SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.54 número3J.S. Bach's Passacaglia and Walter Benjamin's Das Passagen-Werk - literary montage as mosaic in Memorandum. A story with paintings (2006)The management of ordinary daily worries by primary school learners índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.54 no.3 Pretoria sep. 2014

 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS

 

Traumaverwerking in Krog se Kleur kom nooit alleen nie*

 

Trauma Processing in Krog's Kleur kom nooit alleen nie [Colour Never Comes Alone]

 

 

Marisa Botha

Departement Taal en Letterkunde, Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit, Port Elizabeth, marisa.botha@nmmu.ac.za / marisa@webafrica.org.za

 

 


OPSOMMING

Hierdie artikel ondersoek die terapeutiese waarde van poësie skryf in die verwerking van trauma.3 Daar word gefokus op Antjie Krog se digbundel Kleur kom nooit alleen nie (2000), veral die afdelings "Wondweefsel" en "Bindweefsel" met verse oor die Anglo-Boereoorlog, apartheid en die Rwandese volksmoord. Krog se rol as sekondêre getuie tydens die Waarheids- en Versoeningskommissie kom onder die loep en daar word gekyk na hoe sy haar eie trauma van die WVK-verhore verwerk, asook wat die nagevolge is van haar deelname daaraan (wat Laub noem "hazards of listening"). Daar word ook verwys na die geskenk van stories (getuienis) en die verantwoordelikheid van die sekondêre getuie om hulle etiese plig te vervul en daardie stories ook aan ander mee te deel, sodat diegene wat gesterf het, kan voortleef in herinneringe.

Trefwoorde: Antjie Krog, Kleur kom nooit alleen nie, Afrika, gedigte, traumaverwerking, traumatiese geheue, sekondêre getuie


ABSTRACT

Although Antjie Krog established her South African literary reputation as a poet who writes in her mother tongue Afrikaans, she gained world recognition for her English autobiographical text, Country of My Skull (1998), in which she wrote about her experiences as a radio journalist reporting on South Africa 's Truth and Reconciliation Commission. Subsequently she continued publishing in English, but only after writing an Afrikaans volume of poetry in 2000, Kleur kom nooit alleen nie [Colour Never Comes Alone], in which she attempts to reconnect with her mother tongue and in doing so, initiates the healing process of a fractured psyche. Throughout Krog's oeuvre she has struggled with her identity as a white Afrikaans speaker with liberal beliefs during the era of apartheid. Her complicated relationship with her privileged, Afrikaner past and the role her race and even her language, Afrikaans, played during the apartheid era exacerbates her guilt and complicity in past atrocities.
In Kleur kom nooit alleen nie [Colour Never Comes Alone] the reader undertakes a physical and psychological journey along with the poet in her aim to reconcile her ideology with the horrendous human rights violations witnessed during the TRC testimonies. One of the main themes in Kleur kom nooit alleen nie [Colour Never Comes Alone] is reconciliation - the reconciliation of people who were previously separated by race, class and political ideology.
This article examines the therapeutic value of writing poetry in the processing of trauma. The focus is on Kleur kom nooit alleen nie [Colour Never Comes Alone], especially the second and fourth sections, "Wondweefsel" ["Wound Tissue"]and "Bindweefsel" ["Connective Tissue"] with verses on the Anglo Boer War, Apartheid and the Rwandan genocide. Krog 's role as secondary witness at the Truth an Reconciliation Commission hearings is examined, as well as her experience of trauma, and the consequences of her (or any other secondary witness's) participation. Dori Laub refers to these consequences of witnessing as "hazards of listening". Reference will also be made to traumatic memory, the processing of trauma, the gift of stories (testimony) and the responsibility of the secondary witness to fulfill her ethical duty to act as guardian of these narratives and share them with others, so that those who had died can remain alive in memory.

Key words: Antjie Krog, Kleur kom nooit alleen nie [Colour Never Comes Alone], Africa, poems, trauma processing, traumatic memory, secondary witness


 

 

Trauma11. Wond. 2. Abnormale toestand v.d. liggaam deur uitwendige besering veroorsaak. 3. Plotselinge, hewige geestesaandoening wat 'n langdurige steurnis teweegbring.

My story is a gift. If I give you a gift and you accept that gift, then you don 't go and throw that gift in the waste basket. You do something with it.

- Assembly of First Nations2

 

1. INLEIDING

Daar is reeds uitgebreid geskryf oor Krog se identiteitswroeginge4 ten opsigte van 'n persoonlike-, groep- en Afrika-identiteit.

Indien die leser die Krog-oeuvre as 'n geheel beskou, dan is dit ooglopend dat die skepping van 'n identiteit (self) nie slegs 'n toestand van "wees" is nie, maar (soos reeds deur literêre kritici aangetoon) 'n volgehoue eksperiment in wording.

Die verskeie selwe van Krog die digter/skrywer, politieke aktivis, eggenote, moeder en vrou word deur die dekades op papier en in die werklikheid gekonstrueer deur haar soektog, soos enige ander mens, na betekenis. Sy verwoord hierdie nimmereindigende proses in die gedig "boot" as 'n geestesgesteldheid "nie van wees nie / maar word / baie worde" (2000:99). Identiteitsvorming en die konstruksie van die self binne en buite die teks is 'n dinamiese proses - altyd in wording, maar nooit afgerond nie.

Ek beoog om voort te bou op dié onderwerp deur aandag te skenk aan die terapeutiese waarde van die skryf van gedigte in die verwerking van trauma met spesifieke verwysing na twee van Kleur kom nooit alleen nie se afdelings, naamlik "Wondweefsel" en "Bindweefsel".

Een van die hooftemas in Kleur kom nooit alleen nie is versoening. Versoening tussen mense wat voorheen geskei was deur ras, klas en politieke ideologie. Taljard5 (2006:143) merk op dat een van Krog se "versoeningstrategieë" haar gebruik van "taal en spesifiek poësie" is, waardeur sy poog om versoening te beding. Dit sluit ook aan by Stuit en Jansen (2011:54) se artikel oor die gedigtesiklus "land van genade en verdriet", waarin hulle poneer dat Krog met hierdie verse die gevolge van versoening ondersoek deur te fokus op kwessies van skuld, ruimte, taal en die begeerte om nuut (oor) te begin en terselfdertyd die problematiek daarvan benadruk.

Reeds in die talle resensies6 oor Kleur kom nooit alleen nie, word die aspekte van versoening, trauma en heling uitgelig, sowel as later in verskeie artikels wat die lig gesien het. Aansluitend by die proses van traumaverwerking, merk Viljoen (2002:46) op: "As gewetensvolle Afrikaanse skrywer toon sy met hierdie bundel haar volgehoue betrokkenheid by die prosesse van transformasie in Suid-Afrika waardeur die trauma van die verlede verwerk moet word".

1.1 Trauma

Trauma is, soos die definisie boaan hierdie artikel aandui, eerstens 'n wond. Dit beteken dan ook letterlik "wond" in die oorspronklike Grieks. Die term kan ook dui op 'n "abnormale" toestand van die liggaam, dus 'n besering, veroorsaak deur 'n uitwendige gebeurtenis. Benewens die fisieke betekenisse van "trauma", beskryf die term ook psigiese verwonding wat meteens kan plaasvind, maar waarvan die gevolge mens lank kan bybly ("plotselinge, hewige geestesaandoening wat 'n langdurige steurnis teweegbring").

'n Trauma is nie 'n gebeurtenis nie. Dit is die emosionele respons tot daardie ondervinding. Indien die emosionele reaksie positief is, dan is die ervaring nie traumaties nie - al is die besonderhede van daardie ervaring angswekkend. As voorbeeld kan mens dink aan die vertoning van 'n gruwelfilm of 'n besoek aan 'n karnaval spookhuis - die sintuiglike ervaring kan dalk nagmerrieagtig wees, maar indien mens nie 'n negatiewe emosionele reaksie beleef nie, is die ervaring nie traumaties nie.

Emosionele en psigologiese trauma is die gevolg van buitengewone spanningsvolle gebeure wat mens se gevoel van sekuriteit ondermyn en die persoon gevolglik met gevoelens van angs en weerloosheid laat in hul (nou gevaarlike) omgewing. Traumatiese ondervindings word nie bepaal deur objektiewe feite nie, maar eerder deur die betrokkene se subjektiewe emosionele ervaring daarvan. Trauma is dus 'n emosionele reaksie op 'n enkele gebeurtenis of herhalende gebeure.

In Country of My Skull verwoord Antjie Krog telkemale die sielkundige eis wat die verslaggewing van die Waarheids- en Versoeningskommissie van haar verg. Die sielkundige impak van luister na die getuienisse beïnvloed haar taalvermoë (1998:37): " [...] reporting on the Truth Commission indeed leaves most of us physically exhausted and mentally frayed. Because of language". Sy begin om te hakkel en haar, voorheen ruim, woordeskat word aangetas. Die kommissie stuur selfs 'n berader om die joernaliste toe te spreek (1998:37): "You will experience the same symptoms as the victims. You will find yourself powerless - without help, without words".

Die gevoel van hulpeloosheid is, soos genoem, een van die kenmerke van 'n traumatiese ervaring. Namate die verhore voortgaan, vererger Krog se simptome wat haar later liggaamlik aantas (1998:49): "My hair is falling out. My teeth are falling out. I have rashes. After the amnesty deadline I enter my house like a stranger. And barren. I sit around for days. Staring".

In die bedankings agterin Country of My Skull7 word verskeie mense bedank vir hul hulp en ondersteuning tydens die skryfproses, maar dit is veral die bedanking van Allan Colam en Merwede van der Merwe wat binne die konteks van 'n traumabespreking opval (1998:294): "[...] who helped me mentally and physically through a breakdown".

In haar artikel oor Johanna Van Warmelo en Krog se outobiografiese tekste, merk Jansen (1998:122) tereg op: "Trauma-psychologen zullen hen 'secondaire slachtoffers' noemen. In hun teksten spelen zij zelf de hoofdrol". Indien daar gekyk word na die fisieke en psigiese eis op Krog tydens en na die Waarheids- en Versoeningskommissie verhore, dan is sy inderdaad 'n "sekondêre slagoffer". In my bespreking sal Krog se rol as sekondêre getuie egter ondersoek word.

1.2 Die sekondêre getuie

Dit is van belang om te let op die verskil tussen die sleutelbegrippe "witnessing" (as getuie waarneem) en "testimony" (getuienis lewer) aangesien dit die grondslag vorm van die verhoudings-dinamika tussen die getuie (ook genoem eerstehandse getuie, traumagetuie, verteller, oorlewende) en die sekondêre getuie (tweede persoon, luisteraar).

In die psigoanalitiese model van trauma-getuienis, soos beskryf deur Shoshana Felman en Dori Laub in hulle seminale studie Testimony (1992), is die rol van die sekondêre getuie in tweeledige getuienislewering van kardinale belang, want "it takes two to witness the unconscious" (1992:15). Volgens Laub (1992:57) is die ontstaan van die narratief (getuienis), wat gehoor en na geluister word, dus die proses en die plek waar die kennis, die "weet" ("knowing") van die gebeurtenis in die lewe geroep word. Die luisteraar is gevolglik teenwoordig by die skepping van kennis van nuuts af ("de novo"). Vandaar word die luisteraar van die trauma 'n deelnemer en 'n mede-eienaar van die traumatiese gebeurtenis: "through his very listening, he comes to partially experience trauma in himself" (Laub 1992:57).

Die luisteraar se deelname en mede-ervaring van die oorlewende se verhaal is belangrik, want dit omvorm die traumatiese gegewens tot getuienis. Die luisteraar behou egter sy of haar eie perspektief en word dus nie self 'n slagoffer nie. Daar is egter gevare betrokke by die luisterproses, waarna Laub verwys as "hazards of listening" (1992:72), wat die luisteraar sal ervaar in die uitvoer van sy of haar rol as die getuie tot die trauma getuie. Die luisteraar moet dus tegelyk getuie tot die trauma getuie wees en 'n getuie tot hom- of haarself. Laub (1992:58) verduidelik die rede vir hierdie dualiteit as volg (my kursivering):

It is only in this way, through his simultaneous awareness of the continuous flow of those inner hazards both in the trauma witness and in himself, that he can become the enabler of the testimony - the one who triggers its initiation, as well as the guardian of its process [...]

Die rol van die sekondêre getuie as bewaker van die trauma getuie se narratief beklemtoon die luisteraar se verantwoordelikheid tot die eerstehandse getuie om hulle verhaal na reg te laat geskied. Na aanleiding van die aanhaling van 'n Eerste Nasie storieverteller (boaan hierdie artikel), is die gedeelde verhaal (getuienis) dus 'n geskenk. Indien mens daardie geskenk aanvaar, gooi jy dit nie weg nie. Dit is jou plig om iets produktiefs daarmee te doen ("My story is a gift. If I give you a gift and you accept that gift, then you don 't go and throw that gift in the waste basket. You do something with it").

Whitlock verwys na die sekondêre getuie as die "second person". Sy benadruk dat die "tweede persoon" ("second person"), wat wesenlik is vir die getuieniskontrak, die getuie word, en sodoende die ervaring en trauma van die eerste persoon bevestig (2001:200).

Vir Caruth is die appèl van trauma se "huilende wond" ("crying wound") verteenwoordigend van 'n etiese aanspraak van die ander aan die self wat aandring op 'n luister en 'n reaksie ("demands a listening and a response", 1996:9).

Dit is gebiedend noodsaaklik dat 'n empatiese luisteraar teenwoordig moet wees by 'n getuienis, aangesien (Laub 1992:68 in Butler 2013:12): "the absence of an empathic listener, or more radically, the absence of an addressable other, an other who can hear the anguish of one's memories and thus affirm and recognize their realness, annihilates the story". Hiervolgens lei Butler (2013:12) af dat die waarneming van 'n getuie tydens 'n getuienis onder meer 'n inter-subjektiewe proses behels: "Witnessing in these terms is an intersubjective process that is productive of a specific set of relations between others". Verder is dit ook 'n uitwisseling wat individue en gesamentlikes ("collectives") saambind deur die vertel en aanhoor van getuienis. Dit is 'n fundamenteel ongelyke verhouding, soos Butler (2013:12) tereg uitlig, maar ongelukkig is dit die getuienisplatform wat mens in die samelewing vind. Spivak voer aan: "testimony is the genre of the subaltern giving witness to oppression, to a less oppressed other" (1998:7 in Butler 2013:12). Haar kommentaar is veral pertinent in die ruimte van Waarheids- en Versoeningskom-missies en verslae oor menseregteskendings wat saamgestel word deur die veroweraar.8

Oliver meen dat die proses van getuie wees nie slegs die subjek en die ander saambind nie, maar dat dit ook dien as 'n proses van subjektivering waardeur die subjek onderskei ("differentiated") en geproduseer word as 'n sosiale agent slegs deur hul onverwagte ontmoeting met andersheid ("otherness"). Volgens Butler (2013:12) is Oliver se studie om die verhouding tussen die self en die ander te heroorweeg deur die verwerping van "erkenning" ("recognition") assimilerend en inherent vernietigend, en deur die ontwikkeling van 'n idee van die getuienis waarneming ("witnessing") as die sleutel tot 'n meer menslike en etiese toekoms anderkant geweld (Oliver 2001:18). Daarom: "if we are selves, subject, and have subjectivity and agency by virtue of our dialogical relationships with others, then we are not opposed to others. We are by virtue of others" (Oliver 2001:18 in Butler 2013:12). Aangesien die subjekposisie van die sekondêre getuie egter gewoonlik aan hulle 'n kulturele en politieke owerheid bied wat in wanverhouding staan tot dié van die trauma getuie, moet die sekondêre getuie tors wat Oliver noem 'n "responseability", dus 'n "reaksie-vermoë" (en verantwoordelikheid) om te luister en gepas op te tree (2001:18 in Butler 2013:13). Hierdie nosie van die sekondêre getuie se etiese plig teenoor die trauma getuie word, soos genoem, gedeel deur ander belangwekkende teoretici soos Laub (1992), Caruth (1995, 1996) en Whitlock (2001).

Caruth beweer dat "the language of trauma, and the silence of its mute repetition of suffering, profoundly and imperatively demand [...] [a] new mode of reading and of listening" (Caruth 1996:9 in Craps 2010:52), wat ons sou toelaat om vry te kom uit die isolasie wat op beide individue en kulture deur traumatiese ervarings opgelê word (Craps 2010:52).

Volgens Caruth (1995:11) mag trauma dalk, in 'n katastrofiese tyd soos ons s'n, die skakel tussen kulture voorsien. Craps (2010:53) voer aan dat met trauma as 'n brug tussen uiteenlopende historiese ervarings, aldus Caruth se argument, die aanhoor (luister) van 'n ander se trauma - wat vir Caruth 'n vertrek of afskeid van jouself behels - kan bydra tot kruis-kulturele solidariteit en tot die skepping van nuwe vorme van gemeenskap.

Trauma kan wel moontlik as 'n brug tussen kulture dien, maar daar moet in gedagte gehou word dat die aanhoor van getuienis nie sonder risiko vir die luisteraar is nie. Vir die luisteraar wat die getuieniskontrak onderteken, is daar gevare (Laub 1992:72):

As one comes to know the survivor, one really comes to know oneself; and that is not a simple task. The survival experience [...] is a very condensed version of most of what life is all about: it contains a great many existential questions, that we manage to avoid in our daily living, often through preoccupation with trivia.

Die luisteraar kan nie langer pertinente lewenskwessies vermy nie, soos van verganklikheid; tydverloop; van die betekenis en doel van die lewe; van die grense van 'n mens se almag; van die verlies van beminde kinders; die groot vraag van ons uiterste eensaamheid; ons andersheid van enige ander persoon; ons verantwoordelikheid teenoor en vir ons noodlot; die vraagstuk oor die perke van liefhê; van ouers en kinders; en dies meer (Laub 1992:72).

In Kleur kom nooit alleen nie is dit veral in die gedigtesiklus "land van genade en verdriet" (2000:3744) waarin hierdie soort lewensangste verwoord word. "[W]aar gaan ons heen van hier?", vra Krog oor Suid-Afrikaners en die land na afloop van die WVK-verhore. Sy is bewus van die realiteit van sake (en ervaar hulle dalk ook meer intens aangesien sy intiem betrokke was by die getuienisse as sekondêre getuie): "soveel verwonding vir waarheid / soveel verwoesting / so min het oorgebly vir oorlewing" (2000:37). Sy bevraagteken ook die tydperk wat dit gaan verg voor daar werklik versoening tussen alle Suid-Afrikaners plaasvind: "hoe lank duur dit? / hoe lank vir 'n stem / om 'n ander te bereik / in dié land so bloeiende tussen ons" (2000:37).

1.3 Traumatiese geheue en traumaverwerking

Die volgende belangrike komponent van hierdie studie is die verhouding tussen trauma en geheue en die wyse waarop genesing kan plaasvind wanneer hierdie traumatiese gebeure in 'n narratief gerangskik word. Geheue is die vermoë om wat gebeur te onthou en te reproduseer. Die konsep van 'n "trauma narratief" en die rol wat dit speel in verminderde ("diminished") geheue word deur Van der Merwe en Gobodo-Madikizela as volg verduidelik (2008:vii):

Traumatic events, especially if they remain unacknowledged, continue to disempower victims, and intensify the feelings of shame and humiliation that are part of the legacy of trauma and its internalisation. This "internal" dimension of trauma is an important one: while the source of trauma may be external, the recurrent effects of trauma, and the impairment of the memory function [...] are primarily reflections of an inner breakdown of the self [...].

Hulle verduidelik dat "indringende herinneringe", wat veroorsaak dat 'n slagoffer9 of oortreder die trauma herleef, die mees ontstellende kenmerke is van die nadraai van trauma. Slagoffers en oortreders van trauma voel hulpeloos wanneer hulle gedagtes oorstroom word met hierdie indringende en fragmentariese herinneringe aan die traumatiese gebeurtenis(se). Vir die genesingsproses om te begin, moet die volgende veranderinge plaasvind: "the restoration of the self and the reclaiming of one's sense of control of memory, of the capacity to reflect, understand, and to perceive things as they are or were, requires transformation of traumatic memory into narrative memory" (Van der Merwe en Gobodo-Madikizela 2008:vii, my kursivering).

Narratiewe geheue is toeganklik gedurende die skryfproses wanneer die slagoffer die outeur van sy of haar eie verhaal word. Deur die rangskikkingsproses van hulle ervarings in narratiewe vorm, besluitende op 'n begin, middel en einde, is hulle as't ware besig om hulle lewens terug te eis. Dit geld ook vir voorheen benadeelde persone wat hul stemme wil voeg tot die metanarratief van die Suid-Afrikaanse geskiedenis, soos by die WVK-verhore.

Krog (1998:16) bepeins of die WVK mense se persepsies, stories, mites en ervarings gaan benut om geheue te herstel en sodoende 'n nuwe mensdom bevorder.10 Viljoen (2000:40) merk op dat Krog bewus is van die terapeutiese waarde van stories vertel, want sy het een van die afdelings in Country ofMy Skull getitel: "We tell stories not to die of life". Die terapeutiese waarde van verhale word ook deur Krog uitgelig in die gesamentlike teks, There was this Goat -lnvestigating the Truth Commission Testimony of Notrose Nobomvu Konile (2009), wat sy saam met Nosisi Mpolweni en Ratele Kopano onderneem het (2009:19, my beklemtoning):

We listen to one another's stories so that we share carrying the truth. But we also listen to stories in order to become, for one brief moment, somebody else, to be somewhere we've not been before. We listen to stories in order to be changed. At the end of the story we do not want to be the same person as the one who started listening.

Ná Krog in Country of My Skull wegbeweeg van die bekende wêreld van haar Afrikaanse verlede en haar digkuns, deur in Engels te skryf, keer sy twee jaar later terug na haar wortels in Kleur kom nooit alleen nie. In die bundel soek Krog na taal11 om haar gebrutaliseerde en gefragmenteerde psige na heling te lei. Dié taal vind sy in die Richtersveld by mense wat nog 'n dialek van argaïese Afrikaans praat.

Krog orden ook haar narratief in Kleur kom nooit alleen nie. Haar oorlewering van gebeure word deur middel van 'n reis voorgestel van die Richtersveld tot in Noord-Afrika, asook deur die mediese motto voorin die digbundel wat dui op die wond van trauma en uiteindelik op die genesing (met letsels) daarvan aan die bundelslot.

In 'n Ander tongval vertel Krog van haar reis na die Richtersveld "om asem te haal in die bergwoestyn - die stilste plek op aarde" (2005:275). Die innerlike konflik tussen Krog-die-joernalis en Krog-die-digter word verwoord in haar vrees dat dit nie doenlik is om meer in Afrikaans te dig nie (2005:273, my kursivering):

Na soveel jare van stemme opneem en transkribeer, na soveel jare van pynlike getuienis voor die Waarheidskommissie en politieke retoriek in die parlement, had sy geen benul of sy nog hoegenaamd 'n poëtiese reël kan skryf nie. Het sy nog die stem wat van nêrens af in haar opkom, of het dit lankal padgegee? Of het sy haarself omskep in 'n tweederangse prosaskrywer met poëtiese aspirasies? Het sy nog iets soos haar eie stem, of het die jare van napratery haar verwring tot 'n blote spreekbuis? Wat sal sy in haarself hoor, as alles totaal stil is rondom haar?

Van der Merwe en Gobodo-Madikizela (2008:ix) beklemtoon die helende potensiaal van narratiewe skryf waardeur die skrywer katarsis kan vind deur die uitdrukking van onderdrukte pyn en die leser moontlik met die gebeure in die narratief kan identifiseer en dus ook 'n mate van psigiese genesing ervaar. Aangesien trauma gekenmerk word deur 'n verlies van plot, kan die traumatieseervaring nie onmiddellik "vertaal" word in die verhaalstrukture van ons geestelike geheue ("mental memory") nie. Tog, voer Van der Merwe en Gobodo-Madikizela (2008:ix) aan, kan literêre skrywers nuwe narratiewe bedink waardeur die traumatiese geheue van lesers plaasvervangend ("vicariously") uitgedruk kan word, sodat hulle 'n katarsis kan ervaar. Literêre verhale kan ons help om ons traumas te konfronteer, om aan die lig te bring wat onderdruk is; dit stel ook nuwe sinvolle lewensmoontlikhede voor in 'n veranderde wêreld (2008:ix).

Krog se rol as sekondêre getuie tydens die WVK-verhore word deur onder meer Ross12 as 'n vanselfsprekende gebeurtenis gesien - as een van die kommissie se doelstellings ten einde versoening in die land te bewerkstellig.

Krog is bewus van haar plig as getuie, asook die rol wat geheue in oorlewering speel, en verwoord dit soos volg (2005:160): "Die eerste plig van geheue is om die woorde te vind om getuienis te lewer, die tweede is om te probeer verduidelik wat gebeur het, dan is dit tyd vir reiniging en, uiteindelik, om die woorde in suurstof te omskep".

Geheue word ook telkemale deur die digbundel genoem,13 maar die noemenswaardigste is seker in die gedig "griots" (2000:89): "die grein van die woord is 'n kultuur van genade / ons is die skrynwerkers van geheue". Hiermee beklemtoon sy die taak van die digter om merkwaardige gebeure in menseheugenis te behou, dus 'n lewendige geheue wat voortspruit uit die orale kultuur teenoor 'n tradisionele geskrewe geskiedenis wat dui op 'n nasionale (argivale) geheue.

Wanneer 'n oorlewende of sekondêre getuie poog om hul trauma in verhouding tot die res van hul lewe te plaas ten einde perspektief te verkry wat sal bydra tot die genesingsproses, is dit van belang om 'n verhaallyn vir hul narratief te skep. Van der Merwe en Gobodo-Madikizela (2008:2) maak die stelling dat ons ons lewens ondersoek om sentrale temas en patrone te vind wat deurdring tot ons uiteenlopende ervarings - patrone wat sin sou kon maak van die lewe as 'n verskeidenheid van "verordenings" van herhalende temas. Die ontdekking van 'n verhaallyn stel ons in staat om te onderskei tussen belangrike en onbelangrike gebeure: "The discovery of a plot and of recurring thematic patterns enables us to distinguish between the significant and the insignificant. Significant events are those that have a strong influence on the plot and form part of fundamental patterns in the narrative" (Van der Merwe en Gobodo-Madikizela 2008:2). Herhalende temas en patrone sluit ook aan by die beplanning en skryf, soos in Krog se geval, van 'n digbundel.

As deel van traumaverwerking bied poësieterapie 'n paar moontlikhede. Die term poësieterapie word omskryf as die gebruik van tekste (soos poësie, literatuur, dramas, kortverhale, sprokies, artikels, tydskrifte, films, lirieke, media) as kommunikasiemiddels tydens terapiesessies (Kleyn 2011:130131). Daar word onderskei tussen die "lees van bestaande tekste (wat die kliënt se identifisering met die gevoel of inhoud van 'n teks ten doel het [...])" en die "kliënt se kreatiewe deelname deurdat hy/sy eie gedigte skep/skryf" (Kleyn 2011:131). Daar is ook 'n "aanmoedigings-waarde" vir kliënte wanneer "bekende en/of gevestigde skrywers se werk gebruik word" (Kleyn 2011:131). Dit is veral hierdie laaste opmerking wat moontlikhede bied vir die lees van Krog se sekondêre getuienis as hulpmiddel vir ander trauma oorlewendes.

In gesprek met Murray La Vita openbaar Krog wat die digkuns vir haar beteken en hieruit kan afgelei word waarom veral poësie in haar geval vir traumaverwerking nuttig is (2011:8889, my kursivering):

Wanneer jy bésig is daarmee dan kom jy agter dat al jou... alles wat jy is, maak skielik volledig sense. Jy funksioneer op 'n manier, ek dink, soos 'n topatleet. Jy kom net agter al die dinge wat eintlik van jou 'n probleem maak in die samelewing - dit het alles net plek en dit funksioneer. So jy maak as 'n wése sin uit dit, ten spyte van die feit dat dit nie noodwendig 'n maklike proses is nie. Jy wil altyd terugkeer daarnatoe. Jy wil dit altyd terúghê. Daai wat jy kan wees. 'n Mens het selde daai gevoel.

So dit het te maak met wees en met oorlewing.en met malfunctioning oralster behalwe in daai momente.

Dis nie eintlik dat jy alles sal versaak daarvoor nie, dis eintlik, sou ek sê, dat alles jóú versaak op 'n manier. Behálwe dít.

 

2. WONDWEEFSEL: SUID-AFRIKA

Politieke struwelinge gaan dikwels gepaard met geweld soos verbeeld in "dagboeke uit die begin van die twintigste eeu" (2000:2930) en "dagboeke uit die laaste deel van die twintigste eeu" (2000:3236). Krog lê verbande tussen die Anglo-Boereoorlog konsentrasiekampe en die gruwels wat tydens die apartheidsjare plaasgevind het. Hier word die Suid-Afrikaanse geskiedenis weergegee in gedigreekse wat blyk uittreksels uit vrouekampdagboeke te wees en narratiewe uit die getuienis voor die Waarheids- en Versoeningskommissie, maar dit is veral die universaliteit van lyding en smart wat hier uitgelig word en daardeur bou Krog 'n metaforiese brug tussen hierdie gebeure en die mense wat daardeur geraak is.

Olivier (2000:13) merk op dat die gedigte in die tweede afdeling ly onder 'n "wroegende politieke stem". Ek stem nie hiermee saam nie, dit is juis die digter se persoonlike betrokkenheid by die WVK-verhore, met haar kennis van fyn besonderhede oor die menseregteskendings, wat lei tot treffende verse. Vergelyk onderskeidelik die trefkrag van byvoorbeeld "3" (2000:29) en "8" (2000:30) uit die Anglo-Boereoorlogdagboeke en "6" (2000:34) uit die WVK-getuienis:

kry maaiers

kry kewers

stukkies glas

vishoek

en

ek het veertien kiste gesien

drie per graf begrawe

op die grafhoop staan bottels met die name van die dooies

teenoor

hulle sleep hom aan sy bene soos 'n hond

hulle skraap sy brein in 'n gat in die grond

hulle trap dit vas met hulle stewels

dit was helder oordag

en stikdonker

dit hou nooit op in my hart nie

dit kom altyd terug

dit vreet my uitmekaar

Sonnyboy, rus in vrede my kind

ek vertaal jou vir vandag uit die dood

Met die eerste oogopslag blyk dit dat die vers uit die WVK-getuienis, met grafiese beelde van geweld, 'n sterker reaksie by die leser ontlok. Dit is egter nie werklik die geval nie, want indien gekyk word na die fragmentariese beelde en gestrooptheid van die konsentrasiekampverse, is hulle net so treffend soos dié uit die WVK-narratiewe. Krog slaag daarin om hierdie getuienisse uit die kampdagboeke en die WVK-verhore op so 'n wyse aan die leser weer te gee dat die leser self ook 'n sekondêre getuie word.

Die digter se verdigting of "vertaling" soos sy daarna verwys van die ongeregtighede tydens die apartheidsjare suggereer haar persepsie van kollektiewe skuld, maar beklemtoon veral haar persoonlike helingsproses deur stem te gee aan die slagoffers, veral die ontslapenes.

In die eerste vers van die gedigsiklus "dagboeke uit die begin van die twintigste eeu" word die ellende van lewe binne 'n konsentrasiekamp uitgebeeld, maar spesifiek die hoë aantal sterftes. Die vers sluit af met die ek-spreker se besef dat sy 'n naasbestaande se lyk herken in die lykhuis (my kursivering): "jou roes vlegsel het ek vir 'n oomblik sien hang" (2000:29). Die beeld van 'n meisie met 'n vlegsel word herhaal in die laaste vers van die gedigsiklus "slaapliedjies vir Ntombizana Atoo" (2000:83, my krusivering):

dogtertjie met vlegsels en parmantige nekkie

dis jy wat sing-sing die paadjie afdig.

ek sien jou!

Waar die vlegsel oorspronklik dui op verlies in die konsentrasiekamp, word dit in die Rwandese vers simbolies van hoop, spesifiek vir 'n beter toekoms, want die spreker sien die dogtertjie sangerig gediggies opmaak. Dit is betekenisvol dat die eerste vers oor die Anglo-Boereoorlog en die laaste gedig oor die Rwandese volksmoord bymekaar aansluit deur die beeld van 'n vlegsel. 'n Vlegsel word gevorm deur dele saam te vleg en dui op daardie manier op enigheid - dus 'n versoenende beeld tussen die ellende van die Afrikanergeskiedenis met die einde van die gruwelike massamoorde in Rwanda. Dit is ook noemenswaardig dat 'n Afrikaanse digter dit beklemtoon dat sy die Rwandese kind sien ("ek sienjou!"), hierdie erkenning van die ander se bestaan ('n gedeelde empatie) is op sigselwers 'n versoenende gebaar tussen rasse.

Na die totstandkoming van Suid-Afrika se demokrasie skryf Krog oor dié land se politieke toestand in die teks, The Healing of a Nation? (1995). Sy vergelyk die leed van Boere- en swartgesinne aan die hand van die Britse weermag tydens die Anglo-Boereoorlog (18991902) met die lyding van veral swartmense gedurende die apartheidsjare dekades later. Sy vaar uit teen Brittanje wat nooit skuldbelydenis erken of vergifnis gevra het vir die menseregteskendings wat hulle aan die begin van die twintigste eeu in Suid-Afrika gepleeg het nie. Sy maak die kontroversiële stelling dat indien die Britte verantwoordelikheid vir hulle dade geneem het, die formulering van basiese menseregte moontlik deel van ons landsgeskiedenis sou geword het, en daarvolgens sou die sienswyse dat swartmense, net soos witmense, regte het ten minste 'n debatspunt geword het, indien nie noodwendig op daardie stadium aanvaar nie (1995:114). Brittanje se onwilligheid om 'n standpunt in te neem oor hulle troepe se wangedrag tydens die Anglo-Boereoorlog, het 'n hiaat in Suid-Afrika se historiografie gelaat, wat as een van die katalisators gedien het vir die vorming van 'n Afrikaner ideologie:

British abuses against women and children were recorded by the Afrikaners but never officially acknowledged or condemned by the British. Thus the tales of the war did not become part of an ethos relating to how people should behave towards one another. Rather, they became a folklore supporting the notion of Afrikaners as a threatened group and a belief that any behavior, however outrageous, was acceptable if it fostered their survival. (Krog 1995:115)

Krog se siening van die verlede het meriete. Dit is moontlik dat 'n WVK-proses aan die begin van die twintigste eeu waarin die Britte skuld erken, vergifnis vra en poog om versoening te bewerkstellig, 'n impak sou hê op latere politieke gebeure, maar dit is gedane sake en dit is onmoontlik om nou te bepaal of dit wel sake sou verander het. Krog verwys egter weer na die idee van skuldbelydenis, sodat dieselfde foute nie weer herhaal moet word nie, in die laaste vers van "land van genade en verdriet". Die digter se vers hou verband met die apartheidsjare, maar dit sluit ook aan by haar stelling oor Brittanje se destydse gedrag (2000:44):

(maar as die oue nie skuldig is nie

nie skuld bely nie

kan die nuwe natuurlik ook nie skuldig wees nie

en nooit voor stok gekry word

as hy die oue herhaal nie

alles begin dus van voor af aan

dié slag anders ingekleur)

In Kleur kom nooit alleen nie, is dit van belang dat "roofsonnet" (2000:31) tussen die gedigsiklusse van die Anglo-Boereoorlog konsentrasiekampe en die apartheidsgruwels gesitueer is, want dit verbind menslike lyding wat byna 'n eeu uit mekaar plaasgevind het. Die titel verwys na genesing ("roof") en suggereer nie slegs heling in hierdie aparte bevolkingsgroepe se trauma nie, maar ook in hul verhouding tot mekaar (2000:31):

die litteken van die oë

is die wond van die liggaam

'n deurletselde liggaam

 

[...]

 

maar vel kom net een maal [...]

vel groei nooit onbepaalbaar horisontaal nie

daarom bring letsels altyd kleur

 

littekens kom oral voor behalwe in been

as skelet bly ons die langste mens

daar waar ons dieselfde is, gaan ons die moeilikste tot niet

Die "litteken van die oë" is 'n referensiële verwysing na die vorm van die oog of lyn van die ooglid wat soos 'n "wond" nie genees (toegroei) nie, asook op die kwesbaarheid van hierdie orgaan. Op metonimiese vlak dui die beeld op die gruwels wat buite aanskou word deur mens se sig, en terselfdertyd weerspieël hulle innerlike emosie (die gesegde lui: "die oë is die vensters van die siel"). Die reëls "maar vel kom net een maal [...] / daarom bring letsels altyd kleur", het betrekking op die digbundel titel, Kleur kom nooit alleen nie. Hierdie digreëls dra by tot die meerduidige titel wat ook verwys na kleur (onder meer velkleur) wat gepaardgaan met psigiese letsels (verwonding). Die slot lewer implisiete kommentaar op versoening, menswees en beklemtoon dat mense onder hulle onderskeie velkleure, identiese skelette het: "daar waar ons dieselfde is, gaan ons die moeilikste tot niet" (2000:31).

Die kopbeen is die prominentste en herkenbaarste deel van die menslike skelet en simboliseer dood en gevaar. Al hierdie skelet-motiewe lei terug na gewetenswroeging, soos in "land van genade en verdriet" nommer "3." (2000:38, my kursivering):

wat sê 'n mens?

wat de hel dóén 'n mens

met dié drag ontkroonde geraamtes, oorsprong, skande en as

 

die land van my gewete verdwyn sissend

soos 'n laken in die donker

Dié vers skakel direk met Krog se deels-outobiografiese deels-joernalistieke teks, Country ofMy Skull wat vertaal kan word as "Land van my kopbeen" met al die konnotasies van skuld en gewete wat daarmee gepaardgaan. Die gekursiveerde reëls verskyn oorspronklik in Country of My Skull (1998:130): "And behind me sinks the country of my skull like a sheet in the dark".

In die teks omskryf sy haar dringende behoefte om die traumatiese gebeure neer te pen. Sy beklemtoon ook haar rol as getuie en oorlewende om die getuienis oor te vertel, sodat dit nie in vergetelheid sal verval nie (1998:27):

Beloved, do not die. Do not dare die! I, the survivor, I wrap you in words so that the future inherits you. I snatch you from the death of forgetfulness. I tell your story, complete your ending.

Die gruwels in Kleur kom nooit alleen nie is 'n manifestasie van haar ervarings as joernalis tydens die WVK-verhore. Die getuienisse word mettertyd deur Krog geïnternaliseer en word dan weer verwerk deur die skryf van haar narratief in verse, waarin die psigiese genesing progressief uit die bundelafdelings af te lees is. Sy wroeg egter deurentyd oor die misbruik van die pyn van ander om haar eie lyding te verminder as sekondêre getuie by die gruwelike menseregteskendings, maar terselfdertyd besef sy dat sy hulle storie moet vertel (Krog 1998:49):

No poetry should come forth from this. May my hand fall off if I write this. So I sit around. Naturally and unnaturally without words. Stunned by the knowledge of the price people have paid for their words. If I write this, I exploit and betray. If I don't, I die.

 

3. BINDWEEFSEL: AFRIKA

Gillie Bolton verduidelik die sielkundige waarde van skryf as terapie, veral in die formaat van gedigte (1999:120):

The therapeutic value of poetry writing is far more than just the catharsis of the initial outpouring of writing. Reworking can bring insight and consolidation. The redrafting of poetry is a powerful, deeply thoughtful process of attempting to capture the experience, emotion, or memory as accurately as possible, in apt poetic words and images. Writing can be worked on in a way neither speech nor thought can, because it leaves foot-prints on the page, it stays there in the same state as when it was written.

Dit kan hierdie terapeutiese waarde wees wat Krog gedryf het om 'n gedig oor die volksmoord van die Toetsies deur die Hutu's in April 1994 in Rwanda te skryf. Die tema van geweld waar een groep 'n ander uitdelg soos in die konsentrasiekampe, die apartheidsjare en in die politieke gedigte word herhaaldelik benut. Teenoor die tema van geweld staan die tema van genesing, asook dié van die digter binne 'n sosio-politieke konteks. Die naak-gewelddadigste gedig is "klaaglied" (2000:7778) oor die Rwandese volksmoord. Die vers kan ook in terme van universaliteit verstaan word, soos Taljard (2006:158) wys deur ooreenkomste tussen die vers en die kunswerke uit te lig.14 Hierdie intertekste "verbind die gedig aan universele wanhoop en aan oorloë en hulle verskrikking oral ter wêreld" (Taljard 2006:158).

Ondanks die naakte geweld in hierdie gedig, is dit Krog se voortreflikste gedig geskryf binne die orale tradisie se bepalings. Daar is die herhaling van die gruwelike refreine, alliterasie ("draf die dood"), 'n musikaliteit aan die versreëls en die beeld van die dood wat telkens herhaal word. Die liriese kwaliteit van die gedig kom paradoksaal voor teen die ontstellende van die massamoord met pangas.

Hierdie gedig kan as universeel gelees word weens die temas van geweld, verlies en lyding, maar ook as intens persoonlik omdat daar 'n pleknaam en datum onderaan die gedig ingesluit is, "(Kigali/Butare, Junie 2000)". Die insluiting, en oorvleueling, van hierdie materiaal in 'n Ander tongval versterk die outobiografiese pakt tussen skrywer en leser, aangesien dit die gegewe verifieer as (meesal) feitelik. Vergelyk die volgende gedeelte wat byna 'n woordelikse vertelling15 van diepoëtiese gegewe van "klaaglied" is (2005:168):

Wanneer die bus terugry deur die donker plantasies, is dit asof ons kan sien hoe maklik die dood deur hierdie velde kon draf, sonder 'n geluid, sonder 'n ritseling, net af en toe 'n skielike metaalknipgeluid. Die dood draf langs die voetpad, in voetsool en kraakbeen draf die dood, een godlose nag in April.

Tot 'n lang ingehoue skreeu uitskree.

Een het gestruikel, 'n ma met haar kind wat in haar bekken ingekap is, hier is 'n ander een met 'n pienk broekie in haar dybeen ingekeep, 'n string krale hang oor haar vlerkdun bladbeen, babas verbrysel tot 'n turksvymoes. Die geraamtes met verstarde gebare. Elke ledemaat afgewend, elke skedel ontwykend, elke arm versin sy eie stilte. Driehonderd en dertig elke uur vermoor.

Die suiwer Afrikaans soos "pienk broekie", "dybeen" en "bladbeen" word in die gedig "klaaglied" (2000:7778) omskryf as "ligpienk panty", "femur" en "skapula", wat in die eerste geval die leser se aandag vestig op die weerloosheid van die kind en ten tweede skakel die mediese terme met die bundelmotto uit die mediese handboek, "Wondherstel is die herstel van die integriteit van beseerde weefsel", sowel as met die afdelingtitels ("Mondweefsel", "Wondweefsel", "Bind-weefsel"). Die mediese terme skep ook afstand tussen die gegewe en die leser en selfs digter, veral indien mens in ag neem dat Krog besig is om deur trauma te werk:

geruisloos draf die dood deur die donker

draf die dood die kapperende, dolwende dood

(daar's gister en môre, maar nou is ondraaglik)

deur voetsool en kraakbeen druis dood deur die donker

dis die gouddonker hart van Rwanda

op 'n godlose nag in April

 

die lank ingehoue skreeu skreeu

 

uit vrees, uit waansin, uit skuimende angs

val gekaptes in omhelsings van bloed

'n ma met 'n kind aan haar pelvis gekap

'n ligpienk panty in die femur gekerf

oor 'n vlerkdun skapula druip 'n stringetjie krale

'n baba tot turksvymoes in 'n vysel gekap

elke ledemaat wéér

elke tong draai weg

elke arm ontdek alleen haar stilte

In hierdie gedig word gruwels van die mensdom gekondenseerd aan die leser voorgehou, sodat elke woord eis om gelees te word. In koerante word nuuswaardighede in prosa weergegee en lesers, na jarelange blootstelling meesal nou gedesensitiseer vir geweld, lees dikwels bo-oor die gewelddadige dele. Teenstellend met hierdie algemene toedrag van sake word die leser onkant betrap deur die digvorm met treffende visuele en gedetailleerde beelde van geweld, wat haar dwing om enduit te lees. Die limiete van welvoeglikheid word dalk hierdeur getoets, maar dit is die digter se manier om aan die leser 'n boodskap van meegevoel te bring (2000:81):

ek lê my wang teen jou

en wil in jou inblaas

gee om

gee om

Taljard (2006:156) maak die stelling dat dit die "terapeutiese waarde van openhartigheid oor die afskuwelike/abjekte is dat dié handeling die moontlikheid skep om trauma te begin verwerk". Sy skakel die uitbeelding van die afgryse met die Kristeviaanse teorie van die "apokaliptiese lag" (1987:3651) wat daarop dui dat inhibisie van emosies aanleiding gee tot groter trauma. Die "apokaliptiese lag" wat die "wellus van die beskrywing van naakte gruwel op karnavaleske wyse" uitdruk, bring egter bevryding (Taljard 2006:156).

In "slaapliedjies vir Ntombizana Atoo" (2000:7983) word die gebeure van die Rwandese volksmoord verder uitgebrei deur verwysings na vigs (as gevolg van oorlogverkragtings), koeëls (wapens wat dui op sterftes) en geweld (2000:81).

Dit is van belang dat die "slaapliedjies" opgedra is aan 'n meisie om haar te troos te midde van onbeskryflike trauma en dat Country of My Skull ook opgedra is aan vroue: "For every victim who had an Afrikaner surname on her lips". Hierdeur openbaar Krog 'n geslagtelike (gender) sensitiwiteit, asook bewustheid van die (addisionele) geweld teenoor vroue (en hulle liggame) in ons samelewing, veral ten tye van politieke onrus. Ntombizana Atoo kan dui op 'n werklike persoon, maar terselfdertyd is sy verteenwoordigend van alle kinders, veral dogters, wat gereken word as indirekte skade in 'n grootmensoorlog. Die digter benadruk dat sy as sekondêre getuie die meisie se leed raaksien en haar ook wil troos: "voeg jou skouerblaaie soos vlerkies bymekaar / en tors die wanhoop / lief ding ek is so ná aan jou" (2000:82).

 

4. SLOT

Die getuienis wat gelewer is by die Waarheids- en Versoeningskommissie van 1994 tot 1996 het 'n blywende indruk op Krog gelaat. Na die publikasie van Country of My Skull (1998) waarin sy haar eie sekondêre getuienis, sowel as dié van trauma getuies, verwerk en deel met die wêreld, skryf sy die digbundel Kleur kom nooit alleen nie (2000). Daar is heelwat oorvleueling tussen die tekste wat suggereer dat sy steeds gekwel is deur die hartverskeurende getuienis wat sy vroeër aangehoor het. As digter trek sy parallelle tussen die ongeregtigheid van apartheid en die onreg wat geskied het tydens die Anglo-Boereoorlog. Sy plaas dagboeke uit die begin en laaste deel van die twintigste eeu (2000:2936) naas mekaar om die lyding tydens die Anglo-Boereoorlog en dié tydens die apartheidsjare te vergelyk. Deur implisiete kommentaar beklemtoon sy die universaliteit van geweld en leed wat nie beperk word deur kleurgrense nie. Sy skryf ook oor ellende in die res van Afrika, spesifiek Rwanda waarin honderde duisende mense gesterf het in 'n burgeroorlog in 1994.

Die leser is deurentyd bewus van Krog se rol as sekondêre getuie: by die Anglo-Boere-oorlogverse het sy waarskynlik vrouekampdagboeke gelees, by die apartheidsgedigte blyk dit dat sy die narratiewe weergee wat sy as verslaggewer by die WVK-verhore opgeneem het en by die Rwandese verse, "klaaglied" en "slaapliedjies vir Ntombizana Atoo" waar sy onderaan die een vers haar persoonlike betrokkenheid aanteken deur haar besoek (of minstens die busrit) in die nabygeleë omgewing aan te dui: "(Kigali/Butari 2000)". Benewens die verwerking van haar eie trauma deur die skryf van hierdie bundel, reik sy ook uit na die leser en vervul sodoende haar etiese plig teenoor die oorlewendes, sy skryf: "ek lê my wang teen joue / en wil in jou inblaas / gee om / gee om" (2000:81).

Na Kleur kom nooit alleen nie, publiseer sy nog tekste waarin sy haar posisie in Suid-Afrika, maar ook as mens, ondersoek te midde van die letsels wat gelaat is deur die verlede se wandade: A Change of Tongue (2003) met die oorspronklike Afrikaanse weergawe 'n Ander tongval (2005), Begging to Be Black (2009), maar dit is veral in There Was This Goat - Investigating the Truth Commission Testimony of Notrose Nobomvu Konile (2009) waarin sy uitsluitlik weer fokus op die Waarheids- en Versoeningskommissie, en spesifiek op een vrou se getuienis ('n projek wat reeds in 2004 gekonseptualiseer is, nie lank na die publikasie van die tweede deel van Krog se outobiografiese drieluik nie).

In hierdie artikel is verskillende aspekte van traumatologie ondersoek (trauma, traumaver-werking, traumatiese geheue, die sekondêre getuie, trauma getuie) ten opsigte van Krog se ervarings soos dit in Kleur kom nooit alleen nie, weergegee word. Die vraag is of Krog wel 'n mate van psigiese genesing ervaar deur haar narratief as poësie neer te pen en dit blyk wel die geval te wees. Sy verklaar onomwonde in een van die voorlaaste bundelverse ("rivier" 2000:98): "dit ruim / dit ruim uiteindelik / in my desperaat varende hart".16

 

BIBLIOGRAFIE

Assembly of First Nations. 1994. Breaking The Silence: An Interpretive Study of Residential School Impact and Healing as Illustrated by the Stories of the First Nations Individuals. Ottawa, Canada: Assembly of First Nations Health. Commission.         [ Links ]

Bolton, Gillie. 1999. 'Every Poem Breaks a Silence That Had to Be Overcome': The Therapeutic Power of Poetry Writing Author(s). Feminist Review 62, Contemporary Women Poets, Summer: 118-133.         [ Links ]

Boraine, A. & Levy, J. (eds). 1995. The Healing of a Nation?. Cape Town: Justice in Transition.         [ Links ]

Butler, Kelly Jean. 2013. Witnessing Australian Stories: History, Testimony, and Memory in Contemporary Culture. New Brunswick, New Jersey: Transaction Publishers.         [ Links ]

Caruth, Cathy. 1995. Trauma: Explorations in Memory. Baltimore: Johns Hopkins University Press.         [ Links ]

Caruth, Cathy. 1996. Unclaimed Experience: Trauma, Narrative, and History. Baltimore: Johns Hopkins University Press.         [ Links ]

Chew, Dalglish. 2012. Accounting for Language: Narrative Ethics and Economic Reparations in Antjie Krog's Country of My Skull. Safundi Vol. 13 (1-2): 91-114.         [ Links ]

Coetzee, Carli. 2001. 'They Never Wept, the Men of my Race': Antjie Krog's Country of my Skull and the White South African Signature. Journal of South African Studies 27 (4): 685-696.         [ Links ]

Craps, Stef. 2010. Wor(l)ds of grief: Traumatic memory and literary witnessing in cross-cultural perspective. Textual Practice 24(1): 51-68.         [ Links ]

Felman, Shoshana & Dori Laub. 1992. Testimony: Crises of Witnessing in Literature, Psychoanalysis, and History. New York & London: Routledge.         [ Links ]

Garman, Anthea. 2009. Antjie Krog, Self and Society: The Making and Mediation of a Public Intellectual in South Africa. Johannesburg: University of the Witwatersrand, Unpublished Doctoral Thesis.         [ Links ]

Human, Thys. 2009. "Te hel met heling, Niggie!": Wanneer traumanarratiewe tekort skiet. LitNetAkademies 6(3), Desember: 16-32.         [ Links ]

Jansen, Ena. 1998. "Eene eeuw van onrecht" - De ethische en esthetische problemen van getuigenverslagen. Van Johanna van Warmelo tot Antjie Krog. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans 5(2), Desember: 113-127.         [ Links ]

John, Philip. 2000. Versoening, Aufarbeitung, "Renaissance", Verligting: Wat eis die Suid-Afrikaanse verlede van ons? Stilet, 12(1):43-62.         [ Links ]

John, Philip. 2006. Die terapeutiese imperatief, stories en letterkunde: 'n Repliek aan H.P. van Coller. Tydskrif vir Letterkunde, 43(1):155-167.         [ Links ]

Kleyn, Leti. 2011. Poësieterapie: Enkele tegnieke met voorbeeldtekste. Stilet XIII:1, Maart: 130-154.         [ Links ]

Kristeva, Julia. 1987. Word, dialogue and novel. The Kristeva reader. Alice Jardine, Thomas Gora & Léon S. Roudiez (trans.).Toril Moi (ed.). Oxford: Blackwell, pp. 34-61.         [ Links ]

Krog, Antjie. 1995. "The South African Road". In Boraine & Levy (eds). The Healing of a Nation?.Cape Town: Justice in Transition, pp.112-119.         [ Links ]

Krog, Antjie. 2000. Kleur kom nooit alleen nie. Kaapstad: Kwela Boeke.         [ Links ]

Krog, Antjie. 2002 (1998). Country of My Skull. Johannesburg: Random House.         [ Links ]

Krog, Antjie. 2003. A Change of Tongue. Johannesburg: Random House.         [ Links ]

Krog, Antjie. 2005. 'n Ander tongval. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Krog, Antjie. 2009. Begging to Be Black. Cape Town: Random House Struik.         [ Links ]

Krog, Antjie; Mpolweni, Nosisi & Kopano Ratele. 2009. There Was This Goat - Investigating the Truth Commission Testimony of Notrose Nobomvu Konile. Durban: University of Kwazulu-Natal Press.         [ Links ]

Laub, Dori. 1992. Bearing Witness or the Vicissitudes of Listening. Testimony: Crises of Witnessing in Literature, Psychoanalysis, and History. New York & London:Routledge, pp. 57-74.         [ Links ]

La Vita, Murray. 2011. Gesprekke met merkwaardige mense. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

National Inquiry into the Separation of Aboriginal and Torres Strait Islander Children from Their Families. 1997. Bringing Them Home: Report of the National Inquiry into the Separation of Aboriginal and Torres Strait Islander Children from Their Families. https://www.humanrights.gov.au/publications/bringing-them-home-stolen-children-report-1997. [Retrieved 8 July 2014.         [ Links ]]

Nel, Adéle. 2001. Die kleur van vers en verf: Antjie Krog in gesprek met Marlene Dumas. Literator 22 (3), November: 21-38.         [ Links ]

Nieuwoudt, Stephanie. 2001. Afrika uitgebeeld met foto's en vloeiende prosa. Beeld, 26 Februarie: 13.         [ Links ]

Oliver, Kelly. 2001. Witnessing: Beyond Recognition. Minneapolis & London: University of Minnesota Press.         [ Links ]

Olivier, Fanie. 2000. Antjie verwoord Afrika in skitterende stukke vers verslae van ons stuk brakland en die liefde, so 'n 'dun woord'. Beeld, 27 November: 13.         [ Links ]

Pharos Verklarende Afrikaanse Woordeboek. 2011 (2010). Negende, hersiene uitgawe. F.J. Labuschagne & L.C. Eksteen (reds.). Kaapstad: NB-Uitgewers.         [ Links ]

Renders, Luc. 2011. "Murder most foul": Relaas van 'n moord van Antjie Krog. Stilet XXIII:1, Maart: 36-52.         [ Links ]

Ross, Fiona. 1998. "From a 'Culture of Shame' to a 'Circle of Guilt'." Southern African Review of Books, June.         [ Links ]

Sanders, M. 2007. Ambiguities of Witnessing: Law and Literature in the Time of a Truth Commission. Stanford: Stanford University Press.         [ Links ]

Spivak, Gayatri Chakravorty. 1998. Three Women's Texts and Circumfession. Postcolonialism & Autobiography. Alfred Hornung & Enrstpeter Ruhe (eds). Amsterdam: Rodopi, pp. 7-22.         [ Links ]

Stuit, Hanneke & Ena Jansen. 2011. "Waar gaan ons heen van hier?": The struggle between autonomy and relationality in Antjie Krog's "land van genade en verdriet" (2000). Stilet XXIII:1, Maart: 53-74.         [ Links ]

Taljard, Marlies. 2006. Die skryf vind plaas in selfgeveg: versoeningstrategieë in Kleur kom nooit alleen nie deur Antjie Krog. Literator 27 (7), April: 141-162.         [ Links ]

Taljard, Marlies. 2010a. Krog en hersirkulasie (1). Opgelaai 9 November. Op http://versindaba.co.za/2010/11/09/krog-en-hersirkulasie-1/. Toegangsdatum: 18 November 2010.         [ Links ]

Taljard, Marlies. 2010b. Krog en hersirkulasie (2). Opgelaai 16 November. Op http://versindaba.co.za/2010/11/16/krog-en-hersirkulasie-2/. Toegangsdatum: 18 November 2010.         [ Links ]

Taljard, Marlies. 2010c. Krog en hersirkulasie (3). Opgelaai 3 Desember. Op http://versindaba.co.za/2010/12/03/krog-en-hersirkulasie-3/. Toegangsdatum: 15 Desember 2010.         [ Links ]

Taljard, Marlies. 2010d. Kleurvol hibried: Kleur kom nooit alleen nie en die talige ruimte van saambestaan. LitNet Akademies 7 (3), Desember: 47-64.         [ Links ]

Van Coller, H.P. 2005. Anderkant die stilte (André P. Brink) en die verwerking van trauma. Tydskrif vir Letterkunde, 42(1): 117-133.         [ Links ]

Van der Merwe, Chris. 2007. 'n "Terapeutiese perspektief" op Etienne van Heerden se In stede van die liefde (2005).         [ Links ]

Van der Merwe, Chris & Pumla Gobodo-Madikizela. 2008. Narrating our Healing: Perspectives on Working through Trauma. Cambridge: Cambridge Scholars Publishing.         [ Links ]

Van Schalkwyk, J.M. 2009. Die outobiografiese in Antjie Krog se gedigte en 'n Ander tongval. Noordwes-Universiteit, Potchefstroom: Ongepubliseerde M.A.-skripsie.         [ Links ]

Van Vuuren, Helize. 2000. Krog bring gebrokenheid van die psige tot heling. Die Burger, 15 November: 12.         [ Links ]

Van Vuuren, Helize. 2009. The Later Krog Oeuvre: Towards a Syncretistic South African Identity and an Orally Orientated Poetics. Current Writing 21 (1 & 2): 218-237.         [ Links ]

Viljoen, Louise. 2000. On Space and Identity in Antjie Krog's Country of my Skull. In: De Geest, Dirk e.a. Under Construction. Links for the Site of Literary Theory. Essays in Honour of Hendrik van Gorp. Leuven: Leuven University Press, pp. 39-61.         [ Links ]

Viljoen, Louise. 2002. "Die kleur van mens": Antjie Krog se Kleur kom nooit alleen nie (2000) en die rekonstruksie van identiteit in post-apartheid Suid-Afrika. Stilet XVI (1), Maart: 20-49.         [ Links ]

Viljoen, Louise. 2009. Identiteit in interaksie met ruimte: Country of my skull (1998). Ons ongehoorde soort - Beskouings oor die werk van Antjie Krog. Stellenbosch: Sun Press, pp. 73-96.         [ Links ]

Vosloo, R. 2012. Traumatic memory, representation and forgiveness: Some remarks in conversation with Antjie Krog's Country of My Skull. In die Skriflig/In Luce Verbi 46(1) 2012, Art. 53: 1-7.         [ Links ]

Whitlock, Gillian. 2001. In the Second Person: Narrative Transactions in Stolen Generations Testimony. Biography 24(1): 197-214.         [ Links ]

 

 

Marisa Botha is sedert 2011 'n Nasionale Navorsingsinstituut (NRF) postdoktorale navorsingsgenoot in die Departement Taal en Letterkunde aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit. Haar navorsing fokus tans op die verband tussen trauma en geheue in Suid-Afrikaanse outobiografiese geskrifte, spesifiek tronk- en banneling-narratiewe. Vir die eerste helfte van 2012 was sy besoekende vakkundige in die Engelse departement aan die Universiteit van Pennsylvania in Philadelphia, VSA. Daar het sy twee kursusse geoudit en by internasionale kongresse referate gelewer.
Sy is in Februarie 2012 deur die NRF uitgesonder as opkomende navorser op nasionale vlak, gebaseer op 'n aantal publikasies in geakkrediteerde tydskrifte. In April ontvang sy ook die gesogte Elisabeth Eybersbeurs vir jong Suid-Afrikaanse navorsers van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. In Oktober van dieselfde jaar neem sy deel aan die Eybers-simposium by die Zuid-Afrika Huis in Amsterdam, Nederland.
NMMU stel haar vroeg in 2013 aan as navorsingsgenoot - 'n posisie wat sy hervat na afloop van haar postdoktorale navorsing.
For the past three years Marisa Botha has been a National Research Foundation (NRF) postdoctoral fellow in the Department of Language and Literature at the Nelson Mandela Metropolitan University. Her research focuses on memory and trauma in South African autobiographies, specifically prison and exile narratives. For the first six months of 2012 she was a visiting scholar in the Department of English at the University of Pennsylvania in Philadelphia, USA. There she was able to audit courses and deliver papers at international conferences.
In February 2012, she was singled out by the NRF on a national level as emerging researcher, based on numerous accredited research articles. In April the South African Academy for Science and Arts awarded her the much vied for Elisabeth Eybers prize for young South African researchers. This afforded her the opportunity to participate in the Eybers symposium in October 2012 at the Zuid-Afrika Huis in Amsterdam, The Netherlands.
Early in 2013, NMMU appointed her as Research Associate - a position she will resume after the completion of her postdoctoral research.
* My dank aan die Nasionale Navorsingsinstituut (NRF) vir geldelike postdoktorale ondersteuning.
1Pharos Verklarende Afrikaanse Woordeboek (2011:1336).
2 Assembly of First Nations (1994:162 - aangehaal in Whitlock 2001:197). Die spreker van hierdie gegewe is een van die anonieme getuies wat hulle narratiewe uitgewissel het in die studie Breaking the Silence (1994) oor die menseregte skendings van die Eerste Nasie (Noord-Amerikaanse Indiane) kinders in Kanada tydens die twintigste eeu.
3 Die verwerking van trauma deur die skryfproses of deur enige ander wyse van terapie, is nie eenvoudig nie en al word daar verwys na heling moet dit nie noodwendig geïnterpreteer word as volkome heling nie. Daar is 'n debat rondom die terapeutiese waarde van traumarepresentasie in die letterkunde en of dit enigsins helend kan wees - vergelyk veral John (2000, 2006); Van Coller (2005); Van der Merwe (2007); Human (2009). In hierdie artikel is die fokus op Krog se Kleur kom nooit alleen nie en berus die afleiding op die spreker in die gedig se ervaring eerder as wat dit 'n ondersoek is na ander bewyse van die terapeutiese potensiaal van narratiewe.
4 Vergelyk onder meer Nel (2001); Viljoen (2002, 2009); Taljard (2010d); Van Vuuren (2009); Renders (2011).
5 Taljard (2006) bespreek, as deel van Krog se versoeningstrategieë, die "liminale handeling waarin traumatiese gebeure openbaar gemaak word in 'n poging om tot versoening met die verlede te kom" (2006:142).
6 Sien veral Van Vuuren (2000) en Olivier (2000).
7 Ek is bewus van die magdom studies oor Country of My Skull, maar hierdie artikel se fokus is Kleur kom nooit alleen nie en daarom verwys ek slegs sporadies daarna om insigte te staaf. Vir verskillende aspekte rakende Country of My Skull (soos etiek, repatriasie, identiteit, getuienis en vergifnis) sien onder meer Ross (1998), Coetzee (2001), Sanders (2007), Garman (2008), Viljoen (2000, 2009), Chew (2012) en Vosloo (2012).
8 Ek dink veral aan die WVK-verhore van Suid-Afrika en Kanada, asook die verslae Breaking the Silence (1994, Kanada) en Bringing Them Home ("The Stolen Children's Report", 1997, Australië).
9 Ek verwys hier na "slagoffer", want dit is die term wat deur Van der Merwe en Gobodo-Madikizela in hulle teks gebruik word, maar in die hedendaagse traumatologie word die term "oorlewende" ("survivor") verkies bo "slagoffer".
10 Krog (1998:16, my kursivering): "Will a Commission be sensitive to the word 'truth'? If its interest in truth is linked only to amnesty and compensation, then it will have chosen not truth, but justice. If it sees truth as the widest possible compilation of people's perceptions, stories, myths and experiences, it will have chosen to restore memory and foster a new humanity, and perhaps that is justice in its deepest sense".
11 Bykans alle artikels oor Kleur kom nooit alleen nie sluit gegewe oor taal in, hetsy die argaïese taalgebruik van die Richtersvelders of die skep van 'n nuwe versoenende taal en vele ander onderwerpe rondom taal. Aangesien daar reeds grondige studies oor die taalkwessies in hierdie bundel bestaan, sal ek slegs enkele opmerkings daaroor maak.
12 Ross (1998:5): Krog has done precisely what was envisaged in the formation of the Commission, and that is to bear witness at a personal level to the damages wrought by apartheid and to the obligations of beneficiaries. It is from such witnessing that the Commission has envisaged the growth of national reconciliation.
13 Byvoorbeeld (2000:97): "gesonke in herinnering", "behoue geheue", "ondergrondse geheue".
14 Sien Taljard 2006 vir meer inligting oor hierdie intertekste.
15 Vergelyk Van Schalkwyk (2009) en Taljard (2010a, 2010b, 2010c) vir nog intratekstuele verwysings in die Krog-oeuvre.
16 Dit is 'n interessante ooreenkoms tussen Country of my skull en Kleur kom nooit alleen nie, dat Krog aan die einde van albei tekste versoenende en helende oomblikke beleef tydens bootreise. In die eerste geval is sy aan boord die Susan Kruger op pad terug van Robbeneiland na Kaapstad (1998:276-278) wanneer sy die gedig skryf wat later as grondslag dien vir die gedigreeks "land van genade en verdriet": "because of you / this country no longer lies / between us but within". In die tweede geval is Krog varend op die Nigerrivier waartydens sy genesing ervaar: "miskien was ek nog nooit so gelukkig nie" ("rivier" 2000: 97-98); "al die rowe [kom] in my los" ("boot" 2000:99); "ek hoort nêrens anders / as in die boot deurdrenk met blou / met my hart aan die mas / wapperend swart saam met jou" ("afskeid" 2000:100).

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons