SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.54 número3The management of ordinary daily worries by primary school learnersStefans Grové 1922 - 2014 índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912

Tydskr. geesteswet. vol.54 no.3 Pretoria sep. 2014

 

BOEKBESPREKING

 

 

 

Titel: Goree, 'n drama
Skrywer: Adam Small
Vertaal deur Daniel Hugo
Uitgewer: Tafelberg
Resensent: Michael le Cordeur
'n Versetdrama oor óns taal, óns kerk en óns grond

Goree is reeds as radiodrama opgevoer, maar is vir die eerste keer gepubliseer net nadat Small besluit het om sy stilswye van 26 jaar te verbreek. In 'n onderhoud met Murray la Vita vertel Small waarom hy so lank stil was:

(Dit) was "oor apartheid natuurlik..., dit was die dae toe ek baie, baie bitter was.... Ek het later, soos ek ouer geword het, ... net besluit dat die bitterheid my nie sal onderkry nie; ek sal daar uitkom. En ek hét daar uitgekom" (Die Burger, 2013).

Baie mense kon nie verstaan waar die bitterheid vandaan kom nie. In die volgende bespreking probeer ek daardie vraag beantwoord.

Goree is 'n versetdrama, waarin Small sy eie verset teen apartheid verwoord. Dit word deur baie letterkundiges beskou as Adam Small se mees persoonlike werk. Volgens die uitgewer het die dramaturg dit self beskryf as "'n gefiksionaliseerde outobiografie". Die titel van die teks verwys na die plaas of "gehuggie" (11) buite Robertson waar Small grootgeword en sy pa vir die kinders van die "stowwerige plaaswerkers" (11) skoolgehou het. As onderwyser en skoolhoof is sy vader deur die bruinmense gerespekteer as "meester"(11), maar deur die wit plaaseienaar dikwels verkleineer (43). Die trefkrag van hierdie drama lê juis in hierdie intieme persoonlike gegewe en wys "hoe pynlik intieme verset en lojaliteit verstrengel is". Dié drama het reeds in 1978 in Engels verskyn as The Orange Earth (die rooi grond van Goree). Dít slegs twee jaar ná die opstande van die swart jeug op 16 Junie 1976 toe apartheid op sy ergste ervaar is.

Die inhoud van die drama beskryf die verset van 'n jong bruinman wat 'n tuisgemaakte bom (58) in 'n supermark plant waarin 'n vrou en 'n dogtertjie "van so ses, sewe" die slagoffers is (7). Hierdie daad is volgens die bruin man 'n daad van verset teen 'n regering wat hom en sy familie male sonder tal verneder het, maar in die oë van die vorige regering en staat is dit 'n terreurdaad, 'n aanval van "stedelike, donnerse terrorisme" (8). Hiervoor word hy verhoor en opgesluit. Dit bring weer eens die verstrengeldheid na vore: wanneer is jy 'n terroris en wanneer 'n vryheidsvegter? (Terloops, toe ek onlangs 'n huldeblyk geskryf het oor wyle Nelson Mandela, het die kommentaar in 'n Sondagkoerant elemente van albei bevat: sommige het Mandela vereer as die held van alle helde, terwyl ander steeds na hom verwys het as 'n terroris.) Daar is inderdaad 'n baie fyn lyn tussen reg en verkeerd; daarom is die verwysing in die hof na "so help my God" (11) baie betekenisvol. Ongeag wat die hof as reg of verkeerd gaan aanvaar, Johnny-hulle glo God is die finale regter wat die finale sê te sê het (20). Eintlik is reg en verkeerd twee kante van dieselfde muntstuk.

Die drama begin as die beskuldigde uit die staanspoor verklaar dat hy onskuldig is (10). Die regter wil weet wat sy naam is, waar hy vandaan kom, skoolgegaan het en aan watter kerk hy behoort; dus wie hy werklik is. Wat daarna volg, is 'n vertolking van Small se biografie: Hy is Johnny Adams, gebore op Wellington in die Boland. (Die van "Adams", is na hierdie skrywer se mening - wat terloops ook van Wellington af kom - nie toevallig nie. Small maak in meer as een werk gebruik van Wellingtonse vanne, bv. "Mr Cavernelis" in Krismis van Map Jacobs. Wellingtonners is dikwels ingetroud met mekaar. My ma was ook 'n Adams, en die Cavernelis-familie woon vandag steeds net 'n klipgooi van die Small- en Adams-families. Ook die uittelrympie: "een, twee, drie, vier, vyf, ses, sewe, om die hoek van Mameskewe..."(21) is 'n rympie wat ek as kind op Wellington geleer het.)

Daar word baie klem geplaas op die feit dat Johnny (dws Small) streng Calvinisties en Nederduits Gereformeerd (die Sendingkerk in die bruin gemeenskap) opgevoed is maar deur sy ouers na 'n Katolieke skool gestuur is (13). Alhoewel die skrywer self erken "Ek is Afrikaans", het hy uiteindelik aan 'n Engelse Universiteit moes studeer (13). Opmerklik hoedat die staatsaanklaer woorde in die beskuldigde se mond probeer lê om so sy punt te bewys: "Het u ouers gedink dit is verstandig dat hulle seun 'n ruimer wêreld leer ken?" Die jong man is egter nie op sy mond geval nie: "(My pa) was nie bevooroordeeld nie, nie bekrompe nie, . hy wou hê dat ek ook die ander kant van 'n werklikheid sal sien" (12).

'n Tweede en dalk selfs belangriker rede in die konteks van die drama is die feit dat die spreker erken die volgende is belangrike woorde in sy lewe:

...al was ek Afrikaans, en al wou ek na 'n Afrikaanse universiteit gaan, was dit nie toegelaat nie" (14).

Hoe ironies dat ons vandag bruin Afrikaanse studente smeek om na wit Afrikaanse universiteite te gaan ter wille van laasgenoemde se behoud.

Die verhaal ontvou as die aangehoudene tydens die verhoor en sy "verblyf" in die tronksel met behulp van terugflitse in 'n voortdurende gesprek tree met homself, sy verlede, en daardie persone wat tot 'n groot mate sy identiteit en sy verset bepaal het: sy vrou en sy pa. Die drama wentel ook om die gesprek - in werklikheid 'n konfrontasie - in die tronksel tussen homself en die vriendelike tronkbewaarder (p.15, e.v.), na wie hy elders ook as die Wit bewaardertjie (53) verwys. (Sy manier om die wit mense terug te betaal vir alles wat hy aangedoen is.) Deur net met 'n gevangene te praat, stel die bewaarder homself bloot aan vervolging omdat dit destyds " ...'n ernstige oortreding" (14) was waarvoor hy in die tronk gestop kon word (15) of sy werk kon verloor (54).

Die leser kry ook 'n kykie na hoe daar met politieke gevangenes gewerk is in die tronk: Afgesien van die aanhoudende ondervraging, was daar die eensame opsluiting en elektriese skokke. Hulle (die owerhede) sou jou soms doelbewus opsluit saam met geharde misdadigers en die gevangenes is dikwels blootgestel aan verkragting (17). Die wins van hierdie drama lê daarin opgesluit dat die aangehoudene en bewaarder tot die besef kom dat hulle verdeel én saamgesnoer word deur omstandighede wat nie net buite hul beheer is nie, maar boonop hul onderskeie identiteite bepaal. Alhoewel albei Calvinisties opgevoed is (20) is daar steeds só baie wat hulle by mekaar kan leer (en moet leer). Die leser kom agter hoe min die tronkbewaarders eintlik weet van die land, die politiek en die mense wat hulle moes oppas. Vir hulle was almal wat nie gedoen het wat die staat verlang het nie, 'n "terroris" of 'n "kommunis" (23). Die verskil tussen die twee sou hulle waarskynlik nooit begryp nie. Hul enigste taak was om die politieke gevangenes op te pas sonder om te veel vrae te vra en hul enigste antwoord was dikwels: "ek weet nie man" (23).

Vervolgens word die leser bekend gestel aan Johnny se vrou, Brenda, ook bekend as Babie (uitgespreek as Baby), met wie Johnny al sewentien jaar getroud is (24). Die egpaar het een kind, 'n dogter met die Moesliemnaam Djamila. (In die Wes-Kaap, soos ook in Wellington, is die Moesliems- en Christengelowe dikwels ingetroud met mekaar, daarom is dit nie vreemd dat een of meer van die gesin Moesliemname sal hê nie. In my ma se geval het vier van die kinders Kris-name (Christen) en drie het Moesliemname. Small self is die produk van so 'n familie: sy moeder was Moesliems en sy vader Christelik gereformeerd.)

Wat daarna volg, is tonele wat wissel tussen Johnny en Babie se slaapkamer en Babie wat in die getuiebank staan. Uit die inligting wat uit die twee tonele na vore kom, kom die leser agter dat Babie baie graag nog 'n kind ('n seun) wou hê (28) maar nie Johnny nie (26). Die aanklaer trek hierdie informasie uit Babie, en skend in die proses haar en Johnny se private slaapkamerlewe. Hy wil bewys dat Johnny gekant is teen nog 'n kind omdat die staat se beleid van apartheid reeds vir Djamila verbitterd gemaak het (30); dat Johnny bang is dieselfde sal met 'n volgende kind ook gebeur (31). Die staat wil juis aanvoer dat hierdie bitterheid die rede was vir Johnny se terreurdaad om die bom te plant.

Vir die leser wat in die jare sestig, sewentig en tagtig onder apartheid gely het, (soos ook hierdie skrywer) bring Goree al die slegste herinneringe terug: toe Djamila gebore is, is Babie "in die hospitaal nie soos 'n mens nie, maar soos 'n kleurling behandel" (31). Johnny wonder opnuut hoe witmense hulself Christenmense kon noem terwyl hulle die bruin- en swartmense soos tweede- en derdeklasburgers behandel het (32). Hoe kan mense van jou verwag om aan jouself as 'n landsburger te dink as jy reeds by geboorte soos 'n plaasdier "met jou velkleur" gebrandmerk word. Want Johnny moes omloop agtertoe om sy kind by die "kleurling-counter" te registreer (33). Op dié manier teken jy jou eie kind weg om in jou eie land "lewenslank in 'n tronk gestop te word" (32). Die tronk van 'n donker vel. Hierdie metafoor herinner baie aan die woorde van SV Petersen in Bede (1944):

Laat dit dan wees, o Heer, dat ek/ 'n duisend jaar gelee teen God en mens gesondig het/ dan weet ek tog, dis u besluit,/ die vloekstraf van 'n donker huid.

Die debat in die drama tussen reg en verkeerd en die kompleksiteit daarvan verdiep wanneer Johnny se pa, Jan, in die getuiebank kom. Die leser maak kennis met Johnny se broer, Georgie, wat as lid van Die Kaapse Korps (60) en as 'n "Kleurling" op die grens geveg het. Anders as 'n witman wat vir sy land sterf (ons sal lewe, ons sal sterwe, ons vir jou Suid-Afrika) glo Johnny sy broer het gesterf "vir bleddiewil niks" (39), en word hy onthou as 'n "sell-out" (59).

Small raak weer die vermenging van die Moesliems en Christene aan. Sy ma was 'n "mooi, Moeslim-meisie" wat sy pa se geloof aangeneem het (42). In hulle huis het hulle die Bybel en die Koran gelees (40). Ook die taalkwessie drup van bitterheid. Ons verneem dat sy ma altyd vir hulle mooi stories voorgelees het in Afrikaans, Bolandse Afrikaans noem die skrywer dit (55). Die leser verneem van die spreker se renons in "die liewe, wit Jesus van die Kinderbybel?" Hierop kan Babie slegs antwoord: "Here, maar jy's bitter", en hý wat reageer met "Soos my dogter, né?"

Maar die groot vernedering sou nog kom. Ironies ook in Afrikaans. Die dag toe sy "trotse pa" en sy "Oosterse mamma" na die wit plaashuis gegaan het om meel te vra sodat Mamma "brood kon bak vir die nagmaaldiens". Toe gebeur dit: daardie afskuwelike (Afrikaanse) woorde uit die "boervrou" (43) se mond:

"Adams, sê vir jou meid dis reg so. Sy kan agterom gaan en die meel kry" (43).

Die woorde het diep seergemaak. Woorde wat sy trotse pa verneder het, maar hy moes stilbly. Woorde wat sy mooi ma verkleineer het, maar sy moes die minste wees. Woorde in Afrikaans. Ons taal. Johnny se taal, Mamma en Pappa se taal. Georgie se taal, my taal. Die regter se vraag reg aan die begin van die drama: Waarom dan 'n Engelse universiteit as Afrikaans julle huistaal is (15) word uiteindelik beantwoord. Johnny se weiering om nog 'n kind te hê, is ook nou duidelik. Jy verstaan meteens Djamilla se bitterheid.

Daar is geen regverdiging vir die dood van 'n onskuldige vrou en dogtertjie nie, maar minstens kan die leser nou begin verstaan waarom 'n bom in die supermark. Dis Afrikaanse en Christenmense wat die Adams-gesin so verneder het. Johnny was kwaad vir witmense, verbitterd oor apartheid maar magteloos om iets daaraan te doen. Hy wou uitroep: Pappa waarom sê jy nie hulle en hulle God moet na die hel vlieg nie. Hy kon seker "en hulle taal" bygevoeg het.

Teen die einde wroeg hy vir oulaas oor sy mense, die bruinmense, die plaaswerkers. Nee, korrigeer hy homself, slawe wat heeldag handearbeid in die skroeiende son verrig totdat hulle begin hoes van die tering weens die swak eetgewoontes en die dopstelsel.

Uiteindelik begrawe sy pa hulle, daar in die Bolandse grond. Die rooi grond van Goree buite Robertson. En hulle bid. Bid vir die Christelike boere wat hulle soos slawe behandel. En hulle sing: "Bly by ons heer". Johnny en sy mense worstel steeds met God, 'n God wat al hierdie leed en pyn toelaat (49-50).

Sondae het hulle kerk gehou en gebid en gesing. Met God gepraat deur hulle Pappa, want God het hulle tog geskape, uit die rooi grond soos by Goree. Daarom het hulle áánhou praat, deur Pappa, want hoef hulle nie vir God Baas te noem nie (50).

En dis hoekom hy die bom geplant het. "Omdat hulle jou verneder het?" wil die regter weet. "Jou hele lewe lank verneder" antwoord Johnny (52). Totdat jy gereduseer word tot slegs 'n nommer (55). 'n Nie-mens.

In Goree beeld Small die naakte, aaklige waarheid van apartheid uit soos selde tevore. Maar al is Goree na my mening een van die kragtigste dramas in Suid-Afrika, het dit nog nie die hoogtes bereik waartoe dit in staat is nie. Die drama se sterkpunt is dat dit oorspronklik in Engels gepubliseer is as 'n vorm van verset deur die dramaturg teen die Afrikaner se beleid van apartheid. Dit is terselfdertyd ook 'n swakheid. Want ek glo dat indien Goree in 1978 - toe apartheid hoogty gevier het - in Afrikaans verskyn het, sou dit veel groter impak gehad het; dit sou selfs Small se ander groot werk, Kanna, verby kon steek. Daar is natuurlik ook die gevaar dat Goree verban kon word toe apartheid nog regeer het. Maar dit sou die impak juis vermenigvuldig het: almal wil altyd 'n werk lees wat verban is om vir hulself uit te vind: waarom?

Melding moet ook gemaak word van die uitmuntende vertaling deur Daniel Hugo.

Dit gaan hier om óns taal, óns kerk en óns grond. Dis 'n drama oor apartheid waar een groep Afrikaanssprekendes 'n ander groep Afrikaanssprekendes in die taal wat hulle deel, beledig en verneder het. Juis daarom is dit só betekenisvol dat hierdie drama nou in Afrikaans gepubliseer word. Sodat mense kan verstaan as bruinmense begin om die taal vaarwel te roep. Jy besef opnuut hoe ver vooruit Small, die filosoof, sy tyd was: hoe sou hy reeds in 1978 kon weet dat ons vandag, 36 jaar later, steeds sou worstel met die vraagstuk van taal en veral die stryd tussen Afrikaans en Engels as onderrigtaal op Universiteit wat nou so aan die orde van die dag is? Lees maar die voorblaaie van vandag se koerante. Daarom is ek van mening dat hierdie drama vir studente op universiteit en matriekleerders op skool voorgeskryf behoort te word.

Ek gaan dit vir seker vir my studente op Stellenbosch voorskryf.

Michael le Cordeur
Fakulteit Opvoedkunde, Universiteit van Stellenbosch
mlecorde@sun.ac.za

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License