SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.54 issue4Attitudes and opinions regarding mother-tongue education and the choice of a university: Afrikaans-speaking students at UnisaAfrikaans as property, and the question of restandardisation author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.54 n.4 Pretoria Dec. 2014

 

NAVORSINGS-  EN OORSIGARTIKELS

 

Kom join die PUK: die gebruik van Engels in honneursprogramme op 'n Afrikaanse universiteits- kampus van die NWU

 

Come join the PUK: the use of English in honours programmes at an Afrikaans university campus of the NWU

 

 

Jako Olivier

Skool vir Tale Noordwes-Universiteit, Potchefstroom jako.olivier@nwu.ac.za

 

 


OPSOMMING

Die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) word histories met Afrikaans geassosieer, maar Engels word ook as onderrigmedium veral by honneursprogramme op dié kampus gebruik. Die prominensie van Engels aan hierdie instansie en die belangrikheid van die taal is reeds in die vormingsjare van die instelling erken. Dit is egter belangrik om die gebruik van Afrikaans aan 'n hoëronderwysinstelling te kontekstualiseer met betrekking tot die voordele wat moedertaalonderrig inhou, taaloordrag van vaardighede wat van 'n moedertaal na 'n addisionele taal plaasvind, die status wat Afrikaans (en ander tale) met betrekking tot Engels geniet, relevante navorsing met betrekking tot twee- en meertaligheid sowel as die kwessie van funksionele meertaligheid. Bestaande nasionale wetgewing en beleidsdokumente sowel as die NWU se taalbeleid is ook in hierdie verband relevant. Die gebruik en behoefte aan Engels as onderrigmedium is 'n realiteit en die hantering daarvan kan deur middel van enkelmedium, parallelmedium, dubbelmedium of onderrig met behulp van opvoedkundige tolking geakkommodeer word. Uit die literatuuroorsig is veral opvoedkundige tolking steeds 'n wenslike opsie. As daar na die taalverspreiding en -voorkeure van studente gekyk word, is dit duidelik dat Afrikaans steeds prominent is, maar dat die persentasie Afrikaanssprekendes aan die afneem is. Engels word reeds as onderrigmedium gebruik ter wille van die akkommodering van studente en ter voorbereiding van die industrie buite die universiteit. Die artikel beveel verdere navorsing aan met betrekking tot Engelse akademiese vaardighede en opvoedkundige tolking (spesifiek uit Engels in Afrikaans) met die klem op die fasilitering van wedersydse kommunikasie in die tolkingsproses.

Trefwoorde: Noordwes-Universiteit, PU vir CHO, taalbeleid, taalbeplanning, Afrikaans as onderrigmedium, Engels as onderrigmedium, dubbelmediumonderwys, parallelmediumonderwys, opvoedkundige tolking


ABSTRACT

The Potchefstroom Campus of North-West University (NWU) is historically associated with Afrikaans, but English is currently being used as medium of instruction for honours programmes on this particular campus of this trilingual university. As such the NWU acknowledges Afrikaans, English and Setswana as working languages in its language policy. The prominence of English at the Potchefstroom Campus and its value as a medium of instruction, however, had already been acknowledged in the University's year of inception in 1869 - initially as a school of theology. As time passed Dutch and eventually Afrikaans became more important at the institution. The university moved from a mainly Afrikaans character to an officially trilingual university with mainly Afrikaans and English as mediums of instruction after a merger in 2004 between the former Potchefstroom University for Christian Higher Education, the University of North-West and Sebokeng Campus of the Vista University as part of the government's attempts at integrating segregated higher education institutions. It is important to contextualise any discussion with regard to medium of instruction in terms of the benefits of mother-tongue education, it is clear that language transfer of skills can take place between a mother tongue and an additional language, the status of Afrikaans (as well as other South African languages) with regard to English and its hegemony in South Africa also informs this discussion. Relevant research with regard to bi- and multilingualism as well as the concept offunctional multilingualism also inform decisions made regarding medium of instruction. The outstanding bilingual skills of Afrikaans-speaking students seem to be relevant in this regard. Furthermore, existing national legislation and policies as well as the NWU's language policy should also be taken into account. In this regard, the use of English for honours programmes on the Potchefstroom Campus is allowed and the language policy specifically refers to the honours programmes where English can be utilised. However, the use of Afrikaans at this institution should be considered within the context of increased English usage throughout the higher education landscape in South Africa. The importance of Afrikaans as an academic language at higher education level is clear and is, despite some negative political rhetoric, still an important aspect of the ideals set out in the Constitution regarding multilingualism and the right to receive an education in a person 's mother tongue. The use of and need for English as a medium of instruction is a reality at this campus and needs to be recognised and managed. Language use can be facilitated in a classroom by means of single-medium, parallel-medium, double-medium or educational interpreting approaches. From an overview ofthe literature, especially pertaining to this higher education institution, educational interpreting approaches seem to be most relevant. However, some criticism against both these approaches in terms of teaching and learning time and especially two-way communication in terms of interpreting need to be explored and addressed. From an overview of the language distribution and preferences of the students it is clear that Afrikaans is still the most prominent language on campus. But a decline in the percentage of Afrikaans-speaking honours students is also evident. English is already used in a number of honours programmes as a medium of instruction. English is mainly used for the sake of accommodating individuals who do not have a proper command of Afrikaans or prefer not to be instructed in this language as well as perceived needs of the industry outside the university. This article recommends further research regarding English academic skills and educational interpreting, specifically from English into Afrikaans. With reference to interpreting, focus is also necessary regarding the facilitation of effective two-way communication in the interpreting process in a classroom.

Keywords: North-West University, PU for CHE, language policy, language planning, Afrikaans as medium of instruction, English as medium of instruction, double medium education, parallelmedium education, educational interpreting


 

 

1. INLEIDING

"Onbeskaamd Afrikaans", so het 'n voormalige rektor van die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, prof. Tjaart van der Walt (1987:1, 4), die universiteit in sy inhuldigingsrede in 1978 beskryf. Tans gebruik die Noordwes-Universiteit (NWU) Afrikaans en Engels as primêre onderrigtale en wend doelbewuste pogings aan om Setswana en Sesotho as tale van onderrig en leer te gebruik (NWU 2012a:3). Die historiese en pragmatiese belangrikheid van Afrikaans is egter duidelik op die Potchefstroomkampus van die NWU teenoor die prominensie van Engels op die Mafikengkampus en die gebruik van Engels en Afrikaans op die Vaaldriehoekkampus. Dit is egter problematies as die NWU en veral die Potchefstroomkampus van hierdie instelling as 'n "Afrikaanse universiteit" tans en histories beskryf word aangesien 'n taal soos Engels nog altyd saam met Afrikaans daar 'n rol gespeel het (vgl. Tabel 1). Hieroor maak Steyn (2014:189) byvoorbeeld die volgende opmerking: "Die PUK was altyd 'n Afrikaanse universiteit wat studente sowel as dosente betref'. Hierdie stelling word gemaak ten spyte van die feit dat die NWU en die voorlopers daarvan reeds vanaf 1886 Engels ook as onderrigmedium op verskeie wyses gebruik het (vgl. afdeling 3).

Die huidige taalverdeling word deur die NWU se Institusionele taalbeleid en taalplan, asook operasionaliseringsprosedures (NWU 2012b:3, 6, 9) en die literatuur bevestig.1 Die fokus in hierdie artikel is spesifiek op die Potchefstroomkampus aangesien slegs hierdie kampus die meeste modules in Afrikaans aanbied terwyl Engels reeds op die ander twee kampusse meer prominent is. Tans blyk dit egter dat toenemend meer honneursprogramme op die Potchefstroomkampus deur medium van Engels aangebied word.

Engels was histories 'n prominente taal by alle hoëronderwysinstellings in Suid-Afrika (Steyn 2004:142), asook uiteindelik by die voorlopers van die NWU (Van Eeden 2005b:537). Die belangrikheid van Engels onder Afrikaanssprekendes aan dié instelling is reeds in 1886 deur Marthinus Postma uitgewys dat "dit belangrik vir beroepsmoontlikhede is dat studente sorg dat hulle vaardig in Engels is" en in 1905 stel Ferdinand Postma dat dit belangrik is "dat studente Engels ken omdat die hele staats- en maatskaplike lewe in Engels is" (Verhoef 2007a:3).Veral na 1951 is spesifiek Afrikaans by die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys as onderrigmedium beklemtoon, met die eerste erkenning van ander tale in 1992 (Van Eeden 2005b:537-538).

Van die prominensie van Afrikaans by die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys is beweeg na 'n meertalige taalbeleid van die Noordwes-Universiteit wat in 'n oorwegend Engelse hoëronderwysomgewing funksioneer. Hiermee saam is dit belangrik om te aanvaar dat die belange van 'n universiteit nie net plaaslik is nie maar ook nasionaal en dat goeie universiteite internasionale studente trek (Mesthrie 2008:328). Dit is belangrik om te erken dat universiteite nie net as hulpbronne vir bepaalde tale en taalgemeenskappe kan dien nie, maar wel tot die staat en die breër Suid-Afrikaanse gemeenskap behoort.

In 'n internasionaal geleide evalueringsverslag (Van Vught et al. 2014) van die NWU se eerste tien jaar na samesmelting, (vgl. deel 3) word uitgelig dat Afrikaans op die Potchefstroomkampus behou is ten einde die kampus as "engine of the new university" te dien (vgl. Wittezaële 2008:11). 'n Ander respondent het dit soos volg aan die paneel gestel: "One view expressed to the panel was that the merger sought to preserve as much of the then status quo as possible, adopting a no change environment that preserved a centre where Afrikaans interest, language and culture prevailed" (Van Vught et al. 2014:11). Verder dui dié verslag aan dat die NWU-taalbeleid 'n effek gehad het op eenheid by die universiteit, veral ten opsigte van groot verskille in demografie tussen Potchefstroom en Mafeking (vgl. Kapp 2013:167). Daar word ook opgemerk dat "[a] further consequence of the language policy is that the racial divide of the academic staffing on the two campuses reflects that of the undergraduate population" en dat studente nie maklik van kampusse kan verwissel nie (Van Vught et al. 2014:11). Enige toename in die gebruik van Engels by die Potchefstroomkampus van die NWU moet ook in hierdie konteks benader word. Dit is egter belangrik om in ag te neem dat die blote verandering van 'n taalbeleid en onderrigmedium op 'n kampus nie noodwendig transformasie en 'n toename in studente wat niemoedertaalsprekers van Afrikaans is, sal verseker nie. In hierdie verband noem Scholtz en Scholtz (2008:312) die Universiteit Stellenbosch as voorbeeld waar met die verandering van dié instelling se taalbeleid en 'n verengelsing van die kampus daar juis min swart studente gelok is (vgl. ook Le Roux 2010:115). Hierdie saak is moontlik 'n kontekstuele veranderlike wat die konteks van die NWU affekteer, maar dit maak nie deel uit van die kern van hierdie ondersoek nie.

Hierdie artikel verken die oorskakeling van onderrigmedium van Afrikaans na Engels in honneursprogramme by die Potchefstroomkampus van die NWU met betrekking tot die breër historiese en huidige taalkonteks, die instelling se taalbeleid en taalvoorkeure van studente.

 

2. RAAMWERK WAARIN DIE NWU-TAALBELEID FUNKSIONEER

Ten einde die konteks van die gebruik van Engels in honneursprogramme te verstaan, word daar ten eerste na die kwessie van moedertaalonderrig gekyk. Hierna word die kwessie van taaloordrag hanteer sowel as taalstatus en veral Engels in hierdie verband. Ook is tweetaligheid en meertaligheid in die onderwyskonteks asook funksionele meertaligheid van belang. Ten slotte is dit belangrik om die taalbeleid van die NWU binne die raamwerk van die Grondwet (1996), die Nasionale Taalplan vir Hoër Onderwys, die Wet op Hoër Onderwys en ander relevante beleidsdokumente te benader.

2.1 Moedertaalonderrig

Moedertaalonderrig veronderstel onderrig en leer deur middel van 'n moedertaal. Die term moedertaal word beskou as 'n persoon se primêre taal of taal wat die beste bemeester is (Webb 2002:xx). Skutnabb-Kangas (1988:16-17) definieer 'n moedertaal met betrekking tot die oorsprong, bevoegdheid, funksie en identifisering. Met oorsprong word die taal wat eerste aangeleer is, bedoel. Bevoegdheidverwys na watter taal die beste bemeester is. Verder verwys funksie na watter taal die meeste gebruik word. Terwyl identifisering te make het met die keuse van die taal waarmee 'n spreker hom of haar vereenselwig of identifiseer. Skutnabb-Kangas (1988:16-17) voeg ook by dat mense dikwels, binne hierdie definisie, meer as een moedertaal gelyktydig of selfs in 'n leeftyd kan handhaaf en dat dit kan verander. Hiermee saam stel Orman (2008:88) dat dit soms moeilik is om 'n moedertaal af te baken, veral by meertalige individue, wat verskillende tale in verskillende kontekste handhaaf (vgl. Heugh 2002:187-188; Pennycook 2002:23-24).

Die voordele wat moedertaalonderrig inhou, is al herhaaldelik bevestig.2 Moedertaalonderrig en veral die uitbreiding van die gebruik van Afrikatale word ook deur die Minister van Hoër Onderwys ondersteun en bevorder (Nzimande 2010, 2011 & 2012). Die bevordering van Afrikatale as moedertale in onderwys is van belang aangesien moedertaalonderrig in hoëronderwys slegs vir Afrikaans- en Engelstalige moedertaalsprekers beskikbaar is (Du Plessis 2006:100). Die suksesvolle aanleer van 'n moedertaal is ook noodsaaklik sodat enige ander addisionele tale aangeleer kan word. Heugh (2002:174) stel, met verwysing spesifiek na skoolonderrig, dat die "notion that the earlier and greater the exposure to English coupled with a proportional decrease in the use of the mother tongue will result in better proficiency in English does not hold up to scientific scrutiny" asook verder dat "the less use made of the mother tongue in education, the less likely the student is to perform well across the curriculum and in English". Dus is juis kennis van 'n moedertaal noodsaaklik ten einde 'n addisionele taal, soos Engels, suksesvol te bemeester.

Ook moet in ag geneem word dat die bevordering van 'n moedertaal soms polities gemotiveer kan wees en nie noodwendig universeel vir almal relevant is nie (De Klerk 2002:30-31; Hutton 1999:11). Crystal (1997:368) noem dat 'n beleid wat slegs moedertaal voorstaan, probleme kan oplewer aangesien "the children may become 'trapped' in their mother tongue, and fail to achieve in the majority language; thus reducing their access to prosperity". Hierdie kwessie is relevant met betrekking tot Engels in Suid-Afrika waar Engels as onderrigmedium ten koste van moedertale gebruik word (Heugh 2002:180; Webb 2007:287). Dit is egter nie noodwendig waar dat studente op dieselfde wyse ook "vasgevang" kan word in Afrikaans nie, veral as die tweetaligheid van Afrikaanssprekende studente in ag geneem word (Coetzee-Van Rooy 2013:179 189). In hierdie breër verband van moedertaalonderrig is dit ook belangrik om na die kwessie van taaloordrag te kyk.

2.2 Taaloordrag

Taaloordrag (language transfer) verwys in die literatuur, met betrekking tot tweetaligheid, na die oordrag van vaardighede wat in een taal geleer is na die gebruik in 'n addisionele taal. Taaloordrag kan by studente plaasvind waarvolgens hulle kennis wat in die moedertaal opgedoen is, kan oordra na 'n addisionele taal (Arabski 2006:22). Littlewood (2004:505) ondersteun die gedagte en noem dat oordrag veral tussen verwante tale moontlik is. Dus word die gedagte van oordrag tussen Afrikaans en Engels as verwante tale ondersteun.

'n Aspek wat ook in hierdie verband in ag geneem moet word, is die feit dat akademiese taalbevoegdheid tussen verskillende tale onderling afhanklik is. Jim Cummins (1980:175, 185; 2000:58) tref onderskeid tussen - wyd aangehaalde - basiese interpersoonlike kommuni-kasievaardighede (oftewel basic interpersonal communication skills of BICS) en kognitiewe akademiese taalbevoegdheid (oftewel cognitive academic language proficiency of CALP). Die twee taalbevoegdhede kom in 'n moedertaal of addisionele taal (of tale) voor. Verder merk Cummins (1980:175), met betrekking tot kognitiewe akademiese taalbevoegdheid op dat "cognitive/academic proficiencies in both L1 and L2 are manifestations of the same underlying dimension". Dit is dan verder duidelik dat die verwerwing van kognitiewe akademiese taalbevoegdheid in die moedertaal 'n effek gaan hê op die verwerwing van genoemde bevoegheid in 'n addisionele taal (Cummings 1980:179). Dus, met 'n goeie grondslag van akademiese taalbevoegdhede in Afrikaans byvoorbeeld, asook die nodige motivering (Cummins 1980:179, 185), kan die akademiese taalbevoegdhede oordraagbaar wees na Engels. Die gebruik van enige van die twee tale is egter ook afhanklik van die status wat die tale geniet.

2.3 Taalstatus

Tale kan verskeie funksies verrig, as statutêre, werks- en simboliese tale, wat op 'n hoë vlak as internasionale of nasionale tale vir regeringsake, in howe en onderwys gebruik word en/of op 'n laer vlak slegs as kommunikasiemiddel binne 'n gemeenskap of gesin funksioneer (Cooper 1989:99-103; Stewart 1968). Die gebruik van 'n taal in hoër onderwys is 'n hoëvlak-taalfunksie en die verlies hiervan het definitiewe gevolge op 'n taal se status en die persepsies wat ten opsigte daarvan bestaan (vgl. Brink 2006:66). Scholtz en Scholtz (2008:294) is van mening dat "Afrikaans oor 'n eeu sy hoëre funksies kan verloor". Verhoef (2010:169) stel dat "[d]it lyk of daar redelike eenstemmigheid in die breë mediadebat is dat Afrikaans se toekoms as hoëronderwystaal taamlik uitsigloos lyk" en sy voeg verder by "as die aktiewe bestuur om die voortbestaan van Afrikaans as hoëronderwystaal te verseker, nie wesentlik deel word en bly van die toekoms van die nasionale transformasieagenda van die hoëronderwyslandskap nie, dan is haar kans op oorlewing waarskynlik maar skraal". Webb (2010:356-360) noem ook die statusverlies van Afrikaans in die openbare domein en hy staan die behoud van Afrikaans in hoëronderwys voor.

Die behoud van Afrikaans in hoëronderwys word, volgens Webb (2010:364-370), om die volgende redes voorgestaan: die gebruik van Afrikaans as onderrigmedium lei tot effektiewe opvoedkundige ontwikkeling; Afrikaans bied toegang tot 'n breër studentegemeenskap veral met betrekking tot bruin studente; Afrikatale kan ook bevorder word deurdat die gebruik van Afrikaans die hegemonie van Engels teenstaan; die grondwetlike kwessies van billike hantering van taal en gelykheid van aansien kan sodoende gehandhaaf word; die behoud van Afrikaans sal die vorm van 'n meertalige of pluralistiese denkwyse in hoëronderwys aanhelp en ten slotte dra die gebruik van Afrikaans by tot dienslewering aan die Suid-Afrikaanse gemeenskap waarin universiteite hulle bevind (vgl. Steyn 1994:43-47; Wiechers 2010:13). Webb (2010:373-377) stel selfs strategieë voor waardeur die herlewing van Afrikaans se rol in hoëronderwys bevorder kan word.

Engels se status word dikwels behaal of onderhou ten koste van ander tale. Giliomee en Schlemmer (2006:18-19) wys op verskillende tale wat weens die uitbreiding van dominante tale, soos Engels, gemarginaliseer word. Engels se rol as hoëvlaktaal veral op hoëronderwysvlak en die toenemende verengelsing van universiteite is duidelik (Giliomee & Schlemmer 2006:12; Webb 2012:202). Die gebruik van Engels as voertaal op universiteite in Europa word deur Mortensen (2014:1) aan internasionalisering toegeskryf, maar hy dui aan dat 'n blote verskuiwing na Engels in stryd is met empiriese bevindings rakende taalgebruik en die breër plaaslike samelewing of konteks waarin studente hulle na hulle studies sal bevind. Die hegemonie van Engels word deur Robert Phillipson selfs as taalimperialisme beskryf (Giliomee & Schlemmer 2006:22).

In die Suid-Afrikaanse konteks het veral die toename in gebruik van Engels by die Universiteit Stellenbosch, byvoorbeeld, uiteenlopende reaksie in die literatuur ontlok.3 In hierdie verband som Le Roux (2010:79) die onderrigopsies, wat in 2002 oorweeg is, soos volg op: "A-opsie (hoofsaaklik Afrikaans), T-opsie (afwisseling van Afrikaans en Engels, waarvan minimum 50% Afrikaans is), E-opsie (feitlik slegs Engels) en AE-opsie (parallelle, gedupliseerde Afrikaanse en Engelse klasse)" (vgl. Giliomee & Schlemmer 2006:106).

Daar is besluit op die A-opsie as verstekopsie op voorgraadse vlak en dat daar met deeglike motivering hiervan afgewyk kan word. Le Roux (2010:114) dui aan dat die "gemiddelde voorgraadse Afrikaanse aanbod" aan die Universiteit Stellenbosch in 2010 sowat 72,5% was. Met sekere fakulteite aan dié instelling wat ten volle die T-opsie gebruik. Die T-opsie-aanbod tel vir 50% Afrikaans en daar is geen doeltreffende monitering om vas te stel of minstens 50% Afrikaans gebruik word nie. Ten tyde van hierdie navorsing is opvoedkundige tolking nog nie aan die Universiteit Stellenbosch gebruik nie. Latere navorsing het egter wel gewys dat opvoedkundige tolking suksesvol hier toegepas kon word (Kapp 2013:222). Die kompleksiteit van die debatte rondom die Universiteit Stellenbosch se taalbeleid kan egter nie binne die bestek van 'n paragraaf ten volle toegelig word nie. Dit is egter wel belangrik dat instellings soos die NWU kennis dra van wat by 'n instelling soos die Universiteit Stellenbosch, veral met betrekking tot dubbelmediumonderrig, gebeur het.

Die toenemende gebruik van Engels in hoëronderwys kan moontlik aan die uitbreiding van toegang toegeskryf word. In die Transformation and Restructuring: A New Institutional Landscape for Higher Education (Ministry of Education 2002a:29) word die volgende as een van die doelwitte gestel: "[e]nsure (in the historically Afrikaans-speaking institutions) that the language of instruction is not a barrier to access, especially in high cost programmes with limited student places such as the health sciences and engineering". Die feit dat taal nie as hindernis moet dien nie word ook in die Taalbeleid vir Hoëronderwys (Ministry of Education 2009b:5) herhaal (vgl. Du Plessis 2006:105; Verhoef 2010:170-171). 'n Eentalige Engelse hoëronderwysbedeling kan egter omvorm word tot 'n tweetalige of meertalige omgewing waar wyer toegang tot hoëronderwys moontlik is.

2.4 Tweetaligheid en meertaligheid

Tweetaligheid in onderrigkontekste kan effektief tot toegevoegde tweetaligheid onder studente lei. Veral dubbelmedium- eerder as parallelmediumonderrig word in hierdie verband verkies (Plüddeman 1997:24). Heugh (2002:178-179) lys verskillende studies wat tweetalige onderrig ondersteun. Toegevoegde tweetaligheid (additive bilingualism) verwys na die byleer van addisionele tale nadat 'n moedertaal suksesvol aangeleer is. Die gedagte is dat taalvaardighede uitgebrei word eerder as dat een taal 'n ander vervang of 'n addisionele taal byvoorbeeld die leer van 'n moedertaal negatief beïnvloed (subtractive bilingualism) (vgl. Heugh 2002:174).

Meertaligheid is 'n realiteit in die wyer Suid-Afrikaanse konteks en by verskeie individue in Suid-Afrika. Die Taalbeleid vir Hoëronderwys (Ministry of Education 2009b:5) stel die ontwikkeling van 'n meertalige omgewing waarin al die Suid-Afrikaanse tale as akademiese en wetenskapstale funksioneer sonder dat bestaande tale as hindernis dien. Die Taalbeleid vir Hoëronderwys (Ministry of Education 2009b:14-16) stel ook dat die hoëronderwysinstellings aangemoedig word om meertaligheid te bevorder. Dit is egter ook belangrik om die konsep van funksionele meertaligheid, as praktiese riglyn, in hierdie verband te ondersoek.

2.5 Funksionele meertaligheid

Funksionele meertaligheid is, volgens die NWU-taalbeleid en relevante taalsosiologiese literatuur, van kardinale belang (Giliomee & Schlemmer 2006:50; NWU 2012a:2; Verhoef2006:93; Verhoef 2010:170). In die LANGTAG-verslag (1996:111) word die volgende met betrekking tot funksionele meertaligheid genoem: "various languages function in different contexts, whilst others function in other contexts" en dat funksionele meertaligheid "implies that each language need not always function in every context". Die verslag (LANGTAG 1996:112) voeg by dat funksionele meertaligheid verantwoordelike beplanning veronderstel en dat onnodige herhaling tussen tale uitgeskakel moet word.

Funksionele meertaligheid, soos deur die NWU toegepas, "dui daarop dat die keuse vir die gebruik van 'n betrokke taal of tale telkens afhang van die situasie/konteks waarin gekommunikeer word en dat veranderlikes soos die doel van die kommunikasie, die taalvaardigheidsvlakke van gespreksgenote telkens bepalend is vir die keuse van taalkode/taalkodes" (NWU 2012a:2). Verhoef (2006:93) lig die belangrikheid van funksionele meertaligheid vir taalbestuur aan die NWU uit en sy maak die volgende opmerking in dié verband: "[d]it beteken dat demografiese, ekonomiese en houdingsfaktore as veranderlikes optree wat in berekening gebring word in die balansering van 'n dinamiese taalplan wat konstant rekening hou met taalvoorkeure, taalgebruik en taalvaardigheid". Dus sou daar in 'n onderrig-leersituasie op grond van die konteks op Afrikaans en Engels oftewel Afrikaans of Engels besluit kan word. Die voorafgaande sake moet egter ook binne bepaalde wetgewing en beleidsdokumente oorweeg word.

2.6 Relevante wetgewing en beleidsdokumente

In Artikel 29(2) van die Grondwet (1996) word die volgende gestel: "Elkeen het die reg om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van eie keuse waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is". Hieroor merk Wiechers (2010:10) die volgende op: "[e]nige bewuste of selfs indirekte of verskuilde poging om Afrikaans se bestaande amptelike taalstatus te verminder of te ondermyn kan dus as ongrondwetlik bestempel" word.

Benewens die Grondwet (1996) is die volgende dokumente relevant ten opsigte van taalbestuur in die hoëronderwyskonteks: Witskrif op Hoër Onderwys (Goewermentskennisgewing 1196 van 1997), Wet op Hoër Onderwys (Wet 101 van 1997, Artikel 27(2)), Goewermentskennisgewing oor die Hoëronderwyslandskap (Goewermentskennisgewing 855 van 2002), Nasionale Plan vir Hoër Onderwys (2001) en die Goewermentskennisgewing oor die Afrikatale (Goewer-mentskennisgewing 35028 van 2012). Hiervolgens word nie alleen die gebruik van Afrikaans in die hoëronderwyskonteks verseker nie, maar ook voorsiening gemaak vir die akkommodering van twee- en meertalige onderrigmodi. Die NWU se taalbeleid funksioneer ook binne die voorafgaande raamwerk.

 

3. NWU-TAALBELEID

Die NWU het in 2004 ontstaan na die samesmelting van die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO), die Universiteit van Noordwes (UNW) en die Sebokengkampus van Vista Universiteit (De Klerk & Du Pisani 2005:134). Soos in die inleiding genoem, was die onderskeie universiteite en kampusse volgens taal en ras geskei. Hierdie skeiding kan teruggevoer word na Die Wet op Uitbreiding van Universiteitsopleiding (Wet 45 van 1959), wat segregasie op grond van ras in hoër onderwys bepaal het. Die samesmelting van universiteite in Suid-Afrika was juis 'n poging om die nalatenskap van hierdie en soortgelyke wetgewing teen te werk (Ministry of Education 2002a:1).

Die huidige NWU-taalbeleid moet ook binne die konteks van 'n historiese aanloop beskou word. Aangesien die Potchefstroomkampus van die NWU in hierdie artikel hanteer word, word die geskiedenis van die instelling met betrekking tot die amptelike landstale en onderrigmediums in Tabel 1 hieronder opgesom.

(De Klerk & Du Pisani, 2005:134; De Klerk & Möller, 2005:474; Du Plessis, 2000:105; Du Plessis, 2003:106107; Herbert, 1992:3-5; Mesthrie, 2002:13-18; Steyn 1994:35-36, 42-43; Steyn 2004:142-146; Steyn 2014:189, 431; Van Eeden 2005a:2; Van Eeden 2005b:537-538; Van der Schyff2003:2, 22, 37, 79, 192, 224, 242, 377, 533, 543, 557, 615)

Die NWU se taalbeleid is ingevolge artikel 27(2) van die Wet op Hoër Onderwys en die regering se Taalbeleid vir Hoër Onderwys van 2002 opgestel waarvolgens die Raad van 'n universiteit met instemming van Senaat 'n taalbeleid moet saamstel binne die beleid wat deur die Minister bepaal is (vgl. Wiechers 2010:11). By die NWU is die proses hanteer deur die saamstel van 'n verteenwoordigende taakspan wat die proses bestuur het. Ten eerste is 'n taaloudit gedoen met die doel om "volledig bestek op te neem van die taalwerklikheid, taalbehoeftes en taalhoudings van 'n verteenwoordigende aantal interne belanghebbendes op al die kampusse en bedryfsvlakke van die NWU (voorgraadse, nagraadse studente en akademiese sowel as administratiewe personeel)" (Verhoef 2010:171). Hierdie insette het die grondslag gelê vir die universiteit se taalplan en taalimplementeringsplan wat die taalbeleid ondersteun. Die proses is die eerste keer in 2005 gedoen en is in 2011 herhaal.

Die NWU (2012a:1,2) se taalbeleid streef funksionele meertaligheid na waar "die keuse vir die gebruik van 'n betrokke taal bepaal word deur die situasie/konteks waarin dit gebruik word".

Verder word Setswana, Engels en Afrikaans as amptelike tale van die NWU erken. Ook stel die taalbeleid die volgende: "[v]erbetering van toegang en sukses bly steeds die primêre uitgangspunt vir die taalbeleid vir onderrig-leer en assessering aan die NWU" (NWU 2012a:3). Die taalbeleid se afdeling vir onderrig maak ook voorsiening "vir die taaldemografie en taalvoorkeure van 'n bepaalde kampus binne 'n omgewing waar die taalregte van al die persone wat betrokke is, gerespekteer word" (NWU 2012a:3).

Die Institusionele taalbeleid en taalplan, asook operasionaliseringsprosedures voorsien 'n taalplan, implementeringsraamwerk en voorgestelde prosedures vir die taalbeleid. Al word Afrikaans op die Potchefstroomkampus hoofsaaklik vir onderrig-leer- en assesseringsdoeleindes op hierdie kampus gebruik, word die volgende prosesse toegepas om "vir studente met ander taalvoorkeure en -behoeftes toeganklikheid en sukses te verseker" (NWU 2012b:3):

  •  Waar toepaslik word studiegidse en vraestelle in sowel Engels as Afrikaans opgestel, en studente kan kies in watter een van die twee tale hulle dit wil beantwoord. Studentedeel-name aan klasbesprekings kan óf in Engels óf in Afrikaans geskied.
  • SI-fasilitering7 vind plaas in meertalige modusse en SI-fasiliteerders met meer-taligheidsvaardighede word ingespan.
  • Vertikale kommunikasie tussen dosente/steunpersoneel en studente vind op 'n funksioneel meertalige wyse plaas.
  • Meertalige sleutelbegrippe word by eerstejaarstudiegidse ingesluit ten einde hulp met verbeterde begrip te verleen.
  • Opvoedkundige Tolkdienste (OTD) in een of meer onderrigprogramme in elkeen van die fakulteite op die Kampus word hoofsaaklik in Engels gelewer. In sommige gevalle word OTD ook in Afrikaans en Setswana gelewer.

Vir hierdie artikel is veral die honneurskonteks van belang. Die Institusionele taalbeleid en taalplan, asook operasionaliseringsprosedures (NWU, 2012b:10) gee onder paragraaf 9.5.3 die volgende weer omtrent honneursprogramme:

Gegradueerdes se algehele bedrewenheid in Engels aan die NWU kan verbeter word. Bykomend tot projekte in die ko-kurrikulum gemik op die verbetering van professionele vaardighede in Engels (vgl. Par. 9.4.3.4 hierbo) word die volgende voorstelle aan die hand gedoen: in die finale semester van 'n voorgraadse kwalifikasie of in die honneursprogram moet studente versoek word om hul klasaanbiedinge in Engels voor te berei en te lewer. Die voorstel word ook gemaak dat hierdie werkopdragte streng volgens 'n taal-oor-die-kurrikulum-benadering geassesseer word. [Beklemtoning ingevoeg.]

Dus laat die NWU se taalbeleid die gebruik van Engels, spesifiek in honneursprogramme, toe. Die vraag bly egter of so 'n invoeging van Engels nie ook toegang van Afrikaanssprekendes tot die onderrig- en leerinhoud en aktiwiteite belemmer nie. Om hierdie rede is dit belangrik om die beskikbare onderrigmediumopsies teen mekaar op te weeg.

 

4. OPWEEG VAN ONDERRIGMEDIUMOPSIES

De Varennes (2010:24-27) noem dat verskeie taalbestuurmodelle deur universiteite toegepas word en dat hierdie modelle wissel van geheel en al eentalige universiteite tot twee- en meertalige universiteite (of selfs kombinasies van hierdie opsies op verskillende vlakke). Verskeie onderrigmediumopsies, soos enkelmedium, parallelmedium, dubbelmedium of onderrig met behulp van opvoedkundige tolking word in hierdie artikel vir 'n hoëronderwysomgewing hanteer. Dit is egter belangrik dat die implementering van hierdie opsies in konsultasie met al die belanghebbendes gedoen word.  

4.1 Moedertaalonderrig: Afrikaans-enkelmedium

Die enkelmediumopsie is beste vir 'n instansie met slegs Afrikaanssprekende studente, maar nie noodwendig maklik haalbaar in 'n meertalige konteks of omgewing wat Engels vereis nie (Giliomee & Schlemmer 2006:67). Hierdie opsie vergemaklik onderrig en leer asook administrasie, maar kan moontlik 'n instelling met betrekking tot taal isoleer. In Suid-Afrika is hierdie opsie nie regtig meer die norm nie en geen van die Histories Afrikaanse Universiteite volg meer hierdie benadering nie (vgl. Du Plessis 2006:106; Steyn 2014:455). Daar is egter wel enkele privaathoëronderwysin-stellings, soos die Akademie Reformatoriese Opleiding en Studies (Aros 2014), wat wel Afrikaansenkelmedium is, maar wat nie aan die taalvereistes van die Wet op Hoër Onderwys onderhewig is nie. Hierteenoor is Engels-enkelmedium-instellings baie algemeen in Suid-Afrika.

4.2 Eentalig: Engels-enkelmedium

Die meeste universiteite in Suid-Afrika (17 uit die 23) volg hierdie opsie waar slegs Engels as onderrigmedium gebruik word. Hierdie opsie ignoreer ook die meertalige konteks en taalvoorkeure (sowel as taalbevoegdhede) van studente. Dit is belangrik om daarop te let dat navorsing aantoon dat Suid-Afrikaanse studente nie almal funksioneel geletterd in Engels is nie (Smit 1996:96; Webb 1998:126). Indien 'n opsie soos hierdie by die NWU byvoorbeeld oorweeg word, moet die vermoë van Afrikaanssprekende dosente om ook in Engels te onderrig in ag geneem word. Ten einde die hegemonie van Engels in hoëronderwys teen te werk, moet opsies oorweeg word waardeur meer tale geakkommodeer kan word, soos parallelmediumonderrig.

4.3 Tweetalige onderrig: parallelmedium

Parallelmediumonderrig veronderstel die verdubbeling van klasse met byvoorbeeld aparte Afrikaanse en Engelse aanbiedings van dieselfde inhoud. Hierdie benadering akkommodeer beide taalgroeperings, maar dit verg addisionele periodes en verdubbel dosente se werklas (Giliomee & Schlemmer 2006:68; Pienaar 2006:27; Steyn 1994:56; Verhoef 2006:89). Verder kan so 'n opsie die persepsie van 'n vorm van taalapartheid tot gevolg hê aangesien studente van verskillende taalgroepe (en by implikasie selfs etniese groepe) dus in klasse van mekaar geskei word.

Daar kan tussen sterk en swak parallelmediumonderrig onderskei word. Du Plessis (2006:102) noem dat by sterk parallelmediumonderwys alle aspekte van onderrig en leer in twee tale beskikbaar is, terwyl by swak parallelmediumonderwys slegs die onderrig en soms basiese studiemateriaal in twee tale gebied word. In hierdie verband noem Du Plessis (2006:102) dat dubbelmediumon-derrig as 'n vorm van swak parallelmediumonderwys beskou kan word. In hierdie artikel word hierdie konsep egter weens verskille tussen die benaderings afsonderlik hanteer.

4.4 Tweetalige onderrig: dubbelmedium

Met dubbelmediumonderrig word twee tale, Afrikaans en Engels byvoorbeeld, gelyk in dieselfde klasse geakkommodeer (vgl. Du Plessis 2006:102-103; Steyn 1994:56). 'n Voorbeeld hiervan was Nederlands en Engels soos dit van die 1880's aan die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 'n voorloper van die NWU, aangewend is (Van der Schyff 2003:37) of die sogenaamde T-opsie aan die Universiteit Stellenbosch (vgl. 2.3). Hier word 'n 50-50-tydstoedeling veronderstel (Giliomee & Schlemmer 2006:69). Dit is ook nie altyd gewens nie aangesien die helfte van klastyd verlore gaan en hierdie benadering vereis eintlik dat studente kennis van beide onderrigmediums moet hê om ten volle baat te vind hierby (De Varennes 2010:29; Scholtz & Scholtz 2008:310). Coetzee-Van Rooy (2013:179, 189) het wel bevind dat Afrikaans-Engels tweetaligheid en selfs tweetalige geletterdheid onder Afrikaanssprekende studente uitstekend is. Dus sou so 'n opsie met die nodige ondersteuning wel 'n moontlike oplossing wees.

Dit is egter ook belangrik om in ag te neem dat 'n dubbelmediumkonteks moontlik uiteindelik kan lei tot enkelmediumonderrig (Scholtz & Scholtz 2008:299) en soos Verhoef (2006:89) dit stel "gewoonlik ten koste van die taal met 'n mindere nasionale of globale status". Die tendens, asook die uiteindelike verengelsing, is aan die Universiteit van Pretoria, Universiteit van Wes-Kaapland, Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit en die Universiteit van Johannesburg waargeneem.8 Aan die NWU word die behoeftes van Engelssprekende studente in Afrikaanse klasse bykans 'n dekade lank reeds met behulp van opvoedkundige tolking hanteer.

4.5 Opvoedkundige tolkdienste

Opvoedkundige tolkdienste, oftewel klaskamertolking (vgl. Kotzé 2012:49-50; Van Rooy 2005; Verhoef 2006:92), bied die geleentheid om taalgrense tussen dosente en studente af te breek (Pienaar 2006:28, 38) deur akkommodering van meer as een taal in 'n klaskamer sonder dat 'n dosent verskillende onderrigmediums hoef te gebruik.

Opvoedkundige tolkdienste in Engels word voorgraads op die Potchefstroomkampus van die NWU gebruik om toegang en sukses by onderrig-leer te bemiddel.9 Uit die Institusionele Taaloudit (Verhoef 2012:28) is dit ook duidelik 'n goeie wyse waarop meertalige klasse bestuur kan word en ook 'n manier wat deur studente verkies word. Hierdie gevoel word ook deur vorige ondersoeke ondersteun (Verhoef 2007b:270). Benewens uitgebreide voorgraadse tolking word daar tans reeds by 79 honneursmodules getolk. Indien hierdie dienste uitgebrei moet word, sal 'n aansoekproses, soos in die taalbeleid uiteengesit (NWU 2012b:14), gevolg moet word. Verder kan hierdie implementering finansiële implikasies vir die universiteit inhou.

Kritiek teen opvoedkundige tolkdienste spruit voort uit 'n internasionaal geleide evalueringsverslag waar die volgende opmerking gemaak word: "Pedagogical criticisms of the language policy were also expressed, particularly with respect to the fact that translation was oneway - from the language of the lecturer to that of the student. It was thought that simultaneous translations where students could engage in free flowing dialogue with the lecturer would be more appropriate pedagogically" (Van Vught et al. 2014:11). Dus moet daar met behulp van die tolkingstegnologie of deur middel van die tolke self meer geleenthede tot tweerigtingkommunikasie aangemoedig word. Teoreties is dit reeds moontlik en word selfs wel deur tolke gedoen, maar soos uit die verslag duidelik is, kan dit uitgebrei word. 'n Geldige kwessie word hier aangeraak en verdere ondersoeke is nodig om te bepaal of beter kommunikasie van studente af na dosente deur tolking gefasiliteer kan word, tolke se rolle uitgebrei moet word ten einde 'n groter onderrigfunksie te vervul of dosente bemagtig moet word om twee- en meertalige klaskamers te hanteer. Die opvoedkundige tolk se bemiddelingsfunksie (Kotzé 2012:2; Pienaar 2006:32) is veral hier van belang.

Die voorafgaande onderrigmediumopsies het verskeie voordele en nadele, maar dit blyk dat opvoedkundige tolking met afwisseling van dubbelmediumonderrig oorweeg kan word vir die konteks wat in hierdie studie ondersoek word. Dit is egter belangrik om oop gesprek en onderhandeling binne 'n funksionele meertalige omgewing te handhaaf en bewus te wees van die nadele wat dubbelmediumonderrig kan inhou (vgl. 4.4). 'n Verdere belangrike stap is ook om 'n oorsig te kry van die taalverspreiding en -voorkeure onder studente - dit word in die volgende afdeling onder die loep geneem.

 

5. TAALVERSPREIDING EN -VOORKEURE

In die bespreking van die gebruik van Engels in honneursprogramme aan die NWU is dit belangrik om statistiek rondom taalverspreiding en taalvoorkeure te oorweeg. Vir hierdie doeleindes word data gebruik van die NWU Taaloudit (Verhoef 2012), die kampus se HEMIS-bestuursinligting-stelsel en besonderhede uit verskillende fakulteite soos voorgelê aan die Potchefstroomkampus se Uitgebreide Bestuurskomitee in 2014.

5.1 Honneursprogramme: taalverspreiding van studente

Die taalverspreiding van die honneursprogramme aan die Potchefstroomkampus van die NWU vir 2013, kan soos volg opgesom word:

 

 

 

 

Hieronder word die taalverspreiding van die Potchefstroomkampus sonder die Fakulteit Opvoedkunde (sien daardie besonderhede in Figuur 3) se inligting vertoon aangesien dié fakulteit se inligting ook die getalle van die afstandsonderrigstudente van die Eenheid vir Oop Afstandsleer insluit. Die onderrigmedium van hierdie eenheid is uitsluitlik Engels.

Hierdie statistiek is in ooreenstemming met die Institusionele Taaloudit (Verhoef 2012:20) waar die persentasie Afrikaanssprekende studente (gelys as voorgraads en honneurs) ongeveer 80% van die navorsingpopulasie uitgemaak het. Inligting rakende die Fakulteit Opvoedkunde is by Figuur 2 weggelaat aangesien hierdie Fakulteit se inligting afstandstudente insluit, wat die prentjie van die studente op kampus kan verdraai. Ter wille van volledigheid word dit wel egter hierna (Figuur 3) weergegee.

 

 

 

 

Die voorafgaande twee figure is gebaseer op inligting wat per student met registrasie verskaf is. Die twee tabelle wat volg, gee die inligting van 2005 tot 2014 weer.

 

 

Die prominensie van Afrikaans as moedertaal is duidelik, maar ook met 'n merkbare afname van 84.3% in 2005 na 75.8% in 2014. As die afstandstudente, wat by die Fakulteit Opvoedkunde ingesluit is, hierby ingereken word, is die prentjie natuurlik heel anders. 'n Wye verskeidenheid Afrikatale word in die Opvoedkunde honneursprogramme verteenwoordig en word vir doeleindes van hierdie bespreking weggelaat aangesien daar in hierdie verband afstandsonderrig deur medium van Engels met akkommodering van Afrikaans gedoen word.

 

 

Ongeag die meertalige aard van die volledige studentepopulasie en veral die meerderheid Afrikaanssprekende studente op kampus toon die verspreiding van die onderrigmediums van die honneursprogramme die belangrike rol van Engels by die programme.

5.2 Onderrigmedium van honneursprogramme

 

 

Ten spyte van die feit dat Afrikaans steeds by die meeste (n=41) honneursprogramme gebruik word, is Engels (n=20) se teenwoordigheid opvallend. Hiermee saam moet ook in ag geneem word dat byna 80% van die NWU (Potchefstroomkampus) se doserende personeel Afrikaanssprekend is, gevolg deur ongeveer 5% wat hulleself tweetalig Afrikaans en Engels ag en minder as 5% wat Engelssprekend is (Verhoef 2012:8). Daar is ook geen inligting omtrent dosente se taalvaardighede met Engels as tweede taal beskikbaar nie. Die onderrigmedium van honneursklasse is ook deur die Institusionele Taaloudit (Verhoef 2012:10) van 2011 ondersoek en is soos volg voorgestel.

 

 

Dit is dus duidelik dat die blote opdeel van honneursprogramme volgens taal nie die kompleksiteit weerspieël van dít wat deur dosente in klasse behartig moet word nie. Die meeste van die respondente het aangedui dat hulle die onderrigmedium met studente onderhandel, gevolg deur Afrikaans as onderrigmedium, Engels as onderrigmedium en die gebruik van meer as een taal in 'n klas. Die taalafleweringsmodi is deur studente (voorgraads en honneurs) in die Institusionele Taaloudit (Verhoef 2012:23) soos volg weergegee.

 

 

Die studente is ook gevra watter taalvoorkeur hulle vir voorgraadse klasse het en dit word in Figuur 7 hieronder weergegee.

Duidelik verkies die meeste van die studente Afrikaans as onderrigmedium gevolg deur minder as 20% wat Engels verkies. Die redes wat aangevoer word waarom Engels in honneursprogramme as onderrigmedium aangewend word, sluit in: akkommodering van studente wat nie Afrikaans ten volle magtig is nie en voorbereiding van studente vir die industrie.

Uit die voorafgaande is dit duidelik dat Afrikaans, ten minste op kampus, steeds die moedertaal van die meeste honneursstudente (77%) is. 'n Afname in die persentasie Afrikaanssprekende honneursstudente is egter ook sigbaar. Die meeste (67%) honneursprogramme aan die Potchefstroomkampus word steeds deur medium van Afrikaans onderrig maar 33% van die programme word reeds deur middel van Engels onderrig. Daar is studente wat Engels as onderrigmedium aan die NWU verkies, maar die meerderheid verkies wel Afrikaans, wat die belangrikheid van dié taal as onderrigmedium aan die Potchefstroomkampus bevestig.

 

6. AANBEVELINGS EN BESPREKING

Uit die literatuuroorsig en bespreking van die taalverspreiding en -voorkeure kan enkele aan-bevelings gemaak word.

Daar moet teen gewaak word dat die vervanging van Afrikaans deur Engels by sekere honneursprogramme nie die persepsie van statusverlaging op kampus tot gevolg sal hê nie. Veral ten opsigte van die bemarking van die kampus - op die NWU-webblad vir voornemende studente word byvoorbeeld die volgende geskryf: "Aangesien die meerderheid studente op die Potchefstroomkampus Afrikaanssprekend is, is die onderrig- en omgangstaal op die kampus Afrikaans" (NWU, 2014).

Die taalverspreiding en onderrigtaalvoorkeur van studente toon dat Afrikaans deur studente verkies word. Bestekopname van taalvoorkeure is dus noodsaaklik by alle honneursprogramme. Die voordele wat moedertaalonderrig inhou, moet nie geïgnoreer word nie en kan wyer bemark word.

Sowel studente as dosente se taalvaardighede in Engels moet bepaal word en dit sou sinvol wees om kursusse vir English for Academic Purposes (Dudley-Evans & St John 1998; Jordan 1997) te implementeer. Die belangrikheid van taalvaardigheidskursusse is reeds, met betrekking tot Afrikaans, aan die Universiteit Stellenbosch bevestig (Giliomee & Schlemmer 2006:120-121). Funksionele meertaligheid moet in klasse geïmplementeer word ter verbetering van toegang vir en sukses van studente. Die NWU-taalbeleid (en relevante beleidsraamwerk) bied ruimte vir die akkommodering van Engels in klasse hetsy alleen, saam met Afrikaans of deur middel van opvoedkundige tolking. Die keuse van enkelmedium, parallelmedium, dubbelmedium of onderrig met behulp van opvoedkundige tolking moet aan die hand van 'n konsultatiewe proses per honneursprogram bepaal word.

 

7. GEVOLGTREKKING

Op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit word Afrikaans histories as onderrigmedium gebruik. Voorgraads vind onderrig nog merendeels op kampus deur middel van Afrikaans en opvoedkundige tolking in Engels plaas. Maar reeds op honneursvlak is ’n verskuiwing na Engels duidelik. Hierdie gebruik van Engels word veral aan die verandering in die studenteprofiel asook vereistes van die werksomgewing buite die universiteit toegeskryf.

Dit is egter belangrik om kennis te neem daarvan dat die afname in persentasie Afrikaanssprekende studente op ’n verandering van die universiteit se profiel dui. Verdere gesprekke op alle vlakke van die universiteit binne die relevante wetgewing en universiteit se taalbeleid moet gevoer word ten einde suksesvolle toegang tot onderrig-leer te verseker. In hierdie verband is verdere navorsing oor geletterdheid (veral met betrekking tot Engels) en opvoedkundige tolking noodsaaklik. Soos uit die kritiek teen tolking (vgl. 4.5) ook duidelik was, is die beklemtoning van wedersydse kommunikasie in die taalbemiddelingsaksie belangrik.

 

BIBLIOGRAFIE

Arabski, J. 2006. Language transfer in language learning and language contact. Cross-linguistic Influences in the Second Language Lexicon. New York: Multilingual Matters.         [ Links ]

Aros. 2014. Taal van onderrig. http://www.aros.ac.za/index.php/akademie-taal-van-onderrig [6 Maart 2014].         [ Links ]

Blaauw, J. 2008.Towards a model for the training of educational interpreters. In Verhoef & Du Plessis (eds). Multilingualism and educational interpreting. Pretoria: Van Schaik, pp. 32-46.         [ Links ]

Brink, C. 2006. No lesser place: the taaldebat at Stellenbosch. Stellenbosch: Sun Press.         [ Links ]

Coetzee-Van Rooy, S. 2013. Afrikaans in contact with English: endangered language or case of exceptional bilingualism? International journal of the sociology of language, (224):179-207.         [ Links ]

Cooper, R.L. 1989. Language planning and social change. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Crystal, D. 1997. The Cambridge Encyclopedia ofLanguage. 2nd edition. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Cummins, J. 1980. The Cross-Lingual Dimensions of Language Proficiency: Implications for Bilingual Education and the Optimal Age Issue. TESOL Quarterly, 14(2):175-187.         [ Links ]

Cummins, J. 2000. Language, power and pedagogy: bilingual children in the crossfire. Clevedon: Multilingual Matters.         [ Links ]

De Klerk, G. 2002. Mother-tongue education in South Africa: the weight of history. International Journal of the Sociology of language, 154:29-46.         [ Links ]

De Klerk, P. & Du Pisani, K. 2005. Ontwikkeling op onderriggebied. In Van Eeden (red.). In ULig: die PU vir CHO van selfstandigwording totsamesmelting, 1951-2004. Potchefstroom: Noordwes-Universiteit, pp. 94-147.         [ Links ]

De Klerk, P. & Möller, P. 2005. Ontstaan en ontwikkeling van die Vaaldriehoekkampus. In Van Eeden (red.) In U Lig: die PU vir CHO van selfstandigwording tot samesmelting, 1951-2004. Potchefstroom: Noordwes-Universiteit, pp. 462-503.         [ Links ]

De Varennes, F. 2010. Die internasionale konteks met betrekking tot onderrigtaalmodusse en taalregte. In F.W. de Klerk Stigting. 'n Studie oor Afrikaans op Universiteitsvlak. Plattekloof: F.W. de Klerk Stigting, pp. 22-35.         [ Links ]

Dudley-Evans, T. & St John, M.J. 1998. Developments in English for specific purposes: a multi-disciplinary approach. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Du Plessis, T. 2000. South Africa from two to eleven official languages. In Deprez & Du Plessis (eds). Multilingualism and Government. Pretoria: Van Schaik, pp. 95-110.         [ Links ]

Du Plessis, T. 2003. Multilingualism and language-in-education policy in South Africa - a historical overview. In Cuvelier, Du Plessis & Teck (eds). Multilingualism, Education and Social Integration. Pretoria: Van Schaik, pp. 99-119.         [ Links ]

Du Plessis, T. 2006. Tweetalige hoër onderwys vir Suid-Afrika? Taalbeleidsontwikkeling by Histories Afrikaansmedium Universiteite as gevallestudie. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Supplement -Moedertaalonderrig, 46(2):100-111.         [ Links ]

Edwards, J. 1994. Multilingualism. London: Routledge.         [ Links ]

Giliomee, H. & Schlemmer, L. 2006. 'n Vaste plek vir Afrikaans: taaluitdagings op kampus. Stellenbosch: Sun Press.         [ Links ]

Henrard, K. 2003. Language rights in education: the international framework. In Cuvelier, Du Plessis &Teck (eds). Multilingualism, Education and Social Integration. Pretoria: Van Schaik, pp. 9-22.         [ Links ]

Herbert, R.K. 1992. Language in a divided society. In Herbert (ed.). Language and society in Africa: The Theory and Practice of Sociolinguistics. Johannesburg: Witwatersrand University Press, pp. 1-19.         [ Links ]

Heugh, K. 2002. The case against bilingual and multilingual education in South Africa: laying bare the myths. Perspectives in education, 20(1):171-196.         [ Links ]

Hutton, C.M. 1999. Linguistics and the Third Reich: mother-tongue fascism, race and the science of language. London: Routledge.         [ Links ]

Jordan, R.R. 1997. English for academic purposes: a guide and resource book for teachers. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Kapp, P. 2013. Maties en Afrikaans: 'n besondere verhouding, 1911-2011. Pretoria: Protea.         [ Links ]

Kotzé, H. 2012. 'n Ondersoek na die veranderlike rol van die opvoedkundige tolk. Ongepubliseerde PhD-proefskrif, Noordwes-Universiteit.         [ Links ]

LANGTAG. 1996. Towards a national language plan for South Africa: summary of the final report of the Language Plan Task Group (LANGTAG), presented to the Minister of Arts, Culture, Science and Technology, Dr. B.S. Ngubane, 8 August 1996. Pretoria: Department of Arts, Culture, Science and Technology.         [ Links ]

Le Roux, P. 2010. Taalbeleid en onderrigtaalmodus aan die Universiteit van Stellenbosch. In F.W. de Klerk Stigting. 'n Studie oor Afrikaans op Universiteitsvlak. Plattekloof: F.W. de Klerk Stigting, pp. 76-119.         [ Links ]

Littlewood, W. 2004. Second language learning. In Davies & Elder (eds). The handbook of applied linguistics. Malden, MA: Blackwell, pp. 502-524.         [ Links ]

Mesthrie, R. 2002. South Africa: a sociolinguistic overview. In Mesthrie (ed.). Language in South Africa. Cambridge: Cambridge University Press, pp. 11-26.         [ Links ]

Mesthrie, R. 2008. Necessary versus sufficient conditions for using new languages in South African higher education: a linguistic appraisal. Journal of multilingual and multicultural development, 29(4):325-340.         [ Links ]

Ministry of Education. 2002a. Transformation and Restructuring: A New Institutional Landscape for Higher Educaö'on.http://www.dhet.gov.za/LinkClick.aspx?fileticket=18oxu4C%2F%2FUA%3D&tabid=92&mid=495 [22 April 2014].         [ Links ]

Ministry of Education.2002b. Language Policy for Higher Education. httpV/www.dhet.gov.za/LinkClick.aspx?fileticket=BIUgwsKoYqw%3D&tabid=415&mid=1224 [22 April 2014].         [ Links ]

Mortensen, J. 2014. Language policy from below: language choice in student project groups in a multilingual university setting. Journal of Multilingual and Multicultural Development. http://dx.doi.org/10.1080/01434632.2013.874438 [6 Maart 2014].         [ Links ]

Nomlomo, V. 2006. Parents' choice of the medium of instruction in science: A case of one primary school in the Western Cape, South Africa. In Brock-Utne, Desai & Qorro (eds). Focus on fresh data on the language of instruction debate in Tanzania and South Africa. Cape Town: African Minds, pp. 112-137.         [ Links ]

NWU. 2012a. InstitusioneleTaalbeleid van die Noordwes-Universiteit. http://www.nwu.ac.za/files/files/i-governance-management/policy/2P-2.5_Language_a.pdf [6 Maart 2014].         [ Links ]

NWU. 2012b. Institusionele taalbeleid en taalplan, asook operasionaliseringsprosedures.http://www.nwu.ac.za/sites/ www.nwu.ac.za/files/files/i-lad/documents/taalbeleid_implementeringsraamwerk_a.pdf [6 Maart 2014].         [ Links ]

NWU. 2014. Studeer op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit http://www.nwu.ac.za/af/voornemende-student/studeer-op-potchefstroom [19 Maart 2014].         [ Links ]

Nzimande, B.E. 2010. Minister of Higher Education and Training, Dr BE Nzimande 's speech the Roundtable on African Languages in Higher Education UNISA Sunnyside Campus 22 Octoberhttp://www.gov.za/speeches/view.php?sid=13956 [12 February 2014].         [ Links ]

Nzimande, B.E. 2011. Speech by Minister Department of Higher Education and Training, Blade Nzimande at the African Languages Steering Committee meeting, St Georges Hotel 16 September, http: //www.gov.za/speeches/view.php?sid=21659 [12 February 2014].         [ Links ]

Nzimande, B.E. 2012. The role of African Languages in a 21st century education. Keynote address by the Minister of Higher Education and Training, Dr BE Nzimande, MP, at the 10th Anniversary of the Stellenbosch University Language Centre 22 November:http://www.govza/speeches/viewphp?sid=32530 [12 February 2014].         [ Links ]

Pennycook, A. 2002. Mother tongues, governmentality, and protectionism. International Journal of the Sociology of language, 154:11-28.         [ Links ]

Pienaar, M. 2006. Simultaneous interpreting as an aid in parallel-medium tertiary education. Stellenbosch Papers in Linguistics PLUS, 33:27-41.         [ Links ]

Plüddeman, P. 1997. 'Additive' and 'subtractive': Challenges in education for multilingualism. Per Linguam, 13(1):17-28.         [ Links ]

RSA. 1959. Die Wet op Uitbreiding van Universiteitsopleiding. Wet 45 van 1959. Pretoria: Staatsdrukker.         [ Links ]

RSA. 1996a. Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika. Wet no. 108 van 1996. Pretoria: Staatsdrukker.         [ Links ]

RSA.1996b. Suid-Afrikaanse Skolewet. Wet no. 84 van 1996. Pretoria: Staatsdrukker.         [ Links ]

RSA. 1997. Wet op Hoër Onderwys. Wet no. 101 van 1997. Pretoria: Staatsdrukker.         [ Links ]

Scholtz, L. & Scholtz, I. 2008. Die debat oor die posisie van Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch: 'n Ontleding. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 48(3):292-313.         [ Links ]

Skutnabb-Kangas, T. 1988. Multilingualism and the education of minority children. In Skutnabb-Kangas & Cummins (eds). Minority Education: From shame to struggle. Clevedon, PA: Multilingual Matters, pp. 9-44.         [ Links ]

Smit, U. 1996. A New English for a New South Africa? Language Attitudes, Language Planning and Education. Wien: Braumüller.         [ Links ]

Stewart, WA. 1968. Sociolinguistic Typology of Multilingualism. In Fishman (ed.). Readings in the Sociology of Language. The Hague: Mouton, pp. 531-545.         [ Links ]

Steyn, J.C. 1994. Afrikaans as universiteitstaal: onlangse ontwikkelinge in historiese en internasionale perspektief. Literator, 15(1):33-58.         [ Links ]

Steyn, J. 2004. Het apartheid Afrikaanse universiteite geskep? In Van Rensburg, (red.). Afrikaans - lewende taal van miljoene. Pretoria: Van Schaik, pp. 142-146.         [ Links ]

Steyn, J. 2014. "Ons gaan 'n taal maak": Afrikaans sedert die Patriot-jare. Pretoria: Kraal Uitgewers.         [ Links ]

Van der Walt, T. 1978. Koers hou in die stroomversnelling. Rede uitgespreek deur prof. dr. Tjaart van der Walt by geleentheid van sy inhuldiging as Rektor van die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys op 10 Februarie 1978. Potchefstroom: PU vir CHO.         [ Links ]

Van Eeden, E. 2005a. Verby die wonderdaad ..., tot 'n groter toekomsvisie. In Van Eeden (red.). In ULig : die PU vir CHO van selfstandigwording tot samesmelting, 1951-2004. Potchefstroom: Noordwes-Universiteit, pp. 1-21.         [ Links ]

Van Eeden, E. 2005b. Die "stem van Potchefstroom" in die samelewing. In Van Eeden (red.). In ULig : die PU vir CHO van selfstandigwording tot samesmelting, 1951-2004. Potchefstroom: Noordwes-Universiteit, pp. 506-544.         [ Links ]

Van Rooy, B. 2005. The feasibility of simultaneous interpreting in university classrooms. Southern African Linguistics and Applied Language Studies, 23(1):81-90.         [ Links ]

Van der Schyff, P.F. 2003. Wonderdaad ...! : die PUK tot 1951 : wording, vestiging en selfstandigheid. Potchefstroom: PU vir CHO.         [ Links ]

Van Vught, F., Cloete, N., Meek, L., Pityana, B., Rasmussen, T.K., Singh, M. & Bunting I. 2014. Moving forward: a review of North-West University's first ten years. Potchefstroom: North-West University. http://www.nwu.ac.za/sites/www.nwu.ac.za/files/files/i-news/electronic_newsletters/VC_Newsletter/2014/12345.pdf [16 April 2014].         [ Links ]

Verhoef, M. 2006. Tolking as afleweringsmodus in universiteitsklasse. 'n Bespreking en analise van die Dagbreektrust tolkprojek aan die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Supplement -Moedertaalonderrig, 46(2):89-99.         [ Links ]

Verhoef, M.M. 2007a. Om te belê in wat ons sê: universiteite se rol in die vestiging van 'n meertalige Suid-Afrikaanse gemeenskap. Intreerede gehou op 14 November 2003, Vaaldriehoekkampus. Potchefstroom: Noordwes-Universiteit..http://dspace.nwu.ac.za/bitstream/handle/10394/6428/Verhoef_mm.pdf [3 April 2014].         [ Links ]

Verhoef, M. 2007b. Language management towards diversity and unity at a recently merged South African university. In Du Plessis, Cuvelier, Meeuwis &Teck(eds). Multilingualism and exclusion:policy, practice and prospects. Pretoria: Van Schaik, pp. 257-273.         [ Links ]

Verhoef, M. 2010. Taalbeleid en onderrigtaalmodus aan die Noordwes-Universiteit (NWU). In F.W. de Klerk Stigting. 'n Studie oor Afrikaans op Universiteitsvlak. Plattekloof: F.W. de Klerk Stigting, pp. 168-182.         [ Links ]

Verhoef, M. 2012. Institusionele Taaloudit (ITO, 2011) - eerste terugvoer aan die NWU. http://www.nwu.ac.za/sites/ www.nwu.ac.za/files/files/i-lad/documents/Taaloudit_1terugvoer12.pdf [17 Maart 2014].         [ Links ]

Webb, V 1998. Multilingualism as a developmental resource: Framework for a research program. Multilingua, 17(2/3:125-154.         [ Links ]

Webb, V 2002. Language in South Africa: The role of language in national transformation, reconstruction and development. Amsterdam: John Benjamins.         [ Links ]

Webb, V 2007. English in higher education in South Africa: exclusion or inclusion? In Du Plessis, Cuvelier, Meeuwis & Teck (eds). Multilingualism and exclusion: policy, practice and prospects. Pretoria: Van Schaik, pp. 287-301.         [ Links ]

Webb, V 2010. Afrikaans Higher Education in S.A. Alternation, 17(1):355-381.         [ Links ]

Webb, V. 2012. Managing multilingualism in higher education in post-1994 SouthAfrica. Language Matters: Studies in the Languages of Africa, 43(2):202-220.         [ Links ]

Wiechers, M. 2010. Afrikaanse onderrig aan Suid-Afrikaanse universiteite: Grondwetlike vereistes. In F.W. de Klerk Stigting. 'n Studie oor Afrikaans op Universiteitsvlak. Plattekloof: F.W. de Klerk Stigting, pp. 7-21.         [ Links ]

Wittezaële, O. 2008. The relationship between interpreters and users of the interpreting services at the Potchefstroom Campus of the North-West University. Unpublished PhD thesis, North-West University.         [ Links ]

 

 

Jako Olivier is 'n senior lektor in Afrikaanse taalkunde by die vakgroep Afrikaans en Nederlands van die Skool vir Tale by die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus). Hy het sy PhD-graad in 2011 aan die NWU verwerf waar die akkommo-dering en bevordering van meertaligheid in skole deur middel van gemengde en e-leer nagevors is. Verder is sy MA-graad (cum laude) in 2003 verwerf waarin die moontlikhede wat onderskrifte die SABC-TV bied in die erkenning en beskerming van taalregte ondersoek is. Hy het ook aan die voormalige PU vir CHO 'n BA, BA honneurs (cum laude) en Nagraadse Onderwyssertifikaat voltooi. Voor hy in 2010 by die NWU aangesluit het, was hy betrokke by die onderrig van inligtingstegnologie en tale by skole in die Verenigde Koninkryk en in Suid-Afrika. Tans dien Jako op die bestuur van die Linguistevereniging van Suider-Afrika asook die Naamkundevereniging van Suider-Afrika. Hy is ook lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, waar hy as sekretaris van die Potchefstroomse Werksgemeenskap van die Akademie dien. Sy navorsingsbelangstellings sluit taalbeplanning en -beleid, meertaligheid in die onderwys, Afrikaanse taalvariasie, pragmatiek, skermvertaling en e-leer in.
Jako Olivier is a senior lecturer in Afrikaans linguistics in the Afrikaans and Dutch subject group of the School of Languages at the North-West University (Potchefstroom campus). He obtained his PhD degree in 2011 at the NWU focussing on the accommodation and promotion of multilingualism in schools by means of blended and e-learning. He received his MA degree (cum laude) in 2003 in which the possibilities provided by subtitling to the SABC-TV in the recognition and protection of language rights were researched. He also completed a BA degree, BA Honours degree (cum laude) and Postgraduate Certificate in Education at the former PU for CHE. He was involved in teaching information technology and languages at schools in the United Kingdom and South Africa prior to joining the NWU as a lecturer in 2010. Currently Jako serves on the executives of the Linguistics Society of Southern Africa as well as the Names Society of Southern Africa. He is also a member of the South African Academy for Science and Arts, where he is the secretary of the Potchefstroom Working Community. His research interests include language planning and policy, multilingualism in education, Afrikaans language variation, pragmatics, screen translation and e-learning.
1 Vergelyk Blaauw (2008:33-34); De Klerk & Du Pisani (2005:134-135); De Klerk & Möller (2005:474); Giliomee & Schlemmer (2006:82-87); Mesthrie (2008:326); Van Eeden (2005a:11); Verhoef (2006:8990); Verhoef (2007b:264-267); Verhoef (2010:170); Wittezaële (2008:11).
2 Vergelyk Edwards (1994:193); Henrard (2003:11-13); Heugh 2002:174; Nomlomo (2006:119); Webb (2010:364).
3 Vergelyk Brink (2006); Giliomee & Schlemmer (2006:103-146); Kapp (2013:76 e.v.); Le Roux (2010);Mesthrie (2008:327); Scholtz & Scholtz (2008); Steyn (2014: 458-459); Webb (2007:297).
4 Die term tuisland is gebruik vir onafhanklike en nie-onafhanklike tuislande wat sedert 1960 op grond van etnisiteit gevestig is (Webb 2002:66).
5 In Steyn (1994:36) as 1992 weergegee.
6 Hier word spesifiek verwys na die amptelike tale wat deur die Grondwet (1996) erken word en word met die endonimiese spelwyse gelys: Sepedi, Sesotho, Setswana, siSwati, Tshivenda, Xitsonga, Afrikaans, English, isiNdebele, isiXhosa en isiZulu. Hierdie spelwyses van die taalname met die uitsondering van Engels en Sesotha sa Leboa (vir Sepedi - ter wille van 'n inklusiewer benaming) word verder in hierdie artikel gebruik.
7 SI-fasilitering verwys na aanvullingsonderrig (AO), oftewel supplemental instruction (SI), deur middel waarvan studente buite klasverband in groepe deur senior studente ondersteun word.
8 Vergelyk Du Plessis (2006:106-107); Giliomee & Schlemmer (2006:87-102, 147-152); Scholtz & Scholtz (2008:299); Webb (2007:287-288); Webb (2010:357-358).
9 Vergelyk NWU (2012b:3); Pienaar (2006:30-31); Verhoef (2006); Verhoef (2010:172-173, 178-182); Webb (2010:372-373); Wittezaële (2008).
10 Getalle vir 2013 sal eers na 'n oudit in Mei gefinaliseer wees.
11 Die getalle vir 2014 sal eers in 2015 gefinaliseer wees.
12 Die getalle vir 2013 is voorlopig en sou eers na 'n oudit in Mei 2014 gefinaliseer word.
13 Die getalle vir 2014 sou eers in 2015 gefinaliseer word.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License