudste is Fansie, gebore uit 'n vorige verhouding met Jan, iemand wat haar lewe kortstondig met sy goedheid aangeraak het voordat hy vermoor is deur Miskiet, die man wie se bitterheid enjaloesie al vyftien jaar vir Muis met vrees vervul. Haar twee dogters, Witpop en Sponsie, is albei Kapok se kinders, gebore onder die karretjie op die vlaktes van die Karoo.

Die mense op die karretjie se verhaal, wat gestruktureer is volgens hulle afwisselende narratiewe in die romanhoofstukke, word deur Le Cordeur (2013:686) beskiyf as "bowenal 'n verhaal van mense op soek na identiteit". Die roman demonstreer hoe weerloos en as't ware gesigloos die nomadiese mense van die Karoo dikwels leef - vasgevang in wat Muis beskou as 'n lewe "wat in die eerste plek nooit was nie", omdat hulle in die veld gebore is en die bestaan van geeneen van hulle met behulp van geboorte- of identiteitsdokumente gekontroleer kan word nie (27). Muis se kinders word deur die dorpskinders verwerp as "stink" en kiemdraend (17, 34); wat die regering betref, bestaan hulle nie - hulle leef sonder toegang tot skole, klinieke of staatstoelae (die "All Pay" waarna hulle so verlang (67, 131)). Witpop kom tot die slotsom: "Sonder identities bestaan ons g'n" (94). Die roman suggereer dat in die huidige politieke bedeling daar net soveel onverskilligheid bestaan teenoor die lewens en bestaansworsteling van nomadiese mense as in die vorige. Kapok kla: "As jy vir die darkies stem, is dit net so goed jy stem vir die wittes. Hulle traak nie om vir ons karretjiemense huise te gee nie" (28). Die amptenaar by Binnelandse Sake by wie Muis en haar mense uiteindelik uitkom, beskou hulle as "nikswerd"-mense met wie se registrasie niemand waarskynlik enige moeite sou wou doen nie (127-128), eerder as mense wat 'n spesifieke leefwyse gekies het.

Sonder "papiere" kan die polisie ook geen beskerming aan hulle bied nie -'n bron van groot kommer vir Muis. "As jy nie 'n identity het nie, weet hulle nie jy's weg nie en dan soek hulle nie najou nie" (46). Miskiet se skerp mes en dreigende woorde bly ingeprent in Muis se geheue: "Klein Muisie, die dag gaan kom dat niemand sal weet jy het ooit bestaan nie" (46).

Om die geldigheid van hulle bestaan te probeer bevestig, beroep die mense op hierdie karretjie hulle op die plek in die veld waar hulle gebore is en die "getuienis" van die natuur dat hulle wel daar in die lewe gekom het. Witpop sê: "Mamma kan nie geregistreer word nie, want sy's gebore by 'n moddergat met niemand anders behalwe haar mamma en die maan wat haar in die lewe sien kom het nie" (18). Hierdie ondersoek vertrek vanaf die standpunt ingeneem deur Nadine Sinno (2013:140), na aanleiding van haar bestudering van die enkele moderne Arabiese romans vanuit ekokritiese perspektief, dat die natuurlike omgewing 'n prominente rol speel in die konstruksie van identiteit en 'n gevoel van te behoort, juis by karakters wie se besef/gevoel van identiteit ("sense of identity") en bestaansreg bedreig word in die romans waarop sy haar studie baseer. Die karakters in Karretjiemense toon ooreenkomste met dié in Sinno se studie in die opsig van hulle bedreigdheid: Muis se gesin sukkel om erkenning te vind van hulle bestaan en menswaardigheid; hulle bestaansreg word ook op fisieke vlak bedreig deur die wreedaard uit wie se kloue Muis haarself en haar kinders so desperaat probeer hou. Hierdie teks hou dus interessante moontlikhede in vir 'n ondersoek om te bepaal of Sinno se bevinding ook van toepassing gemaak kan word op 'n moderne Suid-Afrikaanse literêre produk. In so 'n ondersoek sal die fokus val op die wyse waarop die konstruksie van persoonlike identiteit plaasvind by die karretjiemense in Campbell se roman, en spesifiek op die aard en die omvang van die rol wat die natuurwêreld en hulle belewenisse daarbinne speel ten opsigte van die konseptualisering van die self.

Karretjiemense het wye aandag in die media ontvang. Dit word as buitengewoon en aangrypend geëvalueer (Haw 2013:7, Magwood 2013, Le Cordeur 2013:685). Die krag van die verhaal lê onder andere in die onpretensieuse aard daarvan; die basiese verhaal is eenvoudig en suiwer, dit herinner aan "die skoon lyne van 'n houtskoolskets" (De Beer 2013:11). Dis 'n storie saamgeweef uit onopgesmukte spreektaal en kort sinne, soos dié wat 'n gesin sou gebruik waarvan nie een kan lees of skryf nie (Nagel 2013:16). Die roman is vaardig gekonstrueer, volgens die oordeel van Haw (2013:7) en De Beer (2013:11), dit kom tot stand uit helder, geloofwaardige vertellerstemme wat afwissel en oorvleuel om die storie en die spanningslyn verder te neem. In 'n verhaal wat die risiko loop om 'n geromantiseerde uitbeelding van 'n ongebonde lewe onder die plafon van wolke en sterre te word, tref Campbell met die realiteite van armoede, geweld en alkohol-misbruik. Hiervoor ontvang die roman lof (Magwood 2013; Nagel 2013:16); ook vir die vermyding van die slaggate van stereotipering en vir die suiwer menslikheid van die storie (Lategan 2013:6; Magwood 2013). Die vertaling word beskryf as puik en genuanseerd (Le Cordeur 2013:685; Lategan 2013:6). Kirby van der Merwe gee met hierdie vertaling erkenning aan Karoo-Afrikaans soos dit in die volksmond leef (Le Cordeur 2013:685).

Karretjiemense verskyn kort op die hakke van Athol Fugard en Riana Steyn se drama Die laaste karretjiegraf (2013). Die drama is gebaseer op Steyn se antropologiese studie oor die karretjiemense spesifiek in die Colesberg-omgewing in die vroeëre jare van die vorige dekade; dit word 'n soort dokumentêr oor die gebruike, die sosiale en emosionele interaksie van hierdie mense in hulle haglike omstandighede (August 2013:8). 'n Sterk parallel met Karretjiemense lê in die uitbeelding van die weerloosheid van die mens. Die drama beeld 'n periode uit in die geskiedenis van die vier kleinkinders van ouma Mieta, wat ná haar dood agtergelaat word sonder die enigste inkomste wat haar pensioen vir hulle was. Die kinders bevind hulle in 'n krotbuurt van Colesberg, waar hulle pa se vrylating uit die tronk hulle bestaan van armoede en ontbering verder kom ontwrig. Die aspek van betekenisvolle menslike interaksie met die natuurlike omgewing, wat die fokuspunt sal vorm in die ondersoek na Karretjiemense, is nie aanwesig in Fugard en Steyn se drama nie. Die drama fokus op die kompleksiteit van die menslike gees en dit beweeg weg van spesifiek die karretjiemense en hulle wêreld om in die groter geheel 'n voorstelling van menslike emosies te word (Snyman 2012). Die Karoo, wat as landskapskarakter 'n sentrale plek inneem in Karretjiemense, word in Die laaste karretjiegraf nie veel meer nie as beeld van die mens se fundamentaliteit. Snyman (2012) interpreteer die kwessie só: "Die mens is verweef met sy wêreld; soos wat die Karoo met sy harde klimaat en ruwe skoonheid in die karretjiemense leef, so leef dit in (die antropoloog) Sarah, trouens in die mens as sodanig."

Die doel van hierdie ondersoek is om te wete te kom wat die konkrete sowel as die psigiese effek van die natuuromgewing op menslike lewe en identiteit in Campbell se roman is. In die sentrum van die ondersoek staan die vraag: In watter mate kan die invloed van die natuurlike omgewing bewys word in die prosesse van die identiteitskonstruksie van die karretjiemense in hierdie roman, en op watter wyse kry hierdie beïnvloeding gestalte in die karakters se konseptualisering van die self?

 

2. TEORETIESE EN SOSIOPOLITIEKE KONTEKS

Die ondersoek na Karretjiemense word aangepak binne die raamwerk van die voortdurende belangstelling in kwessies oor identiteit, wat volgens Fourie (2013) ook toenemend die fokus word van die ekokritiek binne die Suid-Afrikaanse literatuurstudies. Scott Slovic (2000:160) definieer ekokritiek as "the study of explicit environmental texts by way of any scholarly approach, or conversely, the scrutiny of ecological implications and human-nature relationships in any literary text". Die term word in The Routledge Dictionary of Literary Terms in breër besonderhede deur Childs en Fowler (2009:65) omskryf as "[t]he study of literary texts with reference to the interaction between human activity and the vast range of 'natural' or non-human phenomena which bears upon human experience - encompassing (among many things) issues concerning fauna, flora, landscape, environment and weathef'. Ekokritiek is interdissiplinêr van aard en behels ook die bestudering van ander kultuurprodukte, soos kunswerke en wetenskaplike teorieë, wat hulle bemoei met die menslike verhouding met die natuurlike wêreld. In The Ecocriticism Reader verduidelik Glotfelty (1996:xix) dat, ondanks die verskeidenheid van teorieë en uitgangspunte wat ingesluit word in die ekokritiek,

all ecological criticism shares the fundamental premise that human culture is connected to the physical world, affecting it and affected by it. Ecocriticism takes as its subject the interconnections between nature and culture, specifically the cultural artefacts of language and literature.

Daar bestaan 'n lewendige diskoers onder ekokritici oor die rol van die omgewing in pogings om die self te verstaan. Dit gebeur in aansluiting by die algemene uitgangspunt dat die aspekte van ruimte en identiteitskonstruksie in noue verband staan (Martin 1995:17; Castells 1997:7-8; Viljoen 2002:21). Wasserman (2001:301) verklaar: "Identiteit word vasgestel - en hervasgestel - aan die hand van die belewing van ruimte. [...] Ruimte en identiteit staan in wisselwerking tot mekaar." Die ekokritikus Dreese (2002:1) fokus op die rol van natuurlike omgewingsfaktore ten opsigte van identiteitskonstruksie en argumenteer: "Whether we are cognizant of their influences or not, environmental factors play a crucial role in the physical, emotional, and even spiritual configurations that determine our ideas of who we are." Boivin (2008:75) dra tot die argument by deur te verduidelik dat die menslike gees en sy funksionering nie onafhanklik van die omgewing1 begryp kan word nie, want die feit dat ons liggame in voortdurende fisieke wisselwerking met die omgewing verkeer, beïnvloed hoe ons waarneem en dink. Boivin (2008:75) bou voort op die idees van James Gibson en Christopher Tilley, kundiges op die gebied van omgewingsielkunde, en herinner ons daaraan dat "just as thinking is a bodily activity, it is also an ecological or situated activity".

Weik van Mossner (2013:222) beklemtoon dat die komplekse interaksie tussen die mens en sy ruimtelike omgewing nie net persepsie en rasionele denke insluit nie, maar ook emosie. Sy sluit aan by Damasio (1999:xxvii) se standpunt dat kognitiewe aspekte soos waarneming en bewussyn direk gekoppel is aan emosie, en dat emosie weer gekoppel is aan die ervarings van die liggaam, dus is dit onafwendbaar dat ons fisieke omgewing 'n invloed moet uitoefen op hoe ons voel en dus ook hoe ons dink. Damasio (1999:xxvii) verduidelik: "The organism interacts with the environment as an ensemble: the interaction is neither of the body alone nor of the brain alone"; hieruit word verklaar waarom "mental phenomena can be fully understood only in the context of an organism's interacting in an environment".

Tilley (2006:22) formuleer sy oortuiging dat beliggaming ("embodiment") in spesifieke omgewings 'n direkte invloed het op die konstruksie van identiteit só:

Identities have their basis in the multiple ways in which we perceive and receive the world through all our senses. Embodiment is thus an existential precondition for any sense of identity. How we relate to other humans, the more-than-human world, and not least to ourselves, is thus to a large degree dependent on our embodied experiences of the world. (Tilley 2006:22)

In Tilley se verwysing na die proses van "perceive(ing) [...] the world through all our senses" word iets gevind van die begripsomskrywing van landskap as konstruk wat uit ruimte oftewel uit materiële (geografiese) elemente tot stand kom deur die mens se vormgewende persepsie, soos onder andere Darian-Smith (1996:3) en Schama (1996:10) argumenteer. Cosgrove (1998:13) vang die essensie van die term landskap netjies vas wanneer hy daarna verwys as "the external world mediated through subjective human experience [...]. It is a construction, a composition of that world and, as such, [...] possesses an affective meaning". In 'n volgende afdeling, waar die uitbeelding van die self in die natuur in Karretjiemense onder bespreking kom, is die wyse waarop Muis en haar gesin die ruimte van die Karoo in landskap omskep deur hulle subjektiewe ervarings en die persepsies wat uit hulle interaksie daarmee groei, belangrik.

Wat identiteitsbelewing in Campbell se roman betref, ontbreek dit die karakters in Muis se gesin aan sosiale aanvaarding en selfs aan erkenning op die mees basiese vlak, dié van bestaan. "[M]y kinders ís mense. My kinders hét gesigte", redeneer Muis radeloos, maar dan moet hulle eers op die "goewerment se computer" kom (77). Sonder enige konsep van datums kry hulle dit egter nie reg om ooit op dieselfde dag op Prins Albert te wees as die mense van Binnelandse Sake nie. Ten spyte van hierdie lewe van "niks wees" (77), sal binnekort uit die bestudering van die roman blyk dat elke karakter 'n unieke besef van eiewaarde demonstreer, asook van die persoonlike onderskeidende eienskappe wat verband hou met wie en wat hy/sy werklik is - idees wat ontstaan in hulle verbintenis met die omringende natuuromgewing.

Muis en Kapok blyk afstammelinge van die San te wees - hulle word aan die lewe gehou deur die "Boesmandinge wat ek [Muis] van my ma geleer het" (23) en die "ou Boesmangeheime" wat Kapok by sy oorlede pa geërf het (29). Resente antropologiese navorsing wat die oorsprong van die Karoo se karretjiemense staaf en hulle sosio-politieke agtergrond asook die historiese proses wat tot hulle marginalisering gelei het, verduidelik, is dié van Mike de Jongh: Roots and Routes: Karretjie people of the Great Karoo: The Marginalisation of a South Africa First People (2012). Deur genetiese toetsing is bevestig dat hierdie mense direk afstam van die vroegste bewoners van die Groot Karoo: die /Xam en Khoekhoen, na wie deesdae in polities korrekter terme verwys word as die San en die Khoi (De Jongh 2012:6). Die historiese gebeure wat tot die lewenstyl van swerwery aanleiding gegee het, word kernagtig opgesom. In die laat 1770's het boere hulleself in kommando's georganiseer en jagtogte gereël om van die Boesmans in die Karoo ontslae te raak. Vroue en kinders is gevange geneem en onder die kommandolede verdeel om op die skaapplase te gaan werk. Sodoende het die seuns allerlei vaardighede aangeleer, onder meer om skape te skeer. Met die aanbreek van die 20ste eeu is met intensiewe skaapboerdery begin. Dit het die belangrikste bedryf op Karooplase geword en die Boesmans wat op die plase grootgeword het, het tussen die plase begin beweeg om skape te skeer. Daar is begin om karretjies te bou en heeltyds van plaas tot plaas, staanplek tot staanplek te trek, aldus De Jongh (2012:6).

Ten spyte daarvan dat die karretjiemense met hulle gespesialiseerde vaardighede vir baie jare sedert die ontstaan van skaapboerdery in die Karoo 'n belangrike ekonomiese rol in die omgewing gespeel het, word geoordeel dat hulle waarskynlik die mins beskermde bron van arbeid in die ekonomiese sektor van die land is (De Jongh 2012:3,9). Hulle is die armstes onder die armes, beskou as die laagste sosiale klas in die landelike Karoogebied (De Jongh 2012:105). Die wyse waarop hulle geïgnoreer word, bewys dat hulle onsigbaar is vir elke vlak van regering, onsigbaar vir die akademie en die wetenskap, selfs vir die boere vir wie hulle skaapskeer (De Jongh 2012:7,8,105,106). Hulle ongeletterdheid, wat voortduur as gevolg van hulle nomadiese bestaan, het hulle oor al die jare ontmagtig om hulle onontbeerlike rol in die boerdery-ekonomie van die Karoo en hulle plek in die gemeenskap te artikuleer of te onderhandel (De Jongh 2012:3,114).

Die moontlikheid dat die ontwikkeling van selfwaarde en 'n gevoel van te behoort, as komponente van persoonlike identiteit, gekoppel kan word aan Muis-hulle se natuurverbintenis is betekenisvol. Dit trek die aandag binne die konteks van die debat oor wat Steenkamp (2011:23) "belonging and the self in nature" noem in die postkoloniale Suid-Afrikaanse era en waarin die kwessies van plek en ontheemding ("place and displacement") sentraal staan. Die kern van die postkoloniale krisis ten opsigte van identiteit behels, volgens Ashcroft, Griffiths en Tiffin (2005:8),

the concern with the development or recovery of an effective identifying relationship between self and place [...]. A valid and active sense of self may have been eroded by dislocation, resulting from migration, the experience of enslavement, transportation, or 'voluntary' removal from indentured labour. Or it may have been destroyed by cultural denigration, the conscious and unconscious oppression of the indigenous personality and culture by a supposedly superior racial or cultural model.

Steenkamp (2011:24) stel dit duidelik dat die idee van "environmental belonging, the positioning of the self in relation to the natural world," noodwendig problematies is in Suid-Afrika wat swaar belas is deur die gewelddadigheid van 'n verlede gekenmerk deur segregasie, gronddispute, gedwonge verskuiwings en onteiening. Haar studie vestig die aandag op talle probleme geassosieer met 'n hervisualisering of -voorstelling van "self in nature" in Suid-Afrikaanse konteks. Dit word gedoen deur te herinner aan die verband wat hedendaagse debatte oor die kwessies van grondbesit en die verspreiding van natuurlike hulpbronne met ons geskiedenis van koloniale onderdrukking en rasse-segregasie het (Steenkamp 2011:186).

Karretjiemense beeld die effek van hierdie koloniale praktyke op die lewensomstandighede van twee plaasseuns op baie direkte wyse uit: "Toe Kapok 'n klonkie was, [...] het baas Kobus - hy was toe nog kleinbaas Kobus - en Kapok saam gebaljaar [...]. Iewers tussen dit alles het die een geleer om die baas te wees en die ander een om skaap te skeer." (11) De Jongh (2012:8-9) beklemtoon die ironie verbonde aan die feit dat die Karoo se karretjiemense hulle nooit kon beroep op enige vorm van besitterskap of selfs op vruggebruik van grond nie. Hy verwys na hulle genetiese verbintenis met die vroegste bewoners van die gebied en na die feit dat hulle voorgeslagte ingeskakel was in die boerdery-ekonomie van die Karoo deur hulle rol as plaasarbeiders en skaapskeerders.

The Karretjie People have, through a process which started some two hundred years ago, been increasingly divorced from the land. [...] Because of their lack ofjurisdiction over and even access to land and virtually every other resource in the area, their relationship to the wider community, but particularly the client community of sheep farmers, is conventionally that of strangers. (De Jongh 2012:8)

In hierdie roman kom dus ervarings ter sprake van mense van wie verwag kan word om die verbintenis met grond as problematies te ervaar.

Die outentisiteit van die belewing van die romankarakters mag bevraagteken word, in die lig daarvan dat die skrywer nie die kulturele en sosiale herkoms van die karakters deel nie. Die wyse waarop daar in Karretjiemense stem gegee word aan Kapok en sy swerwersgesin word verskillend beoordeel in besprekings van die roman. Die skrywer, wat vroeër saam met haar man eienaars was van 'n vulstasie in Prins Albert, het haar karakters gegrond op haar waarneming van diegene wat oor tyd by hierdie vulstasie vertoef het. Resensente erken geredelik dat die karakters en hulle wêreld goed nagevors is en dat die vertellersperspektief, wat wissel tussen die karakters, geloofwaardig is - synde sonder enige teken van stereotipering (Duff 2013; De Beer 2013:11), in die idiomatiese register van die streek (Lategan 2013:6; Le Cordeur 2013:685) en in die eie idioom van elke gesinslid (Nagel 2013:16). Duff (2013) meen egter die roman kan slegs gedeeltelik daarin slaag om 'n outentieke klank te gee aan die stemme van die karakters en motiveer dit só: "It is exceptionally difficult to ventriloquise characters whose first language and levels of education are different to that of the author." Sy oordeel dat dit van meer waarde sou wees om karretjiemense toe te laat om vir hulleself te praat in 'n werk van niefiktiewe aard en sê: "Campbell [then] would have been able to explore in a more nuanced way the means by which karretjiemense negotiate South Africa's shifting political, social and economic climate" (Duff 2013). Aangesien daar egter in 'n ruim mate erkenning gegee word aan die "outentieke" uitbeelding van die mense in die roman (Lategan 2013:6), asook aan hoe helder en geloofwaardig die stemme van elke karakter is (Haw 2013:7) in hierdie voorstelling van 'n greep uit die lewe van 'n onbenydenswaardige groep onder die koloniale "ander" (Le Cordeur 2013:685), moet toegegee word dat die roman op 'n fassinerende wyse die uitbeeldingswyses van "self in nature" in die Suid-Afrikaanse letterkunde verruim.

As 'n vertrekpunt vir die romanbespreking wat volg, moet twee spesifieke betekenisaspekte van identiteit wat in hierdie roman geaktiveer word, van nader beskou word. 'n Artikel waarin juis die tersaaklike identiteitsaspekte duidelik onderskei en bespreek word, is dié van James Fearon (1999), getiteld "What is identity (as we now use the word)?" Hierin onderskei Fearon tussen sosiale identiteit enpersoonlike of selfidentiteit ("personal identity") - aspekte van identiteit wat afsonderlik of in kombinasie kan figureer.

In die eerste betekenisverband verwys identiteit na 'n sosiaal-gekonstrueerde kategorie, 'n groepering van mense geëtiketteer deur menslike denke en diskoers (Fearon 1999:2, 15). Hierdie sosiale kategorieë is histories-gebonde en veranderlik, en gekoppel aan 'n rol of funksie (byvoorbeeld versorger, toesighouer, werker) of met tipes (byvoorbeeld gays, slawe, mense uit Afrika). Hierdie tipes word geëtiketteer deur sogenaamde gedeelde kenmerke in voorkoms, gedrag, ervaring, geloof en morele aspekte, waardes, taal, kennis en menings (Fearon 1999:10, 13-14). Sosiale identiteit is dikwels gekonstrueer deur politiek-strategiese oorwegings waarby mag en strategie 'n bepalende rol speel (Fearon 1999:31).

Persoonlike/selfidentiteit word beskryf met verwysing na 'n stel eienskappe, oortuigings of gedragsbeginsels wat die grondslag vorm van wie en wat 'n mens self dink jy werklik is; wat, volgens eie oordeel, jou as individu van ander onderskei (Fearon 1999:20-22). Dit is hierdie persoonlik onderskeidende karaktertrekke wat 'n individu se selfrespek, trots en eiewaarde bepaal (Fearon 1999:11, 23). Fearon se teoretiese indeling stem grootliks ooreen met dié van Stokes (1997:7-8) wat op soortgelyke wyse onderskeid tref tussen kollektiewe en persoonlike identiteit.

In die teoretiese konteks wat tot dusver geskep is, is gestel dat die fokus van my studie ekokrities is, aangesien dit gerig is op die uitwerking van die natuur op identiteitsaspekte in Carol Campbell se roman. Daarom is daar beweeg vanaf 'n omskrywing van ekokritiek na 'n bondige teoretiese fundering van die kwessie van identiteit en die konstruksie daarvan binne die konteks van die ekokritiek.

In die volgende afdeling word eerstens gefokus op die sosiaal-gekonstrueerde identiteit van die karretjiegesin en die effek van sosiale beskouings op hulle selfbeeld en -belewing. Dan beweeg die ondersoek na die vorming van persoonlike identiteit van die individue in hierdie gesin om vas te stel hoe die Karoo-omgewing as voortdurende konteks vir hulle belewenisse inspeel op hulle selfbeskouing. Kernaspekte in hierdie afdeling van die ondersoek is die betekenis wat aan die subjektief gekonstrueerde landskap van die Karoo toegeken word deur Muis en haar mense asook die uitbeelding van die betekenisvolle en soms komplekse aard van die interaksie met die omgewing op fisieke en emosionele vlakke. Die fokus is deurentyd gerig op die interaktiewe prosesse tussen mens en natuur wat bydra om selfwaarde en -kennis as deel van persoonlike identiteit te vorm en 'n ervaring van te behoort te vestig.

 

3. DIE MENSE OP DIE KARRETJIE

3.1 Muishonde van die samelewing

Witpop, Muis se dogter met die drome om skool toe te gaan, ervaar dat haar enigste rol in die samelewing is om te "shaddup": "Nie een van ons is opgeskryf nie. Dit beteken g'n skool vir ons nie. So, shaddup" (18). Haar mense en hul bestaan word al vir geslagte lank verswyg en ontken; Witpop se oupa (Muis se pa) was ook 'n karretjiemens, "dis hoekom my ma [Muis] nooit skool geloop het nie. En dis hoekom sy nie 'n identity het nie" (72).

Hulle sosiaal gekonstrueerde identiteit berus op etikettering ten opsigte van hul rol in die samelewing - dié van swerwers ("hawelose mense" en armlastiges (126)) - en eienskappe soos ongeletterdheid en voorkoms. Witpop word beskou as niks anders nie as 'n "stink karretjiemeid" (34); haar ma 'n "nikswerd" met "geen konsep van jare, of dae, of maande nie" (128), afkeurend beoordeel op grond van voorkoms en neerbuigend benoem op grond van haar herkoms: "Haar tande is weg, net een of twee aan elke kant. Sy is tingerig en geel soos haar voorouers, stellig Boesman" (128).

Om te leef as die muishonde van die samelewing is vir Muis en haar kinders 'n pynlike ervaring. Fansie sê: "Wat ons Mamma Muis die graagste in die wêreld wil hê, is 'n identity. [...] Ek dink dít sal haar soos 'n regte mens laat voel, nie soos 'n muis wat moet wegkruip nie" (72).

Dat die gesin sonder enige identiteitsbewyse leef, is vir Muis ook om 'n ander rede 'n groot bron van onrus: "As die goewerment niks van ons weet nie, dan kan hy (Miskiet) ons bykom. Dán kan hy die kinders kom vat" (26). Die intrige van die verhaal is daarin geleë dat Muis al vyftien jaar wegkruip van Miskiet, wat eers vir haar in die tonnel onder die pad op Leeu-Gamka verkrag het (27) en daarna sy broer, Jan, vermoor het uit jaloesie omdat hy nie self vir Muis kon kry nie. Miskiet maak homself wys dat Muis se babaseun, Fansie, sy laaitie is (25). As Muis dan besluit om saam met Kapok weg te loop, sweer Miskiet wraak: hy gaan haar "keelaf sny soos 'n skaap" as sy ooit weer haar voete op Leeu-Gamka sit (25). Muis besef die erns van hierdie dreigement en die weerloosheid van haar gesin: "Ek wil my kinders op die boeke kry en 'n identity vir myself voordat hy my weer in die hande kry. [...] Ek weet die papiere is my protection" (48).

Die verskriklike patos van lewens wat deur die samelewing negeer word, blyk wanneer Muis die rede probeer vind waarom Miskiet juis vir haar agtervolg:

Hoekom bodder met iemand soos ek? Ek's niemand. Ek's niks. Ek kan nie lees nie. Ek het'ie geld nie. Ek swerwe net in die Groot Karoo rond met my kinders, 'n siek man, twee maer donkies en 'n hond. As 'n boer ons wegjaag, dan trek ons. Wanneer 'n kar aankom, trek ons van die pad af. Wanneer ons mense sien, vat ons 'n afdraaipad. (63)

Hoewel die karakters in Karretjiemense sukkel om enige positiewe beeld van hulleself te vorm uit die etikettering en beoordeling deur die samelewing, bied hulle band met en kennis van die natuur aan elke lid van die gesin 'n unieke wyse om eiewaarde te ervaar en dit te verklaar. By albei Muis se kinders is 'n mate van selftrots duidelik; Witpop sê: "Ek worrie nie oor wat die dorpskinners van my sê nie. Hulle weet niks van die veld nie. Fansie sê hulle sal doodgaan as hulle alleen in die veld gelos word" (19).

Die volgende afdeling behels 'n diepgaande ondersoek na die aard van die interaksie met die veldomgewing deur te fokus op die individuele belewing van die karakters in Muis se gesin. Die baba, Sponsie, is die enigste gesinslid wat hier uitgesluit word. Ten aanvang word aandag geskenk aan die wyse waarop en verskillende dimensies waarin betekenis aan die Karoolandskap toegeken word. Verder word die riglyne wat die teks bied ten opsigte van die omvang en betekenis van die fisieke en emosionele interaksie tussen hierdie karakters en die omgewing geïnterpreteer om vas te stel wat die rol van die natuur is in die konseptualisering van die self en die bevestiging van persoonlike identiteit.

3.2 Die self in die natuur

Wanneer in die voortgaande bespreking verwys word na die natuuraspekte van die Karooveld of -omgewing, word gedink aan die omvattende ruimte van die natuur. Kort (2004:154) verduidelik dat die begrip natuur nie noodwendig rekening hou met menslike intervensie in landskappe nie. Volgens hom sluit omvattende of absolute ruimtes fisiese natuurobjekte soos berge en riviere in, maar ook mensgemaakte veranderinge soos saailande en tuine (Kort 2004:154). Die karretjiegesin in hierdie roman ken die veld as ruimte waar menslike ingryping aantoonbaar is in die grondpaaie waarlangs hulle swerf, die plaaskampe en -heinings langs die pad, die damme waar boere hulle toelaat om die donkies te laat drink. Muis en haar mense se belewing van hierdie omgewing word egter grootliks bepaal deur hulle interaksie met juis die natuurlike elemente wat daarvan veld maak, oftewel 'n onbewerkte gebied of streek weg van 'n stad, dorp of plaaswerf, volgens die HAT (2009:1259). Muis verklaar: "Onder die son en die maan weet ek hulle [my kinders] is myne en kan ek hulle veilig hou" (21). Wanneer haar pad as getraumatiseerde jong vrou met dié van Kapok kruis, beloof hy om haar van Leeu-Gamka weg te neem en bied hy spesifiek die natuurkwaliteite van die veld as teëvoeter vir haar emosionele verwonding: "Ek gaan jou berge toe vat, waar daar water in die rivier is en baie bome om onder te sit" (50).

Roos, Coetzee & Puren (2011:81) redeneer dat mense as holistiese wesens in verhouding tree met natuurlike omgewings en in terme van hulle kognitiewe, gevoels- en spirituele dimensies betrokke is by hulle interaksie met sulke omgewings. Om nou vas te stel op watter wyse Muis-hulle die ruimte van die Karoo omskep in landskap op grond van hulle subjektiewe ervarings en hulle persepsies wat deur interaksie daarmee tot stand kom, moet al drie die elemente waarna Roos, Coetzee & Puren (2011:81-82) verwys, dus betrek word: die kognitiewe, affektiewe en spirituele vlakke waarop betekenis toegeken word. Die doel hier is om vlugtig die belangrikste aspekte in die mens-natuurverhouding in hierdie roman te bepaal en te begryp as agtergrond vir die groter ondersoek na die effek en impak van die natuur op die identiteit van die karakters.

Op 'n kognitiewe vlak beleef, dwing omstandighede Muis om teenstrydige betekenisse aan die veld toe te ken. Sy ken die wegsteekplekke wat die veld bied; sy leer haar kinders die vaardigheid om weg te smelt met die natuuromgewing wanneer sy hulle die bevel daartoe gee: "Klein handjies en voetjies moet agter 'n bos of 'n klip of 'n gat inkruip. Hulle weet hoe om hulle lywe skaars te hou, want ek het hulle gewys hoe om dit te doen" (22). Sy rasionaliseer dat die veld liggaamlike beveiliging bied, maar haar gesin ook weghou van skadelike ervarings en invloede op geestelike vlak:

Dorpe is nie goed vir my kinders nie. Ek sien hoe Witpop probeer saamspeel, maar die kinders slaan haar met latte en gooi haar met klippe. Fansie verdwyn om 'n witpyp te gaan rook en daarna lê hy nikswerd in 'n hoek. En ek, wanneer ek 'n dorp sien naderkom, dan klim die dors vir 'n doppie in my bloed. (21)

Die veld konfronteer Muis egter ook met die wete dat sy sekuriteit van oppervlakkige aard probeer skep. Die kern van die gevaar lê daarin dat haar kinders nie geregistreer is nie, want: "As hulle nie goewermentsname het nie, hoe gaan die poliese weet vir wie om te soek as hulle wegraak?" (21) Die veld is dus ook vir haar 'n plek van selfaanklag en innerlike rasionele konflik, dis asof die natuur haar vermaan: "Ek hoor my kinders se name op die wind oor die veld aangesweef kom. Hulle het nie papiere nie en hulle laat my dit nooit vergeet nie" (20).

Op 'n gevoelsvlak word eweneens dubbele betekenis aan die veld toegeken. Hoewel dit die plek is waarheen Muis se angs vir gevare uit die dorp haar dryf, is dit tegelyk ook plek waar doodsangs gegenereer word. Die droogte veroorsaak dat hulle "skarrel soos rotte in die veld rond op soek na kos" (53). Witpop wonder later of hulle die donkies kan eet -"Daar was dae dat ek gedroom het hoe braai ek vir Pantoffel en Rinnik" (35) - en Fansie "kou die blare [van 'n soutbos] soos 'n skaap" (79). Haar kinders se honger vreet aan Muis se hart, want sy besef: "Ons kan van honger doodgaan terwyl ons op en af langs die langkampe in die Karoo rondtrek" (58).

Die pasafgehandelde, kernagtige beskouing van die kognitiewe en affektiewe dimensies van betekenisgewing aan die landskap in Karretjiemense lewer reeds bewys van die intense effek van die natuur ten opsigte van persoonlike belewing en van die komplekse aard van die mens-natuurverbintenis. Die bestudering van die karakters se spirituele verbintenis met die veld verskaf egter die duidelikste demonstrasie van asook verklaring vir die rol van die natuur as bydraend tot en vormgewend aan hulle selfbegrip en -beskouing.

Hierop word gefokus in die volgende afdeling. Die aandag val beurtelings op Muis, Witpop, Fansie en Kapok om hulle interaktiewe verhouding met die Karooveld, waaruit 'n besef van te behoort op spirituele vlak blyk, te analiseer en die persoonlike identiteit van elke karakter vas te stel met verwysing na die invloed van die natuur.

3.2.1 Muis

Die veld is Muis se leef- en verwysingsruimte van haar vroegste dag af. Self kind van 'n karretjiemens (72), openbaar sy al kleintyd die veld se invloed op haar denkraamwerk deur aan sterre die name van bekende natuurdinge te gee: Spinnekop, Ystervark (75). Wanneer sy as volwassene haar lewe aan die boer se dogter op die plaas, Genade, wil verduidelik, bied die veld steeds die fisieke en emosionele konteks waarbinne hulle swaarkry beskryf word: "Waar kry 'n vrou wat op 'n donkiekar rondswerf in die wye dorre wêreld vol jakkalse en skerpioene 'n bossie wortels om op te kap in die pot saam met die vleis van die dier wat sy doodgemaak het vir haar kinders om te eet?" (14)

Muis skenk geboorte (22) en begrawe haar kind in die veld (73); intieme ervarings soos hierdie dra by tot die ontstaan van 'n spirituele band tussen mens en plek. Só onthou Muis die geboortes: "Toe hulle [my dogters] uitkom, was hulle klein en glibberig en elke keer't ek gedink ek het 'n padda uitgekraam" (22). Hierdie natuurbeeld is kenmerkend van die wyse waarop sy haarself deurlopend verduidelik en waarin die idioom van die veld asook dierebeelde oorheers as teken van die natuur se impak op haar selfbeskouing. In die aanvangsin van die eerste hoofstuk waarin Muis aan die woord is, sê sy: "[E]k is vas soos 'n hond aan 'n ketting" (11). Wanneer tyding hulle ná jare bereik dat die boer op Genade weer vir hulle 'n heenkome kan bied, gebruik Muis in haar verligting weer 'n veld- en dierebeeld: "[...] ek weet die jare van soos 'n malhaas rondhol, is amper op 'n einde" (16).

Die fundamentele aard van die skakels op psigiese vlak tussen haar en die natuur lê in hierdie intuïtiewe talige uitdrukking aan haarself. Ervarings van te ken en te behoort vorm die motivering vir die taalgereedskap wat sy kies en waarin die veld en diere die beelde voorsien om haarself en ander te beskryf. Miskiet daag by hulle kampplek op en "Fansie verdwyn soos 'n duiker in die donkerte" (58-59). Sy misreken haar met Miskiet se gewelddadigheid en "die volgende oomblik lê ek soos 'n skilpad op my rug met 'n skoen teen my kop" (62). Met hierdie insident word vorige gebeure van geweld waarby haar pa betrokke was, herroep: "My pa het 'n swerm bye in sy kop gehad enjinne, as hulle daar uitvlieg, wil jy nie in die rondte wees nie" (62). Die vrees vir afrekening agtervolg haar genadeloos: "Daai jakkals, daai slang [...] het my nog lank nie vergeet nie" (57). Dit spruit uit bitter herinneringe: "Hy [Miskiet] kyk na my babatjie, en sy gesig is soos dié van 'n böjaanmannetjie met skerp slagtande" (21).

Muis sê: "As mens lank in die veld woon, kan jy aan die lug voel wanneer 'n lewende ding in die omtes is. Baiekeer weet ek daar's 'n slang voordat ek hom sien" (57). Sy ken die veld op 'n kognitiewe vlak, wat 'n vertroudheid behels, maar ook op 'n vertrouensvlak, ondanks die ontberings wat haar gesin beleef: "[...] die veld is ons enigste pa. Hy sal vir ons sorg" (110). Ook vir Kapok is dit duidelik dat Muis op onderliggende vlak die vrede en vergenoegdheid beleef van iemand wat tuis voel, ongeag slegte belewings. Hy sê: "Dit was 'n harde lewe, maar ek het haar [Muis] sien lag en die meeste van die tyd was daar vreedsaamheid in haar oë" (27).

Hierdie spirituele verbintenis, die belewing dat sy deel is van die plek wat die raamwerk vir haar denke en ervarings vorm, is by Muis die bepalende faktor in die konseptualisering van die self. Sy ken haarself in verbintenis met die veld. Dit is hier waar sy haar positiewe eienskappe eien en slyp, soos haar vasberadenheid in die beskerming van haar gesin, haar vindingrykheid en die slim benutting van klippe en erdvarkgate om haar kinders ongesiens te hou, die vasbeslote waaksaamheid wat haar "heelnag laat regop sit en die veld dophou terwyl almal slaap" (11). Sy verraai die aard van "'n muisie wat nie 'n geluid maak nie en skuil vir slange en katte en mense [...] maar moenie 'n fout maak nie, daai Mamma Muis kan byt" (72); hierdie onverskrokkenheid word gedemonstreer wanneer Miskiet dit naby Fansie waag en sy op hom skreeu: "Los hom uit, Miskiet. [...] Hy's Jan se kind!" (58).

Muis dra 'n diep besef van eiewaarde, uitgedruk in heftige sinne soos: "Ek is nie 'n hond nie" (p. 11) en: "My kinders ís mense" (77). Hierdie selfrespek word nie deur sosiale oordeel bepaal of deur interaksie met die gemeenskap gevoed nie, dit groei veel eerder uit haar kennis van natuurdinge. Wanneer sy en Kapok aan die einde van die roman op hulle ID's wag en daar op patroniserende wyse vir haar gevra word: "Weet julle wanneer dit September is?", antwoord sy met 'n reguit rug: "Ja, dis wanneer die veldblomme uitslaan. Dis wanneer ons gaan terugkom" (130).

3.2.2 Witpop

Witpop is Muis se middelkind, op die drumpel van adolessensie, en vol jongmeisieverlange na "pienk roll-on en 'n waslappie en sagte pads" (34). Sy reageer met die sensitiwiteit van 'n preadolessente kind op die verwerping deur die dorpskinders. Sy sê: "Ek weet hulle hou nie van my veldse klank nie. [...] Ek dink die kinders laaik ook nie dat ek nie kan skiyf nie" (17). Hulle verwerping stimuleer 'n ondersoekende ingesteldheid teenoor haarself en in hierdie proses van selfbeskouing blyk die effek van die voortdurend omringende veld op haar waarneming en selfinterpretasie: "Wanneer ons by 'n suipplek stop, kyk ek na my hare in die water en wonder hoekom dit regop soos gras groei" (17). Sy ontdek kwaliteite en vaardighede wat nie tot haar sosiale status kan bydra nie, maar van besondere praktiese waarde is, spesifiek in die omstandighede waarin sy grootword: "Pappa sê ons het nie skoene nodig nie, want ons voete is so hard soos 'n hond s'n" (17); en: "[Dan] sluip ons stilletjies weg soos jakkalse die donkerte in" (52).

Hierdie eienskappe en vernuf is die produk van die veldomgewing waarin Witpop diere dophou in die spel van oorlewing en selfbeskerming. Sy weier om haar die dorpskinders se gespot te laat welgeval en volg die weg van 'n bedreigde velddier: "Dan spoeg ek soos 'n slang. [...] Hulle steek my onder die klippe. Ek hou daarvan om hulle vol in hulle gesigte te spoeg" (16). Hoewel haar voorkoms of sosiale vaardighede haar nie met trots kan vul nie, spruit die geringe mate van selftrots waaroor Witpop beskik, uit die wyse waarop sy in die veld haar weg kan vind en in die vaardighede wat die veld haar leer. Wanneer sy gruwelik beledig word deur 'n plaasneef wat in 'n arbeidershuis woon, red sy haar eie eer met 'n onuitgesproke uitdaging aan haar belediger: "Ja, Kobus, kom saam met dié karretjiemeid veld toe, dan kan jy sien hoe useless jy regtag is" (34).

Haar pa verwag dat sy haar in 'n emmer moet was voordat hulle in die dorp kom, maar sy weier: "Ek wil dit nie doen nie. Ek laaik hoe ek ruik" (19). Dis 'n verklaring dat haar selfrespek nie gekoppel is aan die standaarde wat die samelewing stel nie, maar die resultaat is van hoe sy binne die konteks van die veld en die uitdagings wat die veldlewe bied, 'n meer relevante wyse van selfbeskouing en -waardering geleer het.

Wanneer sy haarself uiteindelik deeglik skoonskrop, is dit in Meiringspoort se rivier; sy klim in die stroom en viyf handevol sand oor haar hele lyf (94). Hulle is op pad na "Home Affairs" op Oudtshoorn, maar haar oorweging is nie om aanvaarbaar te wees vir die dorpenaars nie - slegs om uitdrukking te gee aan die ervaring van te behoort waar die water en die riete haar geselskap is. Dis 'n gelukkige ervaring, verwoord in die idioom waarmee sy haarself ten beste kan uitdruk, naamlik dié waarin dierebeelde oorheers: "Ek word 'n vis. My vel sing en ek voel so gelukkig. Toe ek uit die water klim, verbeel ek my ek's 'n slang en ek gaan lê op die rots om droog te raak" (94).

3.2.3 Fansie

Muis se oudste kind, Fansie, is die duidelikste voorbeeld van hoe eiewaarde as 'n sterk komponent van persoonlike identiteit tot stand kom uit mens-natuur-interaksie en gedemonstreer word in eienskappe soos wilskrag, trots en doelgerigtheid.

Fansie vind van jongs af plesier in die sterk verbintenis wat hy beleef met die natuur. Hy verkneukel hom in sy ma se stories oor hom as pasgeborene en "dat my hare soos 'n ystervark s'n was" (72). Sy waarnemings en sy herbelewing van gebeure, byvoorbeeld van die dood van sy babasussie (Meitjie), verraai die invloed van die natuur op sy denk- en ervaringswêreld - hierdie dooie sussie se vingertjies was "soos koue klippies"; Fansie onthou: "Ons baba het 'n sterretjie geword" (73).

Hy beskik oor besondere vernuf om dit wat hy wys word uit sy ervarings in die natuur toe te pas op ander lewensituasies.

Wanneer jy roer, sien die dier jou uit die hoek van sy oog en laat vat. Wanneer jy doodstil staan, ruik hy jou, maar kan hy jou nie sien nie. Partykeer kom hy tot by jou voete. Dan moet jy gou maak, soos 'n kobra, om hom te vang. Dis net so wanneer jy iemand agtervolg. (55)

Uit die slim benutting van die parallelle tussen sy lewe en dié van velddiere, groei selfvertroue en -kennis: "Ek kan 'n duif met kaal hande vang. [...] Ek gaan lê doodstil iewers langs water en verbeel my ek is 'n pofadder. 'n Pofadder wat al die tyd in die wêreld het om een voël te vang" (112). 'n Besondere mate van selftrots word gekweek in die toepassing van sy veldvaardighede, want dit maak van hom die betroubare voorsiener van kos aan sy gesin. Daarmee verdien hy sy gesin se bewondering: "Fansie hardloop soos 'n koedoe die veld vol. En almal is bly wanneer hy terugkom, want hy bring altyd 'n haas of 'n erdvark vir aandkos" (24).

Herhaalde demonstrasie van sy sterk ervaring van eiewaarde word in die roman gevind, telkens gekoppel aan eienskappe wat ontwikkel en geoefen is in die veld. Buiten dat hy die rol van versorger in die plek van die mank Kapok vertolk, is daar ook die vasberadenheid waarmee hy snags sy gesin probeer beveilig, tot Kapok se groot trots: "Hy is my waghond wat rondom ons kamp sluip en die lug bly snuif vir gevare" (97).

'n Besondere aspek van Fansie se natuur- en selfbeskouing setel in sy erkentlikheid teenoor die bron waaruit sy gesin leef. Terwyl sy fokus op die natuur skerp en doelgerig ingestel bly daarop om daagliks iets terug te bring na die pot en die vuur, is sy respek gebalanseerd verdeel tussen homself as bedrewe jagter en die veld as goedgesinde gewer. Sonder die minste illusie omtrent sy rol as die afhanklike sê Fansie: "Wanneer ek alleen is, gesels ek met die diere in die veld en vra hulle om uit te kom" (32), en: "Ek's so bly daai erdvark het hom vir Rinkhals [die hond] gewys sodat ons kan eet" (32).

Die duidelikste uitdrukking van die selftrots wat deur natuurlesse en -belewing tot stand gekom het, vind plaas in Fansie se meewarige verwysing na dorpsmense. Terwyl hierdie mense uit sosiaal gekonstrueerde idees van meerderwaardigheid op hom en sy gesin neersien, verklaar Fansie sy posisie van uitnemendheid as gevolg van die skerp waarnemingsvermoë wat die veld hom geleer het:

Dié dorpsmense is maklike prooi, stadige hase. Dorpsmense kom nie agter wanneer dinge rondom hulle verander nie. Hulle hoor nie as ek 'n klip skop [...] nie. Selfs skilpaaie is slimmer as hulle en dit laat my lag kry. 'n Stadige skilpad weet: Staan doodstil, bly tjoepstil en niemand gaan jou raaksien nie. (112)

3.2.4 Kapok

In die hoofstukke waarin Kapok aan die woord is, kom die leser onder die indruk van die dinamiese wyse waarop natuurkragte inspeel op menslike ervaring. Daardeur word gemotiveer dat die mens-natuurverbintenis 'n kernaspek is van die karakters se werklikheidsbelewing en gevolglik ook van hulle selfbelewing en -beskouing. Deur die gegewe van onafwendbare natuurmagte en klimaatsverandering in die Karoo word in hierdie roman 'n kragtige en interaktiewe teenwoordigheid aan die natuur toegeken. Die droër wordende landskap word 'n karakter op sigself deur die invloed daarvan op die plotontwikkeling en die direkte effek wat dit het ten opsigte van die lewensituasie en -uitkoms van die karretjiegesin. Hier word die leser daaraan herinner dat 'n omgewing net so 'n duidelike effek op karakters kan hê as gebeure of ander karakters; "ruimte word as karakter ingespan wanneer dit daadwerklik in interaksie met 'n gewone karakter tree" (Paul 2012:48).

Vir baie jare het die mense op die karretjie en hulle donkies goed geleef op die paaie deur die Karoo, "die gras [het] dik gegroei in die langkampe langs die grondpad en die fonteine op ons geheime plekke het altyd 'n poeletjie water gehad" (29). In hierdie jare is die gawes van die natuur met respek benut. Die gesin maak staat op dit wat Fansie in die veld kan vang as aanvullend tot die dooie diere wat hy op die pad se ryvlak optel, maar oorlewing is hulle enigste motief in die benutting van die voedselstoor van die veld. Respek vir alle natuurgoed blyk uit die oordeelkundige wyse waarop Fansie sy jagtersoog voortdurend verskuif tussen ystervarke (24,31), hase (30), duiwe (78) en duikers (79); ook uit Kapok se instruksies ten opsigte van die jag: "Ek sê vir hom [Fansie] hy moet nooit ooit 'n skilpad bring nie. 'n Skilpad stort net een traan en dis wanneer dit doodgaan. Ek wil nie daai een traan trek nie, selfs al gaan ons dood vannie honger" (30).

Dinge in die Karoo het egter verander:

Wat het van die gras geword? As ons nou by Heuningvlei uitspan, is die fontein droog. [...]Die water het weggesink.[...] Dis die veranderinge elke jaar. 'n Bietjie minder water in die lope wat my pa en oupa my gewys het toe ek 'n kind was. [...] Die byeneste is ook nou weg. (29)

Saam met die verdwyning van die weiding tussen die draadheining en die grondpad groei Kapok se onrus, want die donkies het nie meer die krag om die karretjie te trek nie. Uiteindelik word hulle teruggedwing na Leeu-Gamka, die een plek wat Muis nooit weer wou sien nie, omdat 'n boodskap hulle bereik dat daar dalk weer 'n werksgeleentheid vir Kapok is op die plaas Genade. Selfs al ken hy Muis se doodsangs vir Miskiet wat haar by hierdie dorp inwag, kan die veld nie verder vir hulle 'n heenkome bied nie en dwing hierdie werklikheid hulle tot 'n besluit: "Dis oor die Karoo so verander dat ons moet teruggaan Leeu-Gamka toe. Wat Muis ook al sê, ons móét net. [...] Ons almal is aanmekaar só honger" (30). Wat betref die invloed van die omgewing op karakter- en plotontwikkeling, wys Weik von Mossner (2013:223) ook op die effek wat die omgewing kan hê op innerlike gebeure: " [T]he protagonists' embodied presence in a particular environment, and their emotional relationship to it, influences the direction and outcome of their interior battles." Dis natuurkragte wat die deurslag gee in Muis se innerlike stryd tussen "wegkruiertjie" te speel (52) in die veld en dit terug te waag na Leeu-Gamka en uiteindelik ook na Oudtshoorn om Binnelandse Sake vir identiteitsdokumente te besoek.

3.2.5. "Onse plek in die Groot Karoo": gesamentlike vashou aan die natuuromgewing as bevestiging van persoonlike identiteit

Teen die einde van die roman, ná 'n verrassende ontknoping in die agtervolgingsdrama, word daar tot Muis se verligting geboortesertifikate aan haar kinders uitgereik en word hulle deur die goewerment "mense gemaak" (131). Hulle vertoef egter nie in die dorp nie, die gesin hunker terug na die landelike omgewing waarbinne elkeen 'n eie waardebesef gevorm het in die tydperk toe die samelewing hulle tot "niks" gemaak het. 'n Motorwag verduidelik dat 'n mens goeie geld kan maak op die dorp; Kapok sê: "Ons wil'ie karre oppas nie. Ons gaan terug oor die berg na onse plek in die Groot Karoo" (134). Ook Fansie verwoord die gevoel van te behoort aan en te hunker na die plek wat so 'n wesentlike rol gespeel het in die vasstelling van persoonlike identiteit by hom en sy mense: "Ons moet wegkom en in die vlaktes verdwyn. Ek dink aan die vlaktes. Die koppies wat blink in die hitte. [...] 'n Duikertjie wat my van bo van 'n krans af dophou" (138). Die roman suggereer dat die gesin op 'n plaas in die Leeu-Gamkadistrik 'n heenkome sal vind (142).

In Muis en Kapok se laaste gesprek, oor hulle terugkeer, kom vryheid en geluk ter sprake (142). Hierdie mense, sonder sosiale aansien of erkenning, het daarin geslaag om elk op unieke manier eiewaarde te vind en só hoop vir die toekoms te behou, gebaseer op die geloof dat elke mens se inherente waarde hom bó knegskap verhef. "Een mens kan nie 'n ander mens besit nie", sê Kapok (142). Hoe die mens-natuurverbintenis enduit in die roman essensieel bly ten opsigte van die vorming en bekragtiging van die karakters se positiewe selfbelewing, word goed gedemonstreer in die laaste hoofstuk. Die gesin maak kamp onder die bloekoms by die rivier en dié nag, wanneer die koue Muis se slaap verdryf, kom sy 'n muishond op die rivierwal teë. Die dier hou haar dop met blink oë wat sy lewendige aard verraai en Muis stel hom gerus: "Dis oukei, muishond. Ek's ook 'n muishond." Die assosiasie met die dier gebeur waarskynlik omdat Muis ook daaraan gewoond is om 'n slegte naam te dra.2 Hier is egter ook 'n sterk konnotasie van lewe en vryheid te vind: "Miskiet is dood. Ek lewe. 'Ek's 'n muishond,' sê ek hardop. [...] Ek sal nooit weer hoef weg te kruip nie" (140).

Muis demonstreer dat sy assosieer met 'n natuurwese in die bevestiging van wie en wat sy ten diepste is: 'n vrye skepsel wat nie hoort onder die dwingelandy van vrees vir 'n ander nie, want:

"Elkeen is vry [...]. God het dit so beskik" (142). Die soort optrede van die karakters wat in hierdie afdeling bespreek is, word op gepaste wyse deur Sinno (2013:141) beskryf as "clinging to the natural world as a means of affirming their identity".

 

4. SLOT

My ondersoek oortuig my dat, hoewel Karretjiemense positief ontvang is, die roman onderskat word solank as wat die ekokritiese interpretasie daarvan agterweë bly en die ondersoekfokus nie ook val op die wyse waarop die roman die aandag vestig op die menslike-niemenslike verbintenis nie.

In die bestudering van Campbell se roman is vasgestel dat die natuur ’n prominente en interaktiewe teenwoordigheid uitoefen, aantoonbaar in die konkrete en psigiese effek op die karakters se lewens en op hulle selfbeskouing. Verder is bevind en gemotiveer dat die karakters hulleself op aktiewe, omvattende wyse met die natuur verbind: deur die proses van betekenisgewing waarby verskillende dimensies van hulle menswees betrek is – die kognitiewe, affektiewe sowel as spirituele – en deur hulle interaksie met die natuur op fisieke en emosionele vlak.

Die kernbevinding van die studie is dat dit binne hierdie verbintenis met die natuur is, en by wyse van elke karakter se individuele belewing van en reaktiewe betrokkenheid by die veldomgewing, dat Muis se mense in hulle eie oë waarde en selfkennis vind. Die Karooveld is die kernfaktor in die ontwikkeling en bevestiging van die karakters se persoonlike identiteit asook van hulle gevoel van bestaansreg en om te behoort. Sinno (2013:140) se oortuiging omtrent die kritiek belangrike rol wat die natuurlike omgewing ten opsigte van identiteitsvorming kan vervul, juis waar sosiale en owerheidsisteme die mens faal ten opsigte van die erkenning van identiteits- en bestaansbehoeftes, word deur hierdie roman bevestig. Elke karakter in die karretjiegesin demonstreer op eiesoortige wyse die effek van die Karoo-omgewing op sy/haar lewe en denkwyse, spesifiek in die konstruering van selfkennis en -identitei

Karretjiemense werp lig op die ervaring van die self in verhouding tot die natuur deur diegene van wie verwag kan word om die verbintenis met die aarde as problematies te ervaar as gevolg van hulle verlede van koloniale verontregting in terme van grondkwessies. Die roman demonstreer egter unieke verbintenisse tussen die self en die natuur, verbintenisse met ’n belangrike funsie ten opsigte van identiteitskepping. Dit bied ’n verrassende alternatief vir die uitbeelding van identiteitservarings wat die problematiek van die konsep “environmental belonging” aksentueer binne die postkoloniale belewingskonteks. Karretjiemense bied ’n onthutsende relaas oor ’n deel van die samelewing wat so min het en so dikwels misgekyk word, ’n groepie mense wat op moedige wyse kom tot die konseptualisering van die self met die hulp van wat beskikbaar is: die konteks van die natuur.

 

BIBLIOGRAFIE

Ashcroft, B., Griffith, G. & Tiffin, H. 2005. The Empire Writes Back: Theory and Practice in Post-colonial Literatures. London & New York: Routledge.         [ Links ]

August, T. 2013. Chronicle of a Karoo family. Cape Times, 5 February, p. 8.         [ Links ]

Burger, W. 2001. The past is another country: Narrative, identity and the achievement of moral consciousness in Afrikaans historiographical fiction. Stilet 13(2):79-91.         [ Links ]

Boivin, N. 2008. Material Cultures, Material Minds: The Impact of Things on Human Thought, Society and Evolution. Cambridge & New York: Cambridge University Press.         [ Links ]

Campbell, C. 2013. Karretjiemense. Uit Engels vertaal deur Kirby van der Merwe. Kaapstad: Umuzi. Castells, M. 1997. The Power of Identity. The Information Age: economy, society and culture, Volume II (The information age). Malden: Blackwell.         [ Links ]

Childs, P. & Fowler, R. 2009. The Routledge Dictionary ofLiterary Terms. London & New York: Routledge.         [ Links ]

Cosgrove, D. 1993. Social Formation and Symbolic Landscape. Madison: University of Wisconsin Press.         [ Links ]

Darian-Smith, K. 1996. Introduction. In Darian-Smith, K.,Gunner, L & Nuttal, S. (eds). Text, Theory, Space: Land, Literature and History in South Africa and Australia. London & New York: Routledge.         [ Links ]

De Beer, E. 2013. Soos veldblomme in die Karoo. Beeld, 25 Maart, p. 11.         [ Links ]

De Jongh, M. 2012. Roots and Routes: Karretjie people of the Great Karoo: The Marginalisation of a South Africa First People. Pretoria: Unisa Press.         [ Links ]

Dreese, D.N. 2002. Ecocriticism: Creating Self and Place in American Indian Literatures. New York: Peter Lang.         [ Links ]

Duff, S.E. 2013. Invisible lives. http://slipnet.co.za/view/reviews/invisible-lives/ [14 February 2014].         [ Links ]

Fearon, J.D. 1999. What is identity (as we now use the word)? https://www.stanford.edu/group/fearon-research/cgi-bin/wordpress/wp-content/uploads/2013/10/What-is-Identity-as-we-now-use-the-word-.pdf [14 February 2014].         [ Links ]

Fourie, R. 2013. Is ekokritiek die moeite werd? LitNet Webseminare,http://www.litnet.co.za/Article/is-ekokritiek-die-moeite-werd [10 Februarie 2014].         [ Links ]

Glotfelty, C. 1996. Introduction: Literary studies in an age of environmental crisis. In Glotfelty, C. & Fromm, H. (eds). The ecocriticism reader: Landmarks in literary ecology. Athene: University of Georgia Press.         [ Links ]

HAT: handwoordeboek van die Afrikaanse taal. 2009. 5de uit, 3de druk. Kaapstad: Pearson Education.         [ Links ]

Haw, P. 2013. The importance of having an identity. Business Day, 4 June, p. 7.         [ Links ]

Kort, W. A. 2004. Place and space in modern fiction. Gainesville: University Press of Florida.         [ Links ]

Lategan, H. 2013. Muis en haar mense. Rapport, 28 April, p. 6.         [ Links ]

Le Cordeur, M. 2013. Onsigbare mense van die Karoo op reis na identiteit. Tydskrifvir Geesteswetenskappe 53(4):685-687.         [ Links ]

Magwood, M. 2013. From the shimmer ofthe Karoo emerges an extraordinary debut novel by Carol Campbell. Sunday Times, 1 July, http://bookslive.co.za/blog/2013/07/01/out-of-the-dust-michele-magwood-reviews-my-children-have-faces-by-carol-campbell/ [4 March 2014]        [ Links ]

Martin, D-C. 1995. The choices of identity. Social Identities 1(1):5-21.         [ Links ]

Milton, K. 2002. Loving Nature: Towards an Ecology of Emotion. London & New York: Routledge.         [ Links ]

Nagel, A. 2013. Identity in crisis. The Times, 12 March, p. 16.         [ Links ]

Paul, C. 2012. Ruimte. In Scheepers, R. & Kleyn, L. (reds). Die Afrikaanse skryfgids. Kaapstad: Penguin Books.         [ Links ]

Roos, H. 2006. Die Afrikaanse prosa 1997 tot 2002. Perspektief en Profiel (Deel 3). Pretoria: Van Schaik Uitgewers.         [ Links ]

Roos, V., Coetzee, H. & Puren, K. 2011. Mense se ervarings in 'n natuurlike omgewing in die Vredefortkoepel, Suid-Afrika: Implikasies vir ruimtelike ontwikkeling. Tydskrifvir Geesteswetenskappe 51(1):68-85.         [ Links ]

Schama, S. 1996. Landscape and Memory. London: Fontana Press        [ Links ]

Sinno, N.A. 2013. The Greening of Modern Arabic Literature: An Ecological Interpretation of Two Contemporary Arabic Novels. Interdisciplinary Studies in Literature and Environment 29(1):125-143.         [ Links ]

Slovic, S. 2000. Ecocriticism: Containing Multitudes, Practicing Doctrines. In Coupe, E. (ed). The Green Studies Reader: From Romanticism to Ecocriticism. London: Routledge.         [ Links ]

Snyman, H. 2012. Die laaste karretjiegraf deur Athol Fugard. LitNet, http://www.litnet.co.za/Article/die-laaste-karretjiegraf-deur-athol-fugard-en-riana-steyn [4 Maart 2013]        [ Links ]

Steenkamp, E.L. 2011. Identity, Belonging and Ecological Crisis in South African Speculative Fiction. Grahamstown: Rhodes University (Thesis - PhD).         [ Links ]

Stokes, G. 1997. Introduction. In Stokes (ed). The politics of identity in Australia. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Tilley, C. 2006. Introduction: Identity, Place, Landscape and Heritage. Journal of Material Culture 11(1-2):7-32.         [ Links ]

Viljoen, L. 2002. "Die kleur van mens.": Antjie Krog se Kleur kom nooit alleen nie en die rekonstruksie van identiteit in post-apartheid Suid-Afrika. Stilet 14(1):20-49.         [ Links ]

Wasserman, H. 2001. Om hergeboorte te verbeel: 'n postkoloniale beskouing van migrasie, kultuur en identiteit. In Van Heerden, E (red). Briewe deur die lug: LitNet/Taalsekretariaat skrywersberaad 2000. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Weik von Mossner, A. 2013. Encountering the Sahara: Embodiment, Emotion, and Material Agency in Paul Bowles's The Sheltering Sky. Interdisciplinary Studies in Literature and Environment 20(2):219-238.         [ Links ]

 

 

Susan Meyer is 'n senior lektor in Afrikaans aan die Fakulteit Opvoedingswetenskappe, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom. Sy het in 1990 die graad MA in Afrikaanse letterkunde verwerf aan die Universiteit van Pretoria en in 1993 die DLitt et Phil-graad aan die Universiteit van Suid-Afrika. Sedert 2003 doseer sy Afrikaanse letterkunde vir onderwysstudente en is sy deel van die Navorsings-eenheid Tale en Literatuur in Suid-Afrikaanse konteks aan die Noordwes-Universiteit. Haar navorsingsbelangstelling lê hoofsaaklik by die ekokritiese benadering tot die eietydse Afrikaanse prosa. Hierdie belangstelling lei tot 'n fokus op die literêre vergestalting van die mens-natuurverbintenis en op die wyses waarop menslike lewe en identiteit beïnvloed word deur die natuurlike omgewing. Sy ondersoek die wye spektrum van menslike reaksies op die natuur, die talle dimensies waarin en die gevarieerde wyses waarop die mens met die natuur in interaksie tree en betekenis daaraan toeken, soos uitgebeeld in eietydse Afrikaanse narratiewe. Haar navorsingsresultate word gepubliseer in verskeie akademiese vaktydskrifte en sy lewer referate by nasionale sowel as internasionale konferensies.
Susan Meyer is a senior lecturer in the Faculty of Education Sciences of North-West University, Potchefstroom. She obtained a MA degree in Afrikaans literature at the University of Pretoria in 1990 and the DLitt et Phil degree at the University of South Africa. She lectures Afrikaans literature and is part of the Research Entity Language and Literature in South African context at the NorthWest University. Her research interest includes ecocriticism and she focuses on an ecocritical approach to contemporary Afrikaans prose, looking into the literary manifestation of the relation between man and nature, and the ways in which human life and identity are influenced by the natural environment. She investigates all facets of human's reactions to nature, the full scope of dimensions and the varied ways in which humans interact with nature and allot meaning to nature as portrayed in contemporary Afrikaans narratives. Her research results in regular publications in academic journals and she delivers papers at conferences nationally and internationally.
1 Boivin verwys hier na die betekenis wat Kay Milton (2002:4) aan die term "omgewing" heg: "Our environment is not necessarily or primarily social; it is simply an environment, consisting of things other than ourselves with which we interact, including what is often called the 'natural' environment."
2 Haar van is ook Muishond, wat volgens Le Cordeur (2013:685) effe geforseerd voorkom vir 'n karakter wat juis die rol van muishond in die samelewing vertolk.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons