SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.54 número4Afrikaans: Uitnodiging tot debatAttitudes and opinions regarding mother-tongue education and the choice of a university: Afrikaans-speaking students at Unisa índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.54 no.4 Pretoria Dez. 2014

 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS

 

Die troebel toekoms van die Afrikaners en Afrikaans1

 

The current troubled state of the Afrikaners and Afrikaans

 

 

Hermann Giliomee

Navorsingsgenoot Departement Geskiedenis Universiteit Stellenbosch giliomee@sun.ac.za

 

 


OPSOMMING

Die opkoms van die Afrikaners as 'n verpolitiseerde etniese groep, wat onder die Nasionale Party in beheer van die staat was, en van Afrikaans as amptelike taal, was een van die belangrikste politieke ontwikkelings in die twintigste eeu. Gedurende die 1970's het die NP-regering onder toenemende druk gekom en in 1994 het dit die mag aan die African National Congress oorgedra. Oor die daaropvolgende twintig jaar is die staatsdiens radikaal getransformeer, en het Engels die de facto openbare taal geword. Afrikaners moes nie slegs leer om sonder poltieke mag klaar te kom nie, maar moes ook worstel met 'n krimpende demografiese basis. Afrikaans-medium skole en universiteite moes nou groot getalle opneem wat verkies het om hul onderrig in Engels te ontvang. 'n Geleentheid wat in 2001 opgeduik het om die posisie van Afrikaans in twee universiteite te beveilig, is verspeel. Wit mense in die boonste range van die arbeidsmark het op groot skaal die openbare sektor en groot korporasies verlaat en hulle tot selfindiensname gewend. In die laer range van die arbeidsmark het die oorgrote meerderheid wit mense werk gekry, maar dikwels onder die tradisionele vlak van wit lewensbestaan. Meer as die helfte van die Demokratiese Alliansie se ondersteuning is Afrikaanssprekendes. Die party se poging om swart steun te wen, maak dit egter huiwerig om hom uit te spreek teen die afskaling van Afrikaans of transformasie in die werkplek. Afrikaans het gefloreer veral op kultuur- of woordfeeste, in die publikasie van fiksie en op KykNet. Dit verloor egter ernstig grond op universiteitsvlak as gevolg van die onwilligheid van senior akademici, universiteitsbesture en universiteitsrade om vir die taal op te staan. Dit is nie meer vergesog om die moontlikheid te voorsien dat die Afrikaners as etniese groep en Afrikaans oor die medium termyn as openbare taal kan verdwyn nie.

Trefwoorde: Afrikaans, Afrika-nasionalisme, Afrikanernasionalisme, apartheid, demografie, Demokratiese Alliansie, een-party dominasie, Engelse oorheersing, etnisiteit, kultuurfeeste, liberale demokrasie, sakeleiers, sosialisme, taalsterfte


ABSTRACT

The rise of the Afrikaners as a politicised ethnic group that captured the state, under the leadership of the National Party, and of Afrikaans as a public language was one of the most prominent features of twentieth century South African history. During the 1970s NP rule started to come under severe pressure as a result of its apartheid policy and it handed over power in 1994. Over the next twenty years the civil service was radically transformed, English became the de facto official language. Afrikaners not only had to deal with the sudden loss of state power but a declining demograpic base. Afrikaans-medium secondary schools and universities had to admit large numbers who preferred to receive their instruction in English. An opportunity in 2001 to safeguard Afrikaans at two universities was squandered. In technical and educational colleges the state simply phased out Afrikaans instruction. Whites in the upper echelons became largely selfemployed, while those in the lower echelons managed tofind a job but not necessarily at the level required for the traditional "white" standard of living. Afrikaans-speakers represent more than half of the Democratic Alliance 's support base, but the party's efforts to capture the black vote made it unwilling to speak up on Afrikaans as a public language or aggressive affirmative action in the public sector and large corporations. While Afrikaans has flourished in the cultural sphere, particularly at festivals, the publication of fiction, and in pay television channels, it is losing ground steadily at university level in face of the cultural totalitarianism of the ruling party and the failure of senior academics, administrators and university coucils to back up the language. The demise of both Afrikaans as public language and the Afrikaners as an ethnic group has become a real possibilty over the medium term.

Keywords: Afrikaans, African nationalism, Afrikaner nationalism, apartheid, business leadership, cultural festivals, cultural pluralism, Democratic Alliance, demography, English dominance, political ethnicity, language death, liberal democracy, one-party dominance, socialism, universities


 

 

INLEIDING

In die 25 jaar sedert die toespraak van pres. F.W. de Klerk op 2 Februarie 1990 het Suid-Afrika op verskeie gebiede 'n transfigurasie ondergaan. In 1990 was feitlik alle politieke en burokratiese mag in Afrikanerhande: die Nasionale Party (NP) het die politiek oorheers, en Afrikaner-amptenare het 80 persent van die poste in die sentrale staatsadministrasie beklee. Afrikaans was een van twee amptelike tale; alhoewel dit deur net 15 persent van die bevolking as 'n eerste taal gebesig is, was Afrikaans volgens Schlemmer in 1994 die sterkste taal in die land as gekyk word na sowel die formele as die informele manier waarop dit gebruik is (Giliomee & Schlemmer 2001:117). Hierdie artikel kyk na die ingrypende veranderinge sedert 1990 in die stand van die Afrikaners en van Afrikaans. Die African National Congress (ANC) oorheers nou die politieke stelsel en Engels oorheers omgang in die publieke domein. Dit bespreek vervolgens die oorlewingskanse van die Afrikaners in die veronderstelling dat Afrikaans se ondergang as openbare taal feitlik noodwendig ook tot die Afrikaners se verdwyning as 'n herkenbare gemeenskap sal lei.

 

1. EENPARTY-OORHEERSING

Na die regimeverandering in 1994 was die verwagting by baie ontleders en kommentators dat Suid-Afrika met sy progressiewe grondwet in 'n liberale demokrasie sou ontwikkel. Vir ander ontleders was daar egter sterk aanduidings dat terwyl die ANC nie individuele vryhede of die vryheid van die pers maklik sou aantas nie, dit die land al verder weg van 'n liberale demokrasie sou neem. Inderwaarheid neig dit al meer in die rigting van 'n monopolistiese bestel waarin die ekonomiese, politieke en kulturele pluralisme ondermyn word sonder om die vernaamste simboliese kenmerke van die demokrasie, soos vrye verkiesings en 'n robuuste parlementêre debat aan bande te lê (Giliomee & Simkins 1999).

1.1 Liberale demokrasie

Van die wesenskenmerke van 'n liberaal-demokratiese stelsel is die volgende:

  •  die meerderheid eerbiedig die minderhede se kultuur en sorg dat daar lewensvatbare skole en universiteite is wat hierdie kultuur na 'n volgende geslag kan oordra;
  • die regerende party eerbiedig howe se uitsprake;
  • die meerderheid sorg dat hy behoorlik ag slaan op billike vertoë van die opposisie, en weerhou hom daarvan om dit as dislojaal te brandmerk;
  • alle kwessies wat vir die opposisie belangrik is, soos byvoorbeeld die aard en tydsduur van "transformasie" in die geval van Suid-Afrika, word behoorlik bespreek.

Die ANC-regering bly lippediens bewys aan die grondwet, maar die bestaan van 'n grondwet wat kennelik op demokratiese beginsels berus, is nie die groot toets vir 'n liberale demokrasie nie. Skoon en verantwoordbare regerings kom in lande voor waar 'n bewindsverandering gereeld plaasvind. So iets gebeur selde in gevalle van eenparty oorheersing, en veral nie wanneer 'n onderdrukte rasse- of etniese meerderheid sy stem vir die eerste keer kan uitoefen nie, soos byvoorbeeld in Maleisië, Suid-Afrika en talle ander Afrika-lande.

1.2 'n ANC-"rewolusie"

Ten spyte van die feit dat die demokrasie in verskeie Afrikalande lank reeds meer skyn as substansie is, bly meerderheidsregering steeds die groot morele alibi van Afrika-nasionalisme, en word dit selfs gebruik om openlik rassistiese beleide te vergoelik. Van den Berghe (1979:9) het dit goed gestel: "If your constituency has the good fortune to contain a demographic majority racism can easily be disguised as democracy".

Waar die ANC in ballingskap sterk deur Leninistiese beskouings beïnvloed is, ag hy homself as 'n voorhoedeparty en nie as die agent van die mense se wil nie (Filatova & Davidson 2013). Hy tref weinig onderskeid tussen die staat en regerende party en besluit self watter "kaders" in die staatsdiens "ontplooi" moet word. Die ANC dwing ook die groter ondernemings in die privaatsektor om hul personeel die demografiese profiel te laat weerspieël. Die ANC verskaf ook welsyn aan die massa op so 'n wyse dat hul afhanklikheid van die regering voortdurend versterk word.

Die ideologie van 'n "Nasionale Demokratiese Rewolusie" onderskraag hierdie beleidsrigtings. Hiervolgens het die "wit onderdrukkersklas" histories al die rykdom wat die onderdrukte swart nasie geproduseer het vir homself afgeskep. Die ANC-regering streef nou daarna om die staatsapparaat en die ekonomie te "transformeer", wat beteken dat dit onder swart beheer of minstens onder swart bestuur geplaas moet word. Op maatskaplike vlak moet swart beheer op elke moontlike simboliese manier gestalte kiy (Duvenhage 2009:705-728).

Joel Netshitenzhe, 'n hegte bondgenoot van president Thabo Mbeki, het ANC-lede gewaarsku dat die beweging dit moet vermy dat daar by die minderhede "a perception of dominance" ontwikkel, maar dieselfde Netshitenzhe het 'n transformasiebeleid bepleit wat ANC-beheer vestig oor die leër, polisie, staatsdiens, die regbank, semi-staatskorporasies, regulatoriese liggame, die openbare uitsaaier, en die sentrale bank (Leon 2008:280).

Ons het hier die wese van die eintlike ANC-rewolusie. Dit is nie 'n sosialistiese rewolusie in die ekonomie nie maar 'n maatskaplike rewolusie. Dit beoog 'n radikale omvorming van die postebesetting van die samelewingstrukture ooreenkomstig die proporsie van swart, wit, bruin en Indiërs in die totale bevolking. Die sleutelkonsep is "verteenwoordigendheid van die bevolking" wat in die samestelling van die bestuur van liggame neerslag moet vind. Dit het begin by die staatsdiens en is uitgebrei na die groot korporasies en ook die grootste georganiseerde sporte, veral hul nasionale bestuursliggame.

 

2. AANPASSING OP EKONOMIESE GEBIED

Oor die algemeen het die wit gemeenskap daarin geslaag om betreklik goed te vaar ten spyte van die beleid van rasse-transformasie na 1994. Teen 2014 het wit mense net onder 70 persent van die senior poste op bestuursvlak in die private sektor beklee. Die jaarlikse per kapita inkomste van wit mense het met 217% toegeneem teenoor die toename van 235% vir swart mense, wat van 'n baie lae basis gegroei het (Cronjé 2010).

Die wit werkloosheidsyfer was gedurende die afgelope twintig jaar nooit hoër as 7% nie. In 2013 het die breë wit werkloosheidskoers (wat ook die sogenaamde "ontmoedigde werksoekers" insluit) gefluktueer in 'n band van 7,9% tot 9,3%. Dit verteenwoordig 172 000 tot 202 000 mense (Joubert 2014). Die betreklik lae werkloosheidskoers is in belangrike mate daaraan toe te skryf dat die blankes beter gekwalifiseer is as mense uit ander groepe.

Daar is ook die probleem van "onderindiensname", wat verwys na groepe mense wat eintlik daartoe in staat is om heelwat beter werk te doen, maar om een of ander rede verhoed word om dit te doen. Behalwe vir die hoër inkomstegroepe is die Afrikaners 'n gemeenskap wat finansieel geknel word. Versekeringsmaatskappye berig 'n sterk toename in versekeringspolisse en verbande waarvoor daar nie langer met die paaiemente volgehou kan word nie. Talle kan die tradisionele "wit" lewenstyl nie meer bekostig nie. Daar is bereken dat 46 persent van die wit bevolking nie 'n huis van meer as R200 000 kan bekostig nie, en dat 131 000 wit huishoudings sou baat by 'n HOP-huis. 'n Ondersoek deur Solidariteit toon dat teen 2008 ongeveer 10 per sent van die wit bevolking (430 000 mense) in erge armoede leef (Solidariteit: Helpende Hand 2009).

Hierdie artikel bespreek nie al die belangegroepe in die Afrikanergemeenskap nie, maar skenk aandag aan bepaalde sektore.

2.1 Sakeleiers

Een van die sterk punte van die Afrikaners se volksbeweging, wat tussen die vroeë 1930's en die vroeë 1980's homself laat geld het, was Afrikaner-sakeleiers se heelhartige ondersteuning daarvan. Hulle het dit as hul taak gesien om die Afrikaners te help ophef deur aan hulle werk te verskaf in die ondernemings wat hulle gestig het en Afrikaners as 'n marknis vir hul produkte en dienste te benut. Van hul kant het die Afrikaner-publiek hierdie ondernemings as ware Afrikaanse onder-nemings ondersteun.

Die Afrikaner-idealisme, wat tot die stigting van Federale Volksbeleggings, Sanlam en Federale Mynbou aanleiding gegee het, is nie meer nie. Van al die groot korporasies wat Afrikaners gestig het, is dit net Naspers en Rembrandt wat nog hul onderskeie jaarverslae in Afrikaans publiseer. Van Zyl (2013), huidige Sanlam-hoof, stel dit so: "Die oorheersende gebruik van Engels as ekonomiese en saketaal in Suid-Afrika is 'n gegewe. Om daarteen te veg sal 'n vermorsing van energie wees."

Daarteenoor argumenteer Boshoff (2013) van die Orania-beweging dat daar op globalisering en ekonomiese werklikhede meer antwoorde moet wees as tussen die uiterstes van miskenning en omhelsing: "Aanvaar die vreemde funksionele taal, maar dring aan op bemarking en skakeling in die kultuurtaal - dit maak immers besigheidsin."

Naspers verteenwoordig 'n baken vir Afrikaans in die openbare lewe. Dit is die agste grootste mediamaatskappy in die wêreld en die grootste Internetmaatskappy buite die VSA en China. Alhoewel die gedrukte media slegs tien persent van die omset verteenwoordig, het Ton Vosloo en Koos Bekker, die twee leidende figure in die maatskappy gedurende die eerste twee dekades van demokrasie, sterk standpunt ingeneem teen die afskaling van Afrikaans aan bepaalde universiteite, en Naspers het ruim kunstefeeste en filmfeeste help finansier.

Na 1994 het die meeste Afrikaanse sakeleiers gou aansluiting by die nuwe heersersparty se regering gesoek, iets wat die regering verwelkom het. Kort na hy president geword het, het Thabo Mbeki na 'n vergadering met Afrikaanse sakeleiers en rektore gesê: "Dit is belangrik om die elites te verenig, want hulle is die mense wat teen die oorgang teenstand kan bied" (Calland 2005). Hy het aan 'n biograaf gemeld dat hy verkies om met die Afrikaners te onderhandel, want hulle is "reguit" en "jy weet waar jy met hulle staan" (Gevisser 2007:67).

Die Afrikaner-sakeleiers het in hierdie gesprekke nie namens die Afrikaanse gemeenskap gepraat nie. Kwessies soos regstellende aksie of die druk op oorwegend Afrikaanse skole en universiteite is nie geopper nie. Jakob de Villiers, direkteur van die AHI, het dit onomwonde gestel dat daar "geen aptyt in die Afrikaanse sakegemeenskap is om met die regering 'n omvattende dialoog oor die Afrikanergemeenskap te begin nie" (Davies 2009:174).

Dit laat die vraag ontstaan: Waarom het die Afrikaner-sakeleiers en -rektore as 'n aparte afvaardiging na die President gegaan as hulle nie oor spesifiek Afrikaanse belange en behoeftes wou gaan praat nie? Joodse sakeleiers het verkies om in so 'n geval saam met ander sakeleiers met die regering te gaan praat.

Na die 2004-verkiesing, toe die ANC 'n wegholoorwinning behaal het, het 'n groep van 112 Afrikaanse sakeleiers, professionele lui, en rektore 'n verklaring uitgereik waar hulle President Mbeki gelukgewens het en ook die oortuiging uitgespreek het dat sy tweede termyn gekenmerk sou word deur die verbreding van demokrasie en ekonomiese groei. Die verklaring het gelui: "U het dit moontlik gemaak vir alle Suid-Afrikaners, insluitende die Afrikaanssprekendes, om tuis te voel in ons eie land en welkom in Afrika en die wêreld"(Rapport, 30/5/2004). Dit was nooit voorheen bekend dat sakeleiers voorheen onwelkom in hul eie land gevoel het nie. Na 2009 het sakeleiers toenemend onrustig geraak oor die ekonomiese vooruitsigte in 'n stelsel gekenmerk deur grootskaalse korrupsie, 'n rigiede arbeidsmark en 'n populistiese beleid in sekere sektore.

2.2 Staatsamptenare

Voor 1994 was een van die Afrikaners se kragpunte hul sterk teenwoordigheid in die staatsadministrasie. In Tabel 1 word Sadie se berekening van die Afrikaner-aandeel gegee:

 

 

Na 1994 was die regering se vernaamste ingryp sy grootskaalse etniese suiwering van die wit mense in die middel- en topposte in die staatsdiens. Tussen 1996 en 2002 het 120 000 senior staatsamptenare voortydig met pakkette uitgetree. Daar het al minder poste vir blankes op topvlakke van die staats-en semi-staatsdiens beskikbaar geraak.

Tussen 2004 en 2007 was daar 'n verdere drastiese vermindering van die proporsie wit staatsamptenare. Dit blyk uit Tabel 2:

 

 

Die Solidariteit Navorsingsinstituut het in 2014 bereken dat die staatsdiens breedweg die nasionale bevolkingsamestelling weerspieël.

2.3 Private sektor

Anders as wat die NP onderhandelaars verwag het, het die ANC-regering sy beleid van bevolkingsverteenwoordiging ook op die groter maatskappye afgedwing. In 2007 het sowel F.W. de Klerk as R.F. (Pik) Botha verklaar dat die NP-regering nie die 1993-grondwet sou onderteken het indien die onderhandelaars geweet het hoe die ANC-regering regstellende aksie sou toepas nie (Giliomee 2012:355).

Die regering het nietemin volgehou met sy druk op groter ondernemings om rasseteikens in hul personeel te haal. Wetgewing wat op 1 Augustus 2014 in werking getree het, plaas die onus op werkgewers om die redelikheid van hul optrede te bewys as hulle nie die voorgeskrewe rasseteikens haal nie, en maak dit ook moeiliker om hulle te verweer op grond van vaardigheidstekorte of ekonomiese beperkings. Boetes is skerp verhoog.

Die persepsie van krimpende geleenthede in die staat en groot korporasies het daartoe gelei dat daar by die top wit verdieners 'n dramatiese skuif na self-indiensname plaasgevind het. Teen 1994 het 75 persent van die wit bevolking wat meer as R500 000 per jaar verdien het salarisse en bonusse van die staatsdiens en groot korporasies ontvang. Teen 2009 het die posisie heeltemal verander. Nou was 75 persent van die wittes in hul eie diens, of eienaars van ondernemings, of in diens as konsultante en agente (Finmark 2009).

Die vakbond Solidariteit het van 1997 ontwikkel as 'n doeltreffende en moderne vakbond wat lede van minderhede in hul werkplek help beskerm. Dit het tans oor die 140 000 lede. Saam met Afriforum, 'n drukgroep, en die Federasie van Kultuurverenigings is die Solidariteitbeweging ongeveer 250 000 lede sterk.

 

3. DIE DRUK OP AFRIKAANS

Die artikel beskryf eers die opkoms van Afrikaans as literêre en wetenskapstaal voor daar gekyk word na die hegemoniese posisie wat Engels die afgelope drie of vier dekades verwerf het. Daarna word redes vir die gebrek aan 'n behoorlike respons van Afrikaanse kant af ontleed.

Die groei van Afrikaans as openbare taal wat in feitlik alle funksies gebruik kan word, is een van die merkwaardigste kulturele verskynsels in Suid-Afrika gedurende die twintigste eeu. Kloss (1977:10) het verklaar dat Afrikaans die enigste nie-Europese, nie-Asiatiese taal is wat volle universiteitstatus verwerf het en wat in al die vertakkinge van die lewe en die akademie gebruik kan word. Vyf-en-twintig jaar later het Jean Laponce, die Frans-Kanadese skrywer van die gesaghebbende Languages and Territories, gesê dat Afrikaans, saam met Hindi, Indonesies en Hebreeus, die enigste tale is wat in die loop van die twintigste eeu van 'n spreektaal met lae status ontwikkel het tot 'n medium wat as skryftaal op alle vlakke van die samelewing aangewend kan word, insluitende voor- en nagraadse onderrig en as kommunikasiemedium in die wetenskap en tegnologie (aangehaal in Giliomee 2003:3).

In 'n opname van die 1990's is gevind dat Afrikaans die sterkste literêre taal in die land is indien produksie in Suid-Afrika die maatstaf is (Tabel 3).

 

 

Die een plek wat Afrikaners van alle soorte bymekaar gebring het, was die kunstefeeste, wat vinnig vermenigvuldig het. Die eerse kunstefees in die land was die Nasionale Kunstefees in Grahamstad, wat sedert 1974 elke jaar gehou is. In 2004, na dertig jaar, is daar 130 000 kaartjies gedurende die fees verkoop. Die eerste Afrikaanse fees was die Klein Karoo Nasionale Kunstefees, wat van 1995 elke jaar op Oudtshoorn gehou word. Kaartjieverkope hier het gestyg van 30 314 in die eerste jaar tot net onder 200 000 in 2004.

Sedertdien het verskeie ander oorwegend Afrikaanse feeste op die toneel gekom. Naas die KKNK is die grootste feeste die Woordfees op Stellenbosch, Aardklop op Potchefstroom, die Vryfees in Bloemfontein, en Innibos op Nelspruit. In omtrent al die provinsies is daar ten minste vyf of ses feeste in verskillende dorpe. In die jongste tyd het die Woordfees op Stellenbosch in terme van aanbiedings en kaartjieverkope vinniger as enige van die ander groot feeste gegroei.

Die feeste is onteenseglik getuienis van Afrikaans se lewenskragtigheid, maar hulle is terselfdertyd ook getuienis van Afrikaans se afskaling as publieke taal sedert 1994. Die staat het die Streeksrade afgeskaf wat tradisioneel die tuiste van Afrikaanse toneel en musiek was. Die huidige feeste is dikwels die enigste plekke waar nuwe Afrikaanse toneel en musiek deesdae geniet kan word. Dit dra by tot die gevoel van vervreemding van die staat.

Sosio-linguiste aanvaar dat 'n taal soos Afrikaans wat met Engels as 'n wereldtaal moet meeding homself net kan handhaaf indien 'n groot deel van sy sprekers dit as 'n belangrike faset van hul sosiale identiteit beskou (Wurm 2002:15). In Europa is daar ook 'n groeiende besef dat 'n versoenende styl nie veel sal help as die kleiner taal onder druk is nie. Daar is die bekende "Wet van Laponce", wat gereeld in die vakliteratuur aangehaal word: "The nicer people are to each other the fiercer the fight between languages." Daar is ook die uitspraak van Phillipe van Parijs, 'n ander gesaghebbende ontleder. Hy praat van 'n "deadly collaboration" met die "spontaneous tendency" en waarsku dat daar geen alternatief is vir dwang om 'n regionale of nasionale taal teen 'n wereldtaal te beskerm nie (Giliomee & Schlemmer 2006:217-8).

Veral op onderwysgebied is waaksaamheid noodsaaklik. Laponce (1987:170) het die gevaar soos volg geformuleer: 'n Tweetalige skool of universiteit skep slegs 'n illusie van gelykheid. Selfs wanneer daar 'n numeriese balans tussen twee tale op die vlak van kursusse is, kiy die sterkste taal meedoënloos die oorhand. Tweetaligheid in 'n opvoedkundige instelling verteenwoordig in feite 'n oorgang na taalkundige assimilasie en die uiteindelike uitskakeling van die kleiner taal.

Vervolgens word die vernaamste redes vir die verswakkende posisie van Afrikaans bespreek.

3.1 Demografiese druk

Gedurende die tweede helfte eeu van die twintigste eeu het die Afrikaners al meer onder druk gekom. Die verdubbeling van die swart bevolking tussen die vroeë 1970's en die middel-1990's van 15 miljoen tot oor die 30 miljoen was die vernaamste rede vir die magsoordrag in 1994. Aan die ander kant het daar volgens die berekening van Lawrence Schlemmer in die twintig jaar tussen 1990 en 2010 minstens 750 000 Afrikaners, of tussen 'n kwart en 'n vyfde van die gemeenskap geëmigreer. Hulle is feitlik deur die bank goed gekwalifiseer.

Emigrasie, saam met verlies van politieke mag en van beheer oor die staat het Afrikaans se posisie as taal baie verswak. Soos tabel 4 aandui, het die Afrikaners as 'n proporsie van die bevolking tussen 1960 en 2011 van 11% na 6% afgeneem.

 

 

Van die huidige bruin bevolking van amper 5 000 000 praat ongeveer twee-derdes Afrikaans aan huis. Die deelname van die bruin Afrikaanssprekendes aan tersiêre onderrig is die laagste van al die gemeenskappe in die land. Dit sal 'n groot verskil aan hierdie gemeenskap maak as die Universiteit van Stellenbosch hom posisioneer as 'n hoofsaaklik Afrikaanstalige universiteit met 'n spesiale fokus op Afrikaanse mense op die platteland. Op die oomblik is daar nog nie aanduidings van so 'n fokus nie.

3.2 Oorheersing van Engels as wetenskapstaal

Sedert die laat-1970's het Engels al meer in die Weste na vore gekom as die oorheersende taal in proefskrifte en akademiese publikasies. Ook wetenskaplikes wat voorheen in Afrikaans gepubliseer het, het al meer na Engels oorgeslaan.'n Studie het bevind dat in Suid-Afrika die Afrikaanse aandeel in magister- en doktorale proefskrifte in die natuurwetenskappe van gemiddeld 3 6 persent gedurende die periode 1960-1973 tot 9 persent gedaal het. In lettere en sosiale wetenskappe het dit tussen 1975 en 1996 van 62 persent tot 48 persent gedaal. Teen 1997 was slegs 'n vyfde van die artikels in 'n aantal geselekteerde Suid-Afrikaanse tydskrifte in Afrikaans (Ponelis 1999).

Na 1994 het voorstanders van die toenemende gebruik van Engels hierdie ontwikkeling voorgehou as 'n regverdiging vir die afskaling van Afrikaans. Waar hierdie argument nog oorweeg kan word op nagraadse vlak, het dit min geldigheid op voorgraadse vlak waar konseptuele ontwikkeling die beste in die moedertaal bevorder word.

3.3 Swart elite-druk

Die grootskaalse gebruik van Engels as voertaal in oorwegend swart instellings moet in vergelykende verband gesien word. Heugh (1999) het daarop gewys dat in oud-kolonies van die Weste, en veral dié in Afrika, die wanopvatting bestaan dat onderrig in die koloniale taal (Engels in Suid-Afrika se geval) die kortpad na goeie onderwys en werksgeleenthede is. In werklikheid help moeder-taalonderrig leerlinge en studente om 'n veel beter bydrae tot die ekonomie te maak as diegene wat in hul tweede of derde taal leer.

In Suid-Afrika is die afkeer van die swart elite van Afrikaans as voertaal nie in die eerste plek toe te skryf aan die taal se verbintenis met Afrikanermag en apartheid nie, maar aan hul voorkeur vir die koloniale taal. In ander Afrika-lande het die nuwe elite na onafhanklikheidswording die koloniale tale (veral Engels en Frans) omhels. Hulle het aangevoer dat die koloniale taal die medium is wat op openbare vlak nasionale eenwording sal bewerkstellig en die gevaar van etniese politieke twiste sal besweer. Die nasionale taal of tale is op skool nie veel verder as die laer-primêre vlak as voertaal gebruik nie.

Laitin (1992:149-64) wys daarop dat die swart elite se eiebelang in hierdie soort politiek herhaaldelik deurslaggewend is. In 'n studie van die situasie in Somalië en die Ivoorkus het hy gevind dat die swart elite die algemene welsyn privaat ondermyn. Die elite weet dat dit vir hulle en hul kinders 'n groot voordeel inhou as poste in die private en publieke sektor gereserveer kan word vir diegene wat die koloniale taal goed magtig is. Hoe skaarser die aanbod van mense wat hierdie tale goed magtig is, hoe groter die wins vir die elite.

In Suid-Afrika stuur die swart elite hul kinders na die beste skole, gewoonlik private skole, sodat hulle die nodige onderrig in die koloniale taal kan ontvang. 'n Goeie beheer van Engels is die nuwe vorm van werkreservering in post-1994 Suid-Afrika.

Onder die bruin elite is daar 'n sterk vereenselwiging met Engels as taal van aspirasie. Reeds voor 1994 is gevind dat daar onder die bruin middelklas in Kaapstad "'n massiewe skuif' van 7.4 persent weg van Afrikaans was, teenoor 1,7 persent in die geval van wit Afrikaanssprekendes (Van der Berg 2003:177-87). Ook hier is daar die hoop dat vaardigheid in Engels toegang tot administratiewe poste in 'n toenemend Engelse staatsdiens en korporatiewe sektor sal verleen.

3.4 'n Selfaangestelde transformasie-elite

Die opkoms van 'n eenparty dominante stelsel onder die ANC verklaar nie op sy eie waarom daar by Histories Afrikaanse Universiteite (HAU's) die groot drang is om toenemend Engels op voorgraadse vlak in te voer nie. Hierdie kwessie kan net verstaan word deur te let op die rol van twee strata wat die swart politieke elite ondersteun. Hulle is die elite onder swart- en wit Engelssprekende mense. Gewoonlik word hulle Anglofiele genoem maar in die Afrika-konteks het Ali Mazrui die term Afro-Saksers geskep, wat veral verwys na 'n swart elite. In Suid-Afrika word hul geledere aangevul deur 'n stratum van "progressiewe" wit Engelssprekendes. Hulle is volgens alle aanduidings sterk verteenwoordig in die staatsdepartemente wat onderwys, kultuur en kommunikasie administreer.

Benewens druk vir Engelsmedium-onderrig in sekondêre skole en in universiteite oefen die Afro-Saksers in Suid-Afrika invloed uit op talle vlakke van die openbare lewe. Dit blyk uit die samestelling van beheerrade en direksies van openbare ondernemings en die kommentaar in meningsblaaie. Feitlik net Engelssprekendes uit die blanke geledere word genooi om saam met 'n meerderheid van swartes daarop te dien. Hulle het sterk op uitkoms-gebaseerde onderwys aangedring en is mede-verantwoordelik vir die rampspoedige eksperiment. Hulle oorheers beheerrade soos dié van die SABC. In hierdie beheerraad was daar in 2014 geen persoon wie se huistaal Afrikaans is nie, al word 25 persent van sy lisensiefooie deur Afrikaanssprekendes betaal.

Tot en met die oorgang in 1994 was daar 'n gelyke verdeling tussen Afrikaans en Engels op een kanaal, terwyl alle programme in Afrika-tale op TV 2 uitgesaai is. In 1996 het die SABC besluit om Afrikaanse uitsendings tot 15 persent te verminder. Die persentasie is tans heelwat laer. Dit ignoreer die feit dat 16 persent van die kykers van SABC 2 in 2014 Afrikaanssprekendes was teenoor 10 per sent Engelssprekendes.

In Junie 2014 het die korporasie op onverklaarbare wyse die Afrikaanse programme na SABC 3 geskuif ten spyte daarvan dat die opvangs van die sender baie swak is in gebiede waar baie Afrikaanssprekendes woon. Die gevolg was dat die Afrikaanse nuus 'n derde van sy kykers verloor het en die program Fokus meer as die helfte (TVPlus 2014:12-13). Na sterk protes is besluit om weer Afrikaanse nuusbulletins op SABC 2 uit te saai.

Kyknet, in die boeket van die betaalkanaal Multichoice, voorsien al meer in die behoeftes van die middeklas maar daar is nog nie 'n formule gevind om die laer inkomstegroepe te bereik nie. Sowel Kyknet as Radio Sonder Grense, die Afrikaanse radiosender van die SABC, is winsgewend, maar 'n groot deel van die wins word in albei gevalle gebruik om senders wat in die kleiner swart tale uitsaai, te subsidieer.

Die Afro-Saksiese oorheersing laat hom geld op verskeie ander terreine. Afro-Saksers oorheers die advertensieagentskappe. Daar is 'n oorvloed Engelse advertensies, al is die Afrikaanssprekendes se koopkrag die grootste van al die taalgemeenskappe.

Die Anglo-Saksers hou apartheid verantwoordelik vir alle tekortkominge en gebreke van die land. Hulle haal graag die VVO-konvensie van 1973 aan wat apartheid tot "'n misdaad teen die mensdom" verklaar het, maar versuim om te noem dat dit 'n inisiatief van die Sowjet-unie en sy bondgenote in die Koue Oorlog was. Die eerste twintig ondertekenaars van die konvensie was almal lede van die Sowjet-blok, terwyl die vernaamste Westerse lande geweier het om dit te onderskryf. Die VSA het so ver gegaan as om die volgende te laat notuleer: "We cannot accept that apartheid can be made a crime against humanity. Crimes against humanity are so grave in nature that they must be meticulously elaborated and strictly constructed under existing international law" (Heunis 1986:286-87; Booysen 1976).

Die Afro-Saksers in die burgerlike gemeenskap van Suid-Afrika vind bondgenote onder die groep Afrikaanssprekendes wat hiper-individualiste genoem is. Niek Grové, Registrateur van die Universiteit van Pretoria, het hierdie stratum so beskryf:

Ná 1994 en ná daar van politieke mag afstand gedoen is, word die Afrikanergemeenskap die toonbeeld van wat ons kan noem die sogenaamde "personalised society". Ons gaan oor in hiperindividualisme. Mense leef na binne. Hulle leef vir hulleself. Hoe meer individualisties ons word, hoe swakker word die bande met familie, vriende, bure, klubs, kerkgemeenskap en groepe. Op dié wyse word sosiale kapitaal vernietig. Sosiale kapitaal wat vernietig word, vernietig ook optimisme. (Grové 2009)

Daar kan ook nie aangevoer word dat die hiper-individualiste oor alle sake dieselfde dink nie, maar Buys (2014) het onlangs aangevoer dat wat hy "die nuwe Afrikaanse linkses" noem, neig om almal te verguis wat nie by die ANC se "demografiese dwangbuis" wil inval nie. Ironies genoeg neem hulle onder die vaandel van "diversiteit" stelling in om Engels as openbare taal en die taal van hoër onderrig te bevorder. Hulle is verkondigers van hul eie menings eerder as meningsvormers met invloed. Die styl is een van moralistiese verwerping eerder as 'n poging tot oorreding. Wat hulle veral teenstaan, is die gebruik van die soort van druk of dwang wat volgens kenners soos Van Parij s en Laponce noodsaaklik is vir kleiner tale om te oorleef as openbare tale. Hulle vind dit veral onaanvaarbaar dat Afrikaanse taal, kultuur en geskiedenis 'n belangrike komponent van 'n HAU se identiteit bly.

Hierdie verskynsel kom ook in ontwikkelde lande voor. Selfaangestelde elites bied hulself aan as mense wat die progressiewe toon aangee. Hulle kraak die groep se selfvertroue en solidariteit binne die oop en "nie-rassige" bestel af. "Die gemeenskap as geheel word verwar en verswak - hulle word in die woorde van Geoff Densch "prisoners of ambivalence". In 'n studie wat Schlemmer gedurende die laat-1990's onderneem het om die haalbaarheid van 'n Afrikaanse universiteit op Oudtshoorn te ondersoek, het hy onder die Afrikaner- akademici in sy monster min toewyding gevind aan die saak om Afrikaans te beskerm (Giliomee & Schlemmer 2001:107 en 2006: 26 - 31).

3.5 Afwesigheid van politieke beskerming

'n Belangrike faktor in taalhandhawing is die teenwoordigheid van 'n sterk politieke party wat vir Afrikaans in die bresse kan tree. Die NP, wat lank die politieke waghond oor Afrikaans was, het binne tien jaar begin kwyn en toe roemloos gesterf. Na 1999 het eers die Demokratiese Party en toe die Demokratiese Alliansie die meeste Afrikaners getrek. Tot die verkiesing van 2009 het die DA sterk vir Afrikaans opgekom met die argument dat onderrig in een van die elf ampstale deur die grondwet gewaarborg word en dat daaraan in die praktyk beslag gegee moes word. Daarna het die party se fokus op Afrikaans verflou. In die Parlement was dit die Vryheidsfront wat die regering se skending van die taalklousules en sy veronagsaming van hofuitsprake geopper het.

In die verkiesing van 2014 het die DA merkwaardig min aandag aan Afrikaans as kwessie geskenk, en dit het ook nie Solidariteit se aksies teen ongrondwetlike vorme van transformasie in die werkplek openlik gesteun nie. Die leier, Helen Zille, het eers op 'n laat stadium 'n ontmoeting aangevra met Solidariteit, wat tans een van die belangrikste organisasies in die Afrikaanse burgerlike gemeenskap is.

Dit is vreemd as gelet word op die steun wat die DA onder Afrikaanse kiesers geniet. Die meningspeilingfirma Ipsos het na die 2014-verkiesing bereken dat 54 persent van die ondersteuning van die Demokratiese Alliansie van mense gekom het met Afrikaans as huistaal. Van die mense in hierdie kategorie het 81 persent aangedui dat hulle vir die DA sou stem (Harris 2014). Omdat die DA tans so 'n groot premie op swart steun plaas, doen dit min om Afrikaans as openbare taal te bevorder of om die ANC se beleid om die bevolkingsproporsies af te dwing, te beveg. Dit skram ook weg van enige aksie om die afskaling van Afrikaans in opvoedkundige instellings te beveg. In terme van politieke steun het hierdie strategie die party nie veel gekos nie. Klaarblyklik voel Afrikaanssprekende kiesers dat in verkiesings ander kwessies as taal van deurslaggewende belang is.

3.6 Inskiklike universiteitsrade

Oor die algemeen het universiteitsrade van HAU's nie veel ingemeng in twee belangrike kwessies nie, te wete 'n perk op groei en die beskerming van Afrikaans. Die US-Raad het in die jaar 2000 besluit om 'n plafon te plaas op enige verdere groei voorgraads, maar nie standpunt ingeneem toe hierdie besluit veronagsaam is nie.

In feite het die Raad en die topbestuur van die universiteite die vertolking van die taalbeleid na die dekane gedelegeer, wat na 'n termyn van vyf jaar heraangestel moet word en dikwels nie bereid was om besluite oor die voertaalkwessie te neem wat onder die dosente ongewild is nie. Met die groot viyheid wat baie dosente sedert 1994 hulself oor die gebruik van 'n voertaal veroorloof het, het daar al meer teenstand ontwikkel teen diegene wat op Afrikaans enkelmedium aandring. Een van die redes vir die aanvaarbaarheid van die T-opsie vir baie dosente was dat dit veel minder veeleisend was as 'n parallelmediumstelsel wat die koste op die skouers van die dosente laai. Die tyd wat met dubbelmedium gespaar kan word, kan aangewend word vir navorsing. Inkomste hieruit is tans veel belangriker as twintig of dertig jaar gelede.

3.7 Swygsame koerante

Voor 1994 kon van die grootste deel van die Afrikaanse pers gesê word dat die koerante in gesprek met die Afrikanergemeenskap was en 'n simpatieke mening uitgespreek het oor die kwessies waaroor laasgenoemde sterk gevoel het. Oor rassisme en wit bevoorregting het die koerante veral in die laaste dekade of twee van die NP-bewind 'n hervormingsgesinde benadering gevolg wat gehelp het om 'n grondwetlike skikking moontlik te maak. In die loop van die 1990s het die etniese karakter van Die Burger se lesers verander. Waar ongeveer 'n kwart van die lesers in die begin van die dekade bruin mense was, was net meer as die helfte bruin aan die einde van die dekade. Daar is egter geen getuienis dat die meeste van hierdie lesers 'n ander standpunt oor Afrikaans in skole en universiteite inneem nie.

Na 1994 het 'n kloof onstaan tussen meeste redakteurs en die Afrikanergemeenskap oor die druk wat ten behoewe van Afrikaans uitgeoefen moet word. Om 'n voorbeeld te noem: Die Burger het die afgelope twaalf jaar nooit kritiek gelewer op die dramatiese afskaling van Afrikaans aan die Universiteit van Stellenbosch nie en het ook nie moeite gedoen om van ondersoekende joernalistiek gebruik te maak om verslag te doen oor die omstrede "T-opsie" waar Engels en Afrikaans saam as voertaal in een klas gebruik word nie.

'n Uitsondering is Tim du Plessis, wat as redakteur van Rapport 'n belangrike waghondrol oor Afrikaans gespeel het. In Die Burger is baie briewe gepubliseer wat lesers se ontsteltenis oor die verskraling van die Afrikaanse aanbod aan die US uitgespreek het, maar in hoofartikels is die US se versekerings dat hulle Afrikaans goedgesind is, onkrities aanvaar. Die strekking van die meeste hoofartikels is dat Afrikaans ter wille van transformasie meer versoenend en minder angstig moet wees.

Die leserspubliek het egter by geleentheid skerp verskil, soos aangedui word in die uitslag van 'n meningspeiling deur die blad self (Die Burger, 13/8/ 2009).

Die response op die vraag of Afrikaanssprekendes meer versoenend moet optree (622 in totaal) was as volg:

  • "Ja, Afrikaans moet meer versoenend raak en minder angstig en taal-imperialisties." (25%)
  • "Minderheidsgroepe raak verstaanbaar angstig, maar ons kan steeds probeer." (11%)
  • "Hoekom moet net Afrikaans transformeer, en wat gaan dit in elk geval help? Afrikaanssprekendes sal steeds uitgesluit word." 64%

Die peiling toon dat diegene wat aandring op 'n versoenende styl nie breë steun geniet nie.

3.8 Verlore geleenthede

Dit was in gesprekke wat in 1987 gehou is tussen ANC-leiers en 'n groep bestaande oorwegend Afrikaners reeds duidelik dat indien die beweging die mag in die hande kry, Afrikaans sterk afgeskaal sou word. Daarom was dit van groot belang dat sekerheid oor taalregte so vroeg as moontlik tydens die onderhandelinge verkry word. In die Oorgangsgrondwet van 1993 word ononomwonde bepaal dat die status en regte van enige amptelike taal nie verminder mag word nie (Steyn 2014). Die NP-regering het egter toe reeds toegegee aan die ANC se eis dat die Grondwet van vooraf onderhandel moes word nadat daar 'n verkiesing gehou is en dit het versuim om 'n taalklousule by die konstitusionele beginsels te voeg. Die taalklousule van die Grondwet van 1996 het die deur wyd oopgemaak vir grootskaalse verengelsing.

Opverskeie geleenthede na 1994 het sleutelfigure in die Afrikanergemeenskap die kans verspeel om 'n beter posisie vir Afrikaans te beding. In 1996 het Piet Marais, Minister van Nasionale Onderwys in die laaste NP-kabinet, wat nie 'n lid van die NP se onderhandelingspan was nie, vise-president De Klerk gewaarsku dat "onderwys nie die prioriteit onder ons onderhandelaars is wat dit behoort te wees nie." Informele gesprekke wat hy met die ANC-onderhandelaars gehad het, het by hom die indruk gewek dat hulle onverdraagsaam is teenoor Afrikaans en die eis dat Afrikaanse universiteite ook 'n bepaalde kulturele inhoud aan studente oordra (Marais 1996). Maar op daardie stadium was al die vernaamste kwessies in die onderhandelings reeds besleg, en die ANC se onderhandelaars kon geen rede sien waarom hulle weer oor Afrikaans moes onderhandel nie.

Jacko Maree en 'n paar ander NP-parlementslede wou ook teenstand bied teen die voertaal-klousules wat na hul mening Afrikaans nie behoorlik beskerm het nie. Hulle het 'n afspraak gemaak met Cyril Ramaphosa, wat aan hulle gesê het dat die NP-onderhandelaars hom in die duister gelaat het oor die groot waarde wat Afrikaners daaraan heg (Maree 2014). Maar die kans om 'n beter bedeling vir Afrikaans te beding, was reeds verlore.

Na die oorgang na 'n inklusiewe demokrasie het die kwessie weer ter sprake gekom. In 1996 het Pres. Nelson Mandela (1996) op Stellenbosch by geleentheid van die toekenning van 'n eregraad gesê. "It surely must be possible in a system with more than twenty universities to come to an agreement that there would be at least one university whose main task would be to promote the sustained development of Afrikaans as an academic medium."

In daaropvolgende jare het die regering egter al meer daarop begin aandring dat die HAU's "toegang" vir swart studente moes verleen waarmee hy bedoel het die aanbod van Engelsmediumklasse sonder enige addisionele befondsing. Vanweë toenemende kommer oor die beleid het Kader Asmal, Minister van Hoër Onderwys, in 2001 'n spesiale komitee onder leiding van Jakes Gerwel aangestel om raad te gee hoe Afrikaans in sy hoër funksies oor die lang termyn gehandhaaf kon word. Die Gerwel-komitee se voorstel was dat twee universiteite aangewys moet word wat 'n spesiale verantwoordelikheid vir die ontwikkeling van Afrikaans sou aanvaar. Hulle moes elke jaar aan die Parlement verslag doen hoe hulle hierdie funksie verrig het. Soos Gerwel dit uitgedruk het: Afrikaans "sou sonder sulke twee akademiese pilare op die duur nie staande kon bly nie."

Andreas van Wyk en Carools Reynecke, rektore onderskeidelik op Stellenbosch en Potchefstroom, het aangedui dat hulle namens hulle universiteite hierdie verpligting sou wou aanvaar, maar die rektore van die Universiteit van Pretoria en die Universiteit van die Vrystaat het die gedagte heftig teengestaan. Dit was vir die rektore onmoontlik om ter wille van die oorlewing van Afrikaans as ontwikkelde taal konsensus te bereik (Giliomee & Schlemmer 2006:52-57).

3.9 Die Grondwet en taalbeleid

Gedurende die afgelope tien jaar het voorstanders van die toenemende gebruik van Engels as voertaal aan HAU's dikwels aangevoer dat die Grondwet, tesame met die regering se 2002-beleidsdokument "Language Policy in Higher Education" (LPHE), dit nie vir 'n universiteit moontlik maak om hoofsaaklik van Afrikaansmedium as voertaal gebruik te maak nie. In 2011 het 'n persoon na aan die US-Raad vir adv. Jan Heunis SC gevra om 'n regsmening hieroor te skryf. Hierdie mening is aan die US-bestuur oorhandig.

Die regsmening wys daarop dat die ministerie skriftelik sy bereidwilligheid verklaar het om met die HAU's in gesprek te tree oor voertaalopsies, insluitende Afrikaansmedium, as die primêre opsie, maar nie die enigste een nie. Adv. Heunis se mening kom tot die gevolgtrekking dat daar geen rede is om aan te neem dat "die US se Taalbeleid van 2002 soos gewysig in 2008, wat Afrikaansmedium as die verstektaal beskryf en wat dit toelaat dat Engels "in besondere omstandighede" gebruik word, in stryd met die Grondwet of die LPHE is nie (Heunis 2011).

 

4. AFRIKAANS AS VOERTAAL

Die kreeftegang van Afrikaans as voertaal op die verskillende vlakke tussen 1994 en 2014 bied 'n ontstellende prentjie.

4.1 Skole

Met baie van die "township"-skole disfunksioneel, het die onderwysdepartement al meer Afrikaanse skole gedwing om 'n parallelle stroom van Engels-onderrig in te voer om vir swart of bruin kinders voorsiening te maak. 'n Studie van ses van die provinsies het gevind dat uit 'n totaal van 1 396 skole wat in 1993 in hierdie medium onderrig gegee het, net 60 persent of 839 teen 2004 oorgebly het (Du Plessis aangehaal deur Giliomee & Schlemmer 2006:242). Tussen 2008 en 2012 het Afrikaanstalige enkelmedium skole met 'n verdere 15% gedaal (Rademeyer 2014). Alhoewel net 859 896 van die land se kinders se huistaal Engels was, was 7 350 166 in skole met Engels as voertaal.

4.2 Tegniese Kolleges

Hoewel statistiek moeilik is om te bekom, word bereken dat voor 1990 daar tien Afrikaanse technikons en 150 beroepskolleges (staat en privaat) was met Afrikaans as die voertaal of waarin sowel Engels as Afrikaans gebruik is. Onder hulle was die kolleges by groot openbare ondernemings soos Yskor, Eskom, Sasol en die Spoorweë. Die wat meer Engels was, het wel studente toegelaat om in Afrikaans te studeer. Vandag is daar nie een staatsgesteunde Afrikaanse technikon of enkelmediumkollege oor nie (Buys 2014).

Solidariteit het in 2005 begin om toegang tot tegniese onderrig te bewerkstellig deur middel van Afrikaans deur R10 by elke lid se ledegeld te voeg. Dit het die beweging R35 miljoen oor 5 jaar gekos. Dit het ook voorsiening gemaak vir 'n beursfonds omdat hierdie sektor nooit voorheen beursskemas gehad het nie (die staat se opleidingskema Setas gee nie beurse aan wit kinders nie). Dit beteken dat die ouers moet instaan, wat moeilik is omdat hulle in die meeste gevalle arm mense is.

4.3 Onderwyskolleges

Onder die NP-bewind het die Departement van Onderwys en Kultuur (Volksraad) die volgende onderwyskolleges bedryf wat in Afrikaans-medium gedoseer het:

Kaapland: Boland Onderwyskollege (Paarl) Wellingtonse Onderwyskollege Oudtshoorn Onderwyskollege (later omskep in 'n Polisiekollege) Graaff-Reinet Onderwyskollege (later omskep in 'n Weermagkollege)

OVS: Bloemfontein Onderwyskollege (later ingelyf by die Universiteit se Opvoedkunde Fakulteit)
Transvaal: Heidelbergse Onderwyskollege Pretoria Onderwyskollege Potchefstroom Onderwyskollege Kollege vir verdere opleiding (verdere opleiding, afstand).
Natal: Durbanse Onderwyskollege

Onderwysersopleiding aan kolleges was die duurste van alle tersiêre opleiding. Gedurende die vroeë 1990's was daar 'n poging van die kant van die Departement om die kolleges outonoom te maak, as verskansing teen dit wat in 'n nuwe bedeling verwag kon word. Die rektore het dit nie verstaan nie en botweg geweier (Heese 2014). Tans is daar geen kollege oor wat van Afrikaansmedium gebruik maak nie.

4.4 Universiteite

Op universiteitsvlak het Afrikaans baie agteruitgegaan. Aan die Universiteit van die Wes-Kaap het dit teen 1990 reeds as formele voertaal verdwyn en dieselfde sou in die volgende vyftienjaar gebeur aan die Universiteit van Port Elizabeth en die Randse Afrikaanse Universiteit. Ook op die gebied van akademiese publikasies het Afrikaans sterk agteruit geboer. Die agteruitgang van Afrikaans op ander kampusse word in die volgende afdeling bespreek.

Tabel 4 verskaf gegewens oor die proporsie inskrywings van Afrikaanse studente aan die verskillende universiteite waar Afrikaans nog as voertaal gebruik word.

 

 

In die geval van die twee universiteite met die meeste Afrikaanse studente, te wete UP en US, het die getal studente met Afrikaans as huistaal redelik stabiel gebly. Dit was vanweë die sterk groei van nie-Afrikaanse studente, onder wie 'n aansienlike presentasie wit was, dat die proporsie Afrikaanse studente aan die US so skerp gedaal het. In die geval van UP was die rede die sterk toename in swart studente wat Engels as voertaal verkies.

In die geval van US, UP en ook die Universiteit van die Vrystaat (UV) het Afrikaansmedium vinnig onder druk gekom vanweë die toenemende getalle studente wat Engelsmedium verkies het. Eloff (2014) meld dat Jakes Gerwel, in lewe rektor van die Universiteit van die Wes-Kaap, in gesprekke met hom dikwels verwys het na die internasionale literatuur oor die kantelpunt vir taal ("language tipping point"). In instellings geskep vir sprekers van 'n minderheidstaal word die kantelpunt gewoonlik bereik wanneer ongeveer 30 persent van die studente sprekers van 'n wêreldtaal, soos Engels is. Indien die groei van laasgenoemde ongehinderd voortduur, is die verdringing en uiteindelike vervanging van die minderheidstaal feitlik onomkeerbaar.

Soos aangedui sal word is hierdie proses besig om hom aan die UP, UV en die US te voltrek. Aanvanklik kon die Afrikaanse aanbod van lesings seker wees van sterk steun van Afrikaanse studente. Dit het egter van die laat-1980's reeds verskeie kere gebeur dat die teenwoordigheid van groeiende getalle studente op 'n kampus wat in Engels wou studeer Afrikaans as omgangs- en voertaal verdring het. Jansen (2013) beskryf in gloeiende terme hierdie "rewolusie" op die UV:

"There is a fascinating revolution underway with respect to language usage in everyday life on a university campus like the UFS: there is no discernible tension, anymore, about using English only in meetings of residences and other public meetings where all students (and staff) are in one place."

4.4.1 Universiteit van Stellenbosch

Gegee sy geografiese ligging is die US aan die begin van die 1990's algemeen beskou as die instelling wat die beste kans het om 'n oorwegend Afrikaans-medium universiteit te bly en daardeur die toekoms van Afrikaans as openbare taal te help verseker. Vir die doel van transformasie is die natuurlike teiken die bruin Afrikaanssprekendes, wat van al die gemeenskappe in die land die groep is met die laagste deelname aan universiteitopleiding.

In 1992 het die Raad en die Senaat die regering gevra om die Wet op die US te wysig deur duidelik te spesifiseer dat Afrikaans die universiteit se voertaal is (Kapp 2013:62). Soos Tabel 4 aandui, het die instelling egter na 1994 'n al groter proporsie studente ingeneem wie se huistaal nie Afrikaans is nie. Die Rektor het in 1990 die Senaat meegedeel dat dit die bestuur se vaste voorneme is om die studentetal tot 14 000 te beperk, maar 25 jaar later het die getal tot net onder 30 000 gestyg (Kapp 2013:62 en persoonlike mededeling, 12 September 2014).

Gedurende die twintig jaar na 1995 het die getal studente in die Afrikaanse kategorie aan die US in 'n band van tussen 11 000 en 13 300 beweeg. In hierdie periode het sowel die nie-Afrikaanse studente as die totaal studente verdriedubbel.

'n Belangrike syfer is die getal swart studente. Met die uitbreiding van die T-opsie vanaf 2005 is dikwels in die vergaderings van die US-Raad gesê dat dit noodsaaklik is om swart studente te trek en dat die druk van die regering in hierdie verband onverpoos is. Tabel 6 gee 'n heeltemal ander indruk. As vir die swart getal die syfers vir Xhosa-sprekers en sprekers van ander Suid-Afrikaanste tale geneem word, het die proporsie swart studente van 3,6% tot 7, 0% gestyg, en die totale getal van 800 tot ongeveer 2000. Dit is kwalik die soort van resultaat wat die invoer regverdig van 'n voertaalmedium wat ongetoets is en nooit behoorlik gemonitor is nie. In die enigste onafhanklike meningsopname wat onderneem is, het swart studente onomwonde hul voorkeur vir parallelmedium uitgespreek.

 

 

Nie-Afrikaanse studente het na die kampus gestroom vanweë omstandighede aan ander kampusse wat vir hulle onaanvaarbaar was. Om hulle tegemoet te kom, het dosente in sekere fakulteite al meer Engels saam met Afrikaans in hul voorlesings gebruik. Die klem was, in die modewoord van die 1990's, om 'n "taalvriendelike" US te maak, wat beteken het dat nie-Afrikaanse studente nie gemaan is om in Afrikaans vaardig te word nie. Al meer dosente is aangestel, wat, anders as vantevore, nie verplig is om binne twee jaar in Afrikaans vaardig te word nie.

'n Verslag van 1999 aan die US Rektor het gewaarsku dat daar dosente is wat optree op 'n wyse wat bots met die formele taalbeleid en bygevoeg dat dit dringend noodsaaklik was dat 'n ondubbelsinnige beleid aanvaar word (Giliomee & Schlemmer 1999). Die US het in hierdie jaar reeds die taal-kantelpunt bereik waarvan Gerwel gepraat het.

In 2002 het die US 'n taalbeleid aangeneem wat enigsins gewysig vir twaalf jaar lank die formele beleid sou wees. Die klem val op enkelmedium Afrikaans wat aangedui word as die "verstek" of "outomatiese opsie" in die "hiërargie van voertaalopsies". Die beleid maak ook voorsiening vir parallelmedium en, in uitsonderlike gevalle, enkelmedium Engels. Dan is daar ook die sogenaamde Tweetalige Opsie (T-opsie) met 'n minimum van 50 persent Afrikaans as voorwaarde. Dit word omskryf as 'n middel om studente met Engels as voorkeurtaal in die eerste jaar blootstelling aan die Afrikaanse vaktaal te gee, en as 'n oorbruggingsmeganisme wat hulle op tweedejaarsvlak in staat moet stel om optimaal doeltreffend te studeer in modules met die A-opsie spesifikasie.

In die loop van 2005 het die Fakulteit Lettere besluit om die T-opsie tot alle modules in die voorgraadse program uit te brei. Inderdaad het dit die afskaffing van enkelmedium Afrikaans beteken. Geen doeltreffende stelsel van monitering is ingestel nie en geen druk is op studente uitgeoefen om vaardig in Afrikaans te word nie. Die voorbeeld van Lettere is gou deur verskeie ander fakulteite gevolg. In 'n brief aan Die Burger het Breyten Breytenbach, Hermann Giliomee en Van Zyl Slabbert beswaar teen hierdie stap aangeteken en gewys op die ernstige implikasies wat dit vir Afrikaans as voertaal en uiteindelik as openbare taal inhou. Hierna het 'n uitgebreide taaldebat in die kolomme van Die Burger gevolg.

In'n onlangse ontleding skryf Van Niekerk dat die taaldebat begin is met 'n "emosionele" brief van bogenoemde drie persone. Hy beskryf hulle en ander teenstanders van die T-opsie as mense "wat die trauma van'n dreigende verlies van identiteit ervaar". Hy gee toe dat in drie opeenvolgende verkiesings van Raadslede deur die konvokasie van alumni die voorstanders van Afrikaans as primêre voertaal "oorweldigend" die voorstanders van die toenemende gebruik van Engels verslaan het. Volgens hom moet daar egter nie te veel hierin gelees word nie omdat in die konvokasiever-kiesing van 2010 daar minder konvokasielede gestem het "as wat daar aanwesiges was by Eugene Terre'Blanche se begrafnis" (Van Niekerk 2012: 221-22).

'n Gevolg van die toestroming van persone wat op Engels as voertaal aangedring het, was dat die aanbieding van klasse in die opsie van Afrikaans enkelmedium in 2009 tot 35 % gedaal het. Dit sou binne vier jaar verder tot 12% daal, terwyl dubbelmedium tot 58 persent gestyg het.

 

 

In 2009 het Chris Klopper, Hoof Uivoerende Beampte van die Suid-Afrikaanse Onderwysunie met 29 000 lede, 'n brief aan die Voorsitter van die US-Raad en die Rektor van US geskryf waarin hy namens die Unie onderneem het om by skoliere daardie universiteite aan te beveel wat erns maak met Afrikaanse onderrig (iets wat dubbelmedium uitsluit) asook met die ernstige tekort aan onderwysers wat in Afrikaans kan klas gee (Klopper 2009).

Die US-bestuur het geantwoord dat hy nie van plan is om onder "druk en afdreiging" op te tree nie en hom nie "van buite te laat bestuur nie". Daar is bygevoeg dat die bestuur "veral belangstel in organisasies wat 'n beduidende invloed kan hê op bruin en swart Afrikaanstaliges se inskrywingsgetalle aan die US" (Beeld, 3 November 2009). Dit is moeilik om aan 'n uitspraak te dink wat die US se tradisionele steungroep, die Afrikaanssprekendes, meer kon vervreem.

In 2014 het die Vise-rektor Onderrig aan die US nuwe voorstelle op die tafel geplaas. Die klem word geplaas op "inklusiwiteit", waarmee bedoel word onderrig in sowel Afrikaans as Engels in óf parallelmedium óf opvoedkundige tolking (Schoonwinkel 2014). Dit is moeilik om hierdie beleid anders te sien as een wat Afrikaans nog verder gaan ondermyn. Afrikaans word in feite op gelyke voet met Engels as onderrigtaal en kommunikasiemedium geplaas. Dit onthef Engelssprekendes van enige druk om in Afrikaans vaardig te raak.

Die groot vraag was van die begin: Wat sê studente self oor die kwessie van voertaal aan die HAU's? Sover bekend, het net een universiteitsraad 'n meningsopname deur 'n onafhanklike maatskappy laat doen oor die kwessie van studente se voertaalvoorkeur. Dit was die opname wat die maatskappy Markdata in 2007 in opdrag van die Raad van die US gedoen het. Dit het getoon dat Afrikaanse studente sterk vir Afrikaanse onderrig uitkom indien hulle vryelik hul mening kan uitspreek, in teenstelling met die problematiese situasie in die klas waar die dosent vra of iemand in die klas op Afrikaans aandring. Die gewildste opsie vir Afrikaanse studente was "hoofsaaklik Afrikaans" (86% met 43% Engelssprekendes wat dit gesteun het), terwyl "eweredige parallelmedium" die gewildste (94%) onder Engelssprekendes was (Schlemmer 2008, Tabel 22).

Hierdie meningsopname het plaasgevind in 2007, toe die Afrikaanse karakter van die universiteit nog onmiskenbaar was. Teen 2014 het Engels-medium klasse, of T-opsie klasse waarin Engels oorheers, die "nuwe normaal" geword. Op 'n kampus wat vinnig na Engels begin oorhel en met die oorspronklike Afrikaanse studentekultuur al meer onder druk, kan verwag word dat toenemende getalle Afrikaanse studente Engelse lesings sal verkies ten einde hul vaardigheid in die taal te verbeter. Daar kan ook verwag word dat die US se nuwe taalbeleid groot druk op Afrikaans in hoërskole in die omgewing sal plaas om ook toenemend Engels te gebruik.

4.4.2 Universiteit van Pretoria

Die UP het na die oorgang in 1994 dadelik begin gebruik maak van 'n markmodel en het Afrikaansmedium-klasse onttrek waar die aanvraag te klein was. Van 'n vroeë stadium het lesings in Afrikaans enkelmedium feitlik verdwyn. Soos tabel 8 aandui, het parallelmedium-aanbod tussen 2009 en 2013 van 46% tot 31% gedaal, terwyl Engelsmedium van 30% tot 43% toegeneem het.

 

 

Syfers verskaf deur N.J. Grové, Registrateur, UP, op ABN-beraad, 20 Maart 2010, en op Akademieberaad, 2014. Die syfer van 43% vir Engelsmediumklasse aan UP in 2013 sluit in 230 nagraadse modules.

Die Afrikaanse stroom in die parallelmedium-opset het begin afneem. Engelsmedium het nou die norm geword en die aanduidings is dat Afrikaanse studente toenemend sal besluit om die Engelse klasse by te woon. So dramaties het die Afrikaanse bywoningsyfer geval, dat verskeie dissiplines die punt nader waar UP sal kan aanvoer dat dit nie meer lonend is om die Afrikaanse klasse aan te bied nie.

5.3.3 Universiteit van die Vrystaat

Op die Universiteit van Vrystaat se sentrale kampus is ongeveer die helfte van die studente swart studente wie se huistaal nie Engels is nie. Die proporsie studente met Afrikaans as huistaal het redelik konstant op ongeveer een-derde van die studente gebly (sien tabel 9).

 

 

Tot ongeveer tien jaar gelede was die beleid dat vakke in parallelmedium aangebied is. Na 2004 het die praktyk al meer geword dat Afrikaanse klasse afgeskaf word wanneer te min studente vir die Afrikaanse stroom in 'n parallelmedium-aanbod ingeskryf het.

In 'n prominente advertensie in Rapport van 6 Oktober 2014 het die UV verklaar: "Ons bly verbind tot ons parallelmedium-onderrig waarin Afrikaans steeds 'n taal van onderrig is." Hierdie verklaring steek egter meer weg as wat dit openbaar. Die talekomitee het in 2011 ophou funksioneer Die indruk bestaan dat op dekaansvlak al meer Afrikaanse klasse in 'n parallelmedium-opset afgeskaf word wanneer te min studente vir die Afrikaanse stroom ingeskryf het. Dit is egter nie verklaarde beleid, soos in die geval van die UP nie. Die universiteit publiseer ook nie, soos die UP en US, 'n tabel van die proposies van die onderskeie voertaalopsies wat gebruik word nie. Daar is blykbaar ook geen doeltreffende monitering van die voertaalbeleid nie.

Met vasberade leiding sou 'n kernaanbod van Afrikaansmedium-klasse 'n opsie gewees het, maar die kans lyk skraal dat so iets ontwikkel sal word onder die huidige bestuur. Die Rekor, Jonathan Jansen, het verklaar dat die beste oplossing vir die land se opvoedkundige krisis is om kinders van die heel eerste skooldag in Engels te onderrig. Hy sien instellings wat Afrikaansmedium of hoofsaaklik Afrikaansmedium is as "'n ernstige berdreiging vir rassevrede in Suid-Afrika". Hy impliseer dat rassisme van een geslag na die ander veral in Afrikaans oorgedra word (Jansen 2013). Jansen se voorstelle bots met sowel die regering se taalbleid as die grondwet.

4.3.4. Potchefstroom-kampus van Noordwes-Universiteit

Op Potchefstroom Universiteit is tolkdiense ingestel as voorbereiding vir die gedwonge samesmelting van die PU met die Universiteit van Bophuthatswana op Mafikeng om die Universiteit van Noordwes te vorm. Dit is ook gesien as 'n antwoord op die druk wat verwag is van regeringskant om toegang deur die medium van Engels te verleen. Die regering het dit nie teengestaan nie. Op die Potchefstroom-kampus is vir meer as tien jaar lank 30% van die modules van Afrikaans na Engels getolk en is vir die res Afrikaansmedium gebruik. Van die 37 kampusse in die land was dit die enigste een waar Afrikaanse studente al hulle onderrig in hul moedertaal kon ontvang.

Vroeg in 2014 het die kwessie van ontgroening op die kampus gelei tot 'n ondersoek na die kampuskultuur waarby voertaal ingesluit is. Die Raad het vir dié doel 'n komitee onder leiding van Leon Wessels aangewys om die studentekultuur te ondersoek. Die Wessels-komitee het aan die Raad van die Noordwes-Universiteit gerapporteer dat dit onaanvaarbaar is dat jong Afrikaners uit "Afrikanerskole" so 'n groot deel van die studentegetalle uitmaak. Dit spreek die oordeel uit dat die gebruik van Afrikaans op die kampus nasionale samehorigheid teenwerk en beveel aan dat daar 'n "radikale verdunning" van die Afrikaanse "konsentrasie" op die kampus deurgevoer moet word. Dit moet gedoen word deur nasionale demografie op die hostelle af te dwing en doelgerig swart dosente aan te stel sodat die doserende personeel toenemend die rassesamestelling van die land weerspieël (Afriforum Jeug 2014). Die universiteitsraad het op gebreke in die verslag gewys en sy eie verslag na die minister gestuur.

In 'n televisieonderhoud op die program "Robinson Regstreeks" op KykNet het Wessels en die nuwe rektor van die universiteit probeer argumenteer dat die transformasie wat in die verslag voorgestel word nie bedoel was om Afrikaans te skaad nie. Kykers kon aan die einde van die gesprek inbel om hulle mening te gee oor die vraag of hierdie vorm van transformasie Afrikaans sal skaad. Van dié wat gereageer het, het 96 persent geantwoord dat dit wel sal gebeur (https://www.youtube.com/watch?v=kXHX-kKSL2c#t=1478). 'n Maand later het die nuwe rektor by sy inhuldiging verklaar dat Afrikaans 'n struikelblok vir transformasie verteenwoordig (Die Burger, 24/9/2014).

Met verwysing na die Potchefstroom-aangeleentheid het Blade Nzimande, Minister van Hoër Onderwys, verklaar dat daar net plek is vir "Suid-Afrikaanse universiteite", waarmee hy instellings bedoel wat in Engels klas gee. Indien hulle kursusse in enige ander taal aanbied, is hulle verplig om die aanbod ook in Engels te doen. Volgens hom is dit "onsensitief" en "'n manier van uitsluiting" om in Afrikaans klas te gee as daar in die klas studente is wat in Engels wil leer. Hy voeg by: "Ek weet nie hoe kan mense in 'n land soos Suid-Afrika aanhou om 'n taal te gebruik op 'n verdedigende, inwaartse wyse nie" (Rapport Weekliks,3 Augustus 2014).

Hierdie is 'n vorm van kulturele totalitarisme, wat by 'n diktatuur eerder as enige demokrasie hoort. Behalwe vir die ongrondwetlikheid van die uitspraak, skyn die minister ook onbewus te wees van die regering se eie beleid oor hoër onderwys wat in 2002 gepubliseer is as die "Language Policy in Higher Education". Soos Bekker (2014) aanvoer, beteken die verslag van die Wesselskomitee en die minister se uitsprake effektief die einde van enige kans vir Afrikaanssprekendes om oorwegend in hul moedertaal te studeer.

 

5. DIE PARADOKS VAN AFRIKAANS

Op die gebied van taal, kultuur en onderwys is die prentjie ten opsigte van Afrikaans kompleks en op die oog af vol teenstrydighede. Op die vlak van verbruik of konsumpsie lyk dit of Afrikaans floreer. Koerante, tydskrifte, boeke, musiek, 'n nasionale radiosender, 'n televisiekanaal, en woorden kunstefeeste getuig van 'n lewenskragtige kultuur.

NB Uitgewers is tans die grootste uitgewery in die land en KykNet is naas sport een van die winsgewendste kanale op die Multichoice-boeket. Op hul eie kry die Afrikaanse dagblaaie finansieel swaar maar hulle vorm deel van 'n magtige mediakonglomoraat met die vermoë om die koerante as verliesmakers te subsidieer. Kragtige fondse soos die Hiemstra Trust, Het Jan Marais Nationale Fonds en Dagbreek Trust maak die publikasie van manuskripte moontlik wat andersins nie 'n uitgewer sou gevind het nie. In die land is daar 'n groter literêre produksie in Afrikaans as in Engels. 'n Gesofistikeerde nuwe generasie Afrikaanse films maak sterk opgang.

Die bloei van Afrikaans mag egter misleidend wees - amper soos 'n sonsondergang waar die kleure intens is net na die son verdwyn het. Dit is sekerlik waar as mens verby produksie en verbruik kyk na reproduksie. Sonder Afrikaanse onderrig in skole en universiteite waar 'n nuwe geslag van Afrikaanse verbruikers gekweek moet word, moet die produksie en verbruik van Afrikaans as literêre en wetenskaplike taal al meer afneem. Sedert 1990 het die getal skole waarvan die voertaal Afrikaans-enkelmedium is, dramaties gedaal, en die tegniese en onderwyskolleges wat Afrikaans as voertaal gebruik het, het verdwyn.

Daar word soms geargumenteer dat Afrikaans nie bedreig word omdat dit al meer uit universiteite en hoërskole verdring word nie. Diegene wat hierdie standpunt inneem, verwys dan na die Skandinawiese lande en etlike ander kleiner lande in Europa waar universiteitsonderrig al meer in Engels plaasvind. Daar is egter 'n wesenlike verskil. In al hierdie lande is die taal van die politieke stelsel, die staatsdiens en 'n groot deel van die mark nog steeds die landstaal. Vaardigheid in die landstaal bly 'n vereiste in die meeste werksgeleenthede. Dit is nie die geval met Afrikaans nie.

Kragtens die "Wet van Laponce" moet verwag word dat mettertyd meer skole wat tans dubbelmedium of parallelmedium is na Engelsmedium sal oorskakel. Afrikaans is ook in die spervuur op universiteitsvlak. In die laaste dertig jaar het Afrikaans aan drie universiteite (Universiteit van die Wes-Kaap, Universiteit van Port Elizabeth en Randse Afrikaanse Universiteit) verdwyn. 'n Dosent aan een van die universiteite het sardonies die proses so beskryf: "Die oorgang na enkel Engelsmedium het na my beste wete nooit plaasgevind nie: dis 'n sluipende siekte wat niemand wil erken nie - baie soos melaatsheid of Alzheimers" (Giliomee & Schlemmer 2007, binne-titelblad). Dieselfde sluipende siekte kan hom oor die volgende dekade afspeel aan universiteite waar Afrikaans nog oënskynlik sterk staan.

Met die uitsondering van die Potchefstroom-kampus het geen instelling daaraan gedink om 'n vaste, volwaardige en volhoubare plek vir Afrikaans te verseker voordat dit begin het om Engels as voertaal in te voer nie. Veral aan die US, waar Afrikaans vanweë sy geskiedenis en omgewing die beste oorlewingskans het, is die versuim enorm. Laponce (2006) het oor die US taalbeleid, en die T-opsie in die besonder, geskryf: "The system is absurd and to the eventual advantage of English, Afrikaans being retained as a mere decoration".

Die enigste plek vir hoër onderwys waar Afrikaans nie in 'n krisis verkeer nie, is in 'n klein private instelling, wat pas begin het. Dit is die Akademie, gestig as deel van die Solidariteit-beweging. Dit het aan die begin van 2014 iets meer as 200 studente gehad asook twee graadkursusse, 'n paar driejaar diplomas en 'n klompie hoër onderwyssertifikate. Dit word net na-uurs aangebied, en daar is nie 'n studentelewe nie, wat vir jong mense baie belangrik is. Die plan is om dit eers op 'n klein skaal te bou, al die stelsels te toets en te verbeter, en dan vinnig groter te maak namate die tyd ryp raak. Solidariteit is tans in die gevorderde stadium van 'n ondersoek na Verpleegopleiding in samewerking met privaathospitale, wat die deurbraak kan wees waarna die beweging soek.

 

SLOT

In 2001 het Schlemmer (2001:118) die volgende stelling gemaak: “Die grootste enkele gevaar vir Afrikaans is dat as dit as universiteitstaal sou verswak of verdwyn dit die ondergang sou beteken van Afrikaans as wetenskapstaal, as vaktaal, as taal van intellektuele omgang, en uiteindelik ook as letterkundige taal.” Hy het bygevoeg: “Baie tale het al op voetsoolvlak oorleef... Daar is min twyfel dat Afrikaans in sportstadions, kroeë, kafees, en sit- en slaapkamers gaan oorleef. Maar wie gaan dit ernstig opneem as dit nie op intellektuele en professionele vlak presteer nie? Soos die ander inheemse tale van Afrika sal Afrikaans in so ’n geval onthoof wees”.

’n Kosbare kultuurerfenis loop gevaar om weggegooi te word. Die proporsie hoërskole wat enkelmedium onderrig in Afrikaans aanbied het dramaties verminder. Die regering het Afrikaansmedium- onderrig in alle tegniese en onderwyskolleges afgeskaf. Afrikaans het as voertaal by die Universiteit van Johannesburg in die stof gebyt. In die geval van die Universiteit van Pretoria, Universiteit van die Vrystaat en Universiteit van Stellenbosch is Engels besig om as voertaal meedoënloos die oorhand te kry. Afrikaans kan teen 2025 aan hierdie instellings nie meer as ’n versiering wees nie, soos wat Jean Laponce in 2006 vir Stellenbosch voorspel het.

Die grootste gevaar was en is steeds nie die regerende party nie, wat in 2002 die opsie van Afrikaansmedium as primêre voertaalmedium as beleid aanvaar het. In werklikheid was die grootste gevaar senior bestuurslede en senior akademici, wat omtrent almal self Afrikaansmedium onderrig ontvang het. Dit is hulle wat die keuse vir Engels as voertaal gemaak het ten einde uit ’n veel groter poel studente en dosente te kan trek en ten einde gesien te word as voorstanders van diversiteit en transformasie. Private onderrig in Afrikaans, veral op universiteitsvlak, mag die enigste opsie wees, maar daar is geen waarborg dat dit ’n mededingende plaasvervanger vir onderrig deur residensiële universiteite sal kan word nie. Gedurende die twintigste eeu het die opkoms van die Afrikaners as etniese groep en van Afrikaans as publieke taal groot aandag in die Westerse wêreld getrek. Die kans dat albei in die loop van die een-en-twintigste eeu kan verdwyn, is nie meer vergesog nie.

 

BIBLIOGRAFIE

Afriforum Youth 2014. "The Leon Wessels Report is a travesty", Politicsweb, posting of 1 July.         [ Links ]

Bekker, K. 2014. "Refuseniks, kreepy kraulies en studente", Volksblad, 11 Junie.         [ Links ]

Boshoff, C. 2013."Geld kan nie kultuur afkoop nie": Rapport Weekliks, 27 Oktober.         [ Links ]

Buys, F. 2014. "Die Groot Debat: Die teenstelling tussen Engelse liberales en Afrikaanse linkses", Maroela Media, 5 Augustus.         [ Links ]

Calland, R. 2005. "An Anatomy of Power", Mail & Guardian, 18-24 February.         [ Links ]

Cronjé, F. 2010. "Wittes floreer in die nuwe bedeling". Beeld, 25 Februarie.         [ Links ]

Davies, R. 2009. Afrikaners in the New South Africa: Identity Politics in a Globalised Economy. London: Taurus.         [ Links ]

Duvenhage, A. 2009. Die ANC en die nasionale demokratiese rewolusie: polities strategiese perspektiewe.Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 49(4):705-28.         [ Links ]

Finmark. 2009. "Trust report on Consumer Vulnerability Index, based on a study by Unisa's Bureau of Market Research" gerapporteer www.moneyweb.co.za, 24 July 2009.         [ Links ]

Filatova, I. & Davidson, A. 2013. The Hidden Thread: Russia and South Africa in the Soviet Era. Johannesburg: Jonathan Ball.         [ Links ]

Galloway, F. 2002. Statistical Trends in the South Africa Book publishing in the 1990s, Alternation, 9 (1). Gevisser, M. 2007. Thabo Mbeki: The Dream Deferred. Johannesburg: Jonathan Ball.         [ Links ]

Giliomee, H. & Schlemmer, L. 1999. The Proposed Future Language Profile of the University of Stellenbosch. Report commissioned by Prof. A.H. van Wyk, US Rector. December.         [ Links ]

Giliomee, H. & Simkins, C. (eds). 1999. The Akward Embrace: One Party-domination and Democracy, Cape Town: Tafelberg.         [ Links ]

Giliomee, H. & Lawrence Schlemmer et al. 2001. Kruispad: Die toekoms van Afrikaans as openbare taal. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Giliomee, H. & Schlemmer, L. 2006. 'n Vaste plek vir Afrikaans: Taaluitdagings op kampus. Stellenbosch: Sun Press        [ Links ]

Giliomee, H. 2009. The Afrikaners: Biography of a People, bygewerkte uitgawe, Kaapstad:Tafelberg. Giliomee, H. 2012. The Last Afrikaner Leaders: A Supreme Test of Power Charlottesville: University of Virginia Press.         [ Links ]

Government Communications. 2004. Government Communications and Information System. "Statement on Cabinet Meeting", 3 November.         [ Links ]

Grové, N. 2009. Teks van toespraak by FAK se 80ste verjaardag, 30 Oktober. Pretoria.         [ Links ]

Heugh, K.1999. Languages, development and reconstructing education in South Africa, International Journal of Educational Development, 19.         [ Links ]

Heunis, J.C. 2001. Opinion on the language policy of the University of Stellenbosch.         [ Links ]

Helpende Hand 2009 Reddingsdaadkongres 2009. Pretoria: Kraaluitgewers        [ Links ]

Jansen, J. 2013. Not even colonial born: England, the English and the problem of education in South Africa, Lesing vir die English Academy of South Africa, 18 September.         [ Links ]

Kapp, P. 2013. Maties en Afrikaans: 'n Besondere Verhouding, 1911-2011. Pretoria: Protea Boekhuis.         [ Links ]

Klopper, C. 2009. Brief van HUB van die SAOU aan Paul Cluver, Voorsitter van US Raad. 28 Oktober         [ Links ]

Kloss, H. 1977. The Unfolding of Afrikaans in its Germanic, African and world Context. Pietersburg: University of the North.         [ Links ]

Laitin, D. 1992. Language repertoires and state construction in Africa. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Laponce, J. 1987. Languages and their Territories. Toronto: University of Toronto.         [ Links ]

Leon, T. 2008. On the Contrary: Leading the Opposition in a Democratic South Africa. Johannesburg: Jonathan Ball.         [ Links ]

Lodge, Tom. 2006. Mandela: A Critical Life. London: Oxford University Press.         [ Links ]

Marais, P. 1996. Brief aan F.W. de Klerk en memorandum, US Manuskripversameling, H. Giliomee dokumente.         [ Links ]

Ponelis, F. 1999. "Afrikaans as a Language of Science" H.E. Wiegand (ed.) Sprache und Sprachen in Wissenschaft. Berlin: Walter de Gruyter.         [ Links ]

Rademeyer, A. 2014. "Skole verkies Engels in klas" Rapport, 23 Maart.         [ Links ]

Retief, H. 2014. "My lem is geslyp vir taal-misbruik", Rapport Weekliks,3 Augustus.         [ Links ]

Sadie, J.L. 2002. The Fall and rise of the Afrikaner in the South African Economy. Stellenbosch: US Annale, no 1.         [ Links ]

Schlemmer, L. 2001. "Taaloorlewing en die glybaan van goeie gesindhede: 'n Meningsopname en ontleding", in Giliomee & Schlemmer, reds., Kruispad: Die toekoms van Afrikaans as openbare taal. Kaapstad: Tafelberg, pp. 95 -117.         [ Links ]

Schlemmer, L. 2008. "Voorgraadse Studente op die Universiteit van Stellenbosch en die Taalbeleid: 'n Strategiese Meningsopname", April.         [ Links ]

Solidariteit, Helpende Hand, 2009. Reddingsdaadkongres. Pretoria: Kraal Uitgewers. Strategy and Tactics. 1997.         [ Links ]

Solidariteit, 2009. "Memorandum on the objects and motivations of the Employment Equity Amendment Bill.         [ Links ]"

Steyn, J.C. 2014. Ons gaan 'n taal maak: Afrikaans sedert die Patriot-jare. Pretoria: Kraal uitgewers.         [ Links ]

TV Plus 2014. "Noodsein vir SABC", 3-16 September .         [ Links ]

US Konvokasie, 2007. US Taalgesprek: Verantwoording van Konvokasie-handelinge oor taalkwessie, privaat uitgegee deur US Konvokasie.         [ Links ]

Van den Berghe, P. L. (ed.). 1979. The Liberal Dilemma in South Africa, London: Croom Helm.         [ Links ]

Van der Berg, S. 2003. Taalverskuiwing en Afrikaans: 'n Ontleding van die sensusdata, Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 43(3 & 4):177-87.         [ Links ]

Van Niekerk, A. A. 2012. "Op soek na identiteit: Die taaldebat op Stellenbosch". In: Ester, H., Van der Merwe, C. & Mulder, E. (reds.). Woordeloos tot verhaal: Trauma en narratief in Nederlands en Afrikaans. Stellenbosch: Sun Press, pp. 215-228.         [ Links ]

Van Zyl. J. 2013. "Maak dit 'n bate, eerder as 'n las". Rapport Weekliks, 27 Oktober.         [ Links ]

Wurm, S. 2002. Strategies for language maintenance and language survival. In David & Maya Bradley (eds). Language endangerment and language maintenance. London: Routledge, Curzon.         [ Links ]

 

 

Hermann Giliomee het aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer en het daar Geskiedenis gedoseer voor hy in 1982 'n pos van hoogleraar in Politieke Studies aan die Universiteit van Kaapstad aanvaar het. Hy skryf sedert 1998 voltyds. Onder sy boeke is The Afrikaners: Biography of a People (2003), Nog altyd hier gewees; Die storie van 'n Stellenbosse gemeenskap (2007), en The Last Afrikaner Leaders: A Supreme Test of Power (2012). Hy was redakteur, saam met Bernard Mbenga, van New History of South Africa/Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika (2007). Saam met Lawrence Schlemmer het hy twee boeke oor die taalkwessie geskryf: Kruispad: Die toekoms van Afrikaans as openbare taal (2001) en 'n Vaste Plek vir Afrikaans: Taaluitdagings op kampus (2006). In 2006 is hy deur die Konvokasie van Alumni verkies tot die Raad van die Universiteit van Stellenbosch. Hy het tot 2010 gedien.
Hermann Giliomee studied at the University of Stellenbosch and taught History there before accepting a chair in Political Studies at the University of Cape Town in 1982. Since 1998 he has been writing full time. Among his books are: The Afrikaners: Biography of a People (2003), Nog altyd hier gewees: Die storie van 'n Stellenbosse gemeenskap (2007), and The Last Afrikaner Leaders: A Supreme Test of Power (2012). He was editor, with Bernard Mbenga, of New History of South Africa/Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika (2007). Together with Lawrence Schlemmer he wrote two books about the language issue: Kruispad: Die toekoms van Afrikaans as openbare taal (2001) and 'n Vaste Plek vir Afrikaans: Taal-uitdagings op kampus (2006). From 2006 to 2010 he was an elected member of the Council of the University of Stellenbosch.
1 Hierdie artikel slaan hoofsaaklik op die Afrikaners, wat ek definieer as 'n groep mense wat almal insluit wat hulself as Afrikaners beskou, ongeag kleur of afkoms. Dit behandel ook die stand van Afrikaans wat gepraat word deur 'n groep twee keer so groot.
Onderhoude en E-pos kommunikasies
Eloff, T. 2014. 3 en 15 September.
Harris, M. 2014. 11 Augustus.
Heese, C. 2014. 11 Augustus.
Joubert, P. 2014.13 September .
Laponce, J, 2006, 12 Mei.

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons