SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.54 número3Language deterioration with specific reference to the ideologies and practices of statismJ.S. Bach's Passacaglia and Walter Benjamin's Das Passagen-Werk - literary montage as mosaic in Memorandum. A story with paintings (2006) índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.54 no.3 Pretoria sep. 2014

 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS

 

Makrostruktuuraanpassings vanaf gedrukte na e-woordeboeke

 

Macrostructural adaptations between printed and e-dictionaries

 

 

Rufus H. Gouws

Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit van Stellenbosch, 7600, E-pos: rhg@sun.ac.za

 

 


OPSOMMING

Die heersende leksikografieteorie is primêr ontwerp vir gedrukte woordeboeke. Aanpassings is nodig om 'n omvattende teorie te hê wat vir sowel gedrukte as e-woordeboeke voorsiening maak. Vir 'n algemene leksikografieteorie moet modelle ontwikkel word vir die leksikografiese strukture in e-woordeboeke. Hierdie artikel fokus op een van hierdie strukture, te wete die makrostruktuur. Makrostrukture in gedrukte woordeboeke word bespreek, en daar word aandag gegee aan verskeie ordeningstrukture in e-woordeboeke wat makrostrukturele kenmerke vertoon. Die gebruik van alfabetbalke en die voorkoms van artikeltrajekte en deeltrajekte, asook lemmatrajekte en lemmadeeltrajekte, word ondersoek. Daar word aangetoon dat, alhoewel e-woordeboeke nie tradisionele makrostrukture het nie, daar wel eksterne datatoeganklikheid is, onder meer danksy die gebruik van ordeningstrukture met behulp waarvan die makrostrukturele elemente bereik kan word. Aanpassings vanaf gedrukte woordeboeke het gelei tot die ontwikkeling van eiesoortige kenmerke vir hierdie ordeningstrukture van e-woordeboeke.

Trefwoorde: artikeldeeltrajek, artikeltrajek, e-leksikografie, gedrukte woordeboeke, kitssoektog, kronkelordening, lemmadeeltrajek, lemmatrajek, makro-struktuur, neslemmas, nislemmas, ordeningstruktuur, streng alfabetiese ordening, teoretiese leksikografie, toegangstruktuur


ABSTRACT

Lexicography has a practical component, i.e. the writing of dictionaries, and a theoretical component. The formulation of a general theory of lexicography has mostly been directed at printed dictionaries. The emergence of e-lexicography has confronted lexicographers with the option to devise a new and independent theory for online lexicography, resulting in two separate theories, or to adapt the existing theory by broadening its scope to include e-dictionaries. This would improve the strength of such a general theory of lexicography. In this paper the latter approach has been adopted. One of the focal points in a general theory of lexicography is the different dictionary structures. This paper focuses on adaptations for the transfer from printed to e-dictionaries with regard to only one of these lexicographic structures, i.e. the macrostructure.
In an introductory section an overview is presented of some developments in theoretical lexicography and the task facing modern-day theoretical lexicographers to decide whether structures devised for printed dictionaries can be maintained in e-dictionaries and whether existing terminology still suffices.
A brief account is then given of macrostructures in printed dictionaries and some underlying theoretical approaches. Various interpretations of the concept of the macrostrucure are indicated. Different types ofmacrostructures are discussed. Within the category of alphabetical macrostructures the need for an access alphabet is emphasised. Subtypes of macrostructural procedures like nesting and niching are discussed and illustrated. Reference is also made to their possible occurrence in e-dictionaries. Three major typological criteria of macrostructures, i.e. the ordering of macrostructural elements, the existence of external data-accessibility and the class membership ofmicrostructural elements are mentioned and it is indicated that the focus will be on only one of these criteria, i.e. the ordering ofmacrostructural elements. Besides the main macrostructure, emphasis is also placed on article stretches as immediate constituents of macrostructures.
The paper thenfocuses on e-dictionaries and within this category only on online dictionaries and not on CD-ROM dictionaries. It is stated and illustrated that e-dictionaries often seem to have no macrostructural ordering device. However, analysing and discussing different access possibilities in e-dictionaries to reach the required lemma it is shown that albeit that e-dictionaries do not display a traditional macrostructure as ordering device and as an instrument to ensure the lexicographic coverage of the subject matter of a given dictionary, there are various other ordering structures. Looking at the use of alphabet bars to guide the user to article stretches the paper shows how existing e-dictionaries do not only use article stretches and partial article stretches to order lemmata but they also employ lemma stretches and partial lemma stretches. Users have the option to employ a rapid access to a desired lemma, a procedure that does not rely on any macrostructural ordering. They also have the option to use a longer version of the access process and reach their target lemma via a browsing function that allows them to page through a dictionary or via alphabet bars and article stretches. This establishes the poly-accessibility of e-dictionaries.
The use of alphabet bars is an innovative feature of e-dictionaries. An alphabet bar is a point of departure of a consultation process and also a starting point to reach all microstructural elements in an ordered and systematic way. Prevailing e-dictionaries use article and lemma stretches in different ways to enhance the access process. As is the case in printed dictionaries provision is also made for functional partial article and lemma stretches that cluster articles or lemmata in accordance with criteria of the genuine purpose of a given dictionary.
It is shown that e-lexicography does utilise a range of features typical of macrostructures. The use of article and lemma stretches is enhanced and expanded, and along with alphabet bars, they are the major ordering structures of many e-dictionaries. As ordering structures they also play an important role to satisfy the criterion of external data-accessibility.

Key terms: access structure, article stretch, e-lexicography, lemma stretch, macro-structure, nest lemmata, niche lemmata, ordering structure, partial article stretch, partial lemma stretch, printed dictionaries, rapid search, sinuous ordering, strict alphabetical ordering, theoretical lexicography


 

 

1. INLEIDING

In die metaleksikografiese navorsing van die afgelope veertig jaar is daar aan 'n wye verskeidenheid aspekte aandag gegee wat ter sake is vir die formulering van 'n algemene leksikografieteorie. Daar was in hierdie tyd 'n fokus op onder meer die taalkundige inhoud van woordeboeke, woordeboekstrukture asook leksikografiese funksies. Die verskillende teoretiese benaderings wat ontwikkel is, was aanvanklik almal uitsluitlik gerig op modelle vir die beplanning en samestelling van gedrukte woordeboeke.

Die koms van die elektroniese era het tot 'n mediumverbreding gelei met woordeboeke wat steeds in gedrukte formaat verskyn, maar ook in elektroniese formaat. Aanvanklik was die woordeboeke in elektroniese formaat as CD-ROM-produkte beskikbaar. Alhoewel sulke CD-ROM-produkte vinniger toegang tot data kan bied as wat die geval met gedrukte woordeboeke is, was die meeste van hierdie woordeboeke bloot gedigitaliseerde weergawes van gedrukte woordeboeke. Hulle is nie van meet af as e-produkte beplan en ontwerp nie. Die toegevoegde waarde van sulke woordeboeke was redelik beperk. Daarenteen het e-woordeboeke wat as aanlynprodukte ontwerp is 'n veel groter toegevoegde waarde omdat die moontlikhede wat die e-omgewing bied in 'n veel hoër mate benut kan word.

Wanneer daar in hierdie artikel na e-woordeboeke verwys word, is die verwysing spesifiek gerig op aanlynwoordeboeke en nie op CD-ROM-produkte nie.

Gedrukte woordeboeke het in 'n preteoretiese milieu ontstaan met die leksikografieteorie wat eers in 'n laat stadium ontwikkel is, (vergelyk Gouws & Prinsloo 2005:1 e.v.). Tydens die vestiging van die leksikografie as teorie en as selfstandige dissipline het talle woordeboekmakers en uitgewers steeds teorieloos voortgewerk, maar algaande het die geldende leksikografieteorie die vertrekpunt vir die beplanning en samestelling van nuwe woordeboeke geword. Dit het gou duidelik geword dat woordeboeke met 'n teoretiese basis beter gebruiksinstrumente is en baie sterker gerig is op 'n bevrediging van hulle teikengebruikers se behoeftes.

Met die koms van e-produkte het baie praktiserende leksikograwe op een van twee maniere voortgegaan, naamlik óf sonder om ag te slaan op enige leksikografieteorie óf om die teorie wat vir gedrukte woordeboeke ontwikkel is op e-woordeboeke toe te pas. Ongelukkig was die bydrae van metaleksikograwe weer eens laat, want daar is nie voortydig beplan vir aanpassings in die leksikografieteorie om vir die eiesoortigheid van e-woordeboeke, maar terselfdertyd ook vir dit wat hulle met gedrukte woordeboeke gemeen het, voorsiening te maak nie.

'n Fokus van die huidige gesprek in die metaleksikografie is onder meer om die teorie so aan te pas en te ontwikkel dat dit ook aan die opstellers van e-woordeboeke die nodige ondersteuning bied, (vergelyk Gouws 2011). In hierdie verband moet leksikograwe besluit of daar 'n nuwe en dus alternatiewe teorie ontwikkel moet word wat uitsluitlik op e-woordeboeke gerig is, al dan of die bestaande teorie aangepas moet word om vir sowel gedrukte as e-woordeboeke voorsiening te maak. Die voordeel van die laasgenoemde benadering is dat dit tot een algemene teorie lei wat sterker is as twee afsonderlike teorieë. Die bespreking in hierdie artikel staan in die teken van een algemene leksikografieteorie wat vir die eiesoortighede van sowel gedrukte as e-woordeboeke voorsiening maak, maar wat ook rekening hou met die gemeenskaplike kenmerke van woordeboeke in hierdie twee mediums.

Sedert die laat sestiger- en veral vroeë sewentigerjare het verskeie fokusgebiede in die ontwikkeling van 'n algemene leksikografieteorie op die voorgrond getree, (vergelyk onder meer Gouws 2005). Die klem was aanvanklik op die taalkundige inhoud van woordeboeke. Daarna was daar 'n fokusverskuiwing na 'n verskeidenheid woordeboekstrukture, en nog later het die klem verskuif na die funksies van woordeboeke. In die opeenvolging van fokusgebiede is die waarde van die voorafgaande fase nie ontken nie, maar daar het slegs 'n bykomende kernnavorsingsgebied na vore getree. In hierdie bydrae word die taalkundige inhoud van woordeboeke asook die belang van leksikografiese funksies erken, maar die fokus is bepaalde aspekte van woordeboekstrukture. Sedert die tagtigerjare is dit veral die Duitse metaleksikograaf Herbert Ernst Wiegand wat 'n komplekse en uitvoerige uiteensetting gee van 'n wye reeks woordeboekstrukture, byvoorbeeld Wiegand (1984, 1989, 1989a, 1989b, 1996). Wiegand se uitgebreide werk, ook die bespreking van woordeboekstrukture waarmee hy steeds voortgaan, is deurgaans op gedrukte woordeboeke gerig. Dit gaan in sy navorsing onder meer oor woordeboeke as draers van tekssoorte en 'n vasstelling van die gepaardgaande strukture, dit wil sê tekstuele strukture.

Sommige van hierdie strukture van gedrukte woordeboeke is ook ter sake vir e-woordeboeke, maar sommige glad nie, terwyl bepaalde strukture aangepas moet word om ook vir e-woordeboeke te geld. Daarnaas is daar in e-woordeboeke sekere strukture wat nie in gedrukte woordeboeke voorkom nie, byvoorbeeld die skermskootstruktuur.

Müller-Spitzer (2013:374) wys tereg daarop dat die terminologie van tekstuele strukture in gedrukte woordeboeke dikwels op 'n onkritiese manier in navorsing oor e-woordeboeke gebruik word. Tarp (2008:102) sê in hierdie verband:

There are so many theoretical articles that freely discuss various types of structure in electronic dictionaries as ifthey were the same as those found in printed dictionaries.

'n Geldige terminologiese vraag van Müller-Spitzer (2013:368) is of daar hoegenaamd in e-woordeboeke sprake is van "tekstuele strukture" as 'n mens in ag neem dat 'n wesenskenmerk van e-woordeboekejuis daarin lê dat die data in verskillende media verbind word. Müller-Spitzer (2013:368 e.v.) wys daarop dat daar fundamentele verskille tussen tekstuele strukture in gedrukte en e-woordeboeke bestaan. Gedrukte woordeboeke bestaan normaalweg uit 'n reeks artikeltrajekte met hulle onderskeie artikels asook bepaalde buitetekste. Daarteenoor is 'n aanlynwoordeboek nie 'n enkele tasbare geheel nie. Anders as 'n boek of 'n CD-ROM, is dit nie beperk tot 'n enkele datamedium nie. Sy voer aan (Müller-Spitzer 2013:369) dat dit nodig is om die oordrag van tekstuele strukture van gedrukte na e-woordeboeke noukeurig te ondersoek. Dit is veral belangrik vir die beplanning en analise van e-woordeboeke. Ook vir die beplanning van 'n leksikografiese databasis is dit noodsaaklik om bewus te wees van die strukturele kenmerke van e-woordeboeke.

Volgens Muller-Spitzer (2013:374) is dit nie nuttig om van gevestigde terminologietradisies af te wyk nie. Wat die aanbiedingsvlak van e-woordeboeke betref, is dit dus belangrik om steeds die gevestigde metaleksikografiese terme te gebruik, omdat hulle ook verband hou met die aanbiedingsvlak in gedrukte woordeboeke.

In hierdie artikel word daar aandag gegee aan enkele aspekte van een leksikografiese struktuur, te wete die makrostruktuur. Muller-Spitzer (2013:374) stel voor dat in e-woordeboeke afstand gedoen word van die term makrostruktuur en daar eerder verwys word na makrostrukturele eenhede. Sy sê dan:

... macrostructural units will be regarded here as the main access elements .. .of dictionary entries that constitute the (content-related) order of the entries and that build the main address node.

Met inagneming van Muller-Spitzer (2013) se opmerkings word daar eerstens gekyk na verskillende makrostrukture in gedrukte woordeboeke - waar die gebruik van die term makrostruktuur gehandhaaf word. Daarna verskuif die klem na e-woordeboeke. Slegs enkele makrostrukturele aspekte, veral die ordening van lemmakandidate, word nagegaan en besonderhede van hierdie strukture word bespreek. Hierdie bespreking van die aanpassings van makrostrukture vanaf gedrukte na e-woordeboeke vorm deel van 'n groter projek om 'n teoretiese model vir strukture in e-woordeboeke te ontwikkel.

 

2. MAKROSTRUKTURE IN GEDRUKTE WOORDEBOEKE

2.1 Historiese oorsig

Van die belangrikste bydraes oor die makrostruktuur van woordeboeke is te vinde in Wiegand (1989), Hausmann en Wiegand (1989) en Wiegand en Gouws (2013). Hierdie artikel sluit veral aan by die bespreking in Wiegand en Gouws (2013). 'n Aspek wat ook hier in ag geneem moet word, is die feit dat die term makrostruktuur nie op 'n eenvormige manier deur metaleksikograwe gebruik word nie. In hierdie bydrae moet daar kennis geneem word van enkele sulke benaderings, alhoewel dit benaderings is wat nie hier ondersteun word nie. 'n Interpretasie wat taamlik gereeld voorkom, (vergelyk byvoorbeeld Haenschet al. (1982), Nielsen (1990) en De Sousa (1995)) is dat die makrostruktuur die struktuur van 'n woordeboek as geheel betref. Hierdie standpunt spruit veral voort uit die situasie dat daar geen algemeen aanvaarde term is om na die struktuur van die woordeboek as geheel te verwys nie. Voorstelle soos hiperstruktuur (Wiegand 1988) en megastruktuur (Hartmann en James 1998) het nie genoegsaam byval gevind nie. Vergelyk in hierdie verband ook Wiegand e nGouws (2013:76). De Schryver (2013:1384) beweer aanvanklik:

A dictionary's macrostructure, nomenclature or lemma-sign list is, in simple terms, the inventory ofall the headwords in that dictionary.

Later, op dieselfde bladsy, sê hy:

A dictionary's macrostructure, then, is not merely the list of lemma signs, as suggested in the first sentence of this contribution, but also necessarily includes information on the word class and morphology of that lemma sign.

Dit is 'n standpunt wat teoreties nie steek hou nie. De Schryver verwar hier die makrostruktuur met die vormkommentaar wat 'n funksioneel en posisioneel segmenteerbare komponent van die mikrostruktuur van 'n woordeboekartikel is. In hierdie bydrae word daar voortaan eerder aangesluit by De Schryver se eerste opmerking. Dit is ook die klassieke siening van die makrostruktuur, soos verwoord deur Rey-Debove (1971), naamlik dat die makrostruktuur die geheel van die geordende lemmata in 'n woordeboek is. Daar word dus met die uitgangspunt gewerk dat die makrostruktuur die geordende stel items is wat as gidselemente van woordeboekartikels aangebied word. Let wel, 'n artikel kan soms uit slegs die makrostruktuurelement bestaan - meer daaroor later. Belangrik is dit om ook daarop te let dat 'n alfabetiese makrostruktuur volgens Wiegand (1989) ook die werklike doel het om die leksikografiese dekking van die woordebooek daar te stel, dit is die aanbieding van daardie deel van die leksikon van 'n betrokke taal wat die teikenterrein van die spesifieke woordeboek verteenwoordig. Wiegand en Gouws (2013:78) verwoord dit soos volg:

The macrostructure of a printed dictionary is that textual structure that presents the ordering of all those elements of the data memories that contribute to the dictionary type specific macrostructural coverage.

Wiegand, Beer en Gouws (2013:31) omskryf die makrostruktuur van 'n gedrukte woordeboek soos volg:

It is the structure which is responsible for the order of all elements of a printed dictionary which make a dictionary type-specific contribution to the macrostructural coverage; the cardinality of its structure-carrying set is identical to the extent of the macrostructural coverage with the result that the macrostructure indicates the macrostructural coverage.

Die makrostrukturele dekking van die leksikon geskied nie uitsluitlik deur die verstekaanbod van lemmatiese inskrywings nie, maar ook deur daardie inskrywings wat dikwels as nie-lemmaties beskou word, maar wel as bewerkingseenhede aangebied word en leksikonitems verteenwoordig.

2.2 Tipes makrostrukture

Verskillende tipes makrostrukture word onderskei. Die aard van die ordening, dit wil sê alfabeties of tematies, bring een hoofonderskeidingstipe na vore. Die tematiese ordening doen egter nie volledig afstand van die alfabetiese ordeningsbeginsel nie. In die vroeëre ontwikkeling van die leksikografiepraktyk was daar in die gebruik van 'n tematiese ordening steeds 'n behoefte aan 'n sentrale alfabetiese toegangsregister om 'n suksesvolle benutting van sulke tematiese woordeboeke moontlik te maak. Dit geld vandag steeds woordeboeke met 'n tematiese ordening.

In die geval van alfabetiese makrostrukture word 'n onderskeid gemaak tussen 'n streng alfabetiese makrostruktuur en 'n nie-streng alfabetiese makrostruktuur, (vergelyk Hausmann & Wiegand1989). In die eersgenoemde gevalle vind die makrostrukturele ordening streng volgens die alfabetiese waarde van al die letters in 'n woord plaas - nie net die eerste of eerste twee of eerste drie letters nie. Gevolglik wordplaak na plaag en voor plaas georden. Waar 'n woordeboek slegs een makrostruktuur het, oorvleuel so 'n makrostruktuur gewoonlik volledig met die eksterne toegangstruktuur van die betrokke woordeboek. In die beplanning van die makrostrukturele ordening moet die leksikograaf ook voorsiening maak vir 'n toegangsalfabet vir die spesifieke woordeboek. Selfs al handhaaf die woordeboek se makrostruktuur 'n streng alfabetiese ordening, is daar dikwels gevalle waar 'n afwyking nodig is, byvoorbeeld waar lemmatekens syfers of simbole bevat of waar sekere skryftekens voorkom. Vergelyk in hierdie verband lemmata soos die volgende waar die leksikograaf oor hulle posisie in die makrostruktuur moet besluit: .303-geweer, 4x4-roete, α-deeltjies en @. Daarbenewens moet daar ook duidelikheid wees oor die ordening in die geval van woorde met en die sonder leestekens, soos in die geval van byvoor-beeld die volgende lemmakandidate: se, sê; leer, lêer, leër. Hier word 'n streng alfabetiese makro-struktuur aangevul deur 'n ondersteunende toegangsalfabet wat byvoorbeeld bepaal dat ongemerk altyd voor gemerk georden word, dit wil sê leer kom voor leër en leër kom voor lêer. Die soekproses in 'n gedrukte woordeboek kan aansienlike probleme oplewer indien daar nie duidelikheid oor die toegangsalfabet bestaan nie. Dit moet sistematies toegepas en in die gebruikersleiding uitvoerig verduidelik word. Die kitssoekproses in e-woordeboeke hoef nie geraak te word deur hierdie kwessie nie. 'n Toegangsalfabet ter ondersteuning van die hooftoegangstruktuur wat parallel loop aan die makrostruktuur is nie ter sake in 'n e-woordeboek nie, behalwe in daardie gevalle waar 'n lysting van lemmata aangebied word.

Hausmann en Wiegand (1989) maak 'n verdere belangrike onderskeid tussen verskillende tipes makrostrukture, en wel op grond van hulle vertikale of horisontale ordening. Vir horisontale ordening word 'n bykomende onderskeid gemaak, naamlik tussen nis- en nesordening. Waar 'n woordeboek 'n makrostruktuur het wat uitsluitlik 'n vertikale ordening van lemmata bied, geld 'n gladde alfabetiese ordening. Indien die vertikale ordening afgewissel word met 'n horisontale ordening geld 'n kronkelordening wat 'n nis- en/ofnesordening tot gevolg het.

Lemmas in 'n lemmakluster wat as nes of nis aangebied word, is steeds gidselemente van die onderskeie artikels. Dit gaan hier dus nie net oor 'n lemmakluster nie maar ook oor 'n artikelkluster. In sommige woordeboeke het sulke lemmata 'n leksikografiese bewerking wat dikwels meer beperk is as die bewerking van lemmata wat in die vertikale ordening optree. Vergelyk in hierdie verband 'n kluster uit Pharos se Groot woordeboek/Major Dictionary wat lemmata met familie- as eerste stam bevat:

fami'lie, (s) (-s), family, kindred, blood relations, relatives; (b) related; AANGETROUDE ~, relations (related) by marriage; ~ van ADAM se kant af, very distantly related; dis IN die ~, it runs in the family; so ver ~ dat 'n mens dit nie met 'n KLIP kan raakgooi nie, distantly related; VER langs ~, remotely related; ~ WEES van, be related to; ~aangeleenthede, family affairs; ~argief, family archives; ~band, family tie; ~berigte, births, deaths, marriages column (in newspaper); ~besigheid, family business; ~betrekking, relationship; relative; Familiebybel, family Bible; ~drama, domestic drama; ~fees, family gathering (feast); ~gebruik, family custom; ~gek, (over)fond ofone's relations; ~gelykenis, family likeness; ~genootskap, private company; ~goed, family belongings; ~graf, family vault; family grave; ~kring, family circle, home circle; ~kwaal, hereditary malady; dis 'n ~kwaal, it runs in the family; ~lewe, family life; ~lid, member of a family; family member; ~naam, family name; patronymic; surname; ~omstandighede, family affairs.

Figuur 1

Anders as vir die lemma familie, word daar vir hierdie gelede woorde nie woordsoort- of meervoudsaanduiders verstrek nie. Hulle bly wel volwaardige makrostruktuurelemente. Koteksinskrywings tree ook selde op. Vergelyk ook die volgende kluster uit HAT:

fabriek' s.nw. (-e) 1 Inrigting waar deur arbeidskragte en masjinerie gebruiksgoedere uit grondstowwe vervaardig word: 'n Fabriek vir klere, wapens, speelgoed, meubels, motors.2 Gebou van 'n fabriek: Die fabriek word vergroot. Die fabriek is aan die brand gesteek.3 Personeel van 'n fabriek: Die fabriek dreig om te staak.4 Plek waar op groot skaal geproduseer word: Hier is die koerant se kantoor- 'n groot leuenfabriek. [L. fabrica handwerk] fabrieks: ~afval, ~direksie, ~ervaring, ~fluit, ~goed, ~klere, ~pryse, ~rook, ~voorman, ~ware.

Figuur 2

In hierdie kluster, dit is die trajek metfabriek- as eerste stam, is daar 'n lemmadeeltrajek wat die gevolg van teksverdigting is - met die eerste stam van elke lemma wat telkens deur die plaasvervangersimbool "~" vervang is en tot 'n lys deellemmas lei. Geen eksplisiete bewerking van hierdie lemmas word gegee nie, en die lemmateken is die enigste aanduider in die artikel. Inligting wat die gebruiker hieraan kan onttrek, is die spelling van die woord asook die betekenis; dit egter op 'n implisiete manier. Die gebruik van horisontale ordening van lemmata in gedrukte woordeboeke is eerstens ter wille van ruimtebesparing, maar die betekenis van die betrokke woord speel ook 'n bepalende rol. 'n Voorwaarde vir die opname van woorde as onverklaarde lemmas in 'n nis- of nesordening is dat die betrokke gelede woord semanties deursigtig moet wees. Die implikasie vir die kundige gebruiker is dus dat die betekenis van elke woord wat deur 'n geniste of geneste lemma voorgestel word uit die betekenisse van die samestellende dele afgelei kan word.

Hierdie artikeldeeltrajek is 'n artikelnis. Kenmerkend van 'n nis is die streng handhawing van die alfabetiese volgorde sowel binne die betrokke deeltrajek asook met betrekking tot die voorafgaande en daaropvolgende vertikaal geordende lemmas.

Waar die alfabetiese ordening gehandhaaf word by nisting, geld dit nie by nesting nie. In hierdie verband onderskei Gouws (2001) tussen eerste- en tweedevlakse nesting. By eerstevlakse nesting word die alfabetiese ordening op nes-interne vlak gehandhaaf, maar nie met betrekking tot die daaropvolgende nes-eksterne lemma nie. Vergelyk die volgende voorbeelde uit Verklarende Afrikaanse woordeboek:

ballet', -te. 1. Kunstige toneeldans. 2. Al die dansers of danseresse saam; balletdans; balletdanseres; balletliefhebber; balletmusiek.

bal'letjie, -s. Klein bal; 'n balletjie opgooi, 'n mening uitspreek om te sien wat die reaksie is.

ballet'korps. Groep danseresse (dansers) wat in 'n ballet saam optree.

ballet'meester, -s. Leier van 'n ballet.

balletomaan', ..mane. Iem. wat op ballet versot is; ..manie'.

Figuur 3

Gouws (2002) dui aan dat in 'n geval van 'n streng alfabetiese ordening die sublemma balletliefhebber tussen die lemmata balletkorps en balletmeester georden sou gewees het en die sublemma balletmusiek tussen balletmeester en balletomaan. Binne die kluster geheg aan die artikel van die lemma ballet is daar wel 'n streng handhawing van die alfabetiese ordening. Gouws (2001:106) gee die volgende voorbeeld van tweedevlakse nesting uit Nasionale woordeboek:

 

 

Hier is die sublemma regeringloos 'n afleiding terwyl die ander sublemmata in die kluster almal samestellings is. Die kommapunt wat die afleiding van die samestellings skei, het 'n werklike doel, naamlik om verskillende tipes morfologiese bousels van mekaar te onderskei. Die samestellings vertoon ook nie 'n konsekwente deurlopende alfabetiese ordening nie. Daar is naamlik twee deeltrajekte wat elk 'n eie alfabetiese ordening vertoon. Elke deeltrajek bevat inskrywings waarin die eerste stam dieselfde polisemiese waarde van die hooflemma regering verteenwoordig. Die hooflemma is polisemies en op grond van semantiese redes vertoon die kluster van samestellings dus 'n bepaalde tweedeling. Getrou aan tweedevlakse nesting vertoon die kluster wat geheg is aan die artikel van die lemmateken regering op klusterinterne vlak ook afwykings van 'n alfabetiese ordening.

Die nes wat in Nasionale woordeboek aan die artikel van die lemma regering geheg is, is funksioneel en posisioneel in verskillende subneste segmenteerbaar. Dit is 'n voorbeeld van 'n komplekse nes. Naas die verdeling tussen afleidings en samestellings, met die afleiding regeringloos wat die enigste element in daardie subnes is, is die samestelllings in twee verdere subneste segmenteerbaar. Hierdie twee subneste het 'n vergelykbare struktuur. Al die lemmata in die subneste is sublemmata en telkens is die eerste sublemma van die nes 'n vollemma terwyl die daaropvolgende sublemmata deellemmata is.

In e-woordeboeke word nesting en nisting veel minder gebruik maar leksikograwe moet wel vir die moontlike aanwending daarvan voorsiening maak; weliswaar nie ter wille van ruimtebesparing nie maar eerder ter wille van 'n blootlegging van bepaalde morfo-semantiese verhoudinge, byvoorbeeld in 'n funksionele artikeldeeltrajek, soos later in hierdie bydrae bespreek word. Dit impliseer dat e-woordeboeke wel soms gerig moet wees op die onttrekking van reekse geordende lemmata.

 

3. ARTIKELTRAJEKTE

'n Ondersoek na die makrostruktuur in e-woordeboeke moet ook ag slaan op bepaalde aspekte van artikeltrajekte en artikeldeeltrajekte. Volgens Wiegand, Beer en Gouws (2013:43) is artikeltrajekte onmiddellike tekskonstituente van die woordelys van inisieel-alfabetiese woordeboeke. Artikeltrajekte het alfabetiese toegangstrukture wat telkens 'n onderafdeling van die betrokke woordeboek se alfabetiese hooftoegangstruktuur is. Elke artikeltrajek word benoem volgens die alfabetletter wat daarin behandel word, byvoorbeeld die "B"-trajek, die "L"-trajek, ensovoorts. Alhoewel die artikeltrajekte meestal saamval met die 26 alfabetletters, is dit nie noodwendig die geval nie. Vir sommige tale ontbreek 'n bepaalde alfabetletter, terwyl ander tale bykomende trajekte het. So het Deens naas die gewone 26 trajekte ook nog artikeltrajekte vir die letters å, æ en ø

By artikeltrajekte word daar ook onderskei tussen gladde trajekte en nis- en nestrajekte. Enige onderafdeling van 'n artikeltrajek, byvoorbeeld 'n nis of 'n nes, vorm 'n artikeldeeltrajek. Elke artikeldeeltrajek is 'n onmiddellike konstituent van 'n spesifieke artikeltrajek. Wiegand, Beer en Gouws (2013:48) maak ook voorsiening vir funksionele artikeldeeltrajekte. Dit is daardie deel-trajekte met 'n eie werklike doel gerig op die woordeboek se onderwerpsgebied. Tipiese voorbeelde van sulke funksionele artikeldeeltrajekte is die teksblokke wat gevorm word om byvoorbeeld morfologiese, semantiese of etimologiese verwantskap tussen lemmata aan te dui. Vir e-woordeboeke is hierdie funksionele trajekte ter sake.

 

4. e-WOORDEBOEKE

4.1 Oënskynlik geen makrostruktuur nie

'n Eerste oordeel oor e-woordeboeke lei daartoe dat 'n mens maklik beweer dat daar geen sprake is van 'n makrostruktuur nie. In baie e-woordeboeke sien die gebruiker niks meer nie as slegs die artikel waaraan hy/sy inligting wil onttrek, of selfs slegs die spesifieke datatipe waarna gesoek is. In die e-weergawe van die American Heritage Dictionary kry die gebruiker op die openingskerm die geleentheid om die woord waarna gesoek word, in te vul:

 

 

'n Klik op die soekknoppie neem die gebruiker dan regstreeks na die betrokke artikel, hier die artikel van die lemma dictionary:

 

 

Die soekproses vra geen rondblaaiery deur die woordeboek of selfs geen kyk na die artikeldeeltrajek waarbinne die lemma optree nie. Die eksterne toegangstruktuur bied kitstoegang tot die verlangde artikel. Die leksikale items wat lemmakandidate van so 'n woordeboek word, word nie in 'n geordende weergawe aan die gebruiker gebied nie, maar bly inskrywings in die woordeboek se databasis vanwaar hulle onttrek word wanneer 'n gebruiker 'n behoefte aan daardie betrokke leksikale item het en hulle in die soekvorm invul. Wanneer so 'n soektog die enigste aspek is wat in berekening gebring word, is daar geen sprake van 'n struktuur wat 'n geordende aanbieding van die lemmakandidate, (Rey-Debove (1971) se "geheel van die geordende lemmata"), daarstel nie, aangesien so 'n geheel nie merkbaar is nie. Daar is ook nie sprake van Wiegand en Gouws (2013:78) se tekstuele struktuur nie.

Die aanlynweergawe van die Oxford English Dictionary bied 'n soortgelyke kans vir kitstoegang tot die verlangde artikel deur die soekwoord op die openingskerm in te vul. Maar gebruikers kan ook die "Browse the whole dictionary from A to Z"-opsie uitoefen (vergelyk skermskoot 3). Dan het die gebruiker toegang tot 'n geordende lys lemmas wat 'n tradisionele makrostrukturele dekking daarstel, (vergelyk skermskoot 4). In hierdie deurblaai-soektog gaan dit primêr om 'n ordening van die makrostrukturele elemente, aangesien dit nie telkens die volle artikel is wat vertoon word nie, maar slegs die lemma met 'n kort uittreksel uit die mikrostrukturele aanbod. Wanneer daar met die muis oor 'n bepaalde artikel beweeg word, is daar 'n opskietkeuse waarop gedruk kan word om die volle artikel te vertoon.

 

 

 

 

Heel regs op die skermskoot is daar 'n dinamiese lemmalysie waar die gebruiker op of af deur die lemmalys van die woordeboek kan beweeg sonder om iets meer as die lemmateken op die lysie te sien. Die dinamiese lemmalysie wys die onderhawige lemma in sy deeltrajekkonteks. Deur op enige lemma in die lysie te klik, word die gebruiker regstreeks na die betrokke artikel gelei. Hierdie dinamiese lemmalysie, hier 'n alfabetiese deeltrajek uit die makrostruktuur, verhoog die politoeganklikheid van die betrokke woordeboek. Die gesoekte lemma hoef nie net deur 'n kitssoektog bereik te word nie, maar kan via die volledige makrostruktuur ("Browse the whole dictionary") of 'n alfabetiese deeltrajek bereik word. Die woordeboek bied hier strukture wat eksterne datatoeganklikheid moontlik maak; 'n tipiese kenmerk van 'n makrostruktuur.

4.2 Kenmerke van 'n makrostruktuur

4.2.1 Algemeen

Die optrede van strukture in e-woordeboeke moet binne 'n algemene leksikografieteorie se subteorie oor woordeboekstrukture aan die orde kom. In hierdie verband stel Wiegand en Gouws (2013:77) dit duidelik dat vir gedrukte woordeboeke 'n teorie van woordeboekstrukture 'n eksplisiete aanduiding moet kan gee van die kwantitatiewe en kwalitatiewe verhouding tussen die behandelde leksikografiese data en die leksikon van daardie taal wat die onderwerpsgebied van die woordeboek daarstel. Dit beteken dat die teorie ook moet bepaal watter elemente van watter strukture iets bydra tot die leksikografiese dekking van die betrokke woordeboek. Wiegand (1989) ken op grond hiervan aan die alfabetiese makrostrukture die bykomende werklike doel toe om om die leksikografiese dekking van die woordeboek aan te toon.

Wiegand en Gouws (2013:79 e.v.) noem drie wesenlike tipologiese kriteria van makrostrukture, te wete die ordening van die makrostrukturele elemente, die bestaan van eksterne datatoeganklikheid en die klaslidmaatskap van makrostrukturele elemente. Hierdie kriteria moet ook ten opsigte van e-woordeboeke nagegaan word. In hierdie artikel sal aspekte van die ordening van makrostrukturele elemente ten opsigte van e-woordeboeke bespreek word.

Lemmakandidate in e-woordeboeke word weliswaar nie op dieselfde geordende manier aangebied as wat die geval in gedrukte woordeboeke is nie. Vir die gebruiker is die ordening van inskrywings in die databasis van 'n e-woordeboek nie sigbaar of ter sake nie. Dit gaan egter nie net om die opname van lemmakandidate in die databasis nie. 'n Sekere tipe geordendheid van makrostrukturele elemente in e-woordeboeke kan nie ontken word nie.

In e-woordeboeke kry gebruikers dikwels 'n skermskoot, gewoonlik reeds die openingskermskoot, waarop hulle eerste soekwens aangedui moet word. Geen blik op of toegang tot die makrostruktuur is hier ter sprake nie en kitstoegang tot die verlangde lemma word per enkele klik bereik - vergelyk weer skermskoot 1. 'n Keuse wat die gebruiker dikwels via die openingskermskoot het, is om deur die woordeboek "te blaai" met behulp van 'n alfabetbalk wat toegang tot die letters van die artikeltrajekte bied. Vergelyk in hierdie verband die openingskerm van die Algemeen Nederlands Woordenboek (ANW) (skermskoot 5) met die alfabetbalk links op die skerm.

 

 

'n Klik op byvoorbeeld die letter "H" (skermskoot 6) maak daardie artikeltrajek se lemmalys oop sodat die gebruiker dwarsdeur die trajek kan rol en op enige lemma kan klik, byvoorbeeld haalbij, om die betrokke artikel oop te maak (skermskoot 7). Van 'n voorstelling van makrostruktuurelemente is hier wel deeglik sprake. Die alfabetbalk en die oopmaak van bepaalde artikeltrajekte bied nog 'n toegangsroete tot 'n bepaalde lemma naas die kitstoegangsroete vanaf die openingskerm. Die ANW is 'n politoeganklike woordeboek, met elke artikeltrajek 'n basis vir eksterne datatoeganklikheid. Die ANW voldoen hier aan die kriterium van datatoeganklikheid via 'n makrostruktuur op grond van die strukturele identiekheid van elke artikeltrajek met 'n alfabetiese hooftoegangstruktuur

 

 

 

 

e-Woordeboeke word as losstaande aanlynprodukte aangebied maar is dikwels ook deel van 'n naslaan- of databasisdienspakket, byvoorbeeld Credo, (http://corp.credoreference.com/), wat aanlynnaslaaninhoud aanbied met toegang tot talle naslaanwerke, waaronder woordeboeke en ensiklopedieë. Wanneer 'n gebruiker 'n bepaalde woordeboek, byvoorbeeld die American Heritage Dictionary, via die Credo-diens oopmaak (skermskoot 8), is daar die opsie om die soekwoord in 'n kassie in te tik wat tot 'n soektog in 'n hele reeks woordeboeke lei. Waar die soektog in verskillende woordeboeke is, kry die gebruiker 'n funksionele opeenvolging van artikels met dieselfde gidselement. Dit is makrostruktuurelemente van verskillende woordeboeke wat in een skermskootstruktuur byeengebring word. Hierdie tipe struktuur word nie hier verder bespreek nie.

 

 

Die Credo-gebruiker kan ook die soekwoord in 'n kassie intik wat die soektog tot die spesifieke woordeboek beperk. Die betrokke artikel uit daardie woordeboek word vertoon (skermskoot 9) maar ook ander artikels wat tot die bepaalde artikeldeeltrajek behoort met lemmas waarin die soekwoord optree, byvoorbeeld deeltjiewerkwoorde of samestellings. Hier is daar weer eens sprake van 'n volwaardige artikeldeeltrajek en dus 'n geïmpliseerde makrostruktuur.

 

 

Die openingskerm vir 'n bepaalde woordeboek bied ook die geleentheid om op die hofie "Headings" te klik. Dit neem die gebruiker dan na 'n alfabetbalk en 'n klik op 'n bepaalde alfabetletter maak daardie artikeltrajek oop (skermskoot 10). Dit lei nogmaals tot 'n artikeldeeltrajek met lemmas wat bydra tot die makrostrukturele dekking van die betrokke woordeboek. Hierdie artikeldeel-trajekte verskil nie veel van dié in gedrukte woordeboeke nie.

 

 

Van Dale se aanlynwoordeboeke bied ook die moontlikheid om 'n alfabetiese lysting van lemmas te kry. Vanuit hierdie lemmadeeltrajek kan toegang tot die artikels van die alfabeties geordende lemmas verkry word. Vergelyk skermskoot 11:

 

 

Ook 'n aanlynwoordeboek soos dict cc bied aan gebruikers verskeie artikeldeeltrajekte. Vanaf die openingskerm van dict cc se tweetalige woordeboek met Engels en Duits as taalpaar kan 'n gebruiker die verlangde woord in die toepaslike kassie intik om 'n mini-artikeldeeltrajek te kry (skermskoot 12) wat die verlangde woord, (hier die Engelse woord safe), bevat, asook die Duitse woord Safe en 'n kort reeksie verdere lemmata met die soekwoord as komponent. Deur dan op die verlangde woord te klik, word toegang tot die betrokke artikel verkry.

 

 

'n Alternatief is om op 'n letter van die alfabetbalk te klik. Die gebruiker kry dan toegang tot 'n register van woorde wat met die betrokke letter begin (skermskoot 13) en hulle "bladsynommers" in die woordeboek. 'n Klik op enige inskrywing in die register neem die gebruiker na die artikeldeeltrajek op die bladsy wat die betrokke woord bevat (skermskoot 14). Waar 'n register ofartikeltrajek oopgemaak is, kan die gebruiker met die muis deur die hele registerdeeltrajek of die betrokke bladsy beweeg. Binne so 'n trajek word al die lemmata in streng alfabetiese ordening aangebied.

 

 

 

 

Die artikeltrajek, soos gesien in skermskoot 14, bevat nie net die brontaalllemmas nie, maar ook die vertaalekwivalente en vorm dus verkorte woordeboekartikels. Deur op enige lemma te klik, kry die gebruiker toegang tot die volle artikel. 'n Klik op die vertaalekwivalent wissel die makrostruktuurrigting en lei die gebruiker na die Duitse lemma as brontaalvorm in die woordeboek - vergelyk skermskoot 15. Vir sowel die rigting Engels-Duits as Duits-Engels bly 'n alfabetbalk bo-aan die skerm beskikbaar sodat die gebruiker na ander artikeltrajekte kan oorskakel. Op die skerm is die gebruiker dus voortdurend daarvan bewus dat die artikel wat geraadpleeg word, deel is van 'n omvattender data-aanbod en dat toegang tot die makrostrukturele dekking van die woordeboek deurgaans via die alfabetbalk beskikbaar is.

 

 

4.2.3 Nisting en nesting

Alhoewel nistings- en nestingsprosedures primêr vir die makrostrukture van gedrukte woordeboeke ontwerp is, tree geniste en geneste artikeldeeltrajekte ook in e-woordeboeke op. Skermskoot 16 wys artikels wat gevind word wanneer die lemma chair in die American Heritage Dictionary gesoek word. Die artikel van chair word onmiddellik gevolg deur artikels van die lemmata rocking chair, barrel chair, club chair en deck chair. Hierdie artikeldeeltrajek is 'n voorbeeld van tweedevlakse nesting, aangesien daar op klusterinterne en klustereksterne vlak 'n afwyking van die alfabetiese volgorde is. Elkeen van hierdie lemmata kan ook per afsonderlike soektog via die kitstoegangsproses bereik word. Dan tree hulle nie in hierdie nes op nie. Die artikeltrajekstruktuur in hierdie woordeboek maak dit soms vir die gebruiker moontlik om 'n bepaalde lemma losstaande van verwante lemmas en soms as lid van 'n nes te vind. Hierdie vindmoontlikhede dui op makrostrukturele kenmerke waaroor e-woordeboeke beskik, maar wat nie in gedrukte woordeboeke voorkom nie.

 

 

Eerstevlakse nesting kom ook in e-woordeboeke voor. In die Oxford English Dictionary sluit die bewerking van 'n woord ook 'n bewerking van sy samestellings in. Geheg aan die artikel van die lemma lorry, is daar 'n komplekse nes met verskeie geneste artikeldeeltrajekte waarvan die lemmata samestellings met lorry as eerste komponent is. Die subneste handhaaf die interne, maar nie die eksterne alfabetiese ordening nie. Dit sluit voorbeelde in soos lorry driver, lorry driving, lorry load, lorry man, lorry wheel in een subnes, lorry-borne en lorry-bus in 'n volgende subnes en lorry-jump en lorry park in 'n verdere subnes. 'n Soektog na byvoorbeeld lorry driver met behulp van die kitstoegangsproses neem die gebruiker na dieselfde artikel wat ook via die lemma lorry in die betrokke geneste artikeldeeltrajek gevind kan word.

Nisting kom ook voor as funksionele artikeldeeltrajekte, (vergelyk Wiegand, Beer en Gouws 2013:48). In die ANW is een van die datatipes van die mikrostrukturele aanbod die sogenaamde woordfamilie. 'n Klik op hierdie spyskaartinskrywing lei die gebruiker onder meer na samestelllings met die betrokke woord wat deur die lemma voorgestel word as eerste of tweede stam. Die lysting met die woord as eerste stam bied 'n alfabetiese ordening van samestellings. Dit as sodanig is geen lemmakluster nie. In die ANW is daardie samestellings in die woordfamilielys wat ook lemmastatus het in blou gedruk en ook onderstreep. 'n Klik op een van hierdie samestellings neem die gebruiker na die betrokke artikel. Hierdie lemmata in die woordfamilielys kan beskou word as 'n onderbroke nis, of selfs 'n voorbeeld van veelvuldige nisting, (vergelyk Gouws 2005a). Skermskoot 17 wys 'n deel van die lemma kalf se behandeling en die lys woordfamilielede, met die onderstreepte vorme wat tot die nis behoort en hier 'n funksionele lemmadeeltrajek verteenwoordig.

 

 

5. TEN SLOTTE

Alhoewel e-woordeboeke nie 'n tradisionele makrostruktuur vertoon nie is daar genoeg bewyse van artikeltrajekte en artikeldeeltrajekte wat as onmiddellike stukke van die databasis se lemmaver-sameling wel makrostrukturele kenmerke aan e-woordeboeke toeken. Die artikeldeeltrajekte behoort tot verskillende tipes, onder meer alfabetiese en tematiese deeltrajekte. Dieselfde lemmata kan in verskillende artikeldeeltrajekte optree. Dit is 'n eiesoortige karakter van e-woordeboeke en hulle makrostrukturele kenmerke. Daarnaas vertoon e-woordeboeke ook lemmatrajekte en lemmadeeltrajekte. Die gebruik van alfabetbalke is 'n belangrike toegangshulpmiddel in e-woordeboeke om bykomende toegangsroetes na artikel- en lemmatrajekte te bied.

In die beplanning van e-woordeboeke is die samestelling van die databasis uiters belangrik om die nodige dataverspreiding en inligtingonttrekking moontlik te maak. Deur die lemmaordeningstrukture, meestal artikel- en lemmatrajekte, vertoon e-woordeboeke makrostrukturele kenmerke, alhoewel 'n tradisionele makrostruktuur dalk ontbreek. Die ordeningstrukture verseker bykomende moontlikhede vir die soek en vind van lemmata wat as makrostrukturele elemente van e-woordeboeke optree.

 

ACKNOWLEDGEMENT

This work is based on the research supported in part by the National Research Foundation of South Africa (Grant-specific unique reference number (UID) 85434). The Grantholder acknowledges that opinions, findings and conclusions or recommendations expressed in any publication generated by the NRF supported research are that ofthe author(s), and that the NRF accepts no liability whatsoever in this regard. This research is also conducted within the SeLA project (Scientific e-Lexicography for Africa), supported by a grant from the German Ministry for Education and Research, administered by the DAAD.

 

BIBLIOGRAFIE

Woordeboeke

Gedrukte woordeboeke

De Sousa, J. M. 1995. Diccionario de lexicografia práctica. Barcelona.         [ Links ]

De Villiers, Meyer et al. 1987. Nasionale Woordeboek. Kaapstad: Nasou.         [ Links ]

Eksteen, L.C. etal. (reds.) 199714. Groot Woordeboek/Major Dictionary. Kaapstad: Pharos.         [ Links ]

Labuschagne, F.J. & L.C. Eksteen (reds.). 19938. Verklarende Afrikaanse Woordeboek. Pretoria: J.L.vanSchaik.         [ Links ]

Odendal, F.F & R.H. Gouws 2005. Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Kaapstad: Pearson.         [ Links ]

e-Woordeboeke

Algemeen Nederlands Woordenboek, http://anw.inl.nl/search

American Heritage Dictionary, http://ahdictionary.com/dictcc, http://www.dict.cc/

Oxford English Dictionary, http://www.oed.com/

Van Dale woordenboeken, http://www.vandale.be/opzoeken

Ander bronne

De Schryver, G-M. 2013. Tools to support the design of a macrostructure. In Gouws, R.H. et al. (eds). 2013:1384-1395.         [ Links ]

Gouws, R.H. 2001. The use ofan improved access structure in dictionaries. Lexikos11:101-111.         [ Links ]

Gouws, R.H. 2005. Meilensteine auf dem historischen Weg der Metalexikographie. Lexicographica, 21:158-178.         [ Links ]

Gouws, R. H. 2005a. Multiple niching. In Gottlieb, H., Mogensen, J. E., Zettersten. A. (eds), Symposium on Lexicography XI. Tübingen: Max Niemeyer, pp. 261-275.         [ Links ]

Gouws, R.H. 2011. Learning, unlearning and innovation in the planning of electronic dictionaries. In Fuertes-Oliviera, PA& Bergenholtz, H (eds). 2011. e-lexicography. London: Continuum, pp.17-29.         [ Links ]

Gouws, R.H., Heid, U., Schweickard, W., Wiegand, H.E. (eds). 2013. An International Encyclopedia of Lexicography. Supplementary Volume: Recent Developments with Focus on Electronic and Computational Lexicography. Berlin: De Gruyter.         [ Links ]

Gouws, R.H. & Prinsloo, D.J. 2005. Principles and practice of South African Lexicography. Stellenbosch: Sun Media.         [ Links ]

Haensch, G., Wolf, L., Ettinger, S. & Werner, R. 1982. La lexicografía. De la língúísticateórica a la lexicografíapráctica. Bibliotecarománicahispánica. III. Manuales 56. Madrid.         [ Links ]

Hartmann, R.R.K. & James, G. 1998. Dictionary of Lexicography. London: Routledge.         [ Links ]

Hausmann, F.J. & Wiegand, H.E. 1989. Component Parts and Structures of General Monolingual Dictionaries: ASurvey. In: Hausmann, F.J. etal. (eds). 1989-1991: 328-360.         [ Links ]

Hausmann, F.J. et al. (eds). 1989-1991. Wörterbücher. Dictionaries. Dictionnaires. An International Encyclopedia of Lexicography. Berlin: De Gruyter.         [ Links ]

Müller-Spitzer, C. 2013.Textual structures in electronic dictionaries. In Gouws, R.H. et al. (eds) 2013: 367-381.         [ Links ]

Nielsen, S. 1990. Lexicographic Macrostructures. Hermes 4:49-66.         [ Links ]

Rey-Debove, J. 1971. Êtude linguistique et sémiotique des dictionnairesfran ais contemporains Approaches to Semiotics 13. The Hague.         [ Links ]

Tarp, S. 2008. Lexicography in the Borderland between Knowledge and Non-Knowledge. General Lexicographical Theory with Particular Focus on Learner 's Lexicography.Tübingen: Max Niemeyer.         [ Links ]

Wiegand, H.E. 1984. On the structure and contents of ageneral theory of lexicography. In Hartmann, R.R.K. (ed.) 1984. LexExter '83 Proceedings. Tübingen: Max Niemeyer, pp.13-30.         [ Links ]

Wiegand, H. E. 1988. Wörterbuchartikel als Text. In: Harras, G. (Hrsg.): Das Wörterbuch. Artikel und Verweisstrukturen. Jahrbuch 1987 des Instituts für deutsche Sprache. Dusseldorf: 30-120.         [ Links ]

Wiegand, H.E. 1989. Aspekte der Makrostruktur im allgemeinen einsprachigen Wörterbuch: alphabetische Anordnungsformen und ihre Probleme. In Hausmann, F.J. et al. (eds) 1989-1991: 371-409.         [ Links ]

Wiegand, H.E. 1989a. Der Begriff der Mikrostruktur: Geschichte, Probleme, Perspektiven. In Hausmann, F.J. etal. (eds). 1989-1991: 409-462.         [ Links ]

Wiegand, H.E. 1989b. Arten von Mikrostrukturen im allgemeinen einsprachigen Wörterbuch. In Hausmann, F.J. etal. (eds). 1989-1991:, 462-501.         [ Links ]

Wiegand, H.E. 1996. Das Konzept der semiintegrierten Mikrostrukturen. Ein Beitrag zur Theorie zweisprachiger PrintWörterbucher. In Wiegand, H.E. (Hrsg.). 1996. Wörterbücher in der Diskussion II. Tübingen: Max Niemeyer, pp.1-82.         [ Links ]

Wiegand, H.E. & Gouws, R.H. 2013. Macrostructures in printed dictionaries. In Gouws, R.H. et al. (eds.). 2013: 73-110.         [ Links ]

Wiegand, H.E., Beer, S. & Gouws, R.H. 2013. Textual structures in printed dictionaries: An overview. In Gouws, R.H. et al. (eds). 2013: 31-73        [ Links ]

 

 

Rufus Gouws is Professor in Afrikaanse taalkunde in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy navorsing fokus primêr op die metaleksikografie en woordeboek-navorsing - 'n gebied waarin hy op nasionale en internasionale vlak wyd publiseer. Hy is 'n redakteur van twee toonaangewende internasionale tydskrifte in die leksikografie, te wete Lexikos en Lexico-graphica, asook van die boekreeks Lexicographica Series Maior. Gouws is 'n NNS-geëvalueerde navorser en die ontvanger van verskeie beurse, pryse en toekennings, onder meer die SA Akademie se CJ Langenhovenprys vir Taalwetenskap. Hy vul sy werk in die teoretiese leksikografie aan met aktiewe deelname aan die leksikografiepraktyk as redakteur/ mederedakteur van verskillende woordeboeke, onder meer die bekende Afrikaanse woordeboek HAT, die internasionale Wörterbuch zur Lexikographie und Wörterbuchforschung/Dictionary of lexicography and dictionary research en ANNA, die vernuwende woordeboek met Nederlands en Afrikaans as taalpaar.
Rufus Gouws is Professor of Afrikaans linguistics in the Department of Afrikaans and Dutch at the University of Stellenbosch. In his research he focuses primarily on metalexicography and dictionary research - a field in which he publishes widely nationally as well as internationally. He is editor of two renowned international journals on lexicography, namely Lexikos and Lexicographica, as well as the book series Lexicographica Series Maior. Gouws is a NRF rated researcher and the recipient of a number of prizes and awards, inter alia the CJ Langenhoven prize for Linguistcs, awarded by the South Aftican Academy for Science and Arts. He complements his work in the field of theoretical lexicography with active participation in the practice of lexicography in his capacity as editor or co-editor of various dictionaries, among which the well-known Afrikaans dictionary HAT, the international Wörterbuch zur Lexikographie und Wörterbuch-forschung/Dictionary of lexicography and dictionary research and ANNA, the innovative dictionary pairing Afrikaans and Dutch.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons