SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.54 número3Gebroke land: armoede in die afrikaanse gemeenskap sedert 1902 índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.54 no.3 Pretoria Set. 2014

 

IN MEMORIAM

 

Stefans Grové 1922 - 2014

 

 

Met die afsterwe van iemand uit die openbare kultuurlewe soos Stefans Grové op 29 Mei vanjaar word mens opnuut getref deur die haastige ywer, en gevolglike hulpeloosheid met die vind van die regte woord om reg te laat geskied. Dié toedrag van sake word nog verder aan bande gelê deur die feit dat sy werksaamhede geheel en al op 'n gebied geleë is waarvoor selfs kundiges - by gebrek aan volledige verstaan - meestal bloot ontsag kan hê. Die terrein van die inheemse kunsmusiek is meer nog as sustergebiede soos die letterkunde en beeldende kunste gehul in misterie en (weer eens) verwondering vir die abstrakte wêreld van artistieke visioene en die steeds raaiselagtige omsetting daarvan in klank.

Stefans Grové is gebore uit twee belangrike musikale stamme, die Vrystaatse Grové's en die Bolandse Roodes. Die jeugjare is dus gevoed deur ervarings in beide die Vrystaatse en Bolandse platteland, en die eerste komposisies dateer uit sy agste lewensjaar. Opleiding by die Roode-ooms in Bloemfontein sou hom voorlopig bestem as onderwyser in Klerksdorp. Sy vertrek na Kaapstad se Musiekkollege het sy lewe egter aansienlik verander. Onder die liefdevolle en begrypende leiding van prof. W. H. ("Daddy") Bell, en met die ondersteuning van vriende soos Charles Weich (destydse musiekresensent van Die Burger) kon hy in 1946 debuteer as komponis. Reeds in 1948 ontstaan een van sy treffendste komposisies, die Elegie vir strykers, wat deur Van Wyk Louw se Raka-epos geïnspireer is. Uitvoerings van jeugwerke in Salzburg sou die deurslag gee, en hom die eerste Suid-Afrikaanse veroweraar van die Fulbright-beurs maak, vir studie in die VSA (1953), met opleiding by deurlugtiges soos Walter Piston en Aaron Copland. Die studietyd het uiteindelik permanent geword, en sy werk as dosent aan die Peabody-konservatorium in Baltimore het gelei tot die gesogte Amerikaanse onderwystoekenning as Educator ofthe Year. Kontak met sy vaderland het egter nooit getaan nie, en Grové was byvoorbeeld tydens studieverlof in 1960 tydelike dosent aan die destydse Potchefstroomse universiteit.

Saam met Arnold van Wyk (1916-1983) en Hubert du Plessis (1922-2011) was hy verteenwoordigend van die eerste geslag Suid-Afrikaanse toonkunstenaars wat uiteindelik as die musikale teëbeeld van kunstenaars soos Pierneef, Van Wouw en Van Wyk Louw op wye artistieke aansien kon aanspraak maak. Sedert sy debuutkonsert in 1946 tot en met sy dood - 'n totaal van meer as sestig jaar - was Grové op die voorhoede van die plaaslike kunsmusiekproduksie. Selfs gedurende sy fisiese afwesigheid van sy vaderland gedurende sy verblyf in die VSA (1953-1972) het etlike groter werke ontstaan as gevolg van plaaslike belangstelling en komposisie-opdragte, veral deur bemiddeling van iemand soos Anton Hartman, in lewe een van die destydse SAUK se musiek-hoofde. Die indrukwekkende Vioolkonsert en Simfonie (beide uit die vroeë sestigerjare) is bewyse van 'n vertroue in sy artistieke meesterskap.

Die filosofiese diepte van sy visie en sy artistieke integriteit maak hom een van die sleutelfigure in Suid-Afrikaanse en Afrika-kunsmusiek. Die redes daarvoor is nou reeds geskiedenis: sy onverstoorbare estetika het geen toegewings aan luisteraarsvoorkeure gemaak nie, iets wat hy self meermale in soveel woorde uitgedruk het. Sy reaksie op tydgenote (plaaslik en elders) wat aan sulke druk toegegee het, is met uitgesproke minagting bejeën, en sulke pogings (wat veral plaaslik gedurende die tagtigerjare waarneembaar was) sou vanuit sy oogpunt omskryf kon word as artistieke verraad. Sy vaardigheid as komponis en sy unieke en omvattende stylbegrip het iets aan die wêreld gebied wat volgens destydse norme die eis vir oorspronklikheid en standhoudendheid op glansende wyse geslaag het. Dat hierdie estetiese houding noue ooreenkoms toon met sy destydse rolmodel Arnold Schönberg (1874-1951) se musikale ekspressionisme, moet sydelings vermeld word. Sy eie stempel is nietemin duidelik sigbaar, en daar kan in werklikheid van 'n verskeidenheid stilistiese fases sprake wees, waarvan die belangrikste die "eie stem" was wat sedert ongeveer 1966 vir 'n unieke welsprekendheid gesorg het. 'n Ensiklopediese kennis van sy vak is tot voordeel van 'n menigte toegewyde studente aangewend, en sy skeppings-werkywer was waarskynlik ongeëwenaard: Die eerste deel van 'n nuwe werk is 'n week voor sy dood voltooi.

Grové se laat-styl - sedert sy terugkeer na Suid-Afrika - is om verskeie redes nog meer betekenisvol as die Europees-Amerikaanse fase, en word oorhoofs gekenmerk deur die verwesenliking van 'n lang-gevoelde hunkering na sy geboorteland. Sy literêre vaardigheid (wat mettertyd ook by wyse van musiek- en restaurant-resensies sou realiseer) het byvoorbeeld in 1975 uiting gevind in kostelike Afrikaanse kortverhale wat vertel van nostalgie en jeugherinneringe.

As skeppende kunstenaar het hy hom nou ook geroepe gevoel om sulke gewaarwordinge in 'n musikale konteks te plaas. Die resultaat was uiteindelik 'n omvattende oeuvre van meer as veertig werke wat hy as die "Afrika-reeks" omskryf het. Alhoewel die artistieke kennisname van musiek uit die alledaagse sfeer (soos volksmusiek) geen onbekende in die 20ste-eeuse kanon is nie (die werk van uiteenlopende toonkunstenaars soos Bartók, Vaughan-Williams, Dvořak en andere sou genoem kon word), het Grové in 'n artikel (Standpunte 1952) 'n standpunt daarteen ingeneem, en as hoofrede die destydse politieke omgewing vermeld. In 1983 het hy van standpunt verander, en die Vioolsonate uit daardie jaar ("... op Afrika-motiewe") sou mettertyd aanleiding gee tot 'n uitgebreide oeuvre wat sy nuutgevonde artistieke uitdaging sou verklank. Hierdie musiek is 'n unieke samesmelting van verworwe Westerse musikale tegnieke en Afrika-materiaal, 'n unieke sintese van hierdie andersins soms onversoenbare wêrelde. Die titels (soos Lied van 'n ou vrou in haar hut..., Dans van die windgees, Vergadering van die oudstes, ens.), en die Afrika-fabels en -legendes vervat in hierdie groep komposisies suggereer nie slegs 'n formidabele fantasie nie, maar 'n spesiale liefde vir en vertroudheid met die kontinent waarvan hy 'n kind was, en reik terug na sy kinderdae in Bethlehem. Hierdie werkwyse het boonop reeds voor die politieke skeidslyn van 1994 beslag gekry, en het dus nie onder die dwang van latere modieuse politieke korrektheid ontstaan nie. Dat hierdie werkwyse nietemin beperkte artistieke toepassing sou hê, het ook intussen duidelik geword. Sedert die laaste jare van die 20ste eeu het Grové in toenemende mate sy skeppingstoevlug geneem tot wat hy sy "internasionale" styl genoem het. (Mens mag soortgelyke tendense ook by ander inheemse komponiste soos Kevin Volans waarneem.)

Hierdie Afrika-musiekstyl is wêreldwyd met geesdrif ontvang, en erkennings, soos ook plaaslike opdragwerke deur SAMRO, het nie uitgebly nie. Sy laaste voltooide werk, 'n dubbelkonsert vir klavier, tjello en orkes, word binnekort deur Anzel Gerber en Ben Schoeman uitgevoer. Benewens plaaslike erkennings deur die ATKV en die FAK is Grové een van 35 plaaslike musici wat sedert die stigting van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in 1909, vereer is vir sy unieke bydrae tot die kunsmusiek in Suid-Afrika. Hy is ook die enigste musikus wat reeds drie toekennings van daardie liggaam ontvang het: In 1997 is die Erepenning vir Musiek aan hom toegeken, en in 2008 het hy die enigste komponis ooit geword wat die Akademie se hoogste eerbewys, Erelidmaatskap, toegeken is. Tydens die vieringe van sy 90ste verjaarsdag in 2012 is hy in Bloemfontein weer eens deur die Akademie gehuldig, en 'n verdere Oorkonde van die Akademie is in November 2012 aan hom oorhandig. Die Junie-uitgawe (2013) van die Akademie se Tydskrif vir Geesteswetenskappe is in geheel aan die komponis gewy, en deels gebaseer op die Grové-simposium van 2012. Die publikasie is op 29 Junie 2013 tydens 'n spesiale seremonie aan die komponis oorhandig.

Die Suid-Afrikaanse kunsmusiekgemeenskap betreur die verlies van 'n begaafde, versiende, nederige en produktiewe gees. Ons huldig sy voortreflike nalatenskap.

Izak Grové
Stellenbosch
Junie 2014

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons