SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.54 número4The contractual dimension of constitutions: new challenges for South Africa? índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.54 no.4 Pretoria dic. 2014

 

NAVORSINGS-  EN OORSIGARTIKELS

 

Afrikaans: Uitnodiging tot debat

 

 

In die eerste afdeling in hierdie uitgawe val die fokus op Afrikaans. Die outeurs het onafhanklik van mekaar artikels voorgelê waarin sowel die rykheid en veelkantigheid van Afrikaans (bloeiende letterkunde en verskeidenheid van taalvariëteite) as die toenemende druk waaronder Afrikaans as openbare en universiteitstaal verkeer ondersoek word. Hierdie artikels besin oor aktuele kwessies wat vra om ernstige nadenke oor onder meer vrae soos:

  • Troebel vooruitsigte vir Afrikaans (en die Afrikaners)?
  • Afrikaans as wetenskapstaal?
  • Herstandaardisering van Afrikaans?

Herman Giliomee skets die uitwerking van die verlies aan politieke mag en die transformasie van die staatsdiens op die Afrikaner, en wys ook op die verminderde (en steeds krimpende status van Afrikaans) na die politieke verandering in 1994. Sy volledige boekstawing en indringende analise van sosio-politieke gebeure en tendense die afgelope twintig jaar berus op die veronderstelling "dat Afrikaans se ondergang as openbare taal feitlik noodwendig ook tot die Afrikaners se verdwyning as 'n herkenbare gemeenskap sal lei". Die feit dat Engels die "de facto openbare taal" geword het, voorspel 'n "troebele toekoms":

Dit is nie meer vergesog om die moontlikheid te voorsien dat die Afrikaners as etniese groep en Afrikaans oor die medium termyn as openbare taal kan verdwyn nie.

In die volgende twee artikels word een aspek waarop Giliomee fokus, naamlik die status van Afrikaans as universiteitstaal, aanvullend belig. Elirea Bornman, Koos Pauw en Petrus Potgieter ontleed die houding van Afrikaanssprekende studente aan Unisa teenoor Afrikaans. Hulle bevind dat kennis of ondervinding van die voordele van moedertaalonderrig waarskynlik lei tot keuses ten gunste van moedertaalonderrig op tersiêre vlak. Jako Olivier, aan die ander kant, wys op die noodwendige toename van Engels op nagraadse vlak spesifiek op die PUK-kampus van die Noordwes-Universiteit. Die voordele van Engels op nagraadse vlak word opgeweeg teen die voortgesette gebruik van Afrikaans aan 'n hoëronderwysinstelling: "... die voordele wat moedertaalonderrig inhou, taaloordrag van vaardighede wat van 'n moedertaal na 'n addisionele taal plaasvind, die status wat Afrikaans (en ander tale) met betrekking tot Engels geniet, relevante navorsing met betrekking tot twee- en meertaligheid sowel as die kwessie van funksionele meertaligheid".

Hierdie twee referate vestig die aandag op die brandende kwessie rondom Afrikaans as universiteitstaal. Op 24 Julie het die S A Akademie vir Wetenskap en Kuns 'n konferensie in Pretoria aangebied waar 'n volle dag aan hierdie tema gewy is. Opsommings van die aanbiedings, asook toeligting by statistiese gegewens, sal as bylae in die Maartnommer van die tydskrif gepubliseer word.

Waar die veranderende status van Afrikaans as amptelike en wetenskapstaal in die eerste drie artikels belig word, is dit juis die aard en funksie van standaardtaal, dié variëteit wat normaalweg die status van amptelike en wetenskapstaal verkry, wat in die volgende twee bydraes geproblema-tiseer word. Ernst Kotzé ondersoek die siening van taal as besit van die Afrikaanse taalgemeenskap en bring dit in verband met die verskeidenheid van variëteite wat in die taalgemeenskap bestaan. Teen hierdie agtergrond fokus hy op die aard en funksie van standaardtaal "as (dikwels omstrede) variëteit en die vraag of die herstandaardisering van Afrikaans as regstelling van historiese gebreke in die standaardiseringsgeskiedenis oorweeg kan word". Die slotsom waartoe hy kom is dat herstandaardisering nie gelykgestel kan word aan demokratisering nie en dat daar "veel effektiewer en altematiewe wyses bestaan om sprekersvariëteite van Afrikaans tot hulle reg te laat kom". Vir Gerda Odendaal, in haar motivering van die noodsaaklike verruiming van Standaardafrikaans, as synde onverteenwoordigend van die totale Afrikaanse spraakgemeenskap, gaan dit egter nie net om die herdefiniëring van die taal nie, maar ook om die regstelling van politieke onregte wat in die taal self ingebed is. So beskou, impliseer herstandaardisering wel duidelik "die demokratisering van Standaardafrikaans sodat alle sprekers van Afrikaans wat aanvanklik by die standaardiserings-proses uitgesluit is, ook 'n tuiste in die standaardtaal sal vind en hulle daardeur bemagtig sal word".

Aspekte van sowel die standaard- as ander variëteite van Afrikaans word in die volgende drie artikels belig: van 'n hoogs gesofistikeerde uiteensetting van grammatikale aspekte van Standaardafrikaans (Adri Breed en Gerhard van Huyssteen), tot 'n pleidooi vir onderrig van die inklusiewe geskiedenis van Afrikaans (Ronel van Oort en Wannie Carstens) tot 'n analise van die uitbeelding van die natuurlike omgewing in die taal van die Karrretjiemense van die Karoo, soos dit uit Kirby van der Merwe se vertaling blyk (Susan Meyer).

In die lig van die bogenoemde analitiese bestekopname van en standpunte oor nie net Standaardafrikaans nie, maar ook ander sprekersvariëteite in die Afrikaanse taalgemeenskap bied Anton van Niekerk se "spreke en saamleef' 'n besonder toepaslike besinning oor "korrektheid en waarheid in Suid-Afrika se kultuurpolitieke diskoers". Alhoewel dit belangrik is om woorde versigtig te kies, omdat woorde saak maak, kies hy teen politieke korrektheid en vir die waarheid, sodat "wat verkeerd loop in die samelewing, [nie] verdoesel word deur wat ons sê en soms ook doen [nie]".

Navorsing oor Afrikaans in die eerste afdeling word aangevul met navorsing in Afrikaans in die tweede afdeling. 'n Mens kan sê, in plaas van besiegeling oor die voortbestaan van Afrikaans as wetenskapstaal demonstreer die artikels in hierdie afdeling oor uiteenlopende onderwerpe juis die veerkragtigheid van Afrikaans spesifiek as wetenskapstaal. Die onderwerpe wissel vanaf filosofie (Anné Verhoef en (in Nederlands) Natascha Kienstra, Machiel Karskens en Jeroen Imants), ekonomiese geskiedenis (Grietjie Verhoef), vervoerekonomie (Wessel Pienaar), filosofie van die opvoedkunde (Hannes van der Walt en Hennie Steyn), opvoedkundige sielkunde (Ronel Kleynhans en Martina Kotze; asook Douline Minnaar, Martie Poggenpoel en Chris Myburgh) tot leesonderrig (Linda Newman en Michael le Cordeur). Ook hier is ruim geleentheid vir debat oor insigte, metodologieë en standpunte oor 'n verskeidenheid temas.

Hiermee word dan 'n vriendelike uitnodiging aan navorsers gerig om in volgende uitgawes van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe op enige van die aspekte of standpunte kommentaar te lewer - hetsy by wyse van repliek en/of 'n eie volwaardige artikel.

Ina Wolfaardt-Gräbe
November 2014

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons