SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.54 número3Rhetorical figures as intellectual play in advertising communicationMacrostructural adaptations between printed and e-dictionaries índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912

Tydskr. geesteswet. vol.54 no.3 Pretoria Set. 2014

 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS

 

Taalverval met besondere verwysing na die ideologieë en praktyke van verstaatliking

 

Language deterioration with specific reference to the ideologies and practices of statism

 

 

Koos Malan

Departement Publiekreg, Universiteit van Pretoria, E-pos: koos.malan@up.ac.za

 

 


OPSOMMING

In hierdie artikel word aangevoer dat verstaatliking in die moderne tydperk die belangrikste oorsaak vir die verdwyning van tale is. Verstaatliking verwys eerstens na die omvangryke territoriale staat, waarin 'n bepaalde dominante elite neig om sy eie karakter en identiteit aan die staat as sodanig toe te dig en van alle ander gemeenskappe (in 'n nie-oorheersende posisie) vereis om hulself in hierdie staatlike identiteit op te los. Tweedens verwys dit na die moderne industriële ekonomie, wat 'n sterk homogeniserende krag is wat eentaligheid in die hand werk. Derdens verwys dit na die ideologie van verstaatliking wat regverdiging vir die homogeniserende staat verskaf. Opvallend van die ideologie van verstaatliking is dat dit omvattend is en in verskeie verskyningsvorme oral oor die spektrum van die ideologiese skaal manifesteer. Dit sluit regse nasionalisme, Jakobinisme, tendense van die liberale politiek asook die linkse sosialisme in. In weerwil van die oënskynlik beduidende verskille tussen hierdie ideologieë en bypassende praktyke, wat oor die afgelope eeue van die belangrikste kragte in die politiek was, is hulle veranker in 'n enkele gemeenskaplike ideologiese matriks, naamlik dié van verstaatliking. Ofskoon daar 'n groeiende tendens in sowel die politieke denke as staatsregtelike praktyk is om minderheidsgemeenskappe met hulle eiesoortige kulturele bates (soos hulle tale) op 'n demokratiese wyse te akkommodeer, het die ideologie van verstaatliking nog lank nie sy houvas verloor nie en hou dit steeds 'n enorme bedreiging vir die voortbestaan van minderheidstale tale en minderheidsgemeenskappe in.

Trefwoorde: Verstaatliking, Jakobyns, liberalisme (Engels en Amerikaans), Ernst Gellner, homogenisering, eentaligheid, territoriale staat, industriële ekonomie, linkse ideologie, nasionalisme


ABSTRACT

It is argued in this article that the ideology ofstatism has been playing a major part in the accelerated rate of the deterioration and extinction of languages. Beginning with some general observations on the reason for language deterioration and extinction the emphasis subsequently shifts to the ideology of statism as a major factor determining the fate of minority languages. Statism refers to the territorial state with its single largely industrialised economy spanning the territory of the whole state and organised in terms of its own distinctive statist ideology, that reinforces and justifies a state-wide homogeneous nation and the monolingualism of a single dominant (state) language to the detriment of all other (minority) languages. The statist ideology might be slanting to the left, the right or the liberal centre but it always acts in defence and in support of the homogenising monolingual territorial state. The statist ideology and the dictates of the industrialised economy are interdependent and mutually reinforcing, both working towards the homogenisations and monolingualism of the territorial state. Statism harks back to the consolidation of the modern territorial state in England and France in the sixteenth century, soon followed by the other European territorial states and thereafter in the rest of the world. The advent of the first territorial states was accompanied with the emergence of large scale industrial homogenising economies in the place of the erstwhile localised agrarian economies. In discussing the homogenising and particularly monolingual consequences of the state-wide industrial economy the elucidating insights of Ernst Gellner are discussed in some detail. The ideology of statism comes in a variety of mutations spanning the entire ideological spectrum from left to right, however consistently having the same homogenising goal and effect also as far as language is concerned. All these ideologies, regardless of how divergent they are, are in the final analysis species of the same larger genus, namely the ideology of statism. In dealing with these species the French position with a more specific emphasis on the Jacobin and nationalist policies in relation to languages since the French Revolution is first dealt with. This is followed by an assessment of the position of language in terms of the right-wing nationalist approach in Spain which reached its zenith under the dictatorship of Franco. Thereafter the approach to language in Britain is discussed with reference to the impact of Anglicisation upon the Celtic languages of the British Isles. This approach was at least in part founded upon and received further momentum in the convictions articulated by some of the foremost liberal political theorists such as John Stuart Mill. The American approach - seemingly the purist liberal one - is then discussed with reference to the impact of monoculturalism on the minority languages of the United States. Subesequently, the focus shifts to the other extreme of the ideological spectrum when the Leftist approach to language with reference to Marx and Engels is assessed. The discussion reveals that the approaches in relation to languages were, if not in theoretical design, then most certainly in purpose and effect essentially the same in terms of all these ideological positions irrespective of the ideological orientations of their authors. What all of these approaches share - whether pursued from the left, right or the liberal centre - is the statist ideology which serves as the common foundation for all of them. The conclusion drawn from this is that smaller languages, that is, languages with minoritised linguistic communities stand in the way of an encompassing collection of modern ideologies that share the common ideological matrix of statism. Smaller languages and their communities are therefore imperilled by the broadly encompassing ideology of statism and not merely by an ideological assault forthcoming from a right-wing, left-wing or similarly distinctive ideology that occupies a specific position on the ideological spectrum. It is this encompassing challenge of statism that smaller linguistic communities need to overcome.

Key words: Statism, Jacobin, Liberalism (English and American), Ernst Gellner, homogenisation, monolingualism, territorial state, industrial economy, leftist ideology, nationalism


 

 

1. INLEIDING

Gedurende die laaste 500 jaar het die verdwyning van tale drasties verhaas en het meer as die helfte van die wêreld se tale uitgesterf. Volgens Klauss (1992:410) is die proses steeds in volle swang met baie tale wat hul lewenskrag verbeur het aangesien hulle taalgemeenskappe te klein is en die kinders in dié gemeenskappe nie meer die tale as moedertale aanleer nie. Afdeling 2 bied 'n kort agtergrondskets oor die redes en oorsake vir die agteruitgang van tale. Afdeling 3 bring my by die hooftema van hierdie artikel, naamlik dat die agteruitgang en uitsterf van tale in beduidende mate deur verstaatliking veroorsaak word. Verstaatliking is 'n homogeniserende ideologie wat met die moderne territoriale staat vereenselwig word. Dit word in Afdeling 3 toegelig. In Afdeling 4 word die belangrikste manifestasies van die ideologie van verstaatliking behandel. Die bespreking bring aan die lig dat 'n breë spektrum van moderne ideologieë van links tot regs op die ideologiese skaal 'n gemeenskaplike ideologiese matriks - dié van verstaatliking - deel. Kleiner tale en hulle gemeenskappe het derhalwe in wese met die algemene ideologie en praktyk, naamlik dié van verstaatliking, te kampe en nie bloot met 'n beperkte ideologiese aanslag wat hetsy vanuit die linker, regter of dergelike hoek op die ideologiese skaal afkomstig is nie.

 

2. TAALAGTERUITGANG

Alhoewel tale kan uitsterf omdat hulle taalgemeenskappe self uitsterf of uitgewis word (Crystal 2000:72), is die meer algemene verskynsel dat die gemeenskappe (die mense) bly voortbestaan terwyl hulle tale uitsterf. Dit gebeur vanweë kulturele assimilasie (Crystal 2000:77), dit wil sê grootskaalse taalverplasing wanneer die lede van een taalgemeenskap van hul eertydse moedertaal afstand doen en 'n nuwe taal aanvaar.

Taalverplasing is deeglik in die sosiolinguistiek beskryf.1 Die een taal, die oorheersende taal, geniet politieke en ekonomiese ondersteuning en prestige as die taal van regering en openbare administrasie, die taal waarin ekonomies voordelige bedrywighede beoefen (kan) word en die taal van geleerdheid. Dit is ook die taal wat 'n mens magtig moet wees om winsgewend aan gevorderde ekonomiese bedrywighede deel te neem om sodoende welvarend te word en sosiale opgang te maak. Dit is gewoonlik 'n goed ontwikkelde literêre taal wat met 'n gevorderde fynkultuur vereenselwig word. Die oorheersende taal is gewoonlik ook die metropolitaanse taal waar dergelike gevorderde ekonomiese bedrywighede gesentreer is en die moontlikhede van welvaart en sosiale opgang gegenereer word. Die ander tale - die onderhorige of minderheidstale geniet nie dieselfde geleenthede as die oorheersende tale nie of beskik nie (in dieselfde mate) daaroor nie en kan derhalwe nie aan hulle sprekers dieselfde voordele as die oorheersende taal bied nie. Hulle is die "agterlike" tale van die platteland wat met ekonomiese verstarring vereenselwig word. Die moedertaalsprekers van hierdie tale ontwikkel gewoonlik ook 'n lae dunk van hulle tale en is teësinnig om verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar, wat juis een van die voorwaardes vir die behoud van enige taal is (Crystal 2000:117).

Taalverplasing begin gewoonlik met groeiende druk op die sprekers van die onderhorige taal om die oorheersende taal te gebruik, meer bepaald vir die sogenaamde hoër en formele taalfunksies ten einde in die ekonomiese en sosiale voordele van die oorheersende taal te deel. Gevolglik gebruik die sprekers van die minderheidstaal twee tale, 'n verskynsel bekend as diglossie, wat 'n soort nadelige tweetaligheid is, en wat hier onder toegelig word. Die oorheersende taal word vir al die hoër taalfunksies van die ekonomie, politiek, regering, die professies en hoër- en beroepsonderwys gebruik terwyl die onderhorige taal slegs vir die sosiale en private en moontlik vir godsdienstige en laer onderwys aangewend word. Met elke domeinverlies van die onderhorige taal, namate dit nie meer vir die hoër funksies gebruik word nie, is daar terselfdertyd ook 'n verlies aan woordeskat en uitdrukkingsvermoë.

Dit baan die weg na die kreeftegang en uiteindelike verdwyning van die onderhorige taal: gestroop van 'n groeiende aantal domeine van taalgebruik, bly daar ten slotte beswaarlik enige onderwerpe en enige geskikte woordeskat oor waarmee die taal gebesig kan word. Die verlies aan taalfunksies gaan gewoonlik gepaard met 'n verlies aan sprekers van die taal. Die rede hiervoor is dat indien die taal nie oor gebruikswaarde vir die doel van die hoër funksies beskik nie, die motivering vir die voortgesette gebruik daarvan verval. Die tweetaligheid vanweë sodanige taalverskuiwing is bloot tydelik. Die tweetaligheid baan bloot die weg na die volkome vervanging van die onderhorige deur die oorheersende taal. Gedurende die tweetalige fase bly albei die tale voorlopig naas mekaar bestaan. Dit word egter gekenmerk deur 'n dalende getal sprekers van die onderhorige taal wat die taal bowendien algaande minder vloeiend praat namate die onderhorige taal geleidelik minder en ook in minder taaldomeine gebruik word. Die gehalte van die taalgebruik in die onderhorige taal verswak ook omdat die sprekers van die onderhorige taal te midde van die oorweldigende aanwesigheid van die oorheersende taal al hoe meer woorde en frases van die oorheersende taal in die onderhorige taal invleg. Die sprekers van die minderheidstaal wie se ekonomiese opgang van behoorlike beheer oor die dominante taal afhanklik is en wat die oorheersende taal hoog ag omdat dit so voordelig is, probeer dié taal so goed as moontlik bemeester terwyl hul gebruik van hulle eie taal, vol woorde en frases van die dominante taal, al verder verswak. Uiteindelik word die onderhorige taal spoedig deur die oorheersende taal verplaas (May 2001:12).

Ekonomiese kragte speel van oudsher 'n beslissende rol in taalverskuiwing. Die ekonomiese ontluiking van die afgelope eeue het dikwels die onderskeid tussen die metropolitaanse tale en die onderhorige randtale geskep of andersins verskerp. Sprekers van die randtale is in die metropolitaanse ekonomie ingesuig waar dit die kultuur, geldstelsel, handelsgebruike en uiteraard ook die taal van die metropool aangeneem het met voor die hand liggende vernietiging van die ekonomieë, kulture en tale van die periferie.

 

3. VERSTAATLIKING: DIE TERRITORIALE STAAT, SY EKONOMIE EN HOMOGENISERENDE IDEOLOGIE

In die moderne era het verstaatliking 'n beslissende krag in die lotgevalle van tale geword. Verstaatliking verwys na die territoriale staat met 'n enkele grootliks industriële ekonomie wat oor die hele staatsgebied strek en ooreenkomstig 'n eiesoortige staatlike ideologie ingerig word. Dié ideologie legitimeer die afdwing van 'n enkele staatswye homogene nasie en die eentaligheid van 'n enkele oorheersende taal (staatstaal) tot die nadeel van ander tale. Die staatlike ideologie kan na regs, links of na die sentrum neig. Dit funksioneer egter altyd ter bevordering en verdediging van die staat met sy homogene nasie. Die staatlike ideologie en die eise van die geïndustrialiseerde ekonomie is interafhanklik en wedersyds versterkend: albei werk ter totstandkoming van die homogenisering en eentaligheid van die territoriale staat.

Die territoriale staat het vir die eerste keer in die Westerse Wêreld gedurende die 16de en 17de eeue op die voorgrond getree. Terselfdertyd het bypassende staatlike ideologieë hulle verskyning gemaak. In die daaropvolgende eeue het die volledige pakket van verstaatliking vorm aangeneem toe ideologieë van verstaatliking tydens die Franse Rewolusie hoogty gevier het en industriële ekonomieë in die destydse verste ontwikkelde gemeenskappe gevestig is. Vir die doel van hierdie bespreking is die volgende eienskappe van die territoriale staat wesenlik:

Die territoriale staat - en ek verkies dié benaming bo die algemene wanbenaming "nasiestaat"2 - word veral deur die volgende drie eienskappe gekenmerk:

Eerstens word die staat in teoretisering in die politieke wetenskap en die (publiek)reg asook in die politieke praktyk formalisties beskou as 'n afgebakende gebied wat enige (arbitrêre) versameling van mense huisves ongeag die kulturele, taalkundige of welke ander eienskappe ook al van die bevolking. Derhalwe word nie vereis dat die bevolking by die staat se totstandkoming deur reeds bestaande bande van 'n gemeenskaplike kultuur, taal of iets dergeliks geheg word nie. Trouens, vanweë oorlog, onderwerping en kolonialisme is staatsgrense dikwels baie arbitrêr. Hierdie beskouing oor die verhouding tussen gebied en bevolking dateer terug na die grondliggende teoretisering oor die destyds ontluikende territoriale staat in die werk van John Locke, volgens wie die staat nie deur 'n gemeenskap bewoon is nie, maar deur "any number of men" (Locke 1992:89, 95, 96).

Tweedens word die staat nie beskou as die beliggaming van 'n daadwerklike menslike gemeenskap gebaseer op aktiewe gemeenskaplike burgerskap, soos byvoorbeeld in die klassieke (Atheense) filosofie (vgl. Aristoteles 1962:Boek III, hoofstuk 13:131; Boek III, hoofstuk 1:103; Boek III, hoofstuk 5:112) en politiek nie. Gemeenskaplikhede van taal, kultuur en dergelike ooreenkomste is derhalwe geen vereiste vir staatskap nie. Trouens, soos hierbo, synde die versameling van enige aantal mense (any number of persons) is die staat eerder die beliggaming en gevolg van die afwesigheid van daadwerklike gemeenskap, naamlik 'n blote klomp mense in 'n toestand van onderlinge spanning waarin die bevolking ten slotte slegs een faktor gemeen het, naamlik die behoefte aan regsmiddele, meer bepaald konflik-regulerende middels wat deur 'n magtige staat geadministreer word.

Die derde eienskap is dié van sogenaamde nasiebou, oftewel staatsbou. Die territoriale state het bykans sedert hulle vroegste oorsprong gepoog om die verskeidenheid van kultuur- en taalgemeenskappe binne hulle grense in 'n enkele verkieslik eentalige staatsnasie te omskep waarin die oorheersende taal en kultuur as 'n maatstaf en dwingende middel aangewend is om eenvormigheid te bewerkstellig (Skutnabb-Kangas & Phillipson 1994b:74).

Kragtens hierdie staatsbouprojekte het regerings van kultureel en taalkundig heterogene state programme geloods om 'n enkele verstaatlikte gemeenskap uit die verskeidenheid van hulle bevolkings te skep. Taal- en kultuurgemeenskappe is gedwing om hulleself te ontbind ten einde in 'n enkele verstaatlikte gemeenskap, wat volgens die voorgeskrewe beeld van die staatsnasie herskep is, geassimileer te word. Sodoende het die staat deur middel van die magte in beheer daarvan die rol van die aktiewe agent aangeneem (Friedrich 1963:5478), wat 'n staatlike kultuur aan alle gemeenskappe voorgeskryf en afgedwing het.

In sy moderne gedaante het hierdie aktivistiese "nasieskeppende" territoriale state in Europa ontstaan (Roberts 1996:287) vanwaar dit in navolging van die Europese voorbeeld na die eertydse koloniale gebiede veral in Afrika (Nettle & Romaine 2000:175; sien ook verder in die algemeen Mutua 1995) uitgevoer is. Hier gedy die staatlike kulture en veral die staatstale steeds as die dominante tale in die Afrikastate wat die koloniale moondhede op die Afrikabodem uitgekerf het, lank nadat die koloniale moondhede hulle politieke mag in die kolonies laat vaar het (Malan 2012:625).

Die staatsnasie het allermins 'n neutrale karakter. Gewoonlik het die staatsnasie sy oorsprong in die oorheersende gemeenskap in die territoriale staat - gewoonlik die meerderheid - wat sy eie groepsidentiteit met die staat as sodanig vereenselwig en dit dan op die res van die bevolking - die nie-dominante minderhede - afdwing.

Die homogeniserende staatlike ideologie van eentaligheid is nie tot een posisie op die ideologiese skaal beperk nie. Dit is nie links, regs of liberaal nie maar oorspan al die posisies op die ideologiese skaal. Derhalwe is dit 'n gemeenskaplike en omvattende neiging van staatsregerings, ongeag die heersende spesifieke ideologiese neiging, om staatlike beleide van nasiebou af te dwing wat daarop gemik is om homogene staatlike nasies te skep en kulturele heterogeniteit op te ruim.

Die kritieke belang van taal in die lewe van die meeste kultuurgemeenskappe en vir die instandhouding van kulturele diversiteit verklaar waarom staatlike ideologieë en programme die vestiging van eentaligheid vir die staat nastreef. Vir daardie doel is een taal - dié van die regerende elite - gekies wat dan op alle gemeenskappe afgedwing is. Terselfdertyd is die tale van gemeen-skappe deurlopend as die belangrikste struikelblok beskou in die weg na die skepping van 'n homogene staat. Daarom wil staatsbouprojekte tale vernietig of ten minste opsy skuif.

Die verskynsel van verstaatliking is egter nie bloot 'n ideologiese kwessie nie. Verstaatliking het ook 'n materiële grondslag wat in die gedaante van die nywerheidsekonomieë sedert die middel van die 18de eeu in Wes Europa op die voorgrond getree het in die einste state waarin die nasiebouideologieë aanvanklik geloods is. Die materialistiese faktor in die gestalte van die staatswye industriële ekonomie en die ideële faktor in die ideologie van staatsbou is interafhanklik en wedersyds versterkend: die geïndustrialiseerde ekonomie het enersyds ideologieë van staatsbou wat eentaligheid moes regverdig benodig en het andersyds juis die vonk vir die verdere versterking van hierdie ideologieë verskaf.

Gellner (1983) het die homogenisering en eentaligheidsdruk van staatswye industriële ekonomieë insiggewend blootgelê deur dit met die taaldinamika van die eertydse veragterlikte landbou-ekonomieë te kontrasteer. Hy verduidelik dat die voor-moderne landbou-ekonomieë gefragmenteerd, geïsoleerd en territoriaal beperk was. Mense het hoofsaaklik met eenvoudige werktuie gewerk en nie soseer met ander mense nie. Hulle ekonomiese aktiwiteit was grootliks tot hulle onmiddellike fisiese leefwêreld beperk. Mense wat ver van mekaar gewoon het, was nie met mekaar in verbinding nie en kon dus nie met mekaar kommunikeer nie. Dienooreenkomstig het hulle ekonomiese bedrywighede wat op die onmiddellike fisiese omgewing afgestem was, ook nie kommunikasie met ander mense wat fisies ver verwyder was, vereis nie. Vir sover daar gekommunikeer moes word, was dit slegs binne die konteks van die klein hegte plaaslike ekonomieë. Dit kon hulle in hul eie plaaslike tale doen. Dit was nie nodig om 'n gemeenskaplike nie-plaaslike taal te bemeester ten einde ekonomies doeltreffend te wees nie (Gellner 1983:42) en 'n mens kon grootliks met mondelinge kommunikasie in die klein plaaslike ekonomieë oor die weg kom.

Die industriële ekonomieë wat in die reeds bestaande territoriale state ontwikkel het, het dit alles verander. Die aard van werk in hierdie industriële gemeenskappe het heeltemal verskil van die vervloë landbou-ekonomieë. Mense het in die eerste plek nie langer meer gewerk met werktuie wat nodig was om te ploeg, te plant, te skoffel en te oes nie. Inteendeel, nou moes mense, soos Gellner dit stel, met betekenisse - denkbeelde - werk. Die industriële gemeenskap, verduidelik Gellner (1983:34), is op ingewikkelde tegnologie en die verwagting van volgehoue groei gebaseer, wat:

[...] requires both a mobile division of labour, and sustained, frequent and precise communication between strangers involving a sharing of explicit meaning, transmitted in a standard idiom and in writing when required. For a number of converging reasons, this society must be thoroughly exo-educational: each individual is trained by specialists, not just by his own local group, if indeed he has one. Its segments and units - and this society is in any case large, fluid, and in comparison with traditional, agrarian societies very short of internal structures - simply do not possess the capacity or the resources to reproduce their own personnel.

Die ekonomie het die ontplooiing van arbeid op enige plek binne die territoriale staat vereis. Vir daardie doel moes daar 'n mobiele werksmag wees. Dit is hier waar 'n nasionale onderwysstelsel, wat aan die arbeidsbehoeftes van die industriële staat moes voorsien, prominent op die voorgrond tree. Eenvormige onderwys moes 'n werksmag wat behoorlik in die staatstaal geskool is en derhalwe doeltreffend op enige plek in die staat aangewend kon word, lewer. Die industriële ekonomie kon nie onderwys in 'n veelheid van voertale duld nie aangesien dit nie in die industrie se vraag na 'n homogene, eentalige en oral ewe aanwendbare mobiele werksmag kon voorsien nie (Gellner 1983:35). 'n Eentalige nasionale onderwysstelsel is daarom van wesenlike belang vir die staatswye nywerheidsekonomie, aangesien dit 'n geskikte opgeleide mobiele werksmag kan lewer wat die ekonomie juis benodig.

Die industriële territoriale staat se behoefte aan 'n eentalige werksmag wat oral ingespan kan word, beklemtoon die behoefte aan 'n bypassende staatlike ideologie wat homogenisering en eentaligheid op grond van die staat se voorkeurtaal bevorder en die marginalisering van die onderhorige tale en hulle gemeenskappe regverdig. Die ideologieë neem die vorm aan van die moderne territoriaal-staatlike nasionalismes. Hierdie nasionalismes kan beskou word as die legitimerende en selfs romantiserende antwoord op 'n nuwe politiek-ekonomiese werklikheid naamlik dié van die homogeniserende territoriale staat (Gellner 1983:48).

Die bespreking verskuif nou na die wyse waarop die staatlike ideologie wat met die aanbreek van die nywerheidsera verder deur die behoeftes van die geïndustrialiseerde staatlike ekonomie ondersteun is in verskeie sleutel-territoriale state voltrek is, vanwaar dit wêreldwyd versprei het.

 

4. TERRITORIALE STATE EN STAATLIKE IDEOLOGIEË

Die posisie in Frankryk word eerste behandel met verwysing na die Jakobynse nasionalistiese beleidsrigtings met betrekking tot taal sedert die Rewolusie. Daarna volg 'n bondige toeligting van taalbeleid kragtens die regse nasionalistiese benadering in Spanje. Dan volg 'n bespreking van die benadering in Brittanje, wat ten dele op liberale oortuigings geskoei was. Die Amerikaanse benadering, oënskynlik die mees liberale benadering, kom vervolgens aan die beurt. Daarna verwys ek na die verlinkse benadering tot taal veral met verwysing na Marx en Engels. Die bespreking bring aan die lig dat die doelwitte en uitwerking van hierdie strominge telkens wesenlik dieselfde was in weerwil van die verskille in die retoriese inkleding en ideologiese oriëntasie van die outeurs van hierdie beskouings en van regerings se beleid. Wat al hierdie benaderings - links, regs en liberaal - gemeen het, is dat hulle almal spesies van 'n gemeenskaplike staatlike ideologie is.

4.1 Frankryk - Linkse (Jakobynse) nasionalisme

Frankryk is taalkundig die mees heterogene staat in Wes-Europa met sewe minderheidstale (en gemeenskappe) binne sy grense, naamlik Wes-Vlaams, Duitse dialekte, Bretons, Oksetaan, Euskara (Baskies), Frans-Katalaans en Korsikaans (Jacob & Gordon 1985:107). Beskou vanuit hierdie veeltalige agtergrond behoort dit duidelik te wees dat taalbeleid sentraal staan in die Franse projek van staats- en nasiebou, in der mate dat die vereniging en sentralisering van die Franse staat en die groeiende oorheersing van die Franse taal histories saamval (Jacob & Gordon 1985:106). Hierdie parallelle proses is terug te voer tot die vroeë oorsprong van Frankryk as 'n territoriale staat met die afkondiging van die Ordinance de Villers Cotteret in 1539, 'n jaar daarna opgevolg met die Ordinance de Lyon. Volgens hierdie maatreëls moes Frans as die algemene taal van die koninkryk gebruik word. Voor dié maatreëls was die Franse staat eerder op 'n gemeenskaplike geloof, reg en lojaliteit aan die koning gegrond, en nie op 'n gemeenskaplike taal nie. Die Franse monargie het eerder die aard van 'n "mosaïekstaat" (Strayer 1970:23) aangeneem - 'n sameflansing van provinsies wat in die koninkryk saamgesnoer is en waarin die verskeidenheid van tale hoegenaamd nie deur die koninkryk as 'n probleem beleef is nie. Die bogenoemde maatreëls het egter slegs 'n beperkte uitwerking gehad. Ofskoon Frans die taal van die staatsadministrasie was, het dit nooit werklik die algemene taal van die gemeenskap geword nie, eenvoudig omdat die Franse konings nooit 'n aggressiewe taalbeleid in die moderne rewolusionêre sin van die woord gevolg het nie (Grillo 1989:28).

Met die aanbreek van die Rewolusie het wat gedurende die Ancien Regime blote neigings was, in 'n volskaalse politieke leerstuk ontaard. Vir die rewolusionêres was taal een van die belangrike middele vir die skep van 'n enkele homogene Franse "nasionale" identiteit. Nasie, staat en taal is met mekaar vereenselwig en daar was 'n eis vir wat Grillo as die etnifikasie van die staat beskryf (1989:29). Namate die Rewolusie meer ekstreem geraak het, is Frans toenemend met die rewolusionêre denkbeelde van vryheid, verligtheid en die opkoms van Franse staatsnasionalisme vereenselwig (Jacob & Gordon 1985:113). Gevolglik het die rewolusionêres hulle daarvoor beywer om Frans as die enigste staatstaal op die minderhede af te dwing. Dieselfde benadering is daarna weer met hernieude ywer gedurende die periode van die Derde Republiek vanaf 1870 tot 1940 gevolg (Jacob & Gordon 1985:107).

Die kritieke faktor ten grondslag van die afdwing van Frans as die enigste taal van die Franse staat is die rewolusionêre denkbeeld van die nasie. In navolging van die idee van die ondeelbare nasie was die beskouing na 1789 dat soewereiniteit in die homogene nasie - geskoei op die lees van die dominante elite-gemeenskap - in die staat setel. Voortaan sou die nasie (anders as die vors soos tevore) samehang aan die staat verskaf (Grillo 1989:2930). Burgers sou onderdane van die nasie wees en die nasie moes op sy beurt 'n enkele monistiese karakter aanneem, veral wat taal betref. Hierdie sienswyse lê in die kern van die rewolusionêre projek en is deur vooraanstaande woordvoerders van die Rewolusie soos Abbé Grégoire, Curé d'Embermenil, Bertrand Barère, Antonie de Rivarol en Charles Maurice de Talleyrand verwoord.

Abbé Grégoire het 'n verslag aan die Nasionale Vergadering (in Engels) getiteld, "The need and the reason to eradicate the patois and to universalise the use of the French language" voorgelê. Die verslag was 'n beslissende dokument wat die denkwyse van die rewolusie weerspieël het. Dit het beklemtoon dat Frans, synde die enkele samebindende taal van die staat, 'n wesenlike instrument vir die totstandkoming van 'n verenigde staat was. Frans is as die beliggaming van helderheid, rede, vryheid en verligtheid beskou en moes daarom die middel wees om die doelwitte van die Rewolusie te bereik, naamlik die vernietiging van bygeloof, om mense nader aan die waarheid te bring, om talent te ontwikkel, deug aan te kweek en om alle burgers in 'n nasionale eenheid saam te snoer (Grillo 1989:234; Jacob & Gordon:1134). Volgens Grégoire was die patois, in teenstelling met Frans, korrupte tale van bygeloof, agterlikheid en feodalisme. Ten slotte moes daar dus 'n rewolusionêre nasie wees wat deur 'n enkele universele, progressiewe, rasionele taal van rede, gelykheid en verligtheid gedefinieer word, in plaas van deur die lompheid, bygeloof en agterlikheid van die ander tale wat nie oor 'n behoorlike grammatika sou beskik nie (Grillo 1989:334).

In ooreenstemming met hierdie oortuigings is Frans op alle nie-Franse gemeenskappe afgedwing. Onderwys moes volgens dié oortuigings onder die uitsluitlike beheer van die staat wees en moes deur medium van Frans geskied. Die beleid van taal-sentralisme het in die dekreet van Julie 1794 neerslag gevind, wat die nie-Franse tale in regsdokumente met inbegrip van private kontrakte verbied het (Grillo 1989:38).

Toe die Derde Republiek in 1870 tot stand gekom het, is die nasionaliste met die steeds onvoltooide werk van die Rewolusie gekonfronteer, aangesien Frans steeds slegs 'n beperkte houvas op die Franse samelewing gehad het (Jacob & Gordon 1985:1134). Gedurende die tydperk van die Derde Republiek is programme vir die afdwing van Franse eentaligheid met hernieude ywer geloods.

Die Derde Republiek was besonder gesentraliseerd en staatlik-nasionalisties. Dit het bowendien oor 'n doeltreffende administrasie beskik wat 'n ernstige bedreiging vir die minderheidskulture en -tale ingehou het. Regerings van die Derde Republiek het berekend die doelwit van geografiese en psigiese integrasie en eenvormigheid nagejaag en het vir dié doel beleid in werking gestel wat die Oksetaanse akademikus, Robert Lafont, as interne kolonisasie en etniese moord (ethnocide) beskryf het. Hiervolgens is die struktuur van Franse kulturele, ekonomiese en politieke heerskappy op dieselfde wyse op die metropolitaanse provinsies as die oorsese kolonies van Frankryk afgedwing (Jacob & Gordon 1985:116; Grillo 1989:74).

Die Derde Republiek was ook die tydvak van vinnige industrialisasie en die vestiging van 'n staatswye nywerheidsgebaseerde ekonomie wat 'n sterk vraag na 'n doeltreffende opgeleide werksmag gehad het. Dit was juis in hierdie konteks, soos Gellner (1983:3435) verduidelik het, dat die werking van 'n eenvormige onderwysstelsel kritiek belangrik geraak het aangesien alle onderwys voortaan in Frans moes geskied.

Die weermag is ook as 'n instrument vir die bevordering van Franse eenvormigheid aangewend. Die verpligte militêre diensplig wat toe in Frankryk ingestel is, was 'n kragtige instrument van verstaatliking waardeur die minderhede in die homogeniserende weermag geassimileer is. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog is talle Bretonse, Baskiese en Oksetaanse soldate vanuit hulle afgeleë gemeenskappe in militêre eenhede waarin die hegemoniese Franse kultuur geheers het, opgeneem waar hulle noodgedwonge Frans as die lingua franca moes aanleer (Jacob & Gordon 1985:117). Behalwe dat hierdie tale talle sprekers aan Frans afgestaan het, het hulle ook aansien ingeboet aangesien Frans vir openbare doeleindes, in die werksplek en vir literêre gebruik aangewend is terwyl die minderheidstale slegs hoogstens vir private en sosiale gebruik behou is.

Die staatlike programme wat in Frankryk afgedwing is, het die minderheidsgemeenskappe en hulle tale geweldig benadeel. Hulle sprekers het getalmatig afgeneem en vanweë verminderde gebruik veral vir die hoër taalfunksies het die tale aan woordeskat ingeboet. Hulle verkeer gevolglik oor die algemeen in 'n klaaglike toestand.

4.2 Spanje en die regse nasionalisme

Spanje het heelwat later as Engeland en Frankryk as territoriale staat verrys maar in hierdie bespreking behandel ek Spanje onmiddellik na Frankryk, aangesien die Spaanse beleide van eentaligheid net soos dié in Frankryk ook 'n staatsnasionalistiese grondslag gehad het, weliswaar 'n regse in teenstelling met die Jakobynse nasionalisme.

Die Spaanse politieke kultuur, meer bepaald die regse nasionalisme wat vir 'n groot gedeelte van die 20ste eeu daar geheers het, verskil beduidend van die ander politieke kulture wat hier behandel word maar was nagenoeg ewe nadelig teenoor die onderhorige tale.

Ofskoon Kastiliaans verreweg Spanje se oorheersende taal is, het die land verskeie ander tale, sommige waarvan na die beëindiging van die Franco-bewind in 1975 amptelike status in bepaalde gebiede in die land naas Kastiliaans verkry het. Onder hulle tel Katalaans, Galileaans (Gallego) en Baskies (Euskara). Kastiliaans het sedert die begin van die tweede millennium die oorhand oor die hele huidige Spaanse grondgebied verkry deur eers Arabies te verdryf en daarna, veral sedert die begin vanaf die 16de eeu, die ander Europese tale opsy te skuif. Met die opkoms van Spanje as 'n territoriale staat is Katalaans toenemend ten gunste van Kastiliaans benadeel. Na die Spaanse Opvolgingsoorlog (17051714) is Katalonië onder die sentralistiese gesag van die Spaanse kroon geplaas. Met hierdie verlies aan outonomie het Katalaans ook sy status as die amptelike taal van Katalonië prysgegee. Katalaans het onder die kulturele en taalonderdrukking van die sentraliserende Spaanse regering deurgeloop wat Katalaans in die staatsadministrasie, handel en die onderwys verbied het. Die beleid van Kastilianisering het 'n verskil tussen die hoër adel en kerklui, die leër en die staat se amptenare teenoor die res van die bevolking geskep met eersgenoemde wat Kastiliaans gebruik het en die res Katalaans. Vanweë hierdie verdeling is Katalaans as taal van 'n laer orde gestigmatiseer teenoor Kastiliaans wat vanweë sy gebruik vir die hoër taalfunksies ook 'n hoë aansien geniet het. Danksy die swak administrasie van die steeds onderontwikkelde Spaanse staat het Katalaans egter nie geheel en al veld verloor nie. Bowendien was Katalonië een van die eerste gebiede in Spanje wat gedurende die 19de eeu geïndustrialiseer het. Dit het deur die medium van Katalaans gebeur wat daartoe gelei het dat Katalaans in Katalonië die voorkeurtaal van ekonomiese bevoordeling geword het in plaas daarvan om te terug te sak tot 'n verplattelandse taal sonder ekonomiese onderskraging.

Die belangrikste gebeure rakende taal oor die laaste eeu was toe generaal Miguel Primo de Riviera in 1923 die bewind in Spanje oorgeneem en - ondersteun deur sy mede-nasionalistiese offisiere - op die regionaliste veral in Katalonië toegeslaan het waar die Katalaanse gemeenskapsidentiteit sterk was (Rial 1985:99). Die veldtog teen die minderheidstale is egter veral gedurende en na die Spaanse Burgeroorlog (19361939) aggressief deur die nasionaliste onder generaal Franco gevoer wat vasbeslote was om streeksidentiteit en die plaaslike tale uit te roei. Kastiliaans is tot die enigste taal van die koerante, elektroniese media en selfs boeke verhef. Instellings vir die bestudering van die plaaslike kulture is teengestaan en soms heeltemal gesluit. In navolging van amptelike beleid het onderwysers ook van leerlinge vereis om "soos dit Christene betaam" Kastiliaans te praat. Katalaans is as 'n blote dialek bestempel en die regering het selfs Katalaanse name met Kastiliaanse name vervang (May 2001:242).

Veral vanweë die eise van die industriële ekonomie was sommige van die minderheidstale egter reeds voor die instel van hierdie hardvogtige maatreëls onder druk. Kastiliaans was die metropolitaanse taal van nywerheid en ekonomiese bevoordeling en het as sodanig 'n aantrekkingskrag gehad waaroor die ander tale nie beskik het nie. Dit het meegebring dat die elites in Galisië en die Baskiese gebied self "rasioneel gekies" het om hulle kinders in Kastiliaans te laat onderrig (Rial 1985:100). Katalaans daarenteen is deur 'n geïndustrialiseerde stedelike basis in Barcelona ondersteun, wat die ander minderheidstale nie gehad het nie. Nogtans het Franco se nasionalistiese maatreëls baie skade aangerig aan die Katalaanse taal en die getal Katalane wat hul taal behoorlik magtig was, het beduidend gedaal (Rial 1985:101; May 2001:243). Galileaans is buitengewoon nadelig getref deur die kombinasie van die ekonomiese druk van die geïndustrialiseerde ekonomie en staatbeleid. Dit het bykans geheel en al uit die stede verdwyn en het net soos Bretons in Frankryk 'n sukkelende plattelandse taal geword. Op die keper beskou, het die kombinasie van verstedeliking, interne migrasie, die uitbreiding van die nasionale media wat Kastiliaans gebruik, die uitwerking van verpligte onderwys in Kastiliaans en dergelike amptelike maatreëls teen die minderheidstale hierdie tale onberekenbare skade berokken (Rial 1985:101).

Die beëindiging van die Franco-bewind het beter vooruitsigte vir die minderheidstale meegebring. Die nasionale regering is nie meer 'n struikelblok op die weg na die bevordering van hierdie tale deur streeksregerings wat kragtens die huidige Spaanse grondwet ingestel is nie. Dit lyk egter of die minderheidstale blywend benadeel is deur die staatlike politiek wat gedurende die 20ste eeu gevolg is met hulle gepaardgaande verplattelandsing en die meegaande verlies aan aansien, verlies aan ekonomiese nut, verskraalde woordeskat en die verminderde getal moedertaalsprekers. Die vooruitsigte vir veral Galileaans is mistroostig. Daar is 'n baie lae vlak van streeksbewussyn in Galisië en die Galisiërs se verbintenis tot die taal is baie beperk. Euskara is blykbaar in 'n soortgelyke toestand ongeag 'n betreklik skerp kulturele bewussyn en die beduidende streeksoutonomie kragtens die huidige grondwet (Rial 1985:104). Katalaans staan daarenteen baie sterker. Danksy die ekonomiese krag van Barcelona en ander stedelike sentra, geniet Katalaans die ondersteuning van die ekonomiese faktor in plaas daarvan om daardeur benadeel te word. Bowendien word Katalaans ondersteun deur die lojaliteit van sy sprekers en die gepaardgaande bloeiende Katalaanse kultuur.

4.3 Brittanje - (imperiale) liberalisme

In Brittanje was beleidsrigtings van verengelsing teen die Keltiese gebiede van hoofsaaklik Cymru (Wallies), Skots en Iers oënskynlik nie op so 'n doktrinêre ideologiese grondslag geskoei soos in Frankryk nie. Nogtans is die ooreenkomste in die staatlike beleidsrigtings rakende taal treffend. Ook hier is aan die staatstaal - Engels - sonderlinge hoogstaande kwaliteite toegedig in teenstelling tot die ander wat as agterlik afgewys is. Onder die druk van Engels het Manx en Kornis (Cornish) uitgesterf terwyl Cymru, Skots en Iers sodanig verswak het dat hul langtermyn voortbestaan in die weegskaal is.

Die agteruitgang van die nie-Engelse (Keltiese) tale tot die voordeel van Engels het oorsigtelik die volgende patroon aangeneem wat grootliks strook met die posisie in Frankryk:

Die sprekers van die nie-Engelse tale word eers tweetalig. Hulle gebruik Engels naas hulle eie taal. Mettertyd volg volskaalse verengelsing. Ekonomiese modernisering vervul hierin 'n kritieke rol. Dit word voltrek deur welvaartskeppende industrialisering en ekonomiese vooruitgang wat deur die medium van Engels vanaf die politiek magtige en welvarende Engelse kern na die buitewyke ingevoer word. Om te deel in die ekonomiese welvaart vanweë ekonomiese groei, moet die tradisionele inwoners van die periferie noodwendig Engels aanleer en hulle kinders in Engels laat oplei. Dit veroorsaak 'n splitsing in taalgebruik. Engels word vir openbare funksies, meer bepaald vir ekonomiese verkeer en hoër- en beroepsonderwys gebruik en vervul dus die hoër taalfunksies, teenoor die moedertaal wat tot die huishoudelike, private en sosiale terrein terugsink. Diegene wat Engels bemeester, kan sosio-ekonomies maklik vorder, teenoor diegene met geen of 'n swak kennis van Engels, wat van die voordele van die Engelstalige ekonomie uitgesluit word en ekonomies agterbly. Die moedertaal kom gevolglik in die gedrang aangesien dit ekonomies onbruikbaar is. Engels is die taal van werksgeleenthede, prestige, kapitaal en ondernemerskap, 'n goeie opleiding en hoë sosio-ekonomiese status.

Hierdie sosio-ekonomiese verskil tussen hoër en laer status, wat parallel verloop met die onderskeid tussen twee tipes taalgebruik, strook ook met die onderskeid tussen stad en platteland. Die stad wat vooruitgaan en met Engels as die taal van ekonomiese geleenthede vereenselwig word, is aanloklik in teenstelling met die arm en onaantreklike platteland van die moedertaal. Die moedertaal kan spoedig verder veld verloor aangesien haar sprekers "uit vrye wil" besluit om daarvan afskeid te neem. Vanweë hulle lae dunk van hulle eie taal, die taal se geringe openbare en ekonomiese nut, die oortuiging dat die moedertaal ekonomiese mobiliteit en die behaal van 'n hoër sosiale status belemmer en dat die taal agterlikheid en armoede versinnebeeld, gebruik hulle die taal uiteindelik ook nie meer vir sy laer - sosiale en huishoudelike - funksies nie. Vanweë die feit dat die taal deurgaans minder gebruik word, verloor dit toenemend sy uitdrukkingsvermoë namate die taal geleidelik in onbruik verval en uiteindelik vergeet word.

Politieke beleidsrigtings ter bevordering van Engels en die aanslag teen die ander tale val saam met die opkoms van Engeland as territoriale staat. Die Act of the Union in 1536 wat die vereniging van Engeland en Wallis bewerkstellig het, het Walliesers tegelyk verbied om enige openbare amp te beklee tensy hulle Engels magtig was en het Engels tot die enigste taal van die staatsadministrasie, die howe en vir amptelike dokumentasie verhef (Nettle & Romaine 2000:139; Grillo 1989:85).

Die politieke aanslag teen Wallies (en die ander Keltiese tale) is verder verskerp deur 'n verkleinerende beskouing van Wallies wat met agterlikheid en minderwaardigheid vereenselwig is. Verkleinerende beleidsrigtings is ook in Skotland en Ierland ingestel. Hendrik VIII het probeer om die Iere te assimileer. Sy Act for the English Order, Habit and Language was die eerste stap in dié rigting. Dit het verklaar: "[...] nothing which does more to contain and keep many of his subjects in a certain savage and wild kind and manner of living than the diversity which is betwixt them in tongue, language, order and habit" (Nettle & Romaine 2000:13940; Grillo 1989:85). Volgens hierdie wet is vereis dat die Iere "to the utmost of their power, cunning and knowledge, shall use and speak commonly the English tongue and language".

James I het soortgelyke maatreëls teen die gebruik van Skots en Iers ingestel. Sy Act for the Settling of Parochial Schools van 1616 het beoog om hierdie tale met Engels te vervang en het verklaar dat dit gewens is dat "the vulgar English tongue be universally planted, and the Irish language, which is one of the chief and principal causes of the continuance of barbarity and incivility amongst the inhabitants of the Isles and Highlands, may be abolished and removed" (Nettle & Romaine 2000:140). Dienooreenkomstig is Engels tot die geskrewe taal van fynkultuur verhef teenoor die Keltiese tale wat as huistale beskou is waarin gerym en gesing, maar nouliks iets meer gedoen kon word. Engels, wat die ondersteuning van 'n al hoe kragtiger ekonomie geniet het, het die nywerheids- en handelstaal, die taal van die professies en ekonomiese voordeel geword. As gevolg hiervan het baie mense die rasionele besluit geneem om hulle moedertaal vir Engels te verruil. Volgens die sogenaamde rasionele keuse (Grillo 1989:100) is Engels anders as die moedertale ekonomies betalend. Hierdie "rasionele keuse", net soos die talle ander soortgelyke "rasionele keuses" in soortgelyke sosiolinguistiese situasies, was natuurlik nie werklik vry nie maar gemanipuleer en gekondisioneer deur ekonomiese toestande wat Engels bevoordeel en die moedertale benadeel het.

In 1846 het Engelse onderwysamptenare eg Jakobyns die Walliese taal verkleineer deur dit voor te stel as 'n "disastrous barrier to all moral improvement and popular progress in Wales" en verklaar dat Wallies "disturbs the truth, favours fraud and abets perjury". Gedurende die 19de eeu is Walliese kinders gestraf wanneer hulle betrap is dat hulle Wallies by die skool praat (Nettle & Romaine 2000:140). As dit nie vir die opkoms van 'n sterk taal-geankerde Walliese nasionalisme gedurende die 20ste eeu was nie, sou Wallies teen hierdie tyd moontlik al heeltemal verdwyn het (Grillo 1989:946). Wetgewende maatreëls soos die Welsh Language Act van 1967, wat in 2011 met 'n nuwe wet vervang is, het Wallies ook versterk deur die amptelike gebruik daarvan te bevorder. Myns insiens is die belangrikste krag wat tans in die guns van Wallies werk, dat dit in Cardiff 'n stedelike basis herwin het en gevolglik toenemend vir die hoër taalfunksies gebruik word. (Sien hieroor verder May 2001:262).

Die liberalisme in Engeland wat gedurende die laaste helfte van die 19de eeu 'n kragtige stroming in Engeland was, het niks daartoe bygedra om die staatlike aanslag van onverdraagsame Engelse eentaligheid te versag nie. Trouens, dit het sigself met die eentaligheidsideologie en met Engelse imperialisme vereenselwig en verdere stukrag daaraan verleen. Die samehang tussen liberalisme en Engelse imperialisme was op die oortuiging gegrond dat Engels as die taal van verligtheid en vryheid die geskenke van bevryding en vooruitgang aan al die ander gemeenskappe sou bring, wat, so is geglo, in die agterlikheid van hulle eie klaaglike tale vasgevang was.

In hierdie opsig is daar weer 'n treffende ooreenkoms tussen die Franse en Engelse sienswyses oor taal. Ongeag die ideologiese verskille tussen Frankryk en Engeland - die een Jakobyns-nasionalisties en die ander liberaal - was die benaderings ten slotte grootliks dieselfde. In sowel Frankryk as Engeland is die oorheersende taal struktureel bevoordeel en met 'n ideologie van verheerliking onderskraag teenoor die minderheidstale wat versmaad en versmoor en met die stigmas van "dialekte" en "patois" as minderwaardige tale afgewys is (Skutnabb-Kangas & Phillipson 1994b:74). Earl Albert Henry George Grey (hertog Grey), goewerneur-generaal van Kanada, het hierdie sentiment in 1899 soos volg verwoord:

Probably everyone would agree that an Englishman would be right in considering his way of looking at the world and at life better than that of the Maori or Hottentot, and no-one would object to the abstract to England doing her best to impose her better and higher view on these savages ... (Aangehaal deur Skutnabb-Kangas & Phillipson 1994b:336-7)

Hierdie oortuiging is deur die mees verligte liberale denkers van die tyd soos John Stuart Mill gedeel. Mill was daarvan oortuig dat die groter nasionaliteite vooruitgang beliggaam teenoor die kleineres wat agterlikheid verpersoonlik en dat die lede van laasgenoemde hulle kulturele identiteite en tale moes aflê ten einde deur enige van die grotes opgeneem te word om sodoende in die voordeel van vooruitgang te deel. Volgens Mill was dit ongetwyfeld beter vir 'n Skotse Hooglander om deel van Groot Brittanje te wees en vir 'n Bask, deel van Frankryk eerder as om soos hy dit blatant gestel het "to sulk on his own rocks, the half savage relic of past times, revolving in his own little mental orbit without participation or interest in the general movement of the world" (Mill 1972:3634).

Mill het hiermee 'n oortuiging uitgespreek wat destyds wye aanhang geniet het. Trouens, Kymlicka (1995:53) merk op dat dit in daardie tyd eintlik 'n gemeenplaas was om die groot "nasies" soos Frankryk, Italië, Pole, Spanje, Engeland en Rusland te beskou as die draers van beskawing en vooruitgang teenoor die kleineres wat kwansuis primitief, agterlik en onbevatlik vir ontwikkeling sou wees.

Liberale nasionalisme het gedurende die 19de eeu oor die algemeen die sogenaamde drumpelmaatstaf vir die erkenning van nasionaliteite onderskryf. Hiervolgens is vir nasieskap vereis dat 'n gemeenskap so getalryk moes wees dat dit 'n lewensvatbare en groeiende ekonomiese eenheid kon onderhou. Indien nie, was daar geen historiese regverdiging vir die bestaan daarvan nie en moes dit in een van die sogenaamde historiese nasies opgaan. Die Dictionnaire politique van Garnier-Pagês uit die jaar 1843 het die onafhanklikheid van Portugal en België as belaglik beskou eenvoudig omdat hulle te klein was (Hobsbawn 1990:30). Net 'n getalryke nasie, versamel in 'n omvattende territoriale staat kon 'n moderne industriële ekonomie onderhou. Daarenteen het die kleineres, wat nie as getalryk genoeg beskou is en wie se gebied as te klein vir 'n lewensvatbare staat beskou is, geen keuse gehad nie as om in die groot nasies opgeneem te word. Hulle kon derhalwe nie oor die drumpel kom om op 'n eie staat geregtig te wees nie.

Die drumpelmaalstaf was dermate oorheersend dat selfs die voorste nasionalistiese denkers van die 19de eeu soos die Italiaanse nasionalis, Giuseppe Mazzini, dit onderskryf en byvoorbeeld die idee van 'n onafhanklike Ierland verwerp het. Die aansprake van kleiner volkere soos Sisiliërs, Bretone en die Walliesers kon gemaklik as beuselagtug afgewys word.

Kulturele heterogeniteit binne territoriale state asook die erkenning van die kleiner volkere en hulle aansprake op selfstandigheid is dus verwerp aangesien dit as voor die hand liggend beskou is dat kleiner en meer bepaald sogenaamde agterlike nasionaliteite slegs baat kon vind by assimilasie in die groteres waarbinne hulle hul bydrae tot die mensdom kon maak.

4.4 Die Verenigde State - Liberalisme sonder die imperiale smet

In die Verenigde State van Amerika is die aansprake van nie-dominante taalgemeenskappe kragtens die opvattings van 'n liberale politieke kultuur eweneens afgekeur. Die Amerikaanse hutspot (melting pot) is wat taal betref wesenlik 'n voorwaardelike hutspot wat slegs in Engels mag prut aangesien alle Amerikaners en meer bepaald die nuwe aankomeling moet aanvaar dat Engels die enigste openbare taal is en daarby moet inval. Die Amerikaanse staat het 'n uitdruklik Engelse identiteit en die Amerikaanse nasie is (en behoort) 'n Engelssprekende nasie (te wees). Nuwelinge word in die nasie opgeneem en word Amerikaners met dien verstande dat sodanige assimilasie meebring dat almal hulle aktief met die Engelse karakter van die nasionale identiteit vereenselwig.

In die private sfeer mag Amerikaners - meer bepaald die nuwelinge - Duits, Italiaans, Chinees, Viëtnamees of Hispanies wees. Hulle mag dus hulle moedertaal vir private doeleindes naas Engels vir openbare doeleindes - in interaksie met die staatsadministrasie, die onderwys, in die handel, ensovoorts - gebruik. Juis vanweë die druk op nuwelinge om Engels vir openbare doeleindes te gebruik, is hierdie tweetaligheid egter bloot tydelik. Die gebruik van die moedertaal neem algaande af aangesien daar slegs beperkte situasies is waarin dit gebesig kan word met die gevolg dat die nuwelinge se afstammelinge binne enkele geslagte eentalig Engelssprekend is. Vir openbare taalgebruik moet almal vanuit die staanspoor Engels wees ten einde werklik 'n Amerikaner te wees. Gevolglik moet die nasie juis 'n mono-kulturele Engelse nasie wees.

Die Engelse voorwaarde vir Amerikaanse nasieskap was vanuit die staanspoor teenwoordig en het mettertyd versterk ofskoon die werking daarvan soms subtiel was. Nasionale leiers het egter so vroeg as die koloniale tydvak en die eerste jare na onafhanklikheid volgehou dat Engels die nuwe nasie se beginsels van demokrasie en rasionaliteit versinnebeeld en lojaliteit aan die staat bevorder. Om ander tale te besig is as ongewens, buitelands en anti-Amerikaans beskou (Gilman 2011:23). Die aanslag, met inbegrip van die aanwending van staatsmiddele, teen Duits wat in state soos Pennsylvania prominent was, was op 'n stadium so erg dat dit met dié van Franco teen die Spaanse minderheidstale vergelyk is (May 2001:213). Herhaalde pogings om tale anders as Engels te onderdruk was ook gedurende die 20ste eeu aan die orde van die dag. Spaans is byvoorbeeld in openbare skole verbied (Gilman 2011:24) en is 'n belangrike item op die agenda van die English Language Movement (ELM), waarna hier onder kortliks verder verwys word (May 2001:217). Wexler (1996:348) wys voorts met verwysing na verskeie voorbeelde daarop dat Engelse eentaligheid nog altyd in die VSA onderskraag is deur wetgewing wat Engels as die taal van die Amerikaanse nasie afgedwing het.

Die Engelse voorwaarde vir Amerikaanse nasieskap kom prominent in die ope wanneer dit in botsing kom met nuwe aankomelinge wat deel uitmaak van hegte taalgemeenskappe wat in bepaalde plekke saamgetrek is. Sodanige gemeenskappe weerstaan die Engelse voorwaarde vir Amerikaanse nasieskap omdat hulle 'n vorm van outonome kulturele bestaan voer. Dit is presies wat in onlangse dekades gebeur het toe groot getalle Hispaniërs, wat nou reeds meer as 40 miljoen beloop, hulle in die VSA gevestig het.

Vanweë hulle getalsterkte, territoriale konsentrasie op 'n aantal plekke en hul kulturele selfvertroue is hulle bemeestering van Engels, anders as dié van die meeste vorige nuwe aankomelinge, nie bloot die eerste stap na volskaalse verengelsing nie. Inteendeel, hulle behou hulle eie taal en dit kom voor asof hulle blywend 'n tweetalige gemeenskap gaan wees. Hulle plaas ook druk op die Amerikaanse staat om aan hierdie toedrag van sake erkenning te gee deur die wyse waarop die staat homself inrig - deur die skoolonderrig in Spaans, in sommige gevalle selfs van onderrig met Spaans as voertaal, deur tweetalige - Engelse en Spaanse - stembriewe, die reg om in Spaans in die howe te getuig, op openbare dienste in Spaans naas Engels, ensovoorts. Kortom, hulle permanente teenwoordigheid as gemeenskappe plaas toenemende druk op die Verenigde State om 'n multikulturele en veral veeltalige staat te word, dit wil sê dat die hutspot in Engels én Spaans moet prut en nie slegs in Engels soos tevore nie.

Die monokulturele reaksie (wat die gevestigde Amerikaanse staatsideologie beliggaam) verwerp multikulturaliteit. Die monokulturele ideologie kom tot uitdrukking in die huidige sogenaamde English Only Movement (EOM) en die Official language Movement (ELM), wat daarop aandring dat Engels amptelike status moet kry en in die algemeen as enigste openbare taal bevorder moet word.3 Waar 'n amptelike taalbedeling tradisioneel onbekend aan die VSA was, het talle state in onlangse jare wetgewing aanvaar wat vir die eerste keer 'n amptelike taalbedeling ingevoer het. Engels het in al hierdie gevalle - tans in 28 state - die enigste amptelike taal geword. Daar word ook sterk daarop aangedring dat die federale grondwet gewysig moet word om vir Engels as die VSA se amptelike taal voorsiening te maak. In die akademiese en politieke diskoers bestaan daar ook 'n sterk stroming wat volhou dat die VSA 'n monokulturele en eentalige staat moet wees. Samuel Huntington (2004:30) het byvoorbeeld gewaarsku teen die verspreiding van die Hispaniese kultuur vanweë Hispaniese immigrasie. Al hierdie strominge bring nou die eertyds bedekte taalkundige - Engelse - voorwaardelikheid vir Amerikaanse nasieskap helder aan die lig.

Die totstandkoming van 'n sterk linguistiese minderheid wat op erkenning van hul taal vir openbare gebruik aandring, het die Engelse voorwaardelikheid vir Amerikaanse nasieskap as 't ware in die ope gedryf. Die VSA het 'n karakterverandering ondergaan wat dit nou soortgelyk maak aan die veeltalige Europese state in Wes-Europa (soos Spanje en Frankryk) en dit reageer ook op 'n soortgelyke wyse op dié situasie as hierdie Europese state. Dit verwerp ook die erkenning van veeltaligheid as deel van die staatskarakter. Vanweë sy tradisioneel grootliks eentalige aard was dit nooit vir die VSA nodig om onomwonde standpunt oor die aansprake van nie-dominante taalgemeenskappe in te neem nie. Gevolglik is die wanindruk van liberale verdraagsaamheid in stand gehou. Noudat dit vierkantig met 'n veeltalige scenario gekonfronteer word, tree dit baie soos hierdie state op, wat aan die lig bring dat dit eintlik nog altyd 'n onverdraagsame eentalige staatlike ideologie beoefen het. Ofskoon die VSA uiteraard nie presies soos die Wes-Europese state optree nie, verteenwoordig dit dus nie 'n uitsondering op die eentalige staatlike ideologie en voortspruitende respons op die aansprake van taalgemeenskappe binne 'n veeltalige staat nie. Die Amerikaanse benadering is ook op 'n staatlike grondslag van een staat, een nasie en een taal geskoei. Wexler (1996:351) is derhalwe van mening dat die Amerikaanse en Franse staatlike ideologie met betrekking tot taal wesenlik dieselfde is en verklaar gevolglik dat:

[...] public and private pressures to Americanise have since the Revolution, produced a culture that is, for the most part, like that of France, vigorously monolingual. What the French imposed through a combination of royal fiat and decree, Americans have attained through a relentless pressure to assimilate.

Ofskoon daar ook amptelike maatreëls was, was die klem van die Amerikaanse benadering met betrekking tot taal nie primêr daarop nie. Individue kon weliswaar hulle eie taalvoorkeure uitoefen maar die keuses is aan sosiale kragte uitgelewer wat Engels sterk bevoordeel en gevolglik 'n keuse vir enige van die minderheidstale bykans onmoontlik gemaak het. Engels is derhalwe aan die hand van 'n liberaal-individuele benadering ondersteun deur sosiale kragte ten gunste van Engels eentaligheid.

4.5 Linkse sosialisme

Die standpunte van Karl Marx en Friedrich Engels oor die sogenaamde nasionale vraagstuk en kwessies van tale en taalgemeenskappe blyk soms onderling weersprekend en sonder samehang te wees. By tye is nasionale aansprake sterk afgewys terwyl ander nasies met hulle besondere tale weer ondersteun en selfs aangeprys is. Nimni (1989) verduidelik egter insiggewend dat daar inderdaad geen onverklaarbare teenstrydighede bestaan nie en dat Marx en Engels 'n samehangende standpunt teen die aansprake van kleiner taal- en kultuurgemeenskappe ingeneem het.

Linkse oortuigings oor taal soos verwoord deur Marx en Engels stem grootliks met dié van die klassieke liberales ooreen. Volgens Marx en Engels en talle latere sosialistiese denkers verkeer die mensdom in 'n onstuitbare proses van progressie, wat bepaal word deur onderliggende materiële - ekonomiese - kragte. Hierdie kragte veroorsaak dat sosiale formasies deur die verloop van die geskiedenis deurlopend meer omvattend raak. Dit het by die familie begin en opeenvolgend na die stam, die feodale eenheid en uiteindelik na die territoriale staat uitgekring en is onvermydelik op pad na die vestiging van 'n enkele universele gemeenskap. Marxistiese denke poog om die progressiewe (ekonomiese) kragte te identifiseer wat die vermeende retrogressiewe kragte kan oorkom wat gemeenskappe in parogialisme, agterlikheid en ongelykheid gevange hou. Die progressiewe kragte moes 'n steeds meer gevorderde, meer omvattende en alles-insluitende inklusiewe gemeenskap bewerkstellig totdat die eindpunt van 'n universele klaslose en gelyke gemeenskap bereik is. Die mees gevorderde fase wat teen die tweede helfte van die 19de eeu bereik is, was die Europese industriële territoriale state met hulle kapitalistiese ekonomieë. Die state was omvattend genoeg om bevolkings te huisves wat groot genoeg was om al die variasies van arbeid wat die kapitalistiese ekonomie vereis het, te voorsien. Die oorheersende tale van hierdie state is dus ook beskou as die beliggaming van en die middels waarmee die bereiking van hierdie ideologiese ideaal bewerkstellig moes word (Nimni 1989:299300). Die kleiner gemeenskappe en tale wat daarenteen kwansuis agterlikheid beliggaam, het die bereiking van hierdie ideaal versper. Daarom moes hulle verwyder word en die territoriale state en hulle onderskeie dominante tale - die progressiewe kragte - moes gemonster word om hierdie eienaardige oorblyfsels van agterlikheid te vernietig.

Dienooreenkomstig het Marx en Engels die sogenaamde historiese nasies erken, dit wil sê die groot nasionale eenhede van Europa soos Frankryk, Italië, Pole, Brittanje, Duitsland en Rusland. Hulle was historiese nasies aangesien hulle as die progressiewe agente van die wêreldgeskiedenis moes dien wat die weg na die bereiking van die ideaal moes berei. Daarenteen was daar die kleineres en tegelyk minderwaardiges. Hulle was gering in getal en het 'n te klein geografiese gebied beset en kon, so is aangevoer, anders as die historiese nasies in die groot territoriale state nie industriële ekonomieë skep nie en het ook geen vooruitsig gehad om dit ooit te doen nie. Hulle was derhalwe nie soos die grotes met hulle eie state en tale vir 'n historiese rol bestem nie. As "geskiedenislose" (non-historical) nasies kon hulle gevolglik nie meedoen om die volgende fase in die geskiedenis te bewerkstellig nie om sodoende die weg te help baan na die bereiking van die universele klaslose samelewing nie. Hulle was reaksionêre oorblyfsels van 'n vervloë era en moes noodwendig verdwyn. Onder hulle het getel die Tsjegge, Slowake, Kroate, Baske, Walliesers, Skotte, Bulgare, Roemeniërs, Sloweniërs, Bretone, ensovoorts.

Synde agterlike nie-historiese nasies, moes die kleiner taalgemeenskappe noodwendig in die grotes opgaan om sodoende by die universele stuwing na die bereiking van die enkele klaslose mensdom betrek te word. Pogings om die minderheidstale soos Tsjeggies, Katalaans en ander te behou, was derhalwe misplaaste veldtogte, uit pas met die breëre gang van die geskiedenis, wat die bereiking van vryheid soos dit in die groot tale van die historiese nasies - in Duits, Frans, Engels, Italiaans en Russies - verwoord word, te versper. Daarom het die historiese nasies as deel van die omvattende historiese rigting die reg gehad om die kleineres te onderwerp en te assimileer.

Ooreenkomstig hierdie oortuiging het Marx en Engels neerhalende opmerkings oor die kleiner nasionaliteite gemaak en onomwonde hulle oplossing in die sogenaamde historiese nasies bepleit. Meksikane, Skandinawiërs en die Bedoeïene van Noord-Afrika is almal vanweë hul vermeende agterlikheid verneder. So ook die Spanjaarde. Selfs die Chinese is ongeag hulle enorme getalle as agterlik beskryf en gevolglik nie in staat om 'n bydrae tot die progressiewe wêreldgeskiedenis te lewer nie (Ninmi:3101). Engels se stelling is verteenwoordigend van hierdie standpunt wanneer hy verklaar:

By the same right under which France took Flanders, Lorain and Alsace, and will sooner or later take Belgium - by the same right Germany takes Schleswig; it is the right of civilization against barbarism of progress against stability [...]. [This] is the right of historical evolution. (in Cummins 1980:46)

Die ideologiese uitgangspunte van Marx, Engels en hulle volgelinge ten gunste van die groot nasies en tale is natuurlik gekwalifiseerd. Anders as die nasionaliste vir wie die territoriale staat met sy staatlike taal die eindpunt was, was dit vir die linkse sosialiste bloot tydelik die verste punt van ontwikkeling na die bereiking van die finale universele ideaal. Ook die groot state en tale sou uiteindelik ter wille van die universele klaslose samelewing opgeoffer moes word. Die linkses is dit egter eens met al die ander strominge wat hier behandel is in hulle afkeer van die kleiner nasionaliteite en tale. Hulle stem ook saam oor die voortreflikheid van die groot territoriale state met hulle vermeende verligte, rasionele en vryheidsbeliggaamde tale - die linkses ten minste tydelik en al die ander strominge permanent.

 

5. SLOTSOM

Die opmerkings van Engels as een van die voorste woordvoerders van linkse ideologiese denke gedurende die tweede helfte van die 19de eeu pas ewegoed by die mees stiksienige chauvinistiese Engelse, Spaanse of Franse nasionalis as by 'n linkse ideoloog (Hobsbawn 1990:35). Boonop is hierdie opmerkings ook net so perfek in pas met die Jakobynse nasionalisme in Frankryk as met die regse nasionalisme onder Franco. Laastens strook dit opvallend met die liberalisme van Mill en die praktyke van die liberale demokrasie in Brittanje en natuurlik ook met die imperialistiese praktyke van die Britse imperiale bewind. Al was die ideologiese toon in die liberale VSA veel meer gedemp en subtiel was die gevolge van die oënskynlike inklusiewe Amerikaanse liberalisme vir die minderheidstale ewe verpletterend.

Wat die bespreking hierbo aantoon, is dat daar sedert die opkoms van die territoriale staat deurlopend opvallende ooreenkomste was in die benaderings wat die oorheersende kragte in territoriale state teenoor minderheidsgemeenskappe en hulle tale gevolg het. Die aanbreek van die ideologiese tydvak het niks hieraan verander nie. Trouens, in weerwil van die groot verskille en heftige onderlinge vyandigheid tussen die nasionaliste (Jakobyns en regsgesind), linkse en liberale ideologiese denke en gepaardgaande praktyke, was al hierdie strominge ten slotte blote (strydende) spesies van een en dieselfde omvattende genus van staatlike ideologie, wat volgens Gellner deur die eise van die industriële ekonomie genoodsaak is. Ten slotte is die lot van kleiner tale in die moderne era by uitnemendheid deur verstaatliking bepaal, dit wil sê deur die struktuur van die omvattende sentraliserende en standaardiserende territoriale staat met sy homogeniserende industriële ekonomie en sy gepaardgaande legitimerende staatlike ideologie hetsy dit links, regs of liberaal is. Daar is tans 'n groeiende tendens in sowel die politieke denke as staatsregtelike praktyk om minderheidsgemeenskappe met hulle eiesoortige kulturele bates (soos hulle tale) op 'n demokratiese wyse te akkommodeer. Die ideologie van verstaatliking het egter nog lank nie sy houvas verloor nie en bied steeds 'n enorme bedreiging vir die voortbestaan van minderheidstale en minderheidsgemeenskappe.

 

BIBLIOGRAFIE

Aristoteles, 1962. The politics. Engelse vertaling deur T.A. Sinclair. Middlesex: Penguin Books.         [ Links ]

Beer, W.R. & J.E. Jacob (eds). 1985. Language policy and national unity. Totowa, New Jersey: Rowman & Allanheld.         [ Links ]

Bozeman, A.B. 1976. Conflict in Africa. Princeton: Princeton University Press.         [ Links ]

Conversi, D. 1978. The Basques, Catalans and Spain. London: Hurst.         [ Links ]

Crystal, D. 2000. Language death. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Cummins, I. 1980. Marx, Engels and the national Movements. London: Helm.         [ Links ]

Figgis, J.N. 1960. Political thought from Gerson to Grotius, 1414-1625. New York: Harper.         [ Links ]

Friedrich, C.J. 1963. Man and his government: An empirical theory of politics. New York: Mc Graw-Hill Inc.         [ Links ]

Gellner, E. 1983. Nations and nationalism. Oxford: Basil Blackwell.         [ Links ]

Gilman, D. 2011. A bilingual approach to language rights: The dialogue between US and international human rights law may improve the language rights framework. Harvard Human Rights Journal, 24:1-70. http://harvardhrj.com/wp-content/uploads/2009/09/1-70.pdf besoek op 18 Januarie 2013.         [ Links ]

Grillo, R.D. 1989. Dominant languages: Languages and hierarchy in Britain and France. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Hobsbawn, E.J. 1990. Nations and nationalism since 1780: Programme, myth and reality. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Holdsworth, W. 1937. A History of English Law. Vol VIII. London: Sweet & Maxwell.         [ Links ]

Huntington, S.P. 2004. The Hispanic challenge, foreign policy. http://www.public.asu.edu/~nornradd/documents/HispanicChallenge.pdf (datum geraadpleeg: 7 Junie 2013).         [ Links ]

Jacob, J.E. & D.C. Gordon. 1985. Language policy in France. In Beer & Jacob (eds), pp. 106-133.         [ Links ]

Klauss, M. 1992. The world's languages in crisis. Language. Journal of the Linguistic Society of America, 68:4-10.         [ Links ]

Kymlicka, W. 1995. Multicultural citizenship. Oxford: Clarendon Press.         [ Links ]

Kymlicka, W. & W. Norman (eds). 2000. Citizenship in diverse societies. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Kymlicka, W. & A. Patten (eds). 2003. Language rights and political theory. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Locke, J. 1992. Of civil government (second treatise). South Bend, Indiana: Regnery/Gateway Inc.         [ Links ]

Malan, K. 2012. 'n Oorweging van die sosiopolitieke kragte wat inwerk op die betekenis en toepassing van die diskresionêre taalklousule van die Suid-Afrikaanse grondwet. LitNet Akademies, 9(1):54-78. http://www.litnet.co.za/Article/n-oorweging-van-die-sosiopolitieke-kragte-wat-inwerk-op-die-betekenis-en-toepassing-van-di        [ Links ]

May, S. 2001. Language and minority rights: Ethnicity, nationalism and the politics of language. Halow, England: Longman.         [ Links ]

Mill, J.S. 1972. Considerations on representative government. (Editor: H.B. Acton). Halow, England: T.M. Dent & Sons.         [ Links ]

Mutua, M.W. 1995. Why redraw the map of Africa: A moral and legal inquiry. Michigan Journal of International Law, 16:1113-76.         [ Links ]

Nettle, D. & S. Romaine. 2000. Vanishing voices: The extinction of the world's languages. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Nimni, E. 1989. Marx, Engels and the national question. Science and Society 53(3): 297-326.         [ Links ]

Phillipson, R. & Skutnabb-Kangas, T. 1994. Language rights in post-colonial Africa in Skutnabb-Kangas & Phillipson (eds). 1994:335-345.         [ Links ]

Rial, J. 1985. Spain: Regional languages in a Lingua Franca dominant state. In Beer & Jacob. Modern state. New Jersey: Princeton, pp. 97-105.         [ Links ]

Skutnabb-Kangas, T. & R. Phillipson. 1994. Linguistic human rights, past and present in Skutnabb-Kangas & Robert (eds). Linguistic human rights: overcoming linguistic discrimination (1994:71-110).         [ Links ]

Wexler, L.S. 1996. Official English nationalism: A French lesson. Washington Law Review 71:285-377.         [ Links ]

 

 

Koos Malan is professor in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria. Malan publiseer oor 'n aantal gebiede in die teoretiese staatsreg soos grondwetlike oppergesag, konstitusionele verandering en demokrasie asook minderheidskwessies en taalreg. Hy is die outeur van 'n akademiese monograaf getiteld, Politokrasie: 'n peiling van die dwanglogika van die territoriale staat en gedagtes vir 'n antwoord daarop wat onlangs deur die Regspers van die Universiteit van Pretoria gepubliseer is. Die werk het ook in Engels verskyn. Hy dien sedert 2014 op die Pan Suid-Afrikaanse Taalraad. Malan is ook die outeur van 'n aantal populêre artikels oor grondwetlik verwante aangeleenthede in die openbare media soos Business Day, Beeld en Rapport en verskeie Internet-publikasies. Hy was vroeër 'n staatsaanklaer en landdros. Malan is 'n stigterslid en was die eerste voorsitter van die Vereniging van Regslui vir Afrikaans (VRA) en dien steeds op die bestuur van die vereniging.
Koos Malan is professor of public law at the University of Pretoria, South Africa. Malan publishes on various aspects of constitutional theory including constitutional supremacy, constitutional change and democracy as well as on minority rights and language law. Malan is the author of an academic monograph titled Politocracy: an assessment of the coercive logic of the territorial state and ideas around an answer to it, which was recently published by the Pretoria University Law Press. The book is also available in Afrikaans. He has served on the Pan South African Language Board since 2014. Malan is the author of a number of popular articles on matters relating to constitutional law in the public media such as Business Day, Beeld, Rapport and various Internet publications. Before joining academia he was a prosecutor and a magistrate. He is a founding member and was the first chair of the "Vereniging van Regslui vir Afrikaans" (Society of Lawyers for Afrikaans) and is currently still serving on the steering committee of the society.
1 Vergelyk byvoorbeeld Steyn (1980:18, 21); Crystal (2000:83); Nettle & Romaine (2000:53, 91-2; 128-9) en May (2001:1-2).
2 Kyk onder meer Holdsworth (1937 VIII:310); Strange (1995:70); Figgis (1960:72); Bozeman (1976:131) en Spruyt (1994:3).
3 Kyk May (2001:207) m.b.t. die oogmerke van die beweging.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License